If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

N - O - P

N

Nagano, Kent (1951-), Amerikaanse dirigent van Japannese afkoms. Hy was aanvanklik verbonde aan die Boston Opera (1977-9), en vanaf 1978 was hy musiekdirekteur van die Berkeley Simfonie-orkes. Met hulle het hy in 1982 die Amerikaanse première (in ‘n konsertweergawe) van Pfitzner se opera Palestrina gegee. In 1984 het hy musiekdirekteur van die Ojai-fees in Kalifornië geword. As bekende in moderne musiek het hy in 1988 die Londense première van Messiaen se St Francois d’Assise in ‘n konsertweergawe gedirigeer. In die jaar daarop het hy musiekdirekteur van die Lyon Opera geword, met wie hy in 1990 die Franse weergawe van Salome opgeneem het. Hy het in 1991 in Brussels die première van Adams se opera The Death of Klinghoffer gedirigeer. Sedert 1992 is hy musiekdirekteur van die Hallé Orkes, en twee jaar later het sy debuut by die Metropolitan Opera plaasgevind. Sy DVD-opname van Adams se El Nino is in 2002 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon. Hy is in 2003 as die Los Angeles Opera se eerste musiekdirekteur aangestel. Met die Russiese Nasionale Orkes en bekendes soos Mikhail Gorbatsjef, Sophia Loren en Bill Clinton as sprekers het hy ‘n Grammy-bekroonde opname van Prokofiëf se Pieter en die Wolf gemaak.

By die Baden-Baden Fees in Duitsland het Nagano opvoerings van Parsifal (2004) en Lohengrin (2006) gedirigeer, met DVD-opnames wat daarvan getuig. Helaas is beide deur die regisseur Nikolaus Lehnhoff se powere verhoogproduksie bederf. Verdere opnames: Beethoven se oratorium Christus am ölberge; Berlioz se La damnation de Faust; Britten se Sinfonietta; Bruckner se sesde simfonie; Delibes se ballet Coppélia; Mahler se simfonieë nrs. 3 en 8; Messian se St Francois d’Assise (Salzburg 1998) en Turangalila Simfonie; Milhaud se ballette Le boeuf sur le toit en Le création du monde; verskeie orkeswerke van Ravel, insluitend sy ballet Daphnis et Chloé; Schoenberg se Die Jakobsleiter; Strawinski se ballette Die Vuurvoël en Le sacre du printemps; versamelings orkeswerke van Torke en Varèse; Weill se ballet Die sieben Todsünden; en die operas The Death of Klinghoffer, Billy Budd, Turandot (van Busoni), Susannah, Arlecchino, Les Dialogues des Carmelites, Die liefde vir drie lemoene en The Rake's Progress (almal met die Lyon Opera).

Napier, Marita (1939-2004), Suid-Afrikaanse sopraan. Sy is in 1965 na Duitsland om aan die Detmold Musiekakademie te studeer. Drie jaar later het haar professionele debuut plaasgevind, en in 1971 is haar internasionale deurbraak gemaak met 'n optrede in San Francisco. Daarna het optredes gevolg by die 'Grand Slam' operahuise, sowel as by die feeste in Salzburg en Bayreuth. In 1976 het sy na haar geboorteland teruggekeer om by die Kruik Opera in Kaapstad te sing. As begaafde sangeres in die liriese en dramatiese rolle van Duitse en Italiaanse opera was sy wêreldbekend in die musiek van veral Richard Strauss en Wagner. Haar repertorium het ingesluit Leonore in Fidelio, Santuzza in Cavalleria rusticana, Chrysothemis in Elektra, Leonora in La forza del destino, Abigail in Nabucco, Senta in Der fliegende Holländer, Brünnhilde in Die Walküre, die vroulike hoofrolle in Macbeth en Tristan und Isolde, en die titelrolle in Tosca, Turandot en Ariadne auf Naxos. Sy het al in talle opvoerings van die Ring-siklus by die voorste operahuise in Europa en die VSA gesing. Tydens ‘n Sjinese toer van die Met-geselskap het sy voor een van die grootste televisie-gehore nóg opgetree. Opnames: Schoenberg se Gurrelieder; en die operas Das Rheingold, Die Walküre en Der Zar lässt sich Photographieren.

Nash Ensemble, Britse kamerensemble wat in 1964 deur Amelia Freedman gestig is. Hulle bestaan uit 12 lede, met Freedman as artistieke direkteur. Met hul hoogstaande musikaliteit en stylvolle spel het die ensemble roem verwerf in ‘n enorme repertorium vanaf Mozart tot by avant-garde. Soos verwag kan word, tree hul wêreldwyd in konserte en by musiekfeeste op. As kampvegters vir hedendaagse musiek is ongeveer 120 werke oor die jare heen vir hulle geskryf. Freedman het ‘n eredoktoraat van die Universiteit van Bath ontvang en die CBE is aan haar toegeken. Sleutelopnames: Berkeley se Diversions, Sekstet en hobokwartet; Hummel se Septet; Mozart se Adagio en Rondo K617; Saint-Saëns se Karnaval van die Diere, klaviertrio nr. 1 en Septet; Schoenberg se Pierrot lunaire (met Jane Manning); ‘n versameling kamerwerke van Vaughan Williams, insluitend die klavierkwintet, strykkwartet en Kwintet in D. Verdere opnames: Arenski se klaviertrio nr. 1; 3 versamelings kamerwerke van Arnold; Beethoven se klarinettrio en Septet; Berwald se Groot Septet; Bliss se Conversations en hobokwartet; Kuhlau se 2 Oktet-Partitas; Lambert se Konsert vir klavier en 9 spelers (met Ian Brown); ‘n versameling kamerwerke van William Lloyd Webber; Rimski-Korsakof se Kwintet vir klavier en houtblasers; Schubert se Oktet; Spohr se Oktet en Nonet; Weber se klarinetkwintet en Fluittrio in G mineur.

Nash, Heddle (1896-1961), Engelse tenoor. Aanvanklik was hy 'n koorsanger by die Westminster Abdy, met studies wat in Londen en Milaan gevolg het. In 1924 het hy sy operadebuut in Milaan as Almaviva in Il barbiere di Siviglia gemaak. Hy het vanaf 1925 in Londen gesing, onder andere by die Britse Nasionale Opera (1926-9). In 1929 het hy 'n sensasionele debuut by Covent Garden as Don Ottavio in Don Giovanni gemaak. Hy sou vir die volgende tien jaar aan dié operahuis verbonde wees, en vanaf 1934 het hy gereeld by die Glyndebourne-fees gesing. Daar het hy in die eerste opname van Così fan tutte in 1935 onder Fritz Busch uitgeblink. In 1938 het hy as solis in die eerste uitvoering van Vaughan Williams se Serenade to Music opgetree. Alhoewel hy veral as 'n sensitiewe vertolker van Rossini en Mozart bekend was, kon hy ook goeie rekenskap van homself gee as Rodolfo in La Bohème, die Hertog in Rigoletto en Dawid in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy was verder ‘n begaafde konsertsanger, veral in Handel se Messiah en in die titelrol van Elgar se The Dream of Gerontius. Laasgenoemde het hy in 1931 begin sing onder die komponis se leiding, en in 1945 in die eerste volledige opname van die werk onder Malcolm Sargent.

Nasionale Simfonie-orkes, Amerikaanse orkes wat in 1931 deur Hans Kindler gestig is. Onder hul bekende dirigente het getel Antal Doráti (1970-6), Mstislaf Rostropowitsj (1977-94) en sedert 1996 Leonard Slatkin. In 1990 het die orkes ‘n Russiese toer onder Rostropowitsj onderneem.

Nasionale Simfonie-orkes van Ierland, in 1947 as deel van die Ierse radio- en televisiedienste gestig en die RTE (Radio Telefís éireann) Simfonie-orkes genoem. Hulle het internasionale bekendheid verwerf met hul deelname aan die Wexford Operafees. Die huidige naam is in 1990 verkry, en sedertdien is die orkes aktief in die bevordering van moderne en Ierse musiek. Hul konsertsaal is in Dublin geleë.

Nasionale Simfonie-orkes van die Oekraïne, in 1937 as die Oekraïnse Staatsimfonie-orkes gestig. Tydens die Sowjet-era het die orkes met sulke groot komponiste soos Khatsjatoerian, Prokofief en Sjostakowitsj saamgewerk. In 1994 is die huidige naam verkry en het Theodore Kuchar die hoofdirigent geword.

Navarra, André (1911-88), Franse tjellis. Terwyl hy lid van ‘n strykkwartet was, het hy in 1931 sy debuut as solis in Parys gemaak. Daarna het hy wêreldwyd met orkeste opgetree. In 1950 is sy Britse debuut onder John Barbirolli gemaak met Elgar se tjellokonsert, ‘n werk waarvan hy sewe jaar later onder dieselfde dirigent ‘n klassieke opname gemaak het. Hy het in 1960 by die Salzburg-fees gedebuteer en twee jaar later die eerste uitvoering van Jolivet se tjellokonsert gegee. Daarbenewens was hy 'n leermeester in Frankryk, Duitsland en Italië, onder meer as hoogleraar aan die Parys Konserwatorium (vanaf 1949) en in Siena (1954-88). Verdere opnames: Bloch se Schelomo; Dvorák en Schumann se tjellokonserte; Respighi se Adagio con variazioni; tjellosonates van Boccherini, Locatelli en Valentini; en solowerke van Falla, Granados en Nin.

Navarro, Garcia (1941-), Spaanse dirigent. Hy het in 1967 die eerste prys in die Besancon-dirigeerkompetisie gewen. Daarna was hy musiekdirekteur van die Valencia Simfonie-orkes (1970-4), assistent-dirigent van die Noordhollandse Filharmoniese Orkes in Haarlem (1974-8), en musiekdirekteur van die Portugese Radio Simfonie-orkes (1976-8) en die Lissabon Nasionale Opera (1980-2). Hy het in 1978 die Londense Simfonie-orkes en die Ambrosian Singers in ‘n voortreflike opname van sy landgenoot Falla se opera La vida breve gedirigeer. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1979) en die Salzburg-fees (1983). Sedert 1987 is hy algemene musiekdirekteur van die Stuttgart Staatsteater.

NBC Simfonie-orkes, Amerikaanse uitsaai-orkes wat in 1937 spesiaal vir Arturo Toscanini geskep is. Saam het hulle vele opnames gemaak, en met sy uittrede in 1954 is die orkes se naam verander na die ‘Symphony of the Air’. Onder dié naam het hulle vir nog ‘n dekade voortgespeel, met bekende dirigente soos Leopold Stokowski en Alfred Wallenstein.

Neary, Martin (1940-), Engelse orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy was aanvanklik orrelis van die Sint Margaretkerk, Westminster (1965-71) en hoogleraar in orrel aan die Trinity Musiekkollege in Londen (1963-72). Daarna was hy orrelis van die Winchester Katedraal en direkteur van die Suidelike Katedralefees (beide poste 1972-87). Sedert 1988 is hy orrelis van die Westminster Abdy, waar hy in 1994 ‘n uitvoering gegee het van begrafnismusiek wat Purcell en ander Britse komponiste drie eeue tevore vir die afsterwe van Koningin Mary II geskryf het. Daarbenewens het hy die eerste uitvoerings van Tavener se Ultimos Ritos (1979) en Harvey se Passion and Resurrection (1981) gedirigeer. Hy het ook ‘n aantal orrelwerke geredigeer. Sleutelopname: Purcell se Funeral Music for Queen Mary. Verdere opnames: Honegger se Kersfeeskantate; Poulenc se Mis in G; en Tavener se The Akathist of Thanksgiving, Annunciation, 2 Hymns to the Mother of God, Innocence, Little Requiem for Father Malachy Lynch en Song for Athene.

Neblett, Carol (1946-), Amerikaanse sopraan. Sy het eers as solis met die Roger Wagner Koor getoer, en in 1969 is haar operadebuut by die New York Stadsopera gemaak, as Musetta in La Bohème. Verdere debute het gevolg in Chicago (1975), Wenen en die Salzburg-fees (beide in 1976), Covent Garden (1977) en die Metropolitan Opera (1979). Onder haar verdere rolle tel Dido in Les Troyens, Marietta in Die tote Stadt en Minnie in La Fanciulla del West. Sy het in hoogstaande opnames van laasgenoemde twee operas gesing.

Nederlandse Filharmoniese Orkes, wat in 1986 tot stand gekom het toe die Amsterdam Filharmoniese Orkes, die Utrecht Simfonie-orkes en die Nederlandse Kamerorkes saamgesmelt het. Hul spog met ‘n ensemble van 130 spelers, wat dit die grootste orkes in die land maak. Die hoofdirigent is tans Jakow Kreizberg.

Neel, Boyd (1905-81), Brits-gebore dirigent. Hy het aanvanklik as vlootoffisier en geneesheer gekwalifiseer, maar het ‘n musiekloopbaan begin volg en in 1933 die strykorkes gestig wat na hom vernoem is. Hulle het wêreldbekend geraak vir hul uitvoerings van strykermusiek uit die Barokera. Daarby het hulle in 1936 die eerste opname van Vaughan Williams se Fantasia on a theme of Thomas Tallis in die komponis se teenwoordigheid gemaak. In die jaar daarop is hul debuut by die Salzburg-fees gemaak, met die eerste uitvoering van Britten se Variations on a theme of Frank Bridge. Later was hy dirigent van die Robert Mayer Kinderkonserte (1946-52), dekaan van die Toronto Koninklike Konserwatorium (1953-70) en dirigent van die Missisauga Simfonie-orkes (1971-8). Intussen is die CBE in 1953 aan hom toegeken. In 1957 is sy orkes tot die Londense Philomusica hernoem en vier jaar later het hy ‘n Kanadese burger geword. Verdere opnames: die genoemde werk van Britten, en sy Simple symphony (beide 1938); Leigh se Concertino vir klavier en strykorkes (met die pianis Kathleen Long, 1946).

Neidlinger, Gustav (1912-91), Duitse bas-bariton. Nadat hy in 1931 sy operadebuut in Mainz gemaak het, was hy verbonde aan operahuise in Hamburg (1936-50) en Stuttgart (vanaf 1950). Hy het verder gedebuteer by die Salzburg-fees (1952), Covent Garden (1963) en die Metropolitan Opera (1972). In 1953 het hy uitgeblink as Alberich in ‘n historiese Roomse opname van Wagner se Ring-siklus onder Wilhelm Furtwängler. Vanaf 1952 tot 1975 het hy gereeld by die Bayreuth-fees gesing, waar hy naam gemaak het as Alberich en as Klingsor in Parsifal. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Klemperer, op DVD); die Ring-siklus (onder Karl Böhm, 1967) en Parsifal (onder Hans Knappertsbusch, 1962).

Nel, Anton (1961-), Suid-Afrikaanse pianis. Op twaalfjarige leeftyd het hy met ‘n Beethoven-konsert gedebuteer, na slegs twee jaar van klavierlesse. Hy het later aan die universiteite van die Witwatersrand en Cincinatti studeer, en was ‘n pryswenner in die Pretoria-kompetisie (1982) en die internasionale kompetisie in Leeds (1984). Sy deurbraak het gekom toe hy die internasionale Naumberg-kompetisie in 1987 gewen het. Sedertdien tree hy wêreldwyd in konserte en voordragte op, asook met die Cleveland en Cavani strykkwartette en vele ander musici. Hy is ‘n hoogleraar in klavier en kamermusiek aan die Universiteit van Texas in Austin. Opnames: Saint-Saëns se Karnaval van die Diere; die volledige werke vir vier hande van Rodrigo (met Gregory Allen); en solowerke van Haydn en Saint-Saëns.

Nel, Werner (?-), Duits-gebore bariton. Hy het in 1948 as jong seun na Suid-Afrika geëmigreer, waar musiekstudies en sangopleiding later aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad onderneem is. In 1969 is hy met twee beurse terug na Duitsland om aan die München Konserwatorium onder Hanno Blaschke te studeer. Hy het in die jaar daarop die internasionale sangkompetisie in s’Hertogenbosch gewen, en in 1971 ook die Felix Mendelssohn-sangprys in Berlyn. Vanaf dié jaar was hy ‘n lid van die Gelsenkirchen Opera, en het hy in konserte en radio-uitsendings elders in Duitsland opgetree. In 1974 het hy na Suid-Afrika teruggekeer, en is hy as dosent aan die Potchefstroomse Universiteit aangestel. As bekende liedere- en konsertsanger blink hy veral uit in die groot liedere-siklusse van Schubert en Brahms. Hy het in 1987 ‘n Artes-toekenning ontvang vir sy opname van Brahms se Die schöne Magelone. Met Albie van Schalkwyk as klavierbegeleier het hy ‘n 1994 ‘n opname van liedere deur Beethoven, Loewe en Schubert gemaak. Ook as operasanger het hy hoofrolle in ‘n hele aantal operas vertolk. In 1996 was hy ‘n jurielid tydens die internasionale sangkompetisie in München. Hy was tot 2010 ‘n hoogleraar in sangstudies aan die Potchefstroomse Universiteit, en verder bied hy meesterklasse in Suid-Afrika en Namibië aan.

Nelli, Herva (1909-94), Italiaans-gebore Amerikaanse sopraan. Sy het op twaalfjarige leeftyd met haar ouers na die VSA geëmigreer, waar sy in Pittsburgh opgelei is. In 1946 het sy by die Brooklyn Akademie gesing en vir die volgende seisoen met die La Scala-geselskap van Philadelphia. Met haar suiwer stem en sekure sang was sy uitmuntend in Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Die sopraan Licia Albanese het haar aan Toscanini voorgestel, wat haar sonder versuim as Desdemona in ‘n konsertuitvoering van Otello laat sing het. Sy het die maestro se gunsteling-sopraan geword en in verskeie van sy opnames deelgeneem, waaronder Aida (in die titelrol), Un ballo in maschera (as Amelia), Falstaff (as Miss Page) en Otello (as Desdemona). Sy het in 1948 in Italië gaan sing, onder andere as Aida by La Scala. In 1953 het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waar sy vir die volgende agt jaar in ‘n verskeidenheid rolle sou sing. Daarby het sy Verdi-rolle in Chicago, New Orleans en San Francisco gesing.

Nelson, John (1941-), Amerikaanse dirigent. Hy het in 1972 ‘n konsertweergawe van Berlioz se Les Troyens in New York gedirigeer. Later in dieselfde jaar is sy verhoogdebuut by die New York Stadsopera met Carmen gemaak. Sy debuut by die Metropolitan Opera het in 1973 gevolg, en in dieselfde jaar het hy die Amerikaanse première van Britten se Owen Wingrave in Santa Fè gedirigeer. Later was hy musiekdirekteur van die Indianapolis Simfonie-orkes (1977-88) en die Sint Louis Opera (1985-92). Met die Ensemble Orchestral de Paris het hy Beethoven se volledige simfonieë in stylvolle vertolkings opgeneem. Sleutelopname: Handel se opera Semele (Londen). Verdere opnames: Berlioz se operas Béatrice et Bénédict en Benvenuto Cellini; Górecki se koorwerke Miserere, Amen en Euntes ibant et flebant; en Mozart se opera Béatrice et Bénédict.

Nelson, Judith (1939-), Amerikaanse sopraan. Sy het haar operadebuut in 1976 in Berkeley gemaak, as Roberto in A. Scarlatti se Griselda. Dit is drie jaar later gevolg deur haar Europese debuut in Brussels. Haar bekendheid lê merendeels in vroeë musiek, insluitend gewyde werke en opera. Opnames: Bach se Mis in B mineur; Campra se Requiem; Cavalli se opera Xerse; koorwerke van Cesti; motette van M. Charpentier en L. Couperin; duette en kantates van Handel (met die kontratenoor René Jacobs), Alceste geleentheidsmusiek, Anthem for the Foundling Hospital, Ode for the birthday of Queen Anne, Apollo e Dafne en La Resurrezione; enkele misse van Haydn; Locke se The Tempest; Purcell se Don Quixote geleentheidsmusiek, en sy operas Dido and Aeneas (in die rol van Belinda) en The Fairy Queen; 5 sekulêre kantates van Barbara Strozzi (begelei deur Christie, Coin en Hutchinson); Vivaldi se Gloria; en 'n versameling Italiaanse orkeslied-duette uit die sewentiende eeu (met Emma Kirkby).

Nelsson, Woldemar (1938-), Russies-gebore dirigent. Ná studies aan die konserwatoriums in Moskou en Leningrad (tans Sint Petersburg) het hy in 1971 die Moskou dirigeerkompetisie gewen en assistent vir Kiril Kondrasjin by die Moskou Filharmoniese Orkes geword. In 1977 het hy na Duitsland geëmigreer, waar hy twee jaar later in Stuttgart die eerste uitvoering van Henze se ballet Orpheus gedirigeer het. Vanaf 1980 het hy vir ‘n hele aantal seisoene by die Bayreuth-fees opgetree. Daar het hy in 1985 ‘n uitmuntende opvoering van Der fliegende Holländer gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Terselfdertyd was hy musiekdirekteur van die Kassel Staatsteater (1980-7). In 1986 het hy die première van Penderecki se opera Die schwarze Maske by die Salzburg-fees gedirigeer.

Nesterenko, Jewgeni (1938-), Russiese bas. Hy het in 1963 sy debuut by die Maly Opera gemaak as Gremin in Jewgeni Onegin, en agt jaar later het hy by die Bolsjoi Teater aangesluit. Daarna het hy bekend geraak in die Weste, veral in die titelrol van Boris Godoenof wat hy gesing het met sy debute by La Scala (1973), Wenen (1974), die Metropolitan Opera (1975) en Covent Garden (1978). Hy is verder begaafd as die Waterdwerg in Rusalka, Ruslan in Ruslan en Ludmilla, Colline in La Bohème, Salieri in Mozart en Salieri, Zaccaria in Nabucco en Ferrando in Il Trovatore. Hy het die eerste uitvoerings van drie van Sjostakowitsj se liedere-siklusse gegee, en is ‘n bekende solis in dié komponis se veertiende simfonie. Daarby is hy ‘n hoogleraar in sang aan die Tsjaikofski Konserwatorium in Moskou. Sleutelopnames: Verdi se Requiem (onder Muti, 1979) en Nabucco (onder Sinopoli). Verdere opnames: die genoemde operas van Dvorák, Glinka, Moessorgski, Puccini, Rimski-Korsakof en Verdi.

Netrebko, Anna (1971-), Russiese sopraan. Terwyl sy ‘n student aan die Sint Petersburg Konserwatorium was, het sy as skoonmaker by die plaaslike Marijinsky Teater gewerk. Later het sy ‘n oudisie by die Marijinsky gewen en sangafrigting van Walery Gergijef ontvang. Sy het by die Kirof Opera aangesluit, waar sy as Susanna in Le nozze di Figaro gedebuteer het. Daar sou sy ook koloratuurrolle sing soos Amina in La Sonnambula, Pamina in Die Zauberflöte, Rosina in Il barbiere di Siviglia en die titelrol in Lucia di Lammermoor. Haar Amerikaanse debuut is in 1995 by die San Francisco gemaak, as Ludmila in Glinka se Ruslan en Ludmila. In 2002 is haar debuut by die Metropolitan Opera gemaak, as Natasja in die huispremière van Prokofiëf se Oorlog en Vrede. Later in dieselfde jaar het sy vir die eerste keer Donna Anna in Don Giovanni gesing, by die Salzburg-fees onder Nicolaus Harnoncourt. Met haar kragtige, suiwer sang en aantreklike voorkoms verskyn sy by van die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa en Noord-Amerika. Sy sing in minstens nege tale, met ‘n bekendheid wat veral in Russiese operarolle lê. In 2006 het sy ‘n Oostenrykse burger geword. Haar konsertdebuut in New York is in die jaar daarop met die groot bariton Dimitri Hworostowski gemaak. Hulle het voorts in 2013 saam 'n konsert van Italiaanse opera-arias en -duette op die Rooi Plein in Moskou gegee, wat gelukkig verfilm is. Sleutelopname: Ruslan en Ludmila (onder Gergijef, op DVD). Verdere opnames: die opera I Capuletti ed i Montecchi (as Giuletta); 'n versameling arias en liedere (onder Emmanuel Villaume); en 'n versameling duette met Rolando Villazon (onder Nicola Luisotti).

Neuhold, Günter (1947-), Oostenrykse dirigent. Hy het in 1969 ‘n meestersgraad aan die Graz Konserwatorium verwerf. Daarna het gevorderde dirigeerstudies onder Franco Ferrara in Rome en Hans Swarowsky in Wenen gevolg. Vanaf 1972 tot 1980 was hy aan verskeie Duitse operahuise verbonde, insluitend Hannover en Dortmund. Hy het in dié tyd ‘n aantal pryse in dirigeerkompetisies in Florence, San Remo, Wenen, Salzburg en Milaan gewen. Sedertdien volg hy ‘n internasionale loopbaan, aanvanklik as musiekdirekteur van die Teatro Regio in Parma (1981-86). Daar het hy merendeels Verdi-operas gedirigeer en was hy ook hoofdirigent van die Arturo Toscanini Simfonie-orkes. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Vlaamse Koninklike Filharmoniese Orkes in Antwerpen (1986-90). Met hulle het hy deur Duitsland, Italië, Brittanje en Frankryk getoer. Hy was vanaf 1989 tot 1995 musiekdirekteur van die Baden Staatsteater in Karlsruhe, waar hy ‘n Richard Strauss-siklus asook Wagner se Der Ring des Nibelungen opgevoer het. ‘n Voortreflike DVD-opname is van laasgenoemde siklus gemaak. Daarna was hy musiekdirekteur van die Bremen Teater (1995-2002). As gasdirigent tree hy wêreldwyd met orkeste, in operas en by musiekfeeste op, insluitend die Salzburg-fees (1978-86). Onder sy verdere opnames tel die oorspronklike La Scala-weergawe van Madama Butterfly (in Bremen).

Neumann, Václav (1920-95), Tsjeggiese violis en dirigent. Aanvanklik (vanaf 1945) was hy 'n violis in die Smetana Kwartet en eerste violis in die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes. Hy het in 1948 ‘n assistent-dirigent van laasgenoemde geword. Daarna was hy dirigent van die Praag Simfonie-orkes (1956-63) en die Berlynse Komiese Opera (1956-64), en musiekdirekteur van die Leipzig Opera (1964-67). Daarna was hy vanaf 1968 tot 1989 hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes, met wie hy wêreldbekend geraak het in die musiek van Dvorák en Mahler. Hy was vanaf 1969 vir drie jaar ook musiekdirekteur van die Stuttgart Opera, met verdere debute wat sou volg by die Salzburg-fees (1971) en die Metropolitan Opera (1985). By die Weense Staatsopera het hy in 1987 die eerste Weense opvoering van Dvorák se Rusalka gedirigeer, 85 jaar na die beplande première (met ‘n opname wat gemaak is). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Dvorák en Martinu; Bruckner se eerste simfonie; Dvorák se volledige Slawoniese Danse; en die operas Rusalka (in Praag) en Ariane.

Neveu, Ginette (1919-49), Franse violis. Sy het in 1926 haar debuut met die Colonne Orkes in Parys gemaak en nege jaar later die Wieniafski-prys tydens die internasionale kompetisie in Warskou gewen. Verdere debute het gevolg in die VSA (1935) en Brittanje (1945). Haar briljante loopbaan is deur ‘n vliegongeluk kortgeknip, maar sy kon gelukkig historiese opnames van Brahms en Sibelius se vioolkonserte nalaat. Verdere opnames: R. Strauss se vioolsonate; Ravel se Tzigane en Suk se 4 Stukke vir viool en klavier (in beide begelei deur haar broer Jean, 1946).

New York Filharmoniese Orkes, die oudste simfonie-orkes in die VSA wat in 1842 as die Filharmoniese Vereniging van New York gestig is. Tydens die eerste halfeeu van die orkes se bestaan is hul deur musici van Duitse afkoms wat ‘n leidende rol in die Amerikaanse musieklewe gespeel het, soos Leopold Damrosch en Theodore Thomas, gedirigeer. Daardeur is hulle deeglik in die Duitse repertorium begrond, ‘n tradisie wat voortgesit is onder die komponis Gustav Mahler wat die orkes vanaf 1909 tot sy dood slegs twee jaar later gedirigeer het. Hy is as hoofdirigent opgevolg deur Josef Stransky (1911-21) en Willem Mengelberg (1921-30). In 1928 het die orkes met die New York Simfonie-orkes saamgesmelt om die New York Filharmoniese Simfonie-orkes te vorm, maar die eenvoudiger titel word gebruik. Hul hoofdirigente sedertdien het ingesluit Arturo Toscanini (1928-36, aanvanklik gedeel met Mengelberg), John Barbirolli (1936-42), Artur Rodzinski (1943-47), Bruno Walter (1947-9), Dimitri Mitropoulos (1950-8), Leonard Bernstein (1958-69), Pierre Boulez (1971-7), Zubin Mehta (1978-91), Kurt Masur (1991-2002) en Lorin Maazel (sedert 2002). In die lig van die orkes se persoonlike verbintenis met Mahler is dit straks nie verbasend dat hulle met ‘n verskeidenheid dirigente ‘n pioniersrol gespeel het in die popularisering van die groot laat-Romantikus se musiek nie. In 1982 het die orkes vir hul 10 000ste konsert heel gepas ‘n uitvoering van Mahler se tweede simfonie onder Mehta gegee, met ‘n opname wat gemaak is.

New York Stadsopera, in 1943 gestig met Tosca as die eerste opvoering vroeg in die volgende jaar. Die eerste musiekdirekteur was Lazslo Halász (tot 1951), en hy is opgevolg deur onder andere Joseph Rosenstock (1952-5), Erich Leinsdorf (1956/7), Julius Rudel (1957-79) en Christopher Keene (1983-6). Sedert 1966 word hulle in die Lincoln-Sentrum gehuisves. Talle onbekende en moderne operas is daar opgevoer, en sulke bekende sangers soos Plácido Domingo, Samuel Ramey, Beverly Sills en Carol Vaness het hul professionele loopbane daar afgeskop.

