If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Onder Duiwelsdak

1• "Die wêreld is rond. As ons reguit koers hou, kom ons een dag weer by die huis uit," so sê die seun vir sy drie honde toe hulle weer 'n week op reis was. Dit was 'n baie eensame deel van die land. Dae lank het hulle gereis en nie 'n mens, dier of huis gesien nie, maar so teen die aand, toe hulle 'n heuwel uitgeklim het om 'n kampplek vir die aand te soek, sien hy daaronder in die vallei 'n groot wit huis met groot tuine rondom. In die skemerverte kon hy niks verder bespeur nie, en hy dag toe dat dit 'n boerplaas is, waar hulle seker 'n vriendelike ontvangs sou. kry.
2• "Dit is koud vanaand; ek dink ons moet maar by daardie huis gaan slaapplek soek," sê hy en hulle stap net fluks aan om daar te kom voordat dit heeltemal donker is.
3• Toe hy naby kom, sien hy dat die hele huis pikdonker is daar is nie 'n liggie êrens te sien nie.
4• "Dit is snaaks dat daardie mense nie lig in hulle huis maak nie. Miskien is dit leeg. Ek gaan darem kyk," sê hy vir sy honde, en hy stap aan. Toe hy omkyk, sien hy die drie honde op 'n ry sit. Hy roep hulle, maar hulle bly sit en wil nie 'n stap verder gaan nie.
5• "Is julle bang? Vir wat? Ek is nie bang nie, en as julle nie wil kom nie, gaan ek alleen," en weer moet hy sy honde roep voordat hulle gehoorsaam.
6• Toe die seun by die huis kom, sien hy nie 'n sterfling nie. Dit is so doodstil dat hy net sy eie voetstappe op die stoep kan hoor. Hy stap na die voordeur, draai die knop en maklik gaan die deur oop. Eers kyk hy versigtig in, maar skielik stoot iemand hom in, en die deur klap toe met 'n harde slag wat dreun deur die huis. Sy honde is buite en toe hy die deur wil probeer oopmaak vir hulle, vind hy dat dit onmoontlik is nie 'n duim kan hy daardie groot ysterdeur verroer nie, en buite huil die honde met 'n treurige getjank.
7• Hy staan net binnekant die deur. Dit is pik donker in die huis. Skielik voel hy onsigbare hande raak aan hom. Eers het hulle maar saggies aan hom geraak, maar nou begin die hande hom rond te pluk. Hy word hier gestoot en daar getrek, en toe hy 'n groot koue hand op sy kop voel, spring hy weg en begin in die donker geweldige houe na die onsigbare mense te slaan.
8• Hy kry gedagte van die dosie vuurhoutjies in sy sak, Gou haal hy dit uit en trek een, maar meteens blaas iemand dit uit, en die hande trek hom weer rond. Hulle trek sy hare, sy ore; sy klere word amper afgeskeur. Een vang hom aan die voet. Hy skop, maar dit raak niemand nie. Toe val daar 'n harde slag net agter hom. Iemand stoot hom na 'n groot deur wat stadig voor hom oopgaan en vinnig agter hom toeslaan.
9• In die tweede kamer kan hy ook niks sien nie, maar hier is 'n geraas soos van 'n menigte mense wat almal gelyk praat in vreemde tale. Hy luister maar kan niks verstaan nie.
10• "Wie is julle?" vra hy. Maar die antwoord is net 'n gebabbel wat hy glad nie kan uitmaak nie. Hy trek weer 'n vuurhoutjie maar daar is niks te sien nie. Weer val daar 'n hand op sy skouer. Hy word gestoot na 'n deur wat vanself oop en toe gaan. Net binnekant die derde kamer bly hy staan. Weer is alles doodstil. Hy kry die nare gevoel dat honderde mense rondom hom is. Maar nieman raak aan hom nie en hy voel nou 'n hele ent brawer.
11• "Ek sal hier 'n vuurhoutjie kan trek en 'n bietjie rondkyk hoe om uit te kom," sê hy onderwyl hy probeer lig maak. In die lig van die vlammetjie kyk hy rond, maar skrik so groot dat die vuurhoutjie uit sy hand val en op die grond doodgaan.
12• Die vier mure van die kamer is vol lewendige gesigte!
13• Manne, vroue, kinders. Oud en jonk deurmekaar. Party gaap, party knip hul oë; party kners op hul tande. Sommige lyk of hulle fluit; party lag vriendelik, ander steek tong uit, en 'n hele klomp trek vir hom skewebek! Vir hulle kon hy sy lag nie hou nie, en hy skater van die lag, maar toe trek hulle nog leliker gesigte in die lig van sy derde vuurhoutjie.
14• "Hoe het julle hier gekom?" vra hy. Die gesigte praat almal, maar daar kom nie geluide uit die monde nie, en sy vraag bly onbeantwoord.
15• Hy sien 'n houtkassie, maak die deurtjie oop en daar vlie 'n groot swart vlermuis uit oor sy kop. Gou spring die seun agterna om te sien waar hy sou uitvlie, maar die vler-muis verdwyn te gou in die donker.
16• Vir die vierde maal maak hy lig en nou sien hy 'n ander deur. Hierdie deur gaan maklik oop en hy kom in 'n kamer met 'n klein nou venstertjie hoog in die muur. 'n Sterk straal maanlig skyn daar deur op die vloer.
17• Rondom teen die mure staan daar 'n klomp kiste, klein endjies van mekaar af. Party is klein, party is groot; maar almal het deksels op en is met sterk slotte toegesluit.
