If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

S - T

S

Saarbrücken Radio Simfonie-orkes, Duitse orkes wat in 1937 gestig is. Ná die Tweede Wêreldoorlog was Rudolf Michl vir ‘n kwarteeu die hoofdirigent, en hy is opgevolg deur Hans Zender (1972-84), Myung-Whun Chung (1984-90) en Marcello Viotti (1991-96). Sedert 1996 is Michael Stern die hoofdirigent.

Sacher, Paul (1906-), Switserse dirigent en beskermheer. Hy het in Basel onder die beroemde Felix Weingartner studeer en daarna verskeie ensembles gestig, naamlik die Basel Kamerorkes (1926), die Basel Kamerkoor (1928) en die Schola Cantorum Basiliensis (1933). Met laasgenoemde het hy pionierswerk gedoen in die bestudering van vroeë musiek en die uitvoering daarvan op eietydse instrumente. Sy kamerorkes sou hy vir 'n ongeëwenaarde sestig jaar lank dirigeer. Vanaf 1941 was hy vir vyftig jaar ook dirigent van die Collegium Musicum in Zürich, en vanaf 1954 tot 1969 direkteur van die Basel Musiekakademie. Hy het daarbenewens wyd as gasdirigent in Europa en Noord-Amerika verskyn, onder meer by die Glyndebourne-fees (1954-63) en in New York (vanaf 1955). In 1973 het hy die Baselse stigting wat na hom vernoem is op die been gebring vir die bewaring van talle manuskripte deur moderne komponiste, onder andere die volledige werke van Webern. Hy was een van die vernaamste dryfkragte agter twintigste-eeuse musiek, met nie minder nie as 225 werke wat vir hom geskryf of die eerste keer deur hom uitgevoer is. Daaronder tel Bartók se Divertimento vir strykorkes, Musiek vir strykers, slaginstrumente en celesta en Sonate vir twee klaviere en slaginstrumente, Birwistle se Endless Parade, Honegger se tweede en vierde simfonieë, Richard Strauss se Metamorphosen, Strawinski se Konsert in D, en werke deur Hindemith, Lutoslafski, Martinu, Takemitsu en Tippett. Met die Philharmonia Orkes in Londen het hy die gevierde violis Anne-Sophie Mutter begelei in 'n ongeëwenaarde opname van Strawinski se vioolkonsert. Verdere opnames: Bartók se Divertimento vir strykorkes en Musiek vir strykers, slaginstrumente en celesta (Oxford); en ‘n versameling strykermusiek van Henze (Zürich).

Sack, Erna (1898-1972), Duitse sopraan. Sy het op nege in die kerkkoor in haar tuisstad Berlyn-Spandau begin sing. Vanaf sestien jaar het sy as snelskryfster gewerk om vir sanglesse te betaal, eers aan die Praag Konserwatorium en daarna onder die Hongaarse tenoor Oscar Daniel in Berlyn. Aanvanklik was sy ‘n mezzosopraan, met ‘n debuut wat in 1925 by die Berlynse Staatsopera gemaak is. Vanaf 1928 het sy vir twee jaar mezzorolle by die Berlynse Stadsopera gesing, voordat sy oorgeslaan het na koloratuursopraan. Sy het gesing in Wiesbaden en Breslau, totdat sy in 1935 ‘n lid van die Dresden Staatsopera geword het. Daar het sy in die premières van Strauss se Die Schweigsame Frau en Schoeck se Massimilla Don gesing. Vanaf 1933 het sy internasionaal by van die voorste operahuise opgetree, insluitend Covent Garden waar sy in 1936 in die titelrol van Ariadne auf Naxos geskitter het, met die komponis as dirigent. Tydens haar Londense besoek het Koning George V uit erkenning ‘n diamant-ingelegde kruis aan haar oorhandig. In 1937 het sy vir die eerste keer in die VSA gesing, by die Chicago Opera. Later in dieselfde jaar het sy in Rome die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte gesing teenoor Licia Albanese en Tito Schipa. Haar repertorium het verdere rolle ingesluit soos Rosina in Il barbiere di Siviglia en die titelrol in Lucia di Lammermoor. Sy sou wêreldbekend word as die Duitse Nagtegaal, en het tydens die Tweede Wêreldoorlog wyd deur Europa opgetree. Naas opera het sy in verskeie Duitse musiekblyspele gesing. Sy het in 1947 ‘n Brasiliaanse burger geword, en vanaf haar tuiste in Rio de Janeiro het sy na die Amerika’s, Australië en Suid-Afrika getoer. Vir ‘n wyle het sy in Montreal gewoon, en in 1956 het sy na haar geboorteland teruggekeer.

Sadler's Wells Opera - sien Engelse Nasionale Opera.

Sádlo, Milos (1912-), Tsjeggiese tjellis wat sy leermeester se van aangenem het. Hy het in 1929 as solis gedebuteer en agt jaar later in Londen begin optree. In die vroeë 1930’s was hy ‘n lid van die Praag Kwartet, en vanaf 1938 het hy vir twee jaar aan die Praag Konserwatorium studeer. Hy het vanaf 1950 aan die Praag Akademie onderrig gegee en in 1955 verdere studies onder Pablo Casals onderneem. Vanaf 1966 het hy vir sewe jaar in die Praag Trio gespeel. Hy het die eerste moderne uitvoering van Dvorák se minder bekende Tjellokonsert in A gegee, en het in die 1970’s beide dié werk en die hoogs gewilde Tjellokonsert in B onder Václav Neumann opgeneem.

Saito, Hideo (1902-74), Japannese tjellis. Nadat hy vir twee jaar in Duitsland studeer het, het hy in 1948 met drie medewerkers ‘n privaat musiekskool in Tokio gestig. Vier jaar later is ‘n musiekkursus in die Toho Meisieskool in die Japannese hoofstad geopen, wat later die bekende Toho Gakuen Musiekskool sou word. Hy het sy studente byvoorbeeld vir ‘n jaar lank Brahms se eerste simfonie laat speel, om hulle met die komponis se denke vertroud te maak. Een van sy studente was die later beroemde dirigent Seiji Ozawa. Met die tiende herdenking van sy dood is die Saito Kinen Orkes deur voormalige studente gestig (sien die volgende inskrywing).

Saito Kinen Orkes, Japannese ensemble wat in 1984 gestig is. Hul stigting het saamgeval met die tiende herdenking van die dood van Hideo Saito (sien die vorige inskrywing). Sedert die stigting van die Saito Kinen Musiekfees te Matsumoto in die Japannese Alpe in 1992 is die orkes daar gebaseer. Onder Seiji Ozawa het hulle vroeg in 2000 ‘n uitstekende uitvoering van Mahler se tweede simfonie gegee, met ‘n opname wat daarvan getuig. Twee jaar later het hulle met dieselfde dirigent en die Tokio Operakoor ‘n briljante uitvoering van Beethoven se negende simfonie by die fees gegee, met ‘n DVD wat daarvan getuig.

Sakari, Petri (1958-), Finse violis en dirigent. Op agt jaar het hy met vioolstudies begin, en op nege het hy ‘n student aan die konserwatorium in sy geboortestad Tampere geword. Naas viool is lesse in klavier en hobo ontvang. Hy het in 1974 met dirigeerstudies begin, weldra aan die Sibelius Akademie in Helsinki onder Jorma Panula. In 1981 het hy daar gegradueer, met meesterklasse wat in die VSA (Aspen), Italië (Siena) en Switserland (Luzern) sou volg. Laasgenoemde was onder die groot dirigent Rafael Kubelik. Sedert 1983 dirigeer hy Finse orkeste soos die Vaasa Stadsorkes, die Finse Radio Simfonie-orkes, die Lahti Simfonie-orkes en die Turku Filharmoniese Orkes. Hy sou internasionale bekendheid verwerf met die Ysland Simfonie-orkes, as hoofdirigent (1988-93), hoofgasdirigent (1993-6) en weer hoofdirigent (1996-8). Hulle het verskeie oorsese toere saam onderneem, en hul opnames van Sibelius se orkeswerke word hoog aangeskryf. Daarby was hy musiekdirekteur van die Lohja Simfonie-orkes in sy geboorteland (vanaf 1993) en hoofgasdirigent van die Sweedse Kamerorkes (1995-7). As gasdirigent tree hy wyd deur Europa op, asook in Meksiko en Singapoer. Sedert 2000 is hy hoofdirigent van die Gävle Simfonie-orkes in Swede. Sleutelopnames: Madetoja se 3 simfonieë, Komedie ouverture, Okon Fuoko en Pohjalaisia Suite (Ysland). Verdere opnames: Alfvén se 3 Sweedse Rapsodieë; Grieg se In die Herfs ouverture, Noorse Danse en Ou Noorse Romanse; Sibelius se volledige simfonieë, asook The Tempest suite, Koning Christian II suite en Pelléas et Mélisande suite.

Salminen, Matti (1945-), Finse bas. Aanvanklik was hy ‘n koorsanger by die Finse Nasionale Opera, waarna verskynings in kleiner rolle daar gevolg het. In 1969 is hy met ‘n beurs van die Finse regering na Italië vir studies onder Luigi Ricci. Sy internasionale deurbraak is kort daarna gemaak toe hy op die laaste nippertjie as Filips II in Don Carlos moes sing. Ná verdere studies in Duitsland was hy vanaf 1972 vir sewe jaar ‘n lid van die Keulen Opera. Nog debute is gemaak by die Wexford-fees (1973), Covent Garden (1974), die Bayreuth-fees (1976) en die Metropolitan Opera (1981). Hy is sedert die vroeë 1970’s in Zürich woonagtig, waar hy gereeld by die operahuis optree. Met sy ferm, donker stem, kragtige sang en intense karakterisering is hy uitmuntend in Wagner-rolle soos Daland in Der fliegende Holländer, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Gurnemanz en Titurel in Parsifal, Hermann in Tannhäuser, Koning Mark in Tristan und Isolde, Fafner in Siegfried, Fasolt in Das Rheingold en Hunding in Die Walküre. Laasgenoemde twee rolle het hy tydens die Bayreuth Eeufeesviering in 1976 gesing. Daarby word hy met sy dominerende verhoogpersoonlikheid as die voorste Hagen in Götterdämmerung van sy tyd beskou, sodat hy die rol al vele male wêreldwyd gesing het. Dit sluit James Levine se hoogaangeskrewe 1990-opvoering by die Metropolitan Opera in, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Hy is verder begaafd as Filips II in Don Carlos, Caspar in Der Freischütz, die titelrol in Boris Godoenof en Osmin in Die Entführung aus dem Serail. Die gesogte titel van Kammersänger is deur drie groot kultuurstede aan hom toegeken: Berlyn, Wenen en München. Opnames: die genoemde operas van Mozart, Wagner en Weber; en ‘n versameling Finse tango-musiek.

Salomon, Paula (1897-2000), Duitse alt. Sy is deur die komponis Paul Hindemith ontdek, en was tussen die twee wêreldoorloë ‘n gevierde solis in werke van Bach. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy veral in Nederland as solis gewild geraak. Sy het opnames van Joodse liedere (in Yiddisj gesing) nagelaat, waarin sy op die klavier deur die dirigent Rudolf Schwarz begelei is.

Salonen, Esa-Pekka (1958-), Finse dirigent en komponis. Hy het in Helsinki, Siena en Milaan studeer en sy loopbaan as horingspeler begin. In 1979 het sy dirigeerdebuut met die Finse Radio Simfonie-orkes plaasgevind. Vier jaar later is ‘n sensasionele Londense debuut met die Philharmonia Orkes gemaak in Mahler se derde simfonie, wat hy met slegs ‘n paar dae kennis geleer en ingeoefen het. Vanaf 1985 tot 1995 was hy hoofdirigent van die Sweedse Radio Simfonie-orkes, en sedert 1992 is hy musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes. Intussen het hy in 1986 met laasgenoemde orkes ‘n bekroonde opname van Lutoslafski se derde simfonie gemaak, wat daartoe gelei het dat die komponis sy vierde simfonie vir hulle geskryf het. Ook in 1986 het hy die eerste uitvoering van Saxton se The Circles of Light gedirigeer. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1991) en Covent Garden (1995). Met die Philharmonia Orkes het hy vanaf 1996 die volledige werke van Ligeti onder die komponis se toesig opgeneem. Hy het dié orkes ook in die klankbaan van die rolprent The Red Violin gedirigeer, met die violis Joshua Bell as solis. In 2007 is daar bekendgemaak dat hy sy pos in Los Angeles in 2009 gaan ontruim ten einde meer tyd aan komposisie te bestee. Helaas is hy afwysend teenoor die groot komponis Sjostakowitsj, wie se musiek hy nie dirigeer nie. Verdere opnames: Bartók se Konsert vir Orkes en Musiek vir strykers, slaginstrumente en celesta; Ligeti se opera Le Grand Macabre; Lutoslafski se tweede simfonie; Mahler se vierde simfonie; Messiaen se Des canyons aux étoiles en Turangalila Simfonie; Prokofiëf se ballet Romeo en Juliet; Sibelius se Kullervo simfonie; Strawinski se Simfonieë van houtblasers, Petroesjka, Pulcinella en Oedipus Rex; en strykerwerke van Larsson, Lidholm en Wirén.

Salzburg, Oostenrykse stad waar beide Wolfgang Amadeus Mozart (1756) en Herbert von Karajan (1908) gebore is. ‘n Jaarlikse musiekfees wat een van die beroemdstes ter wêreld sou word, is in 1920 deur die teaterdirekteur Max Reinhardt (1873-1943) en andere daar gestig. In 1937 het drie van die wêreld se voorste dirigente, Clemens Krauss, Arturo Toscanini en Bruno Walter, 'n aantal operas in Salzburg gedirigeer in opvoerings wat steeds onder die bestes van die twintigste eeu gereken word. Vanaf die laat 1940’s tot 1954 is die fees deur Wilhelm Furtwängler oorheers, en daarna vir meer as drie dekades deur Karajan en Karl Böhm. In 1960 het Karajan ‘n nuwe Festspielhaus geopen, en sewe jaar later het hy sy eie Paasmusiekfees in Salzburg gestig. Gedurende die 1990’s is ‘n derde jaarlikse fees, die Pinkster Barokfees, in die stad ingelui.

Salzédo, Carlos (1885-1961), Frans-gebore harpspeler en komponis. Hy het in Parys studeer en was vanaf 1905 vir vier jaar ‘n harpsolis in Monte Carlo. Daarna het hy hom in New York gevestig, waar hy eerste harpspeler by die Metropolitan Opera was (1909-13). Hy was voorts ‘n leermeester aan die Juilliard Musiekskool, en later het hy ‘n departementshoof aan die Curtis Instituut in Philadelphia geword. Saam met die komponis Edgard Varèse het hy in 1921 die Internasionale Komponistegilde gestig. In 1923 het hy 'n Amerikaanse burger geword en in 1931 het hy ‘n harpspelerkolonie in Camden, Maine gestig. Hy het veel bygedra om die tegnieke van harpspel te verbeter en het ook 'n boek daaroor geskryf.

Samosud, Samuil (1884-1964), Russiese tjellis en dirigent. Nadat hy ‘n tjellis in ‘n aantal orkeste was, het hy ‘n dirigent geword by die Mariinsky Teater in Petrograd (1917-19). Vervolgens was hy artistieke direkteur van die Maly Teater in dié stad (1918-36). Hy het vanaf 1929 tot 1936 ook aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium onderrig gegee, waarna hy artistieke direkteur was van die Bolsjoi Teater in Moskou (1936-43). In 1957 het hy die eerste hoofdirigent van die USSR Staatsimfonie-orkes geword. Onder sy eerste uitvoerings tel Sjostakowitsj se opera Die Neus (1930) en sewende simfonie (1942), asook Prokofiëf se sewende simfonie (1952). Die Sjostakowitsj-simfonie is opgedra aan die stad Leningrad as hulde aan die inwoners se heldhaftige verset teen die Duitse beleg wat in 1941 begin het. Die besielende uitvoering van die première is gegee in Kuibyshev, waar die Sowjet-regering en die diplomatieke korps indertyds gebaseer was. ‘n Radio-opname van die geleentheid is dwarsdeur die USSR uitgesaai om die bevolking teen die Duitse invallers te inspireer. Dit is stellig Samosud se vernaamste erflating.

Sampson, Carolyn (1974-), Engelse sopraan. Sy het musiek aan die Universiteit van Birmingham studeer en ‘n prys vir Baroksang gewen. Haar operadebuut is met die Engelse Nasionale Opera gemaak, in Monteverdi se The Coronation of Poppea. Met haar helder, ryk stem en soet toonkleur is sy uitmuntend in rolle soos Euridice en La Musica in Orfeo, Euridice in Orfeo ed Euridice, Amor in Paride e Elena, Belinda in Dido and Aeneas, Susanna in Le nozze di Figaro en Adina in L’elisir d’Amore. Sy is nog meer bekend in konsertwerke van die Barokera, en toer wyd deur Europa met bekende vroeë musiek-ensembles soos The Sixteen en The King’s Consort. Sleutelopnames: Delalande se Te Deum en Panis Angelicus (onder Skidmore); Handel se Ode for St Cecilia’s Day en Cecila volgi un sguardo (onder Robert King). Verdere opnames: Michael Haydn se Missa in honorem Sanctae Ursulae en Requiem pro defuncto Archiepiscopo Sigismondo; ‘n versameling luitliedere van Johnson (met Wadsworth en Levy); Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Vivaldi se Gloria RV 688, Laetatus sum, Laudate pueri, Jubilate RV 639 en Vespro Principi divino; Zelenka se Litaniae de Venerabili Scramento, Officium Defunctorum, Regina coeli Laetare en Salve Regina; en Gluck se opera Paride e Elena (onder McCreesh).

Sanderling, Kurt (1912-), Duitse dirigent. Hy was vanaf 1931 ‘n repetiteur by die Berlynse Staatsopera, maar vyf jaar later het hy as Jood in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland na die Sowjet-Unie uitgewyk. In dié land was hy eers ‘n dirigent van die Moskou Radio Simfonie-orkes (1936-41), en daarna met Jewgeni Mrawinski mede-hoofdirigent van die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes (1941-60). Hy het die orkes in 1956 op hul eerste na-oorlogse Europese toer gelei. Dit sluit ‘n hoogs geslaagde uitvoering van Beethoven se tweede simfonie in Wenen in, met ‘n opname wat daarvan getuig. Tydens sy verblyf in Sowjet-Rusland het hy met die komponis Sjostakowitsj bevriend geraak, sodat hy ‘n lewenslange kampvegter vir sy musiek geword het. In 1960 het hy na sy geboorteland teruggekeer, waar hy dirigeerposte beklee het by die Oos-Berlynse Simfonie-orkes (1960-77) en die Dresden Staatsorkes (1964-7). Met laasgenoemde het hy Brahms se volledige simfonieë opgeneem. Hy het in 1965 by die Salzburg-fees gedebuteer, en vyf jaar later is sy Britse debuut met die Leipzig Gewandhaus Orkes gemaak. Later het hy in die Britse hoofstad die volledige simfonieë van Beethoven met die Philharmonia Orkes opgeneem. Sleutelopname: Rachmaninof se tweede simfonie (Leningrad 1956). Verdere opnames: Bruckner se sewende simfonie; Mahler se tiende simfonie (soos deur Cooke voltooi) en Das Lied von der Erde; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 8 en 10; en Tsjaikofski se vierde simfonie.

Sanderling, Stefan (1964-), Duitse dirigent, seun van die bekende dirigent Kurt Sanderling (sien vorige inskrywing). Hy het musikologie in Halle studeer, maar is in 1986 deur die kommunistiese owerhede van die kollege uitgeskop nadat hy ‘n polities inkorrekte programnota oor Sjostakowitsj se sesde simfonie geskryf het. Daarop is hy deur die beroemde Kurt Masur genooi om dirigeerkuns aan die Leipzig Konserwatorium te studeer. In 1988 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy aan die Universiteit van Suidelike Kalifornië in Los Angeles studeer en toekennings van die Los Angeles Filharmoniese Instituut gewen het. Verdere studies het by Tanglewood onder bekende dirigente soos Bernstein, Ozawa, Slatkin en Temirkanof gevolg. Sy Amerikaanse debuut is in 1989 by die Tanglewood Somermusiekfees gemaak, waarna hy wyd deur die VSA, Europa, Australië en die Verre Ooste begin dirigeer het. Met die val van die Berlynse muur later in 1989 is hy terug na sy geboorteland, waar hy vir vyf jaar musiekdirekteur in Potsdam sou wees. ‘n Verdere vyf jaar is deurgebring as musiekdirekteur in Mainz, van beide die staatsteater en die filharmoniese orkes. Hy was vanaf 1996 hoofdirigent van die Orchestre de Bretagne in Rennes, waartydens die orkes ‘n enorme oplewing in ondersteuning beleef het. Sedert 2003 is hy musiekdirekteur van die Florida Orkes, en daarby is hy hoofdirigent van die Toledo Simfonie-orkes. Sleutelopnames: ‘n versameling ouvertures en preludes van Méhul (Bretagne). Verdere opnames: 4 simfonieë van Gossec; ‘n versameling ouvertures van Grétry; Strawinski se Danses concertantes en Pulcinella, en Tsjaikofski se 4 Orkessuites.

San Francisco Opera, in 1923 gestig en saam met dié in Chicago die tweede vernaamste operahuis in die VSA, ná die Metropolitan Opera. Die huidige gebou is in 1932 met ‘n opvoering van Tosca geopen, en oor die jare heen is die Amerikaanse premières van verskeie twintigste-eeuse operas daar aangebied. Daaronder tel Strauss se Die Frau ohne Schatten, Janácek se Die Makropulos-saak, Poulenc se Les Dialogues des Carmélites, Walton se Troilus and Cressida, Britten se A Midsummer Night’s Dream, en Tippett se The Midsummer Marriage en King Priam. Vanaf 1986 tot 1989 was John Pritchard die musiekdirekteur aldaar, en sedert 1992 beklee Donald Runnicles die pos.

San Francisco Simfonie-orkes, Amerikaanse simfonie-orkes wat in 1911 gestig is. Onder hul hoofdirigente het getel Pierre Monteux (1935-52), Enrique Jorda (1954-63), Josef Krips (1963-70), Seiji Ozawa (1970-6), Edo de Waart (1977-85), Herbert Blomstedt (1985-95) en sedert 1995 Michael Tilson Thomas.

Santini, Gabriele (1886-1964), Italiaanse dirigent. Hy het sy loopbaan in Rome begin, en was daarna vir etlike jare verbonde aan operahuise in Buenos Aires en Rio de Janeiro. Vervolgens was hy vanaf 1925 vir vier jaar Toscanini se assistent by La Scala, en daarna was hy tot 1933 dirigent van die Roomse Opera. Van laasgenoemde sou hy later (1944-7) die artistieke direkteur wees. Hy was ‘n begaafde dirigent van Italiaanse opera, veral dié van Verdi en Puccini. Sleutelopname: die opera Gianni Schicchi (Rome 1959). Verdere opnames: Madama Butterfly, Don Carlos, La Traviata en Simon Boccanegra.

Saraste, Jukka-Pekka (1956-), Finse dirigent. Hy het in 1980 sy debuut in Helsinki gemaak en in die jaar daarop die Nordiese dirigeerkompetisie gewen. In 1983 het hy as Okko Kamu se assistent met die Helsinki Filharmoniese Orkes deur die VSA getoer. Sy Londense debuut is in die jaar daarop by die Proms gemaak. Vanaf 1987 was hy vir sewe jaar hoofdirigent van beide die Skotse Kamerorkes en die Finse Radio Simfonie-orkes. Met laasgenoemde het hy die volledige simfonieë van sy landgenoot Sibelius opgeneem, asook sy koorwerke Die Storm en Kullervo simfonie. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa en Noord-Amerika op, en sedert 1994 is hy hoofdirigent van die Toronto Simfonie-orkes. Met hulle het hy ‘n opname van sy eie orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling gemaak. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven (nr. 3), Mozart (nrs. 32, 35, 36, 39 en 41) en Nielsen (nrs. 3-5); orkeswerke van Debussy, Merikanto, Ravel en Sibelius; Vanhal se Sinfonias in A mineur en F; en Madetoja se opera The Ostrobothnians.

Sargent, Malcolm (1895-1967), Engelse dirigent, pianis, orrelis en komponis. Aanvanklik was hy 'n kerkorrelis (1914-24), en later het hy klavierlesse van die groot pianis Benno Moiseiwitsj ontvang. In 1921 het hy sy eie Impression on a windy day by die Londense Proms gedirigeer, en vanaf 1923 het hy onderrig in dirigeerkuns aan die Koninklike Musiekkollege gegee. Later was hy musiekdirekteur van die Courtauld-Sargent konserte (1929-40) en oor 'n hele aantal dekades dirigent van verskeie kore. Daaronder tel die Koninklike Koorvereniging (1928-67), die Huddersfield Koorvereniging (vanaf 1932) en die Leeds Filharmoniese Vereniging (vanaf 1947). Hy was ook hoofdirigent van die Hallé Orkes (1939-42), die Liverpool Filharmoniese Orkes (1942-8) en die BBC Simfonie-orkes (1950-7). In 1942 het hy ‘n ere-doktorsgraad van die Oxford Universiteit ontvang en vyf jaar later is hy tot ridder geslaan. Hy het in 1945 met sy ensembles van Liverpool en Huddersfield die eerste volledige opname van Elgar se The Dream of Gerontius gemaak. In 1946 en 1959 het hy hulle in hoogstaande opnames van Handel se Messiah gedirigeer.

Sargent was vanaf 1948 tot sy dood hoofdirigent van die Londense Proms, waardeur hy ‘n enorme aanhang onder jongmense opgebou het. Hy was merendeels in Britse musiek bekend, veral in koorwerke en operettes. Daarby was hy ‘n sensitiewe konsertbegeleier vir bekende musici soos die violiste Ida Haendel en David Oistrach. Onder die vele premières wat hy gedirigeer het, tel sy landgenoot Walton se Belshazzar’s Feast (Leeds, 1931), Troilus and Cressida (Covent Garden, 1954) en Johannesburg Festival Overture (Johannesburg, 1956). Naas sy eie komposisies het hy orkestrasies gedoen van Brahms se Vier ernste Gesänge en van die Nocturne uit Borodin se tweede strykkwartet. Sleutelopnames: Coleridge-Taylor se koorwerk Hiawatha’s Wedding Feast (Londen 1961); Prokofiëf se Pieter en die Wolf (Londen); Gilbert en Sullivan se operettes Trial by Jury en The Yeomen of the Guard (D’Oyly Carte). Verdere opnames: orkeswerke van Delius en Holst; Sjostakowitsj se negende simfonie; en Gilbert en Sullivan se operettes The Gondoliers, HMS Pinafore, Iolanthe, The Mikado, Patience, The Pirates of Penzance, Princess Ida en Ruddigore.

Sass, Sylvia (1951-), Hongaarse sopraan. Haar moeder was ‘n sopraan en haar vader ‘n musiekonderwyser, sodat dit nie verbasend is dat sy op 14 haar verhoogdebuut in ‘n skoolopvoering gemaak het nie. Sy het aan die Liszt Akademie in Boedapest gaan studeer, waar sy ‘n vyfjarige sangkursus in twee jaar voltooi het. Vanaf 1971 was sy vir 7 jaar aan die Hongaarse Staatsopera verbonde, waar haar professionele debuut as Frasquita in Carmen gemaak is. Daar sou sy roem verwerf in rolle soos Freia in Das Rheingold, Violetta in La traviata en Mimi in La Bohème. In dié tyd het sy ‘n aantal belangrike sangpryse gewen, waaronder die Kodály-kompetisie in Boedapest (1972) en ‘n silwermedalje in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou (1974). Debute het gevolg by die Salzburg-fees (1974), in Glasgow (1975), by Covent Garden (1976), die Metropolitan Opera (1977) en La Scala (1978). Laasgenoemde was teenoor Placido Domingo in Manon Lescaut. Vanaf die middel 1970’s is sy toenemend as Maria Callas se opvolger beskou, en danksy ‘n bekendstelling deur Leonard Bernstein kon sy die diva ontmoet. Met haar intense, akkurate sang en beeldskone voorkoms is sy uitmuntend in dramatiese rolle soos Judith in Bloubaard se Kasteel, Giselda in I Lombardi, Dame Macbeth in Macbeth, Lina in Stiffelio, en die titelrolle in Medea, Fedora en Tosca. Sy sing ook in moderne opera, en het in 1988 in Mantua in die première van Malipiero se Sogno di un tramonto d’autunno verskyn. So vroeg in haar loopbaan as 1977 het sy ‘n eretoekenning van die Hongaarse regering ontvang. Sy woon in Frankryk, waar sy meesterklasse gee en skilder, met uitstallings wat wêreldwyd gehou word. Aan veelsydigheid onbreek dit die Hongaarse diva bepaald nie. Opnames: Erkel se Hunyadi László; die genoemde operas van Bartók en Cherubini, asook Stiffelio.

Savall, Jordi (1941-), Spaanse viola da gamba-speler en dirigent. As sesjarige het hy met musiekstudies begin, en later het hy as tjellis aan die Barcelona Konserwatorium gegradueer. Verdere studies in vroeë musiek en die viola da gamba het gevolg, onder bekende musici soos Wieland Kuijken in Brussel en August Wenzinger aan die Schola Cantorum Basiliensis, waar hy in 1970 sy diploma ontvang het. Hy is intussen in 1968 met sy medestudent Montserrat Figueras getroud, met wie hy tot haar afsterwe in 2011 gereeld sou optree. Hy het Wenzinger in 1973 as hoogleraar in Basel opgevolg. In die jaar daarop het hy met sy vrou en ander musici die ensemble Hespèrion XX gestig. Hy en Montserrat het in 1987 na sy geboortestad Barcelona teruggekeer, waar die vokale ensemble La Capella Reial de Catalunya en die Barokorkes Le Concert des Nations deur hom gestig is. Met laasgenoemde het hy hoogaangeskrewe opnames op eietydse instrumente gemaak. Daaronder tel ‘n Vesperdiens uit die jaarlikse misteriespel in die Spaanse dorp Elche, getiteld Misteri d’Elx: La Vespra. Naas sy loopbaan as dirigent word hy allerweë beskou as die voorste viola da gamba virtuoos van sy tyd. Sy optrede in die rolprent Tous les matins du monde het aan hom verdere roem besorg.

Sleutelopnames: Bach se 3 viola da gamba sonates (met Ton Koopman); Biber se Missa Bruxellensis; F. Couperin se 4 Concerts royaux; ‘n versameling Canzoni van G. Gabrieli; Vivaldi se Concerto funèbre en 5 ander konserte vir tjello of viola da gamba. Verdere opnames: Bach se 6 Brandenburgkonserte; Biber se Battaglia en Requiem in A; Fantasias van Ferrabosco; Jenkins se 11 Fantasies en Bell Pavan; ‘n versameling kamerwerke van Marin Marais (met Koopman en Smith) en sy Alcyone suites; enkele madrigale van Monteverdi en sy Vespro della Beata Vergine; Mozart se Requiem; 10 konserte van Saint-Colombe vir twee viola da gambas (met Kuijken); ‘n versameling uit Scheidt se Ludi musici; ‘n versameling uit Schein se Banchetto musicale; Tye se volledige instrumentele musiek; ‘n versameling motette van Victoria ter ere van die Maagd Maria; ‘n versameling Spaanse musiek van die Nuwe Wêreld getitled Villancicos y Danzas Criollas; en Monteverdi se opera Orfeo (op DVD).

Sawallisch, Wolfgang (1923-2013), Duitse dirigent en pianis. Hy het in 1947 sy dirigeerdebuut met Hänsel und Gretel by die Augsburg Opera gemaak, en was vir die volgende ses jaar aan dié teater verbonde. Daarna was hy musiekdirekteur in Aachen (1953-7), Wiesbaden (1957-9) en Keulen (1959-63), hoofdirigent van die Weense Simfonie-orkes (1960-70), musiekdirekteur van die Hamburg Filharmoniese Orkes (1961-73) en hoofdirigent van die Orchestre de la Suisse Romande (1970-80). Vanaf 1957 tot 1962 het hy by die Bayreuth-fees gedirigeer, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1957), in die VSA (1964) en by Covent Garden (1972). Hy het sy Weense orkes op toere deur die VSA (1964) en Japan (1967) gelei. Hy het in 1973 die konsertsaal van die NHK Simfonie-orkes in Tokio met ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie ingewy. Vir langer as twintig jaar (1971-93) was hy verbonde aan die Beierse Staatsopera in München, eers as musiekdirekteur en later as algemene direkteur. Hy het in die laat 1970’s en vroeë 1980’s met die koor en orkes van die Beierse Radio hoogaangeskrewe opnames van Schubert se volledige misse en ander kerkmusiek gemaak. In München het hy ook in 1980 die eerste uitvoering van Furtwängler se onvoltooide derde simfonie gedirigeer. Voorts het hy in 1989 ‘n opvoering van Wagner se Ring-siklus by die Beierse Staatsopera gedirigeer, waarvan die opnames onder die heel bestes van die epiese siklus beskou word.

Sawallisch was vanaf 1992 hoofdirigent van die Philadelphia Orkes in die VSA. In 1994 het hy die Beierse Staatsorkes in ‘n opvoering van Henze se Der Prinz von Homburg gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan gemaak is. Hy was hoogs begaafd in die Duitse Romantiek, insluitend die operas van Richard Strauss en Wagner. Verder het hy as pianis bekende sangers soos Hermann Prey begelei en in ‘n voortreflike opname van Wolf se klavierkwintet (met die Leopold Kwartet) gespeel. Sleutelopnames: Hindemith se Mathis der Maler simfonie, Nobilissima visione en Simfoniese Metamorfoses (Philadelphia); Schubert se Misse nrs. 4, 5 en 6 (Beierse Radio); die opera Capriccio (Londen 1957/8). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Brahms, Mendelssohn en Schumann (twee siklusse van lg, in Dresden en Philadelphia), en ‘n aantal van Bruckner, Dvorák (nrs. 8 en 9), Schubert en Weill; Brahms se Alt Rapsodie en Ein deutsches Requiem; Mendelssohn se oratorium Elijah; Schumann se Mis in C mineur; Smetana se Má vlast; Tsjaikofski se ballet Swanemeer; ‘n versameling Weber-ouvertures; en die operas Bloubaard se Kasteel, Die Kluge, Der Mond, Die Zwillingsbrüder, Arabella, Intermezzo, Macbeth, Die Feen, Der fliegende Holländer, Das Liebesverbot, Die Meistersinger von Nürnberg, Tannhaüser en Abu Hassan.

Sayao, Bidú (1902-1999), Brasiliaanse sopraan. Sy het in 1926 haar debuut in Rio de Janeiro as Rosina in Il barbiere di Siviglia gemaak. Vier jaar later het haar debuut by La Scala gevolg en in 1931 het sy die vroulike hoofrol in Gounod se Roméo et Juliette by die Parys Opera gesing. In 1935 het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waar sy vanaf 1937 vir vyftien jaar ‘n lid sou wees. Daar het sy roem verwerf met haar vertolkings van liriese rolle soos Juliette, Mélisande in Pelléas et Mélisande, Norina in Don Pasquale, Adina in L’elisir d’amore, die titelrol in Manon, Donna Anna in Don Giovanni en Gilda in Rigoletto. Sy het in historiese Met-opnames van al dié operas opgetree. Verder het sy gesing by operahuise in Chicago (1941-5) en San Francisco (1946-52), en in 1957 het sy uitgetree. Verdere opnames: die duet O Soave fanciulla uit La Bohéme, met Giuseppe di Stefano.

Schäfer, Christine (1970-), Duitse sopraan. Sy het aan die Berlynse Konserwatorium studeer en in 1992 haar operadebuut in die titelrol van Berg se Lulu gemaak. In die jaar daarop het haar internasionale deurbraak plaasgevind met ‘n optrede as Sophie in Der Rosenkavalier by die San Francisco Opera. Sy sou weer as Lulu verskyn by die feeste in Salzburg (1995) en Glyndebourne (1996), in laasgenoemde geval met ‘n uitstekende DVD-opname wat daarvan getuig. In 1998 het sy ‘n sensasionele debuut as liederesangeres gehad, met Reimann se Nacht-Räume by die Berlynse fees. Met die Verdi-eeufeesviering in 2001 het sy by Covent Garden stewig vertoon as Gilda in Rigoletto, eweneens met ‘n DVD-opname wat onder Edward Downes gemaak is. Sy is met haar suiwer toonkleur en virtuositeit ewe bekend in liriese operarolle en in konsertwerke. Sleutelopname: Weber se opera Der Freischütz (as Annchen, onder Harnoncourt). Verdere opnames: Bach se Magnificat en Kantates nrs. 61 en 147 (almal onder Harnoncourt, op DVD), en Kantates nrs. 51, 202 en 210 (onder Goebel); Boulez se Pli selon pli (onder die komponis self); Mozart se Requiem (onder Harnoncourt); en Schumann se Gesänge (opus 107), begelei deur Graham Johnson.

Schalk, Franz (1863-1931), Oostenrykse dirigent. Nadat hy vanaf 1886 poste in Liberec, Reichenbach, Graz, Praag en Berlyn beklee het, was hy vanaf 1900 aan die Weense Opera verbonde. Intussen het hy vanaf 1898 drie Ring-siklusse by Covent Garden gedirigeer. Hy het in 1898/9 by die Metropolitan Opera die eerste volledige Ring-siklus in die VSA gedirigeer. By die Weense Opera was hy vanaf 1919 vir vyf jaar mede-direkteur met die komponis Richard Strauss, en daarna tot 1929 direkteur op sy eie. Daar het hy in 1919 die première van Die Frau ohne Schatten gedirigeer, en vyf jaar later ook die eerste uitvoering van twee bewegings uit Mahler se onvoltooide tiende simfonie, wat hy met Ernst Krenek geredigeer het. Terselfdertyd het hy onderrig aan die Weense Musiekakademie gegee, waar Herbert von Karajan een van sy leerlinge sou wees. Verder was hy ‘n medestigter van die nuwe Salzburg-fees wat in 1920 begin het en ‘n kampvegter vir die musiek van Bruckner, van wie se simfonieë hy ‘n aantal geredigeer het.

Schellenberger, Dagmar (?-), Duitse sopraan. Terwyl sy aan die Karl Maria von Weber Konserwatorium studeer het, was sy ‘n pryswenner in die internasionale Dvorák-kompetisie in Karlsbad. Aanvanklik het sy by die Komische Oper in Berlyn in Mozart-rolle naam gemaak, soos Pamina in Die Zauberflöte, Susanna en die Grafin in Le nozze di Figaro, Fiordiligi in Cosi fan tutte, en beide Donna Anna en Donna Elvira in Don Giovanni. Mettertyd het sy op rolle van Richard Strauss en Wagner gefokus, soos Elisabeth in Tannhäuser, Elsa in Lohengrin, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, die Marschallin in Der Rosenkavalier, die titelrol in Arabella en die Grafin in Capriccio. Onder haar verdere rolle tel die Gansmeisie in Königskinder en Hildegard in Die Heilige Linde. Opnames: die genoemde operas van Humperdinck en Siegfried Wagner.

Schenck, Manfred (1930-) Duitse bas. Nadat hy in die radiokoor van Frankfurt gesing het, was hy vir 'n lang tyd lid van dié stad se operahuis (1967-90). Intussen het hy in 1973 sy Glyndebourne- feesdebuut as Sarastro in Die Zauberflöte gemaak, met verdere debute wat sou volg by die Metropolitan opera (1977), Covent Garden en die Bayreuth-fees (beide in 1981), en die Salzburg-fees (1985). In 1990 het hy by Bayreuth die rol van Koning Hendrik gesing in 'n hoogstaande opname van Lohengrin onder Peter Schneider.

 

Scherchen, Hermann (1891-1966), Duits-gebore dirigent. Aanvanklik was hy ‘n violis in die Berlynse Filharmoniese Orkes (1907-10), waarna hy vir twee jaar met die komponis Schoenberg saamgewerk het om die eerste uitvoering van sy melodrama Pierrot Lunaire moontlik te maak. Dit sou terselfdertyd (1912) sy dirigeerdebuut wees, en vanaf 1914 was hy ‘n dirigent van die Riga Simfonie-orkes in Letland. In 1918 het hy ‘n vereniging vir nuwe musiek in Berlyn gestig. Gedurende die 1920's en vroeë 1930’s het hy in Frankfurt en Königsberg gedirigeer, asook by feeste van moderne musiek. Daarby was hy vanaf 1922 tot 1947 direkteur van die musiekkollege in Winterthur, Switserland. In 1930 het hy die koor en orkes van die Berlynse Radio in ‘n historiese opname van Weill se Der Lindberghflug gedirigeer. Hy het Duitsland met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in 1933 verlaat en hom in Switserland gevestig, waar hy vanaf 1944 vir ses jaar dirigent van die Zürich Radio-orkes sou wees.

Scherchen het in die vroeë 1950’s opnames van Beethoven se volledige simfonieë met die orkes van die Weense Staatsopera en die Koninklike Filharmoniese Orkes gemaak. In 1964, toe hy in sy sewentigs was, is sy Amerikaanse debuut in Philadelphia gemaak. As kampvegter vir Mahler en moderne komponiste soos Schoenberg, Berg en Webern het hy ‘n hele aantal premières gedirigeer. Daaronder tel operas van Dallapiccola en Henze, asook Berg se Kamerkonsert (1927) en vioolkonsert (1936). Dat sy repertorium veel wyer gestrek het, blyk uit sy hoogstaande opnames van werke deur Barok- en Klassieke komponiste. Daaronder tel ‘n aantal kantates van Bach met die Weense Filharmoniese Orkes. Hy het boeke oor die dirigeerkuns en musiek geskryf. Sy dogter Tona Scherchen-Hsiao (1938-) is ‘n komponis. Verdere opnames: Bach se Sint Johannes- en Sint Mattheüspassies en Orkessuites; Handel se Concerti grossi (opus 6) en Messiah; Haydn se laaste twaalf simfonieë; ‘n aantal simfonieë van Mahler; en orkeswerke van Honegger en Strawinski.

Schermerhorn, Kenneth (1929-2005), Amerikaanse dirigent en komponis. Hy was op veertienjarige leeftyd al ‘n voltydse musikus wat in ‘n dansorkes in nagklubs gespeel het. Later het hy aan die New England Konserwatorium gegradueer, waarna hy trompet in vooraanstaande Amerikaanse orkeste gespeel het totdat hy vir leërdiens opgeroep is. Hy is na Duitsland gestuur, waar sy onbeplande dirigeerdebuut met ‘n haastig saamgeflansde orkes van weermagmusici plaasgevind het. Na sy ontslag het verdere studies aan die Berkshire Musiekinstituut by Tanglewood gevolg, waar hy twee jaar opeenvolgens die Koussewitzki-dirigeerprys gewen het. By Tanglewood het hy ook die gevierde dirigent Leonard Bernstein ontmoet, wat hom genooi het om sy assistent by die New York Filharmoniese Orkes te wees. Hy was vervolgens musiekdirekteur van die simfonie-orkeste in Milwaukee en New Jersey en van die Amerikaanse Ballet-teater, wie se orkes hy in 1977 in ‘n video-opname van Tsjaikofski se Die Neutkraker gedirigeer het. Dit was gedoen met die legendariese danser Mikhail Baryshnikof, wat die teater se artistieke direkteur sou word en die dirigent in 1982 vir ‘n verdere twee jaar sou terugnooi. Intussen het hy in 1983 hoofdirigent geword van die Nashville Simfonie-orkes, aan wie hy vir die res van sy lewe verbonde sou wees. Hy het die orkes landswyd bekend gemaak deur toere en bekroonde opnames. Daaronder tel Amy Beach se klavierkonsert, met Alan Feinberg as solis, wat in 2003 vir ‘n Grammy benoem is. Na sy afsterwe is daar bekendgemaak dat ‘n nuwe musieksaal in Nashville na die dirigent vernoem gaan word. Sleutelopname: Beach se Gaelic Symphony. Verdere opnames: Beethoven se Missa Solemnis; ‘n versameling ouvertures en toondigte van Chadwick; Hanson se eerste simfonie en 2 toondigte; en Villa-Lobos se Choros nrs. 8 en 9.

Schiff, András (1953-), Hongaars-gebore pianis. Hy het as negejarige sy debuut in Boedapest gemaak en in 1972 ook sy professionele debuut in die Hongaarse hoofstad. Vervolgens was hy ‘n pryswenner by die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou (1974) en die Leeds-kompetisie (1975). Hy het sy Londense debuut in 1976 gemaak en drie jaar later geëmigreer, om hom eers in Salzburg en later in Londen te vestig. In 1982 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer en ses jaar later het hy artistieke direkteur van die Haydn-fees in Londen geword. In 1989 het hy sy eie kamermusiekfees naby Salzburg gestig. Gedurende die 1990’s het hy wyd deur Europa getoer en as solis veral in die musiek van Bach, wie se konserte hy van die klavier af dirigeer, roem verwerf. Sy repertorium strek nietemin oor al die tydperke, en met sy sensitiewe, intelligente spel word hy as een van die beste pianiste ter wêreld beskou. Hy tree dikwels as liedere-begeleier en in kamermusiek op, onder andere met Cecilia Bartoli, Dietrich Fischer-Dieskau, Peter Schreier, Daniel Barenboim, Peter Serkin, Gidon Kremer en Heinz Holliger as vennote. Sleutelopnames: Schubert se Forelle-kwintet (met die Hagen Kwartet), klaviersonates nrs. 19-21, en 4 Impromptus D899. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Bach en Mozart, en die enkeles van Dvorák en Janácek; Bach se Goldberg Variasies en 6 Partitas; Brahms se Handel Variasies; Handel se Suite in B mol; Haydn se klaviersonates nrs. 32, 33, 53, 54, 58-62; Reger se Bach Variasies; ‘n aantal klaviersonates van D. Scarlatti; Schubert se volledige klaviersonates, en Klaviertrio D929 (met Shiokawa en Perényi).

Schiff, Heinrich (1951-), Oostenrykse tjellis en dirigent. Hy was aanvanklik ‘n pianis, en het pryse gewen by kompetisies in Genève, Wenen en Warskou. Daarna het hy as solis met van die voorste Europese orkeste gespeel. In 1972 is sy Salzburg-feesdebuut as tjellis gemaak, in die jaar daarop sy Londense debuut en in 1981 sy Amerikaanse debuut. Met sy natuurlike spel en warm toonkleur is hy een van die voorste tjello-virtuose van sy tyd. Sedert 1984 tree hy ook as dirigent op, en in dié hoedanigheid was hy vanaf 1990 vir ses jaar musiekdirekteur van die Noordelike Sinfonia. Opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites; tjellokonserte van Dvorák, Haydn, Lalo, Lutoslafski, Saint-Saëns, Schumann, Sjostakowitsj en Zimmermann; en Fauré se Elégie.

Schiotz, Aksel (1906-75), Deense tenoor. Hy het in 1939 sy operadebuut in Kopenhagen gemaak, as Ferrando in Così fan tutte, en in 1946 by die Glyndebourne-fees begin sing. Twee jaar later het hy deur die VSA getoer, maar in 1950 het siekte sy sangloopbaan onderbreek voordat hy dit as bariton hervat het. Hy was ‘n begaafde liederesanger en het ook onderrig gegee aan konserwatoriums in Minnesota (1955-8), Toronto (1958-61) en Colorado (1961-8). Intussen is hy in 1947 tot Deense ridder geslaan, en in 1968 het hy na sy geboorteland teruggekeer om daar onderrig te gee. Hy het ‘n boek oor sang geskryf.

Schipa, Tito (1888-1965), Italiaanse tenoor. Nadat hy in 1910 sy debuut in Vercelli as Alfredo in La Traviata gemaak het, het hy in Rome en by La Scala gesing. In 1917 het hy die rol van Ruggero tydens die première van La Rondine in Monte Carlo geskep. Vanaf 1919 tot 1932 was hy ‘n lid van die Chicago Opera en daarna van die Metropolitan Opera (1932-5, 1940/1). In 1954 het hy uit opera getree en drie jaar later het hy ‘n konserttoer van die Sowjet-Unie onderneem. Met sy betreklik sagte, liriese stem kon hy pragtige klanke in Italiaanse opera voortbring. Een van sy beste rolle was Nemorino in L'elisir d'amore. Daarby het hy in Rome onderrig gegee en in 'n aantal rolprente opgetree.

Schippers, Thomas (1930-77), Amerikaanse dirigent. As twintigjarige het hy reeds opera gedirigeer, nadat hy twee jaar tevore (in 1948) in New York gedebuteer het. Vanaf 1952 was hy vir twee jaar dirigent van die New York Stadsopera. In 1955 het hy die jongste dirigent nóg by die New York Filharmoniese Orkes en die Metropolitan Opera geword, en in dieselfde jaar het hy by La Scala gedebuteer. Later sou debute volg by die Bayreuth-fees (1963) en Covent Garden (1968). Intussen het hy in 1962 ‘n uitvoering van Medea met Maria Callas in die titelrol in Milaan gedirigeer. Vanaf 1958 tot 1976 was hy musiekdirekteur van die Spoleto-fees in Italië, en vanaf 1970 tot sy dood musiekdirekteur van die Cincinatti Simfonie-orkes. As bekende in Italiaanse opera het hy wêreldwyd as gasdirigent opgetree, voordat hy op betreklik jeugdige ouderdom aan kanker gesterf het. Só het hy in 1969 by La Scala ‘n herlewing van Rossini se opera L'assedio di Corinto, wat hy self geredigeer het, gedirigeer. Verder was hy bekend in moderne opera, met vele premières tot sy krediet. Daaronder tel Menotti se The Consul (1950), Amahl and the Night Visitors (1951) en The Saint of Bleecker Street (1954), Copland se The Tender Land (1954), en Barber se Antony and Cleopatra (1966). Opnames: Carmen, La Bohème, L’assedio di Corinto, Ernani en La forza del destino.

Schlick, Barbara (1943-), Duitse sopraan. Nadat sy aan die Musiekkollege in Würzburg en in Essen studeer het, het sy in 1966 as ‘n solis by Adolf Scherbaum se Barokensemble aangesluit. Met hulle het sy deur Europa getoer, en in 1972 het sy ‘n Amerikaanse toer met Paul Küntz se kamerorkes onderneem. Serdertdien tree sy wyd deur Europa, Noord-Amerika, Japan en Rusland in die Barok- en Klassieke repertoriums onder die voorste dirigente van haar tyd op. Met haar suiwer stem en ryk toonkleur is sy onoortreflik in die musiek van veral Bach en Handel. Dit verbaas dus nie dat sy as solis verskyn in ‘n groot aantal van Ton Koopman se siklus van die Bach-kantates nie. Sy gee ook dikwels liedere-voordragte met die pianis Elzbieta Kalvelage as begeleier. Verdere opnames: 6 Kantates van Albinoni, opus 4; C.P.E. Bach se Paasfeeskantate Anbetung dem Erbarmer en Kersfeeskantate Auf schlicke dich recht feierlich (beide onder Max); J.S. Bach se Kersfeesoratorium (onder Corboz), Paasfeesoratorium (onder Herreweghe), Sint Johannespassie (2 weergawes, onder Koopman en Kuijken), Sint Mattheüspassie (2 weergawes, onder Herreweghe en Koopman) en Schemelli’s musicalishes Songbook; kantates van Buxtehude (onder Koopman); Handel se oratoriums Athalia (as Josabeth) en Saul (as Michal), en opera Giulio Cesare (as Cleopatra); Stradella se Kersfeeskantate Si apra al riso (onder Schneider).

