If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Q - R

Q

Quartetto Italiano - sien Italiaanse Kwartet.

Quasthoff, Thomas (1959-), Duitse bas-bariton. Hy is misvormd gebore weens ‘n skadelike middel wat sy moeder tydens swangerskap toegedien is. Op sestien het hy begin met privaat sanglesse in Hannover en om regte aan die stad se universiteit te studeer. Ná graduering het hy ‘n omroeper by die Noord-Duitse Radio in Niederschen geword. ‘n Aantal sangpryse is deur hom gewen, onder meer die Kaminsky-kompetisie in Berlyn (1984), die Mozart-kompetisie in Würzburg (1987), en die beste Europese radioproduksie vir stem in Bratislava. Hy het in 1992 vir Mikhail Gorbatsjof gesing tydens ‘n besoek van die voormalige Sowjet-leier aan Duitsland. Sy optredes in konserte neem hom wyd deur Europa. Met sy kragtige, donker dog warm stem en helder, intense sang is hy uitmuntend in konsertwerke, veral dié van Bach, en in Duitse liedere. Sedert 1993 is hy ook ‘n dosent aan die Hannover Konserwatorium. Hy was ‘n solis in Simon Rattle se opname van Brahms se Ein deutsches Requiem wat in 2007 ‘n Gramophone toekenning verwerf het. Sleutelopnames: Bach se Kantates nrs. 56, 82 en 158 (onder Rainer Kussmaul); Schoenberg se Gurrelieder (onder Rattle). Verdere opnames: Handel se oratorium Saul (onder McCreesh); Mahler se Lieder eines fahrenden Gesellen (onder Boulez); ‘n versameling liedere van Schubert, deur latere komponiste georkestreer (onder Abbado); en liedere van Brahms, Loewe, Mendelssohn, Schubert, Schumann, Richard Strauss en Wolf.

Queffélec, Anne (1948-), Franse pianis. Sy het in 1968 ‘n eerste prys in die München-kompetisie gewen en was in die jaar daarop ‘n finalis in die internasionale Leeds-kompetisie. Daarna het sy as solis met bekende orkeste begin optree. Sleutelopnames: Mozart se Sonates vir klavierduet K497 en K521 (met Imogen Cooper). Verdere opnames: Debussy se Fantaisie; Poulenc se Dubbelkonsert (met Jean-Bernard Pommier); Ravel se twee klavierkonserte; solowerke van Ravel, Satie en D. Scarlatti; en Schubert se volledige werke vir vier hande (met Cooper).

Queler, Eve (1936-), Amerikaanse dirigent en pianis. Sy het haar dirigeerdebuut in 1966 in Fairlawn, New Jersey met ‘n opvoering van Cavalleria rusticana gemaak. Daarna was sy 'n dirigent en sangafrigter by die New York Stadsopera, en in 1967 het sy die Opera-orkes van New York gestig. Sedertdien dirigeer sy hulle in konsertuitvoerings van vele afgeskeepde operas, met voortreflike opnames wat gemaak is van Massenet se Le Cid, Puccini se Edgar en Verdi se Aroldo.

Quivar, Florence (1944-), Amerikaanse mezzosopraan. As lid van die Juilliard Operateater het sy in 1977 by die Metropolitan Opera gedebuteer as Marina in Boris Godoenof. Haar Salzburg-feesdebuut is in 1983 gemaak. Onder die rolle waarin sy uitblink, tel Ulrica in Un ballo in maschera en Federica in Luisa Miller. Sy het as solis in ‘n sleutelopname van Szymanofski se Stabat Mater onder Simon Rattle gesing. Verdere opnames: Mahler se derde simfonie (onder Haitink, op DVD); en die genoemde operas van Verdi.

R

Rabin, Michael (1936-72), Amerikaanse violis. Hy was die seun van ‘n violis in die New York Filharmoniese Orkes en het in 1947 sy professionele debuut gemaak. Daarna het hy as hoogs begaafde virtuoos wêreldbekend geraak, totdat ‘n fratsongeluk sy lewe kortgeknip het. Hy het in 1958 in New York ‘n opname van Paganini se 24 Caprices gemaak wat onder die beste weergawes daarvan gereken word. Verdere opnames: Saint-Saëns se Caprice en forme de valse.

Rahbari, Alexander (1948-), Iraans-gebore dirigent. Hy het in Wenen onder Hans Swarowsky studeer en daarna direkteur van die Teheran Konserwatorium geword. In 1977 het hy na Europa verhuis, waar hy die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen en ‘n silwermedalje in die Geneefse kompetisie verower het. Twee jaar later is hy deur Herbert von Karajan genooi om die Berlynse Filharmoniese Orkes te dirigeer en as sy assistent in Salzburg op te tree. Sedertdien het hy by van die vernaamste operahuise opgetree en bekende orkeste in Europa, Japan en Kanada gedirigeer. In 1988 het hy hoofdirigent van die BRT Filharmoniese Orkes in Brussels geword, en daarby was hy vir ‘n tyd hoofgasdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes. Intussen het hy ‘n Oostenrykse burger geword. Hy is ewe begaafd in Italiaanse opera en in orkeswerke oor ‘n wye repertorium. Opnames: Beethoven se negende simfonie en Egmont-musiek; Benoit se Hoogmis; simfonieë van Brahms (nrs. 1 en 4) en Sjostakowitsj (nrs. 5 en 9); ‘n versameling orkeswerke van Debussy; ‘n versameling rapsodieë deur Vlaamse komponiste; en die operas Carmen, I Pagliacci, Cavalleria Rusticana, Tosca, Madama Butterfly, Manon Lescaut, Rigoletto en Simon Boccanegra.

Raimondi, Ruggero (1941-), Italiaanse bas-bariton. Hy het in 1964 sy operadebuut in Spoleto gemaak as Colline in La Bohème. Daarna het debute gevolg by die feeste in Glyndebourne (1969) en Salzburg (1970), en by die Metropolitan Opera (1970) en Covent Garden (1972). Sedert 1970 is hy ‘n lid van La Scala, waar hy bekend geraak het as ‘n begaafde sanger in Italiaanse opera, veral dié van Rossini en Verdi. Hy het in verskeie rolprente opgetree, waaronder Carmen (as Escamillo), Don Giovanni (in 1979 by die Parys Opera, in die titelrol) en Tosca (in 2001, as Scarpia). Onder sy verdere rolle tel Mefistofeles in Faust, Timur in Turandot, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Don Magnifico in La Cenerentola, Mustafa in L'italiana in Algeri, Don Profondo in Il viaggio a Reims, Ramfis in Aida, die Groot Inkwisiteur in Don Carlos, Guardiano in La forza del destino, Pagano in I Lombardi, Banquo in Macbeth, Massimiliano in I Masnadieri, Procida in I vespri siciliani, en die titelrolle in Boris Godoenof en Mosè in Egitto. As konsertsanger het hy uitgeblink in ‘n 1982-filmopname van Verdi se Requiem by die Edinburgh-fees onder Claudio Abbado. Verdere opnames: Verdi se Requiem (onder Bernstein); die genoemde operas van Bizet, Moessorgski, Mozart, Puccini, Rossini en Verdi, asook Attila en Un ballo in maschera.

Raisa, Rosa (1893-1963), Pools-gebore sopraan. Sy het as kind begin sing, maar het tydens ‘n pogrom teen die Jode (haar van was eintlik Buchstein) na Italië gevlug. Ná studies aan die Napels Konserwatorium het sy in 1913 haar operadebuut in Parma gemaak, as Leonora in Verdi se vroeë opera Oberto. In dieselfde jaar het sy die titelrol in Aida in Chicago gesing, waar sy later ‘n lid van die operahuis sou word (1917-32, 1933-6). Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1914) en La Scala (1916), in beide gevalle as Aida. Sy het in 1924 die rol van Asteria tydens die première van Boito se Nerone in Milaan geskep. Twee jaar later is sy deur Toscanini gekies om die eerste vertolker van die titelrol in Turandot te wees, met die wêreldpremière by La Scala. Daarby was sy bekend as die Marschallin in Der Rosenkavalier, en in die titelrolle van Norma en Tosca. Sy het in 1938 uitgetree en ‘n sangskool in Chicago geopen met haar man, die bariton Giacomo Rimini (1888-1952).

Ralf, Torsten (1901-54), Sweedse tenoor. Hy het in Stockholm en Berlyn studeer, en in 1930 sy operadebuut in Stettin gemaak as Cavaradossi in Tosca. Daarna het hy opera gesing in Frankfurt (1933-5) en Dresden (1935-44). By laasgenoemde het hy in 1938 die rol van Apollo tydens die première van Daphne geskep. Verder het hy gesing by Covent Garden (1935-9) en die Metropolitan Opera (1945-8), met debute by beide operahuise in die titelrol van Lohengrin. By Covent Garden sou hy uitblink as Walther in ‘n 1936-opname van Die Meistersinger von Nürnberg onder Thomas Beecham. Hy was ook bekend in rolle soos Radames in Aida en die titelrol in Parsifal.

Ramey, Samuel (1942-), Amerikaanse bas-bariton. Ná studies aan universiteite in Kansas en Wichita en daarna in New York, het sy professionele debuut in 1973 by die New York Stadsopera as Zuniga in Carmen plaasgevind. Weldra het hy die eerste bas by dié operahuis geword. Verdere debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (1976), die Nederlandse Opera en die Hamburg Staatsopera (beide in 1978), Chicago en San Francisco (beide in 1979), La Scala en Wenen (beide in 1981), Covent Garden (1982) en die Salzburg-fees (1987). In sy debuut by die Metropolitan Opera in 1984 het hy as Argante in Handel se Rinaldo gesing, en gedurende die 1980’s het hy in ‘n reeks Rossini-operas in Pesaro opgetree. Met sy ferm, behendige stem en gevoelvolle sang is hy wêreldbekend in die operas van Mozart en Rossini, hoewel sy repertorium veel wyer as dit strek. As veelsydige sanger-akteur blink hy uit in rolle soos Orovesco in Norma, Escamillo in Carmen, Raimondi in Lucia di Lammermoor, Koning Hendrik in Anna Bolena, Blitch in Susannah, Méphistophélès in Faust, Idreno in Armida, die Filosoof in Chérubin, Sarastro in Die Zauberflöte, Pimen in Boris Godoenof, die vier skurkrolle in Les Contes d'Hoffmann, Scarpia in Tosca, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Douglas in La donna del Lago, Mustafa in L'Italiana in Algeri, Elmiro in Otello (dié van Rossini), Gaudenzio in Il Signor Bruschino, Lord Sidney in Il viaggio a Reims, Orestes in Elektra, Nick Shadow in The Rake's Progress, Claudius in Hamlet, Koning Filips in Don Carlos, Pagano in I Lombardi, Massimiliano in I Masnadieri, Zaccaria in Nabucco, en die titelrolle in Bloubaard se Kasteel, Mefistofele, Don Giovanni, Le nozze di Figaro, Maometto II en Attila.

Ramey se swierige voorkoms dra verder daartoe by dat hy die status van ‘n internasionale ster in die operawêreld beklee. Sedert sy debuut in New York se Carnegie Hall in 1987 gee hy dikwels liedere-voordragte. Hy het in dieselfde jaar by die Salzburg-fees die titelrol gesing in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni, met ‘n DVD wat gemaak is. Op die hoogtepunt van die Drie Tenore gier, in 1999, het hy met sy landgenoot, die bariton Thomas Hampson, ‘n versameling duette getiteld No tenors allowed opgeneem. Verdere opnames: Bernstein se musiekblyspel On the Town (as Pitkin); Brahms se Ein deutsches Requiem; Bruckner se Te Deum; liedere van Copland en Ives; ‘n versameling arias getiteld A date with the devil (onder Julius Rudel); die genoemde operas van Bartók, Bellini, Bizet, Donizetti, Floyd, Gounod, Haydn, Massenet, Moessorgski, Mozart, Offenbach, Puccini, Rossini, R. Strauss, Strawinski, Thomas en Verdi, asook Semele, La Bohème, Semiramide en I due Foscari.

Rampal, Jean-Pierre (1922-2000), Franse fluitspeler en dirigent. Hy was 'n fluitspeler by die Vichy Opera (1946-50) en die Parys Opera (1956-62), en het vanaf 1945 wêreldwyd as solis getoer. Intussen het hy die Franse Houtblaserskwintet (1945) en die Parys Barok-ensemble (1953) gestig. Hy het in 1957 by die Salzburg-fees gedebuteer. Vanaf 1969 tot 1982 was hy ‘n hoogleraar in fluit aan die Parys Konserwatorium. Met sy delikate frasering en kragtige asemtegniek was hy veral bekend in kamermusiek van die agtiende eeu. Werke is deur onder andere Poulenc vir hom geskryf, en voorts het hy heelwat vroeë fluitmusiek geredigeer en ‘n boek daaroor geskryf. Opnames: fluitkonserte van J.S. Bach, Ibert en Jolivet; fluitsonates van Hindemith, Martinu, Prokofiëf en Poulenc; fluitverwerkings van ‘n aantal Bach-werke en Mozart se fluitkwartette; Vivaldi se 6 fluitkonserte (opus 10), fluitkonserte P80, P118, P139-142, P203, P205, P440, asook Konsert vir fluit en 2 viole en Dubbele fluitkonsert (almal onder Scimone); en (as dirigent) Mozart se Simfonie nr. 29 en Haffner  serenade.

Randová, Eva (1936-), Tsjeggiese mezzosopraan. Sy was aanvanklik ‘n wiskunde- en sport- onderwyseres, totdat sy in 1962 haar operadebuut in Ostrawa gemaak het, as Eboli in Don Carlos. Later was sy verbonde aan die Praag Nasionale Opera (vanaf 1969) en die Stuttgart Opera (vanaf 1971). Verdere debute het gevolg by die feeste in Bayreuth (1973) en Salzburg (1975), asook by Covent Garden (1977) en die Metropolitan Opera (1981). Met haar intense sang en ryk stem is sy uitmuntend in Tsjeggiese rolle soos Jezibaba en die Vreemde Prinses in Rusalka, Vlasta in Sárka, die titelrol in Die geslepe klein wyfievos en Kostelnicka in Jenufa. Daarby is sy begaafd as Ortrud in Lohengrin en Kundry in Parsifal. Sy het in uitstekende opnames van die genoemde operas van Dvorák, Fibich, Janácek en Wagner gesing (in laasgenoemde geval in ‘n DVD-opname by die Bayreuth-fees van 1981).

Rankin, Nell (1924-2005), Amerikaanse mezzosopraan. Sy het swemlesse gegee om geld in te samel vir haar studies aan die Birmingham Konserwatorium in Alabama. Sy is mettertyd na New York vir verdere studies en het in 1947 in die stadsaal daar gedebuteer. Haar operadebuut is in 1949 in Zürich gemaak, as Ortrud in Lohengrin. In die jaar daarop het sy die eerste Amerikaanse sanger geword om die internasionale sangkompetisie in Genève te wen, wat die begin van haar internasionale loopbaan was. Sy het in 1951 by La Scala en die Metropolitan Opera gedebuteer, in laasgenoemde geval as Amneris in Aida. Daarna sou sy vir langer as 20 jaar aan die Met verbonde wees, waar haar repertorium rolle soos Marina in Boris Godoenof en Eboli in Don Carlos ingesluit het. Sy het voorts by bekende operahuise soos Covent Garden en die Teatro Colón in Buenos Aires gesing.

Rankl, Karl (1898-1968), Oostenryks-gebore dirigent en komponis. Ná studies onder die komponiste Schoenberg en Webern het hy dirigeerposte by verskeie operahuise beklee. Dit het ingesluit die Weense Volksopera (1922-5), Reichenberg en Königsberg (1925-8), die Kroll Opera in Berlyn (1928-31, as koormeester vir Otto Klemperer), Graz (1932-7) en Praag (1937-9). In 1939 het hy in Engeland gaan woon, waar hy vanaf 1946 tot 1951 musiekdirekteur by Covent Garden was. Daarna was hy hoofdirigent van die Skotse Nasionale Orkes (1952-7) en musiekdirekteur van die Elizabethaanse Operatrust in Sydney, Australië (1957-60).

Raphael Ensemble, Engelse strykerensemble wat in 1982 gestig is vir die uitvoering van kwintette en sekstette. Hulle toer wyd deur Europa, Noord-Amerika en die Verre-Ooste. In hul radio-uitsendings vir die BBC het hul al vele ongewone en afgeskeepde werke uitgevoer. Sleutelopnames: Brahms se 2 strykkwintette en 2 strykersekstette; Tsjaikofski se Souvenir de Florence. Verdere opnames: Arenski se tweede strykkwartet; Korngold se strykersekstet; Schoenberg se Verklärte Nacht.

Rascher, Sigurd (1907-), Duitse saksofoonspeler. Hy het vanaf die 1930's as solis in konserte opgetree en veel bygedra om sy instrument te populariseer. Glazoenof het 'n saksofoonkonsert vir hom geskryf.