18• Hy kyk rond en gewaar dat die kiste nie leeg is nie. Snaakse geluide kom van binne. Hy stap na 'n groot kis en klop aan die deksel. 'n Stem begin te praat.
19• "Laat my uit, laat my uit! Asseblief tog, laat my uit!" sê die stem.
20• "Wie is jy?" vra die seun.
21• "Ek het my naam vergeet, maar my gesig sit teen die muur in die ander kamer."
22• "Maar waar is jy dan?"
23• "Ek is onder die vloer, maar my stem is in die kis opgesluit. Probeer tog jou bes om my hier uit te kry," soebat die stem.
24• Die seun het hard probeer om die kis te verskuiwe, maar dit voel of dit vasgespyker is op die vloer. Daarna gaan hy na die ander kiste. By die tweede kis kom hy verby. iemand klop van binne — eers vinnig, toe stadig; daarna weer hard en toe weer sag. Hy luister.
25• "Maak oop, maak oop, maak oop!" sê iemand.
26• "Wie is jy?" vra die seun.
27• "Ek het nie naam nie," antwoord 'n diep stem.
28• By die derde kis hoor hy 'n gelag. Harder
29• en al harder. Dit kraai en skater van die lag. "O, ek lag my siek, ek lag my siek! Hou
30• op met kielie; ek lag my siek!"
31• Die seun kon self sy lag nie hou nie. "Wat is jou naam?"
32• "Ek het nie naam nie."
33• "Wie kielie dan vir jou so?"
34• "Hy het ook nie naam nie," sê die stem.
35• Aan die anderkant van die kamer staan 'n mooi kis met goue versiersels en 'n goue slot.
36• "Wie kan daarin wees?" vra die seun en stap nader om uit te vind. Betowerd staan hy te luister na die fraaiste stem in die wêreld. Sy sing so lieflik dat die seun tog alte graag vir haar wil uitlaat. Hy loer deur 'n skrefie en probeer die kis oop maak, maar net verniet. Hy gaan op die naaste kis sit om beter te luister na die gesing, maar skielik vlie hy op. 'n Diep gebrom bars los onder hom. Dit word nog harder en voel asof die hele wêreld se bye in daardie kis opgesluit is.
37• Hy stap rond in die groot kamer. By elke kis bly hy 'n bietjie staan, en hou sy oor teen die slot. By die een hoor hy iemand sug, een na die ander, diep, diep sugte. Uit 'n ander hoor hy musiek van die fraaiste. Uit 'n derde kom weer niks anders as klaende stemme nie, en in die laaste kis maak 'n paar vreeslik rusie. Hy is so jammer vir die opgesluite stemme dat hy besluit om 'n byl te gaan soek om die kiste mee oop te kap en almal vry te laat. Deur 'n ope deur stap hy en kom weer in 'n groot kamer. Maar hier wou hy nie bly nie, want daar was nie 'n meubel of ding in die kamer wat stil staan nie. 'n Ou groot kas hardloop reguit na hom toe. Die stoele ja agter hom aan asof hulle mal is. Die tafels hou dansparty, en die prentjies gly rond op die mure en daar tussen die gewoel stap pare skoene alleen rond, vel skoene, kapstewels en pantoffels en skoene van al die soorte sonder voete! Hy loer deur die deur wat oop en toe swaai en sien dit is doodstil in die volgende kamer. Gou glip hy deur en staan verwonderd en kyk na iets wat baie vreemd lyk. Aan die mure rondom is groot bondels goed in streepsakke wat aan sterk spykers in die mure hang. Daar roer iets in elke sak! Toe hy aan die naaste een raak, voel hy 'n voet en kry skielik so 'n geweldige skop voor die bors dat hy plat op die grond sit. Hy spring op en probeer aan die tweede bondel versigtig met 'n vinger voel, maar skrik groot toe sy vinger vasgebyt word.
38• "Eina! Jy is baie kwaai," skree hy en ruk sy vinger los. Hy was darem nog te nuuskierig wat in die ander sakke kon wees en voel weer aan een. Dié slag word sy hand gevang en styf vasgehou. Hoe hy ook al ruk en spartel, los kan hy dit nie kry nie .
39• "Wie hou my vas? Los my!" skree hy.
40• "Nee. Sny eers my sak oop," sê 'n fyn stemmetjie. Met die ander hand haal hy sy knipmes uit, gee 'n sny onderaan die sak en daar glip deur die opening die snaaksste ou vroutjie van die wêreld! Gou leen sy die knipmes en sny al die ander bondels oop. Uit elke streepsak gly 'n ou vroutjie. Hulle hardloop agtermekaar in die rondte en wil net by die deur uitglip, dog die seun vang die voorste enetjie.
41• "Wag, wag! Sê eers vir my wie se huis is dit?"
42• "Die plek se naam is 'Duiwelsdak'. Dit behoort aan 'n ou duiwel wat mense vang. Hy is op die oomblik weg van die huis maar sal vanaand weer terug wees. Maak tog gou dat jy hier weg kom," en voordat die seun nog verder die ou vroutjies kon uitvra, begin hulle in 'n kring agtermekaar in die rondte hardloop.
43• "Waar is die deur? Waar is die deur?" sing hulle.
44• "Daar is die deur! Daar is die deur!" gee die voorste een antwoord, en sy verdwyn deur 'n klein deurtjie met die hele klomp ou vroutjies op 'n streep agter haar aan.