NHK Simfonie-orkes, Japannese simfonie-orkes wat in Tokio gebaseer is. Die ensemble is in 1926 gestig en het tot 1951 as die Nuwe Simfonie-orkes bekendgestaan. Vanuit die staanspoor was hulle instrumenteel in die bevordering van werke deur Japannese komponiste. Onder die premières waarin die orkes gespeel het, tel Mayuzumi se Mandara Simfonie (1960), Penderecki se Concerto grosso (2001) en MacMillan se derde simfonie (2003). ‘n Nuwe konsertsaal is in 1973 ingewy. Sedert 1998 is Charles Dutoit hul musiekdirekteur.

Nicolaus Esterházy Sinfonia, Hongaarse kamerorkes wat in 1992 vanuit lede van die Hongaarse Staatsimfonie-Orkes gestig is. Hulle spesialiseer in Barok- en Klassieke werke, met die fluitspeler Béla Drahos as dirigent. ‘n Aantal lede van die ensemble het al as soliste in opnames van konserte opgetree.

Nicholson, Sydney (1875-1947), Engelse orrelis en komponis. Hy was orrelis van Carlisle Katedraal (1904-8), Manchester Katedraal (1908-18) en Westminster Abdy (1918-27). In 1927 het hy die Skool vir Engelse Kerkmusiek gestig, waarvan hy tot sy dood die hoof was en wat sedert 1945 as die Koninklike Skool vir Kerkmusiek bekendstaan. In 1938 is hy tot ridder gestaan.

Nicolet, Aurèle (1926-), Switserse fluitspeler. Nadat hy in 1948 die fluitprys by die Geneefse internasionale kompetisie gewen het, was hy eerste fluitspeler in die Winterthur Orkes (1948-50) en die Berlynse Filharmoniese orkes (1950-9). In 1958 het hy as solis by die Salzburg-fees gedebuteer, en vanaf 1953 tot 1965 was hy ‘n hoogleraar in fluit aan die Berlynse Konserwatorium. Werke is vir hom geskryf deur komponiste soos Ligeti en Takemitsu, maar hy is ook ‘n begaafde vertolker van die Klassieke repertorium. Opnames: Honegger se Concerto da camera (met Heinz Holliger) en Petite suite (met Holliger en John Constable); Martin se Pièce breve (met Heinz en Ursula Holliger); Mozart se twee fluitkonserte, Kwintet vir klavier en houtblasers en Adagio en rondo (laasgenoemde met Bruno Hoffmann, Heinz Holliger en andere); en Schubert se Inleiding en variasies vir fluit en klavier.

Niquet, Herve (1957-), Franse dirigent – sien Le Concert Spirituel.

Nielsen, Inga (1946-2008), Deense sopraan. Reeds as negejarige het sy in ‘n opname van Deense volks- en Kersliedere gesing. Sy het later in Wenen, Stuttgart en Boedapest gaan studeer, en in 1971 is haar operadebuut in Gelsenkirchen gemaak as Laura in Der BettelstudentVanaf 1975 tot was sy ‘n lid van die Frankfurt Opera. Vervolgens is sy na die VSA, waar haar debuut in 1980 by die New York Stadsopera gemaak is as Adele in Die Fledermaus. As gaskunstenaar het sy gedurende die 1980's en 1990's by van die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa en die Amerika’s opgetree. Onder haar beste rolle het getel Leonore in Fidelio, Ursula in Mathis der Maler, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, die Keiserin in Die Frau ohne Schatten, Chrysothemis in Elektra, die Marschallin in Der Rosenkavalier, Dame Macbeth in Macbeth, Elsa in Lohengrin, Agathe in Der Freischütz, Jenny in Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny, en die titelrolle in Tosca, Salome en Der Geburtstag der Infantin. Die titel van Ridderkorset is in 1992 deur Koningin Margarethe van Denemarke aan haar toegeken. Sy was ook 'n besoekende hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie in Aarhus en het wyd meesterklasse gegee. Haar afskeidskonsert is in 2006 in Tivoli gegee, ná 'n professionele loopbaan van 35 jaar. Sy was getroud met die Amerikaanse sanger Robert Hale, van wie sy in 2005 geskei is, en is in Kopenhagen aan 'n beroerte oorlede. Opnames: Schumann se kantate Der Rose Pilgerfahrt (onder Kuhn); die genoemde operas van Beethoven en Zemlinsky, asook Salome.

Nieu-Seelandse Simfonie-orkes, in 1946 as deel van die land se uitsaaidienste gestig. In 1988 het hulle deels selfregerend geword en in 1990 is Franz-Paul Decker as hoofdirigent aangestel. Die orkes het oor die jare heen met sulke bekende musici soos die komponis Igor Strawinski en die sopraan Kiri te Kanawa saamgewerk.

Nikisch, Arthur (1855-1922), Hongaars-gebore Duitse dirigent, violis en pianis. Hy het as wonderkind klavier gespeel en in 1872 as violis in die orkes tydens die hoeksteenlegging van die Bayreuth Teater opgetree. Ná studies in Wenen was hy ‘n violis in die Weense Hoforkes (1874-7), waartydens hy sou speel onder die komponiste Brahms, Bruckner, Liszt en Wagner. Vervolgens het die impresario Angelo Neumann hom as koormeester van die Leipzig Opera gewerf, waar sy dirigeerdebuut in 1878 gemaak is. Vanaf 1879 was hy vir tien jaar hoofdirigent van die Leipzig Opera, met die komponis Mahler vir ‘n tyd as sy assistent. Vervolgens het hy die Boston Simfonie-orkes gedirigeer (1889-93) en was hy direkteur van die Koninklike Opera in Boedapest (1893-5). Vanaf 1895 tot sy dood was hy hoofdirigent van beide die Leipzig Gewandhaus Orkes en die Berlynse Filharmoniese Orkes, met wie hy wyd getoer het. Daarbenewens was hy ‘n gereelde gasdirigent in Brittanje en die VSA, onder andere by Covent Garden vanaf 1907. In 1912 het hy ook hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes geword en hul op hul eerste toer deur die VSA gelei. Hy het in 1913 die eerste uitvoering van Butterworth se Shropshire Lad in Leeds gedirigeer. Met sy Berlynse orkes het hy in dieselfde jaar die eerste volledige opname van ‘n simfonie (Beethoven se vyfde) gemaak. As Duitsland se eerste groot dirigent wat nie gekomponeer het nie, was hy veral beroemd vir sy presiese, intense vertolkings van Bruckner en Tsjaikofski. Sy dirigeerstyl was ingetoë, maar hy het nogtans ‘n hipnotiese uitwerking op sy spelers en gehore gehad. As begaafde klavierbegeleier het hy dikwels met sy leerling, die sopraan Elena Gerhardt, in haar liedere-voordragte en -opnames opgetree.

Nikolajewa, Tatjana (1924-93), Russiese pianis en komponis. Sy het in 1950 die eerste prys by die eerste internasionale Bach-kompetisie, wat met die tweehonderdjarige Bach-viering in Leipzig saamgeval het, gewen. Daardeur het sy haar landgenoot Sjostakowitsj, wat as jurielid gedien het, geïnspireer om sy 24 Preludes en fugas in navolging van die Barokreus vir haar te skryf. Met haar besondere kontrapuntale helderheid het sy in 1952 die eerste uitvoering daarvan gegee. Sy sou nie minder nie as drie volledige siklusse daarvan opneem (in 1962, 1987 en 1991), waarvan die eerste as die beste vertolking beskou word. Daarby het sy vanaf 1959 onderrig aan die Moskou Konserwatorium gegee, waar sy vanaf 1965 ‘n hoogleraar was. Erkenning in die Weste het eers laat in haar loopbaan gekom, met ‘n Britse debuut in 1984 in Leeds toe sy ‘n jurielid van die klavierkompetisie daar was. Sy het twee jaar later in Londen gedebuteer en in 1987 ook by die Salzburg-fees. Tydens haar Salzburg-debuut is ‘n opname van solowerke deur Bach, Beethoven en Sjostakowitsj gemaak. In die jaar voor haar afsterwe het sy in ‘n beeldopname van die genoemde Sjostakowitsj-werk gespeel. Onder haar eie komposisies tel ‘n klaviertrio (opus 18). Sleutelopname: Sjostakowitsj se 24 Preludes en fugas (1987). Verdere opnames: die eerste klavierkonsert van Tsjaikofski; die volledige klaviersonates van Beethoven; verskeie solowerke van Prokofiëf, Schumann en Sjostakowitsj; en haar eie klavierverwerking van Prokofiëf se Pieter en die Wolf.

Nilsson, Birgit (1918-2005), Sweedse sopraan. Sy het op ‘n plaas grootgeword en op 19 aan die Koninklike Musiekakademie in Stockholm begin studeer. Haar debuut is in 1946 in die Sweedse hoofstad as Agathe in Der Freischütz gemaak. Vanaf 1947 het sy vir vier jaar by die Stockholm Koninklike Opera in rolle van veral Puccini, Richard Strauss, Verdi en Wagner verskyn. Sy het vanaf die vroeë 1950’s internasionaal gesing, met debute by die feeste in Glyndebourne (1951) en Bayreuth (1954). Laasgenoemde was as Elsa in Lohengrin. In 1955 het sy die rol van Brünnhilde in die Ring-siklus in München gesing, wat stellig haar beste rol sou word. Daarna het sy gedebuteer in San Francisco (1956), by Covent Garden (1957) en die Metropolitan Opera (1959). Met haar besonder kragtige, suiwer stem het sy ná Kirsten Flagstad se uittrede in 1953 wêreldberoemd geraak as die voorste Wagner-sopraan van haar tyd, veral as Brünnhilde en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Sy het beide rolle gesing in uitstekende opnames onder sowel Solti as Böhm. Daarby was sy meesterlik in die titelrolle van Salome, Elektra en Aida, en begaafd as Leonore in Fidelio, Dame Macbeth in Macbeth, Sieglinde in Die Walküre, en Rezia in Oberon.

In 1958 het Nilsson by La Scala naam gemaak met haar vertolking van die titelrol in Turandot, wat een van haar beste rolle sou word. By die Met sou sy dikwels teenoor die legendariese Franco Corelli in dié opera sing, wanneer hulle gewedywer het om te sien wie die hoë noot aan die einde van die liefdesduet die langste kon volhou. In een geval waarin sy hom geklop het, in 1961, het die temperamentele tenoor haar in die nek gebyt dat die bloed loop. Alombekend vir haar humorsin, het sy by die bestuurder van die Met daarop aangedring om vir hondsdolheid getoets te word. Selfs Herbert von Karajan sou onder haar streke deurloop toe sy tydens inoefeninge vir Die Walküre by die Met in 1967 met ‘n mynwerkershelm opgedaag het. Die lig daarop, het sy verduidelik, is genoodsaak deur Karajan se voorliefde vir dowwe beligting. In 1968 het sy haar eerste Paryse verskyning as Turandot gemaak, en in dieselfde jaar is die Sweedse Medalje vir die Bevordering van Musiek aan haar toegeken. Tydens die inwyding van die Sydney Opera se nuwe konsertsaal in 1973 was sy ‘n solis onder die dirigeerstaf van Charles Mackerras. Sy het in 1984 uitgetree. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie en Egmont-musiek (beide onder Klemperer); liedere van Grieg; die genoemde operas van Beethoven, Puccini, Richard Strauss, Verdi, Wagner en Weber; en die Liebestod in Tristan und Isolde (onder Knappertsbusch, op DVD).

Nimsgern, Siegmund (1940-), Duitse bas-bariton. Hy het in 1967 sy operadebuut in Saarbrücken gemaak as Lionel in Die Meisie van Orleans, en oor die volgende vier jaar verskeie sangkompetisies in Keulen, München, Berlyn en elders gewen. Nadat hy in 1970 by die Salzburg-fees gedebuteer het, was hy ‘n lid van die Saarbrücken Opera (1971-4) en daarna van die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1973), San Francisco (1974) en die Metropolitan Opera (1978). As begaafde Wagner-sanger het hy vanaf 1983 vir drie seisoene by die Bayreuth-fees die rol van Wotan in die Ring gesing. Hy blink ook uit in rolle soos die titelrol in Bloubaard se Kasteel, Tristan in Martha, Uberto in La serva padrona, die titelrol in Der Vampyr, Michele in Il Tabarro, Farao in Mosè in Egitto, Telramund in Lohengrin en Klingsor in Parsifal. Daarby is hy ‘n begaafde konsertsanger in die musiek van sulke uiteenlopende komponiste soos Bach en Schoenberg. Opnames: ‘n aantal kantates van Bach, en sy Kersfeesoratorium; Braunfels se Verkündigung (as Andreas Gradherz); Lully se komedie-ballet Le bourgeois gentilhomme; Schoenberg se Gurrelieder, Die Jakobsleiter en Die glückliche Hande; en die laasgenoemde sewe operas van Bartók, Flotow, Pergolesi, Puccini, Rossini en Wagner.

Nishizaki, Takako (1944-), Japannese violis. As jong kind het sy studeer onder haar vader, wat ‘n medestigter van die bekende Suzuki-metode was, en onder Suzuki self. Sy was die eerste student om die kursus te voltooi en het op nege jaar reeds ‘n onderwysersdiploma verwerf. In dié tyd het sy vir bekende musici soos Malcolm Sargent en Isaac Stern gespeel. Daarna het sy aan die Toho Konserwatorium in Tokio studeer, en in 1964 is sy na die VSA vir verdere studies aan die Yale Universiteit en die Juilliard Musiekskool. Sy het in 1967 ‘n tweede prys in die internasionale Leventritt-kompetisie gewen (na Itzhak Perlman), en twee jaar later die eerste prys in die Juilliard-kompetisie. Sedertdien tree sy wêreldwyd as solis en in kamermusiek op, met bekendes soos András Schiff, Jenö Jandó, Nobuko Imai, Maria Kliegel en Pinchas Zukerman as vennote. In 1974 het sy in Hongkong gaan woon, waar sy getrou het met Klaus Heymann, stigter van die Naxos platemaatskappy. Hul seun Henryk is na die komponis Wieniawski vernoem. Vir haar bydrae om Sjinese musiek wêreldwyd te bevorder is etlike toekennings aan haar gemaak, waaronder een van die Sjinese Vereniging van Musici in 1998. Die Sjinese staatstelevisie het al verskeie programme oor haar gebeeldsend. Sy is een van die topverkopers onder violiste van alle tye. Só het haar opname van die Butterfly Lovers Concerto van He en Chen al meer as 3 miljoen kopieë verkoop, en van Vivaldi se Vier Seisoene bykans ‘n miljoen. Verdere opnames: vioolkonserte van Beethoven, Beriot, Mendelssohn, Saint-Georges, Spohr en Tsjaikofski; die volledige vioolsonates van Beethoven (met Jandó); Breiner se Songs and Dances fom the Silk Road (onder Judd); en Tsjaikofski se Seisoene, Chanson triste, Danse russe en Rêverie interrompte (almal vir viool en orkes verwerk deur Peter Breiner, wat dirigeer).

Noble, Dennis (1899-1966), Engelse bariton. Hy is as koorsanger in Bristol opgelei en het in 1924 sy operadebuut by Covent Garden gemaak. By dié beroemde operahuis het hy gereeld tot 1938 en weer in 1947 gesing, naas optredes in die VSA en Italië. Intussen het hy in 1931 in die eerste uitvoering van Walton se Belshazzar's Feast in Leeds gesing, met ‘n opname onder die komponis self waarin hy steeds as ongeëwenaard beskou word. Veertien jaar later het hy in die eerste opname van Elgar se The Dream of Gerontius onder Malcolm Sargent opgetree.

Noord-Duitse Radio Simfonie-orkes, wat in 1945 deur Hans Schmidt-Isserstedt as die Hamburg Radio-orkes gestig is. Ses jaar later het hul die huidige naam verkry. Schmidt-Isserstedt sou tot 1971 die hoofdirigent wees, wat die orkes op toere deur die Sowjet-Unie, Brittanje en die VSA gelei het. Hulle het in 1954 die première (in ‘n konsertweergawe) van Schoenberg se Moses und Aron gegee. Latere hoofdirigente het ingesluit Moshe Atzmon (1972-9), Klaus Tennstedt (1979-82), Günter Wand (1982-91) en John Eliot Gardiner (sedert 1991).

Noordelike Sinfonia, Britse orkes wat in 1958 gestig is en drie jaar later die eerste permanente kamerorkes van dié land geword het. Hulle is in Newcastle gebaseer. Die eerste dirigent was Michael Hall (1958-64), en hy is opgevolg deur Rudolf Schwarz (1964-73), Christopher Seaman (1973-9), Tamás Vasáry en Ivan Fischer (1979-82), Richard Hickox (1982-90), Heinrich Schiff (1990-6) en Jean-Bernard Pommier (vanaf 1996). In 2002 het die violis Thomas Zehetmair hul musiekdirekteur geword.

Norberg-Schulz, Elizabeth (1959-), Noorse sopraan. Tydens die Britten-fees in Snape, Maltings in 1981 het sy liedere-voordragte gegee en dié komponis se Les Illuminations gesing. Vier jaar later het sy die sangkompetisie by die Spoleto-fees gewen en verskeie operarolle in Italië vertolk. In 1988 het sy Japan met die La Scala-geselskap besoek. Verdere debute het plaasgevind by die Roomse Opera en die Maggio Musicale-fees in Florence (beide in 1989), en by die Salzburg-fees (1992). Onder Michael Halász het sy die rol van Pamina in 'n uitstekende opname van Die Zauberflöte gesing, en onder Trevor Pinnock die rol van Asteria in Tamerlano.

Norman, Jessye (1945-), Afro-Amerikaanse sopraan wat in Engeland woonagtig is. Sy het in 1968 ‘n internasionale sangkompetisie in München gewen, en in die jaar daarop is haar operadebuut in Berlyn gemaak, as Elisabeth in Tannhäuser. Verdere debute het gevolg in Florence (1971), by La Scala en Covent Garden (1972), die Salzburg-fees (1977) en die Metropolitan Opera (1983). By beide Covent Garden en die Met hy sy as Cassandra in Berlioz se Les Troyens gedebuteer. Met haar ryk stem en intense sang is sy ewe begaafd in opera, konserte en liedere. Onder haar verdere rolle tel Leonore in Fidelio, Rosina in La vera costanza, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, die Grafin in Le nozze di Figaro, beide Antonia en Giulietta in Les Contes d'Hoffmann, Dido in Dido and Aeneas, Jocasta in Oedipus Rex, Medora in Il Corsaro, Elsa in Lohengrin, Sieglinde in Die Walküre, en die titelrolle in Alceste, Armida, Ariadne auf Naxos, La Belle Hélène en Euryanthe. Tydens die Salzburg-fees van 1987 het sy onder Herbert von Karajan ‘n aangrypende Liebestod uit Tristan und Isolde gesing, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sy het ewe indrukwekkend vertoon as Sieglinde in James Levine se hoogaangeskrewe 1989-opvoering van Die Walküre by die Met, met ‘n DVD-opname wat insgelyks daarvan getuig. Sleutelopname: ‘n versameling liedere op vrouetemas van Brahms (begelei deur Barenboim). Verdere opnames: Beethoven se Missa Solemnis; Berlioz se La mort de Cléopâtra; Brahms se Ein deutsches Requiem; Bruckner se Te Deum; Mahler se derde simfonie (onder Abbado) en Lieder eines fahrenden Gesellen; Ravel se Chanson madécasses; Schoenberg se Erwartung en van sy kabaretliedere; Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Masur); Tippett se A Child of our time; Verdi se Requiem (onder Abbado); Wagner se Wesendonck Lieder (onder Colin Davis); liedere van Brahms, Chausson, Poulenc en Schubert; die genoemde operette van Offenbach; die genoemde operas van Beethoven, Gluck, Haydn, Mozart, Offenbach, Purcell, R. Strauss, Strawinski, Verdi, Wagner en Weber, asook Un giorno di regno.

Norrington, Roger (1934-), Engelse dirigent en musiekgeleerde. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en op tien jaar begin viool speel. Sewe jaar later het hy met sanglesse begin, gevolg deur Engelse Letterkunde aan die Universiteit van Cambridge. Nadat hy ‘n aantal jare se ondervinding as violis, tenoor en dirigent opgedoen het, het hy verder aan die Koninklike Musiekkollege onder die befaamde dirigent Adrian Boult studeer. Hy het in 1962 die Schütz-Koor in Londen gestig, met wie hy vele innoverende konserte sou gee en talle opnames maak. Vanaf 1966 tot 1984 was hy ook musiekdirekteur van die Kent Opera, waar hy werke in ‘n wye repertorium vanaf Monteverdi tot by Tsjaikofski opgevoer het. Daaronder tel sy eie uitgawes van Monteverdi se L'incoronazione di Poppea, Orfeo en Il ritorno d’Ulisse in patria. Hy het in 1973 by die Sadler’s Wells Opera gedebuteer en in die jaar daarop is sy Amerikaanse buiging in Oakland gemaak. Vanaf 1975 was hy dirigent van die London Baroque Players, en in 1978 het hy die London Classical Players gestig wat later die Orchestra of the Age of Enlightenment sou word. Met die LCP het hy in die laat 1980’s ‘n siklus van Beethoven se volledige simfonieë op eietydse instrumente opgeneem, in rewolusionêre vertolkings waarin hy die komponis se metronoom-aanwysings gevolg het. Die opnames het pryse in verskeie lande gewen en word steeds as toonaangewend beskou. Vervolgens het hy en die LCP talle hoogstaande opnames van werke uit die Klassieke en Romantiese eras gemaak. Intussen was hy vanaf 1985 vir vier jaar hoofdirigent van die Bournemouth Sinfonietta. Ook in 1985 het hy die Britse verhoogpremière van Rameau se Les Boréades by die Koninklike Musiekakademie gedirigeer. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1986) en die Salzburg-fees (1989). Vanaf 1990 was hy musiekdirekteur van die Saint Luke’s Orkes in New York. Die OBE is in 1980 aan hom toegeken en die CBE tien jaar later. In 1997 is hy tot ridder geslaan.

Norrington is tans hoofdirigent van die Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Stuttgart, met wie hy tydens die Europese Musiekfees in 2002 nog ‘n voortreflike siklus van Beethoven se simfonieë opgeneem het. Daarby is hy hoofdirigent van die Camerata Academica in Salzburg, en as gasdirigent tree hy wyd deur Europa en die VSA in konserte en opera op. Hy het doktorate in musiek aan die universiteite van Kent en York verwerf. Sleutelopname: ‘n versameling Rossini-ouvertures (LCP). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms en Weber, en ‘n aantal van Bruckner (nrs. 3 en 6), Mendelssohn (nrs. 3 en 4), Schubert (nr. 9) en Schumann (nrs. 3 en 4); Beethoven se Koorfantasie en Missa Solemnis; ‘n versameling koorwerke van Berlioz en sy Symphonie fantastique; Bononcini se Stabat Mater; Caldara se Crucifixus; Lotti se Crucifixus; enkele madrigale van Monteverdi; Pergolesi se Magnificat in C en Stabat Mater; Purcell se opera The Fairy Queen; 2 motette van A. Scarlatti; D. Scarlatti se Stabat Mater; Schütz se Kersfeesverhaal en Sint Mattheüspassie; en Vaughan Williams se Serenade to Music.

Nortsof, Panteleimon (1900-93), Oekrains-gebore Russiese bariton. Ná studies in Kiëf het sy loopbaan in 1921 in dié stad afgeskop. Hy het in 1925 ‘n lid van die Bolsjoi Opera geword, waar hy vir bykans 30 jaar sou optree. Sy beste rol was stellig die titelrol in Jewgeni Onegin, wat hy nie minder nie as 600 keer sou sing. Dit sluit die eerste volledige opname van die opera in 1937 in. Daarby was hy begaafd in ander baritonrolle in Russiese, Franse en Italiaanse opera, asook Mozart. Hy was ook ‘n vermaarde liederesanger, veral van Russiese komponiste. Vanaf 1951 het hy aan die Gnesin Instituut in Moskou onderrig gegee, en later ook by die Russiese hoofstad se konserwatorium.

Noseda, Gianandrea (1964-), Italiaanse dirigent. Hy het klavier, komposisie en dirigeerkuns in sy geboortestad Milaan studeer. Verdere dirigeerstudies is in Wenen onderneem, asook onder Myung-Whun Chung en Walery Gergijef. Nadat hy in 1994 internasionale kompetisies in Douai en Cadaqués gewen het, is hy genooi om sy dirigeerdebuut met die Giuseppe Verdi Simfonie-orkes in Milaan te maak. Op uitnodiging van Gergijef het hy in 1997 hoofgasdirigent van die Kirof Opera in Sint Petersburg geword. Hy het die geselskap op toere deur Europa, die Verre-Ooste, Suid-Amerika en Israel gelei. In Sint Petersburg self het hy operas van Mozart, Verdi, Puccini en andere gedirigeer, en opvoerings by die Kirof Ballet. Hy is sedert 1999 ook hoofgasdirigent van die Rotterdam Filharmoniese Orkes. In die jaar daarop het hy artistieke direkteur van die Settimane Musicali di Stresa e del Lago Maggiore musiekfees in sy geboorteland geword. Sy debuut by die Metropolitan Opera is in 2002 met Prokofiëf se Oorlog en Vrede gemaak. Sedert 2002 is hy ook hoofdirigent van die BBC Filharmoniese Orkes, met wie hy ‘n hele aantal voortreflike opnames gemaak het. Daaronder tel Tsjaikofski se volledige simfonieë en Manfred. Sleutelopname: Prokofiëf se ballet Die Klipblom (BBC). Verdere opnames: Karlowicz se orkeswerke Bianca da Molina, Rebirth Symphony en Serenade; Respighi se ballet La Pentola magica; en Rossini/Respighi se ballet La Boutique fantasque.

Novotná, Jarmila (1907-94), Tsjeggiese sopraan. Sy het onder die legendariese Emmy Destinn studeer, en met ‘n beurs van die Tsjeggiese regering is sy na Italië vir verdere studies. In 1925 het sy in Praag gedebuteer as Marenka in Die Verruilde Bruid, en drie jaar later het sy die rol van Gilda in Rigoletto gesing in Verona en Berlyn. Dit sou haar internasionale deurbraak wees, waarna sy onder van die grootste dirigente van haar tyd sou sing. Vanaf 1933 was sy vir vyf jaar ‘n lid van die Weense Staatsopera, waar sy as ‘n uitmuntende Octavian in Der Rosenkavalier bekend was. Ook in die musiek van Mozart en Lehár het sy uitgeblink. In die Oostenrykse hoofstad het sy in 1934 teenoor die legendariese tenoor Richard Tauber in die première van Giuditta opgetree, in die titelrol wat vir haar geskryf is. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1935), La Scala (1937) en San Francisco (1939). By Salzburg het sy in 1937 in beroemde opnames van Die Zauberflöte onder Toscanini en Le nozze di Figaro onder Bruno Walter gesing. Met die Nasionaal-Sosialistiese oorname van haar geboorteland in 1939 het sy na die VSA uitgewyk, waar sy vanaf 1940 tot 1956 aan die Metropolitan Opera verbonde was. Sy sou tydens die oorlogsjare ‘n kampvegter vir Tsjeggiese bevryding word. Ná die oorlog het die nuwe kommunistiese owerhede in Tsjeggo-Slowakye egter haar familie se besittuings gekonfiskeer, en wou haar nie eens toelaat om haar moeder se begrafnis by te woon nie. By die Met sou sy in 'n klassieke opname van Don Giovanni onder Walter verskyn, en in 1949 het sy in ‘n opname van Der Rosenkavalier onder Georg Szell gesing. As konsertsangeres het sy onder Toscanini in 'n historiese opname van Beethoven se negende simfonie opgetree. Sy was goed bevriend met die Tsjeggiese diplomaat Jan Masaryk, wat haar soms in haar liedere-voordragte op die klavier begelei het. Naas haar sangloopbaan het sy in die 1948-rolprent The Search gespeel.

Nucci, Leo (1942-), Italiaanse bariton. Hy het in 1967 die Spoleto-sangkompetisie gewen en daar sy debuut as Figaro in Il barbiere di Siviglia gemaak. Nadat hy vir ‘n aantal jare ‘n koorsanger was, het verdere debute gevolg by die Metropolitan Opera (1980), die Parys Opera (1981) en die Salzburg-fees (1989). Met sy kragtige sang is hy wêreldbekend in Italiaanse opera, veral dié van Puccini, Rossini en Verdi. Daaronder tel verdere rolle soos Gérard in Andrea Chénier, Arbace in Idomeneo, Scarpia in Tosca, Renato in Un ballo in maschera, beide Posa en Rodrigo in Don Carlos, Francesco in I due Foscari, Ford in Falstaff, Germont in La Traviata, Graaf Luna in Il Trovatore, Iago in Otello en Monforte in I vespri siciliani. Opnames: die genoemde operas van Giordano, Mozart, Puccini, Rossini en Verdi, asook La Rondine, Le Villi en Il viaggio a Reims.

O

Oberfrank, Geza (1936-), Hongaarse dirigent. Hy het komposisie en dirigeerkuns aan die Franz Liszt Akademie in Boedapest studeer. Vervolgens was hy ‘n dirigent by die Hongaarse Staatsopera (1961-74) en hoofdirigent van die Komische Oper in Berlyn (1974-9). Sedert 1980 is hy weer aan die Hongaarse Staatsopera verbonde, en as gasdirigent tree hy by die voorste operahuise in Europa op. Met die Failoni Kamerorkes het hy ‘n aantal uitstekende opnames gemaak, waaronder Bach se Kersfeesoratorium en Sint Mattheüspassie, en sinfonias van Donizetti. Verder het hy die Hongaarse Radiokoor en die Boedapest Filharmoniese Orkes in voortreflike opnames van Beethoven se musiek vir Koning Stephen en Die Ruïnes van Athene gedirigeer.

