If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Gesegdes

opgestel deur Dr Anton Prinsloo

Gebore op 22Mei 1941 op Heilbron, Vrystaat.

Studeer aan UNISA: 1981: B.A. (met lof). 1983: Hons.B.A. (met lof). 1984: M.A. en 1986: D.Litt. et Phil. in die Afrikaanse taalkunde.

Lid van die SA Akademie

Publikasies:

  • Feite, flaters, fiksie (2001 – ’n versameling taaleienaardighede)
  • Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (2004); Sleng (2006).
  • Mede-outeur van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans se Supplement (2007)
  • Annerlike Afrikaans (’n woordeboek van Afrikaanse kontreitaal) (2009)

Toekennings:

  • Meriete- (1983) en Voortreflikheidstoekenning (1984) van die S.A. Instituut vir Bedryfsredakteurs
  • Kerkbode-radioprys vir 2002 vir versorging en aanbieding van Kollig op die kerk op RSG
  • C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns (2003)
  • FAK se toekenning (goud) vir besondere kultuurprestasie in die handhawing van Afrikaans (TV, radio en gedrukte media - 2003)
  • Drie Woordwystoekennings van die ATKV vir publikasies 1994-2005.

Konsultant vir die Oxford University Press t.o.v. hulle jongste Afrikaanse atlasse. Reviseur vir die Afrikaanse leerderuitgawe van die Encyclopædia Britannica.

e-pos: prinsaremove_this(at)worldonline.coremove_this(dot)za

Gaan na https://aie.ned.univie.ac.at/node/124676 vir Afrikaans in Europa met goeie inhoud oor Afrikaans en 'n meer volledige lys van gesegdes van Dr Prinsloo.


AFRIKAANSE GESEGDES (sayings)

    • Aap: Die aap is uit die mou (wanneer iets openbare kennis word)

    Volgens oorlewering het die kulkunstenaar ’n apie in die wye moue van sy kleed versteek en dit dan skielik te voorskyn gebring; amper soos vandag se haas uit die hoed. Dieselfde geld ook die sotskolf van die nar wat in sy mou versteek is en dan onverwags in sy hand sou verskyn tot die bewondering van die hofgangers oor sy towerkuns.

    • Agie: ’n Nuuskierige Agie (verwys na ´n baie weetgierige persoon)

    Dié Agie was Agie van Enckhuysen en haar geskiedenis het behoue gebly. "Die uitdrukking is ontleen aan 'n 17de-eeuse klugtige vertelling, oorspronklik van de milde St. Marten en oorgeneem deur Jan Zoet in 'T leven en bedrijf van Clement Marot onder die tietel [sic] Kluchtig Avontuurtje van 't Nieuwsgierig Aeghje van Enckhuysen. Hiervan het Bormeester 'n klugspel gemaak: 't Nieuwsgierig Aegje." (D.F. Malherbe)

    • Amasone: Sy is 'n regte Amasone (verwys na ´n erg robuuste vrou)

    Volgens oorlewering 'n strydlustige groep vroue met geamputeerde regterbors om pyl en boog beter te hanteer. In Grieks beteken a-mazos "sonder bors".

    • Balie: Tot die balie toegelaat word (dui op bevordering van ´n regsgeleerde)

    In Oufrans het bai(i)le "slagboom" beteken, uit Latyn baculum ("stok"). Dit was in die hof die leuning wat die plek van die advokate afskei sodat die gepeupel nie by hulle kon kom nie. Dié plek het later ook die betekenis verkry van die "orde van advokate". Presies dieselfde het in Engels gebeur waar die bar ook die advokate van die hofgangers geskei het.

    • Begewe: Iemand se moed begewe hom (iemand verloor heeltemal moed)

    Begeven in Nederlands het "in die steek laat" beteken – wat jou moed dan ook doen as jy dit nodig het.

    • Bende: 'n Bende van Kardoes (’n rowerbende; ’n rumoerige byeenkoms)

    'n Berugte bende diewe met Louis Dominique Cartouche (gebore in 1693) as leier het 'n skrikbewind in Parys gevoer. Sy van is in Afrikaans vervorm tot Kardoes. Hy is in 1721 op die rad gebreek op die Place de Grève in Parys.

    • Berde: Te berde bring (iets opper vir bespreking)

    Die ou betekenis van berd is "bord, plank, tafel" – om iets dus te berde te bring is om dit na die tafel te bring, figuurlik om daarna te kyk en te bespreek. Vandag sê ons ook dat iets ter tafel gelê word.

    • Berg: As die berg nie na Mohammed wil kom nie, moet Mohammed na die berg toe gaan ('n mens moet die mindere wees as die ander nie wil toegee nie)

    Volgens 'n oorlewering (wat louter versinsel is) sou Mohammed 'n berg beveel het om na hom te kom; toe dié onbeweeglik bly staan het, sou hy die woorde van die spreekwoord gebruik het.

    • Beskore wees: (bedoel wees, byvoorbeeld dit was nie vir my beskore nie)

    Beskore is die sterk verlede deelwoord van die Nederlandse werkwoord bescheren, wat beteken het "bestem"; dus "bestem wees (vir iemand)".

    • Bewimpel: 'n Saak bewimpel (nie reguit met die waarheid uitkom nie)

    Die woord wimpel se betekenis reeds ongeveer 700 jaar gelede in Middelnederlands was eerstens "sluier, doek" (en dan onder andere ook "vlag"). Bewimpel het dus "versluier, met doeke omgedraai" beteken. Middelnederlands is die Nederlands wat ongeveer tussen 110 en 1500 n.C. gepraat is.)

    • Blik: Sonder te blik of te bloos (Sonder om bang of skaam te wees)

    Die bloos-deel van die idioom is voor die hand liggend, maar die blik nie. Die woord gaan terug op die Middelnederlandse werkwoord blikken, "skitter, in die oog val". As gevolg van klinkerverandering wat ablaut genoem word, het die blik in bleek verander, waarvan ook duidelik bleik woordfamilie is. As vrees 'n mens beetpak, dan word jy bleek, soos 'n laken. In hierdie toestand is dit maklik om te verstaan dat jou gesig 'n waarnemer sal opval. Die uitdrukking beteken dus om iets te doen sonder om bang of skaam te wees.

    • Blikoor: 'n Blikoor wees (bynaam, spotnaam vir ’n Vrystater)

    So genoem omdat Vrystaters dan kwansuis dom sou wees omdat hulle nie met blikore kan hoor nie en dus geen kennis verwerf nie.

    • Bloed: Blou bloed hê (van hoë afkoms wees)

    Iemand wat "blou bloed" het, word gereken as 'n lid van die adel of van koninklike afkoms. Oorspronklik is dit net gesê van die Spaanse adel (met ligte velle) wat geen Moorse bloed in hulle gehad het nie. Die uitdrukking kom daarvandaan dat mense met ligte velle se are blou vertoon onder die vel - soos wat die Spanjaarde s'n inderdaad was.

    • Bloksberg: Ek sien jou liewer op Bloksberg sit voor ek dit doen (ek weier om dit te doen; vlieg na die duiwel)

    Dié Bloksberg bestaan werklik, maar onder ’n ander naam. Die uitdrukking het te make met Walpurgisnag. Dit is die aand voor Europese Meidag, wanneer volgens oorlewering al die hekse in die wêreld op sekere hoë plekke op aarde feesvier onder leiding van die duiwel, veral op die Brocken, die hoogste punt van die Harzberge in Duitsland. Hierdie spits staan in Afrikaans bekend as die Bloksberg. Om iemand soontoe te verwens is dus om hom in die middel van die hekse te wil hê!

    • Bobbejaan: So kwaad wees soos oom Paul se bobbejaan (baie kwaad wees vir iemand wat nie die oorsaak daarvan is nie)

    Volgens oorlewering het oom Paul Kruger 'n bobbejaan aangehou. Op 'n koue dag was daar 'n vuur naby die paal waaraan die dier vas was. Die bobbejaan het gedraai, sy stert deur die vuur geswaai en na oom Paul gehap wat toevallig aan die verbystap was.

    • Boeg: Oor ’n ander boeg gooi ('n ander draai aan ’n saak gee om ’n doel te bereik)

    Om 'n skip oor 'n ander boeg te gooi, is om van rigting of koers te verander. In hierdie geval word nie die spits voorkant van die skip bedoel nie, maar die twee sye, stuurboord en bakboord, waarop die wind waai en ’n invloed uitoefen.

    • Boeglam: Jou boeglam skrik (baie groot skrik)

    In Middelnederlands al was boeg 'n ander naam vir die blad of bo-arm van 'n dier of 'n mens, maar veral van 'n perd. As 'n mens dus jou boeg lam geskrik het, was dit soos 'n perd wat te ver gehardloop het en in die boeë moeg geword het.

    • Boikot: Iemand boikot (iemand ignoreer, uitsluit, nie ondersteun nie)

    Dié uitdrukking verwys na kaptein Charles Boycott, in die laat 19de eeu 'n agent van graaf Erne, 'n groot grondbesitter in die graafskap Mayo in Ierland. Die Ierse Land League is in 1879 opgerig om die pagters teen uitbuiting van die grondeienaars te beskerm. Boycott was besonder ongenadig met die huurders en het hulle besittings gekonfiskeer as hulle nie die uitermate hoë huur kon betaal nie. Hy het ook geweier, na twee mislukte aartappeloeste, om die huurgeld met 25 persent te verlaag. Charles Parnell, die voorsitter van die Land League moes die gemoedere van die huurders kalmeer – hulle wou die agente van die grondeienaars vermoor. Hy het voorgestel dat so 'n persoon heeltemal alleen gelaat moet word: op straat, in die winkels, op die mark, selfs in die kerk moes die skarminkel geïsoleer word. Die resultaat van dié stief behandeling was dat Boycott se personeel weggeloop het, sy vee verdryf is, hy op straat gespot is, sy pos onderskep is en die handelaars geweier het om iets aan hom te verkoop. Boycott begaan toe die flater om sy lot in The Times te bekla, en skielik is sy naam en die saak voorbladnuus. Die koerante praat van boycott as werkwoord, en gebruik dit as 'n alternatief vir ostrasisme. Die nuwe woord het oornag deur Europa versprei. In Russies word dit bojkotirovat, in Italiaans boicottare, in Spaans boycotear, in Frans boycotter en in Afrikaans ons huidige verafrikaanste woord. Omdat die boikot van Boycott so 'n groot sukses was, het die woord inslag gevind en word dit 'n eeu later nog gebruik.

    • Bokerf: Bokerf trek (dit moeilik hê)

    Die bokerf was die hoogste kerf in die jukskei en as die strop daarin geskuif is, het dit stywer om die os se nek gesluit. Eintlik sê die spreekwoord dus dat jy wurg.

    • Bokhoring: Bokhorings maak (’n eed aflê)

    As 'n mens iets onder eed aflê, word twee vingers in die lug gesteek met die woorde: "So help my God". Die twee vingers word gelykgestel aan bokhorings.

    • Bokveld: Bokveld toe gaan (doodgaan, dood wees)

    Die Bokveld, volgens een bron, was vroeër 'n verwysing na die hel, na aanleiding van die laaste oordeel beskryf in Mattheus 25 waar die bokke na die ewige vuur gaan. Later sou die betekenis dan uitgebrei het tot die algemene "doodgaan".

    • Boontjie: Boontjie kry sy loontjie (elkeen kry sy verdiende loon)

    Dié uitdrukking is ontleen aan 'n Nederlandse sprokie van ertjie, boontjie, strooitjie en kooltjie vuur wat gaan wandel het. Hulle kom toe by 'n rivier en wonder hoe hulle aan die oorkant sal kom. Strooitjie bied toe aan om oor die water te lê, en ertjie en boontjie loop toe daarop oor. Toe kom kooltjie vuur, maar in die middel van die strooitjie slaan dié toe aan die brand en kooltjie vuur val toe in die water. Boontjie lag toe (onsensitief en ontydig) so hard daaroor dat hy bars – en dit was sy verdiende loon.

    • Botter: Dis botter aan die galg smeer (dis vergeefse moeite)

    Volgens Nederlandse bronne beteken dit maar net dat dit nie help om die galg glad te probeer maak nie – die tou gaan buitendien jou nek breek.

    • Bres: In die bres tree vir iemand (iemand verdedig)

    'n Bres was 'n gat in die muur van 'n vesting wat deur beleëraars gewoonlik met 'n stormram gemaak is. As 'n mens dan in daardie bres tree, het jy die swak plek toegemaak en die vesting beveilig.

    • Daalder: Dis ’n bietjie (darem) te dik vir ’n daalder (dis te erg; dis te duur)

    Die oorsprong van geldname is vandag nie meer algemeen bekend nie: Die dollar se naam, byvoorbeeld, kom van Joachimstaler, die dorp Joachimstal in Duitsland waar silwer ontgin is en die munt in 1519 die eerste keer geslaan is. Die Joachimstaler het kortweg die thaler geword, in Engels die dollar, en in vroeëre Afrikaans (uit Nederlands) die daalder. As 'n munt dikker as die daalder was, was dit nie eg nie – en by uitbreiding dus te erg om te glo dat dit die ware Jakob is.

    • Dawid: Iemand wys waar Dawid die wortels gegrawe het (iemand berispe, ’n les leer)

    Dawidjieswortel of dawidjiewortel is ’n plantsoort wat giftig is vir diere. As jy nou vir iemand wys waar dawidjiewortel gegrawe (of begrawe) is, kan dit beteken dat jy hom waarsku dat hy met gif speel deur so parmantig of aanmatigend op te tree dat dit nodig is dat jy hom moet berispe. Die woord (en plant) dawidjiewortel is redelik onbekend, nè is waarskynlik daarom vervorm tot die frase Dawid die wortel.