Schlusnus, Heinrich (1888-1952), Duitse bariton. Sy konsertdebuut is in 1912 in Frankfurt gemaak en twee jaar later sy operadebuut in Hamburg, as die Herout in Lohengrin. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Hamburg (1914/5) en Nürnberg (1915-7). Vervolgens was hy vir byna drie dekades (1917-45) 'n lid van die Berlynse Staatsopera, waar hy bekend sou raak as die voorste Duitse bariton van sy tyd in Verdi-rolle. Hy het ook opera gesing in Chicago (1927/8) en by die Bayreuth-fees (1933). Dit was egter as liederesanger dat hy sy gelyke nie geken het nie, veral in die liedere van Schubert.

Schmedes, Erik (1868-1931), Deense tenoor. Aanvanklik het hy as bariton in Wiesbaden gesing (1891-4), waar hy as die Herout in Lohengrin gedebuteer het. In 1894 het sy debuut as liriese tenoor plaasgevind, waarna hy vir drie jaar in Dresden gesing het. Hy is daarop deur die komponis Mahler vir die Weense Hofopera gewerf, waar hy in 1898 as Siegfried in die Ring sy debuut gemaak het. Hy sou tot 1924 in Wenen sing en bekendheid verwerf in Wagner-rolle. Verder het hy opgetree by die Bayreuth-fees (1899-1902) en by die Metropolitan Opera (1908/9).

Schmidt, Andreas (1960-), Duitse bariton. Hy het sy debuut in 1984 by die Deutsche Oper in Berlyn as Malatesta in Don Pasquale gemaak. Drie jaar later het hy die titelrol tydens die première van Rihm se Oedipus daar geskep. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1986) en die Salzburg-fees (1989), en in 1990 het hy die rol van Ryuji tydens die première van Henze se Das verratene Meer in Berlyn geskep. Onder sy verdere rolle tel Pentheus in Die Bassariden, Vader in Hänsel und Gretel, Almaviva in Le nozze di Figaro, Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg en Wolfram in Tannhäuser. Hy is ewe bekend as ‘n uitmuntende sanger in Duitse liedere en konsertmusiek, veral in gewyde werke. Opnames: Bach se Sint Johannespassie en Sint Mattheüspassie; Beethoven se Christus am ölberge; Brahms se Ein deutsches Requiem; Haydn se Die Jahreszeiten en Die Schöpfung; Mahler se kantate Das klagende Lied; madrigale van Monteverdi; Mozart se Requiem; Schoeck se orkeslied-siklus Elegie; Schubert se groot liederesiklusse Die schöne Müllerin, Schwanengesang en Winterreise; orkesliedere van Richard Strauss; Zemlinsky se Zwei Gesänge vir bariton en orkes; liedere van Brahms en Mahler; die genoemde operas van Henze, Humperdinck en Mozart, asook Tannhäuser.

Schmidt, Franz (1874-1939), Oostenrykse tjellis, pianis, orrelis en komponis. Nadat hy in Wenen studeer het, was hy vanaf 1896 tot 1911 ‘n tjellis in die orkes van die Weense Hofopera. Later was hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Weense Musiekakademie (1914-22), asook direkteur daarvan (1925-27) en direkteur van die Weense Konserwatorium (1927-31). In Oostenryk word sy komposisies, waaronder vier simfonieë en twee operas, beskou as in die tradisie van Bruckner.

Schmidt, Joseph (1904-42), Roemeens-gebore Duitse tenoor. Ná studies in Berlyn het hy sy debuut gemaak met ‘n optrede as Vasco da Gama in ‘n radio-uitsending van Meyerbeer se opera L’Africaine. Met sy fluweelagtige stem en intelligente sang het hy spoedig tot een van die bekendste liriese tenore van sy tyd ontwikkel. Hy was ewe gewild in die Duits- en Engelssprekende wêrelde, ook as rolprentster. As aanduiding van sy gewildheid dien die feit dat hy as Jood onder die Nasionaal-Sosialistiese bewind steeds toegelaat is om internasionaal op te tree. Selfs die propagandaminister Josef Göbbels (soos sy leier ‘n groot musiekliefhebber) het tydens die première van sy bekendste rolprent, Ein Lied geht um die Welt, waarderend hande geklap. Vanweë sy kort statuur (slegs 1.5 meter) kon hy nie ‘n professionele operasanger word nie, maar dit het hom nie verhinder om 'n briljante konsertloopbaan te volg nie. Só het hy in 1937 ‘n uiters suksesvolle toer deur die VSA onderneem, waar hy as Caruso in sakformaat bekend gestaan het. Hy is helaas vasgevang in die tragiese gebeure van die Tweede Wêreldoorlog in Europa, waar hy in ‘n Switserse vlugtelingkamp op ‘n betreklike jong ouderdom aan 'n borskwaal beswyk het. Gelukkig kon hy hoogstaande opnames van vele arias nalaat, asook van Duitse en Italiaanse liedere.

Schmidt, Ole (1928-2010), Deense dirigent, pianis en komponis. Nadat hy in 1955 sy dirigeerdebuut gemaak het, was hy aan die Koninklike Opera en Ballet in Kopenhagen verbonde (1958-65). Daarna was hy hoofdirigent van die Hamburg Sinfonie-Orkes (1970/1) en die Deense Radio Simfonie-orkes (vanaf 1971). Met die Londense Simfonie-orkes het hy in 1976 die eerste volledige siklus van sy landgenoot Nielsen se volledige simfonieë opgeneem. Die projek is uitgevoer onder toesig van die musiekgeleerde Robert Simpson, die voorste Nielsen-gesaghebbende van sy tyd. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Aarhus Simfonie-orkes (1979-85), met wie hy ‘n aantal simfonieë van sy landgenoot Niels Bentzon opgeneem het. Sy Amerikaanse debuut is in 1980 met die Oakland Simfonie-orkes gemaak. Vanaf 1986 was hy vir drie jaar hoofgasdirigent van die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester. Daar het hy in 1989 die Britse première van Uit die huis van die dode (in Tsjeggies) gedirigeer. Sleutelopnames: Bentzon se simfonieë nrs. 5 en 7. Verdere opnames: Bentzon se simfonieë nrs. 3 en 4, en Krönik om René Descartes.

Schmidt, Trudeliese (1934-), Duitse mezzosopraan. Sy het in 1965 haar verhoogdebuut in Saarbrücken in die opera Hänsel und Gretel gemaak en het twee jaar later 'n lid van die Deutsche Oper am Rhein in Wuppertal geword.  Met hulle het sy in 1972 haar Britse debuut by die Edinburgh-fees gemaak, gevolg deur debute in Wenen, Covent Garden en die Salzburg-fees (al drie in 1974), en die musiekfeeste in Bayreuth (1975) en Glyndebourne (1976). Sy is veral bekend in die operas van Richard Strauss, onder andere as die Komponis in Ariadne auf Naxos, Adelaida in Arabella en Clairon in Capriccio. Verder is sy begaafd as die Grafin in Mathis der Maler, Idamante in Idomeneo en die Towenares in Dido and Aeneas. Sy het in 1979 die rol van Ottavia gesing in Nikolaus Harnoncourt se opname van Monteverdi se L’incoronazione di Poppea, wat op DVD uitgereik is. Verdere opnames: Mahler se agste simfonie (onder beide Bernstein en Tennstedt); kerkmusiek van Mozart; en die genoemde operas van Hindemith en Mozart, asook Capriccio en Die schweigsame Frau.

 

Schmidt-Isserstedt, Hans (1900-73), Duitse dirigent en komponis. Ná studies in Berlyn het hy opera gedirigeer in Wuppertal, Rostock (1928-31), Darmstadt (1931-3), Hamburg (1935-42) en Berlyn (1942-5). In 1945 het hy die Hamburg (later Noord-Duitse) Radio Simfonie-orkes gestig en het hulle tot 1971 gedirigeer, waartydens hulle wêreldwyd getoer het. Vanaf 1955 tot 1964 was hy ook hoofdirigent van die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes, wat hy tot internasionale statuur opgebou het. Hy het ook in Brittanje verskyn by die Glyndebourne-fees (1958) en Covent Garden (1962). In die laat 1960's het hy met die Weense Filharmoniese Orkes die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem, gekenmerk deur pragtige orkesspel. As orkesbegeleier het hy met bekende musici soos die pianis Wilhelm Backhaus en die violis Henryk Szeryng opgetree.

Schnabel, Artur (1882-1951), Oostenryks-gebore pianis en komponis. Hy het vanaf 1888 tot 1897 in Wenen onder die vermaarde leermeester Theodor Leschetizky studeer, en op agtjarige leeftyd is sy openbare debuut gemaak. Daarna het hy hom in Berlyn gevestig, waar hy in 1910 die première van Korngold se tweede klaviersonate gegee het. Vanaf 1925 het hy vir agt jaar aan die konserwatorium in die Duitse hoofstad onderrig gegee. Hy het wyd deur Europa en die VSA getoer om uitvoerings te gee. Verder was hy as dosent aan die universiteite van Chicago, Michigan en Manchester verbonde, en in 1933 het hy ‘n ere-doktorsgraad van laasgenoemde ontvang. In 1939 het hy hom in New York gevestig en vyf jaar later het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy in Switserland gaan woon, waar hy onderrig gegee het. Met spel wat gekenmerk is deur integriteit eerder as virtuositeit was hy ‘n onoortreflike vertolker van Beethoven en Schubert. Hy was ‘n kampvegter vir eersgenoemde se klaviersonates, wat hy geredigeer en in die 1930’s die eerste volledig siklus van opgeneem het. Dit word steeds onder die beste weergawes van hierdie werke gereken. Vanaf 1932 tot 1935 het hy ook Beethoven se 5 klavierkonserte onder Malcolm Sargent in Londen opgeneem, waardeur nuwe standaarde in die vertolking van die musiekreus daargestel is. Met die violis Carl Flesch het hy die vioolsonates van Mozart en Brahms geredigeer. As leermeester het hy groot pianiste soos Lili Kraus, Clifford Curzon en Rudolf Firkusny onderrig. Alhoewel hy selde twintigste-eeuse werke gespeel het, was sy eie komposisies (waaronder drie simfonieë en ‘n klavierkonsert) vreemd genoeg in ‘n atonale styl. Daarbenewens het hy drie boeke oor musiek geskryf. Verdere opnames: Bach se Konsert vir twee klaviere (met sy seun Karl) en van sy solowerke; Brahms se twee klavierkonserte (onder Szell en Boult onderskeidelik); Mozart se klavierkonsert nr. 21 en Konsert vir twee klaviere (lg. met Karl); Schubert se eerste klaviertrio (met Szigeti en Fournier); en Schumann se klavierkonsert (onder Monteaux) en Kinderszenen.

Schnaut, Gabriele (1951-), Duitse sopraan en mezzosopraan. Aanvanklik het sy viool en liedere-sang in Mainz studeer. Vanaf 1971 het sy vir sewe jaar studeer aan die Frankfurt Konserwatorium, in Darmstadt en in Berlyn. Haar verhoogdebuut is in 1976 by die Stuttgart Staatsopera gemaak, en daarna was sy verbonde aan die operahuise in Darmstadt (1978-80) en Mannheim (1980-8). By laasgenoemde het sy in 1987 die rol van Ophelia tydens die première van Rihm se Die Hamletmaschine geskep. Sy sing sedert 1977 gereeld by die Bayreuth-fees, in rolle soos Wellgunde in Das Rheingold, Waltraute en Sieglinde in Die Walküre, en Venus in Tannhäuser. Verdere debute is gemaak in Chicago (1983), by Covent Garden (1989), La Scala (1994), die Weense Staatsopera (1995) en die Metropolitan Opera (1996). Sedert 1988 is sy ‘n lid van die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf-Duisburg. Nog rolle waarin sy uitblink, is Leonore in Fidelio, Ortrud in Lohengrin, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde en Brünnhilde in Die Walküre. Sy het in 1989 by die Hamburg Opera in die eerste opname van Schreker se Der Schatzgräber onder Gerd Albrecht gesing, en in die jaar daarop by Bayreuth ook in ‘n uitstekende opname van Lohengrin onder Peter Schneider. As ewe begaafde konsertsangeres het sy onder Helmuth Rilling in ‘n hele aantal opnames van Bach-kantates en sy Sint Mattheüspassie gesing.

Schneider, Alexander (1908-93), Russies-gebore violis en dirigent. Hy was aanvanklik ‘n orkesleier in Frankfurt (1925-32) en daarna tweede violis van die Boedapest Kwartet (1932-44 en weer 1955-67). In 1938 het hy in die VSA gaan woon, waar hy later ‘n Amerikaanse burger geword het. As jarelange medewerker van Pablo Casals het hy die legendariese tjellis oorreed om in 1950 die Prades-fees in die Pireneë te stig, en sewe jaar later insgelyks die Casals-fees in Puerto Rico. Hy het in 1961 met Casals en die pianis Mieczyslaf Horszowski voor die Amerikaanse President Kennedy in die Wit Huis gespeel. Vanaf 1972 was hy die leier van sy eie strykkwartet en in dieselfde jaar het hy die Brandenburg Players gestig. Daarby was hy ‘n leermeester en lid van ‘n aantal kamermusiek-ensembles. Só het hy met Casals, Isaac Stern en andere in ‘n klassieke opname van Brahms se eerste strykersekstet gespeel. Vanaf die 1980’s het hy die Kamerorkes van Europa gedirigeer, met wie hy ‘n aantal uitstekende opnames gemaak het. Daaronder tel Mozart se volledige kamermusiek vir houtblasers. Sleutelopnames: Dvorák se Strykerserenade en Houtblaserserenade. Verdere opnames: Wolf se Italiaanse Serenade.

Schneider, Peter (1939-), Oostenrykse dirigent. Aanvanklik het hy in die Weense Seunskoor gesing, en in 1959 het sy dirigeerdebuut in die Salzburg Landestheater met Giulio Cesare plaasgevind. Daarna was hy hoofdirigent van operahuise in Heidelberg (1961-7), Düsseldorf (1968-77), Bremen (1978-85), Mannheim (1985-7) en van die Beierse Staatsopera in München (1993-8). Intussen het hy gedebuteer by die Bayreuth-fees (1981) en by Covent Garden (1986). By Bayreuth het hy in 1984 die Ring-siklus gedirigeer en ses jaar later ook 'n uitstekende opname van Lohengrin.

Schneiderhan, Wolfgang (1915-), Oostenrykse violis. Nadat hy as elfjarige deur Europa getoer het, het hy vanaf 1929 vir drie jaar in Engeland gewoon. Daarna het hy na Wenen teruggekeer, waar hy orkesleier van die Simfonie-orkes (1932-6) en die Filharmoniese Orkes (1937-51) was. In laasgenoemde tydperk het hy ook sy eie kwartet gelei, en in 1940 was hy ‘n solis in Wilhelm Furtwängler se opname van Bach se Brandenburgkonsert nr. 5. Voorts was hy 'n hoogleraar in viool aan die Salzburg Mozarteum (1938-56) en die Weense Musiekakademie (1939-50). Vanaf 1949 was hy ook aan die Luzern Konserwatorium verbonde. Hy het gereeld as solis met bekende orkeste opgetree. Sy 1962-opname van Beethoven se vioolkonsert onder Eugen Jochum word deur sommige kenners as ongeëwenaard in die geestelikheid van die stadige beweging beskou. Hy was getroud met die sopraan Irmgard Seefried, met wie hy in 1964 tydens die Edinburgh-fees die eerste uitvoering van Henze se Ariosi vir sopraan, viool en orkes gegee het. Verdere opnames: Beethoven se Driedubbele konsert (met Anda en Fournier); Brahms se Dubbelkonsert (2 weergawes, met Mainardi en Starker) en 3 vioolsonates; Mozart se 5 vioolkonserte; ‘n vioolkonsert van Henze; Strawinski se vioolkonsert; en Vivaldi se Vier Seisoene.

Schock, Rudolf (1915-86), Duitse tenoor. Ná opleiding as koorsanger in Duisburg het hy sang bestudeer in Keulen en Hannover. Hy het in 1936 by die Bayreuth-fees in ‘n kleiner rol in Lohengrin gesing, onder die dirigeerstaf van Wilhelm Furtwängler. In die jaar daarop het hy ‘n lid van die Braunschweig Staatsteater geword, maar sy sangloopbaan is onderbreek deur vyf jaar diensplig in die Tweede Wêreldoorlog. Nadat hy krygsgevangenskap uitgedien het, het hy ‘n bekende sanger in operahuise in Hannover, Berlyn, München en Düsseldorf geword. Vanaf 1947 tot 1956 was hy verbonde aan die Hamburg Opera, met verdere debute wat gemak is by die Salzburg-fees (1948) en Covent Garden (1949). By laasgenoemde het hy in 1952 in Furtwängler se historiese opname van Tristan und Isolde gesing. Intussen het hy in 1949 in die plek van die pas afgestorwe Richard Tauber deur Australië getoer, waarna hy deur sommiges as dié legendariese sanger se opvolger beskou is. Hy het in 1951 by die Weense Opera aangesluit, en in die jaar daarop het hy by die Edinburgh-fees gesing. In 1954 het hy die rol van Ercole tydens die première van Liebermann se opera Penelope in Salzburg geskep. Sy Bayreuth-feesedebuut is in 1959 gemaak as Walther in Die Meistersinger von Nürnberg, ‘n rol wat hy tevore onder Rudolf Kempe opgeneem het. Hy was ‘n begaafde sanger in Duitse opera, operette en liedere. Onder sy verdere rolle het getel Erik in Der fliegende Holländer, Guido in Eine Nacht in Venedig, Bacchus in Ariadne auf Naxos en Max in Der Freischütz. Verdere opnames: Beethoven se Missa Solemnis (onder Klemperer); die laasgenoemde twee operas; en ‘n versameling duette uit Ariadne auf Naxos met die sopraan Lisa della Casa.

Schoeck, Othmar (1886-1957), Switserse dirigent en komponis. Hy het in Zürich en onder die komponis Max Reger in Leipzig studeer, en was daarna ‘n koordirigent (1909-17) en dirigent van die Sint Gallen simfoniekonserte (1917-44) in eersgenoemde stad. Sy komposisies, waaronder vyf operas, verskeie konserte en ‘n aantal liedere-siklusse, is liries van aard.

Schöffler, Paul (1897-1977), Oostenrykse bas-bariton. Nadat hy in 1925 sy debuut in Dresden gemaak het as die Boodskapper in Lohengrin, was hy verbonde aan die operahuis in dié stad (tot 1937). Daarna sou hy tot die vroeë 1970’s ‘n lid van die Weense Staatsopera wees, met verdere debute wat gemaak is by Covent Garden (1934), die feeste in Salzburg (1938) en Bayreuth (1943), en die Metropolitan Opera (1950). By Salzburg het hy in 1947 die titelrol in Einem se opera Dantons Tod geskep, en vyf jaar later ook die rol van Jupiter tydens die première van Die Liebe der Danae onder Clemens Krauss. Hy het in 1950 as solis in Herbert von Karajan se Weense opname van Bach se Sint Mattheüspassie gesing. By Salzburg het hy die rolle van Don Pizarro in Fidelio (1950), Iago in Otello (1951) en Graaf Almaviva in Le nozze di Figaro (1953, in Duits) onder Wilhelm Furtwängler vertolk. Met sy ferm stem en warm toonkleur was hy uitmuntend in Duitse opera, veral dié van Richard Strauss en Wagner. Onder sy verdere rolle het getel Orestes in Elektra, Jokanaan in Salome, Barak in Die Frau ohne Schatten, die titelrol in Der fliegende Holländer, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Kurwenal in Tristan und Isolde en Wotan in die Ring. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Furtwängler); die genoemde operas onder Krauss en Furtwängler, asook Die Meistersinger von Nürnberg en Tristan und Isolde.

Schola Cantorum of Oxford, Britse koor wat in 1960 deur die Hongaarse uitgewekene László Heltay gestig is. Hulle is die oudste kamerkoor verbonde aan die Universiteit van Oxford. Oor die dekades het hulle onder bekende dirigente gewerk, asook die komponiste Britten, Tippett en Strawinski. Sedert 1990 is Jeremy Summerly hul dirigent, onder wie die koor roem verwerf het deur hul toere en ‘n aantal uitstekende opnames. Daaronder Bach se Magnificat, Palestrina se Stabat Mater en Vivaldi se Gloria.

Scholars Baroque Ensemble, Britse instrumentele en vokale ensemble wat in 1987 deur die bas David van Asch gestig is as uitbreiding van die vokale ensemble The Scholars. Die lede daarvan is almal spesialiste in Barokmusiek en bespeel oorspronklike instrumente volgens eietydse tegnieke. Daarby streef hul na helderheid deur ‘n minimum getal spelers en sangers aan te wend, gewoonlik slegs een per stemparty. Opnames: Bach se Sint Johannespassie, Handel se Messiah, en Purcell se operas Dido and Aeneas en The Fairy Queen.

Scholl, Andreas (1967-), Duitse kontratenoor. Hy het vanaf 1987 vir ses jaar aan die Schola Cantorum Basiliensis onder René Jacobs en Richard Levitt studeer. Sy bekendheid lê merendeels in konsertwerke van Bach, Handel en Vivaldi, waarin hy deur kenners beskou word as een van die beste sangers in sy stemtipe ter wêreld. In 1998 is sy operadebuut by die Glyndebourne-fees gemaak, as Bertarido in Handel se Rodelinda. By die Londense Proms het hy die titelrolle in dieselfde komponis se Giulio Cesare en Solomon gesing. Sleutelopnames: ‘n versameling Handel-arias (met die Berlin Akademie für Alte Musik); Vivaldi se Clarae stella, Nisi Dominus, Salve Regina en Vespro Principi divino (onder Paul Dyer), asook sy Stabat mater en kantate Cessate omai cessate (onder Chiara Banchini). Verdere opnames: Bach se Kersfeesoratorium; Handel se oratoriums Saul en Solomon; Pergolesi se Stabat mater en Salve Regina in A mineur; en ‘n versameling arias van Gluck, Handel en Mozart.

Schönherr, Max (1903-), Oostenrykse dirigent en komponis. Hy het opera gedirigeer in Graz (1924-8) en Wenen (1929-38), en vir byna vier dekades was hy dirigent van die Weense Radio-orkes (1931-68). Sy bekendheid het veral in die musiek van Johann Strauss junior en Franz Lehár gelê.

Schönzeler, Hans-Hubert (1925-97), Duits-gebore dirigent, komponis en musiekgeleerde. Hy het op vyf jaar met vioollesse in sy geboortestad Leipzig begin. Met sy ouers het hy in 1939 na Australië uitgewyk, waar al drie van hul mettertyd as 'vyandige vreemdelinge' geïnterneer sou word, nieteenstaande hul teenkanting jeens die Nasionaal-Sosialistiese bewind in Duitsland. Hy het die tyd benut om musiek te studeer, insluitend dirigeerkuns, en is in 1946 vrygelaat. Daarop het hy aan die Nieu-Suid-Wallis Staatskonserwatorium onder Eugene Goossens studeer. In 1947 het hy ‘n Australiese burger geword en drie jaar later het hy met Rafael Kubelik se hulp in Londen gaan woon, waar hy 'n dirigent van die Twentieth Century Ensemble sou wees (1957-62). Verdere studies is in Parys en Siena onderneem, en in 1964 het hy 'n konsert in die Britse hoofstad ter herdenking van die legendariese Wilhelm Furtwängler se afsterwe tien jaar tevore gedirigeer. Vanaf 1967 was hy vir baie jare dirigent van die Wes-Australiese Simfonie-orkes. Met hulle het hy uitstekende opnames van Bliss se ballet Checkmate en Rubbra se vyfde simfonie gemaak. Hy was ‘n gesaghebbende in die musiek van Bruckner, oor wie hy ‘n boek geskryf het. Die groot komponis se agste simfonie het hy in 1973 tydens 'n BBC-uitsending vir die eerste keer in die oorspronklike weergawe gedirigeer. Vyf jaar later het hy die wêreldpremière van Bruckner se derde simfonie in die oorspronklike weergawe tydens die Adelaide-fees gedirigeer. As begaafde vertolker van Dvorák het hy in 1974 by die Praag Lentefees opgetree. Met die Berlynse Simfonie-orkes en -koor het hy opnames van Beethoven se koorwerke Koning Stephan en Die Ruïnes van Athene gemaak. Hy het ook ‘n biografie van Furtwängler geskryf, wat in 1990 tegelyk in Londen en Oregon uitgegee is. Die Bruckner Eremedalje is aan hom toegeken. Hy is in Engeland oorlede. Verdere opnames: Rubbra se tiende simfonie en Farnaby Variations.

Schonwandt, Michael (1953-), Deense dirigent. Hy het in 1977 sy debuut in Tivoli gemaak, en twee jaar later het hy by die Koninklike Opera in Kopenhagen begin dirigeer. In 1981 het hy hoofdirigent van die pasgestigte Collegium Musicum in Kopenhagen geword, ‘n pos wat hy steeds beklee. Sy debuut by Covent Garden het in 1984 plaasgevind, en drie jaar later later het hy die eerste Skandinawiese dirigent geword om by die Bayreuth-fees op te tree. Vervolgens was hy hoofgasdirigent van die Nice Opera (1987-1991) en die Deense Nasionale Simfonie-orkes in Kopenhagen (1989-2000). Met laasgenoemde het hy die volledige simfonieë van sy landgenoot Nielsen volgens ‘n gesaghebbende uitgawe van die werke opgeneem. Sy Amerikaanse debuut is in 1992 in San Francisco gemaak, en vanaf dieselfde jaar tot 1998 was hy hoofdirigent van die Berlynse Simfonie-orkes. As gasdirigent tree hy by bekende orkeste en operahuise in Europa op. In 1997 is die Nielsen-prys aan hom toegeken, en vier jaar later het hy die pos van musiekdirekteur by die Deense Koninklike Opera opgeneem. Hy het in 2002 in Parys ‘n herlewing van Bizet se opera Ivan IV gedirigeer, met die eerste CD-opname van die werk wat tydens die geleentheid gemaak is. By die Deense Opera het hy in 2006 ‘n hoogstaande siklus van Der Ring des Nibelungen gedirigeer, maar die DVD-opnames daarvan word deur die regisseur Kasper Holten se postmoderne dekonstruksie van Wagner bederf. Sleutelopname: Holmboe se Requiem vir Nietszche (Kopenhagen). Verdere opnames: Gade se Elverskud en Lente-fantasie; ‘n versameling ouvertures van Kuhlau; Schumann se derde simfonie en koorwerk Des Sängers Fluch; Weyse se simfonieë nrs. 1-3; en die operas Drot og Marsk, Lulu (van Kuhlau), Die Diensmeisie se Verhaal en Salome.

Schorr, Friedrich (1888-1953), Hongaars-gebore bas-bariton. In 1912 het hy as die Stuurman in Tristan und Isolde in Chicago gesing. Later in dieselfde jaar het hy in Graz verskyn as Wotan in Die Walküre. Daarna het hy veral Wagner-rolle gesing by operahuise in Praag (1916-8), Keulen (1918-23) en Berlyn (1923-31), by Covent Garden (1924-33) en die Metropolitan Opera (1924-43), en in San Francisco (1931-8). As die voorste bas in Wagner-rolle van die jare tussen die twee wêreldoorloë het hy vanaf 1925 tot 1931 gereeld by die Bayreuth-fees verskyn. Met sy kragtige, ferm sang was hy meesterlik as Wotan in die Ring-siklus en Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy het in historiese Met-opnames van Das Rheingold, Siegfried en Die Walküre gesing.

Schreier, Peter (1935-), Duitse tenoor en dirigent. Hy het in 1961 sy debuut in Dresden gemaak as die Eerste Gevangene in Fidelio, en was vir die volgende twee jaar aan die operahuis in die Saksiese hoofstad verbonde. Vanaf 1963 was hy ‘n lid van die Oos-Berlynse (tans Berlynse) Staatsopera, met verdere debute wat plaasgevind het by die Bayreuth-fees en in Londen (beide in 1966), die Salzburg-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1967), en La Scala (1968). Met sy sterk, gevoelvolle stem en intelligente vertolkings was hy uitmuntend in die Duitse repertorium, in sowel opera (veral dié van Mozart) as gewyde werke. Onder die operarolle waarin hy uitgeblink het, tel Peter Iwanof in Zar und Zimmermann, Hermann in Die Heimkehr aus der Fremde, Ferrando in Così fan tutte, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, Idamante in Idomeneo, die titelrolle in Lucio Silla en Palestrina, Alfonso in Alfonso und Estrella, Scaramuchio in Ariadne auf Naxos, Veit in Undine, Baroncelli in Rienzi, die titelrol in Abu Hassan en Max in Der Freischütz. Daarby was sy vertolkings van Duitse liedere, veral dié van Schubert, in die tweede helfte van die twintigste eeu ongeëwenaard in sy stemtipe. Hy het as solis verskyn in Charles Mackerras se opname van Handel se Messiah, in Mozart se Duitse verwerking. In 2000 het hy as sanger uitgetree.

Sedert 1969 dirigeer Schreier ook, en in 1988 is sy debuut in dié hoedanigheid by die Salzburg-fees gemaak. Hy het in die laat 1970’s en vroeë 1980’s die Berlynse Soliste en Kamerorkes in voortreflike opnames van Bach se sekulêre kantates (nrs. 201-215) gedirigeer. Sleutelopnames (as sanger): Wolf se Italianisches Liederbuch (met Graham Johnson as begeleier); (as dirigent): Mozart se Mis nr. 16 en Requiem (Dresden, vroeë 1980’s). Verdere opnames (as sanger): Bach se Kantate nr. 140 (onder Richter); Beethoven se negende simfonie (onder beide Karajan en Wand) en Missa solemnis (onder Wand); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Sanderling); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Masur) en oratorium Elijah (onder Sawallisch); kerkmusiek van Bruckner, Haydn, Schmidt en Schubert; Schubert se liedere-siklusse Die schöne Müllerin en Winterreise, begelei deur Andras Schiff en Swiatoslaf Richter in 1991 en 1985 onderskeidelik; liedere van Beethoven, Brahms en Schumann; die genoemde operas van Lortzing, Mendelssohn, Mozart, Pfitzner, Schubert, Wagner en Weber, asook Ascanio in Alba, Der Schauspieldirektor, Il sogno di Scipione en Zaïde; (as dirigent) Bach se 4 Missae breves (BWV 233-236) en sy Magnificat; en die operas La finta semplice, Lo sposo deluso en L’oca del Cairo.

Schröder, Jaap (1925-), Nederlandse violis. Ná sy solodebuut in 1949 was hy leier van die Hilversum Radio Kamerorkes (1950-63) en ‘n lid van die Nederlandse Strykkkwartet (1952-69). In 1962 het hy die Amsterdamse Kwartet gestig en nege jaar later ook die Quartetto Esterházy. Laasgenoemde het op eietydse instrumente gespeel en is in 1981 ontbind. Daarby was hy vir 'n tyd lank orkesleier van die Academy of Ancient Music in Londen, en hy is ‘n hoogleraar in viool aan die Amsterdamse Konserwatorium. Hy speel in kamermusiek as leier van die Smithson Kwartet, met wie uitstekende opnames van Mozart se strykkwartette K387 en K421 gemaak het. Verdere opnames: Mendelssohn se vioolsonate en Schubert se viool-sonatines (met Christopher Hogwood); vioolkonserte van Leclair; solowerke van Roman; en Telemann se Suite in F.

Schumann, Elisabeth (1888-1952), Duits-gebore sopraan. Sy het in 1909 haar operadebuut in Hamburg as die Skaapwagter in Tannhäuser gemaak. Vir die volgende tien jaar sou sy aan dié operahuis verbonde wees. Haar debuut by die Metropolitan Opera het in 1914 plaasgevind as Sophie in Der Rosenkavalier, wat een van haar beroemdste rolle sou word. Later (1919-37) was sy 'n lid van die Weense Staatsopera, waar sy in 1933 onder Robert Heger in die eerste opname van Der Rosenkavalier sou sing. In 1921 het sy deur die VSA getoer met Richard Strauss as haar klavierbegeleier. Sy het in die jaar daarop by die Salzburg-fees gedebuteer, en vanaf 1924 tot 1931 het sy gereeld by Covent Garden gesing. In 1938 het sy na die VSA geëmigreer, en ses jaar later het sy 'n Amerikaanse burger geword. Met haar soet, delikate stem was sy een van die gewildste sangeresse van haar tyd in die operas van Mozart. Daaronder het rolle getel soos Susanna in Le nozze di Figaro, Zerlina in Don Giovanni, Despina in Così fan tutte en Blonde in Die Entführung aus dem Serail. Verder was sy bekend as Adèle in die operette Die Fledermaus en het sy uitgeblink in Duitse liedere. Onder die verdere opnames wat sy nagelaat het, tel liedere van Schubert en Richard Strauss.

Schumann-Heink, Ernestine (1861-1936), Tsjeggies-gebore alt. Sy het haar operadebuut in 1878 in Dresden gemaak, as Azucena in Il Trovatore. Vanaf 1883 tot 1898 was sy ‘n lid van die Hamburg Opera, en in 1892 het sy by Covent Garden as Erda in Das Rheingold onder die dirigeerstaf van die komponis Mahler gedebuteer. Vanaf 1896 tot 1914 het sy gereeld by die Bayreuth-fees opgetree, met verdere debute wat plaasgevind het in Chicago (1898) en by die Metropolitan Opera (1899). Sy was in die vroeë 1900's een van die eerste sangers om in plate-opnames op te tree. In 1908 het sy 'n Amerikaanse burger geword, en in die jaar daarop het sy in Dresden die rol van Klytemnästra tydens die première van Elektra geskep. Sy het 'n beroemde sangeres geword by die Met, waar sy gereeld opgetree het tot haar uittrede in 1932 op sewentigjarige ouderdom. Met haar enorme repertorium van ongeveer 150 rolle, kragtige stem en besondere akteursvermoëns was sy een van die voorste operasangers van haar tyd.

Schuricht, Carl (1880-1967), Duitse dirigent. Hy het in ‘n musikale gesin in Danzig (tans Gdansk) grootgeword en op agt jaar met viool- en klavierlesse begin. Op 15 het hy reeds ‘n plaaslike koorvereniging gedirigeer, en vanaf 1902 het hy in Berlyn en Leipzig onder die komponiste Humperdinck en Reger onderskeidelik studeer. Hy het in 1907 ‘n operette-dirigent in Zwickau geword, en was vanaf 1911 tot 1944 dirigent en later musiekdirekteur van die munisipale orkes in Wiesbaden. Daar was hy ‘n kampvegter vir die musiek van moderne komponiste soos Delius, Ravel, Schoenberg en Strawinski. Hy sou Delius se Sea Drift, een van sy geliefkoosde werke, vanaf 1910 vir langer as ‘n halfeeu by herhaling dirigeer. In 1914 het hy by La Scala gedebuteer, en 7 jaar later het hy die Brahms-fees in Wiesbaden gedirigeer tesame met Wilhelm Furtwängler, wat ‘n groot bewondering vir sy ouer kollega gekoester het. Sy debuut met die filharmoniese orkeste van Berlyn en Wenen is in 1923 en 1934 onderskeidelik gemaak. Hy het in 1939 ‘n vroeë opname van Mahler se Das Lied von der Erde met die Concertgebouw Orkes van Amsterdam gedirigeer. Vanaf 1942 het hy vir twee jaar ook die Dresden Filharmoniese Orkes gedirigeer, waarop hy met sy vrou na Switserland gevlug het.

Schuricht se debuut by die Salzburg-fees is in 1946 tydens die eerste na-oorlogse fees gemaak, met Bruckner se vyfde simfonie. In 1950 is hy aangestel as hoofgasdirigent van die Stuttgart Radio Simfonie-orkes, met wie hy ‘n lang verbintenis sou geniet. Ses jaar later het hy die Weense Filharmoniese Orkes op hul eerste Amerikaanse toer gelei, in die plek van die pas afgestorwe Erich Kleiber. Hy het in 1957 by die somerfeeste in Boston en Chicago opgetree, en drie jaar later het die Weense Filharmonie hom ‘n erelid gemaak. Met die orkes van die Parys Konserwatorium het hy die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem. Oor sy loopbaan van bykans sestig jaar het hy roem verwerf met sy koherente vertolkings, gekenmerk deur volmaakte beheer van legato. Hy het kennis, liefde en respek as die vernaamste eienskappe van ‘n goeie dirigent beskou. Verdere opnames: simfonieë van Brahms, Bruckner, Mahler, Mozart, Schubert; ouvertures van Beethoven, Mendelssohn en Schumann; die genoemde werk van Delius; en orkeswerke van Reger, Strauss, Tsjaikofski en Wagner.

Schwarz, Gerald (1947-), Amerikaanse trompetspeler en dirigent. Hy het op agtjarige leeftyd met trompetlesse begin, en was later ‘n trompetspeler in beide die Amerikaanse Koperblaserskwintet (1965-73) en die Amerikaanse Simfonie-orkes (1966-72). Daarna was hy mede-eerste trompetspeler in die New York Filharmoniese Orkes (1972-5). Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Waterloo-fees in Stanhope, New Jersey (1975-85), die New York Kamersimfonie-Orkes (1977-86) en die Los Angeles Kamerorkes (1978-86). Hy het in 1984 in New York die première van Panufnik se Arbor Cosmica gedirigeer. Sedert 1986 is hy musiekdirekteur van die Seattle Simfonie-orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Diamond en Hanson opgeneem het. Sy bekendheid lê merendeels in twintigste-eeuse musiek, insluitend dié van Richard Strauss. Sleutelopnames: Hanson se 7 simfonieë en enkele korter werke. Verdere opnames: orkeswerke van Copland, Creston en Piston; Bartók se ballet Die Wonderbaarlike Mandaryn; Bloch se America; Hanson se koorwerke The Mystic Trumpeter en Lumen in Christo; Honegger se tweede simfonie; Hovhaness se simfonieë nrs. 1, 2 en 50; Janácek se Idyll vir Strykorkes; Kodály se Dances of Galanta en Háry János Suite; Schoenberg se Konsert vir Strykkwartet en Orkes na Handel; R. Strauss se Also sprach Zarathustra, Metamorphosen, Symphonia domestica, Divertimento na Couperin en Josephslegende Suite; Tsjaikofski se eerste twee simfonieë; Webern se Langsamer Satz; en Weill se koorwerk The Eternal Road.

Schwarz, Hanna (1943-), Duitse mezzosopraan. Sy het in 1970 in Hannover gedebuteer as Maddalena in Rigoletto, en vanaf 1973 by die Hamburg Opera gesing. Daarna het debute gevolg by die Bayreuth-fees (1975), San Francisco (1977), die Salzburg-fees (1979) en Covent Garden (1980). In 1979 het sy die rol van die Grafin Geschwitz in die eerste volledige opvoering van die opera Lulu in Parys gesing. Sy het in die jaar daarop by Bayreuth met haar ferm, kragtige sang uitgeblink as Fricka in Das Rheingold en Die Walküre (onder Pierre Boulez), met opnames wat daarvan getuig. In 1989 het sy die rol van Erda in Das Rheingold en Siegfried by die Beierse Staatsopera onder Wolfgang Sawallisch gesing, met uitstekende opnames wat eweneens gemaak is. Onder haar verdere rolle tel die Heks in Hänsel und Gretel, Klytemnestra in Elektra, Herodias in Salome en Pauline in Pique Dame. Verdere opnames: Mahler se derde simfonie (onder Sinopoli) en Rückert Lieder (onder Abbado); die genoemde operas van Berg, Humperdinck, Richard Strauss en Tsjaikofski, asook Apollo et Hyacinthus.

Schwarz, Rudolf (1905-94), Oostenryks-gebore dirigent. Hy het sy loopbaan as 'n altviolis in die Weense Filharmoniese Orkes begin, en was daarna 'n assistent-dirigent by operahuise in Düsseldorf (1923) en Karlsruhe (1927-33). Dit is gevolg deur 'n tydperk as musiekdirekteur van die Joodse Kultuurbond in Berlyn (1936-9). In 1943 is hy deur die Nazis na die Belsen konsentrasiekamp gestuur, en ná die Tweede Wêreldoorlog het hy in Brittanje gaan woon. Daar het hy 'n aantal dirigeerposte beklee, naamlik by die Bournemouth Munisipale Orkes (1946-51), die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1951-7), die BBC Simfonie-orkes (1957-62) en die Noordelike Sinfonia (1964-73). In laasgenoemde twee gevalle was hy die hoofdirigent, en in 1973 is die CBE aan hom toegeken.

Schwarz, Vera (1888-1964), Kroatiese sopraan. In 1908 het haar operettedebuut by die Theater an der Wien plaasgevind, waar sy bekendheid verwerf het as Rosalinde in Die Fledermaus. Daarna het sy opera gesing in Hamburg en Berlyn, en vanaf 1921 ook in Wenen. Sy het dikwels met die groot tenoor Richard Tauber in operettes van Lehár opgetree, met verdere debute wat gemaak is by die feeste  in Salzburg (1929) en Glyndebourne (1938). In 1939 het sy in Kalifornië gaan woon, waar sy ‘n leermeester geword het. Sy het in 1948 na Oostenryk teruggekeer om aan die Salzburg Mozarteum onderrig te gee.

Schwarzkopf, Elisabeth (1915-2006), Duitse sopraan. Sy het in Berlyn studeer en haar operaloopbaan in 1938 in dié stad begin, as die Blommemeisie in Parsifal. In 1942 het haar Weense debuut as Zerbinetta in Ariadne auf Naxos plaasgevind, en in 1947 het sy by Covent Garden en die Salzburg-fees gedebuteer. Ook in 1947 het sy by die Luzern-fees as solis in Brahms se Ein deutsches Requiem onder Wilhelm Furtwängler gesing. Dit het haar produktiewe verbintenis met die groot dirigent ingelui, met ‘n aantal klassieke opnames oor die volgende 7 jaar wat daarvan getuig. Dit sluit die operas Fidelio, Don Giovanni en Le nozze di Figaro in. In 1948 het sy haar in Engeland gevestig, waar sy tot 1952 ‘n lid van Covent Garden sou wees en ‘n Britse burger geword het. Sy het daar die hoë C’s vir Kirsten Flagstad gesing in ‘n gevierde opname van Tristan und Isolde onder Furtwängler. Verdere debute het plaasgevind in Milaan (1948), San Francisco (1955) en by die Metropolitan Opera (1964). Intussen het sy in 1951 in Venesië die rol van Anne Trulove tydens die première van Strawinski se opera The Rake's Progress geskep. Sy is in 1953 getroud met die weldoener Walter Legge, die regisseur in talle van haar opnames. Saam met hom het sy ook gedetailleerde studies van partiture onderneem as deel van haar voorbereiding vir rolle.

Met haar romerige, liriese stem en stylvolle akteurspel was Schwarzkopf een van die twintigste eeu se grootste sangers in Mozart en Richard Strauss se operas, en ewe briljant in die operettes van Lehár en Johann Strauss. Onder die verdere rolle waarin sy uitgeblink het, het getel Marzelline in Fidelio, Marguerite in La damnation de Faust, Gretel in Hänsel und Gretel, Hanna in Die lustige Witwe, Fiordiligi in Così fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, die Grafin in Le nozze di Figaro, Liù in Turandot, Belinda in Dido and Aeneas, Rosalinde in Die Fledermaus, die Grafin in Capriccio, Alice in Falstaff, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Cressida in Troilus and Cressida, Fatime in Abu Hassan, en die titelrolle in Die Kluge en Ariadne auf Naxos. Sy het in 1956 die Marschallin in Der Rosenkavalier in ‘n ongeëwenaarde opname onder Herbert von Karajan vertolk. Vier jaar later het sy ook in ‘n rolprentweergawe van dié opera verskyn. Naas opera was sy ‘n hoogs sensitiewe vertolker van Duitse liedere, met ‘n repertorium wat gestrek het vanaf Mozart tot by Wolf, en ‘n briljante sangeres in gewyde werke. By die Salzburg-fees het sy in 1953 ‘n voordrag van Wolf-liedere gegee ter herdenking van die komponis se dood 50 jaar tevore, met Furtwängler as klavierbegeleier (met ‘n opname wat gemaak is).

In 1975 het Schwarzkopf uit konserte getree nadat sy reeds drie jaar tevore die operaverhoog vaarwel toegeroep het. In die jaar daarop het sy ‘n dosent aan die Juilliard Musiekskool in New York geword. Haar meesterklasse is dikwels oor die radio uitgesaai. Sy het in 1976 ‘n ere-doktorsgraad van die Cambridge Universiteit ontvang, en in 1992 is sy tot dame geskep. Sleutelopnames: Mahler se Des Kaben Wunderhorn (onder Szell, 1968); ‘n versameling liedere van Mozart (met Walter Gieseking as begeleier, 1955) en 4 van sy konsertarias (onder Szell, 1968); ‘n versameling Schubert-liedere (agtereenvolgens begelei deur Edwin Fischer, Gerald Moore en Geoffrey Parsons); Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Szell, 1965); Wolf se Italienisches Liederbuch en Spanisches Liederbuch (met Moore).

Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 51, 199 en 202, Mis in B mineur en Sint Mattheüspassie; Beethoven se negende simfonie (onder Furtwängler, 1951 en 1954, en onder Karajan, 1955); Mahler se tweede en vierde simfonieë (beide onder Otto Klemperer); J. Strauss se Frühlingsstimmen; 2 weergawes van Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Ackermann en Karajan); Verdi se Requiem (onder Giulini); talle liedere van Beethoven, Brahms, Gieseking, Mahler, Mozart, Schubert, Schumann en Wagner; die operettes Die lustige Witwe (onder beide Ackermann en Lovro von Matacic) en Die Fledermaus (onder Karajan); ‘n versameling operette-arias (onder Ackermann); die genoemde operas van Beethoven, Berlioz, Humperdinck, Mozart, Orff, Puccini, Purcell, Strauss, Verdi, Walton en Weber, asook Die barbier van Baghdad; en ‘n versameling arias uit Arabella (onder Matacic).

Schweitzer, Albert (1875-1965), Franse orrelis, musiekgeleerde, filosoof en teoloog. As een van die groot denkers van die twintigste eeu het hy aan die universiteite van Strasbourg, Parys en Berlyn doktorsgrade in filosofie, teologie en musiek verwerf. Terwyl hy hoof van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Strasbourg was, het hy sy briljante akademiese loopbaan prysgegee om 'n sendingdokter in Wes-Afrika te word. Uit die opbrengs van sy lesingtoere en boeke het hy in 1913 by Lambaréné 'n hospitaal gestig. Daar sou hy die grootste deel van die volgende aantal dekades deurbring, met 'n aantal onderbrekings waartydens hy na Europa teruggekeer het. Hy was in verskeie opsigte ‘n gesaghebbende in die musiek van Bach: as orrelis van die Bach-konserte in Strasbourg (vanaf 1896) en Parys (vanaf 1906); as regisseur van sy orrelwerke (1912-4, 1954-65); en as skrywer van ‘n biografie oor die Barokreus. Onder die ander boeke wat uit sy vlytige pen gevloei het, tel verskeie oor sy Afrika-ondervinding, 'n aantal filosofiese en teologiese werke, waaronder een oor die mistiek van die Apostel Paulus, en ‘n boek oor Franse en Duitse orrels. In 1952 is die Nobelprys vir Vrede aan hom toegeken.

Scimone, Claudio (1934-), Italiaanse dirigent. Hy het in 1959 die ensemble I Solisti Veneti gestig vir die uitvoering van agtiende-eeuse Italiaanse musiek, asook van moderne werke deur Bussotti, Donatoni, Malipiero en andere. Hulle het in 1966 by die Salzburg-fees gedebuteer. In hul eerste 45 jaar het hy die ensemble in meer as 300 opnames gedirigeer, insluitend die bykans volledige orkeswerke van Albinoni, Geminiani, Marcello, Tartini en Vivaldi. Hy is al vir etlike dekades een van die voorste dirigente van Italiaanse Barokmusiek en van Rossini se operas. Daarby was hy ‘n leermeester aan die Venesiese Konserwatorium (1961-7) en in Verona (1967-74). Vanaf 1974 tot 1983 was hy direkteur van die Padua Konserwatorium. Sleutelopnames: Boccherini se Stabat Mater en 3 simfonieë G506, G523 en G518); ‘n versameling mandolynkonserte van Vivaldi (met Orlandi as solis). Verdere opnames: Albinoni se Il nascimento dell' Aurora; Clementi se simfonieë nrs. 1-4; Galuppi se Concerto a quattri en oratorium La Caduta di Adamo; Puccini se Messa di Gloria, Capriccio sinfonico en Preludio sinfonico; Respighi se Ancient Airs and Dances, The Birds suite en 3 Botticelli Pictures; talle konserte van Vivaldi vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente, en ‘n versameling van sy opera-ouvertures; en die operas L'elisir d'amore, Armida, Ermione, L’italiana in Algeri, Maometto II, Mosè in Egitto, Zelmira en Orlando furioso.

Sciutti, Graziella (1927-), Italiaanse sopraan. Sy het in 1951 haar operadebuut in Aix-en-Provence gemaak, as Lucy in Menotti se Die Telefoon. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1954), La Scala en Covent Garden (beide in 1956), die Salzburg-fees (1958) en in San Francisco (1961). Sy was wêreldbekend in die ligter operarolle van Donizetti en Mozart, soos Norina in Don Pasquale, Despina in Così fan tutte, Zerlina in Don Giovanni, asook die titelrolle in Linda di Chamounix en Semiramide. Verder was sy begaafd as Rosina in Paisiello se Il barbiere di Siviglia en in Franse liedere. Later in haar loopbaan was sy 'n opera-verhoogdirekteur in Brittanje en die VSA. Só het sy in 1977 Poulenc se La voix humaine by Glyndebourne opgevoer en self daarin gesing ook. Opnames: liedere van Debussy, Fauré en Ravel; en die genoemde operas van Donizetti en Mozart, asook Alcina en Le nozze di Figaro.

Scott, John (1956-), Engelse orrelis en dirigent. Nadat hy in 1977 by die Londense Proms gedebuteer het, was hy orrelis en assistent-dirigent van die Bach-Koor in die Britse hoofstad. Sedert 1990 is hy orrelis en musiekdirekteur van die Sint Pauluskatedraal in Londen, met wie se koor hy al 150 Psalms in die Anglikaanse tradisie opgeneem het. Daarbenewens is hy ‘n hoogleraar in orrelspel aan die Koninklike Musiekakademie. Hy toer wyd met sy koor en as solis, en in 2004 is die ‘Royal Victorian Order’ aan hom toegeken. Verdere opnames (as orrelis): kerkmusiek van Vaughan Williams; die volledige orrelwerke van Duruflé; orrelsonates van Bairstow, Elgar en Harris; (as dirigent:) koorwerke van Howells; versamelings Engelse gesange; toonsettings van die Magnificat en Nunc dimittis deur Britse komponiste; en 'n versameling tradisionele Kersfeesliedere.

Scotti, Antonio (1866-1936), Italiaanse bariton. Hy het sy operadebuut in 1889 in Napels gemaak as Cinna in La Vestale. Vir die volgende 9 seisoene sou hy in Italië, Spanje, Rusland en Suid-Amerika sing. Verdere debute is gemaak by La Scala (1898), en in 1899 by Covent Garden, in Chicago en by die Metropolitan Opera. By die Met sou hy tot 1933 meer as 800 keer verskyn, in rolle soos Scarpia in Tosca, Sharpless in Madama Butterfly, Iago in Otello, en die titelrolle in Falstaff en Rigoletto. Hy het gesing in die premières van Tosca by Covent Garden (1900) en die Met (1901), en van Madama Butterfly by Covent Garden (1905). Vanaf 1919 het hy vir vier jaar ‘n opera-toergeselskap bestuur en gefinansier.