Raskin, Judith (1928-84), Amerikaanse sopraan. Sy het aan Smith Kollege studeer, waar sy in 1949 gegradueer het. Privaat sanglesse is in New York onder Anna Hamlin onderneem, en in 1956 het sy die titelrol in Moore se opera The Ballad of Baby Doe tydens die première in Colorado geskep. In die jaar daarop het sy by die NBC-TV Opera aangesluit en in 1959 by die New York Stadsopera. Haar debuut by die Metropolitan Opera is in 1962 gemaak, as Susanna in Le nozze di Figaro. Sy sou tot 1972 by die Met sing. Later het sy in New York onderrig gegee by die Manhattan Musiekskool (vanaf 1975) en die Mannes Musiekkollege (vanaf 1976). Onder haar beste rolle het getel Amor in Orfeo ed Euridice en Anne Trulove in The rake’s progress. Sleutelopname: Mahler se vierde simfonie (onder Georg Szell). Verdere opnames: Beethoven se oratorium Christus am Olberge; en die genoemde operas van Gluck en Strawinski.

Rasumovsky Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1984 gestig is. Die ensemble is vernoem na die Russiese ambassadeur in Wene in die vroeë negentiende eeu, vir wie Beethoven sy 3 kwartette, opus 59 geskryf het. Dit verbaas dus nie dat Beethoven se strykkwartette ‘n vername komponent van hul repertorium verteenwoordig nie, maar hulle is ook begaafd in moderne Britse werke. Opnames: Boughton se hobokwartet en Pastoral (beide met Sarah Francis), en sy 2 strykkwartette;  en strykkwartette van Jadin en Vachon.

Rattle, Simon (1955-), Engelse dirigent. Hy was as agtjarige reeds ‘n slaginstrumentspeler in die Merseyside Jeugorkes nadat hy twee jaar tevore sy eerste openbare uitvoering gegee het. Ook as agtjarige het hy met klavierlesse begin. As tiener het hy soms onder die groot kampvegter vir moderne musiek Pierre Boulez gespeel, en deur wie hy sterk in sy eie benadering tot musiek beïnvloed is. In 1970 het hy die Liverpool Sinfonia gestig, wat hy vir die volgende twee jaar sou dirigeer. Op sestienjarige leeftyd het hy klavier en dirigeerkuns aan die Koninklike Musiekakademie in Londen gaan studeer, waar hy die meeste van die dirigent John Carewe geleer het. In 1974 het hy op negentienjarige ouderdom met Richard Strauss se Don Juan die John Player dirigeerkompetisie gewen. Dit het hom in staat gestel om vir twee jaar as assistent-dirigent by die Bournemouth Simfonie-orkes en Sinfonietta te werk. In 1975 het sy Londense debuut met die Filharmonia Orkes gevolg, asook sy professionele operadebuut met The Rake's Progress. Sedert 1977 tree hy by die Glyndebourne-fees op (met 'n debuut in Die geslepe klein wyfievos) en twee jaar later is sy Amerikaanse debuut met die Los Angeles Filharmoniese Orkes gemaak.

In 1980 het Rattle met die Bournemouth Simfonie-orkes die eerste opname van Mahler se tiende simfonie (soos deur die musiekgeleerde Deryck Cooke geredigeer) gemaak en met die Amerikaanse sopraan Elise Ross getrou. Daarna het hy wêreldberoemd geraak as hoofdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1980-98), met wie hy wyd getoer en talle bekroonde opnames gemaak het. Gedurende sy eerste drie jaar met dié orkes het hy ook Engelse en Amerikaanse letterkunde aan die Universiteit van Oxford studeer. Verdere debute het plaasgevind by die Engelse Nasionale Opera (1985), Covent Garden (1990) en die Salzburg-fees (1993). In 1994 is hy tot ridder geslaan, en ses jaar later het hy die première van Maw se opera Sophie’s Choice by Covent Garden gedirigeer. Hy het in 2002 as musiekdirekteur van die Berlynse Filharmoniese Orkes by Claudio Abbado oorgeneem – die eerste Brit om dié gesogte pos te beklee. By die Londense Proms het hy in 2004 die Orchestra of the Age of Enlightenment in ‘n opvoering van Das Rheingold gedirigeer, as eerste aflewering in ‘n beplande siklus van die Ring met eietydse instrumente oor 4 opeenvolgende Proms-seisoene. Sy opname van Brahms se Ein deutsches Requiem met die Berlynse Filharmonie is in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon.

Reeds vanaf ‘n jong leeftyd is Rattle ‘n bewonderaar van die vermaarde dirigent Carlo Maria Giulini, van wie hy geleer het om sekere werke (soos Beethoven en Bruckner se negende simfonieë) nie te dirigeer totdat die tyd daarvoor heeltemal ryp is nie. Hy beskik oor 'n besondere vermoë om frases en teksture met sy hande aan orkeste oor te dra, sodat hy tans een van die wêreld se voorste dirigente van twintigste-eeuse musiek is. Dit sluit laat-Romantici soos Mahler en Sibelius in, alhoewel sy repertorium terug tot by Haydn en Mozart strek. Sy lewendige opnames van Beethoven se volledige simfonieë met die Weense Filharmoniese Orkes het egter gemengde reaksies ontlok. Terwyl sommige kritici die siklus hoog aanskryf, kritiseer ander kenners dit omdat die dirigent se ‘eietydse’ benadering nie juis met die welige, romantiese styl van die groot Oostenrykse orkes saamgaan nie. Sleutelopnames: Debussy se La mer en Prélude à l’après-midi d’un faune (Berlyn 2004); Janácek se Sinfonietta (Londen) en Glagolitic Mass (Birmingham); Mahler se simfonieë nrs. 2 en 3 (beide Birmingham), nr. 10 soos deur Cooke voltooi (Berlyn), en kantate Das klagende Lied (Birmingham); Schoenberg se Gurrelieder (Berlyn 2001) en Pierot lunaire; Sibelius se vyfde simfonie (Philharmonia); Szymanowski se simfonieë nrs. 3 en 4, en koorwerke Litania do Marii Pany en Stabat Mater (almal Birmingham); Webern se 6 Stukke vir Groot Orkes (Birmingham). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Mahler en Sibelius (beide Birmingham), en ‘n aantal van Haydn (22, 86 en 102), Henze, Nielsen, Sjostakowitsj (nr. 4) en Walton; orkeswerke van Berg, Britten, Maw, Ravel, Schoenberg, Strawinski en Turnage; Bernstein se musiekblyspel Wonderful Town; Britten se War Requiem; Haydn se oratorium The Creation (in Engels); Liszt se Faust Simfonie; Messiaen se Turangalila Simfonie; Richard Strauss se Metamorphosen; en die operas Porgy and Bess, Die geslepe klein wyfievos, Die tote Stadt, Così fan tutte en Koning Roger.

Rautavaara, Aulikki (1906-90), Finse sopraan. Sy het haar debuut in 1932 in Helsinki gemaak en twee jaar later het sy tydens die eerste Glyndebourne-fees die rol van die Grafin in Le nozze di Figaro vertolk. ‘n Historiese opname is daarvan onder Fritz Busch gemaak. Tot 1938 sou sy gereeld by Glyndebourne sing, as die Grafin en as Pamina in Die Zauberflöte. Haar debuut by die Salzburg-fees het in 1937 plaasgevind.

Ravinia, ‘n park in Chicago waar ‘n jaarlikse musiekfees in die somer gehou word. Die sangers is hoofsaaklik van die Metropolitan Opera en die Chicago Opera afkomstig, met die Chicago Simfonie-orkes as inwonende orkes. James Conlon het Christoph Eschenbach in 2004 as musiekdirekteur van die fees opgevolg.

Red Byrd, Britse vokale ensemble wie se eerste konsert in 1989 tydens die Bremen Musiekfees gegee is. Sedertdien toer hul wyd deur Europa en Noord-Amerika, met optredes wat dikwels saam met hedendaagse groepe plaasvind. Tydens die Tampere Koorfees in Finland in 1993 het hul die première van Ivan Moody se Passion and Resurrection gegee, met ‘n opname wat later gemaak is. Hul tree in twee vorms op: ‘n Middeleeuse ensemble bestaande uit 3 tenore en ‘n bas, en ‘n Barokensemble bestaande uit sopraan, tenoor, bas en continuo. Die Barokensemble spesialiseer in Engelse en Italiaanse musiek van die sewentiende eeu, en is verbonde aan Pomona College in Kalifornië. Die ensemble staan onder die leiding van John Potter en Richard Wistreich, wat dosente aan die universiteit van York en Newcastle onderskeidelik is. Sleutelopname: ‘n versameling Organa vir Kersfees, Paasfees en Pinkster van Leonin. Verdere opnames: Monteverdi se opera-ballette Il ballo delle ingrate en Il combattimento di Tancredi e Clorinda.

Redel, Kurt (1918-), Duitse fluitspeler en dirigent. Hy het fluit, viool, klavier, komposisie en dirigeerkuns aan die Breslau Konserwatorium studeer, asook dirigeerkuns onder Clemens Krauss. Op 21 het hy die internasionale musiekkompetisies in Wenen en Genève gewen, waarna hy in 1939 ‘n hoogleraar aan die Salzburg Mozarteum en ‘n lid van hul orkes geword het. Twee jaar later het hy by die orkes van die Beierse Staatsopera in München aangesluit, en in 1946 is hy na Detmold waar die Noordwes-Duitse Musiekakademie pas geopen is. Daar sou hy tot 1953 onderrig gee. In 1953 het hy Pro Arte Orkes in München gestig, met wie hy wyd getoer en bekroonde opnames gemaak het. Verder  het hy die Paasmusiekfees in Lourdes gestig en dit vir 20 jaar gelei. Daar sou Pous Johannes Paulus II jare later die Médaille d’or aan hom oorhandig. Hy het pionierswerk vir Duitse Barokmusiek verrig deur sy bevordering van Telemann op ‘n stadium dat die groot komponis afgeskeep is, en het die eerste moderne uitvoering van sy Sint Mattheüspassie in Luzern gedirigeer. Daarby het hy die premières van werke deur Stölzel en Frederik die Grote gedirigeer, en Pachelbel se gewilde Kanon is deur hom herontdek. Oor die jare was hy gereeld betrokke by die uitvoerings van hedendaagse musiek in Darmstadt. Eretoekennings is deur die Franse en Duitse regerings aan hom gemaak.

Reed, William (1876-1942), Engelse violis en komponis. Hy het viool in verskeie Londense orkeste gespeel, onder andere die Londense Simfonie-orkes vanaf die stigting daarvan in 1904. Later was hy die leier van dié ensemble (1912-35), terwyl hy aan die Koninklike Musiekkollege onderrig gegee het. As goeie vriend van die komponis Elgar het hy twee boeke oor hom geskryf en hom bygestaan met die komposisie van sy vioolkonsert. Hy het ook in die eerste uitvoerings van Elgar se vioolsonate, strykkwartet en klavierkwintet gespeel. Vir 'n lang tyd het hy die LSO by die Drie Kore-fees gelei, sodat hy in die Worcester Katedraal begrawe is.

Reilly, Tommy (1919-), Kanadees-gebore mondfluitjiespeler. Nieteenstaande die feit dat hy selfopgelei is, het hy as solis met bekende orkeste opgetree. Werke is deur komponiste soos Jacob, Spiwakofski en Tausky vir hom geskryf. Hy het voorts werke van Bach, Mozart, Chopin en Smetana vir sy instrument verwerk. Opnames: mondfluitjiekonserte van Arnold, Spivakovsky en Villa-Lobos; Jacob se Divertimento en Moody se Kwintet (beide met die Hindar Kwartet).

Reiner, Fritz (1888-1963), Hongaars-gebore dirigent. Aanvanklik het hy regte bestudeer, maar weldra het hy na die dirigeerkuns oorgeslaan. In Europa het hy opgetree as koormeester by die Boedapest Opera (vanaf 1909), dirigent van die Boedapest Volksopera (1911-14) en hoofdirigent van die Dresden Opera (1914-22). Daarna het hy hom in die VSA gevestig, waar hy in 1928 ‘n Amerikaanse burger sou word. In dié land het hy eers die Cincinatti Simfonie-orkes gedirigeer (1922-31). Daarna was hy hoof van die orkes- en operadepartemente aan die Curtis Instituut in Philadelphia (1931-41). Een van sy studente by Curtis was die later beroemde dirigent Leonard Bernstein, wat sou vertel hoedat sy leermeester van sy studente verwag het om die presiese noot wat ‘n bepaalde instrument in ‘n komplekse partituur speel, moes kon identifiseer. Intussen het sy Londense debuut in 1924 plaasgevind, met latere optredes wat sou volg by Covent Garden (1936/7). Daar het hy ‘n legendariese opname van Tristan und Isolde met Lauritz Melchior en Kirsten Flagstad in die titelrolle gedirigeer. In die VSA het hy bekend geraak as ‘n orkesbouer, sodat hy verdere poste bekom het as dirigent van die Pittsburgh Simfonie-orkes (1938-48) en by die Metropolitan Opera (1949-53). By die Met het hy in 1953 die Amerikaanse première van The Rake's Progress gedirigeer, en drie jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer.

Vanaf 1953 tot sy dood ‘n dekade later was Reiner hoofdirigent van die Chicago Simfonie-orkes, wat hy tot een van die wêreld se voorste orkeste uitgebou het. Saam het hulle ‘n groot aantal uitstekende opnames gemaak, gekenmerk deur helderheid, balans, ritmiese presisie en briljante klank. Veral hul koperblasers is in dié tyd as ongeëwenaard beskou. Sy dirigeerstyl was besonder ingetoë, die presiese teenpool van sy voormalige student Bernstein. Op die fotos wat van hom geneem is verskyn hy altyd uitdrukkingloos, en gepaard daarmee is geen staaltjies oor hom te vertel nie. Sy uitnemende resultate is deur besonder hoë standaarde en intensiewe (sommiges het gesê fanatiese) inoefening van sy orkeste verkry. As streng gedissiplineerde mens wou hy die musiek self na vore bring, eerder as ‘n subjektiewe vertolking daarvan. Sy roem lê veral in die Duitse en Russiese Romantiese repertoriums, en in die musiek van sy landgenoot Bartók.

Sleutelopnames: Debussy se Ibéria en La Mer (laat 1950’s); Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling (1957); Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky (1959); Ravel se Alborada del gracioso, Pavane pour une infante défunte, Rapsodie espagnole en Valses nobles et sentimentales; Rimski-Korsakof se Scheherazade (1956); ‘n versameling Rossini-ouvertures (1958); Schubert se simfonie nr. 8; Richard Strauss se Also sprach Zarathustra en Ein Heldenleben; Strawinski se toondig Le Chant du rossignol (1956). Verdere opnames: simfonieë van Beethoven (nrs. 3, 5, 6 en 7), Dvorák (nr. 9), Haydn en Mahler (nr. 4); ‘n beeldopname van Beethoven se simfonie nr. 2 en Mozart se simfonie nr. 39 (Chicago 1953/54); orkeswerke van Bartók, Borodin, Brahms, Glinka, Kabalefski, Liszt, Prokofiëf, Rachmaninof, Johann en Richard Strauss, en Tsjaikofski; Mahler se Das Lied von der Erde; Respighi se toondigte Fonteine van Rome en Denne van Rome; Verdi se Requiem (Wenen); en die operas Elektra, Der fliegende Holländer (Met 1950) en Die Meistersinger von Nürnberg (Wenen 1955).

Reinhardt, Delia (1892-1974), Duitse sopraan. Nadat sy in 1913 in Breslau (tans Wroclaw, Pole) gedebuteer het, was sy verbonde aan die München Opera (1916-24) en die Berlynse Staatsopera (1924-32). In München het sy en die groot dirigent Bruno Walter op mekaar verlief geraak, maar sy het in 1919 met die bariton Gustav Schützendorf getrou. Sy het in die 1920’s ook gesing by die Metropolitan Opera (1923/4) en by Covent garden (1924-9). Haar bekendste rol was Octavian in Der Rosenkavalier, en daarby was sy begaafd as Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Pamina in Die Zauberflöte en Desdemona in Otello.