Oberlin, Russell (1928-), Amerikaanse kontratenoor. Hy was vanaf 1953 vir ses jaar ‘n solis met die New York Pro Musica Antiqua. In 1961 het hy by Covent Garden gedebuteer, as Oberon in A Midsummer Night’s Dream. Met sy suiwer stem en pragtige toonkleur was hy onoortreflik in vroeë musiek, maar sy sangloopbaan was helaas van korte duur. Vanaf 1966 het hy aan die Hunter Kollege in New York onderrig gegee. Opnames: ‘n versameling uit Alfonso El Sabio se Cantigas de Santa Maria; ‘n versameling Handel-arias; ‘n versameling Organa van Leonin en Perotinus (met Bressler, Perry en Barab); en 2 versamelings troebadoerliedere uit die Middeleeue (met Seymour Barab op die viola da gamba).

Oborin, Lew (1907-74), Russiese pianis. Hy het in 1924 sy debuut gemaak en drie jaar later die eerste Chopin-kompetisie in Warskou gewen, waartydens hy die komponis Szymanowski diep beïndruk het. Vanaf 1928 het hy aan die Moskou Konserwatorium onderrig gegee, waar hy sewe jaar later 'n hoogleraar sou word. Die beroemde pianis Wladimir Asjkenazy was een van sy leerlinge. Hy het in 1936 die eerste uitvoering van Khatsjatoerian se klavierkonsert in Leningrad (tans Sint Petersburg) gegee. In die Weste was hy bekend as vennoot van die violis David Oistrach, met wie hy in 1962 hoogaangeskrewe opnames van Beethoven se 10 vioolsonates gemaak het. Hy het ook as lid van ‘n kamermusiek-trio met Oistrach en die tjellis Swiatoslaf Knusjewitzki gespeel. Verdere opnames: Beethoven se Driedubbele konsert (onder Malcolm Sargent), en ‘n aantal klaviertrio’s van Beethoven en Schubert (almal met Oistrach en Knusjewitzki); en solowerke van Beethoven, Brahms, Chopin en Skriabin.

Obraztsowa, Elena (1937-), Russiese mezzosopraan. Sy het by die Bolsjoi Teater gesing terwyl sy nog 'n student was, met ‘n verhoogdebuut in 1963 as Marina in Boris Godoenof. In 1970 het sy die eerste prys in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen en daarna opgetree in Milaan, Hamburg en Wenen. Verdere debute het gevolg in San Francisco en by die Metropolitan Opera (beide in 1975), La Scala (1976), die Salzburg-fees (1978) en Covent Garden (1985). Tydens haar Met-debuut, weer as Marina, is sy vyf keer vir applous teruggeroep saam met haar landgenoot Wladimir Atlantof. Met haar ferm, ryk stem is sy verder begaafd in rolle soos Oberon in A Midsummer Night's Dream, Konsjakowa in Prins Igor, die Prinses in Adriana Lecouvreur, Santuzza in Cavalleria rusticana, Charlotte in Werther, die vroulike hoofrol in Samson et Dalila, Amneris in Aida, Azucena in Il Trovatore en Federica in Luisa Miller. Sedert 1986/7 tree sy ook as operaregisseur op, met ‘n debuut wat by die Bolsjoi gemaak is met Werther. Sy is getroud met die dirigent Algis Zuraitis. Opnames: Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky (onder Abbado); en die genoemde operas van Borodin, Cilea, Mascagni, Moessorgski en Saint-Saëns, asook Luisa Miller.

Ogdon, John (1937-89), Engelse pianis en komponis. Hy het in 1956, terwyl hy nog ‘n student was, in Brahms se eerste klavierkonsert onder John Barbirolli gespeel. In die jaar daarop is sy professionele debuut met die Hallé Orkes gemaak. Hy was in 1962 met Wladimir Asjkenazy medewenner van die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou. In 1963 is sy Amerikaanse debuut in New York gemaak, en in 1971 het hy die volledige klaviersonates van Skriabin in indrukwekkende vertolkings opgeneem. Hy het vanaf 1976 vir vier jaar aan die musiekskool van die Indiana Universiteit in Bloomington onderrig gegee. Alhoewel hy ‘n wye repertorium gehad het, was hy veral bekend as briljante vertolker van Alkan, Busoni en Liszt. Verdere opnames: Busoni en Tippett se klavierkonserte, en Bartók se derde konsert; Mendelssohn se Konsert vir klavier en strykers; Sjostakowitsj se 2 klavierkonserte; Stevenson se Passacaglia on D.S.C.H.; Strawinski se Capriccio (onder Marriner); Tippett se 2 klaviersonates; solowerke van Busoni, Chopin, Dukas, Dutilleux, Rachmaninof, Schmitt, Skriabin en Sorabji; en (met Brenda Lucas) duetwerke van Arenski, Bizet, Debussy, Rachmaninof en Sjostakowitsj.

Ohlsson, Garrick (1948-), Amerikaanse pianis. Hy was die wenner van die Busoni-kompetisie in Italië (1966) en die Montreal-kompetisie in Kanada (1968). In 1970 het hy sy tweejaarlikse segetog voortgesit en die Chopin-kompetisie in Warskou gewen. Sedertdien het hy meermale na Pole teruggekeer op sy internasionale toere. Opnames: Busoni se klavierkonsert; Rachmaninof se klavierkonsert nr. 2; Skriabin se klavierkonsert; Tsjaikofski se klavierkonsert nr. 1; en Weber se volledige klaviersonates.

Oistrach, David (1908-74), Oekraïns-gebore Russiese violis en dirigent. As agtjarige wonderkind het hy sy openbare debuut gemaak, en in 1926 het hy in Kiëf die vioolkonsert van Glazoenof onder die komponis self gespeel. Twee jaar later is sy Moskou-debuut gemaak en in 1934 het hy begin om aan die konserwatorium in die Russiese hoofstad onderrig te gee. Hy het drie jaar later die Ysaÿe-prys in Brussels gewen. In 1947 het hy in Praag ‘n uitvoering van Bach se Dubbelkonsert gegee met die ewe beroemde Yehudi Menuhin as vennoot. Eers vanaf die 1950’s het hy wyd deur die Weste getoer, met debute in Parys en Londen in 1953, en twee jaar later in die VSA. Talle Russiese komponiste het werke vir hom geskryf, waaronder beide vioolkonserte van Sjostakowitsj (met eerste uitvoerings in 1955 en 1967 onderskeidelik) en sy vioolsonate. Vanaf die 1960’s het hy ook gedirigeer, en in 1972 is sy debuut by die Salzburg-fees as beide solis en dirigent gemaak. Met sy soet, suiwer toonkleur en liriese, gesofistikeerde spel word hy beskou as een van die grootste violiste van die twintigste eeu. Hy het dikwels in konserte opgetree met groot musici soos die violis Yehudi Menuhin en die tjellis Mstislaf Rostropowitsj as vennote. Daarby het hy kamermusiek in ‘n trio met die pianis Lew Oborin en die tjellis Swiatoslaf Knusjewitski gespeel. Sleutelopnames: Hindemith se vioolkonsert (onder die komponis, 1962); Sjostakowitsj se vioolkonsert nr. 1 (onder Mitropoulos). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Beethoven, Brahms, Dvorák, Khatsjatoerian, Mozart, Sibelius, Sjostakowitsj, Strawinski en Tsjaikofski; Bach se Dubbelkonsert (met sy seun Igor en met Menuhin, lg. op DVD); Beethoven se Driedubbele Konsert (met Oborin en Knusjewitzki en met Richter en Rostropowitsj); Brahms se Dubbelkonsert (met Fournier en met Rostropowitsj, lg. op DVD); Bruch se Skotse Fantasie; Chausson se Poème; Mozart se Sinfonia concertante (met Igor, op DVD); Ysaÿe se Amitié (met Igor); vioolsonates van Franck en Sjostakowitsj; (as dirigent:) Mozart se simfonie nr. 41 en Sjostakowitsj se simfonie nr. 9.

Oistrach, Igor (1931-), Russiese violis en dirigent, seun en student van David Oistrach. Hy het in 1948 sy solodebuut gemaak en vier jaar later die Wieniafski-kompetisie in Pole gewen. Daarna het hy wêreldbekend geraak, veral as vennoot van sy beroemde vader. Onder hul opnames tel Mozart se Sinfonia concertante en Prokofiëf se Sonate vir twee viole. Sedert 1958 gee hy onderrig aan die Moskou Konserwatorium en tien jaar later het hy begin dirigeer. Hy het in 1980 sy debuut as violis by die Salzburg-fees gemaak. Verdere opnames: vioolsonates van Brahms; en Vivaldi se Dubbelkonserte vir tjello en viool RV 544 en RV 547 (met Ofra Harnoy).

Olczewska, Maria (1892-1969), Duitse mezzosopraan. Nadat sy aanvanklik in operettes gesing het, het haar operadebuut in 1917 in Crefeld plaasgevind, as Venus in Tannhäuser. Sy is daarop deur die beroemde dirigent Arthur Nikisch gewerf vir die Leipzig Opera, waar sy tot 1920 sou sing. Daarna was sy verbonde aan operahuise in Hamburg (1920-3), Wenen (1921-3) en München (1923-5). In Hamburg het sy die rol van Brigitte tydens die première van Korngold se Die tote Stadt geskep (1920), en vanaf 1925 was sy vir vyf jaar ‘n lid van die Weense Staatsopera. Verdere optredes het gevolg by Covent Garden (1924-32), Chicago (1928-32) en die Metropolitan Opera (1933-5). Een van haar beste rolle was Octavian in Der Rosenkavalier, wat sy gesing het in Robert Heger se klassieke 1933-opname, terwyl sy ook in Wagner se operas uitgeblink het. Vanaf 1947 was sy vir twee jaar ‘n hoogleraar aan die Weense Akademie.

Oldham, Arthur (1926-2003), Engelse pianis, koormeester en komponis. As sestienjarige weeskind het hy ‘n beurs gewen om aan die Koninklike Musiekkollege te studeer, waar hy die komponis Benjamin Britten ontmoet het. Hul weë het later geskei, maar hulle is mettertyd versoen en het saamgewerk aan opvoerings by die Edinburgh-fees. Intussen het hy in 1945 musiekdirekteur van die Ballet Rambert geword en werke vir die Koninklike Ballet in Londen geskryf. Hy het egter ‘n senu-ineenstorting beleef wat later aan sy moeder se selfmoord toe hy 14 jaar oud was, toegeskryf is. In ‘n Dominikaanse klooster het hy dermate herstel dat hy ‘n pos by die Sint Mary-katedraal in Edinburgh bekom het. Hy het in 1952 Thomas Arne se opera Love in a Village vir opvoering by die Aldeburgh-fees aangepas, en 13 jaar later het hy aan die Britse première van Mahler se agste simfonie deelgeneem. Dit was as koormeester van die Edinburgh-feeskoor wat pas deur hom gestig is. Verder was hy koormeester van die Skotse Operakoor (1966-74) en die Londense Simfoniekoor (1969-76). Twee bekende simfoniekore is ook deur hom gestig en gedirigeer, naamlik dié van die Orchestre de Paris (1975) en die Concertgebouw Orkes (1979). Hy het in die 1970’s in Frankryk gaan woon, maar sou vir die res van sy lewe nog as koormeester by die Edinburgh-fees optree. In 1990 is die OBE aan hom toegeken.

Oleg, Raphael (1959-), Franse violis. Hy het as tiener aan die Parys Konserwatorium studeer, vanaf 1972 tot 1976. Later, in 1986, het hy die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Sy Britse debuut is in 1987 met die Londense Simfonie-orkes gemaak in ‘n uitvoering van Brahms se vioolkonsert. Hy het twee jaar later ook in Tokio gedebuteer. Naas sy loopbaan as konsertsolis speel hy in kamermusiek, onder meer as lid van die Pizarro Trio. Onder sy opnames tel die vioolkonserte van Brahms, Bruch en Sibelius, asook Schubert se klaviertrios (met die pianis Imogen Cooper).

Olivero, Magda (1912-), Italiaanse sopraan. Sy het in 1933 haar operadebuut in Turyn gemaak, as Lauretta in Gianni Schicchi. In 1938 het sy uitgeblink as Liù in ‘n opname van Turandot onder Franco Ghione. Met haar troue in 1941 het sy uitgetree, maar tien jaar later sou sy in Brescia weer ‘n terugkeer tot opera maak. Dit het plaasgevind op versoek van Cilea in ‘n opvoering van sy Adriana Lecouvreur, as die komponis se gunsteling-vertolker van die titelrol. Verdere debute is gemaak in Londen (1952), Dallas (1966), New York (1970) en by die Metropolitan Opera (1975). Haar Met-debuut het plaasgevind toe sy al in haar sestigs was, maar was nietemin ‘n klinkende sukses. Met haar magnetiese verhoogpersoonlikheid en gevoelvolle sang was sy hoogs begaafd in Italiaanse opera, veral dié van laat-Romantici. Naas Adriana was sy uitmuntend in die titelrolle van Fedora, Manon Lescaut, Tosca en Francesca di Rimini. Tot in haar negentigs het sy nog in opnames gesing, soos in Franck se Panis angelicus. Soos soms met werklike groot sangers gebeur, is haar status in die operawêreld deur haar relatiewe klein aantal opnames verhoog. Verdere opnames: Tosca (Turyn 1960); Fedora en Francesca da Rimini (beide Monte Carlo, 1969); en Manon Lescaut (Verona, teenoor Placido Domingo).

Oncina, Juan (1925-), Spaanse tenoor. Nadat hy in 1946 in Barcelona as Des Grieux in Manon gedebuteer het, het hy tot 1962 by Italiaanse operahuise gesing. Hy was veral bekend in die rolle van Donizetti en Rossini, en het vanaf 1952 tot 1965 gereeld by die Glyndebourne-fees opgetree. In 1974 het hy uitgetree. By Glyndebourne het hy onder Vittorio Gui gesing in klassieke opnames van La Cenerentola (as die Prins) en Le Comte Ory (as die Graaf), en by die Weense Staatsopera in Don Pasquale (as Ernesto) onder Istvan Kertész.

O'Neill, Dennis (1948-), Walliese tenoor. Hy het in 1973 in Glinka se opera Ivan Susanin by die Wexford-fees gesing en was daarna ‘n lid van die Glyndebourne-koor. Vanaf 1974 tot 1976 was hy aan die Suid-Australiese opera verbonde, met debute wat gevolg het by Covent Garden (1979), die Glyndebourne-fees (1980), Wenen (1983), San Francisco (1984) en die Metropolitan Opera (1986). Hy is tans die voorste Britse tenoor in Italiaanse opera en het die rol van Caruso in 'n dokumentêre rolprent gesing. Sy repertorium sluit rolle in soos Canio in I Pagliacci, Rodolfo in La Bohème, Dick Johnson in La Fanciulla del West, Cavaradossi in Tosca, Radames in Aida, Macduff in Macbeth en Manrico in Il Trovatore. Opnames: die genoemde operas van Leoncavallo, Puccini en Verdi, meeste daarvan in Engels.

Opera Noord, Britse operageselskap wat in 1978 as ‘n onderafdeling van die Engelse Nasionale Opera gevorm is. Hulle is in Leeds gebaseer en het in 1981 onafhanklik geword. Verskeie Britse premières van moderne operas is deur hulle gegee, eers onder die musiekdirekteurskap van David Lloyd-Jones (1978-90) en daarna onder Paul Daniel (1990-7).

Opie, Alan (1945-), Engelse bariton. Hy het in 1969 sy operadebuut by Sadler's Wells gemaak as Papageno in Die Zauberflöte, en twee jaar later het hy by Covent Garden begin sing. In 1981 het hy die rol van Oblonsky tydens die première van Hamilton se Anna Karenina by die Engelse Nasionale Opera geskep. Hy het in die jaar daarop die titelrol in Háry János by die Buxton-fees gesing en in 1987 het hy by die Bayreuth-fees gedebuteer. Sy bekendheid lê merendeels in moderne Britse rolle soos Mr Gedge in Albert Herring, Redburn in Billy Budd, die 7 teisteraars in Death in Venice, Robert Cecil in Gloriana, die Slagter in Hugh the Drover, Diomede in Troilus and Cressida en die titelrol in The Bear. Voorts is hy begaafd as Cecil in Maria Stuarda, die Polisiehoof in Christopher Columbus, Jim Cocks in Robinson Crusoe, Napoleon in Oorlog en Vrede, die Koning in Ernani, die titelrol in Nabucco en Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg. Opnames: Boughton se koordrama Bethlehem; ‘n versameling koormusiek van Vaughan Williams, asook sy Serenade to Music; Weill se ballet Die sieben Todsünden; die genoemde operas van Britten, Donizetti (in Engels), Offenbach, Prokofiëf, Vaughan Williams, Verdi (in Engels), Wagner en Walton, asook I Pagliacci (in Engels).

Orchestra of the Age of Enlightenment, selfregerende Londense orkes wat in 1986 deur Roger Norrington gestig is. Hulle speel werke vanaf die laat sewentiende tot vroeë negentiende eeue op eietydse instrumente. In die afwesigheid van ‘n vaste dirigent tree hulle onder bekende gasdirigente soos Frans Brüggen, René Jacobs, Sigiswald Kuijken, Gustav Leonhardt en Charles Mackerras op. Sedert 1992 is Frans Brüggen en Simon Rattle die hoofgasdirigente. Hul debute by die feeste in Glyndebourne en Salzburg het in 1989 en 1991 onderskeidelik plaasgevind, en hul eerste Europese toer in 1994 onder Rattle. By Glyndebourne het hul gedebuteer met ‘n opvoering van Le nozze di Figaro onder Rattle, die eerste met eietydse instrumente by dié beroemde operahuis. Onder hul hoogaangeskrewe opnames tel Bach se 6 Brandenburgkonserte, met die leiding gedeel deur vier vroulike violiste: Monica Huggett, Catherine Mackintosh, Alison Bury en Elizabeth Wallfisch.

Ochestra of the Golden Age, Britse ensemble wat eietydse instrumente bespeel. Hulle is residensiële orkes van die Buxton Operafees en gee jaarlikse konserte in Manchester. Die ensemble is gestig deur die tjellis Robert Glenton, wat as artistieke direkteur dien. Onder sy leiding het hulle in uitstekende opnames van Purcell se Ode for St Cecilia’s day, Te Deum en ander koorwerke en van Telemann se Tafelmusik gespeel.

Orchestre de la Suisse Romande, Switserse simfonie-orkes wat in 1918 in Genève deur Ernest Ansermet gestig is. Hy het hulle tot 1966 dirigeer en is opgevolg deur Paul Kletzki (1967-9), Wolfgang Sawallisch (1970-80) en Horst Stein (1980-5). Sedert 1985 is Armin Jordan die hoofdirigent.

Orchestre de Paris, Franse simfonie-orkes wat in 1967 deur Charles Munch gestig is, as opvolger van die Orchestre de la Société des Concerts du Conservatoire. Hy is as hoofdirigent opgevolg deur Herbert von Karajan (1969-71), Georg Solti (1971-5), Daniel Barenboim (1975-88) en Semjon Bisjkof (sedert 1989).

Orgonasova, Luba (1961-), Slowaakse sopraan. Sy het klavier en sang aan die konserwatorium en die musiekakademie in haar tuisstad Bratislawa studeer. In 1983 het sy by die Hagen Opera gedebuteer, waar sy tot 1988 die eerste liriese sopraan sou wees. Sy blink uit in rolle soos Amina in La Sonnambula, Armida in Rinaldo, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, Pamina in Die Zauberflöte, Violetta in La Traviata en Agathe in Der Freischütz. Onder die bekende musiekfeeste waar sy verskyn, tel die Salzburg Paasmusiekfees waar sy in 1990 op uitnodiging van Herbert von Karajan gedebuteer het. Naas haar operaloopbaan is sy met haar suiwer toonkleur ‘n begaafde konsertsangeres. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Gardiner), Christus am ölberge (onder Nagano) en Missa Solemnis (onder Zinman); Verdi se Requiem (onder Gardiner); Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Flor); die genoemde operas van Bellini, Handel en Weber, asook Die Entführung aus dem Serail; en ‘n versameling gewilde arias (onder Will Humburg).

Orlando Consort, Britse mannestem-kwartet wat in 1988 gestig is. Hulle spesialiseer in musiek van die elfde tot sestiende eeue, en werk dikwels met ensembles soos die Tallis Scholars en die Gabrieli Consort. Die ensemble toer wêreldwyd, met debute wat gemaak is by die Londense Proms (1997) en die Edinburgh-fees (1998). In 1992 het hulle by die Universiteit van Notre Dame in Indiana opgetree met die vyfhonderdste herdenking van die Franse komponis Antoine Busnois (1430-92) se dood. Hulle was in 1993/4 aan die Queen’s Universiteit in Belfast verbonde, en is tans verbonde aan die Southampton Universiteit. In samewerking met musiekgeleerdes voer hul dikwels werke vir die eerste keer in die moderne tyd uit, waardeur nuwe standaarde in uitspraak en instemming daargestel word. Die Noah Greenberg-toekenning is in 1996 deur die Amerikaanse Musikologiese Vereniging aan die ensemble toegeken. Hulle werk ook saam met plaaslike amateurkore, ‘n jazz-kwartet en ‘n fluitkwintet. Opnames: kerkmusiek van Desprez, Dunstable, Ockeghem en Perotin; en versamelings Engelse gewyde musiek uit die dertiende en vroeë veertiende eeue, Pouslike musiek uit die tydperk 1445-1518, Vlaamse Paasfeesmusiek uit die vyftiende eeu, en musiek vir die howe van Padua en Pavia.

Orlof, Alexander (1873-1948), Russiese dirigent. Hy het in sy geboortestad Sint Petersburg en in Berlyn studeer, in die geval van die Duitse hoofstad komposisie onder Paul Juon. Daarna het hy opera en konserte in Rusland gedirigeer, en in 1930 het hy hoofdirigent van die Moskou Radio-orkes geword. Onder sy opnames tel die eerste volledige opname van Jewgeni Onegin in 1937, gedeel met sy jonger kollega Alexander Melik-Pashajef.

Ormandy, Eugene (1899-1985), Hongaars-gebore dirigent. As wonderkind het hy die viool bemeester en tot 1914 as virtuoos deur Europa getoer. Op sewentien was hy reeds 'n hoogleraar en in 1919 het hy hoof van meesterklasse aan die Boedapest Konserwatorium geword. Hy het hom in 1921 in die VSA gevestig en ses jaar later ‘n Amerikaanse burger geword. Aanvanklik was hy ‘n orkesleier by Capitol-rolprente en vanaf 1924 was hy hul dirigent. Vanaf 1931 was hy vir vyf jaar dirigent van die Minneapolis Simfonie-orkes en in 1936 het hy mede-dirigent van die Philadelphia Orkes geword. Hy het Leopold Stokowski twee jaar later as musiekdirekteur van dié beroemde ensemble opgevolg. Dit was ‘n pos wat hy vir langer as vier dekades, tot 1980, sou beklee. Tesame het hulle ‘n hoë vlak van uitnemendheid gehandhaaf en ‘n aantal internasionale toere onderneem. Hulle het oor die jare heen die Amerikaanse premières van Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 4, 13, 14 en 15 gegee, asook van sy eerste tjellokonsert (met Rostropowitsj as solis). Intussen het hy in 1950 by die Metropolitan Opera met die operette Die Fledermaus gedebuteer en vyf jaar later is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak.

Ormandy is in 1976 tot ere-ridder geslaan. Sy bekendheid het veral in die Romantiese en moderne simfoniese repertoriums gelê. Hy het een van sy orkesspelers in Philadelphia, Lucien Cailliet, opdrag gegee om ‘n orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling te onderneem, waarvan die eerste uitvoering en opname in 1937 plaasgevind het. Sleutelopnames (almal Philadelphia): Bartók se suite Die Wonderbaarlike Mandaryn; Orff se kantate Carmina Burana; Rachmaninof se 3 simfonieë en Vocalise; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 1 (1959) en 15 (vroeë 1970’s); Walton se Belshazzar’s Feast. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Brahms, en ‘n hele aantal van Bruckner (nr. 4), Dvorák (nr. 9), Prokofiëf, Saint-Saëns, Sjostakowitsj (nrs. 4 en 10), Sibelius en Tsjaikofski (nrs. 5 en 6); Mahler se Das Lied von der Erde; Orff se Catulli Carmina; Respighi se Die Voëls en Kerkvensters; Richard Strauss se Also sprach Zarathustra; Tsjaikofski se Capriccio italien en Strykerserenade; orkeswerke van Chopin, Debussy, Delibes, Delius, Grieg, Vaughan Williams en Walton; en ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas.

Orozco, Rafael (1946-96), Spaanse pianis. Hy het in 1966 die Leeds-klavierkompetisie gewen en daarna ‘n internasionale loopbaan begin volg. Onder die hoogstaande opnames wat hy nagelaat het, tel die volledige werke vir klavier en orkes van Rachmaninof (onder Edo de Waart).

Orpheus Kamerorkes, Amerikaanse ensemble wat in 1972 deur die tjellis Julian Fifer gestig is. Hulle is in New York gebaseer en speel sonder ‘n dirigent, maar met ‘n orkesleier wat vir elke werk verkies word. Die ensemble bestaan uit 18 strykinstrumentspelers en 10 houtblaserspelers. Elke jaar toer hul deur die VSA, en gee ook konserte in Carnegie Hall en ‘n reeks Bach-kantates by die ‘Metropolitan Musuem of Art’. Hulle onderneem voorts dikwels toere deur Asië, en het in 1998 die eerste Amerikaanse orkes geword om in Vietnam op te tree sedert die einde van die Vietnamese oorlog (in 1975). Sleutelopnames: Handel se Koninklike Vuurwerkemusiek en Watermusiek; ‘n versameling Rossini-ouvertures. Verdere opnames: Tsjaikofski se Strykerserenade.

Ortiz, Cristina (1950-), Brasiliaans-gebore pianis. Sy het in 1969 die internasionale Van Cliburn-kompetisie in Texas gewen en twee jaar later haar debuut in New York gemaak. In 1973 het haar Londense debuut gevolg en het sy haar in die Britse hoofstad gevestig. Sy het in 1977 ‘n Britse burger geword en in 1983 het sy by die Salzburg-fees gedebuteer. In sommige van haar uitvoerings van Mozart-klavierkonserte dirigeer sy die orkes vanaf die klavier. Met haar wye repertorium speel sy onder vermaarde dirigente soos Asjkenazy, Masur en Mehta. Sleutelopnames: Villa-Lobos se Bachianas brasileiras 3 en Momoprecoce (beide onder Asjkenazy), en enkele van sy solowerke. Verdere opnames: klavierkonserte van Poulenc, Rachmaninof, Stenhammar en Villa-Lobos (laasgenoemde volledig); Addinsell se Warsaw Concerto; Gottschalk se Grande fantaisie; die Scherzo uit Litolff se Concerto symphonique nr. 4; en Saint-Säens se Karnaval van die diere.

Osborn, Franz (1905-55), Britse pianis. Hy was ‘n leerling van die legendariese Artur Schnabel, sodat dit nie verbaas dat sy spel in die laat klaviersonates van Beethoven die bewondering van die musiekgeleerde en komponis Egon Wellesz afgedwing het nie. In 1945 het hy onder Boyd Neel in die eerste opname van Liszt se Malédiction gespeel.

östman, Arnold (1939-), Sweedse dirigent. Hy was vanaf 1969 tot 1979 artistieke direkteur van die Vadstena Akademie, waar hy talle Barokoperas van Monteverdi, Stradella en andere gedirigeer het. Daarna was hy musiekdirekteur van die Drottningholm Hofteater (1980-91), waar hy bekendheid in die operas van Gluck en Mozart verwerf het. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1984) en die Wexford-fees (1986). Opnames: die operas Alceste, Così fan tutte, Don Giovanni en Die Zauberflöte.

Otaka, Tadaaki (1947-), Japannese dirigent. Nadat hy in Wenen studeer het, het hy vanaf 1970 onderrig aan die Toho-Gakuen Skool gegee. Hy was vanaf 1974 vir sewe jaar hoofdirigent van die Tokio Filharmoniese Orkes en daarna tot 1986 van die Sapporo Simfonie-orkes. Vervolgens was hy vanaf 1987 tot 1996 hoofdirigent van die BBC Nasionale Orkes van Wallis (voorheen die BBC Walliese Simfonie-orkes), en sedertdien is hy hul eredirigent. Hy het die orkes in uitstekende opnames van Glazoenof se volledige simfonieë gedirigeer. Verder is hy hoofdirigent van die Kioi Sinfonietta in sy geboorteland en direkteur van die Britten-Pears Orkes. Verdere opnames: Lutoslafski en Rachmaninof se derde simfonieë; Franck se Psyché en Le Chasseur maudit; Respighi se Denne van Rome; en Takemitsu se Fantasma/Cantos.

Otto, Lisa (1919-), Duitse sopraan. Na studies aan die konserwatorium in haar tuisstad Dresden het sy in 1941 in Beuthen (tans Bytom in Pole) gedebuteer. Sy was na die Tweede Wêreldoorlog verbonde aan die Nürnberg Opera (1945/6) en die Semper Opera in Dresden (1946-51). In 1952 het sy by die Berlynse Stadsopera aangesluit en internasionaal begin toer. Met haar ligte, suiwer stem was sy veral bekend in die liriese operarolle van Mozart en Richard Strauss. Sy het die rol van Despina in Herbert von Karajan se hoogstaande 1955-opname van Cosi fan tutte vertolk. Verdere opnames: Der Freischütz (as Annchen, onder Keilberth).