Scotto, Renata (1933-), Italiaanse sopraan. Sy het in 1952 haar operadebuut in Savona gemaak as Violetta in La Traviata, en was vanaf 1954 aan La Scala verbonde. In 1957 het sy gedebuteer in Londen en by die Edinburgh-fees, waar sy op kort kennisgewing vir Maria Callas in die rol van Amina in La Sonnambula moes instaan. Verdere debute het gevolg in Chicago (1960), by Covent Garden (1962) en by die Metropolitan Opera (1965). Later het sy ook as opera-verhoogdirekteur opgetree, onder andere in 1986 by die Met in Madama Butterfly. As een van die grootste vertolkers van die titelrol in dié opera het sy dit gesing in 'n beroemde 1966-opname onder Barbirolli en in 1987 met haar afskeidsoptrede by die Met. Met haar kragtige stem en intense sang was sy een van die voorste soprane van haar tyd in die liriese en dramatiese rolle van Italiaanse opera. Daaronder tel verder Glauce in Medea, Maddalena in Andrea Chenier, Nedda in I Pagliacci, Santuzza in Cavalleria rusticana, Mimì in La Bohème, Liù in Turandot, Dame Macbeth in Macbeth, Desdemona in Otello, en die titelrolle in Lucia di Lammermoor, Adriana Lecouvreur en Suor Angelica. Haar sang herinner aan dié van Callas, want soos haar groot tydgenoot was sy geneig tot skrilheid in die hoër note, gepaard met 'n besondere gevoelvolheid. Opnames: die genoemde operas van Cherubini, Cilea, Donizetti, Giordano, Leoncavallo, Mascagni, Puccini en Verdi, asook Le Prophète en Le Villi.

Seaman, Christopher (1942-), Engelse dirigent. Aanvanklik was hy ‘n poukenis in die Londense Filharmoniese Orkes en vanaf 1968 was hy vir twee jaar 'n assistent-dirigent van die BBC Skotse Simfonie-orkes. Daarna was hy hoofdirigent van laasgenoemde (1971-7) en van die Noordelike Simfonia (1973-9), en hoofgasdirigent van die Utrecht Simfonie-orkes (1979-83). Sedert 1987 is hy dirigent van die Baltimore Simfonie-orkes, en daarbenewens dirigeer hy die Robert Mayer- kinderkonserte. Met die Nasionale Jeugorkes van Groot-Brittanje het hy uitstekende opnames gemaak van Elgar se Enigma Variasies en van Richard Strauss se Sinfonia domestica en Tod und Verklärung.

Seattle Opera, Amerikaanse operahuis wat in 1963 gestig is. Sedert hul eerste opvoering van die Ring-siklus in 1975 het die operahuis bekendheid verwerf as die voorste Wagner-teater in die VSA. Die gerestoureerde teater is in 2003 ingewy met ‘n opvoering van Parsifal, onder die dirigeerstaf van Asher Fisch.

Secunde, Nadine (1953-), Amerikaanse sopraan. Sy was vanaf 1980 ‘n lid van die Wiesbaden Opera en vanaf 1985 van die Keulen Opera, waar sy in die titelrol van Janácek se Káta Kabanová gedebuteer het. Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1987), Covent Garden en Chicago (beide in 1988), en in Los Angeles (1991). By Bayreuth het sy in 1992 uitgeblink as Sieglinde in Die Walküre onder Daniel Barenboim. Onder haar verdere rolle tel Miss Jengel in The turn of the screw en Renata in Die vurige engel. Opnames: die genoemde operas van Britten, Prokofiëf en Wagner.

Seefried, Irmgard (1919-1988), Oostenrykse sopraan. Sy het in 1940 in Aachen haar operadebuut gemaak as die Priesteres in Aida, en was vir die volgende drie jaar aan dié operahuis verbonde. Vanaf 1943 tot 1977 was sy ‘n lid van die Weense Staatsopera, waar sy in 1944 die rol van die Komponis in Ariadne auf Naxos ter viering van Richard Strauss se tagtigste verjaarsdag gesing het. Haar intense vertolkings van dié rol word deur sommige kenners as ongeëwenaard beskou. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy verder gedebuteer by die Salzburg-fees (1946), Covent Garden (1947), La Scala (1949) en die Metropolitan Opera (1953). Met haar suiwer sang, besondere projeksie en foutlose legato was sy uitmuntend in Mozart en Strauss se operas, naas die Komponis in rolle soos Zerlina in Don Giovanni, Susanna in Le nozze di Figaro en Pamina in Die Zauberflöte. In Salzburg het sy vanaf 1949 tot 1953 geskitter in hierdie Mozart-rolle onder Wilhelm Furtwängler. Sy was ewe begaafd as Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Agathe in Der Freischütz, en in Duitse konsertwerke. As solis het sy uitgeblink in Weense opnames van Bach se Sint Mattheüspassie onder beide Herbert van Karajan (1950) en Furtwängler (1952).

Verder was Seefried ‘n beroemde liedere-sangeres in die Duitse repertorium. Só het sy in 1957 by Salzburg met Erik Werba as klavierbegeleier ‘n meesterlike uitvoering van Goethe-toonsettings deur verskeie Duitse komponiste gegee, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. As eggenote van die violis Wolfgang Schneiderhan het sy in 1963 saam met hom die eerste uitvoering gegee van Henze se Ariosi, wat vir hulle geskryf is. Verdere opnames: kerkmusiek van Bach, Haydn en Mozart; Beethoven se negende simfonie (twee onder Furtwängler, en een onder Ferenc Fricsay); Brahms se Ein deutsches Requiem (in 1951 onder Furtwängler); Mahler se vierde simfonie (onder beide Solti en Walter); orkesliedere van Mahler en Richard Strauss; talle liedere van Brahms, Mozart, Schubert, Schumann, Richard Strauss en Wolf; die genoemde operas van Mozart, Strauss, Wagner en Weber, asook Zaide.

Segerstam, Leif (1944-), Finse dirigent en komponis. Vanaf die middel 1960’s het hy ‘n hele aantal poste in Skandinawië en Duitsland beklee. Daaronder tel dirigent by die Finse Nasionale Opera (1965-8), die Stockholm Koninklike Opera (1968-72) en die Duitse Opera in Berlyn (1971-3); algemene bestuurder van die Finse Nasionale Opera (1973/4); hoofdirigent van die Oostenrykse Radio Simfonie-orkes (1975-82) en die Finse Radio Simfonie-orkes (1977-87); en musiekdirekteur van die Rheinland-Pfalz Staatsfilharmoniese Orkes (1983-9). Intussen het hy in 1971 by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy het in 1989 by die Savonlinna-fees in sy geboorteland ‘n opwindende opvoering van Der fliegende Holländer gedirigeer, met ‘n beeldopname wat gemaak is. Vanaf 1988 tot 1995 was hy musiekdirekteur van die Deense Nasionale Simfonie-orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Sibelius opgeneem het. As komponis het hy teen 1994 al nie minder nie as 17 simfonieë, 27 strykkwartette en ander werke tot sy krediet gehad. Sleutelopnames (almal Helsinki Filharmoniese Orkes): Rautavaara se Angels and Visitations en Isle of Bliss; Sibelius se Vier Legendes en Tapiola. Verdere opnames: simfonieë van Langgaard, Mahler, Pettersson, Rautavaara (nrs. 7 en 8), Schnittke en Skriabin; Henze se Cantata della fiaba estrema; Koechlin se toondigte The Jungle Book en Les Heures persanes; Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling (volgens Leo Funtek se orkestrasie) en Nag op ‘n Kaal Berg; Langgaard se Fra Dybet; Madetoja se tweede simfonie, Komedie ouverture en toondig Kullervo; Nielsen se koorwerke Hymnus amoris en Lente in Fünen; Sibelius se kantate Kullervo; orkeswerke van Merikanto, Rabaud, Rautavaara, Reger en Ruders; en die operas Wozzeck, Die tote Stadt en Tristan und Isolde.

Segovia, Andrés (1893-1987), Spaanse kitaarspeler en komponis. Hy is langs 'n kitaarwinkel gebore, wat as 't ware profeties sou blyk te wees - hy sou die vernaamste populariseerder van die klassieke kitaar in die twintigste eeu word. Sy openbare debuut het in 1909 in Granada plaasgevind en drie jaar later ook sy amptelike debuut in Madrid. Vanaf 1920 het hy eers deur Europa en mettertyd ook wyer getoer, met debute in Parys en New York wat in 1924 en 1928 onderskeidelik gemaak is. In 1936 het hy met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog sy geboorteland verlaat, waarna hy tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Montevideo gewoon het. Daarna het hy hom in New York gevestig en sy internasionale toere hervat, maar eers gedurende die 1950’s na Spanje teruggekeer. In 1972 het die Oxford Universiteit een van etlikes geword wat ‘n ere-doktorsgraad aan hom toegeken het. Nege jaar later het die Spaanse Koning Juan Carlos hom tot Markies van Salobrena geskep en in dieselfde jaar (1981) het hy ‘n internasionale kitaarkompetisie gestig. Tot in sy tagtigs het hy nog wêreldtoere onderneem, met 'n Londense afskeidsoptrede wat in 1986 gegee is. Ten spyte van sy gebrekkige musiekagtergrond (hy was grotendeels selfopgelei) het hy veel bygedra om die tegniek van die klassieke kitaar te verbeter. Werke is deur onder andere Torroba, Rodrigo, Castelnuovo-Tedesco en Villa-Lobos vir hom geskryf, en verder het hy benewens sy eie komposisies vir kitaar heelwat van Bach (vir wie hy 'n enorme bewondering gekoester het) se musiek verwerk. Die vele opnames wat deur hom nagelaat is, getuig van die liefde en respek waarmee hy sy musiek benader het.

Seiffert, Peter (1954-), Duitse tenoor. Nadat hy aanvanklik by die Düsseldorf Opera gesing het, het hy in 1982 ‘n lid van die Deutsche Oper in Berlyn geword. In die jaar daarop is sy debuut in München as Fenton in Die lustigen Weiber von Windsor gemaak. Hy het later debute gemaak by Covent Garden (1988) en die Bayreuth-fees (1996). Met sy ryk toonkleur is hy ewe tuis in Duitse en Italiaanse opera, waaronder rolle tel soos Florestan in Fidelio, Rinuccio in Gianni Schicchi, Eisenstein in Die Fledermaus, Matteo in Arabella, Erik in Der fliegende Holländer, en die titelrolle in Lohengrin en Tannhäuser. Daarby is hy ‘n begaafde konsertsanger in die Duitse repertorium. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Sawallisch); Liszt se Faust Simfonie (onder Rattle); Mahler se agste simfonie (onder Abbado); Schumann se Mis in C mineur (onder Sawallisch); liedere en duette van Clara en Robert Schumann (met Petra-Maria Schnitzer); die genoemde operette van Johann Strauss junior; en die genoemde operas van Beethoven, Puccini, Richard Strauss en Wagner.

Seinemeyer, Meta (1895-1929), Duitse sopraan. Nadat sy in 1918 haar operadebuut in Orphée aux Enfers gemaak het, was sy tot 1925 aan die Berlynse Opera verbonde. Daarna was sy tot haar tragies vroeë dood 'n lid van die Dresden Opera, waar sy in 1925 die rol van die Hertogin van Parma tydens die première van Busoni se Doktor Faust geskep het. Verdere debute het plaasgevind in New York (1923) en by Covent Garden (1929). Sy was ‘n begaafde sangeres in die liriese rolle van Verdi se operas, en as Hänsel in Hänsel und Gretel en die Grafin in Le nozze di Figaro. Ook in dramatiese rolle soos Brünnhilde in die Ring en Isolde in Tristan und Isolde kon sy goeie rekenskap van haarself gee, soos opnames van uittreksels daaruit kan getuig.

Sellick, Phyllis (1911-), Engelse pianis. Sy het in 1933 in Harrogate met Grieg se klavierkonsert gedebuteer. In 1942 het sy in Londen die eerste uitvoering van Tippett se Fantasia on a Theme of Handel onder Walter Goehr gegee. Drie jaar later het sy in die eerste opname van Walton se Sinfonia concertante onder die komponis gespeel. Met haar man Cyril Smith het sy in 'n bekende klavierduet opgetree: hulle het byvoorbeeld in 1946 die eerste uitvoering van Vaughan Williams se klavierkonsert in ‘n weergawe vir twee klaviere gegee. Tydens hul besoek aan die Sowjet-Unie in 1956 het haar man die gebruik van sy een hand vanweë ‘n beroerte verloor, maar hulle het voortgegaan om in duette vir drie hande te speel. Verskeie werke is deur komponiste soos Arnold en Bliss vir hulle geskryf. Hulle het in ‘n uitstekende opname van Arnold se Konsert vir twee klaviere onder die komponis gespeel. In 1971 is die OBE aan hulle toegeken.

Semkow, Jerzy (1928-), Poolse dirigent. Hy was vanaf 1954 vir twee jaar ‘n assistent-dirigent van die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes, as leerling van die legendariese Jewgeni Mrawinski. Vervolgens het hy ‘n hele aantal poste in Europa en Noord-Amerika beklee: dirigent by die Bolsjoi Opera en Ballet (1956-8), hoofdirigent van die Warskou Opera (1959-62), dirigent by die Koninklike Opera in Kopenhagen (1966-76), musiekdirekteur van die Sint Louis Simfonie-orkes (1976-9), artistieke direkteur van die Italiaanse Radio-orkes in Rome (1979-83), en hoofdirigent van die Rochester Filharmoniese Orkes in New York. Intussen is sy Londense debuut in 1968 gemaak, en twee jaar later het hy by Covent Garden en in die VSA gedebuteer. Opnames: Bruckner se sewende simfonie; Szymanowski se derde en vierde simfonieë; en die operas Prins Igor (met die Sofia Opera) en Boris Godoenof (met die Poolse Nasionale Simfonie-orkes en die Krakow Radiokoor, 1977).

Sequentia, Duitse vokale en instrumentele ensemble wat in Keulen gebaseer is. Hulle is in 1977 gestig deur Benjamin Bagby en Barbara Thornton, wat intussen oorlede is. Die ensemble spesialiseer in Middeleeuse musiek, en het die volledige werke van Hildegard von Bingen in hoogaangeskrewe vertolkings opgeneem. Baie navorsing word deur hul onderneem, en hulle werk soms met ensembles soos die Schola Cantorum Basiliensis en Pro Cantione Antiqua. In 1989 het hul drie versamelings Spaanse kerkmusiek van die twaalfde tot veertiende eeue opgeneem, gebaseer op die Codex Calixtinus, die Codex Las Huelgas, en die Cantigas de Santa Maria van Alfonso X onderskeidelik. Sleutelopname: Hildegard von Bingen se Canticles of Ecstasy. Verdere opnames: versamelings van Franse troebadoerliedere, die skool van Notre Dame, Engelse liedere, Aquitaniese kloostermusiek en Kersfeesmusiek, die Yslandse Edda en die Rheingold sage; en versamelings werke van Hildegard von Bingen, Philippe de Vitry, Heinrich von Meissen en Oswald von Wolkenstein.

Serafin, Tullio (1878-1968), Italiaanse dirigent. Nadat hy aanvanklik ‘n violis in die La Scala-orkes was, het hy in 1898 in Ferrara sy debuut as dirigent gemaak. Hy het daarna dirigeerposte beklee in Turyn en Rome, en in 1907 het hy by Covent Garden gedebuteer. Vanaf 1909 was hy vir vyf jaar aan La Scala verbonde, waar hy met onderbrekings tot 1947 sou dirigeer. In 1924 het hy by die Metropolitan Opera met Aida gedebuteer, en vir die volgende tien jaar het hy daar opgetree. By die Met het hy die Amerikaanse premières van Turandot (1926) en Simon Boccanegra (1932) gedirigeer, asook die wêreldpremière van Hanson se Merry Mount (1934). Daarna het hy na Italië teruggekeer, waar hy vanaf 1934 vir nege jaar hoofdirigent van die Roomse Opera was. Hy het in 1939 ‘n historiese opname van Verdi se Requiem gedirigeer en in dieselfde jaar het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Vanaf 1952 het hy by die New York Stadsopera opgetree en vanaf 1956 het hy vir twee jaar die Chicago Opera gedirigeer. Sy meesterlike 1956-opvoering van Falstaff by La Scala is gelukkig vir musiekliefhebbers verfilm. Hy was vanaf 1962 weer aan die Roomse Opera verbonde. Die Italiaanse premières van Der Rosenkavalier, Wozzeck en Peter Grimes is deur hom gedirigeer. As een van die twintigste eeu se grootste dirigente van Italiaanse opera, met ‘n loopbaan wat oor nie minder nie as 70 jaar gestrek het, het hy baie gedoen om die loopbane van legendariese sangeresse soos Rosa Ponselle, Maria Callas en Joan Sutherland te bevorder. Sleutelopnames: Lucia di Lammermoor (Florence 1953). Verdere opnames: Norma, Mefistofele, Medea, L’elisir d’amore, I Pagliacci, Cavalleria Rusticana, La Bohème, Madama Butterfly, Manon Lescaut, Suor Angelica, Turandot, Aida, La forza del destino, Otello, Rigoletto en La Traviata.

Serebrier, José (1938-), Uruguyaanse dirigent en komponis. Hy was vanaf 1962 vir twee jaar musiekdirekteur van die Amerikaanse Shakespeare-fees, en later was hy ‘n dosent aan die Oos-Michigan Universiteit (1966-8). Verder was hy ‘n assistent-dirigent van die Amerikaanse Simfonie-orkes (1962-7), en vanaf 1968 was hy vir twee jaar as komponis aan die Cleveland Orkes verbonde. Hy tree wyd as gasdirigent op. Sy opname van Rorem se drie simfonieë met die Bournemouth Simfonie-orkes is in 2004 vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. Sleutelopname: Tsjaikofski se Hamlet en Romeo en Juliet fantasie-ouvertures, en Die Storm (Bamberg Simfonie-orkes). Verdere opnames: Chausson se Simfonie in B mol; Glazoenof se vyfde simfonie en ballet Die Seisoene; ‘n versameling orkesliedere van Grieg, waarvan hy die meeste self verwerk het (met Carole Farley); Ives se Variations on America; Kodály  se Dances of Galanta, Dances of Marosszek, Háry János Suite en The Peacock; Mendelssohn se simfonieë nrs. 3 en 4; Moessorgski se Nag op ‘n kaal berg en Skilderye op ‘n uitstalling (in Stokowski se orkestrasie); sy eie derde simfonie; Sjostakowitsj se Hamlet filmmusiek; Stokowski se Simfoniese sinteses uit Wagner-operas; Tsjaikofski se vierde simfonie, Andante cantabile, Capriccio italien, 1812 Ouverture, Fatum, Marche slave en Francesca da Rimini; en ‘n versameling ouvertures van Wolf-Ferrari.

Serkin, Peter (1947-), Amerikaanse pianis, seun van die beroemde pianis Rudolf Serkin (sien volgende inskrywing). Hy het as elfjarige wonderkind sy debuut by die Marlboro-fees in Vermont gemaak. Later in sy tienerjare het hy met die Guarneri Strykkwartet en met die Cleveland Orkes onder Georg Szell opgetree. Sedert die laat 1960's konsentreer hy op moderne musiek, en in 1968 het hy vir vyf jaar tydelik uitgetree. Met sy terugkeer het hy die Ensemble Tashi gestig vir die uitvoering van moderne musiek. Hulle het in 1978 'n voortreflike vertoning gelewer in 'n opname van Takemitsu se Water-ways en Quatrain II. Verdere opnames (as solis): Messiaen se 20 Régards sur l‘Enfant Jésus; Takemitsu se Quotation of Dream (onder Knussen).

Serkin, Rudolf (1903-91), Oostenryks-gebore pianis van Russiese afkoms. Hy het in Wenen onder die komponis Schoenberg studeer en sy debuut as twaalfjarige met ‘n klavierkonsert van Mendelssohn gemaak. In 1920 het hy in Berlyn gaan woon, waar hy as vennoot van die violis Adolf Busch, met wie se dogter hy later sou trou, in kamermusiek en sonate-uitvoerings opgetree het. Hy het in 1925 sy Salzburg-feesdebuut gemaak en agt jaar later sy Amerikaanse debuut in Washington, D.C. In 1939 het hy ‘n Amerikaanse burger geword, en vanaf dieselfde jaar was hy hoof van die klavierdepartement aan die Curtis Instituut in Philadelphia. Hy was in 1950 ‘n medestigter van die Marlboro Skool en Fees in Vermont en vervolgens die artistieke direkteur daarvan. Vanaf 1968 tot 1976 was hy ook direkteur van die Curtis Instituut. Met sy intense spel was hy een van die twintigste eeu se grootste pianiste in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium, veral in die musiek van Beethoven, Brahms, Mozart en Schubert. Opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven en Brahms; Beethoven se Koorfantasie (onder Bernstein), klaviersonates nrs. 29 en 31, Diabelli Variasies, en klaviertrios nrs. 4 en 5 (met Casals en Goldberg); ‘n aantal klavierkonserte van Mozart; Prokofiëf se vierde klavierkonsert; en Schumann se tweede klavierkwintet (met die Végh Kwartet).

Sevcík, Otakar (1852-1934), Tsjeggiese violis. Hy was aanvanklik orkesleier van die Salzburg Mozarteum en het in 1873 sy solo-debuut in Wenen gemaak. Daarna het hy in Rusland gaan woon, waar hy vanaf 1875 tot 1892 aan die Imperiale Musiekskool in Kiëf onderrig gegee het. Vanaf 1892 tot 1906 was hy 'n hoogleraar in viool aan die Praag Konserwatorium en vanaf 1906 tot 1919 aan die Weense Musiekakademie, voordat hy na die Tsjeggiese hoofstad teruggekeer het. Hy het spesiale intonasie- en stryktegnieke ontwikkel, wat in besonderhede in sy gepubliseerde werk uiteengesit is.

Shaham, Gil (1971-), Amerikaans-gebore Israeliese violis. Hy het as sewejarige aan die Rubin Musiekakademie in Jerusalem gaan studeer. In 1980 het hy vir die beroemde violiste Milstein, Stern en Szeryng gespeel en aan die Aspen Musiekskool in Colorado begin studeer. Sy openbare debuut is as tienjarige met die Jerusalem Simfonie-orkes onder Alexander Schneider gemaak. In 1982 het hy die eerste prys in die Claremont-kompetisie gewen en is hy tot die Juilliard Musiekskool in New York toegelaat. Sy eerste besoek aan Europa was in 1986, waartydens ‘n sensasionele optrede by die Schleswig-Holstein Musiekfees gemaak is. In 1989 het hy met studies aan die Columbia Universiteit in New York begin, en in die jaar daarop het hy die Avery Fisher-toekenning ontvang. Hy het in 1992 sy eerste uitvoering in Carnegie Hall in New York gegee, en drie jaar later het hy met die Orpheus Kamerorkes deur Japan getoer. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1999 gemaak. Met sy warm, intense spel en sekure tegniek is hy een van die voorste viool-virtuose van sy tyd, sodat dit nie verbaas dat hy wêreldwyd onder van die voorste dirigente optree nie. Sleutelopnames: Kabalefski se vioolkonsert (onder Pletnjef); Korngold se vioolkonsert (onder Previn); Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Meyer, Wang en Chung). Verdere opnames: vioolkonserte van Barber, Bartók (nr. 2), Glazoenof, Kreisler, Paganini, Prokofiëf, Saint-Saëns en Wieniawski (nrs. 1 en 2); ‘n versameling werke van Fauré; werke vir viool en kitaar van Paganini; Pärt se Tabula rasa (met Adele Anthony); Sarasate se Zigeunerweisen; Tsjaikofski se Souvenir d’un lieu cher en Valse scherzo; en Vivaldi se Vier Seisoene.

Shankar, Ravi (1920-2012), Indiese sitar-speler en komponis. Hy was vanaf 1949 vir sewe jaar direkteur van ‘n instrumentele ensemble van die Indiese Radio. In 1962 het hy die Kinnara Musiekskool in Bombaai gestig, waarvan hy die direkteur sou wees. Deur sy sitar-uitvoerings tydens Europese en Amerikaanse toere het hy ‘n belangstelling in Indiese musiek in die Weste verwek. Hy was aan die Kaliforniese Musiekinstituut verbonde. Onder sy komposisies tel verhoogwerke, twee sitar-konserte, en die klankbane van die rolprente Gandhi en Alice in Wonderland.

Shao, En (1954-), Sjinese dirigent. Ná 'n aanvanklike loopbaan in Sjina het hy vanaf 1988 in Brittanje studeer. Die volgende jaar het hy 'n Hongaarse dirigeerkompetisie gewen en vanaf 1993 was hy hoofdirigent van die Ulster Orkes.

Shaw, Robert (1916-), Amerikaanse dirigent. Hy het in 1941 die ‘Collegiate Chorale’ in New York gestig en hulle tot 1954 gedirigeer. In 1946 het hulle die première van Hindemith se dodemis ter herdenking aan die Amerikaanse sterftes in die Tweede Wêreldoorlog, When lilacs last in the dooryard bloom'd, gegee. Vanaf 1948 tot 1966 het hy ook die beroemde koor wat na hom vernoem is gedirigeer. Reeds in hul eerste bestaansjaar het die Robert Shaw Koor in 'n opname van Brahms se Gesang der Parzen onder Toscanini gesing. Gedurende dié tyd was Shaw ook dirigent van die San Diego Simfonie-orkes (1953-7) en assistent-dirigent van die Cleveland Orkes (1956-67). Vanaf 1967 tot 1988 was hy hoofdirigent van die Atlanta Simfonie-orkes, met wie hy bekendheid verwerf het in die musiek van sy landgenote. Daarbenewens het hy aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee. As een van die voorste koordirigente van sy tyd was hy die eerste bekende musikus in die VSA om uitvoerings van Bach se Mis in B mineur en Handel se Messiah met klein ensembles te gee. Verdere opnames: die genoemde werke van Bach, Handel en Hindemith; Adams se Harmonium; Bernstein se Chichester Psalms; Britten se War Requiem; die dodemisse van Duruflé en Fauré; Glass se Itaipù en The Canyon; Haydn se The Creation (in Engels); Hindemith se Symphonic Variations; Poulenc se Mis in G en van sy motette; Rachmaninof se kantate Die Klokke; Verdi se Requiem, en ‘n aantal kore uit van sy operas.

Shelley, Howard (1950-), Engelse pianis en dirigent. Hy het in 1971 sy debuut as pianis in Londen gemaak en daarna ‘n internasionale loopbaan begin volg. In 1983 het hy die eerste Londense uitvoering van Rachmaninof se volledige klavierwerke gegee, en twee jaar later het hy begin dirigeer. Verder tree hy op as duet-vennoot van sy vrou, die pianis Hilary Macnamara, en in kamermusiek met die hobospeler Malcolm Messiter en die sopraan Jane Manning. Daarby is hy ‘n begeleier vir sangers soos Joan Rodgers in liedere-opnames. Met sy poëtiese, aristokratiese spel is hy wêreldbekend in die Klassiek-Romantiese repertorium en in moderne Britse musiek. Hy dirigeer dikwels orkeste soos die London Mozart Players en die Tasmaniese Simfonie-orkes vanaf die klawerbord. Met eersgenoemde is hy besig met ‘n projek om die volledige werke van Hummel vir klavier en orkes op te neem. Sleutelopnames: Lyapoenof se klavierkonsert nr. 2 (onder Sinaisky); Mendelssohn se 2 klavierkonserte en Capriccio brillant (waarin hy die LMP vanaf die klawerbord dirigeer); Mozart se klavierkonserte nrs. 12, 13, 14, 19, 20, 23, 24 en 27 (ook met die LMP wat hy self dirigeer), en nrs. 21 en 24 met die ‘City of London Sinfonia’.

 

Verdere opnames (as solis): die volledige klavierkonserte van Balakiref, Howells, Hummel, Mozart en Rachmaninof, asook ‘n aantal van Cramer, Ferguson, Herz (nrs. 1, 7 en 8), Korngold, Moscheles, Tippett en Vaughan Williams; Bridge se Phantasm; Carwithen se Konsert vir klavier en strykers; Dohnányi se Kindertuin Variasies; verskeie werke vir klavier en orkes van Farrar; Foulds se Dinamiese drieluik; Hindemith se The Four Temperaments; Hummel se Rondos brilliants, opus 56&98, Concertino in G, Gesellschafts Rondo, Variations, opus 115 (almal vir klavier en orkes), en sy klaviersonate nr. 2, Gluck Variations en Rondo, opus 11; Mozart se (onvoltooide) Konsert vir klavier en viool (met Iona Brown); Szymanowski se vierde simfonie; Vaughan Williams se Epithalamion; die volledige solowerke van Rachmaninof, en sommiges van Chopin, Ferguson, Mendelssohn en Anton Rubinstein; (en as dirigent:) ‘n versameling orkeswerke van Hummel.

Shicoff, Neil (1949-), Amerikaanse tenoor. Hy het aan die Juilliard Musiekskool in sy geboortestad New York studeer, met die gevierde tenoor Franco Corelli as ‘n leermeester. Sy professionele debuut is in 1975 in Cincinatti gemaak, in die titelrol van Verdi se Ernani. In die jaar daarop het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer as Rinuccio in Gianni Schicchi. Hy het vervolgens ‘n aantal hoofrolle by die Met gesing, asook by ander bekende operahuise in die VSA en Europa. Gedurende die 1980’s het hy egter ‘n reputasie vir onbetroubaarheid opgebou, toegeskryf aan emosionele probleme weens sy moeder se dood en sy eie huweliksprobleme. Talle optredes is deur hom gekanselleer, en in 1989 het hy ‘n senuwee-ineenstorting gehad tydens ‘n opvoering van Werther by die Met. Hy het in 1991 in Duitsland gaan woon, waarna hy by Europese operahuise sy sangloopbaan heropgebou het. In die laat 1990’s het hy weer by die Met begin sing. As liriese tenoor is hy bekend in die titelrolle van Peter Grimes, Les Contes d’Hoffmann en Werther, en as Luigi in Il Tabarro, Lenski in Jewgeni Onegin, die Graaf in Rigoletto en Alfredo in La Traviata. Hy het by Covent Garden verskyn as Rodolfo in ‘n beeldopname van La Bohème. Sleutelopname: Rigoletto (onder Sinopoli). Verdere opnames: die operas Il Tabarro, Jewgeni Onegin en La Traviata.

Shimell, William (1952-), Engelse bariton. Na studies in Londen het hy in 1980 by die Kent Opera gedebuteer, as Usher in Rigoletto. Daarna het hy wyd deur Europa begin optree, met debute by die Glyndebourne-fees (1984) en Covent Garden (1985). Sy bekendheid lê veral in rolle soos Malatesta in Don Pasquale, Albert in Werther, beide die Graaf en die titelrol in Le nozze di Figaro, Papageno in Die Zauberflöte, Marcello in La Bohème, Sharpless in Madama Butterfly, die Graaf in Capriccio en Nick Shadow in The rake’s progress. Met sy bytende sang en aantreklike voorkoms is hy stellig op sy beste in die titelrol van Don Giovanni, wat hy in 1990 by die Salzburg-fees onder Riccardo Muti gesing het. Sleutelopname: Lambert se Summer’s Last Will and Testament (onder David Lloyd-Jones). Verdere opnames: Vaughan Williams se eerste simfonie (onder Vernon Handley).

Shirai, Mitsuko (1952-), Japannese sopraan en mezzosopraan. Sy het aan die Stuttgart Konserwatorium studeer, waar sy haar toekomstige man, die pianis Hartmut Höll, sou ontmoet. Tussen 1973 en 1976 het sy sangkompetisies in Wenen, Athene en München gewen. Daarop het sy haar in Duitsland gevestig en bekendheid verwerf as ‘n briljante vertolker van Duitse liedere, waarin sy deur Höll begelei word. Hulle tree wêreldwyd in uitvoerings op en het in 1984 by die Salzburg-fees gedebuteer. Intussen is die Robert Schumann-prys van die Stad Zwickau in 1982 aan haar toegeken. Haar operadebuut is in 1987 in Frankfurt gemaak as Despina in Così fan tutte. ‘n Komitee Japannese kunstenaars het in 1996 die Groot Idemitsu Musiektoekenning aan haar toegeken. Sy is ‘n hoogleraar in sang in Karlsruhe, waar sy en haar man ‘n sentrum vir Lieder sang bedryf. Daarby is sy ‘n hoogleraar aan die Salzburg Mozarteum, en met Höll gee sy meesterklasse in Finland, Schleswig-Holstein, Tanglewood en Jerusalem. Onder hul hoogaangeskrewe opnames tel liedere van Liszt, Schoenberg en Richard Strauss, en 'n versameling liedere wat op gedigte van Hölderlin gebaseer is. Verdere opnames: Schumann se Mis in C mineur (onder Sawallisch).

Shirley, George (1934-), Amerikaanse tenoor. Sy operadebuut het in 1959 in New York plaasgevind, as Eisenstein in Die Fledermaus. Twee jaar later het hy sy debuut by die Metropolitan Opera gemaak, nadat hy die oudisies van dié operahuis gewen het. Verdere operadebute het gevolg in Santa Fé (1963), by die Glyndebourne-fees (1966), Covent Garden en die Skotse Opera (beide in 1967), en die Nederlandse Opera en Monte Carlo (beide in 1976). Hy is veral bekend as Pelléas in Pelléas et Mélisande, wat hy by Covent Garden in 'n voortreflike opname onder Boulez gesing het. Verder het hy uitgeblink in die titelrol van Haydn se Orlando paladino in 'n hoogstaande opname onder Dorati.

Shirley-Quirk, John (1931-), Engelse bariton. Hy het in 1962 sy operadebuut by die Glyndebourne-fees as die Dokter in Pelléas et Mélisande gemaak. Twee jaar later het hy by die Engelse Operagroep aangesluit, en in 1974 het sy debuut by die Metropolitan Opera gevolg in Britten se Death in Venice. Verskeie rolle is deur dié komponis vir hom geskryf, onder meer Coyle in Owen Wingrave en al die baritonrolle in Death in Venice. Ook die rol van Lev in Tippett se opera The Ice Break is vir hom geskryf. Met sy wye repertorium en veeltaligheid is hy naas moderne Britse opera begaafd in konsertwerke en Engelse liedere. Sleutelopname: Walton se Belshazzar’s Feast (onder Previn). Verdere opnames: kerkmusiek van Britten, Dvorák, Elgar, Finzi, Haydn, Schoenberg en Schütz; orkesliedere van Delius, Grainger en Lutoslafski; liedere van Britten, Butterworth, Ireland, Moeran, Purcell, Rachmaninof, Stanford, Vaughan Williams, Warlock en Wolf; Bach se Kantates nrs. 82, 147 en 159, en sy Mis in B mineur; Beethoven se negende simfonie (onder Giulini); Berlioz se La chasseur danois; Bliss se Serenade vir orkes en bariton; Britten se War Requiem; Handel se oratoriums Judas Maccabeus en Messiah; Mahler se agste simfonie (onder Solti); Rachmaninof se kantate Die Klokke; Schoenberg se Serenade (vir solo-instrumente en bas) en van sy koormusiek; Schumann se Szenen aus Goethes Faust; Strawinski se ballet Pulcinella; Tippett se oratorium A Child of our time en kantate The Vision of St Augustine; en die operas Béatrice et Bénédict, Billy Budd, Death in Venice, Gloriana, A Midsummer Night's Dream, The Rape of Lucretia, A Village Romeo and Juliet, The Fairy Queen, The Pilgrim's Progress en The Bear.

Shumsky, Oscar (1917-2000), Amerikaanse violis en dirigent. Hy het in 1925 sy debuut as solis met die Philadelphia Orkes onder Stokowski gemaak, in Suk se Fantasie. Vanaf 1939 het hy vir drie jaar onder Toscanini in die NBC Simfonie-orkes gespeel, en later het hy leier van die Primrose Kwartet geword. Vanaf 1959, toe hy sy dirigeerdebuut gemaak het, tot 1967 was hy musiekdirekteur van die Stratford-fees in Kanada. Daarbenewens het hy onderrig gegee aan die Juilliard Musiekskool in New York (1953-81), die Curtis Instituut in Philadelphia (1961-5) en die Yale Musiekskool (1975-81). In 1981 het hy as leermeester uitgetree en ná ‘n onderbreking van dertig jaar weer begin om konserte te gee. Met sy soet toonkleur en sekure tegniek is hy as een van die voorste violiste van die ouer skool beskou. Opnames: Bach se volledige vioolkonserte, -sonates en -partitas, asook sy Dubbelkonsert (met John Tunnell) en Konsert vir viool en hobo (met Robin Miller); vioolkonserte van Beethoven, Glazoenof en Mozart (nrs. 4 en 5); solowerke van Kreisler; Weiner se 2 vioolsonates; en ÿsaye se 6 Sonates vir soloviool.

Siepi, Cesare (1923-2010), Italiaanse bas. Hy het vir ‘n wyle aan die konserwatorium in sy geboortestad Milaan studeer, waarna hy madrigale gesing het. Sy operadebuut is in 1941 in Vicenza in Rigoletto gemaak, as Sparafucile. Daarna het hy na Switserland uitgewyk weens sy teenkanting teen die Fasjistiese bewind in sy geboorteland. Sy na-oorlogse loopbaan is afgeskop toe hy as Zaccaria in Verdi se Nabucco by La Fenice in Venesië uitgeblink het. Dit het gelei tot debute by La Scala (1946), die Metropolitan Opera en Covent Garden (beide in 1950), en die Salzburg-fees (1953). Sy Met-debuut is gemaak as Filips II in Don Carlos, waarna hy tot 1973 as eerste bas aan die beroemde Amerikaanse operahuis verbonde sou wees. Daar het hy naas Italiaanse opera ook rolle soos Gurnemanz in Parsifal en die titelrol in Boris Godoenof (in Engels) gesing. Hy het met die Met-ballerina Luellen Sibley getrou. Met sy warm, donker toonkleur, elegante frasering en treffende voorkoms was hy wêreldbekend in Italiaanse opera. Dit sluit in die titelrolle van Mefistofele, Don Giovanni en Le nozze di Figaro, Raimondo in Lucia di Lammermoor, Mephistopheles in Faust, Colline in La Bohème, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Ramfis in Aida, Guardiano in La forza del destino en Fiesco in Simon Boccanegra. Hy het Don Giovanni gesing in klassieke opnames onder die groot dirigente Furtwängler (in 1953 en 1954 by Salzburg), Krips (in 1955 in Wenen) en Mitropoulos (in 1956 in Wenen). By die Weense Staatsopera het hy dieselfde rol meer as enige ander moderne sanger behalwe Eberhard Wächter gesing. Sy laaste optrede aldaar is in 1994 gemaak. Hy was ook ‘n voortreflike sanger in liedere en Broadway-musiekblyspele. Na ‘n beroerte-aanval is hy in die VSA oorlede. Verdere opnames: Verdi se Requiem; en die genoemde operas van Boito, Donizetti, Gounod, Mozart en Puccini.

Silja, Anja (1935-), Duitse sopraan. Sy het as vyftienjarige ‘n solo-uitvoering in Berlyn gegee, en in 1955 is haar operadebuut in Brunswick gemaak as Rosina in Il barbiere di Siviglia. Vanaf 1960 het sy by die Bayreuth-fees gesing, waar sy as uitmuntende sanger-aktrise bekendheid vir haar Wagner-vertolkings verwerf het. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1967), Chicago (1968), die Salzburg-fees (1971) en die Metropolitan Opera (1972). Sy was vanaf 1974 tot 1984 ‘n lid van die Hamburg Opera. In dié tyd het sy uitgeblink as Marie in Wozzeck, Herodias in Salome, Senta in Der fliegende Holländer, Freia in Das Rheingold, Elisabeth in Tannhäuser, en die titelrolle in Salome en Elektra. Haar debuut by die Glyndebourne-fees is in 1989 gemaak as Kostelnicka in Jenufa, wat ‘n tweede loopbaan in die operas van Janácek ingelui het. By Glyndebourne het sy weer in 1995 geskitter as Emilia in Die Makropoulos-saak. Hoogstaande DVD-opnames is van beide opvoerings gemaak, onder die dirigeerstaf van Andrew Davis. Verdere opnames: Schoenberg se monodrama Erwartung; die genoemde operas van Berg, R. Strauss en Wagner, asook Jenufa (onder Haitink).

Sillito, Kenneth (?-), Engelse violis en dirigent. Hy het op sewe met vioollesse begin en op 14 het hy ‘n beurs losgeslaan om vir ses jaar aan die Koninklike Musiekakademie te gaan studeer, onder David Martin. Daarna is hy met nog ‘n beurs na Rome vir verdere studies onder Remy Principe. Met sy terugkeer na Brittanje is hy terstond genooi om medeleier van die Engelse Kamerorkes te word. Tot 1973 sou hy wêreldwyd met hul toer, as beide direkteur en solis. Intussen het hy in 1967 die Gabrieli Kwartet gestig, wat hy vir die volgende 20 jaar sou lei. Hy is sedert 1980 direkteur van die Academy of St Martin-in-the-Fields (ASMF) se Kamerensemble, met wie hy wyd deur Europa, die Verre Ooste en Noord-Amerika toer. Sleutelopnames: Bach se Konsert vir fluit, viool en klawesimbel (met Martin en Perahia);  Vivaldi se Vier Seisoene (ASMF, met Julia Fischer as solis, DVD). Verdere opnames (as solis): Bach se Dubbelkonsert (met Hugh Bean); Janácek se Romanse (met Atherton); Svendsen se Romanse; Vivaldi se Vier Seisoene (onder Davison).

Sills, Beverly (1929-2007), Amerikaanse sopraan. Sy is as Belle Silverman in Brooklyn, New York gebore, met ‘n Roemeense vader en ‘n Russiese moeder. As driejarige het sy begin sing, en teen twaalf het sy al in ‘n aantal rolprente en oor die radio opgetree. Later het optredes in operettes van Gilbert en Sullivan gevolg, en in 1947 is haar operadebuut in Philadelphia gemaak, as Frasquita in Carmen. Nog ‘n debuut is gemaak in San Francisco (1953), en vanaf 1955 was sy aan die New York Stadsopera verbonde, waar sy in meer as 50 operas sou sing. Later het sy gedebuteer in Wenen (1967), by La Scala (1969), Covent Garden (1970) en die Metropolitan Opera (1975). Met haar ligte stem, behendige sang en ritmiese presisie was sy uitmuntend in koloratuurrolle soos die heldinne in Les Contes d’Hoffmann, die titelrolle in I Puritani, Lucia di Lammermoor en Manon, Marie in Le fille du regiment, Rosina in Il barbiere di Seviglia, en Donizetti se drie koninginne: Elizabeth I in Roberto Devereux, en die titelrolle in Anna Bolena en Maria Stuarda. In 1980 het sy uit opera getree, en vanaf 1979 tot 1989 was sy direkteur van die New York Stadsopera. Sy het vanaf 1991 op die raad van die Metropolitan Opera gedien, en in 1994 het sy voorsitter van die Lincoln Musieksentrum in New York geword. Sy is aan longkanker oorlede. Opnames: die genoemde operas van Donizetti en Massenet, asook L'assedio di Corinto; en ‘n versameling Weense operette-arias (onder Julius Rudel).

Silverstein, Joseph (1932-), Amerikaanse violis en dirigent. Nadat hy as violis in orkeste in Houston, Philadelphia en Denver gespeel het, was hy vir byna vier dekades (1955-83) aan die Boston Simfonie-orkes verbonde. By dié ensemble was hy vanaf 1962 die orkesleier en vanaf 1971 ‘n assistent-dirigent. Intussen het hy in 1959 die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen, en in 1979/80 was hy musiekdirekteur van die Toledo Simfonie-orkes. In 1983 het hy musiekdirekteur van die Utah Simfonie-orkes geword, met wie hy later 'n voortreflike opname van sy landgenoot Perle se Six etudes gemaak het. Tans is hy hul ere-dirigent. Hy tree wêreldwyd as dirigent, as solis en in kamermusiek op. As violis blink hy met sy suiwer toonkleur en aristokratiese styl uit in sowel klassieke en moderne werke. Die Boston Simfonie Kamerspelers is deur hom gestig, en sedert 1993 speel hy in die kamerensemble van die Lincoln-Sentrum in New York. Daarby gee hy onderrig in Cambridge, Massachusetts en by die Tanglewood Musieksentrum.

Silvestri, Constantin (1913-69), Roemeens-gebore pianis, dirigent en komponis. Hy het in 1930 sy dirigeerdebuut in Boekarest gemaak en vir die volgende vyf jaar ‘n paralelle loopbaan as pianis gevolg. Daarna was hy tot 1956 as dirigent aan die Boekarest Opera verbonde. In dié tyd was hy ook dirigent van die Boekarest Filharmoniese Orkes (1947-53). Daarbenewens was hy vanaf 1949 ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Boekarest Musiekakademie. Hy het in 1956 na Parys uitgewyk. In die jaar daarop het hy hom in Londen gevestig en in 1963 is sy debuut by Covent Garden gemaak. Hy was vanaf 1961 tot sy dood dirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes. Opnames: Dvorák se agste simfonie; Elgar se toondig In the South; Liszt se toondig Tasso; Respighi se toondig Die Denne van Rome; Rimski-Korsakof se Mei-nag Ouverture; Tsjaikofski se vyfde simfonie en Manfred Simfonie; en orkeswerke van Borodin, Glinka en Ravel.

Simionato, Giulietta (1910-2010), Italiaanse mezzosopraan. Sy het in 1928 haar operadebuut in Montagnana gemaak, as Lola in Cavalleria Rusticana. In 1933 het sy die Bel Canto kompetisie in Florence gewen. Sy het in 1935 in die première van Pizzetti se Orséolo gesing en in die jaar daarop het sy by La Scala gedebuteer. By dié operahuis sou sy vanaf 1939 tot haar uittrede in 1966 ‘n lid wees. In 1947 het sy by die eerste Edinburgh-fees opgetree, met verdere debute wat gemaak is by Covent Garden en San Francisco (beide in 1953), Chicago (1954), die Salzburg-fees (1957) en die Metropolitan Opera (1959). Sy het dikwels met Maria Callas opgetree, onder andere by Covent Garden en in opnames. Met haar wye stemreeks en vokale behendigheid het sy uitgeblink in die koloratuurrolle van Rossini, Bellini en Donizetti, asook in die operas van Verdi. Dit het rolle ingesluit soos Giovanna Seymour in Anna Bolena, die Prinses in Adriana Lecouvreur, Amneris in Aida, Ulrica in Un ballo in maschera, Quickly in Falstaff, Preziosilla in La forza del destino en Azucena in Il Trovatore. Opnames: die genoemde operas van Cilea, Donizetti en Verdi; en ‘n versameling Italiaanse en Franse opera-arias.

Simon Bolivar Simfonie-orkes, Venezuelaanse orkes wat in 1975 deur die ekonoom José Antonio Abreu gestig is. Meeste van die orkesspelers kom uit 'n behoeftige agtergrond en die ensemble is verbind aan 'n maatskaplike agentskap genaamd El Sistema, wat musiekopvoeding aanwend in diens van maatskaplike opheffing. Sedert 1999 is Gustavo Dudamel hul hoofdirigent, en tesame het hul wêreldroem verwerf. Die orkes se debuut by die Londense Proms in 2007 is deur 'n entoesiastiese skare toegejuig. In dieselfde jaar is hul debuut in New York se Carnegie Hall gemaak. Hul spel word gekenmerk deur 'n aansteeklike lewenslus, sonder om verfyndheid prys te gee - inderdaad 'n formidabele kombinasie in die uitvoering van veral Romantiese en sommige moderne werke.

Simon, Geoffrey (1946-), Australiese dirigent. Hy het in Europa onder die bekende dirigente Herbert von Karajan, Rudolf Kempe, Hans Swarowsky en Igor Markewitsj studeer, en was ‘n pryswenner in die eerste John Player-dirigeerkompetisie. Sedertdien dirigeer hy wyd deur Europa, die Verre Ooste, Noord-Amerika en Australië. Hy was musiekdirekteur van die Bloomington Simfonie-orkes in Indiana, die Albany Simfonie-orkes in New York, die Sacramento Simfonie-orkes in Kalifornië en die Orquestra Simfònica de Balears naby Spanje. Tans is hy hoofdirigent van die Noordwestelike Mahler-fees in die VSA, waar hy oor die jare heen talle werke deur twintigste-eeuse komponiste gedirigeer het. Hy besit sy eie opname-maatskappy, Cala Records, vir wie hy ‘n aantal opnames met die Philharmonia Orkes in Londen gemaak het. Daaronder tel Leonardi se verwerking van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling met die pianis Tamas Ungar as solis. Verdere opnames: ‘n versameling orkeswerke van Borodin, insluitend In die Steppe van Sentraal-Asië; Debussy se La Mer en orkestrasies van ‘n aantal klavierwerke; ‘n versameling orkeswerke van Ravel, insluitend Boléro en La Valse; Respighi se Belkis, Queen of Sheba balletsuite, Metamorphosen, Brazilian Impressions en Church Windows; Tsjaikofski se tweede simfonie en ‘n versameling van sy orkeswerke, insluitend die Hamlet-musiek en Romeo en Juliet Fantasie-ouverture.

Simoneau, Léopold (1918-), Kanadese tenoor. Sy operadebuut is in 1941 in Montréal gemaak, as Hadji in Lakmé. Dit is gevolg deur debute by die Parys Opera (1949), die Glyndebourne-fees (1951), die Chicago Opera (1954), die Salzburg-fees (1956) en die  Metropolitan Opera (1963). Met sy soetvloeiende sang was hy begaafd in liriese rolle soos Gérald in Lakmé, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Ferrando in Cosi fan tutte, Don Ottavio in Don Giovanni, Tamino in Die Zauberflöte en Alfredo in La Traviata. Laasgenoemde het hy in Chicago teenoor Maria Callas gesing. Hy het in 1953/4 in hoogstaande opnames van arias en duette opgetree, onder andere met sy sopraan-vrou Pierrette Alarie. Hulle het ook as soliste in ‘n uitstekende opname van Handel se Messiah onder Hermann Scherchen verskyn. Sy opname van die gewilde Duet uit Bizet se Pêrelvissers (met René Bianco) is in die klankbaan van die Australiese rolprent Gallipoli (1981) gebruik. Later, in 1971/2, was hy artistieke direkteur van die Quebec Opera. Verdere opnames: Berlioz se Requiem (onder Munch); die genoemde opera van Gluck, asook Cosi fan tutte (onder Karajan) en Don Giovanni (onder Mitropoulos).

Simonof, Joeri (1941-), Russiese dirigent. Hy was in 1968/9 'n assistent vir Jewgeni Mrawinski by die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes. In 1969 het hy die internasionale dirigeerkompetisie in Rome gewen en sy debuut by die Bolsjoi Teater met Aida gemaak. Hy was vanaf 1970 tot 1985 hoofdirigent van die Bolsjoi, met wie hy internasionaal getoer het. Hulle het in 1975 by die Metropolitan Opera gedebuteer. Onder sy hoogstaande opnames met die Bolsjoi tel Ruslan en Ludmilla, en daarbenewens is hy sedert 1975 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Moskou Konserwatorium. Sy debuut by Covent Garden het in 1982 plaasgevind, met Jewgeni Onegin, en sedert 1994 is hy musiekdirekteur van die Belgiese Nasionale Orkes. Met die Phalharmonia Orkes van Londen het hy ‘n uitstekende versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas gemaak.

Sinclair, Jeannette (1928-), Engelse sopraan. Sy het in 1954 haar debuut by die Sadler’s Wells Opera gemaak as Cherubino in Le nozze di Figaro. In die jaar daarop het sy by die Glyndebourne-fees gedebuteer, waar sy in ‘n klassieke opname van Le Comte Ory onder Vittorio Gui sou sing. Vanaf 1954 tot 1966 was sy die voorste sopraan by Covent Garden, waar sy in 1958 in die Britse première van Poulenc se Les dialogues des Carmélites gesing het. As bekende in konsertwerke het sy onder Thomas Beecham in ‘n hoogstaande opname van Beethoven se Mis in C verskyn, en vanaf 1964 het sy by die Walliese Nasionale Opera gesing. Ná haar uittrede het sy ‘n leermeester geword.

