If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

U - V - W - Y - Z

U

Uchida, Mitsuko (1948-), Japannese pianis. Sy is in Wenen opgelei en het in 1963 haar debuut in die Oostenrykse hoofstad gemaak. Vyf jaar later het sy die Beethoven-kompetisie gewen, gevolg deur tweede pryse in die internasionale kompetisies in Warskou (1970) en Leeds (1975). In 1987 is haar debuut in New York gemaak en twee jaar later ook by die Salzburg-fees. Met haar elegante, verfynde spel is sy wêreldbekend as een van die voorste Mozart-pianiste van haar tyd. Sy het hoogaangeskrewe opnames van die volledige klavierkonserte en -sonates van dié musiekreus gemaak, met sommige van die konserte wat sy self vanaf die klavier gedirigeer het. Vanaf 1997 tot 2002 het sy ook ‘n groot aantal Schubert-werke opgeneem. Sy het in 2006 tydens die Mozart gala-konsert in Salzburg ‘n uitvoering van die musiekreus se klavierkonsert nr. 25 gegee, met ‘n DVD wat gemaak is. Sleutelopnames: Berg se Kamerkonsert (met Tetzlaff); Debussy se Etudes, Boeke 1-2; Mozart se klaviersonates nrs. 1-18 en Fantasia K475; Schoenberg se klavierkonsert (onder Boulez). Verdere opnames: Beethoven se volledige klavierkonserte (onder Sanderling); Schubert se klaviersonates nrs. 4, 7, 9, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 en 21, asook 3 Klavierstukke D946, 8 Impromptus, Moments Musicaux en 18 Duitse Danse D820 & D790; en solowerke van Berg, Chopin, Schoenberg en Webern.

Uhde, Hermann (1914-65), Duitse bas-bariton. Hy het in 1936 sy operadebuut in Bremen gemaak, as Titurel in Parsifal. Daarna was hy ‘n lid van operahuise in Freiburg (1938-40), München (1940-2), Hamburg (1949/50) en vanaf 1951 weer in München. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Salzburg (1949) en Bayreuth (1951), asook by Covent Garden (1953) en die Metropolitan Opera (1955). Tydens sy Salzburg-debuut het hy in Wilhelm Furtwängler se opname van die Die Zauberflöte (as die Tweede Gewapende man) verskyn. Met sy Bayreuth-debuut het hy in ‘n uitstekende opname van Parsifal onder Hans Knappertsbusch gesing. By die Met het hy die titelrol tydens die huispremière van Wozzeck gesing. Hy was veral bekend in Wagner-rolle, soos die titelrol in Der fliegende Holländer, Donner in Das Rheingold, Gunther in Götterdämmerung en Klingsor in Parsifal. Hy het gesterf tydens ‘n opvoering van Bentzon se opera Faust III. Verdere opnames: Das Rheingold, Götterdämmerung en Parsifal (al 3 onder Krauss, by Bayreuth in 1953); Der fliegende Holländer (onder Keilberth, by Bayreuth in 1955); en Tristan und Isolde (onder Karajan).

Uhl, Fritz (1928-), Oostenrykse tenoor. Hy het in 1950 as solis in Herbert von Karajan se Weense opname van Bach se Sint Mattheüspassie gesing. Twee jaar later is sy operadebuut in Graz gemaak, en later was hy verbonde aan operahuise in München (vanaf 1958) en Wenen (vanaf 1961). Verdere debute het plaasgevind by die Bayreuth-fees (1957), Covent Garden (1963) en die Salzburg-fees (1968). As begaafde sanger in Duitse opera het hy uitgeblink in rolle soos Florestan in Fidelio, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg en Tristan in Tristan und Isolde. Hy het laasgenoemde rol gesing teenoor Birgit Nilsson in ‘n uitstekende opname onder Georg Solti. Sedert 1981 is hy ‘n hoogleraar aan die Weense Konserwatorium. Verdere opnames: die eerste bedryf van Die Walküre (as Siegmund, onder Knappertsbusch op DVD).

Ulster Orkes, Ierse simfonie-orkes wat in 1966 gestig en in Belfast gebaseer is. Hul hoofdirigente was M. Miles (1966/7), S. Comissiona (1967-9), E. Cosma (1969-74), A. Francis (1974-7), Bryden Thomson (1977-85), Vernon Handley (1985-9), Yan Pascal Tortelier (1989-92) en sedert 1992 En Shao. Sedert 1979 maak hulle opnames, en hulle toer ook internasionaal.

Unger, Gerhard (1916-), Duitse tenoor. Hy het in 1947 sy operadebuut in Weimar gemaak en was daarna verbonde aan operahuise in Berlyn (1949-61), Stuttgart (1961-3), Hamburg (1963-6) en Wenen (1966-70). Vanaf 1962 het hy ook by die Salzburg-fees opgetree. Hy was begaafd in rolle soos Jaquino in Fidelio, die Kaptein in Wozzeck, Skuratof in Uit die Huis van die Dode, Jan in Der Bettelstudent, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, Monostatos in Die Zauberflöte, David in Die Meistersinger von Nürnberg en Mime in die Ring. Opnames: Orff se Carmina Burana; die genoemde operette van Millöcker; die genoemde operas van Beethoven, Mozart en Wagner, asook Tristan und Isolde.

Uppman, Theodor (1920-), Amerikaanse bariton. Sy operadebuut is in 1946 by die Stanford Universiteit gemaak as Papageno in Die Zauberflöte. In die jaar daarop het hy die rol van Pelléas in Pelléas et Mélisande teenoor die beroemde Maggie Teyte as Mélisande onder die dirigeerstaf van Pierre Monteux in ‘n konsertweergawe in San Francisco gesing. Vanaf 1948 het hy by operahuise in laasgenoemde stad en New York opgetree, en vanaf 1953 tot 1977 was hy aan die Metropolitan Opera verbonde. Intussen het hy in 1951 die titelrol in Britten se Billy Budd geskep tydens die première daarvan by Covent Garden. ‘n Klassieke opname onder die komponis self is tydens die geleentheid gemaak.

Upshaw, Dawn (1960-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1983 by die Manhattan-Skool die titelrol gesing in die Amerikaanse première van Hindemith se opera Sancta Susanna. In die jaar daarop het sy by die Spoleto-fees gedebuteer as die Eggo in Ariadne auf Naxos, en in 1985 was sy ‘n medewenner van die Naumberg-kompetisie. Nog debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1985), die Salzburg-fees (1986) en die Londense Proms (1990). In 1992 het sy die solo gesing in ‘n opname van Górecki se derde simfonie onder David Zinman, wat een van die topverkopers in die geskiedenis van klassieke musiek geword het. Met haar helder, fluweelagtige stem is sy bekend in liriese operarolle, terwyl sy ook uitblink in konsertwerke en liedere oor ‘n wye repertorium. Onder haar beste rolle tel Euridice in Orfeo ed Euridice, Nina in Chérubin, die Engel in Saint Francois d’Assise, Celia in Lucio Silla en Anne Trulove in The Rake's Progress. Verdere opnames: Barber se Knoxville; Berg se Liriese suite (met die Kronos Kwartet); Canteloube se Chants d’Auvergne; Emmanuel se 6 Chansons bourguignonnes du Pays de Beaune; Gershwin se musiekblyspel Oh Kay!, en uittreksels uit blyspele van Bernstein en Weill; Górecki se Good Night; Handel se oratorium Theodora (in die titelrol); Haydn se The Creation (in Engels); Lutoslafski se Chantefleurs et chantafables; Mahler se vierde simfonie (onder Dohnányi); werke van Salonen; (as solis in) Schoenberg se tweede strykkwartet; liedere van Mozart, Schubert, Schumann en Wolf; die genoemde operas van Gluck, Massenet, Messiaen, Mozart en Strawinski, asook El Nino.

Urmana, Violeta (1961-), Litause sopraan. Aanvanklik was sy ‘n mezzosopraan wat roem verwerf het as Eboli in Don Carlos en Kundry in Parsifal, rolle wat sy onder bekende dirigente gesing het. Sy het in 1998 in Tony Palmer se dokumentêre rolprent oor Parsifal getiteld The Search for the Grail verskyn. By die Bayreuth-fees het sy as Sieglinde in Die Walküre gedebuteer. Haar debuut as sopraan is in 2002 by La Scala gemaak, in Gluck se Iphigénie en Aulide onder Riccardo Muti. Sedertdien sing sy rolle soos Maddalena in Andrea Chénier, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Norma, La Gioconda, Tosca en Aida. Met haar ferm, ryk stem is sy ook begaafd in konsertwerke vanaf Bach tot by Berg. In 2002 het sy ‘n toekenning van die Koninklike Filharmoniese Vereniging ontvang. Haar besondere gewildheid in haar geboorteland blyk uit die feit dat sy by geleentheid gevra is om as kandidaat in ‘n Litause presidentsverkiesing te staan, ‘n aanbod wat sy gelukkig vir die musiekwêreld van die hand gewys het. Sleutelopname: Ponchielli se opera La Gioconda (onder Viotti). Verdere opnames: Bartók se opera Bloubaard se Kasteel (as Judith); Beethoven se negende simfonie (onder Abbado, op DVD); Mahler se 5 Rückert Lieder (onder Boulez); Verdi se Requiem (onder Bitsjkof); en Zemlinsky se 6 Maeterlinck Gesänge (onder Conlon).

Ursuleac, Viorica (1894-1985), Roemeense sopraan. Nadat sy in 1922 in Agram haar operadebuut gemaak het as Charlotte in Werther, was sy verbonde aan operahuise in Wenen (1924-6, 1930-4), Frankfurt (1926-30), Berlyn (1935-7) en München (1937-44). Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1930) en Covent Garden (1934). Gedurende die 1930’s en 1940's was sy Richard Strauss se gunstelingsopraan, sodat hy die titelrol in Arabella (1933), Maria in Friedenstag (1938) en die Grafin in Capriccio (1942) vir haar geskryf het. Tydens die kleedrepetisie van Die liebe der Danae in 1944 in Salzburg het sy ook die titelrol gesing. Gedurende haar loopbaan sou sy meer as vyfhonderd keer in twaalf Strauss-rolle optree. Haar wye repertorium het meer as sewentig ander rolle ingesluit, en sy was met die vermaarde dirigent Clemens Krauss getroud. Onder sy dirigeerstaf het sy in 1933 by die Weense Opera in historiese opnames van arias uit Die ägyptische Helena en Die Meistersinger von Nürnberg gesing.

Uys, Tessa (?-), Suid-Afrikaanse pianis. Haar konsertdebuut is op 13 met die simfonie-orkes van haar geboortestad Kaapstad gemaak. Sy het met ‘n beurs aan die Koninklike Musiekakademie in Londen gaan studeer, waar sy die MacFarren-medalje gewen het. Verdere studies het gevolg in Siena, waarna sy na Engeland teruggekeer het. Daar het sy ‘n kompetisie gewen en haar in Londen gevestig. Sy tree wêreldwyd as solis in ‘n wye repertorium op. Haar bekendheid lê veral in die musiek van Bach en Schumann, en sy het in die eerste uitsaai-opname van Godowsky se verwerkings van 12 Schubert-liedere gespeel. Met die 250ste herdenking van Bach se dood in 2000 het sy die Barokreus se Goldberg Variasies opgeneem, en uitvoerings daarvan in Brittanje en elders gegee. Sy is in 1994 tot Genoot van die Koninklike Musiekakademie verkies. Verder het sy in die rolprent Madame Sousatzka opgetree. Haar broer is die bekende komediant Pieter-Dirk Uys, alias Evita Bezuidenhout.

V

Vaduva, Leontina (1964-), Roemeense sopraan. Sy het haar operadebuut in 1987 in Toulouse in Massenet se Manon gemaak, en die jaar daarop in Parys en by Covent Garden begin optree. Met haar ligte, soet stem blink sy uit in Italiaanse opera, veral dié van Puccini en Verdi. Sy het die rol van Mimí gesing in Antonio Pappano se sleutelopname van La Bohème. Verdere opnames: Rigoletto (as Gilda, onder Carlo Rizzi).

Valdengo, Giuseppe (1914-), Italiaanse bariton. Sy operadebuut in 1936 in Parma, as Figaro in Il barbiere di Siviglia, is gevolg deur debute by La Scala (1941), die New York Stadsopera (1946), die Metropolitan Opera (1947) en die Glyndebourne-fees (1955). Met sy ryk, ferm stem was hy 'n uitmuntende sanger in Verdi-rolle soos Amonasro in Aida, die titelrol in Falstaff en Iago in Otello. Hy het in historiese opnames van hierdie drie operas onder Toscanini gesing. By die Met het hy voorts uitgeblink as Lescaut in ‘n 1946-opname van Manon Lescaut onder Antonicelli.

Valentini Terrani, Lucia (1946-), Italiaanse mezzosopraan. Nadat sy in 1969 haar debuut in Padua gemaak het in die titelrol van La Cenerentola, het sy opgetree by La Scala (vanaf 1974) en Pesaro (vanaf 1984). Verdere debute het plaasgevind by die Metropolitan Opera (1974), in Los Angeles (1979) en by Covent Garden (1987). Sy is 'n begaafde sangeres in Italiaanse opera, veral in die liriese rolle van Rossini en Verdi. Daaronder tel Malcolm in La donna del lago, Isabella in L'italiana in Algeri, Marchesa in Il viaggio a Reims, Eboli in Don Carlos, Quickly in Falstaff en Alcina in Orlando furioso. Opnames: Pergolesi se Stabat Mater; en laasgenoemde ses operas, asook Haydn se La fedeltà premiata en Il mondo della luna.

Vallin, Ninon (1886-1961), Franse sopraan. Sy het haar loopbaan as konsertsangeres begin, in musiek van onder andere Debussy. In 1912 het haar operadebuut by die Parys Komiese Opera as Micaela in Carmen plaasgevind. Daarna was sy vir die res van haar loopbaan aan dié operahuis verbonde, maar sy het ook gesing by La Scala (1916/7) en in Buenos Aires (1916-36). Haar bekendheid het merendeels in Franse opera gelê, soos die titelrolle van Carmen, Louise, Manon, Werther en Mignon, terwyl sy ook begaafd was as Mimì in La Bohème. Sy het by die Parys Komiese Opera in 'n historiese opname van Werther onder Elie Cohen gesing. Verdere opnames: liedere van Richard Strauss (in Frans) en die opera Louise (onder Eugène Bigot).

Van Allan, Richard (1935-), Engelse bas. Hy het aanvanklik in die Glyndebourne-koor gesing en in 1966 sy operadebuut by dié musiekfees gemaak, as die Tweede Priester in Die Zauberflöte. Mettertyd het hy by die Engelse Nasionale Opera, die Walliese Nasionale Opera, die Parys Opera en die Wexford-fees gesing. In 1971 het hy by Covent Garden en die Metropolitan Opera gedebuteer. Hy was bekend in rolle soos Don Pedro in Béatrice et Bénédict, Don Jerome in The Duenna, die Dokter in L'Oracolo, die titelrol in Boris Godoenof, Alfonso in Così fan tutte, Masetto in Don Giovanni, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, die Konstabel in Hugh the Drover, die Groot Inkwisiteur in Don Carlos, Wurm in Luisa Miller en Frank Maurrant in Street scene. Daarby was he begaafd in die operettes van Gilbert en Sullivan, in rolle soos Bill Bobstay in HMS Pinafore, die titelrol in The Mikado en die Sersant in The Pirates of Penzance. Sedert 1986 is hy direkteur van die Nasionale Opera se opleidingskool. Opnames: Berlioz se La damnation de Faust; die genoemde operettes; en die genoemde operas van Berlioz, Gerhard, Leoni, Mozart, Prokofiëf, Vaughan Williams, Verdi en Weill.

Van Asch, David (?-), Engelse bas-bariton. As tienjarige het hy ‘n beurs gewen om in die beroemde koor van King’s College, Cambridge te sing. Dit was as seunsopraan, en op 19 het hy met ‘n verdere beurs na die koor teruggekeer, hierdie keer as bas. Naas sy studies in sang en trompetspel het hy ekonomie en antropologie studeer. In 1969 het hy gegradueer en die vokale ensemble The Scholars gestig, met wie toere na meer as vyftig lande oor die jare heen onderneem is. Sy solodebuut is in 1974 in Londen gemaak, en sedertdien tree hy wyd deur Europa en Suid-Amerika in konserte en liedere-voordragte op. In 1987 het hy die Scholars Baroque Ensemble gestig, wat in die 1990’s roem sou verwerf vir hul uitvoerings en opnames van vroeë musiek. Hy woon aan die Mediterreense kus van Spanje, waar hy jaarliks ‘n sangfees in Altafulla lei [sien verder onder Scholars Baroque Ensemble].

Van Beinum, Eduard (1901-59), Nederlandse dirigent. Hy het aanvanklik gedirigeer in Haarlem (1926-31), waarna hy tot 1938 tweede dirigent van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam was. Met die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 het hy die briljante Willem Mengelberg as hoofdirigent van die Concertgebouw opgevolg, ‘n pos wat hy tot aan die einde van sy lewe sou beklee. Hy het sy orkes in 1954 op ‘n Amerikaanse toer geneem. Verdere debute is gemaak in Londen (1946) en by die Salzburg-fees (1957). Hy was ook hoofdirigent van die Londense Filharmoniese Orkes (1949-51) en dirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes (1956-9). Met sy benadering om die bedoelings van die komponis so getrou as moontlik weer te gee, was hy veral begaafd in die musiek van Beethoven, Bruckner en sommige Franse komponiste. Slegs vyf maande voor sy dood het hy vir Otto Klemperer ingestaan in ‘n Londense konsert met die Philharmonia Orkes, waartydens voortreflike opnames van Beethoven se simfonieë nrs. 2 en 7 gemaak is. As konsertbegeleier het hy met beroemde musici soos Menuhin, Francescatti, Solomon en Lipatti opgetree. Hy het aan ‘n hartaanval tydens ‘n inoefening gesterf. Sleutelopnames: Debussy se Berceuse héroïque (1957). Verdere opnames: Bartók se Konsert vir Orkes; Berlioz se Symphonie fantastique (1947); Bruckner se simfonieë nrs. 7-9; Schubert se simfonie nr. 5; en orkeswerke van Ravel en Schoenberg.

Van Dael, Lucy (1946-), Nederlandse violis. Sy het viool aan die Koninklike Konserwatorium in Den Haag studeer, en haar loopbaan in die Nederlandse Kamerorkes onder Szimon Goldberg begin. Kort voor lank het sy na die Barokviool oorgeslaan, en ‘n lang verbintenis met bekendes in die eietydse beweging soos Frans Brüggen, Ton Koopman, Gustav Leonhardt en die Kuijken-broers begin. Saam met Brüggen het sy die Orkes van die 18de Eeu gestig, waarvan sy vir 18 jaar die konsertmeester sou wees. Sy speel kamermusiek as lid van die Amsterdam Fortepiano Trio en van L’Archibudelli, en as vennoot van Bob van Asperen (klawesimbel) en Wouter Möller (tjellis). Daarby gee sy onderrig aan die Amsterdam Konserwatorium, asook meesterklasse in talle lande. Haar opname van J.S. Bach se 6 vioolsonates met Van Asperen as begeleier word as die beste weergawe van die werk op eietydse instrumente beskou. Verdere opnames: Bach se volledige Sonates en Partitas vir solo-viool; Corelli se 6 Vioolsonates, opus 5 (met Van Asperen); en Mozart se volledige fluitkwartette (met die 3 Kuijken-broers).

Van Dam, José (1928-), Belgiese bas-bariton. Nadat hy in 1960 sy operadebuut in Liège gemaak het as Don Basilio in Il barbiere di Siviglia, het hy gesing by operahuise in Parys (1961-5), Genève (1965-7) en Berlyn (vanaf 1967). Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1968) en Covent Garden (1973). Hy was een van die voorste basse van sy tyd in ‘n wye repertorium operarolle. Daaronder tel Mephistopheles in La damnation de Faust, Escamillo in Carmen, Golaud in Pelléas et Mélisande, Agamemnon in Iphigénie en Aulide, Méphistophélès in Faust, Don Alfonso in Così fan tutte, Leporello in Don Giovanni, Sarastro in Die Zauberflöte, Marquis de la Force in Les dialogues des Carmelites, Ismenor in Dardanus, die Sultan in Padmâvatî, Barak in Die Frau ohne Schatten, Jokanaan in Salome, die Koning in Aida, Filips II in Don Carlos, Paolo in Simon Boccanegra, Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Amfortas in Parsifal, en die titelrolle in Don Quichotte, Gianni Schicchi, Falstaff en Der fliegende Holländer. In 1983 het hy die titelrol in Messiaen se Saint Francois d'Assise tydens die première in Parys geskep. Hy het uitgeblink as Falstaff tydens die Aix-en-Provence fees in 1987, met ‘n DVD wat daarvan getuig. As begaafde konsert- en liederesanger is hy ewe tuis in Duitse, Franse en Italiaanse musiek. Verdere opnames: Bach se Magnificat, Beethoven se negende simfonie en Missa solemnis, Bruckner se Te Deum, Mozart se Kroningsmis en Requiem, en Verdi se Requiem (almal onder Karajan, lg. op DVD); Berlioz se Roméo et Juliette; Gounod se Roméo et Juliette; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Ravel se Don Quichotte à Dulcinée en 5 Mélodies populaires grecques; liedere van Duparc, Gounod, Massenet en Saint-Saëns; die genoemde operas van Berlioz, Bizet, Debussy, Gluck, Gounod, Massenet, Messiaen, Mozart, Poulenc, Puccini, Rameau, Roussel, Verdi en Wagner, asook Fidelio, Hérodiade, Manon, Les contes d’Hoffmann en L'Heure espagnole.

Vandernoot, André (1927-91), Belgiese dirigent. Hy het aanvanklik aan die Koninklike Musiek-konserwatorium in Brussels studeer en later ook fluit en dirigeerkuns aan die Weense Musiek-konserwatorium. In 1951 was hy ‘n pryswenner in die Besancon-dirigeerkompetisie in Frankryk. Hy was in 1958 ‘n dirigent by die Koninklike Vlaamse Opera in Antwerpen. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Théâtre Royal de la Monnaie in Brussels (1959-73), die Belgiese Nasionale Orkes (1974/5) en die Filharmonie in Antwerpen (1976-83). Daarby was hy direkteur van die Noord Filharmoniese Orkes in Haarlem (1978/9) en hoofdirigent van die BRTF Simfonie-orkes in Brussels (1979-89). Hy was voorts artistieke direkteur en permanente dirigent van die Brabant Orkes in Tilburg (1979-89). Sy repertorium het vanaf Bach tot by Strawinski gestrek, met ‘n hele aantal opnames wat gemaak is. Daaronder tel Bach se Sint Johannespassie met die Bach-koor en Orkes van die Filharmoniese Vereniging in Amsterdam, en met Agnes Giebel en Richard Lewis onder die soliste. Hy was ook ‘n konsertbegeleier vir bekende soliste soos die pianiste Emil Gilels en György Cziffra en die violis Christian Ferras in van hul opnames.

Van der Walt, Deon (1958-2005), Suid-Afrikaanse tenoor. Terwyl hy ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch was, is sy debuut as Jaquino in Fidelio by die Kaapstad Opera gemaak. Hy het ‘n aantal beurse gewen waarmee hy in Europa verder gaan studeer het, en in 1981 het hy die internasionale Mozart-kompetisie in Salzburg gewen. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Gelsenkirchen en Stuttgart, waarna hy ‘n lid van die Zürich Opera geword het. Sy debuut by Covent Garden is in 1985 as Almaviva in Il barbiere di Siviglia gemaak. As een van die voorste liriese tenore van sy tyd het hy wêreldwyd in operahuise en by musiekfeeste onder bekende dirigente gesing. Hy het die eerste Suid-Afrikaanse tenoor geword om die ‘Grand Slam’ te voltooi. Tydens die tweehonderdjarige herdenking van Mozart se dood in 1991 het hy onder Georg Solti uitgeblink as Tamino in ‘n opvoering van Die Zauberflöte. Onder sy verdere rolle het getel Jaquino in Fidelio, Tonio in La fille du regiment, Pylade in Iphigénie en Tauride, die manlike hoofrol in Roméo et Juliette, Des Grieux in Manon, Ferrando in Cosi fan tutte, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail en David in Die Meistersinger von Nürnberg. Sy loopbaan is op ‘n gewelddadige wyse kortgeknip toe hy skynbaar deur sy vader op hul familielandgoed in die Paarl doodgeskiet is, waarna laasgenoemde selfmoord gepleeg het. Opnames: Mozart se Mis in C mineur (K257); Offenbach se operette La Belle Hélène (onder Harnoncourt, op DVD); Schumann se kantate Der Rose Pilgerfahrt (onder Kuhn); en die genoemde operas van Beethoven, Gluck en Wagner, asook Cosi fan tutte en Die Zauberflöte.

Vaness, Carol (1952-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1976 die oudisies by die San Francisco Opera gewen en in die jaar daarop daar gedebuteer, as Vitellia in La clemenza di Tito. Daarna het sy wyd in die VSA en Europa gesing, met nog debute wat gemaak is in New York (1979), Bordeaux (1981), by Covent Garden (1982), die Metropolitan Opera (1984), die Salzburg-fees (1988) en La Scala (1990). Sy is veral bekend in Mozart-rolle soos Fiordiligi in Così fan tutte, Donna Anna in Don Giovanni, Elettra in Idomeneo en die Grafin in Le nozze di Figaro. Onder haar verdere rolle tel Mina in Verdi se Aroldo. In 2003 het sy tydens die première van Albéniz se opera Merlin in Madrid die die rol van Nivian geskep. Opnames: Beethoven se Missa Solemnis; die genoemde operas van Albéniz, Mozart en Verdi, asook Iphigénie en Tauride.

Van Heerden, Hans (?-), Suid-Afrikaanse bariton. Nadat hy in 1961 die Mimi Coertse-beurs gewen het, is hy na Oostenryk om aan die Weense Staatsakademie te studeer. Daarna was hy tot 1971 eerste bariton in Duitse operahuise in Ulm, Bonn, Frankfurt en Wiesbaden. Sedertdien tree hy merendeels in sy geboorteland op, as beide sanger en verhoogdirekteur. Hy blink veral uit in Verdi-rolle soos Germont in La Traviata, Iago in Otello, en die titelrolle van Nabucco en Rigoletto. Daarby is hy begaafd as Don Pizarro in Fidelio, Leporello in Don Giovanni, Osmin in Die Entführung aus dem Serail en Kaspar in Der Freischütz. Die Nederburg Operaprys is in 1994 aan hom toegeken vir sy regie van Fidelio by die Roodepoort Stadsopera en vir sy gelyktydige vertolking van Don Pizarro.

Van Immerseel, Jos (1945-), Belgiese pianis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy het klavier en dirigeerkuns aan die Antwerpen Konserwatorium studeer. In 1963 was hy ‘n pryswenner in die Beierse Radio se internasionale Klavierspiel vom Blatt kompetisie. Daarby het hy sang en orrel bestudeer, laasgenoemde onder die vermaarde Flor Peeters. In 1964 het hy die Collegium Musicum gestig, met wie hy tot 1968 die instrumentale en sangpraktyke van die Renaissance en Barok ondersoek het. Hy het ook klawesimbel onder Kenneth Gilbert studeer en in 1973 het hy die Konsertdiploma met hoogste lof verwerf. In dieselfde jaar het hy die eerste klawesimbelkompetisie in Parys op ‘n 1780-instrument gewen. Hy het in 1977 sy herkonstruksie van Monteverdi se opera Orfeo opgevoer, waaraan ‘n hele aantal later bekende musici deelgeneem het. Tot 1985 het hy op Barokmusiek gefokus, en sedertdien het sy repertorium verbreed tot in die vroeë twintigste eeu. Gedurende die 1980’s was hy ‘n gereelde gasdirigent van die Nederlandse Kamerorkes en die Nederlandse Radio se kamerkoor en -orkes. Hy gee onderrig in klawesimbel en fortepiano aan die Antwerpen Konserwatorium, en sy jaarlike klawesimbel-werkswinkel word deur etlike honderde studente vanoor die wêreld bygewoon. Voorts gee hy wyd deur Europa, die VSA en Japan lesings en meesterklasse, en vanaf 1982 was hy vir drie jaar artistieke direkteur van die Sweelinck Konserwatorium in Amsterdam. Hy het in 1987 die orkes Anima Eterna gestig, met wie hy voortreflike opnames van Mozart se simfonieë nrs. 39 tot 41 en Beethoven se volledige simfonieë op eietydse instrumente gemaak het. Sedert 1996 gee die Filharmoniese Vereniging van Brussels ‘n jaarlike konsertreeks met hom as dirigent. Verdere opnames: (as dirigent) ‘n versameling orkeswerke van Johann Strauss junior; en (as solis) 4 klaviersonates van Clementi.

Van Kempen, Paul (1893-1955), Nederlandse violis en dirigent. Hy was leier van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam onder die legendariese Wilhelm Mengelberg, en daarna het hy ‘n aantal Duitse orkeste gelei. Vanaf 1932 het hy as dirigent opgetree, onder andere van die Dresden Filharmoniese Orkes (1934-42), en by operahuise in Berlyn (1940) en Aachen (1942/3). Later was hy hoofdirigent van die Hilversum Radio-orkes (vanaf 1949) en in Bremen (vanaf 1953). Gedurende die vroeë 1950’s het hy met die Berlynse Filharmoniese Orkes opnames van Beethoven se simfonieë nommers 3, 7 en 8 gemaak wat deur kenners onder die bestes daarvan gereken word. Verdere opnames: Beethoven se sesde simfonie, en Tsjaikofski se Serenade in C.

Van Mill, Arnold (1921-96), Nederlandse bas. Hy was vanaf 1953 tot 1971 ‘n lid van die Hamburg Staatsopera, waar hy bekendheid verwerf het in die operas van Mozart, Verdi en Wagner. Onder sy rolle het getel Osmin in Die Entführung aus dem Serail, Ramfis in Aida, Koning Mark in Tristan und Isolde en Hunding in Die Walküre. In die na-oorlogse tydvak het hy dikwels by die Bayreuth-fees gesing, totdat ‘n misverstand tussen hom en Wieland Wagner die samewerking tot ‘n einde gebring het. Die gesogte titel van Kammersänger is in Hamburg aan hom toegeken. Opnames: die genoemde operas van Verdi en Wagner.

Van Nes, Jard (1948-), Nederlandse alt. Sy het vanaf 1973 vir ses jaar aan die Konserwatorium in Den Haag onder Herman Woltman studeer. Haar konsertdebuut is in 1975 by die Holland-fees gemaak, en haar operadebuut agt jaar later by die Nederlandse Opera in Amsterdam. Dit was as Bertarido in Rodelinda, en in 1985 het sy by die Holland-fees die titelrol in Loevendie se Naima geskep. Hoewel sy meer bekend as konsert- en liedere-sangeres is, sing sy soms operarolle van Handel, Verdi, Wagner en Richard Strauss. In konsertwerke blink sy met haar diep toonkleur en fyn gevormde sang uit in die Duitse repertorium, veral in die musiek van Mahler. Opnames: ‘n aantal kantates van Bach; Beethoven se negende simfonie (onder Brüggen); Brahms se Alt Rapsodie (onder Blomstedt); Handel se oratorium Theodora; Hartmann se eerste simfonie (onder Botstein); Mahler se derde simfonie (onder Haitink); Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate (onder Dutoit); en Zemlinsky se 6 Maeterlinck Lieder (onder Chailly).