    • Derde: Derde (drie) keer is skeepsreg (die derde poging is gewoonlik suksesvol; alle goeie dinge bestaan uit drie)

    Daar is 'n ou opvatting dat drie 'n heilige getal is en dat dit die herkoms van die spreekwoord is, maar dit is net 'n gissing, want dit verklaar nie die byvoeging in ou Nederlands van en eenmaal voor de knecht nie. Volgens ander bronne was dit vroeër hoegenaamd nie 'n dreigende opmerking nie, en het dit niks met seevaartstrawwe soos kielhaal te make gehad nie. ’n Logieser verklaring is die volgende: Die schepenrecht van Middelnederlands was die "wetboek vir die regspraak van die skepe, of die regspraak van die skepe self". Hierdie skepe (Middelnederlands schepen) was die regters wat die wet in 'n stad toegepas het. Daar was dikwels sewe van hulle, waaruit een as een van die burgemeesters aangewys is en dan as schepenburgermeester bekend gestaan het. Die betekenis van "munisipale regter" blyk duidelik uit ander samestellings met schepen- in Middelnederlands, byvoorbeeld schepenbank ("regbank"), schepenboec ("boek waarin die vonnisse aangeteken is"), schependoem ("skeepsvonnis") en 'n tiental meer, waaronder schepencnape ("geregsbode"). Die ¬skeeps- van skeepsreg het waarskynlik niks met die vloot te make gehad het nie. As 'n mens drie maal dieselfde oortreding begaan het, is jy onder die reg van die schepen vervolg. Maar nie as jy 'n "kneg" was nie: dan het die ou Nederlandse byvoeging gegeld, naamlik en eenmaal voor de knecht. Dit maak sin as 'n mens ook weet dat een van die betekenisse van Middelnederlandse cnecht juis "dienaar van die gereg" was: die polisieman het geen tweede kans gekry as hy 'n oortreding begaan het nie – dit was sommer dadelik skeepsreg vir hom.

    • Disnis: Iemand disnis werk, loop, speel, hardloop (iemand vêr wen)

    Vervorming in die volksmond van distance – 'n renperd moes met meer as 100 treë wen om met 'n "distance" te wen, wat toe disnis in Afrikaans geword het.

    • Doepa: ’n Meisie doepa ingee ('n meisie met behulp van medisyne op jou verlief laat raak)

    Doepa is 'n soort poeier wat Maleiers in hulle huise en moskees brand vir die aangename reuk wat dit afgee – en wat volgens bygeloof 'n toormiddel is. In Maleis beteken dit "wierook".

    • Donkiejare: Donkiejare laas (baie lanklaas)

    Hierdie donkiejare is 'n vertaling van 'n flater wat reeds in die Engelse weergawe sit. Die uitdrukking lyk nou onlogies aangesien die jare van 'n donkie nie noodwendig so lank is as wat mens sou dink nie. In Engels is dit beslis donkey’s years, maar dit was oorspronklik as long as donkey’s ears, dus so lank as die ore van die donkie. Dit het reeds daar verbrou geraak tot donkey’s years, en ons het blindelings in Afrikaans vertaal.

    • Doodluiters: lets doodluiters doen (iets kalm doen asof daar oënskynlik geen risiko aan verbonde is nie)

    Die Lutherane moes tydens die hervorming oppas hoe hulle hulle gedra, en die –luiters is 'n vervorming van Luthers. Die betekenis was "ongeërg, oënskynlik onskuldig", dus kon hulle doodluiters in die straat afstap.

    • Dooiemansdeur: Aan dooiemansdeur klop (die huismense nie tuis kry nie; iemand tevergeefs om hulp vra)

    Die Nederlandse vorm is aan dove mans deur kloppen, en dit het beteken om te klop maar nie gehoor te word nie omdat die inwoner doof is; die dooiemansdeur is dus 'n verbrouing van dowemansdeur.

    • Doppie: Iemand se doppie het geklap (iemand is dood)

    By ou gewere is die kruit ontsteek met 'n koperdoppie. As jou doppie dus geklap het, het dit beteken dat die koeël afgevuur is en die geweer verder nutteloos was.

    • Dreef: Op dreef kom (vorder, aan die gang kom)

    Dreef is 'n afleiding van dryf, en beteken dus "die pad waarlangs vee gedryf is"; by uitbreiding dus om op die regte pad te kom en aan die gang te kom, te vorder.

    • Druif: Die druiwe is suur (iets verkleineer wat jy graag wil hê maar nie kan kry nie)

    Na aanleiding van die fabel van Esopus waarin die jakkals tevergeefs probeer het om die trosse by te kom en toe vir almal vertel het dat die druiwe in elk geval suur is.

    • Duie: In duie stort (misluk, tot niet raak)

    Die duie is die segmente van 'n houtvat wat deur die hoepels in posisie gehou word. As die hoepels losraak, stort die vat in duie uitmekaar.

    • Duim: Duim vashou vir iemand (hoop dat iemand suksesvol is)

    Volgens oorlewering stam dit uit die tyd van die gladiatore in die Romeinse arena: as die verloorder se lewe gespaar moes word, het die keiser sy duim in sy vuis toegevou – andersins het hy die duim uitgesteek, met noodlottige gevolge.

    • Duit: Geen bloue duit werd wees nie (niks werd wees nie)

    In Nederlands het blauw ook 'n betekenis van "min, klein" – blauw Maandag het beteken "kort Maandag". 'n Bloue duit is dus nog minder werd as 'n duit. Die blou kom daarvan dat ou munte baie lood bevat het wat daaraan ’n blou skynsel gegee het.

    • Duiwel: Te dom om voor (vir) die duiwel te dans (baie dom wees)

    Dans is/word beskou as sonde, en die duiwel help dus mense daarmee. As 'n mens dus baie dom is/was, kan/kon selfs die duiwel jou nie leer nie.

    • Duiwel: So bang vir iets soos die duiwel vir die slypsteen/draaisteen/knapsak (baie bang vir iets wees)

    Die slypsteenvrees berus op 'n oorlewering dat die duiwel as straf die slypsteen moet draai as hy 'n dronk man laat verongeluk. Die knapsakvrees het 'n ander oorlewering as oorsprong: Dit is gegrond op 'n ou Vlaamse verhaal oor die smid wat sy siel aan die duiwel verkoop het. Hierdie soort verhaal het reeds in 1587 in Frankfurt verskyn in Johann Spiess se Historia von D. Johann Fausten, waarin Faust ('n historiese figuur wat deur sy handelinge ook Martin Luther oortuig het dat hy oor demoniese magte beskik) 24 jaar se jeug, kennis en towerkrag van die duiwel ontvang in ruil vir sy onsterflike siel. Ons Vlaamse smid kon ongelukkig nie dieselfde kontrak beding nie en moes met sewe jaar tevrede wees. Tydens die sewe jaar kom Sint Petrus daar aan om sy donkies te laat beslaan. Die smid, waarskynlik onder die indruk van die vernaamheid van die besoeker, doen die nodige gratis. Sint Petrus skenk hom toe drie wense. Die smid vra gewoon dat iemand wat op sy stoel gaan sit, nie sonder sy verlof sal kan opstaan nie. Dieselfde wens geld ook vir iemand wat in sy geldsak kruip of in sy peerboom klim. Volgens die kontrak kom die duiwel na sewe jaar terug om sy smid te eis. Die smid nooi hom om te gaan sit solank as wat hy hom vir die reis gaan klaarmaak. Toe die smid terugkom, kan die duiwel nie opstaan nie en die smid laat hom eers belowe dat hy nog sewe jaar sal wag voordat hy weer terugkom. Die volgende keer haal die smid die duiwel oor om pere te gaan pluk as padkos vir die reis, met dieselfde resultaat van nog sewe jaar se uitstel. Die derde keer groet die smid hom vriendelik en knoop 'n praatjie aan. Is dit waar dat jy jou baie groot kan maak? vra hy. Die duiwel knik en skielik is hy so groot soos 'n toring (so lui die Vlaamse verhaal, nie soos 'n reus of berg nie). Kan jy jou ook so klein maak dat jy in hierdie sakkie kan kruip? vra die smid. Natuurlik kan die duiwel dit doen. Die smid knoop skielik die sak toe en sit dit op die aambeeld. Hy roep al die manne met hulle hamers en beveel hulle om op die sak te slaan. Hulle het die duiwel behoorlik plat geslaan, en voordat hulle hom laat loop het, moes hy belowe dat hy die smid nie weer sou lastig val nie. Maar vanaf daardie tyd is hy bang vir 'n sak.

    • Emmer: Die emmer skop (doodgaan)

    'n Foutiewe leenvertaling van die Engelse "kick the bucket" – die "bucket" was 'n balk waaraan pas geslagte diere gehang is en hulle laaste stuiptrekkings het gemaak dat hulle teen hierdie balk skop.

    • Goed: Vat jou goed en trek, Ferreira (loop, maak dat jy wegkom!)

    Uit Die Boervrou van Oktober 1926 die volgende (opsommende) verduideliking van die herkoms: Mev. Annie Malony was die komponis van die wysie van Vat jou goed en trek, Ferreira. Sy was die moeder van 20 kinders en was die eerste vrou wat saans by feestelikhede in Johannesburg klavier gespeel het. Toe sy in Suid-Afrika aangekom het, was sy tuis by 'n ryk boer in die distrik Somerset-Oos, 'n mnr. Van Aardt. Langsaan Van Aardt het 'n Ferreira gewoon met die bynaam Hoepelbeen (omdat sy een been korter as die ander was). Van Aardt het Ferreira se plaas vir kontant gekoop, maar kon hom nie beweeg om die plaas te verlaat nie. Dit was later die grap van die buurt en 'n verleentheid vir die nuwe eienaar. Toe het Annie Molony en Ada van Aardt (dogter van die ryk boer) 'n plan gemaak. Ada het die woorde van Vat jou goed en trek, Ferreira geskryf, en mev. Malony het dit getoonset. Toe nooi hulle die hele buurt na 'n dans toe – en Ferreira was ook daar. Mev. Malony het die liedjie gesing, en naderhand het almal saamgesing, wel wetende waarop dit sinspeel. Hoepelbeen Ferreira was woedend en het die dans verlaat. Die volgende dag was daar net stofwolke soos Ferreira besig was om op te pak – gedwing deur die liedjie waarin sy naam verewig is.

    • Grap: Alle grappies op 'n stokkie (in alle erns; sonder om nou grappies te maak; hou op grappies maak)

    Die stokkie waarna verwys word, is die sotskolf wat die nar aan die hof van die koning gedra het (dikwels in die vorm van 'n stok met eselsore). Die spreekwoord was eintlik 'n vermaning aan die nar om sy grappies nou te staak en vir homself te hou (letterlik op sy stok). Daar is 'n Groningse toevoegsel en 't stokje in 't vuur wat daarop dui dat die situasie so ernstig is dat die nar sommer die stok (met grappies en al) moet verbrand.

    • Grasweduwee: Iemand is ´n grasweduwee ('n Vrou wie se man tydelik weg is)

    Die uitdrukking het oorspronklik verwys na 'n ongetroude vrou wat meer as een man intiem onthaal het. Die vermoede is dat dit buite in die gras was, eerder as in die wettige huweliksbed. Maar die eintlike bedoeling was dat sy 'n kind buite die huwelik gehad het. 'n Ander bron verklaar met groot oortuiging dat die uitdrukking oorspronklik uit Brits-Indië gekom het waar die vrouens en kinders gedurende die versengende dae van die somer na die bergstreke toe gestuur is. Daar was dit nie net koeler nie, maar daar was ook gras - en geskei van hulle mans was hulle dus grasweduwees. Na hierdie voorbeeld het daar later natuurlik toe ook graswewenaars ontstaan. Uit die VSA is daar ook 'n ander verklaring: Tydens die goudstormloop in Kalifornië het die man dikwels vrou en kinders by familie laat loseer terwyl hy gaan goud grawe het. In Amerikaans het dit bekend gestaan as "putting a wife to grass" – 'n uitdrukking wat eintlik gebruik is vir 'n perd wat te oud was om te werk. Hierdie tydelike skeiding het van die vrou 'n grasweduwee gemaak. Maar dit is alles raaiskote. Die oorspronklike woord wat later grass in Engels geword het, was "grace". Die vrou was 'n grace widow. Dit het verwys na die grace, die grasie of genade wat die vrou van die pous ontvang het om van haar man te skei – 'n toegewing wat in die vroeë dae slegs deur die Katolieke Kerk toegestaan kon word. Dié verklaring word ook gestaaf deur die Franse benaming veuve de grâce (genadeweduwee), en die Latynse viduca de gratia. [Vandag noem die Franse dié soort dame 'n halfweduwee]. Omdat die Franse woord grâce amper soos die Engelse grass klink, was dit voorspelbaar dat die oorspronklike betekenis verlore sou raak.

    • Haar: Hare op die tande hê (baie deursettingsvermoë en durf hê)

    Die Switsers was die eerste bekende huursoldate en sou by enige leër aansluit as die besoldiging reg was. In teenstelling met hulle neutrale beeld van vandag as koekoekklokmakers was hulle kranige krygers wat gevrees is vanweë hulle onverskrokkenheid. Om hierdie beeld verder te bevorder, het hulle woeste snorre gekweek wat hulle lippe grotendeels verberg het sodat dit gelyk het asof daar hare op hulle tande is. Dit het die vyand laat besluit dat iemand wat hare op sy tande het nie vir die duiwel sou stuit nie.

    • Harnas: Iemand die harnas in jaag (iemand kwaadmaak)

    Die harnas is eeue gelede aangetrek as deel van die ridder se wapenrusting in 'n geveg. Om iemand dus sy harnas in te jaag, was om hom so kwaad te maak dat hy wil baklei.

    • Hef: Hef aan lê nog voor (die groot moeilikheid kom nog)

    Die hef aan verwys na die aanhef van byvoorbeeld 'n lied – en spesifiek na die moeilike hoë note in die middel van die ou gesang 2:1 wat voorsingers laat vasbrand het by die woorde: Hef aan, hef aan, roem sy gena...

    • Heinde: Heinde en vêr (naby en vêr)

    Mense beklemtoon die heinde altyd asof dit 'n groot afstand aandui, terwyl die woord van hand afgelei is met die betekenis "naby". Dit beteken al in Middelnederlands "wat by die hand", dus "byderhand", dus "naby" is.

    • Heler: Die heler is so goed soos (as) die steler (wie gesteelde goed in ontvangs neem, is net so strafbaar as die dief)

    Helen in Nederlands was om te verberg, weg te steek. As 'n mens dus gesteelde goed wegsteek, is jy voor die wet medepligtig aan die daad.

    • Heup: Iemand heup en skenkel slaan (iemand heeltemal verslaan)

    Die skenkel was oorspronklik die onderbeen van die mens – om dus iemand se heup en been buite aksie te stel, was om so 'n persoon onskadelik te maak.