Ousset, Cécile (1936-), Franse pianis. Sy het as vyfjarige haar eerste uitvoering gegee en op veertien met ‘n eerste prys gegradueer. In 1974 het sy ‘n opname van Liszt se klaviersonate en 6 Grandes Etudes de Paganini gemaak wat onder die heel beste weergawes van dié veeleisende werke gereken word. Nietemin het sy betreklik laat internasionaal bekend geraak, met ‘n Britse debuut in 1980 by die Edinburgh-fees en ‘n Amerikaanse debuut in 1984. Verdere opnames: Grieg en Schumann se klavierkonserte; Rachmaninof se klavierkonsert nr. 3; en ‘n versameling solowerke van Chopin.

Owtjinnikof, Wladimir (1960-), Russiese pianis. Hy het in 1980 'n tweede prys in die Montreal-kompetisie verower, twee jaar later saam met Peter Donohoe 'n silwermedalje in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou, en in 1987 die eerste prys in die Leeds-klavierkompetisie. In 1989 het hy die volledige Etudes-tableaux van Rachmaninof in ‘n enkele voordrag in Londen uitgevoer, met ‘n uitstekende opname wat kort daarna gemaak is. Sedert 1994 gee hy ook onderrig aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester.

Oxford Camerata, Britse vokale ensemble wat in 1984 deur Jeremy Summerly gestig is. Die beroemde tenoor Peter Pears was hul eerste beskermheer. Hulle spesialiseer in gewyde werke van die Renaissance en vroeë Barok, en onderneem gereeld Europese toere. Onder leiding van Summerly het die ensemble wêreldbekend met talle hoogaangeskrewe opnames geword. Dit sluit in die eerste opname van Fauré se Requiem in die oorspronklike (1887) weergawe, wat in 1993 gemaak is.

Ozawa, Seiji (1935-), Japannese dirigent, die eerste van dié land om wêreldroem te verwerf. Hy is in Mantsjoerye gebore tydens die Japannese besetting van dié Sjinese landstreek. As kind het hy geleer om Westerse musiekinstrumente soos die orrel en klavier te bespeel. In ‘n Japan wat deur Amerikaanse brandbomaanvalle in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog verwoes is, het sy vader op ‘n dag met ‘n stootkar ‘n klavier in ‘n stad veertig kilometer ver vir sy begaafde seun gaan haal om op te speel. Vanaf 1951 het hy vir sewe jaar aan die Toho Gakuen Musiekskool in Tokio studeer. Hy is in 1959 ná graduering op sy eie na Europa, waar hy die internasionale Besancon-dirigeerkompetisie in Frankryk sou wen. Dit het hom onder die aandag van die gevierde dirigent Charles Munch gebring, op wie se uitnodiging hy na die VSA is. Daar het hy in 1960 die Koussewitzki-prys in Tanglewood gewen, maar kort daarna het hy na Europa teruggekeer om vir ‘n tyd onder Herbert von Karajan in Berlyn te studeer. Hy sou ‘n blywende bewondering vir die Oostenrykse musiekreus behou, sodat hy dikwels daarna die maestro om artistieke raad gevra het. Verder was hy in 1961/2 en weer in 1964/5 Leonard Bernstein se assistent by die New York Filharmoniese Orkes. Vanaf 1964 het hy vir vier jaar die Chicago Simfonie-orkes by die Ravinia-fees gedirigeer.

Ozawa se eerste volwaardige poste was as musiekdirekteur van die Toronto Simfonie-orkes (1964-70) en die San Francisco Simfonie-orkes (1970-6). Met eersgenoemde het hy in 1967 ‘n uitstekende opname van Messian se Turangalila Simfonie gemaak. Intussen het hy in 1966 by die Salzburg-fees gedebuteer, waar hy drie jaar later sy operadebuut met Cosi fan tutte sou maak. Hy het in 1973 die jongste hoofdirigent nóg van die Boston Simfonie-orkes geword, ’n pos wat hy vir byna 30 jaar sou beklee – die langste in die beroemde ensemble se geskiedenis. Verdere operadebute is intussen gemaak by Covent Garden (1974) en die Metropolitan Opera (1992), en in 1983 het hy die première van Messiaen se opera St Francois d’Assise in Parys gedirigeer. In 1992 het hy die Saito Kinen Musiekfees in Japan gestig, met wie se orkes en die Tokio Operakoor hy tien jaar later ‘n briljante uitvoering van Beethoven se negende simfonie sou gee (met ‘n DVD wat daarvan getuig). Hy het in dieselfde jaar (2002) die Nuwejaarskonsert in Wenen met groot sukses gedirigeer, waarvan ‘n DVD-opname insgelyks gemaak is. In dieselfde jaar het hy musiekdirekteur van die Weense Staatsopera geword. Met sy intense dog sensitiewe vertolkings is hy een van die voorste dirigente van sy tyd in Romantiese en moderne musiek. Tydens die Herbert von Karajan eeufeesvierings in 2008 het hy die Berlynse Filharmoniese Orkes in herdenkingskonserte in Berlyn, Parys, Luzern en Wenen gedirigeer, asook by die Salzburg Paasmusiekfees.

Sleutelopnames: Honegger se Jeanne d’Arc au bûcher (Franse Radio); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream (Boston). Verdere opnames: enkele simfonieë van Brahms, Mahler en Panufnik; orkeswerke van Bartók, Griffes, Prokofiëf, Respighi, Rimski-Korsakof en R. Strauss; Berlioz se opera La damnation de Faust; Bizet se opera Carmen; Orff se Carmina Burana (beide Boston en Berlyn, lg. op DVD); Strawinski se Oedipus Rex; Takemitsu se Quatrain en A Flock Descends; en Tsjaikofski se ballette Die neutkraker en Swanemeer.

P

Paderewski, Ignacy Jan (1860-1941), Poolse pianis, komponis en staatsman. Hy het in Warskou, Berlyn en Wenen studeer, in laasgenoemde stad onder die beroemde leermeester Theodor Leschetizky. Vanaf 1879 het hy vir vier jaar aan die Warskou Konserwatorium onderrig in klavier gegee. Na sy debuut in 1888 in Parys het hy wêreldbekend geraak, met verdere debute wat sou volg in Londen (1890) en New York (1891). In 1910 het hy ‘n toespraak gelewer met die opening van ‘n monument in Kraków, waarna hy ‘n simbool van die Poolse vryheidstrewe geword het. Dié voormalige koninkryk was sedert die agtiende eeu tussen Rusland, Pruise en Oostenryk verdeel. Hy het die opbrengs van sy konserte tydens die Eerste Wêreldoorlog aan Poolse oorlogslagoffers geskenk. Na afloop van die oorlog het hy in 1919 vir tien maande die eerste premier van die nuutgeskepde staat Pole geword. In 1922 het hy sy konserttoere hervat, waardeur hy aansienlike bedrae geld vir oorlogslagoffers ingesamel het. Hy het ook ‘n aantal kompetisies geborg en verskeie studiebeurse ingestel. In 1936 het hy in die rolprent Moonlight Sonata opgetree, en vanaf dieselfde jaar tot 1938 toesig gehou oor die publikasie van ‘n volledige uitgawe van Chopin se werke in Warskou. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy sy land verlaat om in 1940/1 as leier van die Poolse regering in ballingskap te dien. Op tagtigjarige ouderdom het hy nog konserte gegee om geld vir sy land se oorlogspoging in te samel. As pianis was hy ‘n onoortreflike vertolker van sy landgenoot Chopin se musiek, en as komponis het hy onder andere ‘n opera, ‘n simfonie, ‘n klavierkonsert, en ‘n Poolse Fantasie vir klavier en orkes geskryf. Ere-doktorsgrade is deur ‘n aantal universiteite, waaronder dié in Cambridge en Oxford, aan hom toegeken.

Padmore, Mark (1961-), Engelse tenoor. Aanvanklik het hy die klarinet bestudeer, totdat hy met ‘n beurs vir koorsang na die beroemde King’s College in Cambridge is. Nadat hy in 1982 gegradueer het, het hy in bekende Britse kore wat in vroeë musiek spesialiseer gesing, naamlik die Tallis Scholars, The Sixteen en The King’s Consort. In 1987 het hy by die Hilliard Ensemble aangesluit, met wie hy wyd getoer het. Hy is sedert 1991 ‘n lid van die Franse ensemble Les Arts Florissants. Onder sy operarolle tel Vitaliano in Giustino, Jason in Medeé, Admetus in Alceste, Alpheus in Proserpine, die titelrolle in Pygmalion en Zoroastre, Hippolyte in Hippolyte et Aricie, Arnalta in L'Incoronazione di Poppea en Fenton in Sir John in Love. As konsertsanger is hy met sy helder sang en ligte toonkleur veral bekend in gewyde werke, onder meer as die Evangelis in Bach se Passies. Sleutelopnames: Bach se Kantate nr. 95 (onder Gardiner); Rameau se opera Zoroastre (onder Christie). Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 29, 119 en 120 (onder Herreweghe), Kersfeesoratorium, 4 Missae brevis (met die Purcell Kwartet) en Sint Mattheuspassie; Handel se Messiah; A. Scarlatti se oratorium Sedecia; Schubert se Winterreise (met die pianis Paul Lewis); ‘n versameling liedere van Britten, Finzi en Tippett (met die pianis Roger Vignoles); en die operas Giustino, Hippolyte et Aricie, Sir John in Love en Ottone in Villa.

Page, Christopher (1952-), Engelse dirigent en musiekgeleerde. Hy het in 1980 die vokale ensemble Gothic Voices gestig vir die uitvoering van vroeë musiek. Twee jaar later het hy ‘n vyftiende-eeuse geskrif ontdek waaruit geblyk het dat Middeleeuse musiek veel meer dikwels deur stemme as instrumente uitgevoer is. Met sy ensemble het hy talle hoogstaande opnames gemaak van Middeleeuse en Renaissance-musiek, sowel sekulêr as gewyd. Hulle het in 1989 met die 800ste herdenking van Koning Richard I se kroning ‘n versameling werke uit daardie tyd opgeneem, getiteld Music for the Lion-hearted King. Page het ook ‘n boek oor twaalfde-eeuse musiek geskryf. Sleutelopnames: versamelings werke van Hildegard von Bingen getiteld A Feather on the Breath of God en Hymns and sequences; ‘n versameling ballades van De Machaut. Verdere opnames: versamelings Franse motette en liedere uit die dertiende tot vroeë vyftiende eeue; ‘n versameling Spaanse liedere en motette van die tydperk 1480-1550; en werke van Binchois, Brule, Del Encina, De Vitry, Dufay, Dunstable, Landini, Morton en Penalosa.

Pahud, Emmanuel (1970-), Switserse fluitspeler van Franse afkoms. Nadat hy as sesjarige met musieklesse in Rome begin het, het verdere studies in Brussels en Basel plaasgevind. In 1990 het hy met ‘n eerste prys aan die Nasionale Musiekkonserwatorium in Parys gegradueer, waarna meesterklasse onder Aurele Nicolet gevolg het. Hy was eerste fluitspeler in die Basel Radio Simfonie-orkes (1989-92), die München Filharmoniese Orkes (1992) en die Berlynse Filharmoniese Orkes (1993-2000). Onder die internasionale kompetisies wat hy gewen het, tel dié in Kobe (1989) en Genève (1992). Nadat hy vir ‘n jaar (2000/1) ‘n hoogleraar in fluit aan die Geneefse Konserwatorium was, het hy in 2002 as eerste fluitspeler na die Berlynse Filharmonie teruggekeer. Met ‘n repertorium wat vanaf Barok- tot hedendaagse musiek strek, tree hy as solis wêreldwyd met van die voorste orkeste op. Hy word dikwels deur die pianis Eric le Sage in kamerwerke begelei. Sleutelopnames: Michael Haydn en Leopold Hoffmann se Fluitkonserte in D (onder Schellenberger); Mozart se 4 fluitkwartette (met Poppen, Schlicht en Queras). Verdere opnames: ‘n versameling Bach-werke (met Kussmaul en andere); Debussy se Syrinx en Bilitis; Ibert en Khatsjatoerian se fluitkonserte (lg. deur Rampal verwerk); R. Strauss se Fluitsonate in E mol; Telemann se Fluitkonserte in D en in G, Konsert vir 2 fluite en viool, Konsert vir fluit, hobo en altviool, en Konsert vir fluit en viool (almal onder Kussmaul); en Widor se Suite vir fluit en klavier (met Le Sage).

Paik, Kun Woo (1946-), Koreaanse pianis. Hy het in 1971 sy debuut in New York gemaak en drie jaar later in Londen begin optree. Sy opnames van Prokofiëf se volledige klavierkonserte onder Antoni Wit word onder die beste weergawes van die siklus gereken. Hy is in Parys woonagtig en blink ook uit in Franse musiek. Verdere opnames: versamelings solowerke van Fauré en Liszt.

Paillard, Jean-Francois (1928-2013), Franse dirigent. Hy het aan die Parys Konserwatorium en die Salzburg Mozarteum studeer, en het ook 'n graad in wiskunde aan die Sorbonne verwerf. In 1953 het hy ‘n instrumentele ensemble gestig wat 6 jaar later die Paillard Kamerorkes sou word. Hulle het wyd deur Europa en Noord-Amerika getoer en vele opnames van Barokmusiek gemaak. Daaronder tel die gewilde Adagio van Albinoni, wat in die klankbaan van die Australiese rolprent Gallipoli (1981) gebruik is. As skrywer het hy die reeks Archives de la Musique Instrumentale geredigeer en in 1960 is sy boek oor Franse klassieke musiek gepubliseer. Opnames: Corrette se Laudate Dominum; Delalande se Premier Caprice ou Caprice de Villers-Cotterets; Handel se Watermusiek en Koninklike Vuurwerkemusiek; Lully se Dies irae en Te Deum, en uittreksels uit sy operas Armide en Isis; Mondonville se Dominus Regnavit en Venite Exultemus.

Païta, Carlos (1932-), Argentynse dirigent. Sy vader was van Hongarye en sy moeder was 'n Italiaanse sangeres. As jongeling het hy inoefeninge van die legendariese dirigent Wilhelm Furtwängler by die Teatro Colón in Buenos Aires bygewoon. Later het hy dirigeerkuns in die VSA onder Artur Rodzinski studeer. Sy professionele loopbaan is in 1956 by die Teatro Colón afgeskop en in 1966 is sy debuut met die Stuttgart Radio Simfonie-orkes gemaak. In 1968 het hy na Europa verhuis, waar hy as gasdirigent met bekende orkeste in Londen, Amsterdam, Moskou en elders sou optree. Hy het in 1978 tydens die Praag Lentefees 'n uitvoering van Berlioz se Roméo et Juliette gedirigeer, met 'n opname wat gemaak is. Sy Amerikaanse debuut is in 1979 met die Houston Simfonie-orkes gemaak. Hy het 'n groot aantal opnames vir sy eie platemaatskappy Lodio gemaak, wat straks die rede is waarom hy as 'buitestaander' glad nie in gesaghebbende musiekgidse soos Gramophone en Penguin genoem word nie. Nietemin het talle van sy opnames gesogte versamelaarsitems geword. Daaronder tel 'n hele aantal orkeswerke van Beethoven, Dvorák, Tsjaikofski en Wagner, asook Verdi se Requiem met die Koninklike Filharmoniese Orkes en bekende soliste. Sy eerste opname, van orkesuittreksels uit enkele Wagner-operas met twee Londense orkeste, is in 1968 met 'n Grand Prix du Disque bekroon. Tien jaar later het hy die prestasie herhaal vir sy opname van Berlioz se Symphonie Fantastique met die Londense Simfonie-orkes. Van sy beste opnames is gemaak met 'n orkes wat spesiaal vir hom saamgestel is, die Filharmoniese Simfonie-orkes. Hy het hul ook in konserte in Europa gedirigeer. Sedert 2003 is hy in Genève, Switserland woonagtig. Verdere opnames: simfonieë van Brahms (nr. 1), Bruckner (nr. 8), Dvorák (nr. 7) en Tsjaikofski (nr. 6); 'n versameling Rossini-ouvertures; en uittreksels uit Götterdämmerung met Ute Vinzing en James King as soliste.

Paley, Alexander (1956-), Moldawies-gebore pianis. Hy het aan die Musiekskool in sy geboortestad Kishinef studeer en sy eerste konsert op dertien gegee. Drie jaar later het hy die Moldawiese nasionale musiekkompetisie gewen. Vervolgens is hy na Moskou vir studies aan die stad se beroemde Konserwatorium, waar sy leermeesters Bella Dawidowitsj en Wera Gornstajewa ingesluit het. Hy het in 1981 gegradueer en daarna wyd deur Europa opgetree.   In 1988 het hy na die VSA geëmigreer. Sy repertorium strek vanaf Scarlatti tot by Bartók. Hy het Weber se volledige werke vir soloklavier in voortreflike vertolkings opgeneem.

Palm, Siegfried (1927-2005), Duitse tjellis. Hy was ‘n tjellis in die Lübeck munisipale orkes (1945-7), die Noordwes-Duitse Radio Simfonie-orkes (1947-62) en die Keulense Radio Simfonie-orkes (1962-7). Intussen was hy ook ‘n lid van die Hartmann Kwartet (1951-62). Vanaf 1962 het hy as solis met bekende orkeste opgetree en het hy meesterklasse in tjello aan die Keulense Konserwatorium gegee. Hy het mettertyd direkteur van laasgenoemde geword, en voorts was hy direkteur van die Deutsche Oper in Berlyn (1977-81). In 1982 het hy die rol van die musiekonderwyser in die Duitse rolprent Doktor Faustus gespeel. Sy debuut by die Salzburg-fees is eers laat in sy loopbaan, in 1985, gemaak. Hy ‘n tegniek ontwikkel om avant garde werke te speel en het die eerste uitvoerings van talle werke deur Blacher, Ligeti, Penderecki, Xenakis en Zimmermann en ander komponiste gegee. Daaronder tel Penderecki se Capriccio per Siegfried Palm (1968). Hy het 'n tjello bespeel wat in 1708 gemaak is en tevore deur Julius Klengel gebruik is. Met die pianis Aloys Kontarsky as vennoot het hy ‘n versameling werke van Webern, Zimmermann en ander hedendaagse komponiste opgeneem.

Palmer, Felicity (1944-), Engelse mezzosopraan. Sy het aanvanklik as sopraan in professionele kore soos die John Alldis Koor gesing. In 1970 het sy die Kathleen Ferrier-prys gewen en haar Londense debuut gemaak, in Purcell se opera Dioclesian. Verdere debute het plaasgevind in Houston (1973), by die Glyndebourne-fees (1985), La Scala (1987) en die Salzburg-fees (1988). Sy is ewe bekend in opera en konsertwerke oor ‘n wye repertorium. Onder haar beste rolle tel Florence Pike in Albert Herring, Kabanicha in Kata Kabanova, Elettra in Idomeneo, die Abdes in Suor Angelica, Zita in Gianni Schicchi, die Towenares in Dido and Aeneas, die Grafin in Pique Dame, en die titelrolle in Savitri en Elektra. Daarby is sy begaafd in die operettes van Gilbert en Sullivan, in rolle soos Buttercup in HMS Pinafore, Katisha in The Mikado en Dame Carruthers in The Yeomen of the Guard. Sleutelopnames: Janácek se Glagolitic Mass (onder Rattle) en opera Kata Kabanova (onder Andrew Davis, DVD). Verdere opnames: Bach se Magnificat in E mol; Beethoven se negende simfonie (onder Sinopoli) en Mis in C; Elgar se The Dream of Gerontius; Handel se Dixit Dominus en oratorium Judas Maccabeus; Hoddinott se Sinfonia fidei; madrigale van Monteverdi en sy Vespro della Beata Vergine; Mozart se Mis nr. 12; Pergolesi se Stabat Mater; Schumann se Szenen aus Goethes Faust; die genoemde operettes; die genoemde operas van Britten, Holst, Mozart, Puccini, Purcell, R. Strauss en Tsjaikofski, asook Lo sposo deluso en Moses und Aron.

Panerai, Rolando (1924-), Italiaanse bariton. Nadat hy in 1946 in Florence gedebuteer het as Enrico in Lucia di Lammermoor, was hy in 1947/8 aan die Napels Opera verbonde. Verdere debute het gevolg by La Scala (1952), die Salzburg-fees (1957), San Francisco (1958) en Covent Garden (1960). Hy het in 1955 opgetree in die verhoogpremière van Die Vurige Engel in Venesië, waarin hy die rol van Ruprecht geskep het, en twee jaar later ook in die Italiaanse première van Mathis der Maler. Met sy ryk, ferm stem het hy uitgeblink in Italiaanse operarolle soos Belcore in L'elisir d'amore, Silvio in I Pagliacci, Alfio in Cavalleria rusticana, Guglielmo in Così fan tutte, Marcello in La Bohème, Sharpless in Madama Butterfly, Figaro in Il barbiere di Siviglia (dié van Paisiello), Ford in Falstaff, die Graaf in Il Trovatore en die titelrol in Gianni Schicchi. Opnames: die genoemde operas van Donizetti, Leoncavallo, Mozart, Puccini en Verdi, asook Oberto.

Panizza, Ettore (1875-1967), Argentynse dirigent en komponis van Italiaanse afkoms. Hy het in 1899 in Rome gedebuteer, en was later ‘n dirigent by Covent Garden (1907-14, 1924). Intussen het hy in 1913 Berlioz se beroemde handleiding oor orkestrasie geredigeer. Vanaf 1921 tot 1929 was hy Toscanini se assistent by La Scala, en daarna was hy ‘n dirigent by dieselfde operahuis (1930-2). Hy was vanaf 1934 vir agt jaar aan die Metropolitan Opera verbonde, waar hy historiese opnames van Alceste, Boris Godoenof (in Italiaans), Un ballo in maschera, Otello, Rigoletto, Simon Boccanegra en La Traviata sou dirigeer. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy weer by La Scala gedirigeer (1946-8). Verder was hy vir langer as vier dekades (1921-67) aan die Colón Teater in Buenos Aires verbonde.

Panufnik, Andrzej (1914-91), Pools-gebore dirigent en komponis. Hy het in Warskou en onder Felix Weingartner in Wenen studeer. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy in Duits-besette Pole gebly en patriotiese liedere onder ‘n skuilnaam geskryf. Tydens die onderdrukte Warskou-opstand in 1944 is sy komposisies tot op daardie tydstip helaas vernietig. In 1945/6 was hy dirigent van die Krakow Filharmoniese Orkes en in 1946/7 van die Warskou Filharmoniese Orkes. Hy het ook as gasdirigent van bekende orkeste opgetree, en in 1954 het hy uit protes teen kommunistiese onderdrukking in Pole na Brittanje geëmigreer. In dié land was hy vanaf 1957 vir twee jaar dirigent van die Birmingham Simfonie-orkes, waarna hy hom uitsluitlik op komposisie toegespits het. In 1961 het hy ‘n Britse burger geword en dertig jaar later, in 1991, is hy tot ridder geslaan. As komponis het hy ‘n ballet en talle orkes-, vokale, klavier- en kamermusiekwerke nagelaat.

Pape, René (1964-), Duitse bas. Hy het in die Oos-Duitse stad Dresden grootgeword, waar hy vanaf 1974 tot 1981 in die bekende Kruiskoor gesing het. Sedert 1988 is hy verbonde aan die Duitse Staatsopera in Berlyn, waar hy onder Daniel Barenboim naam gemaak het in die groot Duitse bas-rolle. Daaronder tel Rocco in Fidelio, beide Leporello en die titelrol in Don Giovanni, die titelrol in Le nozze di Figaro, Sarastro in Die Zauberflöte, Orestes in Elektra, Koning Hendrik in Lohengrin, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Hermann in Tannhäuser, Koning Mark in Tristan und Isolde, Fasolt in Das Rheingold en Hunding in Die Walküre. Nog operadebute is gemaak by die Bayreuth-fees (1994), die Metropolitan Opera (1995), Covent Garden (1997), in Parys (1998), Chicago (1999) en San Francisco (2001). Hy blink verder uit as Escamillo in Carmen, Ramphis in Aida en Filips II in Don Carlos, en as konsertsanger. In 2010 het hy die titelrol in ‘n uitstekende opvoering van Boris Godoenof by die Metropolitan Opera gesing. Interessant genoeg is sy eerste CD-opname as solis van orkesliedere deur sy landgenoot Torsten Rasch met die Berlynse Filharmoniese Orkes gemaak, gebaseer op lirieke van die metal-groep Rammstein. Sleutelopnames: Beethoven se Koorfantasie (onder Barenboim, op DVD); Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln (onder Welser-Möst). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Barenboim); Verdi se Requiem; en die operas Fidelio, Lohengrin, Die Meistersinger von Nürnberg, Tannhäuser en Tristan und Isolde.

Pappano, Antonio (1959-), Britse pianis en dirigent van Italiaans-Amerikaanse afkoms. Hy het klavier en komposisie in die VSA studeer en op sewentien as repetiteur by die New York Stadsopera begin werk. Dit is gevolg deur poste in Chicago, by die Bayreuth-fees (waar hy Daniel Barenboim se assistent was), die Noorse Opera (waar hy sy operadebuut gemaak het), Barcelona en Frankfurt. Sedertdien tree hy wêreldwyd as gesogte dirigent op, in beide opera en konserte. In 1991 het hy musiekdirekteur van die Théatre Royal de la Monnaie in Brussels geword, waar hy ook as klavierbegeleier vir talle bekende sangers sou optree. Hy het in 1993 by die Weense Staatsopera gedebuteer, toe hy op die laaste nippertjie vir Christoph von Dohnanyi moes instaan met ‘n opvoering van Siegfried wat hoë lof ingeoes het. Ses jaar later het hy by die Bayreuth-fees met Lohengrin gedebuteer. Hy tree dikwels met die sanger-egpaar Roberto Alagna en Angela Gheorghiu in opnames op, onder meer in ‘n filmweergawe van Tosca. In 2002 het hy Bernard Haitink as musiekdirekteur van Covent Garden opgevolg, met ‘n opvoering van Ariadne auf Naxos om sy termyn by die voorste Britse operahuis in te lui. Met die orkes van die Santa Cecilia Akademie in Rome het hy ‘n aantal uitstekende opnames van Tsjaikofski-werke gemaak. Sleutelopnames (in Londen tensy anders aangedui): Puccini se Messa di Gloria; en die operas Manon (Brussels), Werther, La Bohème, La Rondine, Il Trittico, Don Carlos (Parys, DVD) en Tristan und Isolde. Verdere opnames: Verdi se Requiem; Tsjaikofski se simfonieë nrs. 4 tot 6, Francesca da Rimini, Romeo en Juliet en 1812 Ouverture; en die operas Lulu (DVD), Wintermärchen, Le nozze di Figaro (DVD) en Il trovatore.

Paray, Paul (1886-1979), Franse dirigent en komponis. Hy het in Parys studeer en in 1911 die Prix de Rome gewen. Vanaf 1920 was hy aan die Lamoureux Orkes verbonde, en vervolgens was hy dirigent van die Monte Carlo Orkes (1928-32) en die Colonne Orkes in Parys (1932-40, 1944-52). Met laasgenoemde ensemble het hy in 1947 die eerste Edinburgh-fees geopen. Vanaf 1952 tot 1963 was hy musiekdirekteur van die Detroit Simfonie-orkes, met wie hy roem verwerf het vir hul briljante uitvoerings en opnames van veral Franse musiek. Sleutelopnames: ‘n versameling ouvertures van Auber en Suppé (1959). Verdere opnames: enkele simfonieë van Dvorák en Saint-Saëns; en ander orkeswerke van Adam, Auber, Berlioz, Bizet, Chabrier, Gounod, Herold, Ibert, Massenet, Meyerbeer, Offenbach, Ravel, Rossini, Roussel, Saint-Saëns en Thomas.

Parkman, Stefan (1952-), Sweedse tenoor en dirigent. Hy het op skool in die seunskoor van die Uppsala Katedraal gesing. As student aan die Koninklike Musiekkollege in Stockholm het hy in die beroemde Eric Ericsson Kamerkoor gesing en viool in die Uppsala Kamerorkes gespeel. Hy het in 1983 ‘n dirigent van die Uppsala Akademiese Kamerkoor geword. Tans is hy hoofdirigent van die Deense Nasionale Radiokoor (sedert 1989) en die Sweedse Radiokoor (sedert 2002). As gasdirigent verskyn hy met bekende kore in Londen, Berlyn en Amsterdam, asook by operahuise en met simfonie-orkeste in die Skandinawiese lande. As sanger tree hy merendeels op in gewyde werke van die Barokera, soos Bach se Sint Mattheuspassie waarin hy die rol van die Evangelis sing terwyl hy dirigeer. Hy is voorts ‘n hoogleraar in koordirigeer aan die Uppsala Universiteit en gee ook onderrig aan sy alma mater in die Sweedse hoofstad. In 1997 is hy deur die Deense Koningin Margerethe II tot ridder geslaan, en in die jaar daarop het hy ‘n lid van die Koninklike Sweedse Musiekakademie geword. Opnames: 2 versamelings koorwerke van Brahms, insluitend die Marienlieder, 7 Motette, 12 Gesänge, 6 Kwartette en Zigeunerlieder; Reger se 3 Geistliche Gesänge, opus 110 en 3 Gesänge, opus 39; R. Strauss se koorwerke An den Baum Daphne, Der Abend, Hymne, Deutsche Motette en Die Göttin in Putzimmer.