Van Otterloo, Willem (1907-78), Nederlandse tjellis, dirigent en komponis. Aanvanklik was hy aan die Utrecht Simfonie-orkes verbonde, as tjellis (1932), as assistent-dirigent (1933) en as hoofdirigent (1937-49). Vervolgens was hy vanaf 1949 tot 1973 dirigent van die Residentie Orkes in Den Haag, asook van die simfonie-orkeste in Melbourne (1967-73), Sydney (1973-8) en Düsseldorf (1974-7).

Van Rensburg, Kobie (1969-), Suid-Afrikaanse tenoor. Terwyl hy regte en internasionale politiek aan die Potchefstroomse Universiteit studeer het (waarin hy nagraads cum laude sou gradueer), het hy sang onder Werner Nel studeer. Hy was slegs 20 toe sy professionale debuut in 1991 by die Roodepoort Stadsopera gemaak is. Dit was as Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, waarna hy landswyd in opera en konserte begin sing het. Nadat hy in 1994 die internasionale sangkompetisie in Pretoria gewen het, is hy na Duitsland vir verdere studies. Daar het hy in München onder Hanno Blaschke studeer en ‘n lid van die Staatstheater am Gärtnerplatz geword. Hy tree verder as gas wyd deur Europa in operahuise en by musiekfeeste op. As operasanger is hy veral bekend in die musiek van Monteverdi, Handel en Mozart. Dit sluit naas Belmonte rolle in soos Nerone in L’incoronazione di Poppeia, Jupiter in Semele, Massimo in Ezio, Vitaliano in Giustino, Arbace in Idomeneo, Don Ottavio in Don Giovanni, Don Basilio in Le nozze di Figaro, Alessandro in Il ré pastore, Belfiore in La finta giardiniera, Ferrando in Cosi fan tutte, Tamino in Die Zauberflöte, en die titelrolle in Orfeo en Idomeneo. Hy is ook begaafd as Fenton in Falstaff, en in komiese rolle soos die Markies in Zar und Zimmermann en Alfred in Die Fledermaus. As konsertsanger strek sy repertorium vanaf die Renaissance tot die laat twintigste eeu, met ‘n klem op die musiek van Monteverdi, Bach en Handel. Hy het al in verskeie TV- en radio-uitsendings in Europa en die VSA onder bekende dirigente soos John Eliot Gardiner, Christopher Hogwood, René Jacobs en Helmuth Rilling verskyn. In 2003 het hy in Jacobs se bekroonde opname van Le nozze di Figaro gesing. Verdere opnames: Monteverdi se Madrigale, Boek 8 (onder Jacobs).

Vänskä, Osmo (1953-), Finse dirigent. Hy het klarinet gespeel terwyl hy aan die Sibelius Akademie in Helsinki studeer het, waar hy in 1979 gegradueer het. In 1982 het hy die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen en daarna het hy wêreldwyd as gasdirigent begin optree. Vanaf 1988 was hy hoofdirigent van die Lahti Simfonie-orkes in Finland, met wie hy roem sou verwerf vir hul bekroonde opnames van Sibelius se volledige simfonieë en toondigte. Ter erkenning van sy werk met die orkes het die Finse president in 2000 die Pro Finlandia-medalje aan hom toegeken. Verder was hy musiekdirekteur van die BBC Skotse Simfonie-orkes (1996-2002), en hoofdirigent van die Tapiola Sinfonietta en die Yslandse Simfonie-orkes. Met sy BBC-orkes het hy ‘n opwindende siklus van Nielsen se volledige simfonieë opgeneem, en in sy dienstyd daar het hy ook bekendheid verwerf vir sy Beethoven-vertolkings. Hy het in 2001 ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Glasgow ontvang. Twee jaar later het hy musiekdirekteur van die Minnesota Simfonie-orkes in die VSA geword. Sleutelopnames: Beethoven se simfonieë nrs. 4 en 5 (Minnesota); Macmillan se The Confession of Isobel Gowdie, The Exorcism of Rio Sumpul en Tuireadh (BBC Skotse); Rautavaara se sewende simfonie en Cantus arcticus (Lahti); Sibelius se Vier Legendes, Belshazzar’s Feast, Jedermann, Kuolema, Valse triste, Kullervo Simfonie, en die geleentheidsmusiek vir The Tempest en Karelia (almal Lahti). Verdere opnames: Aho se simfonieë nrs. 1, 2, 7 en 11, asook Simfoniese Danse; Beethoven se simfonieë nrs. 2, 7 en 9; Kokkonen se Sinfonia da camera, tweede en vierde simfonieë; Macmillan se Paas-drieluik Triduum; Pacius se opera Die Loreley; en Rautavaara se agste simfonie.

Varady, Julia (1941-), Hongaars-gebore sopraan. Sy was aanvanklik verbonde aan operahuise in Cluj (1960-70) en Frankfurt (1970-2). Vanaf 1972 was sy ‘n lid van die Beierse Staatsopera in München, waar sy in 1978 die rol van Cordelia tydens die première van Reimann se opera Lear geskep het. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Edinburgh (1974) en Salzburg (1976), en later by die Metropolitan Opera (1978) en Covent Garden (1992). Sy was ‘n hoogs begaafde sangeres in Mozart en Richard Strauss se operas, in rolle soos Vitellia in La clemenza di Tito, Donna Elvira in Don Giovanni, Elettra in Idomeneo, die Komponis in Ariadne auf Naxos, die titelrol in Arabella, die Keiserin in Die Frau ohne Schatten en Dimut in Feuersnot. Ook was sy voortreflik as Elisetta in Il matrimonio segreto, Rachel in La juive, Santuzza in Cavalleria rusticana, Fidelia in Edgar, Leonora in Il Trovatore, Sieglinde in Die Walküre en in die titelrol van Olympie. Daarby blink sy met haar suiwer stem en stylvolle sang uit in konsertwerke en Duitse liedere. Sy was getroud met die groot bariton Dietrich Fischer-Dieskau, onder wie se dirigeerstaf sy in ‘n opname van Wagner se Wesendonk Lieder meesterlik gesing het. By die Salzburg-fees in 1987 het sy geskitter as Donna Elvira in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni, met ‘n DVD wat daarvan getuig. In 1992 het sy in ‘n uitvoering van Strauss se Vier letzte Lieder onder Kurt Masur by die Alte Oper in Frankfurt gesing, met ‘n DVD-opname wat insgelyks gemaak is. Terwyl sy op die kruin van haar lopbaan was, het sy in 1999 uitgetree – verdere aanduiding van haar grootsheid as musikus. Verdere opnames: Beethoven se Missa solemnis; Sjostakowitsj se veertiende simfonie (onder Haitink); liedere van Richard Strauss en Tsjaikofski; Zemlinsky se Liriese simfonie; die operette Die Fledermaus; die genoemde operas van Cimarosa, Halévy, Mascagni, Mozart, Puccini, Spontini, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook Lucio Silla; en versamelings arias van Puccini (onder Viotti), Strauss (onder Fischer-Dieskau) en Tsjaikofski (onder Kofman).

Varcoe, Stephen (1949-), Engelse bas-bariton. Hy het aan die Universiteit van Cambridge studeer, waar hy in die beroemde koor van King’s College gesing het. In 1977 het hy ‘n beurs van die Gulbenkian Stigting in Portugal gewen. Sedertdien tree hy wêreldwyd op in opera, konserte en liedere oor ‘n wye repertorium. By die Aldeburgh-fees het hy in 1992 tydens die première van Tavener se opera Mary of Egypt die rol van Zossima uitmuntend gesing. Onder sy verdere operarolle tel Demetrius in A Midsummer Night’s Dream, die Dood in Savitri, Plutone in Euridice, Aeneas in Dido and Aeneas en Salieri in Mozart en Salieri. In sy liedere-voordragte tree hy dikwels met die Songmakers’ Almanac of met die vermaarde Graham Johnson as klavierbegeleier op. Hy gee onderrig aan verskeie Britse universiteite en kolleges, insluitend meesterklasse in Engelse en Duitse liedere. Opnames: vele kantates van Bach en sy Magnificat, Mis in B mineur en Sint Johannespassie; Beethoven se Mis in C; Handel se Alexander’s Feast, Israel in Egypt, The Ways of Zion do mourn, Jephtha, The Triumph of Time and Truth en L’allegro, il penseroso, il moderato; Haydn se Misse nrs. 4, 8 en 10; Hummel se Mis in E mol; Musgrave se Four Portraits; liedere van Chabrier, Grainger, Hahn en Schubert; die genoemde werk van Tavener; Vivaldi se Gloria; en die operas Alessandro, Partenope en Dido and Aeneas.

Varnay, Astrid (1918-), Sweeds-gebore sopraan van Oostenryk-Hongaarse afkoms wat haar in die VSA gevestig het. Sy het in 1941 haar debuut by die Metropolitan Opera gemaak, toe sy ter elfder ure as plaasvervanger vir Lotte Lehmann die rol van Sieglinde in Die Walküre moes sing. ‘n Hoogstaande opname onder Erich Leinsdorf is van die geleentheid gemaak. Daarna sou sy tot 1956 aan die Met verbonde wees as die voorste sopraan in die dramatiese rolle van Wagner en Richard Strauss. Sy het dikwels teenoor die vermaarde bas-bariton Hans Hotter in Wagner-operas gesing. Dit sluit ‘n historiese 1950-opname van Der fliegende Holländer onder Fritz Reiner by die Met in. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1948), en by die feeste in Bayreuth (1951) en Salzburg (1964). By Bayreuth het sy in 1955 weereens geskitter as Senta, met ‘n opname onder Joseph Keilberth wat daarvan getuig. Later in haar loopbaan het sy mezzo-rolle gesing, soos Jocasta in Oedipus der Tyrann, Klytemnästra in Elektra en Kostelnicka in Jenufa. Verdere opnames: die genoemde operas van Orff en Strauss, asook Andrea Chenier (as die Grafin), Cavalleria rusticana en Tannhäuser (as Venus).

Varsovia Klaviertrio, Poolse ensemble wat in 2004 gestig is. Hul bestaan uit graduandi van die Chopin Musiakakademie in Warskou. Die trio tree wyd deur Europa op, veral in kamerwerke van Chopin, Panufnik en ander Poolse komponiste. In die somer van 2009 het hul uitvoerings in sentrums soos Belfast, Helsinki, Minsk en Marienbad gegee. Laasgenoemde was tydens die 50ste internasionale Chopin-fees. Onder hul opnames tel kamerwerke van minder bekende Poolse komponiste.

Vartolo, Sergio (?-), Italiaanse orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy het musiek, orrel en klawesimbel aan die konserwatorium en die universiteit in Bologna studeer, en aan laasgenoemde gegradueer. Sedertdien tree hy wyd deur Europa as instrumentalis, dirigent, verhoogdirekteur en sanger op. Hy doseer tans klawesimbel aan die Mantua Konserwatorium en is sedert 1996 kapelmeester by die Basilika van San Petronio in Bologna. Dié instelling is in 1436 deur ‘n pouslike bul gestig en word as een van die mees produktiewe sentrums in die musiekgeskiedenis beskou. Hy het die Cappella Musicale di San Petronio di Bologna in ‘n hele aantal hoogstaande opnames gedirigeer. Daaronder tel drie versamelings getitled Lamenti Barocchi, met gewyde werke van vroeë Barok-komponiste soos Monteverdi, Rossi en Strozzi. Van sy ander opnames het gesogte toekennings soos die Preis der Deutschen Schallplattenkritik, Choc en Diapason d’Or verwerf. Verdere opnames (as dirigent): madrigale van Luzzaschi; Monteverdi se Scherzi musicale a tre voci, en sy opera-ballette Il ballo delle ingrate en Il combattimento di Tancredi e Clorinda; misse van Palestrina, waaronder Missa de Beata Virgine; Vecchi se L’amfiparnaso; (en as solis:) solowerke vir klawesimbel en orrel van Frescobaldi; en klawerbordwerke van Trabaci (met Andrew Lawrence-King as harpspeler).

Varviso, Silvio (1924-), Switserse dirigent. Hy het in 1944 sy debuut in Saint Galle met Die Zauberflöte gemaak. Vanaf 1950 was hy aan die Basel Opera verbonde, waar hy vir 'n aantal jare (1956-62) musiekdirekteur sou wees. In 1961 het hy in San Francisco die Amerikaanse première van A Midsummer Night’s Dream gedirigeer. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1961) en Covent Garden (1962). As begaafde operadirigent het hy gedebuteer by die feeste in Glyndebourne (1962) en Salzburg (1979), en het hy voorts opgetree by die Bayreuth-fees (1969-74). Hy was hoofdirigent van die Koninklike Opera in Stockholm (1965-71), en musiekdirekteur van die Württemberg Staatsopera in Stuttgart (1972-8) en die Parys Opera (1980-5). Met die Dresden Staatsorkes het hy in 1975 hoogstaande opnames van ‘n aantal Wagner-ouvertures gemaak. Verdere opnames: die operas Manon Lescaut, Il barbiere di Siviglia, L'italiana in Algeri en Der Rosenkavalier.

Vásáry, Tamás (1933-), Hongaarse pianis en dirigent. Hy het in Boedapest studeer en as agtjarige sy openbare debuut in dié stad gemaak. In 1956 het hy sy geboorteland verlaat, en in dieselfde jaar die internasionale kompetisies in Brussels en Rio de Janeiro gewen. Twee jaar later het hy hom in Switserland gevestig, met verdere debute wat sou volg in Londen (1961), New York (1962) en by die Salzburg-fees (1970). In 1970 het sy dirigeerdebuut plaasgevind, en later was hy mededirigent van die Noordelike Sinfonia (1979-82) en hoofdirigent van die Bournemouth Sinfonietta (1989-91). Met laasgenoemde ensemble het hy ‘n hoogstaande opname van orkeswerke deur Respighi gemaak. Sedert 1993 is hy musiekdirekteur van die Boedapest Simfonie-orkes. As pianis is hy wêreldbekend in die Romantiese repertorium. Opnames: klavierkonserte van Chopin, Liszt en Mozart; Brahms se volledige klavierkwartette en -trios; en solowerke van Brahms, Chopin, Debussy en Liszt.

Veasey, Josephine (1930-), Engelse mezzosopraan. Nadat sy in 1955 haar debuut by Covent Garden as die Skaapwagterseun in Tannhäuser gemaak het, sou sy tot haar uittrede in 1982 aan dié operahuis verbonde wees. Daar het sy nie minder nie as 780 verskynings in sestig rolle gemaak. Sy het ook gesing by die Glyndebourne-fees (1957-69) en die Metropolitan Opera (vanaf 1968). Haar bekendheid het veral in die musiek van Berlioz gelê. Ondert haar beste rolle het getel Agnese in Beatrice di Tendi, Adalgisa in Norma, Ursule in Béatrice et Bénédict, Dido in Les Troyens, Hermia in A Midsummer Night's Dream, en Fricka in Das Rheingold en Die Walküre. Sy het laasgenoemde gesing in Herbert von Karajan se uitstekende opnames van die Ring-siklus. In 1983/4 het sy by die Koninklike Musiekakadamie onderrig gegee, en sedert 1984 is sy ‘n sangkonsultant by die Engelse Nasionale Opera. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Leinsdorf); Berlioz se La damnation de Faust (as Marguérite) en La captive; Verdi se Requiem (onder Bernstein); en die genoemde operas van Bellini, Berlioz en Britten.

Végh, Sándor (1905-97), Hongaars-gebore violis en dirigent. Hy het onder sy komponis-landgenote Bartók en Kodály studeer en in 1927 in ‘n konsert onder Richard Strauss gespeel. Vier jaar later het hy die Hongaarse Trio gestig, en vanaf 1935 was hy vir vyf jaar ‘n lid van die Hongaarse Kwartet. Vanaf 1940 was hy ‘n hoogleraar in viool aan die Boedapest Konserwatorium, en ses jaar later het hy na Switserland geëmigreer. In 1953 het hy ‘n Franse burger geword. Vervolgens was hy ‘n leermeester in Zermatt (1952-62), Basel (1953-63), Fribourg (1954-62), Düsseldorf (1962-79) en Salzburg (vanaf 1971), en het ook meesterklasse oor televisie aangebied. By die Prades-fees het hy vanaf 1953 tot 1969 met die groot tjellis Pablo Casals opgetree, en in 1972 het hy ‘n internasionale seminaar in Cornwall gestig. Hy het in die jaar daarop by die Salzburg-fees gedebuteer. As dirigent was hy direkteur van die Végh Kamerorkes (1968-71), die Marlboro-feesorkes (1974-7) en die Mozarteum Camerata in Salzburg (vanaf 1979). Met laasgenoemde ensemble het hy hoogstaande opnames van Mozart se laaste twee simfonieë en van sy ander orkeswerke gemaak, en met die violis Albert Lysy van Bartók se 44 Duos.

Végh Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1940 deur die violis Sándor Végh gestig is. Hy sou die kwartet vir veertig jaar lank lei. Hulle het in die 1970’s hoogaangeskrewe opnames van Bartók en Beethoven se volledige strykkwartette gemaak, gekenmerk deur gevoelvolheid en elegansie. Sleutelopnames: Beethoven se volledige strykkwartette. Verdere opnames: Schumann se klavierkwintet nr. 2 (met Rudolf Serkin).

Vermillion, Iris (?-), Duitse mezzosopraan. Aanvanklik het sy fluit in Detmold studeer voordat sy na sang oorgeslaan het. Dit het aan die Hamburg Konserwatorium geskied, terwyl meesterklasse onder groot sangers soos Christa Ludwig en Hermann Prey geneem is. Sy het bekendheid verwerf in rolle van Mozart en Richard Strauss soos Dorabella in Cosi fan tutte, Cherubino in Le nozze di Figaro, Sesto in La clemenza di Tito, die Komponis in Ariadne auf Naxos, Clairon in Capriccio en Octavian in Der Rosenkavalier. Daarby blink sy met haar ferm stem uit in Wagner-rolle soos Mary in Der fliegende Holländer, Magdalene in Die Meistersinger von Nürnberg, Fricka in Das Rheingold en Die Walküre, Waltraute in Götterdämmerung en Brangäne in Tristan und Isolde. Onder haar verdere rolle tel die Keiser in Cleopatre e Cesare. Sedert 1992 is sy ‘n vryskutsangeres. As konsertsangeres tree sy wêreldwyd onder bekende dirigente op en is sy veral begaafd in die musiek van Mahler. Opnames: Koechlin se 3 Songs, opus 18 (onder Zinman); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Sinopoli); die genoemde opera van Graun, asook Die Meistersinger von Nürnberg, Der fliegende Holländer en Eine florentinische Tragödie.

Verrett, Shirley (1931-2010), Afro-Amerikaanse mezzosopraan. Haar ouers was Sewendedag Adventiste en gekant teen ‘n operaloopbaan, wat as sedeloos beskou is. Sy het nietemin in 1957 in Yellow Springs, Ohio gedebuteer in die titelrol van The Rape of Lucretia. In die jaar daarop het sy by die New York Stadsopera begin sing. Daarna het sy internasionaal opgetree, met debute wat gemaak is in Keulen (1959), by Covent Garden (1966) en die Metropolitan Opera (1968). Met die opening van die Bastille Opera in Parys in 1990 het sy die rol van Dido in Les Troyens gesing. Met haar ferm, sensitiewe stem was sy bekend in die operas van Verdi, onder andere as Ulrica in Un ballo in maschera, Eboli in Don Carlo, Preziosilla in La forza del destino, Federica in Luisa Miller, Dame Macbeth in Macbeth en Azucena in Il Trovatore. Verder was sy begaafd in rolle soos Jane Seymour in Anna Bolena, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Neocle in L'assedio di Corinto, die vroulike hoofrol in Samson et Dalila en die titelrol in Carmen, en in Duitse konsertmusiek. Later in haar loopbaan het sy ook sopraanrolle soos die titelrolle in Norma, Tosca en Aida gesing. Sy het aan ‘n hartaanval beswyk. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Josef Krips); en die genoemde operas van Donizetti, Gluck, Rossini, Saint-Saëns en Verdi.

Vickers, Jon (1926-), Kanadese tenoor. Hy het in Toronto studeer en in 1952 sy operadebuut in dié stad gemaak, as die Hertog in Rigoletto. Vier jaar later het hy by die Stratford-fees in Ontario as Don José in Carmen verskyn. In 1957 is sy internasionale deurbraak gemaak met ‘n optrede by Covent Garden as Aeneas in Les Troyens. Hy sou tot 1984 gereeld by dié operahuis sing. In 1958 het hy by die Bayreuth-fees gedebuteer as Siegmund in Die Walküre, waarna hy wêreldroem as een van die grootste heldentenors van die twintigste eeu sou verwerf. Verdere debute het gevolg in San Francisco (1959), by die Metropolitan Opera (1960), La Scala (1961) en die Salzburg-fees (1966). Met sy kragtige, suiwer stem en sterk verhoogpersoonlikheid was hy uitmuntend in die operas van Verdi en Wagner, veral in die titelrolle van Don Carlos en Otello, as Radames in Aida, Gustavo in Un ballo in maschera, die titelrol in Parsifal, Siegmund in Die Walküre en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. Hy het in 1970 in Herbert von Karajan se rolprentweergawe van Otello die titelrol gesing. Verder was hy begaafd as Florestan in Fidelio, Pollione in Norma, Simson in Samson et Dalila, en die titelrolle in Benvenuto Cellini en Peter Grimes. Hy het in 1988 uitgetree en in Bermuda gaan woon, maar tree steeds as verteller in konserte op.

Vickers het deurgaans rolle vermy wat nie by sy stem sou pas nie, sodat hy nie so beroemd onder die publiek geword het soos die ander groot heldentenor Plácido Domingo nie. Interessant genoeg wou hy nie die titelrol in Tannhäuser sing nie, omdat dit volgens hom ‘n te onsedelike karakter uitbeeld. As volslae indiwidualis was hy in die musiekwêreld bekend vir sy hardkoppigheid, en vir sy uitbarstings en toesprake tydens inoefeninge. Sy gunsteling-dirigent was Herbert von Karajan, met wie hy die meeste van sy opera-opnames gemaak het, maar met Georg Solti kon hy nie oor die weg kon kom nie. Hulle het gebots toe Solti hom by Covent Garden wou voorskryf hoe om die rol van Siegmund te sing, nadat hy dit alreeds dikwels onder ander groot Wagner-dirigente gesing het. Ook by die Met hy hy geweier om die rol van Peter Grimes onder Solti te sing, sodat ‘n ander dirigent vir die betrokke opvoering verkry moes word. Hy was van mening dat musiek wesenlik te make het met liefde, skoonheid en waarheid, sodat dit nie verbasend is dat hy ook in gewyde werke uitgeblink het nie. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Monteux); Britten se Hymn to St Cecilia; Handel se Messiah (onder Beecham); Saint-Saëns se Mis vir vier stemme; die genoemde operas van Beethoven, Bellini, Berlioz, Bizet, Britten, Saint-Saëns, Verdi en Wagner, asook I vespri siciliani.

Vignoles, Roger (1945-), Engelse pianis en dirigent. Nadat hy in 1967 in Londen gedebuteer het, was hy ‘n repetiteur by Covent Garden (1969-71) en die Engelse Operagroep (1968-74). Daarna was hy ‘n hoogleraar in begeleiding aan die Koninklike Musiekkollege (1974-81). Hy tree as klavierbegeleier vir bekende sangers op, onder andere Elisabeth Söderström, Sarah Walker, John Mark Ainsley, Thomas Allen, Joan Rodgers, Bernarda Fink, Monica Groop, Susan Graham, Miah Persson, Elizabeth Watts, Christine Brewer en Stephan Genz. Dit sluit 'n hele aantal van hul liedere-opnames in. In 1984 is sy debuut by die Salzburg-fees in ‘n uitvoering met die tjellis Heinrich Schiff gemaak. Sedert 1992 dirigeer hy opera, met ‘n debuut daarin by die Buxton-fees. Met die klarinettis Janet Hilton en die altviolis Nobuko Imai het hy in 'n hoogstaande opname van Mozart se Kegelstatt Trio gespeel.

Villazon, Rolando (1972-), Meksikaanse tenoor. Hy het aan 'n musiekakademie in Meksikostad studeer en in 1999 'n tweede prys in Placido Domingo se Operalia-kompetisie gewen. In dieselfde jaar het hy in Genoa gedebuteer as Des Grieux in Manon. Sy debuut by die Berlynse Staatsopera is in 2000 gemaak as Macduff in Macbeth. Sedertdien tree hy wêreldwyd by van die voorste operahuise op, insluitend die Weense Staatsopera, Covent Garden en die Metropolitan Opera, asook die musiekfeeste in Salzburg en Glyndebourne. Hy het in 2007 in Parys gaan woon en later 'n Franse burger geword. In 2009 moes hy 'n operasie ondergaan om 'n groeisel uit een van sy stembande te verwyder. Met sy kragtige dog gevolvolle sang is hy een van die beste sangers van sy tyd in rolle soos José in Carmen, Nemorino in L'elisir d'amore, Rodolfo in La Bohème, Alfredo in La Traviata, en die titelrol in Les Contes d'Hoffmann. Opnames: 'n versameling arias uit Handel-operas (onder Paul McCreesh); 'n versameling Franse arias uit operas van Gounod en Massenet (onder Evelino Pido); 'n versameling duette met Anna Netrebko (onder Nicola Luisotti); en 'n versameling Italiaanse opera-arias (onder Marcello Viotti).

Vinay, Ramón (1912-96), Chileense tenoor. Hy het aanvanklik as bariton in Meksikostad studeer, waar hy in 1931 sy debuut as Alphonse in La Favorita gemaak het. Twaalf jaar later het hy in die Meksikaanse hoofstad sy debuut as tenoor gemaak, as Don José in Carmen. Na die oorlog het debute gevolg in New York (1945), by die Metropolitan Opera (1946), La Scala (1947), Covent Garden (1950), en die feeste in Salzburg (1951) en Bayreuth (1952). Hy was bekend in swaarder operarolle, veral in die titelrolle van Otello (waarin hy deur Toscanini afgerig is), Parsifal en Tannhäuser, Siegmund in Die Walküre, en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. By Salzburg het hy in 1951 ‘n kragtoer gelewer as Otello in ‘n opname onder Wilhelm Furtwängler. Vanaf 1962 het hy weer bariton gesing, onder andere as Telramund in Lohengrin, Iago in Otello, die titelrol in Falstaff en Scarpia in Tosca. Daarbenewens het hy tot 1972 soms as opera-regisseur opgetree. Verdere opnames: Otello (onder Toscanini en Kubelik), Die Walküre, Parsifal, Tannhäuser en Tristan und Isolde.

Vines, Ricardo (1875-1943), Spaanse pianis. Ná studies in Barcelona en Parys het hy hom in die Franse hoofstad gevestig, waar hy ‘n leermeester van die komponis Poulenc sou wees. Hy het die eerste uitvoerings van verskeie werke deur Debussy en Messiaen gegee, asook vroeë uitvoerings van werke deur Ravel en Falla. Verder het hy heelwat Russiese klaviermusiek, waaronder Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling, in Frankryk bekendgestel.

Vinzing, Ute (1936-), Duitse sopraan. Sy was 'n student van die gevierde sangeres Marta Mödl en haar debuut is in 1958 in Lübeck gemaak, in Smetana se opera Marenka. Vanaf 1971 tot 1976 was 'n lid van die Wuppertal Opera. Haar bekendheid het merendeels in die swaarder rolle van Beethoven, Verdi, Richard Strauss en Wagner gelê. Daaronder tel Leonora in Fidelio, beide Kundry en Isolde in Tristan und Isolde, Brünnhilde in die Ring-siklus, Dyer se Vrou in Die Frau ohne Schatten en die titelrol in Elektra. Haar debuut by die Metropolitan Opera in New York is in 1984 as Elektra gemaak en vyf jaar later het sy Brünnhilde gesing tydens 'n besoek van die Berlynse Opera aan Washington. Sy het in Wolfgang Sawallisch se puik opname van Die Frau ohne Schatten gesing, asook in 'n opname van uittreksels uit Götterdämmerung onder Carlos Paita.

Viotti, Marcello (1954-2005), Switserse dirigent van Italiaanse afkoms. Hy het klavier, tjello en sang aan die Lausanne Konserwatorium studeer, en sy dirigeerdebuut is in Genève gemaak met ‘n houtblasersensemble wat hy gestig het. Nadat hy in 1982 die Marinuzzi-dirigeerkompetisie in Italië gewen het, het hy hoofdirigent van die Turynse Opera geword. ‘n Verdere deurbraak is gemaak toe hy in 1990 vir Riccardo Muti by die Berlynse Filharmoniese Orkes moes instaan. Hy was voorts artistieke direkteur van teaters in Saarbrücken en Luzern, en het wyd deur Europa as gasdirigent verskyn. In 1998 het hy hoofdirigent van die Beierse Radio-orkes in München geword, waar hy in 2004 bedank het uit protes teen planne om die orkes te ontbind. Sy debuut by die Metropolitan Opera in New York is in 2000 met Madame Butterfly gemaak. Hy is in 2002 as musiekdirekteur van die Teatro La Fenice in Venesië aangestel, waar hy toesig gehou het oor die restourasie van die operahuis wat in 1996 deur ‘n brand verwoes is. By die Zürich Opera het hy in 2001 ‘n opvoering van Bellini se Beatrice di Tenda met Edita Gruberová in die titelrol gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. As kampvegter vir die musiek van Massenet was hy besig met inoefeninge vir Manon met sy München-orkes toe hy ‘n beroerte gekry het, wat hy nie sou oorleef nie. Sleutelopname: Ponchielli se opera La Gioconda (München 2002). Verdere opnames: die operas Maria Stuarda en La Sonnambula.

Vlach Kwartet, Tsjeggiese strykkwartet wat in 1982 gestig is. In die jaar daarop het hul ‘n Tsjeggiese kompetisie gewen en in 1985 ‘n internasionale kompetisie in Portsmouth, Engeland. Hulle is in 1988 genooi om meesterklasse van die beroemde Melos Kwartet in Switserland te ontvang. Vier jaar later het hul meesterklasse van vooraanstaande leermeesters in München, Berlyn en Detmold ontvang ten einde hul vertolkings van die Duitse repertorium te versterk. In 1995 is die kwartet deur die Naxos-maatskappy genooi om die volledige kamerwerke van Dvorák op te neem, ‘n projek wat betyds vir die honderdjarige herdenking van die komponis se dood in 2004 voltooi is. Die lede van die ensemble is almal aktiewe soliste en ook lede van die Tsjeggiese Kamerorkes. Hul tree wyd deur Europa op, asook in Japan, Nieu-Seeland en Japan. In 2000 het hulle meesterklasse in Ingesund, Swede aangebied. Sleutelopnames: Dvorák se strykkwartette nrs. 10, 12, 13 en 14, asook sy Strykkwintette in A mineur en E mol (met L. Kyselac). Verdere opnames: Dvorák se strykkwartette nrs. 5, 7, 8, 9 en 11, en sy Terzetto vir 2 viole en altviool; en Janácek se 2 strykkwartette.

Vogel, Jaroslaf (1894-1970), Tsjeggiese dirigent en komponis. Hy het opera gedirigeer in Pizen (1914/5), Ostrawa (1919-23) en Praag (1923-7). In het hy 1927 na die Ostrawa Opera teruggekeer as hoofdirigent, ‘n pos wat hy tot 1943 sou beklee. Daar het hy bekendheid verwerf vir sy opvoerings van operas deur Smetana, Janácek en Novák. Hy was daarna dirigent van die Praag Nasionale Teater (1949-58) en hoofdirigent van die Brno Staatsfilharmoniese Orkes (1959-62). In 1952 het hy die eerste volledige opname van ‘n Janácek-opera (Jenufa) gedirigeer, en ses jaar later het hy ‘n boek oor dié komponis gepubliseer. Hy het self vier operas gekomponeer.