    • Hoenderspoor: Die hoenderspoor dra (in die gevangenis wees)

    'n Merk wat naastenby soos 'n hoender se spoor lyk wat vroeër op staatseiendom aangebring is, onder andere op die klere van gevangenes.

    • Hoog: Ewe hoog en droog sit (Sonder om aan iets deel te neem)

    Oorspronklik 'n verwysing na 'n posisie op ’n hoë plek waar vloedwater of die see nie kan kom nie, dus buite bereik van gevaar.

    • Horak: Wat sê Horak? (gevra wanneer iets betwyfel word wat iemand gesê het)

    'n Uitdrukking wat in die Paarl ontstaan het. 'n Sekere Horak het agtergekom dat die predikant Sondae sy preek so maak dat die hele gemeente besef dat dit op Horak en sy doen en late gemik is (waarskynlik meer op sy doen as op sy late). Natuurlik het mnr. Horak dit nie gelate aanvaar nie. Hy het dus Sondae by die kerkdeur gestaan en as die dominee iets beskuldigends sê, het hy gesê: As dit maar waar is! Naderhand het die mense as hulle iets betwyfel, eers gevra: Wat sê Horak?. Dié gesegde het nou bykans uitgesterf omdat niemand meer die verband met mnr. Horak van die Paarl kan lê nie.

    • Houtjie: Iets op eie houtjie doen (iets doen sonder om ander te raadpleeg; iets doen op eie gesag)

    Mense het somtyds twee kerfhoute (kerfstokke) gehad wat netjies in die lengte in mekaar voeg. Een is deur die koper en een deur die verkoper gehou. Op die houte is die transaksies tussen die twee aangeteken. As 'n nuwe transaksie op die stok aangebring moes word, is 'n keep oor albei dele van die saamgevoegde hout gekerf. Op hierdie manier het die twee partye te alle tye die stand van hulle rekening in die hand gehad en kon geen bedrog plaasvind nie. As een dus op sy eie houtjie 'n kerf gemaak het, was dit gou duidelik dat dit nie kon geld nie.

    • Houtjie: So slim soos die houtjie van die galg (baie slu, geslepe)

    Slim in Middelnederlands het "skeef, skeel, skuins" beteken. Iemand was dus so skeef soos die houtjie van die galg. Dit was 'n figuurlike betekenis wat aangedui het dat daar 'n sekere slinksheid, selfs misdadigheid in die man steek. (In Latyn het scelus "misdaad" beteken.) Die houtjie van die galg is in die praktyk glad "geslyp" deur die tou wat gereeld daaroor gegly het ("slijpen" se vroeëre betekenis het juis met die handeling gly te make gehad). Dit was dus naderhand letterlik 'n geslepe houtjie, wat later 'n figuurlike betekenis verkry het. Een van die vroeëre betekenisse van geslyp was juis ook "glibberig" – en dit beskryf nog een van die kenmerke van 'n geslepe persoon.

    • Iepekonders: lepekonders hê (jou gedurig verbeel dat jy siek is, terwyl jy niks makeer nie)

    In Grieks was die borskraakbeen die "xondros". Dit is die plek voor waar die ribbes se kraakbeen bymekaar kom. Soms het 'n mens so 'n vae ongemak hier by die borsbeen rond wat afgemaak word as so 'n hol kol op die maag. Vroeër eeue is daar gedink dat daardie kol die setel van talle siektes was. As iemand dus so 'n vae hol kol het wat nie medies diagnoseerbaar is nie, word dit as hypochondria beskryf, met die hypo-deel wat "onder" beteken. Die "siektegevoel" is dus onder die borsbeen. Dit is later in Afrikaans vervorm tot iepekonders.

    • Jan: Liewer bang Jan as dooie Jan (liewer lafhartig as dood)

    Die Nederlandse uitdrukking van die vroeë 18de eeu was beter bloode Jan as doode Jan. Die blood het beteken "nie vrymoedig nie, beskroom, beskaamd, teruggetrokke". In Afrikaans het die bloode se betekenis vergete geraak toe die Nederlandse invloed afgeneem het en het ons voorouers dit verander in bang - 'n woord wat bekend was.

  1. Jan: Jan Rap en sy maat (almal)
  2. Jan Rap was vroeër ook Jan Rappig, wat "skurf, vuil: beteken het.

    • Jan: Jan Salie ('n sukkelaar)

    Die naam is ontleen aan die flou, effens soet smaak van melk waarin salie gekook is. Reeds in die 17de eeu was die naam vir 'n sukkelaar bekend.

    • Jood: ’n Wandelende Jood (iemand wat gedurig aan die loop of reis is)

    Die Wandelende Jood is die sentrale figuur in die laat-Middeleeuse legende wat vertel van 'n Jood deur wie Christus weggewys is toe Hy die kruis na Golgota gedra het. Die Jood is as gevolg daarvan veroordeel om oor die wêreld te swerf totdat Christus weer sou kom. Een weergawe is dat die Jood 'n skoenmaker met die naam Ahasveros was. Hy het geweier dat Jesus voor sy deur rus. Volgens die oorlewering sou Christus gesê het: Dis goed so – Ek gaan gou hier weg, maar jy sal hier bly totdat Ek weer kom.

    • Kaak: Aan die kaak stel (slegte dade openbaar)

    Die kaak was 'n Middeleeuse stellasie, gewoonlik van hout, waarop misdadigers vasgebind en tentoongestel is sodat almal kon weet van hulle wandade.

    • Kaap: Die Kaap is weer Hollands (alles is weer in orde)

    Dit verwys na die oorhandiging van die Kaap aan die Bataafse regering ná die Britse besetting van 1795-1802. Die Engelse besetting was nie baie gewild onder die inwoners nie.

    • Kaartman: ’n Regte kaartmannetjie (iemand wat lewendig is en baie bewegings maak)

    'n Mannetjie van karton of hout waarvan die ledemate met toutjies verbind is wat dan beweeg as daaraan getrek word.

    • Kafdraf, kafloop: Iemand (iets) kafdraf (kafloop) (iemand verslaan, wen; die onderspit laat delf)

    'n Verwysing na die ou manier van graan dors deur byvoorbeeld perde op die dorsvloer te laat draf of loop totdat die korrels uit is en net die kaf oorbly.

    • Kajuitraad: Kajuitraad hou (beraadslaag; oorlogsplanne beraam)

    Uit die skeepvaart: Dié beraadslaging het vroeër gewoonlik in die kajuit van 'n gesagvoerder soos die admiraal ter see plaasgevind.

    • Kalant: ’n Ou kalant (lank in die land) ('n skelm, geslepe persoon)

    In Middelnederlands het kalant ongeveer dieselfde betekenis as ons klant gehad, dit wil sê iemand wat sy winkelware by 'n bepaalde persoon koop. Daaruit het 'n bybetekenis van "listig" ontwikkel, wat in Afrikaans versterk is met die byvoeging van ou. In sekere Nederlandse dialekte beteken kalant ook "geslepe persoon".

    • Kant: Kant en klaar wees (heeltemal gereed wees)

    Kant beteken oorspronklik "netjies"; vandaar ook aan die kant maak "netjies maak".

    • Karnallie: so ’n Karnallie (’n ondeunde, onnutsige persoon)

    'n Karnallie is volgens die woordeboeke 'n "geslepe persoon; deugniet, vabond". Die ongunstige betekenis van "geslepe" is vandag net in Nederlands nog van pas en die uitdrukking word in Afrikaans gewoonlik in 'n goedige sin vir 'n vabond gebruik. Die woord karnallie kom uit Frans canaille wat dit uit Italiaans canaglia ("hondegebroedsel")gekry het en wat met Latyn canis ("hond") verband hou. In albei dié tale het net die ongunstige betekenis bly voortbestaan.

    • Karmenaadjie: Iemand op sy karmenaadjie gee (iemand (op sy sitvlak) slae gee)

    'n Lekker stukkie vleis, oorspronklik uit Frans carbonnade "vleis wat oor die kole gebraai is". Die karmenaadjie in die uitdrukking is versagtend vir sitvlak wat vroeër jare as onfatsoenlik beskou is.

  3. Kaskenades: Kaskenades aanvang (grappe, streke aanvang)
  4. Kaskenade is 'n vervorming van die naam van die inwoner van die Franse streek Gascogne, 'n gasconnade. Soos elke volk sy spotfiguur het, word die gasconnade van grootpratery en oordrywing beskuldig. Hy is vol streke en vertel van die goeie eienskappe wat hy nie het nie.

    • Kat: Die kat uit die boom kyk (’n afwagtende houding inneem; versigtig wees)

    Dit verwys dit na die gewoonte van honde om 'n kat 'n boom in te jaag, en dan te sit en blaf en kyk tot dit weer afklim.

    • Kat: Dit reën katte en honde (daar val swaar reën)

    In die Noorse kultuur het mense vroeër geglo dat die gedrag van katte en honde die weer voorspel het, en simbole van wind en reën was. As 'n kat met sy rug na die vuur toe sit, kom 'n storm aan. As hy sy gesig was, kom dit reën. As die kat ook met 'n krulstert spring, kon mens maar jou reënmeter uithang. Dieselfde psigiese talente is ook aan honde toegeskryf, en as dit dus katte en honde reën, was dit die ergste wat die diere kon voorspel. Die stormagtige noordwestewind in die Harzberge het lank die bynaam van die kat se neus gehad. In ander weergawes is die hond, net soos die wolf, die simbool van die wind.

    • Kat: ’n Kat in die sak koop (’n slegte koop doen)

    Solank as wat die mens mens was, was dit in sy aard om ander te verkul, veral niksvermoedende klante. Die uitdrukking 'n kat in die sak koop is die gevolg van hierdie menslike eienskap. 'n Jong varkie is voor in die verkoper se kraampie of stalletjie aan die voornemende kopers vertoon – veral in die ou tyd op markdae waar die kopers vir die dag van heinde en ver gekom het. Daar was 'n hele paar sakkies wat klaar toegeknoop was en waarin dan vermoedelik dieselfde model as die lekker sappige, vet jong prototipe was. As jou geld reg was, kon jy net die sak vat en wegdra. Die goedgelowige koper het betaal, sy sak gevat en huis toe gegaan. Daar aangekom het hy gevind dat hy hom 'n kat in die sak gekoop het.

    • Keper: Op die keper beskou (noukeurig beskou)

    Vir die wewer is die keper die kettingskering met die inslag. As 'n mens die grofheid of fynheid van die weefsel, byvoorbeeld 'n laken, wil bepaal, druk 'n mens die wollige deel waarmee die basis van die weefsel bedek is teen die draad in en terug en dit wys hoe fyn of grof die keper is.

    • Kers: Nie vir (by) iemand kan kers vashou nie (nie kan doen wat iemand anders kan nie)

    Voordat elektrisiteit in die wêreld gekom het, het die vakleerlinge van die ambagsman vir die meester 'n kers vasgehou as hy in donker plekke gaan werk het. Party leerlinge sou nooit die paal haal om self 'n meester te word nie, en dan is gesê dat hy nie by die meester kon kers vashou nie (so onbekwaam is hy).
    Ketter Elke ketter het sy letter (Elkeen weet hoe om redes vir sy bewerings te kry): Dié redes is dikwels gegrond op 'n Bybelteks, vandaar die verwysing na 'n ketter.

    • Kierang: Jou kierang(tjies) sal braai (Jou oneerlikheid sal bekend word):

    Die bronne is dit eens dat kierang uit Maleis kom, maar die vorm in dié taal word gedebatteer. D.F. Malherbe aanvaar tjóran en tjoerian soos in barang tjoerian wat "gesteelde goed" beteken. C. Pettman in sy Africanderisms skryf dit ook toe aan 'n Maleise werkwoord kurang wat "gebrekkig" beteken. Hy sê dan dat dit aan die Kaap as 'n bywoord gebruik word met die betekenis "onregverdig". Ander bronne bied koerang aan wat onder andere "oneerlik" beteken, maar hoekom dit sal braai, weet nugter.

    • Kind: Geen kind of kraai hê nie; nóg kind nóg kraai hê (niemand hê om voor te sorg nie; ook, alleen wees in die wêreld)

    Die uitdrukking het 'n baie interessante maar wrede herkoms. In Middelnederlands was die uitdrukking kind no craet, en die craet was die gekraai van die haan. Die kraai in die Afrikaanse idioom het dus niks te make met die voël wat so kan kras nie. Vroeër eeue is mense voor die hof gesleep as hulle nie hulle skuld kon betaal nie, en dan in die tronk gestop totdat hulle dit kon doen. Dit was natuurlik 'n wrede kringloop, want in die tronk kon jy geen geld verdien om jou krediteure te betaal nie. In die hof sou die aangeklaagde dus vurig smeek om nie gekerker te word nie. As hy nie kind gehad het nie, het dit beteken dat daar niemand was, nie eers 'n familielid, om namens hom te praat en hom sodoende van sy lot te red nie. As jy nie hanekraai het nie, beteken dit logieserwys dat jy nie eers 'n haan het nie, en die haan was 'n simbool van besittings: selfs die armste mens het darem altyd 'n haan gehad. As jy dus no craet gehad het, het die hof geweet dat jy nie 'n duit of dubbeltjie het om te betaal nie.

    • Klap: ’n Klap van die windmeul weg hê (’n bietjie mal wees)

    Na aanleiding van die verhaal van die Spaanse letterkundige figuur, Don Quijote (soms Don Kwiksot genoem), wat in sy malligheid teen windmeulens baklei het en natuurlik ’n goeie klap daar gekry het.

    • Klaweraas: Die diere loop op klaweraas (die diere het niks om op te wei nie)

    Die toespeling is op die voergewas klawer; as daar nie klawer is nie, is die arme diere aangewese op die speelkaart, die aas van klawers, dit wil sê: niks.

    • Kleur: Jou (ware) kleur(e) wys/beken (laat blyk hoe jou gesindheid is)

    Met verwysing na 'n kaartspel soos brug waar iemand verplig kan word om die kleur van sy kaarte te wys omdat hy 'n besondere kleur moet navolg.

    • Klopdisselboom: Dit gaan klopdisselboom (dit gaan baie goed)

    As perde op 'n stywe, egalige draf 'n kar trek, dan klop die disselboom ritmies teen die draaghout.

    • Kloutjie: Die kloutjie by die oor kry (probeer om twee teenstrydighede met mekaar te versoen; probeer om ’n storie geloofwaardig te laat klink)

    Na aanleiding van 'n gedig van ongeveer 1854 van 'n Duitse digter, Fritz Reuter, waarin vertel word hoedat 'n jagter 'n bok met een skoot deur die klou en deur die oor geskiet het. Die bok was dan op daardie oomblik besig om met die klou agter die oor te krap.

