If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Die Verlore Swaard

1• Die seun was baie bly dat die honde hom net betyds van die mensvreter se tande gered het. Dadelik het hy met sy drie honde verder op reis gegaan.
2• By baie plekke het hulle aangegaan, en baie vreemde dinge het hulle gesien.
3• Een aand kom hulle by 'n groot stad met 'n groot fort net by die ingang. Hier staan 'n soldaat op wag.
4• Die soldaat keer die seun voor en ondervra hom wie hy is en waarvandaan hy kom. Toe die seun al sy- vrae beantwoord het, raak hulle twee aan gesels.
5• Die soldaat het van die honde se knapheid gehoor en vertel aan die seun dat hulle seker die honde in die stad sal hou as die ander mense ook van hulle hoor.
6• Die seun vra toe waar hy en sy honde losies vir 'n paar aande kan kry.
7• "Net hier naby woon 'n ou man en 'n ou vrou," antwoord die soldaat. "Hulle is baie lief vir honde. Hulle sal jou seker slaapplek gee. Die man werk oordags in die stad en saans kom hy weer huis-toe."
8• Die seun het die plek gekry en daar gebly. Die aand toe die ou man huis-toe kom, begin die ou vrou hom uitvra.
9• "Watter nuus uit die stad vanaand?" vra die ou vrou.
10• "Nee, dinge is nog maar dieselfde. Die generaal is nog kwaad vir die kaptein oor die verlore swaard, en sal dit ook seker bly soos dit al vir die afgelope drie jaar is," sê die ou man.
11• Die seun word nuuskierig en toe steek die ou man sy pyp op en vertel aan die seun hoe die swaard verlore geraak het, en Vérsien, Vérhoor en Fynruik sit ook en luister.
12• "Ons knapste generaal was eendag in die veld met sy soldate. Hy ontmoet 'n man wat na 'n ou bedelaar lyk. "Wat soek jy op my grond?" vra die bedelaar. "Is dit jou grond?" sê die generaal. "Ja seker." "Sal jy ons nie net toelaat om hier deur te trek nie? Ons vyande lê daar anderkant die rivier," sê die generaal. "Kyk, generaal, as jy teen daardie klomp daar oorkant gaan veg, sal ek jou help. Hulle vererg my al vir die laaste paar jaar en dit is hoog tyd dat iemand hulle nou 'n les leer."
13• "Die bedelaar neem die snaakse kierie wat hy in sy hand het, trek aan die boonste deel en daar kom 'n mooi, lang, skerp en blink swaard uit.
14• "Neem dit en bewaar dit goed," sê hy. "Dit is betowerd. Solank as jy dit behou, sal jy mag hê teen enige van jou vyande, maar as jy dit verloor, is jou saak verlore."
15• "Baie dankie," sê die generaal onderwyl hy die swaard neem, en voordat hy nog 'n woord verder kon praat, verdwyn die ou bedelaar.
16• "Die generaal skrik en sê: "'n Towernaar, en ek dag hy is 'n bedelaar!" So het hulle in besit van die swaard gekom. Alles het goed gegaan van daardie dag af. Hulle het nie een maal verloor nie. Wie hulle vyande ook mag wees, of hoe sterk ook, hulle het altyd gewen.
17• "Toe kry die vyand die idee om die swaard te steel en net kort daarna kry hulle die kans ook. Die generaal het siek geword net voor 'n geveg. Hy laat sy knapste kaptein roep en gee die swaard aan hom.
18• "Kyk kaptein, die kosbare swaard word aan jou toevertrou. Pas dit baie goed op. As dit uit jou hande raak, weet jy, is ons verlore!"
19• "Die kaptein ontvang die swaard en belowe aan die generaal dat hy nie 'n minuut dit uit die oog sou verloor nie. Hy sou daarmee veg en verder dit onder sy kopkussing hou as hy slaap. Dit het hy ook gedoen.
20• "Een donker nag net voor dagbreek, kruip 'n soldaat uit die vyande se kamp. Hy sluip by hul wagte verby, tussen die ander slapende soldate deur tot by die kaptein se tent. So saggies as 'n muis is hy gou in en gou weer uit met die betowerde swaard. Toe kruip hy na die plek buitekant die kamp waar die perde staan. Gou spring hy op 'n perd en stilletjies vertrek hy. Skaars is hy weg, of hy hoor 'n groot lawaai in die kamp agter hom. Die kamp is wakker, die betowerde swaard word vermis!
21• "Agter hom aan! Agter hom aan!" skree die wagte by die hek, terwyl die soldate, nou helder wakker, na hul perde hardloop en in die saals vlie. Soos pyle uit 'n boog ja hulle nou om hom te vang. Net die geklap en gekletter van perdepote dreun deur die stilte van die nag oor die veld.
22• "Ver voor lê 'n man plat in sy saal. Hy ja dat die klippe so spat — reguit na 'n bos wat nog 'n end voor hom lê. Oor 'n rantjie van die berg kom die eerste flou oggendlig. Die voorste soldaat kyk om. Agter hom kom 'n wolk stof aan. Nou is hy gelukkig al by die bos. Pylsnel ja hy in. Hier meen hy om die swaard weg te steek. Word hy gevang, sou hulle dit nie by hom kry nie. Hy gooi dit hoog in 'n boomstam. Tussen die dik takke in 'n mik bly dit sit. Hy ja voort, dwarsdeur die bos en anderkant uit, maar hier ry hy vas in 'n paar soldate wat kortpad deurgesteek en daar vir hom afgewag het.
23• "Hy word van sy perd afgeruk en goed ondersoek, maar die swaard is nie by hom nie. Hulle maak hom aan 'n boom vas, ja sy perd weg en gaan toe terug in die bos om vir die ander te help soek. Noukeurig het hulle elke duim grond in die bos deurgesoek, maar die betowerde swaard was weg!
24• "Die soldate was naderhand verplig om terug kamp-toe te gaan en daarvandaan stadtoe en aan die siek generaal te vertel dat sy kosbare swaard weg was.
25• "Soe! maar hy was kwaad. Hy het uit die bed geklim, laat opsaal en self gaan soek. Die mense in die stad het almal help soek. In die kamp, in die bos, op die slagveld oral rond, maar nooit het hulle die swaard gekry nie. Dit is nou al drie jaar dat dit weg is, en ons sal dit seker nooit weer kry nie. Ons vyande weet dit; hulle is vir ons nie meer bang nie; hulle pla en vererg ons daagliks. Ons lewe swaar sonder ons betowerde swaard."