Parrott, Andrew (1947-2012), Engelse dirigent en musiekgeleerde. Aanvanklik was hy musiekdirekteur van Merton College, Oxford, waar hy navorsing in die uitvoering van sestiende- en sewentiende-eeuse musiek gedoen het. In 1973 het hy die Taverner-Koor gestig, wat later uitgebrei is tot die Taverner Consort and Players. Hulle sou wêreldbekend raak vir hul hoogstaande uitvoerings en opnames van Renaisance- en Barokmusiek volgens eietydse praktyke. In 1977 het sy debuut by die Londense Proms plaasgevind en tien jaar later by die Salzburg-fees, in beide gevalle met uitvoerings van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine. Hy het die Londense première van Bach se Mis in B mineur met eietydse instrumente gegee, en in 1987 in Cheltenham ook die première van Judith Weir se A Night at the Chinese Opera. Vanaf 1989 was hy artistieke direkteur van die Kent Opera en in 1993 het hy by Covent Garden gedebuteer. Hy was een van die voorste dirigente van vroeë musiek van sy tyd en was daarbenewens ‘n medewerker van die komponis Tippett. Sleutelopnames: ‘n versameling Kersfeesmusiek van Praetorius; Schütz se Weihnachtshistorie. Verdere opnames: kerkmusiek van Castello, Gesualdo, Grandi, Legrenzi en Lotti; Bach se Mis in B mineur; ‘n versameling instrumentele musiek en ‘n versameling kerkmusiek van G. Gabrieli; Handel se Carmelite Vespers en Israel in Egypt; die genoemde werk van Monteverdi; Pärt se Fratres, Magnificat en 7 Magnificat Antiphons; ‘n versameling koorwerke van Tallis, insluitend Spem in alium; Tavener se Canticle of the Mother of God en Ikon of the Nativity; versamelings Kersfeesmusiek van Cererols, Charpentier, Greatorex, Pascha, Vidales en andere; en die opera Dido and Aeneas.

Parry, David (1949-), Engelse dirigent. Ná studies aan die Cambridge Universiteit en die Koninklike Musiekakademie het hy dirigeerkuns onder die legendariese Sergiu Celibidache bestudeer. Aanvanklik was hy residensiële dirigent by Opera Noord, en vanaf 1983 tot 1987 was hy musiekdirekteur van Opera 80. Hy is sedert 1992 musiekdirekteur van die Almeida Opera, en sy debuut by die Glyndebourne-fees is in 1996 met Cosi fan tutte gemaak. As gasdirigent verskyn hy gereeld by die Engelse Nasionale Opera, waar hy die Philharmonia Orkes dirigeer. Hy spesialiseer in minder bekende operas van Donizetti, Mercadante en Rossini, asook in Engelse weergawes van bekende operas uit die agtiende en negentiende eeue. Voorts het hy die Roemeense violis Cristina Anghelescu in haar sleutelopname van Lloyd se Konsert vir Viool en Strykers en Konsert vir Viool en Houblasers begelei. Opnames: Bizet se Carmen (in Engels); Donizetti se L’Assedio di Calais, Don Pasquale, The Elixir of Love (al 3 in Engels), Emilia di Liverpool, La Fille du Regiment, La Romanzesca e l’uomo nero, Maria de Rudenz, Rosmonda d’Inghilterra en Zoraida di Granata; Gounod se Faust (in Engels); Leoncavallo se I Pagliacci (in Engels); Mercadante se Emma d’Antiochia en Orazi e Curiazi; Meyerbeer se Il Crociato in Egitto; Mozart se Idomeneo (in Engels); Pacini se Maria regina d’Inghilterra; Rossini se Bianca e Falliero, Otello, Ricciardo e Zoraide en The thieving magpie (lg. in Engels); R. Strauss se Der Rosenkavalier (in Engels); Verdi se Aida, Ernani en Nabucco (almal in Engels); en Wagner se The Flying Dutchman (in Engels).

Parsons, Geoffrey (1929-95), Australiese pianis. Hy het in 1950 as klavierbegeleier vir sy landgenoot, die bas-bariton Peter Dawson, na Londen gegaan en hom daar gevestig. Daarna het hy oor meer as vier dekades wêreldwyd as begeleier vir groot liedere-sangers in hul uitvoerings en opnames opgetree. Onder hulle tel Janet Baker, Barbara Bonney, Nicolai Gedda, Hakan Hagegard, Thomas Hampson, Hans Hotter, Ann Murray, Jessye Norman en Elisabeth Schwarzkopf. In 1977 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, en in dieselfde jaar is die OBE aan hom toegeken.

Partridge, Ian (1938-), Engelse tenoor. Nadat hy sy loopbaan as ‘n klavierbegeleier begin het, het hy vanaf 1958 vir vier jaar in die koor van die Westminster Katedraal gesing. Sedert sy verhoogdebuut in 1958 in Bexhill sing ook hy opera, met verdere debute wat gemaak is by Covent Garden (1969) en die Salzburg-fees (1989). Onder sy rolle tel Artabenes in Artaxerxes. Met sy soet toonkleur en intense sang is hy merendeels bekend vir sy meesterlike vertolkings van Duitse en Engelse liedere, dikwels met sy suster Jennifer Patridge (1942-) as klavierbegeleier. Daarbenewens is hy ‘n lid van die vokale ensemble Pro Cantione Antiqua vir die uitvoering van vroeë musiek. In 1991 is die CBE aan hom toegeken. Sleutelopname: Vaughan Williams se liedere-siklus On Wenlock Edge, asook sy 10 Blake Songs en 4 Hymns. Verdere opnames: Boulanger se Psaume 24 en Psaume 130; ‘n versameling liedere van Byrd (met die ensemble Phantasm); M. Charpentier se Kersfeesmis; Handel se Alexander's Feast, Dixit Dominus, Ode for St Cecilia's Day en The Triumph of Time and Truth; Holst se Psalm 86; Schubert se liedere-siklus Die schöne Müllerin en Schumann se liedere-siklusse Liederkreis en Dichterliebe (almal met Jennifer); ‘n versameling motette van Schütz (onder Edgar Fleet); vele liedere van Bach, Beethoven, Britten, Finzi, Walton en Warlock; en die operas Les Troyens, The Fairy Queen en The Indian Queen.

Parys Opera, Franse operahuis wat oorspronklik in 1671 geopen en in 1763 deur ‘n brand verwoes is. Ná verskeie verhuisings is die huidige teater in 1875 geopen, maar sedert die opening van die Bastille Opera in 1990 word die Parys Opera merendeels vir balletuitvoerings gebruik.

Patané, Giuseppe (1932-89), Italiaanse dirigent. Hy het sy debuut in 1951 in Napels met La Traviata gemaak, en was daarna tot 1956 ‘n assistent-dirigent by die San Carlo Teater. By die Stuttgart Staatsopera het hy in 1961 ‘n opvoering van Tosca met Renata Tebaldi in die titelrol gedirigeer, met ‘n filmopname wat daarvan getuig. Vervolgens was hy dirigent van die Deutsche Oper in Wes-Berlyn (1962-8), mede-hoofdirigent van die Amerikaanse Simfonie-orkes (1982-4), en hoofdirigent van die Mannheim Nasionale Teater (vanaf 1987) en die München Radio-orkes (vanaf 1988). Verder debute is gemaak in San Francisco (1967), en by Covent Garden (1973) en die Metropolitan Opera (1975). Hy was wêreldbekend in Italiaanse opera van die Romantiese tydvak. In 1974 het hy ‘n opvoering van Norma by die Théâtre Antique Orange in Provence met Montserrat Caballé in die titelrol gedirigeer, wat eweneens verfilm is. Tragies genoeg het hy gesterf aan ‘n hartaanval terwyl hy die komiese opera Il barbiere di Siviglia dirigeer het. Sleutelopnames: Norma (Orange, op DVD); Il barbiere di Siviglia (Bologna). Verdere opnames: die operas I Capuleti ed i Montecchi, Iris, I Pagliacci, Gianni Schicchi, Suor Angelica en Il Tabarro.

Patzak, Julius (1898-1974), Oostenrykse tenoor. Hy was aanvanklik ‘n dirigent, maar het in sy laat twintigs begin opera sing. Sy operadebuut is in 1926 in Reichenberg as Radames in Aida gemaak. Vanaf 1928 tot 1945 was hy aan die München Opera verbonde en daarna tot 1960 aan die Weense Staatsopera. Intussen het debute by beide Covent Garden en die Salzburg-fees in 1938 plaasgevind. Hy was ‘n uitmuntende sanger in rolle soos Florestan in Fidelio, Eisenstein in Die Fledermaus, Mime in Siegfried en die titelrol in Palestrina. Veral as Florestan is hy as ongeëwenaard beskou, met opnames van sy Salzburg-optredes in 1948 en 1950 onder Wilhelm Furtwängler wat daarvan kan getuig. Hy het verder Mime gesing in Furtwängler se Roomse opname van die Ring in 1953. Naas sy operaloopbaan was hy begaafd in konsertwerke en Duitse liedere. In 1951 het hy as solis uitgeblink in ‘n Weense opname van Beethoven se negende simfonie, nogeens onder Furtwängler. Hy het in die jaar daarop met Kathleen Ferrier in ‘n legendariese opname van Mahler se Das Lied von der Erde onder Bruno Walter gesing. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Jascha Horenstein); liedere van Brahms; die operette Die Fledermaus; en die opera Salome.

Pauk, György (1936-), Hongaars-gebore violis. Hy was ‘n wenner van die Paganini-kompetisie in Genoa (1956), die München-kompetisie (1957) en die Long-Thibaud kompetisie in Parys (1959). Intussen het hy in 1956 sy geboorteland verlaat, en vyf jaar later is sy Britse debuut gemaak. Hy het hom in dié land gevestig en in 1967 'n Britse burger geword. Naas sy solo-optredes met bekende orkeste het hy in ‘n trio met die tjellis Ralph Kirshbaum en die pianis Peter Frankl gespeel. Sy bekendheid lê merendeels in moderne musiek, soos dié van sy voormalige landgenoot Bartók. Hy het in eerste uitvoerings van werke deur Lutoslafski, Maxwell Davies, Penderecki, Tippett en andere gespeel. Vanaf 1964 was hy 'n hoogleraar in viool aan die Koninklike Manchester Musiekkollege, en sedert 1987 gee hy onderrig aan die Koninklike Musiekakademie. Opnames: Bartók se vioolkonserte, vioolsonates en ander kamerwerke; en Mozart se vyfde vioolkonsert.

Paumgartner, Bernhard (1887-1971), Oostenrykse dirigent, musiekgeleerde en komponis. Hy het in 1911/2 die Weense Opera gedirigeer en later dikwels by die Salzburg-fees opgetree. Verder was hy direkteur van die Salzburg Mozarteum (1917-38 en weer 1945-59), waar sy leerlinge ‘n musiekreus soos Herbert von Karajan ingesluit het. Hy het die Salzburg Mozart Kamerorkes gestig en in 1965 die VSA besoek. Onder sy publikasies tel boeke oor Bach, Mozart en Schubert.

Paur, Emil (1855-1932), Oostenrykse dirigent. Hy het in Wenen studeer en in 1893 Artur Nikisch as dirigent van die Boston Simfonie-orkes opgevolg. Vervolgens was hy vanaf 1898 dirigent van die New York Filharmoniese Orkes, vanaf 1903 van die Pittsburgh Orkes en vanaf 1912 van die Berlynse Koninklike Opera.

Pavarotti, Luciano (1936-2007), Italiaanse tenoor. Hy het in 1961 die internasionale kompetisie in Reggio Emilia gewen en in dieselfde jaar sy operadebuut gemaak, as Rodolfo in La Bohème. Dit het plaasgevind in sy tuisdorp Modeno. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1963), die Glyndebourne-fees (1964), La Scala (1965), San Francisco (1967) en die Metropolitan Opera (1968), in die meeste gevalle ook as Rodolfo. Hy het in 1967 by La Scala in ‘n filmopname van Verdi se Requiem onder Herbert von Karajan gesing. Sy debute by die Salzburg-fees is gemaak in 1976 (liedere) en 1978 (opera). Met sy kragtige, liriese stem, besondere karakterisering en musikale intelligensie het hy wêreldberoemd geraak in Italiaanse opera, veral dié van Bellini, Donizetti, Puccini en Verdi. Daaronder tel rolle soos Elvina in La sonnambula, Pollione in Norma, Faust in Mefistofele, Riccardo in Anna Bolena, Nemorino in L'elisir d'amore, Fernando in La Favorita, Edgardo in Lucia di Lammermoor, Leicester in Maria Stuarda, Enzo in La Gioconda, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly, Des Grieux in Manon Lescaut, Calaf in Turandot, Arnoldo in Guglielmo Tell, Radames in Aida, Riccardo in Un ballo in maschera, Oronte in I Lombardi, Rodolfo in Luisa Miller, Macduff in Macbeth, die Hertog in Rigoletto, Alfredo in La Traviata en Manrico in Il Trovatore, asook die titelrolle in Andrea Chénier, L'amico Fritz, Idomeneo, Don Carlos en Otello. Sy loopbaan het ‘n hoogtepunt bereik toe hy in 1990 die aria Nessun dorma uit Turandot tydens die eindstryd van die Wêreld Sokkerbeker gesing het. Vanaf die 1990’s het hy met José Carreras en Placido Domingo die gewilde Drie Tenore gevorm, hoewel hy in dié tyd dikwels eerder gebulder as gesing het. In sy talle opnames het hy dikwels met die sopraan Joan Sutherland (met wie hy in 1965 deur Australië getoer het) en onder die dirigeerstaf van Richard Bonynge gesing. Opnames: die dodemisse van Berlioz en Donizetti; die genoemde operas van Bellini, Boito, Donizetti, Giordano, Mascagni, Mozart, Ponchielli, Puccini, Rossini en Verdi, asook Beatrice di Tenda, I Puritani, La Fille du régiment en La Gioconda; en vele Italiaanse liedere.

Pearlman, Martin (1945-), Amerikaanse klawesimbelspeler, dirigent en komponis. Hy het komposisie aan Cornell Universiteit bestudeer, waarna hy met ‘n Fulbright-beurs na Nederland is vir klawesimbelstudies onder Gustav Leonhardt in 1967/8. Terug in die VSA het hy ‘n meestersgraad in komposisie aan Yale Universiteit voltooi en klawesimbel onder Ralph Kirkpatrick bestudeer. Hy het in 1973 die eerste permanente Barokorkes in Noord-Amerika gestig, genaamd ‘Banchetto Musicale’. In die jaar daarop het hy die Brugge-kompetisie vir klawesimbel gewen. Sy orkes is in 1992 die ‘Boston Baroque’ hernoem, waarvan hy die musiekdirekteur is. ‘n Kamerkoor is deel van die ensemble met wie hy roem verwerf het in ‘n repertorium vanaf Monteverdi tot by Beethoven. Hulle het ook die première gegee van sy voltooiing en orkestrasie van Mozart se Lo Sposo Deluso. Sleutelopname: Bach se 4 Orkessuites. Verdere opnames: Bach se volledige Brandenburgkonserte; Mozart se simfonie nr. 41.

Pears, Peter (1910-86), Engelse tenoor. Aanvanklik was hy ‘n orrelis in Oxford (1928/9) en musiekdirekteur van die Grange Skool in Crowborough (1930-4). Sanglesse onder die mezzosopraan Elena Gerhardt het gevolg, waarna hy ‘n koorsanger was (1934-8). Vanaf 1937 het hy in liedere-voordragte met die komponis Benjamin Britten as klavierbegeleier begin bekend raak, en twee jaar later het hulle saam in die VSA gaan toer. Hy het in 1942 sy verhoogdebuut in Londen gemaak, in die titelrol van Les contes d'Hoffmann. Daarna was hy verbonde aan die Sadler’s Wells Opera (1943-6) en die Engelse Nasionale Opera (vanaf 1946). In 1948 het hy met Britten die Aldeburgh-fees in Suffolk gestig, en nog debute is gemaak by die Salzburg-fees (1952) en die Metropolitan Opera (1974). Dwarsdeur sy lang loopbaan was hy ‘n toegewyde vertolker en homoseksuele metgesel van Britten, wat ‘n hele aantal rolle in sy operas en liedere-siklusse vir hom geskryf het. Onder dié rolle tel Captain Vere in Billy Budd, Aschenbach in Death in Venice, Essex in Gloriana, Sir Philip in Owen Wingrave, Peter Quint in The turn of the Screw, die Mannekoor in The Rape of Lucretia, en die titelrolle in Peter Grimes en Albert Herring.

So vroeg in sy loopbaan as 1943 het Pears in die eerste uitvoering van Britten se Serenade vir tenoor, horing en strykers opgetree, en met sy minnaar het hy ook werke van Purcell geredigeer. Verder het hy in 1954 die rol van Pandarus tydens die première van Walton se opera Troilus and Cressida geskep. Agt jaar later het hy as solis in die eerste uitvoering van Britten se War Requiem in Coventry gesing, tydens die inwyding van die herboude katedraal. Onder die ander rolle waarin hy uitgeblink het, tel die Keiser in Turandot en Vasek in Die Verruilde Bruid. Daarby was hy begaafd in Engelse luitliedere, in Bach se musiek, en in liedere van Schubert en Schumann. Hy het in 1951 as solis in ‘n opname van Bach se Mis in B mineur onder die komponis George Enescu gesing. In 1957 is die CBE aan hom toegeken en in 1978 is hy tot ridder geslaan. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Giulini); Britten se War Requiem en talle ander van sy vokale werke; liedere van Britten en Walton, asook laasgenoemde se Facade; kerkmusiek van Elgar; Elisabethaanse luitliedere (begelei deur Julian Bream); orkesliedere van Grainger; Schubert se liedere-siklus Winterreise (met Britten); Schumann se Szenen aus Goethes Faust (as Pater Ecstaticus); Schütz se Sint Mattheuspassie; 7 van Wolf se Mörike Lieder en 3 Kersfeesliedere (beide met Britten); en die genoemde operas van Britten en Puccini, asook The Fairy Queen.

Peerce, Jan (1904-84), Amerikaanse tenoor. Nadat hy aanvanklik as violis in dansorkeste gespeel het, het hy in 1938 sy operadebuut in Philadelphia as die Hertog in Rigoletto gemaak. Vanaf 1941 tot 1966 was hy aan die Metropolitan Opera verbonde, waar hy verskeie kere in Toscanini se opera- uitsendings oor die radio gesing het. Onder die maestro het hy in historiese opnames van Beethoven se negende simfonie en die operas Fidelio, Un ballo in maschera en La Traviata opgetree. Intussen het hy in 1956 die eerste Amerikaner sedert die Tweede Wêreldoorlog geword om by die Bolsjoi Teater te sing. Later in sy loopbaan het hy meesal in konserte opgetree, met ‘n Broadway-debuut wat in 1971 plaasgevind het. Hy het in 1982 uitgetree.

Peeters, Flor (1903-86), Belgiese orrelis en komponis. Hy was vanaf 1925 orrelis in Mechelen Katedraal, asook ‘n hoogleraar in orrel aan die Lemmens Instituut (1925-52), die Koninklike Konserwatorium in Ghent (1931-38), Tilburg (1935-48) en die Koninklike Konserwatorium in Antwerpen (1948-68). In 1952 het hy direkteur van laasgenoemde geword. Hy het wêreldwyd as solis getoer en vroeë orrelwerke uit Vlaandere, Nederland en Engeland geredigeer. Daarbenewens het hy ‘n invloedryke orrelverhandeling geskryf. In 1971 het hy ‘n Belgiese baron geword.

Pelletier, Wilfred (1896-1982), Kanadese dirigent. Nadat hy 'n assistent-dirigent by die Montreal Opera en vanaf 1921 by die Metropolitan Opera was, was hy vanaf 1928 tot 1950 as dirigent aan laasgenoemde operahuis verbonde. Daarby het hy opera in Chicago en San Francisco gedirigeer, asook simfonie-konserte in Montreal (1935-51). Terselfdertyd was hy direkteur van die Montreal Konserwatorium (1943-61) en later dirigent van die Quebec Simfonie-orkes (1951-66). In 1968 is die Orde van Kanada aan hom toegeken. By die Met het hy historiese opnames van Carmen en Faust (1940) gedirigeer.

Pena, Paco (1942-), Spaanse kitaarspeler en komponis. Hy is ‘n bekende vertolker van die flamenco-styl, en sedert 1985 is hy ook ‘n hoogleraar in Rotterdam. In 1990 het hy ‘n koorwerk genaamd Misa flamenca gekomponeer.

Pennario, Leonard (1924-2008), Amerikaanse pianis en komponis. Hy het as sewejarige sy openbare debuut in ‘n afdelingswinkel gemaak. Op 12 jaar is sy orkesdebuut met die Dallas Simfonie-orkes in Grieg se klavierkonsert gemaak. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy militêre diens verrig. In 1943 is sy New York-debuut met die stad se filharmoniese orkes onder Artur Rodzinski gemaak. Hy het vele toere as solis onderneem, met ‘n Europese debuut wat in 1952 plaasgevind het. Vier jaar later het hy die pragtige werk vir klavier en orkes, Midnight on the Cliffs, vir die rolprent Julie gekomponeer. Vanaf die 1960’s het hy kamermusiek in ‘n trio met die violis Jasja Heifetz en die tjellis Gregor Piatigorski gespeel. Die komponis Miklos Rosza het ‘n klavierkonsert vir hom geskryf, waarvan die première met die Los Angeles Filharmoniese orkes onder Zubin Mehta gegee is. Onder sy meer as 60 opnames tel werke van Bartók, Gershwin, Gottschalk en Rachmaninof.

Penny, Andrew (?-), Engelse dirigent. Aanvanklik het hy klarinet aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester studeer. Vervolgens het dirigeerstudies onder bekende musici soos Charles Groves en Edward Downes plaasgevind, en het hy as assistent met Richard Hickox en Elgar Howarth gewerk. Hy dirigeer dikwels die RTE Konsertorkes en die Nasionale Simfonie-orkes van Ierland, beide in Dublin gebaseer. Met laasgenoemde orkes het hy ‘n bekroonde siklus van Arnold se volledige simfonieë gemaak. Sleutelopnames: die genoemde siklus van Arnold, asook sy 4 Cornish Dances, 8 English Dances, 4 Irish Dances, 4 Scottish Dances en 4 Welsh Dances (Queensland Simfonie-orkes). Verdere opnames: Parry se tweede simfonie; Sullivan se ballet L’Ile ecchantée en suites Thespis, King Arthur, Macbeth en The Merry Wives of Widor; en ‘n versameling rolprentmusiek van Vaughan Williams.

Perahia, Murray (1947-), Amerikaans-gebore pianis wat as driejarige begin het om klavierlesse te ontvang. Terwyl hy nog studeer het, het hy kamermusiek met sulke bekendes soos Pablo Casals en Mieczyslaf Horszowski gespeel. In 1968 het sy debuut in New York plaasgevind en vier jaar later het hy die Leeds-klavierkompetisie gewen. Hy het daarop deur Europa getoer en hom mettertyd in Londen gevestig. Hy was vanaf 1982 vir sewe jaar mede-artistieke direkteur van die Aldeburgh-fees. In 1989 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, maar in die vroeë 1990’s was hy vir ‘n aantal jare gedwing om uit te tree nadat sy hand ‘n fratsbesering opgedoen het. Hy het die gedwonge onderbreking van sy loopbaan benut om musiek te oorpeins, sodat hy met sy hertoetrede wegbeweeg het van Romantiese virtuoosmusiek na die klassieke komponiste, veral Bach. In 2004 is hy tot ere-ridder geslaan. Oor die jare heen het hy beroemd geraak vir die natuurlikheid van sy spel, gekenmerk deur intelligensie, helderheid, warmte, verfyndheid en uitdrukkingskrag sonder om in enige opsig te oordryf. Dit verbaas dus nie dat hy al vir etlike dekades as een van die voorste pianiste ter wêreld beskou word nie.

Sleutelopnames: J.S. Bach se volledige klavierkonserte, die Brandenburgkonsert nr. 5 en Konsert vir fluit, viool en klawesimbel (in almal as solis en dirigent), asook die Goldberg Variasies en Italiaanse Konsert; Beethoven se volledige klavierkonserte (onder Haitink); Chopin se 4 Ballades, 12 Etudes (opus 10), 12 Etudes (opus 25), Impromptus 1-4; Liszt se konsertparafrases van Schubert-liedere; 15 van Mendelssohn se Lieder ohne Worte; Mozart se volledige klavierkonserte (met die Engelse Kamerorkes wat hy vanaf die klawerbord dirigeer), sy Andante en Variasies K501 (met Lupu, Aldeburgh), en klaviersonates nrs. 8, 11 en 15; Schubert se Fantasia in F mineur (met Lupu); Schumann se Davidsbündlertänze en Fantasiestücke. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Chopin en Mendelssohn, asook die enkeles van Grieg en Schumann; Beethoven en Mozart se kwintette vir klavier en houtblasers (met lede van die Engelse Kamerorkes); Schröter se klavierkonsert; 4 verwerkings van Bach-kore deur Busoni; Bach se Engelse Suites; en solowerke van Brahms, Chopin, Liszt, D. Scarlatti, Schubert en Schumann.

Perlemuter, Vlado (1904-2002), Pools-gebore Franse pianis. Hy het vanaf 1925 oor ‘n tydperk van twee jaar al Ravel se klaviermusiek geleer en dit vir die komponis gespeel. Naas Franse musiek was hy bekend in Chopin, met uitstekende opnames wat gemaak is van sy derde klaviersonate en ander solowerke. Hy was vanaf 1950 tot 1977 ‘n hoogleraar in klavier aan die Parys Konserwatorium. Verdere opnames: klavierkwintette van Fauré en Franck (met die Parrenin Kwartet).

Perlman, Itzhak (1945-), Israelies-gebore violis van Poolse afkoms. As vierjarige het hy polio opgedoen het en dus speel hy sittende, maar dit het hom nie verhinder om as tienjarige al in radio-uitsendings te speel nie. Vanaf 1958 het hy aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer en vyf jaar later is sy openbare debuut in dieselfde stad gemaak. Hy het in 1964 die Leventritt-prys gewen. Verdere debute het plaasgevind in Londen (1968) en by die Salzburg-fees (1972). In 1974 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Met sy enorme repertorium, briljante tegniek, besondere aandag aan detail, en sy warm, ryk spel verskyn hy wêreldwyd as solis. In kamermusiek speel hy dikwels as vennoot van Asjkenazy, Barenboim, Previn, Zukerman en ander groot musici. Hy dirigeer ook soms, insluitend beroemde orkeste soos die Berlynse Filharmonie. Interessant genoeg spandeer hy min tyd aan inoefening en maak eerder staat op sy buitengewone musikale aanvoeling. Sleutelopnames: Beethoven se vioolkonsert (onder Giulini), Driedubbele Konsert (onder Barenboim), en vioolsonates nrs. 5 en 9 (met Asjkenazy); Brahms se vioolkonsert (onder Barenboim, 1992 op DVD); ‘n versameling solowerke van Kreisler (begelei deur Samuel Sanders); Mozart se Sinfonia concertante (met Zukerman, onder Mehta); Saint-Saëns se Havanaise en Inleiding en rondo capriccioso (onder Martinon); Wieniawski se 2 vioolkonserte (onder Ozawa, 1973). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Barber, Bartók, Ben-Haim, Berg, Brahms, Bruch, Castelnuovo-Tedesco, Conus, Dvorák, Elgar, Glazoenof, Goldmark, Khatsjatoerian, Korngold, Mendelssohn, Mozart, Paganini, Prokofiëf, Saint-Saëns, Sibelius, Strawinski, Tsjaikofski, Vieuxtemps en Vivaldi; die volledige vioolsonates en -partitas van Bach; die volledige vioolsonates van Beethoven, Brahms, Franck en Prokofiëf; Lalo se Symphonie espagnole; Paganini se 24 Caprices; Vivaldi se Vier Seisoene; werke vir viool en orkes van Berlioz, Bernstein, Chausson, Ravel, Sarasate en Sinding; werke vir viool en klavier van Strawinski; en (as dirigent) Mozart se simfonie nr. 41.

Persson, Miah (1971-), Sweedse sopraan. Sy het aanvanklik sosiale wetenskappe en regte in Stockholm bestudeer, gevolg deur musiekstudies aan die Opera-kollege in die Sweedse hoofstad. Haar operadebuut is in 1998 in die Confidencen Teater naby Stockholm as Susanna in Le nozze di Figaro gemaak. As lid van die Sweedse Koninklike Opera het sy verdere rolle gesing soos Barbarina in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Sandrina in La finta giardiniera, Dorinda in Orlando, Tebaldo in Don Carlos, Frasquita in Carmen, Gabrielle in La vie Parisienne, Gretel in Hansel und Gretel en Sophie in Der Rosenkavalier. Haar debuut by die Salzburg-fees is in 2003 in ‘n konsert gemaak, en in die jaar daarop het sy daar in laasgenoemde operarol verskyn. Sy is ewe begaafd in opera, konsertwerke en liedere. Verdere debute is gemaak by Covent Garden en die Glyndebourne-fees (beide in 2006), en by die Metropolitan Opera (2009). Sy het al ‘n aantal kere by die Londense Proms opgetree. In 2010 was sy ‘n solis in ‘n uitvoering van Mahler se vierde simfonie met die Concertgebouw Orkes, onder die dirigeerstaf van Ivan Fischer, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is. Sleutelopnames: Bach se Kantates nrs. 105, 179 en 186, en sy Magnificat (almal onder Suzuki). Verdere opnames: Haydn se oratorium The Creation (in Engels, onder McCreesh); en ‘n versameling liedere van Rossini (met Roger Vignoles as begeleier).