Vogt, Lars (1970-), Duitse pianis. Hy het in Aachen en Hannover studeer, en het in 1990 ‘n tweede prys in die internasionale Leeds-kompetisie gewen. Sedertdien toer hy wêreldwyd en speel hy as solis met van die voorste orkeste en dirigente. Daarby speel hy in kamermusiek met bekende musici soos Sarah Chang, Christian Tetzlaff en Truls Mork. Hy is in 2003 as die eerste residensiële pianis van die Berlynse Filharmoniese Orkes aangewys, ‘n pos wat spesiaal vir hom deur hul hoofdirigent Simon Rattle geskep is. Sleutelopnames: Brahms se 3 Intermezzi opus 117, 6 Stukke opus 118 en 4 Stukke opus 119. Verdere opnames: Grieg en Schumann se klavierkonserte (beide onder Rattle).

Von der Goltz, Gottfried (1964-), Duitse violis en dirigent. Nadat hy aanvanklik onder sy vader en in Hannover studeer het, is hy na New York vir studies aan die Juilliard Musiekskool. Terug in Duitsland het hy onder Rainer Kussmaul in Freiburg studeer, waarna hy as violis in die Noord-Duitse Radio Simfonie-orkes begin speel het. Hy het in 1985 na die Barokviool oorgeslaan en by die Freiburg Barokorkes aangesluit. Weldra het hy hul artistieke direkteur en dirigent geword, en saam het hul roem verwerf met meesterlike uitvoerings en opnames van Barokwerke op eietydse instrumente. Daarby is hy sedert 1997 ‘n hoogleraar in Barokviool aan die Würzburg Konserwatorium. Sleutelopnames: Bach se volledige Brandenburgkonserte (op DVD); ‘n versameling konserte van Vivaldi vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente. Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 82 en 199 (met Emma Kirkby), en Dubbelkonsert vir hobo en viool (met Katherina Arften); Handel se Concerto grosso in G mineur; Purcell se Dioclesian ouverture en uittreksels; en Vivaldi se Vier Seisoene.

Von Dohnányi, Christoph (1929-), Duitse dirigent, ‘n kleinseun van die pianis en komponis Ernö Dohnányi (ook bekend as Ernst von Dohnányi). Hy was vanaf 1954 ‘n assistent vir Georg Solti by die Frankfurt Opera. Daarna was hy algemene musiekdirekteur in Lübeck (1957-63), Kassel (1963-6), Frankfurt (1968-77) en Hamburg (1977-84). Intussen het debute plaasgevind by die Salzburg-fees (1962), in Londen (1965), Chicago (1969), die Metropolitan Opera (1972) en Covent Garden (1974). Hy sou oor die volgende dekades ‘n gereelde en gewilde besoeker aan Covent Garden word. Vanaf 1964 was hy vir ses jaar hoofdirigent van die Wes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Berlyn, waar hy in 1965 die première van Henze se opera Der junge Lord gedirigeer het. By die Salzburg-fees het hy in 1966 die première van Henze se opera Die Bassariden gedirigeer, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. In 1984 is hy na die VSA, waar hy tot 2002 musiekdirekteur van die Cleveland Orkes sou wees. Hy het die orkes opgebou tot die besonder hoë vlak van presisie en helderheid van spel wat hulle onder Georg Szell geniet het. By die Weense Staatsopera het hy in 1991 ‘n opname van Der fliegende Holländer gedirigeer wat deur sommige kenners as die beste van dié werk beskou word. In 1992/3 het hy die Ring-siklus in Wenen gedirigeer en sedert 1997 is hy hoofdirigent van die Philharmonia Orkes in Londen. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Mendelssohn en Schumann, en ‘n aantal van Bruckner, Dvorák, Ives en Mahler; ander orkeswerke van Bartók, Birwistle, Janácek, Lutoslafski, Martinu en Varèse; die operas Fidelio (op DVD), Wozzeck, Der junge Lord en Salome; en Schoenberg se monodrama Erwartung.

Voigt, Deborah (1960-), Amerikaanse sopraan. Sy het aan die Kaliforniese Staatsuniversiteit in Fullerton studeer en aan die San Francisco Opera se program vir jong kunstenaars deelgeneem. In 1988 het sy die Pavarotti-sangkompetisie gewen en twee jaar later die goue medalje in die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou. Haar deurbraak is gemaak toe sy die titelrol in Ariadne auf Naxos in Boston gesing het. In 1991 het sy as Amelia in Un ballo in maschera by die Metropolitan Opera gedebuteer. Sedertdien het sy met haar kragtige, helder sang en briljante karakterisering wêreldbekend geraak in die operas van Richard Strauss, Verdi en Wagner, sodat sy deur sommige kenners as die voorste lewende vertolker van hul heldinrolle beskou word. Dit behels verder die titelrolle in Die ägyptische Helena, Die Frau ohne Schatten, Salome en Aida, asook Chrysothemis in Elektra, Leonora in beide La forza del destino en Il Trovatore, Senta in Der fliegende Holländer, Elsa in Lohengrin, Elisabeth in Tannhäuser, Sieglinde in Die Walküre, en die vroulike hoofrolle in Macbeth en Tristan und Isolde. Sy het in 2000 teenoor Placido Domingo gesing in ‘n bekroonde opname van liefdesduette uit Siegfried en Tristan und Isolde. Die Franse regering het in 2002 die land se hoogste kunstetoekenning, die Chevalier de l’Ordres et des Lettres, aan haar toegeken. Tydens die opening van die Weense Staatsopera se 2003-seisoen het sy ‘n toegif van 23 minute lank vir haar vertolking van Isolde ontvang. Sedert 2010 blink sy ook uit as Brünnhilde in die Ring-siklusse by die Met. Onder haar verdere rolle tel Cassandra in Les Troyens. Opnames: Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Sinopoli) en kantate Frühlingsbegräbnis (onder Conlon); en die operas Les Troyens, Die ägyptische Helena, Ariadne auf Naxos, Elektra, Der fliegende Holländer en Tristan und Isolde.

Vonk, Hans (1941-2004), Nederlandse dirigent. Hy het in 1964 aan die Amsterdamse Konserwatorium gegradueer, waarna hy ‘n assistent-dirigent was by die Nederlandse Nasionale Ballet (1966-73) en die Concertgebouw Orkes (1969-72). Debute is gemaak by die Nederlandse Opera (1971), in Londen en die VSA (beide in 1974), en by La Scala (1980). Hy was musiekdirekteur van die Nederlandse Opera (1976-85) en dirigent van die Residentie Orkes in Den Haag (1980-85). In 1985 is hy na Duitsland, waar hy vir ses jaar hoofdirigent van die Dresden Staatsopera en Staatsorkes sou wees. Hy het in 1987 by die Salzburg-fees gedebuteer en vanaf 1991 was hy hoofdirigent van die Keulen Radio Simfonie-orkes. As gasdirigent het hy met van die voorste orkeste in die VSA opgetree, en in 1996 het hy musiekdirekteur van die Sint Louis Simfonie-orkes in dié land geword. Hy is weens ‘n siekte wat sy hande en voete verlam het, gedwing om ses jaar later uit die pos te bedank. Uiteindelik het hy in sy geboortestad Amsterdam aan dié seldsame siekte beswyk. Opnames: orkesliedere van Diepenbrock; en ‘n versameling ouvertures van Mozart.

Von Karajan, Herbert (1908-89), Oostenrykse dirigent, stellig die beroemdste dirigent nóg. Hy is soos die musiekreus Mozart in Salzburg gebore en was gedeeltelik van Griekse afkoms - een van sy voorsate aan vaderskant was Karayannis, voordat hy deur die Keurvors van Sakse tot die adelstand verhef is. Vanaf ‘n besonder jong ouderdom is hy deur sy vader, ‘n sjirurg en amateurmusikus, aangemoedig. Só het hy as vierjarige begin om klavierlesse te ontvang en in die jaar daarop is sy eerste openbare uitvoering by ‘n liefdadigheidskonsert gegee. As tiener het hy aan die beroemde Mozarteum in sy geboortestad onder Franz Ledwinka, Franz Sauer en Bernhard Paumgartner studeer. Laasgenoemde het hom aangemoedig om as dirigent opgelei te word. Vanaf 1920, terwyl hy nog ‘n student was, het hy by die Salzburg-fees in kore gesing. Daarna (1926-29) het hy aan die Weense Musiekakademie studeer terwyl hy gedurende die somers as afrigter by die Salzburg-fees gewerk het. Vroeg in 1929 is sy dirigeerdebuut met die orkes van die Mozarteum gemaak in werke van Richard Strauss en Tsjaikofski. Daarop is hy na die Beierse dorp Ulm as dirigent van die staatsteater, waar hy sy debuut met Le nozze di Figaro gemaak het. Hy het die pos vir vyf jaar beklee, terwyl hy voortgegaan het om tydens somermaande in Salzburg te werk en onderrig by die Mozarteum te gee. In 1933 het hy die Weense Simfonie-orkes vir die eerste keer gedirigeer en ook sy konsertdebuut by die Salzburg-fees gemaak.

Karajan is in 1934 as dirigent van die Aachen Staatsteater aangestel, waar hy met Fidelio gedebuteer het. Aan die einde van sy eerste seisoen daar is hy as musiekdirekteur aangestel, op 26 die jongste in Duitsland. Ook in 1934 het hy die Weense Filharmoniese Orkes vir die eerste keer gedirigeer. Hy het in 1935 as vereiste vir sy pos in Aachen by die Nasionaal-Sosialistiese party aangesluit, waarvoor hy vir die res van sy lewe deur kritici verkwalik sou word. In dié stad het hy begin om koorwerke met die koormeester Wilhelm Pitz uit te voer en in 1937 is hy deur Bruno Walter genooi om Tristan und Isolde by die Weense Staatsopera te dirigeer sonder enige inoefening. Dit was só ‘n klinkende sukses dat hy dadelik ‘n dirigeerpos by dié beroemde operahuis onder Walter aangebied is, maar hy het verkies om in Aachen te bly ten einde homself verder te ontwikkel. Daar het hy in dieselfde jaar (1937) Wagner se epiese Ring-siklus vir die eerste keer gedirigeer. Hy het in 1938 sy debuut met die Berlynse Filharmoniese Orkes gemaak en dadelik aan die orkes geheg geraak. Sy eerste opname is ook in 1938 gemaak en in dieselfde jaar het hy ‘n dirigent by die Berlynse Staatsopera geword. Daar het hy vooroorlogse opvoerings van Fidelio en Tristan und Isolde gedirigeer wat hoë lof ingeoes het. Dit het die vermaarde Italiaanse dirigent Victor de Sabata laat voorspel dat Karajan vir die volgende halfeeu die wêreld se musiekdenke sou oorheers - inderdaad ‘n akkurate profesie.

In 1939 het Karajan die opera Elektra in Berlyn gedirigeer vir Richard Strauss se vyf-en-sewentigste verjaarsdagviering, waarna hy deur die komponis gelukgewens is. Twee jaar later het hy musiekdirekteur van die Berlynse Staatsopera geword, nadat hy van sy pos in Aachen onthef is. Ongelukkig het die media se lof vir Karajan tot gevolg gehad dat die mees senior dirigent in die Derde Ryk, Wilhelm Furtwängler, ‘n jaloesie teenoor sy jonger kollega ontwikkel het. Só het hy Karajan vanaf 1941 verban van beide die Berlynse Filharmonie en die Staatsopera, en ná die oorlog ook van die Weense Filharmoniese Orkes en die Salzburg-fees. Met die Concertgebouw Orkes van Amsterdam het Karajan in 1943 sy eerste opname van Brahms se eerste simfonie gemaak. Gedurende die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog het hy en sy vrou in Italië gaan skuil, waar hulle vir twee jaar lank in uiterste armoede geleef het. Met kenmerkende wilskrag en toewyding het hy die tyd daar verwyl deur Italiaans aan te leer, wat hom later goed te pas sou kom in Italiaanse opera by La Scala en elders.

Ná die oorlog is Karajan vanweë sy Nasionaal-Sosialistiese verbintenis vir twee jaar deur die Geallieerdes verbied om te dirigeer, ten spyte van die feit dat sy tweede vrou van Joodse afkoms was. Ook het hy tydens die oorlog gewyde werke van onder andere Bach en Brahms gedirigeer, waardeur hy hom die gramskap van die Nazi-owerhede op die hals gehaal het. In 1946 is die Karajan-egpaar na Trieste, waar hy ‘n paar konserte gedirigeer het, en van daar na Wenen. Ná slegs een konsert in die Oostenrykse hoofstad is hy op Sowjet-aandrang verbied om verder op te tree en het hy nogeens die tyd met studies en leeswerk verwyl. In 1947 is hy deur die opname-regisseur Walter Legge, wat ‘n goeie vriend sou word, genooi om die pasgestigde Philharmonia Orkes in Londen te dirigeer. Hy sou hulle gereeld tot 1955 dirigeer, tot ‘n hoë vlak van voortreflikheid oplei en talle klassieke opnames met hulle maak. Dit sluit weergawes van Sibelius se simfonieë nrs. 4 en 5 en Finlandia in wat die bejaarde Finse komponis se goedkeuring weggedra het. Sy eerste siklus van Beethoven se 9 simfonieë is in die vroeë 1950’s met die Londense orkes gemaak, waarvan nr. 9 in Wenen opgeneem is. In byna al sy opera-opnames met die Philharmonia het die beroemde sopraan Elizabeth Schwarzkopf in hoofrolle gesing.

Karajan se operadebuut by die Salzburg-fees is in 1948 gemaak met Orfeo ed Euridice en vanaf dieselfde jaar tot 1958 was hy dirigent van die Weense Simfonie-orkes. Ook dié ensemble het hy tot so ‘n hoë standaard opgebou het dat hulle met die Weense Filharmonie onder Furtwängler kon meeding. Vanaf 1949 het die jong meester gereeld by La Scala opgetree, waar hy sy reputasie as ‘n briljante opera-dirigent verstewig het. Daar het hy gevierde opnames gedirigeer van Il trovatore en Madama Butterfly met Maria Callas in die vroulike hoofrolle. Daarby het hy in 1951/52 by die Bayreuth-fees heuglike opvoerings van die Ring-siklus, Tristan und Isolde en Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer. Van laasgenoemde twee operas is opnames gemaak wat die toets van die tyd sou deurstaan. Vanweë ‘n meningsverskil met die regisseur Wieland Wagner oor laasgenoemde se outomatiese verwerping van alles wat voorheen daar gedoen is, het hy egter nie na Bayreuth teruggekeer nie. Gedurende die laat 1940’s en vroeë 1950’s was hy ook artistieke direkteur van die Weense Sangvereniging, wat hy tot een van die beste kore in die wêreld opgelei het. Met hulle, die Weense Simfonie-orkes en ‘n aantal bekende sangers het hy in 1950 tydens die Weense Bach-fees ‘n uitstekende opname van die Barokreus se Sint Mattheüspassie gemaak, terwyl hy vanaf die klawesimbel gedirigeer het.

Karajan het Furtwängler vroeg in 1955 as hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes opgevolg, wat vir hom die verwesenliking van ‘n lang gekoesterde ideaal was. Hy het dié prestige-pos tot enkele maande voor sy dood meer as drie dekades later beklee, en deur sy talle opnames en internasionale toere met hulle ‘n ongeëwenaarde roem verwerf. Reeds in sy eerste jaar met die Berlynse orkes het hulle vir die eerste keer sedert die oorlog in die VSA gaan toer, te midde van gewelddadige betogings deur Joodse musici en andere. Tydens hul eerste ses jaar saam het hy talle nuwe spelers aangestel in die plek van ander wat afgetree het, en geleidelik het hulle die beroemde ‘Karajan-klank’ (gekenmerk deur lang, vloeiende lyne) aangeleer. Tot die laat 1960’s was hy besonder aktief op internasionale vlak, sodat daar grappenderwys na hom as Algemene Musiekdirekteur van die Wêreld verwys is. Van besondere belang was sy artistieke direkteurskap van die Weense Staatsopera (1957-64), wat hy met La Scala laat saamwerk het, en die Salzburg-fees (1964-88). Hy het in 1959 in Wenen sy derde Ring-siklus gedirigeer en in 1963 is die tweede opname (Walter Goehr s'n was eerste) van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea by die Weense Staatsopera gemaak. Vanaf 1965 het hy rolprente van konserte en operas met die Franse regisseur Henri-Georges Clouzot gemaak.

In 1967 het Karajan die Salzburg Paasmusiekfees gestig, waar sy liriese, delikate vertolkings van Wagner hoog aangeskryf is. Daar was hy ook die verhoog- en rolprentregisseur in sommige van sy opvoerings. Hy het in 1967/68 op uitnodiging van Rudolf Bing, algemene bestuurder van die Metropolitan Opera, onvergeetlike opvoerings van Die Walküre en Das Rheingold by die Met gedirigeer. Dit was deel van ‘n beplande Ring-siklus, maar ‘n staking deur die Met-orkes in 1969 het meegebring dat Karajan belangstelling in die projek verloor het. Met sy Berlynse orkes het hy in 1969 ‘n besoek aan Moskou en Leningrad (tans Sint Petersburg) gebring vir uitvoerings van Sjostakowitsj se tiende simfonie. Hy was ‘n komponis met wie Karajan homself tot ‘n hoë mate vereenselwig het en het self die uitvoerings bygewoon. Vanaf 1969 het hy vir twee jaar ook die Orchestre de Paris gedirigeer. Hy het sy vierde en laaste Ring-siklus vanaf 1967 tot 1970 in Salzburg gedirigeer.

Karajan het vanaf die 1970’s in konstante pyn verkeer vanweë verskuifde rugwerwels. Hy moes by vele geleenthede pynverdowers ontvang gedurende die pouses van sy konserte, maar het feitlik nooit daaroor gekla nie. In 1978 en 1987 het hy die Nuwejaarskonserte in Wenen gedirigeer, met beeldopnames wat van beide gemaak is. Sy enigste beeldopname van ‘n Wagner-opera, Das Rheingold, is in 1973/78 met die Berlynse Filharmonie en bekende sangers gemaak. Teen die laat 1970’s het hy Leopold Stokowski as die dirigent met die meeste opnames verbygesteek. Met die koms van digitale opnames in die vroeë 1980’s het hy opnuut ‘n groot aantal opnames in die nuwe formaat gemaak, onder meer die eerste digitale opname van Die Zauberflöte in 1980. Tydens die 750-jarige viering van die stigting van die stad Berlyn in 1987 het hy die Berlynse Filharmonie in ‘n konsert van Richard Strauss se Also sprach Zarathustra gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Tragies genoeg het Karajan, wat straks meer as enigiemand anders gedoen het om die status van Berlyn as wêreld-kultuurstad te herstel ná die vergrype van die Nazi-era en die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog, gesterf enkele maande voordat die berugte Berlynse Muur afgebreek is, wat tot die hereniging van Duitsland sou lei. Sy laaste opname was in 1989 van Bruckner se sewende simfonie met die Weense Filharmonie.

Met sy onverbiddelike aandrang op estetiese en tegniese perfeksie het Karajan die dirigeerkuns diepliggend verander en verbeter, sodat sommiges so ver gaan om dit in twee tydperke te verdeel: V.K. en N.K., voor en na Karajan. Hy het sy werk as ‘n feitlik religieuse sending teenoor die komponiste én die mensdom as geheel beskou. Uit erkentlikheid teenoor musiek en die vreugde wat dit hom lewenslank gebring het, het hy in 1968 die Karajan-stigting daargestel. Die stigting bied al om die ander jaar ‘n dirigeerkompetisie aan, met ‘n aantal bekende musici wat as jong dirigente pryse daarin gewen het. Daarbenewens het vele ander musici hul loopbane aan sy afrigting en aanmoediging te danke. Daaronder tel die sangers Agnes Baltsa, Hildegard Behrens, Helga Dernesch, Mirella Freni, Nicolai Gedda, Gundula Janowitz en Anna Tomowa-Sintow, die dirigente Mariss Jansons, Seiji Ozawa en Bruno Weil, die pianis Christoph Eschenbach en die violis Anne-Sophie Mutter.

Só oortuig was Karajan van die genesende en verkwikkende krag van musiek dat hy in 1969 ‘n navorsingsinstituut in Oostenryk gestig het vir die ondersoek van die fisiese, verstandelike en emosionele uitwerking van musiek op mense. Ere-doktorsgrade is deur die universiteite van Oxford, Tokio, Salzburg en Parma aan hom toegeken. As persoon is hy gekenmerk deur sowel warmte en lojaliteit teenoor sy min vriende as ongenaakbare wilskrag, hardwerkendheid en self-dissipline. Laasgenoemde hou verband met sy lewenslange beoefening van joga en Zen, sodat sy vertolkings gerig was op ‘n verlies van die self en die versmelting van komponis, dirigent en orkes in een groot geheel. Hy was lief vir swem en stap in die natuur, asook vir vinnige motorvoertuie, seiljagte en vliegtuie, met ‘n aantal van sy eie wat hy self hanteer het.

Karajan se ontsaglike repertorium van ongeveer 500 werke het wyd deur die Klassieke en Romantiese repertoriums tot diep in die twintigste eeu gestrek, met ‘n klem op die musiek van Beethoven, Brahms, Bruckner, Wagner en Richard Strauss waarin hy onoortreflik was. Eers betreklik laat in sy loopbaan het Mahler deel van sy repertorium geword, maar hy het spoedig ‘n puik vertolker van die groot laat-Romantikus geword. Karajan het ‘n bykans bomenslike musikale geheue gehad, wat hom in staat gestel het om dwarsdeur sy lang loopbaan met toe oë te dirigeer. Interessant genoeg toon sy DVD-opnames van die 1980’s hom egter dikwels met oop oë. Sy meer as 800 opnames oor vyf dekades sluit die volledige simfonieë van Beethoven, Brahms, Bruckner, Mendelssohn, Schubert, Schumann, Sibelius en Tsjaikofski in. Van Beethoven se simfonieë is nie minder nie as vier siklusse opgeneem: in die 1950’s, 1960’s, 1970’s en 1980’s (lg. ook op DVD). Die siklus van 1977 het binne vyf jaar ‘n verkoopsyfer van meer as agt miljoen stelle getoon.

Karajan het ‘n sleutelrol in die ontwikkeling van die kompakskyf gespeel en het in 1981 aan Polygram, Philips en Sony se bekendstelling daarvan tydens die Salzburg Paasmusiekfees deelgeneem. Vervolgens is al sy video-opnames deur sy eie maatskappy, Telemondial, onderneem. Uit erkenning vir sy bydraes tot eers stereoklank en later digitale klank is die Eduard-Rhein-Ring in 1984 aan hom toegeken. Onder musiekliefhebbers wêreldwyd dien sy naam steeds as ‘n waarborg van gehalte, met hernude belangstelling in sy opnames danksy die 100-jarige herdenking van sy geboorte in 2008 en die 20-jarige herdenking van sy dood in 2009. Ter viering van eersgenoemde is ‘n hele aantal DVD’s deur Sony vrygestel, wat merendeels teen winskooppryse bekom kan word. Daaronder tel simfonieë van Beethoven (volledig), Brahms (nrs. 1 en 2), Bruckner (nrs. 8 en 9), Dvorák (nrs. 8 en 9), Prokofiëf (nr. 1) en Tsjaikofski (nrs. 4-6), asook Bach se Magnificat en vioolkonsert nr. 2, Beethoven se vioolkonsert, Brahms se Ein Deutsches Requiem, Debussy se La Mer, Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling, Mozart se Kroningsmis, Ravel se Daphnis et Chloe, ‘n hele aantal toondigte van Richard Strauss, Tsjaikofski se klavierkonsert nr. 1, Verdi se Requiem, Vivaldi se Vier Seisoene, en die operas Don Giovanni, Der Rosenkavalier, Don Carlos en Falstaff.

Onder Karajan se talle eerbewyse tel twee Gramophone toekennings in 1981, vir opnames van Mahler se negende simfonie en die opera Parsifal (beide met die Berlynse Filharmonie); die Medaille de Vermeille in Parys; die Goue Medalje van die Koninklike Filharmoniese Vereniging in Londen; die Olympia Toekenning van die Onassis Stigting in Athene; en die UNESCO Internasionale Musiekprys. Hy is in sy geboortestad Salzburg aan hartversaking oorlede.

Sleutelopnames (in Berlyn tensy anders aangedui): Brahms se 4 simfonieë (laat 1970’s); Bruckner se simfonie nr. 8 (Wenen); Chopin se ballet Les Sylphides; Debussy se La Mer en Prélude à l’après-midi d’un faune (1964); Grieg se Holberg suite en Peer Gynt suites (vroeë 1980’s); Haydn se oratorium Die Schöpfung (Salzburg 1965); Honegger se simfonieë nrs. 2 en 3 (1973); Mahler se simfonieë nrs. 6 en 9; Mendelssohn se simfonieë nrs. 3 en 4 (1971/73); Mozart se Sinfonia concertante vir houtblasers (Londen 1953), simfonieë nrs. 29, 32, 33, 35, 36, 38-41, en Mis nr. 18 (1982); Prokofiëf se simfonieë nrs. 1 en 5; Schoenberg se Pelleas et Melisande, Verklärte Nacht en Variasies vir Orkes; Schumann se 4 simfonieë; Sibelius se simfonieë nrs. 1, 2, 4, 5, 6 en 7, en toondigte Finlandia, Valse triste, Pelléas et Mélisande Suite en Tapiola; Sjostakowitsj se tiende simfonie (1981); ‘n versameling marse, polkas en walse van Johann Strauss junior, asook Josef Strauss se Sphärenklänge (1971); die 1987 Nuwejaarskonsert in Wenen, met musiek van die Strauss-familie; Richard Strauss se Tod und Verklärung en Metamorphosen; Tsjaikofski se simfonieë nrs. 1-3; Wagner se Siegfried Idyll, ‘n versameling van sy ouvertures en preludes (1974), en hoogtepunte uit die Ring; Webern se Passacaglia vir Orkes; en die operas Hänsel und Gretel (Londen 1950’s), Madama Butterfly (Wenen 1974), Ariadne auf Naxos (Londen), Der Rosenkavalier (Londen), Aida (Wenen), Falstaff (Londen 1956), Parsifal (Berlyn 1979/80) en Tristan und Isolde (1972).

Verdere opnames: simfonieë van Dvorák (nrs. 8 en 9), Franck, Haydn (nrs. 94, 96 en 104), Mahler (nrs. 4 en 5), Schubert (8 en 9) en Tsjaikofski (nrs. 4 tot 6); ouvertures van Beethoven, Offenbach, Rossini en Verdi; ballette van Delibes, Gounod, Offenbach en Tsjaikofski; Holst se The Planets; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; Richard Strauss se Eine Alpensinfonie, Also sprach Zarathustra, Don Juan, Till Eulenspiegel, Tod und Verklärung, Metamorphosen en Ein Heldenleben; die volledige ouvertures en preludes van Verdi (1975); orkeswerke van Berg, Bizet, Borodin, Debussy, Liszt, Ravel, Respighi, Rimski-Korsakof, Sibelius en Strawinski; ‘n versameling Pruisiese en Oostenrykse marse; Brahms se Ein deutsches Requiem; Bruckner se Te Deum; enkele misse van Haydn en Mozart; Mahler se Das Lied von der Erde; Mozart se Requiem; Tsjaikofski se Capriccio italien, Marche slave, 1812 Ouverture, Romeo en Juliet Fantasie ouverture, en 3 balletsuites; Verdi se Requiem (La Scala 1967, DVD); Vivaldi se Vier Seisoen (1972); die operette Die Fledermaus; en die operas Fidelio, Carmen, Pelléas et Mélisande, Lucia di Lammermoor, I Pagliacci, Cavalleria Rusticana, Così fan tutte, Don Giovanni, Le nozze di Figaro, Die Zauberflöte, Boris Godoenof, La Bohème (La Scala 1963 en Berlyn), Madama Butterfly (La Scala 1950’s), Tosca (Wenen 1962 en Berlyn), Turandot, Die Frau ohne Schatten, Der Rosenkavalier (Wenen), Salome, Aida (Wenen, naas die sleutelopname), Un ballo in maschera, Don Carlos, Falstaff (Wenen 1980), Otello, Il Trovatore (La Scala 1956 en Berlyn), Der fliegende Holländer, Lohengrin, Die Meistersinger von Nürnberg (Dresden), Der Ring des Nibelungen (Berlyn) en Tannhäuser.

Von Klenau, Paul (1883-1946), Deense dirigent en komponis. Hy het in Berlyn, München en Stuttgart studeer, waarna hy ‘n opera-dirigent was in Freiburg (1907), Stuttgart (1909-12) en weer Freiburg (1912-17). In 1920 het hy die Filharmoniese Konserte in Kopenhagen gestig en dit tot 1926 gedirigeer. Vanaf laasgenoemde jaar was hy dirigent van die Weense Sangakademie en Konsertvereniging. As dirigent was hy bekend in moderne musiek, veral dié van Delius waarvoor hy ‘n kampvegter was.

Von Matacic, Lovro (1899-1985), Kroatiese dirigent. Hy het in die Weense Seunskoor gesing en komposisie in die Oostenrykse hoofstad onder Oskar Nedbal, ‘n leerling van Dvorák, studeer. Sy debuut is in 1919 by die Keulen Opera gemaak, waarna hy na die pasgestigde Joego-Slawië teruggekeer het. Daar was hy ‘n dirigent van operahuise in Ljubljana (1924-6), Belgrado (1926-31) en Zagreb (1932-8). Vervolgens was hy musiekdirekteur in Belgrado (1938-42), van beide die opera en die filharmoniese orkes. Hy was vanaf 1942 vir drie jaar dirigent van die Weense Volksopera, maar met sy terugkeer na Joego-Slawië is hy deur die nuwe kommunistiewe owerhede op aanklagte van Nazi-samewerking gearresteer. Hy sou drie jaar in die tronk deurbring, waarna hy van meet af sy loopbaan moes herbou. Sy deurbraak het gekom toe die gevierde opname-regisseur Walter Legge hom in 1954 genooi het om ‘n opname van uittreksels uit Arabella met beroemde soliste soos Elisabeth Schwarzkopf en Nicolai Gedda te dirigeer. In dieselfde jaar het hy die eerste opname van ‘n Bruckner-simfonie met ‘n Britse orkes gemaak - van die vierde simfonie, met die Philharmonia in Londen. Hulle sou een van sy gunsteling-orkeste word, en hul 1962-opname van Lehár se operette Die lustige Witwe word deur kenners as een van die beste weergawes van dié gewilde werk beskou.

Verder was Von Matacic hoofdirigent van die Dresden Opera (1956-8) en die Frankfurt Opera (1961-5), en dirigent van die Zagreb Filharmoniese Orkes (1970-80) en die Monte Carlo Opera (1974-8). By La Scala het hy in die vroeë 1960’s ‘n uitstekende opname van I Pagliacci met Franco Corelli in die manlike hoofrol gedirigeer. Met sy Zagreb-orkes het hy in 1975 by die Dubrovnik-fees ‘n hoogstaande opname van Verdi se Requiem gemaak. Hy het daarby wêreldwyd as gasdirigent opgetree, onder andere met bekende orkeste in Berlyn, Wenen, Milaan, Chicago en Tokio. Hy was een van die voorste vertolkers van die Russiese Romantici van sy tyd, en as konsertbegeleier het hy met groot Russiese musici soos David Oistrach en Swiatoslaf Richter saamgewerk. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven, Brahms, Bruckner (nr. 4), Dvorák, Mozart en Tsjaikofski; orkeswerke van Balakiref, Borodin, Glazoenof, Moessorgski en Tsjaikofski; Brahms se Ein deutsches Requiem; Rimski-Korsakof se Scheherazade en Russiese Paasfeesouverture; en die operas La Fanciulla del West en Der Freischütz.

