If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

K - L - M

K

Kabasta, Oswald (1896-1946), Oostenrykse dirigent. Hy was vanaf 1933 hoofdirigent van die Weense Simfonie-orkes. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes, en soos ‘n hele aantal van sy kollegas is hy ná die oorlog deur die Geallieerdes van Nazi-samewerking aangekla. Voordat hy deur hulle verbied kon word om verder te dirigeer, het hy vroeg in 1946 selfmoord gepleeg. Met sy München-orkes het hy voortreflike opnames van simfonieë deur Beethoven (nr. 3), Bruckner (nrs. 4, 7 en 9), Dvorák (nr. 9) en Schubert (nr. 5) gemaak.

Kadosa, Pál (1903-83), Hongaarse pianis en komponis. Hy het in Boedapest onder die komponis Kodály studeer. Daarna het hy deur sy klavieruitvoerings veel bygedra om moderne musiek te bevorder. Vanaf 1927 tot 1943 het hy aan die Fodor Konserwatorium in Boedapest onderrig gegee, en vanaf 1945 was hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Boedapest Musiekakademie.

Kagan, Oleg (1946-90), Russiese violis. As baba het hy met die res van sy gesin vanaf Sakhalin in die verre ooste van Sowjet-Rusland na Riga in Letland verhuis. Hy het aan die plaaslike konserwatorium studeer totdat die leermeester Boris Kuznetsof hom op dertien gehoor speel het. Daarop het hy die tiener na Moskou geneem vir studies aan die Tsjaikofski Konserwatorium. In die Russiese hoofstad het hy ‘n liefde vir die werke van twintigste-eeuse skrywers en skilders ontwikkel. Hy het in 1965 die Sibelius-kompetisie in Helsinki gewen, waarna hy dikwels na Finland teruggekeer het vir optredes en vakansies. In die jaar daarop het hy ‘n tweede prys in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen, en in 1968 het ‘n eerste prys by die J.S. Bach-kompetisie in Leipzig gevolg. Na Kuznetsov se afsterwe het hy onder die gevierde violis David Oistrach verder studeer, vir wie hy ‘n lewenslange bewondering sou behou. Later sou hy Mozart se volledige vioolkonserte onder die dirigeerstaf van Oistrach opneem. Hy is in die laat 1960’s aan die groot pianis Swiatoslaf Richter bekendgestel, met wie hy oor die volgende 20 jaar dikwels sou saamwerk. Hulle was veral lief om werke van Mozart en Berg uit te voer. Hedendaagse komponiste soos Sjnittke en Gubaidulina het werke vir hom geskryf. Hy was eers getroud met die pianis Elisabeth Leonskaja, met wie hy in kamermusiek gespeel het. Later was hy getroud met die tjellis Natalia Gutman, met wie hy oor sy laaste 20 jaar gereeld sou optree. Dit sluit uitvoerings van Brahms se Dubbelkonsert in ‘n aantal lande in. Dit het Sjnittke genoop om sy Concerto grosso nr. 2 (1982) vir hul te skryf. Elke somer het hul ook ‘n informele musiekfees in die Russiese dorp Zwenigorod aangebied. Hy het in 1989 ernstig siek geraak en is in die jaar daarop in München oorlede. Kort voor sy dood het hy met sy vriend, die beroemde altviolis Joeri Basjmet, ‘n uitvoering van Mozart se Sinfonia concertante gegee. Sleutelopnames: Bach se volledige onbegeleide Vioolsonates en -partitas (1989). Verdere opnames: Hindemith se 4 vioolsonates (met Richter, 1978).

Kahane, Jeffrey (1956-), Amerikaanse pianis. 'n Jaar nadat hy in 1977 ‘n tweede prys in die Clara Haskil-kompetisie gewen het, is sy debuut in San Francisco gemaak. Hy het verder ‘n vierde prys in die Van Cliburn-kompetisie gewen (1981) en was die wenner van die Arthur Rubinstein-kompetisie (1983). In laasgenoemde jaar het hy in New York gedebuteer en in 1985 ook in Londen. Hy gee sedert 1988 onderrig in klavier aan die Eastman Musiekskool. In 1992 het hy onder John Nelson in ‘n uitstekende opname van sy landgenoot Schoenfield se Four parables gespeel. Sy opname van Bach se 3 Konserte vir twee klawesimbels saam met Robert Levin onder die dirigeerstaf van Herbert Rilling word insgelyks hoog aangeskryf.

Kajanus, Robert (1856-1933), Finse dirigent en komponis. Nadat hy in Helsinki, Leipzig en Parys studeer het, het hy in 1882 die Helsinki Filharmoniese Orkes gestig. Vir die volgende vyftig jaar, tot 1932, sou hy hulle dirigeer. Vanaf 1897 tot 1926 het hy ook aan die Finse hoofstad se konserwatorium onderrig gegee, waarvan die laaste agtien jaar as hoogleraar was. Hy was ‘n goeie vriend van die komponis Sibelius en ‘n kampvegter vir sy musiek. In die vroeë 1930’s het hy met die Londense Simfonie-orkes klassieke opnames van Sibelius se simfonië nrs. 1, 2, 3 en 5, asook Belshazzar’s Feast, Karelia Suite, Pohjola se Dogter en Tapiola gemaak. Die projek is deur die Finse regering gefinansier, met vertolkings wat tot vandag beskou word as die naaste aan die groot komponis se bedoelings.

Kaler, Ilja (1963-), Russiese violis. Hy het in Moskou onder Leonid Kogan studeer, waarna hy met sy gevoelvolle spel en akkurate intonasie verskeie internasionale kompetisies gewen het. Daaronder tel goue medaljes in die Paganini-kompetisie in Genoa (1981), die Sibelius-kompetisie in Helsinki (1985) en die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou (1986). Sy optredes as virtuoos neem hom wyd deur Europa, die Verre Ooste en die VSA. Sleutelopname: Ysaÿe se 6 Sonates vir soloviool. Verdere opnames: Dvorák, Glazoenof en Sjostakowitsj se vioolkonserte; Brahms se Dubbelkonsert (met Maria Kliegel) en 3 vioolsonates; Paganini se eerste twee vioolkonserte en 24 Caprices; en Schumann se 3 vioolsonates.

Kamu, Okko (1946-), Finse violis, dirigent en komponis. Aanvanklik was hy ‘n violis, met ‘n debuut wat in sy tienerjare gemaak is. Vanaf 1965 het hy in ‘n strykkwartet en in die Helsinki Filharmoniese Orkes gespeel, en was hy orkesleier by die Finse Nasionale Opera (1966-9). Hy het in 1968 sy dirigeerdebuut by laasgenoemde gemaak en die jaar daarop het hy die eerste Karajan-dirigeerkompetisie gewen. Daarna was hy gasdirigent van die Koninklike Sweedse Opera (1969/70) en dirigent van die Finse Radio Simfonie-orkes (1970-7). Sy Londense debuut is in 1970 gemaak, waarna hy as gasdirigent van verskeie Britse orkeste opgetree. Verder was hy hoofdirigent van die Oslo Filharmoniese Orkes (1975-9), die Helsinki Filharmoniese Orkes (1979-90), die Nederlandse Radio Simfonie-orkes (1983-6) en die Sjaelland Simfonie-orkes in Denemarke (vanaf 1988). Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1983) en by Covent Garden (1987). Hy het die premières van sy landgenoot Sallinen se operas The Red Line (1978) en The King goes forth to France (1983) gedirigeer. Opnames: Berwald se volledige simfonieë; orkeswerke van Sallinen en Sibelius; en ‘n versameling orkeswerke deur Sweedse komponiste.

Kang, Dong-Suk (1954-), Koreaanse violis. Hy is in 1967 na New York om aan die Juilliard Musiekskool te studeer, en later is verdere studies aan die Curtis Instituut onder Ivan Galamian onderneem. In 1971 het hy kompetisies in San Francisco en Washington, D.C. gewen. Hy het daarop ‘n uitvoering onder Seiji Ozawa gegee en verdere pryse gewen: in Montreal, die Carl Flesch-kompetisie in Londen, en die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels. Sedertdien tree hy wêreldwyd in konserte en kamermusiek op, en met die Seoel Filharmoniese Orkes het hy deur die VSA en Europa getoer. Onder die werke waarvan hy die premières gegee het, tel Hoddinott se Mistral vioolkonsert en Isang Yun se derde vioolkonsert. Sleutelopname: Walton se vioolkonsert (onder Paul Daniel). Verdere opnames: Elgar en Sibelius se vioolkonserte; Schubert se Vioolsonatinas nrs. 1-3 en Fantasie in C; en ‘n versameling Franse vioolsonates van Debussy, Poulenc, Ravel en Saint-Saëns (met die pianis Pascal Devoyon).

Kapell, William (1922-53), Amerikaanse pianis van Russies-Poolse afkoms. Ná studies onder Olga Samarof het hy in sy laat tienerjare ‘n openbare debuut in New York gemaak. Hy het in 1946 in ‘n opname van Khatsjatoerian se klavierkonsert onder Antal Doráti gespeel wat hom wêreldroem sou meebring. In 1953 het hy ‘n hoogs suksesvolle toer deur Australië onderneem, maar hy is in die VSA onderweg na sy woning in ‘n vliegongeluk oorlede – op 31-jarige leeftyd. Hy was ‘n virtuoos met ‘n diep musikale aanvoeling, en met sy aantreklike voorkoms was hy besonder gewild onder vrouens. Vreemd genoeg was hy ‘n kettingroker wat verkies het om snags te oefen. Verdere opnames: klavierkonserte van Prokofiëf (nr. 3) en Rachmaninof (nrs. 2 en 3); Moessorgski se Skilderye op ‘n uitstalling; Mozart se tweede klavierkwartet (met Grumiaux, Thomas en Tortelier) en klaviersonate nr. 16; Prokofiëf se klaviersonate nr. 7; Rachmaninof se Paganini Rapsodie; en solowerke van Bach, Chopin, Copland, Debussy, Liszt, Rachmaninof, D. Scarlatti, Schubert en Sjostakowitsj.

Kaplan, Gilbert (1941-), Amerikaanse sakeman en dirigent. As stigter-uitgewer van die suksesvolle tydskrif International Investor was hy teen die vroeë 1980’s ‘n multimiljoenêr in Manhattan. Hy was toe in sy veertigs, sonder enige musiekopleiding, en het besluit om hom op Mahler se tweede simfonie (die Opstanding) toe te spits. Hy het die werk reeds in 1965 in ‘n konsert onder Leopold Stokowski gehoor en in 1981 het hy met dirigeerlesse begin. In die jaar daarop het hy die Amerikaanse Simfonie-orkes, wat deur Stokowski gestig is, gehuur om ‘n privaat uitvoering van die tweede te gee, ter viering van sy tydskrif se vyftiende bestaansjaar. Dit sou die begin van ‘n unieke verbintenis met die werk wees – die enigste wat hy belangstel om te dirigeer, behalwe die gewilde Adagietto van Mahler se vyfde simfonie. Sedert 1983 het hy meer as 50 orkeste wêreldwyd in die tweede simfonie gedirigeer. Dit sluit ‘n 1987-opname met die Londense Simfonie-orkes in, waarvan 200 000 kopieë verkoop is – die topverkoper onder Mahler-opnames van alle tye. Jare later sou hy weer die werk opneem, hierdie keer volgens ‘n gewysigde partituur met die Weense Filharmoniese Orkes, wat lank tevore self onder Mahler se dirigeerstaf gespeel het.

Kaplan, Mark (1953-), Amerikaanse violis. As agtjarige het hy 'n kompetisie gewen, en later het hy aan die Juilliard Musiekskool studeer. In 1973 is sy professionele debuut gemaak en sewe jaar later sy Europese debuut. Hy het in 1986 die première van sy landgenoot Neikrug se vioolkonsert gegee. Onder Lawrence Foster het hy later in ‘n uitstekende opname van D’Ollone se Le Ménétrier gespeel.

Karr, Gary (1941-), Amerikaanse kontrabas-speler. Hy het in 1962 sy debuut in New York gemaak en twee jaar later as solis met die New York Filharmoniese Orkes deur Europa getoer. Sedertdien het hy die bekendste hedendaagse solis vir dié instrument geword, met werke wat deur Arnold en Henze vir hom geskryf is. Daaronder tel Henze se Konsert vir kontrabas (1966), wat hy in ‘n hoogstaande opname onder die komponis self gespeel het.

Kasprzyk, Jacek (1952-), Pools-gebore dirigent. Nadat hy in 1975 sy debuut by die Warskou Opera gemaak het, was hy hoofdirigent van die Poolse Nasionale Radio Simfonie-orkes (1976-82). By die Poolse Nasionale Opera het hy uitstekende opnames van sy landgenote Moniuszko en Szymanowski se operas Die Spookhuis en Koning Roger onderskeidelik gedirigeer. In 1982 het hy na Brittanje geëmigreer, waar hy met die Philharmonia Orkes in Londen gedebuteer het. Sedertdien dirigeer hy by bekende operahuise soos die Stockholm Koninklike Opera, die Skotse Opera en Opera Noord. Verdere opnames: Mahler se eerste simfonie; Szymanowski se tweede simfonie; Moessorgski se Nag op 'n kaal berg en Skilderye op 'n Uitstalling (lg. deur Ravel georkestreer); en 'n versameling ouvertures en preludes uit Verdi-operas.

Kasarowa, Vesselina (1970-), Bulgaarse mezzosopraan. Aanvanklik het sy as konsertpianis gegradueer, maar tydens verdere studies aan die Sofia Musiekakademie het sy na sang oorgeslaan. As student het sy begin om mezzo-rolle by die Nasionale Opera in die Bulgaarse hoofstad te sing, en in 1989 is sy deur Herbert von Karajan genooi om in Bach se Mis in B mineur by die Salzburg-fees te sing. Helaas is die maestro oorlede voordat sy daar kon optree, maar in dieselfde jaar het sy ‘n sangkompetisie in Duitsland gewen. Daarna was sy vir twee seisoene aan die Zürich Opera verbonde, waar sy rolle soos Olga in Jewgeni Onegin en Anna in Les Troyens vertolk het. In Zürich het sy haar man, ‘n Switserse ekonoom, ontmoet. Sy tree sedertdien wêreldwyd op, veral in die operas van Handel, Mozart en die bel canto komponiste. Haar bekendste rol is stellig Rosina in Il barbiere di Siviglia, waarin sy in dieselfde asem as beroemde vertolkers daarvan soos Lucia Valentini-Terrani en Marilyn Horne genoem word. Sy het Rosina gesing tydens haar debute by die Weense Staatsopera en die Salzburg-fees (beide in 1991), Covent Garden (1992) en die Metropolitan Opera (2003).

In 1992 moes Kasarowa vir Horne instaan in die titelrol van Tancredi tydens ‘n konsertopvoering in Salzburg. Haar Amerikaanse debuut is in 1997 by die Chicago Liriese Opera gemaak, as Idamante in Idomeneo. Sy het uitgeblink as Marguerite in ‘n opvoering van Berlioz se La damnation de Faust by die Salzburg-fees in 1999, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Onder haar verdere rolle tel Alisa in Lucia di Lammermoor, Giovanna Seymour in Anna Bolena, Charlotte in Werther, Penelope in Il ritorno d’Ulisse in Patria, die titelrol in La Belle Hélène en Octavian in Der Rosenkavalier. Weens haar aanvanklike instrumentele opleiding is frasering en koloratuur vir haar belangriker as vertoon. Verdere opnames: ‘n versameling Bulgaarse liedere getiteld Bulgarian Soul; ‘n versameling Mozart-arias (onder Colin Davis); die operette La Belle Hélène (DVD); en die operas Baetrice di Tenda, La favorita, Il ritorno d’Ulisse in Patria en Der Rosenkavalier.

Kastner, Macario (1908-), Brits-gebore Portugese pianis, klawesimbelspeler en musiekgeleerde. Hy het in Amsterdam, Leipzig, Berlyn en Barcelona studeer, en vanaf 1933 het hy onderrig aan die Lissabon Konserwatorium gegee. As solis het hy wyd getoer, en daarbenewens het hy vroeë Spaanse en Portugese klawerbordmusiek geredigeer.

Katchen, Julius (1926-69), Russies-gebore Amerikaanse pianis. Hy het sy debuut as elfjarige met die Philadelphia Orkes gemaak en in 1946 sy Europese debuut in Parys. Daarna het hy hom in die Franse hoofstad gevestig en 'n wêreldbekende solis geword. Hy het in 1953 in een van die eerste opnames van Prokofiëf se derde klavierkonsert gespeel, in ‘n onberispelike vertolking onder Ernest Ansermet. Sy bekendheid het veral gelê in die musiek van Brahms, wie se volledige klavierwerke hy in Londen, Parys en New York uitgevoer het. Verder het hy kamermusiek in 'n trio met die violis Josef Suk en die tjellis János Starker gespeel, onder andere in 'n hoogstaande opname van Brahms se eerste twee klaviertrio's. Vanaf 1959 het hy soms gedirigeer, en ná 'n lang stryd teen bloedkanker het hy in sy vroeë veertigs daaraan gesterf. Verdere opnames: Bartók se klavierkonsert nr. 3; Beethoven se klavierkonserte nrs. 3-5 en Koorfantasie; Brahms se volledige klavierwerke; Dohnányi se Kindertuin Variasies; Rachmaninof se tweede klavierkonsert en Paganini Rapsodie; en in Strawinski se ballet Petroesjka.

Katin, Peter (1930-), Brits-gebore pianis. Hy het sy debuut in Londen in 1948 gemaak en weldra bekend geraak vir sy meesterlike vertolkings van Chopin, Rachmaninof en Tsjaikofski. Verder was hy 'n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie (1956-69) en die Universiteit van Wes-Toronto (1978-84). Hy het ‘n Kanadese burger geword. Opnames: solowerke van Chopin en Schubert; 5 klaviersonates van Clementi; Mendelssohn se twee klavierkonserte en Capriccio brillant; en Walton se Sinfonia concertante.

Kaufman, Louis (1905-94), Amerikaanse violis. Op dertien het hy op aanbeveling van Maud Powell en Efrem Zimbalist aan die Juilliard Instituut in New York gaan studeer. Vanaf 1926 tot 1933 het hy in ‘n kwartet gespeel, en in 1928 is sy solodebuut met ‘n voordrag in New York gemaak. Vervolgens het hy in kamermusiek met bekendes soos Casals, Elman, Heifetz, Kreisler en Piatigorsky gespeel. Die premières van werke deur Copland, Martinu en Milhaud is deur hom gegee, asook van Barber se vioolkonsert. Hy het in 1947 in New York in die heel eerste opname van Vivaldi se Vier Seisoene onder Henry Swoboda gespeel, waardeur die komponis ná twee eeue se verwaarlosing uit die vergetelheid ontruk is. Dit het die Grand Prix du Disque gewen. Drie jaar later het hy in Zürich die oorblywende 8 konserte van Vivaldi se opus 8 onder Clemens Dahinden opgeneem, asook sy Dubbelkonsert vir 2 viole (met Peter Rybar). Sodoende het hy ‘n sleutelrol in die Vivaldi-herlewing gespeel, met die Vier Seisoene wat die gewildste werk in die hele konsertrepertorium sou word. Hy het daarby in die klankbane van etlike honderde rolprente gespeel, waaronder Casablanca, Gone with the Wind, Wuthering Heights en Spartacus. Sy vrou, die pianiste Annette Kaufman, het dikwels saam met hom opgetree, en het in 2003 ‘n boek oor hul wedervaringe die lig laat sien.

Kaufmann, Jonas (1969-), Duitse tenoor. Hy het op agt jaar met klavierlesse begin en in 1989 het sangstudies aan die Universiteit van Musiek en Uitvoerende Kunste in sy tuisstad München afgeskop. Tydens sy studentejare het hy kleiner rolle by die Beierse Staatsopera gesing en in 1994 het hy gegradueer met onderskeidings in beide opera- en konsertsang. Sy professionele loopbaan is by die Staatsteater in Saarbrücken begin, waarna hy spoedig by groter operahuise in Duitsland gedebuteer het, asook in Parys en Chicago en by La Scala. In 1999 is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak in Busoni se Doktor Faust. Hy sing ook dikwels by Covent Garden en die Metropolitan Opera in New York. Sy bekendheid lê merendeels in liries-dramatiese rolle soos Don José in Carmen, Cavaradossi in Tosca, Maurizio in Adriana Lecouvreur, en die titelrolle in Werther, Don Carlos en Lohengrin. Hy het voorts uitgeblink as Siegmund in die Met se Ring-siklus van 2011/12, wat op DVD vasgevang is. Die titel Kammersänger is in 1913 deur die Beierse Staatsopera aan hom toegeken. Hy is getroud met die mezzo-sopraan Margarete Joswig. Verdere opnames: 'n versameling Romantiese arias (onder Marco Armiliato).

Kaufmann, Julie (1950-), Amerikaanse sopraan. Sy is vanuit die staanspoor aan Duitse operahuise verbonde, met ‘n debuut wat in Hagen gemaak is. Daarna het sy in Frankfurt gesing, met verdere debute wat gevolg het in München (in 1983, as Despina in Così fan tutte), Covent Garden (1984) en die Salzburg-fees (1987). Sedert 1984 is sy ‘n lid van die Beierse Staatsopera in München, waar sy as Woglinde en die Woudvoël in Wolfgang Sawallisch se uitstekende opvoering van die Ring-siklus in 1989 gesing het (met opnames wat gemaak is). Met die pianis Irwin Gage as begeleier het sy in hoogstaande opnames van liedere deur Debussy, Schoenberg en Richard Strauss gesing.

Kavakos, Leonidas (1967-), Griekse violis. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en op vyf jaar begin om viool te speel. Ná studies aan die Helleense Konserwatorium in Athene is hy met ‘n beurs van die Onassis Stigting na die VSA, waar hy aan die Indiana Universiteit onder Joseph Gingold studeer het. Sy konsertdebuut is in 1984 by die Atheense Fees gemaak, waarna hy die Sibelius-kompetisie (1985) en die Paganini-kompetisie (1988) gewen het. Hy tree wêreldwyd as solis met van die voorste orkeste op. Sy opname van Sibelius se vioolkonsert in die oorspronklike en hersiene weergawes onder Osmo Vänskä het ‘n topverkoper geword. Verdere opnames: die vioolkonserte van Hindemith, Korngold, Mansurian en Schumann; vioolsonates van Enescu en Ravel; en die 6 Sonates vir soloviool van Ysaye.

Kee, Piet (1927-), Nederlandse orrelis en komponis. Hy het orrel, klavier en komposisie aan die Amsterdam Konserwatorium studeer, waar hy die Prix d’Excellence sou wen. Vir drie jaar agtereenvolgens (1953-5) het hy die internasionale Haarlem-kompetisie in improvisasie gewen. Hy het onderrig gegee aan die Lyceum en die Sweelinck Konserwatorium in Amsterdam (1954-88), en by die jaarlikse Somerakademie vir orreliste in Haarlem. Daarby was hy orrelis van die Sint Lourenskerk in Alkmaar (1952-87) en stadsorrelis in Haarlem (1956-89). Hy is bekend vir sy vaardigheid in improvisasie in ‘n repertorium vanaf Sweelinck tot by Messiaen. In 1988 het hy saam met Messian eregenootskap van die Koninklike Kollege van Orreliste ontvang. Onder sy eie komposisies tel die Haarlem Konsert, waarvan Thomas Trotter in 2006 die eerste uitvoering gegee het. Opnames: Hindemith se 3 orrelsonates; en solowerke van Buxtehude, Reger en Sweelinck.

Keenlyside, Simon (1959-), Engelse bariton. Hy het in 1986 die Tauber-prys gewen en in die jaar daarop sy professionele debuut in Hamburg gemaak. Vanaf 1988 was hy vir vyf jaar aan die Skotse Opera verbonde, met verdere debute wat plaasgevind het by Covent Garden (1989), die Engelse Nasionale Opera (1990), San Francisco (1993) en La Scala (1995). Met sy ferm stem en musikale intelligensie is hy ewe begaafd in opera, konserte en liedere. Onder sy operarolle tel die titelrol in Billy Budd, Silvio in I Pagliacci, die Graaf in Le nozze di Figaro en Olivier in Capriccio. Volgens sommige kenners is hy die beste bariton-vertolker van Schubert se liedere wat Brittanje nóg opgelewer het. Sleutelopnames: ‘n versameling Schumann-liedere (deur Graham Johnson begelei); ‘n versameling liedere van Richard Strauss (deur Malcolm Martineau begelei). Verdere opnames: Duruflé se Requiem en Cum jubilo Mis; Mahler se Des Knaben Wunderhorn (onder Rattle); liedere van Fauré, Schubert, Vaughan Williams en Wolf; die genoemde operas van Britten, Leoncavallo, Mozart en R. Strauss, asook La Bohème.

Kegel, Herbert (1920-1990), Duitse dirigent. Hy het dirigeerkuns onder die vermaarde Karl Böhm studeer, asook komposisie onder Boris Blacher aan die Dresden Konserwatorium vanaf 1935 tot 1940. Vanaf 1946 het hy in Pirna en Rostock gedirigeer. Sy verbintenis van bykans drie dekades met die Leipzig Radio-orkes en -koor het in 1948 begin en in 1960 het hy hul hoofdirigent geword. Onder hul vroeë opnames (1953) tel Rossini se opera Guglielmo Tell. Ook met hierdie ensembles en bekende operasangers het hy in 1975 ‘n opname van Parsifal gemaak, waarvan die haastige tempos deur sommige kritici as die teenoorgestelde van Knappertsbusch en Goodall se weergawes beskou word. Sy opname van Orff se Carmina Burana met die Leipzig-musikante is in die klankbaan van die 1981-rolprent Excalibur gebruik. Vanaf 1977 tot 1985 was hy hoofdirigent van die Dresden Filharmoniese Orkes, met wie hy opwindende opnames van Beethoven se volledige simfonieë gemaak het. Hy was vir ‘n aantal jare getroud met die Italiaanse sopraan Celestina Casapietra. Sy bekendheid het merendeels in moderne musiek gelê, waarvan vele opnames nagelaat is, alhoewel hy ook begaafd in die Romantiese repertorium was. As kommunistiese intellektueel het hy in sy geboortestad Dresden selfmoord gepleeg kort nadat die Berlynse Muur geval het. Verdere opnames: ‘n hele aantal van Mozart se Misse.

Keilberth, Joseph (1908-68), Duitse dirigent. Nadat hy aanvanklik ‘n repetiteur by die Karlsruhe Opera was, was hy vanaf 1935 vir vyf jaar hul musiekdirekteur. Daarna was hy dirigent van die Duitse Opera in Praag (1940-5), musiekdirekteur van die Dresden Staatsopera (1945-50), dirigent van die Bamberg Simfonie-orkes (1949-68), artistieke direkteur van die Hamburg Filharmoniese Orkes (1950-9), en dirigent en later musiekdirekteur van die Beierse Staatsopera in München (1951-68). Intussen het hy in 1946 in Dresden die première van die oorspronklike weergawe van Bruckner se derde simfonie gedirigeer. Hy het vanaf 1952 tot 1956 jaarliks by die Bayreuth-fees verskyn, waar voortreflike opnames van Der fliegende Holländer (1955), Lohengrin en die Ring-siklus gemaak is. Sy 1955-opname van die Ring was die eerste wat in stereofoniese klank gedoen is en word deur sommige kenners as die beste historiese weergawe van dié epiese siklus beskou. Vanaf 1957 tot 1962 het hy jaarliks by die Salzburg-fees opgetree. By die Beierse Staatsopera het hy in 1959 ‘n opname van Der Barbier von Sevilla (in Duits) met bekende Duitse sangers gedirigeer. Hy het gesterf terwyl hy besig was om ‘n opvoering van Tristan und Isolde in München te dirigeer. Die heruitgawe van sy Bayreuth-opname van Götterdämmerung is in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon. Verdere opnames: die operas Cardillac, Arabella, Der Freischütz en Oberon.

Kelemen, Zoltán (1926-79), Hongaarse bas-bariton. Hy het in 1959 in Augsburg gedebuteer as Kecal in Die Verruilde Bruid, en was vanaf 1961 tot sy dood ‘n lid van die Keulen Opera. Daar het hy in 1965 in die première van Zimmermann se Die Soldaten gesing. Vanaf 1964 het hy by die Bayreuth-fees opgetree, waar hy bekendheid verwerf het as ‘n uitmuntende Alberich in die Ring-siklus. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1965), die Metropolitan Opera (1968) en Covent Garden (1970). Hy het in Herbert von Karajan se opnames van Fidelio, Boris Godoenof, Götterdämmerung, Das Rheingold en Siegfried gesing.

Kell, Reginald (1906-81), Engelse klarinettis. Hy was eerste klarinettis in ‘n aantal Britse orkeste, insluitend die Londense Filharmoniese Orkes en Covent Garden (beide 1932-6), die Londense Simfonie-orkes (1936-9), die Liverpool Filharmoniese orkes (1942-5) en die Philharmonia Orkes (1945-8). Hy was ook bekend as solis en as dirigent van sy eie ensemble, en het as hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie onderrig gegee (1935-9, 1958/9). Met sy kenmerkende gebruik van vibrato het hy in 1937 ‘n voortreflike opname van Brahms se klarinetkwintet met die Busch Kwartet gemaak. Hy het twee jaar later in die eerste opname van Holbrooke se klarinetkwintet met die Willoughby Kwartet gespeel. In 1941 het hy in die VSA gaan woon, waar hy vanaf 1951 vir ses jaar ‘n hoogleraar by die Aspen Musiekfees in Colorado was. In 1968 het hy die Kell-metode vir klarinetspel gepubliseer, en drie jaar later het hy na Brittanje teruggekeer. Hy het in die VSA gesterf.

Kempe, Rudolf (1910-76), Duitse dirigent. Nadat hy aanvanklik eerste hobospeler van die Leipzig Gewandhaus Orkes was (1929-36), het hy in 1935 sy dirigeerdebuut in Leipzig gemaak. Vanaf 1936 was hy vir ses jaar ‘n junior dirigent by die Leipzig Opera, gevolg ná die Tweede Wêreldoorlog deur dirigeerposte aan operahuise in Chemnitz (1945-8) en Weimar (1948/9). Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Dresden Staatsopera (1949-52) en van die Beierse Staatsopera in München (1952-4). Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1953), die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees (beide in 1955), en die Bayreuth-fees (1960). In 1961 het hy Thomas Beecham as hoofdirigent van die Koninklike Filharmoniese Orkes opgevolg, ‘n pos wat hy tot 1975 sou beklee toe hy dirigent van die BBC Simfonie-orkes geword het. Intussen het hy in 1962 die Delius Eeufeesvieringe gedirigeer. Ook was hy artistieke direkteur van die Tonhalle Orkes in Zürich (1965-72) en van die München Filharmoniese Orkes (1967). As uitmuntende Wagner-dirigent het hy roem verwerf met sy Ring-siklusse by Covent Garden (1955-59). Met sy presiese vertolkings, gekenmerk deur helder ritmes en sensitiewe frasering, was hy ewe begaafd in die res van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium. Hy word in die besonder beskou as een van die beste dirigente nóg van Richard Strauss se musiek. Sy opnames van die laaste groot Duitse Romantikus se bykans volledige orkeswerke met die Dresden Staatsorkes in die vroeë 1970’s word deur sommige kenners as ongeëwenaard gereken. Sleutelopnames: Richard Strauss se Eine Alpensinfonie en Also sprach Zarathustra (beide op DVD). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, asook enkeles van Bruckner, Dvorák (nr. 9), Haydn en Schubert; ander orkeswerke van Beethoven, Bizet, Britten, Dvorák, Lehár, Mozart, Smetana en Strawinski; Brahms se Ein deutsches Requiem; Janácek se Slawoniese Mis; Mahler se Das Lied von der Erde; en die operas Ariadne auf Naxos, Lohengrin (Wenen 1963/4) en Die Meistersinger von Nürnberg.

Kempf, Freddy (1977-), Engelse pianis. Hy het as vierjarige begin klavier speel, en op agt het hy nasionaal bekend geraak toe hy ‘n klavierkonsert van Mozart met die Koninklike Filharmoniese Orkes uitgevoer het. In 1987 het hy die eerste Britse Mozart-kompetisie gewen, en vyf jaar later was hy die jongste wenner nóg van die tweejaarlikse BBC Jong Musikus kompetisie. Hy het in 1998 ‘n derde plek in die internasionale klavierkompetisie in Moskou gewen, en in 2001 is hy as die beste jong Britse klassieke kunstenaar vereer. Met sy onberispelike tegniek en verfynde spel tree hy wêreldwyd in konserte op, en as liefhebber van kamermusiek speel hy in sy eie trio. Sleutelopnames: Rachmaninof se Trio élégiaque en Tsjaikofski se klaviertrio (beide as lid van die Kempf Trio). Verdere opnames (as solis): Balakiref se Islamey; Beethoven se klaviersonate nr. 30; Chopin se études; Moessorgski se Skilderye op ‘n uitstalling; Rachmaninof se tweede klaviersonate en Etudes-tableaux; Ravel se Gaspard de la nuit; ‘n versameling solowerke van Schumann; en (as lid van die Kempff Trio) Beethoven se klaviertrio’s nrs. 3 en 7.

Kempff, Wilhelm (1895-1991), Duitse pianis en komponis. Vanaf 1916 het hy ‘n konsertloopbaan gevolg nadat hy die Mendelssohn-prys twee keer gewen het, en vanaf 1924 was hy vir vyf jaar direkteur van die Stuttgart Konserwatorium. Hy het ná die Tweede Wêreldoorlog gedebuteer in Londen (1951), by die Salzburg-fees (1958) en in New York (1964). Vanaf 1957 het hy jaarlikse meesterklasse in Positano, Italië aangebied. Hy het tot in sy tagtigs nog opgetree. As een van die twintigste eeu se grootste pianiste was hy wêreldbekend vir sy poëtiese, sensitiewe vertolkings van veral Beethoven, Schubert en Schumann se musiek. Só het hy in twee uitmuntende siklusse van Beethoven se volledige klavierkonserte onder Paul van Kempen en Ferdinand Leitner onderskeidelik gespeel. Met universiteitsopleiding in filosofie en musiekgeskiedenis is dit nie verbasend dat hy ‘n hoogs intellektuele en aristokratiese benadering in sy spel gevolg het nie. Daarby was hy ‘n begaafde verwerker van Barokmusiek vir die klavier, en het hy as begeleier vir die violiste Georg Kulenkampff en Wolfgang Schneiderhan opgetree. Met laasgenoemde het hy in 1953 die volledige vioolsonates van Beethoven in hoogstaande vertolkings opgeneem. Sleutelopnames: Beethoven se volledige klaviersonates (1950’s); Schumann se Kinderszenen, Kreisleriana en Waldszenen (vroeë 1970’s). Verdere opnames: die volledige klaviersonates van Beethoven (1960’s) en Schubert; solowerke van Brahms, Chopin, Fauré, Liszt en Schumann; Mozart se klavierkonserte nrs. 9 en 15; en sy eie verwerkings van musiek deur Bach, Gluck en Handel.

Kennedy, Nigel (1956-), Engelse violis. Ná studies aan die Juilliard Musiekskool in New York het hy in 1977 sy Londense debuut gemaak. Vier jaar later het hy as solis deur Hong Kong en Australië met die Hallé Orkes getoer. Hy het in 1985 deur die VSA getoer, waarna hy wêreldbekend én berug geraak het weens sy uitspattige voorkoms, hedonistiese lewenstyl en flambojante spel. Vanaf 1992 het hy nie in konserte van klassieke musiek opgetree nie, omdat hy as ultra-modernis 'n weersin in 'dooie komponiste' ontwikkel het. Dit blyk dat sy roem tot onverkwiklike hoogmoed gelei het, maar voorspelbaar het sy hoogmoed tot ‘n val gekom, want musiekliefhebbers verkies oorweldigend musiek van die ‘dooie komponiste’ instede van moderne pseudo-musiek. In die laat 1990's het hy homself dus gerepudieer en weer begin om in opnames van klassieke werke te speel. Sleutelopnames: Elgar se vioolkonsert en Vaughan Williams se The Lark Ascending (beide onder Rattle). Verdere opnames: vioolkonserte van Beethoven, Brahms, Bruch, Elgar (onder Handley), Mendelssohn, Sibelius, Tsjaikofski en Walton, asook laasgenoemde se altvioolkonsert; Schubert se Rondo in A vir viool en strykers; en Vivaldi se Vier Seisoene.

Kenny, Yvonne (1950-), Australiese sopraan. Sy het in 1975 haar debuut in Londen gemaak, in ‘n konsertweergawe van Donizetti se Rosamunde d‘Inghilterra. Daarna het sy gedebuteer by Covent Garden (1976), asook die feeste in Salzburg (1984) en Glyndebourne (1985). Sedert 1978 is sy verbonde aan die Victoria Staatsopera en in 1989 is die Orde van Australië aan haar toegeken. Met haar behendige sang is sy uitmuntend in die operas van Donizetti en Mozart, hoewel haar repertorium veel wyer strek. Onder haar beste rolle tel die Grafin in A Dinner Engagement, Naomi in Ruth, Lady Penelope in Gloriana, Lucy in The Beggar's Opera, Palmide in Il Crociato in Egitto, Sylva in Die Csárdásfürstin, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, Ilia in Idomeneo, Cinna in Lucio Silla, Aspasia in Mitridate, re di Ponto, Edwige in Robinson Crusoe en Alice Ford in Falstaff. Sy is ewe begaafd in konsertmusiek, veral in gewyde werke van die agtiende tot twintigste eeue. Opnames: Bach se Kantate nr. 205; Beethoven se negende simfonie (onder Roger Norrington); Dyson se The Canterbury Pilgrims; Elgar se The Kingdom; Gorécki se derde simfonie (onder Takao Yuasa); Handel se Deborah (in die titelrol, onder Robert King); Mendelssohn se Elijah; Mozart se Requiem; Vaughan Williams se Dona nobis pacem; die genoemde operette van Kálmán; ‘n versameling arias uit negentiende-eeuse operas (onder David Parry); die genoemde operas van L. Berkeley, Britten, Gay, Meyerbeer, Mozart en Offenbach, asook Falstaff (in Engels), Emelia di Liverpool en Ugo Conte di Parigi.

Kentner, Louis (1905-87), Hongaars-gebore pianis. Hy het in Boedapest studeer en in 1920 sy debuut in die Hongaarse hoofstad gemaak, waarna hy wêreldbekend geraak het. In 1935 het hy na Brittanje geëmigreer en elf jaar later het hy ‘n Britse burger geword. Hy het opgetree in die eerste uitvoerings van verskeie werke deur sy landgenoot Bartók: die Hongaarse première van die tweede klavierkonsert (1933), die wêreldpremière van die Konsert vir twee klaviere (1942, met Ilona Kabos), en die Europese première van die derde klavierkonsert (1946). Verder het hy in 1941 in Addinsell se Warsaw Concerto in die klankbaan van die rolprent Dangerous Moonlight gespeel, waarvan die opname ‘n topverkoper sou word. Hy het in 1949 die beroemde violis Yehudi Menuhin in die première van Walton se vioolsonate begelei. Sy bekendheid het egter meesal op sy uitmuntende vertolkings van Liszt berus, met historiese opnames van die groot komponis se Dante Sonata (deur Lambert verwerk) en Paganini Etudes tot sy krediet. Hy was ‘n voorsitter van die Liszt Vereniging, en het later in sy loopbaan gedebuteer by die Salzburg-fees (1954) en in New York (1956). Verdere opnames: Balakiref se klaviersonate (opus 5); en Lyapoenof se Transcendental Studies.

Kern, Olga (1975-), Russiese pianis. Sy het aan die Moskou Konserwatorium studeer en haar moeder se nooiensvan vir haar professionele loopbaan aangeneem. Vandat sy in 2001 die internasionale Van Cliburn-klavierkompetisie in Texas gewen het, tree sy wêreldwyd as solis op. Met haar hartstogtelike spel en magnetiese verhoogpersoonlikheid is sy veral bekend in die musiek van haar landgenoot Rachmaninof. Sy het in 2004 ‘n uitgebreide toer deur die VSA met die Warskou Filharmoniese Orkes onder Antoni Wit onderneem.

Kertesi, Ingrid (1957-), Hongaarse sopraan. Sy het aan die Franz Liszt Musiekakademie in Boedapest studeer en is in 1985 met ‘n beurs na Bayreuth vir verdere studies. In dieselfde jaar het sy by die Nasionale Opera in die Hongaarse hoofstad aangesluit, waar haar debuut as Oscar in Un ballo in maschera gemaak is. Sy het in 1987 by die Weense Staatsopera gedebuteer as Olympia in Les contes d’Hoffmann. Vanaf 1988 tot 1990 was sy ‘n lid van die Komiese Opera in Berlyn, en in 1991 het sy by die Bregenz-fees die rol van Frasquita in Carmen vertolk. Sy het die rol van Berta gesing in ‘n hoogaangeskrewe opname van Il barbiere di Siviglia onder Will Humburg. Met haar ligte, suiwer stem is sy verder bekend in liriese rolle soos Marzelline in Fidelio, Amina in La sonnambula, Norina in Don Pasquale, Adina in L’elisir d’amor, Gretel in Hänsel und Gretel, Blondchen in Die Entführung aus dem Serail, Despina in Cosi fan tutte, Zerlina in Don Giovanni, Serpina in La serva padrona, Adele in Die Fledermaus, Arsena in Der Zigeunerbaron, Sophie in Der Rosenkavalier, Nanetta in Falstaff, Gilda in Rigoletto en ännchen in Der Freischutz. Daarby is sy as konsertsangeres begaafd in die musiek van Bach, met verskynings in opnames van sy Kersfeesoratorium (onder Oberfrank) en van sy kantates (onder Antal) tot haar krediet.

Kertész, István (1929-73), Hongaars-gebore dirigent wat ‘n Duitse burger geword het. Hy het in Boedapest en Rome studeer, en het vanaf 1952 vir vyf jaar aan die Boedapest Akademie onderrig gegee. In dié tyd was hy ook ‘n dirigent in Györ (1953-5) en by die Boedapest Staatsopera (1955-7). Daarna het hy na Duitsland geëmigreer, waar hy musiekdirekteur was van die Augsburg Opera (1958-63) en die Keulen Opera (1964-73). By laasgenoemde het hy die Duitse première van Stiffelio gedirigeer. As gasdirigent het hy met van die voorste orkeste ter wêreld opgetree, met debute wat gemaak is in Brittanje (1960), in die VSA en by die Salzburg-fees (beide in 1961), en by Covent Garden (1965). Vanaf 1965 was hy vir drie jaar ook hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes. Met hulle het hy die volledige simfonieë en orkeswerke van Dvorák in hoogaangeskrewe vertolkings opgeneem. Sy briljante loopbaan is kortgeknip toe hy in sy vroeë veertigs tydens ‘n dirigeertoer van Israel verdrink het. Sleutelopnames: Dvorák se simfonieë nrs. 4-6. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Schubert; Brahms se Haydn Variasies; Bruckner se vierde simfonie; Dvorák se Simfoniese Variasies en Requiem; Mozart se Vrymesselaarsmusiek; Kodály se Háry János en Psalmus Hungaricus; orkeswerke van Respighi; en die operas Bloubaard se Kasteel en Don Pasquale.

Kim, Young-Uck (1947-), Koreaans-gebore violis. Hy het in die VSA studeer en hom daar gevestig, waar hy ook in 1968 sy debuut met die Philadelphia Orkes onder Eugene Ormandy gemaak het. Dit is  gevolg deur ‘n Europese toer waartydens hy as solis met van die voorste orkeste in Berlyn, Wenen, Amsterdam en Londen gespeel het. Hy speel ook kamermusiek in ‘n trio met die pianis Emanuel Ax en en die tjellis Yo-Yo Ma.

Kindler, Hans (1892-1949), Nederlandse tjellis en dirigent. Vanaf 1911 het hy in Berlyn onderrig gegee, en terselfdertyd was hy eerste tjellis by die Deutsche Oper. In 1914 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy eerste tjellis van die Philadelphia Orkes was (1914-21) en mettertyd 'n Amerikaanse burger geword het. Vanaf 1927 het hy ook gedirigeer, en drie jaar later het hy die Nasionale Simfonie-orkes in Washington, D.C. gestig. Hy sou tot 1948 hul dirigent wees.

King, James (1925-2005), Amerikaanse tenoor. Hy het in 1961 sy operadebuut in Florence as Cavaradossi in Tosca gemaak. In dieselfde jaar het hy in die VSA begin opera sing, met ‘n San Franciso-debuut as Don José in Carmen. Sy loopbaan het merendeels in Europa ontvou, waar hy dikwels in radio- en televisie-uitsendings opgetree het. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Salzburg (1962) en Bayreuth (1965), asook by die Metropolitan Opera (1966) en Covent Garden (1967). Met sy kragtige stem het hy uitgeblink in die operas van Wagner en Richard Strauss, in rolle soos Siegmund in Die Walküre, Bacchus in Ariadne auf Naxos, die Keiser in Die Frau ohne Schatten, en die titelrolle in Lohengrin en Parsifal. Verder was hy begaafd as Florestan in Fidelio, Paul in Die Tote Stadt, Albrecht in Mathis der Maler en Phoebus in Notre Dame. By die Met sou hy in 113 opvoerings oor ‘n tydperk van 30 jaar verskyn. By Salzburg het hy dikwels onder die beroemde dirigent Karl Böhm gesing, met wie hy ‘n hele aantal opnames gemaak het. Hy het in vier Duitse operarolprente opgetree. Vanaf 1984 tot 2002 was hy ‘n dosent in sang aan die Indiana Universiteit, waar sy laaste verhoogoptrede in 2000 as Siegmund gemaak is. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Schmidt-Isserstedt); Berlioz se La damnation de Faust; Brahms se Rinaldo; Mahler se Das Lied von der Erde (onder beide Bernstein en Haitink); 'n versameling uittreksels uit Götterdämmerung (onder Carlos Paita); en die genoemde operas van Beethoven, Hindemith, Schmidt, Richard Strauss en Wagner.

King, Robert (1960-), Engelse dirigent en klawesimbelspeler. As twaalfjarige koorsanger by St John’s College, Cambridge het hy ‘n bewondering vir die musiek van Purcell ontwikkel, sodat hy mettertyd ‘n toonaangewende kenner van die grootste Britse Barok-komponis sou word. Terwyl hy aan die Cambridge Universiteit studeer het, het hy in 1979 die vokale en instrumentele ensemble The King’s Consort gestig. Hy het hulle op vele toere deur Europa, Suid-Amerika en die Verre Ooste gelei. Hulle is wêreldbekend vir die uitvoering van Barokmusiek op eietydse instrumente, met ‘n groot aantal uitstekende opnames tot hul krediet. Daaronder tel die volledige gewyde werke van Purcell en Vivaldi, en die volledige dienste, gesange en sekulêre liedere van Purcell. Dit sluit die eerste opname van Vivaldi se Nisi dominus, wat in 2003 deur die musiekgeleerde Michael Talbot ontdek is, in. Hulle is tans besig met ‘n projek om die volledige gewyde werke van Monteverdi op te neem. In 2001 het hulle ‘n rekonstruksie van die kroning van Koning George II in 1727 opgeneem, met musiek van Handel, Purcell en ander vroeë Britse komponiste.

King is ook musiekdirekteur van die Europese Barokorkes (sedert 1986) en die Nasionale Jeugmusiekteater (sedert 1987). Hy tree wyd deur Europa en in Japan as gasdirigent in konserte en operas op, veral in die Lae Lande. Hy is onder meer ‘n gereelde gasdirigent van die Nederlandse Kamerorkes. Voorts dirigeer hy gereeld by die BBC Proms-konserte. Sy boek oor Purcell word as die mees gesaghebbende biografie van die komponis beskou. Hy is helaas in 2007 tot byna 4 jaar tronkstraf gevonnis vir beweerde seksuele molestering van jong musikante, ‘n klag wat hy ontken het.

Sleutelopnames: Handel se oratorium Joshua en Ode for St Cecilia’s Day; Purcell se volledige sekulêre liedere. Verdere opnames (as dirigent): J.S. Bach se 6 Triosonates (van sy orrelsonates verwerk), hobokonserte en vioolkonserte, asook Kantates nrs. 54, 169 en 170, en Mis in B mineur; Boccherini se Stabat Mater; D’Astorga se Stabat Mater; Greene se motet Hearken unto Me, ye Holy Children; Handel se Watermusiek en Vuurwerkemusiek, sy vokale werke Kroningsgesange, Acis and Galatea, Alexander Balus, the Choice of Hercules, Deborah, Joseph and his Brethren, Judas Maccabeus, L’Allegro, il Penseroso ed il Moderato, Ode for the Birthday of Queen Anne, Te Deum in D, The Occasional Oratorio, en sy opera Ottone, re di Germania; M. Haydn se Missa in honorem Sanctae Ursulae en Requiem pro defuncto Archiepiscopo Sigismondo; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Pergolesi se Stabat Mater, Salve regina en In coelestibus regnis; D. Scarlatti se Salve regina; Schütz se Kersfeesverhaal; Telemann se Watermusiek; talle konserte van Vivaldi; die Venesiaanse rekonstruksie Lo Spozalisio; koorwerke van Boccherini, D’Astorga, Gabrieli, Hasse en Scarlatti; ‘n versameling Barok-kamerwerke met die Musica da Camera; (en as solis:) kamerwerke van Albinoni, Corelli, Handel, Pachelbel en Vivaldi.

King, Thea (1925-2007), Engelse klarinettis. Sy het as jong kind klavierlesse van haar moeder ontvang. Later is sy met ‘n beurs na die Koninklike Musiekkollege vir studies in klavier en klarinet. Laasgenoemde was onder die bekende Frederick Thurston, met wie sy in 1953 getroud is. Helaas is hy na slegs enkele maande aan longkanker oorlede, waarna sy nie weer getrou het nie. Sy het wel haar leermeester se klarinette geërf, asook heelwat van sy musikale styl. Intussen het sy in die orkes van Sadler’s Wells gespeel (1950-2). Nadat sy met ‘n goue medalje gegradueer het, was sy eerste klarinettis van die London Mozart Players (1956-64) en die Engelse Kamerorkes (1964-1999). In kamermusiek was sy ‘n lid van die Portia Houtblasersensemble (1955-68) en die Melos Ensemble (sedert 1974). Sy het onderrig gegee aan die Koninklike Musiekkollege (1961-87) en die Guildhall Musiekskool (vanaf 1987). Haar bekendheid lê veral in moderne Britse musiek, soos Blake se klarinetkonsert (1984) wat vir haar geskryf is. Met haar stylvolle, warm spel het sy voorts talle afgeskeepde werke uit die agtiende en negentiende eeue herleef. Daaronder tel klarinetwerke van Krommer, Stamitz, Spohr, Weber, Romberg, Crusell, Fuchs en Heinze. Sy het dwarsdeur haar lang loopbaan voortgegaan om klavier te speel, onder meer in ‘n herdenkingskonsert vir haar eertydse man in 2001. In 1985 is die OBE aan haar toegeken en in 2001 is sy tot dame geskep, die eerste houtblaserspeler om aldus vereer te word. Sleutelopnames: Mozart se klarinetkonsert (onder Tate) en klarinetkwintet (met die Gabrieli Kwartet). Verdere opnames: Bartók se Contrasts (met Yehudi Menuhin); Brahms se klarinetkwintet (met die Gabrieli Kwartet), en sy klarinettrio en -sonates; Britten se Movement; Bruch se Dubbelkonsert (met Nobuko Imai); Crusell se Inleiding en Variasies op 'n Sweedse tema; Lutoslafski se Danspreludes; Mendelssohn se 2 Konsertstukke vir klarinet en bashoring; Somervell en Jacob se klarinetkwintette (met die Aeolian Kwartet); kwintette van Cooke, Frankel, Howells en Maconchy, en Holbrooke se Eilean shona (almal met die Britten Kwartet); en klarinetkonserte van Arnold, Blake, Cooke, Finzi, Jacob, Maconchy, Rawsthorne, Seiber en Stanford.

King's Singers, Britse mannestem-ensemble wat in 1968 gestig is. Hulle bestaan uit twee kontratenore, 'n tenoor, twee baritons en 'n bas, en spesialiseer in meerstemmige liedere en verwerkings. Hul repertorium strek vanaf die Renaissance tot die twintigste eeu, met ‘n aantal werke wat vir hulle geskryf is.

Kipnis, Alexander (1891-1978), Oekraïns-gebore bas. Nadat hy in Warskou en Berlyn studeer het, het hy in operettes in die Duitse hoofstad gesing. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Hamburg (1915-7), Wiesbaden (1917-22) en Berlyn (1919-35). Vanaf 1923 tot 1932 het hy ook by die Chicago Opera gesing, en in 1931 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het Duitsland in 1935 verlaat en vir die volgende drie jaar by die Weense Opera gesing. Verdere debute is gemaak by Covent Garden en die Bayreuth-fees (beide in 1927), die Glyndebourne-fees (1936) en die Metropolitan Opera (1940). In 1936 het hy in Buenos Aires in die eerste volledige opname van Parsifal onder Fritz Busch gesing. Hy was een van die voorste basse van sy tyd in Mozart-rolle soos Commendatore in Don Giovanni en Sarastro in Die Zauberflöte, wat hy in klassieke opnames onder Bruno Walter (by die Met) en Toscanini (tydens sy Salzburg-feesdebuut in 1937) onderskeidelik gesing het. By die Met was hy ewe bekend as Rocco in Fidelio, Arkel in Pélléas et Mélisande en Hunding in Die Walküre. Daarbenewens was hy 'n begaafde vertolker van Russiese liedere en dié van Wolf. Hy het tot in sy tagtigs aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee. Verdere opnames: die genoemde operas van Beethoven, Debussy en Wagner (almal by die Met).

Kipnis, Igor (1930-), Amerikaanse klawesimbelspeler en pianis, seun van die beroemde bas. Sy debuut as klawesimbelspeler het in 1959 in New York plaasgevind, en agt jaar later het hy ‘n Europese toer onderneem. Vanaf 1971 was hy vir ses jaar aan die Fairfield Universiteit in Connecticut verbonde, en in 1981 het hy sy debuut as pianis in Indianapolis gemaak. Verskeie komponiste het werke vir hom geskryf, en hy het die volledige klawesimbelkonserte van Bach opgeneem.

Kirchschlager, Angelika (1965-), Oostenrykse mezzosopraan. In haar geboortestad Salzburg het sy klavier aan die Mozarteum studeer, waarna sy aan die Musiekgimnasium gegradueer het. Sy is vervolgens na Wenen, waar sy vanaf 1984 aan die Musiekakademie onder die bekende bas-bariton Walter Berry studeer het. Sedertdien tree sy wêreldwyd in opera, konserte en voordragte met bekende dirigente en ander musici op. As lid van die Weense Staatsopera is sy veral bekend in die musiek van Mozart en Richard Strauss, en in die operette Die lustige Witwe. Een van haar gunstelingrolle is Octavian in Der Rosenkavalier, en sy is ook begaafd as Cherubino in Le nozze di Figaro. Haar opname van ‘n versameling klassieke en populêre wiegeliedjies, wat aan haar seun opgedra is, het in 2000 die Duitse Echo-toekenning as beste sangopname van die jaar gewen. Sy het in 2002 die titelrol in Maw se opera Sophie’s Choice tydens die première by Covent Garden geskep. Verdere opnames: Mahler se Lieder und Gesänge (met Helmut Deutsch as begeleier); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream (onder Claudio Abbado); ‘n versameling liedere van Alma en Gustav Mahler en Erich Korngold (met Deutsch as begeleier); en die opera Le nozze di Figaro.

