If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Die Tien Sustertjies

1• Daar was eenmaal tien klein sustertjies wat by hul oumatjie in 'n snaakse ou klein huisie gewoon het.
2• Hul mammie het op 'n dag skielik weggeraak. Niemand kon ooit uitvind wat van haar geword het nie.
3• Elke jaar as een van die sustertjies oud genoeg was, het sy gesoebat die oumatjie moet haar tog laat uitgaan om haar mammie te soek. So het nege al uitgegaan, maar nie een het teruggekom nie.
4• Hoe die oumatjie ook al gewag het, taal of tyding het sy nie van een gekry nie.
5• So het dit jaar na jaar gegaan en toe was nog net die jongste enetjie oor.
6• "Oumatjie, ek wil ook gaan soek. Kry ek nie my mammie nie, kan ek miskien darem uitvind wat van my sustertjies geword het."
7• "Ja, my kind, maar wees tog versigtig. Laat my seker weet waar jy is en hoe dit met jou gaan."
8• So het sy een oggend vroeg vertrek, en sy het geloop en geloop en geloop. Naderhand kom sy by die dorp uit. "Soe! maar hier is mooi huise," sê sy. Onderwyl sy staan en kyk na 'n mooi groot huis, gaan die agterdeur oop en 'n ou vrou met 'n mandjie aan haar arm, kom uit.
9• "Môre, my kind! Waar gaan jy?"
10• "Ek soek my mammie en my sustertjies."
11• "Help gou vir my, dan help ek vir jou ook soek. Kruip net gou by die hoenderhok in en haal vir my die eiers uit."
12• Sy kruip gou in en haal die eiers uit, maar toe sy omdraai om uit te kom, was die hoenderhok se deur styf toe en die ou vrou skoon weg!
13• "Maar, kyk, hoe kan die ou tante nou vir my hier vergeet. Ek sal maar hier in die hoekie sit en wag totdat sy onthou ek is hier en vir my kom uithaal," sê die dogtertjie. Daar in die hoekie van die hokkie sit sy op 'n hopie, en ook net gou was sy vas aan die slaap.
14• Toe dit donker was, kom die ou vrou - wat al die tyd vir haar afgeloer het - weer uit na die hoenderhok. Sy sluit die deur oop, kruip self in en dra die slapende meisietjie onder haar arm na die huis toe. Toe hulle in die huis kom, skrik die dogtertjie wakker, en daar staan sy en die ou vrou in 'n groot kamer met 'n lang ry bedjies daarin. Op elke bedjie lê 'n pragtige meisie en slaap.
15• Daar is amper 'n honderd bedjies en nie plek vir nog een nie.
16• "Hier moet jy vanaand slaap," sê die ou vrou.
17• "Maar daar is nie plek vir 'n muis nie."
18• "O, gou maak ek plek." En sy loop na die muur, gee dit 'n stoot en die muur skuiwe weg, en onder die laaste bedjie trek sy nog 'n bedjie uit.
19• "Daar is jou bed; loop slaap nou gou." En terwyl sy in die bed klim, loop die ou vrou na al die ander bedjies. Elke kombers lig sy so effens en loer of almal slaap. Niemand roer nie en die ou vrou is weer die kamer uit.
20• Maar skaars het sy die deur toegemaak of die dogtertjie sien dat niemand slaap nie! Hulle loer vir haar en sê: "Nog een, nog een, nog een!"
21• Komberse word afgegooi en uit elkeen van die honderd bedjies spring 'n fraai klein meisietjie. Tussen hulle was haar nege verlore sustertjies wat so spoorloos verdwyn het!
22• "Ag, ons is so bly om jou te sien! Vertel tog gou hoe dit by die huis gaan. Is Oumatjie nog fris en gesond? Is Mammie al tuis?"
23• "Ja, Ouma is nog gesond. Sy het so baie verlang na julle dat ek maar verplig was om julle te kom soek. Ons het gewag en gewag, maar julle het nooit 'n woordjie laat weet nie."
24• Voor hulle nog verder kon praat, kom die ou vrou weer aan.
25• "Toef! Taf! Toef! Taf!"
26• "Maak gou, daar kom sy aan!" en skaars het een dit gesê of die laaste een is weer onder die kombers, en toe sy inloer, was alles stil.
27• "Ja, almal slaap, almal slaap!" sê sy, en weer is sy weg. So het dit gebly tot in die middel van die nag, maar toe die klok twaalf-uur slaan, was almal op.