Pesek, Libor (1933-), Tsjeggiese dirigent. Hy het dirigeerkuns, klavier, tjello en skuiftrompet aan die Musiekakademie in sy geboortestad Praag studeer, met Václav Smetácek en Karel Ancerl onder sy leermeesters. Vervolgens het hy by operahuise in Pilsen en Praag gewerk, en in 1958 het hy die Praag Kamerharmonie gestig. Hy sou hul vir die volgende ses jaar lei, en in 1965 het hy ook die Sebastian Orkes gestig. Vanaf 1969 tot 1977 was hy musiekdirekteur van die Tsjeggiese Staatskamerorkes. Hy het in dié tyd ook twee Nederlandse orkeste gedirigeer, te wete die Frysk Orkes (1969-75) en die Overijssels Filharmoniese Orkes (1975-9). Vervolgens was hy hoofdirigent van die Slowaakse Filharmoniese Orkes (1981-2) en residensiële dirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes (1982-90). Hy het in 1987 musiekdirekteur van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes geword, ‘n pos wat hy tot 1998 sou beklee. Sedertdien is hy eredirigent van die bekende Britse orkes met wie hy vele hoogstaande opnames gemaak het, waaronder Dvorák se volledige simfonieë tel. Hy was ook ‘n gasdirigent van die Brno Filharmoniese Orkes in sy geboorteland. In 1996 is hy tot ridder geslaan en in die jaar daarop is die Tsjeggiese Meriete-medalje (Eerste Graad) aan hom toegeken. Sy bekendheid lê merendeels in Tsjeggiese musiek, sodat dit nie verbaas dat hy ‘n kampvegter vir minder bekende landgenote soos Josef Suk en Vitezslav Novák is nie. Verdere opnames: Dvorák se Rapsodie in A mineur; Smetana se Má Vlast; Suk se A Fairy-Tale en Praga; en orkeswerke van Britten, Milhaud, Novák, Prokofiëf en Skriabin.

Peters, Roberta (1930-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1950 by die Metropolitan Opera gedebuteer as Zerlina in Don Giovanni, en sou tot 1985 in ‘n verskeidenheid rolle daar optree. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1951) en die Salzburg-fees (1963). In 1973 het sy in die musiekblyspel The King and I by Broadway gesing. Sy het in hoogstaande opnames van Die Zauberflöte en Il barbiere di Siviglia (as Rosina) verskyn.

Petri, Egon (1881-1962), Duits-gebore pianis van Hollandse afkoms. Hy was aanvanklik ‘n violis in sy vader Henri Petri se kwartet en het daarna onder die komponis Busoni klavier bestudeer. Vanaf 1902 het hy as konsertpianis beroemd geword. Voorts was hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Manchester Musiekkollege (1906-10) en die Berlynse Konserwatorium (1921-5). Daarna het hy in Pole gewoon, waar hy in Zakopane onderrig gegee het. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy ‘n pianis by die Cornell Universiteit geword het. Hy het voortgegaan om soortgelyke poste te beklee by Mills Kollege in Oakland, Kalifornië (vanaf 1947) en die San Francisco Konserwatorium (vanaf 1952). In 1957 het hy na Europa teruggekeer om in Basel onderrig te gee, en drie jaar later het sy laaste uitvoering plaasgevind. Hy was veral bekend in die musiek van Liszt en Busoni, en het met laasgenoemde Bach se klawerbordmusiek geredigeer. Onder sy leerlinge het later bekende pianiste soos John Ogdon en Earl Wild getel.

Petri, Michala (1958-), Deense blokfluitspeler. Sy het as vyfjarige oor die Deense radio gespeel en in 1969 is haar konsertdebuut in Kopenhagen gemaak. Haar Amerikaanse debuut het in 1982 plaasgevind. Sy bespeel ‘n Barokinstrument en is een van die voorste blokfluitvirtuose van haar tyd. Arnold en ander moderne komponiste het werke vir haar geskryf. Sleutelopnames: Handel se Blokfluitsonates (opus 1), nrs. 2, 4, 7 & 11 (met die ASMF Kamerensemble). Verdere opnames: fluitkonserte van Telemann en Vivaldi; die genoemde Handel-werke (met die klawesimbelspeler Keith Jarrett); en kamerwerke van J.S. Bach, F. Couperin, Monti en Paganini.

Petrof, Iwan (1920-2003), Russiese bas. Sy werklike naam was Johann Krause, as afstammeling van Duitsers wat eeue tevore na Rusland verhuis het. Hy het langs die Baikalmeer in Siberië grootgeword in ‘n gemeenskap met ‘n sterk sangtradisie. Met die res van sy gesin het hy in 1936 na Moskou verhuis, maar weens die opkoms van Nasionaal-Sosialistiese Duitsland moes hulle ter wille van oorlewing ‘n Russiese van aanneem. Hy het sang aan die stad se beroemde konserwatorium begin studeer en reeds op 19 basrolle in opera-opvoerings gesing. Met die Duitse inval van die Sowjet-Unie in 1941 is hy en ‘n aantal kollegas na die front, waar hulle binne enkele maande ‘n verbysterende 300 konserte vir hul soldate gegee het. In die jaar daarop het hy ‘n suksesvolle oudisie vir die Bolsjoi Opera onderneem, waar hy aanvanklik kleiner rolle gesing het. Dit sou nie lank duur voordat hy hoofrolle sou sing nie, soos die titelrolle in Prins Igor en Boris Godoenof, Prins Gremin in Jewgeni Onegin, Kochubei in Mazeppa en Dosifei in Khowanschina. In 1947 is hy en ‘n aantal Bolsjoi-kollegas na Praag vir die eerste Wêreld-Jeugfees, waar hul ‘n goue medalje gewen het. Hy sou twee jaar later die prestasie in Boedapest herhaal, en ‘n Stalin-prys is aan hom toegeken.

Naas Russiese opera was Petrof begaafd in Franse en Italiaanse basrolle soos Méphistophélès in Faust, Filips II in Don Carlos en Basilio in Il barbiere di Siviglia. Méphistophélès was trouens sy gunstelingrol, wat hy wyd deur Europa gesing het. Tydens ‘n besoek van die Bolsjoi aan La Scala in 1964 het die dogter van die legendariese bas Fiodor Sjaljapin ‘n ring van haar vader as huldeblyk aan hom gegee. Hy het in 1969 op die kruin van sy loopbaan uitgetree, voordat sy stembande deur diabetes vernietig kon word. Ná sy uittrede het hy voortgegaan om meesterklasse in sang te gee, en in 1972 het hy in die rolprent The Headless Horseman verskyn. Sleutelopname: Rachmaninof se Liturgie van Sint Johannes Chrysostomos (met die Bulgaarse Radiokoor, as kantor). Verdere opnames: Sjostakowitsj se simfonie nr. 13 (onder Previn).

Philadelphia Orkes, Amerikaanse simfonie-orkes wat in 1900 deur Fritz Scheel gestig is. Hy is as hoofdirigent opgevolg deur Karl Pohlig (1907-12), Leopold Stokowski (1912-38), Eugene Ormandy (1938-80), Riccardo Muti (1981-92) en sedert 1993 Wolfgang Sawallisch. Onder Stokowski en Ormandy het die ensemble tot een van die voorste simfonie-orkeste ter wêreld ontwikkel. Hul debuut by die Salzburg-fees het in 1987 onder Muti plaasgevind. Nadat hulle vir dekades in ‘n operahuis met minder bevredigende akoestiek moes optree, het die orkes in 2001 die pasvoltooide Kimmel Sentrum as konsertsaal bekom.

Philharmonia Hungarica, Duits-gebaseerde orkes wat in 1956 naby Wenen gestig is deur Hongaarse musikante wat uitgewyk het ná die Sowjet-inval van Hongarye. Gedurende die 1970's het die orkes wye bekendheid verwerf vir hul uitstekende opnames van Haydn se volledige simfonieë onder die dirigeerstaf van Antal Doráti. Vanuit die staanspoor is die orkes deur die Wes-Duitse regering gesubsidieer weens hul potensiaal vir anti-Sowjet propaganda. Hierdie bondgenootskap is voortgesit selfs nadat die Koue Oorlog tot 'n einde gekom. In 2001 het die staatsubsidies egter tot 'n einde gekom, en in dieselfde jaar is die orkes ontbind nadat 'n afskeidskonsert met 'n uitvoering van Bruckner se negende simfonie gegee is. Dit kan beskou word as 'n ondermydelike gevolg wanneer iets so verhewe soos Europese kunsmusiek vir ideologiese doeleinde ingespan word. So zijn de helden gevallen...

Philharmonia Orkes, Britse simfonie-orkes wat in 1945 in Londen deur die opname-regisseur Walter Legge gestig is. Sy beweegrede was hoofsaaklik om werk aan talle musici wat deur die Tweede Wêreldoorlog werkloos gelaat is te verskaf. Hul eerste konsert is in dieselfde jaar onder Thomas Beecham gegee en hulle het spoedig een van die beste orkeste ter wêreld geword. Dit verbaas dus nie dat hulle deur legendariese figure soos Furtwängler, Toscanini, Karajan, Cantelli, Klemperer, Giulini en Richard Strauss gedirigeer is nie. Hulle toer dikwels oorsee en het in meer opnames as enige ander orkes gespeel. Hul eerste grootskaalse opera-opname was in 1952 van Wagner se Tristan und Isolde onder Wihelm Furtwängler. Onder Karajan het die orkes in 1955 ‘n Amerikaanse toer onderneem en in 24 konserte gespeel. Vanaf 1964, toe die orkes selfbesturend geraak het, tot 1977 het hulle as die Nuwe Philharmonia bekendgestaan. In die tydperk ná Klemperer het onder hul hoofdirigente getel Riccardo Muti (1973-82), Giuseppe Sinopoli (1984-94) en Christoph von Dohnányi (sedert 1997). In 1990 het die orkes onder Sinopoli by die Salzburg-fees gedebuteer.

Philip Jones Brass Ensemble, Britse ensemble wat in 1951 deur Philip Jones gestig is. Aanvanklik was hulle ‘n kwartet, met ‘n belangstelling in sowel hedendaagse musiek as vroeë komponiste soos Gabrieli en Monteverdi. Vanaf 1961 het hulle gereeld met die Londense Bach-Koor opgetree, veral in uitvoerings van werke deur Schütz. Hul openbare debuut het in 1962 by die Aldeburgh-fees plaasgevind. Vier jaar later het hulle in die klankbaan van die veelbekroonde rolprent A Man for all Seasons gespeel. In die laat 1960’s is die ensemble tot tien spelers uitgebrei en het hulle deur die Amerikas, Australië en Indië getoer. Jones het in 1986 uit die ensemble getree. Gedurende die 35 jaar van sy direkteurskap het hulle die premiéres van nie minder nie as 87 werke deur Birwistle, Howarth, Lutoslafski en ander komponiste gegee.

Phillips, Peter (1953-), Engelse dirigent. Hy het in 1973 die Tallis Scholars gestig, met wie hy wêreldbekend sou raak vir meesterlike uitvoerings en opnames van gewyde musiek uit die Renaissance. Deur hul suiwer, helder klank word elke detail van die musieklyne gehoor. Hul gevierde 1980-opname van Allegri se Miserere en Mundy se Vox Patris caelestis het nuwe standaarde vir die uitvoering van Renaissance-musiek gestel. Twee jaar later het hulle ‘n ongewone opname van Russiese-Ortodokse sang vanuit die Middeleeue en Renaissance sowel as van moderne komponiste soos Rachmaninof, Strawinski en Tavener gemaak. Die ensemble het in 1984 deur Australië getoer en vier jaar later ook deur die VSA. In 1988 is hul debuut by die Londense Proms gemaak met ‘n uitvoering van Victoria se Requiem. Hulle het in 1994 in die Sistynse Kaspel opgetree, ter viering van die voltooiing van die restourasie van Michelangelo se muurskilderinge. In dieselfde jaar het hul gesing in die Kerk van Santa Maria Maggiore in Rome, waar Palestrina as koorknaap gesing en later as kapelmeester gedien het, ter herdenking van die groot komponis se dood 400 jaar tevore. Hul duisendste konsert is in 1998 in New York gegee, en in dieselfde jaar het hul kwarteeuviering in Ferrara (op uitnodiging van Claudio Abbado) en in Londen plaasgevind. Wêreldtoere word gereeld onderneem, en in 2000 is konserte in drie Sjinese stede gegee.

Phillips het in 1981 saam met Steve Smith die platemaatskappy Gimell Records gestig om die ensemble se sang op te neem. Hul opnames word deur die bank hoog aangeskryf, en ‘n hele aantal is bekroon. Só het hul opname van misse deur Desprez in 1987 die eerste opname van vroeë musiek geword om die gesogte Gramophone-toekenning as Opname van die Jaar te verwerf. Daarby het Phillips ‘n boek oor Engelse gewyde musiek van die tydperk 1549-1649 geskryf. Hy skryf interessant genoeg ook oor krieket. Dat hy en sy ensemble ewe begaafd in sommige hedendaagse komponiste se werke is, blyk uit hul hoogstaande opnames van Pärt se Sint Johannespassie en Tavener se Funeral Ikos, Ikon of Light en The Lamb. Sleutelopnames: Allegri se Miserere; Cardoso se Requiem, Magnificat, en 4 motette; ‘n versameling motette van Cornysh, insluitend Magnificat, Salve regina en Stabat Mater; Lassus se Missa osculetur me en 7 motette; Mundy se Vox Patris caelestis; Tallis se volledige Engelse gesange, Lamentations of Jeremiah I & II, Magnificat, Mass puer natus est nobis, Spem in alium, Gaude gloriosa, en vele ander motette; Tomkins se Great Service en 7 motette. Verdere opnames: kerkmusiek van Browne, Brumel, Byrd, Carissimi, Clemens, Desprez, Gombert, Isaac, Lôbo, Monteverdi, Morales, Obrecht, Palestrina, Praetorius, Rore, Sheppard, Taverner, Tye, Victoria en White; en 'n versameling Sarum kantus.

Piatigorski, Gregor (1903-76), Russies-gebore tjellis en komponis. Hy het in 1919 by die Lenin Kwartet aangesluit en in dieselfde jaar in die orkes van die Bolsjoi Opera begin speel. Twee jaar later het hy Rusland verlaat en hom in Warskou gevestig. Vervolgens is hy na Berlyn, waar hy vanaf 1924 vir vier jaar eerste tjellis van die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Wilhelm Furtwängler sou wees. Daarna het hy wêreldbekend as solis geraak, veral in Richard Strauss se Don Quixote met die komponis soms as dirigent. In 1929 het hy hom in die VSA gevestig, waar hy dertien jaar later 'n Amerikaanse burger sou word. As een van die grootste tjello-virtuose van sy tyd het hy die eerste uitvoerings van tjellokonserte deur Castelnuovo-Tedesco (1935), Hindemith (1941) en Walton (1957) gegee. Hy was ‘n vennoot van groot pianiste soos Rubinstein, Schnabel en Solomon in sonate-uitvoerings. Daarby het hy in die 1930’s in ‘n trio met die pianis Wladimir Horowitz en die violis Nathan Milstein gespeel. Later was hy lid van ‘n trio met die violis Jascha Heifetz en die pianis Arthur Rubinstein, met wie hy in 1948 ‘n besoek van Furtwängler aan Chicago help verhinder het – soveel vir lojaliteit jeens ‘n voormalige kollega. Hy het ook onderrig gegee aan die Curtis Instituut in Philadelphia (1942-51) en die Universiteit van Suid-Kalifornië in Los Angeles (1962-76). Sleutelopnames: Walton se tjellokonsert (onder beide Munch en Sargent). Verdere opnames: Beethoven se 5 tjellosonates (met Solomon); Brahms se Dubbelkonsert (met Milstein) en tjellosonate nr. 1; Dvorák se tjellokonsert; Francaix se strykertrio (met Heifetz en Joseph de Pasquale); Martinu se Duo (met Heifetz); Weber se Tjellosonate in A; en werke van Webern vir tjello en klavier (met Charles Rosen).

Piccaver, Alfred (1884-1958), Engelse tenoor. Nadat hy in 1907 in Praag sy debuut in die manlike hoofrol van Gounod se opera Roméo et Juliette gemaak het, was hy vanaf 1910 tot 1937 die voorste tenoor by die Weense Hofopera (later Staatsopera). Daar het hy met sy gladde legato en elegante frasering uitgeblink in Puccini-rolle soos Turiddu in Cavalleria rusticana en Dick Johnson in La fanciulla del West. Verder het hy gesing in Chicago (1923-5), Covent Garden (1924) en die Salzburg-fees (1927). In 1937 het hy na Londen teruggekeer waar hy soms klasgegee het, maar in 1955 is hy weer na Wenen vir die opening van die herboude Staatsopera. Hy het tot sy dood in die Oostenrykse hoofstad gebly om onderrig te gee.

Pickett, Philip (1950-), Engelse blokfluitspeler en dirigent. Hy het in 1977 die New London Consort gestig en dien sedertdien as hul direkteur. Dit sluit internasionale toere en optredes by bekende Europese musiekfeeste in. Hulle is wêreldbekend vir hul hoogstaande uitvoerings en opnames van vroeë musiek (Middeleeus, Renaissance en Barok) op eietydse instrumente. Sedert 1972 is hy ook ‘n hoogleraar in vroeë musiek aan die Guildhall Musiekskool. Sleutelopname: Monteverdi se opera Orfeo. Verdere opnames: versamelings orkeswerke van Praetorius, Schmelzer, Susato en Telemann; Alfonso X se Cantigas de Santa Maria; Bach se volledige Orkessuites; Blow se opera Venus and Adonis; ‘n versameling werke van Gautier de Coincy getiteld Songs of Angels; Locke se Psyche; Monteverdi se opera-ballette In ballo delle ingrate, Il combattimento di Tancredi e clorinda en Tirsi e Clori; 11 konserte van Vivaldi vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente; ‘n Middeleeuse Carmina Burana (nie dié van Orff nie); en ‘n versameling Middeleeuse parodieë van kerkmusiek (wat tradisioneel tussen Kersfees en Epifanie opgevoer is), getiteld The Feast of Fools.

Piquemal, Michel (1954-), Franse bariton en dirigent. Hy het in 1978 die vokale ensemble wat na hom vernoem is, gestig. Vier jaar later het hulle professionale status verkry, met die ondersteuning van die Franse Ministerie van Kultuur. Hulle sing ‘n wye verskeidenheid werke vanaf die Renaissance tot die hede, en toer wyd deur Europa, Noord-Amerika en die Ooste. Daarby onderrig hy koorleiding aan die Parys Konserwatorium en dirigeer hy ensembles soos die Orchestre Nationale de Lille-Region Nord. Sy spesialiteit is Franse koormusiek van die twintigste eeu. Opnames (as dirigent): koorwerke van Duruflé en Ropartz; Honegger se oratorium Le Roi David; Poulenc se Gloria en Stabat Mater; en (as sanger) liedere van Poulenc.

Pilarczyk, Helga (1925-), Duitse sopraan. Sy het haar sangloopbaan as 'n mezzosopraan begin, met 'n debuut wat in 1951 in Brunswick plaasgevind het. Sy was vir drie jaar aan dié operahuis verbonde, en daarna tot 1968 aan die Hamburg Opera. Intussen het sy gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1958), Covent Garden (1959), Washington (1962) en die Metropolitan Opera (1965). As bekende in moderne musiek het sy in 1956 in die première van Henze se König Hirsch in Berlyn opgetree. Opnames: Berg se Lulu suite en uittreksels uit sy opera Wozzeck, en Janácek se Slawoniese Mis.

Pinnock, Trevor (1946-), Engelse klawesimbelspeler en dirigent. Aanvanklik was hy ‘n koorsanger by die Canterbury Katedraal, en vanaf 1966 het hy vir ses jaar in die Galliard Klawesimbeltrio gespeel. In 1968 is sy debuut as klawesimbelsolis in Londen gemaak. Hy het in 1972 The English Consort gestig vir die uitvoering van Barok- en Klassieke werke op eietydse instrumente, as die eerste Britse ensemble van dié aard. Met elegante, soepel spel en meer gevoelvolheid as wat algemeen in eietydse uitvoerings is, het hulle deur vele toere en opnames wêreldbekend geword. Hul styl was vanuit die staanspoor briljant en opwindend, eerder as bestudeerd. In die 1990’s het hulle die tweede siklus (Hogwood s’n was eerste) van Mozart se volledige simfonieë op eietydse instrumente opgeneem, in vertolkings wat allerweë as uitmuntend beskou word. Hy dirigeer ook opera, met debute by die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees wat beide in 1988 gemaak is. In 1989 het hy die Classical Band of New York gestig, en sedert 1991 is hy artistieke direkteur van die Nasionale Simfonie-orkes van Kanada in Ottawa. Ter viering van sy sestigste verjaardag in 2006 het hy met die Europese Brandenburg Ensemble opnames van Bach se volledige Brandenburgkonserte gemaak wat deur sommige kenners as selfs beter as sy 1982-siklus met The English Consort beskou word.

Pinnock het in 2003 ná drie dekades as direkteur van The English Consort uitgetree, ten einde sy loopbaan as klawesimbelsolis te hervat. Hy het aangedui dat hy hom veral op vroeë Engelse komponiste soos Byrd, Gibbons en Tomkins wil toespits. Met sy briljante dog stylvolle spel is hy ewe begaafd in die klawerbordmusiek van die Bach-familie en ander kontinentale komponiste van die agtiende eeu. Sleutelopnames: Bach se 6 Brandenburgkonserte (2006), sy volledige konserte vir 1, 2, 3 en 4 klawesimbels (as beide solis en dirigent), en sy 6 Partitas vir klawerbord; Handel se oratorium Belshazzar en opera Tamerlano (lg. op DVD). Verdere opnames (as dirigent): Boyce se volledige simfonieë; Corelli se Concerti grossi, opus 6; Handel se Watermusiek Suites 1-3, Acis and Galatea (in Mozart se Duitse verwerking), Cecilia vogi un sguardo, Messiah en Ode for St Cecilia's Day; Haydn se simfonieë nrs. 26, 35, 38, 39, 41-52, 58, 59 en 65, Mis nr. 11 en Te Deum; koormusiek van Purcell, en sy operas Dido and Aeneas en King Arthur; A. Scarlatti se Dixit Dominus; Vivaldi se L’estro armonico, Die Vier Seisoene en Gloria; versamelings orkeswerke van Fasch en Telemann; (as solis:) versamelings werke vir solo-klawesimbel van J.S. Bach, Rameau en D. Scarlatti; 3 klawesimbelkonserte van C.P.E. Bach en J.C. Bach; Handel se Coronation Anthems; Poulenc se Concert champêtre; Rameau se 5 Pièces de clavecin en concerts (met Rachel Podger en Jonathan Manson); en Soler se ses konserte vir twee klawerbordinstrumente (ook met Gilbert as vennoot).

Pinza, Ezio (1892-1957), Italiaanse bas. Hy het sy debuut in 1914 in Soncino gemaak, as Oroveso in Norma. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy leërdiens gedoen. In 1920 het sy Roomse debuut as Koning Markus in Tristan und Isolde plaasgevind, en daarna het hy onder Toscanini die voorste bas by La Scala geword (1921-4). Later het hy hom in die VSA gevestig, waar hy vanaf 1926 tot 1948 die eerste bas by die Metropolitan Opera was. Sy repertorium het meer as tagtig rolle ingesluit. Met sy vol toonkleur, statige en vloeiende sangstyl en besondere karakterisering was hy uitmuntend as Vader in Louise, Méphistophélès in Faust, Guardiano in La forza del destino, Fiesco in Simon Boccanegra, en beide Pimen en die titelrol in Boris Godoenof. By die Met het hy in klassieke opnames van dié vyf operas gesing en ook toenemend in Mozart-operas opgetree, in rolle soos Sarastro in Die Zauberflöte en die titelrolle in Le nozze di Figaro en Don Giovanni. Laasgenoemde sou sy bekendste rol word, veral by Covent Garden en Salzburg. Vanaf 1930 het hy vir nege seisoene agtereenvolgens by Covent Garden verskyn, en in 1934 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Daar het hy in 1937 in beroemde opnames van laasgenoemde twee operas onder Bruno Walter gesing. In Oostenryk het hy ‘n buite-egtelike verhouding met Walter se dogter Gretel aangeknoop, wat tragies beeïndig is toe sy in 1939 deur haar man doodgeskiet is. Hy het in 1949 in sy laat vyftigs 'n nuwe loopbaan begin, en daarna merendeels in rolprente en Broadway-musiekblyspele opgetree. Onder laasgenoemde tel South Pacific, waardeur hy 'n huishoudelike naam in die VSA geword het. In die rolprent Tonight we sing (1953) het hy die rol gespeel van sy legendariese voorganger Fiodor Sjaljapin, met wie hy lank tevore by La Scala en die Met opgetree het.

Pires, Maria-Joao (1944-), Portugese pianis. Sy het as vyfjarige haar eerste uitvoering gegee en twee jaar later as solis in ‘n klavierkonsert van Mozart opgetree. In 1970 het sy die eerste prys in die Beethoven-kompetisie in Brussels gewen. Heelwat later het sy gedebuteer by die Salzburg-fees (1984), en in Londen en die VSA (beide in 1986). Met haar helder dog ingetoë, grasieuse spel is sy hoogs begaafd in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium en Chopin. Haar opnames van Mozart se volledige klaviersonates (twee siklusse) word onder die beste weergawes van die werke gereken. Insgelyks word haar opname van Chopin se 19 Nocturnes deur sommige kenners in dieselfde asem as dié van Rubinstein genoem. Daarby begelei sy soms die Franse violis Augustin Dumay, soos in sy hoogaangekrewe opnames van Beethoven se vioolsonates. Verdere opnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 8, 14, 17 en 23; Chopin se tweede klavierkonsert; Mozart se klavierkonserte nrs. 9, 12, 13, 17, 19, 21, 23 en 26; die eerste twee klaviertrios van Brahms (met Dumay en Wang); en solowerke van Bach en Schubert.

Pittsburgh Simfonie-orkes, Amerikaanse orkes wat in 1895 gestig is. Sedert die orkes in 1937 deur Otto Klemperer herorganiseer is, het hul hoofdirigente ingesluit Fritz Reiner (1938-48), William Steinberg (1952-76), André Previn (1976-85) en Lorin Maazel (1986-96). Hulle het verskeie toere na Europa, die Verre Ooste en die Midde-Ooste onderneem, met ‘n debuut by die Salzburg-fees in 1985 onder Maazel.

Pitz, Wilhelm (1897-1973), Duitse violis, dirigent en koormeester. As tiener het hy as violis in die Aachen Stadsorkes begin speel, waaraan hy vir twintig jaar verbonde sou wees (1913-33). Daarna was hy koormeester van die Aachen Opera (1933-61), waar hy 'n medewerker was van Herbert von Karajan, toe nog aan die begin van sy roemryke loopbaan. Vanaf 1946 het hy ook as dirigent by die Aachen Opera opgetree, en daarby was hy 'n koormeester by die Bayreuth-fees (1951-71). Met hul koor en orkes het hy ‘n voortreflike opname van ‘n versameling uittreksels uit Wagner-operas gemaak. Intussen het hy in 1957 die Philharmonia Koor in Londen gestig, wat hy ook tot 1971 gedirigeer en tot 'n besondere vlak van uitnemendheid opgebou het.

Pizarro, Artur (1968-), Portugese pianis. Hy was ‘n wenner van die internasionale kompetisies in Lissabon (1987), Florida (1988) en Leeds (1990), en het in 1989 sy Londense debuut gemaak. Twee jaar later het hy by die Londense Proms opgetree, en in 1992 het hy met die Koninklike Filharmoniese Orkes deur Australië getoer. Hy het in 2003 die volledige klaviersonates van Beethoven in agt konserte in Londen uitgevoer. Met sy lewenskragtige, klankryke spel blink hy veral uit in virtuoos-werke van die negentiende en twintigste eeue. Sleutelopnames: Milhaud se musiek vir 2 klaviere (met Stephen Coombs); ‘n versameling solowerke van Rodrigo. Verdere opnames:Beethoven se klavierkonserte nrs. 3 tot 5 (onder Mackerras); enkele sonates van Beethoven, en solowerke van Kabalefski, Liszt, Skriabin en Vorisek.

Plasson, Michel (1933-), Franse dirigent. Hy het in 1962 die eerste prys in die internasionale Besancon-dirigeerkompetisie gewen en was vanaf 1966 vir twee jaar musiekdirekteur in Metz. Daarna was hy direkteur van die ‘Théâtre du Capitole’ in Toulouse (1968-83) en dirigent van die Nasionale Orkes in dié Franse stad (sedert 1983). In 1979 het hy by Covent Garden gedebuteer met ‘n opvoering van Werther. Hy is tans een van die voorste dirigente van Franse musiek, met talle uitstekende opnames tot sy krediet. Sleutelopnames (almal in Toulouse): Bizet se opera Carmen; ‘n versameling orkeswerke van Fauré; d’Indy se tweede simfonie; Orff se kantate Carmina Burana. Verdere opnames: simfonieë van Dutilleux, Franck, Gounod, Honegger (volledig), Magnard (volledig), Milhaud, Ropartz en Saint-Saëns; ander orkeswerke van Berlioz, Bizet, Chabrier, Duparc, Honegger en Saint-Saëns; ‘n versameling korter koorwerke van Berlioz; Franck se Rédemption; Gounod se Mors et Vita; Offenbach se operettes La Belle Hélène, Orphée aux enfers, La Périchole en La Vie parisienne; Prokofiëf se Pieter en die Wolf; en die operas Le pêcheurs de perles, Lakmé, Don Quichotte, Faust, Roméo et Juliette, Hérodiade en Padmâvatî.