    • Kluitjie: Iemand met ’n kluitjie in die riet stuur (iemand met mooi praatjies van die spoor af bring)

    As 'n jagter wil hê dat sy apporteerhond tussen die riete moet inspring om die eende op te jaag, dan gooi hy 'n kluitjie daarin – wat die hond dan flous.

    • Kluts: Die kluts kwytraak (deurmekaar wees)

    Die Nederlandse werkwoord klutsen beteken om dinge saam te klop, byvoorbeeld in 'n mengsel. Die uitdrukking kom moontlik uit die handpapiermakery wanneer die werkers die slag kwyt raak om die papiervloeistof egalig oor die vorm uit te sprei.

    • Knertsie: ’n Knertsie (snertsie) maak ('n dop/drankie drink)

    In ou Nederlands het was die uitdrukking met éénen sneirts, dit wil sê "met een teug drink". Knertsie/snertsie is moontlik daarvan afgelei. In Nederlandse seemanstaal beteken snert ook "glas sterk drank".

    • Knip: Nie ’n knip voor die neus werd wees nie (baie min beteken)

    Die knip verwys na die handeling van jou middelvinger teen jou duim (voor jou neus) te klap om "niks; nie soveel werd nie" weer te gee.

    • Knol: Iemand knolle vir sitroene verkoop (iemand allerhande dinge wysmaak)

    'n Knol is 'n soort raap, en lyk hoegenaamd nie soos 'n sitroen wat soos 'n suurlemoen met 'n dun skil lyk nie.

    • Knoop: Die knoop deurhak; die Gordiaanse knoop deurkap ('n moeilike saak oplos of afhandel)

    Dit verwys na ‘n gebeurtenis meer as 2 000 jaar gelede waarby Aleksander die Grote betrokke was. Toe hy Klein-Asië ingeval het, het hy op ‘n wa afgekom wat Gordius, die koning van Frigië, aan die mitologiese god Jupiter opgedra het. Die disselboom van die wa het Gordius aan ‘n paal vasgemaak - met so ‘n ingewikkelde knoop dat niemand dit kon loskry nie. Toe Aleksander hoor dat die persoon wat die knoop kan losmaak oor die hele ryk van Asië sal regeer, wou hy sy leër inspireer en sy vyande oortuig dat hy gebore is om te oorwin. Hy het geen tyd gemors om die knoop los te wikkel nie, maar dit eenvoudig met een hou van sy swaard deurgesny. Dit bly deur die eeue ‘n voorbeeld van kragdadige optrede en die gebruik van onortodokse metodes.

    • Koeël: Die koeël is deur die kerk (die saak is beslis; daar is niks meer aan te doen nie)

    Vroeër eeue kon vlugtelinge, misdadigers en skuldenaars hulle toevlug neem tot sekere plekke wat as veilige hawens verklaar was. In antieke Bybelse tye reeds was daar stede waar mense wat misdade sonder voorbedagte rade gepleeg het, kon gaan skuil. So word daar in Deut. 4:43 vermeld dat Beser, Ramot en Golan, oos van die Jordaan, vrystede was wat deur Moses geskep is. Joshua het wes van die Jordaan die stede Kedes, Sigem en Hebron tot vrystede verklaar (Jos. 20:1-8). In Egipte het die tempels van Osiris en Amon hierdie status geniet, en in Griekeland alle tempels. Die reg om in Christelike abdye en kerke toevlug te vind, is die eerste keer reeds in die 4de eeu n.C. by wet erken. Dié reg is dikwels geskend, en is later herroep (byvoorbeeld in 1723 in Engeland). 'n Beroemde voorbeeld is die kanonkoeël wat die Spanjaarde tydens die beleg van Haarlem in 1573 deur die Sint Bavo-kerk geskiet het. Volgens oorlewering was die koeël vir die predikant bedoel, maar dit het hom gemis en in 'n binnemuur van die kerk vasgesteek waar dit tot vandag gesien mag word. Die spreekwoord het dus gesê: As iemand in ’n kerk skuil en daar trek skielik ’n koeël deur die kerk, het die vlugteling geweet dat sy agtervolgers nie eens die wettigheid (en heiligheid) van die plek respekteer nie, en dat hy niks meer aan sy saak kon doen nie.

    • Kokkedoo: ’n Groot kokkedoor (’n belangrike persoon)

    Die kokkedoor is 'n vervorming van die Franse coq d’or, dus "haan van goud". Goue hane was vroeër eeue baie gewild, maar ook baie skaars en duur, en enigeen wat so 'n haan kon bekostig, moes dus 'n welaf of vooraanstaande persoon wees. Daar is naderhand oordragtelik na die eienaar verwys as die coq d’or - die goue haan, die groot kokkedoor.

    • Kokkewiet: Die kokkewiet het gebyt, gesny (gesê as iemand se voet van onder gebars of gesny is, veral onder die tone)

    Gesê na aanleiding van 'n versinsel van die ouer geslag dat 'n sandbewoner soos 'n mierleeu kinders se tone sal afsny as hulle kaalvoet loop. Dit is ook vroeër as 'n versagting gebruik vir voetskimmel (atleetvoet). ’n Vroeëre geslag het gedink dat dit onfatsoenlik is om in beleefde geselskap van voete te praat.

    • Kolmuis: Kolmuis vreet wasgoed (gesê as iemand se klere in die gleuf van die boude optrek)

    Kolmuis is dikwels die naam van 'n koei wat 'n kol voor die kop of kolle op die lyf het. Die beeld van 'n koei wat wasgoed vreet, is waarskynlik in geselskap gebruik om kuisheidsredes.

    • Komkommer: So koel soos ’n komkommer (nie die minste opgewonde nie)

    Wetenskaplikes het sedert die jare 1500 beweer dat die binnekant van 'n komkommer sowat 9 grade Celsius koeler is as die omringende temperatuur, hoofsaaklik as gevolg van die hoë waterinhoud van die vrug.

    • Komkommertyd: Die komkommertyd (stil tyd wanneer nie veel gebeur nie)

    Die komkommer kom oorspronklik uit Asië, veral Indië, en daar is lank geglo dat daar nooit veel gebeur in Indië nie. In Europa was Augustus die komkommertyd omdat die komkommers dan ryp is en die handel oor die algemeen afneem tydens die tradisionele somervakansie.

    • Kool: Iemand oor die kole haal (iemand berispe)

    Die oorsprong is 'n ou strafgebruik uit die Middeleeue toe 'n persoon sy onskuld moes bewys deur kaalvoet oor gloeiende kole te loop. As hy gebrand het, was hy skuldig.

    • Kool: Die kool is die sous nie werd nie (die saak is die moeite nie werd nie)

    Dit beteken dat 'n volop groente soos kool nie die moeite werd is wat aan die voorbereiding van die sous bestee word nie. In Nederlands is die uitdrukking die sop is die kool nie werd nie.

    • Kous: Met die kous oor die kop huis toe kom (teleurgesteld terugkom)

    As 'n handelaar in vroeër eeue na sy swerftog bedroë teruggekeer het, sonder geld vanweë 'n rampspoedige transaksie, of selfs beroof sodat hy nie eers sy hoed oorgehou het nie, het hy sy kous oor sy kop getrek van skaamte en om sy kop te beskerm.

    • Kraam: Iets pas in iemand se kraam (iets is presies wat iemand wil hê)

    Dié kraam het die betekenis van "stalletjie waar iets verkoop word, byvoorbeeld by 'n kermis".

    • Krokodiltrane: Krokodiltrane huil (huigel, veins)

    Dit is oorspronklik gesê wanneer iemand op ‘n skynheilige, geveinsde manier trane stort. 'n Latere ontwikkeling was dat mense dit gelykgestel het aan lang trane huil, wat met spyt en onbarmhartigheid verband hou. Die oudste verklaring is dié wat Photius, die patriarg van Konstantinopel, in die 9de eeu v.C. gegee het. Daarvolgens sou die dier 'n geluid maak soos 'n kind wat huil om sy slagoffers te lok, en dan boonop huil terwyl hy sy slagoffer vreet. Hy sou dan ook huil omdat daar so min vleis aan die kop van sy slagoffer is, volgens 'n Griekse oorlewering van die 4de eeu. Ander het geglo dat die monster nie so harteloos is nie, maar huil omdat hy so 'n wrede daad moes doen. Sommige sê dat die gesegde bloot verwys na merke onder sy oë wat soos trane lyk. Wat nader aan die waarheid is, is dat die krokodil se traankliere baie vloeistof afskei as hy eet en dat dit tot die uitdrukking aanleiding gegee het

    • Kromhoutsap: Kromhoutsap gedrink hê (dronk wees)

    'n Verwysing na die wingerdstompe wat allerhande verwronge vorms kan hê.

    • Kroon: Die kroon span (ander oortref; die toppunt bereik)

    Amper 1000 jaar gelede in Middelnederlands het crone spannen beteken om die kroon, wat eintlik 'n lourierkrans was, op die kop vas te bind.
    Kroon Iemand na die kroon steek (Met iemand wedywer): Na aanleiding van die ridderlike steekspel waar jy jou opponent se kroon (krans) met jou lans moes probeer steek en van sy kop haal.

    • Kwaad: Die kwaad moet by die kyker gesoek word (’n mens beskou dikwels iets as verkeerd omdat die fout by jou lê)

    Die Afrikaanse weergawe van die Britse leuse (uit Frans) van die Grenadier Guards: Honi soit qui mal y pense. Die legende vertel dat koning Eduard III 'n hofdame se kousband wat per ongeluk afgegly het, opgetel en aan haar besorg het, en toe aan die omstanders gesê het: "Skaam diegene wat kwade gedagtes oor haar het".

    • Kwartier: Geen kwartier gee nie (nie die minste genade betoon nie)

    Een van die betekenisse van quarter in Engels is "vrystelling van die dood gegee aan 'n vyand wat bereid is om hom oor te gee". Om geen kwartier te gee nie, is dus om nie die vyand genade te betoon nie.

    • Kwint: Vol kwinte (en kwale) wees (vol grille, klagtes wees)

    Die woord kwinte se oorsprong is Frans, quinte, wat "slegte humeur" beteken het. Daardie humeur was nie woede nie, maar een van die vloeistowwe van die liggaam saam met bloed, gal en slym wat die mens se buie beheer het. Die Franse woord self se oorsprong is in Latyn quinta (hora), wat beteken het "aanval wat elke vyf uur terugkeer".

    • Laag: Iemand die volle laag gee (iemand slegsê of aanval)

    'n Laag is in hierdie verband 'n ry kanonne op 'n oorlogskip; dus, met alle wapens aanval.

    • Laai: Baie laaie hê (baie streke hê)

    Van Portugese oorsprong waar laia "aard, soort" beteken. Dit kom ook voor in ’n uitdrukking soos dis sy ou laai, dus dis sy ou streek, aard".

    • Laai: In ligte laaie; in ligtelaaie (aan die brand)

    Een van die ouer betekenisse van laai is "vlam" – dus vlamme wat die omgewing verlig.

    • Lag: Lag soos ’n boer met tandpyn (suur, gedwonge lag)

    Vroeër het boere nie veel geleentheid gehad om die tandarts gereeld te besoek nie (as daar 'n ooit 'n tandarts was) omdat hulle selde na die naaste dorp gegaan het. Hulle moes dus maar die tandpyn verdra, wat dit moeilik gemaak het om vrolik te lag

    • Laken: Die lakens uitdeel (die baas speel)

    Ontleen aan die huishouding van ouds waar die persoon wat oor die linnekas baas was, die vernaamste in die huis was; dus: die huisvrou.

    • Lans: ’n Lansie breek met iemand (’n vraagstuk met iemand uitpraat van wie jy verskil)

    Die oorsprong is die ridderwese waar dit beteken het om iemand die stryd aan te sê met die lans terwyl die ridders op perde na mekaar toe jaag.

    • Lans: ’n Lansie vir iemand of iets breek (iets aanprys of iemand verdedig)

    Soos hierbo: uit die ridderwese, maar in dié geval om namens iemand in die stryd te tree.

    • Lap: Op die lappe kom (bring); met iets op die lappe kom (geopenbaar word; ter sprake kom)

    Volgens Nederlandse bronne word hiermee bedoel die lappe wat buite op klere (en in die Middeleeue veral op skoene – vandaar die woord skoenlapper) vasgewerk is. Enigeen kon dit dus sien.

    • Lawaai: Groot lawaai, weinig wol (gesê as iemand 'n groot ophef maak oor ’n nietigheid)

    Die oorspronklike Nederlandse uitdrukking is: Veel geschreeuw en weinig wol, zei de duivel, en hij schoor zijn varken. Hieruit het ontwikkel groot lawaai, weinig wol. Daar is ook in die Nederlandse spreektaal 'n "logiese" uitdrukking: Veel gespin, weinig wol.

    • Lede: Onder lede hê (begin siek word of aangesteek wees)

    In Nederlandse is leden die ledemate van die liggaam; om 'n siekte onder lede te hê, is om dit in jou ledemate soos die gewrigte en potjies te voel, maar ook met die ou Nederlandse betekenis van "die hele liggaam".

    • Lees: Jou nie by jou lees hou nie (jou bemoei met sake wat jou nie raak nie of waarvan jy nie kennis dra nie)

    Hierdie lees is die vorm waarop skoene geskoei word. Die woord is afgelei van 'n Germaanse woord *skôxa wat "skoen" beteken het.

    • Lei: Met ’n skoon lei begin (van nuuts af begin)

    Tot ongeveer 80 jaar gelede het kinders op skool nie boeke gehad nie en het met kryt op leie geskryf wat dan skoongevee is voordat 'n nuwe les begin is.

    • Leeueaandeel: Die leeueaandeel neem (die beste, grootste, toonaangewendste deel neem)

    Die uitdrukking is ontleen aan die fabel van Esopus, waarin ’n wolf, ’n jakkals en ’n rooijakkals saam met leeu gaan jag en ooreenkom dat elkeen 'n gelyke deel van die buit sal ontvang. Uiteindelik vang leeu ’n takbok. Uit hoofde van sy status as koning van die diere neem hy toe ’n kwart vir homself, nog ’n kwart as beloning vir sy dapperheid, nog een vir sy vrou en kinders. Toe sê hy: As daar iemand is wat met my wil baklei vir die laaste kwart, laat hom dan kom. Natuurlik het die ander nie daarvoor kans gesien nie en op dié manier het leeu die hele bok vir homself gehou.