Kirkby, Emma (1949-), Engelse sopraan. Sy het klassieke tale aan die Universiteit van Oxford studeer en aanvanklik daarin onderrig gegee. Haar Londense sangdebuut het in 1974 plaasgevind, en vier jaar later het sy in die VSA gedebuteer. Sy het eers in klein ensembles wat in Renaissance- en Barokmusiek spesialiseer, gesing. Mettertyd het sy by die Taverner-koor aangesluit, waarna haar lang verbintenis met die Consort of Musicke sou volg. Sy het in bykans al hul konserte gesing, en tree ook dikwels op as solis met hul direkteur, die luitspeler Anthony Rooley. Saam het hulle in die vroeë 1980’s drie toere deur die Midde-Ooste onderneem. Met haar swierige, helder stem feitlik sonder vibrato en haar presiese uitspraak het sy wêreldbekendheid in vroeë musiek verwerf, sowel in opera en konsertwerke as in liedere. In 1983 is haar operadebuut in Brugge, België gemaak as Moeder Natuur in Gibbons en Locke se Cupid and Death. Ses jaar later het haar Amerikaanse operadebuut gevolg. Haar moed en beginselvastheid blyk uit die feit dat sy in 2001 ‘n beplande toer na Israel afgelas het uit protes teen die Israeliese onderdrukking van die Palestyne, waarvoor sy heftig vanuit Sionistiese kringe gekritiseer is. In dieselfde jaar het sy as solis in die eerste opname van Handel se Gloria onder Lawrence Cummings gesing.

Kirkby is in 2002 tot president van die Klassieke Vereniging verkies, en in plaas van ‘n intreerede het sy ‘n briljante sangvoordrag met Rooley as luitbegeleier gegee. Dit het bestaan uit Britse liedere van die sewentiende en agtiende eeue, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. Onder die operarolle waarin sy uitblink, tel Dorinda in Orlando, La Musica in Orfeo, en beide Dido en Belinda in Dido and Aeneas. Sleutelopnames: J.S. Bach se Kantates nrs. 202 en 210, en enkele arias (onder Hogwood); ‘n versameling gewyde kantates van Buxtehude (met die Purcell Kwartet); ‘n versameling gewyde kantates van Handel (onder Medlam), en sy oratorium Joshua (onder King); ‘n versameling konsertarias van Mozart (onder Hogwood); ‘n versameling duetliedere van Purcell (met David Thomas, begelei deur Rooley); Vivaldi se motet In turbato mare irato en kantate Lungi dal vago volto (beide onder Lamon). Verdere opnames: kerkmusiek van F. Couperin en Pergolesi; orkesliedere van Arne, Beach, Handel en Lampe; liedere van Amodei, Benda, Dowland, Johnson, Lawes, Monteverdi, Purcell, Weelkes en Wilbye; J.C. Bach se Laudate pueri Dominum en Salve regina; J.S. Bach se Kantate nr. 208; Byrd se Consort Songs (met Fretwork); Gesualdo se Madrigale vir 5 stemme; Gibbons se Cupid and Death; Handel se Aci, Galatea e Polifemo, Alceste, Anthem for the Foundling Hospital, Carmelite Vespers, Ode for the birthday of Queen Anne, The Triumph of Time and Truth en Utrecht Te Deum; Haydn se The Creation (in Engels) en Mis nr. 2; d’India se Lamento d’Olympia; Lassus se La Lagrime di San Pietro; Locke se The Tempest; talle madrigale van Marenzio en Monteverdi, asook laasgenoemde se Vespro della Beata Vergine; Mozart se Exsultate, jubilate en Requiem; teatermusiek van Purcell; Schütz se Kersfeesoratorium; Vivaldi se Gloria; ‘n versameling Italiaanse orkeslied-duette uit die sewentiende eeu (met Judith Nelson); ‘n versameling Elizabethaanse madrigale (met David Thomas); versamelings opera-arias van Handel (onder Goodman) en Vivaldi; en die genoemde operas van Monteverdi en Purcell, asook Cleofide, Venus and Adonis en Orlando.

Kirkpatrick, Ralph (1911-84), Amerikaanse klawesimbelspeler en musiekgeleerde. Hy het ná studies aan Harvard en in Parys in 1930 sy debuut in Cambridge, Massachusetts gemaak. Later het hy tot 1976 onderrig gegee aan die Yale Universiteit, waar hy vanaf 1965 'n hoogleraar was. Sy biografie oor Domenico Scarlatti (1953) het ‘n katalogus bevat waarvolgens dié komponis se werke sedertdien gelys word (dit word met behulp van K-nommers aangedui). Ook het hy talle sonates van Scarlatti asook Bach se Goldberg Variasies geredigeer.

Kirschbaum, Ralph (1946-), Amerikaanse tjellis en dirigent. Hy het in 1959 sy solo-debuut in Dallas gemaak en in 1969 het die Cassadó-kompetisie in Florence gewen. In 1970 het hy die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Sedert 1971 is hy in Londen woonagtig en in 1975 is sy debuut in New York gemaak. Hy is bekend as solis en as lid van ‘n trio met die pianis Peter Frankl en die violis György Pauk. In 1980 het hy met hulle in die eerste uitvoering van Tippett se Driedubbele Konsert gespeel. Hy het in 1989 die Amerikaanse première van Maxwell Davies se tjellokonsert gegee. Daarbenewens is hy ‘n dosent in tjello aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester. Opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites; en Barber se tjellokonsert en -sonate.

Kirsten, Dorothy (1910-92), Amerikaanse sopraan. Nadat sy in 1940 haar operadebuut in Chicago gemaak het as Pousette in Manon, het verdere debute plaasgevind by die New York Stadsopera (1944), die Metropolitan Opera (1945) en in San Francisco (1947). Sy sou vir langer as 30 jaar ‘n gewilde liriese sopraan by die Met wees, waar sy in historiese opnames van Manon Lescaut (in die titelrol, 1949) en Faust (as Marguerite, 1950) teenoor die legendariese Jussi Björling gesing het. In 1955 het sy die rol van Cressida in die Amerikaanse première van Troilus and Cressida in San Francisco geskep. Vyf jaar later het sy die eerste Amerikaanse sopraan geword om by die Bolsjoi Teater in Moskou op te tree. Sy het ook in rolprente verskyn, waaronder The Great Caruso (1951) teenoor Mario Lanza.

Kissin, Jewgeni (1971-), Russiese pianis. As wonderkind het hy vanaf sesjarige leeftyd die klavier bestudeer, en in 1978 het hy Beethoven-sonates en ‘n Mozart-konsert gespeel. Hy het in 1984 ‘n legendariese openbare debuut met die Moskou Filharmoniese Orkes gemaak, waartydens beide Chopin se klavierkonserte opgeneem is. Vanaf 1985 het hy vir twee jaar deur Europa en Japan getoer, en was slegs 15 ten tyde van sy voordrag-debuut in Tokio. Tydens die Oujaarskonsert van die Berlynse Filharmoniese Orkes in 1988 het hy Tsjaikofski se eerste klavierkonsert onder Herbert von Karajan uitgevoer, met ‘n beeldopname wat van die historiese geleentheid gemaak is. Sy Londense debuut is in 1988 gemaak en twee jaar later sy Amerikaanse debuut in New York. Met sy aristokratiese benadering en musikale intelligensie is hy een van die voorste virtuose van sy tyd in sowel die Klassiek-Romantiese repertorium as moderne Russiese musiek. Hy word deur sommige kenners as die beste Russiese vertolker van Beethoven sedert Emil Gilels beskou. Onder die dirigeerstaf van die veteraan Colin Davis het hy in 2007 uitmuntende opnames van die musiekreus se volledige klavierkonserte in Londen gemaak. Verdere opnames: klavierkonserte van Beethoven (nrs. 2 en 5, onder Levine), Mozart (nrs. 12 en 20), Prokofiëf (nrs. 1 en 3) en Rachmaninof; solowerke van Brahms, Chopin, Franck, Haydn, Liszt, Prokofiëf, Rachmaninof, Schubert, Schumann en Skriabin; en ‘n versameling Schubert-werke vir klavierduet, met Levine as vennoot.

Kjellstrom, Swen (1875-1951), Sweedse violis. Ná studies in Stockholm en Parys het hy vanaf 1900 in die Colonne Orkes in Parys gespeel. In 1911 het hy die Kjellstrom Kwartet gestig en vanaf 1929 tot 1940 was hy direkteur van die Stockholm Konserwatorium. Hy het wyd as solis getoer en het ook dikwels met sy dogter, die pianis Ingrid Kjellstrom, opgetree.

Klee, Bernhard (1936-), Duitse pianis en dirigent. Hy was aanvanklik ‘n assistent vir Otto Ackermann en Wolfgang Sawallisch by die Keulen Opera, waar hy in 1960 as dirigent gedebuteer het met Die Zauberflöte. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Salzburg (1962/3), Oberhausen (1963-5), Hannover (1965/6) en Lübeck (1966-73), in laasgenoemde geval as musiekdirekteur. Hy het verdere debute gemaak by die Edinburgh-fees (1969), Covent Garden (1972), die Salzburg-fees (1973) en in New York (1974). Vervolgens was hy hoofdirigent van die Hannover Radio Simfonie-orkes (1976-9 en weer vanaf 1991), musiekdirekteur van die Düsseldorf Simfonie-orkes (1977-87) en hoofgasdirigent van die BBC Filharmoniese Orkes (1985-9). Hy tree ook as klavierbegeleier vir die sopraan Edith Mathis in haar liedere-voordragte op. Opnames: Mozart se minder bekende opera Zaïde, sy musiek vir Thamos, Koning van Egipte en van sy misse; en Schumann se twee dodemisse, asook sy Szenen aus Goethes Faust.

Kleiber, Carlos (1930-2004), Duits-gebore dirigent. Hy het as vyfjarige met die res van sy gesin na Argentinië geëmigreer, en mettertyd is hy na ‘n Engelse kosskool in Chile. Eers in 1950 is hy deur sy vader (sien die volgende inskrywing) toegelaat om vir ‘n jaar lank musiek in Buenos Aires te studeer, waarna hy by die operahuis in La Plata gewerk het. Kort daarna (in 1952) het hy na Europa teruggekeer en aptekerswese in Switserland studeer. Sy liefde vir musiek het nie agterweë gebly nie, en hy het as repetiteur by die Gärtnerplatz Teater in München begin werk. Sy dirigeerdebuut is in 1954 by die Potsdam Opera gemaak, met Millöcker se operette Gasparone. Dit is gedoen onder die skuilnaam Karl Keller, om sy beroemde vader moontlike verleentheid te bespaar. Vir die volgende twee jaar het hy in Potsdam opgetree. Dit is gevolg deur dirigeerposte by die Weense Volksopera (1956-8) en die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf (1958-64). By laasgenoemde het hy die gevierde Italiaanse dirigent Alberto Erede as mentor gehad. Hy het in dié stad ook sy presiese stoktegniek vervolmaak en vele operas van Verdi, Puccini, Richard Strauss en Offenbach gedirigeer. Vervolgens was hy dirigent van die Zürich Opera (1964-6) en die Württemberg Staatsopera in Stuttgart (1966-72), waarna hy nie weer ‘n voltydse pos beklee het nie. Hy was vanaf 1968 ‘n gasdirigent van die Beierse Staatsopera in München, waar hy voortgegaan het om roem met sy besondere vertolkings te verwerf.

Intussen het Kleiber in 1966 by die Edinburgh-fees gedebuteer met Wozzeck, wat een van sy gunstelingwerke was. In 1974 is sy debute by drie van die voorste operahuise ter wêreld gemaak: by beide La Scala en Covent Garden met Der Rosenkavalier, en by die Bayreuth-fees met Tristan und Isolde. By Bayreuth sou hy vir die volgende twee seisoene weer in legendariese opvoerings van Tristan und Isolde optree. Vanaf 1976 het hy aan ‘n aantal geslaagde opvoerings met die regisseur Franco Zeffirelli en die tenoor Plácido Domingo saamgewerk, onder andere van Otello by La Scala en Carmen by die Weense Staatsopera. Sy Amerikaanse debuut is in 1978 met die Chicago Simfonie-orkes gemaak, en tien jaar later het hy by die Metropolitan Opera met La Bohème gedebuteer. Oor die volgende twee seisoene sou hy 19 opvoerings by die Met dirigeer, waarna hy geweier het om na die VSA terug te keer. Intussen het hy in 1980 ‘n Oostenrykse burger geword. Sy enigste optrede met die Londense Simfonie-orkes, in 1981, is so swak deur kritici ontvang dat hy daarna nooit weer in Brittanje ‘n konsert gegee het nie. Hy het in 1989 en 1992 die Nuwejaarskonserte in Wenen gedirigeer. Vanaf 1994 was hy grotendeels uitgetree, met laaste optredes wat in 1999 met die Beierse Radio Simfonie-orkes in Spanje en Italië gemaak is. Volgens sy kollega Herbert von Karajan het hy mettertyd slegs opgetree wanneer sy koningsgrootte vrieskas leeggeraak het en hy deur honger daartoe gedryf is. In 1996 het hy ‘n konsert in Ingolstadt gegee in ruil vir ‘n na bestelling vervaardigde Audi.

Volgens sommige kenners het Kleiber oor genoeg talent beskik om die grootste dirigent van die tweede helfte van die twintigste eeu te word, maar hy het ‘n hoër premie op ‘n eenvoudige leefwyse geplaas as op roem. Nietemin was hy ‘n hoogs begaafde vertolker van die Duitse Romantici en enkele operas van Verdi en Puccini. Sy vertolkings word deur lewenskrag, presiese tempos en ongewone toonkleur gekenmerk. Hy was uitsoekerig ten opsigte van optredes en nog meer so met opnames. Hy het dikwels notas met aanwysings aan sy orkesspelers gegee, wat as ‘Kleibergrams’ bekend geraak het. Onder besture van operahuise was hy berug vir sy vele kansellasies van optredes, soms op die laaste nippertjie. Hierdie kenmerk van hom is toegeskryf aan sy perfeksionisme en sensitiwiteit ten opsigte van atmosfeer. Hy het joernaliste verafsku en nooit personderhoude gegee nie, as verdere aanduiding van sy voorkeur vir privaatheid. Op die persoonlike vlak was hy bekend vir sy belesenheid, humorsin en spitsvondigheid, met ‘n voorliefde om byname vir mense uit te dink. Sy rondreisende kinderjare het daartoe bygedra dat hy vlot in ses Europese tale was. Hy is aan prostaatkanker oorlede en in Konjsica, Slowenië begrawe, langs sy Sloweense vrou wat slegs 7 maande tevore dood is. ‘n Museum is in dieselfde dorp aan hom toegewy.

Sleutelopnames: Beethoven se simfonieë nrs. 5 en 7 (Weense Filharmonie, 1974); die opera Der Rosenkavalier (Wenen 1994). Verdere opnames: simfonieë van Beethoven (nrs. 4 en 6), Brahms (nrs. 2 en 4) en Schubert (nrs. 3 en 8); die operas La Bohème, Der Rosenkavalier (München 1973 op kompakskyf en München 1979 op DVD), Otello (La Scala 1976), La Traviata (München 1977), Tristan und Isolde (nie minder nie as 6 weergawes) en Der Freischütz; en die operette Die Fledermaus (München 1987, op DVD).

Kleiber, Erich (1890-1956), Oostenryks-gebore dirigent. Hy het in Praag studeer en daarna poste beklee by operahuise in Darmstadt (1912-8), Wupperthal (1919-21), Düsseldorf (1921) en Mannheim (1922/3). Vanaf 1923 tot 1934 was hy musiekdirekteur van die Berlynse Staatsopera, waar hy die premières van Berg se Wozzeck (1925) en Milhaud se Christophe Colombe (1930) sou dirigeer. Met hul orkes het hy in 1929 ‘n opwindende opname van Dvorák se negende simfonie gemaak. In 1934 het hy uit sy pos bedank vanweë die Nasionaal-Sosialistiese owerhede se konfrontasie met die komponis Hindemith, asook hul verbod op uitvoerings van Berg se opera Lulu. Toe sy kollega Wilhelm Furtwängler se paspoort vroeg in 1935 deur die owerhede gekonfiskeer is, het hy my sy Joodse vrou en hul jong seun Duitsland verlaat en na Suid-Amerika uitgewyk. Teen daardie tyd is hy as een van die voorste dirigente ter wêreld beskou, tesame met Furtwängler, Toscanini, Walter en Klemperer. In Suid-Amerika het hy by die Teatro Colón in Buenos Aires gedirigeer (1936-49) en in 1938 het hy ‘n Argentynse burger geword. Verdere debute is intussen gemaak in die VSA (1930), by die Salzburg-fees (1935) en by Covent Garden (1938). Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy dikwels in die VSA gedirigeer.

Ná die oorlog het Kleiber weer in Europa opgetree, met debute wat in 1951 in Wenen en Florence gemaak is. Tydens laasgenoemde optrede het hy die eerste volledige opvoering van Haydn se opera L'anima del filosofo gedirigeer. Steeds in Florence het hy in dieselfde jaar ‘n lewenskragtige opvoering van I vespri siciliani met Maria Callas in die vroulike hoofrol gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. By Covent Garden het hy in 1952 die Britse première van Wozzeck gedirigeer. Hy is in 1955 in sy ou pos by die Berlynse Staatsopera heraangestel, maar weens politieke inmenging het hy dadelik daaruit bedank. By die Weense Staatsopera het hy puik opvoerings van Der Rosenkavalier (1954) en Le nozze di Figaro (1956) gedirigeer, met opnames wat gemaak is. Eersgenoemde was die eerste volledige opname van die werk, met beroemde sangers wat daarin verskyn. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven (nrs. 2, 3, 5, 6 en 9), Borodin (nr. 2), Schubert (nrs. 5 en 9) en Tsjaikofski (nr. 4); en ‘n aantal orkeswerke van Beethoven, Corelli, Dvorák en Falla.

Klemperer, Otto (1885-73), Duits-gebore dirigent en komponis. Hy het klavier en viool aan die Frankfurt Konserwatorium en die Klindworth-Scharwenka en Stern Konserwatoriums in Berlyn studeer, asook komposisie onder Hans Pfitzner in die Duitse hoofstad. In 1905 is sy dirigeerdebuut met Offenbach se Orphée aux Enfers in Berlyn gemaak, waarop hy 50 opvoerings van die opera daar sou dirigeer. Sy loopbaan is ‘n hupstoot gegee deur die komponis Gustav Mahler, op wie se aanbeveling hy in 1907 dirigent van die Duitse Opera in Praag geword het. Drie jaar later het hy Mahler met inoefeninge vir die première van sy agste simfonie in München bygestaan. Daarna het hy dirigeerposte beklee by operahuise in Hamburg (1910-2), Bremen (1913), Strasbourg (1914-7), Keulen (1917-24) en Wiesbaden (1924-7). In Keulen het hy die premières van Korngold se Die Tote Stadt (1920) en Zemlinsky se Der Zwerg (1922) gedirigeer. Hy het in 1927 sy eerste uitvoering van Beethoven se Missa Solemnis gegee, interessant genoeg in Leningrad (tans Sint Petersburg). Vanaf 1927 was hy tot 1931 musiekdirekteur van die Kroll Opera in Berlyn, waar hy bekendheid sowel as omstredenheid verwerf het met sy uitvoerings van werke deur moderne komponiste soos Janácek, Strawinski, Schoenberg en Hindemith. Daarna was hy vanaf 1931 ‘n dirigent by die Berlynse Staatsopera, maar twee jaar later is hy as Jood deur die Nasionaal-Sosialiste onder druk geplaas om Duitsland te verlaat. In 1933 het sy Salzburg-feesdebuut met ‘n uitvoering van Bruckner se agste simfonie plaasgevind, waarna hy vir ses jaar die Los Angeles Filharmoniese Orkes sou dirigeer. Tydens sy verblyf in die VSA het hy komposisie onder Arnold Schoenberg studeer. Sy dirigeerloopbaan is in 1939 onderbreek deur ‘n breingewas, met ‘n operasie wat hom vir die res van sy lang lewe gedeeltelik verlam gelaat het. Hy het egter met ysere wilskrag ná die Tweede Wêreldoorlog na Europa teruggekeer en sy aandag op die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium toegespits.

Met die aanvang van Klemperer se merkwaardige tweede loopbaan het hy vanaf 1947 die Philharmonia Orkes in Londen gedirigeer, die ensemble waarmee hy wêreldroem sou verwerf. In dieselfde jaar is sy operadebuut by die Salzburg-fees met Le nozze di Figaro gemaak. Vir ‘n aantal jare het hy ook die Boedapest Opera (1947-50) en die Montreal Simfonie-orkes (1950-3) gedirigeer. Hy het in 1951 tydens die Holland-fees in Amsterdam ‘n opvoering van Mahler se tweede simfonie met Kathleen Ferrier as solis gedirigeer, met ‘n historiese opname wat gemaak is. Vyf jaar later het hy met die Concertgebouw Orkes in die Nederlandse hoofstad ‘n opname van Beethoven se negende simfonie gemaak. Gedurende die 1950’s het hy ook dikwels die Keulense Radio Simfonie-orkes in besondere konserte en opnames gedirigeer. In 1959 het hy hoofdirigent van die Philharmonia geword en vyf jaar later is hy as hul lewenslange dirigent benoem. Hy het die orkes in legendariese konserte en opnames van Beethoven se volledige simfonieë gedirigeer. Daaronder tel ‘n siklus tydens die Weense Fees van 1960, met opnames wat gemaak is. As operadirigent het hy by Covent Garden heuglike opvoerings van Fidelio (1961), Die Zauberflöte (1962) en Lohengrin (1963) gedirigeer. In 1964 het hy ‘n besondere uitvoering van Beethoven se negende simfonie in Londen gedirigeer, met ‘n filmopname wat gemaak is. Hy het in 1969 met ‘n projek begin om Wagner se Ring-siklus op te neem, maar moes dit na slegs die eerste bedryf van Die Walküre weens siekte aflas. In 1970 het hy ‘n Israeliese burger geword en twee jaar later het hy uitgetree.

Klemperer was een van die twintigste eeu se grootste dirigente in die musiek van Beethoven, Brahms, Bruckner en Mahler. Die titaniese wilskrag waarmee hy sy chroniese liggaamlike en verstandelike lyding oorkom het, het vir intense musikale kommunikasie gesorg. Sy meesterlike struktuurbegrip en diepe geestelikheid het hom in staat gestel om monumentale, granietagtige vertolkings te lewer. Dit sluit die vokale werke van die Duitse Romantici in, soos sy opnames daarvan getuig. Met sy enorme postuur (hy was byna twee meter lank) het hy sonder ‘n podium gedirigeer. Weens sy gedeeltelike verlamming moes ‘n orkesspeler hom altyd help om in en uit die motor te klim, om te verhoed dat hy sy kop stamp. Staaltjies wat deur sy orkesspelers vertel is, getuig van sy droë humorsin. Só het sy dogter hom eendag gevra om net twee mooi woorde te deel wanneer haar nuwe kêrel, wat nie juis die groot dirigent se goedkeuring weggedra het nie, haar aan huis kom besoek. Met die hoopvolle besoeker se aankoms het Klemperer die deur oopgemaak en aan sy dogter se versoek voldoen met ‘Gute nacht!’ Een van sy gunsteling-tydverdrywe was om Bybel te lees terwyl hy pyp rook. Hy het self ses simfonieë, ‘n opera (Das Ziel) en nege strykkwartette gekomponeer. Daarby het hy ‘n pragtige strykerverwerking van Bach se aria Bist du bei mir gemaak.

Sleutelopnames (Londen tensy anders angedui): Beethoven se opera Fidelio (2 weergawes, 1961 en 1962); Brahms se eerste simfonie (1956/7), Ein deutsches Requiem en Alt Rapsodie; Wagner se Siegfried Idyll en ‘n ruim versameling orkesuittreksels uit sy operas (1960/1). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Brahms, en talle van Bruckner (nrs. 4 tot 9), Dvorák (nr. 9), Franck, Mahler (nrs. 2, 4, 7 en 9), Mendelssohn (nrs. 3 en 4), Mozart (nrs. 25, 29, 31, 33, 34-36, 38-41), Schubert (nrs. 5, 8 en 9), Schumann (nrs. 1 tot 4) en Tsjaikofski (nr. 6); Bach se Sint Mattheüspassie; Beethoven se Koorfantasie en Missa Solemnis; Berlioz se Symphonie fantastique; Bruckner se Te Deum; Mahler se Das Lied von der Erde; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Mozart se Eine kleine Nachtmusiek en Vrymesselaars Begrafnismusiek; Schoenberg se Verklärte Nacht; R. Strauss se Metamorphosen; Strawinski se ballet Petroesjka en Pulcinella Suite; en die operas Die Zauberflöte en Der fliegende Holländer (Londen 1968).

Klengel, Julius (1859-1933), Duitse tjellis en komponis. Vir langer as vier dekades (1881-1924) was hy eerste tjellis van die Leipzig Gewandhaus Orkes. In dié tyd was hy ook ‘n leermeester aan die Leipzig Konserwatorium, waar sy leerlinge later beroemde musici soos Guilhermina Suggia, Emmanuel Feuermann en Edmund Kurtz ingesluit het. Hy is beskou as die voorste leermeester van die tjello in Europa, en het self-ontwikkeling beklemtoon sodat ‘n eie musiekpersoonlikheid kon ontwikkel. Sy broer Paul Klengel (1854-1935) was ‘n dirigent en komponis. Ná studies aan die Leipzig Konserwatorium het hy dirigeerposte in Leipzig, Stuttgart en New York beklee.

Kletzki, Paul (1900-73), Pools-gebore dirigent en komponis. Hy het as kind komposisie en viool aan die Warskou Konserwatorium studeer. Op 15 het hy die jongste violis in die Lódz Filharmoniese Orkes geword, en in 1917/8 het hy as Poolse soldaat in die Eerste Wêreldoorlog diens gedoen. Ná die oorlog is hy terug na Warskou, waar hy filosofie aan die universiteit studeer het. Hy het in 1921 ‘n komposisie-prys gewen, waarop hy na die Berlynse Staatskonserwatorium is vir verdere studies. Daar het die beroemde dirigent Wilhelm Furtwängler hom onder sy vlerk geneem, en danksy sy mentor het hy die jongste persoon nóg geword om die Berlynse Filharmoniese Orkers te dirigeer. Met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in 1933 is hy as Jood na Italië, waar hy in die jaar daarop aan die Milaanse Konserwatorium onderrig in komposisie begin gee het. Teen 1936 het dié land se Fasjisme hom genoop om weer uit te wyk, hierdie keer na die Sowjet-Unie. Daar was hy ‘n gasdirigent in Leningrad (tans Sint Petersburg) en Baku, voordat hy hoofdirigent van die Kharkof Filharmoniese Orkes in die Oekraïne geword het. Weens Stalin se skrikbewind het hy in 1938 vir ‘n derde keer gevlug en hom in Switserland gevestig. Sy vrou was ‘n Switserse burger, en hy was tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n gasdirigent van die Orchestre de la Suisse Romande en hoofdirigent van die Luzern-fees (1943/4).

In die veiligheid van neutrale Switserland het Kletzki opnuut begin komponeer, met werke soos die kragtige derde simfonie en Fluit-concertino wat verskyn het. In Nasionaal-Sosialistiese Duitsland daarenteen is sy partiture vernietig en die drukkersplate daarvan gesmelt. Teen die einde van die oorlog het hy verneem dat die res van sy gesin in die Jodeslagting in Pole gesterf het, waarop hy opgehou komponeer het. Hy het in 1947 Switserse burgerskap verkry. Vervolgens het hy wêreldwyd as gasdirigent opgetree, dikwels met die Israelse Filharmoniese Orkes. Hy het in 1962 by die Salzburg-fees gedebuteer, en was musiekdirekteur van die Dallas Simfonie-orkes (1958-62), die Bern Simfonie-Orkes (1964-66) en die Orchestre de la Suisse Romande (1968-70). Met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes het hy in 1967 die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem. In 1965 is ‘n kabinet met van sy vooroorlogse komposisies in Milaan ontdek, maar op sy versoek is dit eers na sy dood deur sy tweede vrou oopgemaak. Hy het gesterf tydens ‘n inoefening van Beethoven se derde simfonie met die Liverpool Filharmoniese Orkes. Verdere opnames: Borodin se tweede simfonie; Brahms se vierde simfonie; Hindemith se Mathis der Maler simfonie; Mahler se Das Lied von der Erde; Rimski-Korsakof se Scheherazade; Sibelius se eerste en derde simfonieë; Tsjaikofski se vyfde simfonie, Manfred Simfonie en Capriccio italien; en ouvertures van Berlioz en Mendelssohn.

Kliegel, Maria (1952-), Duitse tjellis. Sy het aan die Indiana Universiteit in die VSA onder Janos Stárker studeer, waarna sy verskeie pryse gewen het. In 1981 het sy die Rostropowitsj-kompetisie gewen, wat haar internasionale loopbaan afgeskop het. Sy het konserte gegee in Basel, Washington DC en Parys, telkens onder die dirigeerstaf van die legendariese tjellis Mstislaf Rostropowitsj, wat haar as die beste tjellis sedert Jacqueline du Pré beskou het. Haar opname van Schnittke se eerste tjellokonsert in 1990 is deur die komponis as die standaard-opname van dié werk erken. Sy tree wêreldwyd as solis en in kamermusiek op, en het in die 1990’s die topverkoper onder die wêreld se tjelliste geword. Onder die werke wat vir haar geskryf is, tel haar landgenoot Kaiser-Lindemann se Hommage à Nelson M, sodat sy deur die Suid-Afrikaanse staatsman genooi is om ‘n privaat uitvoering daarvan vir hom te gee. Sy bespeel ‘n Stradivarius-tjello wat in 1693 gemaak is en wat vir langer as 30 jaar in die besit van die befaamde Maurice Gendron was. Sedert 1986 gee sy meesterklasse in tjello aan die Keulense Musiekakademie. Sy is in 1998 as ‘n lid van die Duitse Musiekraad aangestel, en in die jaar daarop is die Orde van Voortreflikheid van die deelstaat Noordryn-Wesfale aan haar toegeken. Sleutelopnames: Schumann se tjellokonert (onder Constantine); Tavener se The Protecting Veil (onder Yuasa). Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites; tjellokonserte van Dvorák, Elgar, Haydn en Sjostakowitsj; Beethoven se Driedubbele Konsert (met Dong-Suk Kang en Jenö Jandó), en al sy werke vir tjello en klavier (met Nina Tichman); Brahms se Dubbelkonsert (met Ilya Kaler); Dohnányi se Konzertstück en Ruralia Hungarica (met Jandó); Gubaidulina se Sewe Woorde; die genoemde werk van Kaiser-Lindemann; Schubert se Arpeggione sonate; Schumann se Fantasiestukke; en tjellosonates van Brahms, Chopin, Dohnányi, Kodály en Mendelssohn.

Klien, Walter (1928-91), Oostenrykse pianis. Hy het onder die komponis Paul Hindemith studeer en internasionale kompetisies gewen in Bolzano (1952), en Parys en Wenen (beide in 1953). Daarna het hy internasionaal getoer, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1963 gemaak is. Vanaf dié jaar het hy ook as vennoot van die violis Wolfgang Schneiderhan in sonate-uitvoerings opgetree. Sy spel is gekenmerk deur sensitiwiteit en ‘n meesterlike beheer van toonkleur. Hy het die volledige solowerke van Brahms, Mozart en Schubert opgeneem. Sleutelopnames: Brahms se solowerke opus 116-119, klaviersonate nr. 3, Handel Variasies en Schumann Variasies, 21 Hongaarse Danse (met Alfred Brendel) en 16 Walse, opus 39 (met sy vrou Beatriz); Mozart se klaviersonates nrs. 7-10. Verdere opnames: klaviersonates van Beethoven; Honegger se Klavier concertino; klavierkonserte van Mozart en sy sonates vir klavierduet (met Brendel); en ‘n versameling Franse werke vir klavierduet van Chabrier, Fauré, Milhaud en Ravel (met Beatriz).

Klose, Margarete (1902-68), Duitse mezzosopraan. Sy het aan die Klindworth-Scharwenka Konserwatorium in haar geboortestad Berlyn studeer, en later met een van haar leermeesters getrou. In 1927 is haar debuut in Ulm gemaak, as Manja in Kálmán se operette Gräfin Maritza. Vervolgens was sy verbonde aan operahuise in Kassel (1928-9) en Mannheim (1929-31), die Berlynse Staatsopera (1931-49 en 1955-61), die Berlynse Stadsopera (1949-59) en in Oos-Berlyn (1958-61). Sy het vanaf 1936 tot 1942 gereeld by die Bayreuth-fees gesing in rolle soos Ortrud in Lohengrin, Fricka en Waltraute in die Ring-siklus, en Brangäne in Tristan und Isolde. Daarby het sy opgetree by Covent Garden (1935 en 1937), en in Buenos Aires (1950) en San Francisco (1953). Met haar wye stemreeks en intense, gevoelvolle sang was sy veral bekend in die operas van Wagner en Verdi. Onder haar verdere rolle het getel Ulrica in Un ballo in maschera, Klytemnestra in Elektra, Orfeo in Orfeo ed Euridice, die vroulike hoofrol in Samson et Dalila en die titelrol in Carmen. Sy het uitgeblink as Erda in Siegfried en Waltraute in Götterdämmerung (Rome 1953), en as Fricka in Die Walküre (1954), in opnames onder Wilhelm Furtwängler. Verdere opnames: uittreksels uit Lohengrin (Bayreuth 1936) en Tristan und Isolde (Wenen 1943 en Berlyn 1947), almal onder Furtwängler.

Kmentt, Waldemar (1929-), Oostenrykse tenoor. Hy het as student deur Nederland en België met operageselskappe getoer. In 1950 is sy Weense debuut gemaak as solis in ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie. Hy het in die jaar daarop sy operadebuut by die Weense Volksopera gemaak, as die Prins in Die liefde vir drie lemoene. In dieselfde jaar (1951) het hy onder Meinhard von Zallinger in die eerste opname van ‘n Haydn-opera gesing, as Aret in Philemon und Baucis. Vanaf 1952 was hy ‘n lid van die Weense Staatsopera, waar hy Jaquino in Fidelio tydens die opening van die herboude operahuis in 1955 sou sing. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Salzburg (1955) en Bayreuth (1968). Onder die verdere rolle waarin hy uitgeblink het, tel Ferrando in Così fan tutte, Spoletta in Tosca,  Narraboth in Salome en Froh in Das Rheingold. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Karajan en Klemperer); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Kubelik); en die genoemde operas van Mozart, Puccini, Richard Strauss en Wagner.

Knapp, Peter (1947-), Engelse bariton. Sy debuut is in 1973 met die Glyndebourne Toeropera gemaak, as die Graaf in Le nozze di Figaro. Daarna het hy ‘n lid van die Kent Opera geword. In 1975 het hy in Londen die titelrol in Szymanowski se Koning Roger tydens ‘n herlewing van die opera gesing. Hy het twee jaar later by die Engelse Nasionale Opera gedebuteer, en in 1978 het hy die Singer’s Company gestig. Die rol van Maxim in Joseph se Rebecca is in 1983 by die Leeds Opera deur hom geskep. Onder Philip Ledger het hy as solis in ‘n uitstekende opname van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine gesing.

Knappertsbusch, Hans (1888-1965), Duitse dirigent. Hy het in Bonn en Keulen studeer, en in 1910 is sy debuut in Mühlheim gemaak. Daarna was hy tot 1912 ‘n assistent vir die veteraan Hans Richter by die Bayreuth-fees. Van dié groot musikus sou hy die konserwatiewe Duitse tradisie van opera-vertolking ontvang en dit vir die res van sy lang loopbaan handhaaf. Hy het voorts opera gedirigeer in Bochum, Elberfeld (1913-8), Leipzig (1918/9) en Dessau (1919-22). Reeds op 25 het hy Wagner se Parsifal die eerste keer gedirigeer, en teen 1942 het hy dié grootse werk al meer as 90 keer gedirigeer. Vanaf 1922 was hy musiekdirekteur van die Beierse Staatsopera in München, maar hy het in 1936 uit die pos bedank vanweë sy teenkanting jeens die Nasionaal-Sosialisme. Hy is daarop verbied om verdere konserte of operas in Duitsland te dirigeer. Intussen het sy konsertdebuut in 1929 by die Salzburg-fees plaasgevind, wat die begin was van sy lang verhouding van 35 jaar met die Weense Filharmoniese Orkes. Hy sou hulle in meer as 200 konserte dirigeer, asook in talle opvoerings by die Weense Staatsopera. In 1937 is sy operadebuut by Salzburg gemaak met Der Rosenkavalier en Elektra. Sy enigste optrede in Londen was in dieselfde jaar by Covent Garden, met ‘n opvoering van Salome. Vanaf 1937 tot 1944 was hy ‘n dirigent van die Weense Staatsopera, waar Bruno Walter tot die aansluiting van Oostenryk by Nasionaal-Sosialistiese Duitsland (in 1938) die artistieke direkteur was.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Knappertsbusch soos ‘n aantal van sy Duitse kollegas vir twee jaar deur die Geallieerdes verbied om te dirigeer, waarna hy weer aan die Beierse Staatsopera verbonde was. Daar sou hy in 1950 ‘n uitstekende opname van Tristan und Isolde dirigeer. Sy internasionale aansien is herstel toe hy in 1951 deur die kleinseuns van Richard Wagner gekies is om die eerste na-oorlogse opvoerings van Götterdämmerung en Parsifal by die herleefde Bayreuth-fees te dirigeer. Daarna het hy jaarliks (met uitsondering van 1953) tot 1964 by die groot Wagner-fees opgetree, telkens met opvoerings van Parsifal wat hy vanaf 1951 slegs by Bayreuth sou dirigeer. Hoogaangeskrewe opnames is daar gemaak van sy Götterdämmerung (1951), Parsifal (1951, 1954, 1962 en 1964) en die Ring-siklus (1956, 1957 en 1958). Verder het hy met die opening van die herboude Weense Staatsopera in 1955 vir die laaste keer by sy oorlogstydse operahuis gedirigeer, waartydens ‘n hoogstaande opname van Der Rosenkavalier gemaak is. Hy kon glad nie met Herbert von Karajan oor die weg kom nie, sodat hy vandat sy jonger kollega in 1957 direkteur van beide die Weense Staatsopera en die Salzburg-fees geword het nie weer by een van die twee verskyn het nie. Daarna het hy die meesal die Weense Filharmonie gedirigeer in heuglike uitvoerings van die Duitse Romantiese simfoniese repertorium. Dit sluit die Weense Fees in 1962 en 1963 in, met besondere DVD-opnames wat van beide geleenthede getuig.

Knappertsbusch was bekend vir sy geringskatting van inoefeninge ten gunste van die orkeslede se ervaring en die inspirasie van die oomblik. Dit het hom uiteraard gewild onder sy orkesspelers gemaak, om nie te praat van sy soms sarkastiese humorsin nie. As musiekdirekteur in die klassieke Duitse sin van die word het hy nie tyd gehad vir oppervlakkigheid of windmakery op die podium nie. Sy majestieuse, plegtige vertolkings van Bruckner en Wagner word gereken onder die heel bestes nog, gekenmerk deur stadige tempos en ‘n diep metafisiese inslag. Dus het hy op die wesenlike van die musiek gekonsentreer, sodat die innerlike spanning daarvan na vore gebring is, sonder enige sentimentaliteit of vertoon. Sleutelopnames: Götterdämmerung (1951) en Parsifal (1962). Verdere opnames: ‘n aantal simfonieë van Beethoven, Bruckner, Schubert en Schumann; Wagner se Siegfried Idyll; en die opera Die Meistersinger von Nürnberg (Wenen).

Knight, Gillian (1939-), Engelse mezzosopraan. Sy sing vanaf 1959 in opera, met debute wat gemaak is by Sadler’s Wells (1968), Covent Garden (1970), Tanglewood (1979) en die Wexford-fees (1990). By Covent Garden het sy in 1972 die rol van Rose Parrowe tydens die première van Maxwell Davies se opera Taverner geskep. Haar bekendheid lê merendeels in Gilbert en Sullivan se operettes, in rolle soos Buttercup in HMS Pinafore, Ruth in The Pirates of Penzance en Dame Carruthers in The Yeomen of the Guard. Opnames: Berlioz se La damnation de Faust; Mozart se Mis nr. 16; die genoemde operettes, asook The Gondoliers, Iolanthe, Patience en Ruddigore; en die operas La Rondine (as Bianca) en Moses und Aron.

Knussen, Oliver (1952-), Engelse komponis en dirigent. Hy het as sesjarige begin komponeer en op sestien die Londense Simfonie-orkes in ‘n uitvoering van sy eie eerste simfonie gedirigeer. Die gevierde dirigent Leopold Stokowski was in dié tyd ‘n vriend van sy gesin. In 1977 het hy ‘n beurs ontvang om by Tanglewood te gaan studeer, en vanaf dieselfde jaar tot 1982 het hy onderrig in komposisie aan die Koninklike Musiekkollege gegee. Hy is sedert 1983 mede-artistieke direkteur van die Aldeburgh-fees, en in 1994 is die CBE aan hom toegeken. Sy bekendheid lê merendeels in moderne musiek. As bewonderaar van Toru Takemitsu is sy opname van die Japannese komponis se Quotation of Dream (wat hy self uit ‘n aantal werke saamgestel het) met die London Sinfonietta in 1999 met ‘n Gramophone toekenning bekroon. Verdere opnames: Britten se ballet The Prince of the Pagodas; Birwistle se Melencolia I, Meridian en Ritual Fragment; orkeswerke van Carter, Copland, Holloway en Saxton; Moessorgski se Nag op ‘n Kaal Berg en Skilderye op ‘n Uitstalling (beide soos deur Stokowski verwerk); en van sy eie komposisies.

Kocsis, Zoltán (1952-), Hongaarse pianis, dirigent en komponis. Hy het as vyfjarige met musiekstudies begin en is kort voor lank as 'n wonderkind beskou. Vanaf 1963 het hy klavier en komposisie aan die Béla Bartók Konserwatorium in sy geboortestad Boedapest studeer. Nadat hy in 1970 die Hongaarse Radio se Beethoven-kompetisie gewen het, het hy deur die VSA getoer. In 1972 het hy in Londen en by die Salzburg-fees gedebuteer, en in die jaar daarop het hy die Liszt-prys gewen. As dirigent verskyn hy dikwels met die Boedapest Feesorkes en die Hongaarse Nasionale Filharmoniese Orkes. Hy het voorts die Boedapest Houtblasersensemble gedirigeer in uitstekende opnames van Mozart se Serenades nrs. 10 en 12, waarvoor hy self kadenzas gekomponeer het. As pianis het hy die volledige klavierwerke van sy landgenoot Bartók in briljante vertolkings opgeneem. Hy was daarby 'n stigter van die Nuwe Musiek-ateljee in die Hongaarse hoofstad. Hy tree dikwels met die Ensemble Modern in uitvoerings van sy eie komposisies op. As beide pianis en dirigent gee hy uitvoerings van sogenaamde rand-werke wat meesal afgeskeep word. Hy het in 1998 in Bellinzona, Switserland 'n puik voordrag gegee van Mozart se Fantasia K.475, Beethoven se klaviersonate nr. 32 en Schubert se klaviersonate D.960, met 'n DVD wat gemaak is. Sleutelopnames: Debussy se 2 Arabesques, Berceuse héroïque, Images I en II, en Rêverie. Verdere opnames: (as pianis) solowerke van Grieg en Liszt; (en as dirigent) Bartók se ballet Die Houtprins.

Kodály Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1970 gestig is. Deur hul optredes in Europa, Rusland en Japan sowel as hul talle opnames het hulle wêreldbekend geraak, sodat hulle tans as een van die beste kamer-ensembles ter wêreld beskou word. Hul opnames van Haydn se volledige strykkwartette was die eerste digitale weergawe van dié enorme siklus. Sleutelopnames: Haydn se strykkwartette nrs. 15-24, 44-49, 66-74; Schubert se strykkwartette nrs. 1, 3, 4, 7, 8, 9 en 15. Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Beethoven, d'Indy, Hofstetter en Schubert, asook die enkeles van Debussy en Ravel.

Kogan, Leonid (1924-82), Oekraïns-gebore violis. Hy het in 1941 sy debuut in Moskou gemaak, en tien jaar later het hy die internasionale kompetisie in Brussels gewen. Daarna het hy wyd getoer, met debute in Londen (1955), die VSA (1958) en by die Salzburg-fees (1966). Vanaf 1952 was hy aan die Moskou Konserwatorium verbonde - eers as dosent, vanaf 1963 as hoogleraar en vanaf 1969 as hoof van die viooldepartement. Hy was die eerste Sowjet-violis om Berg se vioolkonsert te speel en op te neem. Sy spel was aristokraties en sekuur, en hy was ongelukkig om deur sy ouer kollega David Oistrach oorskadu te word. Hy is veral bewonder vir sy uitvoerings van Beethoven, Brahms en Tsjaikofski se vioolkonserte. Naas sy optredes as solis het hy in ‘n trio met die pianis Emil Gilels en die tjellis Mstislaf Rostropowitsj gespeel, asook in ‘n trio met Rostropowitsj en die altviolis Rudolf Barsjai. Hy was getroud met Gilels se suster Elisaveta, met wie hy Leclair se Sonate vir twee viole opgeneem het. Sleutelopname: Khatsjatoerian se vioolkonsert (onder Monteux, 1958). Verdere opnames: vioolkonserte van Barber, Beethoven (onder De Froment, Silvestri en Vandernoot), Mozart (nr. 5), Paganini en Tsjaikofski (onder Vandernoot en Silvestri); ‘n verwerking van Sjostakowitsj se 4 Preludes, opus 34 vir viool en klavier (met die komponis as pianis); en Tsjaikofski se Méditation en Sérénade mélancolique.

Kolisch, Rudolf (1896-1978), Oostenryks-gebore violis. Weens ‘n besering tydens sy kinderjare het hy die strykstok in sy linkerhand gehou. Nadat hy onder die komponis Schoenberg studeer het, het hy in 1922 die Kolisch Kwartet gestig en hulle tot 1939 gelei. Hulle het wyd getoer en in 1935 in die VSA gaan woon. Intussen het hy in 1924 met Schoenberg se suster Gertrude getrou. Sy kwartet het wêreldbekend geraak vir hul vertolkings van moderne musiek en hul gebruik om die standaardwerke sonder partiture te speel. Hulle het die eerste uitvoerings gegee van Schoenberg se derde en vierde strykkwartette, Berg se Liriese suite, Webern se strykertrio en strykkwartet, en Bartók se vyfde en sesde strykkwartette. Daarby het hulle in 1936/7 opnames van Schoenberg se vier strykkwartette gemaak wat steeds deur kenners as ongeëwenaard beskou word. Die kwartet is in 1941 ontbind en in die jaar daarop het Kolisch leier van die Pro Arte Kwartet geword. Vanaf 1944 tot 1967 het hy aan die Universiteit van Wisconsin onderrig gegee.

Kollo, René (1937-), Duitse tenoor. Hy het in 1965 sy debuut in Brunswick in ‘n opvoering van Strawinski se opera Oedipus Rex gemaak. Vanaf 1969 was hy vir twee jaar aan die Düsseldorf Opera verbonde. Daarna het debute gevolg by die feeste in Bayreuth (1969) en Salzburg (1972), asook by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1976). Hy was wêreldbekend as heldentenor in die operas van Richard Strauss en Wagner. Daaronder tel rolle soos Bacchus in Ariadne auf Naxos, Erik in Der fliegende Holländer, Siegfried in Der Ring des Nibelungen, die manlike hoofrol in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Parsifal, Rienzi en Tannhäuser. Ook is hy ‘n begaafde konsert- en operettesanger in die Duitse repertorium. Opnames: Brahms se Rinaldo; Mahler se agste simfonie (onder Solti) en Das Lied von der Erde; die operettes Die Csárdásfürstin, Der Zarewitsch en Die Fledermaus; en die genoemde operas van Strauss en Wagner, asook Die tote Stadt en Die Dreigroschenoper.

Kondrasjin, Kirill (1914-81), Russiese dirigent. Hy was ‘n dirigent by die Maly Opera in Leningrad (tans Sint Petersburg, 1936-43) en die Bolsjoi Opera in Moskou (1943-56). In 1958 het sy Britse en Amerikaanse debute plaasgevind, en vanaf 1960 tot 1975 was hy hoofdirigent van die Moskou Filharmoniese Orkes. Hy het met hulle die eerste uitvoerings van Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 4 (1961) en 13 (1962), kantate Die Teregstelling van Stepa Razin (1964) en vioolkonsert nr. 2 (1967) gedirigeer. Daarby het hy in die 1960’s en 1970’s die eerste dirigent geword om dié groot moderne komponis se volledige simfonieë op te neem, insgelyks met sy Moskou-orkes. In 1978 het hy na die Weste uitgewyk, waar hy reeds drie jaar tevore assistent-hoofdirigent van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam geword het. Hy sou dié pos tot sy dood enkele jare later beklee. Met die Weense Filharmoniese Orkes het hy een van die beste opnames nóg van Dvorák se negende simfonie gemaak. Sleutelopnames: Kabalefski se Komediante Suite, Khatsjatoerian se Masquerade Suite, Rimski-Korsakof se Capriccio espagnol en Tsjaikofski se Capriccio italien (almal 1958). Verdere opnames: simfonieë van Beethoven, Borodin en Miaskofski; Casella se Paganiniana; Rachmaninof se Simfoniese Danse en kantate Die Klokke; Rimski-Korsakof se Scheherazade; Strawinski se ballet Petroesjka.

Konetzni, Anny (1902-68), Oostenrykse sopraan, suster van Hilde. Nadat sy in die koor van die Weense Volksopera gesing het, het sy in 1927 haar verhoogdebuut in Chemnitz as 'n alt gemaak. Twee jaar later het sy in Parys in 'n opvoering van die Ring-operas gesing, en in 1931 het sy by die Berlynse Staatsopera aangesluit. Vanaf 1933 was sy 'n lid van die Weense Staatsopera, met verdere debute wat gemaak is by die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees (beide in 1934), en by Covent Garden (1935). Tydens laasgenoemde het sy die rol van Brünnhilde in die Ring gesing, waarin sy met haar ferm, warm stem meesterlik was. Dieselfde geld vir die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Sy het in Wenen in historiese opnames van uittreksels uit dié operas gesing.

Konetzni, Hilde (1905-80), Oostenrykse sopraan. Sy het in 1929 in Chemnitz as Sieglinde in Die Walküre gedebuteer, met haar suster Anny in die rol van Brünnhilde. Vanaf dieselfde jaar was sy verbonde aan die Duitse Teater in Praag, en vanaf 1936 was sy ‘n lid van die Weense Staatsopera. Sy het verder gedebuteer by die Salzburg-fees in 1936 en by Covent Garden in 1938. Later het sy gesing in Wilhelm Furtwängler se Italiaanse opnames van die Ring-operas (La Scala 1950 en Rome 1953). Dit was as Sieglinde in Die Walküre en Gutrune in Götterdämmerung.

Koninklike Concertgebouw Orkes, Amsterdamse simfonie-orkes wat vernoem is na die konsertsaal waarin dit optree, wat in 1888 gebou is. Hul eerste dirigent was Willem Kes (1888-95). Hy is opgevolg deur Willem Mengelberg, wat vir nie minder nie as vyftig jaar (1895-1945) hul hoofdirigent was. Tydens sy lang bewind het die orkes wêreldberoemd deur hul toere en opnames geraak. Hul gevierde verbintenis met die musiek van Mahler het in 1903 begin, toe die komponis die orkes in ‘n uitvoering van sy derde simfonie gedirigeer het. Ná Mengelberg was die hoofdirigente Eduard van Beinum (1945-59), Bernard Haitink en Eugen Jochum (gesamentlik 1961-4), Haitink (1964-88) en sedert 1988 Riccardo Chailly. In 1989 is die titel Koninklike tot die orkes se naam gevoeg. Hulle het in 2010 ‘n siklus konserte van Mahler se volledige simfonieë onder ‘n verskeidenheid dirigente uitgevoer, wat gelukkig vir musiekliefhebbers verfilm en op DVD uitgereik is.

Koninklike Deense Orkes, simfonie-orkes wat in Kopenhagen gebaseer is. Die ontstaan daarvan kan na die sestiende eeu teruggevoer word, en vanaf 1993 was Paavo Berglund die hoofdirigent.

Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes, Britse simfonie-orkes wat in 1840 gestig is met John Russell as dirigent. Sedert 1943 is hulle ‘n voltydse ensemble, en onder hul hoofdirigente het getel Malcolm Sargent (1942-8), John Pritchard (1957-63), Charles Groves (1963-77), Walter Weller (1977-80), David Atherton (1980-3), Marek Janowski (1983-6), Libor Pesek (1987-97) en sedert 1997 Petr Altrichter. In 1957 is die titel Koninklike aan die orkes toegeken, en in 1966 het hulle hul eerste oorsese toer onderneem.

Koninklike Operahuis, Covent Garden (die amptelike titel sedert 1892), Londense teater. Die huidige teater is in 1858 geopen en huisves sedert 1946 voltydse opera- en balletgeselskappe, onderskeidelik bekend as die Koninklike Opera (sedert 1969) en die Koninklike Ballet (sedert 1957). Onder hul musiekdirekteure sedert die Tweede Wêreldoorlog het getel Karl Rankl (1946-51), Rafael Kubelik (1955-8), Georg Solti (1961-71), Colin Davis (1971-86) en Bernard Haitink (1987-2002). In 2002 het Antonio Pappano die musiekdirekteur geword.

Koninklike Filharmoniese Orkes, Londense simfonie-orkes wat in 1946 deur Thomas Beecham gestig is. Hy is as hoofdirigent opgevolg deur Rudolf Kempe (1961-75), Antal Doráti (1975-8), Walter Weller (1980-5), André Previn (1985-92) en Joeri Temirkanof (vanaf 1992). In 1996 het Daniele Gatti as musiekdirekteur by Wladimir Asjkenazy oorgeneem.

Koninklike Skotse Nasionale Orkes, simfonie-orkes wat in 1891 in Glasgow as die Skotse Orkes gestig is, met George Henschel as dirigent tot 1895. Sedert herorganisering in 1950 as die Skotse Nasionale Orkes het die dirigente ingesluit Karl Rankl (1952-7), Hans Swarowsky (1957-9), Alexander Gibson (1959-84), Neeme Järvi (1984-8), Bryden Thomson (1988-90), Walter Weller (1991-7) en sedert 1997 Alexander Lazaref. Onder Gibson het die orkes vele eerste Britse uitvoerings gegee (onder andere van Schoenberg se vioolkonsert in 1960), oorsee getoer en vir die Skotse Opera gespeel. In 1990 is ‘n nuwe konsertsaal geopen en is die die titel ‘Koninklike’ aan die orkes toegeken.

Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes, Sweedse orkes wat in 1902 gestig is en 12 jaar later ‘n voltydse ensemble geword het. Oor die volgende dekades het groot dirigente soos Toscanini, Walter, Furtwängler, Monteux, Kubelik, Klemperer, Krips, Kempe, Solti en Markewitsj as gaste met die orkes saamgewerk. Onder hul hoofdirigente het getel Georg Schnéevoigt (1915-24), Václav Talich (1926-36), Fritz Busch (1937-40), Carl von Garaguly (1942-53), Hans Schmidt-Isserstedt (1955-64), Antal Doráti (1966-74), Gennadi Rozhdestwenski (1974-7 en weer 1991-5), Joeri Ahronowitsj (1982-7) en Paavo Berglund (1987-91). Die orkes is veral deur Schmidt-Isserstedt en Doráti tot internasionale statuur uitgebou. Onder Rozhdestwenski het hulle in 1979 die eerste Sweedse orkes geword om die destydse Sowjet-Unie te besoek. Sedert 2000 is Alan Gilbert die hoofdirigent, en met hul eeufeesviering twee jaar later het Anders Hillborg sy Exquisite Corps vir die orkes geskryf. Die ensemble toer gereeld deur Europa, Noord-Amerika en Japan, en neem jaarliks aan die Nobelprys seremonie deel.

Kontarsky, Aloys (1931-) en Alfons (1932-), Duitse klavierduet en broers. Hulle tree sedert 1955 as ‘n duet op en is veral bekend in moderne werke, met eerste uitvoerings en opnames van werke deur Berio, Messiaen, Stockhausen en andere tot hul krediet. Opnames (beide): Brahms se Hongaarse Danse, Dvorák se Slawoniese Danse en Ligeti se Drie stukke vir twee klaviere; (Aloys:) Stockhausen se Klavierstücke 1-11 en Messiaen se Kwartet vir die eindtyd (met Gawriloff, Palm en Deinzer). ‘n Derde broer, Bernhard (1937-), is 'n pianis en dirigent, met ‘n voortreflike opname van Milhaud se tweede klavierkonsert tot sy krediet (as pianis). Hy het ook as dirigent uitstekende opnames van Zimmermann se Requiem für einen jungen Dichter en Die Soldaten (lg. op DVD) gemaak.

Konwitschny, Franz (1901-62), Duitse dirigent. Hy het as violis en altviolis in ‘n aantal Duitse orkeste gespeel, totdat hy in 1927 sy dirigeerdebuut gemaak het. Daarna het hy tot 1949 opera gedirigeer, met ‘n loopbaan wat merendeels in die voormalige Oos-Duitsland sou ontvou. Daar was hy hoofdirigent van die Leipzig Gewandhaus Orkes (1949-62), die Dresden Staatsopera (1953-5) en die Berlynse Staatsopera (1955-62). By laasgenoemde het hy ‘n voortreflike opname van Der fliegende Holländer gedirigeer. In 1959 het hy die Ring-siklus by Covent Garden gedirigeer en twee jaar later is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. Met sy Leipzig-orkes het hy die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem. Verdere opnames: R. Strauss se toondig Till Eulenspiegel; ‘n versameling Wagner-ouvertures, en sy opera Tannhäuser.

Kooij, Peter (1954-), Nederlandse bas (sy van word soms Kooy gespel). As sesjarige het hy in ‘n koor begin sing, gevolg deur optredes as sopraansolis in konserte en opnames. Sy formele musiekstudies was aanvanklik in die viool, en daarna het hy sanglesse van Max von Egmond aan die Sweelinck Konserwatorium in Amsterdam ontvang. Daar het hy in 1980 gegradueer, en sedertdien tree hy wêreldwyd met beroemde dirigente in ‘n wye repertorium werke op. Hy was ‘n hoogleraar in sang aan sy alma mater in Amsterdam (1991-2000) en ‘n dosent aan die Hannover Konserwatorium (1995-8). Sedert 2000 is hy ‘n hoogleraar aan die Tokio Universiteit van Skone Kunste en Musiek. Daarby gee hy wyd deur Europa meesterklasse en is hy artistieke direkteur van die Ensemble Vocal Européen. Opnames: talle van Bach se kantates (onder Masaaki Suzuki), en sy Sint Markuspassie (as Christus); en enkele kantates van Buxtehude (onder Ton Koopman).

Koopman, Ton (1944-), Nederlandse klawesimbelspeler, orrelis en dirigent. Hy het in 1977 die Amsterdamse Barokorkes gestig en toer sedertdien wyd met hulle. Daarby het hy in ander vroeë musiek-ensembles, soos Jordi Savall se Hespèrion XX, gespeel. As een van die wêreld se voorste vertolkers van vroeë musiek twee enorme projekte onderneem, naamlik om volledige siklusse van J.S. Bach se kantates (as dirigent) en sy orrelmusiek (as solis) op te neem. Nadat die kantate-siklus deur die opname-maatskappy Erato bevries is, het hy sy eie etiket (Antoine Marchand: sy naam in Frans) gestig om die siklus tot voltooiing te bring. Die projek is in 2003 voltooi, en die vrystellings sover word in dieselfde asem genoem as die beroemde siklus van Harnoncourt en Leonhardt, indien nie beter nie. Anders as sommige van sy mededingers het hy vroulike soliste eerder as seuns ingespan, met bekende sangeresse soos Barbara Schlick en Ruth Ziesak wat in die kantates verskyn. Hy het voorts ‘n herkonstruksie van Bach se verlore Sint Markuspassie onderneem, met ‘n hoogstaande DVD-opname wat in die Sint Simplicius-kerk in Milaan gemaak is. Verdere opnames (as dirigent): Bach se volledige Brandenburgkonserte, Mis in B mineur, Sint Johannespassie, Sint Mattheüspassie en Magnificat in D; Biber se Missa Salisburgensis; ‘n hele aantal kantates van Buxtehude; ‘n aantal simfonieë van Haydn; Kuhnau se Magnificat in C; konserte en ander orkeswerke van C.P.E. en J.S. Bach, Handel en Mozart; (as solis:) vele klawesimbel- en orrelwerke van J.S. Bach, insluitend die Kuns van die Fuga, die Franse suites en die Goldberg Variasies; talle kamerwerke van Marin Marais (met die tjellis Jordi Savall en die luitspeler Hopkinson Smith); Mozart se drie klavierkonserte na J.C. Bach; orrelwerke van Mozart en Sweelinck; en Poulenc se Concert champêtre.

Kord, Kazimierz (1930-), Poolse dirigent. Hy was dirigent van die Warskou Opera (1960-2), artistieke direkteur van die Kraków Opera (1962-8) en musiekdirekteur van die Poolse Nasionale Orkes (1968-73). In 1972 het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer en vier jaar later ook by Covent Garden. Daarna was hy artistieke direkteur van die Warskou Filharmoniese Orkes (vanaf 1977), dirigent van die Cinicinatti Simfonie-orkes (1980-2) en hoofdirigent van die Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes (1980-6). Met die Suisse Romande orkes en koor en met Nikolai Ghiaurof in die titelrol het hy in 1978 'n uitstekende opname van Don Quichotte gedirigeer. Verdere opnames: Penderecki se oratorium Die Sewe Hekke van Jerusalem.

Korsten, Gé (1929-99), Nederlands-gebore Suid-Afrikaanse tenoor en akteur. Hy het as jong seun met sy ouers na Suid-Afrika verhuis, waar hy aanvanklik in kwartette en kore gesing het. In 1952 het hy aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Kaapstad onder Adelheid Armholdt as bariton studeer. Drie jaar later het hy na Pretoria verhuis, waar hy onder Albrecht Lewald studeer en na tenoor oorgeslaan het. In dieselfde jaar (1955) was hy ‘n stigter van die Pretoria Operagroep, en in die jaar daarop het sy operadebuut as Canio in I Pagliacci plaasgevind. Vanaf die laat 1950’s het hy onder Nellie du Toit studeer, totdat hy in 1963 met ‘n beurs na Wenen is om onder Judith Hellwig te studeer. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1964 het hy ‘n besigheid as elektriese kontrakteur in Pretoria begin, terwyl hy voortgegaan het om hoofrolle in ‘n aantal stede te vertolk. Vanaf 1965 het hy ook as sanger van ligte musiek roem begin verwerf, met nie minder nie as 52 albums wat deur hom uitgereik sou word. Dit sluit talle Afrikaanse volksliedjies in. Twee jaar later het hy in rolprente begin optree, waaronder gewildes soos Krugermiljoene, Hoor my Lied, Lied in my Hart en Lokval in Venesië tel.

As operasanger het Korsten ‘n repertorium van meer as twintig hoofrolle gehad, insluitend Florestan in Fidelio, Calaf in Turandot, Erik in Der fliegende Holländer en Cavaradossi in Tosca. Hy het geskitter as Calaf in ‘n 1965-opvoering van Turandot in Kaapstad, waarvan ‘n opname gemaak is. In 1976 het hy die Nederburg-Operaprys ontvang vir sy vertolking van die titelrol in Andrea Chénier in Durban die vorige jaar. Verder het hy dikwels in bekende operettes soos Die lustige Witwe en Die Fledermaus opgetree. Hy het ‘n belangrike rol in die popularisering van opera, operette en musiekblyspele in Suid-Afrika gespeel. Vanaf die laat 1970’s het hy ook ‘n gewilde televisie-persoonlikheid geword. In 1985 het hy na Kaapstad verhuis, waar hy vir vier jaar hoofbestuurder van die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) sou wees. Hy het in die 1990’s vir etlike jare in die TV-sepie Egoli opgetree. Sy selfmoord het skokgolwe deur sy aangenome vaderland gestuur.

Korsten, Gérard (1960-), Suid-Afrikaans-gebore violis en dirigent. As seun van die bekende sanger en akteur Gé Korsten het hy viool studeer aan die Curtis Instituut onder Iwan Galamian en in Salzburg onder Sándor Végh. Aanvanklik was hy konsertmeester van die Camerata Salzburg en daarna (1987-96) van die Kamerorkes van Europa. Hy het intussen ook begin dirigeer en was weldra hoofdirigent van die Staatsteater in Pretoria. In 1989 is die Nederburg-prys aan hom toegeken vir sy opvoering van Ariadne auf Naxos. Vanaf 1994 was hy hoofdirigent van die Uppsala Kamerorkes in Swede, met wie hy uitstekende opnames van Lindblad se twee simfonieë gemaak het. Hy was voorts musiekdirekteur van die Teatro Lirico in Cagliari, Sardinië (1999-2005). Daar het hy die Italiaanse premières van A Village Romeo and Juliet, Alfonso und Estrella, Die ägyptische Helena en Euryanthe gedirigeer. Met hul koor en orkes het hy in 2002 ‘n voortreflike DVD-opname van Don Pasquale gemaak. Daarby tree hy as gasdirigent wyd deur Europa in opera en konserte op. Hy het in 2004 by die Vlaamse Opera in Antwerpen ‘n geslaagde opvoering van Idomeneo met sy landgenoot Deon van der Walt in die titelrol gedirigeer. Tans is hy musiekdirekteur van die London Mozart Players en hoofdirigent van die Bregenz Simfonie-orkes. Verdere opnames: Weber se opera Euryanthe (Cagliari, op DVD).

Kosler, Zdenek (1928-95), Tsjeggiese dirigent. Hy het onder die vermaarde Karel Ancerl in Praag studeer, en in 1951 is sy debuut in die Tsjeggiese hoofstad met Il barbiere di Siviglia gemaak. Vyf jaar later het hy die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen. Daarna het hy opera gedirigeer in Olomouc (1958-62) en Ostrawa (1962-6). Hy het in 1963 die Mitropoulos-dirigeerkompetisie in New York gewen. Vervolgens was hy ‘n assistent vir Leonard Bernstein by die New York Filharmoniese Orkes (1963/4), dirigent van die Praag Simfonie-orkes (1966/7), musiekdirekteur van die Berlynse Komiese Opera (1966-8), dirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes (1971-80) en hoof-operadirigent van die Slowaakse Nasionale Teater in Bratislawa (1971-6). Intussen het sy Britse debuut in 1975 plaasgevind. Hy was in sy later jare hoofdirigent van die Praag Nasionale Teater (1980-5, 1989-91). As begaafde vertolker van Tsjeggiese musiek het hy as gasdirigent met bekende orkeste in Europa, Kanada en die Verre Ooste opgetree. Die hoogste nasionale eerbewys van sy geboorteland, die titel van Nasionale Kunstenaar, is deur die Tsjeggiese regering aan hom toegeken. Sleutelopname: Smetana se opera Die Verruilde Bruid (Praag). Verdere opnames: Dvorák se 3 Slawoniese Rapsodieë; Martinu se oratorium Die Epos van Gilgamesj; Janácek se Die dagboek van een wat verdwyn het; Novák se Die Storm; Smetana se opera Libuse; en Richard Strauss se Aus Italien en walse uit Der Rosenkavalier.

Kostelanetz, André (1903-80), Russies-gebore dirigent. Hy het hom in 1922 in die VSA gevestig en ses jaar later ‘n Amerikaanse burger geword. Daar was hy aanvanklik ‘n repetiteur by die Metropolitan Opera en ‘n gasdirigent van die New York Filharmoniese Orkes. Weldra sou hy wêreldbekend met sy eie orkes raak vir sy verwerkings van ligte musiek. In 1968 het hy die eerste uitvoering gegee van Walton se Capriccio burlesco. Hy was getroud met die bekende sopraan Lily Pons. Sleutelopnames: ‘n versameling korter orkeswerke van Sjostakowitsj, insluitend die Feesouverture (Columbia Simfonie-orkes, 1965); Walton se Johannesburg Feesouverture en Capriccio burlesco (New York Filharmonie).

Koussewitzki, Sergei (1874-1951), Russies-gebore dirigent en komponis. Hy het ná studies in Moskou sy loopbaan in die orkes van die Bolsjoi Teater afgeskop, waar hy vanaf 1901 vir vier jaar eerste kontrabasspeler sou wees. Terselfdertyd het hy as virtuoos begin naam maak, met debute wat gemaak is in Moskou (1901), Berlyn (1903) en Londen (1908). In laasgenoemde jaar het sy dirigeerdebuut met die Berlynse Filharmoniese Orkes plaasgevind. Hy het in 1909 met sy vrou ‘n uitgewery begin waarvan die winste na Russiese komponiste gegaan het. Die Koussewitzki Simfonie-orkes is in 1910 deur hom gestig, en in dieselfde jaar het hulle met die pianis-komponis Skriabin deur Rusland getoer. Hy sou sy orkes vir die volgende agt jaar dirigeer, waarna hy direkteur geword het van beide die Petrograd (tans Sint Petersburg) Simfonie-orkes en die Groot Opera van Moskou. In 1914 het hy die eerste uitvoering van die konsertweergawe van Strawinski se Le sacre du printemps in die Russiese hoofstad gedirigeer. Hy het in 1921 na Frankryk uitgewyk, waar hy in Parys ‘n orkes gestig en die Concerts Koussevitzky tot 1928 gedirigeer het. Met die pasgestigte BBC Simfonie-orkes het hy in 1933 die eerste opname van Sibelius se sewende simfonie gemaak. Vanaf 1924 tot 1949 was hy hoofdirigent van die Boston Simfonie-orkes. Hy het nietemin in Parys bly woon, maar met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 is hy permanent na die VSA. Hy het in 1940 die Berkshire Musieksentrum in Tanglewoods, Massachusetts gestig, waar hy dirigeerkuns onderrig het. In die jaar daarop het hy ‘n Amerikaanse burger geword, en ter nagedagtenis aan sy oorlede vrou het hy in 1943 die musiekstigting wat na hom vernoem is, gestig.

Koussewitzki het sy Boston-orkes tot een van die voorstes ter wêreld opgebou, waarvan veral die strykerafdeling met die liriese intensiteit van hul spel ongeëwenaard was. Saam het hulle die eerste uitvoerings van vele werke deur Amerikaanse komponiste gegee, waaronder Hanson se derde simfonie (1938) en Barber se Knoxville: Summer of 1915 (1948). Met sy indiwidualistiese vertolkings was hy briljant in twintigste-eeuse orkesmusiek, insluitend die laat-Romantici. As een van die mees onbaatsugtige musici van sy tydvak was hy ‘n kampvegter vir die musiek van Skriabin, Sibelius, Strawinski, Prokofiëf en Ravel. Hy het baie gedoen om jong komponiste te bevorder, waaronder Bartók en Britten wie se Konsert vir Orkes en Peter Grimes onderskeidelik vir hom geskryf is. Ook Ravel het sy orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op 'n Uitstalling, wat gewilder as die oorspronklike klavierweergawe geword het, in 1922 vir Koussewitzki gedoen. Die eerste opname daarvan is in 1930 met die Boston-orkes gemaak. In sy laaste lewensjaar, in 1950, het hy met die koor en orkes van die Franse Radio in Parys ‘n sonderlinge opname van Beethoven se negende simfonie gemaak, met die vokale dele in Frans. As konsertbegeleier het hy met beroemde musici soos Heifetz, Primrose en Kapell opnames gemaak. Hy het self werke vir kontrabas, insluitend ‘n konsert, gekomponeer. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven, Hanson (nr. 3), Harris (nr. 3), Prokofiëf (nr. 5), Sibelius (nrs. 2 en 5) en Tsjaikofski; die genoemde werk van Bartók; Berlioz se Harold in Italië; Grieg se The Last Spring; Ravel se Boléro, Ma Mère l’Oye en Rapsodie espagnole; Sibelius se Tapiola en Pohjola se Dogter; Richard Strauss se Till Eulenspiegel; en korter orkeswerke van Fauré, Liadof en Rimski-Korsakof.

Kovacevich, Stephen (1940-), Amerikaanse pianis en dirigent van Joego-Slawiese afkoms. Hy het in 1951 as jong tiener sy debuut in San Francisco gemaak. In die laat 1950’s het hy Rudolf Serkin se opname van Beethoven se Diabelli Variasies gehoor, wat tot ‘n blywende liefde vir die groot komponis sou lei. Hy is in 1959 na Londen om onder die legendariese pianis Myra Hess te studeer. Hy het hom in die Britse hoofstad gevestig, waar hy in 1961 sy debuut gemaak het. Mettertyd sou hy as vennoot van die gevierde tjellis Jacqueline du Pré optree. Later het hy die eerste uitvoerings van Bennett en Tavener se klavierkonserte gegee, in 1968 en 1979 onderskeidelik. Sedert 1984 dirigeer hy soms orkeste soos die Noordelike Sinfonia en die Autraliese Kamerorkes. Hy het in 1986 ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekakademie geword. Sleutelopnames: Beethoven se klavierkonsert nr. 5 (onder Colin Davis), klaviersonates nrs. 26, 29 en 30, en Diabelli Variasies (lg. in 2008); Grieg en Schumann se klavierkonserte (beide onder Davis); Schubert se klaviersonate nr. 21 (1994) en 6 Moments musicaux. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Bartók, Beethoven en Brahms; Bach se Partita nr. 4; die oorblywende klaviersonates van Beethoven, en sy Diabelli Variasies (lg. in 1968); solowerke van Brahms en Schubert; en Mozart se Kegelstatt klarinettrio (met Brymer en Ireland).

Kowalski, Jochen (1954-), Duitse kontratenoor. Terwyl hy nog ‘n student was, het hy die rol van Dawid in Die Meistersinger von Nürnberg by die Komische Oper in Berlyn gesing. Sy professionele debuut is in 1982 in Muzio Scevola by die Handel-fees in Halle gemaak. In die jaar daarop het hy ‘n lid van die Komische Oper geword. Verdere debute het gevolg in Parys en Wenen (beide in 1987), en by Covent Garden (1989). By laasgenoemde het hy in 1991 geskitter as Orfeo in Orfeo ed Euridice onder Hartmut Hänchen, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Hy is ewe bekend in konsertmusiek, veral in gewyde werke. Sleutelopname: Vivaldi se Stabat Mater (onder Negri). Verdere opnames: Handel se oratoriums Samson (as Micah) en Theodora (as Didymus); Orff se Carmina Burana; Pergolesi se Stabat Mater en Salve regina; en die operette Die Fledermaus (as Orlofsky, in Engels).

Kozena, Magdalena (1973-), Tsjeggiese mezzosopraan. Sy het aanvanklik in die Brno Kinderkoor gesing, en het vanaf 1987 vir vier jaar sang en klavier aan die Brno Konserwatorium studeer. Verdere sangstudies het in Bratislawa gevolg, waar sy in 1995 aan die Kollege vir die Uitvoerende Kunste gegradueer het. Sy het in dié tyd verskeie sangpryse gewen, waaronder ‘n toekenning as die mees talentvolle musikus van die Tsjeggiese Republiek en in die internasionale Mozart-kompetisie in Salzburg (beide in 1995). Daarop het ‘n toer deur Japan en die VSA gevolg, en in 1996/7 was sy aan die Weense Volksopera verbonde. Sy tree onder bekende dirigente in opera (veral dié van Gluck en Mozart) en konserte op. Debute is gemaak by die Aix-en-Provence Fees (in 1999, in L’incoronazione di Poppeia), by die Lanaudiere-fees, die Londense Proms en die Leipzig Opera (al drie in 2000), en by die Metropolitan Opera (in 2003, as Cherubino in Le nozze di Figaro). Onder haar verdere rolle tel Harmia in A Midsummer Night’s Dream, Orphée in Orphée et Euridyce, Paride in Paride ed Elena, Cleopatra in Giulio Cesare, Annio in La clemenza di Tito, Dorabella in Cosi fan tutte, Idamante in Idomeneo en Isabella in L’italiana in Algeri.

In 2004 is daar bekendgemaak dat Kozena swanger is met die kind van die beroemde Britse dirigent Simon Rattle, met wie sy in Berlyn gaan woon het. Sy is in dieselfde jaar as Gramophone se Kunstenaar van die Jaar bekroon. Sleutelopname: Gluck se opera Paride e Elena (onder McCreesh). Verdere opnames: ‘n aantal kantates van Bach en sy Sint Mattheüspassie; enkele Italiaanse kantates van Handel, en sy Dixit Dominus, Salve regina en opera Giulio Cesare; ‘n versameling liefdesliedere van Dvorák en Martinu; ‘n versameling liedere van Britten, Ravel, Respighi, Schulhoff en Sjostakowitsj; Vivaldi se oratorium Juditha triumphans (in die titelrol); Zelenka se I Penitenti al Sepolcro del Redentore (as Maria Magdalena); ‘n versameling arias van Gluck, Mozart en Myslivecek (onder Swierczewski); en ‘n versameling Franse opera-arias.

Krasner, Louis (1903-95), Oekraïns-gebore violis en dirigent. Hy is as kind na die VSA en het later sy debuut in Wenen gemaak. As kampvegter vir die musiek van die Tweede Weense Skool het hy in 1935 'n weifelende Alban Berg oorreed om sy vioolkonsert te skryf. Ná die komponis se dood enkele maande later het hy in 1936 die eerste uitvoering van die werk in Barcelona gegee. Vir 'n lang tyd sou hy die eksklusiewe regte op die uitvoering daarvan behou. Verder het hy in 1940 die première van Schoenberg se vioolkonsert in Philadelphia gegee, en vanaf 1944 was hy vir vyf jaar leier van die Minneapolis Simfonie-orkes. Hy was vanaf 1949 tot 1972 'n hoogleraar in viool aan die Syracuse Universiteit, en in die 1960's het hy die simfonie-orkes in dié stad gedirigeer. Vanaf 1974 het hy aan die Nieu-Engeland Konserwatorium onderrig gegee. Hy is in Boston in die VSA oorlede en het 'n meesterlike opname van Berg se vioolkonsert nagelaat.

Kraus, Alfredo (1927-), Spaanse tenoor van Oostenrykse afkoms. Hy het in 1956 die internasionale sangkompetisie in Genève gewen en in dieselfde jaar sy operadebuut in Kaïro gemaak, as die Hertog in Rigoletto. Verdere debute het gevolg in Venesië (1956), by Covent Garden (1959), La Scala (1960), Chicago (1962), die Metropolitan Opera (1966) en die Salzburg-fees (1968). Hy was bekend as ‘n elegante vertolker van liriese rolle in Franse en Italiaanse opera. Sy repertorium het verdere rolle ingesluit soos Edgardo in Lucia di Lammermoor, die titelrol in Faust, die manlike hoofrol in Roméo et Juliette, Ferrando in Così fan tutte, Fenton in Falstaff en Alfredo in La Traviata. Opnames: Vives se Dona Francisquita; die operette Die lustige Witwe; en die laasgenoemde ses operas, asook Auber se La Muette de Portici en Busoni se Turandot.

Kraus, Lili (1903-86), Hongaars-gebore pianis. Sy het onder die komponis Béla Bartók en die pianis Artur Schnabel studeer en daarna bekend geraak as solis, met ‘n debuut by die Salzburg-fees in 1934. Vanaf 1935 tot 1940 was sy 'n duet-vennoot van die violis Szymon Goldberg, met wie sy in ‘n uitstekende opname van Beethoven se Vioolsonate (opus 96) gespeel het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1942-5) was sy in 'n Japannese gevangenekamp in Java geïnterneer. In 1948 het sy ‘n Britse burger geword. Sy was ‘n bekende vertolker van Mozart (wie se volledige klaviersonates sy vir die eerste keer opgeneem het) en Schubert, asook van moderne musiek.

Krause, Tom (1934-2013), Finse bariton. Aanvanklik het hy medies in Helsinki studeer terwyl hy in 'n jazz-orkes gesing het, voordat hy na Wenen is vir sangstudies aan die Musiekakademie. Hy het in 1959 sy operadebuut in Berlyn gemaak as Escamillo in Carmen, en was vanaf 1962 ‘n lid van die Hamburg Opera. Daar het hy bekendheid verwerf in die operas van veral Mozart, Verdi en Wagner. Hy het ook in Hamburg in die premières van Krenek se Der goldene Brock (1964) en Searle se Hamlet (1968) gesing. Verdere debute is gemaak by die feeste in Bayreuth (1962), Glyndebourne en Tanglewood (beide 1963), en Salzburg (1968), die Metropolitan Opera (1967), en in Parys, by Covent Garden en La Scala (al drie in 1973). Onder sy verdere rolle het getel Malatesta in Don Pasquale, Roucher in Andrea Chenier, Guglielmo in Così fan tutte, die Graaf in Le nozze di Figaro, Ping in Turandot, Frank in Die Fledermaus, Orestes in Elektra, Kurwenal in Tristan und Isolde, Lysiart in Euryanthe en die titelrol in Don Giovanni. Hy was in 1963 'n solis tydens die Amerikaanse première van Britten se War Requiem in Boston, onder die dirigeerstaf van Erich Leinsdorf. Naas opera het hy uitgeblink in liedere en gewyde werke oor ‘n wye repertorium, soos sy vele opnames getuig. Daaronder tel die volledige liedere van sy landgenoot Sibelius. Opnames: Bach se Kantates nrs. 80 en 140, Kersfeesoratorium, Paasfeesoratorium en Magnificat (almal onder Karl Münchinger); Beethoven se Mis in C (onder Riccardo Chailly); Berlioz se Roméo et Juliette; Britten se War Requiem (op DVD); Dvorák se Requiem; Handel se Messiah; Haydn se Misse nrs. 11 en 12; Liszt se oratorium Christus; Mozart se Laut verkünde unsre Freude en Vrymesselaarsmusiek; die genoemde operette van Johann Strauss; die genoemde operas van Bizet, Donizetti, Giordano, Puccini, Richard Strauss, Wagner en Weber, asook Così fan tutte, Saint Francois d’Assise en Jolanta.

Krauss, Clemens (1893-1954), Oostenrykse dirigent. Ná sy operadebuut in 1913 in Brno het hy dirigeerposte in Riga, Nürnberg, Stettin en Graz beklee. Vanaf 1922 was hy vir twee jaar ‘n assistent-dirigent by die Weense Staatsopera, waartydens hy ‘n vriend en medewerker van Richard Strauss geword het. Hy het in 1922 die Weense première van Strauss se Symphonia domestica gedirigeer. Daarna het hy opera gedirigeer in Frankfurt (1924-9), Wenen (1929-34), Berlyn (1934-7), München (1937-43) en weer in Wenen (1947-54). Intussen het hy in 1929 die eerste konsert waarop slegs werke van die Strauss-familie gespeel is in Wenen gedirigeer. Vanaf dieselfde jaar tot 1933 was hy hoofdirigent van die Weense Filharmoniese Orkes, met wie hy ‘n historiese opname van Brahms se derde simfonie gemaak het. Hy het in 1931 in die Oostenrykse hoofstad die première van Egon Wellesz se laaste opera Die Bakchantinnen gedirigeer. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1926), New York (1929) en Covent Garden (1934). As meesterlike Strauss-dirigent is die premières van die operas Arabella (Dresden 1933), Friedenstag (München 1938), Capriccio (München 1942) en Die Liebe der Danae (Salzburg 1944) deur hom gedirigeer. Laasgenoemde se amptelike première het egter eers in 1952 by die Salzburg-fees plaasgevind. Hy het in 1953 by die Bayreuth-fees opwindende opvoerings van die Ring-siklus en Parsifal gedirigeer, met opnames wat daarvan getuig. In die jaar daarop is hy in Meksikostad oorlede. Hy was getroud met die sopraan Viorica Ursuleac. Sleutelopnames: Richard Strauss se Also Sprach Zarathustra, Ein Heldenleben, Le Bourgeois Gentilhomme Suite en Symphonia domestica (almal Wenen); die operette Die Fledermaus (Wenen). Verdere opnames: Schubert se negende simfonie; Brahms se Alt Rapsodie (met Kathleen Ferrier); en die operas Die Liebe der Danae, Salome, Aida en Der fliegende Holländer.

Kreisler, Fritz (1875-1962), Oostenryks-gebore violis en komponis. As wonderkind het hy vanaf sewejarige leeftyd aan die Weense Konserwatorium studeer, waar hy drie jaar later die goue medalje sou wen. Daarna het hy in Parys onder die komponis Delibes studeer, en op twaalf het hy die Grand Prix de Rome gewen. In 1888 is sy Amerikaanse debuut in Boston gemaak, gevolg deur 'n Amerikaanse toer met die pianis Moritz Rosenthal. Met sy terugkeer na Europa in 1889 het hy tydelik uit musiek getree om medies en kuns te studeer en as offisier in die Oostenrykse Leër te dien. In 1898 het hy sy loopbaan as violis hervat en wêreldwyd getoer. Hy het in 1900/1 weer die VSA besoek en in 1902 is sy Londense debuut gemaak. In 1903 het hy Dvorák in sy huis in Praag besoek, waar die groot komponis weens ongunstige kontrake met sy musiekuitgewers in relatiewe armoede geleef het. Daar het die jong violis die Humoresque (opus 101, nr. 7) tussen 'n stapel papiere ontdek en dit vir viool en klavier verwerk, waardeur hy bygedra het om dit een van die gewildste klassieke werke te maak. Hy het in 1910 die eerste uitvoering gegee van Elgar se vioolkonsert, wat aan hom opgedra is. Vanaf 1915 tot 1924 het hy in New York gewoon, waar hy in ‘n vroeë opname van Bach se Dubbelkonsert met Efrem Zimbalist gespeel het. Hy was een van die virtuose vir wie Ysaÿe sy Sonates vir soloviool (1924) geskryf het. In 1924 het hy na Europa teruggekeer, en in 1938 het hy ‘n Franse burger geword. Hy het in 1926 in die eerste opname van Mendelssohn se vioolkonsert onder Leo Blech gespeel.

In 1940 het Kreisler weer in die VSA gaan woon, en drie jaar later het hy 'n Amerikaanse burger geword. Tydens beide wêreldoorloë het hy intense teenkanting in die VSA ervaar weens sy Oostenrykse afkoms, sy milde bydraes tot Amerikaanse liefdadigheidorganisasies ten spyt. Om sout in die wonde te vryf is sy villa in Berlyn in die vroeë 1940’s deur Geallieerde bomwerpers verwoes. Met sy briljante tegniek het hy enorme roem as solis geniet, sodat hy allerweë as een van die grootste instrumentaliste van die twintigste eeu beskou word. Hy het dikwels werke gespeel wat hy aan minder bekende komponiste (byvoorbeeld Pugnani) uit die sewentiende en agtiende eeue toegeskryf het, maar wat hy in 1935 erken het sy eie komposisies te wees. Sy bekendste solowerke is stellig Caprice Viennois, Liebesfreud en Liebesleid. Onder sy verdere komposisies tel drie operettes en ‘n strykkwartet, terwyl hy ook verwerkings van werke deur Paganini en Tartini onderneem het. Verder het hy kadenzas vir Beethoven en Brahms se vioolkonserte geskryf, met historiese opnames wat van beide werke gemaak is. Verdere opnames: die volledige vioolsonates van Beethoven; vioolkonserte van Bruch, Mozart en Paganini; sy eie Vioolkonsert in C en solowerke; en enkele sonates van Grieg en Schubert.

Kreizberg, Jakow (1959-), Russies-gebore dirigent. Hy het in 1976 na die VSA geëmigreer, waar hy 'n assistent vir Michael Tilson Thomas by die Los Angeles Filharmoniese Orkes was. In 1986 het hy die Stokowski-dirigeerkompetisie in New York gewen. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Mannes Musiekkollege se orkes (1985-8), die Krefeld Opera (vanaf 1988) en die Komiese Opera in Berlyn (vanaf 1994). In 1992 het hy by die Glyndebourne-fees gedebuteer en in 1993/4 het hy die BBC Simfonie-orkes by die Londense Proms gedirigeer. Hy was vanaf 1995 hoofdirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes. Tans is hy hoofdirigent van die Nederlandse Filharmoniese Orkes, met wie hy kragtige opnames van Dvorák se negende simfonie en Tsjaikofski se Romeo en Juliet Fantasie ouverture gemaak het. Broer van Semjon Bisjkof (Kreizberg is hul moeder se nooiensvan).

Kremer, Gidon (1947-), Lettiese violis. Hy het in 1968 die Paganini-kompetisie in Genoa gewen en twee jaar later ook die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou. Hy is is meestal in die Weste woonagtig, waar hy in 1977 sy Amerikaanse debuut in New York gemaak het. In die laat 1980’s het hy die Lockenhaus-fees in Oostenryk gestig. Sy bekendheid lê merendeels in moderne musiek, maar hy is ewe begaafd in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Hy is ‘n vennoot van die pianis Martha Argerich in sonate-uitvoerings. In 1994 het hy met die tjellis Mstislaf Rostropowitsj en die altviolis Joeri Basjmet die eerste uitvoering van Schnittke se Konsert vir Drie gegee. Hy het in 1995 ook die eerste uitvoering van Saariaho se vioolkonsert gegee. Tydens die Mozart gala-konsert in Salzburg in 2006 het hy as vennoot van Basjmet ‘n uitvoering van die musiekreus se Sinfonia concertante gegee, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Sleutelopnames: Beethoven se vioolkonsert (onder Harnoncourt) en volledige vioolsonates (met Argerich). Verdere opnames: vioolkonserte van Mozart (volledig), Schnittke en Schumann; vioolsonates van Bartók, Janácek, Schubert en Schumann; Bach se Dubbelkonsert en Konsert vir Viool en Hobo (laasgenoemde met Heinz Holliger); Bernstein se Serenade; Brahms se Dubbelkonsert (twee weergawes, met Maiski en Hagen onderskeidelik) en eerste klavierkwartet (met Argerich, Basjmet en Maiski); Britten se Dubbelkonsert (met Basjmet); Chausson se Poème; Gubaidulina se Offertorium; werke vir viool en klavier van Liszt; Lourié se Concerto da camera en Klein Kamermusiek; Messiaen se Tema en Variasies (met Argerich); werke vir een en twee viole van Nono; Pärt se Tabula rasa (met Gridenko), Stabat Mater en Fratres; Schnittke se Concerto grosso nr. 1; Schubert se drie vioolsonatines; Schumann se Fantasiestücke (met Argerich en Maiski); Vivaldi se Vier Seisoene; en ‘n versameling kamerwerke van Berg, Lourié, Mahler, Schoenberg en Webern.

Krenn, Werner (1943-), Oostenrykse tenoor. Aanvanklik was hy ‘n koorsanger en fagotspeler voordat hy in 1966 sy verhoogdebuut in Berlyn gemaak het, in Purcell se The Fairy Queen. In 1967 het hy by die Bayreuth-fees gedebuteer en drie jaar later het sy Britse debuut by die Skotse Opera plaasgevind. Naas sy bekendheid in operarolle soos Don Ottavio in Don Giovanni, Zinovi in Dame Macbeth van Mtsensk en die Stuurman in Der fliegende Holländer, is hy ‘n begaafde konsert- en liederesanger. Opnames: Bach se Kantate nr. 10 en Paasfeesoratorium (onder Münchinger); Handel se Messiah; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Henze se Novae de infinito laudes; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Dohnányi); Mozart se Vrymesselaarsmusiek (onder Kertész); die operette The Merry Widow (in Engels); ‘n versameling operette-duette van Lehár met die sopraan Renate Holm; en die genoemde operas, asook Lucio Silla.

Krenz, Jan (1926-), Poolse dirigent en komponis. Hy het aanvanklik orkeste in Lódz en Poznán dirigeer, en was ‘n medewerker van sy landgenoot Grzegorz Fitelberg. Daarna was hy hoofdirigent van die Poolse Radio Simfonie-orkes (1953-67), dirigent van die Deense Radio Simfonie-orkes (1966-8), eerste dirigent van die Warskou Opera (1967-73) en musiekdirekteur van die Bonn Opera (1979-82). Intussen het hy in 1961 sy Britse debuut met die BBC Simfonie-orkes gemaak. Met die Poolse Nasionale Simfonie-orkes van Katowice het hy voortreflike opnames van koorwerke deur sy landgenoot Gorécki gemaak. Naas sy eie komposisies het hy werke van ander Poolse komponiste georkestreer.

Krips, Josef (1902-74), Oostenrykse dirigent. Nadat hy in Wenen onder Felix Weingartner studeer het, het hy as violis in die Weense Volksopera gespeel. Hy was daarna ‘n dirigent by laasgenoemde operahuis (1921-4), gevolg deur poste in Dortmund (1925-6), Karlsruhe (1926-33), by die Weense Staatsopera (1933-8) en die Belgrado Opera (1938/9). In 1935 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind, maar tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy deur die Nasionaal-Sosialiste verbied om te dirigeer. Hy was vanaf 1945 tot 1950 weer verbonde aan die Weense Opera en het ‘n belangrike rol gespeel om hul reputasie in ere te herstel. In 1946 het hy die na-oorlogse Salzburg-fees met ‘n opvoering van Don Giovanni heropen. Vanaf 1950 was hy vir vier jaar hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes, met wie hy opnames van al Beethoven se simfonieë sou maak, wat gekenmerk is deur liriese, elegante vertolkings. Daarna was hy dirigent van die Buffalo Filharmoniese Orkes (1954-63) en die San Francisco Simfonie-orkes (1963-70), en artistieke raadgewer van die Weense Simfonie-orkes (1970-73). Intussen het hy by Covent Garden (1947) en die Metropolitan Opera (1966) gedebuteer. Sleutelopnames: Mozart se opera Don Giovanni (Wenen 1955); Schubert se simfonieë nrs. 8 (Wenen, 1969) en 9 (Londen). Verdere opnames: Mozart se laaste twintig simfonieë en sy Requiem (lg. Wenen 1973); en die operas Die Entführung aus dem Serail en Die ägyptische Helena. Sy broer Heinrich Krips (1912-87) was ook ‘n dirigent wat in 1938 na Australië geëmigreer het. Vanaf 1972 het hy in Londen gewoon, waar hy veral in operettes bekend geraak het.

Krivine, Emmanuel (1947-), Franse dirigent van Pools-Russiese afkoms. Hy het viool aan die Parys Konserwatorium studeer, waar hy op 16 ‘n prys gewen het. Verdere studies is onder die vioolreuse Henryk Szeryng en Yehudi Menuhin aan die Koningin Elizabeth Musiekskool in Brussels onderneem. In 1965 het hy die vermaarde dirigent Karl Böhm in Salzburg ontmoet, waarna hy besluit het om hom op die dirigeerkuns toe te spits. Hy was hoofgasdirigent van die Franse Radio Filharmoniese Orkes (1976-83) en musiekdirekteur van die Nasionale Orkes van Lyon (1987-2000). Daarby was hy hoofdirigent van die Franse Nasionale Jeugorkes (1993-2004), en as gasdirigent tree hy met bekende orkeste wêreldwyd op. Hy is hoofdirigent van die ensemble La Chambre Philharmonique, wat in 2004 deur hom gestig is vir die uitvoering van musiek uit die Klassieke en Romantiese tydperke op eietydse instrumente. Hulle het die eerste opname op eietydse instrumente van Dvorák se negende simfonie gemaak, wat in 2008 met ‘n Classique d’Or prys bekroon is. Vervolgens het hulle Beethoven se volledige simfonieë opgeneem in die stede Parys, Caen en Grenoble, in vertolkings gekenmerk deur lewendigheid en skerp toonkleure. Sedert 2006 is hy ook musiekdirekteur van die Luxemburg Filharmoniese Orkes. Verdere opnames: Brahms se volledige simfonieë en ouvertures; Mendelssohn se volledige simfonieë; Mozart se Mis in C mineur; Schoenberg se Verklärte Nacht; Richard Strauss se Metamorphosen; en Wagner se Siegfried idyll.

Krombholc, Jaroslaf (1918-83), Tsjeggiese dirigent. Hy was vanaf 1940 ‘n gasdirigent by die Praag Nasionale Teater en die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes. Daarna was hy ‘n dirigent by die Ostrawa Opera (1944/5) en vanaf 1945 was hy weer verbonde aan die Praag Opera. Daar sou hy mettertyd eerste dirigent (1963-8), operahoof (1968-70) en hoofdirigent (1970-5) wees. Verder was hy hoofdirigent van die Tsjeggiese Radio Simfonie-orkes (1973-8). Hy het ook opera in Wenen, Boedapest, Warskou, Napels, Rusland en Londen gedirigeer. In die Britse hoofstad het hy in 1959 by Covent Garden gedebuteer, en in 1978 het hy by die Engelse Nasionale Opera opgetree. Sleutelopname: Martinu se opera Julietta (Praag 1964). Verdere opnames: koorwerke van Dvorák en Novák; en die operas Jenufa, Káta Kabanová en Die twee weduwees.

Kronos Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1973 gestig is. Hulle speel bykans uitsluitlik hedendaagse musiek, insluitend rock-verwerkings. Oor die jare heen het hulle meer as vierhonderd eerste uitvoerings van werke deur Carter, Glass, Golijof, Gubaidulina, Reich en ander komponiste gegee. Opnames: Berg se Liriese suite (met Dawn Upshaw); Glass se strykkwartette nrs. 2-5; Sjostakowitsj se strykkwartet nr. 8; Vasks se strykkwartet nr. 4; en werke van Crumb, Ives, Marshall, Marta, Saariaho en Tallis.

Kubelik, Jan (1880-1940), Tsjeggies-gebore violis en komponis. Ná studies in Praag het hy in 1898 sy konsertdebuut in die Tsjeggiese hoofstad gemaak. Daarna het hy wyd deur Europa en die VSA as solis getoer, met ‘n Londense debuut in 1900. Drie jaar later het hy 'n Hongaarse burger geword en in 1914 het hy ‘n wêreldtoer onderneem. Hy het in 1940 in die Tsjeggiese hoofstad sy laaste konsert gegee. As solis het sy bekendheid veral op sy tegnies presiese vertolkings van Bach en Paganini berus, en daarbenewens het hy ses vioolkonserte gekomponeer. Vader van Rafael.

Kubelik, Rafael (1914-96), Tsjeggies-gebore dirigent en komponis. Ná studies in Praag het hy in 1934 met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes gedebuteer en in 1935/6 as begeleier vir sy vader, die violis Jan Kubelik, opgetree. Daarna was hy dirigent van die genoemde orkes (1936-9) en by die Brno Opera (1939-41), en vanaf 1941 vir sewe jaar hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes. Met die kommunistiese oorname van Tsjeggo-Slowakye in 1948 het hy sy geboorteland verlaat en gesweer dat hy nie onder ‘n kommunistiese bewind weer daar sou optree nie. In die jaar daarop is sy Amerikaanse debuut in Chicago gemaak en in 1950 ook by die Salzburg-fees. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Chicago Simfonie-orkes (1950-3) en musiekdirekteur by Covent Garden (1955-8). By dié operahuis het hy die Britse verhoogpremières van Jenufa en Les Troyens gedirigeer, in laasgenoemde geval met ‘n verkorte weergawe van die opera. Vanaf 1961 tot 1979 was hy hoofdirigent van die Beierse Radio Simfonie-orkes, met wie hy opnames van Dvorák, Mahler en Schumann se volledige simfonieë gemaak het wat deur kenners onder die beste siklusse daarvan gereken word.

Intussen het Kubelik in 1966 ‘n Switserse burger geword en was hy in 1973/4 musiekdirekteur van die Metropolitan Opera. In die 1970’s het hy Beethoven se volledige simfonieë met 9 verskillende orkeste opgeneem. Hy het in 1985 uitgetree, maar vyf jaar later, ná die val van die kommunisme in Tsjeggo-Slowakye, het hy ‘n triomfantelike terugkeer na sy geboorteland gemaak om die Praag Lentefees te open. Daar het hy met sy ou orkes twee uitvoerings van Smetana se Má Vlást (My Vaderland) gegee en sy vyfde opname daarvan gemaak. Hy was een van die beste vertolkers van Tsjeggiese en Duitse simfoniese musiek van sy tyd. Sleutelopnames: Dvorák se volledige Slawoniese Danse, ouvertures en toondigte (München 1973-7); Janácek se Sinfonietta en Taras Bulba (München 1970); Smetana se Má Vlást (Praag 1990). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, asook ‘n aantal van Hartmann, Mozart en Nielsen; orkeswerke van Bartók, Mendelssohn, Moessorgski en Schumann; Dvorák se Stabat Mater; Mozart se Missa brevis en Kroningsmis; Suk se Asrael simfonie; die operas Mathis der Maler, Oedipus der Tyrann, Palestrina, Otello, Rigoletto, Die Meistersinger von Nürnberg (München 1967) en Oberon; en van sy eie orkes- en vokale komposisies, waaronder Orphikon.

Kuchar, Theodore (1960-), Amerikaanse altviolis en dirigent. Hy het aan die Cleveland Musiekinstituut studeer, en was eerste altviolis van bekende orkeste in Cleveland en Helsinki. In 1980 het hy ‘n beurs ontvang om by Tanglewood te studeer, waar hy onder groot dirigente soos Bernstein, Davis, Ozawa en Previn gewerk het. Daarna het hy as gasdirigent by vooraanstaande oorsese orkeste begin optree, en in 1987 het hy musiekdirekteur van die Queensland Filharmoniese Orkes in Brisbane geword. Daar het hy die volledige simfonieë van Mozart gedirigeer, en Australiese premières van werke deur Prokofiëf, Schnittke en Sjostakowitsj gegee. Terselfdertyd was hy as musiekdirekteur aan die Wes-Australiese Ballet in Perth verbonde. In 1989 het die Finse regering ‘n bronsmedalje aan hom toegeken vir sy bevordering van Finse musiek. Hy het in 1992 hoofgasdirigent van die Oekraïnse Staatsimfonie-Orkes geword, en twee jaar later hul hoofdirigent. Die orkes se naam is intussen verander na die Nasionale Simfonie-orkes van die Oekraïne, en hy sou hulle op toere na Brittanje en Nederland lei. Hy het hulle in vele hoogstaande opnames gedirigeer, waaronder die volledige simfonieë van Prokofiëf tel. In 2000 is hy as lewenslange eredirigent van sy Oekraïnse orkes aangestel. Daarby is hy artistieke direkteur van die Australiese Kamermusiekfees (sedert 1990), en musiekdirekteur van die filharmoniese orkeste in beide Boulder (sedert 1996) en Fresno (sedert 2001). Naas sy loopbaan as dirigent tree hy wêreldwyd as altviolis in kamermusiek op. Sleutelopnames (almal Oekraïne): Creston se simfonieë nrs. 1-3; Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling (in Ravel se orkestrasie) en Nag op ‘n Kaal Berg (in beide die oorspronklike en Rimski-korsakof se weergawes). Verdere opnames: (as solis) kamerwerke van Martinu en Piston; (as dirigent) simfonieë van Antheil, Harris en Lees; die volledige werke van Piston vir viool en orkes (met James Buswell as solis); Sjedrin se ballet Carmen en sy Konsert vir Orkes.

Kuhlmann, Kathleen (1950-), Amerikaanse mezzosopraan. Ná haar debuut in 1979 in Chicago as Maddalena in Rigoletto, het nog debute gevolg in Keulen en by La Scala (beide in 1980), Covent Garden (1982), en die feeste in Glyndebourne (1983) en Salzburg (1985). Onder haar beste rolle tel Bersi in Andrea Chénier en Ottavia in L’incoronazione di Poppea. Opnames: die genoemde operas van Giordano en Monteverdi, asook Handel se Alcina.

Kuhn, Gustav (1947-), Oostenrykse dirigent. Hy was vanaf 1970 vir drie jaar dirigent van die Turkse Staatsopera in Istanbul, waar hy met ‘n opvoering van Fidelio gedebuteer het. Vervolgens was hy artistieke direkteur van die Nederlandse Operaforum (1974/5), dirigent van die Dortmund Opera (1975-7), inwonende dirigent by die Weense Staatsopera (1977-80), musiekdirekteur van die operahuise in Berne (1979-83) en Bonn (1982-5), en artistieke direkteur van die Roomse Opera (vanaf 1986). Debute is gemaak by die musiekfeeste in Salzburg (1978) en Glyndebourne (1980), en in Chicago en by Covent Garden (beide in 1981). By die Tirool-fees in Oostenryk het hy vanaf 1997 tot 2000 jaarliks een van die Ring-operas gedirigeer, met hoogstaande opnames wat van Siegfried en Götterdämmerung gemaak is. Met die Haydn-orkes en -koor van Bolzano en Trento het hy Beethoven se volledige simfonieë opgeneem. Sleutelopname: ‘n versameling ouvertures van Weber (Dresden Staatskapelle). Verdere opnames: Schumann se kantate Der Rose Pilgerfahrt; Richard Strauss se operas Ariadne auf Naxos en Guntram; en ‘n versameling ouvertures van Suppé.

Kuijken, Sigiswald (1944-), Belgiese violis, dirigent en musiekgeleerde. Hy het aanvanklik in Brugge studeer en daarna aan die Brussels Konserwatorium, waar hy in 1964 ‘n eerste prys in vioolspel gewen het. Vervolgens was hy ‘n lid van die avant-garde ensembles Alarius (1964-72) en Musique Nouvelle (tot 1974). Intussen het hy in 1970 begin om die Barokviool te bespeel, waarvan hy die tegnieke self aangeleer het. Sedert 1971 gee hy onderrig aan die Haagse Konserwatorium, en in die jaar daarop het hy die ensemble La Petite Bande gestig vir die uitvoering van Barokmusiek op eietydse instrumente. Hulle toer wêreldwyd, met 'n Londense debuut wat in 1986 gemaak is. Ook in 1986 het hy sy eie strykkwartet gestig. As beide violis en dirigent is hy een van die voorste vertolkers van Barok- en Klassieke werke van sy tyd. Sleutelopnames: Haydn se simfonieë nrs. 82-87 (Orchestra of the Age of Enlightenment). Sy broers is die viola da gamba-speler Wieland (1936-) en die dwarsfluitspeler Barthold (1949-). Hulle tree dikwels saam op, hetsy in 'n kamerensemble of as lede van La Petite Bande. Sleutelopnames (Barthold): ‘n versameling fluitkonserte van Vivaldi (met die ‘Academia Montis Regale’).

Tesame het die 3 Kuijken-broers hoogstaande opnames van Mozart se fluitkwartette (met die violis Lucy van Dael) en konserte van Rameau tot hul krediet. Verdere opnames (Sigiswald, as violis): J.S. Bach se volledige vioolkonserte, -sonates, -partitas en viola da gamba-sonates; Vivaldi se Vier Seisoene; (Sigiswald, as dirigent:) ‘n aantal kantates van J.S. Bach en sy Sint Johannespassie; C.P.E. Bach se oratorium Die Auferstehung und Himmelfahrt Jesu (2 weergawes, op DVD en kompakskyf); Graun se kantate Der Tod Jesu; Haydn se simfonieë nrs. 26, 52, 53, 101 en 102; Vivaldi se Vier Seisoene; orkeswerke van Corelli, F. Couperin, Geminiani en Mozart; en die operas Alessandro, Partenope, L’infedeltà delusa, Così fan tutte en Zoroastre; (Wieland): J.C. Bach se Gloria, Kyrie en Credo; J.S. Bach se volledige sonates vir viola da gamba; tien van Sainte-Colombe se konserte vir twee viola da gambas (met Jordi Savall); (Barthold): fluitsonates van C.P.E. Bach, Handel en Leclair; (Barthold en Wieland): enkele Concerts van F. Couperin; en Telemann se Sonata metodiche 1-12.

Kulenkampff, Georg (1898-1948), Duitse violis. Hy het in Berlyn studeer en daarna as virtuoos bekend geraak. Met sy onberispelike intonasie en liriese spel is hy in die tydvak tussen die twee wêreldoorloë as die voorste Duitse violis beskou. Naas sy loopbaan as solis was hy lid van ‘n kamermusiektrio met die pianis Edwin Fischer en die tjellis Enrico Mainardi. Vanaf 1923 was hy vir drie jaar ‘n hoogleraar aan die Berlynse Konserwatorium Verder het hy sonate-uitvoerings met Wilhelm Kempff en Georg Solti as klavierbegeleiers gegee. Hy het in 1943 onder Wilhelm Furtwangler in ‘n Berlynse opname van Sibelius se vioolkonsert gespeel. Vanaf dieselfde jaar het hy in Switserland gewoon, waar hy die vermaarde Carl Flesch as hoof van die Luzern Konserwatorium opgevolg het. Sy loopbaan is deur verlamming kortgeknip. Verdere opnames: vioolkonserte van Beethoven en Bruch; en Beethoven se Kreutzer sonate (met Kempff).

Kullman, Charles (1903-83), Amerikaanse tenoor van Duitse ouers. Vyf jaar na sy konsertdebuut in 1924 in New York het sy operadebuut as Pinkerton in Madama Butterfly plaasgevind. Daarna is hy na Berlyn, waar hy in 1931 by die Kroll Opera gedebuteer het. Hy was verbonde aan die Berlynse Staatsopera (1932-4), met verdere debute wat gemaak is by Covent Garden en die Salzburg-fees (beide in 1934), en die Metropolitan Opera (1935). In 1936 het hy as solis onder Bruno Walter in die eerste opname van Mahler se Das Lied von der Erde gesing. Onder die operarolle waarin hy bekend was, tel Don José in Carmen, Don Ottavio in Don Giovanni en Grigori in Boris Goedoenof. Hy het in historiese Met-opnames van dié operas gesing. Later in sy lewe, vanaf 1956 tot 1971, het hy in Bloomington, Indiana onderrig gegee.