Sinclair, Monica (1925-2002), Engelse alt. Nadat sy aan die Koninklike Musiekakademie studeer het, is haar operadebuut in 1948 by die Carl Rosa Opera gemaak. Dit was as Suzuki in Madame Butterfly, en in die jaar daarop het sy by Covent Garden aangesluit. Daar sou sy gedurende die 1950’s en 1960’s bekendheid verwerf in ‘n wye verskeidenheid rolle, vanaf Mozart tot by Britten. Dit sluit in Pauline in Pique Dame, waarin sy haarself op die klawesimbel begelei het, en die altrolle in Gilbert en Sullivan se operettes. Onder die eerste uitvoerings waarin sy verskyn het, tel The Pilgrim’s Progress (1951), Gloriana (1953), Troilus and Cressida (1954) en The Midsummer Marriage (1955). Haar debuut by die Glyndebourne-fees is in 1954 gemaak, as Ragonde in Rossini se Le Comte Ory. Sy het dikwels met die groot sopraan Joan Sutherland opgetree, en saam het hul in 1965 ‘n Australiese toer onderneem. Onder Thomas Beecham het sy in ‘n opname van Offenbach se The Tales of Hoffmann (in Engels) uitgeblink as Nicklausse.

Sinfonye, vokale en instrumentele ensemble wat in 1987 deur die Australiese sangeres/ instrumentalis/komponis Stevie Wishart gestig is. Sy het komposisie en Middeleeuse musiek aan die Universiteit van York studeer, gevolg deur nagraadse studies aan die Guildhall Musiekskool en navorsing aan die Universiteit van Oxford. Praktiese ervaring is opgedoen in Istanboel en Rajastan met die Middeleeuse viool, en in Frankryk met die draai-orrel. In 1989 het die sangeres Vivien Ellis en die violis Jocelyn West by haar aangesluit, en sedertdien neem nog musici aan hul projekte deel. Onder leiding van Wishart spesialiseer hulle in vroeë musiek en hedendaagse werke deur vroue-komponiste, en gee gereeld konserte in Europa, Noord-Amerika en Australië. Navorsing oor musiek uit die elfde tot vyftiende eeue word onderneem, en die ensemble is besig met ‘n projek om die volledige werke van Hildegard von Bingen op te neem. Verdere opnames: ‘n versameling Middeleeuse Kersliedere, getiteld Gabriel’s greeting; en versamelings Middeleeuse liefdesliedere en verwante instrumentele musiek.

Sinopoli, Giuseppe (1946-2001), Italiaanse dirigent en komponis. Hy het met musiekstudies begin terwyl hy ‘n orrelis by die konserwatorium in Messina was. Daarna het hy tegelyk musiek, medies en sielkunde studeer aan universiteite in Venesië en Padua. Ná graduering het hy as psigiater gepraktiseer terwyl hy voortgegaan het om komposisie onder Ligeti en Stockhausen in Darmstadt, Duitsland te studeer, asook onder Donatoni in Siena. Hy het weldra op ‘n musiekloopbaan besluit, waarna studies in komposisie en dirigeerkuns onder sy landgenoot Maderna gevolg het. In 1972 is hy na Wenen vir verdere studies onder die beroemde leermeester Hans Swarowsky. Drie jaar later het hy ‘n ensemble in Venesië gestig vir die uitvoering van hedendaagse musiek, en in dieselfde jaar (1975) het hy by die Royan-fees as dirigent gedebuteer. Oor die volgende aantal jare het hy van die wêreld se voorste orkeste in Europa en die VSA gedirigeer, met 'n operadebuut wat in 1978 in Venesië gemaak is met Aida. Sy internasionale deurbraak is in 1980 gemaak met ‘n sensasionele opvoering van Macbeth by die Deutsche Oper in Berlyn. Vanaf 1983 sou hy vir vier jaar hoofdirigent van die orkes van die Santa Cecilia Akademie in Rome wees.

Sinopoli het in 1983 by Covent Garden gedebuteer met Manon Lescaut, met ‘n uitstekende DVD-opname wat daarvan getuig. Nog debute is gemaak by die Metropolitan Opera en die Bayreuth-fees in 1985, met Tosca en Tannhäuser onderskeidelik. Daarna sou hy gereeld by Bayreuth optree, as een van die min suksesvolle Italianers ná Toscanini by die wêreld se voorste Wagner-fees. Vanaf 1984 tot 1994 was hy hoofdirigent van die Philharmonia Orkes in Londen, met wie hy in 1990 sy debuut by die Salzburg-fees gemaak het. Hy het in 1990 musiekdirekteur van die Deutsche Oper in Berlyn geword, en vanaf 1991 was hy ook hoofdirigent van die Dresden Staatsorkes. Sy operadebuut by La Scala het in 1994 plaasgevind, met ‘n opvoering van Elektra. In 1998 het hy eredirigent van beide die Maggio Musicale-fees en die operahuis in Florence geword. Met sy Dresden-orkes en ‘n onoortreflike rolverdeling het hy kort voor sy dood ‘n opname van Ariadne auf Naxos gemaak wat deur kenners as die heel beste van dié werk beskou word. Hy het aan ‘n hartaanval op die podium beswyk onmiddellik na afloop van ‘n opvoering van Aida by die Deutsche Oper.

Met sy besondere aandag aan detail was Sinopoli een van die laat twintigste eeu se voorste dirigente in die operas van Verdi, Puccini, Richard Strauss en Wagner. Daarby was hy ewe begaafd in die simfoniese repertorium van Duitse en Russiese Romantici. Hy het ook talle werke van die Tweede Weense Skool opgeneem, insluitend die volledige orkeswerke van Webern. As egte Renaissance-mens is hy as wêreldbekende dirigent terug universiteit toe om ‘n verdere graad in kulturele argeologie te voltooi. Hy het op ‘n afgeleë Italiaanse eilandjie gewoon, wat hy slegs verlaat het om sy professionele verpligtinge na te kom. Sy opera Lou Salomé (vernoem na die Finse dame aan wie die filosoof Nietzsche kortstondig verloof was) is in 1981 by die Beierse Staatsopera in München opgevoer. Sleutelopnames: Bruckner se vyfde simfonie (Dresden); Liszt se Dante simfonie (Dresden); Moessorgski se Nag op ‘n Kaal Berg en Skilderye op ‘n Tenstoonstelling (deur Ravel georkestreer) (New York); Schubert se agste simfonie (Londen); die operas Elektra (Wenen), Salome (Berlyn), Nabucco (Berlyn), Rigoletto (Rome), Der fliegende Holländer (Berlyn) en Tannhäuser (Londen). Verdere opnames: Brahms se Alt Rapsodie en Ein deutsches Requiem; simfonieë van Beethoven, Mahler (volledig), Mendelssohn, Schumann (volledig) en Tsjaikofski; orkeswerke van Bussotti, Ravel, Schoenberg en Weber; Maderna se orkeswerke Aura, Biogramma en Quadrivium; Richard Strauss se toondigte Also sprach Zarathustra en Don Juan; Zemlinsky se Lyrische Symphonie; en die operas Carmen, Madama Butterfly, Tosca, La forza del destino en Macbeth.

Sint Louis Simfonie-orkes, tweede oudste simfonie-orkes in die VSA, wat in 1881 gestig is. Onder hul hoofdirigente het getel Wladimir Golschmann (1931-58), Edouard van Remoortel (1958-62), Eleazar Carvalho (1963-8), Walter Süsskind (1968-75), Jerzy Semkow (1976-9), Leonard Slatkin (1979-95) en Hans Vonk (1996-2002).

Sint Petersburg Filharmoniese Orkes, Russiese simfonie-orkes wat in 1921 vanuit die pre-rewolusionêre hoforkes gestig is. Tydens die Sowjet-era het hul as die Leningrad Filharmoniese Orkes bekendgestaan. Onder hul vroeë hoofdirigente het getel Emil Cooper (1921/2), Nikolai Malko (1926-9), Alexander Gauk (1930-3) en Fritz Stiedry (1934-7). Tydens die lang bewind van Jewgeni Mrawinski (1938-82) het hul die voorste simfonie-orkes in die destydse Sowjet-Unie geword. Veral in die musiek van Tsjaikofski en Sjostakowitsj is hulle as onoortreflik beskou. Die orkes het die eerste uitvoerings van Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 1, 2, 3, 5, 6, 9, 10 en 14 gegee. Die bekende Lettiese dirigente Arvid Yansons en Mariss Jansons was ook aan hulle verbonde. Sedert 1988 is Joeri Temirkanof die hoofdirigent, en in 1991 is hul naam na die huidige een verander.

Sitkowetski, Dimitri (1954-), Russies-gebore violis en dirigent. Hy het aan die Moskou Konserwatorium studeer en in 1977 onder ‘n voorwendsel na die VSA uitgewyk. Daar het hy aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer, en in 1979 het hy die Kreisler-kompetisie in Wenen gewen. In 1980 het hy as solis met die Berlynse Filharmoniese Orkes gedebuteer, en drie jaar later is sy Amerikaanse debuut gemaak. Nog debute is gemaak by die Salzburg-fees (1985) en die Londense Proms (1986). Sedert 1987 is hy in Londen woonagtig. Hy het in 1990 die Nuwe Europese Strykers Kamerorkes bestaande uit strykerspelers vanoor Europa gestig en hul vervolgens gelei. Daarby was hy artistieke direkteur van die Korsholm Musiekfees in Finland (1983-93 en weer in 2002), die Seattle Musiekfees (1992-97) en die Baku Musiekfees in sy geboorteland Azerbaidjan (1999). Hy het Bach se Goldberg Variasies vir strykertrio verwerk, asook talle strykerwerke van ander komponiste. As solis het hy ‘n repertorium van meer as 40 konserte, en daarby is hy ‘n vennoot van sy moeder, die pianis Bella Dawidowitsj, in sonate-uitvoerings. Hy was vanaf 1996 tot 2001 hoofdirigent van die Ulster Orkes in Belfast, met wie hy uitstekende opnames van ‘n aantal orkeswerke gemaak het. Voorts was hy hoofgasdirigent van die Russiese Staatsorkes (2002-2005) en residensiële kunstenaar aan die Orquesta Sinfonica de Castilla y Leon in Spanje (2006-2009). In 2007 was hy residensiële kunstenaar aan die Bodensee-fees in Duitsland. Hy is sedert 2003 musiekdirekteur van die Greensboro Simfonie-orkes in die VSA. Opnames (as solis): Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas, en sy volledige vioolsonates (met Robert Hill); vioolkonserte van Beethoven, Brahms, Haydn (nrs. 1 en 4), Mendelssohn, Sjostakowitsj (nrs. 1 en 2) en Tsjaikofski; vioolsonates van Janácek en Richard Strauss; (as dirigent:) Bernstein se tweede simfonie; Mendelssohn se derde en vierde simfonieë en Hebrides ouverture.

Sjaljapin, Fiodor (1873-1938), Russiese bas. As seun van ‘n kleinboer het hy op sewentien sonder noemenswaardige afrigting begin opera sing, met ‘n debuut wat in Ufa gemaak is. Vanaf 1894 was hy vir twee jaar aan die Imperiale Opera in Sint Petersburg verbonde, waarna hy in Moskou begin optree het. Daar was hy vanaf 1899 tot 1914 ‘n lid van die Bolsjoi Opera, waar hy veral in die titelrol van Boris Godoenof roem verwerf het. Vanaf die eeuwending het hy naam gemaak as een van die beste Russiese sangers wat nog in die Weste verskyn het. Verdere debute is gemaak by La Scala (1901) en die Metropolitan Opera (1907), in beide gevalle in die titelrol van Boito se Mefistofele. Rachmaninof het in 1906 sy opera Die suinige ridder vir sy landgenoot in die titelrol gekomponeer. Vanaf 1908 het hy vir vier seisoene in Parys in die beroemde impresario Djagilef se opvoerings gesing, onder meer in die Westerse première van Boris Godoenof. In 1910 het hy die titelrol in Massenet se opera Don Quichotte tydens die première in Monte Carlo geskep, en later het hy in ‘n rolprentweergawe daarvan gesing. Verder het hy in 1913 in Londen as Boris gedebuteer en vir ‘n seisoen onder Thomas Beecham gesing. Ná die kommunistiese rewolusie van 1917 het hy Rusland vir goed verlaat en vanaf 1921 vir agt jaar by die Met opgetree. Hy het in 1926 ook by Covent Garden gesing, en jare later het hy in Parys gesterf. Met sy massiewe liggaamsbou en donker toonkleur was hy die beste Boris van die vroeë twintigste eeu, en daarby het hy dikwels liedere-voordragte gegee. As briljante sanger-akteur het hy verder uitgeblink in rolle soos Méphistophélès in Faust, Leporello in Don Giovanni, Don Basilio in Il barbiere di Siviglia, Tsaar Iwan in Die Meisie van Pskof en Koning Filips in Don Carlos.

Sjerbakof, Konstantin (1963-), Russiese pianis (Engels Scherbakov). Op elf het is sy debuut in sy Siberiese tuisdorp Barnaul gemaak, met Beethoven se eerste klavierkonsert. Weldra is hy na Moskou vir studies aan die Tsjaikofski Konserwatorium onder Lew Naumof, wie se assistent hy later geword het. Hy was daarop ‘n pryswenner in internasionale kompetisies in Montreal, Bolzano, Rome en Zürich. In 1983 het hy die eerste Rachmaninof-kompetisie in Moskou gewen, waarna hy met die voorste orkeste in die destydse Sowjet-Unie opgetree het. Tydens die kamermusiekfees in Asolo in 1990 het hy Rachmaninof se volledige werke vir klaviersolo uitgevoer, wat die goedkeuring weggedra het van die legendariese pianis Swiatoslaf Richter wat teenwoordig was. Met ‘n repertorium van ongeveer 50 konserte toer hy wêreldwyd, en hy is tans besig met ‘n projek om die volledige klavierwerke van Godowsky op te neem. Hy woon sedert 1992 in Switserland. Sleutelopnames: Metner se 3 klavierkonserte (onder Ziva en Golovschin). Verdere opnames: Liszt se Konsertparafrases van Beethoven se simfonieë nrs. 2 en 5; Rachmaninof se klavierkonserte nrs. 2 en 3; Respighi se klavierkonsert, Fantasia slava, Toccata en Concerto in modo misolidio (almal vir klavier en orkes), asook Ancient Airs and Dances en ander solowerke; Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas, 24 Preludes (opus 34) en klaviersonate nr. 1.

Sjerkasski, Sjura (1909-95), Oekraïns-gebore pianis. Met sy ouers het hy in 1922 na die VSA geëmigreer, waar hy in dieselfde jaar in Baltimore gedebuteer het. Daar het hy onder Josef Hofmann studeer en later ‘n Amerikaanse burger geword. Vanaf die 1930’s was hy vir ses dekades lank as een van die voorste klaviervirtuose ter wêreld bekend, met Europese toere wat vanaf 1945 plaasgevind het. In 1960 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind. As die laaste oorlewende Russiese pianis wat ‘n direkte skakel met die laat-Romantiek was, was hy meesterlik in die musiek van sy landgenote en in Chopin, Liszt, Schubert en Schumann. Sy vertolkings is gekenmerk deur spontaneïteit en vrysinnigheid, dog heeltemal oortuigend. Hy was ‘n geheelonthouer en ‘n perfeksionis, wat elke dag vir presies vier ure geoefen en ‘n streng dieet gevolg het. Opnames: Liszt se eerste klavierkonsert en Hongaarse Fantasie; Rachmaninof se derde klavierkonsert; en talle solowerke van Albéniz, Bach/Busoni, Balakiref, Berg, Brahms, Britten, Chopin, Debussy, Franck, Liadof, Liszt, Mendelsssohn, Moszkofski, Mozart, Paderefski, Rachmaninof, Ravel, Rebikof, Saint-Saëns, Schumann, Sibelius, Sinding, Skriabin, Strawinski en Tsjaikofski.

Sjinese Filharmoniese Orkes, ensemble wat in 2000 gestig en in die hoofstad Beijing gebaseer is. Die artistieke direkteur is Yu Long, en bekende Westerse en Sjinese musici tree dikwels met die orkes op. ‘n Uitgebreide Westerse toer is vir hul vyfde verjaardagviering in 2005 onderneem.

Sjostakowitsj, Maxim (1938-), Russiese pianis en dirigent, seun van die komponis Dimitri Sjostakowitsj. Hy was in 1957 die solis tydens die eerste uitvoering van sy vader se tweede klavierkonsert. Mettertyd het hy begin dirigeer, en was hy ‘n assistent-dirigent van die Moskou Simfonie-orkes (1963-5) en van die USSR Staatsimfonie-orkes (1966-71), en hoofdirigent van laasgenoemde (1971-81). Hy het wyd deur Europa, Japan en Noord-Amerika getoer, en in 1968 is sy Londense debuut gemaak. As dirigent het hy die eerste uitvoerings van verskeie werke van sy vader gegee, waaronder die toondig Oktober (1967), die vyftiende simfonie (1972) en die Suite op Verse van Michelangelo (1975). In 1979 is sy operadebuut in Londen gemaak met sy vader se opera Die Neus, en twee jaar het hy later na die VSA uitgewyk. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Hongkong Filharmoniese Orkes (1983-5), en musiekdirekteur van die Hartford Simfonie-orkes (1985/6) en die New Orleans Simfonie-orkes (1986-91). In 1984 is sy Amerikaanse operadebuut in New York gemaak met sy vader se Dame Macbeth van Mtsensk. Hy het die Praag Filharmoniese Orkes en Simfonie-orkes in ‘n hoogstaande opname van Sjostakowitsj senior se dertiende simfonie gedirigeer.

Skotse Kamerorkes, in 1974 gestig met Roderick Brydon as artistieke direkteur. Hulle is in Edinburgh gebaseer en toer soms oorsee. Vanaf 1978 was Raymond Leppard die hoofgasdirigent, en tot 1979 het die ensemble vir die Skotse Opera gespeel. Onder hul verdere hoofdirigente het getel Jukka-Pekka Saraste (1987-84) en Ivor Bolton (sedert 1994).

Skovhus, Bo (1962-), Deense bariton. Hy het aan die Aarhus Musiekkollege, die Koninklike Akademie vir Opera in Kopenhagen en in New York studeer. ‘n Sensasionele debuut is in 1988 by die Weense Volksopra in die titelrol van Don Giovanni gemaak. Sedertdien het hy ‘n gunsteling in Wenen geword, beide by die Volksopera en die Staatsopera. Hy is ewe begaafd in opera, konserte en liedere oor ‘n wye repertorium. Sy liedere-begeleier is die vermaarde pianis Helmut Deutsch. Naas Don Giovanni blink hy uit in rolle soos Don Pedro in Fidelio, Danilo in Die lustige Witwe, Guglielmo in Cosi fan tutte, die Graaf in Le nozze di Figaro, Henrik in Maskarade, Eisenstein in Die Fledermaus, Olivier in Capriccio, Kurwenal in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Wozzeck, Billy Budd en Hamlet. Sy opname van Schubert se liedere-siklus Die schöne Müllerin is in 1998 met die Duitse Echo Klassik-prys bekroon. Verdere opnames: Brahms se Triumphlied (onder Albrecht); liedere van Clara Schumann; Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Flor), en van sy liedere; die genoemde operette van Lehár (in Duits en Engels); die genoemde operas van Beethoven, Berg, Britten, Nielsen en Wagner, asook Don Giovanni.

Skrowaczewski, Stanislaf (1923-), Pools-gebore dirigent en komponis. ‘n Aanvanklike loopbaan as pianis is deur ‘n besering gekortwiek, waarna hy dirigeerkuns en komposisie onder die vermaarde leermeester Nadia Boulanger in Parys studeer het. Na die Tweede Wêreldoorlog was hy dirigent van orkeste in Wroclaw (1946/7), Katowice (1949-54) en Kraków (1955/6), en van die Warskou Nasionale Filharmoniese Orkes (1957-9). In 1958 het sy Amerikaanse debuut plaasgevind toe hy deur Georg Szell genooi is om die Cleveland Orkes te dirigeer. Vervolgens het hy wyd as gasdirigent opgetree. Hy was dirigent en later musiekdirekteur van die Minneapolis Simfonie-orkes (1960-79). In 1963 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1968 gemaak, en later was hy hoofdirigent van die Hallé Orkes (1984-92). Met die Saarbrücken Radio Simfonie-orkes het hy die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms en Bruckner, en ‘n aantal van Sjostakowitsj; en Prokofiëf se ballet Romeo en Juliet.

Slatkin, Leonard (1944-), Amerikaanse pianis en dirigent. Nadat hy in 1966 sy dirigeerdebuut met die Jeugsimfonie-Orkes van New York gemaak het, was hy aan die Sint Louis Simfonie-orkes verbonde. By dié ensemble was hy 'n assistent vir Walter Süsskind (vanaf 1968), mededirigent (vanaf 1971), mede-hoofdirigent (vanaf 1974), hoofgasdirigent (vanaf 1975) en musiekdirekteur (1979-95). Intussen was hy in 1977/8 ook musiekdirekteur van die New Orleans Filharmoniese Orkes, en sedert 1996 is hy musiekdirekteur van die Nasionale Simfonie-orkes in Washington, D.C. As gasdirigent tree hy wyd deur die VSA en Europa op, met ‘n Londense debuut wat in 1974 gemaak is. Hy het sy operadebuut in 1991 met die Metropolitan Opera gemaak. Met die koor en orkes van die Universiteit van Michigan se musiekskool het hy die eerste opname van Bolcom se epiese Songs of Innocence and of Experience gemaak. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Rachmaninof en Vaughan Williams, en ‘n hele aantal van Bernstein, Copland, Corigliano, Dvorák, Hanson, Haydn (nrs. 94, 96 en 104), Piston en Prokofiëf; 2 versamelings orkesverwerkings van Bach deur bekende komponiste en dirigente onderskeidelik; Bernstein se Chichester Psalms en Missa brevis; oratoriums van Elgar en Walton; Orff se Carmina Burana; Piston se ballet The Incredible flutist; Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky; Puccini se opera La Fanciulla del West; Tsjaikofski se ballette Die Neutkraker en Doringrosie; Turnage se Fractured Lines; en orkeswerke van Barber, Bizet, Britten, Copland, Gershwin, Grainger, Grieg, Liadof en Rimski-Korsakof.

Slezak, Leo (1873-1946), Boheems-gebore Oostenrykse tenoor. Aanvanklik was hy ‘n koorsanger by die Brno Opera, totdat hy in 1896 sy operadebuut in dié stad gemaak het in die titelrol van Lohengrin. Dit sou sy bekendste rol word, en daarna het hy gesing by die Berlynse Koninklike Opera (1898/9). In 1901 is hy deur die komponis Mahler vir die Weense Hofopera gewerf, waarvan hy tot 1927 ‘n lid sou wees. Met sy kragtige stem en groot liggaamsbou het hy roem verwerf as 'n uitmuntende heldentenor in Duitse opera. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1900), La Scala (1905) en die Metropolitan Opera (1909), by laasgenoemde in die titelrol van Otello. By die Met het hy in 1910 die rol van Herman in die Amerikaanse première van Pique Dame onder die dirigeerstaf van Mahler geskep. Hy was ook ‘n begaafde sanger van Duitse liedere, en was ‘n gewilde sosiale figuur vanweë sy joviale geaardheid en humorsin. Ná sy uittrede as sanger het hy verskeie boeke geskryf en in Oostenrykse rolprente as komediant opgetree. Sy dogter Gretl het ‘n gewilde operettesangeres in Duitsland geword, terwyl sy seun Walter (1902-83) naam gemaak het as akteur, veral in booswig-rolle. Hy het onder andere opgetree in die rolprente Lifeboat (1944) en Bedtime for Bonzo (1951, teenoor Ronald Reagan), en in die Broadway-drama Fanny (1954).

Slowaakse Filharmoniese Orkes, simfonie-orkes wat in 1949 in Bratislawa gestig is as die eerste professionele staatsimfonie-orkes in Slowakye. Die vermaarde Václav Talich was tot 1952 hul hoofdirigent. Daarna het die orkes onder die dirigeerstaf van onder andere Claudio Abbado, Antal Doráti, Eugene Goossens, Stephen Gunzenhauser, Zdenek Kosler, Riccardo Muti, Libor Pesek en Malcolm Sargent tot een van die voorstes in Europa ontwikkel. Hul toer wyd deur Europa, die Verre Ooste, die Midde-Ooste en die VSA. Die orkes het veral vir die Naxos-etiket in talle voortreflike opnames gespeel.

Slowaakse Radio Simfonie-orkes, die oudste simfonie-orkes in Slowakye. Hulle is in 1929 in Bratislawa as die Tsjeggo-Slowaakse RSO gestig met Frantisek Dyk as hul eerste dirigent. Vanuit die staanspoor het die ensemble die werke van hedendaagse Slowaakse komponiste bevorder. Danksy die komponis Alexander Moyzes, indertyds m usiekdirekteur van die Slowaakse Radio, het hul in 1942 met gereelde simfonie-konserte begin wat uitgesaai is. Vanaf 1943 tot 1946 was Kresimir Baranovic hul hoofdirigent. Sedertdien het die orkes onder 'n aantal bekende Tsjeggiese en Slowaakse dirigente gespeel en talle opnames gemaak. Suksesvolle toere is ook deur Europa en Japan onderneem. Tydens die bewind van Ondrej Lenárd as hoofdirigent (1977-90) is die orkes tot ‘n ensemble van internasionale statuur opgebou. Sy werk is voortgesit deur Robert Stankovsky tot sy skielike afsterwe. Sedert 2001 is Charles Olivieri-Munroe die hoofdirigent.

Smetana Kwartet, Tsjeggiese strykkwartet wat in 1945 gestig en in 1989 ontbind is. Hul eerste altviolis was Václav Neumann, wat later ‘n bekende dirigent sou word. Vanaf 1950 het hulle wyd getoer, met debute in Londen en by die Salzburg-fees (beide in 1955) en in New York (1957). Met die Janácek Kwartet het hulle in 1959 en 1968 uitstekende opnames van Mendelssohn se Oktet gemaak. Verdere opnames: strykkwartette van Dvorák, Janácek, Mozart (nrs. 15, 16 en 18) en Smetana.

Smith, Cyril (1909-74), Engelse pianis. Hy het in 1929 in Birmingham met Brahms se tweede klavierkonsert gedebuteer en in dieselfde jaar by die Londense Proms begin optree. Vanaf 1934 tot sy dood 40 jaar later was hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekkollege. As begaafde vertolker van Rachmaninof het hy in 1947 in voortreflike opnames van sy tweede klavierkonsert en Paganini Rapsodie onder Malcolm Sargent gespeel. Daarby het hy met sy vrou Phyllis Sellick in ‘n bekende klavierduet opgetree. Hulle het in 1948 die eerste uitvoering van Vaughan Williams se klavierkonsert in ‘n weergawe vir twee klaviere gegee. Tydens hul besoek aan die Sowjet-Unie in 1956 het Smith die gebruik van sy een hand vanweë ‘n beroerte verloor, maar hulle het voortgegaan om in duette vir drie hande te speel. Werke is deur komponiste soos Arnold en Bliss vir hulle geskryf, en in 1971 is die OBE aan hulle toegeken. Die egpaar het in ‘n uitstekende opname van Arnold se Konsert vir twee klaviere onder die komponis self gespeel.

Smith, Ronald (1922-2004), Engelse pianis. As tiener het hy reeds in konserte onder die beroemde dirigent Henry Wood gespeel, en op 20 het hy by die Londense Proms gedebuteer. Hy het in 1950 sam met Edwin Fischer en Denis Matthews in ‘n opname van Bach se Konsert vir Drie Klawerborde (BWV 1064) gespeel. Sy bekendheid lê veral in die musiek van die Franse komponis Alkan, wie se solowerke vir klavier hy opgeneem en oor wie hy ‘n boek geskryf het. Daarby was hy voorsitter van die Alkan Vereniging. Hy het in 2002 ter viering van sy tagtigste verjaardag ‘n voordrag in Londen gegee. Met sy formidabele tegniek en hoogstaande musikale intellek was hy ‘n ewe begaafde vertolker van Bach, Beethoven, Schubert en Rachmaninof. Sleutelopnames: Alkan se 4 Etudes in the Minor Keys, 3 Etudes de bravoure, 3 Grandes Etudes, Grande Sonate en Sonatine. Verdere opnames: solowerke van Beethoven en Liszt; Chopin se Mazurkas 1-51; en Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling.

Söderström, Elisabeth (1927-2009), Sweedse sopraan. Sy het in ‘n musikale gesin grootgeword en vanaf ‘n jong leeftyd met haar ouers musiekuitvoerings bygewoon. Na studies aan die Koninklike Musiekakdemie in Stockholm is haar operadebuut in 1947 in Drottningholm gemaak, as Bastienne in Bastien und Bastienne. Drie jaar later het sy by die Koninklike Sweedse Opera aangesluit, waar sy vir die volgende drie dekades in ‘n wye repertorium sou optree. Verdere debute sou volg by die Salzburg-fees (1955, as Ighina in Palestrina) en Covent Garden (1960). Aan die begin van haar loopbaan het sy veral in die operas van Mozart en Richard Strauss naam gemaak. Vanaf 1957 tot 1979 het sy gereeld by die Glyndebourne-fees gesing en vanaf 1959 tot 1987 by die Metropolitan Opera. By Glyndebourne is sy as die opvolger van Sena Jurinac beskou. Sy was die enigste sangeres om in een jaar al drie vroulike hoofrolle in Der Rosenkavalier te sing: Sophie by die Met, Octavian by Glyndebourne en die Marshallin in Stockholm (in 1959). Later in haar loopbaan het sy roem verwerf in ‘n aantal hoofrolle van Janácek, waarin sy onoortreflik was. Sy het in 1988 die rol van Juliana tydens die première van Argento se opera The Aspern Papers in Dallas geskep.

Onder die verdere rolle waarin Söderström uitgeblink het, tel Leonore in Fidelio, Ellen in Peter Grimes, Mélisande in Pelléas et Mélisande, Emilia in Die Makropoulos-saak, Nero in L'incoronazione di Poppea, die Grafin in beide Capriccio en Le nozze di Figaro, Fiordiligi in Cosi fan tutte, die Grafin in Pique Dame, Tatjana in Jewgeni Onegin, en die titelrolle in Jenufa, Káta Kabanová en Die vrolike weduwee. Vanaf 1992 was sy vir drie jaar artistieke direkteur van die Drottningholm Koninklike Teater, en daarby het sy wêreldwyd meesterklasse aangebied. Haar afskeidsoptrede by die Met is in 1999 in Pique Dame gemaak. Sy was vlot in minstens vyf tale, en was naas opera ewe begaafd in konsertwerke en liedere oor ‘n wye repertorium. Met die vermaarde pianis Wladimir Asjkenazy as begeleier het sy die volledige liedere van Rachmaninof opgeneem. Onder haar talle eerbewyse tel ‘n ere CBE, Kommandeur van die Ordre des Arts et des Lettres, en Koninklike Hofsanger in Swede. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Monteux); Britten se War Requiem; orkesliedere van Britten en Sjostakowitsj; liedere van Grieg, Liszt, Schubert en Tsjaikofski; Mahler se Das klagende Lied; Sibelius se Luonnotar; en die genoemde operas van Debussy, Janácek, Monteverdi en Richard Strauss.

Soffel, Doris (1948-), Duitse mezzosopraan. Aanvanklik het sy viool bestudeer, wat sy as negejarige begin speel het. Sy het op 12 en 15 pryse daarin gewen, waarna studies in München gevolg het. In 1969 het sy na sang oorgeslaan, met studies onder Marianne Schech wat met lof voltooi is. Nadat sy in Das Liebesverbot by die Bayreuth-Jeugfees gesing het, het die groot Wagner-tenoor Wolfgang Windgassen haar vir die Württemberg Staatsopera in Stuttgart gewerf. By die Bayreuth-fees het sy in 1983 onder Georg Solti geskitter as Fricka in Das Rheingold en Die Walküre. In die jaar daarop het sy uitgeblink as Orlofsky in ‘n DVD-opname van Die Fledermaus onder Placido Domingo. Nadat sy vir ‘n aantal jare aan die operahuis in Stuttgart verbonde was, het haar internasionale loopbaan in die middel 1980’s op dreef gekom. Sy het veral bekend geraak in die kolaratuurrolle van Rossini, Bellini en Donizetti, soos Isabella in L’Italiana in Algeri. Daarby was sy begaafd as Nancy in Martha, Charlotte in Werther, Dorabella in Cosi fan tutte, Octavian in Der Rosenkavalier en die titelrol in Carmen. Haar oorgang na die dramatiese repertorium het in 1994 by die Deutsche Oper in Berlyn plaasgevind, as Judith in Bloubaard se Kasteel. Sedertdien sing sy rolle soos die Grafin in Lulu, die titelrol in Penthesilea, Clytemnestra in Elektra, Amneris in Aida, Eboli in Don Carlos, Ortrud in Lohengrin, Kundry in Parsifal, Venus in Tannhäuser, en Fricka en Waltraute in die Ring-siklus. Met haar intense sang en oortuigende akteurspel is sy wêreldbekend in opera, konsertwerke en liedere, met optredes wat dwarsoor Europa, die Amerika’s en die Verre Ooste plaasvind. Sy het in meer as 50 opnames gesing, en in konsertwerke word sy veral met die musiek van Mahler verbind. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Masur); Haydn se Misse nommers 10 en 12; Mahler se tweede simfonie (onder beide Inbal en Tennstedt); liedere van Reutter; Schumann se Requiem (onder Klee); en die operas Martha, L’Italiana in Algeri (DVD) en Eine florentinische Tragödie.

Solesmes, Franse dorpie naby Le Mans met ‘n Benediktynse klooster waarvan die monnike beroem geraak het vir hul herlewing van liturgiese musiek. Onder leiding van Dom Joseph Gajard het hulle in 1930 ‘n historiese opname van Gregoriaanse kantus gemaak. Dit het gelei tot ‘n grootskaalse herlewing van belangstelling, wat steeds voortduur, in dié sangstyl van die vroeë Westerse Kerk.

Solomon (professionele naam gebruik deur Solomon Cutner, 1902-88), Engelse pianis. Hy het as agtjarige sy openbare debuut in Londen met Tsjaikofski se eerste klavierkonsert gemaak. In die jaar daarop (1911) het hy ‘n Britse toer onderneem onder die groot dirigente Artur Nikisch en Felix Weingartner. Hy het in 1916 tydelik uitgetree vir verdere studies wat vyf jaar sou duur, onder andere in Wenen en Parys. Vanaf 1923 het hy sy konserttoere hervat en met sy helder, verfynde vertolkings wêreldbekend geraak, met ‘n Amerikaanse debuut wat drie jaar later plaasgevind het. Sy strewe was om getrou aan die letter en die gees van die partituur te wees, wat hom veral in Beethoven onoortreflik sou maak. In 1939 het hy die première van sy landgenoot Bliss se klavierkonsert tydens die New York Wêreldskou gegee. Hy het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in konserte voor Geallieerde soldate in Egipte, Palestina, Malta en Europa opgetree. In 1946 het hy die CBE ontvang, maar in 1956 het ‘n beroerte-aanval hom ongeskik vir verdere spel gemaak. Sy meesterlike opnames van Beethoven se klaviersonates nrs. 1, 3, 7, 8, 13, 14, 17, 18, 21, 22, 23, 26, 27, 28, 29, 30, 31 en 32 (as deel van ‘n beplande volledige siklus wat deur sy siekte kortgeknip is) getuig van sy diepsinnige, liriese benadering. Sleutelopnames: Mozart se klavierkonserte nrs. 15, 23 en 24 (onder Ackermann en Menges, 1955). Verdere opnames: Beethoven se 5 klavierkonserte (onder Menges en Cluytens, 1950’s); Brahms se twee klavierkonserte (onder Kubelik 1952 en Dobrowen 1947); die enkele klavierkonserte van Bliss en Grieg; en solowerke van Bach, Brahms, Chopin en Liszt.

Solomon, Yonti (1937-2008), Suid-Afrikaans-gebore Britse pianis. Hy is in Kaapstad in ‘n gesin van Litaus-Joodse immigrante gebore en het as jong kind begin om jazz op die klavier te speel. Nadat hy ‘n musiekbeurs gewen het, het hy musiek en sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad studeer. In 1959 het hy in Londen gaan woon om onder die legendariese Myra Hess te studeer. Sy Wigmore-debuut is in 1963 gemaak, en kort daarna het hy begin om die groot tjellis Mstislaf Rostropowitsj in voordragte te begelei. Met verloop van tyd sou hy die eerste uitvoerings van klavierwerke deur Bennett en ander moderne komponiste gee. In 1976 het hy vergunning van die kluisenaar-komponis Sorabji ontvang om sy werke in Brittanje uit te voer. Met die violis Rodney Friend en die tjellis Timothy Hugh het hy later die Solomon Trio gevorm. Hoewel hul bestaan kortstondig was (1990-4), het hul konserte in Londen, Edinburgh en elders gegee, en ‘n hele aantal hoogaangeskrewe opnames gemaak. Daarby was hy vanaf 1977 tot sy dood ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekkollege. Bekende akteurs soos Shirley MacLaine en Hugh Grant is deur hom vir filmrolle afgerig. Op die persoonlike vlak was hy ‘n ywerige kunsversamelaar en voortreflike kok. Hy was in ‘n homoseksuele verhouding en is aan ‘n breingewas oorlede. Opnames (as solis): Sorabji se Le jardin parfumé; en in klaviertrios van Beethoven, Debussy, Fauré, Mendelssohn en Ravel.

Solti, Georg (1912-97), Hongaars-gebore dirigent en pianis. Hy het as vyfjarige met klavierlesse begin en so goed gevorder dat hy op twaalf al klavierlesse vir die kinders van welaf Hongare gegee het om sakgeld te verdien. Op agtien het hy aan die Liszt Akademie gegradueer, waar hy celesta, klokkespel, klawesimbel en klavier studeer het. Kort daarna het hy aan die Boedapest Konserwatorium vir verdere studies in klavier ingeskryf, maar toe hy hoor hoe Erich Kleiber die vyfde simfonie van Beethoven dirigeer, het hy besluit om self ‘n dirigent te word. In die Hongaarse hoofstad het hy ‘n leerling van Bartók, Dohnányi, Kodály en Weiner geword, met ‘n klem op die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium wat vir die res van sy lang loopbaan ‘n besondere aantrekking op hom sou uitoefen. Ná twee jaar by die Konserwatorium het hy ‘n sangafrigter by die Boedapest Opera geword, waar hy in 1938 sy dirigeerdebuut met Le nozze di Figaro gemaak het. Hy was intussen in 1936/7 Toscanini se assistent by die Salzburg-fees, waar hy die klokkespel in ‘n opvoering (en opname) van Die Zauberflöte gespeel het. In 1939 het hy as Jood tydens een van die Hongaarse diktator Admiraal Horthy se anti-Joodse veldtogte sy werk by die operahuis verloor, waarop hy na Switserland is om vir ‘n Amerikaanse visum met Toscanini se hulp aansoek te doen. Die Tweede Wêreldoorlog het egter uitgebreek terwyl hy in Switserland was, sodat hy die oorlogsjare as pianis in dié neutrale land deurgebring het. Hy het in 1942 die Geneefse klavierkompetisie gewen.

Ná die oorlog het Solti in Duitsland gaan woon, waar hy musiekdirekteur geword het van die Beierse Staatsopera in München (1946-52) en van die Frankfurt Opera (1952-61). Hy het 1951 as dirigent by die Salzburg-fees gedebuteer met ‘n opvoering van Idomeneo. Verdere operadebute is gemaak in San Francisco (1953), by die Glyndebourne-fees (1954) en by die Metropolitan Opera in New York (1960). Vervolgens was hy vanaf 1961 musiekdirekteur van Covent Garden, waar hy reeds in 1959 met Der Rosenkavalier gedebuteer het. Tydens sy dekade daar is dié operahuis tot een van die voorstes ter wêreld ontwikkel, met sangers soos Gwyneth Jones, Yvonne Minton, Kiri te Kanawa en Donald MacIntyre wat deur hom aangemoedig en afgerig is. Hy het in 1965 die Britse première van Schoenberg se opera Moses and Aaron by Covent Garden gedirigeer. Uit erkenning vir sy werk daar is hy in 1971 tot ere-ridder geslaan en die volgende jaar met sy naturalisasie as Britse burger ‘n volwaardige ridder. Nog voordat hy in 1971 van Covent Garden afskeid geneem het, het hy in 1969 musiekdirekteur van die Chicago Simfonie-orkes geword, ‘n pos wat hy tot 1991 sou beklee. Hy het die orkes vroeg reeds op hul eerste internasionale toer geneem, en saam sou hul meer as 100 opnames maak. Tydens sy meer as twee dekades by dié groot Amerikaanse orkes het hulle weer die internasionale statuur bekom wat onder Fritz Reiner geniet is. Hulle het in 1983 die eerste uitvoering gegee van Lutoslafski se derde simfonie, wat vir die orkes geskryf is. Intussen was hy ook musiekdirekteur van die Orchestre de Paris (1971-5) en van die Londense Filharmoniese Orkes (1979-83). In 1992/3 was hy artistieke direkteur van die Salzburg Paasmusiekfees. Hy het in 1995 die Beierse Radio Simfoniekoor- en Orkes in ‘n puik uitvoering van Haydn se oratorium Die Schöpfung gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan getuig.

Solti het wêreldroem verwerf vir sy dinamiese vertolkings van Bartók, Mahler, Richard Strauss, Verdi en Wagner. Sy enorme repertorium het vanaf Handel en Haydn tot diep in die twintigste eeu gestrek. Hy het in 1947 ‘n kontrak met die Decca platemaatskappy geteken, vir wie hy oor die volgende 50 jaar meer as 300 langspeelplate en kompakskywe en meer as 100 operas sou opneem. Een van sy grootste prestasies was die eerste volledige ateljee-opnames van Wagner se Ring-siklus, wat vanaf 1958 tot 1965 met die Weense Filharmoniese Orkes en talle van die voorste Wagner-sangers van sy tyd onderneem is. Dit het vele toekennings verower en word steeds deur sommige kenners as ongeëwenaard ten opsigte van klankgehalte, atmosfeer en opwinding beskou. Vanaf die vroeë 1960’s het hy geweier om die Ring anders as in konsertweergawes te dirigeer, omdat slegs die Bayreuth Teater reg aan Wagner se bedoelings kan laat geskied. Met die eeufeesherdenking van Wagner se afsterwe in 1983 het hy eindelik sy kans gekry om die Ring by die Bayreuth-fees te dirigeer. Aan die einde van sy dienstyd in Chicago het Decca ‘n toekenning aan hom oorhandig vir die vyf miljoen kopieë wat van hul opnames verkoop is. Hy het besonder baie tyd aan die bestudering van bladmusiek spandeer, selfs tydens sy gereelde vakansies in Italië. Later in sy lewe het hy tot die interessante slotsom gekom dat Klassieke en Romantiese werke veel moeiliker is om te vertolk as moderne werke, al klink laasgenoemde soms meer ingewikkeld.

Sleutelopnames: Bartók se Konsert vir Orkes en Musiek vir Strykers, Perkussie en Celesta (Chicago); Mahler se simfonieë nrs. 1 (Londen 1964), 7 en 8 (beide Chicago); Schubert se simfonieë nrs. 5, 8 en 9 (Wenen); die operas Die Frau ohne Schatten (Wenen), Jewgeni Onegin (Covent Garden, DVD), La traviata (Covent Garden, DVD), Die Meistersinger von Nürnberg (Chicago), Der Ring des Nibelungen (Wenen). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, Elgar, Mahler en Schumann, en ‘n aantal van Haydn (nrs. 93-104), Sjostakowitsj en Tippett; Holst se The Planets; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; R. Strauss se Eine Alpensinfonie, Also sprach Zarathustra, Don Juan, Ein Heldenleben en Till Eulenspiegel; Beethoven se Missa Solemnis; Berlioz se La damnation de Faust; Brahms se Ein deutsches Requiem; Handel se Messiah; Verdi se Requiem (Wenen 1967 en Chicago 1977); die operas Bloubaard se Kasteel, Carmen, Orfeo ed Euridice, Hänsel und Gretel, Così fan tutte, Le nozze di Figaro, La Bohème, Tosca, Moses und Aron, Arabella, Ariadne auf Naxos, Elektra, Der Rosenkavalier, Salome, Aida, Un ballo in maschera, Falstaff, Der fliegende Holländer, Lohengrin, Parsifal, Tannhäuser en Tristan und Isolde; en versamelings opera-kore van Verdi en Wagner onderskeidelik.

Songmakers' Almanac, Britse vokale ensemble wat in 1976 gestig is met die pianis Graham Johnson as artistieke direkteur. Die lede daarvan is die sopraan Felicity Lott, die mezzosopraan Ann Murray, die tenoor Anthony Rolfe Johnson en die bariton Richard Jackson. Hulle het by die feeste in Aldeburgh, Buxton, Edinburgh en elders opgetree, en die lede het indiwidueel, in duette of gesamentlik in talle hoogstaande liedere-opnames opgetree.

Sotin, Hans (1939-), Duitse bas. Na studies aan die Dortmund Konserwatorium het hy in 1962 sy operadebuut in Essen gemaak, as die Kommissaris in Der Rosenkavalier. Twee jaar later het hy by die Hamburg Staatsopera aangesluit, waar hy verskeie nuwe rolle in werke van Einem, Penderecki en andere geskep het. Daar is die titel van Kammersänger aan hom toegeken. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1970), die Bayreuth-fees en in Chicago (beide in 1971), die Metropolitan Opera (1972), Covent Garden (1974) en La Scala (1976). Intussen het hy in 1973 ‘n lid van die Weense Staatsopera geword. Onder sy beste rolle het getel Sarastro in Die Zauberflöte, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Tiresias in Oedipus Rex, die Inkwisiteur in Don Carlos, Gurnemanz in Parsifal, Landgraaf Hermann in Tannhäuser en Hunding in Die Walküre. Hy het Gurnemanz gesing by die Bayreuth-fees van 1981, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Daarby was hy begaafd in konsertwerke van Bach, Haydn, Beethoven en Mahler. Verdere opnames: ‘n aantal kantates van Bach (onder Gönnenwein); Beethoven se Christus am ölberge (onder Wangenheim); Mahler se agste simfonie (onder beide Haitink en Sinopoli); en die operas Oedipus Rex, Lohengrin en Tannhäuser.

Souliotis, Elena (1943-), Griekse sopraan. Sy het in 1964 haar debuut in Napels gemaak, as Santuzza in Cavalleria Rusticana. In 'n kortstondige dog sensasionele loopbaan het debute gevolg by La Scala en Chicago (beide in 1966), Londen (1968), en Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1969). Haar afskeidsoptrede is in 1973 by Covent Garden gemaak, as Santuzza. Met haar enorme stemkrag en vurige verhoogpersoonlikheid het sy aan Maria Callas herinner, maar haar stem was meer betroubaar in die hoër note as dié van haar meer beroemde landgenoot. Sy was ‘n meesterlike sanger in dramatiese rolle in Italiaanse opera. Naas Santuzza het dit ingesluit Amelia in Un ballo in maschera, Dame Macbeth in Macbeth, Abigail in Nabucco, en die titelrolle in La Gioconda, Luisa Miller en Anna Bolena. Onder Lamberto Gardelli het sy in uitstekende opnames van Macbeth en Nabucco gesing, terwyl sy ook ‘n versameling Italiaanse opera-arias opgeneem het.

Soustrot, Marc (1949-), Franse dirigent. Hy het in 1974 die Rupert-Stigting se dirigeerkompetisie in Londen gewen en in die jaar daarop die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon. In dié tyd (1974-6) was hy ‘n assistent-dirigent vir André Previn by die Londense Simfonie-orkes. Terug in Frankryk was hy ‘n dirigent en later musiekdirekteur van die Loire Filharmoniese Orkes (1976-86) en artistieke direkteur van die Nantes Opera (1986-90). As kampvegter vir moderne musiek het hy die premières van Ohana se eerste klavierkonsert (1981) en Louvier se Konsert vir orkes (1987) gedirigeer. In 1984 het hy met Nicolai Gedda en Mady Mesplé as soliste ‘n uitstekende opname van sy landgenoot Auber se komiese opera Fra Diavolo gedirigeer. Later het hy met die Brno Filharmoniese Koor en die Beethovensaal-Orkes van Bonn die eerste opname van Krenek se opera Karl V, die eerste opera in die geskiedenis wat volgens die 12-toon stelsel gekomponeer is, gemaak. Sleutelopnames (almal Bonn): Debussy se Le Martyre de Saint Sébastien (simfoniese fragmente) en Prélude à l’après-midi d’un faune; Ravel se Ma Mère l’Oye suite en La Valse. Verdere opnames: Beethoven se opera Leonore (1806); en ‘n versameling orkeswerke van Gaubert.

Souzay, Gérard (1918-2004), Franse bariton. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en vanaf 1940 tot 1945 aan die Parys Konserwatorium onder die groot sanger Pierre Bernac studeer. Sy voordragdebuut is in 1945 in Parys gemaak, waarna hy spoedig wêreldbekend geraak het. Drie jaar later het hy in New York gedebuteer, en sy operadebuut is in 1950 by die Aix-en-Provence Fees gemaak as Graaf Robinson in Il matrimonio segreto. Later is debute gemaak by die musiekfeeste in Salzburg (1959) en Glyndebourne (1965), en by die Metropolitan Opera (1965). Sy bekendheid het veral in Franse en Duitse liedere gelê, waarin hy meesal deur Jacqueline Bonneau en Dalton Baldwin op die klavier begelei is. Hy het in honderde opnames daarvan gesing, en daarby het hy onderrig gegee aan universiteite in Indiana (vanaf 1985) en Texas (vanaf 1986). Opnames: Bach se Kantates nrs. 56 en 82; Berlioz se L’enfance du Christ (onder Munch); liedere van C.P.E. Bach, Canteloube, Chausson, Duparc, Fauré, Ravel, Schumann, Richard Strauss en Wolf; orkesliedere van Debussy en Ravel; Massenet se opera Manon; en Schubert se groot liedere-siklusse Die Schöne Müllerin, Schwanengesang en Winterreise.

Spányi, Miklós (1962-), Hongaarse klawerbordspeler. Hy het orrel en klawesimbel aan die Franz Liszt Musiekakademie in sy geboortestad Boedapest studeer. Verdere studies het gevolg aan die Koninklike Konserwatorium in Amsterdam (onder Jos van Immerseel) en die München Konserwatorium (onder Hedwig Bilgram). Hy tree wyd deur Europa as solis op ‘n verskeidenheid klawerbordinstrumente op, en speel die continuo in Barokensembles. Eerste pryse is deur hom gewen in internasionale klawesimbelkompetisies in Nantes (1984) and Paris (1987). Hy is ‘n gesaghebbende in die klawerbordmusiek van C.P.E. Bach en het talle van sy werke vir ‘n Hongaarse uitgewer geredigeer. Tans is hy besig met ‘n projek om die volledige klawerbordkonserte (52 in getal) van die groot Barok-komponis op drie verskillende instrumente met die Concerto Armonico op te neem. Hy gee ook onderrig aan die Oulu Konserwatorium en die Sibelius Akademie in Finland. Verdere opnames: C.P.E. Bach se 6 klawerbordsonates (Wq.54/1-6), en talle ander solowerke.