Von Mildenburg, Anna (1872-1947), Oostenrykse sopraan. Sy het haar debuut in 1895 in Hamburg gemaak as Brünnhilde in die Ring. Dit het plaasgevind onder die dirigeerstaf van die komponis Gustav Mahler, wie se minnares sy sou word. Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1897) en by Covent Garden (1906), waar sy bekendheid verwerf het in verdere Wagner-rolle soos Kundry in Parsifal, Elisabeth in Tannhäuser en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Kort nadat Mahler in 1897 direkteur van die Weense Hofopera geword het, is sy vir dié beroemde operahuis gewerf, al was hul verhouding reeds iets van die verlede. Sy sou tot 1916 aan die Weense Opera verbonde wees. Intussen het sy in 1909 met die skrywer Hermann Bahr getrou, met wie sy ‘n boek oor die Bayreuth Teater sou skryf. Sy het in 1910 die rol van Klytemnästra in Elektra (wat een van haar beste rolle sou word) tydens die Londense première van die opera geskep. Vanaf 1921 was sy ‘n hoogleraar in sang aan die München Musiekakademie, en vanaf dié jaar tot 1926 ook verhoogdirekteur van die Nasionale Teater in dié Beierse stad. Haar debuut by die Salzburg-fees is in 1922 gemaak, maar as aktrise, en eers vyf jaar later as sangeres. In 1930 het sy haar laaste optrede gemaak, as Klytemnästra in Augsburg. Agt jaar later het sy in Berlyn onderrig gegee. Sy het ook ‘n boek met waardevolle herinneringe oor Mahler nagelaat.

Von Otter, Anne Sofie (1955-), Sweedse mezzosopraan. Sy het vanaf 1982 vir drie jaar by die Basel Opera gesing, waar sy as Alcina in Handel se Orlando paladino gedebuteer het. In 1985 het sy by Covent Garden gedebuteer as Cherubino in Le nozze di Figaro, en in dieselfde jaar is haar Amerikaanse debuut met die Chicago Simfonie-orkes gemaak. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1988) en die Salzburg-fees (1989). Met haar ferm, ryk stem is sy 'n begaafde operasangeres in verskeie tale, veral in die operas van Gluck, Handel en Mozart. Haar repertorium strek tot diep in die twintigste eeu – sy het byvoorbeeld in 1998 in die première van haar landgenoot Sandstrom se Staden by die Koninklike Sweedse Opera gesing. In 2002 het sy by die Glyndebourne-fees gedebuteer in die titelrol van Carmen, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Onder haar verdere rolle tel Judith in Bloubaard se Kasteel, Mélisande in Pelléas et Mélisande, Clytemnestra in Iphigénie en Aulide, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Juno in Agrippina, Sesto in Giulio Cesare, Dejanira in Hercules, die titelrolle in Ariodante en Xerxes, Hänsel in Hänsel und Gretel, die Boodskapper in Orfeo, Sesto in La clemenza di Tito, Dorabella in Così fan tutte, Idamante in Idomeneo, Nero in L’incoronazione di Poppeia, die Muse in Les Contes d'Hoffmann, Dido in Dido and Aeneas, die Komponis in Ariadne auf Naxos, Octavian in Der Rosenkavalier, Jocasta in Oedipus Rex, Baba die Turk in The Rake’s Progress en Olga in Jewgeni Onegin. Daarby blink sy uit in konsertwerke, en in Skandinawiese en Duitse liedere waarin sy een van die voorste sangeresse van haar tyd is. Sy word deur haar landgenoot Bengt Forsberg op die klavier begelei, met wie sy sedert die 1980’s ‘n hoogs produktiewe verbintenis het.

Sleutelopnames: Grieg se Haugtussa liederesiklus en ander liedere (met Forsberg); Schoenberg se Gurrelieder (onder Rattle); ‘n versameling Sibelius-liedere (met Forsberg). Verdere opnames: kerkmusiek van Berlioz, Mendelssohn, Mozart en Verdi; Bach se Kersfeesoratorium; Berg se 7 Vroeë Liedere (georkestreer, onder Abbado); Berlioz se La damnation de Faust en Les Nuits d’ete; Brahms se Alt Rapsodie; ‘n versameling arias en kantates van Handel opgedra aan die Maagd Maria (onder Goebel), en sy oratorium Jephta (as Storge); Haydn se Arianna a Naxos; Mahler se derde simfonie (onder Boulez), agste simfonie (onder Abbado) en Kindertotenlieder (onder Boulez); Respighi se Il tramonto (met die Brodsky Kwartet); liedere van Schubert deur latere komponiste georkestreer (onder Abbado) en sy Rosamunde-musiek; Weill se ballet Die sieben Todsünden; Wolf se Spanisches Liederbuch (met Geoffrey Parsons); talle liedere van Alfvén, Aulin, Beethoven, Berg, Brahms, Chaminade, De Frumerie, Haydn, Korngold, Larsson, Linde, Mahler, Martin, Meyerbeer, Mozart, Nordqvist, Nystroem, Peterson-Berger, Rangström, Schumann, Sibelius, Spohr, Stenhammar, Richard Strauss en Zemlinsky; ‘n versameling operette-arias van Offenbach (onder Minkowski); die genoemde operas van Bartók, Bizet, Debussy, Gluck, Handel, Humperdinck, Monteverdi, Mozart, Offenbach, Purcell, Richard Strauss, Strawinski en Tsjaikofski, asook Le Cinesi.

Von Sauer, Emil (1862-1942), Duitse pianis en komponis. Hy het op vyf jaar met klavierlesse begin onder sy moeder, wat ‘n begaafde pianis van Skotse afkoms was. As tiener het hy die Russiese virtuoos Anton Rubinstein hoor speel, wat hom so diep geraak het dat hy op ‘n musiekloopbaan besluit het. Hy is deur die groot pianis genooi om in Moskou onder sy broer Nikolai te gaan studeer. Hy het in 1879 in die Russiese hoofstad aangekom, waar hy weldra saam met Alexander Siloti voor in die klas sou wees. Met sy leermeester se afsterwe in 1881 het hy na sy geboortestad Hamburg teruggekeer vir ‘n suksesvolle debuutkonsert. Hy het daarop wyd deur Duitsland opgetree, asook in Engeland, Spanje en Italië. In 1884 is hy op aanbeveling van Prinses Sayn-Wittgenstein na Weimar vir studies onder Franz Liszt. Die groot pianis-komponis het hom genooi om vir twee somers aan sy klasse deel te neem, waartydens hy die misbruik van die maestro se vrygewigheid deur talle ontalentvolle leerlinge beskryf het. Vanaf 1885 het hy sy toere as virtuoos hervat, met ‘n Berlynse debuut wat aan die begin van die jaar gemaak is. Verdere toere is deur Rusland, Swede en Denemarke onderneem. Hy het in 1889 in die Duitse hoofstad ‘n uitvoering van Tsjaikofski se 3 klavierkonserte gegee, met die komponis as dirigent. In 1899 en 1908 het hoogs geslaagde toere van die VSA plaasgevind.

Sauer het dwarsdeur sy lang loopbaan die Romantiese benadering van die Liszt-skool gevolg, waarvolgens ‘n tegniek met ‘n algehele beheer van die klawerbord van die pianis verwag is. Sy spel is voorts gekenmerk deur poëtiese verfyndheid en pragtige toonkleur. Tydens ‘n voordrag in Parys in 1937 het hy ‘n diep indruk op die opkomende jong pianis Dinu Lipatti gemaak. Hoewel hy deur talle as Liszt se grootste leerling beskou is, was hy ‘n beskeie mens. Sy vertolkings is dus gekenmerk deur direktheid, sonder enige flambojansie. In 1938 het hy historiese opnames van Liszt se 2 klavierkonserte in Parys gemaak, onder die dirigeerstaf van nog ‘n lid van die groot komponis se sirkel, Felix Weingartner. Hy het as gewilde leermeester vir baie jare aan die Weense Konserwatorium onderrig gegee, en was vir ‘n tyd (1901-7) hoof van die klavierdepartement. ‘n Aantal van sy studente sou suksesvolle konsertloopbane volg, en met een van hulle, die Meksikaanse pianis Angelica Morales, sou hy in 1939 na die afsterwe van sy eerste vrou trou. Daarby was hy ‘n regisseur van al Liszt se meer belangrike werke (in 12 dele uitgegee), en die bykans volledige klaviermusiek van Brahms, Chopin, Mendelssohn en Schumann. Hy het vele toekennings ontvang, onder meer die Franse Legioen van Eer (as die eerste Duitser om die eer te ontvang) en ‘n oorerflike ridderskap van die Oostenryk-Hongaarse monargie. Onder sy eie komposisies tel twee klavierkonserte, twee klaviersonates, en liedere. Verdere opnames: solowerke van Chopin, Liszt en Schubert.

Von Stade, Frederica (1945-), Amerikaanse mezzosopraan. Sy het aan die Mannes Musiekkollege in New York studeer en in 1969 aan oudisies vir die Metropolitan Opera deelgeneem. Die beroemde impresario Rudolf Bing het haar daarop in diens geneem, en in die jaar daarop het haar operadebuut by die Met plaasgevind. Dit was as die Derde Seun in Die Zauberflöte, en vir die volgende drie jaar sou sy aan dié operahuis verbonde wees. Daarna het die swaartepunt van haar loopbaan na Europa verskuif, met debute wat gevolg het by die Glyndebourne-fees en Versailles (beide in 1973), die Salzburg-fees (1974) en Covent Garden (1975, as Rosina in Il barbiere di Siviglia). Haar debuut by Versailles was as Cherubino in Le nozze di Figaro, wat een van haar beste rolle sou word. Met haar suiwer, ferm stem is sy wêreldbekend in Franse en Italiaanse opera, asook in ‘n wye repertorium konsertwerke. Haar slank, atletiese voorkoms maak haar by uitstek geskik vir ‘manlike’ rolle soos Idamante in Idomeneo en Octavian in Der Rosenkavalier. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel Adalgisa in Norma, Mélisande in Pelléas et Mélisande, Aramanta in La fedeltà premiata, Charlotte in Werther, die titelrol in Chérubin, Penelope in Il ritorno d'Ulisse in Patria, Sesto in La clemenza di Tito, Dorabella in Così fan tutte en Frédéric in Mignon. Sy het rolle geskep in hedendaagse operas van Argento en Pasatier. Daarby is sy begaafd in musiekblyspele, waaronder Bernstein se On the Town (in die rol van Claire) en Kern se Showboat (in die rol van Magnolia). Haar opnames van laasgenoemde en van The Sound of Music het topverkopers geword. Verdere opnames: Argento se Casa Guidi; orkesliedere van Bernstein; Berlioz se La damnation de Faust; Canteloube se Chants d’Auvergne; Mahler se Lieder eines fahrenden Gesellen; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Mozart se Mis nr. 4; 'n versameling operette-arias van Offenbach; Ravel se Shérérazade; die genoemde musiekblyspele; 'n versameling Franse liedere van Debussy, Poulenc, Ravel en andere; en die genoemde operas van Haydn, Massenet, Mozart en Thomas, asook Il mondo della luna, Cendrillon, Otello (dié van Rossini) en Mignon.

Vyvyan, Jennifer (1925-74), Engelse sopraan. Nadat sy aanvanklik in die Glyndebourne-koor gesing het, het sy in 1948 haar operadebuut in Cambridge as Jenny Diver in Die Dreigroschenoper gemaak. Drie jaar later het sy die internasionale sangkompetisie in Genève gewen en in 1952 het sy ‘n lid van die Sadler’s Wells Opera geword. Daar het sy veral bekend geraak in Britten se operas, waarvan rolle in Gloriana, The Turn of the Screw, A Midsummer Night's Dream en Owen Wingrave vir haar geskryf is. Sy was ‘n ewe begaafde konsertsangeres in die Britse en Duitse repertoriums. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Krips) en Mis in C; Britten se Spring symphony en Cantata academica; Handel se Messiah (onder Beecham) en Saul (onder Woldike); Schumann se Szenen aus Goethes Faust; en die operas Owen Wingrave, The turn of the screw, Semele en The Fairy Queen.

W

Wächter, Eberhard (1929-92), Oostenrykse bariton. Hy het sy operadebuut in 1953 by die Weense Volksopera gemaak as Silvio in I Pagliacci. Daarna het hy roem verwerf as ‘n begaafde sanger in Duitse opera en operette. Vanaf 1955 was hy aan die Weense Staatsopera verbonde, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden (1956), die feeste in Salzburg (1956) en Bayreuth (1958), en by La Scala (1960) en die Metropolitan Opera (1961). Onder sy beste rolle het getel die titelrolle in Wozzeck en Don Giovanni, die Graaf in Le nozze di Figaro, Jokanaan in Salome, Eisenstein in Die Fledermaus, Faninal in Der Rosenkavalier, Donner in Das Rheingold, Wolfram in Tannhäuser, Kurwenal in Tristan und Isolde en Otakar in Der Freischütz. Vanaf 1987 tot sy dood vyf jaar later was hy artistieke direkteur van die Weense Volksopera, en in sy laaste lewensjaar ook van die Weense Staatsopera. ‘n Kompetisie wat na hom vernoem is, word jaarliks in Wenen vir jong sangers van Oostenrykse operahuise gehou. Opnames: die operettes Die Fledermaus (onder beide Böhm en Kleiber) en Die lustige Witwe; die genoemde operas van Berg, Mozart, Richard Strauss, Wagner en Weber, asook Capriccio.

Wagner, Roger (1914-92), Frans-gebore koordirigent. As sewejarige het hy in die VSA gaan woon, waar hy later ‘n Amerikaanse burger geword het. Op twaalfjarige ouderdom was hy reeds orrelis en koormeester van die Sint Ambrosiuskerk in Los Angeles, en in 1937 het hy musiekdirekteur van die Sint Josefskerk in dieselfde stad geword. Nege jaar later het hy die koor wat na hom vernoem is gestig, met wie hy wyd sou toer. Onder sy leiding het hulle as een van die beste Amerikaanse kore bekend geraak. Daarbenewens was hy hoof van die musiekdepartement by Marymount Kollege (1951-66) en direkteur van koormusiek by die Universiteit van Kalifornië (1959-81), beide in Los Angeles. Hy was ‘n kenner van die Renaissance-komponis Josquin Desprès se musiek. In 1966 is hy tot pouslike ridder geslaan.

Wagner, Sieglinde (1921-), Oostenrykse mezzosopraan. Sy het in 1942 in Linz gedebuteer as Erda in Das Rheingold. Ná die Tweede Wêreldoorlog was sy verbonde aan die Weense Volksopera (1947-52) en die Berlynse Stadsopera (1952-86). Vanaf 1949 het sy dikwels by die Salzburg-fees verskyn, waar sy gesing het in Wilhelm Furtwängler se historiese opnames van Die Zauberflöte (1949/51, as een van die Drie Dames), Le nozze di Figaro (1953, as Marcellina) en Otello (1951, as Emilia). Sy het ook in 1952 in Salzburg die rol van Leda in Die Liebe der Danae tydens die amptelike première van die opera geskep. Vanaf 1962 tot 1973 het sy gereeld by die Bayreuth-fees verskyn, waar sy in 1967 die rol van Schwertleite in Karl Böhm se hoogaangeskrewe opname van Die Walküre gesing het. Verdere opnames: Beethoven se Missa Solemnis (onder Klemperer); Dvorák se Requiem (onder Karel Ancerl); en die operette Die Fledermaus (as Orlofsky).

Wakasugi, Hiroshi (1935-), Japannese dirigent. Hy was dirigent van die Kioto Simfonie-orkes (1975-7) en die Keulen Radio Simfonie-orkes (1977-83), en algemene musiekdirekteur in Düsseldorf (1982-7). Vervolgens was hy vanaf 1985 hoofdirigent van die Tonhalle Orkes in Zürich en sedert 1987 beklee hy dié pos by die Tokio Metropolitaanse Simfonie-orkes. Hy het die eerste Japannese uitvoering van Schoenberg se Gurrelieder gedirigeer, asook die Japannnese premières van die operas Parsifal en Capriccio.

Walcha, Helmut (1907-91), Duitse orrelis en komponis wat vanaf sestienjarige ouderdom blind was. Hy was eers ‘n assistent-orrelis van die bekende Sint Thomaskerk in Leipzig (1926-9), en daarna orrelis van die Vredeskerk in Frankfurt (vanaf 1929) en die Driekoningskerk in dié stad (vanaf 1946). Daarby was hy ‘n hoogleraar in orrel aan die Frankfurt Konserwatorium vanaf 1938 tot 1972. As Barok-spesialis was hy ‘n uitmuntende vertolker van J.S. Bach, wie se werke hy verkies het om te speel op orrels wat soortgelyk aan dié van die komponis se tyd was. Hy het in die laat 1940’s en vroeë 1950’s meeste van Bach se orrelwerke in Lübeck opgeneem, ‘n projek wat vanaf 1959 tot 1971 op orrels in Alkmaar en Strasbourg herhaal is. Sy vertolkings daarin is gekenmerk deur sorgvuldige berekening van organiese eenheid en ‘n diepe musikale lyn en frasering. Daarbenewens het hy Handel se orrelkonserte geredigeer en ‘n boek oor Reger geskryf. Opnames: vele orrelwerke van Buxtehude.

Walker, Norman (1907-63), Engelse bas. Hy was vanaf 1935 vir vier jaar 'n lid van Covent Garden en weer vanaf 1946, totdat sy briljante loopbaan in sy veertigs tot 'n einde gekom het. Intussen het hy in 1937 by die Glyndebourne-fees gedebuteer, waar hy nege jaar later die rol van Collatinus tydens die première van The Rape of Lucretia geskep het. In 1951 het hy by Covent Garden die rol van die Evangelis tydens die première van Vaughan Williams se opera The Pilgrim's Progress geskep, en verder het hy vanaf dié jaar tot 1955 aan die Guildhall Musiekskool onderrig gegee. Met sy donker, behendige stem was hy een van die voorste basse van sy tyd in operarolle soos Méphistophélès in Faust en Sarastro in Die Zauberflöte. Daarby was hy 'n begaafde konsertsanger, met optredes wat gemaak is in klassieke opnames van Elgar se The Dream of Gerontius (1945) en Handel se Messiah (1946), beide onder Malcolm Sargent.

Walker, Sarah (1943-), Engelse mezzosopraan. Sy het viool en tjello bestudeer voordat sy in 1969 haar operadebuut met die Kent Opera gemaak het, as Ottavia in L’incoronazione di Poppea. In die jaar daarop het sy by die Glyndebourne-fees begin sing. Mettertyd het sy by die Engelse Nasionale Opera bekend geraak, veral in die operas van Handel. Sy het in 1972 by Covent Garden die rol van Rose Parrowe tydens die première van Maxwell Davies se opera Taverner geskep. Verdere debute het gevolg in Chicago (1977), by Covent Garden (1979), Wenen (1981) en die Metropolitan Opera (1986). Sy het as solis in die Laaste Nag van die Proms in Londen gesing, en in 1991 is die CBE aan haar toegeken. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel Mrs Sedley in Peter Grimes, Cornelia in Julius Caesar, Dejanira in Hercules, Baba die Turk in The Rake's Progress, Larina in Jewgeni Onegin en Aunt Jane in Hugh the Drover. Daarby is sy met haar kragtige, lewendige sang ‘n begaafde konsert- en liederesangeres in die Engelse, Duitse en Franse repertoriums. Dit is veral haar liedere-voordragte met die pianis Roger Vignoles as begeleier wat hoog aangeskryf word. Sleutelopname: ‘n versameling Schumann-liedere (begelei deur Vignoles, 1982). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (twee weergawes, onder Bernstein en Norrington); orkesliedere van Delius; Falla se El amor brujo; Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream; Tippett se A Child of our Time en The Mask of Time; Vaughan Williams se Five Tudor Portraits en Serenade to Music; liedere van Debussy, Duparc, Enescu, Howells, Roussel, Schubert, Vaughan Williams en Warlock; en die genoemde operas van Britten, Handel, Strawinski, Tsjaikofski en Vaughan Williams.

Wallace, Ian (1919-2009), Engelse bas-bariton. Hy is aanvanklik as regsgeleerde opgelei en het tydens leërdiens in die Tweede Wêreldoorlog vir beseerde soldate begin sing. In 1946 is sy operadebuut in Londen gemaak, as Schaunard in La Bohème. Vir die volgende drie jaar het hy by die Nuwe Londense Opera gesing en in 1948 by die Edinburgh-fees gedebuteer. Vanaf 1949 tot 1961 het hy gereeld by die Glyndebourne-fees opgetree, onder andere in klassieke opnames van Le nozze di Figaro, Il barbiere di Siviglia en La Cenerentola onder Vittorio Gui. Sy opname van Flanders en Swann se lied The Hippopotamus was besonder gewild in die 1950’s en 1960’s. Vanaf 1966 tot 1975 was hy aan die Skotse Opera verbonde, en in 1983 is die OBE aan hom toegeken. Hy was veral bekend in komiese operarolle soos Bartolo in Le nozze di Figaro, Masetto in Don Giovanni en Basilio in Il barbiere di Siviglia, asook in die operettes van Gilbert en Sullivan en in musiekblyspele. Verdere opnames: orkesliedere van Coates (onder Boult); en die operettes Iolanthe en The Mikado (onder Sargent).

Wallace, John (1949-), Engelse trompetspeler. Hy het in 1986 die koperblaser-ensemble The Wallace Collection gestig, met wie hy ‘n uitstekende opname van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling en Nag op ‘n Kaal Berg (beide vir blasers verwerk) gemaak het. As solis is hy bekend op Barok- en moderne trompette. Verdere opnames (as solis): trompetkonserte van Arnold, Haydn en Macmillan; en Eben se Okna.

Wallace, Lucille (1898-1977), Amerikaanse klawesimbelspeler en pianis. Sy het veel gedoen om die klawerbordmusiek van Barok-komponiste soos Francois Couperin en Domenico Scarlatti te herleef. In 1931 is sy met die Britse pianis Clifford Curzon getroud.

Wallberg, Heinz (1923-2004), Duitse dirigent. As kind het hy trompet, viool en klavier bestudeer. Op ‘n jeugdige leeftyd het hy ‘n dirigent geword van orkeste in Münster, Trier en Hagen. In 1954 het hy musiekdirekteur in Augsburg geword, en later sou hy soortgelyke poste in Bremen, Wiesbaden, München en Wenen beklee. Hy was veral in Oostenryk bekend, met ongeveer 450 optredes wat by die Weense Staatsopera gemaak is en meer as 400 konserte wat by die Musikverein in die Oostenrykse hoofstad gegee is. Ten tyde van sy dood was hy musiekdirekteur van die Essen Filharmoniese Orkes. Hy het talle opnames gemaak en in ongeveer 100 televisie-opvoerings verskyn. In Duitsland het hy die Groot Kruis van Verdienste vir sy bydrae tot die kunste in dié land ontvang, en in Oostenryk die Erekruis vir Kuns en Wetenskap. Met die orkes en koor van die Beierse Radio het hy uitstekende opnames van Flotow se opera Martha en Lehár se operette Der Zarewitsch gemaak. Verdere opnames: Mendelssohn se operas Die beiden Pädagogen en Die Heimkehr aus der Fremde (beide met die Beierse Opera); en Schubert se operas Die Verschworenen en Der vierjährige Posten (beide met die Beierse Radio).

Wallfisch, Elizabeth (1952-), Australiese violis. Sy is wêreldbekend in Barokmusiek, waarin sy as solis met bekende vroeë musiekensembles optree. Sedert 1993 is sy ‘n orkesleier tydens die jaarlikse Bach-feeste in Carmel, VSA onder Bruno Weil. Naas haar optredes as solis speel sy dikwels kamermusiek in die Ensemble Convivium as vennoot van die tjellis Richard Tunnicliffe en die pianis Paul Nicholson, op eietydse instrumente. As gereelde besoeker aan haar geboorteland is sy ‘n residensiële kunstenaar by die Melbourne Universiteit. Sy tree soms as direkteur van ensembles soos die Orfeo Barokorkes op. As mede-leier van die Orchestra of the Age of Enlightenment het sy in hoogaangeskrewe opnames van Bach se 6 Brandenburgkonserte gespeel. Daarby gee sy onderrig aan die Koninklike Musiekakademie in Londen en is sy ‘n hoogleraar in Barokviool aan die Koninklike Konserwatorium in Den Haag. Sy is getroud met die Britse tjellis Raphael Wallfisch, met wie sy soms in Brahms se Dubbelkonsert optree. Sleutelopnames: Locatelli se 12 vioolkonserte genaamd L’Art del violino (onder Nicholas Kraemer); Tartini se vioolkonserte (opus 1), nrs. 1, 4 en 12 (onder Kraemer). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Brooks, Haydn, Linley, Myslivecek, Pergolesi, Shaw, Spohr, Telemann, Viotti en Wesley; Bach se onbegeleide vioolsonates en -partitas, asook sy Dubbelkonsert (met Bury), Driedubbele Konsert (met Beznosiuk en Mackintosh), en Konsert vir viool en hobo; Biber se 7 Partitas (met die Purcell Kwartet); Haydn se Sinfonia concertante vir viool, tjello, hobo en fagot; Locatelli se 12 Concerti grossi, opus 1, 6 Concerti grossi, opus 4 en 6 Introduttioni teatrali; Rossini se strykersonates; Schubert se Rondo; Vivaldi se Dubbelkonsert vir 2 viole (met Huggett); en vioolsonates van Albinoni, Bach, Corelli, Leclair, Locatelli, Veracini en Vivaldi.

Wallfisch, Raphael (1953-), Engelse tjellis. Hy het in 1974 sy debuut in Londen gemaak en drie jaar later het hy die internasionale Cassado-kompetisie in Florence gewen. Benewens sy bekendheid as solis speel hy dikwels kamermusiek, waarin hy opgetree het met die groot violis Jasja Heifetz, die Amadeus Kwartet, en sy vader, die pianis Peter Wallfisch (1924-93), as vennote. Sedert 1980 is hy ‘n hoogleraar in tjello aan die Guildhall Musiekskool. Hy is getroud met die Australiese violis Elizabeth Wallfisch, met wie hy soms uitvoerings van Brahms se Dubbelkonsert gee. Sleutelopnames: Leighton se tjellokonsert (onder Bryden Thomson); Vivaldi se volledige tjellokonserte (onder Nicholas Kraemer). Verdere opnames: tjellokonserte van Barber, Bax, Bliss, Boccherini, Delius, Finzi, Dvorák, Hindemith, Kabalefski, Khatsjatoerian, Macmillan, Martinu, Sjostakowitsj en Walton; Borodin se Strykersekstet (met die Lindsay Kwartet en Williams); Delius se Dubbelkonsert (met Tasmin Little); Grieg se tjellosonate as ‘n konsert verwerk (onder Handley); Leighton se Veris gratia vir tjello en hobo (met George Caird); Respighi se Adagio con variazioni; Richard Strauss se Romanse (onder Neeme Järvi); Tsjaikofski se Rococo Variasies en ander werke vir tjello en orkes; werke vir tjello en orkes van Britten, Dohnányi, Glazoenof en Stanford; Bax se Rhapsodic Ballad; Bridge se tjellosonate (met sy vader); vioolsonates van Franck en Lekeu (vir tjello verwerk, met John York); tjellosonates van Rubbra, Schnittke en Sjostakowitsj; en Ysaÿe se onbegeleide tjellosonate.

Walliese Nasionale Opera, operageselskap wat in 1943 in Cardiff gestig is en in 1950 ten volle professioneel geword het. In 1968 en 1970 het ‘n professionele koor en orkes onderskeidelik gevolg, met oorsese toere wat onderneem is. Hulle het bekendheid verwerf vir hul opvoerings van skaars Verdi-operas, asook dié van Janácek en Britten. Musiekdirekteure het ingesluit Idloes Owen (1944-52), Vilem Tausky (1955), Warwick Braithwaite (1956-61), Charles Groves (1961-3), James Lockhart (1968-73), Richard Armstrong (1973-86), Charles Mackerras (1987-92) en sedert 1992 Carlo Rizzi.

Walter, Bruno (1876-1962), Duits-gebore dirigent, pianis en komponis. Hy is gebore as Bruno Schlesinger en het sy debuut as pianis op tienjarige leeftyd gemaak. Daarna het hy in Berlyn studeer, gevolg deur ‘n aantal dirigeerposte in die Duitssprekende wêreld. Aanvanklik was hy verbonde aan operahuise in Keulen (1893/4) en Hamburg (1894-8). Laasgenoemde was as assistent vir die komponis-dirigent Gustav Mahler, met wie hy diep bevriend sou raak. In 1896 het Mahler hom gehelp om sy eerste volwaardige dirigeerpos te bekom, in Breslau. Op aandrang van die bestuurder van die operahuis daar moes hy sy Joodse van verander, waarna hy as Bruno Walter bekend was. Hy het aan die begin van sy lang loopbaan ‘n verwerking van Mahler se eerste simfonie vir twee klaviere gemaak, wat dikwels deur die twee uitgevoer is. Verder was hy ‘n dirigent in Riga (1898-1900) en by die Weense Hofopera (1901-12). In Wenen was hy tot 1907 ‘n mededirigent van Mahler. Hy het in dieselfde jaar sy eie eerste simfonie op die klavier vir Mahler gespeel, maar die gevierde komponis se louwarm reaksie het hom ontmoedig. Hy het nietemin in 1910 as pianis in die première van Korngold se klaviertrio in die Oostenrykse hoofstad gespeel.

Walter het verdere dirigeerposte beklee in München (1913-22) en by die Berlynse Stadsopera (1925-9). In München het hy die eerste uitvoerings van Mahler se Das Lied von der Erde (1911) en negende simfonie (1912) gedirigeer, waarna hy opgehou komponeer het. Hy het daar ook die premières van Korngold se Violanta en Der Ring des Polykrates (beide in 1916), Pfitzner se Palestrina (1917) en Braunfels se Die Vögel (1920) gedirigeer. In die Beierse hoofstad het hy verlief geraak op die sopraan Delia Reinhardt, nieteenstaande sy getroude status. Sy het egter met ‘n medesanger getrou, en hy sou tot sy vrou se dood in 1945 met haar in die eg verbind bly. Intussen het hy in 1910 by Covent Garden gedebuteer, waar hy vanaf 1924 tot 1931 gereeld sou optree in heuglike opvoerings van operas deur Mozart en Richard Strauss. Hy het in 1923 sy Amerikaanse debuut gemaak, en was vanaf 1925 tot 1937 ‘n gereelde dirigent by die Salzburg-fees. Na afloop van die eerste internasionale Chopin-kompetisie in Warskou in 1927 het hy die jong komponis Dimitri Sjostakowitsj, wat as pianis deelgeneem het, ontmoet. Dit het daartoe gelei dat hy later in dieselfde jaar die Berlynse première van Sjostakowitsj se eerste simfonie gedirigeer het. In 1929 het hy Wilhelm Furtwängler as hoofdirigent van die Gewandhaus Orkes in Leipzig opgevolg, en teen die tyd van die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in 1933 was hy ‘n prominente figuur in die musiekwêreld. Toe hy later in dieselfde jaar van konserte in die VSA na Leipzig terugkeer, is sy volgende konsert deur die Nazis verbied. Hy is daarop na Berlyn, maar ‘n beplande konsert is eweneens onder Nazi-druk afgelas. Op sy versoek het Richard Strauss dit gedirigeer.