Kunz, Erich (1909-95), Oostenrykse bas-bariton. Hy het sy operadebuut in 1933 in Troppau as Osmin in Die Entführung aus dem Serail gemaak. Vanaf 1935 het hy in die Glyndebourne-koor gesing, en vanaf 1940 was hy aan die Weense Staatsopera verbonde. Verdere debute het gevolg by die feeste in Salzburg (1942) en Bayreuth (1943), en na die Tweede Wêreldoorlog ook by Covent Garden (1947), die Glyndebourne-fees (1948) en die Metropolitan Opera (1952). Hy was wêreldbekend in Mozart-rolle soos Osmin, Guglielmo in Così fan tutte, Leporello in Don Giovanni, die titelrol in Le nozze di Figaro en Papageno in Die Zauberflöte, en in Duitse operettes. Onder sy verdere rolle het getel Danilo in Die lustige Witwe, Falke in Die Fledermaus, die Musiekmeester in Ariadne auf Naxos en Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg. Opnames: die genoemde operettes van Lehár en Johann Strauss (lg. onder beide Ackermann en Karajan); en die genoemde operas van Mozart, Richard Strauss en Wagner.

Kunzel, Erich (1935-2009), Amerikaanse dirigent. Sy ouers was Duitse immigrante wat hul in New York gevestig het. Hy het aan die Harvard en Brown universiteite en die Pierre Monteux-skool studeer. Vervolgens was hy dirigent van die Rhode Island Filharmoniese Orkes (1960-65) en die Cincinatti Simfonie-orkes (1965-77). Vanaf 1966 tot 1972 het hy ook onderrig in dirgeerkuns aan die Cincinatti Konserwatorium gegee. In 1977 het hy dirigent van die pasgestigte Cincinatti Pops-orkes geword. Hy sou vir die res van sy lewe aan hul verbonde wees en bykans 90 opnames met die orkes maak, meesal van ligte klassieke werke en musiekblyspele. Oor ‘n tydperk van 38 jaar het hulle in die stad se parke uitvoerings gegee, waardeur duisende inwoners vir die eerste keer aan klassieke musiek blootgestel is. Hulle het saam ook ‘n aantal toere na Japan onderneem, en vanaf 1998 na Sjina. Tydens die Olimpiese Spele van 2008 in Beijing was hul die enigste Amerikaanse orkes om by die geleentheid op te tree. Daarby was hy vanaf 1982 tot 2002 dirigent van die Indianapolis Simfonie-orkes. Hy het in 2001 ‘n opvoering van Die vrolike weduwee by die San Francisco Opera gedirigeer, met ‘n uitstekende DVD-opname wat gemaak is. In 2006 is die Nasionale Kunste-medalje aan hom toegeken. Hy is aan kanker van die pankreas, lewer en dikderm oorlede. Verdere opnames: ‘n versameling bekende rolprentmusiek van John Williams.

Kupper, Annelies (1906-87), Duitse sopraan. Aanvanklik het sy musiekonderrig in Breslau gegee (1929-35), totdat die musiekdirekteur van die stad se operahuis haar hoor sing het. Hy het haar in diens geneem en in 1935 het sy as die Tweede Seun in Die Zauberflöte by die Breslau Opera gedebuteer. Daarna het sy gesing in Schwerin en Weimar (vanaf 1937), by die Hamburg Staatsopera (1940-6) en die Beierse Staatsopera in München (1946-66). Intussen het sy gedebuteer by die feeste in Bayreuth (1944) en Salzburg (1950), en by Covent Garden (1953). Sy het by die Salzburg-fees in 1952 die titelrol in die amptelike première van Die Liebe der Danae onder Clemens Krauss gesing, met ‘n opname wat van haar suiwer stem getuig. Verdere opnames: Beethoven se Missa Solemnis (onder Klemperer); en Orff se kantates Catulli Carmina en Trionfo di Afrodite (onder Jochum).

Kurtz, Edmund (1908-2004), Russies-gebore tjellis. Sy gesin is in 1917 met die uitbreek van die Russiese Rewolusie na Duitsland, waar hy op nege jaar met tjellolesse begin het. Só goed was sy vordering dat hy op 13 as leerling van Julius Klengel, indertyds die voorste leermeester van die instrument in Europa, aanvaar is. Hy was slegs 16 toe sy debuut as solis in Rome gemaak is, waarna hy in talle Europese stede opgetree het. In Parys is hy deur Pablo Casals na die leermeester Diran Elexanian vir verdere studies verwys. Vervolgens was hy eerste tjellis in die Bremen Opera se orkes (1926/7), en vanaf 1927 het hy vir drie jaar as begeleier vir die groot ballerina Anna Pavlova getoer. Hy was verder eerste tjellis in die orkes van die Duitse Opera in Praag (1932-6), onder Georg Szell. Daarna het hy na die VSA verhuis, waar hy vir die volgende 8 jaar eerste tjellis van die Chicago Simfonie-orkes sou wees. In dié tyd (1936-44) het hy ook wêreldwyd as lid van ‘n gevierde trio met die violis Tossy Spiwakofski en sy pianis-broer Jascha getoer. Hy het daarna op ‘n loopbaan as solis gekonsentreer, met ‘n Amerikaanse debuut in 1945 onder die dirigeerstaf van Arturo Toscanini. ‘n Opname is van die geleentheid gemaak - die enigste van Dvorák se tjellokonsert met die maestro. Hy het die premières van ‘n hele aantal werke wat vir hom geskryf is, gegee. Daaronder tel Krenek se Suite vir onbegeleide tjello, Ginastera se Pampeana nr. 2, Milhaud se Elegie en Konsert nr. 2, en Khatsjatoerian se tjellokonsert. Laasgenoemde was in 1948 met die Boston Simfonie-orkes onder Sergei Koussewitski. In 1978 het hy op 70-jarige ouderdom die tjellosuites van Bach begin redigeer, streng volgens die Anna Magdalena manuskrip. Dit is in 1983 uitgegee, en word sedertdien erken as die belangrikste uitgawe van dié epiese werke waarvan hy self ‘n voortreflike vertolker was. Tot diep in sy negentigs het hy voortgegaan om tjellowerke te redigeer, in sy eie handskrif en sonder brille. Hy is in Londen oorlede.

Kurtz, Efrem (1900-95), Russies-gebore dirigent. Hy het onder die komponiste Glazoenof en Tsjerepnin studeer, en met die uitbreek van die Kommunistiese rewolusie het hy na Riga gevlug. Later het hy in Duitsland onder die groot dirigent Arthur Nikisch studeer en vanaf 1921 vir drie jaar die Berlynse Filharmoniese Orkes gedirigeer. Vervolgens was hy vanaf 1924 musiekdirekteur van die Stuttgart Filharmoniese Orkes, maar in 1933 het hy Duitsland onder Nasionaal-Sosialistiese druk verlaat en platsak in Parys aangekom. Intussen het hy veral in ballet bekend geraak, onder andere deur ‘n toer met die legendariese ballerina Anna Pawlowa (1928-31) en by die Salzburg-fees in 1931/32. In Frankryk het hy dirigent geword van die Ballet Russe de Monte Carlo (1933-42), waarna hy na die VSA geëmigreer het. Daar het hy in 1944 'n Amerikaanse burger geword, en was hy hoofdirigent van die Stad Kansas Filharmoniese Orkes (1943-8) en die Houston Simfonie-orkes (1948-54). Verder was hy vanaf 1955 vir twee jaar mededirigent van die Liverpool Filharmoniese Orkes, met wie hy in 1956 die Britse première van Walton se Johannesburg Festival Overture gedirigeer het. In 1966 het hy as gasdirigent in Leningrad (tans Sint Petersburg) en Moskou opgetree. Opnames: Prokofiëf se ballet Romeo en Juliet, en Sjostakowitsj se negende en tiende simfonieë.

Kurz, Selma (1874-1933), Oostenrykse sopraan. Sy het haar operadebuut in 1895 in Hamburg gemaak, in die titelrol van Thomas se Mignon. Daarna was sy verbonde aan die Frankfurt Opera (1896-9), en in 1899 is sy deur die komponis Mahler gewerf vir die Weense Hofopera. Met haar aantreklike voorkoms en pragtige, behendige sang het sy hom betower, sodat 'n kortstondige verhouding tussen hulle ontstaan het. Sy sou tot 1927 in Wenen sing, aanvanklik in liriese rolle en later as koloratuursopraan. Haar unieke sangstyl het as die 'Selma-trilling' bekendgestaan. Intussen het sy in 1904 by Covent Garden gedebuteer, en in 1916 het sy die rol van Zerbinetta in die hersiene weergawe van Ariadne auf Naxos in Wenen geskep. Haar debuut by die Salzburg-fees is in 1922 gemaak. Haar dogter Desi Halban was ook ‘n sopraan, wat in 1947 in New York in ‘n voortreflike opname van Mahler se Lieder und Gesänge aus die Jugendzeit met die gevierde dirigent Bruno Walter as klavierbegeleier gesing het.

Kusche, Benno (1916-), Duitse bas-bariton. Nadat hy in 1938 sy debuut in Koblenz gemaak het, het hy tot 1945 in Augsburg gesing. Vanaf 1946 was hy vir langer as dertig jaar aan die Beierse Staatsopera in München verbonde. Daarbenewens het hy vanaf 1958 ook by die Düsseldorf Opera opgetree, met verdere debute wat plaasgevind het by die Salzburg-fees (1949), Covent Garden (1952), die Glyndebourne-fees (1954) en die Metropolitan Opera (1971). Hy het in hoogstaande opnames van die operas Die Meistersinger von Nürnberg (as Beckmesser) en Die Kluge onder Thomas Beecham en Wolfgang Sawallisch onderskeidelik gesing.

Kynaston, Nicholas (1941-), Engelse orrrelis. Hy was vanaf 1961 vir tien jaar orrelis van die Westminster Katedraal. Sy solodebuut is in 1966 in Londen gemaak, en agt jaar later het hy deur die VSA getoer. Sy bekendheid lê merendeels in Franse musiek. Opnames: solowerke van J.S. Bach, Saint-Saëns, Schumann en Widor.

L

Labbette, Dora (1898-1984), Engelse sopraan. Sy het in 1917 haar debuut gemaak en daarna bekendheid verwerf in gewyde en ander konsertwerke onder Beecham, veral in die musiek van Delius. In 1934 is haar operadebuut in Oxford gemaak, en in die jaar daarop haar debuut by Covent Garden as Mimì in La Bohème. Sy het onder die skuilnaam Lisa Perli gesing. As begaafde sangeres-aktrise het sy uitgeblink in rolle soos Mèlisande in Pellèas et Mèlisande, Vreli in A Village Romeo and Juliet en Desdemona in Otello. Sy het in voortreflike opnames van Delius-liedere, begelei deur Beecham as dirigent en pianis, gesing.

Labelle, Dominique (?-), Kanadese sopraan. Nadat sy in 1989 ‘n aantal plaaslike pryse gewen het, het sy in opvoerings in New York, Parys en Wenen bekendheid verwerf as Donna Anna in Don Giovanni. Sy het die rol ook gesing in ‘n rolprentweergawe van die opera teenoor die Russiese bariton Dimitri Hworostofski. Met haar helder stem en charismatiese verhoogpersoonlikheid tree sy wêreldwyd in opera en konserte op. Sy is veral begaafd in die musiek van Handel, en het in 2001 in die première van sy pas herontdekte Gloria by die Göttingen-fees onder Nicholas McGegan gesing. Voorts het sy uitgeblink as Sigismondo in ‘n opname van Handel se opera Arminio wat in 2002 met die Handel-prys bekroon is. Verdere opnames: Vivaldi se opera Il giustino; en Wyner se Voices of Women.

Labèque, Katia (1950-) en Marielle (1952-), Franse klavierduet en susters. Hulle het in Parys studeer en in 1961 hul debuut in Bayonne gemaak. Sedertdien het hulle bekendheid verwerf in moderne musiek, alhoewel hul ewe begaafd in die Romantiese repertorium is. Hulle tree ook in jazz-uitvoerings met die kitaarspeler John Mclaughlin op. Tans is hulle stellig die gewildste klavierduet ter wêreld, iets waartoe beide hul gekultiveerde spel en aantreklike voorkoms bygedra het. Opnames: Messiaen se Visions de l'amen; Bruch, Mendelssohn en Ravel se dubbelkonserte; Mozart se Driedubbele konsert (met Semjon Bisjkof as derde solis); en werke van Bach/Hess, Bartók, Berio, Bernstein, Bizet, Brahms, Dvorák, Fauré, Gershwin, Ravel, Schumann, Strawinski en Tsjaikofski vir klavierduet.

La Fenice, Italiaanse operahuis (volledig: Teatro la Fenice) wat in 1792 in Venesië geopen is. Hoewel die gebou sedertdien al twee keer afgebrand het (die mees onlangse was in 1996), is die premières van 'n groot aantal operas daar aangebied. Daaronder tel Rossini se Tancredi (1813) en Semiramide (1823), Bellini se I Capuleti e i Montecchi (1830), Verdi se Ernani (1844), Attila (1846), Rigoletto (1851), La Traviata (1853) en Simon Boccanegra (1857), Strawinski se The Rake's Progress (1951), Britten se The Turn of the Screw (1954) en Prokofiëf se Die Vurige Engel (1955). Die operahuis was 'n gunsteling vir sulke groot sangers soos Callas, Sutherland en Pavarotti.

Lahti Simfonie-orkes, Finse orkes wat in 1948 gestig is. Hulle het onder Osmo Vänskä, wat in 1988 die hoofdirigent geword het, bekendheid verwerf as een van die beste ensembles uit die Nordiese lande. Dit geld veral in die musiek van Sibelius, waarvan ‘n hele aantal bekroonde opnames onder Vänskä gemaak is. Sedert 1992 is Kalevi Aho hul residensiële komponis. Die orkes het in 2000 ‘n nuwe konsertsaal, die Sibelius-saal, betrek. Dit is van hout gebou en die akoestiek daarvan word as van die bestes ter wêreld beskou. Die orkes tree wyd deur Europa, die VSA en Japan op.

Lakes, Gary (1950-), Amerikaanse tenoor. Sy debuut is in 1981 by die Seattle Opera gemaak as Froh in Das Rheingold. Verdere debute het gevolg in Meksikostad (1983), by die Metropolitan Opera (1986) en die Londense Proms (1991). Hy is bekend in heroïese rolle soos Aeneas in Les Troyens, die Keiser in Die Frau ohne Schatten, Bacchus in Ariadne auf Naxos, Siegmund in Die Walküre en die titelrol in Oberon. Hy het Siegmund gesing in James Levine se hoogaangeskrewe 1989-opvoering van Die Walküre by die Met, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Janácek se Glagolitic Mass (onder Tilson Thomas); en die opera Les Troyens (onder Dutoit).

Lanchbery, John (1923-), Engelse dirigent en komponis. Hy was musiekdirekteur van die Londense Metropolitaanse Ballet (1947-9), dirigent van die Sadler’s Wells Ballet (1951-60), hoofdirigent van die Koninklike Ballet (1960-72), en musiekdirekteur van die Australiese Ballet (1972-7) en die Amerikaanse Ballet (1978-80). As een van die voorste ballet-dirigente van die twintigste eeu het hy verskeie werke tot dié kunsvorm verwerk. Sleutelopnames: Poulenc se Verhaal van Babar die Olifant (Melbourne); Prokofiëf se Pieter en die Wolf (Melbourne); Tsjaikofski se ballet Swanemeer (Wenen). Verdere opnames: Britten se Young Person's Guide to the Orchestra; Hérold se ballet La fille mal gardée; ‘n versameling orkeswerke van Ketelbey; en sy eie ballet Tales of Beatrix Potter.

Landowska, Wanda (1877-1959), Pools-gebore klawesimbelspeler, moontlik die grootste van die twintigste eeu, asook pianis en musiekgeleerde. Ná studies in Warskou en Berlyn het sy in 1891 haar loopbaan as pianis begin. In 1900 het sy in Parys gaan woon en drie jaar later het sy na die klawesimbel oorgeslaan. Sy het deur Europa en die VSA getoer om Barokmusiek op beide klavier en klawesimbel te speel. Daarby het sy ‘n skool vir die studie van vroeë musiek naby die Franse hoofstad gestig. In 1909 het sy ‘n boek oor vroeë musiek gepubliseer, en vier jaar later het sy hoof van die klawesimbelklas aan die Berlynse Konserwatorium geword. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-8) is sy deur die Duitsers geïnterneer. In 1919 het sy as uitmuntende Bach-vertolker die eerste musikus in die twintigste eeu geword om die klawesimbel in ‘n uitvoering van die Barokreus se Sint Mattheüspassie in Basel te speel, eerder as op klavier soos die praktyk geword het. Sy het in dieselfde jaar na Frankryk teruggekeer, waar sy tot 1938 sou onderrig gee en in konserte van vroeë musiek speel. Konserte vir die klawesimbel is deur Falla (1926), Poulenc (1929) en Martinu (1936) vir haar geskryf. In 1940 het sy in New York gaan woon. Deur haar optredes, onderrig en geskrifte het sy die vernaamste aandeel gehad in die moderne herlewing van die klawesimbel. Opnames: Mozart se klavierkonsert nr. 22; en klawesimbelsonates van Domenico Scarlatti.

Lane, Piers (1958-), Australiese pianis. Hy is in Londen woonagtig, waar hy sedert 1989 ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekakademie is. Sy New York-debuut is in 2004 gemaak, en hy was al vyf keer ‘n solis by die Londense Proms. Naas sy wye optredes as solis, met ‘n repertorium van meer as 75 konserte, is hy artistieke direkteur van die Australiese Kamermusiekfees. Daarby is hy ‘n gereelde vennoot van die violis Tasmin Little in sonate-uitvoerings. Sleutelopname: Moszkowski se klavierkonsert (onder Maksymiuk). Verdere opnames: klavierkonserte van Delius, Dreyschock, Kullak, Paderewski, Parry, Stanford en Vaughan Williams; Finzi se Eclogue; en ‘n versameling Preludes van Skriabin.

Lang Lang (1982-), Sjinese pianis. Hy het op drie jaar met klavierlesse in sy tuisstad Shenyang begin. Op vyf het hy die klavierkompetisie in dieselfde stad gewen en sy openbare debuut gemaak. Later het hy aan die musiekkonserwatorium in Beijing gaan studeer en in 1994 was hy ‘n pryswenner in die internasionale kompetisie vir jong pianiste in die Duitse stad Ettlingen. Hy het in die jaar daarop die internasionale Tsjaikofski-kompetisie vir jong musikante in Japan gewen, in ‘n uitvoering van Chopin se tweede klavierkonsert met die Moskou Filharmoniese Orkes wat gebeeldsend is. Op 15 het hy met studies onder Gary Graffman aan die Curtis Musiekinstituut in Philadelphia begin. Sedertdien tree hy wêreldwyd in konserte en voordragte op, en het die eerste Sjinese pianis geword om met die beroemde Berlynse en Weense filharmoniese orkeste op te tree. Sy debuut in die Carnegie Hall, New York is in 2001 gemaak, waarna hy met die Philadelphia Orkes na Beijing is. In die Sjinese hoofstad het hy in ‘n konsert voor 8 000 mense in die Groot Saal van die Volk gespeel. Hy het in dieselfde jaar sy debuut by die Londense Proms gemaak. In 2008 het hy deelgeneem aan die inwydingseremonie van die Olimpiese Spele in Beijing. Sy outobiografie is in dieselfde jaar gepubliseer. Steeds in 2008 het hy ‘n internasionale musiekstigting in New York op die been gebring ten einde klassieke musiek onder jongmense te bevorder. Nie alle musikante is bewonderaars van sy energieke, demonstratiewe spel nie – die gevierde pianis Earl Wild het byvoorbeeld na hom verwys as ‘die Jennifer Lopez van die klavier’. Opnames: Beethoven se klavierkonserte nrs. 1 en 4; en Tsjaikofski se klavierkonsert nr. 1.

Langridge, Philip (1939-2010), Engelse tenoor. Hy het in 1964 sy debuut by die Glyndebourne-fees gemaak as die Livreikneg in Capriccio. Verdere debute het heelwat later gevolg by Covent Garden (1983), die Metropolitan Opera (1985) en die Salzburg-fees (1987). Met sy wye repertorium en veeltaligheid was hy ewe begaafd in opera, konsertwerke en liedere. In opera was dit veral dié van Mozart en moderne komponiste waarin hy uitgeblink het. Dit sluit rolle in soos Andres in Wozzeck, Captain Vere in Billy Budd, Aschenbach in Death in Venice, Essex in Gloriana, Peter Quint in The turn of the screw, Macheath in The Beggar's Opera, Zivny in Osud, Sjuiski in Boris Godoenof, Don Basilio in Le nozze di Figaro, Abaris in Les Boréades, Aäron in Moses und Aron, Zinowi in Dame Macbeth van Mtsensk, Tom Rakewell in The Rake's Progress, Edrisi in Koning Roger, en die titelrolle in Peter Grimes, Idomeneo, La clemenza di Tito en Oedipus Rex. Hy het ook rolle tydens die premières van Birwistle se operas The Mask of Orpheus (1986) en The Second Mrs Kong (1994) geskep. Sleutelopname: Schoenberg se Gurrelieder (onder Rattle). Verdere opnames: Britten se Curlew River, Nocturne, Serenade en War Requiem; Elgar se King Olaf; Finzi se Dies Natalis en Intimations of Immortality; Handel se Acis and Galatea; Haydn se The Creation (in Engels); Lambert se Eight Poems; madrigale van Monteverdi, en sy Vespro della Beata Vergine; Vaughan Williams se Sancta civitas, Merciless Beauty en On Wenlock Edge; liedere van Britten, Dvorák, Janácek en Schubert; die genoemde operas van Berg, Britten, Gay, Janácek, Moessorgski, Mozart, Rameau, Schoenberg, Sjostakowitsj, Strawinski en Szymanowski, asook Punch and Judy en Savitri.

Lanza, Mario (1921-59), Amerikaanse tenoor en akteur. Nadat hy aanvanklik in sy familie se kruideniersfirma gewerk het, het hy in 1942 ‘n oudisie met die dirigent Sergei Koussewitzki gehad en ‘n beurs vir studie by Tanglewood ontvang. Daarna het hy oorlogsdiens verrig, gevolg deur optredes in rolprente, onder andere die titelrol in The Great Caruso (1951) en in The Student Prince (1954). Hy het besonder gewild geraak, maar sy loopbaan is deur sy vroeë dood kortgeknip.

La Petite Bande, Belgiese orkes wat in 1972 deur Sigiswald Kuijken en Gustav Leonhardt gestig is. Hulle speel op eietydse instrumente, en hul samestelling is gebaseer op dié van die Franse komponis Lully tydens die bewind van Koning Lodewyk XIV. Onder leiding van Kuijken het die orkes roem verwerf met hul talle opnames van veral Barokmusiek.

Laredo, Jaime (1941-), Boliviaans-gebore Amerikaanse violis. Hy het in 1952 sy debuut in San Francisco gemaak en sewe jaar later het hy die Koningin Elisabeth-kompetisie in België gewen. Daarna het hy wêreldwyd getoer, met verdere debute in New York (1960) en Londen (1961). Met sy aristokratiese spel is hy veral bekend in die musiek van Bach en Handel, hoewel hy ewe begaafd in die Romantiese repertorium is. Met die Skotse Kamerorkes het hy hoogstaande opnames van Wagner se Siegfried Idyll, Dvorák se Strykerserenade en Vivaldi se Vier Seisoene gemaak. Sleutelopname: Brahms se 3 klavierkwartette (met Ax, Ma en Stern). Verdere opnames: vioolkonserte van Bruch en Mendelssohn; Beethoven se Driedubbele Konsert (twee weergawes, met Kalichstein/Robinson en Serkin/Parnas onderskeidelik as vennote); Mendelssohn se twee vioolsonates; Mozart se Sinfonia concertante en Konsert vir twee viole, hobo, tjello en orkes (beide met met Lin as mede-solis).

Larin, Sergei (1953-), Lettiese tenoor. Aanvanklik het hy tale in Gorki studeer, gevolg deur sangopleiding in sy geboorteland. Sy debuut is in 1981 by die Litause Opera gemaak, as Alfredo in La Traviata. Gedurende die res van die 1980’s het hy in die destydse Sowjet-Unie gesing en veral naam gemaak as Lenski in Jewgeni Onegin. Sy Londense debuut is in 1991 gemaak as Don José in Carmen. Tydens sy debute in Parys en by die Metropolitan Opera in New York het hy Cavaradossi in Tosca gesing. ‘n Verdere rol waarin hy uitblink, is Dimitri in Boris Godoenof, wat hy gesing het tydens ‘n besoek van die Kirof-geselskap aan die Met in 1992 en by die Salzburg-fees onder Claudio Abbado in 1994. ‘n Hoogtepunt in sy loopbaan was sy verskyning as Calaf in Turandot in ‘n Sjinese opvoering van Puccini se gewilde opera, met ‘n filmopname wat gemaak is. Onder sy verdere rolle tel Paolo in Francesca di Rimini, Albert in Die suinige ridder, en die titelrol in Don Carlos. Naas sy operarolle is hy met sy ferm, helder sang uitmuntend in Russiese liedere. Opnames: Rachmaninof se kantate Die Klokke en Tanejef se Johannes van Damaskus (beide onder Pletnjef); die genoemde operas van Moessorgski en Rachmaninof, asook Dame Macbeth van Mtsensk.

Larmore, Jennifer (1958-), Amerikaanse mezzosopraan. Haar operadebuut is in 1986 in Frankryk gemaak, as Sesto in La clemenza di Tito. Sedertdien het sy met haar warm, ferm stem wêreldbekend geraak in die operas van Bellini, Handel, Mozart en Rossini. Dit behels verdere rolle soos Romeo in I Capuleti ed i Montecchi, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Dorabella in Cosi fan tutte, die titelrolle in Giulio Cesare, La Cenerentola en L’Italiana in Algeri, en Rosina in Il barbiere di Siviglia. Laasgenoemde is een van haar beste rolle, wat sy by van die voorste operahuise in Europa en die VSA sing. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1993) en die Metropolitan Opera (1995). In 1994 is die Richard Tucker-prys aan haar toegeken, en twee jaar later het sy tydens die afsluitingseremonie van die Olimpiese Spele in haar tuisstad Atlanta gesing. Naas opera tree sy wêreldwyd in konserte en liedere-voordragte op. Opnames: Sussmayr se Requiem; ‘n versameling Amerikaanse liedere; die genoemde operas van Bellini, Gluck, Handel en Rossini, asook Francois di Foix en Il ritorno d’Ulisse in Patria.

Larsén-Todsen, Nanny (1884-1982), Sweedse sopraan. Vandat sy in 1906 by die Sweedse Koninklike Opera as Agathe in Der Freischütz gedebuteer het, was sy tot 1923 aan dié operahuis verbonde. Daar het sy rolle vertolk wat gestrek het vanaf Mozart tot by Wagner en Richard Strauss. In 1924 het sy by La Scala die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde onder Toscanini gesing. Sy het voorts opgetree by die Metropolitan Opera (1925-7) en die Bayreuth-fees (1927-31). Intussen het sy in 1927 by Covent Garden gedebuteer. Tydens haar laaste seisoen by Bayreuth het sy Isolde onder Wilhelm Furtwängler gesing, met ‘n kort uittreksel wat opgeneem is.

La Scala (amptelik Teatro alla Scala), Italiaanse operahuis wat in 1778 in Milaan geopen het met Salieri se Europa Riconosciuta, en wat allerweë as een van die voorste operahuise ter wêreld beskou word. Talle van Rossini, Donizetti, Bellini, Verdi en Puccini se operas is vir dié teater geskryf. Aan die begin van die twintigste eeu was Arturo Toscanini met twee onderbrekings die hoofdirigent (1898-1902, 1906-8, 1921-9). In dié tyd het van die grootste operasangers ter wêreld daar opgetree. Hy is opgevolg deur Victor de Sabata, wat vir byna drie dekades (1930-57) die hoofdirigent was. In 1943 is die gebou grotendeels deur Geallieerde bomme vernietig, maar binne drie jaar is dit tot die oorspronklike herstel. Die inwydingskonsert daarvan is in 1946 deur Toscanini gedirigeer. Die orkes van La Scala is die beste in Italië en is beroemd vir hul unieke mengsel van klank en woorde in Italiaanse opera. Onder die groot sangers wat ná die Tweede Wêreldoorlog aan die operahuis verbonde was, tel Renata Tebaldi (1949-54) en Maria Callas (1950-8). Vanaf 1968 tot 1986 was Claudio Abbado die hoofdirigent en musiekdirekteur, en sedert 1986 beklee Riccardo Muti die pos.

László, Magda (1919-), Hongaarse sopraan. Sy was aanvanklik aan die Boedapest Opera verbonde (1943-6), waar sy as Elisabeth in Tannhäuser gedebuteer het. Daarna het sy in Italië gaan woon. In 1953 en 1962 het sy by die Glyndebourne-fees verskyn, in laasgenoemde geval in die titelrol van L'incoronazione di Poppea in ‘n hoogstaande opname onder John Pritchard. Onder die moderne rolle wat deur haar geskep is, tel die Moeder in Dallapiccola se Il prigioniero (oor die radio in 1949 en in Florence in 1950) en Cressida in Walton se Troilus and Cressida (by Covent Garden in 1954).

Lawrence, Marjorie (1909-79), Australiese sopraan. Haar operadebuut is in 1932 in Monte Carlo gemaak, as Elisabeth in Tannhäuser. Daarna was sy verbonde aan die Parys Opera (1933-36) en die Metropolitan Opera (1935-41). Sy het in 1936 in die eerste volledige opname van Parsifal (as Kundry) onder Fritz Busch in Buenos Aires opgetree. In 1941 het sy poliomiëlitis opgedoen, waarna sy nie langer sonder hulp kon loop nie. Nietemin het sy haar opera-loopbaan voortgesit, veral in Wagner-rolle waarin sy uitmuntend was. Sy het in 1952 uit opera getree, waarna sy 'n hoogleraar was by die Tulane Universiteit (1956-60) en die Suid-Illinois Unioversiteit (vanaf 1960). In 1977 is die CBE aan haar toegeken. Sy het die rol van Brünnhilde teenoor die legendariese Lauritz Melchior in 'n historiese opname van Götterdämmerung onder Artur Bodanzky by die Met gesing.

Lazaref, Alexander (1945-), Russiese dirigent. Hy het in 1972 die Karajan-dirigeerkompetisie in Berlyn gewen en in die jaar daarop by die Bolsjoi Teater in Moskou begin dirigeer. Vanaf 1987 tot 1995 was hy hoofdirigent en artistieke direkteur van die Bolsjoi, met wie hy in 1993 ‘n hoogstaande opname van ‘n versameling kore uit Russiese operas gemaak het. Sedert 1997 is hy hoofdirigent van die Koninklike Skotse Nasionale Orkes, en oor die jare het hy bekende orkeste in Berlyn, Parys, Cleveland en Liverpool gedirigeer. Met sy onsentimentele dirigeerstyl en vinnige tempos is hy ‘n begaafde vertolker van sy landgenote soos Tsjaikofski en Rachmaninof, asook van moderne komponiste soos Schnittke en Denisof wie se werke hy bevorder. Verdere opnames: Sjedrin se ballet Die dame en die skoothondjie.

Leaper, Adrian (1953-), Engelse dirigent. Hy het in Londen studeer en was aanvanklik mede-hoofhoringspeler van die Philharmonia Orkes in die Britse hoofstad. Daarna het hy begin dirigeer, en in 1986 het hy ‘n assistent-dirigent by die Hallé Orkes onder Stanislaf Skrowaczewski geword. Gedurende die 1990’s het hy wêreldroem deur sy opnames met die Slowaakse Filharmoniese Orkes, die Nasionale Simfonie-orkes van Ierland en die Orquesta Filarmónica de Gran Canaria verwerf. Hy het laasgenoemde vanaf algehele obskuriteit tot ‘n ensemble van wêreldformaat opgebou. Met die Ierse orkes en RTE Filharmoniese Koor het hy die eerste opname van Stanford se Requiem in ‘n hoogaangeskrewe vertolking gemaak. Daarby het hy pioniersopnames van sy landgenoot Havergal Brian se simfonieë nrs. 4, 11, 12, 17 en 32 gemaak. Sleutelopnames: ‘n versameling orkeswerke van Haydn Wood (met die Tsjeggo-Slowaakse Radio Simfonie-orkes). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Nielsen en Sibelius, en ‘n aantal van Mahler (nr. 4), Rodó, Tsjaikofski (nr. 1) en Walton (nr. 1); Granados se toondig Dante; orkeswerke van Borodin, Chabrier, Coates, Elgar, Farnon, German, Greco, Grieg, Halffter, Holbrooke, Ketelbey, Kodály, Moessorgski, Quilter, Ravel, Rimski-Korsakof, Sibelius, Stevens en Tsjaikofski; en ‘n versameling Britse strykermusiek.

Lear, Evelyn (1926-), Amerikaanse sopraan. Aanvanklik het sy in musiekblyspele gesing, waarna sy sangafrigting aan die Juilliard Musiekskool ontvang het. Sy is in 1955 met die bariton Thomas Stewart getroud, en in die jaar daarop is hulle met Fulbright-beurse na Duitsland vir verdere studies. Haar Britse debuut is in 1957 gemaak, in Richard Strauss se Vier letzte Lieder met die Londense Simfonie-Orkes. In 1958 het haar Berlynse operadebuut plaasgevind, as die Komponis in Ariadne auf Naxos. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1962), Covent Garden (1965) en die Metropolitan Opera (1967). Sy was veral bekend as die Marschallin in Der Rosenkavalier, 'n rol wat sy met haar afskeidsoptrede by die Met in 1985 vir oulaas sou sing. Ook was sy uitmuntend in die titelrol van Lulu, as Marie in Wozzeck en as Marina in Boris Godoenof. Sy het laasgenoemde gesing in ‘n hoogstaande opname teenoor die groot bas Boris Christoff in die titelrol, met André Cluytens as dirigent. Na hul uittrede het sy en Stewart meesterklasse gegee. Verdere opnames: Mahler se Das klagende Lied (onder Boulez); die musiekblyspel On the Town (onder Tilson Thomas); en die opera Die Zauberflöte (onder Böhm).

Leblanc, Suzie (1961-), Kanadese sopraan. As spesialis in vroeë musiek tree sy in Europa, Japan en Noord-Amerika op. Met haar ligte, suiwer stem is sy ewe begaafd in vroeë opera, gewyde werke, kamermusiek en luitliedere. Onder haar gereelde vennote tel die Ensemble Tragicomedia en die luitspeler Stephen Stubbs. Sleutelopname: ‘n versameling gewyde kantates van Buxtehude (met die Purcell Kwartet). Verdere opnames: Gluck se opera Orphée et Eurydice (as Amour); Monteverdi se opera Orfeo (as die Nimf); en Moody se Passion and Resurrection (as die Moeder van God).

Le Concert Spirituel, Franse vokale en instrumentele ensemble wat in 1988 herleef is nadat die oorspronklike een in 1791 tydens die Franse Rewolusie tot ‘n einde gekom het. Onder leiding van Hervé Niquet konsentreer hulle op Franse en Italiaanse musiek uit die sewentiende en agtiende eeue, met vele bekroonde opnames tot hul krediet. Sleutelopname: Lully se motette Benedictus, Exaudi Deus, O dulcissime en Notus in Judea Deus. Verdere opnames: Benevolo se Missa Azzolina, Dixit Dominus en Magnificat; Boismortier se ballet Don Quichotte chez la Duchesse, opera Daphnis et Chloé en Ballets de Village; talle gewyde werke van M. Charpentier, waaronder sy Te Deum, Vespres á la vierge, misse en motette; ‘n versameling koor- en kamerwerke van Clérambault; Desmarest se Dominus Regnavit en Te Deum de Paris; en Purcell se opera King Arthur.

Ledger, Philip (1937-2012), Engelse pianis, orrelis en dirigent. Hy was agtereenvolgens musiekmeester van die Chelmsford Katedraal (1962-5), musiekdirekteur van die Universiteit van Oos-Anglia (1965-73), en musiekdirekteur en orrelis van King’s College, Cambridge (1974-82). In 1968 was hy die klawesimbelsolis in Benjamin Britten se hoogstaande opnames van Bach se Brandenburgkonserte met die Engelse Kamerorkes. Hy was vanaf 1982 hoof van die Koninklike Skotse Musiekakademie en vanaf 1968 tot 1989 was hy artistieke direkteur van die Aldeburgh-fees. As dirigent was hy wêreldbekend in gewyde koormusiek vanaf die Renaissance tot die twintigste eeu. Sleutelopnames: Handel se Ode for St Cecilia's Day; Vivaldi se Dixit Dominus en Magnificat in G mineur (1976). Verdere opnames (as solis): klawesimbelkonserte van Bach; (en as dirigent:) Bach se 6 Brandenburgkonserte; J.S. en C.P.E. Bach se Magnificat; Bliss se The World is charged with the grandeur of God; Britten se Jubilate Deo, Rejoice in the Lamb en Te Deum; M. Charpentier se Kersfeesmis en Te Deum; Duruflé se Requiem; Elgar se Coronation Ode; Fauré se Requiem; ‘n versameling kerkmusiek van Gibbons; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; en Purcell se Funeral Music for Queen Mary.

Leech, Richard (1956-), Amerikaanse tenoor. Nadat hy aanvanklik as bariton gesing het, het hy die titelrol in Les contes d'Hoffmann vertolk terwyl hy nog 'n student was. Vanaf 1980 het hy in konserte en operas in sy geboorteland opgetree, met 'n Europese debuut wat in 1987 in Berlyn plaasgevind het as Raoul in Les Huguenots. Verdere debute is gemaak by die New York Stadsopera (1988), en by die Metropolitan Opera en La Scala (beide in 1990). Hy is merendeels bekend in Franse opera, soos in die titelrol van Faust. Voorts het hy uitgeblink as Alfred in ‘n uitstekende opname van die operette Die Fledermaus (onder André Previn). Verdere opnames: die operas Faust en I Lombardi.

Lefébure, Yvonne (1898-1986), Franse pianis. As leerling van die gevierde pianis Alfred Cortot het sy wêreldbekend as solis geraak. In 1935 het sy in die eerste opname van haar landgenoot Dukas se Variations, Interlude en Finale gespeel. Haar Salzburg-feesdebuut is in 1937 gemaak. Sy was ‘n hoogleraar aan die école Normale de Musique in Parys (vanaf 1924) en aan die Parys Konserwatorium (1952-67). By die Perpignan-fees van 1952 het sy onder Pablo Casals as dirigent ‘n elegante vertolking van Mozart se klavierkonsert nr. 20 gelewer. Dit is twee jaar later in Lugano herhaal, onder die dirigeerstaf van Wilhelm Furtwängler. In beide gevalle is opnames gemaak. Sy was ook ‘n skrywer.

Legge, Walter (1906-79), Engelse impresario, kritikus en skrywer. Nadat hy opname-bestuurder was by die platemaatskappye His Master’s Voice (vanaf 1927) en Columbia (vanaf 1938), was hy in 1938/9 ‘n assistent vir die beroemde dirigent Thomas Beecham by Covent Garden. Sy eerste opera-opname was Beecham se weergawe van Die Zauberflöte, wat in 1937-9 in Berlyn met ‘n onoortreflike rolverdeling gemaak is. In 1945 het hy die Philharmonia Orkes in Londen gestig om ‘n heenkome aan musici ná die Tweede Wêreldoorlog te verskaf, en om opnames vir sy maatskappy (later EMI) te maak. Oor die jare heen het hy talle bekende musici vir opnames gewerf en as regisseur in beroemde opnames opgetree. Daaronder tel Furtwängler se Tristan und Isolde, Karajan se Falstaff en Der Rosenkavalier, en vele opnames van Callas, Lipatti en Klemperer. Daarby was hy in beheer van ‘n historiese opname van Die Meistersinger von Nürnberg by die herleefde Bayreuth-fees in 1951. Hy is in 1953 getroud met die sopraan Elisabeth Schwarzkopf, wat eweneens in vele van sy opnames verskyn het.

Legrand, Michel (1932-), Franse dirigent, pianis en komponis. Hy het bekend geraak as orkestreerder van ligte musiek en jazz. In 1954/5 het hy as dirigent met die beroemde kabaretsanger Maurice Chevalier in Parys en New York opgetree. Daarby het hy die klankbane van 'n hele aantal rolprente geskryf, waaronder Les Parapluies de Cherbourg (1964). In 1993 het sy debuut as klassieke pianis met 'n hoogstaande opname van 'n aantal Satie-solowerke plaasgevind. Hy het in die jaar daarop die Philharmonia Orkes en die Ambrosian Singers in uitstekende opnames van Fauré en Duruflé se dodemisse gedirigeer.

Lehel, Gyorgy (1926-89), Hongaarse dirigent. Hy het sy debuut in 1946 gemaak en was vanaf 1962 hoofdirigent van die Boedapest Simfonie-orkes. Verder het hy wyd deur Europa, die VSA, Japan en Australasië opgetree, met ‘n Britse debuut wat in 1968 in Cheltenham plaasgevind het. 'n Eredoktersgraad in musiek is deur die Chicago Konserwatorium aan hom toegeken, en in 1973 het hy die Kossuth-prys ontvang. Sy opname van Bartók se Konsert vir Orkes met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes word onder die heel beste weergawes van die werk gereken. Met sy Hongaarse orkes het hy voorts uitstekende opnames gemaak van Dohnányi se Ruralia hungarica, en van Liszt se Dante simfonie en Hongaarse Kroningsmis.

Lehmann, Lilli (1848-1929), Duitse sopraan. Sy het vanaf sesjarige ouderdom klavierlesse van haar sopraan-moeder ontvang en later ook sanglesse. In 1865 is haar operadebuut in Praag in Die Zauberflöte gemaak, en vier jaar later het sy by die Berlynse Opera as Marguerite in Les Huguenots gedebuteer. Sy sou tot 1885 aan dié operahuis verbonde wees, met liriese en koloratuurrolle wat deur haar gesing is. Intussen het sy in 1876 tydens die eerste Bayreuth-fees kleiner rolle in Wagner se Ring-siklus gesing, en vier jaar later is haar Londense debuut gemaak. Sy het in 1884 die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde onder die legendariese Hans Richter by Covent Garden gesing. In die jaar daarop het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waar sy vir vier jaar sou optree. Daar was sy die eerste Amerikaanse Isolde (1886), asook die eerste Brünnhilde in Siegfried (1887) en Götterdämmerung (1888). Met haar terugkeer na Duitsland in 1889 is sy deur die Keiser verbied om opera te sing omdat sy haar verlof oorskry het. Twee jaar later is die verbod opgehef en in 1905 het sy by die voorloper van die Salzburg-fees gesing, waarvan sy later artistieke direkteur sou word. Intussen het sy weer by die Met opgetree (1891/2, 1898/9) en by die Weense Opera (in 1909, as Isolde). Tot 1920, toe sy al in haar sewentigs was, het sy nog gesing. As uitmuntende sanger-aktrise was sy wêreldberoemd in opera, veral dié van Mozart en Wagner, alhoewel sy met 'n ontsaglike repertorium van 170 rolle kon spog. Verder het sy 'n repertorium van meer as 600 liedere gehad en het sy 'n boek oor die sangkuns geskryf. Daarbenewens was sy vir byna 40 jaar ‘n leermeester, met groot sangers soos Geraldine Farrar en Olive Fremstad wat onder haar leerlinge getel het.

Lehmann, Lotte (1888-1976), Duits-gebore sopraan en skrywer. Sy het in 1909 in Hamburg in Der Zauberflöte gedebuteer en vyf jaar later in Wenen en Londen begin sing. Vanaf 1916 tot 1938 was sy 'n lid van die Weense Opera, waar sy as 'n uitmuntende sangeres in Beethoven, Mozart, Puccini, Richard Strauss en Wagner se operas bekend geraak het. Dit was veral in Strauss se rolle dat sy haar gelyke nie gehad het nie. Sy het die rolle van die Komponis in Ariadne auf Naxos (1916), die titelrol in Die Frau ohne Schatten (1919) en Christine in Intermezzo (1924) tydens die premières van dié operas geskep, asook die titelrol in die Weense première van Arabella (1933). Verder was sy die eerste om al drie vroulike hoofrolle (Sophie, Octavian en die Marschallin) in Der Rosenkavalier te sing. Sy sou veral as die Marschallin roem verwerf, ’n rol wat sy gesing het in die eerste opname van die opera - in 1933 by die Weense Staatsopera onder Robert Heger. Vanaf 1924 tot 1935 het sy gereeld by Covent Garden gesing, met nog debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1926) en in Chicago (1930). Gedurende die 1930's het sy in opnames van Fidelio en Die Meistersinger von Nürnberg onder Toscanini by die Salzburg-fees gesing.

Vanaf 1934 tot 1945 was Lehmann aan die Metropolitan Opera verbonde, waar sy in ‘n historiese opname van Der Rosenkavalier onder Artur Bodanzky gesing het. Sy het haar in 1938 in Kalifornië gevestig, waar sy in Santa Barbara 'n sangskool gestig het. Bekendes soos Jeannine Altmeyer, Grace Bumbry, Janet Baker en Marilyn Horne sou onder haar studente tel. In 1945 het sy 'n Amerikaanse burger geword en ses jaar later is ‘n afskeidskonsert in Santa Barbara gegee. Sy het voortgegaan om meesterklasse aan te bied, onder andere in Londen in 1957 en 1959. Verder was sy in 1962 die regisseur van ‘n opvoering van Der Rosenkavalier, die opera waarmee sy vir altyd vereenselwig sal word, by die Met. Naas die genoemde rolle was sy 'n beroemde Sieglinde in Die Walküre, volgens sommige kenners ongeëwenaard daarin, en Leonore in Fidelio. Asof ter bevestiging van haar veelsydigheid het sy 'n roman en gedigte geskryf. Verdere opnames: Schubert se liedere-siklus Winterreise; liedere van Schumann en Richard Strauss; en die opera Die Walküre (onder Hans Knappertsbusch), asook die eerste bedryf daarvan onder Bruno Walter.

Leibowitz, René (1913-72), Pools-gebore Franse dirigent, komponis en musiekgeleerde. Hy het in 1926 in Parys gaan woon, waar hy ‘n kampvegter vir Schoenberg se twaalfnoot-stelsel sou word. Daardeur het hy later bekende moderne komponiste soos Boulez en Henze beïnvloed. Vanaf 1949 was hy ‘n dirigent en leermeester by die Darmstadt-fees. Hy het nie minder nie as 11 boeke oor twaalfnootmusiek geskryf, en het ‘n groot aantal werke in verskeie vorme gekomponeer. Met die Koninklike Filharmoniese Orkes het hy die volledige simfonieë van Beethoven vir Reader’s Digest opgeneem. Dit was skynbaar die eerste siklus waarin die tempos die musiekreus se eie metronoom-aanwysings gevolg het. Verdere opnames: Berlioz se Symphonie fantastique en Schoenberg se Gurrelieder.

Leider, Frida (1888-1975), Duitse sopraan. Nadat sy in 1915 haar debuut in Hallé gemaak het, as Venus in Tannhäuser, het sy opera gesing in Rostock (1917/8), Königsberg (1918/9) en Hamburg (1919-23). Daarna was sy tot 1940 verbonde aan die Berlynse Staatsopera, waar sy met haar suiwer stem en gevoelvolle sang roem verwerf het in Wagner-rolle soos Isolde in Tristan und Isolde en Brünnhilde in die Ring. Sy het ook gesing by Covent Garden (1924-38), La Scala (1927), Chicago (1928-32), die Metropolitan Opera (1933/4) en die Bayreuth-fees (1928-38). Daarby was sy ‘n begaafde liederesangeres, met 'n Berlynse debuut daarin in 1927. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy as opera-regisseur en leermeester opgetree. Sy was die verhoogdirekteur vir ‘n opvoering van Tristan und Isolde by die Berlynse Staatsopera in 1947, tydens Wilhelm Furtwängler se terugkeer tot die operahuis. Onder die opnames wat sy nagelaat het, tel ‘n 1929-weergawe van die Liefdesduet uit Tristan und Isolde met die legendariese Lauritz Melchior, en die slottoneel uit Götterdämmerung onder Leo Blech.

Leiferkus, Sergei (1946-), Russiese bariton. Vanaf 1972 het hy vir ses jaar by die Maly Teater in Leningrad (tans Sint Petersburg) gesing, en in 1978 het hy by die Kirof Teater in dié stad aangesluit. Daarna het hy in die Weste bekendheid verwerf, met debute wat gemaak is by die Wexford-fees (1982), die Skotse Opera (1985), die Engelse Nasionale Opera en Boston (beide in 1987), en Covent Garden en die Glyndebourne-fees (beide in 1989). Met sy ferm, donker stem, intense sang en besondere karakterisering is hy ‘n uitmuntende sanger in Russiese opera, konsertwerke en liedere. Onder die operarolle waarin hy uitblink, tel die titelrol in Prins Igor, die Markies in Grisélidis, Rangoni in Boris Godoenof, beide Ruprecht en die Inkwisiteur in Die Vurige Engel, Malatesta in Francesca di Rimini, Iago in Otello, en die titelrolle in Aleko en Mazeppa. Sy Londense liedere-debuut is in 1989 gemaak. Tydens die Glyndebourne-fees van 2004 het hy ‘n formidabele vertoning gelewer in die titelrol van Rachmaninof se opera Die Suinige Ridder, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Mahler se kantate Das klagende Lied (onder Tilson Thomas); Prokofiëf se Iwan die Verskriklike; Rachmaninof se kantate Die Klokke en orkeslied Lente; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 13 (onder Masur) en 14 (onder Järvi); liedere van Glinka en Moessorgski; en die genoemde operas van Borodin, Massenet, Moessorgski, Prokofiëf, Rachmaninof, Tsjaikofski en Verdi, asook Pique Dame.

Leinsdorf, Erich (1912-93), Oostenryks-gebore dirigent. Hy is in sy geboortestad Wenen opgelei en het as tiener tjello en klavier gespeel, laasgenoemde as begeleier vir sangers. Daarna het hy dirigeerkuns aan die Mozarteum in Salzburg studeer, met verdere studies aan die Weense Musiekakademie. Vanaf 1932 was hy vir twee jaar ‘n repetisiepianis vir ‘n koor in die Oostenrykse hoofstad. Vervolgens was hy ‘n assistent vir Bruno Walter en Toscanini by die Salzburg-fees (1934-77). Hy het in 1936 in Bologna sy eerste opera gedirigeer. In 1937 is hy na die VSA as assistent-dirigent by die Metropolitan Opera. Met Oostenryk se aansluiting by Nasionaal-Sosialistiese Duitsland in 1938 het hy as Jood besluit om in die VSA te bly, en in dieselfde jaar het hy met Die Walküre by die Met gedebuteer. Daar het hy Artur Bodanzky in 1939 opgevolg as hoofdirigent van die Duitse repertorium. Tot 1943 sou hy by die Met naam maak met sy Wagner-vertolkings, wat historiese opnames van Lohengrin (1943), Tristan und Isolde en Die Walküre (1941) insluit. Hy het in 1942 ‘n Amerikaanse burger geword en vervolgens was hy musiekdirekteur van die Cleveland Orkes (1943-46). In dié tyd was hy egter meesal afwesig van sy pos as gevolg van krygsdiens in die Amerikaanse weermag. Hy was vanaf 1947 tot 1955 hoofdirigent van die Rochester Filharmoniese Orkes, maar weens hul afgesonderde musiekkultuur het hy die stad later as die bes verbloemde doodloopstraat in die wêreld bestempel.

Daarna was Leinsdorf musiekdirekteur van die New York Stadsopera (1956/7), weer dirigent by die Met (1957-62) en hoofdirigent van die Boston Simfonie-orkes (1962-9). Met laasgenoemde het hy talle opnames gemaak, insluitend ‘n volledige siklus van Beethoven se simfonieë wat gekenmerk is deur uitmuntende orkesspel. Hy het ook in 1963 in Boston die Amerikaanse première van Britten se War Requiem gedirigeer, met 'n beeldopname wat gemaak is. Vervolgens het hy meesal as gasdirigent in die VSA en Europa opgetree, veral by die Met en die New York Filharmoniese Orkes. Vir ‘n wyle was hy hoofdirigent van die Wes-Berlynse Radio Simfonie-orkes (1978-80). Tussen 1982 en 1984 het hy dikwels die Cleveland Orkes gedirigeer terwyl hul vir ‘n volgende hoofdirigent gewag het, sodat hy na sy rol daar as die brug tussen die bewinde verwys het. In sy later jare het hy die Weense Simfonie-orkes in ‘n Lentekonsert van Strauss-werke gedirigeer, met ‘n puik DVD wat daarvan getuig. Hy het die legendariese pianis Arthur Rubinstein in opnames van Beethoven se volledige klavierkonserte begelei. Daarby het hy ‘n boek oor die dirigeerkuns, The Composer’s Advocate, geskryf. Hy is in Switserland aan kanker oorlede. Verdere opnames: Prokofiëf se Luitenant Kijé Suite en simfonieë nrs. 2, 3, 5 en 6 (almal Boston 1960’s); en die operas Die tote Stadt, Die barbier van Baghdad, Madama Butterfly, Il Tabarro, Tosca, Il barbiere di siviglia, Salome, Un ballo in maschera en Macbeth.

Leipzig Gewandhaus Orkes, Duitse simfonie-orkes wat sedert 1781 konserte aanbied. In 1789 het Mozart ‘n konsert van sy eie werke daar gegee. Tydens die dirigentskap van die komponis Mendelssohn (1835-47) het die orkes Bach se Sint Mattheüspassie herleef, en die eerste uitvoerings van verskeie werke deur Schubert, Schumann en Mendelssohn gegee. Brahms het al sy simfonieë daar gedirigeer, asook die eerste uitvoering van sy vioolkonsert in 1879. In 1884 is ‘n nuwe gebou geopen, maar in 1943 is dit deur Geallieerde bomme verwoes en eers in 1978 herbou. Gedurende die twintigste eeu het Arthur Nikisch (1895-1922), Wilhelm Furtwängler (1922-9), Bruno Walter (1929-33), Hermann Abendroth (1934-46), Franz Konwitschny (1949-62), Václav Neumann (1964-8), Kurt Masur (1970-98) en Herbert Blomstedt (sedert 1998) onder die hoofdirigente getel. Die orkes is soos hul Dresdense bure bekend vir hul ongeforseerde klank en word as een van die bestes ter wêreld beskou.

Leipzig Opera, Duitse operahuis waar sedert die 1690’s opvoerings gegee word. Bach se groot tydgenoot Telemann het meer as twintig operas vir dié stad geskryf, en in 1766 is ‘n teater gebou. ‘n Nuwe teater is in 1867 geopen. Onder die dirigente daar het getel die komponiste Lortzing en Mahler, asook die vermaarde Arthur Nikisch. Tussen die twee wêreldoorloë is die premières van Krenek se Jonny spielt auf (1927) en Weill se Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny (1930) daar opgevoer. In 1943 is die operahuis deur Geallieerde bomme vernietig. Sedert 1990 is Lothar Zagrosek die musiekdirekteur.