    • Lepel: Met ’n goue, silwer lepel gebore wees (baie voorspoedig wees)

    Daar is altyd gesê dat die adellikes se kinders met 'n goue of silwer lepel in die mond gebore is. Eens op 'n tyd was dit die gewoonte vir ryk peetouers om 'n silwer lepel aan hulle peetkind te gee wanneer hy gedoop is. Hoewel sulke kinders gewoonlik in welaf gesinne was en dus nie regtig die waardevolle silwer lepel nodig gehad het nie, was die tradisie sterk gewortel. Vanweë die geldelike voorsprong bo minder bevoorregtes kon sulke kinders dus makliker voorspoedig wees en 'n fortuin bymekaar maak.

    • Lepel: Lepel in die dak steek (doodgaan)

    Die uitdrukking lepel in die dak steek as versagting vir doodgaan het ook 'n variant, naamlik sy lepel in die dak steek. Dit verwys dan na 'n kenmerkend Suid-Afrikaanse verskynsel van huise met lae dakke, aangesien dieselfde uitdrukking in ander tale verskil omdat die lepel in die muur gesteek word. Die simboliek is dat iemand vir die laaste keer geëet het, aangesien dit skynbaar vroeër in huise sonder kaste die gewoonte was om na ete jou lepel in die dak te steek. In Drente was dit de vork neerleggen, in Limburg is die paplepel weggelê, in dialektiese Engels is die lepel in die muur gesteek, in die Nederduits van Berghaus is die lepel weggesmyt, en in Mecklenburg is die lepel ook in die wand gesteek. Ou prente toon lepels wat in leerringe teen die muur hang.

    • Lewe: Daar is lewe in die brouery (dit woel en werskaf)

    Volgens oorlewering is die uitdrukking afkomstig van die Nederlandse skilder Jan Steen, wat in sy mislukte brouery eende laat rondvlieg het om die indruk van 'n besige saak te skep.

    • Lewer: Wat het oor jou lewer geloop? (Hoekom is jy so nukkerig?)

    Die lewer is beskou as die setel van die toorn in jou liggaam, net soos die hart die setel van die liefde is. As iets dus oor jou lewer geloop het, het jy kwaad geword.

    • Lieplapper: ’n Lieplapper (’n nikswerd persoon)

    Die woord se oorsprong is Nederlands liplap, 'n persoon in Indië gebore van Europese ouers; voor 1622 ook "kleurling". Swak karaktertrekke is dikwels aan vreemdelinge toegeskryf, vergelyk byvoorbeeld die Romeinse barbarus en Griekse barbaros, "vreemdeling wat nie van die beskaafde volk is nie".

    • Lier: Die lier aan die wilger hang (nie meer dig nie, veral omdat jy treur)

    Die uitdrukking kom uit Ps. 137:2 waar die Israeliete hulle liere (ou vertaling siters) aan die wilgers opgehang het tydens hulle ballingskap in Babilonië. Twee van die (verhewe) betekenisse van lier is "liriese digkuns, digterskap".

    • Linkerhand: Met die linkerhand trou (huwelik van 'n man uit die adelstand met 'n vrou uit ’n lae stand)

    Dié soort huwelik is vroeër nie deur die koninklike howe as wettig beskou nie, vanweë die verskil in status van die man en vrou. Die kinders uit die huwelik kon ook nie op die titel van die vader aanspraak maak nie. Die Gotiese woord morgjan het "beperk" beteken, en daarom word dié soort huwelik soms 'n morganatiese huwelik genoem. Die man het tydens die seremonie sy trou met die linkerhand in plaas van die regterhand belowe, vandaar die uitdrukking.

    • Links: Iemand (iets) links laat lê (iemand (iets) verontagsaam, verwaarloos)

    Die woord links het talle eeue lank 'n ongunstige betekenis gehad, terwyl regs gunstig was. Om iemand dus links te laat lê, was om hom sleg te behandel.

    • Links: Nie links wees nie (dadelik begin)

    Links in hierdie verband beteken "onhandig, onbekwaam, dom".

    • Loef: Iemand die loef afsteek (iemand voorspring; iemand wen)

    Die loef is 'n verkorting van Nederlands loefzijde, die windkant van die boot. Om iemand se loef af te steek, het beteken om aan sy windkant, dus bo die wind, by hom verby te seil. Op dié manier het 'n mens die wind uit sy seile geneem en het sy boot vaart verloor.

    • Loep: Iets onder die loep neem (iets krities ondersoek)

    'n Loep is 'n handvergrootglas of leesglas waarmee noukeurig na 'n voorwerp gekyk kon word.

    • Lont: Lont ruik (agterdogtig word; onraad vermoed)

    Dit kom van die dae van die pangewere toe daar nog nie slagdoppies was nie en die kruit met 'n lont aan die brand gesteek is. Die wagte het in die nag 'n stuk lont aangesteek sodat hulle nie tyd hoef te mors as die vyand aanval nie: daar was klaar 'n vonk wat in die kruitpan kon val. Volgens een oorlewering het die nader sluipende soldate in die donker geweet dat hulle die wagte nader as hulle die lont kon ruik. Die ander verklaring is dat die soldate in 'n vesting geweet het dat daar gevaar dreig as hulle hul eie lonte ruik.

    • Lood: Die laaste loodjies weeg die swaarste (die laaste deel van ’n werk verg dikwels die grootste inspanning)

    Die uitdrukking kan moontlik ontleen wees aan die weeghandeling op 'n skaal, waar die laaste loodgewiggies die deurslag gee.

    • Lotjie: Van lotjie getik wees (nie heeltemal by jou verstand wees nie)

    Die oorsprong is onseker; Nederlandse bronne spekuleer dat dit beteken om 'n klap van 'n deel van die kruismas op 'n driemaster teen jou kop te kry – in Nederlands die lorretjie, dus van lorretjie (ingekort as lotjie) getik wees. ’n Ander moontlike verklaring hou verband met die naam vir ’n mak papegaai, Lori. In Nederlands is daar ’n uitdrukking van lorretjie gepikt zijn wat beteken "nie reg in jou kop wees nie". In Afrikaans is gepikt moontlik as getik oorgelewer.

    • Louere: Op jou louere rus (nie verder lof probeer inoes nadat ’n mens deur eie inspanning iets bereik het nie)

    'n Louerkrans of erepalm was 'n teken van oorwinning; 'n seëvierende generaal sou so bekroon word. Om daarop te rus, was dus om niks verder na te streef nie. Daar word dikwels gepraat van die wenners by die antieke Olimpiese Spele wat dan die lourierkrans gekry het. Dit was nie: dit was gewoonlik ’n olyfkrans.

    • Lunsriem: ’n Lunsriem wees (’n smerige persoon wees)

    Die luns is 'n ysterpen wat deur die punt van 'n wa-as gesteek word om te voorkom dat die wiel uitval. Die lunsriem is 'n riempie wat deur die onderpunt van die luns gesteek word om te verhoed dat dit uitval en wat baie vuil word as gevolg van die ghries waarmee die as gesmeer word.

    • Maag: Op jou nugter maag (voordat jy geëet het)

    Die nugter hou moontlik eerstens verband met Nederlandse goeden ochtend. Die –n van goeden is gevoeg aan die ochtend en sou nochtend word. Gewestelik is dit vervorm tot nuchtend, nuchte en as byvoeglike naamwoord nuchter. Daar is ook ’n ou vorm enugterne wat moontlik uit en ("in, aan") en uchter ("oggend") saamgestel is. Aangesien die woord nuchter in Nederlands reeds amper 'n duisend jaar oud is, word tweedens gedink aan Latyn nocturnus "nagtelik"; dus jou nagtelike (leë) maag. Die nugter kan derdens ook met nag verband hou, wat dit dan jou nagmaag (en dus leeg) maak. Wat die herkoms van nugter in nugter weet betref: nugter weet.

    • Maandag: ’n Blou Maandag (’n dag waarop alles verkeerd loop)

    Die byvoeglike naamwoord blaauw het in die Middeleeue en ook later die betekenis van "nietig, van weinig waarde" gehad; 'n blou Maandag was dus 'n Maandag van geen besondere betekenis nie, terwyl Sondag die feesdag was waarop nie gewerk hoef te word nie. 'n Ander moontlike verklaring het te make met die Maandag voor die vastyd in die kerk wanneer die beelde, die altaar, die doopvont en die kansel met blou doeke behang is. Aangesien dié dag in die Middeleeue ook Goeie Maandag genoem is, lyk laasgenoemde verklaring nie aanvaarbaar nie.

    • Man: ’n Man van sesse klaar ('n bekwame man)

    Wanneer die Hollanders van 'n volmaakte perd praat, is die uitdrukking dat hy van sesse klaar is. Dit beteken dat daar geen fout is met sy ses belangrikste dele nie, te wete die vier pote en die twee oë.

    • Mantel: Jou mantel na die wind draai/hang (jou op beginsellose wyse na omstandighede skik)

    'n Persoon wat sy mantel na die wind draai, is altyd beskut teen die wind. In figuurlike sin beteken dit dus om so op te tree dat jy altyd aan die wenkant is, al verander omstandighede ook teen jou beginsels.

    • Mars: Heelwat in jou mars hê (kennis van sake hê)

    Die mars was die rugmandjie van 'n smous en as hy baie in sy mandjie gehad het, het hy figuurlik baie kennis gehad.

    • Mars: Min in jou mars hê (min van sake af weet)

    Die mars was ook die stok met bondel van 'n boemelaar, wat dus nie veel daarin gehad het nie, en figuurlik ook dan nie baie slim is nie.

    • Martjie: Martjie Louw afkondig (krygswet afkondig)

    Volksetimologie vir Engels martial law; waarskynlik die eerste keer in die Anglo-Boereoorlog gebruik.

    • Mas: Die mas opkom (moeilike werk sonder hulp verrig)

    'n Erfstuk uit die Nederlandse seevaartterme: die matroos moes self sonder hulp teen die mas opklouter.

    • Mede: 'n Wet van Mede en Perse ('n wet of reël wat onder geen omstandighede verander of herroep mag word)

    Medië was 'n antieke land van Wes-Asië (vandag se Azerbaijan, Koerdistan en 'n deel van Iran) wie se inwoners in 621 v.C. die Perse oorwin en saam met die Babiloniërs Ninevé verwoes het. In 550 v.C. is die Mede deur die Persiese heerser, Cyrus die Grote, verslaan. 'n Kenmerk van die Mede en die Perse was die onverbiddelikheid van hulle wette, soos wat ook in die Bybelboek Daniël 6:8 8 vermeld word

    • Meetsnoer: Die meetsnoere het vir iemand op lieflike plekke geval (wat iemand gekry of bereik het, is goed of mooi)

    Die uitdrukking is ontleen aan Ps. 16:6 in die vroeëre Afrikaanse Bybelvertaling. Die meetsnoer is 'n maatlyn wat deur landmeters gebruik is om die grootte (en ligging) van 'n stuk grond te bepaal wat aan iemand toekom. As hulle op lieflike plekke geval het, was jou stuk grond pragtig.

    • Mette: Korte mette maak met iets (iets gou afhandel)

    Die mette in die Katolieke Kerk was die eerste deel van die oggendgebed. Die woord kom van Latyn matutinae preces, "môregebede". Die monnike het dié gebede voor ontbyt bygewoon, en volgens oorlewering het hulle dan gehoop dat die voorste bidder net so honger as hulle is en die mette kort sou maak.

    • Midas: ’n Midas wees (’n gierigaard wees)

    Midas was die mitologiese koning van Frigië in Klein-Asië. As beloning vir sy gasvryheid het Dionusos, die god van die wyn, hom 'n wens geskenk. Midas het gevra dat alles wat hy aanraak in goud moet verander. Dit het hom berou, want ook sy kos en water het in goud verander.

    • Mik: Jou oor ’n mik lag, werk; skrik (besonder hard lag, werk; groot skrik)

    In ouer Nederlands was 'n mik onder andere 'n ronde brood. Dit kom voor in soortgelyke uitdrukkings as in Afrikaans, naamlik jou een mik (ronde brood) lachen, schrikken. Dit het, soos ook in Afrikaans, geen logiese grond nie: jy kan jouself ook 'n aap, papie, ertjie met 'n boggeltjie lag. In Afrikaans is die uitdrukking gewysig tot oor 'n mik, waarskynlik omdat die betekenis van "ronde brood" onbekend was hier.

    • Minne: In der minne skik (op vriendskaplike wyse skik)

    In ouer Nederlands het minne onder andere "liefde" beteken; dus in groot vriendskap of liefde 'n saak regstel.

    • Monnikewerk: Monnikewerk verrig (nuttelose werk doen)

    Die monnike van ouds was verplig om elke dag werk te doen omdat hulle nie ledig mag gewees het nie. Dié werk was dikwels van geen waarde nie en is selfs die volgende dag vernietig.

    • Moordjaar: In jou moordjaar wees (In jou 63ste jaar wees)

    So genoem omdat dit vroeër beskou is as die jaar waarin die meeste mense kon verwag om te sterf.

    • Moordkuil: ’n Moordkuil van jou hart maak (jou gevoelens onderdruk)

    Voorvlugtiges soos moordenaars en diewe het vanouds in grotte en kuile weggekruip omdat hulle geen woning gehad het nie. Hulle was dus weggesteek, net soos 'n mens se gevoelens.

    • Morsdood: Morsdood wees (heeltemal dood wees)

    Die mors- van morsdood het in ouer Nederlands "verpletter" beteken waaraan vermorsel, moord verwant kan wees. Die koppeling met -dood lyk dan heel logies.

    • Mossie: So dood soos ’n mossie (morsdood)

    Daar is geen logiese verklaring vir mossie in hierdie vergelyking nie. In Nederlands en Vlaams is iemand, iets so dood soos 'n wurm (pier) of muis. Miskien is 'n dooie mossie in Suid-Afrika net 'n bekender gesig as in Nederland.

    • Mou: Iets uit die mou skud (met iets onverwags vorendag kom)

    Dit kom uit die tyd toe mense klere met baie wye moue gedra het, en talle dinge daarin kon wegsteek (soos ook die kulkunstenaar wat die aap uit die mou kon laat).