Spering, Andreas (1966-), Duitse klawesimbelspeler en dirigent. Hy het onder Gerd Zacher in Essen studeer, en was klawesimbelspeler van die ensemble Musica Antiqua Köln (1990-1994). Sedert 1996 is hy artistieke direkteur van die Brühler Kasteelkonserte. Drie jaar later is sy dirigeerdebuut by die Handel-fees in Karlsruhe gemaak, met Scarlatti se Il trionfo dell’onore. Die sukses daarvan het daartoe gelei dat hy as musiekdirekteur van die fees aangewys is. Daarby is hy permanente gasdirigent van die Potsdam Opera, en tree hy op met orkeste in Berlyn, Hannover, Keulen, Frankfurt en elders in Duitsland. Opnames (as dirigent): Handel se operas Imeneo en Siroe, Re di Persia; Haydn se oratorium Die Schöpfung; en Myslivecek se La Passione di Nostro Signore Gesu Cristo.

Spiwakof, Wladimir (1944-), Russiese violis en dirigent. As dertienjarige het hy ‘n groot dirigeerkompetisie in Moskou gewen. Hy het vervolgens viool aan die konserwatorium in die Russiese hoofstad studeer en kompetisies in Moskou, Parys, Genoa en Montreal gewen. In 1979 is sy debuut met die Chicago Simfonie-orkes gemaak en in dieselfde jaar het hy die kamerorkes Moskou Virtuosi gestig, met wie hy ‘n hele aantal opnames sou maak. Hy het in 1989 na Spanje geëmigreer en twee jaar later is die titel Volkskunstenaar van die USSR aan hom toegeken. Met die Moskou Virtuosi en Yehudi Menuhin het hy in 1990 ‘n konsert in Strasbourg gegee, waarvan ‘n DVD-opname gemaak is. In 1994 het hy ‘n internasionale stigting op die been gebring om Russiese weeskinders te ondersteun. Die Franse Legion d’Honneur is in 2000 aan hom toegeken vir sy bydrae tot die Colmar internasionale musiekfees, waarvan hy sedert 1989 die artistieke direkteur is. Hy is tans hoofdirigent van die Russiese Nasionale Filharmoniese Orkes. Verdere opnames: Tavener se Eternal Memory (met Steven Isserlis).

Spiwakofski, Tossy (1907-98), Russies-gebore violis. Hy het in Berlyn studeer en as tienjarige daar gedebuteer. Later het hy deur Europa getoer (1920-33), en in dié tyd het hy op 19 orkesleier van die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Wilhelm Furtwängler geword. Vanaf 1933 tot 1940 was hy in Australië woonagtig, waar hy onderrig aan die Melbourne Konserwatorium gegee het. Daarna het hy in die VSA gaan woon, waar hy ‘n Amerikaanse burger geword het. Aan die begin van sy Amerikaanse verblyf het hy vir ‘n aantal jare in ‘n trio met sy pianis-broer Jascha en die tjellis Edmund Kurtz getoer. Hy het verder onderrig gegee aan die Fairfield Universiteit in Connecticut (1940-74) en die Juilliard Musiekskool (vanaf 1974). Nuwe stryktegnieke is deur hom ontwikkel vir die solowerke van Bach, en hy het eerste uitvoerings van werke deur moderne komponiste soos Bernstein, Menotti en Nielsen gegee.

Spoorenberg, Erna (1926-), Indonesies-gebore Nederlandse sopraan. Sy het in Hilversum en Amsterdam studeer, en in 1947 haar debuut met die Hilversum Radio gemaak. In 1958 het sy ‘n lid van die Nederlandse Opera in Amsterdam geword. Die grootste deel van haar loopbaan het in Nederland afgespeel, maar sy het debute gemaak by die Weense Staatsopera (1949) en in New York (1967). Sy was ewe bekend in opera en konserte; haar beste rolle was die vroulike hoofrol in Pelléas et Mélisande en in Mozart-operas. Opnames: Haydn se Misse nrs. 12 en 14; Mahler se agste simfonie (onder beide Bernstein en Kubelik); en Mozart se Exsultate, jubilate (onder Marriner).

Staat-simfonie Capella van Rusland, in 1991 gestig deur die samesmelting van die USSR Staatskamerkoor en die USSR Staatsimfonie-orkes. Hul eerste optrede was op 27 Desember van dieselfde jaar in die Groot Saal van die Moskou Konserwatorium, met ‘n uitvoering van Dvorák se kantate Die Trouhemde onder Gennadi Rozhdestwenski. In die jaar daarop het Walery Poljanski hul hoofdirigent en artistieke direkteur geword, ‘n pos wat hy steeds beklee. Die gesamentlike ensemble het oor die jare ‘n groot aantal gewyde werke vanaf die agtiende tot twintigste eeue uitgevoer. ‘n Hele aantal toere is al na Europa en die VSA onderneem.

Stabile, Mario (1888-1968), Italiaanse bariton. Hy het sy operadebuut in 1911 in Palermo gemaak, as Marcello in La Bohème. Tien jaar later het hy by La Scala die titelrol in Falstaff onder Toscanini gesing, waarna hy dit byna 1200 keer tot 1960 sou sing. Verder het hy opgetree by Covent Garden (1926-31), die feeste in Salzburg (1931-9) en Glyndebourne (1936-9), en in Londen (1946-8). Sy vertolkings van Falstaff word as ongeëwenaard beskou, en daarby het hy uitgeblink in die titelrolle van Le nozze di Figaro en Don Giovanni, en as Scarpia in Tosca en Iago in Otello.

Stad Birmingham Simfonie-orkes, Britse orkes wat in 1920 gestig is. Onder die hoofdirigentskap van Simon Rattle (1980-98) het die orkes wêreldroem deur hul toere en bekroonde opnames verwerf.

Stader, Maria (1911-), Hongaars-gebore Switserse sopraan. Sy het in 1939 die internasionale sangkompetisie in Genève gewen en agt jaar later by die Salzburg-fees gedebuteer. Haar bekendheid het veral in die operas van Mozart en Richard Strauss gelê. Onder haar beste rolle het getel Euridice in Orfeo ed Euridice en Pamina in Die Zauberflöte. Met haar behendige sang en presiese uitspraak was sy ook uitmuntend in konsertwerke oor ‘n wye repertorium. Daarby het sy aan die Zürich Musiekakademie onderrig gegee, en in 1969 het sy uitgetree. Opnames: Bach se Kantates nrs. 51 en 202 (onder Richter), en Magnificat; Beethoven se negende simfonie (onder Klemperer); Bruckner se Misse nrs. 2 en 3 (onder Jochum); die dodemisse van Dvorák en Verdi (lg. onder Fricsay); Mahler se tweede simfonie (onder Barbirolli); Mozart se Exsultate jubilate en Mis nr. 18; die genoemde operas van Gluck en Mozart, asook Der Rosenkavalier.

Staier, Andreas (1955-), Duitse pianis en klawesimbelspeler. Hy het klavier en klawesimbel in Hannover en Amsterdam bestudeer. Vanaf 1983 tot 1986 was hy klawesimbelspeler van die ensemble Musica Antiqua Köln, met wie hy internasionaal getoer het. Sedert 1986 volg hy ‘n loopbaan as vryskutsolis, waarin hy roem verwerf het op beide fortepiano en klawesimbel. Hy speel in kamermusiek met bekende musici en verskyn as solis met van die voorste ensembles wat in vroeë musiek spesialiseer. Daarby het hy vanaf 1987 tot 1996 aan die Schola Cantorum Basiliensis in Switserland onderrig in klawesimbel gegee. Hy tree dikwels as gas by internasionale musiekfeeste op, soos die Bach-feeste in Leipzig, Berlyn en Ansbach. In 2002 het hy ‘n eretoekenning van die Preis der Deutschen Schalplattenkritik ontvang uit erkenning vir die talle hoogstaande opnames wat hy reeds gemaak het. Sleutelopnames: C.P.E. Bach se Klawesimbelkonsert in C mineur (onder Hengelbrock), 3 trios vir fortepiano, fluit en altviool, 3 triosonates, en ‘n versameling solowerke; Clementi se klaviersonates, opus 13/6, 33/2 en 34/2, en ander solowerke; Haydn se klaviersonates nrs. 33, 34, 48-52, 53, 58-62. Verdere opnames: J.C. Bach se Kwintette opus 11/2-3 (met Les Adieux); Brahms se klavierkwintet (met die Leipzig Kwartet); Field se klavierkonserte nrs. 2 en 3; Haydn se Partita vir 2 klawesimbels (met Christine Schornsheim); en fortepiano-konserte van Salieri en Stefan.

Standage, Simon (1941-), Engelse violis en dirigent. Nadat hy aanvanklik viool in die Londense Simfonie-orkes en die Engelse Kamerorkes gespeel het, was hy vanaf 1973 orkesleier van beide die English Concert en die City of London Sinfonia. Agt jaar later het hy die Salomon Kwartet gestig en in 1990 ook die Collegium Musicum 90. Laasgenoemde is op die been gebring vir die uitvoering van Barokmusiek op eietydse instrumente, en hy lei hul meesal vanaf die viool. Daarbenewens is hy sedert 1983 ‘n leermeester in Barokviool aan die Koninklike Musiekakademie. As begaafde vertolker van Barokmusiek is hy sedert 1991 ook mededirekteur van die Academy of Ancient Music. Sleutelopnames: ‘n versameling Telemann-konserte vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente (met die Collegium Musicum 90). Verdere opnames: vioolkonserte van Aubert, Leclair (volledig) en Mozart (volledig); Arne se 7 Triosonates; J.C. Bach se Sinfonia concertante en 3 Sinfonias; J.S. Bach se volledige vioolkonserte, Dubbelkonsert (met Micaela Comberti) en Driedubbele Konsert (met Comberti en Miles Golding); Boyce se 12 Triosonates; Handel se 12 Concerti grossi, opus 6, en kantate Apollo e Dafne; Telemann se Altvioolkonsert in G, Ancient and Modern Overture, Suite burlesque, Ouvertures in B mineur en G, Konsert in D vir 2 viole en fagot, en ‘n versameling Driedubbele konserte; Torelli se Opus 8 vioolkonserte nrs. 8, 9 en 11 en Dubbelkonserte nrs. 2, 4, 5 en 6 (lg. met Weiss); Vivaldi se 12 vioolkonserte L’estro armonico, Die Vier Seisoene, en 3 versamelings strykerkonserte.

Stankovsky, Robert (1964-2001), Slowaakse dirigent. Hy het klavier en dirigeerkuns aan die Konserwatorium in Bratislawa studeer, en eerste in sy klas gegradueer. Vervolgens is hy na Parys vir meesterklasse onder Gerard Devos. Met sy terugkeer na Slowakye het hy ‘n aantal orkeste in Bratislawa, Kosice en Pardubice gedirigeer. In 1990 het hy Ondrej Lenárd as hoofdirigent van die Slowaakse Radio Simfonie-orkes opgevolg. Hy sou die pos beklee tot sy skielike dood op 36-jarige leeftyd. As konsertbegeleier het hy bekende pianiste soos Idil Biret, Hae-won Chang en Benjamin Frith in hul opnames gedirigeer. Hy was ook ‘n dosent aan sy alma mater in die Slowaakse hoofstad. Verdere opnames: Alkan se Concertos da camera nrs. 1-3; Miaskofski se twaalfde simfonie; en Smetana se Kort Orkesstukke.

Starker, János (1924-), Hongaars-gebore tjellis. Hy het in Boedapest studeer en sy debuut as elfjarige gemaak. In 1945/6 was hy eerste tjellis in beide die operahuis en filharmoniese orkes van die Hongaarse hoofstad. Hy het in 1948 na die VSA geëmigreer, waar hy eerste tjellis sou wees in die Dallas Simfonie-orkes (1948/9), die Metropolitan Opera (1949-53) en die Chicago Simfonie-orkes (1953-8). Intussen het hy in 1954 ‘n Amerikaanse burger geword.  Hy was wêreldbekend as solis, en het ook die tjellomusiek van Bach, Beethoven en Dvorák geredigeer. Daarbenewens was hy vanaf 1958 ‘n hoogleraar in tjello aan die Indiana Universiteit. Opnames: tjellokonserte van Boccherini, Dvorák, Lalo, Milhaud, Prokofiëf, Saint-Saëns en Schumann; Bach se volledige onbegeleide tjellosuites en 2 viola da gamba sonates (lg. met György Sebök); Bloch se Voice in the Wilderness (onder Mehta); die volledige tjellosonates van Brahms; Bruch se Kol Nidrei; Diamond se Kaddish; Dohnányi se Konzertstück; Fauré se Elegie; Kodály se onbegeleide tjellosonate en Duo vir viool en tjello (lg. met Josef Gingold); en Tsjaikofski se Rococo Variasies (onder Doráti).

Steber, Eleanor (1916-90), Amerikaanse sopraan. Nadat sy aanvanklik 'n kerksolis in New York was, het sy in 1936 haar operadebuut in Boston gemaak as Senta in Der fliegende Holländer. Vier jaar later het sy gedebuteer by die Metropolitan Opera, waaraan sy tot 1963 verbonde sou wees. Nog debute is gemaak in San Francisco (1945), en by die feeste in Edinburgh (1947) en Bayreuth (1953). Sy het in 1948 in Boston in die eerste uitvoering van Barber se Knoxville: Summer of 1915 onder Koussewitzki gesing, en later in ‘n klassieke opname daarvan onder Strickland. By die Met het sy bekendheid verwerf in die operas van Mozart, Puccini en Richard Strauss, en as Marie in Wozzeck. Daar het sy in 1955 die titelrol gesing in die Amerikaanse première van Arabella, en drie jaar later het sy die titelrol tydens die première van Barber se opera Vanessa geskep (met ‘n klassieke opname wat onder Mitropoulos gemaak is). Nadat sy uit opera en konserte getree het, het sy voortgegaan om Duitse liedere-voordragte te gee. Daarby was sy hoof van die sangdepartement aan die Cleveland Musiekinstituut (1963-72), en het sy vanaf 1971 aan beide die Nieu-Engeland Konserwatorium en die Juilliard Musiekskool onderrig gegee. Vanaf 1978 was sy vir twee jaar ‘n leermeester in Graz, Oostenryk. Met haar helder stem en presiese sang het sy uitgeblink in opnames van die operas Fidelio (as Marzelline), La Traviata (1949, as Violetta) en Les Troyens (as Cassandra).

Steele-Perkins, Crispian (1944-), Engelse trompetspeler. Hy was ‘n lid van ‘n aantal Britse orkeste, waaronder die Engelse Kamerorkes, The King’s Consort en die Engelse Baroksoliste. As begaafde solis, veral in Barokmusiek, het hy in 1988 deur die VSA getoer en twee jaar later ook deur Japan. Daarbenewens is hy sedert 1980 ‘n hoogleraar in trompet aan die Guildhall Musiekskool. Opnames: trompetkonserte van Albinoni, J. en M. Haydn, Langford, L. Mozart, Telemann, Torelli en Vivaldi; trompetsonates van Biber en Stradella; en (as leier van die London Gabrieli Brass Ensemble) werke van Bach, Charpentier, Gabrieli, Purcell, Scheidt en ander Barok-komponiste.

Stein, Horst (1928-2008), Duitse dirigent. Hy het aan die Keulen Konserwatorium onder Gunther Wand studeer, en sy eerste pos was as repetiteur by die Wuppertal Teater. In 1951 is hy na die Hamburg Opera, waar hy ‘n assistent vir Joseph Keilberth sou wees. Sy mentor het hom vanaf 1952 tot 1954 na die Bayreuth-fees geneem, waar hy ook met Herbert von Karajan en Clemens Krauss gewerk het. Hy het 1955 hoofdirigent van die heringewyde Berlynse Staatsopera geword, ‘n pos wat hy tot 1961 sou beklee. In dié tyd het hy ook aan die Oos-Berlynse Konserwatorium onderrig gegee. Met die oprigting van die Berlynse Muur is hy terug na Wes-Duitsland, waar hy poste as musiekdirekteur sou beklee in Hamburg en Mannheim. Sy debuut by die Weense Staatsopera is in 1963 met Carmen gemaak. In 1969 het hy by die Bayreuth-fees gedebuteer met Parsifal, en vanaf 1970 tot 1975 het hy gereeld die Ring-siklus daar gedirigeer. Hy sou tot 1986 altesaam 138 opvoerings by Bayreuth dirigeer, insluitend filmweergawes van Die Meistersinger von Nürnberg en Parsifal. Intussen was hy musiekdirekteur van die Hamburg Staatsopera (1972-7), ‘n gereelde gas by die Deutsche Oper in Berlyn, en vanaf 1977 ‘n gasdirigent van die NHK Simfonie-orkes in Tokio. Daarby was hy hoofdirigent van die Orchestre de la Suisse Romande in Genève (1980-5), met wie hy opwindende opnames van Sibelius se toondigte En Saga, Finlandia, Four Legends, Night Ride and Sunrise, Pohjola’s Daughter en Tapiola gemaak het. Sy debute by die Salzburg-fees het plaasgevind in 1973 (konsert) en 1985 (opera: Capriccio). Van laasgenoemde is ‘n voortreflike opname gemaak. Vanaf 1985 was hy vir 12 jaar hoofdirigent van die Bamberg Simfonie-orkes, met wie hy meer as 500 konserte wêreldwyd sou gee. Verdere opnames: Brahms se volledige simfonieë; Bruckner se sesde simfonie; Cherubini se opera Medea; Reger se Sinfonietta; Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; Wagner se operas Der fliegende Holländer en Tristan und Isolde (4 weergawes); en ‘n versameling Weber-ouvertures.

Steinberg, Pinchas (1945-), Amerikaanse dirigent. Aanvanklik was hy assistent-dirigent van die Chicago Liriese Opera, waar hy in 1967 met Don Giovanni gedebuteer het. Hy het vanaf 1972 simfonie-orkeste in Europa gedirigeer, asook opera in Berlyn, Frankfurt, Londen, Parys en San Francisco. Vanaf 1985 was hy vir vier jaar algemene musiekdirekteur in Bremen. Hy het in 1990 by die Salzburg-fees gedebuteer en in dieselfde jaar hoofdirigent van die Oostenrykse Radio Simfonie-orkes in Wenen geword. Met hulle het hy ‘n uitstekende opname van Wagner se opera Der fliegende Holländer gemaak, nadat hy kort tevore in München ‘n soortgelyke prestasie met Massenet se opera Chérubin behaal het.

Steinberg, William (1899-1978), Duits-gebore dirigent. Hy het in 1920 sy loopbaan as assistent vir Otto Klemperer by die Keulen Opera begin. Daarna het hy dirigeerposte beklee by operahuise in Keulen (1924), Praag (1925-9) en Frankfurt (1929-33). By laasgenoemde het hy in 1930 die première van Schoenberg se Von Heute auf Morgen gedirigeer. Vanaf 1933 was hy vir drie jaar musiekdirekteur van die Joodse Kultuurunie in Berlyn, waarna hy na Palestina geëmigreer het. Hy het hom in 1938 in die VSA gevestig, waar hy Toscanini se assistent by die NBC Simfonie-orkes was (1938-41). In 1944 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy ‘n dirigent van die Buffalo Filharmoniese Orkes (1945-52), en hoofdirigent van die Pittsburgh Simfonie-orkes (1952-76), die Londense Filharmoniese Orkes (1958-62) en die Boston Simfonie-orkes (1969-72). Intussen het hy in 1962 by die Salzburg-fees gedebuteer, en vanaf 1964 was hy vir vier jaar hoofgasdirigent van die New York Filharmoniese Orkes. Sy vertolkings was gekenmerk deur presisie en objektiwiteit. Met sy beroemde Boston-orkes het hy hoogaangeskrewe opnames gemaak van Hindemith se Mathis der Maler simfonie, Holst se The Planets en Richard Strauss se Also sprach Zarathustra.

Steinitz, Paul (1909-88), Engelse orrelis en koordirigent. Hy was vanaf 1945 ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie en het in die jaar daarop ‘n koor genaamd die Londense Bach-Vereniging gestig, wat hy vervolgens gedirigeer het. Daarby was hy orrelis van die Sint Bartholomeüskerk in Smithfield (1949-61) en het hy aan die Universiteit van Londen onderrig gegee (1948-76). Met sy Londense koor en die Engelse Kamerorkes het hy in 1965 opnames van Bach se Kantates nrs. 10 en 47 gemaak, in vertolkings wat hoewel met moderne instrumente uitgevoer is die eietydse beweging in Barokmusiek vooruitgeloop het. Hy was verder bekend vir sy uitvoerings van Bach se Sint Mattheüspassie in Duits, en het ook ‘n boek oor die Barokreus se Passies geskryf. In 1985 is die OBE aan hom toegeken.

Stemme, Nina (1963-), Sweedse sopraan. Aanvanklik het sy altviool studeer en in amateurkore in haar geboortestad Stockholm gesing. Terwyl sy ekonomie aan die Universiteit van Stockholm studeer het, het sy ‘n kursus aan die plaaslike operaskool gevolg. Na haar 1989-debuut as Cherubino in Le nozze di Figaro in Italië het sy op ‘n professionele operaloopbaan besluit, met studies aan die Sweedse hoofstad se Nasionale Opera-kollege. Sy was in 1993 ‘n finalis in die Cardiff-sangkompetisie en ‘n pryswenner in Placido Domingo se Operalia-kompetisie. Die groot tenor het haar daarop genooi om met hom in Parys en München te sing, en in die jaar daarop is sy deur James Levine gewerf om die rol van Freia in Das Rheingold by die Bayreuth-fees te sing. Sedertdien sing sy hoofrolle by die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa, en by die Metropolitan Opera in New York. Onder haar beste rolle tel die Marschallin in Der Rosenkavalier, Senta in Der fliegende Holländer en Isolde in Tristan und Isolde. Sy het laasgenoemde rol met groot sukses gesing by die Glyndebourne-fees in 2002, by Covent Garden onder Antonio Pappano, en weer by Glyndebourne in 2007. Van laasgenoemde opvoering is ‘n DVD-opname gemaak. Die Duitse tydskrif Opernwelt het haar in 2005 as Sanger van die Jaar aangewys, en in die jaar daarop het sy ‘n hofsanger vir die Sweedse Koning Carl Gustaf XVI geword. Verdere opnames: Der fliegende Holländer (in Engels).

Stenz, Markus (1965-), Duitse dirigent. Hy het in 1989 musiekdirekteur van die Montepulciano-fees geword. In die jaar daarop het hy die première van Henze se opera Das verratene Meer in Berlyn gedirigeer. Hy het in die vroeë 1990’s met die Parnassus Orkes ‘n voortreflike opname van Henze se The English Cat gemaak. Vanaf 1994 was hy hoofdirigent van die Londonse Sinfonietta en sedert 1995 tree hy as gasdirigent by die Engelse Nasionale Opera op. In 1998 het hy hoofdirigent van die Melbourne Simfonie-orkes geword, met wie hy ‘n uitstekende opname van Mahler se vyfde simfonie gemaak het. Verdere opnames: Gorécki se Kleines Requiem.

Stern, Isaac (1920-2001), Oekraïns-gebore Amerikaanse violis. Hy het as baba met sy ouers na die VSA geëmigreer, waar hy in 1936 sy openbare debuut met die San Francisco Simfonie-orkes in Saint-Saëns se derde vioolkonsert gemaak het. Daarna het hy wêreldwyd as solis getoer, en vanaf 1960 tot 1984 het hy ook in ‘n beroemde trio met die pianis Eugene Istomin en die tjellis Leonard Rose gespeel. As aktivis het hy in die 1960’s ‘n leidende rol gespeel om die bekende Carnegie Hall in New York teen sloping deur eiendomsontwikkelaars te beskerm. Weens sy onvermoeide steun vir die staat Israel was hy ‘n held vir talle Amerikaanse Jode. Só het hy in 1967 kort na die Sesdaagse Oorlog die vioolkonsert van Mendelssohn onder die dirigeerstaf van sy mede-Jood Leonard Bernstein in Jerusalem gespeel. Vier jaar later het hy in die klankbaan van die rolprent Fiddler on the Roof gespeel en in 1979 ook in ‘n dokumentêre film oor Sjina. Onder die verdere rolprente waarin hy opgetree het, tel Humoresque en Tonight we sing. Sy politieke vooroordeel blyk uit die feit dat hy tydens die Koue Oorlog bereid was om in die destydse Sowjet-Unie en kommunistiese Sjina op te tree, maar nooit Duitsland wou besoek nie. Onder die vele jong Israeli’s wat deur hom na die VSA genooi is, het Itzhak Perlman en Pinchas Zukerman tot beroemde virtuose ontwikkel.

Aan die negatiewe kant het Stern sy politieke invloed gebruik om die loopbane van ‘n aantal violiste wat hy as bedreigings ervaar het in te kort. Vele werke is vir hom geskryf, en hy was vir die grootste deel van die twintigste eeu een van die voorste vioolvirtuose ter wêreld. Vanaf die 1960’s, toe hy in sy veertigs was, het sy tegniek hom toenemend in die steek gelaat, maar hy het vir talle musiekliefhebbers daarvoor vergoed met die krag en opregtheid van sy spel. Daarna het hy toenemend moderne werke deur Vaughan Williams, Penderecki en andere gespeel. Sleutelopname: Brahms se 3 klavierkwartette (met Ax, Laredo en Ma). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Barber, Bartók, Beethoven, Berg, Brahms, Bruch, Dutilleux, Dvorák, Haydn, Hindemith, Maxwell Davies, Mendelssohn, Mozart, Penderecki, Prokofiëf, Rochberg, Saint-Saëns, Sibelius, Strawinski, Tsjaikofski, Vivaldi en Wieniafski; Bach se Dubbelkonsert (met Perlman); Beethoven se Driedubbele Konsert (met Rose en Istomin); Brahms se Dubbelkonsert (twee weergawes, met Ma en Rose onderskeidelik); Mozart se Sinfonia concertante (met Zukerman); Vivaldi se Dubbelkonserte (met Oistrach) en Vier Seisoene; vioolsonates van J.S.  en C.P.E. Bach, Bartók (volledig), Beethoven (volledig), Bloch, Brahms (volledig), Copland, Debussy, Enescu, Franck, Handel, Hindemith, Prokofiëf (volledig), Schubert (volledig) en Tartini; en ander werke vir viool en orkes van Bartók, Berg, Bernstein, Chausson, Debussy, Fauré, Lalo, Ravel, Sarasate, Stamitz, Tsjaikofski en Waxman.

Stevens, Denis (1922-2004), Engelse violis, dirigent en musiekgeleerde. As tale-student aan die Universiteit van Oxford het hy Nadia Boulanger se opnames van Monteverdi gehoor, wat ‘n lewenslange liefde vir vroeë musiek in hom verwek het. Sy studies is onderbreek toe hy vir 4 jaar tydens die Tweede Wêreldoorlog in Indië en Burma diens gedoen het. Hy het in dié tyd in die Kalkutta Simfonie-orkes gespeel. Met sy terugkeer na Brittanje het hy viool en altviool in die pasgestigde Philharmonia Orkes gespeel (1946-9). In 1949 het hy as regisseur by die BBC aangesluit, waar hy oor die volgende 5 jaar talle werke van Renaissance- en Barok-komponiste uitgesaai het. Hy het in 1952 begin om werke van Britse en Italiaanse komponiste te redigeer, veral van Monteverdi. In dieselfde jaar was hy ‘n medestigter van die Ambrosian Singers, waarvan hy later (1956-60) die dirigent sou wees. Met hulle het hy in 1966 ‘n pioniersopname van kerkmusiek deur Andrea en Giovanni Gabrieli gemaak. Hy was vanaf 1956 tot 1961 ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie. Voorts is die koor en orkes Accademia Monteverdiana in 1961 deur hom gestig, met wie hy by bekende musiekfeeste opgetree en talle opnames gemaak het.

In 1961 het Stevens sy eie kritiese uitgawe van Monteverdi se Vespro della beata vergine in die Westminster Abdy voor ‘n groot gehoor uitgevoer. Dit is opgevolg deur uitvoerings van dié meesterwerk in die Sint Markus-katedraal in Venesië en ander stede. Mettertyd sou hy nog werke van die vroeë Barokreus redigeer, soos die opera Orfeo (1967), die Magnificat (1969) en die Selva morale e spirituale (1998). Vanaf 1955 was hy vir etlike dekades ‘n hoogleraar in musiek aan Amerikaanse universiteite soos Cornell, Berkeley, Pennsylvania, Columbia (1964-74), Washington, Michigan en San Diego. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1967 gemaak, en in dieselfde jaar het hy die eerste Monteverdi-werk by die BBC Proms gedirigeer. Gedurende die 1960’s was hy ook ‘n medewerker van die tydskrif Gramophone. Hy het in 1993 na Brittanje teruggekeer, waar hy vanaf 1995 ’n hoogleraar aan Goldsmiths Kollege van die Londense Universiteit was. In die jaar voor sy dood het hy al sy Monteverdi-uitgawes aan die kollege geskenk. Sy vertaling van Monteverdi-briewe is in 1980 gepubliseer, en vier jaar later is die CBE aan hom toegeken. Daarby het hy boeke geskryf oor Monteverdi, Tudor-kerkmusiek en -orrelmusiek, Tallis, Tomkins en Middeleeuse sang.

 

Stevens, Risë (1913-), Amerikaanse mezzosopraan. Sy het in 1931 haar debuut in New York in Die Verruilde Bruid gemaak, en later gesing in Praag (1936-8), Wenen en Buenos Aires. In 1938 het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waaraan sy tot 1961 verbonde sou wees. Haar debuut by die Glyndebourne-fees het in 1939 gevolg, en sestien jaar later sou sy daar in 'n ongeëwenaarde opname van Le nozze di Figaro onder Vittorio Gui sing. Met haar suiwer stem en aantreklike voorkoms was sy begaafd in rolle soos Delila in Samson et Dalila, Cherubino in Le nozze di Figaro, Octavian in Der Rosenkavalier, Orlofski in Die Fledermaus en die titelrol in Carmen. By die Met het sy in ‘n historiese opname van Der Rosenkavalier teenoor Lotte Lehmann onder Bodanzky gesing. Sy het ook in verskeie rolprente opgetree, onder andere in Going my Way (1944) met Bing Crosby. Ná haar uittrede uit opera in 1965 was sy hoofbestuurder van die Metropolitan Toergeselskap (1965-7) en president van die Mannes Musiekkollege in New York (1975-8). Vanaf 1975 het sy ook aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee.

Stewart, Thomas (1928-2006), Amerikaanse bariton. Aanvanklik het hy ingenieurswese studeer, maar hy het op ‘n musiekloopbaan besluit en is na New York om aan die Juilliard Musiekskool te studeer. Terwyl hy nog ‘n student was, het hy in 1954 sy operadebuut in New York gemaak as La Roche tydens die Amerikaanse première van Capriccio. In dieselfde jaar het hy by die New York Stadsopera as Commendatore in Don Giovanni gesing, en in 1955 is hy met die sopraan Evelyn Lear getroud. Hulle is in 1956 met Fulbright-beurse na Duitsland vir verdere studies. Sy Berlynse debuut is in 1957 gemaak as Don Fernando in Fidelio. Daarna was hy verbonde aan die Berlynse Staatsopera (1957-64), Covent Garden (1960-78) en die Metropolitan Opera (1966-80). Vanaf 1960 tot 1972 het hy gereeld by die Bayreuth-fees verskyn, met ‘n debuut onder Rudolf Kempe. Met sy ferm, donker stem was hy uitmuntend in Wagner-rolle soos Gunther in Götterdämmerung, die titelrol in Der fliegende Holländer, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Amfortas in Parsifal, Wolfram in Tannhäuser en Wotan in die Ring-siklus. Hy is deur Herbert von Karajan gekies om Wotan te sing toe sy Salzburg Paasmusiekfees in 1967 met Die Walküre afgeskop is. In sy laaste vier seisoene by Bayreuth (1969-72) het hy die eerste Amerikaanse sanger geword om al 3 Wotans en Gunther in dieselfde Ring-siklus te sing, soos Wagner se bedoeling was. Onder sy verdere rolle het getel Escamillo in Carmen, die 4 skurkrolle in Les Contes d’Hoffmann, Aeneas in Dido and Aeneas, Jokanaan in Salome, Ford in Falstaff en die titelrol in Don Giovanni. In 1981 het hy die titelrol tydens die première van Reimann se opera Lear in San Francisco geskep. Na hul uittrede het hy en Lear meesterklasse gegee. Hy is aan ‘n hartaanval oorlede terwyl hy golf gespeel het. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Kubelik); die operas Der fliegende Holländer, Die Meistersinger von Nürnberg, Parsifal en die Ring (lg. onder Karajan).

 

Stich-Randall, Teresa (1927-2007), Amerikaanse sopraan. Sy het aan die Hartt-musiekskool in Hartford studeer, waarna sy met ‘n Fulbright-beurs na Europa is. Haar operadebuut is in 1947 in New York gemaak, as Henrietta in Virgil Thomson se Mother of us all. In 1949 het sy die eer te beurt geval om deur Toscanini gekies te word om in opvoerings van Aida en Falstaff te sing. Haar Europese debuut is in in Florence in Weber se Oberon gemaak, waarna sy by die Basel Opera gesing het. Nadat sy in 1952 die Lausanne-sangkompetisie gewen het, het debute in dieselfde jaar gevolg by die Salzburg-fees en die Weense Staatsopera. Nog debute is gemaak by die Chicago Liriese Opera (1955, as Gilda in Rigoletto) en die Metropolitan Opera (1961, as Fiordiligi in Così Fan Tutte). Met haar helder stem en presiese uitspraak was sy meesterlik in die liriese rolle van Mozart en Richard Strauss se operas. Daaronder tel Fiordiligi in Così fan tutte, Donna Anna in Don Giovanni en Sophie in Der Rosenkavalier. Sy het laasgenoemde rol gesing in Herbert von Karajan se beroemde 1956-opname van die opera. Voorts was sy ‘n begaafde sangeres in Bach se gewyde musiek. In 1962 het sy die eerste Amerikaner geword om as Kammersängerin deur die Oostenrykse regering aangewys te word. Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 51 en 209 (onder Anton Heiller), en nr. 78 (onder Felix Prohaska); Beethoven se negende simfonie (onder Karajan); liedere van Brahms, Mozart en Schubert; en die genoemde Mozart-operas, asook Falstaff (as Nanetta).

Stiedry, Fritz (1883-1968), Oostenryks-gebore dirigent. Hy was in 1907/8 aan die Dresden Opera verbonde, waar hy op aanbeveling van die komponis Mahler aangestel is. Later het hy gedirigeer by operahuise in Kassel (1913), Berlyn (1916-23), Wenen (1924/5) en weer in Berlyn (1928-33). Intussen het hy in 1924 die eerste uitvoering van Schoenberg se musiekdrama Die glückliche Hand in Wenen gedirigeer. Hy het Duitsland in 1933 verlaat en was vanaf 1934 vir drie jaar musiekdirekteur van die Leningrad Filharmoniese Orkes in Sowjet-Rusland. In 1938 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy later ‘n Amerikaanse burger geword het. Daar het hy in 1940 die eerste uitvoering van Schoenberg se Tweede Kamersimfonie gedirigeer. Vervolgens was hy ‘n opera-dirigent in New York (1941), Chicago (1945/6) en by die Metropolitan Opera (1946-58). By laasgenoemde was hy die voorste Wagner-dirigent van sy tyd, maar hy het ook Verdi-operas daar opgevoer. Hy het daarbenewens verskyn by die Glyndebourne-fees (1947) en Covent Garden (1953/4). By Glyndebourne het hy ‘n opvoering van Orfeo ed Euridice met Kathleen Ferrier in die rol van Orfeo gedirigeer, met ‘n historiese opname wat gemaak is. Later het hy in Zürich afgetree. Verdere opnames: Das Rheingold (Met 1951).

Stignani, Ebe (1904-74), Italiaanse mezzosopraan. Nadat sy in 1925 haar debuut in Napels as Amneris in Aida gemaak het, is sy deur Toscanini gekies om by La Scala te sing. By dié beroemde operahuis is sy met haar enorme stemreeks as die voorste mezzo van haar tyd beskou. Verdere debute is later gemaak by Covent Garden (1937) en San Francisco (1938). Sy het in 1946 by La Scala in ‘n opname van Aida onder Tullio Serafin gesing, as Amneris. In 1958 het haar afskeidsoptrede in Londen plaasgevind, as Azucena in Il Trovatore. Een van haar beste rolle was Adalgisa in Norma, wat sy in ‘n klassieke 1954-opname met Maria Callas onder Serafin gesing het. Verdere opnames: Mozart se Requiem (Rome 1939); en die operas La Gioconda, Aida (Rome 1948) en La forza del destino (Rome 1941).

Stock, Frederick (1872-1942), Duits-gebore violis, dirigent en komponis. Ná studies in viool en komposisie aan die Keulen Konserwatorium onder die komponis Humperdinck was hy vanaf 1891 vir vier jaar violis in dié stad se orkes. Daarna het hy na die VSA geëmigreer, waar hy vir die res van sy lewe aan die Chicago Simfonie-orkes verbonde sou wees. Met sy aankoms daar was die orkes slegs vier jaar oud. Hy was agtereenvolgens eerste altviolis (1895), assistent-dirigent (1901) en hoofdirigent (1905). Laasgenoemde pos sou hy tot aan die einde van sy lewe beklee, waartydens die ensemble opgebou is tot een van die beste simfonie-orkeste ter wêreld. Hy het in 1941 die eerste uitvoering van Walton se Scapino ouverture gedirigeer, wat vir die orkes se vyftigste verjaardagviering geskryf is. Intussen het hy in 1919 ‘n Amerikaanse burger geword. Hy was veral bekend in Duitse en Russiese musiek van die Romantiese era, maar het ook meer as driehonderd eerste uitvoerings van Amerikaanse komponiste se werke gegee. Opnames: Tsjaikofski se vyfde simfonie; Richard Strauss se Also sprach Zarathustra; en orkeswerke van Brahms, Goldmark, Dohnányi, Wagner en Walton.

Stokowski, Leopold (1882-1977), Brits-gebore dirigent en komponis met ‘n Poolse vader en ‘n Ierse moeder. Hy het aan die Koninklike Musiekkollege in Londen studeer, en later ook in Parys en Duitsland. In 1902 het hy ‘n koormeester en kerkorrelis in Londen geword, by die Sint James-kerk in Piccadilly. Drie jaar later is hy na New York waar hy ‘n soortgelyke pos bekom het. Daarna het ‘n dirigeerloopbaan ontvou, eers as dirigent van die Cincinatti Orkes (1909-12). Intussen het hy in 1910 die première van Mahler se agste simfonie in München bygewoon, wat deur die komponis self gedirigeer is. Dit was ‘n gebeurtenis wat hom lewenslank sou bybly. Sy debuut met die Londense Simfonie-orkes is in 1912 gemaak. Hy het in 1915 ‘n Amerikaanse burger geword. Vanaf 1912 tot 1938 was hy hoofdirigent van die Philadelphia Orkes, wat hy tot ‘n wêreldklas ensemble opgebou en saam met hulle wêreldroem verwerf het. Hulle het historiese opnames van Rimski-Korsakof se Shererazade en Russiese Paasfees Ouverture in 1927 en 1929 onderskeidelik gemaak. Voorts het hulle in 1939 die eerste opname van Sjostakowitsj se vyfde simfonie gemaak.

Stokowski het in 1939 die Amerikaanse Nasionale Jeugorkes gestig, wat hy vir die volgende twee jaar sou dirigeer. Daarna was hy hoofgasdirigent van Toscanini se NBC Simfonie-orkes (1941-4) en die New York Filharmoniese Orkes (1946-50). Hy het in 1944 die New York Stad Simfonie-orkes gestig en vanaf 1951 het hy internasionaal opgetree. Vervolgens was hy dirigent van die Houston Simfonie-orkes (1955-61) en die Amerikaanse Simfonie-orkes in New York (1962-72). Laasgenoemde orkes is ook deur hom gestig. Debute is gemaak by die Salzburg-fees (1951) en die Metropolitan Opera (1961). Hy het in 1969 die Londense Filharmoniese Orkes in briljante uitvoerings van Beethoven se vyfde simfonie en Schubert se agste simfonie gedirigeer, wat gelukkig vir musiekliefhebbers verfilm en later op DVD vrygestel is. In 1972 het hy eindelik weer in Engeland gaan woon, waar hy dikwels die Londense Simfonie-orkes sou dirigeer. Dit sluit ‘n konsert vir sy 90ste verjaardag in dieselfde jaar in, waartydens beeldopnames van Wagner se Die Meistersinger von Nürnberg prelude en Debussy se Prélude à l’après-midi d’un faune gemaak is. Hy het in 1973 die wêreldpremière van Havergal Brian se simfonie nr. 28 met die Nuwe Filharmoniese Orkes gegee. Tydens die geleentheid is daar opgemerk dat beide dirigent en komponis 91 jaar oud was – inderdaad ‘n merkwaardige toeval.

Oor sy besondere lang loopbaan as dirigent (byna 70 jaar!) het Stokowski klassieke musiek onder miljoene mense gepopulariseer. Hy het meer as tweeduisend eerste uitvoerings van werke in die VSA gedirigeer, waaronder Berg se opera Wozzeck, Mahler se agste simfonie, Prokofiëf se Alexander Newski, Strawinski se Le sacre du printemps, Schoenberg se Gurrelieder en Varèse se Amériques. Ook vir Rachmaninof was hy ‘n kampvegter, met eerste uitvoerings van sy derde simfonie, vierde klavierkonsert, Paganini Rapsodie en 3 Russiese Liedere tot sy krediet. Saam het hulle ook in historiese opnames van die groot laat-Romantikus se klavierwerke opgetree. Verder het hy die musiek vir Disney se rolprent Fantasia (1940) gedirigeer en orkesverwerkings van talle werke gedoen. Daaronder tel gewildes soos Bach se Toccata en Fuga in D mineur en Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling. Van laasgenoemde verwerking het hy drie opnames gemaak: in 1939, 1941 en 1965. Onder sy eie komposisies tel toonsettings van antieke liturgiese tekste van die Russies-Ortodokse Kerk. Een van sy gunstelingwerke was Rimski-Korsakof se toondig Sheherazade, waarvan hy nie minder nie as vyf opnames gemaak het – die eerste in Philadelphia in 1927 en die laaste in Londen in 1975. As een van die grootste simfoniese maestros van die twintigste eeu was hy aktief tot op die dag van sy dood op 95-jarige leeftyd in Brittanje. Die sogenaamde Stokowski-klank het onder meer behels dat die strykerspelers toegelaat is om indiwiduele strykwerk in uitvoerings te doen. Sy dirigeerstyl was flambojant en sonder die gebruik van ‘n stok, maar hy het nietemin wondere met sy orkeste verrig in terme van warm uitdrukkings en ryk teksture. Interessant genoeg het hy nie veel opera-opnames nagelaat nie.

Sleutelopnames (in Londen tensy anders aangedui): Beethoven se vyfde simfonie (DVD); Mahler se tweede simfonie (Proms 1963); Mendelssohn se vierde simfonie; Schubert se agste simfonie (DVD); Sjostakowitsj se vyfde simfonie (1964); Vaughan Williams se sesde simfonie (New York Filharmonie 1949). Verdere opnames: simfonieë van Antheil (nr. 4), Beethoven (nrs. 5 en 6), Berlioz, Bizet, Brahms, Dvorák, Franck, Glière, Hovhaness (nr. 2), Ives, Khatsjatoerian, Mahler (nr. 8), Mozart (nr. 35), Nielsen (nr. 6), Sjostakowitsj (nrs. 1, 5 en 7), Sibelius (nr. 2), Tsjaikofski en Vaughan Williams (nrs. 4, 8 en 9); Loeffler se 'n Heidense gedig; Mozart se Sinfonia concertante; Prokofiëf se Alexander Newski kantate (Rotterdam 1970); Puccini se opera Turandot; Schoenberg se Gurrelieder; Skriabin se Le Poème de l’extase; Richard Strauss se Don Juan en Till Eulenspiegel; Strawinski se L’histoire du soldat; ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas; talle orkeswerke van Boccherini, Cesti, Corelli, Debussy, Enescu, Falla, Frescobaldi, Gabrieli, Gluck, Handel, Ibert, Ives, Klemperer, Liszt, McDonald, Menotti, Messiaen, Moessorgski, Palestrina, Prokofiëf, Purcell, Ravel, Respighi, Rimski-Korsakof, Smetana, Sousa, Thomson, Turina, Vaughan Williams en Vivaldi; en sy verwerkings van musiek deur Bach, Byrd, Chopin, Clarke, Duparc, Moessorgski, Rachmaninof, Schubert en Tsjaikofski.

Stolz, Robert (1880-1975), Oostenrykse pianis, dirigent en komponis. Hy was die seun van ‘n musiekonderwyser en kleinneef van die bekende sopraan Teresa Stolz, wat vir ‘n tyd lank Verdi se minnares was. As sewejarige pianis het hy deur Europa getoer en Mozart-werke gespeel. Later was hy ‘n repetiteur by die operahuis in Graz (1897), en eerste dirigent in Salzburg (1902/3) en by die Duitse Teater in Brno (1903-5). In 1905 het hy Artur Bodanzky as hoofdirigent van die Theater an der Wien in Wenen opgevolg. Hy sou dié pos tot 1917 beklee, en in 1908 het hy die première van Oskar Straus se operette Der tapfere Soldat daar gedirigeer. Vanaf 1938 het hy vir twee jaar in Parys gewoon en daarna tot 1946 in die VSA, voordat hy na sy geboorteland teruggekeer het. Hy het tot in sy negentigs gedirigeer en was veral in operette bekend, waarvan hy self meer as sestig geskryf het. Daaronder tel sulke gewildes soos Der Tanz ins Glück, Wo die kleinen Veilchen blühen, Im weissen Rössl, Ich liebe alle Frau’n, Zauber der Bohème, Zwei herzen im Dreivierteltakt en Das Lied ist aus. Verder het hy bykans tweeduisend liedere en meer as honderd rolprent-klankbane gekomponeer, waarvan twee Oscars gewen het. Met die Berlynse en Weense simfonie-orkeste het hy in die vroeë 1970’s ‘n versameling dansmusiek van Joseph Lanner opgeneem.

Stolze, Gerhard (1926-79), Duitse tenoor. Nadat hy in 1949 sy debuut in Dresden as Moser in Die Meistersinger von Nürnberg gemaak het, was hy vanaf 1953 vir agt jaar aan die Berlynse Opera verbonde. Hy het vanaf 1951 tot 1969 gereeld by die Bayreuth-fees gesing, met verdere debute wat plaasgevind het in Wenen (1957), en by Covent Garden (1960) en die Metropolitan Opera (1968). Sy bekendheid het merendeels in die operas van Richard Strauss en Wagner gelê, in rolle soos Aegisthus in Elektra, Herodes in Salome, Loge in Das Rheingold, Mime in Siegfried en Wolfram in Tannhäuser. In 1963 het hy die rol van Nerone gesing in Herbert von Karajan se opname van Monteverdi se L’incoronazione di Poppea by die Weense Staatsopera. Hy was ook begaafd in die titelrol van Oedipus der Tyrann. Verdere opnames: Orff se Carmina Burana (onder Eugen Jochum); die genoemde operas van Wagner en Strauss, asook Tristan und Isolde.

Stoltzman, Richard (1942-), Amerikaanse klarinettis. Hy het vanaf agtjarige ouderdom lesse in sy instrument ontvang en later in jazz-orkeste gespeel. Vanaf 1970 het hy vir vyf jaar aan die Kaliforniese Kunste-instituut onderrig gegee, en in 1974 het sy eerste solo-uitvoering in New York plaasgevind. Hy tree as solis wêreldwyd met bekende orkeste op en is 'n lid van die Ensemble Tashi vir die uitvoering van moderne musiek. Sleutelopnames: Mozart se klarinetkonsert (waartin hy self die Engelse Kamerorkes dirigeer) en klarinetkwintet (met die Tokio Kwartet). Verdere opnames: Beethoven en Brahms se klarinettrio’s (met Emanuel Ax en Yo-Yo Ma); Copland en Corigliano se klarinetkonserte; Strawinski se Ebony concerto; en Takemitsu se Fantasma/Cantos.

Storchio, Rosina (1876-1945), Italiaanse sopraan. Sy het in 1892 haar debuut in Milaan gemaak, as Micaëla in Carmen. Verskeie operarolle is vir haar geskryf, waaronder Musetta in Leoncavallo se La Bohème (1897) en die titelrol in sy Zaza (1900), asook die titelrol in Puccini se Madama Butterfly (1904). Vanaf 1898 tot 1923 was sy verbonde aan die operahuis in Barcelona en vanaf 1904 tot 1914 het sy ook in Buenos Aires gesing. In 1921 het haar Amerikaanse debuut in Chicago plaasgevind en in dieselfde jaar in New York.

Stott, Kathryn (1958-), Engelse pianis. Sy het in 1978 haar debuut in Londen gemaak en is sedert 1995 artistieke direkteur van die Fauré-fees in Manchester. Met haar gevoelvolle spel is sy bekend as 'n meesterlike vertolker van Fauré se musiek, hoewel sy ook begaafd is in die moderne Britse repertorium. Sleutelopnames: die volledige solowerke van Fauré; Walton se Sinfonia concertante (onder Handley). Verdere opnames: klavierkonserte van Howells, Ireland, Kabalefski (nrs. 2 en 3), Lambert, Lloyd (nrs. 3 en 4) en Nyman; Bridge se Phantasm; ‘n versameling Delius-werke vir 2 klaviere, verwerk deur Warlock (met Noriko Ogawa); Fauré se Ballade; Koechlin se Les Heures persanes; en solowerke van Chabrier, Chopin, Debussy en Rachmaninof.

Stratas, Teresa (1938-), Kanadese sopraan van Griekse afkoms. As kind het sy in haar vader se restourant gesing, en terwyl sy nog 'n student aan die Koninklike Konserwatorium in Toronto was, het sy in 1958 haar operadebuut in dié stad as Mimì in La Bohème gemaak. In die jaar daarop het sy die oudisies by die Metropolitan Opera gewen en daar gedebuteer. Haar debuut by Covent Garden het in 1961 gevolg, soos by die Met steeds as Mimì. Sy het vanaf die 1960's wêreldbekend in die operas van Mozart en Puccini geraak, ook as Despina in Così fan tutte. In 1969 het sy by die Salzburg-fees gedebuteer, en tien jaar later het sy by die Parys Opera die titelrol in Lulu gesing tydens die eerste volledige opvoering van die werk. Sy het in 1983 teenoor Plácido Domingo in 'n rolprentweergawe van La Traviata (as Violetta) opgetree. Verder is sy begaafd in die titelrol van Salome en as Jenny in Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny. In 1991 het sy by die Met die rol van Marie Antoinette tydens die première van Corigliano se opera The Ghosts of Versailles geskep. Opnames: Kern se musiekblyspel Showboat (as Julie); Weill se ballet Die sieben Todsünden; en die genoemde operas van Berg en Mozart.

Straube, Karl (1873-1950), Duitse orrelis en dirigent. Hy het in Berlyn studeer en later verskeie poste in Leipzig beklee. Daaronder het getel orrelis van die Thomaskirche (vanaf 1902), dirigent van die Bach-Vereniging, en ‘n hoogleraar in orrel aan die konserwatorium (vanaf 1907). Daarby was hy vanaf 1918 kantor van die Thomasschule en het vanaf 1904 tot 1923 verskeie Bach-fees gedirigeer. Ook het hy in 1925 ‘n Handel-fees gedirigeer, wat tot die stigting van die Handel-Vereniging gelei het. As orrelis het hy uitgeblink in die uitvoering van sy vriend Max Reger se musiek, waarvan heelwat vir hom geskryf is, en was hy ‘n kampvegter vir die musiek van moderne komponiste soos Holst en Vaughan Williams. As dirigent het sy repertorium oor al die tydperke gestrek, waaronder 'n volledige siklus van Bach se kantates gereken kan word. Daarbenewens het hy invloedryke boeke oor orrelspel geskryf, en koorwerke van Bach en Handel asook orrelwerke van Bach en Liszt geredigeer.