Leitner, Ferdinand (1912-), Duitse dirigent. Hy was in 1935 ‘n assistent vir Fritz Busch by die Glyndebourne-fees, en het daarna opera gedirigeer in Berlyn (1943), Hamburg (1945/6) en München (1946/7). Vanaf 1947 tot 1969 was hy musiekdirekteur van die Stuttgart Opera, waartydens hy dertien Wagner-opvoerings met die komponis se kleinseun Wieland Wagner as regisseur gedirigeer het, asook die premières van Orff se Oedipus der Tyrann (1959) en Prometheus (1968). Later was hy hoofdirigent van die Haagse Filharmoniese Orkes (1976-80) en die Italiaanse Radio-orkes in Turyn (1986-90). Intussen het hy in 1969 sy Amerikaanse debuut in Chicago gemaak en in 1985 ook by die Salzburg-fees. Hy het as orkesbegeleier vir die briljante pianis Wilhelm Kempff in sy opnames van Beethoven se volledige klavierkonserte opgetree. Opnames: Busoni se opera Doktor Faust; Handel se opera Giulio Cesare (in Duits); en Hartmann se derde simfonie.

Lemnitz, Tiana (1897-1994), Duitse sopraan. Ná haar operadebuut in 1921 in Heilbronn in Lortzing se Undine, was sy verbonde aan operahuise in Aachen (1922-8) en Hannover (1928-33), en die staatsoperas in Dresden (1933/4) en Berlyn (1934-57). Intussen het sy in 1936 by Covent Garden en in Buenos Aires begin sing, en drie jaar later het sy by die Salzburg-fees gedebuteer. Sy het uitgeblink in rolle soos Pamina in Die Zauberflöte, Octavian in Der Rosenkavalier en die titelrol in Jenufa. Sy het voorts in 1938 in Nürnberg geskitter as Eva in Die Meistersinger von Nürnberg onder Wilhelm Furtwängler, met uittreksels daarvan wat opgeneem is. In die laat 1930's het sy in Berlyn in 'n klassieke opname van Die Zauberflöte onder Thomas Beecham verskyn. Haar afskeidsoptrede is in 1957 met ‘n liedere-voordrag in Berlyn gegee.

Lemper, Ute (1963-), Duitse sopraan, kabaretsanger en aktrise. Sy het aan die Dansakademie in Keulen en die Max Reinhardt Dramaskool in Wenen studeer. Haar professionele verhoogdebuut was in die eerste Weense opvoering van die musiekblyspel Cats, en sedertdien tree sy wêreldwyd in blyspele en kabaret op. As ‘klassieke’ sangeres spesialiseer sy met haar sensuele sang en voorkoms in die werke van Kurt Weill. Sy het optredes in uitstekende opnames van sy Die Dreigroschenoper (as Polly Peachum), Die sieben Todsünden (as die twee Annas) en Mahagonny Singspiel (almal onder John Mauceri) tot haar krediet. Verder het sy in twee opnames van Berlynse kabaretliedere uit die Weimar-tydvak gesing, een in Duits en een in Engels. Sy het ook in vele rolprente en televisie-produksies opgetree. Sy woon in New York.

Lenárd, Ondrej (1942-), Slowaakse dirigent. Hy het op 17 aan die Musiekakademie in Bratislawa begin studeer, en vir sy graduering in 1964 het hy die Slowaakse Filharmoniese Orkes gedirigeer. Vanaf 1970 het hy die Slowaakse Radio Simfonie-orkes gedirigeer en sewe jaar later het hy hul hoofdirigent geword. Hy sou die pos tot 1990 beklee, waartydens die orkes tot internasionale statuur opgebou is. Voorts was hy vanaf 1984 vir twee jaar musiekdirekteur van die Slowaakse Nasionale Opera. As gasdirigent het hy wyd deur Europa, die voormalige Sowjet-Unie en die Amerikas verskyn. Hy was ook eredirigent van die Shinsei Simfonie-orkes in Japan. Met die genoemde Slowaakse orkeste, asook 7 kore en 4 vokale soliste, het hy in 1989 die eerste opname van Havergal Brian se magtige eerste simfonie (‘The Gothic’) gemaak. Verdere opnames: Glazoenof se ballet Die Seisoene; en orkeswerke van Johann Strauss junior.

Léner Kwartet, Oostenryk-Hongaarse strykkwartet wat vanaf 1918 tot 1948 bestaan het. Hulle het wyd getoer en een van die voorste kwartette van die tussenoorlogse tydperk geword. Verder het hulle beroemde opnames in die 1930's gemaak, onder andere die eerste volledige siklus van Beethoven se strykkwartette.

Lenya, Lotte (1898-1981), Oostenryks-gebore mezzosopraan. Sy het as sestienjarige in Zürich gaan woon, waar sy ‘n balletdanser by die Stadsteater geword het. In 1920 het sy na Berlyn verhuis, waar sy die dramaturg Bertold Brecht en die komponis Kurt Weill ontmoet het. Sy is in 1926 met Weill getroud, en in die jaar daarop is haar sangdebuut in Baden-Baden gemaak in sy opera Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny. In 1928 het sy die rol van Jenny tydens die première van Die Dreigroschenoper in Berlyn geskep en vyf jaar later in Parys ook die rol van Anna in Die sieben Todsünden. Met haar kenmerkende sang en besondere akteursvermoëns het sy ‘n aansienlike bydrae tot die sukses van haar man se werke gelewer, en in 1933 het sy met hom na die VSA geëmigreer. Daar het sy ‘n nuwe loopbaan in dramas en rolprente gemaak. Onder laasgenoemde tel ‘n James Bond-rolprent, From Russia with love (1963). Opnames: Die Dreigroschenoper en Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny.

Leonhardt, Gustav (1928-2012), Nederlandse orrelis, klawesimbelspeler, dirigent en musiekgeleerde. Hy het klawesimbel en orrel onder Eduard Müller in Basel studeer en sy solodebuut in 1950 in Wenen gemaak. Vervolgens was hy ‘n hoogleraar in klawesimbel aan die Weense Musiekakademie (1952-5), en in 1955 het hy na Amsterdam teruggekeer. Daar was hy ‘n hoogleraar aan die Konserwatorium en orrelis van die Nieuwe Kerk. Verder het hy in 1955 die Leonhardt Consort gestig, met wie hy nougesette vertolkings van veral Barokmusiek gegee en talle opnames gemaak het. In 1967 het hy die rol van Johann Sebastian Bach in 'n rolprent gespeel, en in sy sewentigs het hy steeds meer as honderd uitvoerings per jaar gegee. Hy was as beide solis en dirigent een van die wêreld se voorste vertolkers van vroeë musiek. Só het hy in samewerking met Nikolaus Harnoncourt die byna volledige kantates van Bach opgeneem. Daarby het hy Bach se Die Kunst der Fuge en werke van Sweelinck geredigeer, en operas van Monteverdi en Rameau gedirigeer. In 1980 is die Europese Erasmus-prys aan hom toegeken. Hy het naas sy eie ensemble dikwels die Orchestra of the Age of Enlightenment gedirigeer. Verdere opnames (as solis): klawesimbelkonserte van C.P.E. Bach; die 3 Dubbele Klawesimbelkonserte van J.S. Bach (met Bob van Asperen); solowerke van J.S. Bach, G. Böhm, L. Couperin en Froberger; (en as dirigent:) Bach se Mis in B mineur; sinfonias van C.P.E. Bach; Biber se Requiem in A, Requiem in F mineur en Epifanie kantate; Campra se opera-ballet L'Europe galante; F. Couperin se Les Nations; Lully se komedie-ballet Le bourgeois gentilhomme; Monteverdi se Vespri di San Giovanni Battista; Rameau se opera-ballet Pygmalion en Les Paladins suite; Steffani se Stabat Mater; Vals se Missa Scala Aretina; en orkeswerke van Vivaldi.

Leppard, Raymond (1927-), Brits-gebore klawesimbelspeler, dirigent en musiekgeleerde. Hy het in 1952 sy Londense debuut gemaak en daarna dikwels die voorloper van die Engelse Kamerorkes, die Goldsbrough Orkes, gedirigeer. In 1959 het hy by Covent Garden gedebuteer met Handel se Solomon. Verdere debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (1962) en die Sadler’s Wells Opera (1965). Hy het in 1966 die klawesimbel bespeel in Charles Mackerras se gevierde opname van Purcell se opera The Indian Queen. By Sadler's Wells het hy in 1971 die enigste Engelstalige opname van Monteverdi se L’incoronazione di Poppea in 'n BBC uitsending gedirigeer. Vanaf 1973 tot 1980 was hy hoofdirigent van die BBC Noordelike Simfonie-orkes. Intussen het sy Amerikaanse konsertdebuut in 1969 in New York plaasgevind en sy operadebuut vyf jaar later in Santa Fé. Hy het hom in 1976 in die VSA gevestig. Sy debuut by die Metropolitan Opera het in 1978 plaasgevind, en vyf jaar later is die CBE aan hom toegeken. Hy het in 1984 ‘n uitstekende opvoering van L’incoronazione di Poppea by Glyndebourne gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Vanaf 1984 was hy vir ses jaar hoofgasdirigent van die Sint Louis Simfonie-orkes, en sedert 1987 is hy musiekdirekteur van die Indianapolis Simfonie-orkes. Hy het ‘n Amerikaanse burger geword.

Leppard het ‘n pioniersrol gespeel in die popularisering van Barokmusiek in Brittanje en die VSA. Dit is teweeggebring deur sy redigering van ‘n hele aantal werke van Monteverdi en Cavalli, sy herlewing van Barokoperas by Glyndebourne (waaronder L'incoronazione di Poppea in 1962 en Calisto in 1970), en sy opnames van Monteverdi se volledige madrigale in die vroeë 1970’s. Sy repertorium sluit ook talle orkeswerke vanaf die agtiende tot die twintigste eeue in, en daarbenewens het hy ‘n boek oor die kwessie van egtheid in musiek geskryf. Sleutelopnames: Mozart se 6 Duitse Danse K571, Les petits riens balletmusiek, en Eine kleine Nachtmusiek (almal met die Skotse Kamerorkes, 1984). Verdere opnames (as solis): klawesimbelkonserte van Bach; (en as dirigent:) simfonieë van Bax, Boccherini, Haydn, Mahler en Mendelssohn; ander orkeswerke van Campra, Dvorák, Grieg, Handel, Mendelssohn, Rameau en Vivaldi; Handel se kantate Lucrezia; Mahler se Das Lied von der Erde; enkele madrigale van Monteverdi; en die operas Calisto, Orfeo ed Euridice, Ariodante, Bastien und Bastienne, Dido and Aeneas en Dardanus.

Le Roux, Francois (1955-), Franse bariton. Hy was vanaf 1980 vir vyf jaar aan die Lyon Opera verbonde en het in 1985 sy debuut by die Parys Opera gemaak. Dit was in rol van Pelléas in Pelléas et Mélisande, wat hy ook gesing het met sy debute by La Scala (1986), Wenen (1988), Helsinki (1989) en Keulen (1992). Verdere debute het intussen plaasgevind by die Glyndebourne-fees (1987) en Covent Garden (1988). By laasgenoemde operahuis het hy in 1991 die titelrol tydens die première van Birwistle se Gawain geskep. As begaafde sanger in Franse opera blink hy naas Pelléas uit in rolle soos Moralès in Carmen, die Tronkbewaarder in Les Dialogues des Carmelites en Horatio in Hamlet. Hy het in 1994 in ‘n DVD-opname van Henze se Der Prinz von Homburg onder Wolfgang Sawallisch gesing. Verdere opnames: die operette La Belle Hélène; die genoemde operas van Bizet, Debussy, Poulenc en Thomas, asook La Postillon de Longjumeau, La chute de la Maison Usher en Les brigands.

Les Arts Florissants, vokale en instrumentele ensemble wat in 1978 deur William Christie gestig is. Hulle konsentreer op die uitvoering van Barokmusiek en het in 1990 hul Londense debuut gemaak.

Lésne, Gérard (1956-), Franse kontratenoor en komponis. As selfopgeleide musikant het hy hom aanvanklik op jazz en rock toegespits, waarna elektroniese musiek aan die beurt gekom het. In 1979 het hy die dirigent René Clemencic ontmoet en as lid van sy Clemencic Consort deur Europa begin toer. Later het hy as lid van die Ensemble Organum aan die herontdekking van Gregoriaanse kantus deelgeneem. Hy het homself verder vanaf 1984 tot 1992 onder leiding van William Christie en Philippe Herreweghe in Franse Barokmusiek en Bach onderskeidelik verdiep. Daarby is hy met sy helder stem en hoogstaande musikale intelligensie meesterlik in Italiaanse Barokmusiek, veral in die werke van Scarlatti, Stradella en Vivaldi. In 1985 het hy die ensemble Il Seminario Musicale gestig om hoofsaaklik kerkmusiek van die sewentiende en agtiende eeue uit te voer. Hul meer as twee dosyn opnames het vele pryse verwerf, waaronder 3 Victoires de la Musique (1993, 1995 en 1996). Verder sing hy dikwels as solis in operas van Handel, Vivaldi en andere. In 1998 het hy by die Lyon Opera die rol van Oberon in Britten se A Midsummer Night’s Dream gesing.

Lésne se komposisie Tempus Fugit, wat deur die kuns van die haiku geïnspireer is, is in 1992 by die Roma-Europa fees in die Italiaanse hoofstad opgevoer. Sedert 1993 gee hy jaarliks meesterklasse by die Royaumont Abdy in Frankryk, die presiese plek waar sy loopbaan afgeskop het toe hy op die laaste nippertjie vir ‘n solis in die Clemencic Consort moes instaan. Sleutelopnames: Orff se kantate Carmina Burana (onder Plasson); Stradella se oratorium San Giovanni Battista (as Johannes die Doper, onder Minkowski). Verdere opnames: vele kantates van Bach, Bononcini, Caldara, Handel en Vivaldi; Blow se Ode on the Death of Mr Henry Purcell; Charpentier se Lecons de Ténèbres; motette van Galuppi, Monteverdi, A. Scarlatti en Stradella; 4 Italiaanse kantates van Handel; liedere van Dowland en Purcell; A. Scarlatti se oratorium Sedecia (as solis en dirigent); en ‘n versameling Portugese liedere getiteld O Lusitano.

Leusink, Pieter Jan (1958-), Nederlandse dirigent. Hy het as agtjarige met orrellesse begin, en later het orrelstudies aan die Zwolle Konserwatorium gevolg. Terselfdertyd het hy sang en dirigeerkuns bestudeer, en kort na sy graduering het hy in 1984 die Elburg Stadseunskoor in sy geboortestad gestig. Met hulle het hy drie musiektradisies in Elburg ingelui: jaarliks in die Adventstyd, oor Paasfees met Bach se Sint Mattheuspassie, en somerkonserte in Julie en Augustus. Laasgenoemde word gratis aangebied en is al deur meer as 100 000 besoekers bygewoon. Hy toer wyd deur Europa met sy koor, en in 1996 is hul naam na die Hollandse Seunskoor verander. Met hulle en die Nederlandse Bach Collegium het hy in 1999/2000 die volledige gewyde kantates van Bach binne 15 maande op eietydse instrumente opgeneem. Dit is op 60 kompakskywe teen ‘n besonder lae prys uitgereik. Om so ‘n ontsaglike projek in so ‘n kort tydsbestek af te handel, bring onvermydelik ‘n mate van roetine en verlies aan diepte mee. Andersyds word die siklus gekenmerk deur eerlikheid en beskeidenheid. Dus word ‘n hele aantal van die opnames, insluitend Kantates nrs. 33, 34, 42, 43, 45, 49, 56, 57, 70, 74, 87, 88, 104, 119, 125, 127, 129, 148, 164, 176, 188, 192 en 197, deur musiekgidse aangeprys.

Levine, James (1943-), Amerikaanse dirigent en pianis. Hy het in ‘n musikale familie grootgeword en vanaf ‘n vroeë leeftyd klavierlesse ontvang. As tienjarige is sy professionele debuut met die Cincinatti Simfonie-orkes gemaak en drie jaar later is hy na Marlboro om klavier onder Rudolf Serkin te bestudeer. Verdere studies aan die Juilliard Musiekskool het gevolg, onder andere met die bekende leermeester Rosina Lhévinne. Vanaf 1964 tot 1970 was hy Georg Szell se assistent by die Cleveland Orkes, asook solo-pianis in hul konserte. Daar het hy hom in studies van die Klassieke repertorium verdiep onder die grootste vertolker daarvan in die VSA. Sy Britse debuut is in 1970 by die Walliese Nasionale Opera gemaak. Hy het in 1971 sy debuut by die Metropolitan Opera met Tosca gemaak, met soveel sukses dat hy slegs twee jaar later hul hoofdirigent geword het, ‘n pos wat spesiaal vir hom geskep is. In dieselfde jaar (1973) is hy ook as musiekdirekteur van die Ravinia-fees in Chicago aangewys. Vanuit die staanspoor was hy besonder gewild by die Met onder beide die musikante en die publiek, sodat hy met Rafael Kubelik se bedanking as musiekdirekteur in 1974 die pos oorgeneem het. Sedertdien het hy die musikale standaarde van die Met tot die hoogste vlak in dekades opgebou. In sy eerste 30 jaar daar sou hy meer as 2 000 opvoerings van 80 operas dirigeer. Onder sy leiding is die Met se repertorium aansienlik uitgebrei - só het hy die huispremières van I vespri Siciliani (1974), Lulu (1977), Idomeneo (1982), Porgy and Bess (1985) en ander operas gedirigeer. Daarbenewens is die volledige weergawes van La forza del destino, Die Meistersinger von Nürnberg en Parsifal vir die eerste keer onder hom by die Met opgevoer, en in 1986 is hy as artistieke direkteur aangestel. Weens gesondheidsredes dirigeer hy sedert 2010 nie meer by die Met nie, dog in 2013 het hy hul orkes vanuit 'n rolstoel in 'n konsert in New York gedirigeer.

Intussen het Levine debute gemaak by die musiekfeeste in Salzburg (1975) en Bayreuth (1982). Hy het in 1978 ‘n heuglike opvoering van Die Zauberflöte in Salzburg gedirigeer. Met die honderdjarige herdenking van die eerste opvoering van Wagner se Der Ring des Nibelungen by die Met in 1989/90 het hy die eerste Amerikaans-gebore dirigent geword om die epiese siklus daar te dirigeer. Anders as wat in die laat twintigste eeu die mode in van die voorste Europese operahuise geword het, is die opvoerings tradisioneel volgens Wagner se bedoelings onderneem. Van die voorste Wagner-sangers van die tyd is ingespan en die DVD-opnames daarvan word allerweë as die beste weergawes op die mark beskou. Tydens die Salzburg-fees van 1991 het hy hulde gebring aan hul groot musiekdirekteur Herbert von Karajan wat twee jaar tevore oorlede is, deur ‘n opvoering van Beethoven se Missa Solemnis met die Weense Filharmoniese Orkes en bekende soliste te dirigeer. As begaafde Wagner-vertolker het hy in 1994 die Ring-siklus by Bayreuth gedirigeer. Hy het voorts die Chicago Simfonie-orkes in die klankbaan van die rolprent Fantasia 2000 gedirigeer. Daarby is hy bekend vir sy lewenskragtige vertolkings van Verdi-operas, sodat hy in 2001 met die honderdjarige herdenking van die Italiaanse komponis se dood opvoerings van Falstaff en Luisa Miller by die Met gedirigeer het.

Levine se hoë statuur in die musiekwêreld blyk verder uit die feit dat die spelers van die Weense Filharmoniese Orkes hom gekies het om hulle in opnames van Mozart se volledige simfonieë te dirigeer. Vanaf 1999 tot 2004 was hy hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes, wie se instrumentele ensemble onder sy bewind in gehalte toegeneem het. Daarby was hy vanaf 2000 tot 2006 dirigent van die studente-orkes by die Verbier-fees in Switserland. Hy het in 2004 as musiekdirekteur van die Boston Simfonie-orkes by Seiji Ozawa oorgeneem, maar weens gesondheidsredes het hy in 2011 uit die pos bedank. Naas sy loopbaan as dirigent tree hy as klavierbegeleier vir bekende sangers soos Thomas Quasthoff in liedere-voordragte op. Musiek word deur hom beskou as die kragtigste kommunikasiemiddel op aarde, en soos Carlo Maria Giulini dirigeer hy slegs werke waarvan hy die partituur vir ‘n lang tyd bestudeer en oordink het. Sleutelopnames: Beethoven se Missa Solemnis (Salzburg 1991); en die operas Cavalleria rusticana, Manon Lescaut, La forza del destino en Der Ring des Nibelungen (lg. op DVD). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms en Schumann, asook enkeles van Dvorák (nr. 7 en 9), Mahler (nrs. 4 en 5), Mendelssohn (nrs. 3 en 4), Saint-Saëns (nr. 3) en Sibelius; orkeswerke van Bartók, Berlioz, Berg, Dukas en Webern; Brahms se Ein deutsches Requiem; Haydn se Die Schöpfung; Schoenberg se Erwartung; Smetana se Má Vlast; die operas Fidelio, Carmen (DVD), Adriana Lecouvreur, L’elisir d’amore, Andrea Chenier, Così fan tutte, Idomeneo, Tosca, Turandot, Ariadne auf Naxos, Jewgeni Onegin, Aida, Don Carlos, Giovanna d’Arco, I Lombardi, Luisa Miller, Otello, Rigoletto, Il Trovatore, I vespri siciliani, Der fliegende Holländer, Die Meistersinger von Nürnberg (DVD) en Tristan und Isolde; en (as pianis) in Schubert se Forelle-kwintet (met Hetzel, Christ, Faust en Posch).

Lewis, Anthony (1915-83), Engelse dirigent, musiekgeleerde en komponis. Aanvanklik was hy aan die BBC verbonde (1935-46), en daarna was hy 'n hoogleraar aan die Birmingham Universiteit (1947-86) en hoof van die Koninklike Musiekakademie in Londen (1968-82). Hy was 'n gesaghebbende oor sewentiende- en agtiende-eeuse musiek, en het as dirigent veel bygedra om afgeskeepde werke van onder andere Handel en Rameau te herleef. Verder het hy operas van Handel en Purcell geredigeer, en was hy die stigter en redakteur van Musica Britannica. Hy het ‘n pioniersopname van Handel se opera Semele met Jennifer Vyvyan in die titelrol gedirigeer. In 1967 is die CBE aan hom toegeken en vyf jaar later is hy tot ridder geslaan. Sleutelopnames: Purcell se operas King Arthur (1959) en Dido and Aeneas (1962).

Lewis, Henry (1932-), Afro-Amerikaanse klarinettis, kontrabasspeler en dirigent. Hy het kontrabas in die Los Angeles Filharmoniese Orkes gespeel. Later het hy die Strykervereniging van Los Angeles, wat die Los Angeles Kamerorkes sou word, gestig en hul gelei. Verder was hy assistent-dirigent van die Los Angeles Filharmonie (1961-5), musiekdirekteur van die Los Angeles Opera (1965-8) en hoofdirigent van die New Jersey Simfonie-orkes (1968-76). Met sy 1972-debuut by die Metropolitan Opera (in La Bohème) het hy die eerste swart dirigent geword om daar op te tree. Vanaf 1989 was hy hoofdirigent van die Nederlandse Radio Simfonie-orkes in Hilversum. Hy het voortreflike opnames van Hammerstein se Carmen Jones en Meyerbeer se opera Le Prophète gedirigeer.

Lewis, Keith (1950-), Nieu-Seelandse tenoor. In 1976 het hy 'n Kathleen Ferrier-gedenkbeurs gewen en drie jaar later het hy die John Christie-toekenning ontvang. Ook vanaf 1976 het hy by die Chelsea Operagroep en die Engelse Bach-fees gesing. Hy was vanaf 1977 aan die Glyndebourne Toeropera verbonde, met wie hy as Don Ottavio in Don Giovanni gedebuteer het. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1978), die Engelse Nasionale Opera (1982) en San Francisco (1984), asook by die feeste in Glyndebourne (1978) en Salzburg (1989). Onder sy verdere rolle tel Captain Vere in Billy Budd, Golo in Genoveva en Matteo in Arabella. Hy is ook as konsertsanger in gewyde werke bekend. Opnames: Bruckner se Mis nr. 1 en Te Deum (beide onder Best); Handel se Messiah (onder Solti); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Sinopoli); en die genoemde operas van Britten, Mozart, Schumann en Richard Strauss.

Lewis, Richard (1914-90), Engelse tenoor. Hy het in 1939 sy operadebuut as Almaviva in Il barbiere di Siviglia gemaak, en het vanaf 1947 bekend geraak in opvoerings by Glyndebourne en Covent Garden. Die rolle van Troilus in Troilus and Cressida (1954), Mark in The Midsummer Marriage (1955) en Achilles in King Priam (1962) is deur hom geskep. Hy het verder uitgeblink in rolle soos Ferrando in Così fan tutte, die titelrol in Idomeneo, Nero in L'incoronazione di Poppea, Herodes in Salome en die Stuurman in Der fliegende Holländer. Daarby het hy in die eerste uitvoering van Strawinski se Canticum Sacrum (1956) gesing, en vanaf 1975 het hy soms as dirigent opgetree. Hy was 'n ewe begaafde sanger in gewyde werke, soos dié van Handel waarin hy as die voorste tenoor van sy tyd beskou is, en in Gilbert en Sullivan se operettes. Laasgenoemde het rolle ingesluit soos Nanki-Poo in The Mikado en Richard in Ruddigore. Sleutelopname: Coleridge-Taylor se Hiawatha’s Wedding Feast (onder Sargent, 1961). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Klemperer en Szell), Missa Solemnis, Mis in C en Christus am Olberge; Bruckner se Te Deum (onder Klemperer); Elgar se The Dream of Gerontius (onder Barbirolli); Handel se Messiah; Mahler se Das Lied von der Erde (onder beide Ormandy en Reiner); Schoenberg se Gurrelieder (onder Leibowitz); Stainer se The Crucifixion; Tippett se A Child of our time; Verdi se Requiem (onder Giulini); die genoemde operettes, asook HMS Pinafore; die genoemde operas van Monteverdi, Mozart, Richard Strauss, Wagner en Walton; en 'n versameling liefdesduette uit Puccini-operas met die sopraan Leonora Lafayette.

Lhévinne, Rosina (1880-1976), Russiese pianis. Sy het in 1898 haar studies aan die Moskou Konserwatorium voltooi en kort daarna met die pianis Josef Lhévinne (1874-1944) getrou. Hy was ‘n klasmaat van Rachmaninof by die Moskou Konserwatorium. Daarna het hulle wyd getoer en talle uitvoerings gegee. Vanaf 1907 tot 1919 het hulle in Duitsland gewoon. Hulle het in 1920 na die VSA geëmigreer, waar beide vanaf 1922 aan die Juilliard Musiekskool in New York onderrig sou gee. Haar leerlinge het sulke bekende musici soos Van Cliburn, James Levine, Garrick Ohlsson en John Browning ingesluit. Die egpaar het in 1939 in ‘n radio-uitsending van Mozart se Konsert vir 3 klaviere (K.242) met die New York Filharmoniese Orkes gespeel, met ‘n historiese opname wat daarvan gemaak is. Rosina het tot in die 1960’s, toe sy al haar in haar tagtigs was, nog uitvoerings gegee.

Ligendza, Caterina (1937-), Sweedse sopraan. Haar operadebuut is in 1965 in Linz gemaak as die Grafin in Le nozze di Figaro. Daarna was sy verbonde aan die Saarbrücken Opera (1966-9) en die Deutsche Oper in Berlyn (1970-88). Verdere debute is gemaak by die Salzburg Paasmusiekfees (1969), La Scala (1970), die Bayreuth-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1971), Covent Garden (1972) en in Wenen (1973). Haar bekendheid het veral gelê in Wagner-rolle, wat sy in die 1970’s dikwels by Bayreuth gesing het. Sy het uitgeblink as Eva in ‘n hoogstaande opname van Die Meistersinger von Nürnberg onder Eugen Jochum, en as Gutrune in Götterdämmerung onder Herbert von Karajan.

Ligeti, András (1953-), Hongaarse dirigent. Hy was vanaf 1976 tot 1980 leier van die Hongaarse Staatsopera se orkes, en is sedert 1985 mededirigent van die Boedapest Simfonie-orkes. Sy Britse debuut is in 1989 met die BBC Simfonie-orkes gemaak.

Lill, John (1944-), Engelse pianis. Hy het in 1963 sy debuut in Londen gemaak en was sewe jaar later 'n medewenner van die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou. Met sy aristokratiese, helder spel is hy uitmuntend in die musiek van Beethoven en Brahms. Sy opnames van Beethoven se volledige klaviersonates in die 1970’s het aan hom wye roem besorg. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven en Brahms; Beethoven se Koorfantasie (onder Alexander Gibson) en Bagatelles; en solowerke van Prokofiëf, Rachmaninof en Schumann.

Lima, Luis (1948-), Argentynse tenoor. Nadat hy in 1974 in Lissabon as Turiddu in Cavalleria rusticana gedebuteer het, het hy vir twee jaar in Duitse operahuise gesing. Verdere debute het gevolg by La Scala (1977), die Metropolitan Opera (1978), die Salzburg-fees (1984), Covent Garden (1985) en in San Francisco (1992). Onder Richard Bonynge het hy die rol van die Koning in ‘n uitstekende opname van Le Roi de Lahore gesing.

Lin, Cho-Liang (1960-), Sjinees-gebore violis. Hy het vanaf sewejarige leeftyd in die openbaar opgetree en in 1970 die Taiwannese nasionale jeugkompetisie gewen. In 1976 is sy debute in die VSA (in Philadelphia) en Londen gemaak, en in die jaar daarop het hy die eerste prys in die internasionale Koningin Sofia-kompetisie in Madrid gewen. Hy het in 1988 ‘n Amerikaanse burger geword. Met sy suiwer toonkleur, foutlose intonasie en aristokratiese spel is hy een van die voorste viool-virtuose van sy tyd. Sleutelopnames: Haydn se vioolkonsert nr. 1 (onder Marriner); Saint-Saëns se vioolkonsert nr. 3 (onder Tilson Thomas); Sibelius se vioolkonsert (onder Salonen). Verdere opnames: vioolkonserte van Bruch, Mendelssohn, Mozart, Nielsen, Prokofiëf en Strawinski; Bruch se Skotse fantasie; Kreisler se Liebesfreud; Mozart se Sinfonia concertante en Konsert vir twee viole, hobo, tjello en orkes (beide met Jaime Laredo as mede-solis); Ravel se Tzigane; Sarasate se Inleiding en Tarantelle; en vioolsonates van Debussy, Poulenc en Ravel.

Linde, Hans-Martin (1930-), Duits-gebore Switserse fluitspeler en komponis. Hy was vanaf 1951 vir vyf jaar ‘n solis met die Wes-Duitse Radio-orkes in Keulen. Daarna het hy aan die Schola Cantorum in Basel onderrig in Barok- en blokfluit gegee. Verder was hy 'n lid van die ‘Schola Cantorum Basiliensis’, asook dirigent van ‘n sangensemble (vanaf 1965) en ‘n kamerorkes (vanaf 1970). As bekende in vroeë musiek het hy die Linde Consort gestig vir die uitvoering daarvan. Hulle het in 1981 ‘n uitstekende opname van Bach se volledige Brandenburgkonserte gemaak. Daarbenewens het hy in ‘n duet met die violis Frans Brüggen gespeel. Verdere opnames: Bach se Musikale Offer, Kantates nrs. 211 en 212, en Misse in A en G; en vier Divertimento's van Haydn.

Lindsay Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1964 by die Koninklike Musiekakademie gestig is. Sedert 1979 is hulle aan die Manchester Universiteit verbonde, en vyf jaar later het hul die Sheffield Kamermusiekfees gestig. Daar sit die musici in die middel van die teater, met die gehoor rondom. Met hul gevoelvolle, intelligente spel is die ensemble ewe begaafd in moderne en Klassieke werke. Hulle het ‘n noue verbintenis met die komponis Tippett geniet, sodat hul die premières van sy vierde (1979) en vyfde (1992) strykkwartette gegee het. Daar is bekendgemaak dat hulle in 2005 sou ontbind, nadat hul die volledige strykkwartette van Haydn opgeneem het. Sleutelopnames: Beethoven se strykkwartette nrs. 11-13, en Grosse Fuge; Haydn se strykkwartette nrs. 34, 38, 39, 44-49, 50-56, 61, 63-65, 67, 69-71, 75-80; Schubert se strykkwartette nrs. 12 en 14, en sy strykkwintet (met Cummings as ekstra tjellis); Smetana se 2 strykkwartette. Verdere opnames: strykkwartette van Barber, Bartók (volledig), Beethoven (volledig, twee siklusse), Borodin (volledig), Britten, Dvorák, Haydn (31-35, 37, 40, 47, 57-62), Janácek, Mozart, A. Tsjaikofski, Tippett (volledig), Wiren en Wood; Borodin se Strykersekstet (met Williams en R. Wallfisch); strykkwintette van Dvorák en Mozart (met Patrick Ireland as ekstra altviolis); Haydn se Die sieben letzte Worte; en klavierkwintette van Dvorák en Martinu (met Peter Frankl as pianis).

Lipatti, Dinu (1917-50), Roemeense pianis en komponis. As leerling van Alfred Cortot en Nadia Boulanger was hy in 1934 ‘n pryswenner in die Weense internasionale kompetisie. Vanaf 1943 het hy vir drie jaar aan die Geneefse Konserwatorium onderrig gegee. Hy het Brittanje vier keer tussen 1946 en 1948 besoek, maar sy briljante loopbaan is deur bloedkanker kortgeknip. Hy was een van die voorste vertolkers van Mozart, Chopin en Schumann van sy tyd, maar sy repertorium het vanaf Bach tot by Ravel gestrek. Slegs drie maande voor sy dood op 33-jarige leeftyd het hy ‘n laaste voordrag by die Besancon-fees gegee, met ‘n klassieke opname wat daarvan gemaak is. Sleutelopname: Chopin se 14 Walse (in sy laaste lewensjaar in Genève opgeneem). Verdere opnames: klavierkonserte van Chopin, Grieg, Liszt, Mozart (nr. 21) en Schumann; solowerke van Bach, Brahms, Chopin, Enescu, Liszt, Mozart, Ravel, D. Scarlatti en Schubert; en Brahms se Walse vir vier hande (met Nadia Boulanger).

Lipovsek, Marjana (1946-), Sloweense mezzosopraan. Sy het in 1979 by die Weense Opera gedebuteer en twee jaar later ook by die Salzburg-fees. Sedert 1983 is sy ‘n lid van die Beierse Staatsopera in München, en in 1986 het sy die rol van Rosa Sacchi tydens die première van Penderecki se opera Die schwarze Maske in Salzburg geskep. Haar debute by Covent Garden en die Metropolitan Opera het beide in 1990 plaasgevind. Met haar warm, sterk stem is sy uitmuntend in rolle soos die Heks in Hänsel und Gretel, Marina in Boris Godoenof, Marfa in Khowansjina, die Prinses in Suor Angelica, die Hoëpriesteres in Penthesilea, Orlofski in Die Fledermaus, Jocasta in Oedipus Rex, Fricka in Das Rheingold en Die Walküre, Waltraute in Götterdämmerung en Brangäne in Tristan und Isolde. Daarby is sy ‘n begaafde konsertsangeres in die Duitse repertorium. Opnames: Bach se Kantate nr. 205; Beethoven se negende simfonie (onder Sawallisch) en Missa Solemnis; Brahms se Alt Rapsodie; Liszt se oratorium Christus; Mahler se derde simfonie (onder Bisjkof), Das Lied von der Erde (onder Bertini) en Kindertotenlieder; Martin se Der Cornet; Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream; liedere van Moessorgski; Schubert se Mis nr. 6, en van sy liedere (met Geoffrey Parsons as begeleier); Schmidt se Das Buch mit sieben Siegeln (onder Harnoncourt); Verdi se Requiem (onder Abbado); Wagner se Wesendonck Lieder (onder Sawallisch); die genoemde operette van Johann Strauss; die genoemde operas van Humperdinck, Moessorgski, Puccini, Schoeck, Strawinski en Wagner, asook Giulio Cesare.

Lipp, Wilma (1925-), Oostenrykse sopraan. Nadat sy in 1943 haar debuut in Wenen gemaak het as Rosina in Il barbiere di Siviglia, het sy vanaf 1945 by die Weense Opera gesing. Daarna het debute gevolg by die Salzburg-fees (1948), Covent Garden en die Bayreuth-fees (beide in 1951), die Glyndebourne-fees (1957) en in San Francisco (1962). By Salzburg het sy geskitter as die Koningin van die Nag in twee opnames van Die Zauberflöte onder Wilhelm Furtwangler, in 1949 en 1951. Sy was ‘n solis in Otto Klemperer se uitvoering van Beethoven se negende simfonie by die Weense Fees in 1960, met ‘n opname wat gemaak is. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Horenstein); Brahms se Ein deutsches Requiem; Mozart se Requiem; en die operette Die Fledermaus (as Adèle, onder Ackermann en Krauss).

Lipton, Martha (1916-), Amerikaanse mezzosopraan. Haar operadebuut het in 1941 in New York plaasgevind as Pauline in Pique Dame. Drie jaar later het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer, waar sy tot 1961 in bykans 300 opvoerings sou verskyn. Dit sluit in as Maddalena in ‘n historiese 1945-opname van Rigoletto onder Cesare Sodero en in 1952 in die Amerikaanse première van Der Corregidor. Sy het ook in Wenen en Parys gesing, en was vanaf 1960 ‘n hoogleraar in sang aan die Indiana Universiteit se musiekskool. Verdere opnames: Bruckner se Te Deum (onder Bruno Walter); Mahler se derde simfonie (onder Leonard Bernstein) en agste simfonie (onder Leopold Stokowski).

List, Emanuel (1886-1967), Oostenrykse bas (gebore Flessing). Hy het as seun in die koor van die Theater an der Wien in die Oostenrykse hoofstad gesing. Na formele sangopleiding het hy as lid van ‘n komiese vokale kwartet deur Europa getoer. Hy het voorts in die VSA gesing en verdere sangstudies onder Zuro in New York onderneem. In 1920 het hy na Wenen teruggekeer, waar hy twee jaar later sy operadebuut sou maak. Dit was in die titelrol van Gounod se Méphistophélès by die Volksoper. Hy het vervolgens gesing by die Berlynse Stadsopera (1923-35) en Staatsopera (1924-33), Covent Garden (1925, 1934-6), en die musiekfeeste in Salzburg (1931-5) en Bayreuth (1933). Sy debuut by die Metropolitan Opera is in 1933 gemaak, waarna hy tot 1950 aan die teater verbonde sou wees. By die Met het hy altesaam 449 verskynings in 17 rolle gemaak. Dit sluit ‘n historiese 1937-opname van Das Rheingold onder Artur Bodanzky in. Hy was uitmuntend in die groot Duitse basrolle soos Rocco in Fidelio, Osmin in Die Entführung aus dem Serail, Commendatore in Don Giovanni, Sarastro in Die Zauberflöte, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Koning Mark in Tristan und Isolde, Hagen in Götterdämmerung, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Fafner in Das Rheingold en Hunding in Die Walküre. By Covent Garden het hy in Fritz Reiner se gevierde 1936-opname van Tristan und Isolde verskyn. Daarby het hy gesing in Chicago (1935-7) en San Francisco, en het hy liedere-voordragte gegee. Hy het in 1952 na Wenen teruggekeer.

List, Eugene (1918-85), Amerikaanse pianis. As jong tiener is sy openbare debuut in 1930 met die Los Angeles Filharmoniese Orkes gemaak. Vier jaar later het hy in Philadelphia die eerste Amerikaanse uitvoering van Sjostakowitsj se eerste klavierkonsert gegee. In 1945 het hy tydens die Potsdam Konferensie wat op die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog in Europa gevolg het, in die teenwoordigheid van die Geallieerde leiers Truman, Stalin en Churchill gespeel. As kampvegter vir die musiek van Gottschalk het hy die volledige klavierwerke van dié komponis in meesterlike vertolkings opgeneem. Later in sy loopbaan het hy aan die Eastman Musiekskool onderrig gegee (1964-75), en daarna by die New York Universiteit.

Little, Tasmin (1965-), Engelse violis. Sy het in 1990 haar debuut by die Londense Proms gemaak en spoedig ‘n wye repertorium opgebou. Dit sluit minder bekende moderne werke in, soos Saxton se vioolkonsert waarvan sy in 1989 die eerste uitvoering gegee het. Met haar intense, poëtiese spel is sy tans een van die voorste viool-virtuose ter wêreld, veral in die Romantiese en moderne repertoriums. Sy word dikwels deur die vermaarde pianis Martin Roscoe in haar uitvoerings en opnames begelei. Sleutelopnames: Sibelius se vioolkonsert (onder Vernon Handley); Vaughan Williams se The Lark Ascending (onder Andrew Davis). Verdere opnames: vioolkonserte van Brahms, Bruch, Delius, Dvorák, Karlowicz, Moszkowski en Rubbra; Bruch se Skotse fantasie; Delius se Dubbelkonsert (met Raphael Wallfisch); Lalo se Symphonie espagnole; Pärt se Fratres en Spiegel im Spiegel (beide met Roscoe); vioolsonates van Bax, Debussy, Elgar, Poulenc en Ravel; en solowerke van Bloch, Brahms, Fibich, Kreisler, Sarasate en Wieniafski.

Litton, Andrew (1959-), Amerikaanse dirigent. Hy het aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer, met die bekende dirigent Sixten Ehrling as een van sy leermeesters. In 1982 het hy die internasionale dirigeerkompetisie van die BBC Rupert-Stigting gewen, en in dieselfde jaar is sy Londense debuut by die Proms gemaak. Daarna was hy assistent-dirigent van die Nasionale Simfonie-orkes in Washington (1982-6) en hoofdirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes (1988-94). Met laasgenoemde het hy die volledige simfonieë en die Manfred Simfonie van Tsjaikofski opgeneem, in vertolkings wat allerweë as een van die beste siklusse daarvan beskou word. Verdere debute het plaasgevind by die Metropolitan Opera (1989) en Covent Garden (1992). Sedert 1994 is hy musiekdirekteur van die Dallas Simfonie-orkes. Opnames: die volledige simfonieë van Rachmaninof en Walton, asook Sjostakowitsj se sesde; orkeswerke van Gershwin; kerkmusiek van Michael Haydn en Mozart; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; en Tsjaikofski se Capriccio italien, Romeo en Juliet Fantasie Ouverture, Strykerserenade en Die Storm.

Lloyd, Robert (1940-), Engelse bas-bariton. Nadat hy in 1969 sy debuut in Londen gemaak het as Don Fernando in Fidelio, het hy tot 1972 by Sadler’s Wells gesing. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees en Covent Garden (beide in 1972), San Francisco (1975), La Scala (1976) en die Metropolitan opera (1988). In 1979 het hy ‘n sangprys in München gewen, en twee jaar later het hy die rol van Gurnemanz in ‘n rolprentweergawe van Parsifal vertolk. By die Glyndebourne-fees van 1984 het hy uitgeblink as Seneca in L’incoronazione di Poppeia, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Hy het in 1990 die eerste Brit geword om die titelrol in Boris Godoenof by die Kirof Teater te sing, met ‘n hoogstaande DVD-opname wat daarvan gemaak is. Onder sy verdere rolle tel Rocco in Fidelio, Lorenzo in I Capuleti ed i Montecchi, Narbal in Les Troyens, Superintendent Budd in Albert Herring, Bottom in A Midsummer Night's Dream, Peachum in The Beggar's Opera, Publio in La clemenza di Tito, Sarastro in Die Zauberflöte, Ashby in La fanciulla del West, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Trulove in The Rake's Progress, die Konstabel in Hugh the Drover, die Monnik in Don Carlos en Banquo in Macbeth. Daarby is hy met sy edel, resonante sang ‘n begaafde konsertsanger, veral in gewyde werke. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Dohnányi) en Missa solemnis; Elgar se The Dream of Gerontius en The Apostles; Moessorgski se liedere-siklus Liedere en danse van die Dood (onder Jansons); Mozart en Verdi se dodemisse; liedere van Warlock; die genoemde operas van Beethoven, Bellini, Berlioz, Britten, Gay, Mozart, Puccini, Rossini, Strawinski, Vaughan Williams en Verdi, asook Béatrice et Bénédict, Lucia di Lammermoor, Semele, Werther, L'assedio di Corinto, Samson et Dalila, Rigoletto en The Rhinegold (in Engels).

Lloyd-Jones, David (1934-), Engelse dirigent. Hy het vanaf 1967 opera gedirigeer by die Wexford-fees, die Skotse Opera en die Walliese Nasionale Opera. In 1971 het hy by Covent Garden gedebuteer met ‘n opvoering van Boris Godoenof. Onder sy vroeë prestasies tel die Britse premières van Pénélope (1970) en La fedeltà premiata (1971), asook die eerste Britse verhoogproduksie van Oorlog en Vrede. Laasgenoemde het in 1972 plaasgevind tydens sy debuut by Sadler’s Wells. Hy was artistieke direkteur van Opera Noord in Leeds vanaf die stigting van die geselskap in 1978 tot 1990. Daar het hy die Britse premières van Jonny spielt auf (1984) en Daphne (1987) gedirigeer. As gesaghebbende in Russiese opera het hy vertalings van Boris Godoenof en Jewgeni Onegin onderneem, en het hy eersgenoemde en Prins Igor geredigeer. Hy was die musiekadviseur in die BBC-rolprent Anna Karenina (na Tolstoi se epiese roman). Sedert 1989 is hy artistieke direkteur van opera by die Guildhall Musiekskool. Daarby dirigeer hy dikwels die Engelse Noordelike Philharmonia en die Koninklike Skotse Nasionale Orkes, met wie hy vele hoogaangeskrewe opnames van Britse orkesmusiek gemaak het. Daaronder tel die volledige simfonieë van Bax en die eerste opname van Holst se The Mystic Trumpeter (met die sopraan Claire Rutter). Sleutelopnames: Bax se simfonieë nrs. 5 en 6; Holst se The Planets; Lambert se Aubade héroïque, The Rio Grande en Summer’s last Will and Testament; Vaughan Williams se Job en The Lark Ascending; Walton se Façade Suites. Verdere opnames: Dyson se Simfonie in G; en orkeswerke van Bliss, Delius, Elgar, Holst, Rawsthorne en Sullivan.

Lloyd Webber, Julian (1951-), Engelse tjellis. Hy het in 1972 sy debuut in Londen gemaak en in dieselfde jaar het hy die Londense première van Bliss se tjellokonsert gegee. Verdere studies het in Frankryk onder Pierre Fournier plaasgevind en in 1980 het hy in die VSA gedebuteer. Onder sy verdere eerste uitvoerings tel Rodrigo se tjellokonsert (1982), Sullivan se tjellokonsert (1986) en Headington se Serenade (1995). Verder het hy in 2001 in Beijing die eerste uitvoering van Glass se tjellokonsert met die Sjinese Filharmoniese Orkes gegee. Sy bekendheid lê merendeels in laat-Romantiese en moderne musiek. Opnames: tjellokonserte van Bryars, Delius, Elgar, Glass, Honegger, Lalo, Miaskofski, Rodrigo, Saint-Saëns, Sullivan en Walton; Tsjaikofski se Rococo Variasies; Bantock se Sapphic Poem (onder Handley); en ander werke van Delius, Dyson, Elgar, Fauré, Grainger, Holst, d’Indy, Ireland, Scott en Vaughan Williams. Hys is ‘n broer van die komponis Andrew Lloyd Webber (gebore 1948), wat sy Variations vir tjello en jazz-ensemble vir hom geskryf het.

Lockhart, James (1930-), Skotse dirigent, orrelis en pianis. Aanvanklik was hy 'n assistent-orrelis en koormeester van die Sint Giles-katedraal in Edinburgh (1946-51). Vervolgens was hy dirigent en koormeester van die Sint John's-kerk in Kennington (1951-3) en van die All Souls-kerk in Langham Place (1953/4). Hy was verder 'n leerlingdirigent by die Yorkshire Simfonie-orkes (1954/5), en 'n assistent-dirigent by die Munster Opera (1955/6), die Beierse Staatsopera in München (1956/7) en die Glyndebourne-fees (1957-9). Daarna was hy 'n repetiteur by laasgenoemde (1962-8), 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Koninklike Musiekkollege (1962-72), musiekdirekteur van die Walliese Nasionale Opera (1968-73) en dirigent by die Kassel Opera (1972-80). In 1984 het sy debuut by die Metropolitan Opera plaasgevind. Hy was vanaf 1966 vir sewe jaar direkteur van opera aan die Koninklike Musiekkollege, en sedert 1993 beklee hy dié pos by die sangafdeling van die Londense Koninklike Skool. Naas sy operaloopbaan was hy ‘n klavierbegeleier vir die briljante sopraan Margaret Price in haar liedere-voordragte en -opnames.

Lombard, Alain (1940-), Franse dirigent. Hy het sy dirigeerdebuut in 1951 met die Pasdeloupe Orkes gemaak en later as assistent-dirigent by die Lyon Opera gewerk (1961-5). Verdere debute is gemaak in New York (1963), en by die Metropolitan Opera (1966) en die Salzburg-fees (1971).  In 1966 het hy die Mitropoulos-dirigeerkompetisie gewen, waarna hy musiekdirekteur was van die Miami Filharmoniese Orkes (1966-74), die Strasbourg Filharmoniese Orkes (1972-83), die Opéra du Rhin in Strasbourg (1974-80), die Parys Opera (1981-3) en die Opéra Comique (1983-6). Sedert 1988 is hy artistieke direkteur van die Orchestre Nationale Bordeaux Aquitaine. By die Verona-fees het hy ‘n idiomatiese opvoering van Carmen gedirigeer, met Franco Zeffirelli as regisseur van die DVD-opname. Verdere opnames: Offenbach se operette La Périchole, en die operas Così fan tutte, Turandot en Otello.

Londense Bach-Koor, Britse vokale ensemble wat in 1876 deur Otto Goldschmidt gestig is. Hy het hulle tot 1885 gedirigeer en is opgevolg deur sulke groot musici soos Stanford, Vaughan Williams, Boult en Willcocks. Benewens Bach se koorwerke voer hulle heelwat moderne werke uit.

Londense Filharmoniese Orkes, Britse orkes wat in 1932 deur Thomas Beecham as teenvoeter vir die BBC Simfonie-orkes gestig is. Sedert 1939 is hulle selfbesturend en sedert 1964 is hulle die gereelde orkes by die Glyndebourne Opera. Onder hul hoofdirigente het Eduard van Beinum, Adrian Boult (1951-7), William Steinberg (1958-62), John Pritchard (1962-7), Bernard Haitink (1967-79), Georg Solti (1979-83), Klaus Tennstedt (1983-7) en Franz Welser-Möst (1990-6) getel.

Londense Konsertorkes, Britse orkes wat in 1972 deur die impresario Raymond Gubbay gestig is. Die eerste musiekdirekteur was Marcus Dods, en oor die jare het die orkes met ‘n hele aantal bekende dirigente, instrumentaliste en sangers saamgewerk. Sedert die opening van die Barbican-sentrum in Londen in 1982 speel die orkes in die gewilde konserte daar. In die volgende 10 jaar sou hul in nie minder nie as 1 000 Barbican-konserte optree. Sedert 2000 speel die orkes ook jaarliks in die Kultuur- en Kongressentrum in Luzern.

Londense Simfonie-orkes, Britse orkes wat in 1904 gestig en vanuit die staanspoor selfbesturend was. Hul eerste hoofdirigent was Hans Richter (1904-11), en in 1912 is ‘n Amerikaanse toer onder Arthur Nikisch onderneem. Sedert die Tweede Wêreldoorlog is hul gelei deur Josef Krips (1950-4), Pierre Monteux (1961-4), Istvan Kertész (1965-8), André Previn (1968-79), Claudio Abbado (1979-88), Michael Tilson Thomas (1988-95) en (sedert 1995) Colin Davis. Hul debuut by die Salzburg-fees is in 1973 onder Previn gemaak. Die ensemble is bekend vir hul skerp, briljante klank, sodat dit nie verbasend is dat hulle al in talle rolprentklankbane gespeel het nie. Met die orkes se eeufeesviering in 2004 het hulle ‘n Lewenslange Prestasie-toekenning van Gramophone ontvang.

Londense Sinfonietta, Britse kamerorkes wat in 1968 deur David Atherton en Nicholas Snowman gestig is. Hulle spesialiseer in moderne musiek en het meer as tweehonderd eerste uitvoerings gegee. Só is Tavener se koorwerk The Whale reeds met hul eerste konsert uitgevoer. Sedert 1994 is Markus Stenz hul hoofdirigent.

London, George (1920-84), Amerikaanse bariton van Russies-Joodse afkoms. Hy het in 1941 sy debuut by die Hollywood Bowl gemaak en twee jaar later by die San Francisco Opera. Laasgenoemde was as Monterone in Rigoletto. Vanaf 1947 was hy ‘n lid van die Bel Canto Trio (met die sopraan Frances Yeend en die tenoor Mario Lanza) wat deur die VSA getoer het. Daarna het hy gesing by die Weense Opera (vanaf 1949), en vanaf 1951 tot 1966 was hy aan die Metropolitan Opera verbonde. Verdere debute het gevolg by die feeste in Glyndebourne (1950), Bayreuth (1951) en Salzburg (1952), asook by La Scala (1952). Verder het hy in 1955 die rol van Mandryka in Arabella geskep tydens die Met-première daarvan. Vyf jaar later het hy die eerste Amerikaner geword om die titelrol in Boris Godoenof by die Bolsjoi Teater in Moskou te sing. As uitmuntende Wagner-sanger het hy vanaf 1962 vir drie seisoene die rol van Wotan gesing in die regisseur Wieland Wagner se Ring-opvoerings in Keulen. Met sy donker stem was hy ook begaafd as Scarpia in Tosca, in die titelrol van Der fliegende Holländer, en as Amfortas in Parsifal en Wolfram in Tannhäuser. In 1966 het hy vanweë swak gesondheid uit opera getree, waarna hy as administrateur aan operaverenigings in Washington en Los Angeles verbonde was. Hy het in 1973 sy debuut as verhoogdirekteur in Seattle gemaak. Opnames: Hindemith se When lilacs last in the dooryard bloom'd; Mahler se agste simfonie (onder Stokowski) en Kindertotenlieder (onder Klemperer); die genoemde operas van Puccini, Richard Strauss en Wagner, asook Das Rheingold (onder Solti).

London Mozart Players, Britse kamerorkes wat in 1949 deur die violis Harry Blech gestig en tot 1984 deur hom gedirigeer is. Gedurende dié tyd het hulle in die musiek van Haydn en Mozart gespesialiseer, maar ook vele eerste uitvoerings van moderne werke gegee. Hulle toer wyd en het bekroonde opnames van werke deur minder bekende tydgenote van Mozart gemaak. Blech is opgevolg deur Jane Glover (1984-91), en sedert 1993 is Matthias Bamert die musiekdirekteur.

Long, Kathleen (1896-1968), Engelse pianis. Sy was bekend vir haar helder, sensitiewe vertolkings van die Klassieke repertorium en van Fauré. In 1946 het sy in die eerste opname van haar landgenoot Walter Leigh se Concertino vir klavier en strykorkes onder Boyd Neel gespeel. Helaas het sy nie veel opnames nagelaat om van haar besondere artistieke vermoëns te getuig nie. Verdere opnames: Fauré se Ballade; en Mozart se klavierkonserte nrs. 15 en 24.