    • Mou: Iemand iets op die mou speld (iemand iets wysmaak)

    In die Frieslandse volkslewe was daar vroeër die gewoonte om as geskenk 'n voorwerp aan iemand se mou vas te speld. Hierdie innemende gebaar sou die ontvanger vlei en sy vertroue in die skenker laat toeneem. Vanuit so 'n posisie kon die skenker dus later die persoon iets wysmaak – al was dit nie noodwendig waar nie – en tog geglo word.

    • Muisneste: Muisneste hê (deurmekaar wees van verliefdheid)

    Muizenissen in Nederlands is afgelei van Middelnederlands musen "peins" (vergelyk Engels "to muse"); later het dit die betekenis van "swaarmoedige gedagtes" gekry, wat 'n mens afgetrokke laat raak. Waarnemers sou dan dink dat iemand deurmekaar is, soos ’n verliefde persoon dikwels is.

    • Nael: Laat nael (vnnig weghardloop)

    Na aanleiding van die manier waarop sekere diere hulle naels gebruik om vinnig te kan hardloop; vandaar ook dat ons praat van 'n naelloop.

    • Naelskraap: Dit het naelskraap gegaan; dit was naelskraap (dit het byna gebeur)

    In Nederlands beteken nagelschrapsel "totaal niks". Dit het dus amper niks geskeel (soos die skraapsel onder 'n nael uit) nie of die teenspoed het iemand getref.

    • Nagmerrie: ’n Nagmerrie (’n nenoude droom)

    Die nagmerrie het niks met perde te make nie, maar gaan terug op Nederlands nachtmare, waar die mare "kwelgees" beteken het.

    • Nat: Iemand is nat agter die ore (iemand is nog jonk en onervare)

    Na aanleiding van 'n pasgebore bokkie of kalf wat nog nie skoon gelek is of droog geword het nie.

    • Neet: Sit (klou) soos ’n neet (baie vas sit/kleef)

    'n Neet is die klein wit eiertjie van 'n luis wat met 'n gomagtige vloeistof aan hare vasgelym word en dus moeilik verwyder word.

    • Nemesis: ’n Nemesis (vergelding of iemand of iets wat onwrikbaar op wraak of vergelding ingestel is)

    In die Griekse mitologie, was Nemesis die verpersoonliking van goddelike geregtigheid en die wraak van die gode.

    • Neseier: ’n Neseier ('n som geld vir ’n bepaalde doel)

    Na aanleiding van die ou gewoonte om 'n porseleineier in 'n nes te plaas om die hen aan te moedig om daar te lê. Die idee was dus om die neseier te laat vermeerder sodat dit vir ’n bepaalde doel gebruik kon word.

    • Net Agter die net visvang (te laat kom vir iets)

    Eintlik beteken dit om op 'n plek te probeer visvang wat reeds deur ander se sleepnette leeg gevang is; dus te laat wees.

    • Netelig: 'n Netelige saak ('n moeilike, gevaarlike, pynlike saak, kwessie, probleem)

    Die netel is 'n verkorting van brandnetel, 'n plant met hare wat by aanraking daarvan 'n pynlike brand veroorsaak; figuurlik oorgedra op 'n kwessie, probleem, ensovoorts .

    • Neusie: Die neusie van die salm (die lekkerste gedeelte)

    Die neusie van die salm is dié deel wat net onder die bek lê en gelyk met die nek afgesny word. Volgens die kenners van salm is dit die lekkerste deel van die vis.

    • Neusie: Dis neusie verby (gesê as ’n mens iets nie meer kan kry nie)

    Eintlik: dit is by my neus verby, sodat ek net die reuk nog daarvan kry.

    • Neut: Nie iets om dowe neute doen nie (met ’n spesiale doel iets doen):

    'n Dove noot in Nederlands is 'n leë neut, dus sonder inhoud. 'n Mens doen dus nie iets vir 'n waardelose voorwerp nie.

    • Nippertjie: Op die laaste nippertjie (op die laaste oomblik, dit het amper gebeur)

    Nippertjie is afgelei van Nederlands nijpen "om te knyp". As die nood "knyp", dan doen 'n mens iets, al is dit op die laaste oomblik.

    • Noppies: In jou noppies wees/voel (baie gelukkig en tevrede voel)

    'n Verouderde wisselvorm van in jou knoppies wees. Eintlik is jy in jou klere waar knoppies of noppies of pluisies op sit, dit wil sê in mooi klere, feesgewaad. In Nederlands beteken nop 'n pluis op wolstof, veral op nuwe klere.

    • Noustrop: Noustrop trek (swaar kry; bale hard werk)

    Uit die tyd van die ossewatrekke: die strop is te nou om die os se nek sodat hy nie genoeg lug inkry nie.

    • Nugter: Op jou nugter maag (voordat jy geëet het)

    Die nugter hou moontlik eerstens verband met Nederlandse goeden ochtend. Die –n van goeden is gevoeg aan die ochtend en sou nochtend word. Gewestelik is dit vervorm tot nuchtend, nuchte en as byvoeglike naamwoord nuchter. Daar is ook ’n ou vorm enugterne wat moontlik uit en ("in, aan") en uchter ("oggend") saamgestel is. Aangesien die woord nuchter in Nederlands reeds amper 'n duisend jaar oud is, word tweedens gedink aan Latyn nocturnus "nagtelik"; dus jou nagtelike (leë) maag. Die nugter kan derdens ook met nag verband hou, wat dit dan jou nagmaag (en dus leeg) maak. (Wat die herkoms van nugter in nugter weet betref: nugter weet.}

    • Olifant: 'n Wit olifant (iets wat geen doel dien nie en ’n oorlas is)

    In ou Siam (nou Thailand) is 'n wit olifant as heilig beskou, en as 'n howeling die koning geïrriteer het, het hy 'n koninklike geskenk van 'n wit olifant ontvang. Omdat die dier heilig was, moes die arme howeling natuurlik sorg dat die ding genoeg kos en water het, en gereeld geskrop en gepamperlang word. Die olifant mag ook nie gewerk het nie, en was dus nutteloos vir die ontvanger. As 'n mens dink dat die dier 250 kg kos per dag verorber, maak dit nou nie juis die ekonomiesste troeteldier wat daar is nie.

    • Ommesientjie: In ’n ommesientjie (in 'n oomblik, baie gou)

    In Nederlands beteken ommezien/omzien 'n "ogenblik" – die tyd waarin iemand maar net vinnig kan omkyk; in Afrikaanse woordeboeke is omsien ook met die betekenisse "omkyk, terugkyk" opgeneem.

    • Onderdeur: Oor die onderdeur loer (aandag aan jongkêrels begin gee)

    Spesifiek van meisies in vroeë puberteit gesê. In Nederlands het dit ook beteken "om na buite te kyk" – iets wat vroeër eeue nie vir 'n jongmeisie beskore en veral betaamlik was nie omdat dit sou lyk asof sy die aandag van die kêrels op haar wil vestig. Dit het later vereng tot "kyk of die vryer aankom".

    • Onderdeurspring: Iemand onderdeurspring (iemand bedrieg)

    In Nederlands het onderdoor in uitdrukkings telkens die betekenis van "iets doen sonder om opgemerk te word"; juis wat gebeur as iemand bedrieg word: hy merk nie op waarmee jy besig is nie.

    • Onraad: Onraad merk (gevaar vermoed)

    Onraet in Middelnederlands het baie betekenisse gehad, onder andere 'n "gevoel van onveiligheid, toestand van onrus, skade, nadeel" Verder ook "slegte raad, bose plan". Uit al dié dreigende betekenisse het die betekenis van "gevaar" ontwikkel.

    • Oog: ’n Oog (ogie) in die seil hou (fyn dophou)

    'n Goeie matroos of seeman is gedurig op sy hoede, en die korrekte stand van die seile is van die uiterste belang. Hy sal dit dus fyn dophou.

    • Oogappel: Die oogappel wees (die liefling wees)

    In die Bybel, byvoorbeeld in Deut. 32:10 en Sagaria 2:8 word die oogappel beskou as die dierbaarste liggaamsdeel van die mens, miskien omdat dit die sig van die mens verteenwoordig. Maar hoekom juis die appel? Die ronde vorm daarvan het waarskynlik aan 'n appel herinner. In Fries het appel ook "pupil" beteken. In Middelnederlands was die oogappel ook die ogensterne, die ster van die oog.

    • Oogluikend: Iets oogluikend toelaat (maak of ’n mens iets nie merk nie)

    In Middelnederlands kry ons ogelukinge – 'n selfstandige naamwoord wat beteken "oogluikende toestemming". Die verklaring is dat dit van die ogen luken af kom, wat "deur die vingers sien" beteken. Die beeld is pragtig: die luken het beteken "toeknyp, veral die vingers toeknyp". Om iets oogluikend toe te laat, is dus om na die saak te kyk terwyl jy jou vingers voor jou oë hou, maar soos luike toegeknyp.

    • Oor: Iemand ore aansit (iemand verkul; iemand wen)

    In Nederlands verwys dié ore na eselsore, dus om van iemand 'n esel te maak, hom om die bos te lei so maklik as wat 'n mens dit met 'n esel sal doen.

    • Oorhoeks: Oorhoeks wees (raak) met iemand (met iemand rusie maak)

    Om oorhoeks met iemand te wees, is om diagonaal teenoor iemand te staan, byvoorbeeld in 'n kryt. Daaruit het die betekenis van 'n teenstander, 'n vyand ontwikkel. Om jou oorhoeks te werk, is 'n betekenis wat in Afrikaans ontwikkel het. In Middelnederlands het oorhoeks ook haaks beteken – en in Afrikaans het ons ook haaks wees met mekaar, dit wil sê in kwaaivriendskap lewe of gedurig baklei.

    • Opdok: Iemand moet opdok (iemand moet betaal)

    Opdokken in Nederlands het vroeër ook die betekenis gehad van "afskuif, wegstoot"; opdok beteken dus eintlik "geld van jou af te skuif, weg te stoot."

    • Opgeskeep: Met iets iemand opgeskeep sit (nie van iets of iemand ontslae kan raak nie)

    Om met iemand opgeskeep te wees, is om met die persoon op 'n skip te vaar en hom dus altyd by jou het. Verder, as dit jou skip is, is jy ook nog verantwoordelik vir hom, en op dié manier is hy 'n oorlas.

    • Orig: Moenie jou orig hou nie (moenie jou met ander se sake bemoei nie)

    Afgelei van "jou ore oophou" en dus weet wat ander mense doen en jou dan daarby inmeng.

    • Padda: ’n Padda in die keel hê (hees wees)

    So 'n paar eeue gelede as iemand hees was, het die mense 'n padda in sy keel gesit. In Engeland was daar 'n ou geloof dat 'n mens nie stilstaande water moet drink nie; 'n mens sou die paddaeiers daarin insluk. Na verloop van tyd sou die eiers in jou maag uitbroei, en die maklikste ontsnaproete (hoewel nie die enigste nie) was boontoe, deur die keel. Dit was dan die oorsaak van jou heesheid. Om die infeksie gesond te maak, is daar in die Middeleeue werklik paddas in mense se kele gesit. Daar is geglo dat die fungusse in die keel daardeur vernietig sou word. Die kop van die lewendige padda is in die mond van die sieke geplaas, en as die padda asemhaal, sou hy dan die siekte uittrek.

    • Padda: So waar as padda manel dra (baie seker)

    'n Afrikaanse verbrouing van 'n Nederlandse gesegde. Vroeër het die ouderlinge van die kerk in Nederland manelle gedra – en hulle het bekend gestaan as die kerkvorsten. In veral die Katolieke Kerk was dit die hooggeleerde en hooggeplaaste amptenare soos die pous en die kardinale. Die uitdrukking was dus: So waar as wat kerkvors manel dra. Omdat die benaming kerkvors in Suid-Afrika mettertyd in onbruik geraak het, het die betekenis daarvan ook vervaag. Op eg volksetimologiese manier is 'n woord wat naastenby so klink, ingespan om die gesegde te laat herleef. En toe word dit: So waar as wat kikvors manel dra. Die woord kikvors vir padda het self in onbruik geraak en word vandag nie eintlik meer gehoor nie; dit is dus baie gou met padda vervang. Die WAT gee ook die spottende omgekeerde: So waar as wat kerkvors padda is wat duidelik wys dat die kerkvors met die kikvors vermeng is.

    • Peetjie: Jou peetjie af wag (baie lank wag)

    Peetjie is 'n ou woord vir "oorgrootvader, -moeder". "Moeder" word vervorm tot (die plat vorm) "moer" in al die uitdrukkings waar peetjie voorkom; in hierdie geval is dit dus dieselfde as jou moer af wag.

    • Peetjie: In jou peetjie wees (bankrot, onderdeur, tot niet wees)

    Kyk by jou peetjie af wag: in hierdie uitdrukking dieselfde as in jou moer wees.

    • Pen: Aan die pen ry (verantwoording doen)

    Vroeër is 'n houtpen deur die neus van 'n vark gesteek en so vasgemaak dat die dier nie kon vroetel of woel nie. Ander diere is ook met 'n tou of riem aan 'n pen vasgemaak sodat hulle kon wei maar nie wegdwaal nie. Om aan die pen te ry se figuurlike betekenis is dus om vas te wees – soos in die hande van die gereg.

    • Perd: Gou op jou perdjie wees (gou kwaad word)

    Uit die Middeleeue: as iemand sy humeur vinnig verloor het, was hy sommer dadelik gereed om sy teenstander uit te daag tot 'n tweegeveg op perde met lanse
    Piesangboer, ’n (Bynaam vir ’n Nataller): Na aanleiding van die groot aantal piesangs wat daar verbou word. [Min mense weet dat daar meer piesangs in die destydse Laeveld verbou word.]

    • Pluimpie: Iemand ’n pluimpie gee (iemand prys vir sy goeie werk)

    Pluimpie in hierdie sin is 'n veer; dus vir iemand 'n veer in sy hoed steek. (Vergelyk die Engels: A feather in one's cap.

    • Pluis: Iets is nie pluis nie (iets is nie in orde nie)

    In Nederlands beteken pluis as byvoeglike naamwoord onder andere "behoorlik, soos wat dit hoort". As iets nie pluis is nie, is dit nie soos dit hoort nie.