Reining, Maria (1903-91), Oostenrykse sopraan. Sy het in ‘n bank gewerk voordat sy begin sing het, waarna sy verbonde was aan operahuise in Wenen (1931-3), Darmstadt (1933-5) en München (1935-7). In 1937 het haar deurbraak gekom toe Toscanini haar gekies het om die rol van Eva in Die Meistersinger von Nürnberg by die Salzburg-fees te sing, met ‘n historiese opname wat daarvan gemaak is. Vanaf dié jaar tot 1955 was sy 'n lid van die Weense Staatsopera, waar sy as die gevierde Lotte Lehmann se opvolger beskou is. In 1938 het sy gedebuteer by Covent Garden en in Chicago, en in 1939 ook by die New York Stadsopera. Sy was ‘n beroemde sangeres in Strauss-rolle soos die Marschallin in Der Rosenkavalier, en die titelrolle in Arabella, Ariadne auf Naxos en Daphne. Eersgenoemde het sy in klassieke opnames onder Böhm, Szell, Erich Kleiber en Knappertsbusch gesing. Sy was verder bekend as Elsa in Lohengrin en in die liedere van Richard Strauss. Vanaf 1962 was sy ‘n hoogleraar in sang aan die Salzburg Mozarteum. Verdere opnames: 'n versameling arias uit Daphne (onder Rudolf Moralt).

Reisenberg, Nadia (1904-83), Litaus-gebore Amerikaanse pianis. Sy het aan die Sint Petersburg Konserwatorium studeer, maar weens die Russiese Rewolusie is sy met die res van haar gesin via Warskou en Duitsland na New York, waar hulle in 1922 gevestig is. Vervolgens het sy in konserte met haar suster Clara Rockmore gespeel, en vanaf 1930 is verdere studies onder Josef Hofmann onderneem. In 1939/40 het sy die volledige klavierkonserte van Mozart in radio-uitsendings gespeel, met Alfred Wallenstein as dirigent. Sy het in later jare onderrig gegee aan die Juilliard Musiekskool en was 'n beoordelaar in die Leventritt-kompetisie. Haar opnames van solowerke deur Chopin wat vanaf 1947 tot 1957 gemaak is, insluitend die volledige Nocturnes en Mazurkas, word hoog aangeslaan.

Reizen, Mark (1895-1992), Russiese bas. Hy het in ‘n musikale Joodse gesin in die Oekraïne grootgeword, met vier broers en ‘n suster wat almal musiekopleiding in ‘n verskeidenheid instrumente ontvang het. Op 16 het hy by ‘n rondreisende sanggroep aangesluit, wat hom aan die verskeidenheid van die teaterlewe bekendgestel het. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy as soldaat in die Russiese leër diens gedoen. Daarna het hy ingenieurswese studeer, asook sang aan die Kharkof Konserwatorium. Sy debuut by die Kharkof Opera is in 1921 gemaak as Pimen in Boris Godoenof. Hy het in 1925 by die Marijinsky Teater in Leningrad (tans Sint Petersburg) aangesluit, met wie hy in 1929/30 deur Wes-Europa sou toer. Tydens ‘n opvoering van Faust by die Bolsjoi Teater in Moskou in 1930, is hy deur die Sowjet-diktator Stalin genooi om by die Bolsjoi aan te sluit. Hy het wyslik gehoor gegee, en sou tot sy uittrede in 1954 eerste bas by die Bolsjoi wees. Daar het hy rolle gesing soos Konsjak in Prins Igor, Mephistopheles in Faust, Ruslan in Ruslan en Ludmila, die titelrol in Boris Godoenof, Dosifei in Khowansjina, Salieri in Mozart en Salieri, Don Basilio in Il barbiere di Siviglia, Prins Gremin in Jewgeni Onegin, Filips II in Don Carlos en Wotan in die Ring-siklus. Die Stalin-prys is drie keer aan hom toegeken: in 1941, 1949 en 1951, en daarby was hy ‘n Volkskunstenaar van die USSR. Hy was ook ‘n vermaarde liederesanger en het in Monte Carlo, Berlyn, Boedapest en Parys gesing. Vanaf 1967 het hy onderrig gegee, onder meer as hoogleraar aan die Gnessin Instituut in Moskou. Ter viering van sy 90ste verjaardag in 1985 het hy Gremin gesing in ‘n opvoering van Jewgeni Onegin by die Bolsjoi - ‘n heuglike geleentheid wat gelukkig verfilm is. Hy is aan ‘n beroerte oorlede. Opnames: die operas Prins Igor, Faust, Boris Godoenof, Khowansjina, Mozart en Salieri en Sadko.

Remedios, Alberto (1935-), Engelse tenoor. Hy het in 1957 sy operadebuut in Londen gemaak, as Tinca in Il Tabarro. Drie jaar later het hy bekendheid verwerf met sy vertolking van Walther in The Mastersinger of Nuremberg (in Engels) by die Sadler’s Wells Opera. Daar sou hy later die rolle van Siegmund en Siegfried in die Engelstalige Ring-siklus onder Reginald Goodall sing. Vanaf 1968 was hy vir twee jaar aan die Frankfurt Opera verbonde. Verdere debute het plaasgevind in San Francisco (1973) en by die Metropolitan Opera (1976). Opnames: Kálmán se operette Countess Maritza (in Engels); Goodall se Mastersinger en Ring-siklus; en The Midsummer Marriage.

Remmert, Birgit (1966-), Duitse mezzosopraan. Ná studies in haar geboortestad Braunschweig en later in Detmold, het sy in 1992 begin om in operahuise in Zürich, Berlyn, Hamburg en Dresden te sing. Debute is gemaak by die feeste in Salzburg (1993), Montpellier (1998) en Bayreuth (2000). Onder haar rolle tel Erda en Fricka in Wagner se Ring-siklus. Sy is egter meer bekend as konsertsangeres in die Duitse repertorium, waarin sy met van die voorste dirigente van haar tyd optree. In 2002 het sy ‘n Europese toer met Wladimir Ashkenazy en die Europese Unie Jeugorkes onderneem, waartydens Berlioz se liedere-siklus Les nuits d’été uitgevoer is. Sleutelopname: Mahler se derde simfonie (onder Rattle). Verdere opnames: Bach se Magnificat en 4 Missae breves (almal onder Schreier); Beethoven se negende simfonie (3 weergawes, onder Harnoncourt, Rattle en Zinman); Mahler se tweede simfonie (onder beide Fischer en Rattle) en agste simfonie (onder Rattle); en liedere van Brahms en Richard Strauss.

Rendall, David (1948-), Engelse tenoor. Sy debuut in 1975 met die Glyndebourne Toeropera as Ferrando in Così fan tutte is later in dieselfde jaar gevolg deur ‘n eerste optrede by Covent Garden. Verdere debute het plaasgevind by die Glyndebourne-fees (1976), New York en San Francisco (beide in 1978), en die Metropolitan Opera (1980). Vanaf 1976 tot 1992 was hy ‘n lid van die Engelse Nasionale Opera. Daar het hy in 1982 uitgeblink as Leicester in Mary Stuart (onder Charles Mackerras), met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Morris en Weller); Bruckner se Te Deum; en Mozart se opera Così fan tutte.

Repin, Wadim (1971-), Russiese violis. Hy het onder Zakhar Bron studeer en landswyd as wonderkind bekend geraak. Op 17 het hy die jongste wenner nóg van die internasionale Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels geword. Dit was in 1988, en sedertdien verskyn hy as solis onder van die voorste dirigente wêreldwyd, met ‘n bekendheid veral in Russiese en Franse musiek. Sy spel word gekenmerk deur moeitelose virtuositeit en ‘n streng beheersdheid. Voorts tree hy op in kamermusiek met die pianis Boris Berezofski en ander bekendes. Hy speel op ‘n Stradivarius-viool wat in 1708 gemaak is en voorheen deur Pablo de Sarasate bespeel is. Sleutelopnames: Miaskofski en Tsjaikofski se vioolkonserte (beide onder Gergijef); Tanejef se klavierkwintet (met Pletnjef, Gringolts, Imai en Harrell). Verdere opnames: vioolkonserte van Mozart (nrs. 2, 3 en 5), Sibelius en Tsjaikofski (lg. onder Krivine); Bartók/Székely se Roemeense Volksdanse; vioolsonates van Metner, Ravel en R. Strauss; Strawinski se Divertimento.

Resnik, Regina (1922-), Amerikaanse mezzosopraan en sopraan. Sy het haar konsertdebuut in 1942 as mezzosopraan gemaak en in dieselfde jaar haar operadebuut in New York, in Dame Macbeth van Mtsensk. Verdere debute het gevolg in Meksikostad (1943), San Francisco (1946) en by die Bayreuth-fees (1953). Vanaf 1944 was sy vir dertig jaar lank aan die Metropolitan Opera verbonde. Intussen het sy in 1955 na sopraan oorgeslaan, met debute in dié stemtipe by Covent Garden (1957) en die Salzburg-fees (1960). Onder haar beste rolle het getel Dido in Les Troyens, die titelrol in Carmen, Klytemnestra in Elektra, Herodias in Salome, die Grafin in Pique Dame, Amneris in Aida, Ulrica in Un ballo in maschera en Brangäne in Tristan und Isolde. Vanaf 1971 het sy ook as operaregisseur opgetree, met ‘n Hamburg-debuut in Carmen. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Monteux); die operette The Merry Widow (in Engels); en die genoemde operas van Berlioz, Bizet, Richard Strauss, Tsjaikofski, Verdi en Wagner, asook Vanessa.

Rethberg, Elisabeth (1894-1976), Duits-gebore sopraan. Sy het in 1915 haar debuut in Dresden gemaak, as Arsena in die operette Der Zigeunerbaron. Later het sy haar in die VSA gevestig, waar sy vanaf 1922 by die Metropolitan Opera in dertig rolle gesing het. Daaronder tel Desdemona in Otello en Amelia in Simon Boccanegra, wat sy in historiese opnames onder Ettore Panizza vertolk het. Intussen het sy gedebuteer by die Salzburg-fees (1922) en Covent Garden (1925). Sy het in 1928 die titelrol tydens die première van Die ägyptische Helena in Dresden geskep. By Salzburg het sy in 1937 die rol van Donna Anna in 'n beroemde opname van Don Giovanni onder Bruno Walter gesing. In 1940 het sy by die Met geskitter as Elsa in Lohengrin, met ‘n opname onder Erich Leinsdorf wat daarvan getuig. Sy het in 1942 op betreklik vroeë leeftyd uitgetree. Met haar suiwer intonasie en stylvolle sang is sy beskou as die voorste liriese sopraan van haar tyd. Naas die genoemde rolle het dit ingesluit Micaëla in Carmen, Maddalena in Andrea Chenier, die Grafin in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Mimì in La Bohème, die titelrol in Aida en Eva in Die Meistersinger von Nürnberg. Opnames: arias en duette uit laasgenoemde 7 operas; enkele konsertarias van Mozart; en liedere van Bizet, Mozart en Richard Strauss.

Revueltas, Silvestre (1899-1940), Meksikaanse violis, pianis en komponis. Hy het in die VSA studeer en vanaf 1920 as violis in Meksikostad opgetree. Daarna het hy mededirigent van die Meksikostad Simfonie-orkes geword en later 'n hoogleraar aan die konserwatorium aldaar.

Reynolds, Anna (1931-), Engelse mezzosopraan. Sy het in 1961 haar operadebuut in Parma gemaak, as Suzuki in Madama Butterfly. Daarna het sy gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1962), Covent Garden (1967), die Metropolitan Opera (1968), en die Bayreuth-fees en die Salzburg Paasmusiekfees (beide in 1970). Sy het in 1968 in die première van Tavener se kantate The Whale onder David Artherton gesing, met ‘n hoogstaande opname wat daarvan gemaak is. Naas haar operarolle soos Olga in Jewgeni Onegin en Federica in Luisa Miller is sy 'n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde werke en die musiek van Mahler. Verdere opnames: Bach se Kantate nr. 63; Beethoven se negende simfonie (onder Giulini); Dvorák se Stabat Mater; Handel se Messiah; Mahler se agste simfonie (onder Bernstein), Das klagende Lied, Lieder eines fahrenden Gesellen en Lieder und Gesänge aus der Jugendzeit; Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky; en die genoemde operas van Tsjaikofski en Verdi.

Ricci, Ruggiero (1918-2012), Amerikaanse violis. As tienjarige wonderkind is sy debuut in San Francisco gemaak en in 1932 het sy eerste Europese toer plaasgevind. Mettertyd het ‘n internasionale loopbaan as solis ontwikkel, met bekendheid veral in Paganini se musiek. Só het hy in 1971 die komponis se herontdekte vierde vioolkonsert bekendgestel. In 1990 het hy tydens die Salzburg-fees die eerste opname van Paganini se 24 Caprices in hul oorspronklike weergawe gemaak. Met sy liriese spel was hy een van die voorste virtuose van sy tyd,  ook in sommige moderne werke. Ginastera het sy vioolkonsert (1963) vir hom geskryf. Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas; Beethoven, Brahms en Khatsjatoerian se vioolkonserte; en Ysaÿe se volledige vioolsonates.

Ricciarelli, Katia (1946-), Italiaanse sopraan. Sy het in 1969 haar operadebuut in Mantua gemaak as Mimì in La Bohème, en in die jaar daarop die Parma-kompetisie gewen. Verdere debute het gevolg in Chicago (1972), en by Covent Garden (1974), die Metropolitan Opera (1975) en die Salzburg-fees (1979). Sy was een van die beste soprane van haar tyd in Italiaanse opera, veral dié van Rossini, Verdi en Puccini. Onder haar beste rolle tel Micaela in Carmen, Paolina in Poliuto, Bianca in Bianca e Falliero, Elena in La donna del Lago, Amelia in Un ballo in maschera, die Koningin in Don Carlos, Alice in Falstaff, en die titelrolle in Tosca, Turandot en Luisa Miller. Opnames: die genoemde operas van Bizet, Donizetti, Rossini, Puccini en Verdi, asook Il viaggio a Reims, La Battaglia di Legnano en I due Foscari; en 'n versameling opera-duette met die tenoor Plácido Domingo.

Richter, Karl (1926-81), Duitse orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. As seun van ‘n Lutherse pastoor het hy sy loopbaan as orrelis en kantor begin. Hy het gedurende die 1940’s onder bekende kantors in Leipzig en Dresden studeer en ook ‘n ferm begronding in Lutherse teologie bekom. Vanaf 1947 was hy met sy onberispelike tegniek vir drie jaar orrelis van die Sint Thomaskerk in Leipzig, waar J.S. Bach twee eeue tevore die kantor was. Hy was vanaf 1951 aan die München Akademie verbonde, waar hy vyf jaar later ‘n hoogleraar geword het. Ook in die Beierse hoofstad het hy die München Bach Koor en Orkes gestig wat hy vervolgens sou dirigeer, onder andere by die Salzburg-fees in 1965. As Bach-spesialis het hy met sy koor die eerste byna volledige siklus van die Barokreus se kantates opgeneem, in ‘n projek wat vanaf die laat 1950’s oor twee dekades sou strek. Hy het in dié tyd ook klassieke opnames van die Barokreus se Magnificat, Kersfeesoratorium, Mis in B mineur, Sint Mattheüspassie en Sint Johannespassie met dieselfde ensembles gemaak. Hy het self die instrumentele soliste vir sy opnames gekies, terwyl sy vokale soliste van die beste Duitse konsertsangers van die era ingesluit het. Sy vertolkings word gekenmerk deur ‘n besondere kombinasie van lewenskrag, gedissiplineerdheid, warmte en gevoelvolheid. Dit verskil drasties van die hedendaagse voorkeur vir eietydse praktyke in die uitvoering van Barokmusiek, maar sy resultate is onvergeetlik. Daarby het hy as solis ‘n hele aantal van Bach se orrelwerke op orrels in Kopenhagen en Freiburg opgeneem.

Richter, Swiatoslaf (1915-97), Russiese pianis. Hy is in die Oekraïne gebore van ‘n Duitse vader en Russiese moeder. As kind het hy reeds dramas en operas geskryf, en hoewel sy vader ‘n dosent in klavier aan die Odessa Konserwatorium was, is hy toegelaat om op sy eie musiek te bestudeer. Op 15 jaar het hy ‘n repetiteur by die Odessa Opera geword, en in dié stad het hy in 1934 sy debuut as pianis gemaak. Hy is in 1937 na Moskou, waar hy ‘n leerling van Heinrich Neuhaus aan die konserwatorium geword het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is sy vader deur die kommunistiese owerhede in Odessa vermoor. Terwyl hy onder Neuhaus studeer het, is hy deur Prokofiëf uitgenooi om sy vyfde klavierkonsert te speel. Die konsert was ‘n klinkende sukses en die begin van sy roemryke loopbaan. Daarna het hy konserte dwarsoor die destydse Sowjet-Unie gegee, en in 1949 het hy ‘n Stalin-prys ontvang. Nietemin sou hy vir vele jare nie toegelaat word om in die buiteland op te tree nie, want die owerhede was bevrees dat hy na die Weste sou uitwyk. In werklikheid was hul vrese ongegrond, want die groot pianis was apolities. In 1952 het hy die première van Prokofiëf se Simfonie-konsert vir tjello en orkes gedirigeer, met die beroemde Mstislaf Rostropowitsj as solis. Hy sou oor die res van sy lang loopbaan dikwels met Rostropowitsj sonate-uitvoerings gee. In 1958 het hy tydens ‘n voordrag in Sofia ‘n lewenskragtige vertolking van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling gegee, met ‘n opname wat daarvan getuig. Tydens ‘n besoek aan Warskou in 1959 het hy in ‘n hoogaangeskrewe opname van Rachmaninof se tweede klavierkonsert onder Wislocki gespeel.