Long, Marguérite (1874-1966), Franse pianis. Sy het onder die komponis Debussy studeer en in 1920 haar eie musiekskool gestig. Daarby het sy die komponiste Fauré en Ravel persoonlik geken. Die groot violis Jacques Thibaud het hom in 1940 by haar skool gevoeg, en drie jaar later het hulle ‘n internasionale kompetisie gestig wat steeds hul name dra. Intussen het sy in 1939 in ‘n historiese opname van Beethoven se derde klavierkonsert onder Felix Weingartner gespeel. As kampvegter vir moderne Franse musiek het sy ‘n loopbaan van langer as sewentig jaar gehad. Só het sy in 1919 die eerste uitvoering van Ravel se Le Tombeau de Couperin gegee. Hy het ook sy Klavierkonsert in G majeur aan haar opgedra, waarvan sy in 1932 in die eerste uitvoerings in Parys en Londen onder die komponis self gespeel het. Diep in haar tagtigs (in 1960) het sy ‘n boek oor Debussy gepubliseer.

López-Cobos, Jesús (1940-), Spaanse dirigent. Nadat hy in 1969 die Besancon-dirigeerkompetisie gewen het, het hy in dieselfde jaar sy konsertdebuut by die Praag Lentefees asook sy operadebuut in Venesië gemaak. Laasgenoemde was met ‘n opvoering van Die Zauberflöte. Verdere debute is gemaak in Berlyn (1970), San Francisco (1972), by Covent Garden (1975) en die Metropolitan Opera (1978). Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Deutsche Oper in Berlyn (1981-90), met wie hy in 1987 die eerste Ring-siklus in Japan opgevoer het. Daarby was hy dirigent van die Spaanse Nasionale Orkes (1984-9) en musiekdirekteur van die Cincinatti Simfonie-orkes (vanaf 1986). Sedert 1990 is hy ook musiekdirekteur van die Lausanne Kamerorkes. Hy het by die Liceu Teater in Barcelona opvoerings van Il Viaggio a Reims (2003) en Rigoletto (2004) gedirigeer, met DVD-opnames wat gemaak is. By die Real Teater in Madrid het hy in 2005 ‘n voortreflike opvoering van La traviata gedirigeer, met ‘n DVD wat insgelyks gemaak is. Sleutelopnames: Rossini se operas Le Comte Ory (Pesaro 2003) en L’Italiana in Algeri (Lausanne); en Turina se Danzas fantasticas, La procession del Rocio en Sinfonia sevillana (Cincinatti). Verdere opnames: Goldmark se Landelike Bruilofsimfonie; Honegger se tweede en vierde simfonieë; Poulenc se Gloria; Respighi se Antieke arias en danse, Botticelli-skilderye en Romeinse Feeste; Sjostakowitsj se simfonie nr. 15; en die operas Lucia di Lammermoor, Manon, Il barbiere di Siviglia en Otello (van Rossini).

Lorengar, Pilar (1921-96), Spaanse sopraan. Sy het haar debuut in 1949 in Zarzuelas gemaak, en drie jaar later is dit gevolg deur haar konsertdebuut. Verdere debute is gemaak in New York en by Covent Garden (beide in 1955), by die feeste in Glyndebourne (1956) en Salzburg (1961), by San Francisco (1964) en die Metropolitan Opera (1966). Sy was vir langer as drie dekades (1958-91) 'n lid van die Deutsche Oper in Berlyn. Met haar suiwer, gevoelvolle stem was sy bekend in rolle soos Euridice in Orfeo ed Euridice, Regina in Mathis der Maler, Donna Elvira in Don Giovanni, Ilia in Idomeneo, Violetta in La Traviata, en die titelrolle in Rusalka en Madama Butterfly. Sy was allerweë gewild om haar warm persoonlikheid. Opnames: Beethoven se Egmont-musiek (onder Georg Solti); Dvorák se Requiem; Gounod se Sint Cecilia-mis; ‘n versameling Spaanse liedere (met die pianis Alicia de Larrocha); en die genoemde operas van Gluck, Hindemith, Mozart en Verdi.

Lorenz, Max (1901-75), Duitse tenoor. Hy het in 1927 sy debuut in Dresden as Walther in Tannhäuser gemaak. Daarna was hy verbonde aan die Berlynse Staatsopera (1929-44), die Weense Staatsopera (1929-33, 1936-44 en 1954) en die Metropolitan Opera (1931-4, 1947-50). Hy het ook opgetree by Covent Garden (vanaf 1934) en die Bayreuth-fees (1933-41 en 1952). Sy bekendheid het grotendeels berus op sy meesterlike sang in Wagner-rolle soos Siegfried in die Ring, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg, die titelrolle in Parsifal en Tannhäuser, en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. Dit het meegebring dat hy deur niemand minder nie as Winifred Wagner, kleindogter van die komponis en artistieke direkteur by Bayreuth, teen Nazi-vervolging beskerm is, sy homoseksualiteit en Joodse vrou ten spyt. Hy was ewe begaafd in Verdi-rolle soos Radames in Aida en die titelrol in Otello, sodat hy deur kenners as een van die voorste heldentenors van die twintigste eeu beskou word. By die Weense Opera het hy in klassieke opnames van arias en duette uit die genoemde operas opgetree. Vanaf die 1940’s het sy sang egter wisselvallig geword, sodat hy mettertyd meer op hedendaagse werke gekonsentreer het. Hy het vanaf 1953 gereeld by die Salzburg-fees verskyn, waar hy verskeie rolle in moderne operas van Egk, Einem, Liebermann en Wagner-Régeny geskep het.

Loriod, Yvonne (1924-2010), Franse pianis. Sy is in 1961 met die komponis Messiaen getroud en was ‘n gesaghebbende in sy musiek, waarvan sy die meeste opgeneem het. Daaronder tel Vingt regards sur l'enfant Jésus (vir klaviersolo), 3 Petites Liturgies de la Presence Divine (met haar suster Jeanne), La Transfiguration de Notre Seigneur Jésus-Christ (onder Doráti), Oiseaux exotiques (onder Rickenbacher), Réveil des oiseaux (onder Rosbaud), Quatuor pour la fin du Temps (met Meyer, Poppen en Fischer-Dieskau) en die Vierdubbele Konsert. Laasgenoemde is opgeneem met Catherine Cantin, Heinz Holliger en Mstislaf Rostropowitsj, as die soliste vir wie die werk geskryf is. Kort voor haar man se dood in 1990 het sy en haar suster in ‘n hoogstaande opname van sy Turangalîla simfonie onder Myung-Whun Chung gespeel. Verder het sy die eerste Paryse uitvoerings van konserte deur Bartók, Mozart en Schoenberg gegee, asook van solowerke deur Boulez en andere. Sy was voorts ‘n hoogleraar aan die Parys Konserwatorium.

Lortie, Louis (1959-), Kanadese pianis. Hy het op sewe met klavierlesse begin, en vanaf 1968 het hy jaarliks goed gevaar in Kanadese musiekkompetisies. Nadat hy in 1975 kompetisies van die Kandese Uitsaai-korporasie (CBC) gewen het, is hy na Wenen vir verdere studies. Hy het ook onder Menahem Pressler aan die Indiana Universiteit studeer, en in 1978 was hy ‘n solis met die Toronto Simfonie-orkes se toer deur Sjina en Japan. Sy debuut met die orkes is met Liszt se eerste klavierkonsert gemaak. Hy het in 1983 met die Sjanghai Filharmoniese Orkes getoer, en in die jaar daarop het hy die internasionale Busoni-kompetisie gewen. Sy debute in Washington D.C. en Londen is in 1985 gemaak, en twee jaar later het hy die volledige klavierwerke van Ravel uitgevoer ter herdenking van die komponis se afsterwe 50 jaar tevore. In 1995 is hy as offisier in die Orde van Kanada aangewys. Hy het vanaf dieselfde jaar tot 1998 kamermusiek gespeel in ‘n trio met die tjellis Antonio Lysy en die violis Yehonatan Berick. In 2002 het hy Mozart se volledige klavierkonserte met die Montreal Simfonie-orkes uitgevoer. Met sy verfynde, weldeurdagte spel wat altyd in diens van die komponis is, is hy uitmuntend in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Hy is tans besig met ‘n projek om Beethoven se volledige klaviersonates op te neem. Oor die jare het hy ‘n hele aantal pryse en toekennings vir sy opnames ontvang. Daarby gee hy onderrig aan die Internasionale Klavierakademie in Imola, Italië. Sleutelopname: Chopin se 24 Preludes. Verdere opnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 1, 2, 3, 11, 12, 16, 17, 18, 19 en 20; Liszt se 2 klavierkonserte, ‘n versameling konsertparafrases vir klavier en orkes, en ‘n versameling verwerkings van Beethoven en Schumann vir klaviersolo; Ravel-werke vir klavierduet (met Hélène Mercier); Schubert se Fantasia in F mineur (met Mercier); Schumann se Fantasia in C.

Los Angeles Filharmoniese Orkes, Amerikaanse simfonie-orkes wat in 1919 gestig is. Hul eerste dirigent was W.H. Rothwell (1919-27), en onder sy opvolgers het getel Georg Schnéevoigt (1927-9), Artur Rodzinski (1929-33), Otto Klemperer (1933-9), Alfred Wallenstein (1943-56), Eduard van Beinum (1956-9), Zubin Mehta (1962-77), Carlo Maria Giulini (1978-84) en André Previn (1986-9). Sedert 1992 is Esa-Pekka Salonen hul hoofdirigent.

Lott, Felicity (1947-), Engelse sopraan. Haar operadebuut is in 1973 in Abingdon as Seleuce in Handel se Tolomeo gemaak. Dit is gevolg deur debute by die Engelse Nasionale Opera (1975), Covent Garden (1976), die Glyndebourne-fees (1977), München (1988), Wenen (1991) en die Salzburg-fees (1992). Met haar stylvolle sang is sy uitmuntend in rolle soos Ellen Orford in Peter Grimes, die Goewernante in The Turn of the Screw, Hanna in Die lustige Witwe, Fiordiligi in Così fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, beide die Marschallin en Octavian in Der Rosenkavalier, die Grafin in Capriccio, en die titelrolle in La Belle Hélène en Arabella. Haar vertolkings van die Marschallin, insluitend ‘n DVD-opname by die Weense Staatsopera onder Carlos Kleiber in 1994, word in dieselfde asem as dié van Elisabeth Schwarzkopf genoem. As stigterslid van die Songmakers’ Almanac is sy ewe bekend in Engelse, Franse en Duitse liedere. Daarby is sy een van die voorste konsertsangeresse van haar tyd in ‘n wye repertorium. In 1990 is die CBE aan haar toegeken en ses jaar later is sy tot dame geskep. Sleutelopname: Wolf se Italienisches Liederbuch (met Graham Johnson as begeleier). Verdere opnames: Britten se 4 Chansons francais en Les illuminations; M. Charpentier se Te Deum; orkesliedere van Delius; Elgar se Coronation Ode; Handel se Ode for St Cecilia’s Day; Haydn se Mis nr. 11 en Te Deum; Mahler se tweede, vierde en agste simfonieë (onder Jansons, Welser-Möst en Tennstedt onderskeidelik), en sy Rückert Lieder (met die Schumann Kwartet); Mathias se Lux aeterna; kerkmusiek van Mozart; Offenbach se operette La Belle Hélène; Richard Strauss se Vier letzte Lieder en ‘n groot aantal ander orkesliedere (almal onder Neeme Järvi); Vaughan Williams se eerste simfonie (onder Haitink); 3 versamelings kerkmusiek van Vivaldi (onder Negri); Wagner se Wesendonck Lieder (met die Schumann Kwartet); liedere van Beethoven, Britten, Mendelssohn, Poulenc, Purcell, Rossini, Schubert, Schumann en Walton; ‘n versameling Franse liedere gebaseer op gedigte van Victor Hugo; die genoemde operette van Lehár; die genoemde operas van Britten en R. Strauss, asook A Midsummer Night’s Dream en Le nozze di Figaro.

Loughran, James (1931-), Skotse dirigent. Hy het in 1961 die Philharmonia Orkes in Londen se dirigeerkompetisie gewen en in dieselfde jaar is sy debuut met hulle gemaak. Vervolgens was hy mededirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes (1962-5). Sy operadebuut is in 1963 in Londen gemaak met die première van Williamson se Our Man in Havana. Hy het in die jaar daarop by Covent Garden begin optree, en vanaf 1965 tot 1971 was hy hoofdirigent van die BBC Skotse Simfonie-orkes. In 1971 het hy die legendariese John Barbirolli as hoofdirigent van die Hallé Orkes opgevolg, ‘n pos wat hy tot 1983 sou beklee. Met hulle het hy hoogaangeskrewe opnames van Brahms se 4 simfonieë gemaak. Sy Amerikaanse debuut is in 1972 in New York gemaak, en in dieselfde jaar het hy die eerste opname van Havergal Brian se tiende simfonie met die Leicestershire Skole Simfonie-orkes gemaak. Later was hy hoofdirigent van die Bamberg Simfonie-orkes in Duitsland (1978-1983) en die Aarhus Simfonie-orkes in Denemarke (1996-2003). Verdere opnames: Beethoven se derde simfonie; Berlioz se Symphonie fantastique; Bruckner se agste simfonie; die twee simfonieë van Elgar; en Rachmaninof se tweede simfonie.

Lubbock, John (1945-), Engelse dirigent en koormeester. Terwyl hy nog ‘n student was, het hy in 1967 sy eie orkes gestig. Vyf jaar later is hulle as die residensiële orkes van die Sint John-katedraal, Westminster aangestel. Sedertdien staan hul bekend as die Orchestra of St John’s, Smith Square. Hy het ook in ‘n aantal kore gesing, onder andere die beroemde John Alldis Koor. Vanaf 1982 het hy die skoolkinderkore in Snape Maltings gelei, en in 1992 het hy Elgar se oratorium The Dream of Gerontius by die Wexford-fees gedirigeer. As dirigent blink hy uit in die Klassieke en vroeg-Romantiese simfoniese repertorium. Sleutelopname: Gounod se 2 simfonieë. Verdere opnames: simfonieë van Haydn, Mendelssohn (nrs. 3 en 4), Mozart en Schubert; en Strawinski se ballette Apollo en Orpheus.

Ludwig, Christa (1924-), Duitse sopraan en mezzosopraan. Sy het agter die skerms by operahuise waar haar ouers gesing het, grootgeword. In 1946 is haar debuut in Frankfurt gemaak as Orlofsky in Johann Strauss se operette Die Fledermaus. Tot 1952 was sy aan die Frankfurt Opera verbonde, en later was sy vir byna vier dekades (1955-93) ‘n lid van die Weense Staatsopera. In dié tyd het sy ook gereeld by die Salzburg-fees opgetree, met verdere debute wat gemaak is in Chicago en by die Metropolitan Opera (beide in 1959), en by Covent Garden (1968). Met haar ryk stem, duidelike uitspraak, besondere karakterisering en wye stemreeks vanaf alt tot by dramatiese sopraan was sy een van van die twintigste eeu se grootste sangeresse in Duitse opera, konsertwerke en liedere. Onder haar beste operarolle het getel Judith in Bloubaard se Kasteel, Leonore in Fidelio, Adalgisa in Norma, Geneviève in Pelléas et Mélisande, Madelon in Andrea Chenier, Dorabella in Così fan tutte, Cherubino in Le nozze di Figaro, Suzuki in Madama Butterfly, Orlofsky in Die Fledermaus, Frau Barak in Die Frau ohne Schatten, Octavian in Der Rosenkavalier, Ulrica in Un ballo in maschera, Ortrud in Lohengrin, Magdalene in Die Meistersinger von Nürnberg, Kundry in Parsifal, Venus in Tannhäuser, Brangäne in Tristan und Isolde en Fricka in die Ring. Sy het laasgenoemde gesing in James Levine se hoogaangeskrewe 1989-siklus by die Met, wat op DVD verewig is.

Tot 1970 was Ludwig met die bariton Walter Berry getroud, met wie sy dikwels in opvoerings en opnames opgetree het. Sy het in 1994 uitgetree, nadat sy in die vorige jaar 'n afskeidsoptrede by Salzburg met ‘n liedere-voordrag gegee het. Haar talle opnames getuig van haar intelligente, sensitiewe sang, sodat sy in dieselfde asem as sulke groot tydgenote soos De los Angeles en Schwarzkopf genoem word. Sy beskou haarself as ‘n gesentreerde persoon, in die sin van gematig en nie-buitensporig – soos dit ‘n wêreldklas mezzo betaam (mezzo beteken middel). Opnames: Bach se Sint Johannespassie (onder Foster) en Sint Mattheuspassie (onder Klemperer); Beethoven se negende simfonie (onder Klemperer); Berlioz se Roméo et Juliette; Brahms se Alt Rapsodie (onder Klemperer); Franck se Nocturne; Haydn se oratorium Die Schöpfung (onder Karajan); Mahler se tweede simfonie (onder beide Bernstein en Mehta), Das Lied von der Erde (onder beide Bernstein en Klemperer), Kindertotenlieder en Rückert Lieder (onder Karajan), en Des Knaben Wunderhorn; Verdi se Requiem (onder Giulini); Wagner se Wesendonk Lieder (georkestreer); liedere van Brahms, Mahler, Rachmaninof, Ravel, Reger, Schubert, Schumann, Richard Strauss en Wolf; die operettes Candide (as die Ou Dame) en Die Fledermaus; die genoemde operas van Bartók, Beethoven, Bellini, Debussy, Giordano, Mozart, Puccini, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook Capriccio.

Ludwig, Leopold (1908-79), Oostenrykse dirigent. Sy loopbaan het in 1931 in Opava afgeskop, en vyf jaar later het hy musiekdirekteur in Oldenburg geword.  Daarna was hy verbonde aan die Weense Opera (1939-43) en die Berlynse Staatsopera (1943-51). Vanaf 1951 was hy vir byna twintig jaar (tot 1970) musiekdirekteur van die Hamburg Opera, waartydens hy vele premières van hedendaagse werke gedirigeer het. In Hamburg het hy ook filmopnames van die gewilde operas Der Freischütz (1968) en Die Meistersinger von Nürnberg (1970) gedirigeer. Hy het sy operageselskap ook op toere geneem na Edinburgh (1952), Londen (1962) en New York (1967). Tydens hul Londense optrede het hy die Britse première van Berg se Lulu gedirigeer. Intussen het hy in 1959 by die Glyndebourne-fees gedebuteer en in 1970 ook by die Metropolitan Opera. Met die Berlynse Radio Simfonie-orkes en bekende sangers het hy hoogstaande opnames van die operas Mathis der Maler en Abu Hassan gemaak.

Luganski, Nikolai (1972-), Russiese pianis. Beide ouers was wetenskaplikes en musiekliefhebbers, sodat hy op sewe reeds aan die Sentrale Musiekskool in Moskou begin studeer het. Sy leermeester was Tatjana Kestner, ‘n vriendin van die beroemde Tatjana Nikolajewa wat hom vanuit die staanspoor aangemoedig het. Ná Kestner se dood in 1985 het hy onder Nikolajewa self studeer. Sukses in internasionale kompetisies sou weldra volg, insluitend silwermedaljes in die Bach-kompetisie in Leipzig (1988) en die Rachmaninof-kompetisie in Moskou (1990), en ‘n goue medalje in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou (1994). Hy is veral bekend in die musiek van Chopin en Rachmaninof, hoewel hy ewe lief is vir die Klassieke komponiste en Prokofiëf. Hy speel soms kamermusiek met die violis Wadim Repin en die tjellis Alexander Kniazew. Sleutelopnames: die volledige klavierkonserte van Rachmaninof en sy Paganini Rapsodie (almal onder Sakari Oramo). Verdere opnames: Chopin se Etudes; Prokofiëf se klaviersonates nrs. 4, 6 en 10; Rachmaninof se Chopin Variasies, Corelli Variasies, Moments musicaux en enkele preludes; en Tsjaikofski se eerste klavierkonsert.

Luisi, Fabio (1959-), Italiaanse pianis en dirigent. Hy het klavier aan die Paganini Konserwatorium in sy geboortestad Genoa studeer. Ná sy graduering het verdere onderrig  in klavier onder Aldo Ciccolini in Parys en in dirigeerkuns onder Milan Horvat aan die Graz Konserwatorium in Oostenryk plaasgevind. Sy dirigeerdebuut is in 1984 in Italië gemaak, en vanaf dié jaar tot 1987 was hy musiekdirekteur van die Graz Opera. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Graz Simfonie-orkes (1990-95), die Tonkünstlerorchester in Wenen (1995-2000), die Orchestre de la Suisse Romande in Genève (1997-2002), die MDR Simfonie-orkes in Leipzig (1999-2007) en die Weense Simfonie-orkes (2005-13). Hy het in 1993 ‘n uitvoering van Mahler se agste simfonie gedirigeer wat deur die Oostenrykse televisie verfilm is. In München het hy ‘n opvoering van Orff se kantate Carmina Burana in die buitelug gedirigeer wat deur meer as 20 000 mense bygewoon is. Met die koor en orkes van die Orchestre de la Suisse Romande het hy die eerste opname van Verdi se afgeskeepde opera Jérusalem gemaak. Hy het in 2001 by die Weense Staatsopera ‘n opvoering van Nabucco gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sy debuut by die Metropolitan Opera in New York is in 2005 met 'n opvoering van Don Carlos gemaak. In 2011 het hy James Levine as hoofdirigent van dié beroemde operahuis opgevolg en sedert 2012 is hy musiekdirekteur van die Zürich Opera. Sy Met-opnames van Wagner se Ring-siklus is in 2013 met 'n Grammy toekenning bekroon. Sedert 2001 is hy ook 'n ere-hoogleraar aan die Universiteit van Musiek en Teater in Leipzig. Verdere opnames: Beethoven se Mis in C majeur; Bruckner se simfonie nr. 9; Honegger se volledige simfonieë; R. Strauss se Eine Alpensinfonie, Ein Heldenleben, Metamorphosen en Vier letzte Lieder; en die opera I Capuleti ed i Montecchi.

Lupu, Radu (1945-), Roemeense pianis wat hom in Brittanje gevestig het. Gedurende die laat 1960’s was hy die wenner van ‘n aantal internasionale kompetisies, waaronder die Van Cliburn (1966), die Enescu (1967) en die Leeds (1969). In 1972 het hy deur die VSA getoer en sy debuut daar met die Cleveland Orkes gemaak. Sewe jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Met sy liriese, detailryke spel is hy uitmuntend in die Romantiese repertorium. Sleutelopnames: Mozart se Andante en Variasies K501 en Schubert se Fantasia in F mineur (beide met Perahia, by Aldeburgh); Schubert se klaviersonates nrs. 16 en 18. Verdere opnames: Beethoven se 5 klavierkonserte (onder Mehta); Brahms se eerste klavierkonsert, asook dié van Grieg en Schumann; klaviersonates en ander solowerke van Beethoven, Brahms, Schubert en Schumann; en enkele Schubert-werke met die violis Szymon Goldberg as vennoot.

Luxon, Benjamin (1937-), Engelse bariton. Hy het vanaf 1963 vir sewe jaar by die Engelse Operagroep gesing en in 1971 die titelrol tydens die première van Owen Wingrave geskep. Daarna het hy gedebuteer by die Glyndebourne-fees en Covent Garden (beide in 1972), die Metropolitan Opera (1980), die Skotse Opera (1983) en Los Angeles (1988). Met sy Covent Garden-debuut het hy drie rolle tydens die première van die opera Taverner geskep. Hy is verder begaafd as Jean in Miss Julie, Manze in A Village Romeo and Juliet, die titelrol in Don Giovanni, die Graaf in Le nozze di Figaro en Bartley in Riders to the Sea. Ten spyte van oorsuising het hy voortgegaan om in opera op te tree, asook in gewyde werke en Engelse liedere waarin hy uitmuntend is. Opnames: Delius se A Mass of Life; Elgar se oratoriums The Apostles en The Kingdom; Fauré se Requiem; Handel se Messiah; Haydn se Mis nr. 8 en oratorium Il ritorno di Tobia; Kodály se Hymn of Zrinyi; Mozart se Mis nr. 18 (onder Karajan); Walton se Belshazzar’s Feast; liedere van Britten, Delius, Elgar en Vaughan Williams; ‘n versameling Engelse ballades; die genoemde operas van Alwyn, Britten, Delius en Vaughan Williams, asook The Rape of Lucretia, Ifigenia in Tauride, Orlando paladino, Die tote Stadt en Le nozze di Figaro.

Lympany, Moura (1916-), Engelse pianis. Sy is as sewejarige na België gestuur om lesse in klavier, viool en sang te ontvang. Nadat sy as jong tienermeisie haar debuut in 1929 in Harrogate met ‘n klavierkonsert van Mendelssohn gemaak het, het sy wêreldwyd getoer. Op sestien is sy na Wenen vir verdere studies, en later het sy in Engeland onder Mathilde Verne en Tobias Matthay studeer. Laasgenoemde het haar aangeraai om in 1938 aan die Ysaÿe-klavierkompetisie in Brussels deel te neem, waar sy ‘n tweede plek na die groot Russiese pianis Emil Gilels behaal het. Sy het in 1940 in Londen die eerste uitvoering van Khatsjatoerian se klavierkonsert buite die Sowjet-Unie gegee. Later het sy met haar man in New York gaan woon. Tot in haar sewentigs het sy nog uitvoerings gegee, en in 1992 is sy tot dame geskep. Met haar elegante spel was sy ‘n begaafde vertolker van die Romantiese komponiste, maar haar repertorium het vanaf Bach tot by Ravel gestrek. Opnames: klavierkonserte van Khatsjatoerian, Liszt, Mendelssohn, Rachmaninof en Saint-Saëns; werke vir klavier en orkes van Falla en Litolff; Schubert se Forelle-kwintet (met lede van die Londense Simfonie-orkes); en solowerke van Rachmaninof en Debussy.

Lyndon-Gee, Christopher (?-), Engelse pianis, dirigent en komponis. Onder sy leermeesters en mentors het bekende dirigente soos Rudolf Schwarz, Maurice de Abravanel, Leonard Bernstein, Franco Ferrara en Erich Leinsdorf getel. As kampvegter vir hedendaagse musiek is meer as 200 klavierwerke in die 1970’s en 1980’s vir hom geskryf. Hy het vir 12 jaar in Australië gewoon, waar hy hoofdirigent van die Pro Arte Orkes in Canberra was. Met hulle het hy musiekfeeste gehou waarop werke van die moderne komponiste Sjnittke en Sjedrin uitgevoer is. Saam het hul ook die Australiese premières van werke deur Rachmaninof, Pärt, Boulez en andere gegee. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa, Australasië en die VSA op. Hy was hoofgasdirigent van die Arnhem Filharmoniese Orkes in Nederland, met wie hy die volledige orkeswerke van Igor Markewitsj opgeneem het, en die Saarbrücken Radio Simfonie-orkes in Duitsland. Die Oxford Sinfonietta en Telford Sinfonia is deur hom gestig. Sedert 2002 is hy ‘n hoogleraar in musiek aan die Adelphi Universiteit in New York, en hoofdirigent van die Adelphi Simfonie-orkes wat hoofsaaklik uit Russiese en Oekrainse musici bestaan. Sy eie komposisies sluit ‘n ballet en strykkwartette in. Sleutelopname: Rochberg se vyfde simfonie, Black Sounds en Transcendental Variations (Saarbrücken). Verdere opnames: Markewitsj se Kantate, Hymnes, The Flight of Icarus, La Taille de l’Homme, Vuca Lorenzo il Magnifico, Psaumes en ‘n aantal balletwerke; Respighi se Ancient Airs & Dances en The Birds suite.

M

Ma, Yo-Yo (1955-), Frans-gebore Sjinese tjellis. As vyfjarige het hy begin om in die openbaar op te tree. Hy het in 1963 met sy ouers na New York verhuis, waar hy onder Leonard Rose studeer het. Vanaf die 1970’s het hy wêreldbekend as solis geraak, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1978 gemaak is. Met sy elegante toonkleur, briljante tegniek en wye repertorium is hy tans een van die gewildste tjelliste ter wêreld. Sleutelopnames: Beethoven se Driedubbele Konsert (onder Barenboim); Brahms se 3 klavierkwartette (met Stern, Laredo en Ax); Haydn se 2 tjellokonserte (onder Garcia); Saint-Saëns se tjellokonsert nr. 1 (onder Maazel). Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites en viola da gamba sonates; Bartók se altvioolkonsert; tjellokonserte van Albert, Boccherini, Dvorák, Elgar, Herbert, Kabalefski, Schumann, Sjostakowitsj en Walton; tjellosonates van Brahms, Britten en Richard Strauss; Bloch se Schelomo; Brahms se Dubbelkonsert (met Stern); en Tavener se The Protecting Veil (onder Zinman).

Maag, Peter (1919-2001), Switserse pianis en dirigent. Hy het in ‘n gekultiveerde gesin grootgeword: sy vader was ‘n Lutherse predikant en musikoloog, en sy moeder ‘n violis in die Capet Kwartet. Dit verbaas dus nie dat hy musiek studeer het nie, te wete klavier onder Czeslaf Marek in Zürich. Daarby het hy teologie en filosofie aan die universiteite van Basel, Genève en Zürich studeer, met bekende denkers soos Karl Barth, Emil Brunner en Karl Jaspers as dosente. Hy is ook na Parys om sy klaviertegniek onder die befaamde pianis Alfred Cortot te verbeter. Nadat hy ‘n uitvoering van Beethoven se vierde klavierkonsert onder Wilhelm Furtwängler gegee het, is hy deur die legendariese dirigent aangemoedig om te begin dirigeer. Hy het die maestro se raad gevolg om by ‘n klein teater te begin werk, en in 1943 is hy as repetiteur by die Biel-Solothurn Teater aangestel. In die jaar daarop was hy ook ‘n assistent vir Furtwängler. Teen die einde van sy termyn in Biel-Solothurn, in 1946, het hy reeds tot musiekdirekteur gevorder. Hy was voorts ‘n assistent vir sy landgenoot, die bekende dirigent Ernest Ansermet. Daarna was hy hoofdirigent van die Düsseldorf Opera (1952-5) en algemene musiekdirekteur van die Bonn Stadsteater (1956-9). In 1959 het hy by Covent Garden, die Glyndebourne-fees en in die VSA gedebuteer. Teen daardie tyd was hy reeds bekend vir sy Mozart-vertolkings, gekenmerk deur dryfkrag en elegansie. Die teologiese inslag van sy jeug het egter weer na vore gekom, sodat hy in die vroeë 1960’s sy musiekloopbaan tydelik prysgegee het. Sy beweegrede was dat hy te veel roem begin verwerf het en dat hy hom wou afsonder vir gebed en oorpeinsing. Vir twee jaar het hy dus in ‘n Boeddhistiese klooster naby Hongkong gaan woon. Met sy terugkeer na Europa was hy hoofdirigent van die Weense Volksopera (1964-8), en musiekdirekteur van operahuise in Parma (1972-4) en Turyn (1974-6). Hy het in 1969 met die Philharmonia Hungarica die volledige simfonieë van Schubert opgeneem. Sy debuut by die Metropolitan Opera is in 1972 met Don Giovanni gemaak.

Maag was vanaf 1984 tot 1991 hoofdirigent van die Berne Simfonie-orkes in sy geboorteland. Hy was veral gewild in Italië, waar hy in Siena onderrig gegee het. As gasdirigent het hy dikwels by La Scala en met verskeie Italiaanse radio-orkeste opgetree. Tydens die 200-jarige herdenking van Mozart se dood in 1991 het hy ‘n hoogstaande opname van sy minder bekende oratorium Betulia liberata in Padua gedirigeer. As Vrymesselaar was hy ‘n lid van die Weense losie waaraan Mozart self behoort het. Vanaf 1983 tot sy dood was hy hoofdirigent van die Italiaanse ensemble Orchestra di Padova e del Veneto, met wie hy vele hoogstaande opnames sou maak. Daaronder tel Beethoven se volledige simfonieë en Mozart se simfonieë nrs 31 tot 41. Hul konsertopname van Beethoven se negende simfonie is gemaak in die Katedraal van Sint Antonius in Padua, tydens die 800-jarige feesviering aldaar. Hy het voorts in die 1990's die Switsers-Italiaanse Orkes in Lugano in konserte van Haydn se simfonie nr. 103 en Dvorák se simfonie nr. 9 gedirigeer, waarvan beeldopnames gemaak is. Teen die einde van sy lang loopbaan het hy die Madrid Simfonie-orkes in voortreflike opnames van Mendelssohn se volledige simfonieë gedirigeer. Nommers 1 en 5 van die siklus is ook op DVD uitgereik. Naas die klassieke repertorium was hy ‘n kampvegter vir sommige moderne werke, soos dié van Malipiero waarvan hy ‘n versameling met die Venesiaanse Filharmoniese Orkes opgeneem het. Onder sy toekennings tel die Toscanini Medalje (1968) en die Verdi Medalje (1973). Hy is in Verona oorlede. Sleutelopname: Mendelssohn se derde simfonie en uittreksels uit A Midsummer Night’s Dream (Londen 1960 en 1957). Verdere opnames: ouvertures van Mendelssohn; Mozart se Vrymesselaarsmusiek; Saint-Saëns se derde simfonie; en Verdi se opera Luisa Miller.

Maazel, Lorin (1930-), Frans-gebore Amerikaanse dirigent en violis van Russiese afkoms. As wonderkind het hy in die VSA vanaf ‘n vroeë leeftyd lesse in klavier, viool en dirigeerkuns ontvang. Op nege jaar het hy die Los Angeles Filharmoniese Orkes gedirigeer, met Leopold Stokowski ook op die podium. Die prestasie is in sy vroeë tienerjare met ander bekende Amerikaanse orkeste herhaal. Daaronder tel Toscanini se NBC Simfonie-orkes op uitnodiging van die maestro self. As vyftienjarige het sy eerste solo-viooluitvoering gevolg, en in 1949 het hy ‘n leerling-dirigent by die Pittsburgh Simfonie-orkes onder Fritz Reiner geword. In dié stad het hy terselfdertyd tale en filosofie studeer en ‘n strykkwartet gestig, waarin hy viool gespeel het. Twee jaar later het hy ‘n beurs gewen om Barokmusiek in Italië te gaan studeer, waar hy in 1953 sy dirigeerdebuut in Catania gemaak het. Vier jaar later het hy die openingskonsert van die Weense Fees gedirigeer, en in 1960 het hy by die Bayreuth-fees met Lohengrin gedebuteer. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1963 gemaak met Le nozze di Figaro, en daarna het hy poste by ‘n aantal Europese en Amerikaanse orkeste beklee. Vanaf 1965 was hy musiekdirekteur van die Duitse Opera in Berlyn (tot 1971) en hoofdirigent van die Berlynse Radio Simfonie-orkes (tot 1975). Gedurende die 1960’s het hy met die Weense Filharmoniese Orkes hoogstaande opnames van Sibelius en Tsjaikofski se volledige simfonieë gemaak. Hy het in 1968 in Berlyn die première van Dallapiccola se opera Ulisse gedirigeer. Sedert die 1960’s het hy al meer as twintig toere na Japan onderneem, waartydens volledige siklusse van Beethoven, Brahms en Mahler se simfonieë uitgevoer is.

Maazel se verbintenis met die Philharmonia Orkes in Londen het in 1971 begin toe hy as mededirigent van Otto Klemperer daar begin werk het, en vanaf 1973 tot 1981 was hy hul hoofgasdirigent. In 1972 het hy musiekdirekteur van die Cleveland Orkes geword, nadat die pos sedert Georg Szell se dood twee jaar tevore vakant was. Hy het dit tot 1982 beklee, talle nuwe spelers aangestel en die orkes se repertorium aansienlik met moderne werke uitgebrei. Intussen was hy ook hoofdirigent van die Orchestre Nationale de France (1977-82), met wie hy ‘n televisie-siklus van Beethoven se simfonieë gemaak het. Verder het hy vir die Franse televisie ‘n kort satiriese rolprent, 'n Week in die lewe van 'n dirigent, gemaak, wat ‘n prys by die Chicago Filmfees gewen het. Hy het in 1982 die eerste Amerikaner geword om algemene direkteur van die Weense Staatsopera te word, maar twee jaar later het hy te midde van omstredenheid uit die pos bedank. Voorts was hy hoofdirigent van die Pittsburgh Simfonie-orkes (1986-96) en musiekdirekteur van die Orchestre Nationale de France (1988-91). Hy was vanaf 1992 hoofdirigent van die Beierse Radio Simfonie-orkes in München. In 2002 het hy Kurt Masur as musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes opgevolg. Hy het in 1996, 1999 en 2005 die Nuwejaarskonserte in Wenen gedirigeer, met uitstekende opnames wat telkens gemaak is, laasgenoemde in DVD-formaat. Hy het in 2007 by La Scala ‘n opvoering van La Traviata gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan getuig. In 2008 het hy geskiedenis gemaak deur sy New York-orkes op ‘n toer na Noord-Korea te neem, met ‘n konsert wat in die hoofstad Pyongyang gegee is. Het het in 2010 die Concertgebouw Orkes in Amsterdam ‘n uitvoering van Mahler se sesde simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat gemaak is.

Met sy presiese, beheersde vertolkings is Maazel ‘n begaafde dirigent van laat-Romantici soos Mahler en Sibelius, die operas van Puccini, Ravel en Verdi, en Franse en Russiese simfoniese musiek. As violis het hy in die 1970’s in ‘n opname van twee Mozart-konserte gespeel wat ‘n topverkoper in Duitsland geword het. Op die persoonlike vlak is ‘n dubbelsinnigheid by hom te bespeur: enersyds is hy hoflik en sensitief in sy privaatlewe, maar andersyds is hy dikwels beskuldig van arrogansie en selfs sarkasme teenoor musici. Só het ‘n inoefening vir Luisa Miller by Covent Garden by geleentheid onder hom tot stilstand geknars en kon dit slegs deur die bemiddeling van Colin Davis voortgesit word. Dieselfde wisselvalligheid word soms by sy opnames aangetref: terwyl dié van ‘n aantal minder bekende Puccini-operas as hoogstaande beskou word, is sy Manon Lescaut en Tosca van dieselfde komponis onder standaard. Hy is getroud met die pianis Israela Margalit, wat hy in ‘n voortreflike opname van Prokofiëf se derde klavierkonsert begelei het. In die musiekwêreld is hy verder bekend vir sy enorme versameling kleurryke hemde en dasse.

Sleutelopname: die opera L’Enfant et les sortilèges (Franse Radio). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Rachmaninof (met die Berlynse Filharmonie), en ‘n hele aantal van Bruckner (nr. 5), Franck, Mahler (nrs. 1, 7 en 9), Mendelssohn (nr. 5), Rimski-Korsakof, Saint-Saëns en Sjostakowitsj; orkeswerke van Moessorgski, Prokofiëf, Respighi, Strawinski en Verdi; Berlioz se Roméo et Juliette en Symphonie fantastique; Lloyd Webber se Requiem; Rimski-Korsakof se Capriccio espagnol; Skriabin se Le poème de l'extase; Richard Strauss se Ein Heldenleben en Till Eulenspiegel; Tsjaikofski se Neutkraker suite; Wagner se Siegfried Idyll en ‘n versameling orkesuittreksels uit van sy operas; Zemlinsky se Liriese simfonie; en die operas Fidelio, Carmen, Porgy and Bess, Don Giovanni, La Fanciulla del West, La Rondine, Gianni Schicchi, Suor Angelica, Il Tabarro, Turandot, Le Villi, L’Heure espagnole, Aida, Luisa Miller en La Traviata.

Macal, Zdenek (1936-), Tsjeggies-gebore dirigent. Terwyl hy dirigent van die Morawiese Filharmoniese Orkes was (1963-7), het hy in 1965 die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen. Drie jaar nadat hy in 1966 met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes gedebuteer het, het hy hom in Switserland gevestig. In dieselfde jaar (1969) het sy Britse debuut met die Bournemouth Simfonie-orkes plaasgevind, en vanaf 1970 was hy vir vier jaar dirigent van die Keulen Radio Simfonie-orkes. Hy het sy Amerikaanse debuut in 1972 in Chicago gemaak. Later was hy hoofdirigent van die Hannover Radio Simfonie-orkes (1980-3), musiekdirekteur van die Milwaukee Simfonie-orkes (vanaf 1986), dirigent van die Sidney Simfonie-orkes (1986) en hoofdirigent van die San Antonio Simfonie-orkes (1988-92). Sedert 1993 is hy artistieke direkteur van die New Jersey Simfonie-orkes, met wie hy ‘n hoogstaande opname van Dvorák se kantate Die Spook se Bruid gemaak het. Verdere opnames: Dvorák se negende simfonie; Hartmann se sewende simfonie; en Smetana se Má Vlast.

MacGregor, Joanna (1959-), Britse pianis en komponis. Sy het onder Jorge Bolet studeer en in 1985 haar Londense debuut gemaak. Haar bekendheid lê merendeels in moderne musiek, met eerste uitvoerings van Wood se klavierkonsert (1991) en Birwistle se Antiphonies (1993) tot haar krediet. Verder skryf sy musiek vir dramas en televisie. Sleutelopname: Britten se klavierkonsert (onder Bedford). Verdere opnames: Wood se klavierkonsert; klaviersonates van Barber en Ives; en Messiaen se Kwartet vir die eindtyd (met Campbell, Mitchell en Van Kampen).

Mackerras, Charles (1925-2010), Amerikaans-gebore Australiese dirigent en musiekgeleerde. Op drie jaar het hy met sy gesin na Australië verhuis, waar hy as sewejarige met vioollesse begin het. Mettertyd het hy ook fluitlesse ontvang en op twaalf het hy ‘n klavierkonsert gekomponeer. Op hoërskool het hy operas geskryf en studente-uitvoerings gedirigeer, tot misnoë van sy ouers wat musiek nie as ‘n lewensvatbare loopbaan beskou het nie. Hul het die musikale tiener by ‘n privaatskool ingeskryf, maar hy het ‘n aantal kere weggehardloop en is weldra geskors. Hy het in 1941 aan die Staatskonserwatorium in Sydney begin studeer en het negentien eerste hobospeler in dié stad se simfonie-orkes geword. In 1946 het hy na Brittanje verhuis, waar hy hobo en cor anglais by die Sadler’s Wells Teater sou speel. Kort daarna het hy ‘n beurs gewen om aan die Praag Musiekakademie die dirigeerkuns onder Vaclav Talich te gaan studeer. Daar het hy Tsjeggies aangeleer en al Janácek se werke bestudeer. Hy het in 1947 met ‘n klarinetspeler, Judy Wilkins, getrou. Ná die kommunistiese staatsgreep in Tsjeggo-Slowakye in 1948 het hy na Brittanje teruggekeer, waar hy sy dirigeerdebuut by Sadler’s Wells met die operette Die Fledermaus gemaak het. Tot 1954 sou hy as assistent-dirigent aan dié operahuis verbonde wees. Sy debuut by die Edinburgh-fees is in 1952 gemaak, waarna hy oor die volgende ses dekades menigmale daar sou optree.

Gedurende die 1950’s het Mackerras ‘n studie van musiekuitvoering volgens eietydse praktyke gemaak, lank voordat dit ‘n gewilde benadering in Brittanje geword het. In dié tyd het hy ook die musiek vir twee ballette verwerk, naamlik Pineapple Poll na Sullivan en The Lady and the Fool uit vroeë Verdi-operas. Hy het in 1952 die eerste opname van Pineapple Poll gemaak. Intussen het hy in 1951 die Britse verhoogpremière van Káta Kabanova by Sadler’s Wells gedirigeer, die eerste stap in sy jarelange projek om al Janácek se operas in Brittanje bekend te stel. Daarna was hy hoofdirigent van die BBC Konsertorkes (1954-6), met wie hy die eerste uitvoerings van Britten se Noye's Fludde en Berkeley se Ruth gedirigeer het. Nadat hy aanvanklik goed met Britten saamgewerk het, het hul werksverhouding in 1958 tot ‘n einde gekom nadat hy aanmerkings oor die homoseksuele komponis se voorliefde vir jong seuns gemaak het. Hy het in 1959 ‘n opwindende opname van Handel se Koninklike Vuurwerkemusiek en Watermusiek in Londen gedirigeer, eersgenoemde volgens die komponis se oorspronklike orkestrasie van 62 houtblasers en 9 slaginstrumente.

Oor die volgende dekade het Mackerras as gasdirigent by verskeie operahuise in Brittanje en Duitsland opgetree. Sy Covent Garden-debuut is in 1963 met ‘n uitvoering van Sjostakowitsj se Katerina Izmailowa gemaak. Vanaf die middel 1960’s het hy weer by Sadler’s Wells gedirigeer, waar hy pionierswerk gedoen het om operas van Mozart in die styl van die agtiende eeu op te voer. Veral Le nozze di Figaro (1965) en Così fan tutte het hoogaangeskrewe opvoerings in dié verband beleef. Ná ‘n aantal jare as musiekdirekteur van die Hamburg Staatsopera (1966-70) het hy nogeens na Sadler’s Wells teruggekeer, hierdie keer as musiekdirekteur. Hy sou die pos tot 1978 beklee, waartydens die naam van die operahuis na die Engelse Nasionale Opera verander is. Talle minder bekende operas van Handel, Donizetti, Smetana en andere is daar deur hom herleef. Intussen het hy in 1972 by die Metropolitan Opera met Gluck se Orfeo ed Euridice  gedebuteer. Hy het in 1973 die inwyding van die Sydney Opera se nuwe konsertsaal met Birgit Nilsson as solis gedirigeer. In 1975 was hy ‘n gasdirigent by die D’Oyly Carte Opera vir opvoerings van The Pirates of Penzance en The Mikado. Hy is in 1979 tot ridder geslaan en in die jaar daarop het hy die eerste nie-Brit geword om die BBC Simfonie-orkes tydens die Laaste Nag van die Proms te dirigeer.

In 1982 het Mackerras die eerste Australiër geword om as hoofdirigent van die Sydney Simfonie-orkes aangestel te word. Hy sou die pos tot 1985 beklee. In 1986 het hy die Londense Simfonie-orkes in die klankbaan van ‘n rolprentweergawe van Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker gedirigeer. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Walliese Nasionale Opera (1987-92), waar sy Janácek-opvoerings hoë lof sou inoes. Met hulle het hy ‘n hoogstaande opname van die Tsjeggiese komponis se Osud (in Engels) gemaak, nadat hy vroeër die meeste van sy operas met die Weense Staatsopera opgeneem het. Hy het in 1990 by die Australiese Opera in Sydney ‘n lewenskragtige opvoering van Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. In dieselfde jaar het hy by die Glyndebourne-fees gedebuteer. Tydens die tweehonderdjarige herdenking van Mozart se dood in 1991 het hy ‘n opvoering van Don Giovanni in Praag gedirigeer, in dieselfde teater waar die gewilde opera se première in 1787 plaasgevind het. Hy was voorts hoofgasdirigent van die Skotse Kamerorkes (1992-95) en die Koninklike Filharmoniese Orkes (1993-96). In 1997/8 was hy hoofgasdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes, en vanaf 1998 tot 2001 was hy musiekdirekteur van die Orchestra of St Luke’s. Hy het oor ‘n aantal jare in die 1990’s met die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes uitstekende opnames van Beethoven se volledige simfonieë gemaak. Daarin het hulle eietydse praktyke, insluitend die musiekreus se eie metronoomaanwysings, maar met moderne instrumente gevolg. Tydens die Edinburgh-fees van 2006 het hy ‘n verdere siklus van Beethoven se 9 simfonieë met die Skotse Kamerorkes en die Philharmonia Orkes gedirigeer, met uitstekende opnames wat eweneens gemaak is. Vanaf 1987 het hy gereeld die Orchestra of the Age of Enlightenment gedirigeer en in 2007 is hy as hul emeritus-dirigent aangewys. Hy was vanaf 2004 ook hoofgasdirigent van die Philharmonia Orkes in Londen. In 2008 het hy die vermaarde pianis Alfred Brendel tydens sy afskeidskonsert met die Weense Filharmoniese Orkes begelei. Hy is in dieselfde jaar as ere-president van die Edinburgh Feesvereniging aangewys. Sy laaste eie verskyning was ‘n opvoering van Cosi fan tutte by Glyndebourne in 2010. Hy is kort daarna aan kanker oorlede.

Met ‘n enorme repertorium wat vanaf die Barokera tot diep in die twintigste eeu strek, was Mackerras ewe begaafd in Britse, Duitse, Russiese en Tsjeggiese musiek. Hy was meesterlik in die operas van Mozart en die operettes van Gilbert en Sullivan. As die voorste Westerse kampvegter vir die musiek van Janácek het hy die Britse premières van ‘n aantal Janácek-operas gedirigeer en die oorspronklike orkestrasie van Jenufa herkonstrueer. Uit erkenning vir sy onvermoeide ywer ten bate van dié moderne komponis is die Janácek-medalje in 1978 deur die Tsjeggo-Slowaakse regering aan hom toegeken. Hy het Sullivan se verlore vioolkonsert herkonstrueer en die eerste uitvoering met Julian Lloyd Webber as solis in 1986 in Londen gedirigeer. Daarby het hy operas van J.C. Bach, Gluck, Handel en Verdi geredigeer. Onder sy DVD-opnames tel ‘n verkorte weergawe van Die Entführung aus dem Serail wat heel gepas in die Topkapi-paleis in Istanbul gemaak is. Hy het in 2008 tydens die Herbert von Karajan eeufeesvierings ‘n herdenkingskonsert met die Philharmonia Orkes in Londen gegee. Onder sy verdere ere-toekennings tel die CBE (1974), ‘n eregraad deur die Universiteit van Hull (1990), die Meriete-medalje van die Tsjeggiese Republiek (1996), die Companion of the Order of Australia (1997), die Eeufeesmedalje van die Australiese Federasie (2001), die Companion of Honour (2003), en ‘n goue medalje van die Koninklike Filharmoniese Vereniging (2005).

Sleutelopnames: Dvorák se simfonieë nrs. 7-9 (Londense Filharmonie); Handel se oratorium Judas Maccabeus (Londen); Mozart se simfonieë nrs. 14-30 (Praag Kamerorkes); Vorisek se Simfonie in D (Skotse Kamerorkes); Gilbert en Sullivan se operettes HMS Pinafore, The Mikado, The Pirates of Penzance, The Yeomen of the Guard en Trial by Jury (almal Walliese Nasionale Opera); die operas Rusalka (Praag), Jenufa en Káta Kabanová (beide Wenen), Idomeneo (Skotse Kamerorkes) en The Indian Queen (Engelse Kamerorkes). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, Mozart en Walton, en ‘n aantal van Arriaga, Brian (nrs. 7 en 31), Mahler (nrs. 1 en 5), Mendelssohn (nr. 4), Schubert en Sjostakowitsj; Bartók se Divertimento vir Strykers en Musiek vir Strykers, Slaginstrumente en Celesta; Beethoven se ballet Skeppings van Prometheus; Holst se The Planets; Rimski-Korsakof se Scheherazade en Capriccio espagnole; Smetana se Má Vlast; Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker; orkeswerke van Delius, Janácek, Martinu en Strawinski; sy eie verwerkings van Sullivan en Verdi; ‘n versameling ouvertures van Verdi en Wolf-Ferrari; kerkmusiek van Purcell; Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Handel se Messiah, met sowel die Engelse Kamerkorkes (in Engels) as die Oostenrykse Radiokoor en -orkes (in Duits volgens Mozart se verwerking); Janácek se Glagolitic Mass; Kodály se Psalmus hungaricus; Mozart se Requiem; en die operas Fidelio, Gloriana, A Village Romeo and Juliet, Mary Stuart (in Engels), Roberto Devereux, Julius Caesar (in Engels), Die geslepe klein wyfievos (Parys DVD en Wenen CD), Uit die huis van die dode, Jenufa (in Engels), Káta Kabanová (Praag), Die Makropoulos-saak, Osud (in Engels), Sárka, The Greek Passion (in Engels), Le nozze di Figaro, Die Zauberflöte, Eugene Onegin en La Traviata (laasgenoemde twee in Engels).

MacKintosh, Catherine (?-), Britse violis. Nadat sy ‘n konvensionele vioolopleiding aan die Koninklike Musiekkollege in Londen geniet het, het sy na die altviool en Barokviool oorgeslaan. Sy was dadelik in aanvraag by pioniers-ensembles in die uitvoering van vroeë musiek volgens eietydse praktyke, soos Musica Reservata, The English Consort of Viols en The Consort of Musicke. In 1973 het sy orkesleier van die Academy of Ancient Music geword, met wie sy oor die volgende 15 jaar in talle opnames sou speel. Sy was in 1984 ‘n stigterslid van die Purcell Kwartet, met wie sy voortaan meer op solo- en kamermusiek sou konsentreer. Daarby is sy ‘n hoogleraar in Barok- en Klassieke viool en altviool aan haar alma mater (sedert 1977), en ‘n besoekende hoogleraar in Barokviool en altviool aan die Koninklike Skotse Akademie. As mede-leier van die ‘Ochestra of the Age of Enlightenment’ het sy in hoogaangeskrewe opnames van Bach se 6 Brandenburgkonserte gespeel. Verdere opnames: Bach se 6 vioolsonates (begelei deur Maggie Cole op klawesimbel) en 2 sonates vir viool en continuo (met die tjellis Jennifer Clarke); Biber se Passacaglia vir soloviool; en ‘n versameling viola d’amore-konserte van Vivaldi.

MacMillan, Ernest (1893-1973), Kanadese dirigent, orrelis en komponis. Hy was ‘n wonderkind wat as tienjarige sy eerste orreluitvoering gegee het. Later het hy aan die Koninklike Kollege van Orreliste in Londen gaan studeer, gevolg deur studies in moderne geskiedenis aan die Universiteit van Toronto (1911-14). In 1914 was hy by die Bayreuth-fees in Duitsland, maar hy is vir die duur van die Eerste Wêreldoorlog (tot 1918) in ‘n kamp vir vyandelike burgerlikes by Ruhleben geïnterneer. Daar het hy ‘n leidende rol in die plaaslike musiekvereniging gespeel en aan opvoerings van die drama-vereniging deelgeneem. Hy het in dié tyd sy doktorsgraad in musiek aan die Universiteit van Oxford verwerf. Met sy terugkeer na Kanada was hy aanvanklik orrelis van die Timothy Eaton-gedenkkerk in Toronto (1919-25). Vervolgens het hy vir etlike dekades ‘n vername rol in die Kanadese musiekwêreld gespeel. Dit was naamlik as hoof van die Toronto Konserwatorium (1926-42), dekaan van die musiekdepartement aan die Universiteit van Toronto (1927-52), en dirigent van die Toronto Simfonie-orkes (1931-56) en die Toronto Mendelssohn-koor (1942-57). Met sy Toronto-orkes het hy in 1942 ‘n historiese opname van Holst se The Planets gemaak. Hy is in 1935 tot ridder geslaan, as die eerste Kanadees wat op dié wyse vir dienste aan musiek vereer word. Weens sy voorliefde vir stadige tempos was sy bynaam in die musiekwêreld ‘Lord Largo’. Hy het koorwerke gekomponeer en Kanadese volksliedere verwerk, insluitend .

Mainardi, Enrico (1897-1976), Italiaanse tjellis en komponis. Hy het vanaf 1933 meesterklasse by die Santa Cecilia Akademie in Rome, die Salzburg Mozarteum en die Luzern Konserwatorium gegee. In dieselfde jaar het hy in ‘n opname van Richard Strauss se Don Quixote onder die komponis self gespeel. Vanaf 1948 het hy as solis by die Salzburg-fees opgetree. Hy het in 1949 by die Luzern-fees uitgeblink in ‘n opname van Brahms se Dubbelkonsert met Wolfgang Schneiderhan, onder Wilhelm Furtwängler.