28• "Sjuut, sjuut, sjuut," sê almal. Vingers op die lippies, skelm ogies loer rond. Soos muisies kruip al die ander klein dogtertjies uit en hardloop na 'n groot ou klerekas in die hoek.
29• Gou is die deur oop en almal gaan daarin en verdwyn. Toe die laaste enetjie in is, gaan die deur toe.
30• Binne was 'n lang ry treetjies of tot onder by 'n stukkende ou houtdeurtjie. Een na die ander gee 'n kloppie. Dit word op 'n skrefie oopgemaak en 'n ou mannetjie loer versigtig uit.
31• "Dit is julie. Kom maar binne," nooi by vriendelik en almal kom in. Klaps! is die deur toe. En daar sit 'n hond met groot oë nou op wag.
32• Hier is hulle nou in 'n land van groen gras, blomme en bome. Doudruppels hang soos diamante aan die silwerbome en alles is fraai.
33• Weer 'n geklop aan die deurtjie. Weer loer die mannetjie uit.
34• "Moenie oopmaak nie. Dit is ou "Eenoog" wat kom kyk of julle hier is. Hy sal vir sy ou vrou gaan vertel." En die hond ja hom gou weg.
35• Daar het hulle vir ure gespeel, en toe dit tyd was om huis toe te gaan, sê die een sustertjie: "Kom ons tien kruip hier weg en ons gaan nie terug nie."
36• En dit het hulle gedoen.
37• Toe die ou vrou die volgende oggend tien leë bedjies sien, was sy net kwaad. Sy wou weet waar hulle was, maar niemand kon sê nie en so het dit gebly.
38• Die mannetjie het gaan slaap, die hond het op wag gebly, en die tien sustertjies het uitgekruip en onder die silwerbome gaan speel.
39• "Bê, Bê," hoor hulle, en daar speel die pragtigste ou wit lammetjie rond. Hulle wou hom vang en maak toe 'n kring om hom, maar skaars het elkeen aan hom geraak, of sy het ook in 'n lammetjie verander!
40• Toe die laaste een verander het, skrik hulle vreeslik, want daar in die middel staan 'n groot honger wolf in plaas van die eerste lammetjie! Na alle kante hardloop hulle, die wolf agterna, en so in die nood is die tien dat almal binne in 'n diep donker dammetjie water spring. Toe hulle daar anderkant uitkom, het die laaste een weer in 'n klein swart varkie verander.
41• "Oi, oi, oi!" skree hulle, en die mannetjie word nou wakker. Hy sien sommer wat gebeur het en sê vir die hond: "Hardloop gou en keer hulle weg dat die ou vrou wat so baie wors maak, tog nie vir hulle in die hande kry nie."
42• Die groot hond spring dadelik vinnig weg. Nie ver nie of hy sien tien bang swart varkies op 'n hopie staan, en net anderkant die bome kom die ou vrou aan.
43• Sy sleep lang stukke wors wat sy gemaak het, agter haar aan. "A-ha! Dit is net wat ek soek." Sy spring tussen hulle in. Net toe sy die naaste een wou vang, keer die hond haar. Hy vang haar aan die rok en hou vas so al wat hy kan.
44• "Hardloop gou na die ou mannetjie; ek sal haar solank vashou. As sy julle kry, verander sy die laaste een in wors!"
45• Die varkies hardloop dat hul kloutjies so klap tot by die ou mannetjie.
46• "Ag my liewe, kyk hoe lyk julle nou, julle was baie mooier as klein meisies. Miskien kry ek dit weer reg."
47• Toe het sy 'n soort pap van semels gemaak en vir die varkies dit gegee. Toe almal klaar geëet het, raak hulle aan die slaap, en toe hulle wakker skrik, was almal weer klein dogtertjies!
48• "Ek sal julle nou self wegbring," het die ou mannetjie gesê. Hy het 'n lang, lang leer geneem en by 'n hoë, hoë boom dit gesit en almal het geklim tot bo in die toppie van die boom en daar dwarsdeur 'n opening gegaan. Hier was hulle skielik weer in hul eie ope wêreld!
49• "Gaan nou reguit na jul oumatjie, en moenie weer dat daardie ou vrou vir julle in haar hoenderhok vang nie, want sy is dieselfde ou vrou wat hier onder kom wors maak."
50• Terug met die paadjie na die snaakse ou huisie in die bos. Hier het hul oumatjie en hul mammie wat onverwags teruggekom het, vir die tien sustertjies gewag. Van toe of het almal altyd lank en gelukkig daar saam gelewe.