Vanaf 1960 het Richter in die Weste opgetree, hoewel hy lankal deur sy opnames wêreldbekend was. Sensasionele debute is gemaak in Chicago en New York (1960/1), Londen (1961) en by die Salzburg-fees (1964). Gedurende die 1960’s het hy wyd deur Europa getoer en 4 keer deur die VSA. Vir baie jare het hy verkies om slegs met twee dirigente op te tree: sy landgenoot Rudolf Barsjai en die Britse komponis Britten. In Brittanje was hy ‘n gereelde solis by die Aldeburgh- en Edinburgh-feeste. Hy en Rostropowitsj het in 1964 by Aldeburgh ‘n heuglike uitvoering van Beethoven se 5 tjellosonates gegee, met ‘n filmopname wat gemaak is. Daarby het hy met die Borodin Kwartet in kwintette gespeel. Met sy buitengewone vermoëns van helder artikulasie, dinamiese uiterstes en beheer van ritme, was hy ewe briljant in konserte, voordragte en kamermusiek. Ongewoon vir so ‘n groot musikus het hy verkies om met die bladmusiek voor hom speel, omdat hy geglo het dat dit sy kreatiwiteit bevorder. As kampvegter vir die musiek van sy landgenoot Prokofiëf het hy die eerste uitvoerings gegee van sy klaviersonates nrs. 6, 7 en 9, waarvan laasgenoemde aan hom opgedra is. Sy roem het grotendeels op sy onoortreflike vertolkings van Beethoven, Liszt, Schubert en Prokofiëf berus, maar hy was ewe begaafd in die res van die Duitse en Russiese repertoriums. Hy het tot aan die einde van sy lewe ‘n nomadiese leefwyse gevolg.

Sleutelopnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 3 en 29, en 6 Bagatelles (Aldeburgh 1975); Brahms se klavierkonsert nr. 2 (onder Leinsdorf) en klaviersonate nr. 1 (beide in 1960); Handel se Klawerbordsuites nrs. 2, 3, 5, 8, 9, 12, 14 en 16 (Tours 1979); ‘n versameling solowerke van Tsjaikofski (1983). Verdere opnames: klavierkonserte van Brahms, Britten, Liszt, Mozart (nrs. 20, 22 en 27), Prokofiëf (nrs. 1, 2 en 5) en Tsjaikofski (nr. 1); Beethoven se Driedubbele Konsert (met David Oistrach en Rostropowitsj); Schubert se Forelle-kwintet (met die Borodin Kwartet), en sy Fantasia in F mineur en Grand Duo (met Britten); Schumann en Sjostakowitsj se klavierkwintette (met die Borodin Kwartet); en talle solowerke van Bach, Beethoven, Brahms, Chopin, Debussy, Haydn, Mozart, Prokofiëf, Schubert, Schumann, Sjostakowitsj, Skriabin, Tsjaikofski en Weber.

Richter-Haaser, Hans (1912-80), Duitse pianis, dirigent en komponis. Hy het sy debuut as pianis in 1928 in Dresden gemaak en was later dirigent van die Detmold Orkes (1945-7). Daarna was hy tot 1962 ‘n hoogleraar in klavier aan die Noordwes-Duitse Musiekakademie, en het verder as pianis gedebuteer in die VSA (1959) en by die Salzburg-fees (1963). Onder István Kertész het hy uitgeblink in opnames van Beethoven se vierde en vyfde klavierkonserte.

Rickenbacher, Karl Anton (1940-), Switserse dirigent. Nadat sy debuut met die Berlynse Radio-orkes plaasgevind het, was hy vanaf 1966 vir drie jaar ‘n assistent-dirigent by die Zürich Opera. Dit is gevolg deur dirigeerposte by die Freiburg Opera (1969-74) en die BBC Skotse Simfonie-orkes (1977-80). As gasdirigent het hy met van die voorste Europese orkeste opgetree, onder andere in Bamberg, Berlyn en Londen. Met die Krakow Simfonie-orkes in Pole het hy ‘n seldsame opname van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling volgens Gortsjakof se orkestrasie gemaak. Verdere opnames: Beethoven se Leonore Prohaska en enkele koorwerke; Humperdinck se Shakespeare suites en Humoresque; Messiaen se Un sourire en Et exspecto resurrectionem mortuorum; en ‘n versameling orkesuittreksels uit operas van Wagner.

Ridderbusch, Karl (1932-97), Duitse bas. Hy het in 1961 sy operadebuut in Münster gemaak, gevolg deur debute in Essen (1962), Düsseldorf (1965), die Bayreuth-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1967), Wenen en die Salzburg Paasmusiekfees (beide in 1968), en Covent Garden (1971). Sy bekendheid het veral berus op sy vertolkings van Wagner-rolle soos Hagen in Götterdämmerung, Klingsor in Parsifal en Koning Mark in Tristan und Isolde. Daarby was hy ‘n begaafde sanger in koorwerke van Duitse en Oostenrykse komponiste. Opnames: Bruckner se Mis nr. 1 (onder Jochum); die genoemde operas, asook Undine, Martha en Palestrina.

Riddle, Frederick (1912-95), Engelse altviolis. Hy het in verskeie Londense orkeste gespeel, naamlik die Londense Simfonie-orkes (1933-8), die Londense Filharmoniese Orkes (1938-52) en die Koninklike Filharmoniese Orkes (vanaf 1953). Sy bekendheid het veral in die altvioolkonsert van sy landgenoot Walton gelê, waarvan hy in 1937 onder die komponis in die eerste opname gespeel het. Sy vertolking daarvan word steeds deur kenners as ongeëwenaard beskou. Hy het in 1964 ‘n hoogleraar in altviool aan die Koninklike Manchester Musiekkollege geword. In 1980 is die OBE aan hom toegeken.

Riegel, Kenneth (1938-), Amerikaanse tenoor. Nadat hy in 1965 in Santa Fé gedebuteer het as die Alchemis in König Hirsch, was hy aan die New York Stadsopera verbonde (1969-74). In 1973 het sy debuut by die Metropolitan Opera plaasgevind, en ses jaar het hy later die rol van Alwa gesing in die eerste volledige opvoering van Berg se opera Lulu in Parys. As begaafde sanger in moderne opera het hy verder in 1981 in Hamburg die titelrol in Zemlinsky se opera Der Zwerg geskep, en twee jaar later ook die rol van die Melaatse tydens die première van Saint Francoise d'Assise in Parys. Intussen het hy by die Salzburg-fees (1975) en Covent Garden (1985) gedebuteer. Naas verdere operarolle soos Dionysus in Die Bassariden en Herodes in Salome was hy ‘n voortreflike konsertsanger. Opnames: Berlioz se La damnation de Faust (in die titelrol); Haydn se Mis nr. 11; Liszt se Faust Simfonie (onder Bernstein); Lourié se Little Gidding; Mahler se agste simfonie (onder Bernstein); en die genoemde operas van Berg, Henze, Richard Strauss en Zemlinsky, asook Eine florentinische Tragödie en Der Geburtstag der Infantin.

Rifkin, Joshua (1944-), Amerikaanse musiekgeleerde, dirigent en komponis. Hy het vanaf 1964 tot 1975 vir die Nonesuch platemaatskappy gewerk. Vanaf 1970 het hy vir 12 jaar aan die Brandeis Universiteit onderrig gegee, en in dié tyd (1978) het hy die Bach Ensemble gestig. Hulle het pionierswerk gedoen in die uitvoering van die Barokreus se werke op ‘n kleiner skaal as wat indertyds die gebruik was. Uitstekende opnames van Bach se Mis in B mineur en kantates nrs. 106 en 131 is deur hulle gemaak.

Rigby, Jean (1954-), Engelse mezzosopraan. Sy het in 1981 ‘n kompetisie vir jong sangers by die Engelse Nasionale Opera gewen. In die jaar daarop het sy haar professionele debuut by dié operahuis gemaak, as Mercédès in Carmen. Sedertdien is sy aan die ENO verbonde, waar sy in 1986 die rol van Euridice tydens die première van Birwistle se opera The Mask of Orpheus geskep het. Verdere debute het intussen plaasgevind by Covent Garden (1983) en die Glyndebourne-fees (1985). Onder haar rolle tel verder Mrs Kneebone in A Dinner Engagement, die titelrolle in Ruth en The Rape of Lucretia, Suzuki in Madama Butterfly en Armelinde in Cendrillon. Daarby is sy ‘n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde musiek. Opnames: Bach se Magnificat; Bax se The Bard of the Dimbovitza; Beethoven se kantates en sy Opferlied; Berlioz se L'enfance du Christ; Britten se Phaedra; Bruckner se Mis nr. 3; Delius se A Mass of Life (in Duits); Elgar se The Music Makers; Macmillan se kantate Raising Sparks; Mahler se Das Lied von der Erde (onder Wigglesworth); Mendelssohn se oratoriums Elijah en St Paul; Sullivan se oratorium The Golden Legend (as Ursula); Vaughan Williams se Serenade to Music; Vivaldi se Gloria in D, Non in pratis aut in hortis en oratorium Juditha triumphans; liedere van Bantock en Bax; en die genoemde operas van L. Berkeley, Puccini (in Engels) en Viardot.

Rilling, Helmuth (1933-), Duitse orrelis en dirigent. Hy het in 1954 die Gächinger Kantorei in Stuttgart gestig en daarna deur Europa, Asië en die Amerika’s met hulle getoer. Nege jaar later is sy Londense debuut as orrelis gemaak. Vanuit die staanspoor het hy op die musiek van J.S. Bach gefokus, veral sy koorwerke. In 1965 het hy ook die Bach Collegium in Stuttgart gestig, waarmee hy drie jaar later deur die VSA getoer het. Sedert 1969 is hy ‘n hoogleraar aan die Frankfurt Konserwatorium. Sy dirigeerdebuut by die Salzburg-fees is in 1987 gemaak. Met sy Stuttgart-ensembles het hy opnames van J.S. Bach se volledige kantates gemaak, ‘n projek wat betyds vir die 300-jarige herdenking van die komponis se geboorte in 1985 voltooi is. In hierdie opnames het hy talle van die voorste sangers van hul tyd ingespan, met deurentyd vrouens in plaas van seuns soos die gebruik met sommige dirigente geword het. Van die sekulêre kantates (nrs. 205-215) is twee siklusse opgeneem, in die laat 1960’s en die laat 1990’s onderskeidelik. Voorts het hy die eerste DVD-opname van Handel se Messiah gedirigeer, in Mozart se Duitse verwerking. As vooraanstaande Bach-kenner het hy in 2000 met die 250ste herdenking van die Barokreus se dood vier hedendaagse komponiste opdrag gegee om elk ‘n toonsetting van Christus se Lydensverhaal te doen. Verdere opnames: J.C. Bach se opera Amadis des Gaules; J.S. Bach se Sint Johannespassie, Sint Mattheuspassie, 4 Missae breves en ‘n versameling korter koorwerke; en Haydn se oratorium Die Schöpfung.

Ripley, Gladys (1908-55), Engelse alt. Sy was grotendeels selfopgelei en het veral bekendheid verwerf in gewyde werke, hoewel sy ook in opera verskyn het. In 1937 het sy Londen die rol van Schwertleite in Die Walküre onder Wilhelm Furtwängler gesing. Kort na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het sy meesterlike vertolkings gelewer in die eerste volledige opname van Elgar se The Dream of Gerontius (as die Engel) onder Malcolm Sargent (1945), en in dieselfde dirigent se 1946-opname van Handel se Messiah.

Ritchie, Margaret (1903-69), Engelse sopraan. Sy het vanaf 1944 by Sadler's Wells in opera gesing, en daarna ook by die Glyndebourne-fees, Covent Garden en elders. By Glyndebourne het sy tydens die premières van Britten se operas The Rape of Lucretia (1946) en Albert Herring (1947) die rolle van Lucia en Miss Wordsworth onderskeidelik geskep. Verder het sy in 1948 die vroulike hoofrol in ‘n historiese opname van A Village Romeo and Juliet onder Thomas Beecham gesing. Sy het in 1953 in Manchester as solis in die eerste uitvoering van Vaughan Williams se sewende simfonie (Sinfonia Antarctica) onder John Barbirolli verskyn. Daarby was sy een van die voorste Britse liederesangers van haar tyd, veral dié van Schubert. Sleutelopname: Vaughan Williams se sewende simfonie (onder Adrian Boult, 1953). Verdere opnames: Dvorák se Mis in D (onder Simon Preston); Vaughan Williams se derde simfonie (onder Boult).

Rizzi, Carlo (1958-), Italiaanse dirigent. Na sy debuut in 1982 in sy geboortestad Milaan met Donizetti se L’aio nell’imbarrazzo het hy opera in Italië gedirigeer. In 1988 het sy Britse debuut by die Buxton-fees plaasgevind met Donizetti se Torquato Tasso. Daarna was hy aan die Australiese Opera verbonde (1989/90) en in 1990 het sy debuut by Covent Garden gevolg. Sedert 1992 is hy musiekdirekteur van die Walliese Nasionale Opera, en in die jaar daarop het hy by die Metropolitan Opera met La Bohème gedebuteer. Daarby dirigeer hy dikwels die Giuseppe Verdi Simfonie-orkes in Milaan. Hy het in 2002 by Covent Garden ‘n hoogstaande opvoering van Il Trovatore gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sy 2009-opvoering van Aida by die Bregenz-fees is ook op DVD opgeneem. Sleutelopname: Gounod se opera Faust (WNO). Verdere opnames: die operas La Cenerentola en La Traviata; en ‘n versameling operakore van Verdi.

Roberton, Hugh (1874-1952), Skotse koordirigent, komponis en skrywer. Hy het in 1905 die Glasgow Orpheus Koor gestig en hulle tot 1951 gedirigeer. Gedurende dié tydperk het hulle wyd deur Europa en Noord-Amerika getoer en vele kompetisies gewen. Hy het talle liedere gekomponeer, en het ‘n groot bydrae gelewer tot die versameling en redigering van Skotse volksmusiek. Daarby het hy boeke oor musiek en ander werke geskryf. In 1931 is hy tot ridder geslaan.

Robinson, Christopher (1936-), Engelse dirigent en orrelis. Hy was ‘n assistent-orrelis in Oxford (1955-8), musiekmeester van die Oundle Skool (1959-62), assistent-orrelis van die Worcester Katedraal (1962/3) en orrelis van laasgenoemde (1963-74). Vanaf 1964 het hy die koor van die Stad Birmingham gedirigeer, en vanaf 1975 tot 1991 was hy orrelis en koormeester van die Sint George Kapel in Windsor. Ter erkenning van sy werk by Windsor het die koningin hom in 1992 as Kommandeur van die Royal Victorian Order aangestel. Vir twee dekades (1977-97) was hy ook dirigent van die Oxford Bach-koor, en vanaf 1977 was hy vir drie jaar dirigent van die Leith Hill Fees. Hy was verder vanaf 1982 vir twee jaar president van die Koninklike Kollege van Orreliste. Eredoktorsgrade is deur verskeie Britse universiteite aan hom toegeken. Vanaf 1991 was hy orrelis en musiekdirekteur van St John’s College, Cambridge, met wie se koor hy altesaam tien uitstekende versamelings van Britse koormusiek opgeneem het. Hy het in 2002 uitgetree, en die CBE is twee jaar later aan hom toegeken. Sleutelopnames: 5 versamelings koorwerke van Elgar, Finzi, Stanford, Tavener en Walton onderskeidelik. Verdere opnames: koorwerke van Berkeley, Britten, Howells, Parry en Rubbra.

Robinson, Faye (1943-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1972 haar operadebuut by die New York Stadsopera gemaak, as Micaëla in Carmen. Sedertdien het sy wyd deur Europa en die VSA in opera opgetree, met 'n Parys-debuut in 1982. Twee jaar later was sy 'n solis in die eerste uitvoering van Tippett se The Mask of Time in Boston, VSA. Opnames: Mahler se agste simfonie (onder Gielen); en Tippett se derde simfonie (onder Hickox), Byzantium en A Child of our Time.

Robinson, Forbes (1926-87), Engelse bas. Sy operadebuut is in 1954 by Covent Garden gemaak, as Monterone in Rigoletto. Hy sou die eerste bas daar word, en het in Otto Klemperer se uitstekende 1961-opname van Fidelio gesing (as Don Fernando). In 1962 het hy die titelrol in Tippett se King Priam tydens die première in Coventry geskep, en 3 jaar later hy in die Covent Garden-debuut van Schoenberg se Moses und Aron gesing. Hy het ook by die Walliese Nasionale Opera naam gemaak as Claggart in Billy Budd en in die titelrol van Boris Godoenof.