Maiski, Misja (1948-), Russies-gebore Israeliese tjellis. Hy het in 1965 sy debuut met die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes gemaak. Agt jaar later het hy geëmigreer na Israel, waar hy ‘n burger geword het. In dieselfde jaar (1973) het hy ná studies onder Gregor Piatigorski die Cassado-kompetisie in Florence gewen en sy Amerikaanse debuut in New York gemaak. Hy het in 1976 vir die eerste keer in Londen opgetree, en sedert die laat 1970’s speel hy in ‘n duet met die beroemde pianis Martha Argerich. In 1990 het sy debuut as solis by die Salzburg-fees plaasgevind. Met sy gevoelvolle spel is hy een van die voorste tjello-virtuose van sy tyd. Hy speel ook dikwels in kamermusiek met die altviolis Gidon Kremer. Sedert sy vroeë tienerjare is sy geliefkoosde werke die onbegeleide tjellosuites van Bach, wat hy reeds twee keer in meesterlike vertolkings opgeneem het. Interessant genoeg beskou hy die Barokreus as die mees romantiese komponis, onder andere omdat hy twintig kinders gehad het. Verdere opnames: Bach se volledige viola da gamba sonates, Beethoven se volledige tjellosonates; Brahms se Dubbelkonsert (met Kremer) en eerste klavierkwartet (met Argerich, Basjmet en Kremer); Debussy, Franck en Mendelssohn se tjellosonates; Dvorák se tjellokonsert; Miaskofski se tjellokonsert; Prokofiëf se Sinfonia concertante; Schumann se Fantasiestücke (met Argerich en Kremer); Sjostakowitsj se twee tjellokonserte; en Tsjaikofski se Rococo Variasies en Andante cantabile.

Maksymiuk, Jerzy (1936-), Poolse pianis, dirigent en komponis. Hy het die Poolse Kamerorkes gestig en hulle gedirigeer, onder meer in opnames van Vivaldi-konserte met die groot violis Yehudi Menuhin as solis. Later was hy hoofdirigent van die Poolse Nasionale Radio-orkes (1975-7). Sedert 1983 is hy hoofdirigent van die BBC Skotse Simfonie-orkes, met wie hy 'n bekroonde opname van Macmillan se The Confesson of Isobel Gowdie gemaak het. Hy het gedebuteer by die Salzburg-fees in 1985 en by die Engelse Nasionale Opera in 1991, in laasgenoemde geval met Don Giovanni. Verdere opnames: Bartók se Divertimento vir Strykers; Britten se Variations on a Theme of Frank Bridge; ‘n versameling strykerwerke van Janiewicz, Jarzebski, Mendelssohn en Rossini.

Malan, Petronel (1973-), Suid-Afrikaanse pianis. Op 4 jaar het sy met klavierlesse onder haar ma, ‘n operasangeres, begin. Haar eerste openbare optrede as solis was op sewe, en as tienjarige het sy Kabalefski se Jeugkonsert met die Johannesburg Simfonie-orkes gespeel. Sy het haar eerste nasionale kompetisie op twaalf gewen en twee jaar later die internasionale kompetisie in Marsala, Italië. Aanvanklik het sy onder Adolph Hallis studeer, en later onder bekende pianiste soos Steven de Groote en Ralph Votapek. Op sewentien het sy die SAUK Musiekprys gewen, en in 1991 het sy na die VSA geëmigreer. Sy het aan die Michigan Staatsuniversiteit gegradueer, en nagraadse studies is onder Joseph Banowetz aan die Universiteit van Noord-Texas onderneem. Sedert haar Europese debuut in 1987 in Rome tree sy wêreldwyd in konserte en voordragte op, en gaan sy voort om kompetisies te wen. In 2000 het sy nie minder nie as 4 goue medaljes in die VSA gewen. Sy is as inwonende kunstenaar aan die Suidoostelike Oklahoma Staatsuniversiteit verbonde. Haar eerste opname (Bach-verwerkings van Bartók, Lipatti en Friedman) is in 2004 vir ‘n indrukwekkende 3 Grammy toekennings benoem: beste instrumentele solis, bes uitgevoerde klassieke album, en beste klassieke regisseur van die jaar.

 

Malcolm, George (1917-), Engelse klawesimbelspeler, pianis, dirigent en komponis. Hy was vanaf 1947 tot 1959 musiekmeester van die Westminster Katedraal, met wie se koor hy uitmuntende opnames van Victoria se 18 Tenebrae responses gemaak het. Vanaf 1962 was hy vir vier jaar artistieke direkteur van die Londense Philomusica en in 1965 is die CBE aan hom toegeken. As solis was hy bekend in ‘n wye repertorium vanaf Bach tot by Britten. Daarby het hy aan die Koninklike Musiekakademie onderrig gegee. Sleutelopname (as solis): Leigh se Concertino vir klawesimbel en strykorkes (onder Marriner, 1972). Verdere opnames (as dirigent): Britten se Cantata academica en Hymn to St Cecilia; Handel se Watermusiek; (as solis): konserte van C.P.E. en J.C. Bach, Handel, Haydn, Poulenc en Vivaldi; en solowerke van Bach, F. Couperin en Rameau.

Malcuzynski, Witold (1914-77), Poolse pianis. Hy het klavier aan die konserwatorium in sy geboortestad Warskou studeer, asook regte en filosofie aan die universiteit. In 1936 is hy na Morges in Switserland om vir sy landgenoot Jan Paderewski te speel. Hy is deur die groot pianis en staatsman genooi om onder hom te kom studeer, wat hy terstond gedoen het. Vervolgens sou hy wêreldroem verwerf as ‘n onoortreflike vertolker van die Romantiese repertorium, veral in die musiek van Chopin. Opnames: klavierkonserte van Brahms, Chopin, Liszt, Rachmaninof en Tsjaikofski; en solowerke van Bach, Beethoven, Brahms, Chopin, Debussy, Franck, Liszt, Paderewski, Prokofiëf, Rachmaninof, Skriabin en Szymanowski.

Maleisiese Filharmoniese Orkes, die enigste simfonie-orkes van internasionale statuur in ‘n Moslem-land. Hulle is in Kuala Lumpur gebaseer, met ‘n konsertsaal op die grondvloer van die wêreld se hoogste gebou, die Petronas Torings. In 1997 is Kees Bakels as musiekdirekteur en Chean See Ooi as dirigent aangestel. Hul inwydingskonsert is in 1998 tydens die opening van die konsertsaal gegee, en in 2003 is hul eerste oorsese toer na Japan en Korea onderneem.

Malfitano, Catherine (1948-), Amerikaanse sopraan. Sy het haar professionale operadebuut in 1972 in Denver as Nannetta in Falstaff gemaak, waarna sy verbonde was aan die Minnesota Opera (1972/3) en die New York Stadsopera (1974-9). Intussen het haar Europese debuut in 1974 by die Nederlandse Opera plaasgevind, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1976), die Metropolitan Opera (1979), Wenen (1982), München (1985) en Covent Garden (1988). In 1991 het sy in Chicago die vroulike hoofrol in ‘n herlewing van Barber se opera Antony and Cleopatra gesing. Sy is veral bekend in Janácek-rolle soos Kostelnicka in Jenufa en die titelrol in Kata Kabanová. Daarby is sy begaafd in die titelrol van Salome, wat sy in ‘n uitstekende opname onder Christoph von Dohnányi gesing het. Verdere opnames: Rossini se Stabat Mater (onder Riccardo Muti).

Malgoire, Jean-Claude (1940-), Franse hobospeler en dirigent. Hy het in 1966 die koor en orkes La Grande écurie et la Chambre du Roy gestig vir die uitvoering van Barokmusiek volgens eietydse praktyke. Hulle het minder bekende operas, soos Rameau se Hippolyte et Aricie en Campra se Tancrède, herleef en bekendheid verwerf vir hul hoogstaande vertolkings van Barokwerke oor die algemeen. Opnames: Handel se operas Agrippina, Giulio Cesare, Rinaldo, Serse en Tamerlano; en Vivaldi se koorwerke Dixit Dominus en Stabat Mater.

Malko, Nikolai (1883-1961), Russies-gebore dirigent. Nadat hy vanaf 1908 vir tien jaar opera en ballet in Sint Petersburg gedirigeer het, was hy ‘n hoogleraar aan die konserwatorium (1918-26) en dirigent van die filharmoniese orkes in dié stad (1926-9). Daar het hy die eerste uitvoerings van Sjostakowitsj se eerste twee simfonieë in onderskeidelik 1926 en 1927 gedirigeer. Vanaf 1927 was hy ‘n hoogleraar aan die Moskou Konserwatorium, en in die jaar daarop het hy die eerste uitvoering van die orkessuite uit Sjostakowitsj se opera Die Neus gedirigeer. Hy het in 1933 na Brittanje geëmigreer, waarna sy loopbaan verder in die Weste afgespeel het. Sy Amerikaanse debuut is in 1938 gemaak en twee jaar later het hy hom in Chicago gevestig. In 1946 het hy ‘n Amerikaanse burger geword, en later was hy dirigent van die Yorkshire Simfonie-orkes (1954/5) en die Sydney Simfonie-orkes (1957-61). Intussen het hy die eerste Britse uitvoering van Prokofiëf se sewende simfonie gedirigeer. Met die Philharmonia Orkes het hy in 1955 uitstekende opnames van dié komponis se eerste en sewende simfonieë gemaak.

Maltman, Christopher (1970-), Engelse bariton. Nadat hy aanvanklik biochemie aan die Universiteit van Warwick studeer het, het hy vanaf 1991 aan die Koninklike Musiekakademie in Londen studeer. Verdere sangstudies het onder Sesto Bruscantini en Thomas Hampson gevolg, en in 1997 het hy die internasionale sangkompetisie in Cardiff gewen. Hy tree sedertdien wyd deur Europa in opera, konserte en voordragte op. Opnames: Bach se Kantates nrs. 61 en 147, en Magnificat (almal onder Harnoncourt, op DVD); liedere van Ireland en Schubert, en ‘n versameling liedere van Clara en Robert Schumann, insluitend lg. se Dichterliebe (almal met Graham Johnson as begeleier).

Manning, Jane (1938-), Engelse sopraan. Sy het in 1964 haar Londense debuut gemaak met ‘n uitvoering van liedere deur moderne komponiste soos Messiaen en Webern. Meer as 300 rolle is vir haar geskryf deur talle Britse en ander komponiste. In 1976 het sy by die Wexford-fees gedebuteer en in 1988 het sy haar eie instrumentele ensemble, Jane’s Minstrels, gestig. Die OBE is in 1990 aan haar toegeken. Sleutelopname: Schoenberg se Pierrot Lunaire (met die Nash Ensemble, onder Simon Rattle). Verdere opnames: Berg se opera Lulu (as die tienermeisie); werke van Lutyens; en Strawinski se opera Oedipus Rex (as Jocasta).

Mantovani (1905-80), Italiaans-gebore violis en dirigent. Hy het hom op ‘n jeugdige leeftyd in Engeland gevestig, waar hy in 1933 ‘n Britse burger sou word. In 1923 het hy in Birmingham ‘n hotelorkes gestig, en vier jaar later het hy in ‘n uitsaai-orkes begin speel. As solis het hy voordragte in Londen gegee. Hy was die musiekdirekteur vir vele musiekblyspele, veral dié van Noel Coward. Sy grootste roem sou egter kom deur sy opnames met hul kenmerkende singende strykers, waarvan Ronald Binge (komponis van die bekende Elizabethan Serenade) dikwels die verwerkings gedoen het.

Manze, Andrew (1965-), Engelse violis en dirigent. Hy het klassieke tale aan die Universiteit van Cambridge studeer en in dié tyd begin om die Barokviool te bespeel. Nagraadse studies is aan die Koninklike Musiekakademie onderneem, en hy het ‘n lid van die Amsterdamse Barokorkes geword. Later was hy vir vier jaar hul konsertmeester, waartydens hulle ‘n hoogaangeskrewe opname van Vivaldi se Vier Seisoene gemaak het. In 1996 is hy deur Christopher Hogwood genooi om mede-direkteur van die Academy of Ancient Music te word. Hy het dié beroemde ensemble verder ontwikkel, en het in 1998 as solis met hulle in ‘n hoogstaande opname van Tavener-werke gespeel. Dit het niemand verbaas toe hy Trevor Pinnock in 2003 as direkteur van The English Concert opgevolg het nie. In sy sonate-uitvoerings en -opnames word hy dikwels deur Richard Egarr begelei, hetsy op klawesimbel of kamerorrel. Hy het in 2011 die BBC Skotse Kamerorkes tydens hul debuut by die Londense Proms gedirigeer. Sleutelopnames: Tartini se onbegeleide vioolsonates in A mineur en G mineur, 14 Corelli Variasies en Pastorale. Verdere opnames (as dirigent): Geminiani se 12 Concerti grossi (opus 5); Mozart se Eine kleine nachtmusik en Ein musikalischer Spass; ‘n versameling Sinfonias van Scheibe (met die Concerto Copenhagen); (as solis): Bach se 3 vioolkonserte en 6 vioolsonates; Biber se volledige Rosenkranz Sonates, asook sy 8 Vioolsonates (1681); Handel se Vioolsonates, opus 1/3, 6, 10, 12&13; Tavener se Petra en Song of the Angel; Vivaldi se Manchester Sonates.

Marc, Alessandra (1957-), Amerikaanse sopraan wat as Judith Borden in Berlyn gebore is. Later het sy aan die Universiteit van Maryland en privaat onder Marilyn Gotlow studeer. Haar deurbraak is in 1987 by die Wexford-fees in Giordano se La cena delle beffe gemaak. In 1992 het sy gedebuteer by die Weense Staatsopera, in Ariadne auf Naxos, en by die Roomse Opera. Laasgenoemde was in die titelrol van Aida, wat sy ook met haar debute by die Metropolitan Opera, die San Francisco Opera en die Chicago Liriese Opera gesing het. Verder is sy met haar kragtige dog gevoelvolle sang uitmuntend in die titelrolle van Elektra en Turandot. Sy het as Turandot verskyn by Covent Garden, La Scala en die Bastille Opera in Parys. Sleutelopnames: Berg se 5 Altenberglieder (onder Sinopoli); R. Strauss se opera Elektra (onder Sinopoli); Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Chailly). Verdere opnames: Albéniz  se opera Henry Clifford (as Lady Clifford).

Marchal, André (1894-1980), Franse orrelis. Ná studies in Parys het hy in 1915 orrelis van Saint Germain-des-Prés geword en dertig jaar later van Saint Eustache. Hy was blindgebore, maar het nogtans 'n bekende solis geword wat uitvoerings in Europa, die VSA en Australië gegee het. Onder die opnames wat hy nagelaat het, tel solowerke van Bach.

Margiono, Charlotte (1955-), Nederlandse sopraan. Sy het aan die konserwatorium in Arnhem onder Aafje Heynis studeer. As die Grafin in Le nozze di Figaro sou sy wyd deur Europa en in Japan bekendheid verwerf. By die musiekfeeste in Aix-en-Provence (1988) en Salzburg (1991) het sy ook as Vitellia in La clemenza di Tito uitgeblink. Naas verdere Mozart-rolle soos Fiordiligi in Cosi fan tutte en Donna Elvira in Don Giovanni sing sy liriese rolle soos Vespina in L’infedelta delusa, Mimi in La Bohème, Marie in Die verruilde bruid en Agathe in Der Freischütz. Sy is ewe bekend in konsertwerke, waarin sy onder van die voorste dirigente van haar tyd sing. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Harnoncourt), Missa solemnis en Mis in C; Brahms se Ein deutsches Requiem; ‘n versameling Barok-arias; en die operas Cosi fan tutte en Le nozze di Figaro.

Markewitsj, Igor (1912-83), Russies-gebore Italiaanse pianis, dirigent en komponis. Hy is in 1926 na Parys, waar hy hom gevestig en onder die legendariese Nadia Boulanger studeer het. Drie jaar later is hy as die beroemde impresario Sergei Diaghilef se laaste beskermling na Londen vir ‘n uitvoering van sy eie klavierkonsert, en in 1930 is sy dirigeerdebuut in Amsterdam gemaak. Voor die Tweede Wêreldoorlog is hy as een van Boulanger se mees belowende beskermlinge beskou en is sy komposisies hoog geag. Tydens die oorlogsjare het hy in die Italiaanse weerstand teen die Fasjistiese bewind gedien, en het sy skeppendheid feitlik opgedroog. Daarna het hy hom op die dirigeerkuns toegespits, met debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1952) en in die VSA (Boston, 1955). Nogtans het hy vir die Bach-fees van 1950 in Strasbourg ‘n orkestrasie van die Barokreus se Das Musikalische Opfer gemaak, wat hy tydens sy New York-debuut 7 jaar later sou dirigeer. Hy was voorts musiekdirekteur van simfonie-orkeste in Stockholm (1952-5) en Montreal (1957-61), dirigent van die Lamoureux Orkes in Parys (1957-61), die Spaanse Radio-orkes (1965-8) en die Monte Carlo Opera (1968), en eredirigent van die Japannese Filharmoniese Orkes.

Markewitsj se lang, maer voorkoms het goed gepas by sy skraal dirigeerstyl, dog met die vermoë om presiese, intense spel van sy orkeste te ontlok. As meesterlike vertolker van Russiese musiek het hy veral uitgeblink in orkeswerke van Strawinski en Tsjaikofski. Sy opnames van laasgenoemde se volledige simfonieë wat in die 1960’s met die Londense Simfonie-orkes gemaak is, word in dieselfde asem as dié van Jewgeni Mrawinski genoem. Sy seun Oleg Caetani is ook ‘n dirigent. Onder sy verdere komposisies tel Kantate vir sopraansolo, mannekoor en orkes, geskryf vir Diaghilef se afsterwe; La Taille de l’Homme (onvoltooid) vir sopraansolo en kamerorkes; die vokale simfonie Vuca Lorenzo il Magnifico; en ‘n aantal balletwerke. Sleutelopname: Strawinski se ballet Apollo (Londen). Verdere opnames: Berlioz se La damnation de Faust (1955); Haydn se oratorium Der Schöpfung; Rimski-Korsakof se Russiese Paasfeesouverture; Sjostakowitsj se eerste simfonie; Strawinski se Simfonie van Psalms en ballet La sacre du Printemps; Tsjaikofki se Francesca da Rimini; en orkeswerke van Bartók, Busoni, Chabrier, Liadof, Liszt, Ravel en Satie.

Marlow, Richard (1939-2013), Engelse koordirigent en orrelis. Hy het orrel studeer aan die Cambridge Universiteit onder Thurston Dart. Daarna het hy vir 'n wyle aan die Universiteit van Southampton onderrig gegee, en in 1968 het hy na Cambridge teruggekeer. By sy alma mater was hy 'n dosent in musiek asook musiekdirekteur van Trinity Kollege, waar hy Raymond Leppard opgevolg het. In 1969 het die universiteit se Kamerkoor gestig, wat hy vir die volgende 20 jaar sou dirigeer. Hy het die ensemble in 1989 ontbind ten einde hom voluit te wy aan die koor van Trinity Kollege, wat hy vanaf 1982 tot 2006 gedirigeer het. Saam het hulle ongeveer 30 opnames gemaak. Daarby was hy vanaf 1998 tot 2011 artistieke direkteur van die William Byrd-fees in Portland, Oregon. As musiekgeleerde het hy heelwat artikels tot akademiese joernale en boeke bygadra. As gasdirigent en orrelis het hy wêreldwyd opgetree, onder meer in Australië, Nieu-Seeland, Brasilië, Kanada, Japan, Taiwan en Suid-Afrika. Hy het sy pos as musiekdirekteur by Trinity Kollege tot 2006 beklee.

Marriner, Neville (1924-), Engelse dirigent en violis. Ná studies aan die Koninklike Musiekkollege in Londen en die Parys Konserwatorium, het hy in 1947/8 aan Eton Kollege onderrig gegee. Vanaf 1949 was hy ‘n lid van die Martin Strykkwartet, en in dieselfde jaar het hy die Virtuoso Strykertrio en die Jacobean Ensemble gestig. Hy was in 1949/50 ‘n hoogleraar in viool aan die Koninklike Musiekkollege, waarna hy dirigeerkuns onder Pierre Monteux in die VSA bestudeer het. Vervolgens was hy ‘n violis in die Philharmonia Orkes (vanaf 1952) en die Londense Simfonie-Orkes (1956-68). In 1958 het hy die Academy of Saint Martin-in-the-Fields (ASMF) gestig, waarvan hy vir die volgende twintig jaar die direkteur sou wees. Met hulle het hy roem verwerf in die Barok- en Klassieke repertoriums, met honderde hoogstaande opnames wat uit hul verbintenis sou vloei. Hy het in 1968 die Los Angeles Kamerorkes gestig, wat hy tot 1979 sou dirigeer. Vanaf 1971 het hy vir twee jaar ook die Northern Sinfonia gedirigeer. Hy het in 1977 sy operadebuut in Manchester met La Bohème gemaak, waarna hy wêreldbekend sou raak vir sy elegante vertolkings van Mozart en Rossini se operas. In 1979 is die CBE aan hom toegeken.

Marriner was vervolgens hoofdirigent van die Minnesota Orkes (1979-86) en dirigent van die Stuttgart Radio Simfonie-orkes (1983-9). Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1982 gemaak en drie jaar later is hy tot ridder geslaan. Hy het intussen die ASMF in die klankbaan van die 1984-rolprent Amadeus gedirigeer. Met die Dresden Staatsorkes het hy uitstekende opnames van Haydn se volledige misse gemaak. Sy enorme repertorium strek vanaf Barok- tot moderne musiek, met die Weense Klassieke meesters as spilpunt. Sleutelopnames (almal met die ASMF): Mozart se Serenades nrs. 6, 7, 9 en 13; Rossini se volledige strykersonates; Vivaldi se versamelings vioolkonserte getiteld L’Estro armonico, La Stravaganza en The Trial of Harmony and Invention, insluitend die Vier Seisoene, en 8 houtblaserskonserte (1970’s), asook sy Gloria RV 589; ‘n versameling ouvertures en intermezzi van Wolf-Ferrari.

Verdere opnames: die volledige simfonieë van Mozart, Schubert, Schumann en Weber, en ‘n hele aantal van Beethoven, Bizet, Brahms, Gounod, Haydn, Ives, Mahler, Rachmaninof en Tsjaikofski; Bach se Kuns van die Fuga, Musikale Offer, Orkessuites en Brandenburgkonserte; ‘n versameling Rossini-ouvertures; Tsjaikofski se Capriccio italien, 1812 Ouverture, Francesca di Rimini en Slawiese Mars; Wagner se Siegfried Idyll; talle orkeswerke van Avison, J.C. Bach, Barber, Bizet, Butterworth, Copland, Corelli, Cowell, Creston, Delius, Dvorák, Elgar, Fauré, Handel, Respighi, D. Scarlatti, Schoenberg, Sibelius, Richard Strauss, Strawinski, Suppé, Tippett, Vaughan Williams, Weber en Walton; Bach se Kantates nrs. 82, 159 en 170, en Magnificat; Britten se Curlew River; Gluck se ballet Don Juan; Grieg se Peer Gynt; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream en Elijah; Mozart se Mis nr. 16 en Requiem; Rossini se Missa di Milano en Petite messe solennelle; en die operas Così fan tutte, Il ré pastore, Die Zauberflöte, Il barbiere di Siviglia, La Cenerentola en Il Turco in Italia.

Marsalis, Wynton (1961-), Afro-Amerikaanse trompetspeler. Hy is ewe tuis in jazz en die klassieke repertorium. Sy werk All Rise is in 1999 vir die New York Filharmoniese Orkes geskryf, en later sou hy dit in ‘n opwindende opname onder Esa-Pekka Salonen speel. Sleutelopname: Haydn se Trompetkonsert in E mol (onder Leppard). Verdere opnames: trompetkonserte van Fasch, Hummel, Jolivet, L. Mozart en Tomasi; en solowerke van Bernstein, Enescu, Hindemith, Honegger, Poulenc en Ravel.

Marshall, Lois (1924-2001), Kanadese sopraan. Sy het in ‘n musikale huis grootgeword, maar het as tweejarige polio opgedoen. Oor die volgende dekade sou sy baie tyd in die Toronto Konderhospitaal deurbring, waar haar besondere stem ontdek is. Sy is gevolglik dikwels versoek om vir pasiënte, personeel en besoekers te sing. As jong kind het sy konserte van die Toronto Simfonie-orkes en voordragte van Heifetz en Horowitz bygewoon. Op twaalf jaar het sy met musiekstudies onder die pianis/orrelis Weldon Kilburn begin. Dit was die begin van ‘n verhouding wat vir 35 jaar sou duur, aanvanklik professioneel en veel later in ‘n huwelik. Sy het ook liedere-sang onder die Weensgebore sopraan Emmy Heim studeer. In 1947 is sy deur die dirigent Ernest MacMillan gewerf om as sopraan in ‘n uitvoering van Bach se Sint Mattheüspassie te sing. Dit was haar professionele debuut, en drie jaar later het sy die Eaton-beurs van die Koninklike Musiekkonserwatrium in Toronto gewen. In dieselfde jaar (1950) het sy ‘n sangkompetisie van die Kanadese uitsaaidiens gewen, waardeur sy landswye bekendheid verwerf het.

Marshall se operadebuut is in 1952 in Toronto gemaak, as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte. In dieselfde jaar het sy die Naumberg-toekenning verwerf, wat haar in staat gestel het om in die New York Stadsaal te gaan sing. Daardeur het sy Toscanini só beïndruk dat hy haar genooi het om in sy opname van Beethoven se Missa solemnis te sing. Daarna het sy wêreldwyd in konserte en voordragte opgetree, en veral in Rusland besonder gewild geword. Haar Londense debuut is in 1956 onder Thomas Beecham gemaak. Weens haar kreupel bene kon sy nie ‘n operaloopbaan volg nie, maar sy het in konsertweergawes daarvan gesing. Dit sluit optredes by die Boston Opera onder Sarah Caldwell in spesiaal aangepasde opvoerings van La Bohème en Tosca in (in 1959/60). Sy is in 1968 met haar gewese leermeester Weldon Kilburn getroud, en in dieselfde jaar is die ‘Companion of Order of Canada’ aan haar toegeken. Vanaf die 1970’s het sy as mezzosopraan begin sing, en in dié stemtipe het sy liedere van Schubert en Schumann opgeneem. Sy het vanaf 1976 tot haar dood op 73 jaar aan die Universiteit van Toronto onderrig gegee. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Jochum); Handel se oratorium Solomon (onder Beecham); en Mozart se opera Die Entführung aus dem Serail (onder Beecham).

Marshall, Margaret (1949-), Skotse sopraan. Sy het in 1974 die München-sangkompetisie gewen en in die jaar daarop is haar Londense debuut gemaak. In 1978 het sowel haar debuut by die Edinburgh-fees as haar operadebuut plaasgevind, in laasgenoemde geval in Florence as Euridice in Orfeo ed Euridice. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1980), en by La Scala en die Salzburg-fees (beide in 1982). ‘n Verdere operarol waarin sy uitblink, is Fiordiligi in Così fan tutte, maar sy is meer bekend in gewyde musiek van die Barok en dié van Elgar. Opnames: Berg se liedere An Leukon en Schleisse mir die Augen beide, Elgar se The Kingdom en The Light of Life, Handel se Dixit Dominus en Messiah, Haydn se oratorium Die Schöpfung en opera Ifigenia in Tauride, Mahler se agste simfonie (onder Gielen), Monteverdi se Vespro della Beata Vergine, Mozart se Litaniae de venerabili altaris sacrament, Mis nr. 16 en Vesperae solennes de confessore, Pergolesi se Stabat Mater, en kerkmusiek van Vivaldi (onder Negri).

Marston, Ward (1952-), Amerikaanse pianis en restourasiemeester. Hy is blindgebore en het oor die jare heen tienduisende klassieke opnames versamel. Terwyl hy aan die Williams Kollege studeer het, het hy die vroegste stereo-opname van die Bell Telefoonlaboratoriums, wat in 1932 gemaak is, gerestoureer. Sedertdien het hy wêreldroem verwerf vir sy noukeurige, liefdevolle restourasie van talle klassieke opnames wat op kompakskyf voortgebring word. Vir sy restourasie van die sopraan Lucrezia Bori se volledige opnames het hy in 1996 ‘n Gramophone toekenning ontvang. Verdere bekroonde restourasiewerk is met opnames van Kreisler, Rachmaninof en Toscanini gemaak. Interessant genoeg tree hy as jazz-pianis by private funksies dwarsoor die VSA op.

Martinelli, Giovanni (1885-1969), Italiaanse tenoor. Hy het in Milaan studeer en in 1910 sy operadebuut daar in die titelrol van Ernani gemaak. In die jaar daarop het hy in die Europese première van La Fanciulla del West in Rome gesing. Hy het in 1912 by Covent Garden gedebuteer en in 1913 by die Metropolitan Opera. Hy sou hy vir langer as drie dekades ‘n lid van die Met wees en in meer as vyftig rolle daar optree. By die Met is hy saam met Beniamino Gigli as Caruso se opvolger na laasgenoemde se afsterwe in 1921 beskou. In 1946 het hy sy afskeidskonsert daar gegee. Daarna het hy in New York onderrig gegee en in 1967 in Seattle sy laaste openbare optrede gemaak. Met sy intense sang en sterk verhoogpersoonlikheid was hy wêreldbekend in die heroïese rolle van Italiaanse opera, soos die titelrolle in Andrea Chenier en Otello, Canio in I Pagliacci, Radames in Aïda, Gabriele in Simon Boccanegra en Calaf in Turandot. Hy het in historiese opnames van Otello en Simon Boccanegra (beide by die Met onder Panizza) en Turandot (by Covent Garden onder Barbirolli) gesing, asook in 'n hoogstaande versameling arias en duette wat in 1926/7 opgeneem is.

Martini, Joachim Carlos (1931-), Chileens-gebore dirigent van Duitse ouers. Die gesin het in 1938 na Duitsland teruggekeer, en later het hy in Göttingen en Frankfurt-am-Main vir onderwyser studeer. Hy het ook musieksosiologie, koorleiding en operapraktyk studeer, met verdere studies in Salzburg onder Dean Dixon en Hermann Scherchen. Daarna het hy as kantor gekwalifiseer aan die Skool vir kerkmusiek in Frankfurt, en vanaf 1958 het hy die studentekoor van die Goethe Universiteit in dieselfde stad in uitvoerings van gewyde werke gelei. Hy het in 1961 die Hessische Schülerkantorei gestig, en sewe jaar later ook die Junge Kantorei wat hy sedertdien dirigeer. Verder het hy in Frankfurt ‘n argief gestig vir navorsing oor die lewens en werke van Joodse musici tydens die Nasionaal-Sosialistiese bewind. Verskeie publikasie en uitstallings het reeds daaruit gevloei. Met die Junge Kantorei en die Frankfurt Barokorkes het hy hoogstaande opnames van Handel se oratoriums Athalia, Deborah, Nabal, Saul en Il Trionfo del Tempo e della Verità gemaak.

Martinon, Jean (1910-76), Franse violis, dirigent en komponis. Hy het in Lyon en Parys studeer, onder andere met die komponis Albert Roussel. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy vir twee jaar ‘n krygsgevangene. In dié tyd het hy een van sy eie werke in die Franse hoofstad gedirigeer, wat daartoe gelei het dat hy ‘n dirigeerpos in Bordeaux bekom het (1943-5). Vanaf 1946 het hy konsertuitvoerings in Londen gegee, en daarna was hy die gevierde dirigent Charles Munch se assistent by die Londense Filharmoniese Orkes (1947-9). Hy was verder dirigent van die Ierse Radio-orkes (1948-50) en musiekdirekteur van die Lamoureux Orkes (1951-8). Sy Amerikaanse debuut is in 1957 in Boston gemaak. Daarna was hy hoofdirigent van die Israeliese Filharmoniese Orkes (1958-60), die Düsseldorf Simfonie-orkes (1960-6), die Chicago Simfonie-orkes (1963-9), die Franse Radio-orkes (1968-75) en die Residensie Orkes in Den Haag (1975/6). Hy het die eerste Fransman geword om die Mahler-medalje te verwerf, hoewel sy bekendheid merendeels in die musiek van sy landgenote gelê het. Sleutelopnames: Borodin se tweede simfonie (Londen 1960); Meyerbeer se balletsuite Les Patineurs (Israel 1958); Ravel se ballet Daphnis et Chloé, La Valse en Boléro (Parys 1974, DVD). Verdere opnames: 9 van Dvorák se Slawoniese Danse; Honegger se Cantate de Noël; Massenet se balletsuite Le Cid; Prokofiëf se simfonieë nrs. 5 en 7; die 5 simfonieë van Saint-Saëns; ‘n versameling ouvertures van Offenbach; en orkeswerke van Berlioz, Debussy, Franck, Honegger, Ibert en Roussel.

Martinpelto, Hillevi (1958-), Sweedse sopraan. Ná studies aan die Stockholm Operaskool is haar debuut in 1987 by die Koninklike Opera in die Sweedse hoofstad gemaak. Dit was in die titelrol van Madama Butterfly, en daarna was sy verbonde aan die Koninklike Teater in Drottningholm en die Norrlands Opera in Umea. Sedert 1990 tree sy wêreldwyd by die voorste operahuise en musiekfeeste op, veral in operas van Mozart, Verdi en Wagner. Haar repertorium sluit rolle in soos Leonore in Fidelio (die 1805-weergawe), Fiordiligi in Cosi fan tutte, die Grafin in Le nozze di Figaro, Elettra in Idomeneo, Elisabetta in Don Carlos, Alice Ford in Falstaff, Desdemona in Otello, Elisabeth in Tannhäuser en Raiza in Oberon. Daarby is sy ‘n begaafde konsertsangeres in die Duitse repertorium. Sy het in 1996 by die Nobelprystoekennings in Stockholm opgetree. Sleutelopname: Weber se opera Oberon (in Engels, onder Gardiner). Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur; Handel se Dixit Dominus (onder Ohrwall); Sibelius se Kullervo (onder Colin Davis); die genoemde operas van Mozart, asook Don Carlos.

Marton, Eva (1943-), Hongaarse sopraan. Sy het in 1963 haar operadebuut gemaak as die Koningin in Die Goue Haantjie, en was daarna tot 1971 ‘n lid van die Hongaarse Staatsopera. Vervolgens was sy verbonde aan die Frankfurt Opera (1971-7) en die Hamburg Staatsopera (vanaf 1977). In 1975 het sy tydens haar Amerikaanse debuut in New York in die eerste uitvoering van Hovhaness se oratorium The Way of Jesus gesing. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1976), die feeste in Bayreuth (1977) en Salzburg (1992), asook in San Francisco (1985) en by Covent Garden (1987). Met haar kragtige stem en intense karakterisering was sy wêreldbekend in die swaarder rolle van laat-Romantiese en moderne opera. Daaronder tel Judith in Bloubaard se Kasteel, Gertrud in Bánk bán, die Keiserin in Die Frau ohne Schatten, Elsa in Lohengrin, Elisabeth in Tannhäuser, Brünnhilde in die Ring-siklus, en die titelrolle in Fedora, Violanta, Tosca, Turandot, Semirama en Elektra. Onder haar beeldopnames tel ‘n verskyning as Tosca by die Verona Teater. Sy het in nie minder nie as 4 opnames van Turandot gesing: onder Maazel, Roberto Abbado, Levine en Runnicles. In 2003 het sy tydens die première van Albéniz se opera Merlin in Madrid die rol van Morgan-le-Fay geskep. Verdere opnames: Liszt se Die Legende van Sint Elisabeth (in die titelrol); die genoemde operas van Bartók, Erkel, Giordano, Korngold, Puccini en Respighi, asook Elektra (onder beide Abbado en Sawallisch) en die Ring (onder Haitink); en ‘n versameling liedere en arias van Puccini.

Märzendorfer, Ernst (1921-2009), Oostenrykse dirigent. Hy het aan die Salzburg Mozarteum onder die gevierde dirigent Clemens Krauss studeer. In 1945 het hy 'n dirigent by die Graz Opera geword en in die 1950's het hy by die Teatro Colón in Buenos Aires gedirigeer. Hy het in 1954 as gasdirigent by die Salzburg-fees begin optree. Vanaf 1953 tot 1958 was hy hoofdirigent van die Mozarteum Orkes in Salzburg, met wie hy 'n aantal toere onderneem het, insluitend 'n geslaagde toer deur die VSA. Hy was vanaf 1961 'n permanente dirigent by die Weense Staatsopera en in 1976 het hy musiekdirekteur van die Salzburg-fees in Hellbrunn geword, waar hy 20 verhoogwerke van Jacques Offenbach opgevoer het. In 1979 het hy Franz Schmidt se opera Fredigunde herleef. Oor die jare het hy 'n hele aantal premières van Richard Strauss se operas gedirigeer, in Berlyn, Salzburg, Rome en New York. Daarby het hy die eerste opvoerings van Wagner se Siegfried in Rome en Napels en Parsifal in Berlyn gedirigeer. 'n Verdere prestasie was die eerste volledige opnames van Haydn se  simfonieë wat met die Weense Kamerorkes gemaak is, altesaam 107 daarvan. Dit is op 49 langspeelplate vrygestel maar helaas in 'n beperkte getal. Hy het ook opnames van 'n aantal Italiaanse en Franse operas gemaak, asook werke van Johann Strauss senior en Josef Strauss. Daarby was 'n orkesbegeleier vir Nicanor Zabaleta in opnames van harpkonserte deur Mozart, Handel, Spohr en andere.

Masterson, Valerie (1937-), Engelse sopraan. Sy het in 1963 haar debuut by die Salzburg Landestheater gemaak as Frasquita in Carmen. Vanaf 1966 was sy vir vier jaar aan die D’Oyly Carte Opera verbonde en vanaf 1972 aan die Engelse Nasionale Opera. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1974), Parys (1978) en San Francisco (1980). Met haar briljante koloratuurstem en dramatiese vermoëns is sy begaafd as Violetta in La Traviata en as Woglinde in Götterdämmerung, en in operas van Handel en sommige Franse komponiste. Daarby is sy bekend in die operettes van Gilbert en Sullivan, in rolle soos Yum-Yum in The Mikado en Mabel in The Pirates of Penzance. Opnames: Elgar se The Starlight Express (onder Handley); die genoemde operettes, asook Lehár se The Merry Widow (in Engels), Princess Ida en The Sorcerer; en die operas Elisabetta Regina d'Inghilterra, La Traviata en The Twilight of the Gods  (laasgenoemde twee in Engels).

Masur, Kurt (1927-), Duitse dirigent. Nadat hy aan die Leipzig Konserwatorium studeer het, het sy loopbaan oor ‘n tydperk van vier dekades in die voormalige Oos-Duitsland ontvou. Hy was aanvanklik ‘n dirigent in Erfurt (1951-3), Leipzig (1953-5), Dresden (1955-8) en Schwerin (1958-60). Daarna was hy musiekdirekteur van die Berlynse Komiese Opera (1960-4), waar hy innoverende opvoerings van die Oostenrykse regisseur Walter Felsenstein gedirigeer het. Verdere opgang is gemaak as musiekdirekteur van die Dresden Filharmoniese Orkes (1964-7) en veral van die beroemde Leipzig Gewandhaus Orkes (1970-90). In 1974 het sy Amerikaanse debuut met die Cleveland Orkes plaasgevind. As vooraanstaande inwoner van Leipzig het hy in 1989/90 ‘n leidende rol gespeel om kommunistiese onderdrukking van die pro-demokratiese betogings in die Saksiese stad te verhoed. Met sy Leipzig-orkes het hy in 1992 ‘n uitvoering van Richard Strauss se Metamorphosen, Vier letzte Lieder en Til Eulenspiegel by die Alte Oper in Frankfurt gegee, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Vanaf 1991 was hy vir elf jaar musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes, waar hy die Duitse repertorium vanaf Bach tot by Richard Strauss herbekendgestel het. Daaronder tel die orkes se eerste volledige siklus van Beethoven se simfonieë, wat in 1998 opgeneem is. Verder is Sjnittke se sewende simfonie, Gubaidulina se dubbele altvioolkonsert en Marsalis se All Rise vir hulle geskryf. Hy het die Filharmonie nege dae na die terreuraanvalle op New York in 2001 in ‘n uitvoering van Brahms se Ein deutsches Requiem gedirigeer.

In 2002 het Masur die pos van musiekdirekteur by die Franse Nasionale Radio-orkes in Parys opgeneem. Hy het in die jaar daarop met die Boston Simfonie-orkes die premières van Carter se Boston Concerto en Gubaidulina se Die Lig van die Einde gegee. Tydens die Herbert von Karajan eeufeesvierings in 2008 het hy sy Franse orkes in ‘n herdenkingskonsert by die Ravenna-fees gedirigeer. Met sy energieke dirigeerstyl is Masur begaafd in die musiek van Sjostakowitsj, wat die gewildste komponis in kommunistiese Oos-Europa was, en in die Duitse Romantiek. Daarin spesialiseer hy verder in vokale werke wat ‘n groot orkes vereis, soos dié van Beethoven en Mendelssohn. Sleutelopnames: Mendelssohn se simfonieë nrs. 1 en 5 (Leipzig). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Schumann, en ‘n aantal van Dvorák (nr. 9), Franck, Haydn, Mahler, Sjostakowitsj en Tsjaikofski; ouvertures van Beethoven, asook sy Egmont-musiek, Koorfantasie en Missa solemnis; Berg se Lulu suite; Liszt se simfoniese gedigte en Dante simfonie; Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream, oratoriums Elijah en St Paul, en ‘n hele aantal ouvertures; Weill se ballet Die sieben Todsünden; en die operas Genoveva en Ariadne auf Naxos.

Mata, Eduardo (1942-95), Meksikaanse dirigent en komponis. Hy het sedert die vroeë 1960’s verskeie dirigeerposte in sy geboorteland beklee, en daarna was hy hoofdirigent van die Phoenix Simfonie-orkes in Arizona (1972-8) en die Dallas Simfonie-orkes (1977-93). Met die Londense Simfonie-orkes en -koor het hy in 1980 een van die beste opnames nóg van Orff se kantate Carmina Burana gemaak. Verdere opnames: ‘n versameling bekende orkeswerke van Ravel; en orkeswerke van Dukas, Enescu, Moessorgski, Revueltas en Tsjaikofski.

Matheson, John (1928-2009), Nieu-Seelandse dirigent. Hy het aan die Universiteit van Otago in musiek gegradueer, waarop hy met 'n beurs na die Koninklike Musiekkollege in Londen is vir verdere studies. Later het hy onder die gevierde dirigent Carlo Maria Giulini studeer en as sy assistent gewerk. Sy professionele loopbaan is in Brittanje afgeskop, eers as koormeester by die Carl Rosa Opera, dan vlugtig as repetiteur by die Sadler’s Wells Opera en vervolgens vir agt jaar by Covent Garden, waar hy ‘n assistent vir Georg Solti was. In die vroeë 1960's het hy na Sadler's Wells teruggekeer, waar hy honderde opvoerings gedirigeer het. Hy is in 1977 na die Duitse stad Mannheim as hoofdirigent, met optredes wat ook in Hamburg, Frankfurt en München gemaak is. Vervolgens het hy opera gedirigeer by verskeie teaters in Italië, waaronder Genoa en Spoleto. In 1985 het hy na sy geboorteland teruggekeer en operas, ballette en konserte gedirigeer. Hy het in 1988 musiekdirekteur geword van die Queensland Liriese Opera in Brisbane, Australië, waar hy tot aan die einde van sy lewe sou woon. Tydens sy verblyf in Brittanje het hy met die BBC Konsertorkes en bekende sangers puik opnames gemaak van Verdi se operas Don Carlos (in die Franse weergawe), Simon Boccanegra (in die 1857-weergawe), Macbeth (in die oorspronklike 1847-weergawe) en La forza del destino (in die oorspronklike 1862-weergawe).

Mathis, Edith (1938-), Switserse sopraan. Sy het in 1956 in Luzern gedebuteer as die Tweede Seun in Die Zauberflöte. Daarna was sy verbonde aan operahuise in Keulen (1959-62) en Hamburg (1960-72), met verdere debute wat gemaak is by die feeste in Salzburg (1960) en Glyndebourne (1962), en by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1970). Met haar suiwer, liriese sang was sy wêreldbekend in die operas van Haydn en Mozart. Onder haar beste rolle het getel Vespina in L'infedeltà delusa, Ilia in Idomeneo, Susanna in Le nozze di Figaro, Anna Reich in Die lustige Weiber von Windsor, Estrella in Alfonso und Estrella en ännchen in Der Freischütz. Daarby was sy een van die voorste sangeresse van haar tyd in Duitse liedere en konsertwerke. Sy het as solis opgetree in Charles Mackerras se opname van Handel se Messiah, in Mozart se Duitse verwerking. Sleutelopnames: ‘n versameling Schumann-liedere, insluitend Frauenliebe und Leben (begelei deur Christoph Eschenbach); Telemann se Der getreue Music-Meister (1966/7). Verdere opnames: ‘n hele aantal kantates van Bach en sy Sint Mattheuspassie (almal onder Richter); Berlioz se La damnation de Faust; Bruckner se drie Misse (onder Jochum); Dvorák se Stabat Mater; Haydn se oratorium Die Seisoene; Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder beide Kubelik en Tennstedt), 4 (onder Karajan) en 8 (onder Kubelik); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Karajan) en A Midsummer Night’s Dream; Mozart se Exsultate, jubilate en Missa brevis; Schumann se Szenen aus Goethes Faust (as Gretchen); Zemlinsky se Waldgespräch; liedere van Brahms en Schubert; die genoemde operas van Haydn, Mozart, Nicolai, Schubert en Weber, asook Il mondo della luna, Der junge Lord, Apollo et Hyacinthus, Ascanio in Alba, La clemenza di Tito, Lucio Silla, Il sogno di Scipione en Zaïde; en ‘n versameling Haydn-arias (onder Armin Jordan).

Matteuzzi, William (1957-), Italiaanse tenoor. Nadat hy in 1980 die Enrico Caruso sangkompetisie gewen het, het hy begin om ‘n wye repertorium operarolle op te bou. Hy is  bekend as ‘n uitmuntende Rossini-sanger, in rolle soos Don Ramiro in La Cenerentola, Almaviva in Il barbiere di Siviglia en Graaf Libenskof in Il viaggio a Reims. Daarby het hy in 1982 die rol van Mengone in Haydn se opera Lo Speziale in Lugano, Switserland gesing, met 'n beeldopname wat gemaak is. Sy debuut by die Metropolitan Opera is in 1988 as Almaviva gemaak. ‘n Opname van ‘n versameling arias onder David Parry is in 2001 vir ‘n Gramophone toekenning benoem. Hy het voorts uitgeblink as Prunier in Antonio Pappano se sleutelopname van Puccini se La Rondine. Verdere opnames: ‘n versameling liedere van Tosti; en die genoemde operas van Rossini, asook sy minder bekende Otello en Ricciardo e Zoraide.

Matthews, Denis (1919-88), Engelse pianis en musiekskrywer. Hy het in Londen studeer en in 1939 sy debuut by die Proms in die Britse hoofstad gemaak. Daarna het hy as solis met van die voorste orkeste opgetree. Hy was 'n begaafde vertolker van Mozart en Beethoven, en het in 1956 die eerste uitvoering van Rubbra se klavierkonsert gegee. Vanaf 1972 to 1984 was hy 'n hoogleraar in musiek aan die Newcastle Universiteit. Die CBE is in 1975 aan hom toegeken. Hy het selfmoord gepleeg.

Mattila, Karita (1960-), Finse sopraan. Sy het op ‘n plaas in ‘n musikale gesin grootgeword en in haar middel-tienerjare met sanglesse begin. Terwyl sy nog 'n student aan die Sibelius-Akademie in Helsinki was, het sy in 1981 die rol van Donna Anna in Don Giovanni in Savonlinna gesing. In die jaar daarop het sy met die Finse Nasionale Opera gedebuteer, en in 1983 het sy die eerste internasionale sangkompetisie in Cardiff gewen. Die beroemde dirigent Claudio Abbado het haar op ‘n Europese toer met sy Europese Jeugorkes geneem, en in 1984 het sy onder Vera Rosza in Londen begin studeer. Rosza het haar aan die Slawiese repertorium bekendgestel, met rolle soos Tatjana in Jewgeni Onegin, Lisa in Pique Dame en die titelrol in Jenufa. Laasgenoemde het sy die eerste keer in 1998 in Hamburg gesing, en dit sou een van haar beste rolle word. Verdere debute is intussen gemaak by Covent Garden (1986), die Salzburg-fees (1987) en die Metropolitan Opera (1990). Met haar ferm, ryk stem en aantreklike voorkoms is sy uitmuntend in verdere rolle soos die titelrol in Káta Kabanová, Fiordiligi in Così fan tutte, Pamina in Die Zauberflöte, Chrysothemis in Elektra, Elisabetta in Don Carlos, Amelia in Simon Boccanegra, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg en Agathe in Der Freischütz. By die Met het sy in 2002 geskitter as Leonore in ‘n DVD-opname van Fidelio onder James Levine. Daarby is sy 'n begaafde konsertsangeres, veral in die Duitse repertorium. Sleutelopname: Schoenberg se Gurrelieder (onder Rattle). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Abbado); Bernstein se derde simfonie (onder Sado); Bruckner se Te Deum; Merikanto se koorwerk Genesis; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Abbado); Mozart se Requiem; Schubert se Mis nr. 6; Schumann se Szenen aus Goethes Faust (as Gretchen); orkesliedere van Sibelius (onder Oramo); Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Abbado); die genoemde operas van Verdi, Wagner en Weber, asook Jenufa, Cosi fan tutte en Fierrabras.

Mauceri, John (1945-), Amerikaanse dirigent. Hy het vanaf 1968 vir ses jaar die Yale Universiteit se simfonie-orkes gedirigeer. Sy operadebuut is in 1973 gemaak, en in dié jaar het hy ook die eerste Europese uitvoering van Bernstein se Mis in Wenen gedirigeer. In 1976 het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer en vanaf die jaar daarop tot 1982 het hy die New York Stadsopera gedirigeer. Voorts was hy musiekdirekteur van die Washington Opera (1980-2), die Amerikaanse Simfonie-orkes (1984-7) en die Skotse Opera (1987-93). As bekende in moderne musiek het hy in 1989 die Britse première van Weill se Street scene in Glasgow gedirigeer. Sleutelopname: Weill se opera Die Dreigroschenoper (Berlyn). Verdere opnames: Gershwin se musiekblyspele Girl crazy en Strike up the Band; Weill se ballet Die sieben Todsünden; en die operas Das Wunder der Heliane en Flammen.

Mayr, Richard (1877-1935), Oostenrykse bas-bariton. Nadat hy in 1902 sy debuut by die Bayreuth-fees as Hagen in Götterdämmerung gemaak het, was hy tot 1935 'n lid van die Weense Opera. Daar het hy onder die komponis Mahler as Don Gomez in Ernani gedebuteer. Hy het in 1910 in München in die eerste uitvoering van Mahler se agste simfonie onder die komponis self opgetree. Sy bekendste rol was Baron Ochs in Der Rosenkavalier, wat vir hom geskryf is. Nege jaar later het hy die rol van Barak tydens die première van Die Frau ohne Schatten in Wenen geskep. Verdere operadebute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1921), Covent Garden (1924) en die Metropolitan Opera (1927). In 1933 het hy stewig vertoon as Ochs in die heel eerste opname van Der Rosenkavalier onder Robert Heger. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Felix Weingartner).

Max, Hermann (1941-), Duitse dirigent. Hy het musiek aan die Berlynse Konserwatorium en musikologie aan die Universiteit van Keulen studeer. As gesaghebbende in vroeë musiek dirigeer hy die ensembles Rheinische Kantorei en Das Kleine Konzert. Hulle het naam gemaak met hul herlewing van afgeskeepde werke uit die agtiende eeu. Daaronder tel J.C. Bach se opera La Clemenza di Scipione - die eerste keer sedert 1778 dat die werk volledig opgevoer is. In Romain-môtier, Switserland dirigeer hy gereeld die internasionale klasse in koorleiding en -sang. Verdere opnames: ‘n versameling kantates van C.P.E. Bach (Wq.217, 239, 243&249); die genoemde werk van J.C. Bach, asook sy oratorium Gioas Rè di Giuda; ‘n versameling kantates van J.M. Bach, insluitend die Vredeskantate; Bruch se oratorium Arminius; Kozeluch se oratorium Moisè in Egitto; Telemann se Passie-oratorium Betrachtung der 9 Stunde an dem Todstage Jesu, en sy kantates Ein mensch is in seinem Leben wie Gras en Herr, ich habe lieb die Stätte deines Hauses.

Maxwell, Donald (1948-), Skotse bas-bariton. Hy het in 1977 by die Skotse Opera gedebuteer as Morton in Mary, Queen of Scots, en daarna vele rolle met hulle gesing. Verdere debute het gevolg by die Buxton-fees (1979), die Walliese Nasionale Opera (1982) en Covent Garden (1987). By die WNO het hy met sy ferm, donker stem in rolle soos Golaud in Pelléas et Mélisande, Iago in Otello en die titelrol in Falstaff opgetree. Hy het in 1996 by die Glyndebourne-fees uitgeblink as die Dieretemmer/Rodrigo in ‘n DVD-opname van Lulu onder Andrew Davis. Verdere opnames: Britten se Noye's Fludde; Howells se Missa Sabrinensis; Manoury se 60th Parallel; Orff se Carmina Burana; en die genoemde opera van Debussy, asook The Rape of Lucretia en Sir John in Love (as Falstaff).

Mcarthur, Edwin (1907-87), Amerikaanse pianis en dirigent. Hy het klavier aan die Juilliard Musiekskool en later onder Julia Lhevinne studeer. Daarna het hy 'n klavierbegeleier vir bekende sangers geword, waarvan Kirsten Flagstad die beroemdste was. Hul verbintenis as vriende en medewerkers het in 1935 begin en het tot haar dood in 1962 geduur. Hy het in 1939/40 beroemde opnames van Wagner-duette deur Flagstad en Lauritz Melchior in Hollywood en Philadelphia gedirigeer. Vanaf 1945 was hy musiekdirekteur van die Sint Louis Munisipale Teater, en later was hy opera-hoof aan die Eastman Musiekskool. Hy het 'n biografie oor Flagstad geskryf.

McCormack, John (1884-1945), Iers-gebore tenoor. Hy het roem verwerf toe hy in 1903 die Ierse Nasionale Sangfees sonder enige afrigting gewen het. Daarna het hy in Italië onder Sabbatini gaan studeer, en in 1906 is sy operadebuut in Savona in die titelrol van L’Amico Fritz gemaak. In die jaar daarop het hy by Covent Garden gedebuteer. Hy het weldra by dié operahuis roem verwerf met sy optredes teenoor Luisa Tetrazzini in La Travaiata, Rigoletto en Lucia di Lammermoor, en teenoor Nellie Melba in La Bohème. Vanaf 1910 het hy vir vier jaar by Amerikaanse operahuise opgetree, onder andere in Boston en Chicago. In die VSA het hy met die groot tenor Enrico Caruso bevriend geraak, en in 1919 het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het in 1916 in historiese opnames van arias uit Don Giovanni gesing. Onder die eretitels wat aan hom toegeken is, tel dié van ridder in die Erelegioen (1924), pouslike graaf (1928) en ridder-aanvoerder van Malta (1932). Hy het in 1938 uitgetree, maar nogtans gedurende die Tweede Wêreldoorlog in liefdadigheidskonserte opgetree. Met sy suiwer voordrag en besondere stembeheer was hy een van die voorste sangers in Mozart en Verdi se operas van sy tyd, onder andere as Don Ottavio in Don Giovanni en Alfredo in La Traviata. Later het hy besonder gewild geword in konserte van populêre liedere, veral Ierse ballades. Gelukkig vir musiekliefhebbers is ‘n aantal van laasgenoemde opgeneem.

