If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Die Ou Vrou van die Vlamme

1• Toe die ou man die storie van die verlies van die betowerde swaard aan die seun vertel het, sê die seun dat hy die swaard maklik sou vind met behulp van sy drie knap honde.
2• Die ou man het dit vir die generaal laat weet en dadelik moes die seun en sy drie honde na hom kom.
3• "Dink jy die honde kan die swaard vir my soek?"
4• "O ja, generaal! Ek sal die honde dadelik aan die soek sit."
5• "Vérsien, kyk goed en vertel my waar die betowerde swaard is."
6• Vérsien rig sy oë so effens en blaf: "Die betowerde swaard is nog in die bos."
7• "Nee, dit kan nie daar wees nie. Ons soek al vir die afgelope drie jaar die bos deur," antwoord die generaal.
8• Vérsien blaf weer. "Die swaard het eers bo in 'n mik van 'n boom gelê. Later het dit afgeval in 'n dam net onder die boom," sê hy.
9• "Maar ons het in die dam ook goed laat soek. Ons knapste duikers het daar gaan soek, maar niks kon hulle kry nie."
10• "Vérsien maak nooit 'n fout nie. Kom ons gaan saam om dit te haal," sê die seun.
11• Die generaal, die kaptein, die seun met sy drie honde Vérsien, Vérhoor en Fynruik — en nog ander soekers gaan almal na die bos. Fynruik vat spoor; hy hardloop voor. Tot by die dam het die honde gehardloop en hiervandaan wou hulle nie weg gaan nie, dog staan maar by die dam en blaf.
12• "Die swaard is hier in die dam. Ek sal hulle instuur om dit te gaan haal," sê die seun. Hy streel die honde se koppe en wys na die dam.
13• "Bring vir my die betowerde swaard."
14• Pylsnel skiet die drie honde die water in. Deur die groen diepte sak hulle weg tot op die bodem van die dam onderwyl die mense rondom kniel en hulle met spanning en belangstelling agterna kyk en in die modder sien verdwyn.
15• Die mense om die dam wag en wag, maar daar is geen teken van die honde nie. Die water bly kalm. Nie 'n rimpel verstoor die oppervlakte nie.
16• "Waar is hulle nou?" vra die kaptein. "Seker verdrink," sê die generaal.
17• "O nee! Maar hulle sal weg bly totdat hulle die swaard kry," antwoord die seun. En almal sit maar weer met gespanne aandag na die water en kyk.
18• Toe die honde onder in die dam kom, sak hulle meteens weg deur die sagte, diep, swart modder.
19• Skielik voel hulle so koud dat hulle amper wil verkluim.
20• "Nog verder," sê Fynruik en hulle gaan nog dieper. Hier kom hulle skielik by 'n plek wat so vuur warm is, dat hul hare begin te skroei. Vérhoor bly staan.
21• "Iemand roep ons," sê hy. Hulle luister weer. Die bewende stem van 'n ou vrou roep hulle nou duidelik.
22• "Kom, kom! Ek wag al drie jaar vir julle." Toe gaan die drie honde nog verder en daar kom hulle by 'n groot dam vuur uit. Die vlamme slaan hoog in die lug.
23• In die dam sien hulle 'n ou, ou vrou sit. Sy is so stok-oud dat sy na 'n bondeltjie bene lyk. Rond om die dam lê groot hope hout en kole.
24• Sy is besig om die dam vlamme aan die brand te hou. Dag en nag maak sy vuur. Vir honderde jare al sit sy daar. As die vuur doodgaan, gaan sy ook dood. Sy moet warm bly. So nou en dan as sy kouerig voel, krap sy 'n paar hande vol gloeiende kole die vuur om dit dan smaaklik op te eet!
25• Toe die drie honde by die ou vrou kom, hoor hulle haar brom:
26• "Ek is koud, koud — yskoud! Sal ek dan nooit warm word nie?" En dan eet sy maar weer vurige kole.
27• Sy kyk om en sien die honde langs haar.
28• "Ons kom die swaard haal," sê die honde.
29• "Dit is hier in die dam. Kom haal dit maar uit," sê sy, en sy wys na die middel van die dam, waar die vlamtonge so heen en weer swaaiend in die lug krul.
30• Met 'n yskoue hand raak sy eers aan die honde. Hulle voel meteens ook koud so koud dat al drie dadelik in die diepte van die vlamme spring.
31• Gou was hulle weer uit en Fynruik het die swaard in sy bek.
32• Die ou vrou stuur ook 'n boodskap aan die generaal dat hy die swaard nou baie goed moet oppas, want as daardie betowerde swaard vir die derde maal weg raak, sal hy dit nooit weer kry nie.
33• Die honde dank die Ou Vrou van die Vlamme vir die swaard en verlaat die warm deel. Daarna gaan hulle deur die plek waar dit so koud is dat hulle begin styf word en amper nie kan swem nie. Hier het hulle lank gesukkel, maar darem deurgekom, en toe eers is hulle op die bodem van die dam in die swart modder.
34• Teen die tyd was die mense om die dam al moeg van kyk en wag.
35• "Die honde sal nooit weer terug kom nie. Hulle is nou seker al verdrink," sê die generaal.
36• "O nee! Kyk daar kom hulle terug," antwoord die seun, en hy wys hoe die water troebel word. Voor hulle nog 'n woord verder kon praat, skiet die drie honde uit die water uit.
37• Fynruik het nog die swaard in sy bek.
38• "Die swaard, die swaard!" skree almal met groot blydskap.
39• Die hond neem die swaard reguit na sy baas toe en lê dit aan sy voete neer. Die seun streel die hond se kop en gee die swaard aan die generaal, wat dit nou met die grootste blydskap en dankbaarheid ontvang.
40• Van daardie dag af het hy dit so goed bewaar dat dit vir vyftig jaar nie weer weg geraak het nie.
41• Die generaal het die honde se knapheid so bewonder dat hy graag een wou koop vir gebruik in oorlogstyd, maar die seun het natuurlik geweier en wou nie daarvan hoor nie. Sy beste vriende sou hy nooit verkoop nie.
42• Die mense van daardie stad was baie dankbaar en het hom goed beloon. Nog 'n week het hy daar gebly en toe gedink dit was tyd om verder te gaan. Nadat hy afskeid van die stad se mense geneem het, roep hy sy honde en vertrek weer op reis met sy drie getroue vriende — Vérsien, Vérhoor en Fynruik.