Robles, Marisa (1937-), Spaans-gebore harpspeler en komponis. Sy het in 1953 met die Nasionale Orkes van Spanje gedebuteer, en vyf jaar later het sy ‘n hoogleraar in harp aan die Koninklike Konserwatorium in Madrid geword. In 1959 het sy na Engeland geëmigreer, waar sy in die jaar daarop ‘n Britse burger geword het. Haar Londense debuut is in 1963 gemaak, en sedert 1971 is sy as hoogleraar in harp aan die Koninklike Musiekkollege verbonde. Sy is bekend vir haar televisie-optredes en is sedert 1991 direkteur van die Wêreld-Harpfees in Cardiff. As solis is sy ‘n uitmuntende vertolker van Spaanse en ander musiek van die Romantiese tydvak, alhoewel haar repertorium veel wyer as dit strek. Sleutelopnames: Handel se harpkonsert opus 4/6 (onder Iona Brown). Verdere opnames: harpkonserte van Boieldieu, Dittersdorf en Mozart; solowerke van Albéniz, Britten, Eberl, Falla, Hasselmans en Salzedo; en haar eie verwerking van Rodrigo se Concierto de Aranjuez.

Robson, Christopher (1953-), Skotse kontratenoor. Hy was ‘n lid van die Monteverdi-Koor (1974-84), die Londense Oratoriumkoor (1974-80) en The King’s Consort (1981-6). Sy konsertdebuut is in 1976 in Londen gemaak in Handel se Samson, en drie jaar later ook sy operadebuut in Birmingham, as Argones in Handel se Sosarme. In 1984 het hy die titelrol geskep tydens die Amerikaanse première van Glass se Akhnaten in Houston, en in die jaar daarop ook in die Britse première daarvan by die Engelse Nasionale Opera. Hy is egter meer bekend in vroeë musiek, onder andere as lid van die New London Consort onder Philip Pickett (sedert 1986). In 1988 het hy by Covent Garden gedebuteer, en vroeg in die derde millennium het hy as solis in die eerste opname van Tavener se Total Eclipse onder Paul Goodwin gesing. Verdere opnames: kerkmusiek van Handel, Monteverdi, Schütz en Vivaldi; Tippett se orkesliedere Songs for Dov; en die operas Artaxerxes (in die titelrol), Venus and Adonis, Psyche en Orfeo.

Rodgers, Joan (1956-), Engelse sopraan. Nadat sy in 1981 die Kathleen Ferrier-gedenkbeurs gewen het, het haar professionele debuut in die jaar daarop in Aix-en-Provence as Pamina in Die Zauberflöte plaasgevind. Daarna het debute gevolg by die Engelse Nasionale Opera en Covent Garden (beide in 1983), die feeste in Glyndebourne (1989) en Salzburg (1991), en die Metropolitan Opera (1995). Een van haar bekendste rolle is Zerlina in Don Giovanni, maar sy is eerder bekend in konsertwerke en liedere. Sy het verder uitgeblink as Xenia in Paul Daniel se opvoering van Boris Godoenof (in Engels) by Opera North, met uittreksels wat opgeneem is. Sleutelopname: Vaughan Williams se eerste simfonie (onder Vernon Handley). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Charles Mackerras); Britten se opera The Turn of the Screw; Bruckner se Requiem; Delius se A Mass of Life (in Duits); en liedere van Britten, Moessorgski, Prokofiëf, Sjostakowitsj, Tsjaikofski en Wolf.

Rodzinski, Artur (1892-1958), Pools-gebore dirigent. Hy het in Wenen studeer en in 1920 in Lwów gedebuteer. Vanaf 1921 was hy vir vier jaar ‘n dirigent by die Warskou Opera, waarna hy na die VSA geëmigreer het. In dié land was hy aanvanklik ‘n assistent-dirigent vir Leopold Stokowski by die Philadelphia Orkes (1926-9). Vervolgens was hy hoofdirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes (1929-33), die Cleveland Orkes (1933-43), die New York Filharmoniese Orkes (1943-7) en die Chicago Simfonie-orkes (1947/8). Intussen het hy in 1933 ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het in 1935 die Amerikaanse première van Sjostakowitsj se opera Dame Macbeth van Mtsensk in Cleveland gedirigeer. In 1936 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, en in die jaar daarop het hy spelers vir Toscanini se pasgestigde NBC Simfonie-orkes gekies en opgelei. Met sy New York-orkes het hy die Amerikaanse première van Sjostakowitsj se agste simfonie gegee en in 1945 ‘n voortreflike opname van Rachmaninof se tweede simfonie gemaak. Verdere opnames: Dvorák se Slawoniese Danse, Richard Strauss se toondig Tod und Verklärung, en Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker.

Rogé, Pascal (1951-), Franse pianis. Hy het as elfjarige sy debuut in Parys gemaak en daarna wyd deur Europa begin toer. Sy Londense debuut is in 1969 gemaak en sy Amerikaanse debuut vyf jaar later. Intussen het hy in 1971 die Long-Thibaud internasionale kompetisie gewen. Met sy elegante, verfynde spel is hy ‘n uitmuntende vertolker van Franse musiek van die negentiende en twintigste eeue. Sleutelopname: Poulenc se Concert champêtre (onder Dutoit), en ‘n versameling van sy solowerke wat in 1988 ‘n Gramophone-toekenning verwerf het. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Poulenc, Ravel en Saint-Saëns; solowerke van Brahms, Debussy, Fauré, Ravel en Satie; Fauré se volledige klavierkwartette en -kwintette (met die Ysaÿe Kwartet); Tsjaikofski se klaviertrio (met Amoyal en Lodéon); en as die Poolse pianis in die opera Fedora.

Rogg, Lionel (1936-), Switserse orrelis, klawesimbelspeler en komponis. Hy het in 1961 sy debuut as orrelis in Genève gemaak en daarna wêreldwyd as solis begin toer. Sedert 1960 is hy ook ‘n hoogleraar aan die Geneefse Konserwatorium. Hy is bekend vir sy hoogstaande opnames van Bach se volledige orrelmusiek.

Rolfe Johnson, Anthony (1940-2010), Engelse tenoor. Hy het in 1967 begin sing nadat hy aanvanklik ‘n plaasboer was. Ses jaar later is sy operadebuut in Tsjaikofski se Jolanta gemaak. Vanaf 1972 het hy vir vier jaar in die koor by die Glyndebourne-fees gesing, asook in kleiner operarolle daar. Verdere debute het gevolg by die Engelse Nasionale Opera (1978), die Walliese Nasionale Opera (1979), die Salzburg-fees (1987) en Covent Garden (1988). Hy was wêreldbekend in die ligter rolle van beide vroeë en moderne opera, onder andere as Polixenes in Wintermärchen, Kaptein Vere in Billy Budd, Hyllus in Hercules, Jupiter in Semele, Clotarco in Armida, en die titelrolle in Samson, Orfeo, La clemenza di Tito, Idomeneo en Oedipus Rex. Verder was hy ‘n uitmuntende konsertsanger oor ‘n wye repertorium. As lid van die Songmakers’ Almanac was hy ewe begaafd in Engelse, Franse en Duitse liedere. Vanaf 1990 was hy direkteur van sangstudies aan die Britten-Pears Skool in Snape Maltings. Sleutelopname: ‘n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson). Verdere opnames: Bach se Kersfeesoratorium; Beethoven se negende simfonie (2 weergawes, onder Brüggen en Hogwood) en Missa solemnis; Bliss se Rhapsody; Britten se 5 Canticles, Saint Nicholas, Hymn to Saint Cecilia, War Requiem en Serenade vir tenoor, horing en strykers (lg. met Michael Thompson); Coleridge-Taylor se Hiawatha’s wedding feast; orkesliedere van Delius; Elgar se The Dream of Gerontius; Handel se Acis and Galatea (as Acis), Belshazzar (in die titelrol), Messiah en Ode for St Cecilia's Day; Haydn se Die Jahreszeiten; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Strawinski se Perséphone; Vivaldi se Beatus vir en Gloria in D; Weill se ballet Die sieben Todsünden; talle liedere van Butterworth, Gounod, Gurney, Hahn, Poulenc, Schubert, Vaughan Williams en Warlock; die operette The Mikado; die genoemde operas van Boemans, Britten, Handel, Haydn, Monteverdi, Mozart en Strawinski, asook Peter Grimes, Il mondo della luna, La vera costanza, Apollo et Hyacinthus, Lo sposo deluso en Otello.

Roll, Michael (1946-), Engelse pianis. Hy het as jong tiener in 1958 sy debuut in Londen met Schumann se klavierkonsert gemaak. Vyf jaar later het hy die eerste internasionale klavierkompetisie in Leeds gewen, en in 1974 het sy Amerikaanse debuut plaasgevind. Onder Howard Shelley het hy meesterlike vertolkings gelewer in opnames van Beethoven se tweede en derde klavierkonserte.

Roocroft, Amanda (1966-), Engelse sopraan. Terwyl sy nog 'n student aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege was, het sy die titelrol in Alcina en Fiordiligi in Così fan tutte gesing. In 1988 het sy die Kathleen Ferrier-prys gewen. Sy het twee jaar later haar professionele debuut by die Walliese Nasionale Opera gemaak, as Sophie in Der Rosenkavalier. Verdere debute het gevolg by Covent Garden en die Glyndebourne-fees (beide in 1991), in München (1993) en by die Salzburg-fees (1996). Met haar warm, romerige toonkleur is sy ewe begaafd in opera en konsertwerke. Opnames: Mahler se vierde simfonie (onder Rattle); Mozart se opera Così fan tutte (onder Gardiner); en Vaughan Williams se Serenade to Music (onder Best).

Rooley, Anthony (1944-), Engelse luitspeler en dirigent. Hy was in 1969 'n medestigter en later direkteur van die Consort of Musicke, met wie hy wêreldbekend sou raak in musiek vir stemme en instrumente uit die sestiende en sewentiende eeue. Onder hul prestasies tel opnames van Monteverdi se volledige madrigale onder sy leiding in die 1990’s. As solis het hy talle luitwerke van die Renaissance herleef, en vanaf 1969 het hy vir twee jaar onderrig in luit- en kitaarspel aan die Koninklike Musiekakademie gegee. Daarby tree hy dikwels as luitbegeleier vir die briljante sopraan Emma Kirkby in haar liedere-voordragte op. Met die orkes van die Florida Staatsuniversiteit se opera-afdeling het hy die eerste opname van Eccles se opera Semele gemaak. Hy het oor die jare ‘n hele aantal artikels oor vroeë musiek geskryf, en sy boek Performance: Revealing the Orpheus within (Element Books, 1990) is in Japannees vertaal. Asof al hierdie aktiwiteite nie genoeg is nie, is hy artistieke direkteur van die opname-maatskappy Musica Oscura wat in 1993 gestig is. Sleutelopname: ‘n versameling madrigale van Wilbye. Verdere opnames: Blow se opera Venus and Adonis; luitliedere van Dowland; Gibbons se Cupid and Death; d’India se Il Terzo libro de Madrigali; Lassus se La Lagrine di San Pietro; Monteverdi se Lamento d'Arianna; Schütz se Italiaanse Madrigale; en versamelings madrigale van Gesualdo, Gibbons, Marenzio, Morley, Rore en Ward.

Rootering, Jan-Hendrik (1950-), Duitse bas-bariton. Sy vader is die Nederlandse tenoor Hendrikus Rootering, van wie hy sy eerste sanglesse ontvang het. Tydens sy studentejare in Hamburg het hy begin om kleiner rolle by die plaaslike Staatsopera te sing. Hy is sedert 1982 ‘n lid van die Beierse Staatsopera in München, waar hy as Geisterbote in Die Frau Ohne Schatten gedebuteer het. Daar het hy die vernaamste basrolle van Mozart en Wagner gesing, asook Italiaanse rolle soos Fiesco in Simon Boccanegra en Banquo in Macbeth. Die jaar 1986 was van besondere belang vir hom: hy het die eretitel Kammersänger in München ontvang, en gedebuteer by beide die Salzburg-fees (in Die Zauberflöte) en die Metropolitan Opera (as die Landgraaf in Tannhäuser). Hy sing wêreldwyd by die voorste operahuise en musiekfeeste, ook in konsertwerke waarin hy uitmuntend is. Onder sy verdere rolle tel Titurel in Parsifal en Fasolt in Das Rheingold. Hy het laasgenoemde gesing in James Levine se uitstekende opvoering van die Ring-siklus by die Met (met ‘n DVD-opname) en Wolfgang Sawallisch se ewe puik opvoering by die Beierse Staatsopera (met ‘n klankopname), beide in 1989. In 1990 het hy Baron Ochs gesing in Brigitte Fassbänder se opvoering van Der Rosenkavalier in München. Sedert 1994 is hy ook ‘n hoogleraar in musiek aan die Konserwatorium in die Beierse hoofstad. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Bernstein en Sawallisch); Haydn se oratorium Die Schöpfung; Mahler se agste simfonie (onder Abbado); Sjostakowitsj se simfonie nr. 13 (onder Wigglesworth); en Wagner se opera Parsifal (onder Levine).

Rosbaud, Hans (1895-1962), Oostenrykse pianis en dirigent. Hy het dirigeerposte beklee by die Mainz musiekskool (1923-30), die Frankfurt Radio-orkes (1928-37), die Münster Opera (1938-41), die Strasbourg Opera (1941-4), die München Filharmoniese Orkes (1945-8) en die Tonhalle Orkes in Zürich (vanaf 1950). Van laasgenoemde was hy vanaf 1957 die musiekdirekteur. Daarby was hy hoofdirigent van die Suidwes-Duitse Radio-orkes in Baden-Baden (1948-62) en van die Aix-en-Provence Fees (1947-59). By laasgenoemde het hy in 1956 as klavierbegeleier vir die sopraan Teresa Stich-Randall in ‘n liedere-voordrag gespeel, met ‘n opname wat gemaak is. Daar het hy ook in 1957 ‘n voortreflike opname van Don Giovanni gedirigeer, maar dit was eerder as kampvegter vir moderne musiek dat hy wêreldbekend was. Onder sy eerste uitvoerings het Bartók se tweede klavierkonsert met die komponis as solis getel, in 1933. Ook Schoenberg se opera Moses und Aron is in 1954 in ‘n konsertweergawe in Hamburg en drie jaar later op die verhoog in Zürich bekendgestel. By die Donaueschingen-fees het hy vroeë werke van Boulez en Stockhausen gedirigeer. Enkele maande voor sy dood het hy die BBC Simfonie-orkes in ‘n uitvoering van Sibelius se vierde simfonie gedirigeer. Verdere opnames: Gluck se opera Orphée et Euridice (in die Franse weergawe); Haydn se simfonieë nrs. 92 en 104; Sibelius se toondigte Finlandia, Karelia Suite, Valse triste en Tapiola (almal met die Berlynse Fiilharmonie).

Röschmann, Dorothea (1967-), Duitse sopraan. Sy was slegs sewe jaar oud toe sy in die Bach-koor in Fleinsburg begin sing het. In 1979 het sy met sanglesse begin, en oor die jare het haar leermeesters Sigrid Wagner en Barbara Schlick ingesluit. Aanvanklik het sy by die vroeë musiekfeeste in Innsbruck en Göttingen in minder bekende werke van Caldara gesing, totdat sy deur die dirigente René Jacobs en Daniel Barenboim ontdek is. Sedert 1986 tree sy wêreldwyd in konsertwerke onder bekende dirigente op. Vanaf 1992 het sy onder die gevierde Vera Rosza in Londen studeer. Haar operadebuut is ook in 1992 by die Weense Akademie gemaak, as Barbarina in Le nozze di Figaro. Debute het gevolg by die Handel-feeste in Halle (1993) en Göttingen (1994), as Dorinde in Orlando en Arianna in Giustino onderskeidelik. Sy het in 1994 ‘n lid van die Deutsche Staatsoper in Berlyn geword, en het verder gedebuteer by die Salzburg-fees (in 1995, as Susanna in Le nozze di Figaro) en Covent Garden (in 2003, as Pamina in Die Zauberflöte). Onder Jacobs het sy geskitter as Orania in ‘n hoogstaande opname van Telemann se opera Orpheus. Haar repertorium sluit verdere liriese rolle in soos Fiordiligi in Cosi fan tutte, Zerlina in Don Giovanni, Servilia in La clemenza di Tito, Ilia in Idomeneo en Nannetta in Falstaff. Sy was ‘n solis in Simon Rattle se opname van Brahms se Ein deutshes Requiem wat in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon is. Sleutelopnames: Bach se Kersfeesoratorium (onder Jacobs); Handel se oratorium Messiah (onder McCreesh); Haydn se oratorium Die Schöpfung (onder Harnoncourt). Verdere opnames: Haydn se Mis nr. 10 en Salve Regina, en Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln (al 3 onder Harnoncourt); en die operas Giustino, Così fan tutte, La Griselda en Falstaff.