Vervolgens is Walter na Oostenryk, waar hy oorval is met versoeke om gasdirigent op tree. Vanaf 1936 het hy vir twee jaar die Weense Filharmoniese Orkes gedirigeer. In sy eerste jaar met die orkes het hy hulle in die eerste opname van Mahler se Das Lied von der Erde gedirigeer. Hy was in dié tyd ook musiekdirekteur van die Weense Staatsopera. Tydens die Salzburg-fees van 1937 het hy historiese opnames van Don Giovanni en Le nozze di Figaro gedirigeer. Met die aansluiting van Oostenryk by Hitler se Derde Ryk in 1938 het hy nogeens uitgewyk, dié keer na Frankryk waar hy ‘n burger geword het. Asof sy skandelike behandeling deur die Nazis nie genoeg was nie, het ‘n persoonlike tragedie hom in 1939 getref toe sy dogter Gretel, wat ‘n buite-egtelike verhouding met die groot bas Ezio Pinza gehad het, deur haar jaloerse man doodgeskiet is. Kort na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is hy na die VSA, waar hy in 1946 ‘n Amerikaanse burger sou word. Vanaf 1941 tot 1956 het hy dikwels by die Metropolitan Opera gedirigeer, waar historiese opnames van Don Giovanni (1942) en La forza del destino (1943) gemaak is.

Na afloop van die oorlog kon Walter sy Europese loopbaan voortsit. Hy het in 1946 die Londense Filharmoniese Orkes gedirigeer, en tydens die eerste Edinburgh-fees in 1947 is hy met die Weense Filharmonie herenig. Met dié geleentheid het hy die orkes in ‘n legendariese uitvoering van Mahler se Das Lied von der Erde gedirigeer, met Kathleen Ferrier en Peter Pears as soliste. Hy het die briljante alt verder in liedere-voordragte by die feeste in Salzburg en Edinburgh op die klavier begelei. Vanaf 1947 was hy vir twee jaar hoofdirigent van die New York Filharmoniese Orkes, met wie nog ‘n opname van Das Lied met Ferrier gemaak is. In 1952 het hy ‘n verdere, Weense opname van Das Lied met Ferrier gedirigeer. Sy laaste besoek aan Brittanje is in 1955 gebring. Hy het in 1957 ‘n ernstige hartaanval gehad, maar het voortgegaan om tot kort voor sy afsterwe vyf jaar later te dirigeer. Juis in hierdie tyd is van sy beste opnames met die Columbia Simfonie-orkes in die VSA gemaak, insluitend die volledige simfonieë van Beethoven en Brahms in besondere vertolkings.

As een van die grootste dirigente van die twintigste eeu was Walter onoortreflik in die Weense Klassiek-Romantiese tradisie, veral in die musiek van Mozart vir wie hy ‘n natuurlike aanvoeling gehad het, en van sy vriend Mahler. Vir dekades lank was hy saam met Willem Mengelberg in Amsterdam ‘n kampvegter vir Mahler in ‘n tydvak toe die laaste groot Romantiese simfonis gering geskat is. As fyn beskaafde mens was hy wêreldberoemd vir die warmte, sensitiwiteit en akkuraatheid van sy vertolkings. Daarby het hy ‘n boek oor Mahler geskryf. Onder sy eie komposisies tel twee simfonieë en ‘n vioolsonate. Sleutelopnames: Beethoven se simfonieë nrs. 4 en 6; Brahms se simfonieë nrs. 2-4; Bruckner se simfonieë nrs. 4 en 9; Mozart se simfonieë nrs. 38 en 40. Verdere opnames (as dirigent): simfonieë van Mahler (nrs. 1, 2, 4, 5 en 9), en Das Lied von der Erde (1960); ander orkeswerke van Mozart; die eerste bedryf van Die Walküre (Wenen 1930’s); (as pianis:) Mozart se Klavierkonsert nr. 20; en as begeleier vir Lotte Lehmann in liedere van Schumann.

Wand, Günter (1912-2002), Duitse dirigent en komponis. Hy het klavier en komposisie aan die Keulen Konserwatorium studeer. Nadat hy die Berlynse Filharmoniese Orkes in 1930 onder die die dirigeerstaf van die gevierde Wilhelm Furtwängler hoor speel het, het hy besluit om ‘n dirigent te word. Aanvanklik het hy dirigeerposte in Wuppertal en Detmold beklee, en vanaf 1939 was hy ‘n dirigent by die Keulen Opera tot hul verwoesting deur Geallieerde bomme in 1944. Hy het daarop die orkes van die Salzburg Mozarteum gedirigeer (1944/5). Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy na Keulen teruggekeer, waar hy musiekdirekteur geword het van die Keulen Opera (1945-8), algemene musiekdirekteur van die stad (vanaf 1946), dirigent van die Gürzenich-konserte (1946-74) en ‘n hoogleraar aan die Hochschule für Musik (vanaf 1948). Hy het ook wyd getoer, insluitend deur die Sowjet-Unie en Japan. Sy Britse debuut is in 1951 met die Londense Simfonie-orkes gemaak. Met sy Gürzenich-orkes het hy vanaf 1955 oor ‘n tydperk van drie dekades gesaghebbende opnames van Beethoven se volledige simfonieë gemaak. Oor die jare heen het hy met sy fyn afgewerkte vertolkings wye roem in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium verwerf.

Wand het in 1974 uit sy Keulense poste bedank en na Switserland verhuis, waar hy dirigent was van die Berne Simfonie-orkes (1974-82). Hy het in dié tyd ook begin om met van die groot Duitse radio-orkeste te werk. Vanaf 1977 het hy met die Keulense Radio Simfonie-orkes die volledige simfonieë van Schubert en Bruckner opgeneem. Hy het in 1982 hoofdirigent van die Noord-Duitse Radio Simfonie-orkes in Hamburg geword. Met hulle het hy hoogaangeskrewe opnames van Beethoven en Brahms se volledige simfonieë gemaak, waarin hy streng volgens die partiture te werk gegaan het. Hy was in die 1980’s ook hoofgasdirigent van die BBC Simfonie-orkes, en was voorts bekend vir sy buitengewone inoefeningstye. Vir sy Amerikaanse debuut met die Chicago Simfonie-orkes in 1989 het hy ‘n ongehoorde 11 ure se inoefeninge vereis en dit gekry. Veral in die musiek van Bruckner sou hierdie nougesetheid hom goed te pas kom – hy het nie minder nie as 4 opnames van sy agste simfonie nagelaat. Sleutelopnames: Bruckner se simfonieë nrs. 4 (Berlyn 1997) en 8 (Hamburg); Schubert se simfonieë nrs. 4, 5 en 9 (Hamburg), en 8 en 9 (Berlyn). Verdere opnames: Beethoven se Missa solemnis (Keulen 1965); en simfonieë van Bruckner (volledig), Mozart (nrs. 39-41), Schumann en Tsjaikofski.

Wangenheim, Volker (1928-), Duitse dirigent en komponis. Hy het hobo, dirigeerkuns en komposisie aan die Wes-Berlynse Konserwatorium studeer. Vervolgens was hy hoofdirigent van die stad se Mozart-Orkes (1950-9), musiekdirekteur vir die stad Bonn (1957-63) en algemene musiekdirekteur vir laasgenoemde stad. Daar het hy in 1969/70 met bekende soliste ‘n voortreflike opname van Beethoven se minder bekende oratorium Christus am ölberge gedirigeer. Hy was verder hoofdirigent van die Duitse Nasionale Jeugorkes (1969-84) en dirigent van die Bournemouth Sinfonietta (vanaf 1977). Daarby was hy vanaf 1972 ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Keulen Konserwatorium. Onder sy eie komposisies tel vele simfoniese en koorwerke.

Ward, David (1922-83), Skotse bas. Hy was aanvanklik 'n koorsanger by Sadler's Wells en daarna (1952-9) eerste bas by dié operahuis, waar hy onder andere in 1953 die rol van Graaf Walter in Luisa Miller gesing het. In 1956 het hy die rol van Pluto in die eerste opname van Monteverdi se opera-ballet Il ballo delle ingrate onder Denis Stevens gesing. Vier jaar later het hy by Glyndebourne, Covent Garden en die Bayreuth-fees gedebuteer, en in 1963 by die Metropolitan Opera. Met sy statige vertolkings was hy wêreldbekend as Wotan in die Ring, 'n rol wat hy gesing het by die Skotse Opera, Covent Garden (1964) en Buenos Aires (1967). In 1972 is die CBE aan hom toegeken. Hy was naas opera 'n begaafde konsertsanger. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Monteux), en die operas Pelléas et Mélisande en Montezuma.

Ward, Nicholas (1952-), Engelse dirigent. Beide sy ouers het in die beroemde Hallé Orkes gespeel, waar hulle trouens mekaar ontmoet het. Op twaalf het hy sy eie strykkwartet gestig, wat hy vir die volgende vyf jaar sou lei. Daarop is hy na die Koninklike Noordelike Musiekkollege in sy geboortestad Manchester, met verdere studies wat in Brussels gevolg het. Hy het in 1977 na Londen verhuis, waar hy in die Melos Ensemble en die Koninklike Filharmoniese Orkes gespeel het. In 1984 het hy medeleier van die City of London Sinfonia geword en 15 jaar later hul leier. Daarby het hy in 1986 leier van die Noordelike Kamerorkes in Manchester geword en later hul musiekdirekteur. Met dié ensemble sou hy roem verwerf deur talle hoogstaande opnames. Sleutelopnames: Haydn se simfonieë nrs. 6-8, 30, 55 en 63; Mozart se simfonieë nrs. 19, 20 en 37. Verdere opnames: Bach se Magnificat; Sinfonias van Beck; die volledige strykersimfonieë van Mendelssohn; talle simfonieë van Haydn, Hofmann, Mozart en J. Stamitz; Strawinski se Dumbarton Oaks Concerto en L’histoire du soldat; Telemann se La Changeante Suite, Les Nations anciens et modernes Suite en Suite in D; en Vivaldi se Beatus vir en Gloria in D.

Warren, Leonard (1911-60), Amerikaanse bariton van Russiese afkoms. Hy het in New York studeer en in 1937 die oudisies by die Metropolitan Opera gewen, waarop hy met 'n studiebeurs na Italië is. Daar het hy in Milaan studeer, en in 1939 het sy professionele debuut by die Met plaasgevind as Paolo in Simon Boccanegra. Daarna het hy spoedig beroemd geraak en wêreldwyd in opera gesing, met verdere debute wat gevolg het in San Francisco (1943), Chicago (1944) en by La Scala (1953). Hy sou tot sy dood aan die Met verbonde wees as die voorste Amerikaanse bariton van sy tyd, veral in die operas van Verdi. Onder die rolle waarin hy uitgeblink het, tel Escamillo in Carmen, Valentin in Faust, Rangoni in Boris Godoenof, Amonasro in Aida, Iago in Otello, Ferrando in Il Trovatore, en die titelrolle in Macbeth en Rigoletto. Hy het dikwels ook in radio-uitsendings opgetree. Tragies genoeg het hy tydens 'n opvoering van La forza del destino op die verhoog by die Met gesterf. Opnames: die genoemde operas van Bizet, Gounod en Moessorgski, asook Verdi se Aida, Macbeth, Rigoletto en Il Trovatore.

Warren-Green, Christopher (1955-), Engelse violis en dirigent. Sy debuut as solis is met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Simon Rattle gemaak. Hy tree gereeld as gasdirigent met bekende orkeste in Brittanje, die VSA en Japan op. Sedert 1988 is hy musiekdirekteur van die Londense Kamerorkes. Hy was voorts vir agt jaar ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie. Sleutelopnames: Elgar se Strykerserenade, Holst se St Paul’s Suite en Vaughan Williams se Fantasia on a Theme of Thomas Tallis (almal met die Koninklike Filharmoniese Orkes). Verdere opnames: die Strykerserenades van Dvorák, Elgar en Tsjaikofski; ‘n versameling orkeswerke van Adams, Glass, Heath en Reich; en Kodály se Hongaarse Rondo (as solis).

Watanabe, Akeo (1919-90), Japannese dirigent. Hy het in 1945 in Tokio gedebuteer en was vanaf 1948 vir ses jaar dirigent van die filharmoniese orkes in die Japannese hoofstad. In 1956 het hy die Japannese Filharmoniese Orkes gestig wat hy tot 1968 gedirigeer het, ‘n pos wat hy weer vanaf 1978 tot 1983 beklee het. Daarby was hy musiekdirekteur van die Kioto Simfonie-orkes (1970-2), die Tokio Metropolitaanse Simfonie-orkes (1972-8) en die Hirosjima Simfonie-orkes (1988-90). Hy was daarby 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Tokio Kunste-Universiteit (1962-7), en het as gasdirigent met verskeie Europese en Amerikaanse orkeste opgetree.

Watanabe, Yoko (1953-2004), Japannese sopraan. Aanvanklik het sy die klavier bestudeer, maar as tiener het sy ‘n opvoering van Madama Butterfly bygewoon wat die begin van ‘n lewenslange liefde vir opera sou blyk te wees. Sy het in 1976 aan die Tokio Nasionale Universiteit van Skone Kunste en Musiek gegradueer, waarna sy na Italië is om opera te studeer. Daarna sou sy meesal in dié land woon en optree. Nadat sy in 1978 in Treviso haar debuut gemaak het as Nedda in I Pagliacci, het sy wêreldbekend in die titelrol van Madama Butterfly geword. Sy sou dié rol honderde kere sing, onder andere in Manchester (1983), Chicago en Tokio (beide in 1986), by die Metropolitan Opera (1987) en Covent Garden (1989). Intussen het sy in 1985 by La Scala gedebuteer, en in dieselfde jaar het sy na haar geboorteland teruggekeer om Butterfly met die Fujiwara Opera te sing. Hoewel haar sang nie foutloos was nie, het sy daarvoor vergoed met die intensiteit van haar vertolkings. Naas haar bekendste rol het sy hoofrolle in Carmen, Faust, Don Giovanni, La Bohème en Turandot gesing. Sy het die eerste Japannees geword om by al die ‘Grand Slam’ operahuise op te tree, maar in 1999 het sy tydens ‘n opvoering siek geword. Vroeg in die volgende jaar is kanker gediagnoseer en moes sy uittree. Die siekte sou ná ‘n lang stryd haar lewe eis.

Watkinson, Carolyn (1949-), Engelse mezzosopraan. Nadat sy aan die Koninklike Musiekkollege in Manchester en in Den Haag studeer het, het sy as begaafde sangeres in Barokmusiek bekend geraak. In 1978 het sy in Rameau se Phédre by die Engelse Bach-fees in Londen gesing, en in die jaar daarop as Nero in Monteverdi se L’incoronazione di Poppeia. Onder haar verdere operarolle tel Orfeo in Orfeo ed Euridice, die titelrolle in Rinaldo en Serse, Cherubino in Le nozze di Figaro, Dido in Dido and Aeneas en Rosina in Il barbiere di Siviglia. Nog debute is gemaak by La Scala (1981) en die Glyndebourne-fees (1984), en in 1987 het sy deur Australië getoer. In 1989 het sy as solis in Bach se Sint Johannespassie gesing tydens ‘n BBC-uitsending vanuit die Gloucester-katedraal. Sleutelopname: Handel se oratorium Solomon (in die titelrol, onder John Eliot Gardiner). Verdere opnames: J.S. Bach se Kersfeesoratorium; Handel se Aci, Galatea e Polifemo (as Galatea) en sy genoemde operas; en Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln.

Watson, Claire (1927-86), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1951 haar operadebuut in Graz gemaak, as Desdemona in Otello. Later was sy ‘n lid van die Frankfurt Opera (1956-8) en die Beierse Staatsopera in München (1958-76). Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1958), en by die feeste in Glyndebourne (1960) en Salzburg (1966). Een van haar bekendste rolle was Ellen Orford in Peter Grimes, wat sy in ‘n klassieke opname onder die komponis Britten gesing het. Sy was ewe begaafd as die Grafin in Le nozze di Figaro, die Marschallin in Der Rosenkavalier, Freia in Das Rheingold, Sieglinde in Die Walküre en Gutrune in Götterdämmerung. Verdere opnames: Britten se Noye's Fludde; die operas Le nozze di Figaro, Das Rheingold en Götterdämmerung, en die eerste bedryf van Die Walküre (onder Knappertsbusch, op DVD).

Watson, Janice (1964-), Engelse sopraan. Sy het in 1987 die Kathleen Ferrier-gedenkbeurs gewen en in die jaar daarop haar debuut in Londen gemaak, as Drusilla in L'incoronazione di Poppea. Verdere debute het gevolg by die Walliese Nasionale Opera (1989), Covent Garden (1990) en die Engelse Nasionale Opera (1991). Sy het veral in moderne Britse opera bekendheid verwerf. Haar repertorium sluit verdere rolle in soos Ellen in Peter Grimes, die titelrolle in The Cunning Little Vixen, Jenufa en Daphne, Sybil in John Socman en Tormentilla in The Poisoned Kiss. Met haar ryk toonkleur is sy ook bekend as konsertsangeres in die Britse, Duitse en Franse repertoriums. Opnames: Beethoven se Kantate met die dood van Keiser Josef II; Howells se Missa Sabrinensis; Lloyd se A Litany; Orff se Carmina Burana; Sullivan se oratorium The Golden Legend (as Elsie); en die genoemde operas van Britten, Janácek (in Engels), Lloyd, Monteverdi en Vaughan Williams.

Watson, Lillian (1947-), Engelse sopraan. Ná haar debuut in 1970 by die Wexford-fees as Cis in Albert Herring, was sy vanaf 1971 vir vier jaar die eerste sopraan by die Walliese Nasionale Opera. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1971), die Glyndebourne-fees (1976), die Engelse Nasionale Opera (1978), die Salzburg-fees (1982) en in Wenen (1983). In 1993 het sy die rol van die Goeie Fee in die Britse première van Cendrillon in Cardiff gesing. Haar bekendheid lê merendeels in Mozart-rolle soos Konstanze in Die Entführung aus dem Serail en Papagena in Die Zauberflöte. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel Frasquita in Carmen, Jouvenot in Adriana Lecouvreur, die titelrol in Die geslepe klein wyfievos en Yvette in La Rondine. Opnames: Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream; madrigale van Monteverdi; en die genoemde operas van Bizet, Cilea, Janácek, Mozart en Puccini, asook Così fan tutte en Le nozze di Figaro.

Watts, André (1946-), Afro-Amerikaanse pianis. Hy het in 1955 sy debuut met die Philadelphia Orkes gemaak en in 1963 as solis met die New York Filharmoniese Orkes onder Leonard Bernstein gespeel. Drie jaar later is sy Europese debuut in Londen gemaak. Sedert 1967 toer hy wêreldwyd, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1976 gemaak is. Sy spel word gekenmerk deur virtuositeit sowel as sensitiwiteit, wat hom veral in die Romantiese repertorium goed te staan kom. Opnames: Brahms se tweede klavierkonsert (onder Bernstein); Liszt se klaviersonate, 6 Etudes d’execution transcendante d’apres Paganini, Hongaarse Rapsodie nr. 13 en ander solowerke.

Watts, Helen (1927-2009), Walliese alt. Sy het van kleins af klavier gespeel en later aan die Konklike Akademie studeer. Nadat sy aanvanklik in die kore van Glyndebourne en die BBC gesing het, het sy in 1955 haar debuut as solis by die Londense Proms onder Malcolm Sargent gemaak. Een van haar vroegste rolle was Orpheus in Gluck se opera. Haar operadebuut is in 1958 in die Britse hoofstad gemaak, as Didymus in Handel se Theodora. Daarna het sy verdere Handel-rolle met die Handel Operavereniging gesing, ook in Berlyn en Halle. In 1964 het sy met die Engelse Operagroep deur die Sowjet-Unie getoer, waartydens sy die titelrol in The rape of Lucretia gesing het. In dié jaar het haar Salzburg-feesdebuut ook plaasgevind, waar sy vervolgens rolle van Mozart en Richard Strauss sou sing. Daarna was sy verbonde aan Covent Garden (1965-71) en die Walliese Nasionale Opera (1969-83). Intussen het sy in 1967 haar Amerikaanse debuut in New York gemaak, waar sy in konsertwerke van Delius en Mahler bekendheid sou verwerf.

Watts was ‘n bekende sangeres in Britse opera, onder meer as Aunt Jane in Hugh the Drover, Mrs Quickly in Sir John in Love en Maurya in Riders to the Sea. Voorts was sy begaafd as Ursula in Béatrice et Bénédict en Miss Quickly in Falstaff. Haar bekendheid het egter merendeels in konsertmusiek gelê, veral in gewyde werke oor ‘n wye repertorium. In 1978 is die CBE aan haar toegeken. Opnames: talle kantates van Bach; Beethoven se negende simfonie (onder Stokowski) en Mis in C; Bloch se Israel symphony; Brahms se Alt Rapsodie en Twee liedere (opus 91); Britten se Cantata academica; Delius se A Mass of Life; Elgar se oratoriums The Apostles, The Dream of Gerontius en The Light of Life; Handel se oratorium Messiah; Haydn se Misse nrs. 8, 10, 13 en 14; Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder Solti) en 8 (onder beide Solti en Horenstein); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Haitink); ‘n versameling kantates van Handel en A. Scarlatti (onder Leppard); die genoemde operas van Berlioz en Vaughan Williams, asook A Midsummer Night's Dream, Dido and Aeneas en The Midsummer Marriage.

Weber, Ludwig (1899-1974), Oostenrykse bas. Hy het sy operadebuut in 1920 by die Weense Volksopera gemaak. Daarna het hy opera gesing in Elberfeld (1925-7), Düsseldorf (1927-30), Keulen (1930-3), München (1933-45) en Wenen (vanaf 1945). In München het hy in 1938 die rol van Holsteiner tydens die première van Richard Strauss se opera Friedenstag geskep. Daarby het hy opgetree by Covent Garden (1936-9, 1947, 1950/1), en by die feeste in Salzburg (1939-47) en Bayreuth (1951-60). As een van die voorste basse van sy tyd in Duitse opera het hy uitgeblink in rolle soos Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Daland in Der fliegende Holländer, Fasolt, Fafner, Hunding en Hagen in die Ring-siklus, Gurnemanz in Parsifal en Koning Mark in Tristan und Isolde. Hy het in uitstekende opnames van dié operas van Richard Strauss en Wagner gesing. Voorts het hy as solis geskitter in Wilhelm Furtwängler se legendariese 1954-opname van Beethoven se negende simfonie by die Bayreuth-fees.

Weense Filharmoniese Orkes, Oostenrykse simfonie-orkes wat in 1842 deur Otto Nicolai gestig is. Hy het hulle tot 1848 gedirigeer, maar met die rewolusie van daardie jaar is hul konserte tot 1860 onderbreek. Sedertdien het hulle as een van die wêreld se beste orkeste bekend geraak, met briljante hoofdirigente soos Hans Richter (1875-98), Gustav Mahler (1898-1901), Felix Weingartner (1907-27), Wilhelm Furtwängler (1927/8), Clemens Krauss (1929-33), Furtwängler en Bruno Walter tesame (1933-38), en Furtwängler (1938-54). Daarna het beroemde musici soos Herbert von Karajan, Karl Böhm, Claudio Abbado en Christian Thielemann gereeld die orkes gedirigeer. In 1959 het Karajan die orkes op ‘n wêreldtoer gelei, insluitend 10 konserte in die VSA. Sy laaste internasionale toer is in 1989 met hul onderneem, wat drie heuglike konserte in New York ingesluit het. Die orkes is selfregerend en verskaf die musiek by beide die Weense Staatsopera en die Salzburg-fees. Hul spel is onoortreflik in die Weense Klassiek-Romantiese tradisie.

Weense Seunskoor, skoolkoor van die Weense Seminarie wat in 1498 gestig is. Hulle het aanvanklik in die imperiale hofkapel gesing, en vanaf 1929 het hul ‘n gereelde instelling by die Salzburg-fees geword. Een van die hoogaangeskrewe opnames waarin hul verskyn, is Wilhelm Furtwängler se 1954-weergawe van Bach se Sint Mattheüspassie.

Weense Staatsopera, Oostenrykse operageselskap wat as een van die voorstes ter wêreld beskou word. Oorspronklik was dit bekend as die Weense Hofopera, met ‘n teater wat in 1748 geopen is. Die komponis Gluck was vanaf 1754 tot 1780 die kapelmeester, met tien van sy operas wat vir Wenen geskryf is. ‘n Nuwe teater is in 1869 geopen, met Hans Richter as mede-direkteur vanaf 1880 tot 1896. Hy is opgevolg deur Gustav Mahler, onder wie se bewind die operahuis hul mees glorieryke dekade beleef het. Ná Mahler was die direkteure Felix Weingartner (1907-11) en Hans Gregor (1911-8), en in 1918 het die Hofopera die Staatsopera geword. Onder hul direkteure sedertdien het getel Richard Strauss (1919-24), Clemens Krauss (1929-34), weer Weingartner (1934-6), Bruno Walter (1936-8) en Karl Böhm (1943-5). In 1945 is die teater deur Geallieerde bomme vernietig, en vir die volgende dekade het Böhm, Krauss en Josef Krips die Opera in ander lokale gelei. Die herboude teater is in 1955 ingewy met ‘n opvoering van Fidelio, met Böhm as musiekdirekteur (1955/6). Verdere direkteure was Herbert von Karajan (1957-64), Lorin Maazel (1982-4) en Claudio Abbado (1986-91). In 2005 is ‘n konsert gegee ter herdenking van die halfeeu sedert die teater se heropening, met van die voorste sangers ter wêreld wat opgetree het. Die dirigente tydens die glansgeleentheid was Daniele Gatti, Zubin Mehta, Seiji Ozawa, Christian Thielemann en Frans Welser-Möst, met ‘n DVD-opname wat dit verewig het.

Weense Simfonie-orkes, Oostenrykse orkes wat in 1900 deur Ferdinand Löwe gestig is. Hy het hul tot 1924 gedirigeer. In 1934 het die ensemble Wenen se vernaamste uitsaai-orkes geword. Vier jaar later is hulle deur die stad oorgeneem om as munisipale orkes te dien. Die orkes is in 1944 ontbind omdat baie van hul musikante in wapenfabrieke moes gaan werk. Hul eerste na-oorlogse konsert is in September 1945 met Mahler se derde simfonie gegee. Sedert 1946 dien die ensemble as residensiële orkes vir die jaarlike Bregenz-fees, met die beroemde drywende verhoog op die Bodenmeer. Die orkes het in 1959 vir Pous Johannes XXIII by die Vatikaanstad gespeel en drie jaar later het hul aan die herinwyding van die Theater an der Wien in die Oostenrykse hoofstad deelgeneem. Sedert die 1950’s het die ensemble ‘n hele aantal toere deur Europa, Noord-Amerika en Japan onderneem. Hul na-oorlogse hoofdirigente was Hans Swarowsky (1946-48), Herbert von Karajan (1948-60), Wolfgang Sawallisch (1960-70), Josef Krips (1970-73, as artistieke raadgewer), Carlo Maria Giulini (1973-76), Gennadi Rozhdestwenski (1981-83), Georges Prêtre (1986-91, as hoofgasdirigent), Rafael Frühbeck de Burgos (1991-96) en Wladimir Fedosejef (1997-2005). Sedert 2005 is Fabio Luisi die hoofdirigent, en in 2011 is daar aangekondig dat Philippe Jordan vanaf 2014 die pos sal beklee.

Weikl, Bernd (1942-), Oostenrykse bariton. Nadat hy in 1968 sy debuut met die Hannover Opera as Ottakar in Der Freischütz gemaak het, het hy tot 1970 daar gesing. Vervolgens het hy vir twee jaar in Düsseldorf opgetree, met verdere debute wat sou plaasvind by die Salzburg Paasmusiekfees (1971), die Bayreuth-fees (1972), Covent Garden (1975), die Metropolitan Opera (1977) en die Salzburg-fees (1984). Met sy ferm, donker stem blink hy uit in verdere rolle soos Vader in Hänsel und Gretel, Morone in Palestrina, Mandryka in Arabella, Kunrad in Feuersnot, die titelrol in Jewgeni Onegin, beide Hans Sachs en Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg, Amfortas in Parsifal en Wolfram in Tannhäuser. Hy het Amfortas gesing by die Bayreuth-fees van 1981, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Brahms se Ein deutsches Requiem; Schubert se liedere-siklus Winterreise; die operette Die Fledermaus; en die genoemde operas van Humperdinck, Pfitzner, R. Strauss, Tsjaikofski, Wagner en Weber.

Weil, Bruno (1949-), Duitse dirigent. Nadat hy in 1979 'n tweede prys in die Karajan- dirigeerkompetisie gewen het, was hy vir die volgende tien jaar musiekdirekteur van die Augsburg Opera. Verdere debute is gemaak by die Weense Opera (1985), die Salzburg-fees (1987), New York (1988), Los Angeles (1989) en die Glyndebourne-fees (1992). In 1990/1 het hy met die Engelse Kamerorkes deur Duitsland getoer, en sedert 1991 is hy musiekdirekteur van die Bach-fees in Carmel, Kalifornië. Met die Orchestra of the Age of Enlightenment en ‘n aantal Weense kore (waaronder die beroemde Seunskoor) het hy uitstekende opnames van Schubert se volledige misse gemaak. Daarby het hy begin om die volledige simfonieë van Haydn met die Kanadese ensemble Tafelmusik op te neem, maar dit moes soos die soortgelyke prjekte van Goodman en Hogwood weens teleurstellende verkope onderweg afgelas word. Die vooraanstaande Haydn-geleerde H.C. Robbins Landon het as musiekadviseur daarvan gedien. Hy het voorts die eerste opname van Wagner se opera Der fliegende Holländer in die oorspronklike (1841) weergawe gedirigeer. Sleutelopnames: Haydn se Mis nr. 9, 2 motette, en Te Deum vir die Keiserin Maria Thérèse (Tafelmusik); Weber se opera Abu Hassan (Capella Coloniensis). Verdere opnames: J.C. Bach se opera Endimione; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Weber se eerste simfonie, en sy opera Der Freischütz.

Weingartner, Felix (1863-1942), Oostenrykse dirigent, komponis en skrywer. Hy het in Graz en Leipzig studeer, en in 1883 onder Franz Liszt in Weimar. Dié musiekreus het sy leerling se opera Sakantula in die jaar daarop vir opvoering in Weimar aanbeveel. Daarna was hy aan verskeie Duitse operahuise verbonde, onder andere in Königsberg (1884/5), Danzig (1885-7), Hamburg (1887-9), Mannheim (1889-91) en Berlyn (1891-98). In 1907 het hy die komponis-dirigent Mahler as direkteur van die Weense Staatsopera opgevolg, ‘n prestige-pos wat hy vir vier jaar sou beklee. Vervolgens het hy opera gedirigeer in Hamburg (1912-4), Darmstadt (1914-9) en by die Weense Volksopera (1919-24). Intussen was hy ook dirigent van die Berlynse hofkonserte (1891-1907), die Kaim Orkes in München (1898-1905), die Weense Filharmoniese Orkes (1907-27) en in Basel (1927-33). Met sy Weense orkes het hy in 1913 die première van Korngold se Sinfonietta gegee. Verder was hy direkteur van die Basel Konserwatorium (1927-33) en van die Weense Staatsopera (1935/6). Internasionale debute is oor die jare heen gemaak in Londen (1898), New York (in 1904 met 'n konsert), Boston (sy Amerikaanse operadebuut in 1912), by die Salzburg-fees (1934) en by Covent Garden (1939).