    • Pontius: Van Pontius na Pilatus stuur (doelloos rond en bont stuur)

    'n Verbroude uitdrukking: In Nederlands bestaan nog van Herodes na Pilatus stuur, volgens die gebeure wat in die evangelie van Mattheus beskryf word. Die stadhouer se naam was Pontius Pilatus, en van Pontius na Pilatus stuur is dus 'n onlogiese (maar ingeburgerde) vorm.

    • Punt: Op die punt staan (gereed wees)

    In Middelnederlands reeds het punt ook die betekenis "regte tydstip"; op die punt staan is dus daardie presiese tydstip wanneer iemand iets kan begin doen.

    • Pypkan: Iemand pypkan (iemand fop, flous (in rugby met 'n skynbeweging))

    'n Pypkan was vroeër die naam vir 'n bababottel (" 'n kan met 'n pyp aan") wat die plek van die moederbors ingeneem het en waardeur die baba geflous is.

    • Rat: ’n Rat (vroeër rad) voor iemand se oë draai (iemand bedrieg)

    Een moontlike herkoms is dat as 'n wiel vinnig voor iemand se oë gedraai word, hy later nie meer die speke mooi kan sien nie. 'n Ander verklaring is dat met die rad 'n gloeiende voorwerp bedoel word, soos 'n tak wat smeul, en as dit in donkerte vinnig genoeg sirkelvormig geswaai word, dit soos 'n wiel lyk – wat dit nie is nie. Die skyn bedrieg dus.

    • Rede: Iemand in die rede val (praat terwyl iemand anders praat)

    Rede in hierdie geval is oorspronklik die Duitse woord vir onder andere "praat". Die Duitse idioom is inderdaad ...in die Rede fallen, net soos in Afrikaans.

    • Reën: Dit reën paddas en platannas (dit reën vreeslik hard)

    Nederlands het gehad dit reën ou wywe met klompe, maar aangesien klompe onbekend in Suid-Afrika was, het die uitdrukking in onbruik geraak. Een van die gissings oor die herkoms rakende katte en honde is dat tydens swaar reënstorms dooie katte en honde in die strate afgespoel kom – en dat dit dan as maatstaf gebruik kan word om swaar weer te beskryf. Maar dit klink maar bra dun. 'n Ander verklaring lui: In die Noorse kultuur het mense vroeër geglo dat die gedrag van katte en honde die weer voorspel het, en simbole van wind en reën was. As 'n kat met sy rug na die vuur toe sit, kom 'n storm aan. As hy sy gesig was, kom dit reën. As die kat ook met 'n krulstert spring, kon mens maar jou reënmeter uithang. Dieselfde psigiese talente is ook aan honde toegeskryf, en as dit dus katte en honde reën, was dit die ergste wat die diere kon voorspel. Die stormagtige noordwestewind in die Harzberge het lank die bynaam van die kat se neus gehad. In ander weergawes is die hond, net soos die wolf, die simbool van die wind. Albei diere was veronderstel om dienare van Odin, die stormgod te wees. In ou Duitse tekeninge word die wind as die kop van 'n hond of wolf uitgebeeld.

    • Riem: Die rieme neerlê (weghardloop)

    Volgens ouer bronne (in Nederlands die rieme binnehaal – wat waarskynlik verwys na roeispane wat in 'n boot aan die einde van 'n vaart neergelê word) beteken dit 'n saak of werk opgee, ook sterwe. Die betekenis "weghardloop" het hier ontwikkel, en verwys moontlik na iemand wat in 'n tuig was en dan losgelaat is. (Dit na aanleiding van die tuig neerlê, "ophou, werk, los wees".)

    • Riem: Iemand ’n riem onder die hart steek (iemand moed inpraat)

    Soos in die geval van dis vir my 'n riem onder die hart, is dié uitdrukking 'n vervorming van die oorspronklike 'n hart onder die riem steek. Dit is ontleen aan die soldatelewe, volgens alle bronne. Die riem is die leerband wat skuins vanoor een skouer oor die bors na die sy loop. As 'n soldaat nie hart het nie, beteken dit hy het nie moed nie, en dan moet daar eers 'n hart onder sy riem gesteek word. 'n Verklaring van dis vir my 'n riem onder die hart wat al jare lank gepropageer word, is dat die roeispaan (ook vroeër genoem riem) op 'n hartvormige stuk hout as hefboompunt aan die kant van die boot rus, wat dit vir die roeier moontlik maak om te roei.

    • Ring: ’n Mens kan iemand deur ’n ring trek (iemand is baie netjies aangetrek)

    Oorspronklik eintlik gesê van 'n fyn stukkie materiaal wat deur 'n ring sou kon gaan, en toe oorgedra op mense wat daar baie netjies uitsien.

    • Rondte: Die rondte van vader Cloete doen (by almal aangaan en nie een oorslaan nie)

    Dit kom waarskynlik van die rondgaande hof se sittings wat in 1812 in Graaff-Reinet, Uitenhage en George gehou is en wat as die Swarte Ommegang bekend was. Pieter Laurens Cloete was een van die regters.

    • Rot: Iemand rot en kaal steel (alles steel wat iemand het)

    'n Ou Nederlandse uitdrukking is so kaal soos 'n rot. Een verklaring is dus "besteel sodat die slagoffer so kaal soos 'n rot is". 'n Ander verklaring is dat rot hier dieselfde betekenis as in bankrot het, naamlik "gebreek" – bankrot kom uit Italiaans banca rotta, "gebreekte bank".

    • Rubikon: Die Rubikon oorsteek (’n onherroeplike stap doen)

    In die 1ste eeu v.C. was die Rubikon die grens tussen Italië en die Cisalpynse provinsie. In 49 v.C. het Julius Caesar die Rubikon oorgesteek teen die verbod van die Senaat in. Dit het 'n burgeroorlog tot gevolg gehad en oordragtelik beteken om 'n stap te doen sonder omdraaikans.

    • Saans: Saans gousblom, soggens molshoop (gesê as iemand tot laat feesgevier het en die volgende oggend nie kan opkom nie)

    Een van die kenmerke van 'n gousblom is die sierlike hofies met groot geel of oranje blomme; 'n sterk kontras met die bruin sand van 'n molshoop sonder blomme.
    Saterdag Jou Saterdag is langer as jou Sondag (Jou onderrok hang uit): 'n Versagtende uitdrukking wat ontstaan het in 'n tydperk toe dit nie manierlik was om van vrouensonderklere in gemengde geselskap te praat nie.

    • Sieke: Die sieke dra die gesonde (die minderbevoorregte help die bevoorregte)

    Ontleen aan 'n dierefabel van Jakkals en Wolf. Dié twee sluip 'n skaapkraal binne deur die skuiwergat en begin skape vreet. Jakkals gaan kyk kort-kort of hy nog dun genoeg is om uit te kom. Toe dit knap gaan, beur hy deur en skree: "Boer! Boer! Wolf is in jou kraal!" en hy hardloop weg. Wolf is te dikgevreet, en die boer se honde byt hom amper dood. Toe hy uiteindelik bykom, struikel hy aan huis toe en ontmoet vir Jakkals wat maak of hy siek is van die slae wat Boer hom dan sou gegee het. Op sy gesmeek willig Wolf uiteindelik in om Jakkals te dra, al is hy self so ellendig. Jakkals sing saggies: "Die sieke dra die gesonde".

    • Sien: Dis die laaste sien van die blikkantien (dit het verdwyn; dit sal nooit weer gekry word nie)

    'n Blikkantien is 'n houer (kannetjie, emmertjie) waarin byvoorbeeld water of olie gedra kan word. Dit is nie duidelik waarom dit juis sal verdwyn nie. Miskien het rym hier, soos in baie ander spreekwoorde, n rol gespeel.

    • Silwerlepel: Met ’n silwerlepel in die mond gebore wees (gesê van iemand wat op geldelike gebied voorspoedig is)

    Eens op 'n tyd was dit die gewoonte vir ryk peetouers om 'n silwer lepel aan hulle peetkind te gee wanneer hy gedoop is. Hoewel sulke kinders gewoonlik in welaf gesinne was en dus nie regtig die waardevolle silwer lepel nodig gehad het nie, was die tradisie sterk gewortel. Soms is 'n silwer apostellepel gegee: 'n besonder gelukkige peetkind kon selfs 'n stel met al twaalf die apostels kry - dit was beeldjies bo aan die steel van die lepel wat die apostels voorgestel het. Enigeen wat 'n hele stel apostellepels uit die 16de of 17de eeu het, kan hulleself gelukkig ag al is hulle ouers nie welaf nie. Volledige stelle wat ook in 'n goeie toestand is, is skaars en haal uitstekende pryse. Een so 'n stel uit die vroeë 17de eeu is in 1974 by Christie’s in Londen vir ongeveer R400 000 verkoop.

    • Skeen: Iemand se skene word rooi (iemand is in die verliefraakstadium)

    Die beeld is ontleen aan die mannetjievolstruis waarvan die skene rooi word as dit volwassenheid bereik.

    • Skik: In jou skik wees met iets (baie tevrede wees met iets)

    Skik in Nederlands beteken eintlik "orde", sodat in jou skik wees eintlik beteken dat dinge om jou in orde is, is soos dit hoort. wat tevredenheid tot gevolg het.

    • Skild: Iets in die skild voer (geheime planne of oogmerke hê)

    Oorspronklik ontleen aan die ridderoorloë: die ridders het 'n kenteken op hulle skilde laat skilder wat 'n simbool was van wie hulle was, waarna hulle streef of tot watter groep hulle behoort. Hieruit kon afgelei word of hulle vriend of vyand was. As hulle iets in die skild gevoer het, was dit verborge.

    • Skip: As my skip kom (as ek baie geld kry)

    'n Verwysing na die bloeityd van die Nederlandse skeepvaart en handel: as jou skip gekom het, was dit gelaai met eksotiese ware uit ander wêrelddele wat teen 'n goeie wins van die hand gesit kon word.

    • Skoonskip: Skoonskip maak (opruiming hou; in ’n wedstryd al die pryse verower)

    Letterlik die skip skoonmaak, dus opruim; figuurlik al die pryse bymekaar maak.

    • Skouer: Skouer aan (teen) die wiel sit (alle kragte inspan)

    Moontlik onder Engelse invloed 'n Afrikaanse wysiging van die Nederlandse de hand aan het wiel leggen; waarskynlik is die beeld versterk gedagtig aan die Voortrekkers wat letterlik skouer aan die wiel moes sit om deur moeilike driwwe en oor hoë bulte te kom

    • Skrikkeljaar: Dis nie aljaar skrikkeljaar nie ('n mens kan nie net plesier wil hê nie)

    Die skrikkel-deel kom uit die ou Nederlandse werkwoord schrikkelen wat "oorslaan, spring" beteken. Dus: As 22 Mei in 'n "normale" jaar op Maandag val, sal dit die volgende jaar op 'n Dinsdag val, en die volgende jaar op 'n Woensdag, dan op 'n Donderdag. Maar die vierde jaar is 'n skrikkeljaar, en dan sorg 29 Februarie daarvoor dat 22 Mei nie op die Vrydag nie, maar op die Saterdag val: daar word dus oor Vrydag gespring, of anders gestel: Vrydag word oorgeslaan. Dieselfde rede het die Engelse benaming leap year tot gevolg. In Duits het ons Schaltjahr, omdat schelten beteken "om te wissel". Skrikkeljaar was 'n plesierige dag, veral vir vroue. Op dié dag mag vrouens mans gevra het om met hulle te trou, wat andersins vroeër natuurlik ondenkbaar was. In Ierland kon die man weier, maar dan het dit hom 'n rok van sy gekos. In Skotland was dit 'n dag vir mans om hulle rokkies oor hulle koppe te trek en hulle nie uit die huis te waag nie. 'n Wet van 1228 het bepaal dat gedurende die heerskappy van koningin Margaret elke jongvrou, van hoë of lae stand, die vryheid sal hê om 'n man van wie sy hou, te vra om met haar te trou. As hy weier sou hy beboet word met 'n honderd pond of minder (na gelang van die stand van sy beursie), tensy hy bewys kon lewer dat hy aan 'n ander meisie verloof is, in welke geval hy skotvry daarvan sou afkom. (Die jaar 1228 was natuurlik 'n skrikkeljaar.) Dus: die uitdrukking verwys daarna dat veral vrouens nie elke jaar hierdie plesier mag belewe nie.

    • Slaai: In iemand se slaai krap (iemand benadeel (in liefdesake))

    Dié spreekwoord is miskien nie so onskuldig as wat dit lyk nie. Daar word gewoonlik aanvaar dat dit histories net mans is wat in mekaar se slaai krap. Die slaai as sinoniem vir meisie, nooi is ook interessant. In 'n ou Nederlandse bron kom voor: Wou hij zich nou nog vermaken met het oppeuzelen van een zóó blond slaatje (een meisje). Die gebruik van 'n woord wat 'n lekkerny beskryf om na die vrou en haar geslagsdeel te verwys, is so oud soos die berge. Bekend is koek, tert, middeldeurtert en ander. Ook in Engels het ons byvoorbeeld cherry, tart. Die krap voltooi die kru prentjie.

    • Snaps(ie): ’n Snaps(ie) maak (’n drankie drink)

    Snapsie kom uit Hoogduits Schnapps, die bekende drank

    • Snuf: Snuf in die neus kry (agterdogtig word)

    Een betekenis van snuf is 'n reuk of geur; as dit sleg is, wek dit 'n vermoede by die persoon wat die lug met sy neus snuif.

    • Sout: Iets met ’n knippie (greintjie, korreltjie) sout neem (iets nie as die volle waarheid aanvaar nie)

    In 'n resep van Plinius, die voorste Romeinse wetenskaplike van die eerste eeu n.C. verwys hy figuurlik na iets wat cum grano salis (met 'n greintjie sout) opgeneem moet word. Sout maak dit meer aanvaarbaar.
    Sout Jou sout verdien; jou sout werd wees (Iets nuttigs verrig): Voor die ontwikkeling van geldstelsels is sout op plekke gebruik om mense te betaal, byvoorbeeld die werkers en soldate van ou Rome. Sout in Rome was skaars en dus baie duur. (Italië het geen natuurlike soutbronne nie, en selfs vandag nog moet 'n mens 'n lisensie hê as jy sout wil koop en verkoop.) Die woord salaris kom direk van die Latyns salarium, die soldaat se soutgeld. As iemand dus nie sy sout werd is nie, beteken dit dat hy nie sy salaris werd is nie.