Roscoe, Martin (1952-), Engelse pianis. Hy het in 1976 die Britse Liszt-kompetisie gewen en vyf jaar later ook die internasionale kompetisie in Sydney. Sedertdien toer hy wyd deur Australië, die Midde-Ooste en die Amerikas. Sy bekendheid lê merendeels in twintigste-eeuse musiek, beide as solis en in kamermusiek. Hy is tans besig met ‘n projek om die volledige solowerke van Szymanowski op te neem, waarvan die vrystellings sover hoë ingeoes het. Sleutelopnames: Clarke se klaviertrio (met Watkinson en Waterman). Verdere opnames: Beach se klavierkwintet (met die Endellion Kwartet); Bridge se Phantasy Quartet (met die Maggini Kwartet); Clementi se klaviersonates, opus 25/6, 33/1, 50/1 en 50/3; Dohnányi se 2 klavierkonserte en 2 klavierkwintette (lg. met die Vanbrugh Kwartet); ‘n versameling solowerke van Lloyd; Pärt se Fratres en Spiegel im Spiegel (beide met Tasmin Little); Sjostakowitsj se klavierkwintet (met die Sorrel Kwartet); en Stevens se klavierkonsert.

Rose, Leonard (1918-84), Amerikaanse tjellis. Aanvanklik het hy in Toscanini se NBC Simfonie-orkes gespeel, en daarna was hy eerste tjellis van die Cleveland Orkes (1939-43) en die New York Filharmoniese Orkes (1943-51). Hy het vanaf die 1950’s wye bekendheid as solis verwerf, veral in die Romantiese repertorium. Vanaf 1961 was hy ook lid van ‘n beroemde trio met die pianis Eugene Istomin en die violis Isaac Stern, en in 1977 het sy Salzburg-feesdebuut plaasgevind. Daarby het hy onderrig gegee aan die Juilliard Musiekskool (1947-51, 1962-84) en die Curtis Instituut (1951-62). Onder sy leerlinge het later bekende musici soos Lynn Harrell en Yo-Yo Ma getel. Opnames: Bloch se Schelomo, Brahms se Dubbelkonsert (met Stern), Fauré se Elégie, Lalo se tjellokonsert, Saint-Saëns se eerste tjellokonsert en Tsjaikofski se Rococo Variasies.

Rose Consort of Viols, Britse instrumentele ensemble wat vernoem is na ‘n gevierde familie van viola da gamba-makers. Hulle spesialiseer in Britse musiek van die sestiende en sewentiende eeue, en toer wyd deur Europa en Noord-Amerika. Soms tree hulle met bekende sangers soos Emma Kirkby en Catherine King op, en met vokale ensembles soos Red Byrd en die BBC Singers. Hulle doen heelwat navorsing oor vroeë musiek, en werke vir viola da gamba en stemme is vir hul geskryf deur hedendaagse komponiste soos Bruno, Liddle en Moody. Sleutelopnames: ‘n versameling Fantasias, gesange en liedere van Byrd (met Red Byrd); ‘n versameling werke vir 3, 4, 5 of 6 viola da gambas van Tomkins. Verdere opnames: ‘n versameling Elisabethaanse liedere; ‘n versameling Fantasias en ander werke van Ferrabosco senior en junior; en versamelings werke vir viola da gamba en stemme van Dowland, Gibbons en Jenkins.

Rosen, Charles (1927-), Amerikaanse pianis en musiekskrywer. Hy het sy debuut in 1951 in New York gemaak en was vanaf 1971 ‘n hoogleraar aan die Staatsuniversiteit in dié stad. Sy opnames van Beethoven se laaste vyf klaviersonates word in dieselfde asem as dié van Brendel, Kovacevich en Gilels genoem. Verder is hy ‘n begaafde vertolker van Bach se Goldberg Variasies en die musiek van moderne komponiste soos Boulez, Debussy, Schoenberg en Webern. Daarby het hy as begeleier vir die sopraan Heather Harper in haar opnames van Webern-liedere opgetree. Hy het boeke oor die Weense Klassieke repertorium en oor Schoenberg geskryf. In ‘n verdere boek getiteld Piano Notes het hy die voordele aangevoer vir ‘n pianis om boeke soos speurverhale of literêre krietiek te lees terwyl daar geoefen word. Verdere opnames: Bach se Die Kuns van die Fuga (1967); Weber se werke vir tjello en klavier (met Gregor Piatigorski) en vir viool en klavier (met Isaac Stern).

Rosenthal, Manuel (1904-2003), Franse komponis en dirigent. Hy het aan die Parys Konserwatorium onder die komponis Ravel studeer, wat hom aangemoedig het om te komponeer. Aanvanklik het hy verskeie Franse orkeste gedirigeer, waaronder die Franse Nasionale Radio-orkes waarvan hy in 1934 ‘n mededirigent geword het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy vir twee jaar ‘n Duitse krygsgevangene, en na die oorlog het hy hoofdirigent van die genoemde orkes geword (1944-7). Hy was verder ‘n dirigent van die Seattle Simfonie-orkes (1949-51), waar hy afgedank is toe daar vasgestel is dat die ‘Mevrou Rosenthal’ wat met die orkes opgetree het, nie sy wettige vrou was nie. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1959 gemaak. Vanaf 1962 tot 1974 was hy ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Parys Konserwatorium, en vanaf 1964 het hy vir drie jaar die Liège Simfonie-orkes in België gedirigeer. Hy het in 1981 (toe hy al diep in sy sewentigs was) by die Metropolitan Opera gedebuteer. In 1986 het hy Wagner se Ring-siklus by die Seattle Opera gedirigeer. Hy was voortreflik in die musiek van moderne Franse komponiste soos Debussy, Poulenc en veral Ravel, met wie hy stellig die laaste direkte skakel was. Behalwe sy eie komposisies in verskeie vorme het hy in 1938 ‘n ballet, Gaîté parisienne, op temas van sy landgenoot Offenbach verwerk. As een van die mees blywende musici van die twintigste eeu het hy op 92 met die Monte Carlo Filharmoniese Orkes ‘n hoogaangeskrewe opname (sy derde) van dié werk gemaak. Verdere opnames: orkeswerke van Ravel.

Rosenthal, Moritz (1862-1946), Oekraïnse pianis. Hy was ‘n leerling van Liszt en het in 1876 in Wenen gedebuteer. Vier jaar later het hy tydelik uitgetree om filosofie aan die Weense Universiteit te studeer (1880-6). In 1887 het hy met oorsese toere begin en naam gemaak met sy flambojante styl. Hy het in 1888/9 as begeleier vir die violis Fritz Kreisler deur die VSA getoer. Sy Londense debuut is in 1895 gemaak. In 1939 het hy in New York gaan woon, waar hy aan die Curtis Instituut onderrig gegee het.

Rössel-Majdan, Hilde (1921-), Oostenrykse alt. Ná studies aan die Weense Musiekakademie het sy in 1946 haar konsertloopbaan begin. Haar deurbraak is gemaak toe sy in die jaar daarop ingestaan het vir ‘n solis wat siek geword het tydens ‘n uitvoering van Bach se Sint Mattheüspassie onder Wilhelm Furtwängler. In 1950 het sy by die Weense Staatsopera aangesluit, waarvan sy vir langer as 20 jaar ‘n lid sou wees. Sy het voorts as gas by Covent Garden en La Scala en by die musiekfeeste in Salzburg, Edinburgh en Aix-en-Provence opgetree. Haar bekendheid het in rolle soos Marcellina in Le nozze di Figaro, Lukrezia in Palestrina, Dryad in Ariadne auf Naxos, Annina in Der Rosenkavalier, en Flosshilde en Schwertleite in die Ring-siklus gelê. Sy het laasgenoemde twee rolle gesing in Furtwängler se 1953-opnames in Rome. Daarby was sy uitmuntend in konsertwerke en liedere, veral in die Duitse repertorium. Sy het tot 1972 onderrig aan die Graz Konserwatorium gegee, en daarna aan haar alma mater in Wenen. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (onder beide Hermann Scherchen en Mogens Wöldike); Beethoven se negende simfonie (onder Herbert von Karajan); Mahler se tweede simfonie (onder Otto Klemperer); Mozart se Requiem (onder Karajan); en liedere van Dvorák, Franz en Grieg.

Rossi-Lemeni, Nicola (1920-91), Turks-gebore Italiaanse bas van Russiese afkoms. Hy het in 1946 sy operadebuut in Venesië gemaak, as Varlaam in Boris Godoenof, en het daarna tot 1960 gereeld by La Scala gesing. Verdere debute het gevolg in San Francisco (1951), by Covent Garden (1952) en die Metropolitan Opera (1953). In 1958 het hy in Milaan die rol van Tommaso tydens die première van Pizzetti se opera L’Assassinio nella cattedrale geskep, en sewe jaar later het hy in die Italiaanse première van Billy Budd in Florence gesing. As begaafde sanger in Italiaanse operarolle soos Orovesco in Norma, Enrico in Anna Bolena, Selim in Il turco in Italia en Guardiano in La forza del destino het hy in hoogstaande opnames van dié vier operas opgetree. Vanaf 1965 was hy ook 'n verhoogdirekteur in opera-opvoerings en vanaf 1980 het hy aan die Indiana Universiteit in Bloomington onderrig gegee. Verdere opnames: ‘n versameling uittreksels uit Boris Godoenof (onder Stokowski, 1952).

Rostropowitsj, Mstislaf (1927-2007), Russiese tjellis, pianis en dirigent (allerweë as Slawa bekend) van Pools-Joodse afkoms. Hy het in ‘n musikale gesin in Baku, Azerbaidjan grootgeword, met ‘n tjellis-vader, ‘n pianis-moeder en ‘n violis-suster. Vanaf vierjarige leeftyd het hy klavierlesse van sy moeder ontvang, en op tien het hy begin om tjello te speel onder leiding van sy vader, ‘n student van die legendariese Pablo Casals. Hy het soveel belofte getoon dat sy vader in 1934 die gesin na Moskou laat verhuis het, waar hulle brandarm en haweloos aangekom het. In die Russiese hoofstad het ‘n wildvreemde vrou haar oor hulle ontferm en die gesin vir drie jaar lank gratis gehuisves. Kort na die Duitse inval van die Sowjet-Unie in 1941 het die jong musikus begin om konsertuitvoerings te gee om sy gesin te onderhou, en op vyftien het hy ernstige longpypontsteking opgedoen. In 1943 het hy en sy suster by die Moskou Konserwatorium ingeskryf, waar hy naas sy twee instrumente ook dirigeerkuns en komposisie bestudeer het. Onder sy dosente daar het die komponiste Prokofiëf en Sjostakowitsj getel. Met laasgenoemde sou hy ‘n lewenslange vriendskap ontwikkel. Soms het die groot komponis sy jong leerling na sy woonstel laat kom bloot om vir ‘n halfuur of so in algehele stilte met hom te sit en ontspan. Hy het in 1945 naam gemaak deur die heel eerste Sowjet-kompetisie vir jong musici te wen. In 1948 is hy diep geskok deur die kommuniste se verbod op Sjostakowitsj en Prokofiëf se musiek, asook eersgenoemde se gedwonge uittrede by die konserwatorium. Hy het daarop self uit protes die instelling verlaat en vir die volgende drie jaar by Prokofiëf in sy huis buite Moskou gewoon.

Intussen het Slawa in 1947, 1949 en 1950 die internasionale kompetisies in Praag en Boedapest gewen. Hy het in 1950 die Stalin-prys ontvang, synde die Sowjet-Unie se hoogste toekenning. Sy Westerse debuut is in 1951 in Florence gemaak. Gedurende die 1950’s het hy wyd deur die Sowjet-Unie en Oos-Europa getoer, en het hy sonate-uitvoerings met die pianis Swiatoslaf Richter begin gee. Tydens ‘n besoek aan Praag in 1955 het hy verlief geraak op die sopraan Galina Wisjnewskaja, wat aan die Bolsjoi Teater in Moskou verbonde was. Skaars vier dae later is hul getroud, en uit die huwelik is twee dogters gebore wat beide ook musici sou word. In 1956 het sy debute in Londen en New York plaasgevind, en in dieselfde jaar het hy ‘n hoogleraar in tjello aan sy alma mater in Moskou geword. Hy het vanaf 1961 ook aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium onderrig gegee. In die winter van 1962/3 het hy vir die eerste keer in ‘n orkes gespeel, vir ‘n opvoering in Moskou van Sjostakowitsj se opera Dame Macbeth van Mstensk, tot Katerina Ismailowa herdoop om die owerhede te paai. In 1968 is sy dirigeerdebuut by die Bolsjoi Opera gemaak, met sy vrou in die rol van Tatjana in Jewgeni Onegin. Die opvoering was ‘n enorme sukses, sodat dit kort voor lank in Parys en Berlyn herhaal is. Hy het in die jaar daarop as tjellis by die Salzburg-fees onder Herbert von Karajan gedebuteer.

Gedurende die 1950’s en 1960’s het Rostropowitsj ‘n buitengewone status in die Sowjet-Unie geniet. Vanaf 1970 het sy vriendskap met Alexander Solzhenitsyn, wat hy openlik verdedig en gehuisves het toe die gevierde skrywer haweloos was, hom en sy vrou egter in onguns by die owerhede laat beland. Hulle is nie meer toegelaat om in die buiteland te toer nie, alle verwysings na hul name is beëindig, en eindelik is hulle glad nie meer toegelaat om binnelands op te tree nie. Dit het daartoe gelei dat Slawa en sy gesin in 1974 na die Weste geëmigreer het, nadat Leonard Bernstein en Edward Kennedy vir hulle by die Sowjet-leiers ingetree het. Sy Amerikaanse operadebuut is in 1975 in San Francisco met ‘n opvoering van Pique Dame gemaak. Hy was musiekdirekteur van die Nasionale Simfonie-orkes in Washington, D.C. (1977-94) en artistieke direkteur van die Aldeburgh-fees in Engeland (1977-88). Met die val van die Berlynse Muur in 1989 het hy ‘n impromptu uitvoering daar gegee, wat wêreldwyd gebeeldsend is. Intussen is hul Sowjet-burgerskap hom en sy vrou in 1978 ontneem, maar in 1990 is dit herstel en het hy ná 'n amptelike uitnodiging met sy Amerikaanse orkes in die Sowjet-Unie opgetree. Ter viering van sy tagtigste verjaardag is ‘n geleentheid vroeg in 2007 in die Moskou Kremlin deur die Russiese President Wladimir Putin gereël, wat die groot musikus in brose gesondheid bygewoon het. Presies ‘n maand later is hy aan kanker van die ingewande oorlede en is hy begrawe in dieselfde begraafplaas in Moskou waar sy vriend, die voormalige Russiese President Boris Jeltsin, slegs vier dae tevore ter ruste gelê is.

Rostropowitsj was ‘n lewenslange aktivis wat hom beywer het vir artistieke en politieke vryheid. Naas die genoemde persone was hy goed bevriend met die Spaanse Koningin Sofia. Meer as dertig ere-doktorsgrade is aan hom toegeken, asook die Koninklike Filharmoniese Vereniging se goue medalje (1970), ereburgerskap van die Litause hoofstad Vilnius (2000), en die Franse Legion van Eer. Hy is in 1987 tot ere-ridder geslaan. Die Rostropowitsj-egpaar se roem het hul nie verhinder om kontak te behou met Azerbaidjan nie. Hulle het ‘n inentingsprogram daar befonds, en ‘n huismuseum wat na hul vernoem is, is in 2002 in die hoofstad Baku geopen. Slawa het by geleentheid ook meesterklasse in die plaaslike staatskonserwatorium aangebied, en het ‘n ere-toekenning van die die voormalige Sowjet-republiek ontvang. Hy het in 2006 aangekondig dat hy nie langer die tjello in die openbaar gaan speel nie, maar sy dirigeerloopbaan is met onverminderde ywer voortgesit. In dieselfde jaar het hy konserte in New York, Washington, San Francisco, Moskou and Tokio gedirigeer ter viering van die Sjostakowitsj-eeufees.