Strawinski, Soulima (1910-94), Switsers-gebore pianis. Hy was ‘n seun van die beroemde komponis en dirigent Igor Strawinski, met wie hy in 1935 die eerste uitvoering van die Konsert vir twee solo- klaviere in Parys gegee het. Later het hy in die VSA gaan woon.

Streich, Rita (1920-87), Duitse sopraan. Nadat sy in 1943 haar operadebuut in Aussig as Zerbinetta in Ariadne auf Naxos gemaak het, was sy verbonde aan die Berlynse Staatsopera (1946-50) en die Berlynse Stadsopera (1950-3). Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1952), Wenen (1953), die Salzburg-fees (1954), Londen (1954), San Francisco (1957) en die Glyndebourne-fees (1958). Met haar ligte stem en stylvolle sang was sy uitmuntend in die koloratuurrolle van Mozart en Richard Strauss, en in Duitse operettes. Onder haar beste rolle het getel Amor in Orfeo ed Euridice, Laura in Der Bettelstudent, Zerlina in Don Giovanni, Blonde in Die Entführung aus dem Serail, beide die Koningin van die Nag en Pamina in Die Zauberflöte, Adèle in Die Fledermaus, Zerbinetta in Ariadne auf Naxos, Sophie in Der Rosenkavalier, Gilda in Rigoletto, ännchen in Der Freischütz en die Woudvoël in Siegfried. Sy was ewe begaafd in Duitse liedere. Opnames: liedere van Brahms, Milhaud, Mozart, Schubert, Schumann, Richard Strauss en Wolf; ‘n versameling konsertarias van Mozart (onder Mackerras); die genoemde operettes van Millöcker en Johann Strauss, asook Der Zarewitsch; die genoemde operas van Gluck, Mozart, Strauss, Wagner en Weber, asook Bastien und Bastienne en Le nozze di Figaro.

Streit, Kurt (1959-), Amerikaanse tenoor. Hy het opera gesing in Milwaukee en Dallas, en daarna sy Europese debuut by die Hamburg Opera gemaak. Verdere debute het gevolg by die feeste in Salzburg (1989) en Glyndebourne (1990), en by Covent Garden (1993). Intussen het hy in 1992 by die Drottningholm Hofteater uitgeblink as Tamino in ‘n uitstekende opname van Die Zauberflöte onder Arnold östman.

Studer, Cheryl (1955-), Amerikaanse sopraan. Nadat sy aanvanklik klavier en viool bestudeer het, het sy na sang oorgeslaan. Haar opera-loopbaan het in Duitsland afgeskop, by die teaters in München (waar sy in 1980 as Marenka in Die Verruilde Bruid gedebuteer het) en Darmstadt (1983-5). Verdere debute het plaasgevind in Chicago (1984), by die Bayreuth-fees (1985), Parys (1986), Covent Garden (1987), en Wenen en die Salzburg-fees (beide in 1989). Haar Bayreuth-debuut was as Elisabeth in Tannhäuser, ‘n triomf wat haar internasionale deurbraak sou wees. Sedert 1985 is sy verbonde aan die Deutsche Oper in Berlyn. Met haar ryk, suiwer stem en intelligente sang is sy tans een van die voorste soprane ter wêreld in beide opera en konsertwerke. Onder haar beste rolle tel Marguerite in Faust, Hanna in Die lustige Witwe, die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte, Matilde in Guglielmo Tell, Madama Cortese in Il viaggio a Reims, Odabella in Attila, Desdemona in Otello, Elena in I vespri siciliani, Elsa in Lohengrin, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Sieglinde in Die Walküre, en die titelrolle in Lucia di Lammermoor, Susannah, Semiramide en Salome. Opnames: kerkmusiek van Beethoven en Verdi; liedere van Barber; Mahler se tweede en agste simfonieë nrs. 2 (onder Abbado) en 8 (onder beide Abbado en Sinopoli); Richard Strauss se Vier letzte Lieder; Wagner se Wesendonk Lieder; die genoemde operette van Lehár; die genoemde operas van Donizetti, Floyd, Gounod, Mozart, Rossini, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook Hérodiade, Les Contes d’Hoffmann, Fierrabras en Die Feen.

Studt, Richard (?-), Engelse violis en dirigent. Hy het as vierjarige begin viool speel en as tiener by die Nasionale Jeugorkes van Groot-Brittanje aangesluit. Studies het gevolg aan die Koninklike Musiekakademie, waar hy ‘n aantal pryse gewen het. In 1968 het hy ‘n lid van die Academy of Saint Martin-in-the-Fields geword, met wie hy dikwels as solis verskyn het. Hy het in die laat 1970’s konsertmeester van die Londense Simfonie-orkes geword. Daarna het hy dirigeerkuns onder Maurice Handford, Simon Rattle en die legendariese Sergiu Celibidache bestudeer. In 1987 het hy mededirigent van die Bournemouth Sinfonietta geword, wat hy op toere na Roemenië en Turkye gelei het. Hy het hul ook in uitstekende opnames van strykerwerke deur Bartók, Britten, Delius, Grieg, Holst, Nielsen, Strawinski, Svendsen, Vaughan Williams, Walton en Warlock gedirigeer. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa op, dikwels met minder bekende orkeste. Hy lei voorts sy eie ensemble, die Tate Music Group of London. As violis bespeel hy meesal die klassieke repertorium van die agtiende en vroeë negentiende eeue op sy 1727-Stradivarius. Sleutelopname: Wirén se Serenade vir Strykers. Verdere opnames: Mozart se Sinfonia concertante (met die altviolis Nodar Jvania); Pärt se Cantus in Memory of Benjamin Britten, Festina lente, Summa en Tabula rasa; en ‘n versameling konserte van Vivaldi vir 2 of 3 soliste.

Stuttgart Filharmoniese Orkes, Duitse orkes wat in 1924 gestig is. Hulle het oor die jare heen onder sulke groot dirigente soos Abendroth, Blech, Knappertsbusch en Schuricht gespeel, met talle bekende soliste wat met hulle opgetree het. Tans is Jörg-Peter Weigle die hoofdirigent.

Stuttgart Kamerorkes, Duitse ensemble wat in 1945 deur Karl Münchinger gestig is. Vanuit die staanspoor het hulle wyd deur Europa, die Amerikas en die Verre Ooste getoer. Hulle het vele opnames van veral Bach-werke gemaak. In 1966 is hul geledere versterk om die Stuttgart Klassische Philharmonie te word.

Stuttgart Klaviertrio, Duitse kamerensemble wat in 1968 gestig is. In die jaar daarop het hulle beide die Mendelssohn-kompetisie en die internasionale radiokompetise in München gewen. Hulle toer wêreldwyd en tree by die vernaamste musiekfeeste op. Opnames: die volledige klaviertrio’s van Beethoven en Schubert.

Stutzmann, Nathalie (1965-), Franse alt. Sy het eers aan die Nantes Konserwatorium studeer en daarna aan die Ecole Nationale in Parys (1983-87). Daar het sy pryse gewen in klavier, fagot, kamermusiek en sang. Haar konsertdebuut is in 1985 in Parys gemaak, in Bach se Magnificat. Met haar ryk, donker stem en gevoelvolle sang sou sy spoedig internasionale roem verwerf in opera, konserte en liedere. Dit behels ‘n wye repertorium vanaf die Barok tot die twintigste eeu. Opnames: ‘n hele aantal Bach-kantates (onder Ton Koopman); Brahms se Alt Rapsodie (onder John Eliot Gardiner); Handel se opera Amadigi di Gaula (in die titelrol); Mendelsohn se parafrase van Psalm 13, Lass’, O Herr (onder Corboz); Vivaldi se motette Nisi Dominus, Vespro Principa divino en Jubilate o amoeni chori (almal onder Robert King).

Suggia, Guilhermina (1888-1950), Portugees-gebore tjellis van Italiaanse afkoms. Sy het haar openbare debuut as sewejarige gemaak, en op twaalf was sy reeds eerste tjellis van die Oporto Orkes. In 1904 is sy na Leipzig om onder Julius Klengel te studeer. In dié stad het sy met die Gewandhaus Orkes onder Artur Nikisch gedebuteer, en daarna het sy deur Europa getoer. Sy het in 1906 onder die groot tjellis Pablo Casals gaan studeer en ‘n veelbesproke verhouding met hom aangeknoop. Ses jaar later is hul uitmekaar en het sy haar konserttoere hervat. Nog later het sy haar in Londen gevestig en ‘n Britse burger geword. In 1923 was sy die onderwerp van ‘n skildery deur Augustus John en in 1949 het sy, hoewel amptelik reeds uitgetree, by die Edinburgh-fees gespeel.

Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes (ook bekend as die SWF Simfonie-orkes), Duitse orkes wat in 1946 in Baden-Baden gestig is. Hulle konsentreer vanuit die staanspoor op beide moderne musiek en die simfoniese repertorium van die afgelope twee eeue. Die orkes se hoofdirigente was Hans Rosbaud (1948-62), Ernest Bour (1964-79), Kazimierz Kord (1980-86) en Michael Gielen (sedert 1986). Daarby het bekende dirigente soos Barbirolli, Böhm, Boulez, Fricsay, Harnoncourt en Solti oor die jare heen dikwels met die orkes saamgewerk. In 1993 het hulle die eerste Europese radio-orkes geword wat agtereenvolgens by die groot musiekfeeste in Salzburg, Luzern, Edinburgh en Berlyn opgetree het.

Suitner, Otmar (1922-2010), Oostenrykse dirigent. Hy het as tiener met klavierstudies aan die Innsbruck Konserwatorium begin en dit aan die Salzburg Mozarteum voortgesit. By laasgenoemde het hy ook dirigeerkuns onder Clemens Krauss studeer. Van die gevierde dirigent het hy die belangrikheid van korrekte frasering en tempo aangeleer. Sy debuut is in 1942 in Innsbruck gemaak, waarna hy dirigent van die Tiroolse hoofstad se operahuis was. Vervolgens was hy musiekdirekteur in Remscheid (1952-7) en van die Rynland-Palts Staatsopera in Ludwigshafen (1957-60). Hy het in dié tyd as gasdirigent in verskeie Duitse en Oostenrykse stede verskyn. Sy deurbraak het plaasgevind toe hy in 1960 hoofdirigent van die Dresden Opera en Staatsorkes geword het, ‘n pos wat hy vir vier jaar sou beklee. Die grootste deel van sy loopbaan sou in die voormalige Oos-Duitsland ontvou. Hy het Franz Konwitschny in 1964 as musiekdirekteur van die Berlynse Staatsopera opgevolg en die pos tot 1971 beklee. Vanaf 1965 het hy ook vir ‘n aantal seisoene by die Bayreuth-fees opgetree, waar hy met die regisseur Wieland Wagner saamgewerk het. Hy het in 1969 ‘n gasdirigent by die San Francisco Opera geword. Gedurende die 1970’s was hy ‘n gereelde gasdirigent in Japan, en in 1973 het hy eredirigent van die NHK Simfonie-orkes in Tokio geword. Vanaf 1973 tot 1990 was hy nogeens musiekdirekteur van die Berlynse Staatsopera. Met hul orkes, die Berlynse Staatsorkes, het hy een van die eerste digitale siklusse van Beethoven se volledige simfonieë opgeneem. Kort voor die val van die Berlynse Muur is die Nasionale Prys deur die Duitse Demokratiese Republiek aan hom toegeken. Hy is in die vroeë 1990’s weens siekte gedwing om uit te tree. Naas sy dirigeerloopbaan het hy vir 20 jaar aan die Salzburg Mozarteum onderrig gegee, waardeur hy ‘n groot aantal studente aan die dirigeerkuns blootgestel het. Sy buite-egtelike seun Igor het ‘n dokumentêre film oor die dirigent se later lewensjare gemaak, getitled The music of my father. Hy was begaafd in die Duitse repertorium vanaf die Klassieke tot moderne eras, met vertolkings gekenmerk deur soepelheid en elegansie. Daarby was hy ‘n kampvegter vir die musiek van Paul Dessau en het die premières van drie van sy operas gedirigeer. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms en sy Hongaarse Danse; Dvorák se volledige simfonieë; Lortzing se opera Die Opernprobe; Mozart se simfonieë nrs. 28-41; Pfitzner se opera Palestrina; Schubert se opera Alfonso und Estrella; Schumann se volledige simfonieë; en Wolf se toondig Penthesilea.

Suk, Josef (1874-1935), Tsjeggiese violis en komponis. Hy was ‘n leerling en skoonseun van die komponis Antonin Dvorák. Vanaf 1892 het hy vir veertig jaar lank in die Boheemse Strykkwartet gespeel, en daarby was hy vanaf 1922 tot sy dood ‘n hoogleraar in komposisie aan die Praag Konserwatorium. Sy bekendste komposisie is stellig die Asrael Simfonie in 5 bewegings, waarvan die meeste stadig is. Onder sy verdere werke tel die Fantasie in G mineur vir viool en orkes, die Strykerserenade, die orkeswerke A Fairy-Tale, Fantastic Scherzo, A Summer Tale en A Winter’s Tale, 4 Stukke vir viool en klavier, ‘n klavierkwartet, 2 strykkwartette, en werke vir klaviersolo.

Suk, Josef (1929-2011), Tsjeggiese violis, kleinseun van die voorafgaande. As wonderkind het hy in 1940 in Praag gedebuteer toe hy nog ‘n jong tiener was. Later het hy in die orkes van die Nasionale Teater in die Tsjeggiese hoofstad sowel as in die Praag Kwartet gespeel. Hy het in 1963 by die Salzburg-fees gedebuteer en in die jaar daarop het hy die Tsjeggiese Staatsprys gewen. As solis het hy met van die voorste orkeste ter wêreld opgetree, met debute wat in 1964 by die Londense Proms en in die VSA gemaak is. Verder het hy vanaf 1967 kamermusiek in ‘n bekende trio met die pianis Julius Katchen en die tjellis János Starker gespeel. Met hulle het hy ‘n uitstekende opname van Brahms se eerste twee klaviertrios gemaak. Verdere opnames: vioolkonserte van Bartók, Berg, Dvorák, Martinu, Mendelssohn en Mozart (volledig); Brahms se derde vioolsonate (met Katchen); en sy grootvader se Fantasie in G mineur (onder Ancerl).

Summerly, Jeremy (1961-), Engelse koordirigent. Hy het aan New College, Oxford studeer, waar hy in 1982 met lof gegradueer het. Vir die volgende sewe jaar het hy vir die BBC se radiodiens gewerk, waartydens hy nagraadse studies aan King’s College in Londen gedoen en die Oxford Camerata gestig het (laasgenoemde in 1984). Hy is sedert 1989 ‘n dosent aan die Koninklike Musiekakademie, en in die jaar daarop het hy dirigent van die Schola Cantorum in Oxford geword. In 1996 is hy as hoof van akademiese studies aan die Koninklike Musiekakademie aangestel, en daarby bied hy gereeld programme oor die BBC aan. Vir die 500-jarige herdenking van die groot Renaissance-komponis Thomas Tallis se geboorte het hy die Oxford Camerata in ‘n hoogaangeskrewe opname van sy motette Spem in alium en Salve intemerata en 3 Engelse motette gedirigeer. Sleutelopnames (almal met die Oxford Camerata): Desprez se Missa l’homme armé sexti toni en 2 motette; Lassus se Missa bell’amfitrit’alterna; De Machaut se Messa de Nostra Dame; Obrecht se Missa Caput en Salve Regina; Ockeghem se Missa l’homme armé, Ave Maria en Alma redemptoris mater; die genoemde werke van Tallis, asook sy Mass for 4 voices en 8 motette. Verdere opnames: koorwerke van J.S. Bach, Byrd, Dufay, Gibbons, Hildegard, Lobo, Mundy, Palestrina, Purcell, Richafort, Schütz, Tomkins, Tye, Victoria, Weelkes, White en Willaert; Fauré se Requiem (in die oorspronklike 1887-weergawe); en ‘n versameling Middeleeuse Kersgesange.

Summers, Jonathan (1946-), Australiese bariton. Sy debuut in 1975 by die Kent Opera, in die titelrol van Rigoletto, is gevolg deur debute met die Glyndebourne Toeropera (1976) en by Covent Garden (1977). Hy het in vele rolle by Britse operahuise verskyn, onder meer as Lord Mountjoy in Gloriana en Kaptein Balstrode in Peter Grimes. Verdere debute is gemaak by die Australiese Opera (1981), die Metropolitan Opera (1988) en Chicago (1990). By die Australiese Opera in Sydney het hy in 1983 ‘n stewige vertoning gelewer as Graaf Luna in ‘n opvoering van Il Trovatore onder sy landgenoot Richard Bonynge, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Tydens die Australiese première van Parsifal by die Adelaide Opera in 2001 het hy die rol van Amfortas gesing. Verdere opnames: Vaughan Williams se eerste simfonie (onder Haitink); en die genoemde operas van Britten.

Sumsion, Herbert (1899-1995), Engelse orrelis, dirigent en komponis. Hy was aanvanklik 'n koorsanger in die Gloucester Katedraal, en later (1916/17 en 1919-22) ‘n assistent-orrelis daar vir sy voorganger Herbert Brewer. Daarna was hy orrelis van Christ Church in Lancaster Gate, Londen (1922-6) en 'n hoogleraar in kontrapunt en harmonie aan die Curtis Instituut (1926-8). Vanaf 1928 was hy vir byna vier dekades (tot 1967) orrelis en koormeester van die Gloucester Katedraal, waartydens hy as vriend van die komponiste Elgar, Finzi, Holst, Howells, Kodály en Vaughan Williams heelwat nuwe werke bekendgestel het. In dié tyd het hy dikwels by die Drie Kore-fees gedirigeer, onder andere in 1950 met die eerste uitvoering van Howells se Hymnus Paradisi in Gloucester. Daarby was hy musiekdirekteur van die Cheltenham Dameskollege (1935-68), en in 1961 is die CBE aan hom toegeken vir sy dienste aan Engelse musiek. Hy het heelwat orrelmusiek en gewyde koorwerke gekomponeer.

Supervia, Conchita (1895-1936), Spaanse mezzosopraan/alt. Sy het in Barcelona studeer en as veertienjarige haar debuut in Buenos Aires gemaak. Later het sy gesing by die Chicago Opera (1915/6, 1932/3), met verdere debute wat plaasgevind het by La Scala (1926) en Covent Garden (1934). Intussen het sy in 1922 die titelrol tydens die première van Lehár se operette Frasquita geskep. Drie jaar later het sy in Turyn die rol van Isabella gesing tydens Vittorio Gui se herlewing van Rossini se L'italiana in Algeri. Met haar lewendige sang en sterk vibrato was sy wêreldbekend in die koloratuurrolle van Rossini se operas, asook in die titelrol van Carmen, as Hänsel in Hänsel und Gretel en Musetta in La Bohème. Sy het in historiese opnames van liedere deur haar landgenote Falla en Granados gesing, asook van uittreksels uit die genoemde opera van Humperdinck (met Maria Ferraris, in 1928). Haar briljante loopbaan is kortgeknip toe sy op betreklike jong leeftyd tydens 'n bevalling gesterf het.

Susskind, Walter (1913-80), Tsjeggies-gebore pianis, dirigent en komponis. Hy was vanaf 1933 vir vyf jaar die pianis in die Tsjeggiese Trio. In dié tyd het hy die Duitse Opera in Praag, waar hy in 1934 met La Traviata gedebuteer het, gedirigeer. Hy het in 1938 in Londen gaan woon, waar hy tot 1942 in die genoemde trio in ballingskap gespeel en in 1946 ‘n Britse burger geword het. Sedert die 1940's het hy wêreldwyd poste beklee, waaronder dié as hoofdirigent van die Carl Rosa Opera (1943-5) en dirigent van die Skotse Orkes (1946-52), die Melbourne Simfonie-orkes (1953-5), die Toronto Simfonie-orkes (1956-65), die Aspen-Musiekfees (1962-8) en die Sint Louis Simfonie-orkes (1968-75). Vanaf 1968 tot 1975 het hy aan die Universiteit van Suid-Illinois onderrig gegee en vanaf 1975 tot sy dood was hy hoofgasdirigent van die Cincinatti Simfonie-orkes. Hy het in 1977 die Britse première van Zemlinski se Lyrische Symphonie gegee. Met die Londense Simfonie-orkes het hy 'n begeesterde opname van Gould se Formations gemaak.

Suthaus, Ludwig (1906-71), Duitse tenoor. Hy het aan die konserwatorium in sy geboortestad Keulen studeer en in 1928 sy operadebuut in Aachen gemaak, as Walther in Die Meistersinger von Nürnberg. Vir die volgende drie jaar was hy aan die Aachen Opera verbonde, en daarna aan operahuise in Essen (1931-3) en Stuttgart (1933-41). Hy het in 1941 in Berlyn gaan woon, waar hy ‘n lid sou wees van die Staatsopera (tot 1949) en die Duitse Opera (1948-65). Hy het in 1943 gedebuteer by die Bayreuth-fees, weer as Walther in Die Meistersinger, met ‘n historiese opname wat onder Hermann Abendroth gemaak is. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy roem verwerf in Wagner-rolle wat hy gesing het in Parys en Buenos Aires (beide vanaf 1949), Covent Garden en San Francisco (beide vanaf 1953), en Milaan (1954). Daarby het hy vanaf 1948 tot 1971 gereeld in Wenen gesing. Met sy baritonagtige stem was hy uitmuntend in die helderolle van Verdi en Wagner se operas, soos die titelrol in Otello, Siegfried en Siegmund in die Ring, en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. Opnames: Tristan und Isolde (1952), die Ring-siklus (1953) en Die Walküre (1954), almal onder Wilhelm Furtwängler; en Das Rheingold (as Loge, in 1956 onder Hans Knappertsbusch).

Sutherland, Joan (1926-2010), Australiese sopraan. Sy het in 1947 in Sydney in ‘n konsertweergawe van Dido and Aeneas gedebuteer. Vier jaar later het sy die titelrol in die Australiese première van Goossens se Judith gesing. Sy is in die vroeë 1950’s met ‘n studiebeurs na Londen. In 1952 het sy by Covent Garden aangesluit, waar sy drie jaar later die rol van Jennifer tydens die première van The Midsummer Marriage geskep het. Sy is in 1954 getroud met die dirigent Richard Bonynge, onder wie se afrigting sy wegbeweeg het van Bizet, Verdi en Wagner na bel canto opera, veral dié van Donizetti en Bellini waarin sy vele rolle herleef het. Haar Glyndebourne-feesdebuut is in 1957 gemaak, en in die jaar daarop het sy by Covent Garden die rol van die Nuwe Priores in die Britse première van Les dialogues des Carmélites gesing. Haar internasionale deurbraak het in 1959 by Covent Garden plaasgevind in die titelrol van Lucia di Lammermoor, waarvoor sy ‘n staande toegif van 20 minute ontvang het. Verdere debute het gevolg in die VSA (Dallas, 1960), en by La Scala en die Metropolitan Opera (beide in 1961). In 1961 is die CBE aan haar toegeken. Vier jaar later en weer in 1974 het sy met haar eie operageselskap in haar geboorteland gaan toer. Sy is in 1979 tot dame geskep. Haar afskeidsoptrede by die Australiese Opera is in 1990 gegee, in Meyerbeer se Les Huguenots. Vroeg in 1991 het haar laaste verhoogoptrede plaasgevind, in die immer-gewilde operette Die Fledermaus by Covent Garden. Die Order of Merit is in 1992 aan haar toegeken.

Met haar kragtige koloratuurstem en wye stemreeks was Sutherland tot in haar sestigs wêreldberoemd in die operas van Bellini, Donizetti, Massenet en Verdi, alhoewel haar repertorium veel wyer as dit gestrek het. Helaas was uitspraak nie haar sterkpunt nie, om dit sagkens te stel, sodat dit op talle van haar opnames moeilik is om enige woorde te herken. Sy was naas Lucia uitmuntend as Ernesto in Griselda, Amina in La sonnambula, Adina in L'elisir d'amore, Marie in La Fille du régiment, die Prinses in Montezuma, Hanna in Die vrolike weduwee (in Engels), Donna Anna in Don Giovanni, vier rolle in Les Contes d'Hoffmann, Ophelia in Hamlet, Amalia in I Masnadieri, Gilda in Rigoletto, Violetta in La Traviata, Leonora in Il Trovatore, die Woudvoël in Siegfried, en die titelrolle in Beatrice di Tenda, Norma, Lakmé, Adriana Lecouvreur, Anna Bolena, Lucrezia Borgia, Maria Stuarda, Esclarmonde, Turandot en Semiramide. Daarbenewens was sy ‘n begaafde konsertsangeres. Sy het in twee opnames van Handel se Messiah gesing, onder Adrian Boult (in 1961) en Bonynge (in 1979). Sy is in Switserland oorlede, waar sy in haar later jare woonagtig was. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Schmidt-Isserstedt); Glière se Konsert vir koloratuursopraan; Verdi se Requiem; die operette The Merry Widow; ‘n versameling hoogtepunte uit Handel se opera Giulio Cesare; die genoemde operas van Bellini, Bononcini, Delibes, Donizetti, Graun, Mozart, Offenbach, Puccini, Thomas, Verdi en Wagner, asook I Puritani, Alcina, L’Oracolo, Esclarmonde, Le Roi de Lahore en Les Huguenots (in die meeste gevalle met Bonynge as dirigent).

Suzuki, Masaaki (1954-), Japannese orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy het as twaalfjarige begin om Sondae orrel in kerkdienste te speel. Nadat hy aan die Tokio Universiteit van Skone Kunste en Musiek in orrel en komposisie gegradueer het, is hy na Nederland vir intensiewe studies in vroeë musiek. Daar het hy klawesimbel en orrel aan die Sweelinck Konserwatorium in Amsterdam onder Ton Koopman en Piet Kee studeer. Hy het diplomas in beide instrumente verwerf, gevolg deur pryse in die Vlaamse Fees in Brugge, België. Dit was in die kompetisies vir klawesimbel (1980) en orrel (1982). Vanaf 1981 het hy vir twee jaar onderrig in klawesimbel aan die Staatskonserwatorium in Duisburg, Duitsland gegee. Sedert 1983 gee hy elke somer orrelvoordragte in ‘n aantal Europese lande. Hy het in 1990 die Bach Collegium Japan gestig, waarvan hy die musiekdirekteur is. Hulle het wêreldbekend geraak deur hul hoogaangeskrewe opnames van Bach se volledige kantates, met Japannese en Europese soliste. ‘n Seldsame opname van Beethoven se negende simfonie, soos deur Wagner vir klavier, koor en soliste verwerk, is ook deur hul gemaak. In 1995 en 1997 is hy deur Philippe Herreweghe genooi om die Collegium Vocale in Ghent te dirigeer. Daarbenewens is hy ‘n hoogleraar in orrel en klawesimbel aan sy alma mater in Tokio. Sleutelopnames: Bach se Kantates nrs. 21, 105, 147, 179 en 186, asook sy Magnificat in D en Sint Johannespassie (DVD, 2000); Zelenka se Magnificats in C en D. Verdere opnames: Bach se volledige klawesimbelkonserte, Brandenburgkonserte en 48 Preludes en Fugas; Buxtehude se Membra Jesus nostri; Handel se Messiah; Kuhnau se Magnificat in C; en Monteverdi se Vespro della Beata Vergine.

Suzuki, Shin'ichi (1898-), Japannese violis. Sy vader was ‘n vioolmaker, en met drie van sy broers het hy in 1928 die Suzuki Kwartet gestig. Twee jaar later het hy ook die Tokio Strykorkes gestig, waardeur Barokmusiek onder die Japannese publiek bekendgestel is. Vanaf 1930 was hy hoof van die Teikoku Musiekskool, waar hy ‘n tegniek ontwikkel het om jong kinders te leer viool speel. Hy het vanaf 1950 viool aan Saino Kyoiku Kenkyu-kai in Matsumoto onderrig. Sedert die 1950's word sy tegniek wêreldwyd suksesvol toegepas, en hy het besoeke gebring aan die VSA (1963) en Brittanje (1974). Sy eerste leerling wat later bekend sou word, was sy landgenoot Takako Nishizaki, wat in die 1990’s wêreldroem met haar hoogaangeskrewe opnames verwerf het.

Svanholm, Set (1904-64), Sweedse tenoor. Nadat hy aanvanklik ‘n kerkorrelis was, het hy aan die Stockholm Konserwatorium onderrig gegee. In 1930 het hy sy debuut as bariton gemaak as Silvio in I Pagliacci. Ná verdere afrigting het hy ses jaar later as tenoor gedebuteer as Radames in Aida. Hy het in 1937 begin om Wagner-rolle te sing, met verdere debute wat sou volg by die feeste in Salzburg (1938) en Bayreuth (1942). In 1945 het hy die titelrol in die Sweedse première van Peter Grimes in Stockholm geskep. Hy het vervolgens gesing by die Metropolitan Opera (1946-56), in San Francisco (1946-51) en by Covent Garden (1948-57). Gedurende die 1940’s en 1950’s was hy een van die wêreld se voorste heldentenors in Wagner-rolle soos Erik in Der fliegende Holländer, Loge, Siegmund en Siegfried in die Ring-siklus, en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. Hy het dikwels teenoor die gevierde sopraan Kirsten Flagstad opgetree, onder meer in opnames van Mahler se Das Lied von der Erde onder Bruno Walter en die eerste bedryf van Die Walküre onder Hans Knappertsbusch. Vanaf 1956 tot 1963 was hy bestuurder van die Stockholm Opera. Verdere opnames: die genoemde werk van Mahler (onder Walter, 1948).

Swarowsky, Hans (1899-1975), Hongaarse dirigent en leermeester. Hy het sy loopbaan begin deur dirigeerposte in Stuttgart, Berlyn, Hamburg en Zürich te beklee. In die vroeë 1940’s was hy ‘n mede-librettis van Richard Strauss vir sy laaste opera Capriccio. Daarna was hy ‘n dirigent van die Poolse Filharmoniese Orkes in Kraków (1944-6), die Weense Simfonie-orkes (1946-48), by die Graz Opera (1947-79), die Weense Opera (1957) en die Skotse Nasionale Orkes (1957-59). Hy was egter meer bekend as leermeester, veral as hoof van die dirigeerklasse aan die Weense Musiekakademie vanaf 1946. Daar het sy leerlinge latere wêreldklas dirigente soos Claudio Abbado, Michael Gielen, Zubin Mehta en Alexander Rahbari ingesluit. Interessant genoeg het hy sy studente geleer om met so min as moontlik liggaamsbeweging te dirigeer, sodat daar nie gesweet word nie - iets wat hy volgens eie aanspraak van niemand minder nie as Richard Strauss geleer het, en wat bepaald nie deur Abbado en Mehta nagevolg is nie. In 1968 het hy met die Grosses Symphonieorchester, bestaande uit Tsjeggiese musici, ‘n voortreflike siklus van Wagner se Ring-siklus in Nürnberg opgeneem. Dit het kort voor die Sowjet-inval van Tsjeggo-Slowakye plaasgevind. Daarbenewens het hy Franse weergawes van Gluck se operas Alceste en Orphée geredigeer.

Swarthout, Gladys (1900-69), Amerikaanse mezzosopraan. Haar debuut is in 1924 in Chicago gemaak, in die beskeie rol van die Skaapwagterseun in Tosca. Vir die volgende aantal jare het sy voortgegaan om kleiner rolle in Chicago te sing. In 1929 het sy by die Metropolitan Opera as La Cieca in La Gioconda gedebuteer. Sy sou tot 1945 aan die Met verbonde wees en in 22 rolle daar optree. By die Met het sy gesing in die premières van Sadko (1930) en Merry Mount (1934), maar haar bekendste rol sou die titelrol in Carmen wees. Haar debuut as Carmen is in 1939 gemaak, en hoewel sy gewild onder die publiek in dié rol sou wees, is sy deur sommiges gekritiseer dat haar vertolking van die temperamentele Sigeuner te elegant was. Haar onberispelike kostuums is deur die bekende modemaker Valentina ontwerp. Vanaf 1940 het sy toenemend in konserte gesing, en in 1954 is sy weens ‘n hartkwaal gedwing om uit te tree. Met haar slank, aantreklike voorkoms het sy ook in ‘n aantal rolprente opgetree. Sy het in historiese Met-opnames van Carmen en Merry Mount gesing.

Swetlanof, Jewgeni (1928-2002), Russiese dirigent en komponis. Hy het aan die Gnesin Instituut in sy geboortestad Moskou studeer en daarna aan die stad se Konserwatorium onder Heinrich Neuhaus. Vanaf 1953 het hy die Moskou Radio-orkes gedirigeer en twee jaar later het hy ‘n assistent-dirigent by die Bolsjoi Teater geword. Hy was weldra ‘n volwaardige dirigent en in sy laaste twee jaar by die Bolsjoi (1962-4) hul hoofdirigent. In 1964 het hy hul in opvoerings by La Scala gedirigeer. Vanaf 1965 was hy dirigent van die USSR (tans Russiese) Staatsimfonie-Orkes, wat hy tot ‘n ensemble met ‘n kragtige, kenmerkende klank sou ontwikkel. Met hulle het hy in die laat 1960’s die volledige simfonieë van Tsjaikofski in hoogstaande vertolkings opgeneem. Dit sluit ‘n uitvoering van die derde simfonie by die Edinburgh-fees in. Hulle het later ook die volledige simfonieë van Mahler opgeneem. By Covent Garden het hy in 1984 ‘n opvoering van Boris Godoenof gedirigeer.

As een van die voorste Russiese dirigente van die twintigste eeu tyd was Swetlanof ‘n ontvanger van ‘n hele aantal pryse en toekennings deur die destydse Sowjet-owerhede. Daaronder tel die toekenning Volkskunstenaar van die USSR (1968) en die Lenin-prys (1972). Nietemin is hy in 2000 deur die Russiese regering van sy pos onthef, maar met sy afsterwe het President Wladimir Putin hulde aan hom gebring. Naas sy bekendheid in die musiek van Tsjaikofski, Rachmaninof, Prokofiëf en Sjostakowitsj, was hy ‘n kampvegter vir minder bekende komponiste soos Metner. Onder sy eie komposisies tel ‘n simfonie, ‘n klavierkonsert en bykans 50 liedere. Sleutelopnames: Rimski-Korsakof se tweede simfonie en Russiese Paasfeesouverture (Philharmonia Orkes); Skriabin se Le poème de l’extase (BBC Proms 1968); Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker (Covent Garden 1996). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Balakiref, Khrennikof, Rachmaninof en Rimski-Korsakof, asook Elgar se tweede en ‘n aantal van Miaskofski; orkeswerke van Arenski, Balakiref en Tsjaikofski; Debussy se La Mer; Elgar se Sea Pictures (met die mezzo Larissa Awdejewa); Glazoenof se ballet Die Seisoene; ‘n versameling orkeswerke van Glinka; uittreksels uit Khatsjatoerian se ballette Gayaneh en Spartacus; Rimski-Korsakof se Sheherazade; Skriabin se Le poème de l’extase (Moskou en Parys); en Tsjaikofski se ballet Swanemeer.

Switsers-Italiaanse Orkes (Orchestra della Svizzera Italiana), Switserse orkes wat in Lugano gebaseer is. Die ensemble se voorloper is in 1933 gestig en twee jaar later is die naam Switsers-Italiaanse Radio-orkes aan hul toegeken. Met die koms van die beeldradio is ‘Televisie’ by die naam gevoeg, tot 1991 toe die huidige naam verkry is. Onder komponiste wat werke vir hul geskryf het, tel Richard Strauss (die Duet-Concertino), Wolf-Ferrari, Strawinski, Hindemith, Henze en Berio. Die orkes se hoofdirigente was Leopoldo Casella (1933-68), Marc Andreae (1969-90), Nicholas Carthy (1993-96), Serge Baudo (1997-2000) en Alain Lombard (1999-2005). Vanaf 2008 tot 2010 was Mikhail Pletnjef hul hoofgasdirigent.

Sydney Simfonie-orkes, Australiese orkes wat in 1932 as ‘n uitsaai-orkes gestig is met Joseph Post as eerste dirigent. Sedertdien het hul hoofdirigente ingesluit Eugene Goossens (1947-56), Nicolai Malko (1957-61), Dean Dixon (1963-7), Moshe Atzmon (1969-71), Willem van Otterloo (1973-8), Louis Frémaux (1979-81), Charles Mackerras (1982-5), Zdenek Mácal (1986), Stuart Challender (1987-91) en sedert 1993 Edo de Waart. Die meerderheid van die orkes se konserte word in die indrukwekkende Sydney Operahuis aangebied.

Székely, Zoltán (1903-), Hongaars-gebore violis en komponis. Hy was 'n leerling van die komponis Kodály en het in 1937 by die Hongaarse Strykkwartet aangesluit. Dit het meegebring dat hul stigter, die violis Sándor Végh, die ensemble verlaat het, waarna hulle deur Székely gelei is. As solis was hy veral bekend in die musiek van Bartók, wat sy tweede vioolkonsert en Rapsodie vir Viool en Klavier nr. 2 vir hom geskryf het. Hy het in 1938 in Amsterdam die eerste uitvoering van eersgenoemde werk gegee en hom in 1949 in die VSA gevestig, waar hy aan verskeie universiteite onderrig gegee het.

Szell, George (1897-1970), Hongaars-gebore pianis, dirigent en komponis. Hy het in Wenen grootgeword en in die Oostenrykse hoofstad asook in Leipzig studeer. Aanvanklik was hy as pianis en komponis bekend, met ‘n solodebuut wat op tienjarige ouderdom in Wenen gemaak is. Dit is later gevolg deur ‘n dirigeerdebuut as sewentienjarige met die Berlynse Filharmoniese Orkes in een van sy eie komposisies. Hy het vervolgens dirigeerposte beklee by die Strasbourg Opera (1917/8, op aanbeveling van Richard Strauss), die Duitse Opera in Praag (1919-21), in Darmstadt (1921/2), Düsseldorf (1922-4), by die Berlynse Staatsopera (1924-9), weer in Praag (1930-6), en by die Skotse Orkes in Glasgow (1936-9). Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy na die VSA geëmigreer, waar hy by die Mannes Musiekskool in New York onderrig sou gee. Vanaf 1942 het hy vir vier jaar by die Metropolitan Opera gedirigeer, waar hy met ‘n opvoering van Salome gedebuteer het. In 1946 het hy ‘n Amerikaanse burger geword, sowel as hoofdirigent van die Cleveland Orkes. Hy sou dié pos tot aan die einde van sy lewe beklee en wêreldwyd met hulle toer. Onder sy leiding wat as despoties beskryf is, het die Cleveland Orkes wêreldberoemd geraak vir die presisie van hul spel, wat deur intense, veeleisende inoefeninge verkry is. ‘n Dokumentêre film oor die dirigent en orkes getiteld One Man’s Triumph is in 1966 gemaak en later op DVD uitgereik.

Szell se debuut by die Salzburg-fees is in 1949 met ‘n opvoering van Der Rosenkavalier gemaak, met sy enigste opname van ‘n volledige opera wat daarvan getuig. Tot aan die einde van sy lewe sou hy dikwels in Salzburg dirigeer. As gasdirigent het hy dikwels met groot Europese orkeste soos die Amsterdam Concertgebouw, die Dresden Staatskapelle en die Londense Simfonie-orkes opgetree. Met sy intellektuele, gedissiplineerde vertolkings was hy een van die twintigste eeu se voorste dirigente in die Duitse Klassiek-Romantiese simfoniese repertorium. Op die persoonlike vlak was hy bekend vir sy enorme musiekgeheue en sy snydende gevatheid, wat hom dikwels ongewild gemaak het. Sleutelopnames (Cleveland tensy anders aangedui): Kodály se Háry János Suite (1969); Mahler se vierde simfonie (1966) en Des Knaben Wunderhorn (Londen 1968); Mozart se simfonieë nrs. 35, 40 en 41 (laat 1950’s); Prokofiëf se Luitenant Kijé Suite; Richard Strauss se toondigte Tod und Verklärung en Symphonia domestica; ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas (1962 en 1968); Walton se tweede simfonie, Hindemith Variasies en Partita. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Brahms en Schumann, en ‘n aantal van Bruckner, Haydn, Mahler (nr. 10, onvoltooid), Schubert (nr. 9) en Sibelius; Dvorák se volledige Slawoniese Danse; Handel se Koninklike Vuurwerke en Watermusiek suites; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; Mozart se Serenades nrs. 9 en 13; orkeswerke van Mendelssohn en Schubert; en die opera Tannhäuser (Met 1954).

Szeryng, Henryk (1918-88), Pools-gebore violis. Nadat hy in Berlyn onder Carl Flesch en in Parys onder Jacques Thibaud studeer het, het hy in 1933 sy debuut in die Duitse hoofstad met Brahms se vioolkonsert gemaak. In dieselfde jaar het hy na die VSA geëmigreer. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ses jaar later was hy ‘n vertaler vir die Poolse regering in ballingskap in Londen. In 1941 is hy na Suid-Amerika om tuistes vir vierduisend Poolse vlugtelinge te help vind. Later het hy in Meksikostad gaan woon, waar hy vir langer as drie dekades aan die konserwatorium onderrig sou gee. Tydens die oorlog het hy meer as driehonderd konserte vir Geallieerde soldate gegee, en in 1946 het hy 'n Meksikaanse burger geword. Vanaf die 1950’s het hy wêreldwyd getoer, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1965 gemaak is. As besonder intellektuele virtuoos het hy veral in Bach en Paganini se musiek uitgeblink. Met sy meesterlike tegniek en soet toonkleur was hy ewe briljant in die res van die Klassieke tot vroeg-moderne repertoriums. Sleutelopnames: Mozart se vioolsonates 17-25 (met Ingrid Häbler). Verdere opnames: die volledige vioolsonates en -partitas van Bach; die volledige vioolkonserte van Mozart; vioolkonserte van Bartók, Berg, Brahms en Tsjaikofski; Debussy se La plus que lente; Leclair se Vioolsonate in D; Novácek se Perpetuum mobile; en Ravel se Tzigane.

Szidon, Roberto (1941-), Brasiliaanse pianis. Hy het sy debuut in Porto Alegre op negejarige leeftyd gemaak. Later het hy ‘n internasionale loopbaan begin volg, en mettertyd het hy hom in Genève gevestig. In 1971 het hy voortreflike opnames van Skriabin se volledige klaviersonates gemaak, insluitend die Sonata fantaisie. Verdere opnames: Gershwin se klavierkonsert; Ives se klaviersonate nr. 2; Liszt se volledige Hongaarse rapsodieë en Rhapsodie espagnole; Macdowell se klavierkonsert nr. 2; en ‘n versameling solo- en duetwerke van Villa-Lobos (lg. met Richard Metzler).

Szigeti, Josef (1892-1973), Hongaars-gebore violis. Hy het in 1905 in Berlyn gedebuteer en twee jaar later ook in Londen, waarna hy tot 1913 in die Britse hoofstad gewoon het. Vanaf 1917 het hy vir sewe jaar aan die Geneefse Konserwatorium onderrig gegee, terwyl hy wyd deur Europa, Asië en die VSA getoer het. In 1922 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer met ‘n vioolkonsert van Mozart, onder die dirigeerstaf van Richard Strauss. Drie jaar later het sy New York-debuut met Beethoven se vioolkonsert gevolg, en in 1926 het hy hom in die VSA gevestig. Sy 1938-opname onder Charles Munch van Bloch se vioolkonsert, wat vir hom geskryf is, was só gesaghebbend dat selfs Yehudi Menuhin byna 30 jaar gewag het voordat hy die werk opgeneem het. Hy het in 1940 in Washington, D.C. ‘n gevierde uitvoering van Beethoven se Kreutzer sonate met die komponis Béla Bartók as klavierbegeleier gegee, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. In 1951 het hy 'n Amerikaanse burger geword, maar agt jaar later het hy in Switserland gaan woon. Onder die verdere premières wat deur hom gegee is, tel vioolkonserte van Harty (1909) en Busoni (1912). Hy was een van die virtuose vir wie Ysaÿe sy Sonates vir soloviool (1924) geskryf het. Daarbenewens het hy kadenzas geskryf en verwerkings vir viool en klavier gedoen, insluitend een van Elgar se Serenade (1932). Met sy elegante, intelligente spel was hy veral bekend in Bartók en Prokofiëf se musiek, maar sy repertorium het terug tot by Bach gestrek. Verdere opnames: Bartók se Rapsodie nr. 1 en Contrasts; Bloch se Baal Shem; vioolkonserte van Beethoven, Busoni, Mendelssohn, Mozart (nr. 4) en Prokofiëf (nr. 1); en vioolsonates van Debussy, Ives en Schubert.

Szokolay, Balázs (1961-), Hongaarse pianis. Sy moeder was ‘n pianis en sy vader ‘n hoogleraar aan die Franz Liszt Akademie in sy geboortestad Boedapest. Hy het op vyf met klavierlesse begin en in 1970 aan die Boedapest Musiekakademie ingeskryf. Daar het hy onder Pál Kadosa and Zoltán Kocsis studeer, en in 1983 gegradueer. Later het hy met ‘n beurs van die Duitse regering vir twee jaar aan die München Musiekakademie studeer. Intussen het hy in 1979 by die Salzburg Interforum gedebuteer, en in 1983 het hy Brahms se eerste klavierkonsert in Belgrado uitgevoer. Hy gee wyd deur Europa konserte en het in 1987 die internasionale Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen. Tans is hy as solis aan die Hongaarse Staatsorkes verbonde. Opnames: ‘n versameling solowerke van Bartók; Clementi se klaviersonates opus 24/2, 25/2&5 en 37/2, en 6 Sonatinas opus 36; en 2 versamelings van Grieg se Liriese Stukke.

T

Taddei, Giuseppe (1916-2010), Italiaanse bariton. Hy het in 1936 sy debuut in Rome gemaak as die Herout in Lohengrin. In 1946/7 het hy by die Weense Opera opgetree, en in laasgenoemde jaar is sy Londense debuut as Scarpia in Tosca gemaak. Byna vier dekades later, in 1986, sou hy dieselfde rol by die Weense Staatsopera ter viering van sy sewentigste verjaardag sing. Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1948), in San Francisco (1957), Chicago (1959), Covent Garden (1960) en die Metropolitan Opera (1985). Hy was wêreldbekend in Italiaanse opera, in sowel komiese as ernstige rolle. Daaronder tel Dulcamara in L'elisir d'amore, Tonio in I Pagliacci, Guglielmo in Così fan tutte, Leporello in Don Giovanni, Geronte in Manon Lescaut, Amonasro in Aida, en die titelrolle in Le nozze di Figaro, Falstaff en Macbeth. Hy het uitgeblink as Falstaff in opvoerings onder Tullio Serafin (La Scala 1956) en Herbert von Karajan (Salzburg 1980), met DVD’s wat van beide getuig. Verdere opnames: die operette Der Zarewitsch; en die genoemde operas van Donizetti, Leoncavallo, Mozart, Puccini en Verdi.

Tafelmusik, Kanadese ensemble wat in 1979 gestig is. Hulle is in Toronto gebaseer, spesialiseer in musiek van die Barok- en Klassieke tydperke, en bespeel eietydse instrumente. Die orkes het ‘n permanente ledetal van 19 spelers en word deur ‘n kamerkoor aangevul. Sedert 1981 is Jean Lamon die musiekdirekteur. Jaarlikse toere word deur Noord-Amerika en Europa onderneem, en soms ook wyer, soos na Israel en Griekeland (1997), en die Verre Ooste (1998). Hulle het in 1993 die residensiële orkes van die Irsee-fees in Beiere, Duitsland geword. In 1996 is Duitsland se hoogste opname-toekenning, die Echo Klassik, aan die orkes toegeken. Onder die dirigeerstaf van Bruno Weil is hulle tans besig met ‘n projek om die volledige simfonieë van Haydn op te neem. Sleutelopnames: Telemann se Don Quixote, Alster Suite en La Bourse suites; Vivaldi se Strykerkonserte RV 129, RV 151 en RV 157. Verdere opnames: Bach se 6 Brandenburgkonserte; ‘n versameling kerkmusiek van Avison, D. Scarlatti en Vivaldi getiteld Salve Regina, Stabat Mater; Rameau se Dardanus Suite en Le temple de la gloire Suite; en Vivaldi se Vier Seisoene (met Lamon as solis).

Tagliavini, Ferruccio (1913-95), Italiaanse tenoor. Hy het in 1939 sy operadebuut in Florence as Rodolfo in La Bohème gemaak. Twee jaar later is hy deur die legendariese dirigent Victor de Sabata gekies om as solis in ‘n historiese radio-uitsending van Mozart se Requiem te sing, met ‘n opname wat daarvan getuig. Vanaf 1942 tot 1953 was hy aan La Scala verbonde, waar hy die voorste liriese tenoor was. Hy het ook gesing in Buenos Aires (1946/7) en Chicago (vanaf 1946), en by die Metropolitan Opera (1947-54) en Covent Garden (vanaf 1950). Met sy soet stem en ligte toonkleur het sy bekendheid veral in bel canto rolle soos Edgardo in Lucia di Lammermoor gelê. By die Met het hy in ‘n klassieke opname van dié opera teenoor Lily Pons gesing, en later weer in 1959 teenoor Maria Callas in ‘n Londense opname onder Tullio Serafin. Hy was vir ‘n paar jaar getroud met die sopraan Pia Tassinari, wat in 1930 in die eerste opname van Falstaff ‘n karaktervolle vertoning as Alice gelewer het. Hulle het saam in ‘n historiese opname van die finale kwartet uit La Bohème gesing, en daarby was sy ook ‘n solis in die genoemde 1941-opname van Mozart se Requiem.

Takács, Klara (1945-), Hongaarse sopraan. Sy was vanaf 1973 ‘n lid van die Hongaarse Staatsopera en het twee jaar later die Erkel-kompetisie in Boedapest gewen. In 1986 het sy met die Weense Opera deur Japan getoer en die volgende jaar het sy in Buenos Aires gedebuteer, as Charlotte in Werther. Sy blink ook uit in rolle soos Neris in Medea, die titelrol in Die Königin von Saba en Eudossia in La Fiamma. Daarby is sy ‘n begaafde sanger in konsertwerke van onder andere Haydn, Liszt, Mahler en Mozart. Opnames: Kodály se Háry János; Liszt se Hongaarse Kroningsmis en Missa solemnis; en die laasgenoemde drie operas, asook Nerone en L’Olimpiade.

Takács Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1975 gestig is. Hulle het die internasionale kompetisies in Evian (1977) en Portsmouth (1979) gewen, en deur Europa, die Verre Ooste en die VSA getoer. In 1982 het hulle Hongarye verlaat en sedert die jaar daarop is hulle aan die Universiteit van Colorado verbonde. Hul debuut by die Salzburg-fees het in 1987 plaasgevind. Vanaf 1988 het hul vir drie jaar meesterklasse by die Guildhall Musiekskool aangebied. Gedurende 1991/2 het hulle volledige siklusse van Bartók, Beethoven en Mozart se strykkwartette in verskeie Wes-Europese stede gespeel. Hul weldeurdagte spel word deur onberispelike tegniek gekenmerk. Sleutelopnames: Bartók se 6 strykkwartette; Beethoven se volledige strykkwartette. Verdere opnames: Haydn se kwartette nrs. 81-83; Chausson se Konsert vir klavier, viool en strykkwartet (met Bell en Thibaudet); en Schubert se strykkwintet (met Miklós Perényi as ekstra tjellis).

Talbot, Desirée (1926-), Suid-Afrikaanse sopraan. Sy het in haar geboortestad Kaapstad studeer, waarna sy in Brittanje gaan sing het. In dié land het sy in die eerste Britse verhoogproduksie van Bloubaard se Kasteel gesing en in konserte in Londen opgetree. Verdere studies is in Milaan onder Gina Cigna, ‘n beroemde vertolker van die titelrol in Turandot, onderneem. Daarop het sy na haar geboorteland teruggekeer en bekendheid in opera verwerf. Sy het in meer as 500 opvoerings van 28 operas gesing. Daaronder tel ‘n 1965-opvoering (wat opgeneem is) van Turandot in Kaapstad, waarin sy as Liu uitgeblink het. Daarby was sy ‘n hoogleraar in sang aan die Universiteit van Kaapstad.

