If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Prinses Jana en die Seerower

Flash is required!

Vandag is 'n baie mooi dag.  Die sonnetjie skyn lekker warm op die blink water van die rivier, en die voëltjies sing in die grys kasteel se tuin.  In die donker bos gly dun straaltjies son tussen die bome se blare deur en maak kolle op die voetpaadjie.

Daar kom 'n klein dogtertjie al met die voetpaadjie langs gestap.  Sy het 'n wipneusie met vreeslik baie sproete op, en haar hare hang in twee lang vlegsels oor haar skouers.  Haar naam is Prinses Jana, en sy woon in die grys kasteel saam met haar mamma, die koningin, en haar pappa, die koning.

Prinses Jana speel graag in die donker bos.  Terwyl sy met die paadjie langs loop, probeer sy die sonkolletjies tel.

"Sewe-en-dertig, agt-en-dertig, nege-en-dertig..." tel sy saggies, en spring oor die kolletjies sodat haar twee vlegsels so wip-wip op haar rug.

Maar skielik gaan Prinses Jana staan.  Sy draai haar koppie skeef en luister mooi.  Iewers in die donker bos het sy 'n geluid gehoor.  Sy hou haar asem op.  En ja, daar hoor sy dit weer!  Dis 'n snaakse fluit-geluid wat tussen die bome uitkom.

"Dit moet 'n voëltjie wees," dink Prinses Jana.  Maar sy ken al die voëtjies in die donker bos se liedjies, en daardie geluid het sy nog nie gehoor nie.  

Prinses Jana luister mooi, en dan fluit sy terug.  Sy luister weer.  En ja, waarlik!  Daar fluit die fluit weer terug!  Nou raak dit 'n speletjie.  Die ding in die bos fluit vir Prinses Jana, en dan kom dit so 'n bietjie nader.  Prinses Jana fluit weer terug, en dan gaan sy ook 'n bietjie nader.  Nader en nader kom Prinses Jana en die fluit-ding aan mekaar...

Prinses Jana gee een laaste lang fluit, en skielik spring 'n seerower agter een van die dik boomstamme uit!

"Hoekom fluit jy vir my?" vra die seerower en loer vir Prinses Jana met sy een oog.
"Hoekom fluit jy vir MY?" vra Prinses Jana, en trek haar neusie op 'n plooi.  Sy is niks bang nie, want sy weet seerowers is nie baie slim nie.
"Ek fluit nie vir jou nie," antwoord die seerower, en lyk sommer hartseer.  "Ek fluit vir die wind."
"Ek wil nou nie snaaks wees nie," sê Prinses Jana, "maar ek het nog nooit gehoor van iemand wat vir die wind fluit nie!"

Die seerower lyk skaam.  Hy kyk af na sy twee stowwerige groottone wat deur die gate in sy stowwerige skoene steek.

"Ek het my skip verloor," sê hy saggies.  "Ek kan nie onthou waar ek dit gesit het nie.  En nou wil ek by die wind hoor of hy dit nie dalk gesien het nie.  Maar die wind is ook weg."

Prinses Jana kyk op na die hoogste punte van die hoë bome.  Hulle staan stil in die blou lug.  Die seerower is reg.  Dit lyk vir haar ook asof die wind weg is.

"Ek wil nou nie snaaks wee nie," sê Prinses Jana weer, "maar ek het ook nog nooit gehoor van iemand wat 'n skip verloor het.  En hoe gaan die wind jou help om die skip te kry?"

"O, die wind weet alles!" sê die seerower en glimlag weer so 'n klein bietjie.  "Die wind weet waar die son in die aande heengaan en waar die see ophou en waar al die verlore goeters is."

Prinses Jana het ook nog nooit gehoor van 'n plek waar die see ophou nie, maar sy sê liewers niks nie.  Sy onthou dat seerowers nie eintlik baie slim is nie.

"Dalk kan ek jou help om jou skip te kry?" sê sy. "My naam is Prinses Jana."

"Dit sal wonderlik wees, Prinses Jana!" roep die seerower bly uit.  "My naam is Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel die seerower!"

Die seerower steek sy hand uit, en Prinses Jana skud dit versigtig.  Dit lyk vir haar asof Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel sy hande jare laas gewas het!
"Waar het jy jou skip laas gesien?" vra Prinses Jana, en sy begin sommer tussen die bome deur soek.  Sy wil die seerower help sodat hy kan padgee uit die donker bos uit.  Dan kan sy weer in vrede piekniek hou en vir die voëltjies fluit.

"Daar was 'n vreeslike storm, en die donderweer het geraas!" sê die seerower. "En toe die storm verby was, was my skip weg!  Dis al wat ek kan onthou.  Nou soek ek maar na die wind, want ek het hom laas hier in die donker bos gesien waai."

Prinses Jana en Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel soek tussen die bome deur en agter die bossies.  Hulle stap om al die groot klippe en kyk in al die donker gate.  Maar al wat hulle kry is 'n rooi voëltjie met 'n blou bekkie wat in 'n sonkolletjie sit.

"Verskoon my," sê Prinses Jana vir die voëltjie, "maar het jy nie dalk hierdie seerower se skip gesien nie?  Dit het in die storm weggeraak."