As een van die grootste musici van die twintigste eeu was Rostropowitsj ook bevriend met Britten en Prokofiëf. Laasgenoemde se tjellokonsert het hy en Kabalefski ná die komponis se dood voltooi, en Britten se Tjellosimfonie, tjellosonate en 3 tjellosuites is vir hom geskryf. Hy het ook die premières van Sjostakowitsj se twee tjellokonserte gegee, in 1959 en 1966 onderskeidelik. Verder het hy as tjellis die eerste uitvoerings van talle werke deur Bliss, Dutilleux, Khatsjatoerian, Lutoslafski, Panufnik, Saxton, Schnittke, Walton en andere gegee, en as dirigent van werke deur Bernstein, Gubaidulina, Penderecki, Schnittke en Walton. Dit sluit Schnittke se opera Leben mit einem Idioten in, waarvan die première in 1992 in Amsterdam plaasgevind het. Naday hy na die Weste uitgewyk het, het hy voortgegaan om met beroemde pianiste soos die reeds genoemde Richter, Rudolf Serkin en Wladimir Horowitz op te tree. Só veelsydig was hy dat hy dikwels ook sy vrou op die klavier in haar liedere-voordragte begelei het. Alhoewel hy deurgaans probeer het om so getrou as moontlik aan die bladmusiek te bly, is sy vertolkings gekenmerk deur die besondere gevoel en vrye rubato wat hy daaraan verleen het. Een van sy gunsteling-komponiste was Tsjaikofski, wie se volledige simfonieë hy in 1976 in Londen gedirigeer en later opgeneem het.

‘n Verdere aanduiding van Slawa se grootsheid is geleë in die feit dat hoewel hy Bach se onbegeleide tjellosuites reeds sedert sy tienerjare gespeel het, hy tot 1991 gewag het voordat hy die hele siklus in ‘n filmweergawe in Frankryk opgeneem het. Hy was dus in sy sestigs toe die opnames gemaak is – nes sy groot voorganger Pablo Casals, wat by geleentheid Bach vir hom gespeel het. Op die persoonlike vlak was hy alombekend vir sy warmte en mensliewendheid, asook vir sy enorme kapasiteit vir kos en drank. Sleutelopnames (as solis): Bach se volledige onbegeleide tjellosuites (op DVD); Beethoven se 5 tjellosonates (met Richter, Aldeburgh 1964, DVD); Britten se tjellosuites nrs. 1 en 2, en sy tjellosonate (met die komponis); Dvorák se tjellokonsert (onder Karajan, 1969); Lutoslafski se tjellokonsert (onder die komponis); Prokofiëf se Sinfonia concertante (onder Kamu, DVD); Sjostakowitsj se eerste tjellokonsert (onder Ormandy 1959, Rozhdestwenski 1960 en Kamu 1961, lg. op DVD); (as dirigent) Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 1 en 9 (Washington), en sy opera Dame Macbeth van Mtsensk (Londen); Tsjaikofski se Neutkraker, Doringrosie en Swanemeer balletsuites (Berlynse Filharmonie). Verdere opnames (as solis): Beethoven se Driedubbele Konsert (met Oistrach en Richter); Brahms se Dubbelkonsert (met Oistrach); tjellokonserte van C.P.E. Bach, Boccherini, Dutilleux, Elgar, Milhaud, Schnittke, Sjostakowitsj, Tartini en Vivaldi; tjellosonates van Brahms, Bridge, Chopin, Debussy, Liszt en Schubert; Messian se Vierdubbele Konsert (met Cantin, Holliger en Loriod); Richard Strauss se Don Quixote (onder Karajan); Tsjaikofski se Rococo Variasies; werke vir tjello en orkes van Britten, Glazoenof, Gubaidulina en Respighi; (as dirigent): Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky en rolprentmusiek Iwan die Verskriklike; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 2, 6 en 14; en die operas Oorlog en Vrede (Parys), Leben mit einem Idioten, Jolanta (Parys 1984) en Pique Dame (Parys 1976/7).

Roswänge, Helge (1897-1972), Deense tenoor. Hy het sy debuut in 1921 in Neustrelitz gemaak, as Don José in Carmen. Later was hy verbonde aan die Keulen Opera (1927-30) en die Berlynse Staatsopera (1930-44). Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1932), die Weense Staatsopera (1936) en Covent Garden (1938). Hy het in 1933 onder Robert Heger uitgeblink as die Italiaanse Tenoor in die eerste opname van Der Rosenkavalier. In 1934 en 1936 het hy die titelrol in Parsifal by die Bayreuth-fees gesing, en kort daarna die rol van Tamino in Thomas Beecham se klassieke opname van Der Zauberflöte. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het hy weer in Berlyn en Wenen opgetree, en in 1962 het hy 'n konserttoer deur die VSA onderneem.

Rothenberger, Anneliese (1924-2010), Duitse sopraan. Nadat sy in 1943 haar debuut in Koblenz gemaak het, was sy vanaf 1946 tot 1972 ‘n lid van die Hamburg Staatsopera. Tydens haar debuut by die Edinburgh-fees in 1952 het sy in die Britse verhoogpremière van Hindemith se Mathis der Maler gesing. Twee jaar later het sy met haar Salzburg-feesdebuut die rol van Telemachos tydens die première van Liebermann se Penelope geskep. Vanaf 1956 het sy ook by die Deutsche Oper in Berlyn gesing, met verdere debute wat plaasgevind het in Wenen (1957), by die Glyndebourne-fees (1959) en die Metropolitan Opera (1960). Sy was veral bekend in die ligter rolle van Duitse opera en operette, soos Lisa in Das Land des Lächelns, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, Rosalinde in Die Fledermaus en Zdenka in Arabella. Vanaf 1971 was sy ook ‘n gewilde televisie-aanbieder vir die Duitse kanaal ZDF. Opnames: die genoemde operettes van Lehár en Johann Strauss junior; en die genoemde operas van Mozart en Richard Strauss.

Rothwell, Evelyn (1911-2008), Engelse hobospeler en leermeester. Aanvanklik was sy ‘n hobospeler in verskeie Britse orkeste, waaronder die Skotse Orkes (1933-7), die Glyndebourne Opera (1934-8) en die Londense Simfonie-orkes (1935-9). Sy het in 1939 met die opkomende dirigent John Barbirolli getrou, waarna sy as solis en in kamermusiek begin optree het. In 1948 het sy in Salzburg die eerste hedendaagse uitvoering van Mozart se hobokonsert gegee. Sy en Barbirolli het in 1957 in Vancouver as solis en dirigent ‘n voortreflike uitvoering van ‘n hobokonsert wat aan Haydn toegeskryf is, gegee. ‘n Beeldopname is van die geleentheid gemaak. Haar landgenoot Gordon Jacob het sy eerste hobokonsert aanvanklik as ‘n kwartet vir haar geskryf. Hobokonserte is ook deur Barbirolli en Vilém Tausky vir haar geskryf. Sy was vanaf 1971 tot 1987 ‘n hoogleraar in hobo aan die Koninklike Musiekakademie. Die OBE is in 1984 aan haar toegeken. ‘n Aantal boeke oor hobotegniek het uit haar pen verskyn. Verdere opnames: Bach se Brandenburgkonserte (met Adolf Busch, Rudolf Serkin en ander bekende musici); en hobokonserte van Corelli, Marcello, Haydn en Vaughan Williams.

Rousset, Christophe (1961-), Franse klawesimbelspeler en dirigent. Nadat hy in 1983 die klawesimbel-kompetisie in Brugge gewen het, het hy wêreldwyd as solis begin optree. Sy opnames van Couperin en Rameau se volledige klawesimbelwerke het wye lof ingeoes – dié van Rameau se Pièces de clavecin het ‘n Gramophone-toekenning, Diapason d’or (Frankryk) en Prix Caecilia (België) verwerf. In 1991 het hy die ensemble Les Talens Lyriques gestig, wat hy sedertdien dirigeer. Hulle tree dikwels by die Amsterdamse Opera op, en het in 1996 die eerste opname van Handel se opera Riccardo Primo gemaak. Hul opname van Rameau-ouvertures het in 1998 ‘n Gramophone-toekenning verwerf. Vir die ensemble se tiende verjaardag het hulle die eerste opname van Traetta se opera Antigone gemaak. Hy het verder die musiek vir die rolprent Farinelli opgeneem. Sleutelopnames (as solis): ‘n versameling Partitas en Toccatas van Froberger, asook Lamentation sur la mort de Ferdinand III; Rameau se volledige Pièces de clavecin, asook Nouvelles Suites, 5 Pièces en La Dauphine. Verdere opnames (as solis:) Bach se volledige klawesimbelkonserte, en sy Engelse suites, Partitas en Goldberg Variasies; Boccherini se 6 Duetsonates (met William Christie); kamerwerke van Marin Marais; sonates van D. Scarlatti; (en as dirigent:) Couperin se Trois lecons de Ténèbres; Lully se opera Roland; Pergolesi se Stabat mater, Salve Regina in A mineur en Salve Regina in F mineur; die operas Persée, Mitridate en La Capricciosa Lyriques; en ‘n versameling Mozart-arias (met die bariton Roberto Scaltriti).

Rowicki, Witold (1914-89), Poolse dirigent en komponis. Hy het vanaf 1932 tot 1945 in kamer-ensembles gespeel en het in 1933 ook as dirigent gedebuteer. In 1945 het hy die Poolse Nasionale Radio-orkes in Katowice gestig en hulle tot 1950 gedirigeer. Daarna was hy hoofdirigent van die Warskou Filharmoniese Orkes (1950-5, 1958-77). Vanaf 1965 was hy ook direkteur van die Teater Wielki operasentrum, en vanaf 1983 was hy vir drie jaar hoofdirigent van die Bamberg Simfonie-orkes. Met die Londense Simfonie-orkes het hy 'n hoogstaande opname van Dvorák se negende simfonie gemaak.

Rozario, Patricia (?-), Indies-gebore sopraan van Portugese afkoms. Sy het in Bombaai in ‘n musikale gesin grootgeword en as sewejarige aan die jaarlikse Santa Cruz-fees in dié stad begin deelneem. In 1978 is sy na Brittanje om aan die Guildhall Musiekskool te studeer, waar sy die Maggie Teyte-prys en ‘n goue medalje sou wen. Sy het verder studeer aan die Nasionale Opera-ateljee onder die bekende leermeester Vera Rozsa, waarna sy wyd deur Europa in operahuise en musiekfeeste begin optree het. Haar debuut as solis is in 1991 in Londen gemaak. Met die beroemde dirigent Georg Solti het sy deur Europa getoer om in opvoerings van Le nozze di Figaro te sing, en as briljante konsertsangeres tree sy wêreldwyd op. In 1992 het haar hoogs produktiewe verbintenis met John Tavener begin toe sy by die Aldeburgh-fees die titelrol tydens die première van sy opera Mary of Egypt geskep het. In dieselfde jaar het sy by die Chester-fees as solis in die première van sy We shall Him as He is gesing. Sedertdien het die gewilde hedendaagse komponis ‘n hele aantal van sy werke vir haar as sy gunsteling-sopraan geskryf. Daaronder tel Agraphon, Akhmatova Songs, Eternity’s Sunrise, Fall and Resurrection en Ikon of Eros. In 2003 het sy in die premières van nog twee Tavener-werke gesing, naamlik The Veil of the Temple (in Londen) en Lament for Jerusalem (in Sydney). Onder verdere komponiste wat werke vir haar geskryf het, tel Holt (die titelrol in sy opera The Nightingale’s to blame) en Pärt. Sy is ewe begaafd in liedere, onder andere as vennoot van die Songmakers’ Almanac, en het in Hermann Prey se Schubertiade in Londen verskyn. Met haar byna onaardse, engelagtige stem, buitengewone stemreeks en opgewekte geaardheid is sy tans een van die gewildste sangeresse ter wêreld, sodat dit nie verbasend is dat die OBE in 2001 aan haar toegeken is nie. Sleutelopname: Tavener se Akhmatova Songs (met die Vanbrugh Kwartet). Verdere opnames: Casken se opera Golem; Handel se opera Almira (as Edilia); Holst se A Choral Fantasia en 7 Partsongs (onder Hickox); Mozart se opera Mitridate, re di Ponto (as Ismene); ‘n versameling Schubert-liedere getiteld Schubertiad (met die pianis Graham Johnson); en Tavener se Eternity’s Sunrise, Fall and Resurrection, Innocence, Little Requiem for Father Malachy Lynch, Song of the Angel, The Veil of the Temple, We shall Him as he is en opera Mary of Egypt.

Rozhdestwenski, Gennadi (1931-), Russiese dirigent. Sy vader was die dirigent Nikolai Anosof, maar hy het sy moeder se nooiensvan aangeneem. Vanaf 1951 was hy aan die Bolsjoi Opera in Moskou verbonde, aanvanklik as assistent-dirigent, en later as dirigent (1956-60) en hoofdirigent (1965-70). Sy Westerse debuut is in 1956 in Londen gemaak. Hy het in 1960 saam met Jewgeni Mrawinski die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes op hul eerste besoek aan Brittanje gelei. Tydens die geleentheid het hy hul in ‘n kragtige opname van Tsjaikofski se Francesca da Rimini gedirigeer. Met die Philharmonia Orkes van Londen het hy in 1962 by die Edinburgh-fees die eerste uitvoering van Sjostakowitsj se vierde simfonie buite die Sowjet-blok gegee, met ‘n uitmuntende opname wat gemaak is. Hy was ook hoofdirigent van die USSR Radio en TV Orkes (1960-5 en 1970-4), met wie hy in 1965 die Russiese première van Britten se opera A Midsummer Night’s Dream gedirigeer het. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1970) en die Salzburg-fees (1976), en in 1973 het hy deur die VSA getoer. Sy latere loopbaan het merendeels in die Weste afgespeel, onder meer as hoofdirigent van die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes (1974-77 en weer 1991-95). Hy het die ensemble in 1979 vir konserte in Moskou en Leningrad (tans Sint Petersburg) geneem, waardeur hul die eerste Sweedse orkes geword het om die destydse Sowjet-Unie te besoek. Tydens sy tweede dienstyd met die orkes het hy hulle op ‘n aantal toere deur Europa en Japan geneem.

Rozhdestwenski was voorts hoofdirigent van die BBC Simfonie-orkes (1978-81), die Weense Simfonie-orkes (1981-83) en die USSR Staatsimfonie-orkes (1981-91). By die Baden-Baden Fees in 1998 het hy ‘n orkes, koor en soliste uit talle Europese lande in ‘n opvoering van Jewgeni Onegin gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Hy het in 2004 die Praag Simfonie-orkes in ‘n seldsame opname van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling volgens Smetacek se orkestrasie gedirigeer. Daarby het hy ‘n aantal opnames met die Residentie Orkes in Den Haag gemaak. Sy bekendheid lê veral in Russiese en Skandinawiese musiek, waarin hy een van die beste dirigente van sy tyd is. Hy is getroud met die pianis Wiktoria Postnikowa, met wie hy soms in klavierduette speel. Sleutelopnames: Tavener se The Protecting Veil (Londense Simfonie-orkes); Tsjaikofski se ballette Die Neutkraker (Covent Garden) en Doringrosie (BBC Simfonie-orkes 1979). Verdere opnames: Glazoenof se volledige simfonieë, en ‘n aantal van Börtz, Britten, Enescu, Miaskofski, Rachmaninof (nr. 2), Schnittke, Stenhammar, Tisjenko en Tsjaikofski (nr. 4); Berlioz se Symphonie fantastique; Glazoenof se Tsar Iedesyskiy; Howells se Stabat Mater en Missa Sabrinensis; ‘n versameling walse en galoppe van Lumbye; Nielsen se verhoogwerk Aladdin en ‘n versameling orkeswerke; Prokofiëf se ballet Chout en opera Maddalena; Riisager se ballette Etudes en Qarrtsiluni; Sjostakowitsj se ballette Die Goue Eeu en Die Weerligstraal, en sy musiekblyspel Moskva, Cheremushki; Tsjaikofski se opera Oprichnik; Tjerepnin se ballet Narcisse et Echo; en Vermeulen se simfonieë nrs. 2, 6 en 7.

Rozsa, Vera (1920-), Hongaars-gebore mezzosopraan wat ‘n Britse burger geword het. Sy het in 1945 by die Boedapest Staatsopera as Hänsel in Hänsel und Gretel gedebuteer. Later het sy by die Weense Opera en met bekende orkeste in Europa en die VSA verskyn, en in 1975 het sy uitgetree. Haar bekendheid was merendeels as leermeester, onder meer by die Koninklike Musiekkollege in Manchester (1965-70) en Opera Studio in Parys (1975-80). Sy het in 1980 ‘n hoogleraar in sang aan die Guildhall Musiekskool geword. Die OBE is in 1989 aan haar toegeken.