Talich, Václav (1883-1961), Tsjeggiese violis en dirigent. Hy was ‘n leerling van die beroemde dirigent Artur Nikisch en orkesleier in die Berlynse Filharmoniese Orkes (1903/4). Daarna het hy in Tiflis vioolonderrig gegee (1905-7), en was hy dirigent van die Ljubljana Filharmoniese Orkes (1908) en die Pilsen Opera (1912-5). Vanaf 1919 tot 1931 en weer vanaf 1933 tot 1941 was hy hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes, waartydens hulle wêreldbekend deur toere en opnames geword het. Sy vertolkings is gekenmerk deur ‘n besondere ritmiese beheer en subtiele buigsaamheid, asook ‘n bereidheid om dit te heroorweeg uit nederigheid teenoor die musiek. Vanaf 1935 het hy en sy Tsjeggiese orkes ‘n jaarlikse besoek aan Londen gebring, met historiese opnames van Dvorák se sewende en agste simfonieë, Slawoniese Danse en Karnaval ouverture wat daarvan getuig. Intussen was hy vanaf 1926 tot 1936 ook hoofdirigent van die Stockholm Filharmoniese Orkes. Daarby was hy vanaf 1935 artistieke direkteur van die Praag Nasionale Opera, waar hy twee keer (in 1945 en 1948) deur die kommunistiese owerhede ontslaan en heraangestel is. Hy het in 1949 die Slowaakse Filharmoniese Orkes in Bratislawa gestig, wat hy vir die volgende drie jaar sou dirigeer. Later was hy gasdirigent van die Tsjeggiese Filharmonie (1952-4), waartydens hul die eerste opname van sy vriend Josef Suk se Asrael Simfonie gemaak het. In 1954 is hy by die Praag Opera heraangestel. Hy het in 1956 uitgetree, maar het voortgegaan om onderrig in Praag en Bratislawa te gee. Sy bekendheid het in beide opera en konserte gelê, veral in die musiek van sy landgenote. Verdere opnames: Benda se Strykersimfonie, Dvorák se negende simfonie, Janácek se Taras Bulba, Novák se Slowaakse Suite, Smetana se Má vlast (3 weergawes) en Praag Karnaval, en Suk se Strykerserenade.

Tallis Scholars, Britse koor wat in 1973 deur Peter Phillips gestig is (sien verder onder Phillips, Peter).

Talvela, Martti (1935-89), Finse bas. Hy het in 1961 in Stockholm gedebuteer as Sparafucile in Rigoletto. Aanvanklik was hy aan die Koninklike Opera in die Sweedse hoofstad verbonde, met verdere debute wat gevolg het by Bayreuth (1962), La Scala (1964), en die Salzburg-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1968). Vanaf 1972 was hy vir sewe jaar artistieke direkteur van die Savonlinna Operafees in Finland. Teen die einde van sy sangloopbaan is hy as direkteur van die Finse Nasionale Opera aangestel, maar hy het gesterf voordat hy die pos kon vul. Hy was 'n uitmuntende sanger in Wagner-rolle soos Daland in Der fliegende Holländer, Titurel in Parsifal, Koning Mark in Tristan und Isolde, Fasolt in Das Rheingold en Hunding in Die Walküre. Ook was hy begaafd as Sarastro in Die Zauberflöte, en in beide die titelrol en as Pimen in Boris Godoenof. Daarbenewens was hy bekend in konsertmusiek, veral in gewyde werke. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Schmidt-Isserstedt) en Missa solemnis (onder Klemperer); Haydn se Die Jahreszeiten (onder Böhm); Mahler se agste simfonie (onder Solti); Verdi se Requiem (onder Solti); die genoemde operas van Moessorgski, Mozart, Verdi en Wagner, asook Fidelio en Die Laaste Versoekings.

Tamaki, Miura (1884-1946), Japannese sopraan. Sy het aan ‘n musiekskool in Tokio studeer, onder die komponis Taki Rentaro. Haar debuut is in 1903 gemaak, in Japan se eerste musiekopvoering van Orpheus. Later is sy na Engeland om haar musiekloopbaan te bevorder. Daar is sy deur die beroemde dirigent Henry Wood genooi om in die ‘Royal Albert Hall’ te sing. Dit was ‘n klinkende sukses, waarna sy begin het om die titelrol in Madama Butterfly te sing. Dit sou haar beste rol word, soveel so dat Puccini haar as die ideale vertolker van Butterfly sou beskou. Sy het in 1936 na die dood van haar tweede man na Japan teruggekeer, en tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy met haar klavier langs die Yamanaka-meer gaan woon. Daar het sy voortgegaan om te sing, maar met die beeïndiging van die oorlog in 1945 het sy siek geword. Sy is in die jaar daarop dood en langs die meer begrawe, met die volgende gedig op haar grafsteen: “‘n Prima donna se hart is gevul met patriotisme, anders is sy nie ‘n ware kunstenaar nie”.

Tan, Melvyn (1956-), Maleisies-gebore Britse klawerbordspeler. Hy het tot 1980 klavier gespeel en toe na die fortepiano oorgeslaan, waarin hy deur sommige kenners as die voorste eksponent ter wêreld beskou is. In 1985 het hy deur die VSA getoer en tien jaar later het hy weer begin om die klavier te bespeel. Met sy briljante, sensitiewe spel is hy uitmuntend in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium. Naas sy optredes as solis tree hy soms as begeleier vir die mezzosopraan Anne Sofie von Otter en die tjellis Steven Isserlis op. Opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven en sy Koorfantasie (almal onder Norrington), en sy klaviersonates nrs. 1-3, 5-7, 11, 13, 14, 16-21, 23, 25 en 26; Mozart se Driedubbele klavierkonsert (met Bilson en Levin), en klavierkonserte nrs. 18, 19, 20, 23, 24 en 25; Schubert se 8 Impromptus, 3 Klavierstücke en 6 Moments musicaux; en Weber se Konzertstück.

Tanglewood, ‘n landgoed in Massachussetts, VSA waar beide ‘n musieksentrum en ‘n musiekfees gehuisves word. By die musieksentrum word onderrig in dirigeerkuns, sang- en instrumentele uitvoering en komposisie gegee tydens ‘n jaarlikse somerskool, wat in 1940 deur die beroemde dirigent Sergei Koussewitzki gestig is. By die Berkshire-musiekfees tree die Boston Simfonie-orkes, aan wie die landgoed in 1937 geskenk is, met hul hoofdirigent en gaskunstenaars op. Die Amerikaanse premières van ‘n hele aantal operas is daar opgevoer.

Tate, Jeffrey (1943-), Engelse dirigent wat aanvanklik as mediese praktisyn opgelei is. Hy was vanaf 1971 vir ses jaar ‘n repetiteur by Covent Garden, en in 1976 was hy Pierre Boulez se assistent met die eeufees-opvoering van die Ring-siklus by die Bayreuth-fees. In dieselfde jaar het hy Maria Callas tydens haar afskeidskonsert in Parys as pianis begelei. Twee jaar later is sy dirigeerdebuut by die Göteborg Opera gemaak met ‘n opvoering van Carmen, en daarna was hy tot 1980 'n assistent-dirigent by die Keulen Opera. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1980), Covent Garden (1982), in San Francisco (1984) en by die Salzburg-fees (1985). Hy is ewe bekend in opera en konserte, en weens ruggraatverkromming dirigeer hy sittende. Vanaf 1985 was hy hoofdirigent van die Engelse Kamerorkes, en vanaf 1986 tot 1991 het hy ook dié pos by Covent Garden beklee. Hy was vanaf 1991 vir vier jaar musiekdirekteur van die Rotterdam Filharmoniese Orkes. In 2001 het hy die Australiese première van Parsifal in Adelaide gedirigeer. Opnames: Beethoven se Missa Solemnis; orkeswerke van sy landgenote Bax, Bridge, Butterworth en Moeran; Mozart se simfonieë nrs. 25-41; ‘n versameling Wagner-ouvertures; en die operas Lulu, Hänsel und Gretel, Les Contes d’Hoffmann en Arabella.

Tátrai, Vilmos (1912-), Hongaarse violis. Nadat hy in orkeste in Boedapest en Buenos Aires gespeel het, was hy vanaf 1940 tot 1978 leier van die Hongaarse Staatsimfonie-Orkes. In 1946 het hy die Tátrai Kwartet gestig, wat ‘n repertorium van ongeveer 360 werke het en meer as honderd eerste uitvoerings van moderne werke gegee het. Hy het ook vanaf 1947 tot 1954 vioolonderrig aan die Bartók-Konserwatorium gegee en in 1957 die Hongaarse Kamerorkes gestig. Vanaf 1965 was hy 'n hoogleraar aan die Liszt-Akademie in Boedapest.

 

Tauber, Richard (1892-1948), Oostenryks-gebore tenoor en komponis. Hy is aanvanklik as dirigent opgelei, maar het na sang oorgeslaan en in 1913 in Chemnitz sy debuut as Tamino in Der Zauberflöte gemaak. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Dresden (1913-22) en Berlyn (1915), en aan die Weense Staatsopera (1922-8 en weer 1933-8). Vanaf 1922 tot 1933 was hy ‘n lid van die Berlynse Staatsopera, met verdere debute wat plaasgevind het by die Salzburg-fees (1922) en in die VSA (1931). Hy is allerweë as die wêreld se voorste tenoor van sy tyd in Mozart-rolle beskou, en was ook ‘n bekende liedere-sanger. Sy grootste roem was egter in sy ongeëwenaarde vertolkings van sy goeie vriend Franz Lehár se operettes. Hy het rolle in verskeie van Lehár se operettes geskep, waaronder Frasquita (1922), Paganini (1925) en Das Land des Lächelns (1929). Dieselfde geld vir Lehár se enigste opera, Giuditta, wat in 1934 by die Weense Opera vir die eerste keer opgevoer is. As Jood aan moederskant het hy Duitsland verlaat met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname (1933) en in Oostenryk gaan woon. Die emigrasie sou vyf jaar later herhaal word met die Nasionaal-Sosialistiese oorname van sy geboorteland. In 1938 het hy hom in Engeland gevestig, waar hy by Covent Garden gesing en in 1940 ‘n Britse burger geword het. Daar het hy ook die rol van Schubert gespeel in ‘n musiekblyspel en ‘n rolprent oor dié musiekreus se lewe (onderskeidelik Lilac Time en Blossom Time). Sy laaste optredes is in 1947 in Londen en New York gemaak, as Ottavio in Don Giovanni. Hy is aan die jaar daarop aan longkanker oorlede, slegs enkele maande voordat Lehár ook gesterf het. Tauber het self musiekblyspele geskryf, waaronder Old Chelsea redelik bekend is. Onder die klassieke opnames wat deur hom nagelaat is, tel ‘n versameling opera-arias en -duette, laasgenoemde met Lotte Lehmann en Elisabeth Rethberg.

Tausky, Vilém (1910-2004), Tsjeggies-gebore dirigent en komponis. Sy moeder was ‘n sangeres by die Weense Hofopera onder Mahler, en op 6 het hy haar en Magda Dvoráková in ‘n uitvoering van Dvorák se Morawiese Duette op die klavier begelei. Op sewentien het hy aan die Brno Konserwatorium begin studeer, met die komponis Janácek as sy opsiener. Hy het in 1930 gegradueer, maar reeds in sy tweede studiejaar as repetiteur by die Brno Opera begin werk. Vanaf 1929 het hy vir vier jaar die Brno Opera gedirigeer, insluitend opvoerings van Faust en Boris Godoenof met die legendariese bas Sjaljapin. Hy het in 1934 die première van Dvorák se eerste simfonie, wat die vorige jaar ontdek is, gedirigeer. Gedurende die 1930’s het hy ook as komponis van operettes naam gemaak, maar sy loopbaan daarin is deur die Nasionaal-Sosialistiese oorname van Tsjeggo-Slowakye in 1939 kortgeknip. As Jood het hy na Parys uitgewyk, waar hy ‘n Tsjeggiese leërorkes saamgestel het. Met die val van Frankryk in 1940 is hulle na Brittanje, en met die bombardering van Coventry later in dieselfde jaar het hy ‘n strykkwartet genaamd Coventry as huldeblyk geskryf.

In Brittanje was Tausky musiekdirekteur van die Carl Rosa Opera (1945-9) en die Walliese Nasionale Opera (1951-6), en hoofdirigent van die BBC Konsertorkes (1956-66). Verder het hy onderrig gegee aan die Nasionale Operaskool (1952-67), en was hy opera-direkteur van die Guildhall Musiekskool (1966-92) en vanaf 1967 artistieke direkteur van die Phoenix Opera. Hy sou ‘n Britse burger word, en het oor die jare pionierswerk vir die musiek van sy eertydse landgenote in Brittanje gedoen. Dit sluit in die Britse premières van Smetana se Má vlast (1942), Suk se Asrael Simfonie (1954), Janácek se operas Osud (1972) en Pocátek románu (1974), en Smetana se Die Brandenburgers in Bohemië (1994). Laasgenoemde sou sy laaste optrede as dirigent wees. In 1981 is die CBE aan hom toegeken vir sy dienste aan Britse musiek. Onder sy komposisies tel ‘n strykerserenade, twee tjellosonates, ‘n hobokonsert en ‘n mondfluitjiekonsert. Hy het 'n hoogstaande opname van Alwyn se opera Miss Julie nagelaat.

Tear, Robert (1939-2011), Walliese tenoor. Hy is in 1960 as leke-vikaris by die Sint Paulus-katedraal in Londen aangestel, waarna hy met die Ambrosian Singers gewerk het. In 1963 is sy operadebuut met die Engelse Operagroep gemaak, as Quint in The Turn of the Screw. Hy sou tot 1970 aan dié geselskap verbonde wees. In dié jaar het hy by Covent Garden gedebuteer, waar hy die rol van Dov tydens die première van Tippett se The Knot Garden sou skep. Hy het in 1979 in die eerste volledige opvoering van Berg se opera Lulu in Parys gesing, en verdere debute is gemaak by die feeste in Salzburg (1985) en Glyndebourne (1992). Sedert 1985 dirigeer hy soms, en in die jaar daarop het hy hoof van internasionale sangstudies aan die Koninklike Musiekakademie geword. Onder sy verdere rolle tel Bénédict in Béatrice et Bénédict, die Skilder in Lulu, Sali in A Village Romeo and Juliet, Hauk in Die Makropoulos-saak, Basilio in Le nozze di Figaro, Spalanzani in Les Contes d’Hoffmann, Altoum in Turandot, Achilles in King Priam, die titelrol in Hugh the Drover, Fenton in Sir John in Love en Loge in Das Rheingold.

Tear is ook ‘n begaafde liedere- en konsertsanger, met ‘n repertorium wat vanaf Monteverdi en Schütz tot diep in die twintigste eeu strek. Daaronder tel die titelrolle in Schubert se Lazarus en Elgar se The Dream of Gerontius, wat hy in voortreflike opnames onder Wolfgang Sawallisch en Alexander Gibson onderskeidelik gesing het. Sleutelopname: Berlioz se Requiem (onder Previn). Verdere opnames: kerkmusiek van Bach, Britten, Dyson, Elgar, Handel, Haydn, Schütz en Vaughan Williams; orkesliedere van Butterworth, Elgar, Strawinski en Vaughan Williams; liedere van Britten en Vaughan Williams; Beethoven se negende simfonie (onder Giulini, Hickox en Tennstedt) en Missa Solemnis; Berlioz se Roméo et Juliette; Britten se Spring symphony, War Requiem en Serenade vir tenoor, horing en strykers (met Alan Civil); Delius se A Mass of Life; Handel se Ode for St Cecilia's Day; Howells se Hymnus paradisi; Janácek se Glagolitic Mass; Mahler se Das Lied von der Erde (onder Wigglesworth) en Das klagende Lied; madrigale van Monteverdi, en sy Vespro della Beata Vergine; Rachmaninof se kantate Die Klokke; Tippett se The Mask of Time; Weill se ballet Die sieben Todsünden; die operette The Mikado; die genoemde operas van Berlioz, Berg, Delius, Janácek, Mozart, Offenbach, Tippett, Vaughan Williams en Wagner, asook Die Bassariden, Savitri, Die geslepe klein wyfievos (in Engels), Die Entführung aus dem Serail, Idomeneo, Lo sposo deluso, Manon Lescaut, The Indian Queen, Dame Macbeth van Mtsensk en The Ice-break.

Teatro alla Scala – sien La Scala.

Teatro Amazonas, operahuis in Manaus, Brasilië. Dit is op die laaste dag van 1896 ingewy, op ‘n tydstip toe die stad weens die rubber-oplewing kortstondig die hoogste per capita-inkomste ter wêreld geniet het. Die legendariese tenoor Caruso sou daar sing, maar met sy aankoms was die stad midde-in ‘n geelkoorsepidemie, sodat hy onverrigter sake na Europa moes terugkeer. Later sou die sopraan Adelina Patti en die ballerina Anna Pawlowa wel daar optree, en die komponis Elgar het daar aangedoen. Die opgeknapde teater is in 1990 deur José Carreras heropen, en sedert 1997 word ‘n jaarlikse operafees daar gehou.

Tebaldi, Renata (1922-2004), Italiaanse sopraan. Sy is gebore in Pesaro, die geboortestad van Rossini. Op 3 jaar het sy polio opgedoen, wat later sou meebring dat opvoerings by haar relatief statiese vertolkings aangepas moes word. Nadat sy genoegsaam daarvan herstel het, het sy aan die konserwatorium in haar geboortestad en daarna in Parma studier. Sy het in 1944 haar debuut in Rovigo as Elena in Boito se Mefistofele gemaak. Twee jaar later is sy deur Toscanini gekies vir die heropening van La Scala, waar sy as Mimì in La Bohème gedebuteer het. Volgens die maestro het sy die stem van 'n engel gehad, 'n mening wat mettertyd deur talle musiekliefhebbers beaam sou word. Sy sou later ewe beskeie meen dat Toscanini van haar gehou het omdat hul van dieselfde stad afkomstig was. Onder aanmoediging van Toscanini het sy gesing by La Scala (1946/47, 1949-54, en 1959), by San Carlo in Napels (1948/9) en in Florence (1949-53). Sy het spoedig die gewildste Italiaanse sopraan van haar tyd geword en internasionaal begin optree. Haar debuut by Covent Garden is in 1950 gemaak, in Verdi se Otello (as Desdemona) en sy Requiem, beide onder Victor de Sabata. In dieselfde jaar het haar Amerikaanse debuut in San Francisco plaasgevind, in die titelrol van Aïda. Vanaf 1955 was sy verbonde aan die Metropolitan Opera, waar sy as Desdemona gedebuteer het, tot haar uittrede in 1973 in dieselfde rol. Sy het in 270 opvoerings by die Met gesing, en het dikwels ook in Chicago en Philadelphia opgetree.

Met haar weelderige stem, ryk toonkleur en hartroerende vertolkings was Tebaldi een van die twintigste eeu se grootste sangeresse in Italiaanse opera, veral dié van Verdi en Puccini. Onder die verdere rolle waarin sy uitgeblink het, tel Margherita in Mefistofele, Maddalena in Andrea Chenier, Santuzza in Cavalleria rusticana, Minnie in La Fanciulla del West, Liù in Turandot, Amelia in Un ballo in maschera, Violetta in La Traviata, en die titelrolle in La Wally, Adriana Lecouvreur, La Gioconda, Madama Butterfly, Manon Lescaut en Tosca. Daarbenewens was sy uitmuntend in Italiaanse liedere. Haar roem het vroeg reeds aanleiding gegee het tot ‘n langdurige vete met haar tydgenoot Maria Callas. Daar is egter geen twyfel dat die tweestryd deur die media opgeblaas is nie, ter wille van sensasie. Anders as met Callas was toonkleur vir haar belangriker as karakterisering – ‘n benadering wat later deur bekende soprane soos Kiri Te Kanawa en Kathleen Battle gevolg sou word. In 1976 het sy uit die openbaar getree, met haar stem steeds in ‘n goeie toestand. Daarna sou sy baie tyd aan sangonderrig bestee. Ongewoon vir so ‘n gewilde persoonlikheid het sy nooit getrou nie. Sy is in haar latere tuisstad San Marino ná ‘n lang siekbed oorlede. Opnames: liedere van Bellini, Cimara, Donizetti, Gluck, Mascagni, Puccini, Rossini, A. Scarlatti, Tosti en Zandonai; en die genoemde operas van Boito, Catalani, Cilea, Giordano, Mascagni, Puccini en Verdi.

Te Kanawa, Kiri (1944-), Nieu-Seelands-gebore sopraan van Maori-afkoms. Sedert 1966 is sy woonagtig in Brittanje, waar sy gaan studeer het nadat sy reeds bekendheid in haar geboorteland verwerf het. Sy het in 1969 haar operadebuut by die Camden-fees gemaak, as Elena in Rossini se La donna del lago. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1970), Santa Fé (1971), die Glyndebourne-fees (1973), die Metropolitan Opera (1974) en die Salzburg-fees (1979). Sy is in dié tyd afgerig deur vermaarde dirigente soos Colin Davis en Georg Solti. In 1981 het sy op die troue van die Prins van Wallis en Diana Spencer in die Sint Pauluskatedraal in Londen gesing. Dit sou haar feitlik oornag ‘n huishoudelike naam maak onder miljoene mense wêreldwyd wat niks van opera weet nie, en in 1982 is sy tot dame geskep. Met haar ferm, romerige stem is sy uitmuntend in liriese operarolle, veral dié van Mozart, Puccini, Verdi en Richard Strauss. Dit sluit in Fiordiligi in Così fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, die Grafin in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Magda in La Rondine, die Grafin in Capriccio, die Marschalline in Der Rosenkavalier, Desdemona in Otello, Violetta in La Traviata, en die titelrolle in Manon Lescaut, Tosca en Arabella. Sy het stewig vertoon as die Grafin in Jean-Pierre Ponnelle se filmweergawe van Le nozze di Figaro (1976).

Te Kanawa is verder hoogs begaafd in konsertmusiek, in operettes (veral as Rosalind in Die Fledermaus), en in orkesliedere. Sy het in 2002 by die Washington Opera gedebuteer tydens ‘n herlewing van Barber se Vanessa, waarin sy die titelrol gesing het. Sleutelopnames: Mozart se Exsultate jubilate en Laudate Dominum (onder Colin Davis). Verdere opnames: Berlioz se liedere-siklus Les nuits d'été; Bernstein se musiekblyspel West Side Story (onder die komponis self); Brahms se Ein deutsches Requiem; Canteloube se Chants d'Auvergne; Fauré se Requiem; Handel se Messiah; ‘n versameling liedere uit Kern-blyspele (onder Tunick); Mahler se vierde simfonie (onder Solti); Richard Strauss se Vier letzte Lieder; Villa-Lobos se Bachianas Brasileiras nr. 5; die genoemde operette; die genoemde operas van Mozart, Puccini, Strauss en Verdi, asook Carmen, Eugene Onegin (in Engels) en I vespri siciliani; en ‘n versameling arias van Mozart, Puccini en Verdi (onder Pritchard en Maazel).

Temirkanof, Joeri (1938-), Russiese dirigent. Hy het in 1965 sy dirigeerdebuut met die Leningrad (tans Sint Petersburg) Opera gemaak, en in die jaar daarop het hy die Sowjet-dirigeerkompetisie gewen. Daarna was hy dirigent van die Leningrad Simfonie-orkes (1968-76), hoofdirigent van die Kirof Opera en Ballet (1977-88), en musiekdirekteur van die Sint Petersburg Filharmoniese Orkes (sedert 1988). Hy het dié vooraanstaande orkes, wat vir die vorige halfeeu onder die ysterhand van die briljante Jewgeni Mrawinski gespeel het, afgerig om ‘n meer buigsame benadering in hul spel te volg. Vanaf 1992 was hy ook hoofdirigent van die Koninklike Filharmoniese Orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Tsjaikofski in warmbloedige vertolkings opgeneem het. Hy het in 2000 musiekdirekteur van die Baltimore Simfonie-orkes geword. Tydens die 300-jarige viering van die stad Sint Petersburg in 2003 het hy die plaaslike filharmoniese orkes in ‘n galakonsert gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Grieg se Peer Gynt, Bruidsoptog en 4 Noorse Danse; Rachmaninof se Simfoniese Danse; Rimski-Korsakof se Sheherazade en Russiese Paasfeesouverture; Sjostakowitsj se simfonie nr. 13; en Strawinski se Vuurvoël en Pulcinella suites.

Tennstedt, Klaus (1926-98), Duits-gebore dirigent. Hy het as kind viool en klavier leer speel, en het as sestienjarige aan die Leipzig Konserwatorium begin studeer. Verdere studies het in Dresden gevolg, waar hy in 1945 as brandweerman gehelp het om lyke uit die puin te grawe nadat die pragtige kultuurstad deur Britse bomwerpers vernietig is. Weens ‘n groeisel op sy hand het hy van vioolsolis na dirigent oorgeslaan, maar hy is nogtans in 1948 aangestel as orkesleier van die die munisipale teater in Halle, die geboorteplek van die groot Barok-komponis Handel. Hy het in 1953 hoofdirigent van die Halle Opera geword, nadat hy in die vorige jaar sy debuut daar met Wagner-Régeny se Der Günstling gemaak het. Vanaf 1958 was hy vir ses jaar musiekdirekteur van die Mecklenburg Staatsteater. Hy het dikwels ook die Leipzig Gewandhaus Orkes en die Dresden Opera gedirigeer. Sy laaste pos in die voormalige Oos-Duitsland was dié van musiekdirekteur van die Schwerin Opera (1962-71), voordat hy in 1971 na die Weste uitgewyk het. In dié wêrelddeel het hy eers in Skandinawië by die Stora Teater in Göteburg en die Sweedse Radio-orkes gewerk, totdat hy musiekdirekteur van die Kiel Opera geword het. Sy internasionale deurbraak het in 1974 plaasgevind met suksesvolle optredes in Toronto en Boston, en twee jaar later het hy in Londen begin dirigeer.

Later was Tennstedt hoofgasdirigent van die Minnesota Orkes, hoofdirigent van die Noord-Duitse Radio Simfonie-Orkes (1979-82) en musiekdirekteur van die Londense Filharmoniese Orkes (1982-87). Met laasgenoemde het hy die volledige simfonieë van Mahler in hoogaangeskrewe vertolkings opgeneem. Hy het in 1982 by die Salzburg-fees gedebuteer en in die jaar daarop by die Metropolitan Opera, in laasgenoemde geval met Fidelio. Helaas het keelkanker in 1987 tot ‘n inkorting van sy loopbaan gelei. Hy het in 1994 uitgetree nadat hy ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Oxford ontvang het. Met sy intense, lewenskragtige dirigeerstyl was hy hoogs begaafd in die Duitse Romantiek, veral die musiek van Bruckner en Mahler. Hy het ‘n besondere aanvoeling gehad vir laasgenoemde musiekreus, met wie se strydvolle lewe hy hom vereenselwig het. As konsertbegeleier was hy gewild onder soliste, waartoe sy vroeë ervaring as solis en repetiteur ongetwyfeld bygedra het. Sy gunsteling-stokperdjie was sterrekunde, en met sy teleskoop het hy dikwels snags die hemelruim bekyk en opnuut besef hoe klein en onbelangrik ons is, soos hy dit self beskryf het. Geen wonder dat beskeidenheid een van sy uitstaande eienskappe was nie - verdere bevestiging van sy grootsheid. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven, Bruckner (nrs. 4 en 8), Dvorák en Mendelssohn; Brahms se Ein deutsches Requiem; Janácek se Sinfonietta; Mahler se Das Lied von der Erde; en twee versamelings orkesuittreksels uit Wagner-operas (Berlyn 1981 en 1983, en Londen 1988).

Terfel, Bryn (1965-), Walliese bas-bariton. Hy het in 1988 die Kathleen Ferrier-gedenkbeurs bekom en in die jaar daarop die liedere-prys by die internasionale sangkompetisie in Cardiff gewen. Ook in 1989 was hy ‘n solis in John Eliot Gardiner se uitvoering van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine in Venesië, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is. In 1990 het sy operadebuut met die Walliese Nasionale Opera gevolg, as Guglielmo in Così fan tutte. Daarna het hy debute gemaak in Santa Fé (1991), by Covent Garden en die Salzburg-fees (1992), in Chicago en Wenen (1993), en by die Metropolitan Opera (1994). Met sy besondere stemkrag, enorme toonomvang en gevoelvolle sang is hy uitmuntend in opera, veral dié van Mozart, asook in konsertwerke en liedere oor 'n wye repertorium. Onder sy bekende rolle tel Henry Cuffe in Gloriana, Baron Mirko in Die lustige Witwe, Masetto in Don Giovanni, die Orakel in Idomeneo, die titelrol in Le nozze di Figaro, Scarpia in Tosca, Jokanaan in Salome, Nick Shadow in The Rake’s Progress, die titelrol in Falstaff en Wolfram in Tannhäuser. Sedert 2010 blink hy uit voorts as Wotan in die Ring-siklusse by die Met. Voeg daarby sy warm verhoogpersoonlikheid, en dit verbaas nie dat hy een van die gewildste sangers van sy tyd is nie. Sleutelopnames: Delius se Sea Drift (onder Hickox); Vaughan Williams se Dona nobis pacem en Sancta civitas (beide onder Hickox); Verdi se opera Falstaff (onder Abbado). Verdere opnames: kerkmusiek van Elgar, Mendelssohn, Mozart en Walton; Beethoven se negende simfonie (onder beide Abbado en Mackerras) en Leonore Prohaska; Berlioz se La damnation de Faust; Ireland se Greater love hath no man en These things shall be; Mahler se agste simfonie (onder Abbado); Schumann se Szenen aus Goethes Faust (in die titelrol); Zemlinsky se Liriese Simfonie; orkesliedere van Elgar en Ireland; liedere van Butterworth, Finzi, Ireland, Rodgers, Schubert, Vaughan Williams en Meiron Williams; die genoemde operette van Lehár; die genoemde operas van Britten, Mozart, Puccini, R. Strauss en Strawinski; en ‘n versameling Wagner-arias (onder Abbado).

Tertis, Lionel (1876-1975), Britse altvioolspeler, seun van ‘n Russiese vader en ‘n Poolse moeder wat beide Britse burgers geword het. Hy het in Leipzig en Londen studeer, en daarna as solis deur Europa en die VSA begin toer. Verder was hy eerste altviolis in die orkeste van Queen’s Hall (1900-4) en van Thomas Beecham (1909). Vanaf 1901 was hy as hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie verbonde, en daarby het hy in verskeie strykkwartette gespeel, waaronder dié van Désiré Défauw (1914-8). In 1936 het hy amptelik uitgetree, maar op die ouderdom van 87 jaar het hy vir oulaas ‘n openbare optrede gegee. Hy het die moontlikhede van sy indertyds onderskatte instrument, waarvoor hy ‘n lewenslange kampvegter was, uitgebrei en 'n boek daaroor geskryf. Verskeie Britse komponiste, waaronder Bax, Bliss en Scott, het werke vir hom geskryf. Hy het ook die altviool wat na hom vernoem is, ontwerp en talle werke vir die altviool verwerk. Daaronder tel Elgar se vioolkonsert, Delius se vioolsonates en Brahms se klarinetsonates. Die CBE is in 1950 aan hom toegeken.

Tetrazzini, Luisa (1871-1940), Italiaanse sopraan. Sy het as negentienjarige haar debuut in Florence gemaak, as Inez in L’Africaine. Vanaf 1898 het sy in Argentinië gesing, waar sy vir ‘n tyd lank gewoon het. Sy het vanaf 1904 in San Francisco opgetree en vanaf die jaar daarop in Meksikostad. Daarna het sy wyd deur Europa en die VSA opgetree, onder andere by Covent Garden (vanaf 1907), die Manhattan Opera (1908-10), die Chicago Opera (1911-3) en die Metropolitan Opera (vanaf 1920). Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het sy liefdadigheidskonserte in Italië gegee, en vanaf 1918 tot 1934 het sy meesal in konserte opgetree. Sy het in 1931 uit opera getree en 'n leermeester in Milaan geword. Met haar ryk stem en suiwerheid in hoë note was sy veral bekend in koloratuurrolle soos die titelrol in Lucia di Lammermoor en Amina in La Sonnambula. Sy het een van die eerste sangers geword om roem deur haar opnames te verwerf en het ook 'n boek oor sang geskryf.

Tetzlaff, Christian (1966-), Duitse violis. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en tree dikwels op met sy suster Tanja, ‘n tjellis. Op ses jaar het hy met lesse in viool en klavier begin en op 14 het intensiewe vioolstudies ‘n aanvang geneem. Hy het aan die Lübeck Konserwatorium studeer en sy konsertdebuut is met Beethoven se vioolkonsert gemaak. In 1985 is hy na die VSA vir verdere studies aan die Universiteit van Cincinatti. Hy het ook twee somers by die Marlboro-fees in Vermont deurgebring. Sy internasionale deurbraak is op 22 gemaak toe hy Schoenberg se vioolkonsert onder Celibidache en Dohnányi gespeel het. Naas sy optredes as solis speel hy in kamermusiek met bekende musici soos Leif Ove Andsnes, Lars Vogt, Sabine Meyer, Heinrich Schiff and Tabea Zimmermann. Sy opname van Sibelius se volledige werke vir viool en orkes onder Thomas Dausgaard is met die gesogte Diapason d’Or bekroon. Sleutelopnames: Beethoven se vioolkonsert (onder Zinman); Berg se Kamerkonsert (met Uchida). Verdere opnames: vioolkonserte van Bartók (nr. 2), Dvorák en Janácek; Bartók se 2 vioolsonates (met Andsnes) en solo-vioolsonate; Janácek se vioolsonate; Lalo se Symphonie espagnole; en Weill se Konsert vir viool en houtblasers.

Teyte, Maggie (1888-1976), Engelse sopraan. Sy het in 1907 haar debuut in Monte Carlo gemaak, as Tyrcis in Offenbach se Myriam et Daphné. Daarna was sy verbonde aan die Opéra-Comique in Parys (1908-10), waar sy bekend geraak het in Franse opera. Dit sluit die rol van Mélisande in Pelléas et Mélisande in, wat sy onder die komponis Debussy self bestudeer het. In 1910 het haar Londense debuut plaasgevind en daarna het sy in die VSA gesing, in Chicago (1911-4) en in Boston (1914-7). Sy het in 1911 in Chicago in ‘n heuglike opvoering van Cendrillon met Mary Garden opgetree. Vanaf 1922 was sy ‘n lid van die Britse Nasionale Opera en in in die jaar daarop het sy by Covent Garden in die première van Holst se The Perfect Fool gesing. Naas opera het sy uitgeblink in Franse liedere, sodat sy in die 1940's in klassieke opnames van liedere deur Berlioz, Chausson, Debussy, Duparc, Fauré, Hahn, Massenet en Ravel met Gerald Moore as klavierbegeleier gesing het. In 1951 het sy haar laaste opera-optrede in Londen gemaak, as Belinda in Dido and Aeneas teenoor die beroemde Kirsten Flagstad. Sy is in 1958 tot dame geskep. Daar word jaarliks ‘n sangprys in haar nagedagtenis toegeken.

Thalben-Ball, George (1896-1987), Australies-gebore orrelis en komponis. Hy was in Engeland woonagtig, waar hy vir byna ses dekades (1923-81) orrelis van die Tempelkerk in Londen was. Daarbenewens was hy orrelis van die Stad Birmingham (1949-82), musiekadviseur vir die BBC se godsdiensprogramme (1941-69) en dirigent van die BBC Sangers. In 1982 is hy tot ridder geslaan.

Thebom, Blanche (1918-2010), Amerikaanse mezzosopraan van Sweedse afkoms. Sy het haar konsertdebuut in 1941 in New York gemaak. Haar operadebuut is in 1944 in Philadelphia met die Metropolitan Toergeselskap gemaak, as Brangäne in Tristan und Isolde. By die Met self het sy as Fricka in Die Walküre gedebuteer. Sy sou tot 1967 ‘n lid van die Met wees en in altesaam 236 opvoerings verskyn, in 26 rolle. Verdere debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (1950) en Covent Garden (1957), laasgenoemde tydens die eerste Britse professionele opvoering van Berlioz se Les Troyens. Onder haar verdere rolle het getel Marina in Boris Godoenof, Herodias in Salome en Amneris in Aida. Later in haar loopbaan het sy ook in operettes gesing, onder meer as Orlofsky in Die Fledermaus. Sy was voorts ‘n gewilde konsertsanger in die VSA, en was in 1967/8 artistieke direkteur van die Atlanta Opera. Daarna het sy aan die Universiteit van Arkansas sangonderrig gegee. Opnames: die operas Così fan tutte (as Dorabella) en Tristan und Isolde (as Brangäne), onder Fritz Busch en Wilhelm Furtwängler onderskeidelik.

The English Consort, Britse orkes wat in 1972 deur Trevor Pinnock gestig is vir die uitvoering van Barok- en Klassieke werke op eietydse instrumente. Hulle het gedurende die 1980’s wêreldroem verwerf met hul opwindende opnames van gewilde Barok-werke soos Bach se Brandenburgkonserte, Handel se Watermusiek en Vivaldi se Vier Seisoene. Pinnock is in 2003 deur die violis Andrew Manze as direkteur opgevolg.

Thibaud, Jacques (1880-1953), Franse violis. Ná studies in Parys het hy in 1898 in die Franse hoofstad gedebuteer en in die Colonne Orkes daar gespeel. Weldra het hy as virtuoos bekend geraak en wyd as solis getoer, met ‘n debuut by die Salzburg-fees in 1932. Hy was een van die virtuose vir wie Ysaÿe sy Sonates vir soloviool (1924) geskryf het. Daarby was hy 'n trio-vennoot van die pianis Alfred Cortot en die tjellis Pablo Casals, sowel as 'n duet-vennoot van die pianis Marguerite Long. Saam met haar het hy in 1943 die Long-Thibaudet kompetisie gestig. Hy het ook aan die ‘école Normale de Musique’ in Parys onderrig gegee, en het optredes gegee tot sy dood in 'n vliegongeluk. 'n Karaktervolle opname van Brahms se Dubbelkonsert (met Casals) is deur hom nagelaat, asook van Fauré se eerste vioolsonate (met Cortot).

Thibaudet, Jean-Yves (1961-), Franse pianis. As vyfjarige het hy aan die Lyon Konserwatorium begin studeer, waar hy in 1974 die goue medalje sou wen. Daarna het hy tot 1981 aan die Parys Konserwatorium studeer, waar hy die eerste prys in klavier- en kamermusiek verower het. Sy New York-debuut is in 1989 gemaak. Met sy briljante dog delikate spel is hy uitmuntend in Franse musiek, terwyl hy ewe begaafd is as klavierbegeleier vir groot sangeresse soos Brigitte Fassbänder en Renée Fleming in hul liedere-voordragte. Onder sy hoogstaande opnames tel die volledige solowerke vir klavier van Debussy, Ravel en Satie. Verdere opnames: Addinsell se Warsaw Concerto; Chausson se Konsert vir klavier, viool en strykkwartet (met Joshua Bell en die Takács Kwartet), Francaix en Honegger se klavier-concertino’s, Grieg en Mendelssohn se klavierkonserte, d’Indy se Symphonie sur un chant montagnard francais, ‘n versameling opera-verwerkings van Liszt, Messiaen se Turangalîla simfonie (met Takashi Harada), Ravel se klaviertrio (met Bell en Steven Isserlis), en Verdi se Variasies vir klavier en orkes.

Thielemann, Christian (1959-), Duitse dirigent. Hy het as vyfjarige met klavierlesse begin en later het hy aan die Berlynse Konserwatorium onder Helmuth Roloff studeer. Daarby het hy die altviool onder Giusto Cappone by die Berlynse Filharmoniese Orkes se Herbert von Karajan-stigting bestudeer, sodat hy mettertyd ‘n aantal pryse in beide instrumente sou wen. Na afloop van sy studies het hy op 19 jaar (in 1978) as repetiteur by die Deutsche Oper in Berlyn begin werk en was hy ‘n assistent vir Karajan. Dirigeerposte het in Gelsenkirchen, Karlsruhe en Hannover gevolg, en in 1985 het hy hoofdirigent van die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf geword. Drie jaar later (in 1988) het hy die pos van algemene musiekdirekteur in Nürnberg opgeneem, die jongste in Duitsland om so ‘n pos te beklee. Hy het in 1991 na die Deutsche Oper in Berlyn teruggekeer om ‘n geslaagde opvoering van Lohengrin te dirigeer. In hierdie vormingsjare was hy ook ‘n assistent vir Daniel Barenboim by die Bayreuth-fees. Sy Amerikaanse debuut is in die 1991/2 seisoen by die San Francisco Opera gemaak met ‘n opvoering van Elektra. Kort daarna het hy by die Metropolitan Opera in New York begin dirigeer. In 1993 het hy die Deutsche Oper van Berlyn tydens hul besoek aan Japan gedirigeer en vanaf 1997 tot 2004 was hy hul musiekdirekteur. Sy debuut met die Weense Filharmoniese Orkes is in 2000 gemaak en twee jaar later het hy by beide musiekfeeste in Salzburg gedebuteer, waar hy sedertdien gereeld verskyn. Voorts was hy vanaf 2004 tot 2011 hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes, met wie hy in 2005 ‘n konsert ter huldiging van die nuwe Pous Benedictus XVI in die Vatikaanstad gegee het. Hy is sedert 2012 hoofdirigent van die Dresden Staatskapelle en vanaf 2013 ook artistieke direkteur van die Salzburg Paasmusiekfees, waarvan sy Dresden-orkes as feesorkes optree.

As gasdirigent tree Thielemann wêreldwyd met van die voorste orkeste op. Hy word allerweë beskou as die voorste hedendaagse vertolker van die Duits-Oostenrykse musiektradisie, as opvolger van reuse soos Wilhelm Furtwängler en Herbert von Karajan. Sy repertorium strek vanaf Bach tot by moderne komponiste soos Henze en Gubaidulina. Hy dirigeer sedert 2000 jaarliks by die Bayreuth-fees, met ‘n debuut in Die Meistersinger von Nürnberg. Daar het hy in 2008 opvoerings van die Ring-siklus gedirigeer wat op DVD vasgevang is, met orkesspel wat onder die beste nog in hierdie epiese werke gereken word. Sy hoogaangeskrewe opnames van Beethoven se volledige simfonieë met die Weense Filharmoniese Orkes is op beide kompakskyf en DVD uitgereik, met vertolkings wat as tradisioneel, presies en liries bestempel word. Sommige kenners beskou dit trouens as die beste Beethoven-siklus sedert Karajan se laaste siklus in die 1980’s. Die Federale Duitse regering se Bundesverdienstkreuz is in 2003 aan hom toegeken en erelidmaatskap van die Koninklike Musiekakademie in Londen in 2011. Hy het eredoktorsgrade van die Franz Liszt Musiekkollege in Weimar en die Katolieke Universiteit van Leuven in België ontvang. Verdere opnames: Beethoven se simfonieë nrs. 5 en 7 (met die Philharmonia Orkes); Schumann se tweede simfonie en Manfred ouverture; R. Strauss se Ein Alpensinfonie en Ein Heldenleben; die operas Arabella (New York) en Tristan und Isolde (Wenen); en uittreksels uit operas van Pfitzner en Richard Strauss.

Thomas, David (1943-), Engelse bas. Hy het bekend geraak as ‘n solis met die Consort of Musicke, die Academy of Early Music en ander ensembles vir die uitvoering van vroeë musiek. Sy operadebuut is in 1981 met die Kent Opera gemaak, as Pluto in Monteverdi se Il Ballo delle ingrate. Sy Amerikaanse debuut het drie jaar later by die Hollywood Bowl gevolg, en in 1988 het hy in Los Angeles gedebuteer. Hy is ‘n begaafde sanger in vroeë musiek, in beide opera en konserte, onder andere as lid van die ensemble Pro Cantione Antiqua. Onder sy operarolle tel die Prins van Segovia in Almira, Zoroastro in Orlando, Antino in Il Ritorno d'Ulisse in Patria, en sowel Aeneas as die Towenares in Dido and Aeneas. Sleutelopnames: ‘n versameling versgesange van Purcell (onder Preston), en ‘n versameling van sy duetliedere (met Emma Kirkby, begelei deur Rooley). Verdere opnames: kerkmusiek van Bach, Berlioz, Handel, Haydn, Humphrey, Monteverdi en Mozart; Handel se Aci, Galatea e Polifemo (as Polifemo), Alceste, Anthem for the Foundling Hospital, Ode for the birthday of Queen Anne, Apollo e Dafne en twee Italiaanse kantates; luitliedere van Johnson; Locke se The Tempest; ‘n versameling Elizabethaanse madrigale (met Emma Kirkby); madrigale van Monteverdi; teatermusiek van Purcell en sy The Tempest; Strawinski se L’histoire du soldat (onder Ward); die genoemde operas van Handel, Monteverdi en Purcell, asook Semele, The Fairy Queen en The Indian Queen.

Thomas, Jess (1927-93), Amerikaanse tenoor. Hy het in 1957 sy operadebuut in San Francisco as Malcolm in Macbeth gemaak. Daarna het hy merendeels in Duitsland gesing, onder andere vir drie jaar in Karlsruhe. Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1961), die Metropolitan Opera (1962), München (1963), die Salzburg-fees (1964) en Covent Garden (1969). In 1966 het hy by die Met die rol van Caesar tydens die première van Barber se Antony and Cleopatra geskep, maar hy was eerder bekend as heldentenor in die operas van Wagner en Richard Strauss. Dit het rolle ingesluit soos Menelaus in Die ägyptische Helena, die Keiser in Die Frau ohne Schatten, en die titelrolle in Lohengrin en Parsifal. Opnames: Schoenberg se Gurrelieder; en laasgenoemde vier operas.

Thomson, Bryden (1928-91), Skotse dirigent. Nadat hy aanvanklik ‘n assistent-dirigent van die BBC Skotse Orkes was (1958-62), het hy opera in Oslo en Stockholm gedirigeer. Vervolgens was hy hoofdirigent van die BBC Noordelike Simfonie-orkes (1968-73) en musiekdirekteur van die Ulster Orkes (1977-85). In dié tyd was ook hoofdirigent van die BBC Walliese Simfonie-orkes (1978-82) en die RTE Simfonie-orkes in Dublin (1984-87). Vanaf 1988 tot sy dood was hy hoofdirigent van die Koninklike Skotse Nasionale Orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Martinu en Nielsen in meesterlike vertolkings opgeneem het. As begaafde dirigent van Britse musiek het hy ook die volledige simfonieë van Bax en Vaughan Williams met bekende Londense orkeste opgeneem. Sleutelopname: Elgar se Nursery Suite en Wand of Youth Suites (Ulster). Verdere opnames: enkele simfonieë van Jones en Leighton; orkeswerke van Bax, Vaughan Williams en Walton; en Vaughan Williams se Dona nobis pacem en 5 mystical songs.

Thorborg, Kerstin (1896-1970), Sweedse mezzosopraan. Sy het in 1924 by die Koninklike Opera in Stockholm gedebuteer as Ortrud in Lohengrin, waarna sy vir ses jaar aan dié operahuis verbonde sou wees. Daarna het sy gesing in Praag (1932/3), Berlyn (1933-5) en Wenen (1935-8), met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1935) en Covent Garden (1936). Vanaf 1936 tot 1950 was sy aan die Metropolitan Opera verbonde, waar sy die rol van Marina in ‘n historiese opname van Boris Godoenof onder Ettore Panizza gesing het. Haar bekendheid het merendeels in die operas van Wagner en Richard Strauss gelê, in rolle soos Ortrud in Lohengrin, en Fricka, Erda en Waltraute in die Ring-siklus. Sy het Waltraute gesing in Wilhelm Furtwängler se 1937-opvoering van Götterdämmerung in Londen, met uittreksels wat opgeneem is. Daarby was sy ‘n solis in historiese opnames van Beethoven se negende simfonie (onder Toscanini), en van Mahler se Das Lied von der Erde (onder beide Schuricht en Walter). Verdere opnames: Lohengrin, Siegfried en Die Walküre (almal by die Met).

Thurston, Frederick (1901-53), Engelse klarinettis. Hy was vanaf 1930 tot 1946 eerste klarinettis in die BBC Simfonie-orkes en ander orkeste. Daarby was hy ‘n hoogleraar in klarinet aan die Koninklike Musiekkollege. Onder sy studente daar het getel Gervase de Peyer, Colin Davis en Thea King. Hy is in 1953 met laasgenoemde getroud, maar helaas is hy slegs enkele maande later aan longkanker oorlede. ‘n Aantal werke is deur moderne Britse komponiste soos Bax, Bliss, Finzi en Ireland vir hom geskryf. Hy het in 1932 met die Griller Kwartet die eerste opname van Bliss se klarinetkwintet gemaak, in ‘n onoortreflike vertolking wat die toets van die tyd deurstaan het.

Tibbett, Lawrence (1896-1960), Amerikaanse bariton. Ná ‘n aanvanklike loopbaan as akteur het hy eers in operettes gesing en in 1923 sy operadebuut in Los Angeles gemaak, as Amonasro in Aida. In dieselfde jaar het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waarna hy tot 1950 as eerste bariton aan dié operahuis verbonde sou wees. Daar het hy in 1934 in die première van Hanson se Merry Mount onder Tullio Serafin gesing, waarvan 'n opname gemaak is. Verder was hy verbonde aan operahuise in San Francisco (1927-49) en Chicago (1936-46), terwyl sy Covent Garden-debuut in 1937 plaasgevind het. Met sy kragtige, donker stem was hy ‘n uitmuntende sanger in Verdi-rolle soos Ford in Falstaff, Iago in Otello, Don Carlos in La forza del destino, Germont in La Traviata, en die titelrolle in Rigoletto en Simon Boccanegra. Hy was ook begaafd as Golaud in Pelléas et Mélisande, in die vier skurkrolle in Les Contes d'Hoffmann, en in Puccini se operas. By die Met het hy in klassieke opnames van die laasgenoemde sewe operas gesing. Hy was ook 'n gewilde konsertsanger en het gedurende die 1930's in verskeie rolprente opgetree.

Tidboald, David (1928-), Engelse dirigent. Hy het in Suid-Afrika bekendheid verwerf, aanvanklik as dirigent van die Kaapstadse Munisipale Orkes (1960-65). Daarna het hy na sy geboorteland teruggekeer, waar hy van die voorste orkeste gedirigeer het. Hy het in dié tyd steeds Suid-Afrika jaarliks vir konserte en opera-opvoerings besoek. In 1970/1 het hy die eerste dirigent van die Kruik-orkes in Kaapstad geword, en in 1981 is hy na Durban om die Natalse Filharmoniese Orkes te stig en te dirigeer. Later het hy ere-dirigent van dié ensemble geword. Onder sy voortreflike opnames tel ‘n 1965-opvoering van Turandot in Kaapstad, met Joyce Barker en Gé Korsten in die hoofrolle.