Weingartner was wêreldbekend vir sy indiwidualistiese, fyn besnede vertolkings van die Duitse Klassieke repertorium. Hy het die eerste dirigent geword om Beethoven se volledige simfonieë op te neem. Die projek is met ‘n aantal orkeste onderneem, vanaf 1923 in Londen tot 1938 in Wenen. Daarby het hy in 1937 die eerste opname van die musiekreus se Driedubbele konsert met die Weense Filharmonie gemaak. Sy Beethoven-vertolkings is gekenmerk deur ‘n klassieke suiwerheid, sonder enige gewigtigheid of oordrywing. Hy het in 1935 Schubert se sketse vir sy sewende simfonie georkestreer, en in dieselfde jaar het hy in Basel die eerste twintigste-eeuse uitvoering van Bizet se herontdekte Simfonie in C gedirigeer. Voorts het hy Beethoven se klaviersonate nr. 29 (Hammerklavier) georkestreer en met die Koninklike Filharmoniese Orkes opgeneem. Hy het ook boeke geskryf, onder meer oor die dirigeerkuns en oor die vertolking van Beethoven se simfonieë, en het die volledige werke van Berlioz geredigeer. Self het hy operas, simfonieë, konserte, strykkwartette en ander werke gekomponeer. Verdere opnames: 7 ouvertures van Beethoven en sy 11 Weense Danse.

Weir, Gillian (1941-), Nieu-Seelandse orrelis en klawesimbelspeler. Ná studies in Londen het sy haar debuut in 1965 in die Britse hoofstad gemaak. In dieselfde jaar was sy die solis in Poulenc se orrelkonsert by die Londense Proms, en in 1967 het haar Amerikaanse debuut in New York gevolg. Sy is wêreldwyd as orrelis bekend, veral in die musiek van Messiaen. Van dié groot moderne komponis se Méditations sur le mystère de la Sainte Trinité het sy in 1973 die Britse première gegee. Sy het verder in 1987 die première van Michael Berkeley se orrelkonsert gegee. In 1989 is die CBE aan haar toegeken en sewe jaar later is sy tot dame geskep. Sy het in 1994 op die orrel van die Aarhus Katedraal in Denemarke die volledige orrelwerke van Messiaen opgeneem, in vertolkings gekenmerk deur besondere virtuositeit en beheer. Verdere opnames: solowerke van Bach; die volledige orrelwerke van Franck; Kodály se Laudes organi en Psalm 114 (beide onder Heltay); Saint-Saëns se derde simfonie (onder Yan Pascal Tortelier); en Stanford se Konsertstukke.

Weissenberg, Alexis (1929-), Boelgaars-gebore pianis. Hy het in 1944 as tiener uit ‘n Duitse konsentrasiekamp ontsnap en na Palestina gevlug, waar hy sy debuut gemaak het. In 1947 het hy na New York gegaan om onder die klawerbordreuse Wanda Landowska en Artur Schnabel te studeer, asook aan die Juilliard Musiekskool. Hy het in dieselfde jaar sy Amerikaanse debuut met die New York Filharmoniese Orkes onder Georg Szell gemaak en in 1948 het hy die Leventritt-kompetisie gewen. In 1956 het hy hom in Parys gevestig en ‘n Franse burger geword. Daarna het hy tydelik uitgetree, totdat hy tien jaar later sy terugkeer gemaak het met ‘n uitvoering van Tsjaikofski se eerste klavierkonsert onder Herbert von Karajan in Berlyn. Sedertdien het hy ‘n bekende solis met orkeste in Europa en Noord-Amerika geword, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1968) en in Londen (1974). Opnames: Bartók se tweede klavierkonsert (onder Ormandy); Beethoven se volledige klavierkonserte en Franck se Simfoniese Variasies (almal onder Karajan); Brahms se tweede klavierkonsert; Prokofiëf se derde klaviersonate; en Saint-Säens se Karnaval van die Diere (onder Prêtre).

Weldon, George (1906-63), Engelse dirigent. Hy was hoofdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1943-51), en vanaf 1952 was hy met die beroemde John Barbirolli mededirigent van die Hallé Orkes. In 1955/6 het hy die Sadler’s Wells Ballet gedirigeer. Met die Philharmonia Orkes het hy hoogstaande opnames van Delius se orkestussenspel La Calinda en Tsjaikofski se ballet Doringrosie gemaak.

Welitsch, Ljuba (1913-96), Bulgaars-gebore Oostenrykse sopraan. Nadat sy in 1934 haar operadebuut in Sofia gemaak het in Charpentier se Louise, was sy verbonde aan operahuise in Graz (1936-40), Hamburg (1941-3), München (1943-6) en Wenen (1946-58). Verdere debute is gemaak by die feeste in Salzburg (1946) en Edinburgh (1949), asook by Covent Garden (1947) en die Metropolitan Opera (1948). As opwindende sanger-aktrise was sy onoortreflik in die titelrol van Salome, wat sy in 1944 onder Richard Strauss self gesing het tydens die viering van sy tagtigste verjaarsdag in Wenen. Sy het verder uitgeblink as Donna Anna in Don Giovanni, met ‘n 1950-opname in Salzburg onder Wilhelm Furtwängler wat daarvan getuig. In 1956 het sy die rol van Marianne gesing in Karajan se ongeëwenaarde opname van Der Rosenkavalier. Sy was ook ‘n lewenskragtige vertolker van Verdi en Puccini, onder andere in die titelrolle van Aïda en Tosca en as Musetta in La Bohème.

Weller, Walter (1939-), Oostenrykse violis en dirigent. Hy was aanvanklik ‘n violis in die Weense Filharmoniese Orkes, en vanaf 1961 tot 1969 was hy hul leier. In 1958 het hy die Weller Strykkwartet gestig, wat hy op toere deur Europa en die VSA gelei het. Hy het in 1966 sy debuut as violis by die Salzburg-fees gemaak en vyf jaar later ook as dirigent, nadat sy dirigeerdebuut in 1968 plaasgevind het. Later was hy hoofdirigent van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1977-80) en die Koninklike Filharmoniese Orkes (1980-85). Vanaf 1991 was hy vir ses jaar musiekdirekteur van die Koninklike Skotse Nasionale Orkes, en as gasdirigent tree hy by verskeie operahuise op. Opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Mendelssohn en Prokofiëf; Brahms se volledige Hongaarse Danse; Smetana se Má vlast; en ‘n versameling operette-arias en -duette met Renate Holm en Werrner Krenn.

Welser-Möst, Franz (1960-), Oostenrykse dirigent. Na studies onder die komponis Baduin Suzer was hy in 1979 ‘n finalis in die Karajan-dirigeerkompetisie. Vervolgens was hy tot 1985 hoofdirigent van die Oostenrykse Jeugorkes, met wie hy ‘n aantal radio- en televisie-opnames gemaak het. Hy het in 1985 by die Salzburg-fees gedebuteer, en in dieselfde jaar het hy musiekdirekteur van die orkeste in Winterthur, Switserland en Norrköping, Swede geword. Sy Britse debuut is in 1986 met die Londense Filharmoniese Orkes gemaak, wat hy die jaar daarop op ‘n Europese toer in verskeie stede sou dirigeer. Hy het in 1990 hul musiekdirekteur geword, met toere wat sou volg na Japan en Noord-Amerika (1992), en na Suid-Afrika (1993). Intussen het sy operadebuut in 1987 by die Weense Staatsopera plaasgevind, twee jaar later sy Amerikaanse debuut met die Sint Louis Simfonie-orkes en in 1993 sy Glyndebourne-feesdebuut. In 1995 moes hy sy Londense orkes onder kritiek verlaat. Hy het daarop musiekdirekteur van die Zürich Opera geword, waar hy vier jaar tevore met Der Rosenkavalier gedebuteer het. Met dié geselskap het hy in 1999 Johann Strauss junior se minder bekende operette Simplicius herleef en opgeneem.

Welser-Möst het Christoph von Dohnányi in 2002 as musiekdirekteur van die Cleveland Orkes opgevolg. As gasdirigent tree hy met die voorste orkeste in Europa en die VSA op. Sy kontrak in Cleveland is intussen tot 2012 hernu, ‘n ongehoorde stap in die Amerikaanse musiekwêreld. Daarby is hy nou betrokke by die Bruckner-fees in sy geboortestad Linz, waar hy gereeld dirigeer. Hy het in 2004 opvoerings van Pelléas et Mélisande en Der Rosenkavalier in Zürich gedirigeer, met uitstekende DVD-opnames wat van beide gemaak is. Tydens die Herbert von Karajan eeufeesvierings in 2008 het hy laasgenoemde opera by dieselfde teater gedirigeer. Sleutelopnames: Orff se Catulli Carmina en Trionfo di Afrodite; Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln (Beierse Radio, 1997). Verdere opnames: simfonieë van Bruckner (nr. 5), Mahler (nr. 4) en Schmidt; Mozart se Mis in C mineur en Requiem; Orff se Carmina Burana; Pärt se Fratres; Schmidt se Variasies op ‘n Husaarlied; Lehár se operette Die lustige Witwe; en die operas Hänsel und Gretel, Oedipus Rex en Macbeth.

Welsh, Moray (1947-), Skotse tjellis. Nadat hy in 1972 sy Londense debuut gemaak het, het hy vir twintig jaar (1973-93) aan die Koninklike Noorelike Musiekkollege onderrig in tjello gegee. Hy het as solis met bekende orkeste opgetree, en tot 1984 was hy ook lid van 'n trio met die pianis Anthony Goldstone en die violis Ralph Holmes. Sedert 1993 is hy mede-eerste tjellis van die Londense Simfonie-orkes. Onder Alasdair Mitchell het hy in 'n hoogstaande opname van McEwen se Hills o'Heather gespeel.

Wengerof, Maxim (1974-), Russiese violis. Hy is gebore in Nowosibirsk, die hoofstad van Wes-Siberië, en het in ‘n musikale gesin grootgeword. Op vierjarige leeftyd het hy met vioollesse begin, en as wonderkind het hy sy openbare debuut op vyf gemaak. Vanuit die staanspoor het hy soveel tyd as moontlik aan viooloefening bestee, selfs in die ysige wintermaande terwyl sy vriende besig was om hul gunstelingsport yshokkie te speel. Hy is as sewejarige met sy leermeester Galina Turtsjaninowa na Moskou vir verdere studies, en drie jaar later het hy die Junior Wieniawski-kompetisie in Pole gewen. Daarna het hy in Moskou onder Zakhar Bron studeer en in 1985 in die Russiese hoofstad gedebuteer. Toe Bron as hoogleraar aan die Lübeck Konserwatorium in die voormalige Oos-Duitsland aangestel is, het die jong violis hom soontoe gevolg. Hy het in 1989 sy internasionale deurbraak met ‘n uitvoering in Amsterdam gemaak en dit in die jaar daarop bevestig deur die internasionale Carl Flesch-kompetisie in Londen te wen. Sedertdien tree hy wêreldwyd met van die voorste orkeste op, met verdere debute wat gemaak is in New York (1991) en by die Londense Proms (1992). Nadat hy aanvanklik in Tel Aviv gaan woon het, het hy hom mettertyd in Amsterdam gevestig.

Met sy hartstogtelike dog verfynde spel in die tradisie van sy groot landgenoot en voorganger David Oistrach is Wengerof ‘n gewilde solis in veral die Romantiese en moderne Russiese repertoriums. Hy tree dikwels met die gevierde dirigente Daniel Barenboim en Mstislaf Rostropowitsj in konserte en opnames op. In 1994 is hy as Gramophone se Jong Kunstenaar van die Jaar aangewys, en in die jaar daarop is sy opname van Prokofiëf en Sjostakowitsj se eerste vioolkonserte as Gramophone se Opname van die Jaar bekroon. ‘n Verdere eer het hom te beurt geval toe hy in 1997 die eerste klassieke kunstenaar geword het om as UNICEF se Ambassadeur vir Musiek aangewys te word. Ter opvolging van sy vroeëre prestasie is hy in 2002 as Gramophone se Kunstenaar van die Jaar bekroon. Hy bespeel ‘n Stradiwarius-viool wat in 1727 gemaak is. Sleutelopnames: Saint-Saëns se Havanaise en Inleiding en rondo capriccioso (onder Mehta); Sjostakowitsj se 2 vioolkonserte (onder Rostropowitsj); Waxman se Carmen Fantasie (onder Mehta). Verdere opnames: vioolkonserte van Brahms, Britten, Bruch, Glazoenof, Mendelssohn, Nielsen, Paganini, Prokofiëf, Sibelius, Strawinski en Tsjaikofski; Bach se Toccata en Fuga in D mineur (vir soloviool verwerk); Ravel se Tzigane; Sjedrin se Concerto cantabile; Tsjaikofski se Sérénade mélancolique; Walton se altvioolkonsert; ‘n aantal vioolsonates van Beethoven, Paganini, Sjedrin en Ysaÿe; en Schubert se Fantasie in C (met Irina Winogradowa as pianis).

Wenzinger, August (1905-), Switserse tjellis en dirigent. Hy was eerste tjellis van die Bremen Simfonie-orkes (1929-34) en die Basel Orkes (1934-70), en tegelykertyd tjellis in die Basel Kwartet (1933-47). In 1933 was hy ‘n medestigter van die ‘Schola Cantorum Basiliensis’, met wie hy pionieruitvoerings van Barok-orkeswerke volgens eietydse praktyke gegee het. Hul opnames van Gibbons en Purcell se Fantasias vir viole word hoog aangeskryf. Vanaf 1936 was hy ook ‘n hoogleraar in musiek aan die Basel Akademie. Hy het gespeel in Fritz Werner se hoogstaande opnames van ‘n groot aantal Bach-kantates vanaf die laat 1950’s tot die vroeë 1970’s.

Werba, Erik (1918-), Oostenrykse pianis en komponis. Hy het vanaf 1945 vir twintig jaar as musiekkritikus gewerk en vanaf 1949 deur Europa as begeleier vir bekende sangers getoer. Sy Salzburg-feesdebuut is in 1954 gemaak. Oor die jare heen sou hy in voordragte en opnames met groot liedere-sangers soos Rita Streich, Irmgard Seefried (1957), Nicolai Gedda (1961) en Christa Ludwig (1982) optree. Verder was hy vanaf 1949 ‘n hoogleraar in sang en oratorium aan die Weense Musiekakademie, en het hy boeke oor die Oostenrykse liedere-komponiste Marx en Wolf geskryf.

Werner, Fritz (1898-1977), Duitse orrelis, dirigent en komponis. Hy het uit ‘n musikale familie gekom en in 1920 in Berlyn met studies begin. Dit het musiekteorie, orrel, klavier, viool en komposisie ingesluit. In 1935 het hy die Mendelssohn-prys vir komposisie gewen, en in die jaar daarop het hy sy loopbaan as kerkmusikus in Berlyn en Potsdam begin. Hy was ‘n orrelis in Potsdam totdat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, waarop hy na Frankryk is. Daar het hy musiekdirekteur van die Duitse radio in besette Frankryk geword. Ná die oorlog het hy na sy geboorteland teruggekeer en hom in Heilbronn gevestig. In dié stad was hy orrelis van die Sint Kilian-kerk (1946-64), en het hy in 1947 die Heinrich Schütz-koor gestig. Hy sou ‘n hele aantal toere met hulle onderneem. In 1954 het die deelstaat Baden-Württemberg die titel professor aan hom toegeken, en 20 jaar later het die Franse regering hom as Ridder van die Orde van Kunste en Lettere benoem. Met die Schütz-koor en die Pforzheim Kamerorkes het hy talle werke van Bach opgeneem. Daaronder tel meer as 60 kantates, die Sint Mattheus- en Sint Johannes-passies, die Paasfees- en Kersfees-oratoriums, die 6 motette en die Mis in B mineur. Die kantate-siklus word gekenmerk deur warmte, grasie en spontaniteit. Hy het self gewyde werke, simfonieë en ander orkeswerke gekomponeer.

Wes-Oosterse Divan-orkes, bestaande uit jong Israeliese en Arabiese musikante vanuit verskeie lande. Hul ontstaan dateer terug na 1999, toe die pianis-dirigent Daniel Barenboim en sy vriend, die skrywer Edward Said, die Oos-Wes Orkes-werkswinkel in Chicago gestig het. Vervolgens het jong Arabiese en Joodse musici jaarliks vir drie weke in die Amerikaanse stad ontmoet om saam musiek te maak. Die projek het mettertyd in ‘n volwaardige orkes van internasionale statuur ontwikkel, gebaseer in die Spaanse stad Seville. Hierdie basis is van groot simboliese belang, want vir honderde jare tydens die Middeleeue het Christene, Moslems en Jode vreedsaam in Seville gewoon. Die orkes se naam is ontleen aan ‘n bundel gedigte van die groot Duitse skrywer Goethe. Tydens hul tiende verjaardagviering in 2009 het die orkes ‘n konsertweergawe van Beethoven se Fidelio by die Londense Proms uitgevoer. Hulle het ook ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie in Berlyn gegee, met ‘n Duitse koor en soliste en ‘n DVD wat daarvan getuig. In 2010/11 het die orkes ‘n konserttoer deur Sjina en Suid-Korea onderneem, waartydens Beethoven se nege simfonieë in verskillende stede uitgevoer is. Hulle het voorts tydens die Londense Proms van 2012 opnuut die volledige simfonieë van Beethoven uitgevoer. Enkele dae later het hul die musiekreus se negende simfonie tydens die inwydingseremonie van die Olimpiese Spele in die Britse hoofstad gespeel.

Wexford, dorp in die suidooste van Ierland waar ‘n jaarlikse operafees in die herfs gehou word. Die musiekfees is in 1951 deur T.J. Walsh gestig, wat tot 1966 die artistieke direkteur sou wees. Hy is opgevolg deur Brian Dickie (1966-74), Thomson Smillie (1974-8), Adrian Slack (1979-81), Elaine Padmore (1982-94) en Luigi Ferrari (sedert 1995). Die fees is bekend vir hul ontdekking van opkomende sangers en dirigente en hul herlewing van Italiaanse operas in die bel canto styl, hoewel moderne operas ook daar opgevoer word.

White, Willard (1946-), Jamaikaanse bas-bariton wat in Engeland woonagtig is. Hy het in 1968 ‘n beurs vir studies aan die Juilliard Musiekskool in New York gewen en het ook in meesterklasse van Maria Callas deelgeneem. In 1974 het hy in Washington, D.C. gedebuteer as Trulove in The Rake's Progress. Verdere debute is gemaak by die New York Stadsopera en die Walliese Nasionale Opera (beide in 1974), die Engelse Nasionale Opera (1976), die Glyndebourne-fees en Covent Garden (beide in 1978), en die Salzburg-fees (1990). Hy is uitmuntend in die manlike hoofrol van Porgy and Bess, wat hy in 1986 by Glyndebourne gesing het. By die Skotse Opera het hy die rol van Wotan vertolk in opvoerings van Wagner se Das Rheingold (1989) en Die Walküre (1991). Hy het ook uitgeblink as Méphistophélès in ‘n opvoering van Berlioz se La damnation de Faust by die Salzburg-fees in 1999, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Onder sy verdere rolle tel Josef in El Nino, die Blinde Man in Gloriana, Nekrotzar in Le Grand Macabre, en die titelrolle in Boris Godoenof en Der fliegende Holländer. Daarby is hy 'n begaafde konsertsanger, onder meer in Elgar se The Dream of Gerontius en Sjostakowitsj se dertiende simfonie. In 1995 is die CBE aan hom toegeken. Sleutelopnames: Tippett se A Child of our Time (onder Hickox); Zemlinsky se Symphonische Gesänge (onder Chailly). Verdere opnames: liedere van Copland; Handel se Acis and Galatea (as Polyphemus) en Israel in Egypt; Mendelssohn se Elijah; Mozart se Requiem; en die genoemde operas van Adams, Britten en Ligeti.

Whittaker, William (1876-1944), Engelse orrelis, dirigent en komponis. Hy het in 1915 die Bach-koor van Newcastle gestig en hulle vervolgens gedirigeer. Saam het hulle in 1924 die eerste uitvoering in drie eeue van William Byrd se Great Service gegee. In 1930 het hy orrelsonates van die Barok-komponis William Young in Swede ontdek en hulle in Brittanje uitgevoer. Daarbenewens was hy ‘n hoogleraar in musiek aan die Glasgow Universiteit (1924-41) en hoof van die Skotse Nasionale Musiekakademie (1929-41). Hy was 'n lewenslange kampvegter vir die musiek van Bach, waarvan hy sommige werke geredigeer het, van sy komponis-vriende Holst en Vaughan Williams, en van Franse komponiste soos Debussy, Poulenc en Satie. Verder het hy 'n boek oor die kantates van Bach geskryf.

Whyte, Ian (1901-60), Skotse dirigent en komponis. Hy het musiekuitsendings in Skotland gepionier, aanvanklik as musiekdirekteur van die BBC in Skotland, en vanaf 1945 tot 1960 as dirigent van die BBC Skotse Orkes wat hy in 1935 gestig het. In 1952 is die OBE aan hom toegeken.

Widdop, Walter (1892-1949), Engelse tenoor. Nadat hy in 1923 sy operadebuut in Leeds as Radames in Aïda gemaak het, het hy vanaf 1924 tot 1937 gereeld by Covent Garden gesing. Daar het hy bekend geraak vir sy Wagner-vertolkings, veral in die titelrol van Lohengrin, as Siegmund en Siegfried in die Ring, en as Tristan in Tristan und Isolde. Van laasgenoemde is uittreksels in 1926/7 onder Leo Blech en Albert Coates opgeneem. In 1936 het hy in die Britse première van Strawinski se Oedipus Rex onder Ernest Ansermet gesing. Twee jaar later was hy 'n solis tydens die eerste uitvoering van Vaughan Williams se Serenade to Music. Hy het ook in Barcelona, Amsterdam en Duitsland gesing.

Wigglesworth, Mark (1964-), Engelse dirigent. Hy het in 1989 sy debuut met die Nederlandse Radio Filharmoniese Orkes gemaak. In die jaar daarop is sy operadebuut in Londen gemaak met ‘n opvoering van Don Giovanni. Vanaf 1991 was hy vir drie jaar musiekdirekteur van die Opera Factory, met verdere debute wat gevolg het by die Skotse Opera (1991), met die Berlynse Filharmoniese Orkes (1994) en in Los Angeles (1995). Hy was vanaf 1996 vir vyf jaar hoofdirigent van die BBC Nasionale Orkes van Wallis. Met die Première Ensemble het hy ‘n sonderlinge opname van Mahler se Das Lied von der Erde volgens Schoenberg se verwerking gemaak. Verdere opnames: Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 5 en 13.

Wild, Earl (1915-2010), Amerikaanse pianis en komponis. As tiener was hy verbonde aan ‘n radio-orkes in Pittsburgh (1930-5), en later het hy in die NBC Simfonie-orkes onder Toscanini gespeel (1937-44). Sy konsertdebuut is in 1944 in New York gemaak, en vanaf dieselfde jaar tot 1968 het hy op die musiekpaneel van ABC Televisie gedien. Intussen het hy in 1961 by John Kennedy se inhuldiging as Amerikaanse president opgetree, en in 1973 is sy Londense debuut gemaak. Met sy formidabele tegniek was hy wêreldbekend in die virtuoos-musiek van veral Liszt en Rachmaninof. Hy het in 1965 onder Jascha Horenstein in uitstekende opnames van Rachmaninof se volledige klavierkonserte en Paganini Rapsodie gespeel. Daarby het hy onderrig in klavier gegee aan universiteite in Pennsylvania en Ohio, asook by die Juilliard Musiekskool (1977-87). Verder opnames: klavierkonserte van Chopin, Copland, Gershwin, Liszt, MacDowell, Menotti en Tsjaikofski; ander werke vir klavier en orkes van Dohnányi, Fauré, Franck en Gershwin; en solowerke van Balakiref, Beethoven, Chopin, Godowski, Herz, Hummel, Liszt, Metner, Mozart, Rubinstein, Paderefski en Thalberg.

Wilde, David (1935-), Engelse pianis en komponis. Nadat hy in 1961 die wenner van die Liszt-Bartók kompetisie in Boedapest was, het hy as solis opgetree met bekende orkeste in Europa en die VSA. Hy was ook 'n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekakademie (1965-7) en die Koninklike Manchester Musiekkollege (1967-9), en soms dirigeer hy. Onder sy voortreflike opnames tel solowerke van Haydn.

Wildner, Johannes (1956-), Oostenrykse dirigent en musiekgeleerde. Hy was aanvanklik ‘n violis in die Weense Filharmoniese Orkes, waarna hy dirigeerposte beklee het by die Staatsfilharmoniese Orkes in Kosice, Slowakye (1990-3), die Praag Staatsopera (1994/5) en die Leipzig Opera (1996-8). Sedert 1997 is hy musiekdirekteur van die Nuwe Filharmoniese Orkes van Wesfalië, met wie hy Bruckner se derde en negende simfonieë opgeneem het. Hulle is ook die orkes vir die Gelsenkirchen Opera, waar hy ‘n opvoering van Carmen voor ‘n asembenewende getal van 32 000 toeskouers gedirigeer het. Daarby het hy in 2002 musiekdirekteur van die Sarajewo Filharmoniese Orkes geword, waardeur hy ‘n leidende rol speel in die heropbou van Bosnië ná die verwoesting van die burgeroorlog daar. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa en die Verre Ooste op. Sleutelopname: Mozart se 25 Duitse Danse (K586, K600, K602 en K605) met die Capella Istropolitana. Verdere opnames: ‘n versameling vokale walse van die Strauss-familie; en ‘n versameling duette vir tenoor en bariton, met Janez Lotric en Igor Morozow as soliste.

Willcocks, David (1919-), Engelse orrelis, dirigent en komponis. Hy was orrelis van die Salisbury Katedraal (1947-5), orrelis en koormeester van die Worcester Katedraal (1950-7) en koordirigent van die Stad Birmingham (1950-7). Daarna was hy vir byna drie dekades aan die Universiteit van Cambridge verbonde: as dosent, universiteitsorrelis, dirigent van die musiekvereniging en musiekdirekteur van King’s College (1957-74). Met laasgenoemde se koor het hy wêreldroem verwerf in uitvoerings en opnames van gewyde koorwerke, met ‘n repertorium wat vanaf die Renaissance tot in die twintigste eeu gestrek het. Onder hul talle opnames tel ‘n gevierde 1963-weergawe van Allegri se gevierde Miserere (in Engels) wat deur sommige kenners as onoortreflik beskou word. Terselfdertyd was hy koordirigent by die Bradford-fees (1955-74) en musiekdirekteur van die Londense Bach-koor (1960-96). Hy het in 1963 die eerste Italiaanse uitvoering van Britten se War Requiem in Milaan gedirigeer. In 1971 is die CBE aan hom toegeken en vanaf 1974 was hy vir tien jaar direkteur van die Koninklike Musiekkollege. Met hul orkes het hy ‘n opname van rolprentmusiek deur Dimitri Tiomkin gemaak.

Willcocks is in 1977 tot ridder geslaan. Onder sy eie komposisies tel kerkmusiek en verwerkings van liedere. Sleutelopnames: Allegri se Miserere; Byrd se Misse vir 3, 4 en 5 stemme; Vaughan Williams se Kersfeeskantate Hodie (middel 1960’s) en Mis in G mineur. Verdere opnames: Bach se Kantate nr. 147, en 6 Motette (1967/70); M. Charpentier se Messe de minuit pour Noël; ‘n versameling motette van G. Gabrieli (1973); Handel se Coronation Anthems (1961) en Messiah (1971/2); Haydn se Mis nr. 11; Howells se Hymnus paradisi; Mathias se Lux aeterna; ‘n versameling koorwerke van Palestrina opgedra aan die Maagd Maria; Scheidt se In dulci jubilo; Schütz se Psalm 150; Tallis se Lamentations of Jeremiah I & II, Spem in alium en 10 ander motette; Taverner se Western Wynde Mass en 4 motette; Vivaldi se Gloria in D; Walton se Coronation Marches en Fanfares; en koorwerke van Blow, Britten, Dyson, Fauré, Holst, Patterson, Rutter, Walton en Warlock.

Williams, John (1941-), Australiese kitaarspeler. Hy is sedert 1952 in Brittanje woonagtig, waar hy in 1958 sy debuut in Londen gemaak het. Vanaf 1979 tot 1984 was hy leier van sy eie ensemble, Sky, vir sowel klassieke as popmusiek. Soms speel hy ook in duette met Julian Bream. Met sy intellektuele benadering en formidabele tegniek is hy ‘n uitmuntende vertolker van veral Barok- en Spaanse musiek. Werke is vir hom geskryf deur Gray, Harvey, Takemitsu en andere, en vanaf 1960 tot 1973 was hy ‘n hoogleraar in kitaar aan die Koninklike Musiekkollege. In 1980 is die OBE aan hom toegeken. Opnames: kitaarkonserte van Castelnuovo-Tedesco, Giuliani, Gray, Harvey, Villa-Lobos en Vivaldi; Rodrigo se Concierto de Aranjuez; Takemitsu se To the Edge of Dream; en solowerke van Albéniz, Bach, Falla, Giuliani, Granados, Paganini, Scarlatti, Tarrega, Torroba en Villa-Lobos (waarvan hy sommiges self vir sy instrument verwerk het).

Wilson, Catherine (1936-), Skotse sopraan. Haar operadebuut is in 1960 as mezzosopraan by Sadler’s Wells in Londen gemaak, as Angelina in La Cenerentola. Later in dieselfde jaar het sy by die Glyndebourne-fees en die Walliese Nasionale Opera gedebuteer. Onder die rolle wat deur haar geskep is, tel Jenny in The Mines of Sulphur (Sadler’s Wells, 1965) en die titelrol in Mary, Queen of Scots by die Skotse Opera in 1977. Sy het in 1976 by die Wexford-fees gedebuteer, en vanaf 1980 tot 1991 het sy aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege onderrig gegee. Sy het in ‘n hoogstaande opname van Handel se oratorium Israel in Egypt onder Andrew Parrott gesing.

Wilson-Johnson, David (1950-), Engelse bas-bariton. Sy operadebuut in 1976 by Covent Garden in We come to the River, is gevolg deur debute by die Walliese Nasionale Opera (1978), met die Glyndebourne Toeropera (1980) en die Salzburg-fees (1989). Intussen het hy in 1980 in Edinburgh die rol van Arthur tydens die première van Maxwell Davies se opera The Lighthouse geskep, en agt jaar later het hy in Londen die titelrol gesing in die Britse première (in 'n konsertweergawe) van Messiaen se Saint Francois d'Assise. As operasanger is hy merendeels bekend in moderne rolle soos die titelrol in John Socman en Lev in The Ice-break. Verder is hy begaafd in konsertmusiek in die Britse en Duitse repertoriums, veral in gewyde werke. Hy het in 2003 in Madrid tydens die première van Albéniz se opera Merlin die titelrol geskep. Opnames: Bach se Paasfeesoratorium; Elgar se Caractacus en The Kingdom; Hadley se The Trees so High; Handel se Belshazzar; Haydn se Mis nr. 11 en Te Deum; Mahler se agste simfonie (onder Rattle); Mozart se Mis nr. 16; Parry se The Soul's ransom; Vivaldi se Dixit dominus; Walton se Belshazzar's Feast; en die genoemde operas van Albéniz, Lloyd en Tippett, asook Punch and Judy en The Fairy Queen.