    • Spek: Met spek skiet (onwaarhede vertel)

    Volgens oorlewering het 'n beleërde burg se inwoners die vyand probeer wysmaak dat hulle genoeg kos het om die beleg onbepaald te weerstaan. Toe hulle gewone ammunisie opgeraak het, het hulle spekboude na die vyand geslinger om die punt te maak. Op hierdie manier het hulle dus die waarheid verdraai. 'n Ander teorie maak nie regtig sin nie, naamlik dat in 'n seegeveg kanonkoeëls met brandende spek na die vyand geskiet is wat sy skepe aan die brand sou laat slaan.

    • Staanspoor: Uit die staanspoor uit; van die staanspoor af (van die begin af)

    Letterlik vanwaar die rytuig gestaan het voordat dit begin beweeg het – die spoor waar dit gestaan het.

    • Steek: Nie ’n steek doen nie (geen werk verrig nie)

    In hierdie verband het steek te make met naaldwerk – daar is ook 'n ooreenstemmende Franse idioom, ne pas faire un point d'aiguille: letterlik "nie 'n naaldsteek doen nie".

    • Stok: Stokkies draai (sonder verlof wegbly)

    Volgens die meeste bronne kom dit uit Nederlands stukjes draaien "bedrieg", maar in Suid-Afrika het dit 'n veel praktieser herkoms. Kinders het naamlik uit die skool gebly om in die wingerd te gaan help om die wingerdstokkies vas te draai waar dit op die stamme geënt is.

  5. Tandetrekker: Lieg soos ’n tandetrekker (onbeskaamd lieg)
  6. Vroeër het reisende kwaksalwers ook sommer tande getrek, met die belofte dat die slagoffers nie pyn sou voel nie – mits hulle van sy medisyne koop. Dit het gou geblyk dat sy beloftes alles leuens was.

    • Teerling: Die teerling is gewerp (daar is niks meer aan iets te doen nie)

    In 49 v.C. gesê deur Julius Caesar toe hy die Rubikon met sy leër oorgesteek het nadat Rome hom verbied het om dit te doen.

    • Tippie: Op die tippie (net betyds)

    Tip beteken in Nederlands "punt, stip, sigbare teken"; dus op die punt om iets te doen; 'n teken gee dat iets gaan gebeur.

    • Tjok: Tjok-en-blok wees (propvol, stampvol wees)

    Aan Engels ontleen waar dit verwys na die keerblokke wat voor die wiele van geparkeerde vliegtuie ingewig word om te sorg dat hulle nie kan beweeg nie. Die mense in 'n propvol saal het ook nie beweegruimte nie.

    • Toon: Die toon aangee (die leiding gee)

    Ontleen aan musiek: die grondtoon laat hoor wat die sang of die instrumente moet volg om in harmonie te wees.

    • Tou: Tou opgooi (moed verloor; doodgaan; ophou met iets)

    Ontleen aan die trekkerslewe: as die touleier bang is dat die osse hom gaan inhaal omdat hy moeg is, dan gooi hy die tou oor die horings van die osse en hardloop weg

    • Tou: Iets op tou sit (iets aan die gang sit)

    Ontleen aan die wewersbedryf: die tou is die skering (die regafdrade) wat gespan word voordat die stuk geweef word deur dwarsdrade daartussen te weef.

    • Toutjie: Toutjies trek (in die geheim 'n saak bevorder, veral as begunstiging van 'n kandidaat by 'n aansoek om 'n betrekking)

    Waarskynlik na aanleiding van die marionetmeester wat die poppe se bewegings agter die skerm beheer deur die toutjies daarvan te trek.

    • Tromp-op: Iemand tromp-op loop (iemand reguit benader)

    Die tromp is die loop van 'n geweer; om iemand dus tromp-op te loop, beteken om figuurlik tot by die punt van sy geweer te loop, dit wil sê vreesloos.

    • Tweegatjakkals: ’n Tweegatjakkals (’n onbetroubare persoon wat hom anders voordoen as wat by werklik is)

    Die twee gate waarna verwys word, het niks met die agterkant van die jakkals te make nie, maar met twee gate in die grond. Die jakkals kan altyd ontsnap by die een waar daar nie moeilikheid of gevaar (soos honde) wag nie.

    • Uiltjie: ’n Uiltjie knip (’n rukkie slaap)

    'n Samesmelting van Nederlands een uiltje knappen (vangen) en Gronings een vlinder knippen. Die uil is waarskynlik gekies omdat dit kort rukkies, maar ook afgesonderd, slaap.

    • Uitblaker: Alles uitblaker (’n geheim rondvertel)

    Blaken en blakeren het albei reeds in Middelnederlands met "brand, gloei" verband gehou. Uteblaken het beteken "uitwaai, uitasem" – dus versprei, soos 'n vuur.

    • Uitgedruk: Iemand is sy pa (ma) uitgedruk (iemand lyk presies soos sy pa (ma))

    Na aanleiding van die koekafdrukker waarmee die een koekie na die ander met presies dieselfde vorm uitgedruk word.

    • Uithaal: Uithaal en wys (jou woord gestand doen; 'n aanspraak laat waar word)

    Gesê as iemand op iets aanspraak maak en dan moet bewys dat hy geloofwaardig is. Die beeld is gevorm met geld in gedagte wat uit die sak gehaal moet word.

    • Vaalpens. 'n Vaalpens (bynaam, spotnaam vir ’n Transvaler (Gautenger)

    Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans is die oorsprong: "1. Lid van die San-gemeenskap in die voormalige Noord-Transvaal. 2. Iemand wat van die voormalige Transvaal afkomstig is (as spotnaam). In betekenis 1, 'n samestelling van vaal en pens, so genoem n.a.v. die wit letsels op lede van die San-gemeenskap se mae, opgedoen deur kooltjies wat geval het deur die houtraamwerke waarop hulle vuur gemaak het en waaronder hulle in die winter geslaap het. Andersins word hulle so genoem omdat hulle mae dikwels stowwerig wit was van die grond nadat hulle diere bekruip het. Betekenis 2 het waarskynlik hieruit ontwikkel omdat diegene...[na wie] dit verwys, in dieselfde streek woon."

    • Vaandel: Met vlieënde vaandels (met groot sukses)

    'n Vaandel is onder andere die vlag wat bo aan die skeepsmas gehys is; as 'n skip deur die vyand verslaan is, moes die vlag as teken van oorgawe gestryk word; as die vlag teen die mas vasgespyker is, was dit 'n teken dat die bemanning van die verslane skip tot die einde sou veg en die vlag dus nie gestryk kon word nie. Om met vlieënde vaandels terug te keer, het dus op 'n suksesvolle vaart gedui.

    • Veer: ’n Veer in iemand se hoed (’n pluimpie, ’n kompliment vir iemand)

    'n Verwysing na 'n ou gewoonte in Asië, van die Amerindiane en ander volkere deur die eeue om 'n nuwe veer in hulle kopbedekkings te steek vir elke vyand wat gedood is. In Skotland en Wallis kry die jagter wat die eerste houtsnip skiet die eer om 'n veer van die voël in sy hoedband te steek.

    • Veer: Pronk met ander man se vere; met geleende vere pronk (pronk met iets wat aan ’n ander behoort)

    Na aanleiding van die fabel van Esopus oor die kraai en die pou. Die kraai het vere opgetel van die poue wat verveer het en aan sy stert vasgemaak. Toe hy naby die poue kom, het hulle die bedrog agtergekom en hom gepik en sy geleende vere afgepluk. Hy moes toe maar terug na die ander kraaie, maar die het hom ook uitgeskel omdat hy gedink het dat hy met die geleende vere kon pronk.

    • Verkneukel: Jou verkneukel in iets (jou verlustig in iets)

    Letterlik jou kneukels staan en vryf van lekkerte; toegeskryf ook aan 'n winkelier wat 'n goeie transaksie beklink.

    • Vet: Jou lyf vet smeer (jou regmaak vir ’n pak slae/To prepare oneself for a hiding)

    Vet sal sorg dat jy nie so maklik vasgehou kan word nie, en andersins het jy reeds 'n soort balsem op jou wonde as die slae verby is.

    • Vlag: Die vlag halfstok (halfmas) laat hang (eer betoon aan 'n (belangrike) persoon wat oorlede is)

    Die gewoonte om vlae halfstok te laat hang as 'n belangrike persoon dood is, het tydens die seeoorloë van weleer ontstaan. Wanneer een skip deur 'n ander oorwin is, moes die verslane skip sy vlag laat sak as teken van onderhorigheid aan die oorwinnaar. In Afrikaans het dit oorgebly in die uitdrukking die vlag stryk. Die vlag van die wenner is dan bo die vlag van die verloorder gehys. Daar was dus twee vlae aan die mas. Vandag is die simbool dan dat die onsigbare vlag van die Dood bo die een wapper wat halfstok hang - omdat die dood geseëvier het.

    • Voëlvry: Iemand voëlvry verklaar (bepaal dat enigeen die persoon ongestraf mag doodmaak):

    Om voëlvry verklaar te word, het enersyds beteken dat iemand vry was om jou soos 'n voël te skiet; andersyds, as jy klaar geskiet was, moes jou lyk op die veld gelos word en nie begrawe word nie. Dit het die voëls van die hemel vry gelaat om op jou te kom aas.

    • Voet: Voet by stuk hou (nie van jou plan afwyk nie; nie afdwaal nie)

    Die eeue-oue Nederlandse vorm was voet bij stek zetten. Stec in Middelnederlands was 'n bepaalde ruimte of grens. Een verklaring is dan dat jy jou voet op 'n lyn sit wat dien as grens tussen jou en die opponent, met die implikasie dat hy moeilikheid sal kry as hy oor die streep trap – iets wat baie bekend was by skoolseuns.

    • Voet: Met die verkeerde voet uit die bed klim (nors en nukkerig wees)

    Die verkeerde voet is die linkervoet. Volgens ons oervoorouers was dit ongelukkig om aan die linkerkant van die bed af te klim, of om die grond met die linkervoet eerste te raak. Die linkerkant is verbind met die weste, waar die son ondergaan, en was dus simbool van die dood.

    • Vuurmaakplek: Iets is bokant my vuurmaakplek (iets is meer as wat ek kan doen of begryp)

    Die oorsprong van hierdie eg Afrikaanse uitdrukking is onseker, en miskien 'n bietjie vergesog in die bestaande bronne. 'n Variasie is bo my jakkals, waar jakkals as simbool van verstand gebruik word. Die variasie met vuurmaakplek verwys hou moontlik verband met vuur soos in vuurslag wat dan figuurlik 'n vonk in die verstand voortbring.

    • Waai: Niks met iemand uit te waai hê nie (niks met iemand te doen hê nie)

    Om met alle winde saam te waai, beteken om met almal saam te stem; dus beteken dié uitdrukking om glad nie met iemand saam te stem nie. Om iemand te laat waai, is om hom te los sodat hy deur die wind weggewaai word; dus weer eens om niks met hom te doen te hê nie.

    • Water: Van die eerste water (van die hoogste gehalte; in die grootste mate)

    Eintlik water van die eerste graad van suiwerheid; ontleen aan 'n edelgesteente waarvan die glans water genoem word omdat die kleurskakering en die glinstering aan golwende water herinner.

    • Weerwolf: ’n Weerwolf (iets waarmee iemand bang gemaak kan word)

    Die weerwolf het niks met die weer te make nie. Die weer is 'n ou vorm vir man, sodat dit dus 'n manwolf is, met ander woorde 'n man in die gedaante van 'n wolf. Ook die Engelse werewolf, werwolf kom van die Angel-Saksiese wer "man". 'n Vreemde bygeloof het minstens 'n eeu gelede nog in Bretagne, Limousin, Auvergne, Serwië, Wallachië en Wit-Rusland geleef dat die wolf babas verslind het en dat sy vel koeëlvas was, tensy die koeël geseën is in 'n kerk wat aan St. Hubert opgedra is. Vandaar dat mense daarmee bang gemaak kan word.

    • Wind: Deur die wind wees (deurmekaar wees)

    In skeepvaartsterme beteken dit om opsetlik die skip te laat draai sodat dit die wind (wat byvoorbeeld op die bakboordkant gewaai het) eers van voor en dan van die stuurboordkant kry; dit staan bekend as "deurdraai". Oordragtelik beteken dit om van jou oorspronklike standpunt af te wyk, sodat dit lyk asof jy deurmekaar is.

    • Windmeul(e): Teen windmeulens veg (denkbeeldige gevare bestry; iets tevergeefs probeer verander)

    Ontleen aan die verhaal van Miguel de Cervantes Saavedra van 1605 met Don Quijote as die tragikomiese figuur wat windmeulens in die verte aansien vir reuse, hulle op sy perd bestorm en dan op die grond beland.

    • Wittebrood: Wittebrood hou (eerste huweliksdae deurbring)

    Die wittebroodsdae is veronderstel om idillies goed te wees, asof die paar net wit brood eet, in plaas van swart brood (rogbrood) wat vroeër eeue altyd as minder lekker beskou is.

    • Woltoon: ’n Woltoon (bynaam, spotnaam vir ’n Kapenaar)

    Na aanleiding van die Kaapse skaapboere wat wol intrap in die bale.

    • Ys: Die ys breek (begin maak met ’n lastige saak)

    'n Verwysing na die ysbrekers wat in die ysvelde van die pole die weg baan vir ander vaartuie.

    • Ysterklou: Ysterklou in die grond slaan (wegvlug; vastrap)

    Ontleen aan die stories van Jakkals en Wolf. Dié twee loop eendag 'n slapende perd naby die boer se plaas raak. Jakkals oorreed Wolf toe om die perd weg te sleep sodat hulle buite sig van die boer die dier kan vreet. Jakkals maak Wolf toe aan die stert van die dier vas, en hyself stap na die kop toe. Hy skop die perd op die blad, die dier word wakker en vlieg weg. In die hardloop skop hy Wolf natuurlik genadeloos. Jakkals lag hom dood en skree toe: "Slaan maar ysterklou in die grond, oom Wolf!" Die betekenis daarvan is dat Wolf sy naels hard (soos ysterpenne) in die grond moet slaan om te kan stop. Die uitdrukking het 'n betekenisuitbreiding ondergaan sodat dit ook die weghardloop (van die perd) insluit.  

Used with permission from Dr. Prinsloo.