"Is jy miskien Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel?" vra die rooi voëltjie en loer na die seerower.
"Ja, ek is!" sê die seerower bly.
"Jou skip soek na jou," antwoord die voëltjie, en vlieg weg.
"Ek wil nou nie snaaks wees nie," sê Prinses Jana, "maar ek het nog nooit gehoor van 'n skip wat..."
Maar sy sê liewer nie alles nie, want die seerower lyk baie hartseer.

"Toemaar," sê Prinses Jana.  "Ons sal jou skip kry."

Prinses Jana en Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel soek verder deur die donker bos.  Hulle loer in die waterpoeltjies en kruip in die hol boomstompe in.  Hulle soek agter elke bultjie en om elke draaitjie.  Maar hulle kry nie 'n skip nie.  Hulle kry net 'n skilpad met 'n oranje dop wat stadig in die bospaadjie aanstap.

"Verskoon my," sê Prinses Jana vir die skilpad, "maar kan jy dalk vir ons sê of jy hierdie seerower se skip iewers gesien het?"

Die skilpad kyk die seerower stadig op en af.

"Is jy Kaptein Knorpot Karkaatjie?" vra die skilpad.
"Knorpot Karolus Karnuffel, ja!" antwoord die seerower opgewonde.
"Nou ja," sê die skilpad, "jou skip soek na jou, hoor?"

En voor Prinses Jana of die seerower nog iets kon sê, trek die skilpad sy kop en sy pote binne in sy oranje dop in vir 'n middagslapie.

"Toemaar," troos Prinses Jana, "Ek is seker ons sal jou skip kry!"
"As die wind net wil kom help!" sug die seerower.
"Ek wil nou nie snaaks wees nie," sê Prinses Jana, "maar ek dink nie die wind sal..."

Maar Prinses Jana praat nie klaar nie, want die seerower het alweer begin soek na sy skip tussen die bome, en sy onthou skielik dat seerowers nie eintlik baie slim is nie.

Hulle soek onder die los blare en onder die swaar klippe.  Hulle soek in al die donker hoekies en gaatjies in die donker bos.  Maar hulle kry nie 'n seerower skip nie.  Al wat hulle kry is 'n baie lui erdwurm wat op 'n plat klip sit en droom.

"Ek is jammer om te pla," sê Prinses Jana en maak keelskoon, "maar het jy nie dalk hierdie seerower se skip gesien nie?  Ons kry dit nêrens nie."

Die lui erdwurm sug en gly van die klip af.

"Is jy daai seerower Knorpot Karolus ensovoorts ensovoorts?" vra die wurm.
"Ek is!  Ek is!" roep die seerower en spring op en af.
"Jou skip soek jou," sê die erdwurm en seil in 'n gaatjie in die grond in.

Prinses Jana wou nog iets sê oor erdwurms wat liewers nie buitekant die grond moet uitklim nie, maar voordat sy dit kon sê begin die seerower vreeslik huil.

"Ek soek na my skip en my skip soek na my en nie een van ons kan nie die ander een van ons kry nie!" snik die seerower tussen sy trane deur.

Prinses Jana weet nie meer wat om te sê nie.  Sy is moedeloos.  Sy haal diep asem en blaas dit... stadig weer uit... met 'n baie lang... fluit.
En kan jy dit glo?  Die volgende oomblik kom die wind op!  Die blare in die bome begin roer en roer.  Prinses Jana se kuifie begin lig en lig.  En die seerower se trane droog op!  Die wind waai al hoe sterker en sterker deur die donker bos.  Dit fluit en dwarrel rondom Prinses Jana se bene en trek tergerig aan haar vlegsels!  Die wind druk vir Prinses Jana en Kaptein Knorpot Karolus Karnuffel altwee al die pad in die bospaadjie af.

Prinses Jana wil nog keer, maar die wind is sterk.  Dit lig haar op haar toontjies en waai haar al agter die seerower aan tussen die bome deur.  Die wind waai en fluit en kielie, en Prinses Jana wil sommer lag van die lekkerte.  Sy en die seerower waai deur die donker bos, al met die paadjie langs en bo-oor die randtjie, en daar laat die wind hulle staan.

En kan jy dit glo?  Daar voor hulle lê die diep blou see.  En in die diep blou see se vlak water lê die seerower se skip vir hom en wag!

"Joegaai!" roep die seerower en spring op en af.  "My skip!  My skip!  My skip!  Daar is my skip!  Hier is ek, skip!"

Hy skud Prinses Jana se hand baie vinnig op en af om dankie te sê, en toe hardloop hy al met die heuwel af tot onder by die see.  Hy klouter in sy skip en waai vir Prinses Jana.

En Prinses Jana?  Sy het net mooi niks gehad om te sê nie.  Sy het vir die seerower gewaai en gewag tot sy skip ver op die blou see verdwyn het.  En toe het sy omgedraai en al met die bospaadjie langs teruggestap na die groot grys kasteel.  

"En wat het jy vanoggend gedoen?" vra die koning daardie aand aan etenstafel vir Prinses Jana.
"Ek het 'n seerower ontmoet," sê Prinses Jana.  "En ons het sy skip gesoek."
"Jy weet, ek dink nie seerowers is eintlik baie slim nie," sê die koning, en hy vat 'n skeppie poeding.
"Ek dink hierdie een was nogal slim," antwoord Prinses Jana en sê niks verder nie.

(Note: If you purchase the stories, this transcription does not come with the audio.)