Winbergh, Gösta (1943-2002), Sweedse tenoor. Hy het aanvanklik ingenieurswese studeer en in ‘n rock-groep gespeel, voordat hy op 24 met sangstudies aan die Koninklike Musiekkollege in Stockholm begin het. Nadat hy in 1973 sy debuut in Göteborg gemaak het, as Rodolfo in La Bohème, was hy eerste tenoor van die Koninklike Opera in Stockholm (1973-80). Nog debute het gevolg by die feeste in Glyndebourne (1980) en Salzburg (1982), asook by Covent Garden (1982), die Metropolitan Opera (1983), La Scala (1985), Houston (1988) en Los Angeles (2001). Hy was vanaf 1981 verbonde aan die Zürich Opera. Met sy ryk toonkleur en aantreklike voorkoms was hy aanvanklik bekend in liriese rolle soos Ernesto in Don Pasquale, Nemorino in L'elisir d'amore, Pylade in Iphigénie en Tauride, Ferrando in Cosi fan tutte, Don Ottavio in Don Giovanni, Tamino in Die Zauberflöte en Almaviva in Il barbiere di Siviglia. By die Salzburg-fees in 1987 het hy Don Ottavio in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni gesing, met ‘n DVD wat gemaak is. Met verloop van tyd het swaarder rolle gevolg, soos Florestan in Fidelio, Don José in Carmen en Cavaradossi in Tosca. Gedurende die 1990’s het hy een van die wêreld se voorste heldentenors in Wagner-operas geword, veral as Erik in Der fliegende Holländer, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg, die manlike titelrol in Tristan und Isolde, beide Siegfried en Siegmund in die Ring, en die titelrolle in Lohengrin en Parsifal. ‘n Dag nadat hy as Florestan by die Weense Staatsopera opgetree het, is hy aan hartversaking oorlede - slegs twee maande voordat hy die gesogte titel van Kammersänger in Oostenryk sou ontvang. Naas sy operarolle was hy ‘n bekende liedere- en konsertsanger en leermeester. Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 80 en 140; Bizet se Te Deum; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Mahler se orkeslied Revelge (onder Chailly); en die operas Fidelio, Don Pasquale, Cosi fan tutte, Hamlet en Die Meistersinger von Nürnberg.

Windgassen, Wolfgang (1914-74), Duitse tenoor. Hy het in 1941 in Pforzheim sy operadebuut gemaak, as Alvaro in La forza del destino. Vanaf 1945 tot 1973 was hy aan die Stuttgart Opera verbonde en vanaf 1953 ook aan die Weense Opera. Verder het hy vanaf 1951 gereeld by die Bayreuth-fees opgetree, met nog debute wat gemaak is by La Scala (1952), Covent Garden (1954) en die Metropolitan Opera (1957). In die na-oorlogse jare is hy deur talle kenners beskou as die wêreld se voorste heldentenor in Wagner-rolle, veral as Loge in Das Rheingold, Siegmund in Die Walküre, die manlike hoofrol in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Parsifal, Siegfried en Tannhäuser. Dit verbaas dus nie dat hy in 1953 deur Wilhelm Furtwängler gekies is om Loge en Siegmund in sy legendariese Roomse opname van die Ring-siklus te sing nie. Hy was ook begaafd as Florestan in Fidelio. In 1971 het hy die rol van Orlofsky gesing in Karl Böhm se opname van Die Fledermaus (wat ook op DVD beskikbaar is). Hy was vanaf 1972 vir twee jaar artistieke direkteur van die Stuttgart Opera. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Furtwängler); en die genoemde operas van Beethoven en Wagner.

Wisjnewskaja, Galina (1926-2012), Russiese sopraan. Sy het aanvanklik operette in Leningrad (tans Sint Petersburg) gesing en in 1950 is haar operadebuut in dié stad gemaak, in Strelnikof se Kholopka. Vanaf 1952 was sy ‘n lid van die Bolsjoi Teater, waar sy in 1959 die rol van Natasja tydens die première van Prokofiëf se Oorlog en Vrede geskep het. Verdere debute het plaasgevind by die Metropolitan Opera en die Aldeburgh-fees (beide in 1961), Covent Garden (1962), La Scala (1964) en die Salzburg-fees (1975). Met haar kragtige dog sensitiewe stem was sy vir baie jare onoortreflik in die dramatiese rolle van Russiese opera. Daaronder tel verder Marina in Boris Godoenof, Tatjana in Jewgeni Onegin, Lisa in Pique Dame, en die titelrolle in Dame Macbeth van Mtsensk en Jolanta. Sy was ook begaafd as Marguerite in Faust en in Russiese liedere. Britten het die solo-sopraanrol in sy War Requiem en die liedere-siklus The Poet's Echo vir haar geskryf. Sy is genooi om eersgenoemde te sing tydens die inwyding van die herboude Coventry-katedraal in 1962, maar is deur die Sowjet- owerhede verbied om dit te doen. Ook Sjostakowitsj het sy 7 Romanses (1967) vir haar geskryf en in 1969 het sy in Leningrad in die eerste uitvoering van sy veertiende simfonie gesing. By Aldeburgh het sy in 1970 in die eerste uitvoering van laasgenoemde werk buite die Sowjet-Unie gesing, met ‘n opname wat onder die komponis Britten gemaak is. Intussen is sy in 1955 getroud met die beroemde tjellis en dirigent Mstislaf Rostropowitsj, wat haar dikwels in liedere-voordragte op die klavier begelei het. Hulle sou in die 1970’s deur die Sowjet- owerhede gedwing word om te emigreer. In 1982 het sy uit opera getree. Verdere opnames: die genoemde werke van Britten en Sjostakowitsj; Moessorgski se liedere-siklus Liedere en Danse van die Dood (begelei deur Rostropowitsj); liedere van Prokofiëf en Tsjaikofski; en die genoemde operas van Moessorgski, Prokofiëf en Tsjaikofski.

Wit, Antoni (1944-), Poolse dirigent. Hy het in Krakow studeer en in 1967 ‘n assistent vir Witold Rowicki by die Nasionale Filharmoniese Orkes in Warskou geword. Daarna het hy onder Nadia Boulanger in Parys en onder sy landgenoot Jan Penderecki studeer. In 1971 het hy ‘n tweede prys in die Karajan-dirigeerkompetisie gewen, gevolg deur verdere studies onder Stanislaf Skrowaczewski en Seiji Ozawa. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Pommerse Filharmoniese Orkes (1974-7) en die Poolse Radio Simfonie-orkes in Krakow (1877-83). Sedert 1983 is hy hoofdirigent van die Poolse Nasionale Radio Simfonie-orkes in Katowice, met wie hy die volledige orkeswerke van sy landgenote Lutoslafski en Penderecki opgeneem het. As gasdirigent tree hy wyd in Europa en Japan op, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1972 plaasgevind het. Met sy gedissiplineerde benadering is hy veral begaafd in simfoniese musiek deur Duitse en Slawiese komponiste. In 2013 is 'n Grammy aan hom toegeken vir sy opnames van Penderecki se horingkonsert, Fonogrammi, Partita, The Awakening Of Jacob en Anaklasis. Sleutelopnames (Katowice): Górecki se derde simfonie; Lutoslafski se vierde simfonie en Musique funèbre. Verdere opnames: simfonieë van Górecki (nr. 2), Mahler (nrs. 3, 4, 6, 8 en 10), Schumann (nrs. 2 en 4) en Tsjaikofski (nr. 3); ‘n versameling orkeswerke van Dvorák; ‘n versameling koor- en orkeswerke van Kilar; Messiaen se Eclairs sur L'Au-Delà; Smetana se Má Vlast; en Richard Strauss se Ein Alpensinfonie.

Wittgenstein, Paul (1887-1961), Oostenryks-gebore pianis. As ouer broer van die bekende filosoof Ludwig Wittgenstein (1889-1951) het hy in Wenen studeer. Hy het in 1913 sy openbare debuut in die Oostenrykse hoofstad gemaak. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy sy regterarm verloor en daarna werke vir die linkerhand alleenlik gespeel, waarvoor hy ‘n merkwaardige tegniek ontwikkel het. In 1936 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer en twee jaar later het hy in New York gaan woon. Daar het hy in 1946 'n Amerikaanse burger geword en tot 1960 privaatonderrig gegee. Verskeie werke is vir hom geskryf, waaronder Korngold en Ravel se klavierkonserte vir die linkerhand, Prokofiëf se vierde klavierkonsert, Richard Strauss se Parergon zur Symphonia Domestica en Panathenäenzug, Schmidt se Konsert Variasies en Britten se Diversions.

Wixell, Ingvar (1931-2011), Sweedse bariton. Hy het in 1952 sy konsertdebuut in Gävle gemaak en drie jaar later het sy operadebuut in Stockholm gevolg, as Papageno in Die Zauberflöte. Daarna was hy ‘n lid van die Koninklike Opera in die Sweedse hoofstad (vanaf 1956) en van die Duitse Opera in Berlyn (vanaf 1967). In 1960 het hy met 'n Sweedse operageselskap in operas van Handel en Verdi by Covent Garden gesing, met verdere debute wat gevolg het by die feeste in Glyndebourne (1962), Salzburg (1966) en Bayreuth (1971), asook in Chicago (1967), by Covent Garden (1972) en die Metropolitan Opera (1973). Sy bekendheid het merendeels gelê in Italiaanse operarolle soos Belcore in L'elisir d'amore, Alfonso in Lucrezia Borgia, Michele in Il Tabarro, Scarpia in Tosca, die Graaf in Il Trovatore, en die titelrolle in Don Giovanni, Le nozze di Figaro en Rigoletto. Opnames: Stenhammar se ballade Florez och Blanzeflor; die genoemde operas van Donizetti, Mozart, Puccini en Verdi, asook Zaïde en Un giorno di regno.

Wlaschiha, Ekkehard (1938-), Duitse bariton. Nadat hy in 1963 as Don Fernando in Fidelio in Gera gedebuteer het, het hy in Dresden en Weimar opera gesing (1964-70). Sedert 1970 is hy aan die Leipzig Opera verbonde, met verdere debute wat gemaak is by die Bayreuth-fees (1986) en Covent Garden (1990). Hy is ‘n uitmuntende vertolker van Alberich in die Ring-siklus, wat hy wêreldwyd gesing het. Daaronder tel die hoogaangeskrewe siklusse van James Levine by die Metropolitan Opera (met DVD-opnames) en Wolfgang Sawallisch by die Beierse Staatsopera (met klankopnames), beide in 1989. Verder is hy begaafd as Don Pizarro in Fidelio, die Seremoniemeester in Palestrina, Telramund in Lohengrin en Kaspar in Der Freischütz. Verdere opnames: die genoemde operas van Beethoven, Pfitzner, Wagner en Weber.

Wolff, Albert (1884-1970), Franse dirigent en komponis. Hy was oor 'n lang tydperk aan die Opéra Comique in Parys verbonde, agtereenvolgens as koormeester (1908), dirigent (vanaf 1911), musiekdirekteur (1921-4) en teaterdirekteur (1945/6). Intussen het hy vanaf 1919 vir twee seisoene Franse werke by die Metropolitan Opera gedirigeer. Hy het in 1937 by Covent Garden gedebuteer. Daarby was hy 'n dirigent van die Lamoureux-konserte (1928-34) en die Pasdeloup-konserte (1934-40). Hy was 'n begaafde vertolker van sy landgenote se musiek, veral dié van Roussel, en het die Paryse première van Ravel se L'Enfant et les sortilèges (1926) en die wêreldpremière van Poulenc se Les mamelles de Tirésias (1947) gedirigeer.

Wolff, Hugh (1953-), Amerikaanse dirigent. Hy is in Frankryk gebore en het as tienjarige in die VSA gaan woon. Later het hy 'n assistent vir Rostropowitsj by die Nasionale Simfonie-orkes in Washington, D.C. geword. Vanaf 1982 was hy vir drie jaar hul assistent-dirigent, en in 1982 is sy Europese debuut met die Londense Filharmoniese Orkes gemaak. Hy was vervolgens dirigent van die New Jersey Simfonie-orkes (1985-92) en hoofdirigent van die Sint Paulus Kamerorkes in Minnesota (1988-91). Sedert 1991 is hy musiekdirekteur van laasgenoemde, met wie hy ‘n aantal hoogaangeskrewe opnames gemaak het. Intussen het hy in 1986 by die Metropolitan Opera gedebuteer. Hy het die Frankfurt Radio Simfonie-orkes in ‘n insiggewende DVD-opname oor Korngold se lewe gedirigeer, insluitend sy tjellokonsert en vioolkonsert. Opnames: Antheil se simfonieë nrs. 1, 3 en 6; Bartók se Divertimento vir Strykers en Roemeense Volksdanse; Haydn se simfonieë nrs. 85 en 86; Kodály se Dances of Galanta en Dances of Marosszek; enkele orkeswerke van Respighi; en Turnage se Scorched.

Wolodos, Arkadi (1972-), Russiese pianis. Aanvanklik het hy sang en dirigeerkuns bestudeer, maar in 1987 het hy aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium met klavierlesse begin. Verdere studies het in Moskou, Parys en Madrid gevolg, en in 1998 is sy debuut by Carnegie Hall, New York gemaak. In die jaar daarop het hy drie belangrike toekennings ontvang: as Gramophone se Beste Instrumentalis, die Deutsche Schallplattenkritik, en die Echo Klassik. Hy tree wêreldwyd met van die voorste orkeste en dirigente op, in spel gekenmerk deur besondere virtuositeit en musikale insig. Opnames: Schubert se klaviersonates nrs. 1 en 15.

Wong, Samuel (1962-), Sjinese dirigent. Hy het as vierjarige in Hongkong met klavierlesse begin. Later het onderrig in viool en sang gevolg, en op nege het hy met die res van sy gesin na Toronto, Kanada geëmigreer. Daar het hy aan die Koninklike Konserwatorium studeer, en later ook aan die Harvard Universiteit in die VSA. By dié beroemde instansie was hy musiekdirekteur van die Bach-vereniging se orkes, en in New York van die Jeugsimfonie. Sy internasionale deurbraak is gemaak toe hy in 1990 vir die pas afgestorwe Leonard Bernstein by die New York Filharmoniese Orkes moes instaan. Sy operadebuut is in 1992 by die Kanadese Operageselskap gemaak, met Il barbiere di Siviglia. Hy het daarna opvoerings van La Bohème in Edmonton en Rigoletto in Beijing gedirigeer. Later het hy hoofdirigent van die Hongkong Filharmoniese Orkes geword en hulle op hul eerste Europese toer gelei. As gasdirigent wat wêreldwyd optree, het hy in New York al 15 wêreldpremières aangebied. Hy is tans ook musiekdirekteur van die Honolulu Simfonie-orkes in Hawaii. Interessant genoeg skryf hy heelwat oor die verwantskap tussen musiek en medisyne. Sleutelopname: Bright Sheng se China Dreams (Hongkong). Verdere opnames: Busoni se Turandot Suite en Berceuse élégiaque

Wood, Henry (1869-1944), Engelse orrelis en dirigent. Hy het orrellesse van sy moeder ontvang en was op tienjarige leeftyd ‘n adjunk-kerkorrelis. Vanaf 1883 het hy vir ses jaar orreluitvoerings gegee terwyl hy komposisie aan die Koninklike Musiekakademie studeer het. Hy het in 1889 sy debuut as dirigent met die Rousbey toeropera gemaak. In die jaar daarop het hy die komponis Sullivan gehelp met inoefeninge vir die première van sy opera Ivanhoe. Hy het in 1891 vir die impresario Carl Rosa opera gedirigeer, en in die jaar daarop het hy die Britse première van Jewgeni Onegin gedirigeer. Daarby het hy sanglesse gegee tot 1894, toe hy musiekadviseur vir Felix Mottl se Wagner-konserte was. In 1895 het hy die Promenade-konserte, oftewel die Proms, in Londen gestig en dit tot sy dood bykans ‘n halfeeu later gedirigeer. In dié tyd het hy nie weer opera gedirigeer nie, maar hom op sy Londense konserte en bekende musiekfeeste toegespits. Met die herdenking van Nelson se oorwinning by Trafalgar ‘n eeu tevore het hy in 1905 ‘n Fantasia on British Sea Songs verwerk, waarmee die Proms sedertdien elke jaar afgesluit word. Sy Amerikaanse debuut is in 1904 met die New York Filharmoniese Orkes gemaak en in 1911 is hy tot ridder geslaan. In 1914 het hy die pianis-komponis Skriabin in ‘n uitvoering van sy Prometheus in Londen begelei. Hy het in 1918 die dirigentskap van die Boston Simfonie-orkes wat hom aangebied is, van die hand gewys.

Wood het die eerste uitvoerings van talle werke deur Britse komponiste gegee, waaronder Vaughan Williams se Serenade to Music in 1938. Dit is vir hom geskryf om sy goue jubileum as dirigent te vier, met sestien sangers wat deur hom self uitgesoek is. Verder het hy baie gedoen om laat-Romantiese en moderne musiek in sy land bekend te stel. Daaronder tel die eerste Britse uitvoerings van Schoenberg se 5 Orkesstukke (1912), en Mahler se simfonieë nrs. 1, 4, 7 en 8 en Das Lied von der Erde. Hy was ook ‘n kampvegter vir die musiek van Bartók, Debussy, Janácek, Sibelius, Skriabin en Richard Strauss in ‘n tydvak voordat hulle gewild begin raak het. ‘n Verdere prestasie was die Europese première van Sjostakowitsj se sewende simfonie, wat in 1942 met die Londense Filharmoniese Orkes gegee is. In sy laaste lewensjaar is die Companion of Honour aan hom toegeken. Hy was uiters gewild in sy leeftyd en het ‘n enorme rol gespeel om die vlak van Britse orkesspel op te hef. Daarbenewens het hy verwerkings van Bach se Toccata en Fuga in D mineur en Moessorgski se Skilderye op 'n Uitstalling vir orkes gemaak. Laasgenoemde is in 1915 uitgegee, maar later het hy openbare uitvoerings daarvan verbied uit respek vir Ravel se orkestrasie wat in 1922 verskyn het. Opnames: simfonieë van Beethoven, Haydn, Schubert en Vaughan Williams; laasgenoemde se Serenade to Music; en ander orkeswerke van Bach en Brahms.

Woodward, Roger (1942-), Australiese pianis, dirigent en komponis. Hy het in 1967 sy debute in Londen en Warskou gemaak, en in die jaar daarop het hy die internasionale Chopin-kompetisie in Warskou gewen. As toonaangewende vertolker van moderne musiek het hy in 1975 in Metz in ‘n opname van Feldman se Klavier en Orkes onder Hans Zender gespeel. In 1980 is die OBE aan hom toegeken. Hy het in 1985 die volledige klavierwerke van Chopin uitgevoer. Werke is deur onder andere Boulez en Takemitsu vir hom geskryf.

Wordsworth, Barry (1949-), Engelse dirigent. Hy was vanaf 1975 hoofdirigent van die Koninklike Ballet by Covent Garden en het wêreldwyd met hulle getoer. Dit sluit besoeke aan die Verre Ooste, Australië en Kanada in. Sedert 1989 dirigeer hy ook die BBC Konsertorkes. Hy het in 1991 sy operadebuut by Covent Garden gemaak, en sedertdien is hy musiekdirekteur van die koninklike ballette by beide Covent Garden en Birmingham. Met die Capella Istropolitana van Bratislawa het hy hoogstaande opnames van vyftien Haydn-simfonieë en die laaste vyftien simfonieë van Mozart gemaak. In 1995 het hy met die New Queen’s Hall Orkes in Londen ‘n ongewone opname met eietydse instrumente van ‘n aantal ouvertures en preludes uit Wagner-operas gemaak. Hy het in 2009 by Covent Garden ‘n uitvoering van MacMillan se ballet Mayerling gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sleutelopnames: McCabe se ballet Edward II (Royal Ballet Sinfonia); ‘n versameling Mozart-ouvertures (Capella Istropolitana). Verdere opnames: die ballette The Judgement of Paris (Berkeley), La Fille mal gardée (Hérold), The Perfect fool (Holst), Horoscope, Apparitions en Mars&Venus (al 3 van Lambert), Job (Vaughan Williams) en The Wise Virgins (Walton); Bliss se A Colour symphony en ander orkeswerke; Kálmán se operette Countess Maritza (in Engels); Lambert se Merchant Seamen Suite en koorwerk The Rio Grande; en Rimski-Korsakof se Scheherazade en Capriccio espagnol.

Wührer, Friedrich (1900-75), Oostenrykse pianis en komponis. Hy het vanaf sesjarige ouderdom klavierlesse ontvang, en later is hy na die Weense Musiekakademie. Daar het hy klavier onder die komponis Franz Schmidt en komposisie onder Joseph Marx studeer. In 1923 het hy deur Europa en die VSA getoer, en vyf jaar later is hy as hoogleraar aan sy alma mater in Wenen aangestel. Sy debuut by die Salzburg-fees het in 1938 plaasgevind. Hy was bevriend met die komponiste Hans Pfitzner en Max Reger, en sou van laasgenoemde ‘n hoogstaande vertolker word. As bekende in moderne musiek het hy talle uitvoerings van werke deur Bartók, Berg, Schoenberg, Strawinski en Webern tot sy krediet. Verder het hy as een van die invloedrykste leermeesters van sy tyd onderrig gegee aan die Weense Akademie (1922-32 en weer 1939-45), in Mannheim (1934-6 en weer 1952-7), in Kiel (1936-9), aan die Salzburg Mozarteum (1948-51) en in München (1957-68). Hy het in opnames van Beethoven se volledige klavierkonserte gespeel.

Wunderlich, Fritz (1930-66), Duitse tenoor. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword, en is deur verbygangers wat hom hoor sing het in die bakkery waar hy gewerk het, aangemoedig om vir sangopleiding te gaan. Hy het ‘n beurs van die stadsvaders ontvang vir die Freiburg Musiekakademie in Breisgau, waar hy vanaf 1950 tot 1955 sang en klassieke horing bestudeer het. Laasgenoemde sou hom later goed te pas kom as sanger, met sy buitengewone asembeheer. Drie jaar nadat hy in 1951 sy solodebuut met die Bach-koor van Freiburg gemaak het, het sy operadebuut in dieselfde stad as Tamino in ‘n studenteproduksie van Die Zauberflöte plaasgevind. Hy is daarop gewerf deur die Württemberg Staatsopera in Stuttgart, waar hy in 1955 as Eislinger in Die Meistersinger von Nürnberg sou debuteer. Sy deurbraak is gemaak toe hy vir Josef Traxel moes instaan as Tamino, wat die begin van sy kort dog merkwaardige loopbaan was. Ná drie jaar in Stuttgart was hy verbonde aan die Frankfurt Opera (1958-60), die Beierse Staatsopera in München (vanaf 1960) en die Weense Staatsopera (vanaf 1962). Verdere debute het gevolg by die feeste in Aix-en-Provence (1958), Salzburg (1959) en Edinburgh (1965), asook by Covent Garden (1965).

Wunderlich sou elke jaar tot sy dood by die Salzburg-fees optree. Hy was daarby in 1960 ‘n solis in Otto Klemperer se uitvoering van Beethoven se negende simfonie by die Weense Fees, met ‘n opname wat gemaak is. Sy briljante loopbaan is ‘n week voor sy 36ste verjaardag kortgeknip, toe hy gesterf het weens ‘n val vanaf ‘n trap by ‘n vriend se kasteel in Heidelberg. Dit het plaasgevind slegs drie weke voordat hy by die Metropolitan Opera as Don Ottavio in Don Giovanni sou debuteer. Met sy kragtige stem vol liriese skoonheid was hy een van die grootste tenore van die twintigste eeu, veral in die operas van Mozart, en in Duitse operettes, liedere en konsertwerke. Verdere opnames: enkele kantates van Bach en sy Sint Johannespassie; Haydn se Paukenmesse en Die Schöpfung; Mahler se Das Lied von der Erde (onder Klemperer); Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; ‘n versameling liedere van Beethoven, Schubert en Schumann, insluitend lg. se Dichterliebe (begelei deur Giesen); die operas Die Entführung aus dem Serail, Die Zauberflöte, Die lustigen Weiber von Windsor en Die schweigsame Frau; en 'n versameling opera- en operette-arias en -duette.

Wyss, Sophie (1897-1983), Switserse sopraan. Sy het in 1925 in Engeland gaan woon, waar sy in die eerste uitvoerings van Britten se Our Hunting Fathers (1936) en Les Illuminations (1940) gesing het. Laasgenoemde is vir haar geskryf, en sy het in uitstekende opnames daarvan en van Britten-liedere met die komponis as klavierbegeleier opgetree.

X

Xue-Wei, Maxim (1963-), Sjinese violis. Hy was ‘n pryswenner by die Sjinese nasionale vioolkompetisie (1981), die internasionale Carl Flesch-kompetisie (1982) en die Japannese internasionale vioolkompetisie (1983). In 1985 het hy na Brittanje verhuis om met ‘n beurs van die burgemeester van Londen aan die Guildhall Musiekskool te studeer. Sy professionele deurbraak is in die jaar daarop gemaak toe hy ‘n silwermedalje by die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen het. Met sy terugkeer na Londen het hy al die pryse by die Carl Flesch-kompetisie gewen, en later in 1986 is hy as Britse Jong Solis van die Jaar vereer. Hy tree wyd deur Europa en die Verre Ooste op, en bespeel ‘n Stradivarius-viool wat in 1699 gemaak is. Met sy ryk toonkleur en gevoelvolle spel is hy veral begaafd in die Romantiese repertorium. Sleutelopname: Headington se vioolkonsert (onder Jane Glover). Verdere opnames: vioolkonserte van Brahms, Mendelssohn, R. Strauss en Tsjaikofski; en laasgenoemde se Méditation en Sérénade mélancolique.

Y

Yakar, Rachel (1938-), Franse sopraan. Nadat sy in 1963 haar debuut in Strasbourg gemaak het, was sy vanaf die jaar daarop tot 1984 aan die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf verbonde. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Bayreuth (1976), Glyndebourne (1977) en Salzburg (1978), asook by Covent Garden (1978). Sy het in 1979 die titelrol gesing in Nikolaus Harnoncourt se opname van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea, wat op DVD uitgereik is. In 1985 het sy by die Salzburg-fees die rol van die Engel in die première van Messian se Saint Francois d'Assise geskep. Sy is veral bekend in Franse operarolle soos Mélisande in Pelléas et Mélisande, Clymène in Phaëton, Madame Lidoine in Les dialogues des Carmelites en Amour in Pygmalion. Verder is sy ‘n begaafde konsert- en liedere-sangeres. Sy gee onderrig aan die Parys Konserwatorium. Verdere opnames: Bach se Magnificat; Honegger se Les aventures du Roi Pausole; Varèse se Offrandes; liedere van Bizet, Chabrier, Fauré, Hahn en Lekeu; en die genoemde operas van Debussy, Lully, Poulenc en Rameau, asook Admeto, re di Tessaglia.

Yansons, Arvid (1914-84), Lettiese dirigent. Vier jaar nadat hy in 1944 sy debuut in Riga gemaak het, het hy die dirigeerkompetisie in Leningrad (tans Sint Petersburg) gewen. Dit het daartoe gelei dat hy deur Jewgeni Mrawinski genooi is om mededirigent van die stad se beroemde filharmoniese orkes te word. Later was hy hul mede-hoofdirigent (saam met Mrawinski), en vanaf 1965 was hy hoofgasdirigent van die Hallé Orkes. Hy was die vader van die dirigent Mariss Jansons, wat die oorspronklike Lettiese spelling van hul van verkies.

Yeend, Frances (1913-2008), Amerikaanse sopraan. Sy het aan die Washington Staatskollege studeer, en in 1946 het sy die rol van Ellen tydens die Amerikaanse première van Peter Grimes by Tanglewood geskep. In 1948 het sy by die New York Stadsopera gedebuteer as Violetta in La Traviata. Vervolgens sou sy vir langer as ‘n dekade aan dié teater verbonde wees, met verdere rolle soos Marguerite in Faust, die Grafin in Le nozze di Figaro, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, en die titelrolle in Aida en Turandot in haar repertorium. Sy het ook in die laat 1940’s met Mario Lanza en George London as die Bel Canto Trio getoer. In 1961 is haar debuut by die Metropolitan Opera gemaak in Richard Strauss se Elektra. Haar laaste optrede by die Met was in 1963, as Gutrune in Götterdämmerung. Sy was voorts ‘n hoogleraar in musiek aan die Universiteit van Wes-Virginië (1966-78). Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Bruno Walter); Mahler se agste simfonie (onder Leopold Stokowski); en Honegger se oratorium Jeanne d’Arc au Bûcher.

Yepes, Narciso (1927-97), Spaanse kitaarspeler en komponis. Hy het in 1947 in Madrid gedebuteer en in die jaar daarop begin om internasionaal te toer. Vanaf 1961 het hy op ‘n instrument van sy eie ontwerp met sestien snare gespeel, en ‘n aantal werke is vir hom geskryf. Hy was een van die twintigste eeu se voorste instrumentaliste in Spaanse musiek vanaf die vyftiende tot twintigste eeue, met vele hoogstaande opnames van werke deur Albéniz, Falla, Granados, Rodrigo, Soler, Tarrega en Turina tot sy krediet. Daarby het hy as kitaarbegeleier vir die beroemde mezzosopraan Teresa Berganza in haar uitvoerings van Spaanse liedere opgetree. Sleutelopname: Boccherini se kitaarkwintette nrs. 4, 7 en 9 (met die Melos Kwartet, 1971). Verdere opnames: Bach se volledige luitwerke.

York, Deborah (1964-), Britse sopraan. Nadat sy aan die Universiteit van Manchester met lof in musiek gegradueer het, is sy na die Guildhall Musiekskool in Londen vir verdere studies. As  een van die voorste sangers in Barok- en Klassieke werke van haar tyd tree sy wêreldwyd in opera en konserte op, onder toonaangewende dirigente in vroeë musiek. Onder haar beste operarolle tel Anne Trulove in The Rake’s Progress, Alminera in Rinaldo, Euridice in Orfeo en die titelrol in The Rape of Lucretia. Sy het in 2003 tydens die Moskou Paasmusiekfees ‘n voordrag met die pianis Mark Lawson gegee, asook meesterklasse in die Russiese hoofstad se konserwatorium. Opnames: talle kantates van Bach (onder Koopman), asook Kantates nrs. 29, 119 en 120 (onder Herreweghe), Magnificat in E mol, Sint Markuspassie (soos deur Koopman herkonstrueer) en Sint Mattheuspassie; Kuhnau se Magnificat in C; Vivaldi se motette Canto in prato, In furore iustissimae irae en Nulla in mundo pax sincera (onder King), en sy Gloria in D en Magnificat (onder Alessandrini); en die genoemde operas van Handel (op DVD) en Strawinski.

Young, Alexander (1920-), Engelse tenoor. Sy operadebuut is in 1950 by die Edinburgh-fees gemaak, as Scaramuccio in Ariadne auf Naxos. In 1953 het hy by die Edinburgh-fees die rol van Tom Rakewell in die Britse première van Strawinski se opera The Rake's Progress geskep. Hy het in 1953/4 as solis onder Thomas Beecham in die eerste opname van Berlioz se Te Deum geskitter, en vanaf 1955 was hy vir vyftien jaar aan Covent Garden verbonde. Vanaf 1973 tot 1986 was hy hoof van sangstudies aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester. Daarbenewens het hy in 1977 die Jubilate-koor in dieselfde stad gestig en hulle gedirigeer. Hy was ewe begaafd in die operas van Handel, as Ferrando in Così fan tutte, en in konsertwerke en liedere. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Stokowski); Elgar se The Kingdom; Handel se Chandos anthems nommers 9 en 11, en oratoriums Judas Maccabeus en Solomon; Haydn se The Seasons (in Engels, onder Beecham); Liszt se Faust simfonie; Mozart se Requiem; Schoenberg se Gurrelieder; en die genoemde opera van Strawinski (onder die komponis self).