Rubinstein, Arthur (1887-1982), Pools-gebore pianis. As wonderkind het hy op vyfjarige leeftyd ‘n uitvoering in Warskou gegee. Ná studies onder Rozycki het sy moeder hom na Berlyn geneem om met die legendariese violis Joseph Joachim te speel. Daarna was hy ‘n leerling van sy beroemde landgenoot Jan Paderefski, en as tienjarige is hy opnuut na Berlyn vir studies onder Heinrich Barth in klavier en komposisie. In 1900 is sy debuut in Berlyn met ‘n Mozart-konsert onder Joachim se dirigeerstaf gemaak. Vyf jaar later het hy in Parys gedebuteer en in die jaar daarop het hy deur Noord-Amerika getoer. Hy het ook wyd deur Europa en Suid-Amerika getoer, met ‘n Londense debuut wat in 1912 gemaak is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hy in die Britse hoofstad gewoon, waar hy met sy kennis van agt tale as tolk gewerk het. Daarbenewens het hy liefdadigheidskonserte met die violis Eugene ÿsaye gegee. Hy het vanaf 1916 baie gewild in Spanje geword, veral as ‘n vertolker van Falla se musiek. Vanaf 1919 het hy dikwels in die VSA gespeel, maar het eers in 1937 roem in dié land begin verwerf. In 1939 het hy hom in Kalifornië gevestig en sewe jaar later het hy 'n Amerikaanse burger geword.

Rubinstein het in 1958 sy eerste na-oorlogse uitvoering in Pole gegee en ses jaar later in Rusland opgetree. As Jood het hy egter geweier om Duitsland weer te besoek. Hy het ook kamermusiek in ‘n trio met die violis Jascha Heifetz en die tjellis Gregor Piatigorski gespeel. In 1976 het hy sy laaste Londense uitvoering gegee, en in die jaar daarop is hy tot ereridder geslaan. As een van die laaste lewende skakels met die Romantiese era was hy ‘n virtuoos in ‘n wye repertorium werke. Hy het veral uitgeblink in die musiek van Beethoven, Brahms, Chopin, Schubert en Schumann, asook in Spaanse en Franse musiek. Tot sy negentigste verjaarsdag het hy met bykans onverminderde krag en vaardigheid gespeel. Sy talle opnames, onder andere van Beethoven, Brahms en Chopin se volledige solowerke, getuig van die helderheid, intelligensie en warmte van sy spel. Sleutelopnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 8, 14, 23 en 26; Chopin se Nocturnes 1-19 en Polonaises 1-7; Mozart se klavierkonserte nrs. 17, 20, 21, 23 en 24 (onder Wallenstein en Krips); Schubert se Fantasia in C, klaviersonate nr. 21, en Impromptus  en 4. Verdere opnames: die klavierkonserte van Grieg en Schumann, en ‘n aantal van Beethoven, Saint-Saëns (nr. 2), Sjostakowitsj en Tsjaikofski; Brahms en Dvorák se klavierkwintette (met die Guarneri Kwartet); Falla se Nagte in die tuine van Spanje; Franck se Simfoniese Variasies; Rachmaninof se Paganini Rapsodie (onder Reiner, 1956); Szymanowski se vierde simfonie; en solowerke van Albéniz, Chabrier, Debussy, Fauré, Poulenc, Prokofiëf, Ravel, Schumann, Szymanofski, Villa-Lobos.

Rübsam, Wolfgang (1946-), Duitse orrelis en pianis. Hy het onder bekende orreliste soos Marie-Claire Alain en Helmut Walcha studeer, en in 1973 het hy die Grand Prix de Chartres gewen. Daarop is hy na die VSA, waar hy in 1974 ‘n hoogleraar in kerkmusiek en orrel aan die Noordwestelike Universiteit in Chicago geword het. Verder was hy orrelis van die Rockefeller Gedenk-kapel van die Universiteit van Chicago. Tans is hy ‘n hoogleraar aan die Saarlandse Konserwatorium in Saarbrücken, Duitsland. Hy tree wyd as solis op, en gee meesterklasse in die VSA en Europa. Met sy sekure tegniek is hy veral bekend in die musiek van Bach, wie se volledige werke vir orrel (twee siklusse) en klavier hy in hoogstaande vertolkings opgeneem het. Verdere opnames: orrelwerke van Pachelbel en Rheinberger.

Rudel, Julius (1921-), Oostenryks-gebore dirigent. Hy het in 1938 na die VSA geëmigreer, waar hy ses jaar later ‘n Amerikaanse burger geword het. Ná studies aan die Mannes Musiekskool in New York het hy in 1943 as repetisie-pianis by die plaaslike Stadsopera begin werk. In die jaar daarop het hy assistent-dirigent van die New York Stadsopera geword, met ‘n debuut in die operette Der Zigeunerbaron. Later was hy hul artistieke direkteur (1957-79), waartydens die geselskap een van die voorstes in die VSA geword het. Hy het in 1971 die eerste musiekdirekteur van die Kennedy Sentrum in Washington, DC geword, ‘n pos wat hy vir vier jaar sou beklee. In 1978 het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer, en in die jaar daarop het hy New York verlaat om musiekdirekteur van die Buffalo Filharmoniese Orkes te word. Hy sou die pos tot 1985 beklee en die orkes op hul eerste toer van die Amerikaanse Weskus lei, naas gala-uitvoerings wat gegee is met groot operasangers soos Beverly Sills en Placido Domingo. As gasdirigent het hy wêreldwyd opgetree en was hy bekend vir sy fyn afgewerkte vertolkings. By Covent Garden het hy in 1985 ‘n uitstekende opvoering van Andrea Chénier met Domingo in die naamrol gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Oor die jare heen het hy ‘n hele aantal eredoktorsgrade en toekennings in die VSA, Duitsland, Oostenryk en Israel ontvang, en in Frankryk is hy tot ‘Chevalier des Arts et Lettres’ geslaan. Sleutelopname: Saint-Saëns se opera Samson et Dalila (San Francisco 1981, op DVD). Verdere opnames: die operas Anna Bolena, Giulio Cesare, Cendrillon en Manon; en Weill se Kleine Dreigroschenmusik en Lost in the Stars.

Rudy, Michail (1963-), Russiese pianis. Hy het in 1971 die Bach-kompetisie in Leipzig gewen en vier jaar later ook die Marguérite Long-kompetisie in Parys. In 1977 is sy Europese debuut in die Franse hoofstad gemaak en vier jaar later het sy Amerikaanse debuut plaasgevind. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1987) en in Londen (1988). Sy opnames van Rachmaninof se 4 klavierkonserte onder Mariss Jansons, gekenmerk deur poësie en verfyndheid, word as een van die beste siklusse nóg daarvan beskou. Verdere opnames: Janácek se Capriccio en Concertino; Moessorgski se Skilderye op 'n Uitstalling (in die oorspronklike klavierweergawe); Rachmaninof se Paganini Rapsodie; Tsjaikofski se eerste klavierkonsert; solowerke van Janácek en Szymanowski; en ‘n versameling klavierverwerkings van uittreksels uit Wagner-operas.

Ruffo, Titta (1877-1953), Italiaanse bariton. Hy het in 1898 sy operadebuut in Rome in Lohengrin gemaak, met verdere debute wat plaasgevind het in Buenos Aires (1902), Covent Garden (1903), La Scala (1904) en die Metropolitan Opera (1922). Vanaf 1908 tot sy uittrede in 1931 het hy gereeld in Buenos Aires gesing. Sy bekendheid het veral in Verdi-rolle gelê.

Runnicles, Donald (1954-), Skotse dirigent. Sy loopbaan het in Duitsland begin, waar hy in 1980 in Mannheim met Les contes d’Hoffmann gedebuteer het. Daarna was hy as musiekdirekteur verbonde aan operahuise in Mannheim (1984-7), Hannover (1987-9) en Freiburg (vanaf 1989). In dié tyd het hy gereeld as assistent by die Bayreuth-fees gewerk en as gasdirigent wyd deur Europa opgetree. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1988), in Wenen (1990), en by Covent Garden en die Glyndebourne-fees (beide in 1991, in laasgenoemde geval met Don Giovanni). Sedert 1990 is hy musiekdirekteur van die San Francisco Opera, waar hy met Wagner se Ring-siklus gedebuteer het. Twee jaar later het hy hoofdirigent van die San Francisco Simfonie-orkes geword. Hy het in 1993 by die Bayreuth-fees met Tannhäuser gedebuteer, en sedertdien is hy ‘n gereelde dirigent by die groot Wagner-fees. Verder verskyn hy dikwels by die musiekfeeste in Edinburgh en Salzburg, asook by die Weense Staatsopera waar hy ‘n aantal Ring-siklusse gedirigeer het. Die Universiteit van Edinburgh het in 1995 ‘n ere-doktorsgraad aan hom toegeken, en in 2004 het hy die OBE ontvang. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie; en die operas I Capuleti ed i Montecchi, Billy Budd, Orfeo ed Euridice (in Berlioz se weergawe), Hänsel und Gretel en Capriccio (DVD).

Rupert, Hanneli (?-), Suid-Afrikaanse mezzosopraan, dogter van die magnaat Anton Rupert. Sy het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en in 1979 haar professionele debuut gemaak. Verdere studies is in Europa onder die groot liedere-sangers Pierre Bernac en Ernst Häfliger en die pianis Erik Werba onderneem. Haar Amerikaanse debuut is in 1992 onder die dirigeerstaf van Mstislaf Rostropowitsj in Washington, DC gemaak. Sy tree wêreldwyd in konserte en liedere-voordragte op, en is veral bekend in die musiek van Mahler en in gewyde werke. Sedert 1984 is sy die eienares van die historiese wynlandgoed La Motte naby Franschoek. Met die vermaarde pianis Graham Johnson as begeleier het sy ‘n opname van Brahms-liedere gemaak.

Russell, Lynda (?-), Engelse sopraan. Sy het aan die Koninklike Musiekkollege in Londen studeer en darana onder Eugenie Ludwig in Wenen. Onder die vele toekennings wat sy verwerf het, tel die Kathleen Ferrier Gedenkbeurs. Sy tree by van die voorste operahuise in Europa op, maar is met haar soet, suiwer sang eerder bekend as konsertsangeres in ‘n wye repertorium. Opnames: Britten se War Requiem; Fauré se Shylock; Handel se Dixit Dominus, Ester (in die naamrol) en Messiah; Mahler se vierde simfonie (onder Antoni Wit); Vaughan Williams se sewende simfonie (onder Kees Bakels); en Vivaldi se Gloria.

Russell Davies, Dennis (1944-), Amerikaanse dirigent. Hy het in 1961 sy debuut as pianis gemaak, en vanaf 1968 het hy vir drie jaar aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee. Ook  in 1968 het hy die Juilliard Ensemble met die komponis Luciano Berio gestig, wat hy tot 1974 sou dirigeer. Verder was hy musiekdirekteur van die Norwalk Simfonie-orkes (1968-73), die Sint Paulus Kamerorkes in Minnesota (1973-80), die Württemberg Staatsopera in Stuttgart (1980-87) en die Bonn Opera (1987-90). Verdere debute het intussen plaasgevind by die Bayreuth-fees (1978) en in Chicago (1987). Vanaf 1985 was hy vir drie jaar hoofdirigent van die Saratoga Kunstesentrum. Hy is sedert 1991 hoofdirigent van die Brooklyn Simfonie-orkes en musiekdirekteur van die Brooklyn Musiekakademie. As begaafde dirigent in moderne musiek het hy die premières van verskeie werke gegee, insluitend Berio se Opera (Santa Fé, 1970) en Glass se opera Akhnaten (Stuttgart, 1984). Van laasgenoemde is ‘n hoogstaande opname met Paul Esswood in die titelrol gemaak. Hy het in 1983 ‘n opvoering van dieselfde komponis se opera Satyagraha in Stuttgart gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. As jarelange vriend van Glass het hy in 2002 ook die eerste uitvoering van sy sesde simfonie in New York gedirigeer. Verdere opnames: simfonieë van Glass, Harrison, Hovhaness en Ives (nr. 3); ‘n versameling Bach-verwerkings deur Reger; Beaser se Chorale variations; Braunfels se Verkündigung; Copland se ballet Appalachian spring; Kancheli se Trauerfarbenes Land en enkele gewyde werke; en Pärt se Arbos en Festina lente.

Russiese Nasionale Orkes, in 1990 deur die pianis Mikhail Pletnjef gestig as die eerste selfregerende Russiese orkes sedert die rewolusie van 1917. Onder Pletnjef het hulle ‘n hele aantal hoogstaande opnames gemaak, en het hul die eerste Russiese orkes geword om in Israel en die Vatikaanstad te speel. In 1999 het die violis Wladimir Spiwakof hul musiekdirekteur geword. Kort na hul tienjarige herdenking (in 2001) het die orkes onder leiding van Spiwakof en met Pletnjef as pianis deur die VSA getoer. Spiwakof het in 2002 onverwags uit sy pos bedank.

Rutter, Claire (?-), Engelse sopraan. Sy het aan die Guildhall Musiekskool en die Nasionale Opera-ateljee studeer, en het vele toekennings verwerf. Verdere studies is onder Ileana Cotrubas en Gerald Moore onderneem. Sy het vir drie jaar hoofrolle met die Skotse Opera gesing en is tans aan Opera Noord verbonde. Haar bekendheid lê veral in Italiaanse rolle soos Gilda in Rigoletto, Violetta in La Traviata en die titelrol in La Gioconda, waarin sy met niemand minder nie as Maria Callas vergelyk word. Sy tree wêreldwyd in operahuise en musiekfeeste op, en is ewe begaafd as konsertsangeres. In 2001 het sy onder David Lloyd-Jones uitgeblink as solis in die eerste opname van Holst se The Mystic Trumpeter. Verdere opnames: L. Berkeley se operas A Dinner Engagement (as Susan) en Ruth (as Orpah); Sullivan se The Foresters geleentheidsmusiek, oratorium The Prodigal Son en opera The Contrabandista (almal onder Ronald Corp).

Rutter, John (1945-), Engelse dirigent en komponis. Hy was musiekdirekteur van Clare College, Cambridge (1975-9), en het in 1981 die Cambridge Singers gestig. Onder sy eie komposisies tel gewilde toonsettings van die Gloria, Magnificat en Te Deum, asook vele gesange en Kersliedere. Sleutelopname: Fauré se Requiem, in die oorspronklike weergawe. Verdere opnames: Poulenc se Gloria; ander kerkmusiek van Fauré en Poulenc; en talle van sy eie werke.

Rydl, Kurt (1947-), Oostenrykse bas. Hy het in 1973 sy operadebuut in Stuttgart gemaak as Daland in Der fliegende Holländer. Daarna het debute plaasgevind by die Bayreuth-fees (1975), Wenen en die Salzburg-fees (1976), en Covent Garden (1993). Met sy warm, sterk stem is hy ‘n voortreflike sanger in Duitse opera en konsertmusiek. Onder die verdere operarolle waarin hy uitblink, tel Sarastro in Die Zauberflöte, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Hagen in Götterdämmerung en Biterolf in Tannhäuser. Opnames: Penderecki se Sint Lukaspassie; Schmidt se Das Buch mit sieben Siegeln; en die genoemde operas van Mozart, Richard Strauss en Wagner.

Rysanek, Leonie (1926-98), Oostenrykse sopraan. Sy het in haar geboortestad Wenen studeer, en het later met een van haar leermeesters getrou. Nadat sy in 1949 haar operadebuut in Innsbruck as Agathe in Der Freischütz gemaak het, was sy verbonde aan die Saarbrücken Opera (1950-3). Met die heropening van die Bayreuth-fees in 1951 het sy Sieglinde in Die Walküre gesing. Sy sou oor die volgende drie dekades dikwels by Bayreuth verskyn, ook as Senta in Der fliegende Holländer, Elsa in Lohengrin, Elisabeth in Tannhäuser en Kundry in Parsifal. Sy was vanaf 1952 vir drie jaar ‘n lid van die München Staatsopera, met wie sy in die jaar daarop by Covent Garden sou debuteer. Vanaf 1954 het sy ook in Wenen gesing en twee jaar later is haar Amerikaanse debuut in San Francisco gemaak. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1958) en die Metropolitan Opera (1959), in laasgenoemde geval as plaasvervanger vir ‘n olike Maria Callas (as Dame Macbeth). Oor die volgende 35 jaar sou sy meer as 200 optredes by die Met maak. Sy het in 1984 ook in Japan gesing. Met haar ferm stem, sensuele sang en treffende akteursvermoëns was sy uitmuntend in die swaarder rolle van Duitse en Italiaanse opera, veral dié van Richard Strauss en Wagner. Een van haar beste rolle was Sieglinde in Die Walküre, wat sy meesterlik vertolk het in opnames onder beide Wilhelm Furtwängler (1954) en Karl Böhm (1967). Naas die genoemde rolle het sy uitgeblink as die Keiserin in Die Frau ohne Schatten, Desdemona in Otello, Ortrud in Lohengrin, en die titelrolle van Medea en Salome. Later in haar loopbaan het sy mezzo-rolle soos Kostelnicka in Jenufa, Kabanicha in Kátá Kabanová en Klytemnestra in Elektra gesing, asook Herodias in Salome. Haar afskeidsoptrede by die Met het in 1995 plaasgevind, as die Hertogin in Tsjaikofski se Pique Dame. Verdere opnames: Verdi se Requiem; en die genoemde operas van Cherubini, R. Strauss, Verdi en Wagner.


Encyclopedia: Western Music