Tilson Thomas, Michael (1944-), Amerikaanse dirigent, pianis en komponis. Hy was in 1967 ‘n assistent vir Pierre Boulez by die Ojai-fees en het in die jaar daarop die Koussewitski-prys in Tanglewood gewen. In 1969 het hy die jongste assistent-dirigent nóg van die Boston Simfonie-orkes geword, en vanaf 1971 was hy vir agt jaar musiekdirekteur van die Buffalo Filharmoniese Orkes. Sy Londense debuut is in 1970 gemaak en sy operadebuut in 1975. In 1979 het hy die eerste volledige Amerikaanse opvoering van die opera Lulu in Santa Fé gedirigeer, en vanaf 1981 was hy hoofgasdirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes. Sy debuut by die Salzburg-fees het in 1988 plaasgevind. Vanaf dié jaar tot 1995 was hy hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes, en sedertdien is hy hoofdirigent van die San Francisco Simfonie-orkes. Hy is bekend in laat-Romantiese en moderne musiek, insluitend dié van sy landgenote waarin hy uitmuntend is. Sleutelopnames: Copland se ballet Appalachian Spring, balletsuite Billy the Kid, en Rodeo Dance Episodes (San Francisco). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Ives, en ‘n aantal van Mahler (nrs. 2, 6, 7 en 9) en Prokofiëf; orkeswerke van Brahms, Debussy, Ives, Matthews, Ravel, Richard Strauss, Tsjaikofski en Villa-Lobos; ‘n versameling koorwerke van Beethoven; Bernstein se musiekblyspel On the Town; Debussy se Le Martyre de Saint Sébastien; Gershwin se musiekblyspele Let 'em eat Cake en Of Thee I sing; Janácek se Glagolitic Mass; Mahler se kantate Das klagende Lied; en die ballette Giselle (Adam), Die Neutkraker (Tsjaikofski) en Die sieben Todsünden (Weill).

Tintner, Georg (1917-99), Oostenrykse dirigent. Hy het vanaf 1926 vir vier jaar in die Weense Seunskoor gesing, onder andere in misse van Bruckner onder 'n leerling van dié groot komponis, Franz Schalk. As dertienjarige het hy aan die Staatskademie in Wenen begin studeer, te wete komposisie onder Josef Marx en dirigeerkuns onder Felix Weingartner. Hy het op negentien jaar 'n assistent-dirigent by die Weense Volksopera geword, waar hy met Weingartner en Bruno Walter saamgewerk het. Met die aansluiting van Oostenryk by Nasionaal-Sosialistiese Duitsland in 1938 het hy geëmigreer, waarna die res van sy lang loopbaan buite Europa sou afspeel. Hy sou veral naam maak in die voormalige Britse dominiums. Dit sluit poste in as hoofdirigent of musiekdirekteur van die Auckland Strykers en Koorvereniging (vanaf 1938), die Australiese Nasionale Opera (vanaf 1954), die Nieu-Seelandse Opera (vanaf 1964), die Kaapstadse Munisipale Orkes (1966/7), beide die Wes-Australiese Opera en die Nasionale Jeugorkes van Kanada (vanaf 1971), die Australiese Opera (vanaf 1973), die Queensland Filharmoniese Orkes (1976-87) en die Nova Scotia Simfonie-orkes (1987-98). Onder sy vele opnames met dié ensembles tel Schubert se laaste twee simfonieë met die Nova Scotia. Intussen het hy by die Sadler’s Wells Opera in Londen gedirigeer (1968-70), en vanaf 1998 was hy hoofgasdirigent van die Prins George Simfonie-orkes in Kanada. Hy het eredoktorsgrade van ‘n aantal universiteite ontvang, asook die ‘Grosse Ehrenzeichen’ van die Oostenrykse regering vir sy dienste aan musiek. Eers in die 1990’s het hy wêreldroem verwerf toe hy die volledige simfonieë van Bruckner met orkeste in Ierland, Skotland en Nieu-Seeland opgeneem het. Sy vertolkings daarin word deur die bank hoog aangeskryf. Kort nadat die siklus voltooi is, het hy selfmoord gepleeg deur van sy elf-verdieping hoë woonstel in Wenen af te spring, nadat hy lank aan kanker gely het. Sleutelopnames: Bruckner se simfonieë nrs. 0, 2 en 8.

Tipo, Maria (1931-), Italiaanse pianis. Sy het as vierjarige met musieklesse begin onder haar moeder, wat 'n leerling was van die komponis Busoni. Metteryd het meesterklasse onder Alfredo Casella en Guido Agosti gevolg, en op sewentien het sy die internasionale klavierkompetisie in Genève gewen. Daarna het sy wêreldwyd as solis opgetree en ook 'n aantal toekennings verwerf. Vanaf die laat 1950's het sy in Noord-Amerika opgetree, waar sy oor die jare in meer as 300 konserte sou verskyn. Sy was 'n kampvegter vir die musiek van Clementi. Daarby was sy 'n hoogleraar aan die Konserwatoriums in Genève, Bolzano en Florence. In 1992 het sy in Lugano in 'n uitvoering van Mozart se klavierkonsert nr. 20 onder Peter Maag gespeel, waarvan 'n DVD later uitgereik is. Sleutelopname: 'n versameling sonates van D. Scarlatti (1989). Verdere opname: Bach se Goldberg Variasies.

Tirimo, Martino (1942-), Griekse pianis en dirigent. Hy het in 1949 as pianis in Ciprus gedebuteer en ses jaar later, as dertienjarige, hey hy die opera La Traviata by die Ciprus-fees gedirigeer. Vanaf 1965 het hy in Londen opgetree en in 1972 het hy die internasionale klavierkompetisie in Genève gewen. As Schubert-spesialis het hy volledige siklusse van dié musiekreus se klaviersonates (wat hy ook geredigeer het) in 1975 en 1985 in die Britse hoofstad uitgevoer. Opnames: Chopin se twee klavierkonserte; Debussy se 24 Preludes; Rachmaninof se klavierkonsert nr. 2 en Paganini Rapsodie; en die volledige klaviersonates van Schubert.

Titus, Alan (1945-), Amerikaanse bariton. Terwyl hy nog 'n student aan die Juilliard Musiekskool was, het hy die rol van Figaro in Il barbiere di Siviglia gesing. Sy professionele operadebuut het in 1969 in Washington, D.C. plaasgevind, as Marcello in La Bohème. Verdere debute is gemaak in Amsterdam (1973), San Francisco (1975), by die Metropolitan Opera (1976), Santa Fè (1985) en Covent Garden (1995), asook by die feeste in Glyndebourne (1979) en Salzburg (1990). As gereelde sanger by die München Staatsopera het hy daar die titel van Kammersänger verwerf vir sy uitmuntende vertolkings van rolle soos Guglielmo in Così fan tutte, Olivier in Capriccio, en die titelrolle in Cardillac en Le nozze di Figaro. Met sy ferm, donker stem is hy ook begaafd as Mandryka in Arabella, Don Pizarro in Fidelio, Graaf Perrucchetto in La fedeltà premiata, Siegfried in Genoveva, Ford in Falstaff en Wotan in die Ring. Daarby is hy bekend in konsertwerke en liedere. Opnames: Mahler se agste simfonie (onder Gary Bertini); en die genoemde operas van Beethoven, Haydn en Schumann.

Tjeknavorian, Loris (1937-), Iranese dirigent en dirigent. Hy het aanvanklik viool en klavier aan die Teheran Musiekkonserwatorium studeer. Daarop is hy na Oostenryk vir komposisielesse aan die Weense Musiekakademie, waar hy in 1961 met lof gegradueer het. Vir die volgende twee jaar het hy musiektoerie ana sy alma mater in die Iranese hoofstad gedoseer. Hy was terselfdertyd direkteur van die Nasionale Musiekargiewe in die stad, vir die versameling van tradisionele volksmusiek. In 1963 is hy terug na Oostenryk, waar hy met behulp van ‘n beurs deur Karl Orff in Salzburg gaan woon het. Twee jaar later is hy na die VSA om dirigeerkuns aan die Universiteit van Michigan te studeer. Hy het vanaf 1966 poste aan akademiese instellings in Minnesota beklee, en in 1970 is hy terug na sy geboorteland as residensiële komponis en hoofdirigent van die Rudaki Opera in Teheran. Vanaf 1989 tot 2000 was hy hoofdirigent van die Armeense Filharmoniese Orkes, met wie hy wyd getoer en vele hoogstaande opnames gemaak het. Hulle was vanaf 1991 tot 1993 die residensiële orkes van die Oostenrykse Radio en Televisie (ORF) se Licht ins Dunkel konserte in Wenen. As gasdirigent verskyn hy wêreldwyd, en van sy komposies is deur talle orkeste uitgevoer. Hy het al meer as 75 werke gekomponeer, insluitend operas en simfonieë, asook die klankbane vir 45 rolprente. Sleutelopname: Ippolitow-Iwanof se Armeense Rapsodie en Kaukasiese Sketse, Stel II. Verdere opnames: Borodin se 3 simfonieë; Ippolitow-Iwanof se Kaukasiese Sketse, Stel I; Kabalefski se Colas Breugnon, The Comedians en Romeo en Juliet suites; Khatsjatoerian se 3 simfonieë, ballet Gayaneh, suites Gayaneh, Masquerade en Spartacus, en Russiese Fantasie; en Rimski-Korakof se 3 simfonieë, Tsar Saltan Suite, Scheherazade en Sadko.

Tokio Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1969 gestig is. Aanvanklik het hulle bestaan uit Japannese musici van die Juilliard Musiekskool in New York, maar sedert 1978 is hulle aan die Yale Universiteit verbonde. In 1980 het hulle die eerste uitvoering van Takemitsu se eerste strykkwartet gegee. Hulle is meesterlike vertolkers van sowel die klassieke as moderne repertoriums. Sleutelopnames: Bartók se volledige strykkwartette. Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Beethoven; strykkwartette van Barber, Britten, Debussy, Haydn, Ravel en Takemitsu; en Schumann se klavierkwintet (met Alicia de Larrocha).

Tokio Operakoor, Japannese koor wat in 1992 gestig is. Hul eerste optrede was in ‘n opvoering van Wagner se Der fliegende Holländer met hul gevierde landgenoot Seiji Ozawa as dirigent. Sedertdien tree hulle jaarliks by die Saito Kinen Musiekfees op. Hulle het met ‘n aantal besoekende Europese orkeste verskyn, asook in 1998 by die Winter Olimpiese Spele in Nagano. Laasgenoemde was in ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie. In 1999 is hul debuut by die Edinburgh-fees in ‘n opvoering van Turandot gemaak. Dit is gevolg deur optredes met die Weense Filharmoniese Orkes in 2000 en 2001, met Ozawa en Simon Rattle as dirigente. Die koor het in 2002 geskitter in ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie by die Saito Kinen-fees, onder Ozawa se dirigeerstaf. ‘n DVD-opname is van die geleentheid gemaak.

Tomes, Susan (?-), Engelse pianis. Sy het die eerste vrou geword om musiek te studeer aan King’s College, Cambridge, wat vir die voorafgaande 400 jaar slegs mans toegelaat het. In 1979 was sy ‘n stigterslid van die Domus klavierkwartet, met  wie sy wye roem sou verwerf. Met hul ontbinding in 1995 het sy met twee kollegas die Florestan Trio gestig, met wie sy insgelyks hoogaangeskrewe opnames gemaak het. As solis tree sy met bekende Europese orkeste op, en met die Gaudier Ensemble waarin sy self die uitvoerings lei. Met haar sensitiewe spel, gekenmerk deur helder artikulasie, is sy hoogs begaafd in die Klassiek-Romantiese repertorium. Daarby skryf sy artikels vir die koerant The Guardian, en in 2004 is haar eerste boek uitgegee. Sleutelopnames: Bartók se Contrasts, 2 Rapsodieë en Roemeense Volksdanse (met die violis Krysia Osostowicz). Verdere opnames (met die Florestan Trio): Debussy, Fauré en Ravel se enkele klaviertrios; Dvorák se klaviertrios nrs. 3 en 4; Schumann se klaviertrio nr. 3, Klavierkwartet in E mol en Fantasiestücke (met die Gaudier Ensemble): Berwald se klavierkwintet nr. 1 en klaviertrio nr. 4; Dvorák se klavierkwintet; Mozart se klavierkonserte nrs. 11-13.

 

Tomlinson, John (1946-), Engelse bas-bariton. Hy het in 1972 sy operadebuut gemaak as Colline in La Bohème. In dieselfde jaar het hy ‘n eerste verskyning by die Kent Opera as Leporello in Don Giovanni gemaak. Sedert 1974 sing hy by die Engelse Nasionale Opera, waar hy vanaf 1975 tot 1981 die eerste bas was. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1979), San Francisco (1983), die Skotse Opera (1987), en die feeste in Bayreuth en Salzburg (beide in 1988). Vanaf 1988 het hy jaarliks by Bayreuth gesing as een van die voorste Wagner-sangers van sy tyd. Hy het in 1991 by Covent Garden die rol van die Groen Ridder geskep tydens die première van Birtwistle se opera Gawain. In die jaar daarop het hy by Bayreuth geskitter as Wotan in Daniel Barenboim se gevierde opvoerings en opnames van die Ring-siklus. Hy het in 1994 die titelrol gesing en was terselfdertyd die verhoogdirekteur in Opera Noord se opvoering van Verdi se Oberto. Naas die genoemde rolle is hy met sy donker toonkleur en kragtige dog gevoelvolle sang begaafd as Rocco in Fidelio, Lorenzo in I Capuleti ed i Montecchi, John Claggart in Billy Budd, Commendatore in Don Giovanni, Melchthal in Guglielmo Tell, Creon in Oedipus Rex, die Spookbeeld in Hamlet, Banquo in Macbeth, Hagen in Götterdämmerung, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, en die titelrolle in Bloubaard se Kasteel, Hercules, Boris Godoenof en Der fliegende Holländer. Hy blink ook uit as konsertsanger in verskeie tale. Die CBE is in 1997 aan hom toegeken. Opnames: Bartók se Cantata profana; Beethoven se negende simfonie (onder Walter Weller); Handel se Acis and Galatea (in Mozart se Duitse verwerking) en Messiah; Rossini se Petite messe solennelle; Weill se ballet Die sieben Todsünden; die genoemde operas van Bartók, Bellini, Britten, Handel, Mozart, Rossini, Strawinski, Thomas, Verdi en Wagner, asook Punch and Judy, Gabriella di Vergy, Alcina, en The Greek Passion, The Flying Dutchman en uittreksels uit Boris Godoenof (laasgenoemde drie in Engels).

Tomowa-Sintow, Anna (1941-), Bulgaarse sopraan. Sy het op ses jaar met klavierlesse begin en tien jaar later het sy ‘n nasionale sangkompetisie gewen. Daarop het sy sang en klavier aan die Nasionale Konserwatorium in Sofia begin studeer. Ter graduering het sy in 1965 in Zagora haar sangdebuut gemaak, as Tatjana in Jewgeni Onegin. Sy is genooi om by die Leipzig Opera te sing, waar sy in 1967 as Abigaille in Nabucco gedebuteer het. In Leipzig het sy in operas van veral Verdi en Puccini gesing, waarvan sy die rolle onder Paul Schmitz, ‘n persoonlike student van Richard Strauss, instudeer het. Sy het in dié tyd ook in konserte en opnames met die beroemde Leipzig Gewandhaus Orkes verskyn. Daarby het sy goue medaljes by internasionale sangkompetisies in Sofia (1970) en Rio de Janeiro (1971) gewen. Vanaf 1972 was sy vir vier jaar aan die Deutsche Staatsoper in Berlyn verbonde, en in die jaar daarop het haar internasionale deurbraak op ‘n driedubbele wyse plaasgevind: eerstens met optredes in Verdi se Requiem in Parys en Otello in Genève; tweedens met die inwyding van die konsertsaal van die NHK Simfonie-orkes in Tokio, as solis in Beethoven se negende simfonie onder Wolfgang Sawallisch; en derdens deurdat Herbert von Karajan haar gewerf het vir die première van Orff se De temporum fine comoedia by die Salzburg-fees van 1973. Dit was die begin van ‘n hoogs produktiewe verbintenis met die maestro, wat ‘n groot bewondering vir haar gekoester het. Tot 1991 sou sy ‘n permanente gaskunstenaar by die Salzburg-fees wees, en as beskermling van Karajan sou sy wêreldbekend in veral Mozart en Richard Strauss se operas word. Sy het in vele opvoerings, konserte, opnames en rolprente met hom opgetree, insluitend toere na Japan en die VSA. Dit sluit ‘n DVD van Don Giovanni in wat in 1987 by Salzburg gemaak is, waarin sy uitblink as Donna Anna. Onder Horst Stein het sy in 1990 gesing in ‘n Duitse TV-opvoering van Capriccio.

Tomowa-Sintow het verdere debute gemaak in San Francisco (1974), by Covent Garden (1975), in Wenen (1977), en by die Metropolitan Opera (1978), Chicago (1980) en La Scala (1982). Met haar sterk, suiwer stem en romerige toonkleur was sy uitmuntend as Jaroslawna in Prins Igor, Maddalena in Andrea Chénier, Fiordiligi in Cosi fan tutte, die Grafin in Le nozze di Figaro, Donna Anna in Don Giovanni, die Grafin in Capriccio, die Keiserin in Die Frau ohne Schatten, die Marschallin in Der Rosenkavalier, Tatjana in Jewgeni Onegin, Amelia in Un ballo in maschera, Elisabetta in Don Carlos, Leonora in La forza del destino, Desdemona in Otello, Maria in Simon Boccanegra, Violetta in La Traviata, Leonora in Il Trovatore, Elsa in Lohengrin, Elisabeth in Tannhäuser, en die titelrolle in Das Wunder der Heliane, Madama Butterfly, Manon Lescaut, Tosca, Die ägyptische Helena, Ariadne auf Naxos  en Aida. In die 1990’s is haar repertorium uitgebrei om rolle soos Santuzza in Cavalleria rusticana, Sieglinde in Die Walküre, en die titelrolle in Norma, Turandot en Salome in te sluit. Sy is ewe begaafd in konsertmusiek, veral gewyde werke, en liedere. Die titel van Kammersängerin is deur die staatsoperas van beide Berlyn en Wenen aan haar toegeken. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur, Magnificat en Sint Mattheüspassie, Beethoven se negende simfonie en Missa solemnis, Brahms se Ein deutsches Requiem, Bruckner se Te Deum, Haydn se Die Schöpfung, Mozart se Kroningsmis en Requiem, Richard Strauss se Vier letzte Lieder en Verdi se Requiem (almal onder Karajan, lg. op DVD); en die operas Das Wunder der Heliane, Ariadne auf Naxos, Der Rosenkavalier en Lohengrin.

Tonhalle Orkes, die oudste Switserse simfonie-orkes wat in 1868 gestig en in Zürich gebaseer is. Hul konsertsaal is in 1895 geopen met niemand minder nie as Johannes Brahms, as dirigent van sy eie Triumphlied. Die akoestiek van die saal word onder die bestes ter wêreld gereken. Die orkes se hoofdirigente het ingesluit Friedrich Hegar (1868-1906), Volkmar Andrae (1906-49), Erich Schmid (1949-56), Hans Rosbaud (1960-62), Rudolf Kempe (1965-72) en Charles Dutoit (1967-71). Sedert 1995 is David Zinman die hoofdirigent.

Toronto Simfonie-orkes, Kanadese orkes wat in 1906 deur Frank Welsman gestig is. In 1914 is hulle ontbind maar agt jaar later is die orkes deur Luigi von Kunits herleef. Hul hoofdirigente het ingesluit Kunits (1926-31), Ernest Macmillan (1931-56), Walter Susskind (1956-65), Seiji Ozawa (1965-69), Karel Ancerl (1969-73), Andrew Davis (1975-88) en Gunther Herbig (1989-94). Deur hul talle toere en opnames het die orkes ‘n stewige internasionale reputasie opgebou. Sedert 1994 is Jukka-Pekka Saraste die hoofdirigent.

Tortelier, Paul (1914-90), Franse tjellis, dirigent en komponis. Ná studies aan die Parys Konserwatorium het hy in 1930 die eerste prys aldaar met Elgar se tjellokonsert gewen. In die jaar daarop is sy professionele debuut met die Lamoureux Orkes gemaak. Vanaf 1935 tot 1947 was hy eerste tjellis in orkeste in Monte Carlo, Boston en Parys. Daarna het hy as solis wêreldwyd getoer, met ‘n charismatiese verhoogpersoonlikheid en ‘n repertorium wat gestrek het vanaf Bach tot by Richard Strauss. Hy was veral briljant in Strauss se Don Quixote, waarmee hy in 1947 sy Britse debuut onder Thomas Beecham gemaak het. In dieselfde jaar het hy die werk in die komponis se teenwoordigheid opgeneem. Hy het in 1955/6 in Israel gewoon, en daarna was hy ‘n hoogleraar in tjello aan die konserwatoriums in Parys (1956-9) en Nice (1978-80). Met sy aristokratiese spel was hy ewe bekend in kamermusiek, veral as vennoot van sy vrou, die tjellis Maud Tortelier (1926-), hul dogter, die pianis Maria de la Pau (1950-), en hul seun, die violis Yan Pascal Tortelier (sien die volgende inskrywing). Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites en sy sonates vir viola da gamba (lg. met Veyron-Lacroix op klawesimbel); Brahms se Dubbelkonsert (met Yan Pascal); Dvorák se Rondo; Elgar, Hindemith, Schumann en Walton se tjellokonserte; Fauré se Elegie; Mendelssohn se tjellosonates en sy Klaviertrio in D mineur (lg. met Chung en Previn); Tsjaikofski se Rococo Variasies; en Debussy en Vivaldi se tjellosonates.

Tortelier, Yan Pascal (1947-), Franse dirigent en violis, seun van die beroemde tjellis Paul Tortelier. Hy het in 1962 sy debuut as vioolsolis in Londen gemaak in Brahms se Dubbelkonsert. Vanaf 1974 tot 1983 was hy mededirigent van die Toulouse Orkes en vanaf 1989 tot 1992 hoofdirigent van die Ulster Orkes. Sy Amerikaanse debuut is in 1985 met die Seattle Simfonie-orkes gemaak. Sedert 1992 is hy hoofdirigent van die BBC Filharmoniese Orkes in Manchester, met wie hy talle aantal hoogaangeskrewe opnames gemaak het, insluitend ‘n hele aantal minder bekende werke. Hy het voorts Ravel se klaviertrio georkestreer. Sleutelopnames: Lili Boulanger se koorwerke Faust et Hélène, Psaume 24 en Psaume 130; Hindemith se Sinfonia serena en Die Harmonie der Welt simfonie (BBC); Ibert se Divertissement (Ulster); Poulenc se balletsuite Les Biches (Ulster). Verdere opnames (as dirigent): orkeswerke van Albéniz, Chabrier, Chausson, Debussy, Dukas, Falla, Fauré, Milhaud, Ravel en Roussel; simfonieë van Dutilleux, Hindemith en Saint-Saëns; Guilmant se twee simfonieë vir orrel en orkes (met Ian Tracey as solis); Hindemith se Simfonie in E mol, Nobilissima visione, Pittsburgh Simfonie en Simfoniese Danse; Karlowicz se Eternal Songs en Litause Rapsodie; Kodály se Konsert vir Orkes, Dances of Marosszek en Simfonie in C; Messian se Turangalila Simfonie; Fauré se Requiem en Cantique de Jean Racine; die operas Pelléas et Mélisande en Sancta Susanna; (en solis:) Brahms se Dubbelkonsert (met sy vader Paul); en Chausson se Poème.

Toscanini, Arturo (1867-1957), Italiaanse dirigent. Hy het as negejarige met studies in tjello en komposisie aan die konserwatorium in sy geboortestad Parma begin. In 1886 het sy loopbaan as tjellis in ‘n opera-orkes op ‘n toer na Suid-Amerika afgeskop. Daar het hy in Rio de Janeiro vir die orkes se gereelde dirigent ingestaan en Aida vanuit geheue gedirigeer. Later in dieselfde jaar en terug in Italië het hy die opera Edmea in Turyn gedirigeer. In 1887 het hy tjello gespeel tydens die première van Otello in Milaan, en daarna het hy opera in verskeie Italiaanse stede gedirigeer. Dit het die premières van I Pagliacci (Milaan 1892) en La Bohème (Turyn 1896) ingesluit, asook die Italiaanse premières van Götterdämmerung (Turyn 1895) en Siegfried (Milaan 1899). Intussen het hy in 1896 sy debuut as simfoniedirigent met die munisipale orkes van Turyn gemaak. Hy het in die 1890s ‘n hele aantal werke van Tsjaikofski in Italië bekendgestel, maar daarna vir langer as 30 jaar belangstelling in die grootste Russiese komponis verloor. In 1898 het hy by La Scala gedebuteer met Die Meistersinger von Nürnberg, waarna hy vir die volgende vyf jaar die hoofdirigent van dié beroemde operahuis sou wees. Sy bedanking daar in 1903 is aangespoor deur ‘n betoging toe hy geweier het om ‘n tenoor toe te laat om ‘n toegif tydens 'n opvoering van ‘n Verdi-opera te sing. Hy was weer vanaf 1906 vir twee jaar hoofdirigent van La Scala.

In 1908 is Toscanini deur sy voormalige direkteur by La Scala, die vermaarde impresario Giulio Gatti-Casazza, gewerf vir die Metropolitan Opera in New York. Daar het hy met ‘n opvoering van Aida gedebuteer en sou hy vir die volgende sewe jaar dirigeer, insluitend die wêreldpremière van La fanciulla del West (1910) en die Amerikaanse première van Boris Godoenof (1913). Hy het in 1915 na Italië teruggekeer, waar hy vanaf 1921 vir agt jaar weer hoofdirigent by La Scala sou wees. Dit is as ‘n goue tydperk vir dié operahuis beskou, waartydens hy die wêreldpremière van Turandot (1926) gedirigeer het. Spanning met die Fasjistiese bewindhebbers in Italië het tot sy vertrek gelei, en weer is hy na New York waar hy hom permanent sou vestig. In dié stad het hy vir twee seisoene die filharmoniese orkes gedirigeer en vanaf 1928 sou hy vir agt jaar hul hoofdirigent wees. Hulle het in 1929 historiese opnames van Haydn se simfonie nr. 101 en Mozart se simfonie nr. 35 gemaak. In 1930 het hy die orkes op ‘n Europese toer gelei en in dieselfde jaar is sy Bayreuth-feesdebuut gemaak met ‘n opvoering van Tristan und Isolde. Hy het in 1931 tydens ‘n konsert in Bologna geweier om die Fasjistiese volkslied te speel, waarna hy en sy gesin deur ‘n bende Fasjiste aangeval is en uit die stad moes vlug. In dieselfde jaar het hy na Bayreuth teruggekeer om Parsifal te dirigeer, maar vanaf die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in 1933 het hy geweier om weer daar te verskyn, ‘n persoonlike uitnodiging deur Hitler en ‘n pleidooi deur Winifred Wagner ten spyt. Hy het in 1933 met die Weense Filharmoniese Orkes gedebuteer en drie jaar later het hy in Jerusalem die inwydingskonserte van die Palestynse Simfonie-orkes gedirigeer.

In die vroeë 1930’s het die legendariese mededinging tussen Toscanini en Wilhelm Furtwängler begin, aangevuur deur veral die Amerikaanse media. Dit was wesenlik ‘n voortsetting van die musikale tweestryd in die vorige eeu tussen Wagner en Mendelssohn: soos met Wagner was Furtwängler se styl meer Teutonies, meer harmonieus, meer subjektief, en meesal stadiger in tempo. Soos met Mendelssohn was Toscanini se styl meer Mediterreens, meer melodieus, meer objektief, en meesal vinniger in tempo. Daar moet in gedagte gehou word dat hierdie vergelyking in ‘n mate op veralgemenings berus. Om sake te vererger, was Toscanini ‘n Italiaanse nasionalis en anti-fascis, terwyl Furtwängler streng apolities was. Nietemin het Toscanini sy Duitse kollega in 1936 as sy opvolger by die New York Filharmoniese Orkes aanbeveel, wat tot ‘n storm van protes deur die stad se groot Joodse gemeenskap gelei het. In die jaar daarop het ‘n skeiding van weë tussen die twee musiekreuse plaasgevind, toe Furtwängler tydens die Salsburg-fees deur Toscanini daarvan beskuldig is dat hy ‘n Nazi is en met Hitler saamwerk. Hy sou Furtwängler ná die oorlog woordeliks afransel omdat hy in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland gebly het, die groot Duitse dirigent se vryskelding deur ‘n Geallieerde tribunaal ten spyt.

Toscanini het vanaf 1934 by die Salzburg-fees heuglike opvoerings van Fidelio, Falstaff en Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer. ‘n Historiese opname is van laasgenoemde gemaak. Vanaf 1935 het hy by verskeie geleenthede in Londen opgetree, onder andere met die kroningsplegtigheid van Koning George VI in 1937. Hy het deurentyd geweier om onder die Fasjistiese bewinde in Duitsland of Oostenryk op te tree, sodat sy laaste optrede by Salzburg in 1937 plaasgevind het. In dieselfde jaar is die NBC Simfonie-orkes in New York spesiaal vir hom saamgestel, wat hy tot 1953 jaar in beroemde konserte en opnames sou dirigeer. Daaronder tel Beethoven se volledige simfonieë en Brahms se Ein deutsches Requiem. Die Luzern-feesorkes in Switserland is in 1938 deur hom gestig. Hy het in 1946 teruggekeer na La Scala om die na-oorlogse heropening van die teater te dirigeer. Ses jaar later het hy met die Philharmonia Orkes in Londen meesterlike opnames van Brahms se vier simfonieë gemaak. Sy laaste optrede in New York is in 1954 gemaak met ‘n opvoering van Un ballo in maschera, waarna sy Amerikaanse orkes ontbind is.

Soos sy jonger kollega en bewonderaar Herbert von Karajan het Toscanini ‘n blywende invloed op die vertolking van musiek uitgeoefen, deurdat hy aangedring het op volkome getrouheid aan die komponis se bedoelings in plaas van opgehoopte gewoontes of tradisie. Dit het hom nie verhinder om by tye die partiture te wysig nie, veral ten opsigte van dinamika en instrumentasie. Hy het altyd volgens geheue gedirigeer, deels omdat hy vanweë bysiendheid nie die partituur vanaf die podium kon lees nie. Aan die negatiewe kant was hy berug vir sy drifbuie tydens inoefeninge. Nietemin het hy onoortreflike resultate in terme van helderheid en uitdrukkingsvermoë met sy orkeste bereik. Sy repertorium het vanaf Haydn tot by Strawinski gestrek, maar hy was veral bekend vir sy kragtige vertolkings van Italiaanse opera, meer bepaald dié van Verdi. In die Engelssprekende wêreld word sy vertolkings van Beethoven, Brahms en Wagner ook hoog aangeskryf, hoewel sy voorliefde vir vinnige tempos dikwels ‘n verlies aan diepte en statigheid in sy vertolkings van die Duitse meesters meegebring het. Dit is egter verstaanbaar dat hy in ‘n land soos die VSA, waar gejaagdheid kenmerkend van die leefwyse is, as held vereer is.

Toscanini het Amerikaanse komponiste soos Barber en Hanson tydens sy verblyf in dié land aangemoedig. Hy het in 1938 die eerste uitvoering van Barber se gewilde Adagio vir strykers gegee en vier jaar later die Amerikaanse première van Sjostakowitsj se sewende simfonie. Die groot Russiese komponis het egter die opname daarvan verpes, omdat die gees en die karakter en die tempos verkeerd was. Hy het selfs ‘n letter ter beswaar aan die beroemde dirigent geskryf – verdere bewys dat nie almal deur Toscanini meegevoer is nie. Laasgenoemde se dogter Wanda het met die gevierde pianis Wladimir Horowitz getrou. Sleutelopnames: Beethoven se simfonieë nrs. 5 en 7 (New York 1933 en 1936); die opera Falstaff (New York 1950). Verdere opnames: simfonieë van Cherubini, Dvorák, Haydn, Mendelssohn, Schubert, Sjostakowitsj en Sibelius; Tsjaikofski se Manfred Simfonie en Romeo en Juliet Fantasie ouverture; orkeswerke van Debussy, Elgar, Respighi en Richard Strauss; Beethoven se Missa solemnis (1939 en 1940); die dodemisse van Cherubini en Verdi (lg. in 1938 in Londen en 1951 in New York); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; en die operas Die Zauberflöte, Un ballo in maschera en Otello.

Tourel, Jennie (1900-73), Russies-gebore mezzosopraan. In 1918 het sy haar geboorteland met die res van haar gesin verlaat om eers in Danzig te gaan woon en later in Parys. Haar operadebuut is in 1930 in Chicago gemaak, as die Tweede Geleerde in Moret se Lorenzaccio. Sy het in 1937 by die Metropolitan Opera gedebuteer en sou tot 1940 in Parys sing, waarna sy in die VSA gaan woon het. Sy was aan die Met verbonde (1943-5, 1946/7), en het in 1946 ‘n Amerikaanse burger geword. In 1951 het sy die rol van Baba die Turk tydens die première van The Rake’s Progress in Venesië geskep. Onder Leonard Bernstein het sy in 1958 as solis in ‘n hoogstaande opname van Foss se Song of Songs opgetree. Sy het onderrig gegee aan die Juilliard en Aspen Musiekskole. In 1970 het sy in New York ‘n liedere-voordrag met James Levine as klavierbegeleier gegee. Haar laaste verhoogoptrede was in die jaar van haar afsterwe in Chicago. Verdere opnames: Berlioz se La Mort de Cléopâtre, Bernstein se derde simfonie, Mahler se Kindertotenlieder en 3 Rückert Lieder, en Ravel se Shéhérazade (almal onder Bernstein); en uittreksels uit Manuel Rosenthal se Offenbach-verwerking La Vie Parissiene.

Tozer, Geoffrey (1954-), Australiese pianis. Hy is in die Indiese Himalajas gebore, waar hy sy eerste vier jaar sou deurbring voordar hy met sy moeder terug na Australië verhuis het. Op agt jaar het hy Bach se klavierkonsert nr. 5 met die Melbourne Simfonie-orkes uitgevoer, in ‘n konsert wat landswyd gebeeldsend is. Later het hy in Londen gaan studeer, waar sy Europese debuut by die BBC Proms gemaak is. Hy het in 1982 tydens die inwydingskonsert van die Melbourne Konsertsaal gespeel en het in die vroeë 1990’s aan die Canberra Musiekskool onderrig gegee. In 1997 het hy te midde van omstredenheid na Europa verhuis nadat hy verklaar het dat Melbourne bloot ‘n afgeleë, provinsiale stad is. In Londen het hy die eerste pianis geword om meeste van Metner se werke vir klaviersolo op te neem, in vertolkings wat deur die bank hoog aangeskryf word. Voorts het hy in 2001 die eerste Westerse musikus geword om die Geel Rivier klavierkonsert in Sjina uit te voer, wat oor die Sjinese nasionale televisie gebeeldsend is. As kampvegter vir minder bekende en afgeskeepde komponiste het hy by geleentheid in ‘n Berlynse konsert uitsluitlik werke van Artur Schnabel gespeel, met die groot pianis se hele familie in die gehoor. Verdere opnames: ‘n versameling solowerke van Busoni; Gerhard se klavierkonsert en klawesimbelkonsert; Respighi se klavierkonsert, asook Toccata, Concerto in modo misolidio en Fantasia slava (almal vir klavier en orkes); Rimski-Korsakof se klavierkonsert; en Tsjaikofski se derde klavierkonsert.

Traubel, Helen (1899-1972), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1926 met die Sint Louis Simfonie-orkes gedebuteer en vanaf 1937 by die Metropolitan Opera gesing. By dié beroemde operahuis het sy twee jaar later bekendheid as Sieglinde in Die Walküre begin verwerf. Vanaf 1937 het sy ook vir nege jaar by die Chicago Opera opgetree. By sowel die Met as die Bayreuth-fees het sy die eerste Amerikaner geword om die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde en Brünnhilde in die Ring te vertolk - veeleisende rolle wat sy by die Met met die briljante Kirsten Flagstad afgewissel het. Nadat laasgenoemde in 1941 na Noorweë teruggekeer het, was Traubel vir langer as 'n dekade die voorste Wagner-sopraan by die Met. Daar sou sy teenoor die legendariese heldentenor Lauritz Melchior in historiese opnames van Die Walküre (1941, as Brünnhilde), Götterdämmerung, Lohengrin (as Elsa) en Tristan und Isolde sing. In 1953 het sy egter die operahuis verlaat nadat die direkteur daarvan beswaar gemaak het teen haar optredes in nagklubs. Daarna het sy dikwels oor die radio gesing en in Broadway-musiekblyspele en rolprente opgetree. Haar aantreklike voorkoms sou haar daarin goed te pas kom. Sy het ook speurverhale geskryf, waaronder The Metropolitan Opera Murders (1951). Onder die verdere onames wat sy nagelaat het, tel liedere van Grieg.

Trekel, Roman (1963-), Duitse bariton. Aanvanklik het hy viool en hobo bestudeer, waarna hy sangonderrig aan die Berlynse Konserwatorium ontvang het (1980-6). Sedert 1988 is hy ‘n lid van die Berlynse Staatsopera, waar hy eerste met sy vertolking van Pelléas in Pelléas et Mélisande naam gemaak het. In 1996 het hy by die Dresden Staatsopera en die Bayreuth-fees gedebuteer. Hy het die titelrol gesing in ‘n uitstekende opname van Telemann se opera Orpheus onder René Jacobs. Nadat hy die eerste prys in ‘n internasionale sangkompetisie in Londen gewen het, het hy begin om wyd deur Europa liedere-voordragte te gee. Daarby is hy sedert 1989 ‘n dosent aan die Hans Eisler Musiekkollege in Berlyn. Verdere opnames: liedere van Schubert, insluitend Winterreise; en die operas Lohengrin, Tristand und Isolde en Die heilige Linde.

Trotter, Thomas (1957-), Engelse orrelis. Hy het in 1979 die Sint Albans internasionale orrelkompetisie gewen en in die jaar daarop is sy Londense debuut gemaak. Sedert 1982 is hy orrelis van die Sint Margaret-kerk in Westminster en sedert 1983 ook van die Stad Birmingham. Onder die eerste uitvoerings wat hy gegee het, tel Piet Kee se Haarlem Konsert in 2006. Opnames: Barber se Toccata Festiva (onder Alsop); M. Berkeley se orrelkonsert; Janácek se Glagolitic Mass (onder Chailly); Vaughan Williams se Te Deum (onder Best); en solowerke van Liszt, Messiaen, Mozart, Reubke en Widor.

Troxell, Richard (?-), Amerikaanse tenoor. Hy het vanaf 1988 vir vier jaar aan die Akademie vir Vokale Kunste in Philadelphia studeer. Sy deurbraak is gemaak toe hy in 1995 in Frédéric Mitterand se rolprent van Madame Butterfly as Pinkerton uitgeblink het. Twee jaar later het hy in die Amerikaanse première van Gounod se opera La Colombe in New York gesing. Ook in 1997 is sy debuut by die Washington Opera gemaak, as Tybalt in Gounod se Roméo et Juliette. Hy het in die 2000/1 seisoen by die New York Stadsopera en die Spoleto-fees gedebuteer. Naas liriese operarolle sing hy ook in operettes van Offenbach en Sullivan, en in bekende gewyde werke van die agtiende en negentiende eeue.

Troyanos, Tatiana (1938-93), Amerikaanse mezzosopraan van Griekse afkoms. Sy het in 1963 by die New York Stadsopera gedebuteer as Hippolyta in A Midsummer Night’s Dream. Daarna was sy verbonde aan die Hamburg Opera (1965-75), met verdere debute wat gevolg het by die Aix-en-Provence Fees (1966), die Salzburg-fees (1969), die Metropolitan Opera (1976) en La Scala (1977). Sy was ‘n uitmuntende sanger-aktrise wat besondere waarde aan die teks van ‘n werk geheg het, as aanduiding van die komponis se bedoelings. Haar bekende rolle het ingesluit Judith in Bloubaard se Kasteel, Romeo in I Capuleti ed I Montecchi, die titelrol in Carmen, Sesto in La clemenza di Tito, Cherubino in Le nozze di Figaro, Dido in Dido and Aeneas, die Komponis in Ariadne auf Naxos, Clairon in Capriccio en Venus in Tannhäuser. Opnames: Bernstein se musiekblyspel West Side Story (as Anita); Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Mozart se Mis nr. 10 en Missa brevis; en die genoemde operas van Bartók, Bizet, Mozart, Purcell en Richard Strauss.

Tsjeggiese Filharmoniese Orkes, simfonie-orkes wat in 1901 as ‘n onafhanklike instelling gestig is. Onder hul hoofdirigent Václav Talich (1919-31, 1933-41) het hulle deur opnames en toere wêreldbekend geraak. Sy opvolgers het ingesluit Rafael Kubelik (1941-8), Karel Ancerl (1950-68), Václav Neumann (1968-89), Jirí Belohlávek (1990-2) en Gerd Albrecht (1992-6). Hul Salzburg-feesdebuut is in 1963 onder Ancerl gemaak.

Tucker, Richard (1913-75), Amerikaanse tenoor. Nadat hy aanvanklik as kantor in sinagoges gesing het, is sy operadebuut in 1943 in New York gemaak as Alfredo in La Traviata. Twee jaar later het hy by die Metropolitan Opera begin sing, waar hy die voorste tenoor in Italiaanse en Franse opera sou word. Onder sy beste rolle het getel Radames in Aida en Don Alvaro in La forza del destino. In 1947 het sy Europese debuut in Verona gevolg, saam met Maria Callas wat tydens dieselfde geleentheid haar Italiaanse debuut gemaak het. Vanaf 1958 het hy by Covent Garden opgetree en vanaf 1969 by La Scala, waar hy in uitstekende opnames onder Tullio Serafin van laasgenoemde twee operas gesing het. Hy was die enigste sanger wie se begrafnisdiens op die verhoog by die Met gehou is. Die tenoor Jan Peerce was sy swaer.

Tuckwell, Barry (1931-), Australiese horingspeler. Nadat hy in die Sydney Simfonie-orkes gespeel het (1947-50), het hy hom in 1951 in Brittanje gevestig. Daar het hy in bekende orkeste in Manchester, Bournemouth en Londen gespeel, en was hy ‘n hoogleraar in horingspel aan die Koninklike Musiekakademie (1963-74). In 1965 is die OBE aan hom toegeken en tien jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy was wêreldbekend as solis en in kamermusiek, onder andere as vennoot van die pianis Wladimir Asjkenazy en as leier van sy eie houtblaserskwintet. Vanaf 1980 het hy vir drie jaar die Tasmaniese Simfonie-orkes gedirigeer. Tot sy uittrede in 1997 is hy vir etlike dekades as die voorste Britse horingspeler sedert Dennis Brain beskou. Hy het Mozart se volledige horingkonserte altesaam vier keer opgeneem, en werke is deur verskeie moderne komponiste vir hom geskryf. Sleutelopnames: Mozart se 4 horingkonserte (onder Peter Maag). Verdere opnames: horingkonserte van Forster, J. en M. Haydn, Holloway, Knussen, L. Mozart, Punto, R. Strauss, Telemann en Weber; Beethoven se Horingsonate in F (met Asjkenazy); Brahms se horingtrio (met Asjkenazy en Perlman); Britten se Serenade vir tenoor, horing en strykers (met Peter Pears); Cherubini se horingsonate nr. 2; Koechlin se horingsonate, 15 Pieces, Morceau de lecture en Sonneries (almal met Daniel Blumenthal); Poulenc se Romanse vir horing en klavier (met Asjkenazy); en R. Strauss se Alphorn vir sopraan, horing en klavier (met McLaughlin en Asjkenazy).

Tureck, Rosalyn (1914-2003), Amerikaanse pianis, klawesimbelspeler en musiekgeleerde. Sy het as negejarige haar debuut in Chicago gemaak terwyl sy ‘n leerling was van Sophia Brilliant-Liven, wat op haar beurt onder die komponis Anton Rubinstein studeer het. Vanaf veertienjarige leeftyd het sy in die musiek van Bach gespesialiseer, en weldra sou sy tot een van die Barokreus se grootste vertolkers van die twintigste eeu ontwikkel - volgens sommige kenners die grootste onder pianiste. Sy is in 1930 na New York om aan die Juilliard Musiekskool onder Olga Samaroff te studeer. Haar solodebuut is uitgevoer op die theremin, ‘n elektroniese instrument wat ontwerp is deur die Rus Leon Theremin, wat ‘n medestudent was. In 1936 het sy in New York haar konsertdebuut onder Eugene Ormandy gemaak, met Brahms se tweede klavierkonsert. Sy het in die jaar daarop begin om uitvoerings van Bach-werke in New York te gee. Dit sou ‘n jaarlikse instelling word, en mettertyd is soortgelyke reekse ook in stede soos Londen, Kopenhagen en Montreal gegee. Sy het in 1943 in New York die première van William Schuman se klavierkonsert onder Daniel Saidenberg gegee, met ‘n historiese opname wat gemaak is. In 1947 het die eerste van vele Europese toere plaasgevind, en mettertyd sou toere na Suid-Amerika, Suid-Afrika, Israel en Asië volg. Vanaf 1956 het sy ook gedirigeer, en twee jaar later het sy die eerste vrou geword om die New York Filharmoniese Orkes te dirigeer.

Tureck het onderrig gegee aan die Philadelphia Konserwatorium (1935-42), die Juilliard Musiekskool (1943-55) en die Universiteit van Kalifornië in San Diego (1966-72). Intussen het sy in 1966 die Internasionale Bach-Instituut gestig. Vanaf 1982 was sy vir twee jaar ‘n hoogleraar in musiek aan die Universiteit van Maryland. Sy het verskeie boeke geskryf, insluitend 'n uitgawe van Bach se oorspronklike partiture en ‘n inleiding tot die uitvoering van Bach (in drie boekdele). Haar Russiese debuut is op tagtigjarige ouderdom in 1995 in Sint Petersburg met die Goldberg Variasies gemaak. In dieselfde jaar het sy 'n Bach-navorsingstigting daargestel. In haar uitvoerings en opnames het sy aangetoon dat Bach se klawerbordmusiek inderdaad eg op die klavier instede van die klawesimbel uitgevoer kan word. Sy het gesterf enkele minute nadat hulde aan haar gebring is tydens ‘n internasionale klawerbordsimposium in New York. Daar is na haar verwys as die ‘Hoëpriesteres van Bach’, ‘n eretitel wat sy beslis verdien het. Naas die musiek van Bach was sy ‘n kampvegter vir sommige hedendaagse komponiste, sodat ‘n aantal werke vir haar geskryf is. Sleutelopnames: Bach se Goldberg Variasies. Verdere opnames: talle Bach-werke (waarvan sommiges op die klawesimbel gespeel is), insluitend die klavierkonserte nrs. 1, 5 en 7 (1984), nog 6 weergawes van die Goldberg Variasies en twee van die 48 Preludes en fugas; Diamond se klaviersonate (wat vir haar geskryf is); Mozart se klavierkonsert nr. 24 (onder Güner-Hegge); en solowerke van Brahms, Mendelssohn en Schubert.

Turner, Eva (1892-1990), Engelse sopraan. Vanaf 1911 het sy vir 4 jaar aan die Koninklike Musiekakademie in Londen studeer. Sy het in 1916 haar operadebuut met die Carl Rosa Opera gemaak, as die Hofknaap in Tannhäuser. Vanaf 1920 het sy by Covent Garden gesing, waar sy as Santuzza in Cavalleria rusticana gedebuteer het. Vier jaar later is sy na Milaan vir ‘n oudisie met Toscanini, en in dieselfde jaar (1924) het sy by La Scala begin optree, met ‘n debuut as Freia in Die Walküre. By dié beroemde operahuis het sy weldra die voorste dramatiese sopraan in beide Italiaanse opera en Wagner-rolle geword. Dit geld veral vir die titelrol in Turandot en as Brünnhilde in die Ring. Haar eerste vertolking as Turandot was in 1926 by Brescia, slegs 7 maande nadat sy die première bygewoon het. In 1928 het sy na Covent Garden teruggekeer, waar sy as Santuzza, Turandot en in die titelrol van Aida roem sou verwerf. Sy was bevriend met die legendariese dirigent Thomas Beecham, en het dikwels met hom opgetree. Verder het sy gesing in Chicago (1928/9, 1938), en in 1938 was sy ‘n solis tydens die eerste uitvoering van Vaughan Williams se Serenade to Music. Later was sy 'n hoogleraar in sang aan die Oklahama Universeit (1950-9), en aan die Koninklike Musiekakademie (vanaf 1959). Sy is in 1962 tot dame geskep, en vanaf 1971 tot 1985 was sy president van die Britse Wagner-vereniging. Saam met Birgit Nilsson word sy deur talle kenners as die beste Turandot nog beskou. Opnames: die genoemde werk van Vaughan Williams (onder Wood); liedere van Del Riego en Grieg; orkesliedere van d‘Hardelot, Ronald en Tosti; en versamelings opera-arias van Mascagni, Ponchielli, Puccini, Verdi en Wagner, onder Molajoli (1926), Beecham (1928), Batten (1933, in Engels), Barbirolli (1937) en Robinson (1928/38).

Turnovsky, Martin (1928-), Tsjeggiese dirigent. Hy het in 1952 met die Praag Simfonie-orkes gedebuteer, en vanaf 1955 het hy vir vyf jaar die Tsjeggiese Leër se simfonie-orkes gedirigeer. Hy het in 1958 die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen. Verder was hy dirigent van die Brno Staatsfilharmoniese Orkes (1960-3), die Pilsen Radio-orkes (1963-7) en die Dresden Staatskapelle (1967/8). In 1968 is sy Britse en Amerikaanse debute gemaak, en later was hy musiekdirekteur van die Noorse Opera in Oslo (1975-80) en van die Bonn Opera (1979-83). Met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes het hy in 1967/8 uitstekende opnames van sy landgenoot Martinu se vierde simfonie en Tre Ricercari gemaak.

Turowski, Joeli (1939-), Russies-gebore tjellis en dirigent (Engels Yuli Turovsky). Hy het op sewe met tjellostudies begin, eers aan die Sentrale Musiekskool in Moskou (1946-57) en daarna aan die stad se konserwatorium (1957-69). In 1969 het hy sy doktoraat aan die Moskou Konserwatorium verwerf en die USSR Tjellokompetisie gewen. Hy het in die jaar daarop ‘n tweede prys by die Praag Lentekompetisie gewen. In dié tyd was hy eerste tjellis van die Moskou Kamerorkes onder Rudolf Barsjai. Daarby het hy aan beide sy alma maters onderrig gegee en ‘n kamerorkes by die Gnesin Musiekkollege in Moskou gedirigeer. Hy het die Sowjet-Unie in 1976 verlaat en in die jaar daarop in Montreal gaan woon. Ook in 1976 het hy met twee Russiese kollegas die Borodin Trio gestig, met wie hy dikwels deur Europa en Noord-Amerika getoer en vele opnames gemaak het. Hy het in 1980 ‘n Kanadese burger geword. Drie jaar later het hy die kamerorkes I Musici de Montreál gestig waarvan hy sedertdien die direkteur is. Sy vrou Eleonora (ook gebore 1939) is ‘n violis en leermeester, en was ‘n stigterslid van sy ensemble asook eerste violis. Hulle tree soms as die Turovsky Duo op en het al deur Europa getoer. Voorts het hy vanaf aan die Universiteit van Montreal onderrig gegee. Sleutelopname: Handel se 12 Concerti grossi, opus 6. Verdere opnames: Sjedrin se Carmen balletsuite, Humoresque en Stalin Cocktail; Sjostakowitsj se Kamersimfonie nr. 1 en Simfonie vir Strykers (beide in Barsjai se verwerking); en Turina se La oracion del torero.

Tuxen, Erik (1902-57), Duits-gebore dirigent van Deense afkoms. Hy het in 1916 in Denemarke gaan woon, waar hy later (1936-41) dirigent van die Deense Staatsradio-orkes sou wees. Met hulle het hy ‘n historiese opname van Nielsen se Helios ouverture gemaak. As gasdirigent het hy met van die voorste orkeste in Europa en die VSA opgetree.


Encyclopedia: Western Music