Pleeth, William (1916-99), Britse tjellis van Poolse afkoms. As sewejarige het hy begin om tjello te speel, en later het hy in Londen studeer. Op dertien is hy met behulp van ‘n beurs na Leipzig om onder die vermaarde leermeester Julius Klengel te studeer. In dié Saksiese stad het hy in 1932 sy konsertdebuut met die beroemde Gewandhaus Orkes gemaak, en in die jaar daarop het sy Londense debuut gevolg. Vanuit die staanspoor was hy tot kamermusiek aangetrokke, sodat hy ‘n lid was van die Blech Kwartet (1936-41) en die Melos Ensemble. Hy was bevriend met die komponis Rubbra, met wie hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog uitvoerings vir Geallieerde soldate gegee het. In 1952 was hy ‘n stigterslid van die Allegri Kwartet, vir wie Rubbra sy derde strykkwartet geskryf het. Verder het hy vanaf 1948 vir dertig jaar as hoogleraar in tjello aan die Guildhall Musiekskool onderrig gegee. Een van sy studente was die later beroemde Jacqueline du Pré, wat hy as jong tiener bekendgestel het aan haar geliefkoosde werk, Elgar se tjellokonsert. In die 1960’s het hy in hoogstaande opnames gespeel van Brahms se strykersekstette en Richard Strauss se Capriccio prelude (almal met die Amadeus Kwartet en Cecil Aronowitz), en Messiaen se Kwartet vir die eindtyd (met De Peyer, Gruenberg en Béroff). Verder het die tjello-oktet wat na hom vernoem is, uitgeblink in ‘n opname van enkele Bach-werke wat deur Villa-Lobos verwerk is. Die OBE is in 1989 aan hom toegeken.

Pletnjef, Mikhail (1957-), Russiese pianis, dirigent en komponis. Hy het in 1978 die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Drie jaar later het hy in Praag ‘n voordrag gegee waarin 12 van Tsjaikofski se 18 Stukke (opus 72) gespeel is. Hy sou dit later in Londen herhaal, met ‘n opname wat gemaak is. In 1988 is hy gevra om as pianis by ‘n beraad tussen die destydse Sowjet-Unie en die VSA in Washington op te tree. Daar het hy met die Sowjet-leier Mikhail Gorbatsjef bevriend geraak, wat dit vir hom moontlik sou maak om in 1990 die Russiese Nasionale Orkes te stig. Vir die volgende nege jaar sou hy hul musiekdirekteur wees, met ‘n aantal oorsese toere wat onderneem is. Hulle het saam ‘n groot aantal hoogaangeskrewe opnames tot hul krediet. As beide pianis en gasdirigent toer hy wêreldwyd, met ‘n Londense dirigeerdebuut wat in 1993 met die Philharmonia Orkes gemaak is. Hy is een van die voorste dirigente ter wêreld in Russiese musiek, en as pianis is hy uitmuntend in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Met die Berlynse Filharmoniese orkes het hy in 2000 ‘n onberispelike uitvoering van Beethoven se klavierkonsert nr. 2 onder Claudio Abbado gegee, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. As briljante Tsjaikofski-vertolker het hy in 2004 in Zürich ‘n voordrag van die volledige 18 Stukke gegee, waarvan die opname as die beste weergawe daarvan beskou word. In 2005 het hy sy orkes na Londen geneem vir konsertuitvoerings van Tanejef se vierde simfonie en twee groot koorwerke.

Sleutelopnames (as dirigent): Moessorgski/Ravel se Skilderye op 'n Uitstalling; Prokofiëf se ballet Cinderella en Somernag suite; Rachmaninof se eerste simfonie, Die Eiland van die Dode en kantate Die Klokke; Sjedrin se ballet Carmen en Konserte vir Orkes 1 en 2; Tanejef se Kantate nr. 2; Tsjaikofski se sesde simfonie, Capriccio italienne, 1812 Ouverture, Noodlot, Feesouverture, Francesca da Rimini, Hamlet, Manfred Simfonie, Slawiese Mars, Romeo en Juliet Fantasie Ouverture, Die Storm en Die Wojewoda; (as pianis): ‘n versameling sonates van C.P.E. Bach; ‘n versameling solowerke van Grieg, insluitend sy klaviersonate en 7 Fugas; Haydn se klavierkonserte nrs. 4, 7 en 11, en klaviersonates nrs. 33, 60 en 62; Liszt se klaviersonate; Mozart se klavierkonserte nrs. 9, 20, 23 en 24; 31 van D. Scarlatti se klaviersonates; Tanejef se klaviertrio en -kwintet (lg. met Repin, Gringolts, Imai en Harrell); Tsjaikofski se eerste klavierkonsert (onder Fedosejef). Verdere opnames (as dirigent): Rachmaninof se simfonieë nrs. 2 en 3, en Simfoniese Danse; Tanejef se koorwerk Johannes van Damaskus; die volledige simfonieë van Tsjaikofski, en sy ballet Doringrosie; orkeswerke van Liadof, Rimski-Korsakof en Tsjerepnin; (as pianis:) klavierkonserte van Prokofiëf, Rachmaninof (nr. 1) en Tsjaikofski (nrs. 1-3); Rachmaninof se Paganini Rapsodie (onder Pesek); Tsjaikofski se Konsert-Fantasie (onder Fedosejef), 18 Stukke (opus 72), Die Seisoene, en sy eie klavierverwerking van die ballet Doringrosie; en solowerke van J.S. Bach/Busoni, Beethoven en Chopin.

Plishka, Paul (1941-), Amerikaanse bas. Hy het in 1961 sy debuut met die Paterson Liriese Opera gemaak en vanaf 1965 vir twee jaar met die Metropolitan-geselskap getoer. In 1967 is sy debuut by die Met self gemaak, as die Monnik in La Gioconda. In sy 25 seisoene daar het hy meer as vyftig rolle gesing. Daaronder tel Timur in Turandot, wat hy in 1987 in ‘n DVD-opname onder James Levine vertolk het. Verdere optredes is gemaak in Berlyn, Chicago, Covent Garden en San Francisco. Opnames: Verdi se Requiem (onder Shaw); en die operas Anna Bolena, Tosca, Turandot (onder Lombard) en Luisa Miller.

Plowright, Rosalind (1949-), Engelse sopraan. Sy was aanvanklik 'n mezzosopraan voordat sy na sopraan oorgeslaan het, met 'n debuut daarin wat in 1968 in Manchester plaasgevind het. Dit was tydens die Britse première van Johann Christian Bach se opera Temistocle. Sewe jaar later het sy by die Engelse Nasionale Opera as Page in Falstaff gesing, en in 1976 het sy met die Glyndebourne Toeropera begin optree. Sy is deur die groot dirigent Carlo Maria Giulini aangemoedig met die versoek om die groot gawe wat sy van God ontvang het, op die verhoog aan Hom te gaan teruggee. In 1979 het sy die internasionale sangkompetisie in Sofia gewen, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden (1980) en in die VSA (1982). Sy het in 1984 die titelrol in Cherubini se Médée by die Buxton-fees gesing. Haar bekendheid lê veral in die operas van Richard Strauss en Verdi, soos die titelrolle in Die Liebe der Danae en Ariadne auf Naxos, en as Amneris in Aida, Leonora in La forza del destino, Desdemona in Otello en Leonora in Il Trovatore. Verdere rolle waarin sy uitblink, is Elizabeth in Maria Stuarda en Donna Anna in Don Giovanni. Onames: Berlioz se kantate Herminie; Mendelssohn se oratorium Elijah; en die operas Mary Stuart (in Engels), Les contes d’Hoffmann, Aida (in Engels), Falstaff (in Engels), La forza del destino, Otello (in Engels) en Il Trovatore (onder beide Giulini en Giovanninetti).

Podger, Rachel (1968-), Engelse violis. Sy is in ‘n Rudolf Steiner-skool in Duitsland opgevoed, waarna sy na haar geboorteland teruggekeer het vir studies aan die Guildhall Musiekskool in Londen. Daar het sy ‘n belangstelling in Barokmusiek volgens eietydse praktyke ontwikkel. Sy het vervolgens met bekende vroeë musiek-ensembles soos die New London Consort, Gabrieli Consort, Florilegium and London Baroque opgetree. Sedert 1997 is sy konsertmeester van The English Consort, met wie sy wyd toer. Sy is ook ‘n lid van die ensemble Palladium. Met haar foutlose intonasie en warm toonkleur is sy uitmuntend in veral Barokmusiek. Voorts is sy ‘n hoogleraar aan haar alma mater, en gee sy onderrig aan die Bremen Konserwatorium. Sleutelopname: Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas. Verdere opnames: Bach se vioolkonserte en Dubbelkonsert (met Andrew Manze), en sy 6 vioolsonates (met Trevor Pinnock op die klawesimbel); en Vivaldi se 12 konserte La stravaganza.

Podles, Ewa (1952-), Poolse mezzosopraan. Nadat sy sangkompetisies in Genève, Rio de Janeiro, Athene, Barcelona, Toulouse asook die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen het, het haar internasionale loopbaan in 1982 in alle erns begin. Sy tree by van die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa op, met ‘n voorkeur vir dié in Frankryk. Met haar wye stemreeks blink sy uit in beide opera en konserte. Onder haar bekende rolle tel Orfeo in Orfeo ed Euridice, Eboli in Don Carlo en die titelrol in Tancredi. Opnames: die genoemde operas van Gluck en Rossini, asook Ariodante; en ‘n versameling Rossini-arias (onder Morandi).

Pogorelich, Ivo (1958-), Serwiese pianis. Hy het as sewejarige met klavierlesse begin, en vyf jaar later is hy na Moskou vir studies aan die Sentrale Musiekskool en die Tsjaikofski Konserwatorium. In 1976 het hy met intensiewe studies onder die leermeester Aliza Kezeradze begin, met wie hy vier jaar later sou trou (sy is in 1996 oorlede). Hy het in 1978 die Casagrande-kompetisie in Terni gewen en twee jaar later ook die internasionale kompetisie in Montreal. Toe hy in 1980 nie daarin kon slaag om die eindronde van die Chopin-kompetisie in Warskou te haal nie, het dit tot die bedanking van die briljante pianis Martha Argerich uit die paneel van beoordelaars sowel as die afskop van sy internasionale loopbaan gelei. Hy het terstond wêreldwyd begin toer, met debute wat gemaak is in Londen en New York (beide in 1981), en by die Salzburg-fees (1983). In 1982 hy hom in Londen gevestig, en ses jaar later is hy as Welwillendheidsambassadeur deur Unesco aangewys. Verder ondersteun hy op verskeie maniere jong musici. Só het hy in 1986 ‘n stigting in Kroasië daargestel om studiebeurse vir jong musici te werf; in 1989 het hy ‘n jaarlikse fees in Bad Wörishofen begin om jong musici die geleentheid te gee om met bekende kunstenaars op te tree; en in 1993 is die Ivo Pogorelich klavierkompetisie die eerste keer in Kalifornië gehou. In 1994 het hy ‘n stigting in Sarajevo begin om fondse vir ‘n hospitaal te werf en mediese versorging vir die oorloggeteisterde inwoners van die stad te voorsien. Hy speel self in talle liefdadigheidskonserte, en is bekend vir sy indiwidualistiese vertolkings van werke oor 'n repertorium wat vanaf Bach tot by Prokofiëf strek. Sleutelopnames: Prokofiëf se klaviersonate nr. 6; Ravel se Gaspard de la nuit. Verdere opnames: Bach se Engelse Suites 2 en 3; Beethoven se klaviersonate nr. 11; en ‘n hele aantal klaviersonates van D. Scarlatti.

Polaski, Deborah (1949-), Amerikaanse sopraan. Sedert 1976 volg sy ‘n loopbaan by Duitse operahuise, waar sy met haar ryk stem bekendheid in die swaarder rolle van Richard Strauss en Wagner verwerf het. Daaronder tel die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, Ortrud in Lohengrin, Sieglinde in Die Walküre en die titelrol in Elektra. Sy blink ook uit as Marie in Wozzeck, en as beide Cassandra en Dido in Les Troyens. Verder het sy in 1988 en 1994 die rol van Brünnhilde in die Ring-siklus by die Bayreuth-fees gesing. By die Liceu Teater in Barcelona het sy in 2002 die rol van Isolde onder Bertrand de Billy gesing, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: ‘n versameling Brahms-liedere (met Charles Spencer as pianis); die genoemde opera van Berlioz (op DVD); Lohengrin en ‘n versameling Ring-uittreksels (beide onder Daniel Barenboim).

Poljanski, Walery (1949-), Russiese dirigent (Engels Polyansky). Hy het koor- en simfoniese dirigeerkuns aan die Moskou Konserwatorium studeer. Tydens nagraadse studies het hy met die bekende dirigent Gennadi Rozhdestwenski bevriend geraak. As student het hy begin om operettes in die Russiese hoofstad te dirigeer, en in 1977 is sy debuut by die Bolsjoi Opera met Sjostakowitsj se Katerina Izmailowa gemaak, op uitnodiging van Rozhdestwenski. Terwyl hy dirigent van die Staatskamerkoor was, het hy begin om wyd deur Europa simfonie-orkeste te dirigeer. Sedert 1992 is hy hoofdirigent van die Russiese Staatsimfonie-orkes en Simfoniese Capella, wat gesamentlik uit meer as 200 musici bestaan. Onder hul vele opnames tel die volledige simfoniese en koorwerke van Rachmaninof. Hy is ook hoofdirigent van die operafees in Goteborg, Swede. Sy bekendheid lê merendeels in Russiese musiek van die twintigste eeu, waarin hy een van die voorste dirigente van sy tyd is. Sleutelopnames: Glazoenof se agste simfonie en Herdenkingskantate; Rachmaninof se derde simfonie en kantate Lente. Verdere opnames: Arenski se eerste simfonie, Tsjaikofski Variasies en Kronings Kantate; ‘n versameling gewyde konserte van Bortnjanski; Glazoenof se volledige simfonieë, Koning van die Jode en Salome-musiek; Gretjaninof se simfonieë nrs. 1, 3, 4 en 5, asook sy koorwerke Missa festiva, Missa Sancti Spiritus, Missa occumenica en Kvalite Boga; Kancheli se Mourned by the Wind en Simi; Rachmaninof se eerste simfonie, Simfoniese Danse, kantate Die Klokke en 6 Kore vir Vrouestemme; Sjnittke se simfonieë nrs. 4 en 8, en 3 Gewyde Gesange; Sjostakowitsj se New Babylon rolprentmusiek; Skriabin se eerste simfonie; Tanejef se simfonieë nrs. 2 en 4.

Pollak, Anna (1912-96), Britse mezzosopraan van Oostenrykse afkoms. Sy was aanvanklik ‘n aktrise en het in 1945 haar operadebuut in Londen gemaak, as Dorabella in Così fan tutte. In die jaar daarop het sy by Glyndebourne die rol van Bianca tydens die première van The Rape of Lucretia geskep. Sy was die voorste mezzo by die Sadler’s Wells Opera vanaf 1945 tot 1962, en was gaskunstenaar daarna tot 1968. Intussen het sy in 1952 by Covent Garden gedebuteer, en in 1962 is die OBE aan haar toegeken.

Pollini, Maurizio (1942-), Italiaanse pianis en dirigent. As leerling van die briljante pianis Arturo Benedetti Michelangeli is sy openbare debuut as negejarige gemaak. In 1960 het hy die internasionale Chopin-kompetisie in Warskou gewen en ‘n diep indruk gemaak op Arthur Rubinstein, wat ‘n jurielid was. Vir ‘n tyd het hy egter sy uitvoerings gestaak om op verdere studies te konsentreer. Sy Amerikaanse debuut is in 1968 gemaak en vyf jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Met sy analitiese benadering en presiese spel is hy een van die beste pianiste van sy tyd, veral in die Duitse Klassiek-Romantiese meesters en moderne werke. In laasgenoemde is dit veral die musiek van Schoenberg waarmee hy geassosieer word. Hy dirigeer dikwels vanaf die klavier, en het in 1972 die eerste uitvoering van sy landgenoot Nono se Como una ola de Fuerza y Luz in Milaan gegee. Verder het hy in 1981 sy opera-dirigeerdebuut in Pesaro met Rossini se La donna del lago gemaak. Hy het oor die jare ‘n besondere vennootskap met die dirigent Claudio Abbado opgebou, sodat hul opnames in die vroeë 1990’s van Beethoven se volledige klavierkonserte deur kenners in dieselfde asem as dié van Wilhelm Kempff genoem word. Sleutelopnames: Chopin se klavierkonsert nr. 1 (onder Paul Kletzki); Prokofiëf se klaviersonate nr. 7; Schubert se klaviersonate nr. 16; Schumann se Fantasia in C. Verdere opnames: klavierkonserte van Bartók, Brahms, Mozart (nrs. 12, 14, 20 en 23), Schoenberg en Schumann; Beethoven se Koorfantasie (onder Abbado) en klaviersonates nrs. 28 tot 32; Brahms se klavierkwintet (met die Italiaanse Kwartet); Manzoni se Masse; talle solowerke van Berg, Boulez, Chopin, Liszt, Schoenberg (volledig), Schubert, Schumann, Strawinski en Webern; en as dirigent, die opera La donna del lago.

Pommier, Jean-Bernard (1944-), Franse pianis en dirigent. Hy het in 1960 die internasionale Jeunesses Musicales klavierkompetisie gewen en daarna as solis met van die wêreld se voorste orkeste begin optree. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1971 gemaak en twee jaar later het hy in die VSA begin optree. Hy was ‘n solis-dirigent met bekende Britse ensembles soos die Engelse Kamerorkes en die Noordelike Sinfonia. Sedert 1996 is hy artistieke direkteur van laasgenoemde orkes. Daarbenewens was hy 'n vennoot van Leonard Rose in Brahms se tjellosonates. Onames: Beethoven se klaviersonates nrs. 21 en 24; Mozart se klavierkonserte nrs. 21 en 23 (waarin hy self die Sinfonia Varsovia dirigeer); en Poulenc se klavierkonsert, Aubade en Dubbelkonsert (lg. met Anne Queffélec).

Pons, Juan (1946-), Spaanse bariton. Hy het sy loopbaan as tenoor in Barcelona begin en later na bariton oorgeslaan. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1979), Parys (1983) en die Metropolitan Opera (1986), in laasgenoemde geval as Scarpia in Tosca. Met sy ferm stem is hy begaafd in Italiaanse operarolle soos Enrico in Lucia di Lammermoor, Kyoto in Iris, Tonio in I Pagliacci, Sharpless in Madama Butterfly en Amonasro in Aida. Hy het in hoogstaande opnames van laasgenoemde vyf operas en van Poliuto gesing.

Pons, Lily (1898-76), Frans-gebore sopraan. Sy het in 1928 haar debuut in Mulhouse in die titelrol van Lakmé gemaak, waarna sy na die VSA geëmigreer het. Daar het sy in 1931 by die Metropolitan Opera in die titelrol van Lucia di Lammermoor gedebuteer. Sy sou vir 28 seisoene aan dié operahuis verbonde wees. In 1935 het sy ook by Covent Garden gedebuteer, en vanaf die laat 1930's het sy as glansryke verhoogpersoonlikheid in verskeie rolprente opgetree. Onder die verdere rolle waarin sy uitgeblink het, tel die titelrol in La fille du régiment en Gilda in Rigoletto. Sy het in klassieke Met-opnames van die genoemde operas van Donizetti en Verdi opgetree, en tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy vir Amerikaanse soldate gesing. In 1961 het sy teenoor Placido Domingo aan die begin van sy roemryke loopbaan opgetree, en elf jaar later het sy (op 74-jarige ouderdom) ‘n afskeidsuitvoering met die New York Filharmoniese Orkes onder die dirigent André Kostelanetz (met wie sy getroud was) gegee. Alhoewel sy nie 'n sterk stem of wye repertorium gehad het nie, was sy suiwer in die hoër note en het sy ‘n besonder lang loopbaan vir ‘n sanger gehad. ‘n Dorp in Maryland, VSA is na haar vernoem.

Ponselle, Rosa (1897-1981), Amerikaanse sopraan. Aanvanklik het sy in bioskope en verskeidenheidskonserte gesing, totdat sy in 1918 op aanbeveling van Caruso en teenoor hom die rol van Leonora in die Metropolitan Opera se première van La forza del destino gesing het. Dit was terselfdertyd haar operadebuut, en daarna sou sy tot 1937 in meer as twintig rolle by die Met optree. Daar het sy in 1925 in 'n herlewing van Spontini se La Vestale gesing en later in 'n historiese opname van La Traviata onder Ettore Panizza. Vanaf 1929 het sy vir twee jaar ook by Covent Garden gesing. Met haar ryk stem en sterk verhoogpersoonlikheid was sy een van die grootste sangers van haar tyd in die titelrol van Norma (haar bekendste rol), Rachel in La Juive, Elvira in Ernani, Leonora in La forza del destino, Violetta in La Traviata en Leonora in Il Trovatore. Ná haar uittrede in 1937, as veertigjarige sangeres op die kruin van haar loopbaan, het sy 'n leermeester geword, waardeur sy verdere bekendheid sou verwerf. Vanaf 1950 was sy die artistieke direkteur van die Baltimore Opera. Sy het ‘n hoogstaande opname van ‘n versameling Verdi-arias wat tussen 1918 en 1928 gemaak is, nagelaat.

Poolse Nasionale Radio Simfonie-orkes, in 1935 in Warskou deur Grzegorz Fitelberg gestig en tot 1939 deur hom gedirigeer. In 1945 is die orkes in Katowice deur Witold Rowicki hersaamgestel. Hy is opgevolg deur bekende musici soos Jan Krenz, Jerzy Maksymiuk en Stanislaf Wislocki. In 1983 het Antoni Wit die hoofdirigent geword. Die orkes het later in ‘n siklus opnames van Mahler se volledige simfonieë gespeel, waarin Wit en Michael Halász die dirigeerstaf gedeel het.

Pople, Ross (1945-), Nieu-Seelandse tjellis en dirigent. Hy is in 1962 met ‘n regeringsbeurs na Londen om tjello aan die Koninklike Musiekakademie te studeer. Nadat hy ‘n aantal pryse gewen en die Akademie se voordragmedalje verower het, is hy met ‘n beurs na die Parys Konserwatorium en die Accademia Chiggiana in Siena om onder die gevierde tjellis André Navarra te studeer. Met sy terugkeer na Engeland het hy in ‘n aantal orkeste gespeel, insluitend as eerste tjellis in die Bath Feesorkes en die BBC Simfonie-orkes (laasgenoemde vir 10 jaar). Hy het in dié tyd internasionaal as solis verskyn. In 1980 het hy met ‘n aantal vriende en kollegas die Londense Feesorkes gestig en hul aanvanklik vanaf die tjello gelei. Ses jaar later het hy by die BBC bedank om sy orkes se voltydse dirigent te word. Met hulle toer hy wyd deur Europa, die Verre Ooste en Latyns-Amerika. Sleutelopnames: Mendelssohn se 12 Strykersimfonieë (LFO, 1985-90). Verdere opnames: 10 simfonieë van Boccherini; Haydn se simfonieë nrs. 93-104; en Orff se kantate Carmina Burana.

Popp, Lucia (1939-93), Tsjeggies-gebore Oostenrykse sopraan. Nadat sy in 1963 haar debuut in Bratislawa gemaak het as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte, was sy vanaf dieselfde jaar aan die Weense Staatsopera verbonde. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1963), Covent Garden (1966) en die Metropolitan Opera (1967). Vanaf 1972 tot 1983 het sy ook by die Beierse Staatsopera in München gesing. Met haar suiwer, gevoelvolle stem was sy wêreldbekend in opera, veral dié van Janácek, Mozart en Richard Strauss, en in operette. Dit het rolle ingesluit soos Marzelline in Fidelio, Lady Harriet in Martha, Gretel in Hänsel und Gretel, Karolka in Jenufa, Sonja in Der Zarewitsch, Servillia in La clemenza di Tito, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, Ilia in Idomeneo, Susanna in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Musetta in La Bohème, Adèle in Die Fledermaus, Christine in Intermezzo, Sophie in Der Rosenkavalier, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, en die titelrolle in Die geslepe klein wyfievos en Suor Angelica. Sy was ewe uitmuntend in konsertwerke, asook in Duitse, Russiese en Tsjeggiese liedere. Kort voor haar dood het sy ‘n versameling Schubert-liedere met die befaamde begeleier Graham Johnson opgeneem, in vertolkings gekenmerk deur soetheid en sjarme. Verdere opnames: Grieg se Peer Gynt; Haydn se oratorium Die Schöpfung en Mis nr. 12; Mahler se vierde simfonie (onder beide Bertini en Tennstedt) en agste simfonie (onder Solti); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Orff se Carmina Burana (onder beide Eichhorn en Frühbeck de Burgos); Schubert se oratorium Lazarus en ander kerkmusiek (almal onder Sawallisch); Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Tennstedt); liedere van Brahms, Dvorák, Kodály, Mahler, Mozart, Prokofiëf, Rachmaninof, Schoenberg, Schubert en R. Strauss; die genoemde operettes van Lehár en J. Strauss; die genoemde operas van Beethoven, Flotow, Humperdinck, Janácek, Mozart, Puccini en R. Strauss, asook Il sogno di Scipione en Pique Dame.

Postnikowa, Wiktoria (1944-), Russiese pianis. Sy het in 1965 die internasionale Chopin-kompetisie in Warskou gewen en in die jaar daarop ‘n tweede prys in die Leeds-kompetisie losgeslaan. In 1967 het haar Londense debuut gevolg, waarna sy as solis met van die wêreld se voorste orkeste opgetree het. Sy het in 1976 by die Salzburg-fees gedebuteer. In 1990 het sy die Britse première van Sjnittke se konsert vir klavierduet gegee. Sy is getroud met die dirigent Gennadi Rozhdestwenski, met wie sy soms in klavierduette speel. Opnames: Janácek se volledige klavierwerke; Skriabin se klavierkonsert, Fantasie en Prometheus; en die volledige solowerke van Tsjaikofski.

Powell, Claire (1954-), Engelse mezzosopraan. Sy het in 1978 die Tauber-gedenkprys gewen en in dieselfde jaar by die Glyndebourne-fees gedebuteer, as die Tweede Dame in Die Zauberflöte. Haar Londense konsertdebuut het in 1979 gevolg, en vanaf dié jaar tot 1985 was sy aan Covent Garden verbonde. Sy het in 1985 die rol van Bianca in die eerste Londense uitvoering van Zemlinsky se Eine florentinische Tragödie gesing. Haar Amerikaanse debuut is in 1990 in San Francisco gemaak. Onder Nicholas Cleobury het sy uitgeblink in ‘n opname van Falla se El amor brujo.

Powell, Maud (1868-1920), Amerikaanse violis. Sy het in 1883 deur Engeland getoer, en twee jaar later is haar Europese en Amerikaanse debute gemaak. Die Amerikaanse premières van Bruch, Dvorák, Sibelius en Tsjaikofski se vioolkonserte is deur haar gegee. Sy het in 1894 haar eie strykkwartet gestig en in 1908 haar eie trio, met wie sy deur die VSA getoer het. ‘n Kadenza vir Brahms se vioolkonsert is deur haar geskryf.

Prégardien, Christoph (1956-), Duitse tenoor. Aanvanklik het hy in die Limburg Katedraalkoor gesing, en in 1978 het hy die Wes-Duitse sangkompetisie in Berlyn gewen. Daarna het sangstudies aan die Frankfurt Musiekkollege gevolg, waar hy in 1983 gegradueer het. Verdere studies is by leermeesters in Milaan, Frankfurt en Stuttgart onderneem, waarna hy in verskeie Europese operahuise begin optree het. Met sy ryk toonkleur is hy ‘n uitmuntende liriese tenoor in konsertwerke en opera, veral van die sewentiende en agtiende eeue. Onder sy operarolle tel Orfeo in L’anima del Filosofo, Rinaldo in Armida, Don Ottavio in Don Giovanni, Tamino in Die Zauberflöte, die titelrol in Il ritorno d’Ulisse in Patria, Almaviva in Il barbiere di Siviglia, Fenton in Falstaff en Max in Der Freischütz. Hy het uitgeblink as die Evangelis in ‘n DVD-opname van Bach se Sint Markuspassie soos dit deur Ton Koopman herkonstrueer is. Daarby is hy begaafd in Duitse liedere. Sleutelopnames: ‘n versameling Schubert-liedere wat in 1816 geskryf is (met Graham Johnson as begeleier); Stradella se Kersfeeskantate Ah, ah, troppo è ver (onder Michael Schneider); Zelenka se Missa dei Filii en Litaniae Laurentanae (onder Frieder Bernius). Verdere opnames: C.P.E. Bach se Paasfeeskantate Wq.243 en Kersfeeskantate Wq.249; ‘n aantal kantates van J.S. Bach, en sy 4 Missae breves, Magnificat, Sint Johannespassie, Sint Mattheuspassie en Paasfeesoratorium; enkele kantates van Buxtehude (onder Koopman); Handel se oratorium Samson (as die Filistyn); ‘n versameling liedere van Killmayer na gedigte van Heine (met die pianis Siegfried Mauser); Schubert se liedere-siklus Die schöne Müllerin; Schumann se Liederkreis en kantate Das Paradies und das Peri; die genoemde operas van Haydn, Monteverdi en Weber, asook L’infedeltá delusa.

Presant, Sally (?-), Engelse mezzosopraan. As student aan die Koninklike Musiekkollege in Londen het sy vele toekennings verwerf. Verdere studies in Wenen en Parys het gevolg, en op 22 is haar debuut as Mercedes in Carmen by die Engelse Nasionale Opera gemaak. Sy het vervolgens wyd deur Engeland en Europa gesing, insluitend by die Handel Operavereniging en die Bulgaarse Staatsteater. Dit het gereelde optredes in radio- en televisie-uitsendings deur die Britse, Nederlandse en Bulgaarse uitsaaidienste ingesluit. In 1983 het die swaartepunt van haar loopbaan na Suid-Afrika verskuif, waar sy as eerste mezzosopraan by Kruik in Kaapstad aangestel is. Daar sou sy met haar intense sang en dramatiese vermoëns bekendheid verwerf in rolle soos Octavian in Der Rosenkavalier, Amneris in Aida, Azucena in Il Trovatore, Ortrud in Lohengrin en die titelrol in Carmen. Die Nederburg Operaprys is aan haar toegeken vir haar vertolking van Octavian.