Young, Simone (1961-), Australiese dirigent met ‘n Ierse vader en ‘n Kroatiese moeder. Sy het aan die Sydney Konserwatorium studeer, waar sy indruk gemaak het as repetiteur met ‘n aanleg vir tale. Nadat sy haar dirigeerdebuut by die Australiese Opera in Sydney gemaak het, is sy platsak met haar man na Europa. Daar het sy vanaf 1987 as assistent vir James Conlon by die Keulen Opera gewerk. Vyf jaar later het haar deurbraak plaasgevind toe Daniel Barenboim haar genooi het om sy assistent by die Berlynse Opera te wees. Dit het haar in staat gestel om ‘n vroulike pionier in die dirigeerwêreld te word, veral in Wenen wat tradisioneel ‘n manlike bastion was. Sy het die eerste vrou geword om by ‘n Weense operahuis te dirigeer, met 'n opvoering van Les contes d’Hoffmann by die Volksopera (1992); om die Weense Filharmoniese Orkes vanaf die podium te lei (1992); en om by die Weense Staatsopera te dirigeer (1993). Verdere debute is gemaak by die Bastille Opera in Parys (1993), Covent Garden (1994) en die Hamburg Opera (1996). Haar toenemende bekendheid as opera-dirigent het daartoe gelei dat sy in 2000 as musiekdirekteur van die Australiese Opera aangestel is. Daar het sy verskeie nuwe opvoerings gedirigeer en ‘n aantal opkomende vroue-dirigente laat optree, maar haar kontrak is nie hernu toe dit in 2003 verstryk het nie. Sy het in 2005 musiekdirekteur van die Hamburg Opera geword, waardeur sy die eerste vrou geword het om ‘n groot Europese operahuis te lei. Terselfdertyd het sy hoofdirigent van die stad se filharmoniese orkes geword. Op die podium dra sy altyd hoëhakskoene, en sy is verder bekend vir haar intensiewe inoefeninge en bereidheid om risiko’s te waag. Haar opname van Halévy se opera La Juive met die koor en orkes van die Weense Staatsopera is in 2004 vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. Met die Victoria Staatsorkes het sy die tenoor Steve Davislim begelei in ‘n uitstekende opname van orkesliedere deur Richard Strauss.

Yuasa, Takuo (1949-), Japannese dirigent. Hy het klavier, tjello, fluit en klarinet in sy geboortestad Osaka studeer. Op agtien is hy na die VSA vir studies aan die Universiteit van Ohio, waar hy ‘n graad in teorie en komposisie verwerf het. Verdere studies is in Europa onder bekende leermeesters soos Igor Markewitsj, Hans Swarowsky en Franco Ferrara onderneem. Daarna was hy ‘n assistent vir Lovro von Matacic in Monte Carlo, Milaan en Wenen. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa en die Verre Ooste op. Hy was hoofdirigent van die Gumma Simfonie-orkes in Japan en van die Ulster Orkes in Belfast. In Pole het hy ‘n toekenning by die Fitelberg-dirigeerkompetisie in Katowice gewen, en sedertdien tree hy gereeld in dié land op. Sy bekendheid lê byna uitsluitlik in moderne musiek. Sleutelopnames (almal in Belfast): Glass se Company en Akhnaten Prelude & Dance; MacMillan se Veni, Veni, Emmanuel en Tryst; Tavener se The Protecting Veil. Verdere opnames: Akutagawa se Ellora Simfonie, Rapsodie vir Orkes en Trinita Sinfonica; Ferrero se La Nueva Espana; Górecki se derde simfonie; Honegger se derde simfonie, Rugby en Pacific 231; MacDowell se 2 Suites en toondig Hamlet and Ophelia; Pärt se Tabula rasa en derde simfonie; Schoenberg se tweede kamersimfonie en Verklärte Nacht.

Z

Zabaleta, Nicanor (1907-93), Spaanse harpspeler. Hy het in Madrid en Parys studeer, en in 1925 sy debuut in die Franse hoofstad gemaak. Daarna het hy wêreldwyd as solis met orkeste opgetree, met ‘n New York-debuut wat in 1934 plaasgevind het. Werke is vir hom geskryf deur komponiste soos Krenek, Milhaud, Ginastera en Villa-Lobos, en daarbenewens het Rodrigo sy gewilde Concierto de Aranjuez vir harp verwerk sodat sy landgenoot dit kon speel. Hy was ‘n uitmuntende vertolker van Spaanse musiek en het talle harpwerke aan die vergetelheid ontruk. Sy repertorium het verder wyd deur die Klassieke, Romantiese en moderne tydperke gestrek, soos sy vele hoogstaande opnames kan getuig. Sleutelopname: Rodrigo se Concierto serenata (onder Märzendorfer). Verdere opnames: harpkonserte van Albrechtsberger, Boieldieu, Dittersdorf, Ginastera, Handel, Reinecke en Wagenseil; Debussy se Danse sacrée et danse profane; Mozart se Konsert vir fluit en harp (met Karl-Heinz Zöller); Ravel se Inleiding en allegro; en solowerke van Albéniz, Falla, Gombau, Granados, Halffter, Lopez-Chavarri en Turina (waarvan hy sommiges self vir die harp verwerk het).

Zaccaria, Nicola  (1923-), Griekse bas. Ná sy debuut in 1949 in Athene as Raimondo in Lucia di Lammermoor, het hy in Milaan, Genua en elders opgetree. Vanaf 1953 tot 1974 was hy aan La Scala verbonde, en in 1957 het hy die rol van Oroveso in Norma teenoor Maria Callas met sy debuut by Covent Garden gesing. Vanaf dieselfde jaar het hy ook by die Salzburg-fees opgetree, en in 1976 het hy die rol van Koning Markus in Tristan und Isolde in Dallas gesing. Hy was een van die voorste basse van sy tyd in Italiaanse opera, naas die genoemde rolle ook as Graaf Rodolfo in La Sonnambula, Timur in Turandot, Haly in L'italiana in Algeri, die Farao in Aida, Tom in Un ballo in maschera, Pistola in Falstaff, Sparafucile in Rigoletto en Ferrando in Il Trovatore. Opnames: die genoemde operas van Bellini, Donizetti, Puccini, Rossini en Verdi, asook La Bohème, Mignon en Orlando furioso.

Zacharias, Christian (1950-), Indies-gebore Duitse pianis en dirigent. Nadat hy in 1975 die Ravel-prys gewen het, is debute gemaak in Londen (1976), Boston, VSA (1979) en by die Salzburg-fees (1981). Met sy onberispelike tegniek en intelligente, gekultiveerde spel is hy tans een van die voorste pianiste in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Sleutelopnames: Chopin se 2 klavierkonserte (waarin hy self die Lausanne Kamerorkes vanaf die klawerbord dirigeer); Mozart se klavierkonsert nr. 25 en simfonie nr. 38 (beide Lausanne), en sy 2 klavierkwartette (Ludwigsburg 1988, DVD); Schumann se klavierkwintet (met die Cherubini Kwartet). Verdere opnames: Beethoven se Driedubbele konsert (onder Masur) en klavierkonsert nr. 3; Mozart se klaviersonates nrs. 10, 11 en 12; en die volledige klaviersonates van Schubert.

Zagrosek, Lothar (1942-), Duitse dirigent. Hy het vanaf 1967 vir ses jaar opera in Salzburg, Kiel en Darmstadt gedirigeer, en het in 1973 sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. Vanaf 1978 het hy die Londense Sinfonietta gedirigeer en as 'n begaafde dirigent van moderne musiek bekend geraak. Daarna was hy hoofdirigent van die Oostenrykse Radio Simfonie-orkes (1982-5) en musiekdirekteur van die Parys Opera (1986-8). In 1985 het hy ‘n konsert van Messian se Saint Francois d’Assise by die Salzburg-fees gedirigeer, en verdere debute het plaasgevind by die Glyndebourne-fees (1987) en die Engelse Nasionale Opera (1989). Sedert 1990 is hy musiekdirekteur van die Leipzig Stadsopera. Opnames: Eisler se Deutsche Sinfonie; Hindemith se ballet Der Dämon; Martin se Der Cornet; Mason se Lighthouses of England and Wales; Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; kamerwerke van Torke; en die operas Die Vögel, Der gewaltige Hahnrei, Beatrice Cenci, Jonny spielt auf, Die Gezeichneten, Der Kaiser von Atlantis, Das Rheingold en Die Walküre.

Zancanaro, Giorgio (1939-), Italiaanse bariton. Nadat hy in 1970 die Vociu Verdiane-kompetisie gewen het, het hy in dieselfde jaar in Milaan gedebuteer as Riccardo in I Puritani. Daarna het debute plaasgevind by die Salzburg-fees (1971), die Metropolitan Opera (1982) en Covent Garden (1985). Met sy kragtige sang en akteursvermoëns is hy bekend in Italiaanse operarolle soos Gérard in Andrea Chénier, Ezio in Attila, die titelrol in Rigoletto, Germont in La Traviata, Graaf Luna Il Trovatore en Monforte in I vespri siciliani. Opnames: die genoemde operas van Giordano en Verdi.

Zander, Benjamin (1939-), Engelse tjellis en dirigent. Hy het as jong kind met tjellolesse onder sy vader begin. Op nege jaar het hy begin komponeer, waarop hy en sy gesin deur die komponis Benjamin Britten genooi is om die volgende drie somers by sy huis in Aldeburgh, Suffolk deur te bring. Lesse is in dié tyd nie alleen van Britten ontvang nie, maar ook van Imogen Holst, dogter van die komponis Gustav Holst, by wie hy teorie geleer het. As twaalfjarige het hy die jongste lid van die Nasionale Jeugorkes van Groot-Brittanje geword, met verdere tjellostudies wat in Londen onderneem is. Op vyftien is hy na Florence om onder Gaspar Cassadó te studeer, wat vir die volgende vyf jaar sy mentor sou wees. Sy tjellostudies is voltooi aan die Keulen Staatsakademie, terwyl hy wyd met Cassadó getoer en in kamermusiek opgetree het. Daarop is hy terug na Londen, waar hy in 1964 ‘n graad in Engelse letterkunde behaal het. In die jaar daarop is hy met ‘n beurs na die VSA vir studies aan die Brandeis Universiteit. Sedertdien is hy in Boston woonagtig, waar hy aan die New England Konserwatorium onderrig gee en die Jeugfilharmoniese Orkes dirigeer. Hy het die orkes reeds op 12 oorsese toere gelei, en in 1979 is die Boston Filharmoniese Orkes spesiaal vir hom saamgestel. Sedertdien het hulle bekendheid verwerf in veral laat-Romantiese musiek, by uitstek die simfonieë van Mahler. Hy tree gereeld as gasdirigent op met orkeste in Israel, Australië, Nieu-Seeland, Maleisië, Rusland en Brittanje. Met die Philharmonia Orkes in Londen het hy die volledige simfonieë van Beethoven en Mahler opgeneem, waarvan ‘n aantal hoë lof ingeoes het. Daaronder tel Mahler se sesde, wat deur die tydskrif High Fidelity as die beste klassieke opname van 2002 aangewys is. Daarby tree hy wyd as leermeester en as spreker oor leierskap op, en het hy die boek The Art of Possibility (wat in 12 tale vertaal is) met sy vennoot Rosamund Zander geskryf. Verdere opnames: Bruckner se vyfde simfonie.

Zareska, Eugenia (1922-79), Oekrains-gebore mezzosopraan. Sy het in 1941 in Milaan as Dorabella in Cosi fan tutte gedebuteer. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy haar in Brittanje gevestig, waar debute gemaak is in Londen (1947), en by Covent Garden en Glyndebourne (beide in 1948). Ook in 1948 het sy in Mahler se Lieder eines fahrenden Gesellen in konserte onder Wilhelm Furtwangler in Engeland gesing. Vier jaar later het sy uitgeblink as Marina in ‘n opname van Boris Godoenof onder Issay Dobrowen. Sy was voorts ‘n vermaarde liederesangeres en het sangonderrig in Parys gegee, waar sy oorlede is.

Zecchi, Carlo (1903-84), Italiaanse pianis en dirigent. Hy het in 1920 sy debuut as pianis in Berlyn gemaak en daarna as solis getoer. Vanaf 1939 het hy as duet-vennoot van die tjellis Enrico Mainardi opgetree, en saam het hulle in 1955 by die Salzburg-fees gedebuteer. Intussen het hy vanaf 1947 ook gedirigeer, nadat hy agt jaar tevore begin het om die dirigeerkuns te bestudeer. Daarbenewens het hy in Rome en Salzburg onderrig gegee en die klawerbordwerke van Domenico Scarlatti geredigeer.

Zedda, Alberto (1928-), Italiaanse dirigent en musiekgeleerde. Ná sy debuut in 1956 in Milaan was hy ‘n dosent aan die Cincinatti Musiekkollege (1957-9), en daarna ‘n dirigent by die Deutsche Oper in Berlyn (1961-3) en die New York Stadsopera. Hy was mede-redakteur van ‘n volledige uitgawe van Rossini se werke en het in 1975 by Covent Garden sy kritiese uitgawe van Il barbiere di Siviglia gedirigeer. Daarby verskyn hy as gasdirigent van ensembles soos die Nederlandse Kamerorkes en die Lausanne Kamerorkes. Sleutelopname: Rossini se opera Tancredi. Verdere opnames: Debussy se Danse en Sarabande; Milhaud se ballet La création du monde; Prokofiëf se eerste simfonie en Sinfonietta; en die operas Fra Diavolo, La sonnambula, Adelaide di Borgogna, L’equivoco stravagante en La Sonnambula.

Zednik, Heinz (1940-), Oostenrykse tenoor. Hy het in 1963 in Graz sy debuut gemaak as Trabuco in La forza del destino. Daarna het hy wyd deur Europa, Rusland en Noord-Amerika opgetree, met debute by die Weense Opera (1965), die Bayreuth-fees (1970), die Salzburg-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1981). In 1976 het hy met die Bayreuth Eeufeesviering die rolle van Loge in Das Rheingold en Mime in Siegfried gesing, en dit vier jaar later herhaal in hoogstaande opnames onder Pierre Boulez. Hy het die rolle van die Regisseur in Un re in ascolto (1984) en Hadank in Die schwarze Maske (1986) tydens die premières van dié operas in Salzburg geskep. As begaafde sanger in Duitse en Russiese opera, dikwels in veeleisende rolle, is hy voorts bekend as die Kaptein in Wozzeck, Green in Wintermärchen, Njegus in Die lustige Witwe, die Skriba in Khowansjina, Monostatos in Die Zauberflöte en die Dronk Kossak in Mazeppa. In die Ring-siklus wat in 1989/90 by die Met onder James Levine opgevoer is, het hy ‘n onoortreflike vertoning as Mime in beide Das Rheingold en Siegfried gelewer, met DVD-opnames wat daarvan getuig. Verdere opnames: die genoemde operette van Lehár; laasgenoemde vyf operas van Berg, Boesmans, Moessorgski, Mozart en Tsjaikofski, asook Die vurige engel en Dame Macbeth van Mtsensk.

Zehetmair, Thomas (1961-), Oostenrykse violis en dirigent. Hy het aan die Mozarteum in sy geboortestad Salzburg studeer en op 16 by die beroemde musiekfees daar gedebuteer. In die jaar daarop het hy die internasionale Mozart-kompetisie gewen, en sedertdien tree hy wyd deur Europa en die VSA as solis op. Met sy sensitiewe vertolkings is hy uitmuntend in sentraal-Europese musiek, veral van die twintigste eeu. Hy het in 1994 die Zehetmair Kwartet gestig, en hul opnames van 2 Schumann-kwartette is in 2003 as Gramophone se Opname van die Jaar bekroon. Intussen het hy in 2002 musiekdirekteur van die Noordelike Sinfonia in Brittanje geword. Hy tree ook as gasdirigent van ensembles soos die Camerata Bern, die Northern Sinfonia en die Orchestra of the Eighteenth Century op. Vioolkonserte is vir hom geskryf deur Holliger en Dillon. Sleutelopnames: Janácek se vioolkonsert (onder Holliger); Schumann se vioolkonsert (onder Eschenbach); Szymanowski se 2 vioolkonserte (onder Rattle). Verdere opnames (as solis): Bartók en Dvorák se vioolkonserte; Beethoven se Driedubbele Konsert (onder Harnoncourt); Hartman se Concerto funèbre; Schumann se Fantasie vir viool en orkes; (as dirigent) Bartók se Divertimento vir Strykers; ‘n versameling orkeswerke van Britten; Schoenberg se Verklärte Nacht; en Veress se 4 Transilvaniese Danse.

Zender, Hans (1936-), Duitse dirigent en komponis. Hy het onder die komponis Zimmermann in Keulen studeer en daarna verskeie dirigeerposte in sy geboorteland en Nederland beklee. Daaronder tel assistent-dirigent van die Freiburg Opera (1959), hoofdirigent van die Bonn Opera (1964-8), musiekdirekteur in Kiel (1969-71), hoofdirigent van die Saarbrücken Radio Simfonie-orkes (1971-84), musiekdirekteur van die Hamburg Opera (1984-7) en dirigent van die Nederlandse Radio Kamerorkes (vanaf 1987). Intussen het hy in 1975 by die Bayreuth-fees gedirigeer, met verdere debute wat gemaak is in Londen (1977) en by die Salzburg-fees (1983). As bekende in moderne musiek het hy in 1975 'n voortreflike opname van Feldman se Klavier en Orkes met die pianis Roger Woodward gemaak.

Ziegler, Delores (1951-), Amerikaanse mezzosopraan. Ná 'n aanvanklike konsertloopbaan het sy in 1978 haar verhoogdebuut in Oxfield, Tennessee gemaak, as Flora in La Traviata. Verdere debute het gevolg in Sint Louis (1979) as Maddalena in Rigoletto, en in Bonn (1981), Keulen (1982), by La Scala en die Glyndebourne-fees (beide in 1984), die Salzburg-fees (1985) en die Metropolitan Opera (1990). Onder haar verdere rolle tel Dorabella in Così fan tutte en Fatima in Oberon. Opnames: die genoemde operas van Mozart en Weber, asook Le roi d'Ys en La clemenza di Tito.

Ziesak, Ruth (1963-), Duitse sopraan. Sy het in 1988 in Heidelberg gedebuteer as Valencienne in die operette Die lustige Witwe. Verdere debute het gevolg in Düsseldorf en by die Salzburg-fees (beide in 1989), en by die Deutsche Oper in Berlyn en die Bastille Opera in Parys (beide in 1993). Onder die rolle waarin sy uitblink, tel Marzelline in Fidelio, Gretel in Hänsel und Gretel, Servilia in La clemenza di Tito en Pamina in Die Zauberflöte. Met haar soet toonkleur is sy ook begaafd in konsertwerke en liedere, veral in die Duitse repertorium vanaf die Barok tot die laat-Romantiek. Sy het in 1995 uitgeblink as Gabriel en Eva in ‘n uitvoering van Haydn se oratorium Die Schöpfung onder Georg Solti, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder Blomstedt), 4 (onder Gatti) en 8 (onder Chailly); Stradella se Kersfeeskantate Ah, ah, troppo è ver (as die Skaapwagter); Telemann se Kantates nrs. 5, 35, 42, 48 en 67 (met die Camerata Köln); liedere van Schubert en Zemlinsky; en die genoemde operas van Humperdinck en Mozart.

Ziloti, Alexander (1863-1945), Russiese pianis en dirigent. Hy het in Moskou onder Tsjaikofski studeer en in 1880 sy debuut in die Russiese hoofstad gemaak. Drie jaar later het sy Leipzig-debuut plaasgevind, en vanaf dieselfde jaar tot 1886 het hy onder Liszt in Weimar studeer. Vanaf 1887 was hy vir drie jaar ‘n hoogleraar in klavier aan die Moskou Konserwatorium, met sy beroemde neef Sergei Rachmaninof as een van sy leerlinge. Hy het wyd getoer, onder andere in Engeland en die VSA (1898/9). In 1901/2 het hy in Moskou ook as dirigent opgetree, en het mettertyd sy eie orkes in Sint Petersburg gestig en hulle gedirigeer. Ná die Kommunistiese Rewolusie het hy Rusland in 1919 verlaat en hom drie jaar later in New York gevestig, waar hy vanaf 1925 tot 1942 onderrig aan die Juilliard Musiekskool gegee het. Sy weergawe van Tsjaikofski se tweede klavierkonsert word nog dikwels uitgevoer, en daarbenewens het hy konserte van Bach en Vivaldi verwerk.

Zimbalist, Efrem (1889-1985), Russies-gebore violis en komponis. Hy het onder die vermaarde leermeester Leopold Auer studeer en in 1907 sy debuut in Berlyn gemaak, met Brahms se vioolkonsert. Daarna het hy wyd getoer, met ‘n Londense debuut in 1907 en ‘n Amerikaanse debuut in Boston vier jaar later. In 1911 het hom in die VSA gevestig, waar hy in 1914 met die sopraan Alma Gluck getroud is. Hy het in ‘n vroeë opname van Bach se Dubbelkonsert met Fritz Kreisler verskyn. Verder het hy vanaf 1928 aan die Curtis Instituut in Philadelphia onderrig gegee en was hy vanaf 1941 tot 1968 die direkteur daarvan. Hy het in 1949 as solis uitgetree, maar het nogtans drie jaar later die eerste uitvoering van Menotti se vioolkonsert in New York gegee. In 1962 en 1966 was hy ‘n jurielid tydens die Tsjaikofski-kompetisies in Moskou.

Zimerman, Krystian (1956-), Poolse pianis. Hy het in 1975 die Chopin-kompetisie in Warskou gewen, en in die jaar daarop het hy as solis met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Herbert von Karajan gespeel. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1977) en in die VSA (1979). Met sy kragtige dog verfynde spel het hy wêreldbekend geraak as een van die voorste klaviervirtuose van sy tyd. Hy het in 1988 in Salzburg die eerste uitvoering gegee van Lutoslafski se klavierkonsert, wat vir hom geskryf is. Sleutelopnames: Debussy se volledige Préludes; Liszt se 2 klavierkonserte (onder Ozawa); Ravel se Klavierkonsert in G en Klavierkonsert vir die linkerhand (onder Boulez). Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven en Chopin, asook die enkeles van Grieg, Lutoslafski en Schumann; Rachmaninof se eerste twee klavierkonserte; solowerke van Brahms en Chopin; en as solis in Strawinski se ballet Les noces.

Zimmermann, Frank Peter (1965-), Duitse violis. As tienjarige het hy sy openbare debuut met die Duisburg Simfonie-orkes in 'n vioolkonsert van Mozart gemaak. Sy Amerikaanse debuut het in 1984 met die Pittsburgh Simfonie-orkes plaasgevind, en twee jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Opnames: vioolkonserte van Dvorák, Glazoenof, Ligeti en Prokofiëf; en vioolsonates van Janácek en Prokofiëf.

Zimmermann, Tabea (1968-), Duitse altviolis. As bekende in moderne musiek het sy in 1993 die première van Ligeti se altvioolsonate gegee. As solis het sy in Salzburg en by ander feeste opgetree, en daarby is sy 'n hoogleraar in Frankfurt. Sleutelopnames: Berlioz se Harold in Italië (onder Colin Davis). Verdere opnames: Bartók en Hindemith se altvioolkonserte; Gubaidulina se Hommage à T.S. Eliot (met verskeie ander soliste); en solowerke van Britten, Sjostakowitsj en Strawinski.

Zinman, David (1936-), Amerikaanse dirigent. Hy het aan die Oberlin Konserwatorium, die Minnesota Universiteit en die Tanglewood Musieksentrum studeer. By laasgenoemde het hy onder die aandag van die groot dirigent Pierre Monteux gekom, waarna hy vanaf 1961 vir twee jaar ‘n assistent vir Monteux by die Maine Somerskool was. In 1963 het sy debuut by die Holland-fees plaasgevind. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Nederlandse Kamerorkes (1965-77) en die Rochester Filharmoniese Orkes (1974-85), hoofdirigent van die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1979-82), en musiekdirekteur van die Baltimore Simfonie-orkes (1985-95). In 1991 het hy die Deutsche Kammerphilharmonie in Wiesbaden in ‘n uitstekende DVD-opname van Mozart se simfonie nr. 39 gedirigeer. Hy het voorts in die jaar daarop met die Londense Sinfonietta en die sopraan Dawn Upshaw ‘n opname van Gorécki se derde simfonie gemaak wat ‘n topverkoper geword het.

Sedert 1995 is Zinman musiekdirekteur van die Tonhalle Orkes in Zürich, wat hy in die jaar daarop op ‘n Europese toer geneem het. Hulle het in die laat 1990’s die eerste opnames van Beethoven se volledige simfonieë op moderne instrumente volgens ‘n nuwe kritiese uitgawe deur die musiekgeleerde Jonathan del Mar gemaak. Die stel is in 1999 met die Duitse Schalplatten Kritik prys bekroon. Sleutelopnames: Koechlin se toondig The Jungle Book en 3 Songs (Berlynse Radio Simfonie-orkes); Ives se New England Symphony en Three Places in New England (Baltimore); Schumann se 4 simfonieë (Zürich). Verdere opnames: simfonieë van J.C. Bach, Elgar en Rachmaninof (nr. 2); Barber se eerste simfonie, Adagio vir Strykers en 2 Essays; Beethoven se volledige ouvertures en Missa solemnis; orkeswerke van Dukas, Glinka, Kodály, Koechlin, Mozart, Rimski-Korsakof, Tsjaikofski en Torke; Gorécki se klawesimbelkonsert (as solis en dirigent); Richard Strauss se Ein Alpensinfonie en Festliches Praeludium; en die ballette Les Sylphides (Chopin), Billy the Kid en Rodeo (Copland), Coppélia (Delibes), La péri (Dukas) en Faust (Gounod).

Znaider, Nikolai (1975-), Deens violis van Pools-Israeliese afkoms. Hy het aanvanklik onder Milan Vitek aan die Koninklike Deens Konserwatorium studeer. Nadat hy in 1992 die Carl Nielsen-kompetisie gewen het, is hy na New York om verder aan die Juilliard Musiekskool onder Dorothy DeLay te studeer. Daarby het hy vanaf 1994 aan die Weense Konserwatorium onder Boris Kuschnir studeer. Sy internasionale deurbraak is gemaak toe hy in 1997 die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen het. Hy is deur niemand minder nie as Yehudi Menuhin beskou as die opvolger van die legendariese virtuoos Eugene Ysaÿe. Sedertdien tree hy wêreldwyd op as solis met bekende orkeste en dirigente, en in kamermusiek. Hy bespeel ‘n Guarneri-viool wat in 1732 gemaak is. Sleutelopnames: Glazoenof se vioolkonsert en Tsjaikofski se Méditation (beide onder Jansons). Verdere opnames: vioolkonserte van Bruch (nr. 1), Nielsen en Prokofiëf (nr. 2).

Zürich Opera, Switserse teater waar die eerste gemagtigde opvoering van Wagner se Parsifal buite Bayreuth in 1913 gegee is. Die eerste verhoogproduksie van ‘n aantal twintigste-eeuse operas is daar gegee, waaronder Lulu (1937), Mathis der Maler (1938), Moses und Aron (1957) en The Greek Passion (1961). In 1969 het Henze sy opera König Hirsch daar gedirigeer. Die operahuis is verder bekend in die musiek van Richard Strauss.

Zukerman, Pinchas (1948-), Israeliese violis en dirigent. As wonderkind het hy op agtjarige leeftyd sy openbare debuut gemaak. Vanaf 1962 het hy aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer, waar hy vyf jaar later saam met Kyung-Wha Chung die medewenner van die Leventritt-prys was. In 1969 is sy solodebuut met die New York Filharmoniese Orkes gemaak, in dieselfde jaar sy Britse debuut by die Brighton-fees, en in 1970 sy debuut by die Salzburg-fees. Hy het in 1971 begin om as direkteur van Barok-ensembles op te tree. In 1974 is sy Londense dirigeerdebuut gemaak, en mettertyd het hy as gasdirigent met van die voorste Amerikaanse orkeste verskyn. Verder was hy musiekdirekteur van die Sint Paulus Kamerorkes in Minnesota (1980-86). Hy is ‘n wêreldbekende solis in die Romantiese en moderne repertoriums, en dirigeer soms self in sy konsertuitvoerings. Verder is hy bekend in kamermusiek as vennoot van Daniel Barenboim, Itzhak Perlman en andere, en bespeel hy ook die altviool. Sleutelopnames: Mozart se Sinfonia concertante (met Perlman, onder Mehta). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Bartók, Brahms, Bruch, Elgar, Mendelssohn, Tsjaikofski, Vieuxtemps en Vivaldi; Bach se Dubbelkonsert (met Garcia); Berg se Kamerkonsert (met Barenboim); Berlioz se Harold in Italië; Brahms se volledige viool- en altvioolsonates; Lalo se Symphonie espagnole; Vaughan Williams se The Lark ascending; en Vivaldi se 12 vioolkonserte (opus 8), insluitend die Vier Seisoene.

Zukofsky, Paul (1943-), Amerikaanse violis, dirigent en komponis. Hy het reeds as vierjarige begin viool speel en twee jaar later is sy openbare debuut gemaak. Sy konsertdebuut het in 1953 met die New Haven Simfonie-orkes plaasgevind, en drie jaar later het hy as jong tiener sy eerste uitvoering in New York gegee. In 1969 is sy Londense debuut gemaak. Hy was vanaf 1987 vir twee jaar direkteur van kamermusiek by die Juilliard Musiekskool in New York. As spesialis in twintigste eeuse musiek het hy eerste uitvoerings van werke deur Babbitt, Cage, Hamilton, Sessions en ander komponiste gegee. Verder het hy die Koninklike Filharmoniese Orkes in 'n uitstekende opname van Schnabel se tweede simfonie gedirigeer.

Zylis-Gara, Teresa (1935-), Poolse sopraan. Sy het in Lódz studeer en ‘n nasionale kompetisie vir jong sangers in Warskou gewen. Dit het gelei tot haar werwing deur die Kraków Opera, waar sy in 1957 in die titelrol van Moniuszko se Halka gedebuteer het. In 1960 het sy die internasionale sangkompetisie in München gewen, waarna sy vir die volgende tien jaar by Duitse operahuise in Oberhausen, Dortmund en Düsseldorf sou sing. Sy het in 1965 by die Glyndebourne-fees gedebuteer as Octavian in Der Rosenkavalier, en in die jaar daarop is haar internasionale deurbraak in Parys gemaak. Dit was as Donna Elvira in Don Giovanni, wat een van haar beste rolle sou word. In 1968 het sy debute gemaak by Covent Garden (as Violetta in La Traviata), by die Salzburg-fees (onder Herbert von Karajan), in San Francisco (weer as Donna Elvira) en by die Metropolitan Opera. Sy het by die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa en Noord-Amerika opgetree, en was vanaf 1972 aan die Weense Staatsopera verbonde. Naas opera was sy met haar suiwer, liriese stem begaafd in gewyde werke en liedere. Daarby gee sy meesterklasse in Europa en die VSA, veral in Monaco waar sy haar gevestig het. Opnames: ‘n aantal kantates van Bach en sy Sint Mattheüspassie; Beethoven se Missa Solemnis (onder Giulini); Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Handel se Dixit Dominus; Mahler se Das klagende Lied; Mozart se Requiem; en die operas Le roi Arthus (in die eerste opname daarvan, onder Armin Jordan) en Ariadne auf Naxos (in die rol van die Komponis).

Encyclopedia: Western Music