Preston, Simon (1938-), Engelse orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy het sy Londense debuut as orrelis in 1962 gemaak en was vir die volgende vyf jaar tweede orrelis by die Westminster Abdy. Sedertdien toer hy wêreldwyd as solis, waardeur hy bekendheid verwerf het met sy flambojante styl en sy uitmuntende vertolkings van J.S. Bach. Hy is ook ‘n kampvegter vir die orrelwerke van Messiaen, terwyl hy as dirigent uitblink in koormusiek vanaf die Renaissance tot die laat negentiende eeu. As ‘n steunpilaar in die Britse musieklewe was hy oor die afgelope aantal dekades dirigent van die Oxford Bach-Koor (1970-4), dosent in musiek aan die Oxford Universiteit (1972-81), orrelis van Christ Church, Oxford (1970-81), en orrelis en koormeester van Westminster Abdy (1981-7). Met die koor van laasgenoemde het hy in die 1984-rolprent Amadeus opgetree. Vanaf 1987 het hy oor meer as ‘n dekade die volledige orrelwerke van Bach op orrels in Engeland, Duitsland en Noorweë opgeneem. Sy vertolkings daarin word as eersteklas in elke opsig beskou. Sleutelopnames: Handel se orrelkonserte opus 4 en opus 7, asook HWV 295, 296 en 304 (almal onder Pinnock), en sy 4 Coronation Anthems (as dirigent by Westminster); ‘n versameling gesange van Purcell (as dirigent by Oxford, 1980). Verdere opnames (as solis): Haydn se orrelkonsert nr. 1 (onder Marriner); Saint-Saëns se derde simfonie (onder Levine); talle solowerke van Clarke, Handel, M. Haydn, Messiaen, Poulenc, Purcell, Vierne, Walton en Widor; (en as dirigent): Dvorák se Mis in D; Handel se Anthem for the Foundling Hospital, Dettingen Te Deum, Dettingen Anthem, Ode for the birthday of Queen Anne en Utrecht Te Deum; Haydn se Misse nrs. 2 en 3; Kuhnau se motet Der Gerechte kommt um; Lassus se Missa super Bell’ Amfitri’altera, Psalm 143 en 4 motette; Palestrina se Missa Papae Marcelli; en Vivaldi se Gloria.

Prêtre, Georges (1924-), Franse dirigent. Hy was vanaf 1946 tot 1955 musiekdirekteur van operahuise in Marseilles, Lisle en Toulouse, en daarna tot 1959 van die Opéra-Comique in Parys. Daar het hy in 1956 die Paryse première van Richard Strauss se opera Capriccio gedirigeer, en drie jaar later ook die eerste uitvoerings van Poulenc se La voix humaine en Gloria. Verdere debute het plaasgevind in Chicago (1959), Londen (1961), by die Metropolitan Opera (1964) en die Salzburg-fees (1966). As een van die voorste dirigente van Franse opera van sy tyd het hy soms die sopraan Maria Callas in opnames en opvoerings begelei. Daaronder tel konserte in Londen (1961/62) en Parys (1961/63), en in 1965 by Covent Garden in ‘n opname van Tosca. In 1970/1 was hy musiekdirekteur van die Parys Opera. Hy het in 1981 die koor en orkes van La Scala in ‘n rolprent van Cavalleria rusticana wat deur Franco Zeffirelli in Sicilië gemaak is, gedirigeer. Vanaf 1986 was hy vir vyf jaar hoofgasdirigent van die Weense Simfonie-orkes. In 2010 het hy die gewilde Nuwejaarskonsert in Wenen gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Berlioz se La damnation de Faust; Gounod se Messe solennelle de Saint Cécile; Landofski se simfonieë nrs. 1, 3 en 4; Poulenc se ballet Les biches en ander orkeswerke, asook sy koorwerk Stabat mater en La Voix humaine; Roussel se ballet Bacchus et Ariane; Schmitt se Etude pour Le palais hanté; en die operas Carmen, Le pêcheurs de perles, La chute de la Maison Usher, Faust, Louise, Werther, Les Contes d’Hoffmann, La voix humaine, Samson et Dalila en Capriccio.

Previn, André (1929-), Duits-gebore pianis, dirigent en komponis. As vyfjarige het hy ‘n konsert van die Berlynse Filharmoniese Orkes onder die legendariese dirigent Wilhelm Furtwängler bygewoon. Vanaf ‘n vroeë leeftyd het hy klavierlesse in die Duitse hoofstad ontvang. As Jode het hy en die res van sy gesin in 1939 eers na Parys en kort daarna met behulp van hul goeie vriend Jascha Heifetz na Kalifornië geëmigreer, waar hy sewe jaar later 'n Amerikaanse burger sou word. Daar het hy as tiener reeds rolprentmusiek vir Hollywood begin skryf, waarvoor hy mettertyd vier Oscar-toekennings sou wen. Ná ‘n aanvanklike loopbaan as jazz-pianis en verdere studies onder die komponis Mario Tedesco en die dirigent Pierre Monteux, het hy in 1962 sy dirigeerdebuut met die Sint Louis Simfonie-orkes gemaak. Vyf jaar later het hy John Barbirolli as musiekdirekteur van die Houston Simfonie-orkes opgevolg en die pos vir twee jaar beklee. Daarna het hy hom in Engeland gevestig, waar hy vanaf 1968 tot 1979 hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes was. Hy het wêreldwyd met hulle getoer, talle bekroonde opnames gemaak en met sy uittrede ten gunste van Claudio Abbado hul eredirigent geword. Die orkes is in dié tyd bekendgestel aan die musiek van sy komponis-vriend John Williams, sodat hulle in die klankbane van al die Star Wars rolprente sou speel. In Brittanje was hy ‘n gewilde musiekaanbieder oor die televisie, en vir ‘n tyd was hy met die Britse aktrise Mia Farrow getroud.

Intussen het Previn in 1973 by die Salzburg-fees gedebuteer, en vier jaar later het hy William Steinberg as musiekdirekteur van die Pittsburgh Simfonie-orkes opgevolg. Hy het hulle in 1978 op 'n Europese toer gelei en sou die pos tot 1985 beklee. Daarna was hy aan die Koninklike Filharmoniese Orkes verbonde, eers as musiekdirekteur (1985-7) en daarna tot 1992 as hoofdirigent. Vanaf 1985 was hy vir vyf jaar musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes. Hy het gereeld as gasdirigent van die Weense Filharmoniese Orkes opgetree, met wie hy die volledige orkeswerke van Richard Strauss opgeneem het. Met sy informele styl en spitsvondigheid is hy besonder gewild onder orkesspelers. Hy is uitmuntend in die Romantiese en moderne repertoriums, veral in Britse, Duitse, Franse en Russiese musiek. In 1996 is hy tot ereridder geslaan. Hy het in 2001 ‘n vioolkonsert vir die beroemde Duitse violis Anne-Sophie Mutter geskryf, kort voordat hul getroud is. Onder sy verdere komposisies tel die Diversions vir orkes, die Trio vir klavier, hobo en fagot, Haydn Variasies vir klavier, en die opera A Streetcar named Desire. Die invloed van Sjostakowitsj kan duidelik in sy orkestrasie bemerk word.

Sleutelopnames (in Londen tensy anders aangedui): Berlioz se Requiem (1980); Holst se Egdon Heath en balletsuite The Perfect Fool; ‘n versameling rolprentmusiek van Korngold; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Messiaen se Turangalila Simfonie (1977); Sjostakowitsj se vyfde simfonie (1965); Johann Strauss junior se operette Die Fledermaus (Wenen); Vaughan Williams se volledige simfonieë (1968-72); Walton se eerste simfonie (1966) en Belshazzar's Feast (1972, DVD). Verdere opnames (as dirigent): die volledige simfonieë van Elgar en Rachmaninof, en ‘n hele aantal van Brahms, Haydn, Mahler, Prokofiëf, Sjostakowitsj (nrs. 8, 10 en 13), Tsjaikofski en Walton (nr. 2); orkeswerke van Debussy, Dvorák, Elgar, Ravel, Rimski-Korsakof en Saint-Saëns; Bartók se Konsert vir Orkes; Beethoven se strykkwartette nr. 14 en 16 (deur Mitropoulos vir strykorkes verwerk); Berlioz se Symphonie fantastique; Brahms se Ein deutsches Requiem; Britten se Sinfonia da Requiem; Janácek se Sinfonietta; Orff se Carmina Burana; Prokofiëf se ballet Romeo en Juliet en kantate Alexander Nevsky; ‘n versameling bekende orkeswerke van Ravel; Saint-Saëns se Karnaval van die Diere; Richard Strauss se Also sprach Zarathustra, Don Juan en Tod und Verklärung; Tsjaikofski se ballette Die Neutkraker, Doringrosie en Swanemeer; Verdi se strykkwartet soos deur Toscanini verwerk; die opera L’Enfant et les Sortilèges; sy eie opera en genoemde orkeswerk; (as pianis): Mendelssohn se Klaviertrio in D mineur (met Chung en Tortelier); Schumann se twee klavierkwartette (met Kim, Ohyama en Hoffman); en Sjostakowitsj se twee klavierkonserte.

Previtali, Fernando (1907-85), Italiaanse dirigent en komponis. Aanvanklik was hy ‘n assistent vir Vittorio Gui by die Maggio Musicale-fees in Florence (1928-36). Hy was daarna ‘n dirigent van die Italiaanse Radio-orkes (1936-43 en 1945-53) en die Santa Cecilia Orkes (1953-73). Vanaf 1948 het hy dikwels as gasdirigent met ander Europese orkeste opgetree. In 1955 het sy Amerikaanse debuut met die Cleveland Orkes plaasgevind. Hy was veral bekend vir sy opera-uitsendings oor die radio, en het ‘n boek oor musiek geskryf. Met die koor en orkes van die Roomse Opera het hy ‘n voortreflike opname van La Traviata gemaak. Verdere opnames: Suor Angelica.

Prey, Hermann (1929-98), Duitse bariton. Hy het sy debuut in 1952 in Wiesbaden as Morucio in d’Albert se opera Tiefland gemaak, waarna hy tot 1960 aan die Hamburg Opera verbonde was. Intussen het sy Weense debuut in 1955 plaasgevind in die titelrol van Le nozze di Figaro. Vanaf die jaar daarop het hy ook by die Berlynse Opera gesing, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1959), die Metropolitan Opera (1960), die feeste in Bayreuth en Edinburgh (beide in 1965), en by Covent Garden (1973). As een van die voorste vertolkers van Duitse liedere van sy tyd het hy in 1976 ‘n jaarlikse Schubert-fees in Hohenems, Oostenryk gestig. Hoewel hy meesal in die skadu van sy legendariese landgenoot Dietrich Fischer-Dieskau moes staan, word hy nietemin beskou as een van die beste liederesangers van die twintigste eeu. Daarby was hy wêreldbekend vir sy uitmuntende sang in Duitse opera, operette en gewyde werke. Onder sy beste rolle het getel Tristan in Martha, die Jagter in Das Nachtlager in Granada, Tsaar Peter in Zar und Zimmermann, die titelrol in Le nozze di Figaro, Guglielmo in Così fan tutte, Graaf Luna in Palestrina, die Harlekyn in Ariadne auf Naxos, Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg en Kaspar in Der Freischütz. Hy het geskitter as Figaro in Jean-Pierre Ponnelle se filmweergawe van Le nozze di Figaro (1976). Onder sy beeldopnames tel ‘n knap optrede as Eisenstein in Die Fledermaus by Covent Garden. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie en Kantate nr. 56; Brahms se Ein deutsches Requiem (onder Klemperer); Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Mahler se agste simfonie (onder beide Bernstein en Haitink); Orff se Carmina Burana; Puccini se Messa di Gloria; talle liedere van Schubert en Schumann; die operettes Der Bettelstudent (as Ollendorf) en Die Fledermaus; die genoemde operas van Flotow, Kreutzer, Lortzing, Mozart, Pfitzner, Wagner en Weber, asook Die tote Stadt, Alfonso und Estrella, Das Liebesverbot en Oberon.

Price, Leontyne (1927-), Afro-Amerikaanse sopraan. As kind het sy klavierlesse ontvang, en in 1949 is sy met ‘n beurs na die Juilliard Musiekskool in New York. In dieselfde jaar het sy Ljuba Welitsj die titelrol in Salome by die Metropolitan Opera hoor sing, waardeur sy geïnspireer is om ‘n operasanger te word. Tydens haar laaste studiejaar by die Juilliard (1952) het sy die rol van Mrs Ford in ‘n opvoering van Falstaff gesing. In dieselfde jaar het sy met die bariton William Warfield getrou, en is sy deur Virgil Thomson gekies om in 'n herlewing van sy opera Four Saints in Three Acts in New York en Parys te sing. Dit was terselfdertyd haar professionele debuut. Daarna het sy bekend geraak as Bess in Porgy and Bess tydens toere deur die VSA en Europa (1952-5). Daaronder tel ‘n Londense debuut in 1952, en in 1955 het sy die titelrol in Tosca in 'n TV-uitsending gesing. Dit het ‘n sensasie veroorsaak, wat gelei het tot haar debuut in San Francisco (1957) as Lidoine in Dialogues des Carmélites. Vervolgens het sy internasionaal gesing, met verdere debute by die Weense Staatsopera en Covent Garden (beide in 1958), Chicago (1959), die Salzburg-fees en La Scala (beide in 1960), die Metropolitan Opera (1961) en Parys (1968). Daardeur het sy die eerste swart sanger geword om wêreldwyd in operahuise op te tree.

Intussen het Price in die premières van verskeie werke deur haar landgenoot Barber gesing: Hermit Songs (1953), Prayers of Kierkegaard (in 1954, onder Charles Munch) en opera Antony and Cleopatra (in 1966 by die Met, waar sy die rol van Cleopatra geskep het). Sy het in 1964 in die destydse Sowjet-Unie opgetree, en drie jaar later het sy by La Scala ‘n in filmopname van Verdi se Requiem onder Herbert von Karajan gesing. Tot haar uittrede in 1985 was sy aan die Met verbonde, waar sy 'n afskeidsoptrede as Aida gegee het. Met haar ryk stem en briljante, sensitiewe sang was sy wêreldberoemd in Verdi-rolle soos die titelrol in Aida, Amelia in Un ballo in maschera, Elvira in Ernani, Leonora in La forza del destino en Leonora in Il Trovatore. Verder was sy begaafd in die titelrolle van Carmen, Madama Butterfly, Tosca en Ariadne auf Naxos, en as Fiordiligi in Cosi fan tutte, Giorgetta in Il Tabarro en Tatjana in Jewgeni Onegin. Sy het ook uitgeblink in Duitse en Franse liedere, en as konsertsangeres. In 2003 het sy ‘n toekenning vir lewenslange prestasie van Gramophone ontvang. Opnames: Beethoven se Missa solemnis (onder Karajan); Verdi se Requiem (onder beide Reiner en Solti); orkesliedere van Barber, Berlioz en R. Strauss; liedere van Barber, Fauré, Poulenc, Schumann, R. Strauss en Wolf; die genoemde operas van Bizet, Mozart, Puccini, R. Strauss en Verdi; en versamelings arias van Mozart, Puccini, Verdi en R. Strauss.

Price, Margaret (1941-2011), Walliese sopraan. Nadat sy aanvanklik ‘n koorsanger in die Ambrosian Singers was, is haar operadebuut in 1962 met die Walliese Nasionale Opera gemaak, as Cherubino in Le nozze di Figaro. In die jaar daarop het sy by Covent Garden gedebuteer, weer as Cherubino. Sy het vervolgens dikwels in Duitse operahuise opgetree, veral in Mozart-rolle. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1966), San Francisco (1969), die Salzburg-fees (1975) en die Metropolitan Opera (1985). Onder die rolle waarin sy uitgeblink het, tel Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, Liù in Turandot, Cathleen in Riders to the Sea, die titelrol in Aida, Amelia in Un ballo in maschera, Desdemona in Otello en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Sy het ‘n onoortreflike vertoning as Isolde gelewer in ‘n opname onder Carlos Kleiber in Dresden. Met haar suiwer toonkleur en sensitiewe sang was sy ook ‘n uitmuntende konsert- en liederesangeres. Sy het in 1975 by die Dubrovnik-fees as solis in ‘n hoogstaande opname van Verdi se Requiem onder Lovro von Matacic gesing. In 1992 is sy tot dame geskep. Sleutelopnames: Mozart se Requiem (onder Schreier); ’n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Sawallisch); Berg se Lulu suite en Altenberg Lieder; Boulanger se Psaume 24, Psaume 130 en Pie Jesu; Brahms se Ein deutsches Requiem; Elgar se oratorium The Kingdom; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Chailly); Mahler se tweede simfonie (onder Stokowski), vierde simfonie (onder Horenstein) en agste simfonie (onder Bernstein); Ravel se Shéhérazade; Vaughan Williams se derde simfonie (onder Boult); Verdi se Requiem (onder Abbado, op DVD); talle liedere van Brahms, Liszt, Mendelssohn, Moessorgski, Mozart, Schubert, Schumann, Tsjaikofski, Wagner en Wolf; die genoemde operas van Puccini, Vaughan Williams en Verdi; en ‘n versameling Mozart-arias (onder James Lockhart).

Primrose, William (1903-82), Skots-gebore altviolis. Hy het op aanbeveling van Eugene ÿsaye van viool na altviool oorgeslaan en vanaf 1930 vir vyf jaar in die Londense Strykkwartet gespeel. In 1937 het hy met die pianis Harriet Cohen ‘n historiese opname van Bax se altvioolsonate gemaak. Hy het in dieselfde jaar in die VSA gaan woon, waar hy tot 1942 eerste altviolis in Toscanini se NBC Simfonie-orkes sou wees. Hy het dikwels as solis opgetree, en in 1939 het hy sy eie strykkwartet gevorm. Verskeie werke is vir hom geskryf, waaronder Bartók se altvioolkonsert waarvan hy in 1949 die première in Minneapolis gegee het. Verder het hy in die Festival Kwartet gespeel (1954-62), en in 1955 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Daarby het hy onderrig gegee aan die Indiana Universiteit se musiekskool in Bloomington (1956-72) en by die Brigham Young Universiteit in Provo (1979-82). Opnames: Bartók en Walton se altvioolkonserte; Berlioz se Harold in Italië (3 weergawes, onder Beecham, Koussewitzki en Munch); Bloch se Suite in A mineur; Dohnányi se Serenade vir strykertrio (met Feuermann en Heifetz); en Hindemith se altvioolsonate.

Pritchard, John (1921-89), Engelse dirigent. Vanaf sy vroeë twintigs was hy dirigent van die Derby Strykorkes (1943-52), en in 1947 het sy lang verbintenis met die Glyndebourne-fees begin. Aanvanklik was hy ‘n repetiteur daar, en twee jaar later het hy ‘n koormeester en assistent vir Fritz Busch geword. Hy het in 1951 verskeie Mozart-operas by die fees gedirigeer, en nege jaar later is die CBE aan hom toegeken. In 1967 is hy as hoofdirigent by Glyndebourne aangestel, en vanaf 1969 tot 1977 was hy musiekdirekteur. By Glyndebourne het hy onder meer hoogstaande opvoerings van Macbeth (1972) en Le nozze di Figaro (1973) gedirigeer, met DVD-opnames wat daarvan getuig. Verdere debute is intussen gemaak by Covent Garden (1952), die Salzburg-fees (1966), Chicago (1969) en die Metropolitan Opera (1971). Hy was ook hoofdirigent van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1957-63) en van die Londense Filharmoniese Orkes (1962-7). Hy het die premières van die operas Gloriana (1953), The Midsummer Marriage (1955) en King Priam (1962) gedirigeer, en in 1961 by Glyndebourne ook die Britse première van Henze se Elegie fur junge Liebende.

Later in sy loopbaan was Pritchard ook dirigent van die Huddersfield Koorvereniging (1973-6), die BBC Simfonie-orkes (1981-9) en die Keulen Opera (1978-89). In sy laaste jare was hy musiekdirekteur van die Brussels Nasionale Opera (1981-9) en die San Francisco Opera (1986-9). In 1975 is die Shakespeare-prys aan hom toegeken en agt jaar later is hy tot ridder geslaan. Hy was ‘n begaafde dirigent van Italiaanse opera en van Mozart, en het ses maande voor sy dood ‘n aantal uittreksels uit laasgenoemde se opera Der Schauspieldirektor met die Weense Filharmoniese Orkes opgeneem. Verdere opnames: Fricker se tweede simfonie; Schubert se simfonieë nrs. 8 en 9 (Londen 1975); Tippett se oratorium A Child of our time; en die operas L’elisir d’amore, Lucia di Lammermoor, Hänsel und Gretel, L’incoronazione di Poppea, Così fan tutte, Idomeneo en La Traviata.

Pro Arte Kwartet, Belgiese strykkwartet wat in 1912 in Brussels gestig is. Hul debuut het in die jaar daarop in die Belgiese hoofstad plaasgevind, met verdere debute wat gemaak is in Brittanje (1925) en die VSA (1926). Hulle het bekendheid verwerf vir hul uitvoerings van hedendaagse werke, en in die 1930’s het hulle jaarliks vir ‘n week in Cambridge opgetree. Met hul onberispelike tegniek en verfyndheid was die ensemble ewe begaafd in die klassieke repertorium, soos hul historiese 1935-opnames van Brahms se eerste sekstet en Schubert se kwintet getuig. In 1973 is ‘n Oostenrykse strykkwartet met dieselfde naam in Salzburg gestig. Verdere opnames: 7 versamelings strykkwartette van Haydn.

Pro Cantione Antiqua, Britse vokale ensemble wat in 1968 gestig is vir die uitvoering van Middeleeuse, Renaissance- en Barok-werke. Hul debuut het in dieselfde jaar in die Westminster Katedraal onder Colin Mawby plaasgevind. Met hul lewenskragtige, gevoelvolle sang is hul veral begaafd in musiek van die vyftiende en sestiende eeue. Sleutelopnames: Lassus se Requiem, 9 Lamentationes Hieremiae, Aurora lucis rutilat en Magnificat (onder Mark Brown en Bruno Turner); Palestrina se Canticum canticorum Salomonis en Lamentations of Jeremiah (beide onder Turner), en Missa Assumpta est Maria en Missa papae Marcelli (beide onder Brown); ‘n versameling motette van Schütz (onder Edgar Fleet). Verdere opnames: ‘n versameling Gregoriaanse kantus (onder James O’Donnell); ‘n versameling Elizabethaanse madrigale en luitliedere getiteld Ars Britannica; Desprez se Missa L’homme armé; en Ockeghem se Requiem (onder Turner).

Procter, Norma (1928-), Engelse alt. Sy het sanglesse van Roy Henderson en Alec Redshaw otvang, en in 1948 haar debuut by die Southwark Katedraal gemaak. Dit was in Handel se Messiah, en sy sou spoedig as ‘n uitmuntende konsertsangeres bekendheid verwerf. Haar operadebuut is in 1961 by Covent Garden gemaak, as Orpheus in Orfeo ed Euridice. Opnames: Bach se Kantates nommers 45 en 176 (onder Rilling), en Mahler se derde simfonie (onder Horenstein) en agste simfonie (onder beide Bernstein en Kubelik).

Prohaska, Felix (1912-87), Oostenrykse dirigent. Sy vader was die operasanger Jaroslaf Prohaska. Hy het as jong musikus onderrig gegee aan die Graz Konserwatorium (1936-9), en terselfdertyd was hy ‘n repetiteur by die plaaslike operahuis. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy opera gedirigeer in Duisburg (1939-41), Strasbourg (1941-3) en Praag (1943-5). In 1945 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, waar hy ‘n beduidende rol sou speel in die na-oorlogse rehabilitasie van die beroemde musiekfees. Hy was vanaf die jaar daarop tot 1955 'n dirigent by die Weense Staatsopera en ‘n leermeester in die Oostenrykse hoofstad. In dié tyd het hy gevierde opnames van ‘n hele aantal Bach-kantates met soliste verbonde aan die Staatsopera en met Weense koorsangers en orkesspelers gemaak. Daarin het hy gepoog om die grootte van die ensembles so na as moontlik aan dié van Bach se tyd te hou, waardeur hy die weg help baan het vir die eietydse uitvoerings van latere dirigente. Daarna was hy hoofdirigent van die Frankfurt Opera (1955-61) en die Hannover Opera (1965-74), en vanaf 1961 tot 1975 was hy direkteur van die Hannover Konserwatorium.

Prohaska, Jaroslaf (1891-1965), Oostenrykse bas-bariton. Hy was ‘n lid van die Weense Seunskoor (1898-1906), en het in 1922 sy operadebuut in Lübeck gemaak. Daarna was hy verbonde aan die Nürnberg Opera (1925-31) en die Berlynse Staatsopera (1931-52). Hy het as uitmuntende Wagner-sanger vanaf 1933 tot 1944 gereeld by die Bayreuth-fees gesing, in rolle soos Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Kurwenal in Tristan und Isolde, Wotan in die Ring, Amfortas in Parsifal en die titelrol in Der fliegende Holländer. In 1947 het hy hoof van die Wes-Berlynse Konserwatorium geword, en in dieselfde jaar het hy in ‘n opname van Tristan und Isolde onder Wilhelm Furtwangler gesing. Hy het in 1949 by die Salzburg-fees gedebuteer as Baron Ochs in ‘n opvoering van Der Rosenkavalier onder Georg Szell, met ‘n hoogstaande opname wat daarvan gemaak is. Later was hy direkteur van die operaskool in Wes-Berlyn (1952-9), waar die vermaarde liederesanger Hermann Prey onder sy studente sou tel. Hy het in 1959 uitgetree. Sy seun was die dirigent Felix Prohaska (sien die voorgaande inskywing).

Prokina, Elena (1964-), Russiese sopraan wat aanvanklik ‘n aktrise was. Vanaf 1988 was sy vir vier jaar ‘n lid van die Kirof Opera, met wie sy gedebuteer het by die Edinburgh-fees (1991) en Covent Garden (1992). In 1994 het sy by die Glyndebourne-fees as Tatjana in Jewgeni Onegin gesing, en in dieselfde jaar is haar debuut in Los Angeles gemaak. Sy het die rol van Natasja in ‘n uitstekende opname van Oorlog en Vrede onder Waleri Gergijef gesing.

Promenade-konserte, jaarlikse Londense musiekfees waarna as die Proms verwys word. Dit is in 1895 deur die sanger Robert Newman en die dirigent Henry Wood ingelui, en word sedert 1927 deur die BBC geborg. Ná Wood se dood (in 1944) was Malcolm Sargent vanaf 1948 tot sy dood in 1967 die hoofdirigent, maar sedertdien wissel die dirigente jaarliks. Die fees bestaan uit orkesmusiek, operas en kamermusiek, en word afgesluit met die Laaste Nag van die Proms, waartydens die gehoor deelneem in patriotiese musiek van Elgar, Parry en Wood. In die meeste gevalle tree die BBC Simfonie-orkes daar op.

Purcell Kwartet, Britse instrumentele kwartet wat in 1984 gestig is. Hul bestaan uit twee violiste, ‘n tjellis/basviolis en ‘n klawesimbelspeler/orrelis, wat merendeels triosonates en soortgelyke werke uit die sewentiende en agtiende eeue speel. Daarby tree hul as begeleiers vir bekende sangers in vroeë musiek soos Emma Kirkby en Catherine Bott op. Die ensemble is tans besig met ‘n projek om die kantates van J.S. Bach op te neem, waarvan die eerste vrystelling (nrs. 4, 106, 131 en 196) deur besondere intimiteit en suiwerheid van sang gekenmerk word. Sleutelopnames: ‘n versameling gewyde kantates van Buxtehude (met Kirkby en Le Blanc); Vivaldi se Strykerkonserte RV 124&RV 129, en Sinfonia RV 130. Verdere opnames: die volledige triosonates van Purcell; ‘n versameling kamerwerke van C.P.E. Bach; J.S. Bach se 4 Missae breves; Biber se 12 Sonatae Fidicinium sacro-profanum, Balletti lamentabili, 7 Harmonia artificiosa-ariosa en 12 Sonatae tam Aris, quam Aulis servientes; Corelli se volledige Sonates, opus 1-4; ‘n versameling Concerti grossi en triosonates van Geminiani; Handel se Triosonates opus 2/5, 5/4&7; Lawes se 8 Fantasia Suites en 10 Royal Consorts; en Schütz se Symphoniae sacrae.

Puyana, Rafael (1931-2013), Colombiaanse klawesimbelspeler. Hy het op 6 jaar met klavierlesse begin en op 13 is sy debuut by die Teatro Colón in sy geboortestad Bogotá gemaak. Drie jaar later is hy na Boston in die VSA vir verdere klavierstudies. Daarop is hy na Parys vir studies in die klawesimbel onder Wanda Landowska en komposisie onder Nadia Boulanger. Vanaf die 1950’s het hy ‘n internasionale loopbaan gevolg, met debute wat gemaak is in New York (1957), Boston (1961) en Londen (1966). Hy was mettertyd in Spanje woonagtig, waar hy vanaf 1961 direkteur van vroeë musiek by die Santiago de Compostela was. Oor die jare het hy met bekende musikante soos Yehudi Menuhin, Andrés Segovia en Leopold Stokowski opgetree. Hoewel hy merendeels in Barokmusiek bekend was, het moderne komponiste soos Mompou en Montsalvatge werke vir hom geskryf. Hy is in Parys oorlede. Opnames: talle klawesimbelsonates van D. Scarlatti; en ‘n versameling solowerke van Albéniz, J.S. Bach, Bull, Byrd, Chambonnières, L. en F. Couperin, en Rameau.

Encyclopedia: Western Music