McCracken, James (1926-88), Amerikaanse tenoor. Hy het in 1952 sy debuut in Colorado gemaak as Rodolfo in La Bohème, en in die jaar daarop het hy by die Metropolitan Opera begin sing. Daarna het hy wêreldwyd veral in die titelrol van Otello bekendheid verwerf, met verdere debute wat plaasgevind het by die Salzburg-fees (1963) en Covent Garden (1964). Hy was ook ‘n begaafde Florestan in Fidelio en Don José in Carmen. Opnames: Fidelio, Carmen, Le Prophète en Otello.

McCreesh, Paul (1960-), Engelse tjellis, dirigent en musiekgeleerde. Terwyl hy ‘n student aan die Manchester Universiteit was, het hy ‘n kamerkoor en instrumentele ensemble gestig. Laasgenoemde speel op eietydse instrumente, en in 1982 is die twee ensembles as die Gabrieli Consort and Players verenig. Sedertdien het hulle wêreldberoemd in musiek uit die Renaissance en Barok geword, met gereelde optredes by konserte en feeste dwarsoor Europa en die VSA. Hulle doen pionierswerk met hul deeglik nagevorste, skouspelagtige rekonstruksies van liturgiese gebeure uit die sestiende tot agtiende eeue. Dit is ingelui deur ‘n bekroonde 1990-opname van die kroning van Hertog Grimaldi (1595) in die Sint Markus Katedraal in Venesië, met musiek van Andrea en Giovanni Gabrieli. Later in die 1990’s het die ensemble roem begin verwerf in die musiek van Handel, en hul Amerikaanse debuut is in 1997 met musiek van Gabrieli gemaak. Verder is McCreesh die stigter en artistieke direkteur van die Brinkburn Musiekfees, waarvan die eerste in 1994 gehou is. Met die 250ste herdenking van Bach se dood in 2000 het hulle deur Europa getoer om die Barokreus se Paasfeesoratorium en Magnificat op te voer. Vroeg in die derde millennium het McCreesh en sy ensemble ‘n rewolusionêre opname van Bach se Sint Mattheüspassie gemaak, waarin die soliste ook as die koor funksioneer, met slegs een sanger per stemtipe - die algemene gebruik in Bach se tyd.

Verdere rekonstruksies wat deur McCreesh en sy ensemble opgeneem is, sluit in:

‘n Kersfeesmis in die Salisbury Katedraal (1540), met Sheppard se Missa cantate;

die Fees van Sint Isidore van Seville in die Toledo Katedraal (1590), met Morales se Missa mille regretz;

‘n Dodemis vir Koning Filips II van Spanje in die Toledo Katedraal (1598), met musiek van Morales;

‘n Venesiese Paasfeesmis (1600) in die Sint Markus Katedraal, met musiek van G. Gabrieli en Lassus;

‘n Dodemis vir Keiserin Maria van Spanje (1605), met musiek van Victoria;

‘n Kersfeesmis (1620) in die Roskilde Katedraal in Denemarke, met musiek van Praetorius;

‘n Mis ter ere van die Maagd Maria om haar te dank vir die verlossing van Venesië van ‘n plaag (1631), met musiek van Monteverdi;

‘n Vesper-fees (1643) in die Sint Markus Katedraal, met musiek van Gabrieli, Monteverdi en andere;

‘n Kersfees Vesperdiens (1664) in Dresden, met musiek van Schütz;

‘n Mis vir Epifanie (1740) in die Sint Thomaskerk in Leipzig, met Bach se Kantates nrs. 65 en 180 en Missa brevis in F;

Biber se Missa Salisburgensis, wat in die Sint Paulus-katedraal in Londen en vir die inwyding van ‘n nuwe fees by Santiago de Compostela uitgevoer is.

Sleutelopnames: ‘n Mis vir San Rocco (1608), met musiek van G. Gabrieli; Gluck se opera Paride e Elena; Handel se oratorium Messiah (1996). Verdere opnames: Biber se Mis in B mol en Requiem in F mineur; Carissimi se oratoriums Jephte, Judicium Salomonis en Jonas; Handel se oratoriums Saul, Solomon en Theodora; Palestrina se Missa Hodie Christus natus est; Purcell se Hail, Bright Cecilia en Harmonie Sacra; en ‘n versameling gesange aan die Maagd Maria getiteld A Spotless Rose.

McGegan, Nicholas (1950-), Engelse dirigent, orrelis, klawesimbel- en fluitspeler. Hy was aanvanklik aan die Koninklike Musiekkollege verbonde: as hoogleraar in Barokfluit (1973-9) en in musiekgeskiedenis (1975-9), en as direkteur van vroeë musiek (1976-80). Daarna was hy inwonende kunstenaar by die Washington Universiteit in Sint Louis (1979-84). Sedert 1985 is hy musiekdirekteur van die Philharmonia Barokorkes in San Francisco. Met hulle tree hy jaarliks op by die Handel-fees in Göttingen, waarvan hy in 1991 die artistieke direkteur geword het. Hy het by die Skotse Opera en die Engelse Nasionale Opera in 1991 en 1993 onderskeidelik gedebuteer. As toonaangewende Handel-kenner dirigeer hy wêreldwyd operas en ander werke van die Barokreus. Verskeie afgeskeepde werke is deur hom herleef, waaronder Handel se Gloria waarvan hy die eerste moderne uitvoering in 2001 in Göttingen gedirigeer het. Tydens dieselfde fees het hy ook Alessandro Scarlatti se Sint Cecilia Vespers herleef. Sleutelopname: ‘n versameling ‘Verse Anthems’ van Humphrey (Clare College, Cambridge). Verdere opnames: Handel se kantate Apollo e Dafne, sy koorwerke Brockes Passion, La Resurrezione, Susanna en Theodora, en sy operas Agrippina, Atalanta, Giustino, Ottone, Il pastor fido, Radamisto en Serse; ‘n aantal sonates en suites van Matteis; Purcell se opera Dido and Aeneas; Rameau se opera-ballet La Princesse de Navarre, en orkessuites uit Dardanus, Nais, Platée en Le temple de la gloire; A. Scarlatti se oratorium La Giuditta en van sy kantates; en sonates van Uccellini.

McGreevy, Geraldine (?-), Engelse sopraan. Sy het aan die Koninklike Musiekakademie en die Nasionale Opera-ateljee studeer. Verdere studies is in Frankryk, Duitsland en Italië onderneem, sodat sy hul tale sonder aksent sing. In 1996 het sy die Kathleen Ferrier-toekenning verwerf, en sedertdien tree sy wyd deur Europa, die Verre Ooste en Noord-Amerika in opera en konserte op. Met haar sensitiewe sang gee sy ook liedere-voordragte met die gevierde pianis Graham Johnson as begeleier. Daarby verskyn sy dikwels met die altviool-kwartet Phantasm in uitvoerings van vroeë musiek. Opnames: ‘n versameling liedere van Bliss; ‘n versameling liedere van Byrd (met Phantasm); Handel se opera Arminio (as Tusnelda); Clara Schumann se 6 Jucunde Lieder; Robert Schumann se Spanishes Liebespiel en Spanische Liebeslieder; Vivaldi se opera Il giustino; Wolf se Goethe Lieder; en Wood se Scenes from Comus.

McIntyre, Donald (1934-), Nieu-Seelands-gebore bas-bariton wat in Londen gaan woon het. Hy het in 1959 sy operadebuut in Cardiff gemaak, as Zaccaria in Nabucco. Vanaf 1960 was hy vir sewe jaar ‘n lid van die Engelse Nasionale Opera, en in 1967 het sy debute by Covent Garden en die Bayreuth-fees plaasgevind. As uitmuntende Wagner-sanger het hy in 1973 die eerste Britse sanger geword om die rol van Wotan in die Ring-siklus by Bayreuth te sing, ‘n prestasie wat drie jaar later tydens die eeufeesherdenking herhaal is. Verder het hy die rol van Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg in Sydney, by Covent Garden en die Metropolitan Opera gesing. Hy het die rol van Prospero tydens die Britse première van Berio se Un re in ascolto (1989) geskep. Onder sy verdere rolle tel Don Pizarro in Fidelio en Klingsor in Parsifal. In 1992 is hy tot ridder geslaan. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Stokowski); Berlioz se La damnation de Faust; Mahler se agste simfonie (onder Bernstein); die genoemde operas van Beethoven en Wagner, asook Pelléas et Mélisande.

McLachlan, Murray (1965-), Skotse pianis. As konsertpianis toer hy wyd deur Europa, die VSA, die Verre Ooste en Suid-Afrika, met ‘n repertorium van meer as 40 konserte. In 1997 is ‘n ridderskap deur die Orde van Sint Johannes van Jerusalem aan hom toegeken vir sy dienste aan musiek in Malta. Gedurende 2000/1 het hy die Mozart Feesorkes op ‘n Britse toer van 18 konserte gelei, waartydens eietydse kostuums gedra is. Hy het in 2003 al 32 klaviersonates van Beethoven in ‘n konsertreeks in Manchester uitgevoer. Naas die klassieke repertorium is hy ‘n kampvegter vir hedendaagse komponiste, met vele eerste uitvoerings op sy kerfstok. Hy gee voorts onderrig aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege in Manchester, en is stigter en artistieke direkteur van die Chetham Musiekfees en Somerskool in dieselfde stad. Sleutelopnames: ‘n versameling solowerke van McEwen; Stevenson se massiewe Passacaglia on D.S.C.H. Verdere opnames: solowerke van Khatsjatoerian, MacCunn en MacKenzie.

Mclaughlin, Marie (1954-), Skotse sopraan. Sy het in 1977 ‘n beurs gewen het om in Londen te gaan studeer. In die jaar daarop sy die rol van Tatjana in Jewgeni Onegin by Snape Maltings gesing, met die vermaarde Rostropowitsj as dirigent. Sy het in dieselfde jaar (1978) by die Engelse Nasionale Opera begin sing. Verdere debute sou volg by Covent Garden (1980), Glyndebourne (1985), die Metropolitan Opera (1986), die Salzburg-fees (1987) en La Scala (1988). Onder haar beste rolle tel Marzelline in Fidelio, Marcellina in Le nozze di Figaro, Belinda in Dido and Aeneas, Gilda in Rigoletto, Violetta in La Traviata en Jenny in Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny. Opnames: ‘n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson); R. Strauss se Alphorn vir sopraan, horing en klavier (met Tuckwell en Asjkenazy); die musiekblyspel On the Town (as Ivy); die operette The Mikado; en die operas Fidelio (op DVD), Così fan tutte, Le nozze di Figaro, Dido and Aeneas en La Traviata.

McNair, Sylvia (1956-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1980 in ‘n uitvoering van Handel se Messiah in Indianapolis gedebuteer. Twee jaar later is haar operadebuut in New York gemaak as Sandrina in Haydn se L’infedeltà delusa. Tydens haar Europese debuut in Schwetzingen (1984) het sy die titelrol tydens die première van Kelterborn se Ophelia geskep. Verdere debute het plaasgevind by die Glyndebourne-fees (1989), die Salzburg-fees en Covent Garden (beide in 1990), en die Metropolitan Opera (1991). As briljante opera- en konsertsangeres in ‘n aantal tale het sy met van die voorste Amerikaanse en Europese orkeste opgetree. In 1990 het sy die Marian Anderson-toekenning ontvang. Sy blink uit in die operas van Mozart, onder andere as Servilia in La clemenza di Tito en Ilia in Idomeneo, asook in rolle soos Héro in Béatrice et Bénédict, Tytania in A Midsummer Night's Dream, Euridice in Orfeo et Euridice, Corrina in Il viaggio a Reims, Anne Trulove in The Rake's Progress en die titelrol in L'incoronazione di Poppea. In 2003 het sy aangekondig dat sy voortaan nie meer in opera gaan sing nie, maar slegs in popmusiek. Opnames: Barber se Knoxville: Summer of 1915; Beethoven se Egmont-musiek (onder Masur) en Leonore Prohaska; Debussy se Le Martyre de Saint Sébastien; Mahler se simfonieë nrs. 2 en 4 (beide onder Haitink) en nr. 8 (onder Abbado); Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream; Mozart se Mis nr. 18; Orff se Carmina Burana; Rachmaninof se Vocalise; die genoemde operas van Berlioz, Gluck, Monteverdi, Mozart, Rossini en Strawinski, asook Semele en Il rè pastore.

Medici Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1974 gestig is. Hulle is in Londen gebaseer en hul vertolkings van moderne werke in dié vorm word deur sommige kenners as onoortreflik beskou. In 2010 het hulle met drie ander Britse kwartette in die eerste opname van John Tavener se Towards Silence gespeel, 'n ongewone werk wat vir hul geskryf is. Daarby is hul begaafd in die klassieke repertorium. Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Beethoven; Mozart se ses Haydn Kwartette; en strykkwartette van Britten, Janácek, Ravel, Sjostakowitsj en Smetana.

Medlam, Charles (?-), Engelse tjellis en dirigent. Nadat hy tjello in Londen, Parys, Wenen en Salzburg studeer het, het hy in die uitvoering van vroeë musiek begin belangstel. Hy het vir ‘n jaar aan die Sjinese Universiteit in Hongkong onderrig gegee en in hul strykkwartet gespeel. Met sy terugkeer na Europa het hy onder die befaamde tjellis Maurice Gendron aan die Parys Konserwatorium studeer, asook onder Wolfgang Herzer in Wenen. Verdere studies is in Salzburg onderneem: tjello onder Heidi Litschauer en uitvoeringspraktyk onder Nikolaus Harnoncourt. In 1978 het hy die London Baroque Ensemble met die violis Ingrid Seifert gestig, wat hy sedertdien lei. Hy gee ook onderrig in tjello, viola da gamba en kamermusiek aan die Nordiese Barokmusiekfees in Nordmaling, Swede. Sleutelopnames: Handel se gewyde kantates Laudate pueri, Coelestis dum sprat aura, O qualis de coelo sonus en Salve Regina (almal met Emma Kirkby as solis). Verdere opnames: J.S. Bach se 6 Triosonates (van sy orrelsonates verwerk); Handel se Aci, Galatea e Polifemo; Monteverdi se opera Orfeo; Rameau se Pieces de clavecin 1-5; en Vivaldi se Triosonates, opus 1/1-12 en opus 5/17-18.

Mehta, Zubin (1936-), Indiese dirigent. Hy is die seun van die violis Mehli Mehta (1908-), wat die Bombaaise Simfonie-orkes gestig het. Vanaf ‘n vroeë leeftyd het hy klavier- en vioollesse ontvang, al was dit dikwels teen sy sin. Hy het egter besluit om ‘n dirigent te word toe hy op sestienjarige ouderdom sy vader se orkes moes dirigeer, nadat hy reeds privaatlesse in kontrapunt ontvang het. Twee jaar later (in 1954) is hy na Wenen om dirigeerkuns onder die gevierde leermeester Hans Swarowsky te studeer. In die Oostenrykse hoofstad het hy ook Duits geleer, die kontrabas leer speel, in die Singverein gesing, en ‘n begronding in die Duitse Klassiek-Romantiese tradisie ontvang. Sy openbare debuut is in 1956 by die Oostenrykse grens in ‘n Hongaarse vlugtelingekamp gemaak met werke van Liszt en Schubert. Nadat hy twee jaar later sy studies voltooi het, was hy ‘n pryswenner by die Berkshire-fees in Tanglewood en het hy die internasionale dirigeerkompetisie in Liverpool gewen. Hy was in 1958/9 ‘n assistent-dirigent van die Liverpool Filharmoniese Orkes, en in 1959 is sy Kanadese debuut in Toronto gemaak. Sy Amerikaanse debute is in 1960 met orkeste in Philadelphia en New York gemaak. In 1961 het hy Igor Markewitsj as musiekdirekteur van die Montreal Simfonie-orkes opgevolg. Hy sou die pos tot 1967 beklee.

Mehta het in 1962 Georg Solti se plek as musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes ingeneem. Oor die volgende 16 jaar sou hy dié orkes tot een van die voorstes in die VSA opbou, vele toere met hulle onderneem, en hul repertorium uitbrei om meer van Bruckner en Mahler se musiek in te sluit. Intussen het sy lang verbintenis met die Israeliese Filharmoniese Orkes in 1961 begin. Hy was agtereenvolgens hul musiekadviseur, musiekdirekteur (vanaf 1978) en lewenslange dirigent, en in 1979 het hy hulle op ‘n Europese toer gelei. Toe hy egter in 1981 orkesuittreksels uit Wagner (wie se musiek in Israel verban is) se Tristan und Isolde met hulle wou speel, het vuisgevegte in die konsertsaal uitgebreek en moes sy voorneme vir ‘n onbepaalde tyd uitgestel word. In 1978 is hy uit Kalifornië weg om musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes te word. Dit was ‘n orkes wat hy ironies genoeg elf jaar tevore beledig het deur in die openbaar te verklaar dat hulle nie so goed soos sy orkes in Los Angeles is nie (waarvoor hy later om verskoning gevra het). Hy sou die pos tot 1991 beklee, in ‘n verblyf wat nie as ‘n hoogtepunt in die orkes se bestaan beskou word nie.

Naas konserte het Mehta opera by al die groot operahuise gedirigeer, met ‘n debuut daarin in Montreal met Tosca (1964). Verdere operadebute het plaasgevind later in dieselfde jaar by La Scala met Salome, by die Salzburg-fees (met Die Entführung aus dem Serail) en die Metropolitan Opera (beide in 1965), en by Covent Garden (1977). Hy het in 1990 ‘n gesamentlike konsert van die Berlynse en Israelse filharmoniese orkeste in Tel Aviv gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sedert 1998 dirigeer hy die Beierse Staatsopera. Met sy sjarmante persoonlikheid en flambojante dirigeerstyl is hy as gewilde gasdirigent wêreldbekend in veral laat-Romantiese musiek, soos dié van Mahler wat hy onder die komponis se dissipel Bruno Walter bestudeer het. Sy vertolkings is egter wisselvallig: terwyl sy opnames van Mahler se tweede en derde simfonieë byvoorbeeld hoog aangeskryf word, trap hy klei met ander simfonieë deur dié komponis sowel as enkeles van Bruckner (meesal met die Israelse Filharmonie).

Verder het Mehta as orkesbegeleier met sulke groot musici soos die mezzosopraan Janet Baker, die violis Itzhak Perlman en die sopraan Kiri te Kanawa saamgewerk, en is hy deur hulle bewonder vir sy simpatieke, buigsame benadering. Saam met bekende Joodse musici soos Perlman, Daniel Barenboim en Pinchas Zukerman vorm hy ‘n vriendekring wat as die kosher nostra bekend staan. In ooreenstemming met sy geloofsoortuigings (hy is ‘n Pars, dit wil sê ‘n volgeling van die voor-Christelike Persiese profeet Zarathoestra) is hy ‘n geheelonthouer en ‘n nie-roker. Met sy sterk politieke oortuigings het hy geweier om in Sowjet-Rusland op te tree vanweë hul standpunt oor Joodse emigrasie, in Suid-Afrika voor 1994 vanweë dié land se rassebeleid, en selfs in sy geboorteland Indië vanweë hul kritiese houding teenoor Israel. Interessant genoeg lyk dit nie of die voortdurende Israeliese onderdrukking van die Palestyne of die openlike vertrapping van menseregte in Zimbabwe hom enigsins kwel nie – dus nog ‘n geval van selektiewe moraliteit. Sleutelopnames: die operas La Fanciulla del West (Covent Garden), Turandot (Londen) en Il Trovatore (Londen). Verdere opnames: simfonieë van Franck, Mahler (nr. 1), Paine, Saint-Saëns, Schmidt en Skriabin (volledig); Bartók se Konsert vir Orkes; Orff se Carmina Burana; Smetana se Má Vlast; R. Strauss se Ein Elpensinfonie; en die operas Die Entführung aus dem Serail, Tosca en La Traviata.

Mei, Eva (1967-), Italiaanse sopraan. Sy het aan die Cherubini-Konserwatorium in Florence studeer en in 1989 haar diploma daar behaal. In die jaar daarop het sy die internasionale Mozart-kompetisie in Wenen gewen met haar vertolking van Konstanze in Die Entführung aus dem Serail. Sy het ook met dié rol by die Weense Staatsopera gedebuteer, waarna sy by die voorste operahuise in Europa begin sing het. Haar bekendheid lê merendeels in die bel canto-repertorium, en haar La Scala-debuut is in 1993 as Amenaide in Tancredi gemaak. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel Giulietta in I Capuleti ed i Montecchi, Norina in Don Pasquale, die titelrol in Thaïs en Violetta in La Traviata. Opnames: die genoemde operas van Bellini, Donizetti, Massenet en Rossini.

Meier, Waltraud (1956-), Duitse mezzosopraan. Nadat sy in die koor van die Würzburg Opera gesing het, het sy in 1976 haar solodebuut gemaak as Cherubino in Le nozze di Figaro. Daarna het sy gesing by operahuise in Mannheim (vanaf 1978) en Dortmund (1980-3), met verdere debute wat gevolg het by die Bayreuth-fees (1983), Covent Garden (1985) en die Metropolitan Opera (1987). Met haar kragtige stem is sy wêreldbekend in dramatiese rolle soos Marie in Wozzeck, Klytemnestra in Elektra, Eboli in Don Carlos, Waltraute in Götterdämmerung, Ortrud in Lohengrin, Kundry in Parsifal, Venus in Tannhäuser, en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Haar debuut as Isolde was by Bayreuth in 1993 teenoor Siegfried Jerusalem, met Daniel Barenboim as dirigent. Daarby is sy begaafd as Donna Elvira in Don Giovanni en die vroulike hoofrol in Samson et Dalila. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Abbado en Barenboim) en Mahler se tweede simfonie (onder Abbado); die genoemde operas van Berg, Saint-Saëns, Richard Strauss, Verdi en Wagner, asook Don Giovanni.

Melba, Nellie (1861-1931), Australies-gebore sopraan van Skotse afkoms. Sy het in 1884 haar openbare debuut gemaak en in 1886 met haar vader na Londen gegaan. Helaas kon sy nie in die Britse hoofstad ‘n leermeester bekom nie, waarop sy na Parys is. In die Franse hoofstad het sy onder die gevierde Madame Marchesi studeer. Sy het in 1887 haar operadebuut in Brussels gemaak, as Gilda in Rigoletto. Daarna het sy haar in Brittanje gevestig en vanaf 1888 by Covent Garden gesing. In die jaar daarop is sy weer na Parys vir verdere studies onder Marchesi. Sy het in 1899 by die Parys Opera gedebuteer, waarna sy wyd deur Europa en die VSA getoer het. In 1904 het Saint-Saëns die titelrol in sy opera Hélène vir haar geskryf, en vanaf 1907 het sy vir etlike seisone by die Manhattan Opera gesing. Sy is in 1918 tot dame geskep nadat sy met haar konserte tydens die Eerste Wêreldoorlog groot bedrae geld vir Britse soldate ingesamel het. In 1926 het sy haar laaste opera-optrede by Covent Garden gemaak, as Mimì in La Bohème, nadat sy oor die voorafgaande dekades gereeld daar opgetree het. Met haar briljante, suiwer stem en sterk tegniek het sy enorme internasionale erkenning in opera verwerf, in sowel liriese as koloratuurrolle. Daaronder tel die titelrol in Lucia di Lammermoor, Marguérite in Faust, Violetta in La Traviata, Mimì in La Bohème en Rosina in Il barbiere di Siviglia. Haar verhoognaam is aangeneem as huldeblyk aan die Australiese stad Melbourne. 'n Nagereg en 'n soort roosterbrood is na haar vernoem.

Melchior, Lauritz (1890-1973), Deens-gebore tenoor. Hy is op dieselfde dag as die groot Italiaanse tenoor Beniamino Gigli gebore, en het later aan die Koninklike Operaskool in Kopenhagen studeer. In 1913 het sy debuut as bariton in die Deense hoofstad plaasgevind, as Silvio in I Pagliacci. Vyf jaar later het hy ná heropleiding as tenoor in die titelrol van Tannhäuser gedebuteer. Sy Londense debuut het in 1920 gevolg, waarna hy onder beskerming van die skrywer Hugh Walpole in die Britse hoofstad verder studeer het. Vanaf 1924 tot 1931 het by die Bayreuth-fees gesing, met verdere debute wat plaasgevind het by Covent Garden (1924) en die Metropolitan Opera (1926). Hy sou gereeld 1939 by Covent Garden optree, terwyl hy ook in Berlyn en Hamburg gesing het. Vanaf 1929 tot sy uittrede in 1950 was sy loopbaan in New York gebaseer, waar hy vanaf 1935 tot 1941 dikwels by die Met as vennoot van die legendariese sopraan Kirsten Flagstad in Wagner-operas opgetree het. In 1947 het hy 'n Amerikaanse burger geword. Met sy buitengewoon kragtige stem, moeitelose sang, voortreflike akteursvermoëns en enorme liggaamsbou word hy allerweë beskou as die grootste heldentenor van alle tye in die operas van Wagner. Dit geld veral vir die manlike hoofrol in Tristan und Isolde, wat hy meer as 200 keer gesing het, die titelrol in Lohengrin, en Siegfried en Siegmund in die Ring. Verder was hy begaafd as Florestan in Fidelio en in die titelrol van Otello. Ná sy uittrede uit opera het hy in rolprente, waaronder Luxury Liner en The Stars are Singing, en in Broadway-musiekblyspele opgetree. Sy joviale geaardheid het verder tot sy besondere gewildheid onder die Amerikaanse publiek bygedra. Hy is in Kalifornië oorlede. Opnames: liedere van Grieg; 'n versameling Wagner-duette met Flagstad wat in 1939/40 opgeneem is; en die operas Götterdämmerung, Lohengrin (onder beide Leinsdorf en Busch), Siegfried, Tristan und Isolde (onder beide Leinsdorf en Reiner) en Die Walküre.

Melik-Pashajef, Alexander (1905-64), Georgies-gebore Russiese dirigent. Hy het aan die konserwatoriums in sy geboortestad Tbilisi en in Leningrad (tans Sint Petersburg) studeer. Sy musiekloopbaan is in 1921 as pianis afgeskop, en in die jaar daarop het hy ‘n repetiteur by die operahuis in Tbilisi geword. Na dirigeerstudies onder Alexander Gauk in Leningrad het hy in 1931 as dirigent by die Bolsjoi Opera gedebuteer, met ‘n opvoering van Aida. Vervolgens was hy aan die beroemde teater verbonde, waarvan later jare (1953-62) as hoofdirigent. Onder sy talle opnames daar tel die eerste volledige opname van Jewgeni Onegin in 1937, gedeel met sy kollega Alexander Orlof. Verdere opnames: Ivan Sussanin (1947) en Prins Igor (1951).

Melos Ensemble, Britse instrumentele ensemble wat in 1950 gestig is deur die altviolis Cecil Aronowitz, die klarinettis Gervase de Peyer en twee ander lede. Hulle sluit soms tot twaalf spelers in: vyf strykers, vyf houtblasers, harp en klavier. In 1962 het hulle in die eerste uitvoering van Britten se War Requiem opgetree en vier jaar later is hul Amerikaanse debuut gemaak. Met 'n repertorium vanaf Klassieke tot moderne werke is hul een van die beste kamerensembles ter wêreld. Opnames: Brahms, Mozart en Weber se klarinetkwintette (met Gervase de Peyer as solis); Berwald se Groot Septet; Birwistle se Tragoedia; Debussy se Sonate vir fluit, altviool en harp, Hummel se klavierkwintet en -septet; Mendelssohn se volledige strykkwartette; Nielsen se houtblaserskwintet; en Ravel se Inleiding en allegro (met Osian Ellis as harpspeler).

Melos Kwartet, Duitse strykkwartet wat in 1965 gestig en in Stuttgart gebaseer is. ‘n Jaar na hul stigting het hulle die Geneefse internasionale kompetisie gewen, en in die laat 1960’s het hulle Beethoven se volledige strykkwartette opgeneem. Hul spel word gekenmerk deur volmaakte intonasie, dinamiese akkuraatheid en pragtige toonkeur. In 1980 is hul debuut by die Salzburg-fees gemaak. Hul opnames van Mendelssohn se volledige strykkwartette word as een van die heel beste weergawes van dié siklus beskou. Sleutelopnames: Debussy en Ravel se strykkwartette (beide 1979). Verdere opnames: strykkwartette van Cherubini, Haydn, Janácek, Schubert en Schumann; en twee weergawes van Schubert se strykkwintet (met Rostropowitsj en Boettcher onderskeidelik as ekstra tjellis).

Meneses, Antonio (1957-), Brasiliaanse tjellis. Hy is op 16 na Duitsland om onder Antonio Janigro te studeer. Later het hy pryse in München en Moskou gewen. Naas sy optredes as solis is hy bekend in kamermusiek, onder meer as vennoot van die Emerson Kwartet en die Vermeer Kwartet. Hy het in ‘n uitstekende opname van Bach se volledige onbegeleide tjellosuites gespeel, met spel gekenmerk deur diepsinnige musikaliteit en spontaniteit.

Mengelberg, Willem (1871-1951), Duits-gebore Nederlandse dirigent. Hy is op ‘n jong leeftyd terug na Duitsland om sang en klavier aan die Keulen Konserwatorium te bestudeer. Na ‘n aanvanklike loopbaan as pianis het hy in 1891 musiekdirekteur in Luzern geword. Vier jaar later is hy as hoofdirigent van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam aangestel, ‘n pos wat hy vir nie minder nie as vyftig jaar (tot 1945) sou beklee. In 1899 het hy ‘n tradisie met hul ingelui om jaarliks op Palmsondag die Sint Mattheüspassie van Bach uit te voer. Hy het die Concertgebouw tot een van die voorste orkeste ter wêreld uitgebou, en was saam met hulle kampvegters vir die musiek van Mahler en Richard Strauss. As een van die musiekreuse van sy tyd het hy die vriendskap en bewondering van beide komponiste bekom, sodat dit nie verbaas dat hulle soms sy orkes in uitvoerings van hul eie werke gedirigeer het nie. Ook die pianis-komponis Skriabin het in 1911 van sy werke met die Concertgebouw onder Mengelberg uitgevoer. Intussen het die dirigent gedebuteer in New York (1905) en Londen (1911).

In 1920 het Mengelberg in Amsterdam ‘n fees aangebied waarop al Mahler se simfonieë en ander groter werke uitgevoer is, wat op daardie tydstip die grootste erkenning nóg van die destyds onderskatte komponis verteenwoordig het. Vanaf 1921 was hy vir agt jaar ook hoofdirigent van die New York Filharmoniese Orkes, met wie hy in 1928 ‘n manjifieke opname gemaak het van Strauss se Ein Heldenleben, ‘n werk wat aan hom opgedra is. Hy het Albert Coates in 1930 as hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes opgevolg, ‘n pos wat hy vir twee jaar sou beklee. As gasdirigent het hy met verskeie ander Britse orkeste opgetree, en daarby was hy vanaf 1933 ‘n hoogleraar in musiek aan die Utrecht Universiteit. Hy het in 1934 met die Weense Filharmoniese Orkes by die Salzburg-fees gedebuteer en vyf jaar later het hy die eerste uitvoering van Bartók se Variasies op ‘n Hongaarse volkslied gedirigeer. Die werk is geskryf om die orkes se vyftigste herdenking te vier. In 1940 het hy en die Concertgebouw die volledige simfonieë van Beethoven uitgevoer, waarvan opnames gemaak is. Met die beeïndiging van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is hy deur die Nederlandse regering lewenslank verbied om in die openbaar op te tree, op grond van beweerde Nazi-samewerking tydens die Duitse besetting van die land. Hy het na Switserland uitgewyk, waar hy ná ses jaar van ballingskap oorlede is.

Volgens sommige kenners was Mengelberg die grootste verteenwoordiger van sy tyd van die laat-Romantiese benadering tot die dirigeerkuns. Daarvolgens is daar van ‘n dirigent verwag om die partituur met gevoel te vertolk, sonder om die musiek met sy eie persoonlikheid te oorweldig. Met sy hoogs indiwidualistiese vertolkings het hy die krag wat inherent in die musiek is na vore laat kom, sodat daar steeds aan die komponis se bedoelings reg laat geskied is. As orkes-virtuoos was hy so gesteld op presisie van uitvoering dat elke instrument soms vir ‘n halfuur vooraf ingestem moes word. Dit verbaas dus nie dat sy opnames met die Concertgebouw Orkes deur ryk, skitterende klank gekenmerk word nie. Daaronder tel verder Bach se Sint Mattheüspassie (1939); die genoemde werk van Bartók; ouvertures van Beethoven, Gluck en Weber; die volledige simfonieë van Brahms; Dvorák se negende simfonie; Franck se Simfonie in D; Liszt se Les Préludes; Mahler se vierde simfonie; Ravel se Bolero; R. Strauss se Don Juan (1938) en Tod und Verklärung; en Tsjaikofski se laaste drie simfonieë en Strykerserenade.

Mentzer, Suzanne (1957-), Amerikaanse mezzosopraan. Nadat sy in 1981 haar debuut in Houston gemaak het as Albina in La donna del Lago, het sy by verskeie Amerikaanse operahuise gesing. Verdere debute het plaasgevind in Keulen (1983), by Covent Garden (1985), die Salzburg-fees (1987) en die Metropolitan Opera (1989). Met haar warm, ferm sang en sterk vibrato is sy 'n begaafde sangeres in die koloratuurrolle van Italiaanse en Franse opera. Haar repertorium sluit rolle in soos Giovanna Seymour in Anna Bolena, Siébel in Faust, Costanza in L’isola disabitata, Zerlina in Don Giovanni, Idamante in Idomeneo, Rosina in Il barbiere di Siviglia en Zaida in Il turco in Italia. Opnames: Bruckner se Te Deum; Haydn se kantate Arianna a Naxos (begelei deur David Golub); Rossini se Missa di Milano en Petite messe solennelle; en die laasgenoemde 7 operas van Donizetti, Gounod, Haydn, Mozart en Rossini.

Menuhin, Yehudi (1916-99), Amerikaans-gebore violis, stellig die beroemdste van die twintigste eeu, en dirigent. Sy ouers was Russiese Jode wat na die VSA geëmigreer het. As vierjarige wonderkind het hy lesse in San Francisco begin ontvang, en in 1924 is sy openbare debuut met die stad se simfonie-orkes gemaak. Twee jaar later het hy Mendelssohn se vioolkonsert, een van sy gunstelingwerke, in San Franciso gespeel. Hy het die werk ook  tydens sy New York-debuut in 1927 uitgevoer. Op twaalfjarige leeftyd, in 1929, is sy Europese debuut met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Bruno Walter gemaak. Tydens die geleentheid het hy vioolkonserte van Bach, Beethoven en Brahms in een program gespeel, ‘n prestasie wat in die groot kultuurstede Dresden en Parys herhaal is. In dieselfde jaar is sy Londense debuut met dié stad se simfonie-orkes onder Fritz Busch gemaak. Verdere studies het onder Georges Enescu en Adolf Busch plaasgevind, en in 1932 het hy Elgar se vioolkonsert onder die komponis self in Londen en Parys gespeel en opgeneem. Hy het in dieselfde jaar in Parys ‘n legendariese opname van Bach se Dubbelkonsert met Enescu as vennoot gemaak. In 1934 het hy begin om uitvoerings met sy suster Hephzibah te gee, gevolg deur ‘n wêreldtoer in die jaar daarop waartydens hy in nie minder nie as 63 stede opgetree het. In 1936 het hy die eerste opname van Bach se onbegeleide vioolsonates en -partitas gemaak, waarna hy vir agtien maande tydelik uitgetree het om verdere intensiewe studies te doen.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Menuhin talle konserte vir Geallieerde soldate gegee. In 1944 is Bartók, vir wie hy ‘n kampvegter was, se vioolsonate vir hom geskryf. Hy het in 1944/5 in Parys, Amsterdam, Brussels, Praag en Wenen opgetree namate dié stede van Nazi-besetting bevry is. In die proses het hy eerstehands van die groot Duitse dirigent Wilhelm Furtwängler se weiering om in besette lande op te tree en sy hulp aan Joodse musici verneem. Ná die oorlog het hy meesal in Brittanje gewoon, waar hy vanaf 1945 soms met die komponis Britten as klavierbegeleier gespeel het. Hy het in 1946 as violis by die Salzburg-fees gedebuteer. In die jaar daarop het hy in ‘n filmopname van Mendelssohn se vioolkonsert onder Antal Doráti in Hollywood gespeel. In dieselfde jaar (1947) het hy in Praag ‘n uitvoering van Bach se Dubbelkonsert met die gevierde David Oistrach as vennoot gegee. Vanaf 1957 het hy ook as dirigent opgetree, en twee jaar later het hy ‘n musiekfees in Gstaad, Switserland gestig. Hy was vanaf 1959 vir tien jaar musiekdirekteur van die Bath Feesorkes, en in 1963 het hy 'n musiekskool in Surrey gestig vir kinders wat musikaal begaafd is. In 1965 is ‘n ere-ridderskap aan hom toegeken, en sy dirigeerdebuut in die VSA is in 1966 gemaak. Hy het in 1972 in Londen die première van Panufnik se vioolkonsert gegee, met die komponis as dirigent. Met sy naturalisasie as Britse burger in 1985 is hy tot volwaardige ridder geslaan. Sy dirigeerdebuut by die Salzburg-fees het in 1986 gevolg, en in 1993 is hy tot die adelstand verhef. Hy het in 1990 ‘n konsert van Mozart se Sinfonia concertante in Strasbourg gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Met die kamerorkes Sinfonia Varsovia van Pole het hy hoogaangeskrewe opnames van Beethoven en Schubert se volledige simfonieë in 1994 en 1997 onderskeidelik gemaak. Hy het in ‘n Berlynse hospitaal aan ‘n hartaanval gesterf.

Gedurende sy laaste dekades was Menuhin wêreldwyd as humanis en filantroop bekend, terwyl sy beginselvastheid hom soms in konflik met mede-Jode gebring het. Só het hy na die Tweede Wêreldoorlog met die groot dog verguisde dirigent Furtwängler opgetree, en later het hy die Palestyne in hul strewe na selfregering ondersteun. Hy het drie uitstekende opnames van Beethoven se vioolkonsert met Furtwängler gemaak: in Luzern en Berlyn (beide in 1947), en in Londen (1953). Hulle het ook opnames gemaak van Beethoven se 2 Romanses (1953), die konserte van Brahms (1949) en Mendelssohn (1952), en die tweede konsert van Bartók (1953). As solis was Menuhin beroemd vir die warmte van sy vertolkings eerder as sy tegniese presisie, wat vanaf die laat 1950’s wisselvallig was. Sy outobiografie Unfinished Journey is in 1977 deur Alfred Knopf in New York uitgegee.

Sleutelopnames: Holst se Brook Green Suite, The Perfect Fool, St Paul’s Suite en Somerset Rhapsody (Engelse Kamerorkes); Mozart se simfonieë nrs. 35-41 (Sinfonia Varsovia) en sy opera The Abduction from the Seraglio (in Engels, Bath 1967). Verdere opnames (as violis): Bartók en Walton se altvioolkonserte; vioolkonserte van Bartók, Beethoven, Berg, Berkeley, Bloch, Bruch, Delius, Elgar, Paganini, Panufnik, Vaughan Williams, Walton en Williamson; vioolsonates van Bartók, Beethoven (volledig), Debussy, Elgar, Haydn, Schubert en Vaughan Williams; Bach se Dubbelkonsert (met David Oistrach, op DVD); Beethoven se Romanses; werke vir viool en orkes van Berlioz, Chausson en Lalo; Tsjaikofski se Sérénade mélancolique; ‘n versameling vioolkonserte van Vivaldi, asook sy Dubbelkonserte vir 2 viole (met Chen), viool en tjello (met Mork), viool en hobo (met Black), en viool en orrel (met Bell); (as dirigent:) Bach se 6 Brandenburgkonserte; Berlioz se Symphonie fantastique; Boyce se 8 simfonieë; Handel se Koninklike Vuurwerkemusiek en Watermusiek suites; Prokofiëf se Pieter en die Wolf en eerste simfonie; en Vaughan Williams se vyfde simfonie.

Sy susters was die pianiste Hephzibah (1920-81), met wie hy in vioolsonates gespeel en opnames van Schubert se klaviertrios gemaak het, en Yaltah (1921-). Sy seun Jeremy is ook ‘n pianis en dirigent, met opnames van solowerke deur Schubert tot sy krediet. Tesame het die gesin in opnames van Mozart se Dubbelkonsert (K365) en Driedubbele konsert (K242) gespeel, met Yehudi as dirigent van die Bath Feesorkes.

Merrill, Robert (1919-), Amerikaanse bariton. Hy het in 1944 sy debuut in Trenton gemaak as Amonasro in Aida, en in die jaar daarop het hy by die Metropolitan Opera as Germont in La Traviata gedebuteer. Tot 1964 het hy in meer as 700 opvoerings by dié operahuis verskyn, waarvan verskeie onder Toscanini opgeneem is. Heelwat later in sy loopbaan, in 1967, het hy by Covent Garden gedebuteer. Met sy ferm, donker stem was hy een van die voorste baritons van sy tyd in Italiaanse opera. Sy spitsvondigheid en welsprekendheid het verder tot sy gewildheid bygedra, ook as liedere-sanger. Onder sy verdere rolle het getel Escamillo in Carmen, Enrico in Lucia di Lammermoor, Alfio in Cavalleria Rusticana, Marcello in La Bohème, Lescaut in Manon Lescaut, Scarpia in Tosca, Figaro in Il barbiere di Siviglia, Renato in Un ballo in maschera, Don Carlo in La forza del destino, en die titelrolle in Le nozze di Figaro en Rigoletto. Opnames: Bloch se gewyde werk Avodath Hakodesh; en die genoemde operas van Bizet, Donizetti, Mascagni, Puccini en Verdi.

Merriman, Nan (1920-), Amerikaanse mezzosopraan. Sy het onder die legendariese Lotte Lehmann studeer en vir vyf jaar in konserte opgetree voor haar operadebuut in Cincinatti, in La Gioconda. In 1944 het haar deurbraak gekom toe sy deur Toscanini gekies is om in sy radio-uitsendings en opnames te sing. Onder die rolle wat sy vir hom gesing het, tel Orfeo in Orfeo ed Euridice, Meg Page in Falstaff, Emilia in Otello en Maddalena in Rigoletto. Na die Tweede Wêreldoorlog is sy na Europa, waar sy in die 1950’s veral as Dorabella in Cosi fan tutte gewild geraak het. Dit sluit optredes by die musiekfeeste in Aix-en-Provence en Glyndebourne is, asook by La Piccola Scala in Milaan. Sy het die rol ook vertolk in Herbert von Karajan se 1955-opname van Cosi fan tutte. Intussen het sy in 1953 die rol van Baba die Turk tydens die Britse première van Strawinski se The Rake’s Progress by die Edinburgh-fees geskep. Hoewel sy by verskeie van die voorste Europese operahuise opgetree het, het die Metropolitan Opera in New York nie in haar belanggestel nie omdat haar stem te lig vir hulle was. Sy het besonder gewild in Nederland geraak, waar sy in 1965 met ‘n oratoriumsanger getroud is en terselfdertyd uitgetree het. Hy was ‘n wewenaar, veel ouer as sy en die vader van tien kinders, maar slegs ‘n jaar na hul troue is hy aan ‘n beroerte dood. Sy het in Nederland gebly om die kinders groot te maak, waarna sy na Los Angeles verhuis het en nooit na Europa teruggekeer het nie. Opnames: Beethoven se Missa solemnis (onder Toscanini); Handel se Messiah (onder Scherchen); en die operas Falstaff en Otello.

Merritt, Chris (1952-), Amerikaanse tenoor. Nadat hy by die Santa Fé Opera opgelei is, het hy in 1978 sy debuut by die Salzburg Landestheater gemaak, as Lindoro in L'italiana in Algeri. Vanaf 1981 was hy vir drie jaar aan die Augsburg Opera verbonde, met verdere debute wat plaasgevind het by die New York Stadsopera (1981), Parys (1983) en Covent Garden (1985). Hy is bekend in Italiaanse opera en meer bepaald dié van Rossini, onder andere deur optredes by Pesaro. Onder sy verdere rolle tel Federico in Emelia di Liverpool, Rinaldo in Armida, Contareno in Bianca e Falliero, Rodrigo in La donna del Lago, Oreste in Ermione, Antenore in Zelmira en Arrigo in I verspri siciliani. Hy het in hoogstaande opnames van al dié operas en van Ivan Susanin gesing.

Mertens, Klaus (1949-), Duitse bas-bariton. Hy het met sanglesse begin terwyl hy nog op skool was, maar aanvanklik het hy ‘n onderwyser geword voordat hy op ‘n sangloopbaan besluit het. Nadat hy met lof in sy sangstudies gegradueer het, het hy in konserte begin sing en veral in vroeë musiek bekendheid verwerf. Hy verskyn wêreldwyd met van die voorste dirigente en orkeste, en het uitgeblink in Ton Koopman se opnames van J.S. Bach se volledige kantates. Dit was ‘n enorme projek wat oor 10 jaar gestrek het totdat in 2003 voltooi is, met talle konserte wat in dié tyd in Europa, Noord-Amerika en Japan gegee is. Verdere opnames: Bach se Magnificat in E mol, Sint Markuspassie (in Koopman se herkonstruksie), Mis in B mineur, en liedere uit sy Schemelli’s musicalisches Songbook; Kuhnau se Magnificat in C; Telemann se Paasfeesoratorium, Kersfeesoratorium, 2 Kersfeeskantates, Hamburg Admiralitätsmusik, en ‘n versameling kantates (TWV 1: 459, 840 & 1259).

Mesplé, Mady (1931-), Franse sopraan. Sy het 17 jaar lank klavier studeer aan die konserwatorium in haar geboortestad Toulouse. Vir haar studies het sy self betaal deur in ‘n plaaslike dansorkes te speel en as begeleier by die konserwatorium self. Haar verhoogdebuut was in die titelrol van Delibes se Lakmé, ‘n rol wat sy haar eie sou maak en altesaam 145 keer in haar loopbaan sing. Vanaf 1953 het sy by die Belgiese Nasionale Opera gesing en in 1956 het sy by die Opéra-Comique in Parys aangesluit. Met haar ligte, behendige stem gekenmerk deur vinnige vibrato was sy vanaf die vroeë 1950’s tot die laat 1980’s die voorste Franse koloratuursopraan. Sy het by die voorste operahuise in Londen, New York, Moskou en Milaan gesing. Naas die bekende koloratuurrolle van Donizetti, Rossini en Verdi, was sy ewe begaafd in Franse operette (veral dié van Offenbach) en liedere. Vanaf die 1960’s het sy ook in hedendaagse werke van Henze, Menotti en andere gesing. Sy het onderrig gegee by die konserwatoriums in Nice, Lyon en Bordeaux, asook meesterklasse elders. Onder haar verdere rolle het getel Zerline in Fra Diavolo, Leonore in L’Amant jaloux, Zemire in Zemire et Azor, en die titelrolle in Manon Lescaut (van Auber) en Véronique. Opnames: die genoemde operas van Auber, Grétry en Messager, asook Richard Coeur-de-Lion en Guillaume Tell.

Metropolitan Opera House in New York, die vernaamste operageselskap in die VSA en allerweë as die Met bekend. Die oorspronklike gebou is in 1883 geopen met Leopold Damrosch as artistieke direkteur. Oor die dekades heen was van die wêreld se voorste dirigente en sangers aan die Met verbonde; met die première van Puccini se La Fanciulla del West in 1910 het Destinn, Caruso en Toscanini byvoorbeeld daar opgetree. Sedert 1932 word die Saterdagmiddagopvoerings landswyd oor die radio uitgesaai. ‘n Nuwe gebou (die grootste operateater ter wêreld) is in 1966 ingewy, met Samuel Barber se Antony and Cleopatra. Sedert 1975 is James Levine die musiekdirekteur.

Metternich, Josef (1915-2005), Duitse bariton. Hy was aanvanklik ‘n koorsanger by operahuise in Keulen, Bonn, Berlyn en Wiesbaden. Na die Tweede Wêreldoorlog het hy by die Stadsopera in Wes-Berlyn begin naam maak. Sy debuut by Covent Garden is in 1951 in Der fliegende Holländer gemaak. Vanaf 1952 tot 1959 was hy ‘n lid van die Weense Staatsopera, terwyl hy ook verbonde was aan operahuise in Wes- en Oos-Berlyn, Hamburg en München. Dit het meegebring dat hy tot 150 opvoerings per jaar moes gee, wat hy jare later as ‘n wonderlike belewenis beskryf het. Asof dié enorme werklading nie genoeg was nie, het hy in die 1950’s ook dikwels by La Scala, die Parys Opera en die Edinburgh-Fees gesing. Hy het vanaf 1953 tot 1956 ook by die Metropolitan Opera in New York verskyn, waar hy as Don Carlos in La forza del destino gedebuteer het. Dit was die eerste optrede deur ‘n Duitser in ‘n Italiaanse opera by dié beroemde operahuis. In sy loopbaan wat oor vier dekades gestrek het, het hy ‘n pioniersrol in opname-tegnieke vir langspeelplate gespeel. Daarby het hy afrigting vir opkomende sangers gegee. Hy het in 1971 uitgetree.

Metzmacher, Ingo (1957-), Duitse dirigent. As seun van die tjellis Rudolf Metzmacher het hy vanaf sewejarige leeftyd klavierlesse ontvang. Vir vyf jaar het hy in die Hannover Seunskoor gesing, en na skool het hy klavier en dirigeerkuns in Hannover, Salzburg en Keulen studeer. Hy het in 1981 as pianis by die Ensemble Modern, die voorste uitvoerders van hedendaagse musiek in Duitsland, aangesluit. Vier jaar later het hy hul dirigent geword, en in die 1990’s sou hy die ensemble in die première van Henze se Requiem dirigeer. In 1985 het Michael Gielen hom as solo-repetiteur by die Frankfurt Opera aangestel. Hy het in 1987 sy operadebuut met Le nozze di Figaro gemaak, en in dieselfde jaar het hy musiekdirekteur van die Gelsenkirchen Teater geword. In 1988 het hy ‘n sensasionele debuut by die Brussels Opera met Schreker se Der ferne Klang gemaak, waarna hy gereeld daar en by verskeie operahuise in Duitsland optree. Sy debuut met die Berlynse Filharmoniese Orkes is in 1997 gemaak, tydens die première van Henze se negende simfonie. In dieselfde jaar is hy as algemene musiekdirekteur van die Stad Hamburg aangestel, met verantwoordelikheid vir beide die Opera en Filharmoniese Orkes. Met laasgenoemde het hy in 1998/9 deur Spanje, Oostenryk en Duitsland getoer. In 1998 het sy orkesdebute in Londen en die VSA (in Cleveland) plaasgevind. Daarby is hy hoofgasdirigent van die Bamberg Simfonie-orkes, met wie hy die 8 simfonieë van die moderne Duitse komponis Karl Hartmann opgeneem het. Verdere opnames: Berg se opera Wozzeck; Henze se negende simfonie en Requiem; Nono se Prometeo; en werke van Ives.

Mewton-Wood, Noel (1922-53), Australiese pianis. Sy Londense debuut is in 1940 met ‘n Beethoven-konsert onder Thomas Beecham gemaak. Hy is as een van die briljantste pianiste van sy tyd beskou, veral in die musiek van Bliss, Busoni en Tippett. Hy het in 1946 die eerste uitvoering van die hersiene weergawe van Britten se klavierkonsert gegee. In 1952 het hy in Düsseldorf die première van Henze se tweede klavierkonsert gegee, met die komponis as dirigent. Verder het hy in 1952/3 in opnames van Bliss en Strawinski se klavierkonserte asook die eerste klavierkonsert van Sjostakowitsj gespeel (onder Walter Goehr), wat onder die beste weergawes van dié werke gereken word. Daarby het hy soms die Britse sanger Peter Pears in sy liedere-voordragte begelei. Kort voor sy selfmoord op jeugdige leeftyd het hy by die Londense Proms opgetree. Verdere opnames: Busoni se klavierkonsert.

Meyer, Kerstin (1928-), Sweedse mezzosopraan. Sy het in 1952 haar debuut in Stockholm gemaak as Azucena in Il Trovatore. Vanaf 1956 het sy by verskeie Europese operahuise opgetree, en in dieselfde jaar het sy die rol van Annina gesing in Herbert von Karajan se ongeëwenaarde opname van Der Rosenkavalier. Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1957), Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1960), asook by die feeste in Glyndebourne (1961) en Bayreuth (1962). As begaafde sangeres in moderne opera het sy in 1966 by die Salzburg-fees tydens die première van Henze se Die Bassariden die rol van Agave geskep. Sedert 1984 is sy direkteur van die operaskool in die Sweedse hoofstad. Verdere opnames: Mahler se derde simfonie (onder Barbirolli) en sy agste simfonie (onder Gielen).

Meyer, Sabine (1959-), Duitse klarinettis. Ná studies in Stuttgart en München het sy ‘n lid van die Beierse Radio Simfonie-orkes in laasgenoemde stad geword. Daarna het sy as solis met die Berlynse Filharmoniese Orkes opgetree, waardeur sy die bewondering van Herbert von Karajan afgedwing het. Toe hy haar as orkeslid wou aanstel, het dit egter tot ‘n botsing met die res van die orkes gelei, wat waarskynlik tereg van mening was dat sy ‘n beter solis as orkesspeler sou wees. Die beroemde dirigent moes ná ‘n lang geskil skietgee ten einde sy posisie te behou, maar die publisiteit om die voorval het ongetwyfeld haar loopbaan gestu. Naas bekende orkeste, instrumentaliste en kwartette met wie sy wêreldwyd optree, het sy haar eie twee ensembles gestig: die Trio di Clarone in 1983 en die blaserensemble wat na haar vernoem is in 1988. In 2000 het sy by die Luzern-fees die première van Hosokawa se klarinetkonsert gegee. Sleutelopnames: Mendelssohn se 2 Konsertstukke vir klarinet en bashoring (met haar broer Wolfgang, onder Kenneth Silito); Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Shaham, Wang en Chung). Verdere opnames: Baermann se klarinetkwintet nr. 3; Brahms se klarinetsonates (met Lars Vogt) en sy klarinetkwintet (met die Alban Berg Kwartet); Debussy se Première Rapsodie; Hartmann se Kamerkonsert (met die Peterson Kwartet); Mozart se klarinetkonsert; C. Stamitz se klarinetkonserte nrs. 3, 10 en 11; J. Stamitz se klarinetkonsert nr. 2; Takemitsu se Fantasma/cantos; Weber se 2 klarinetkonserte, Klarinet concertino en klarinetkwintet (lg. vir klarinet en orkes verwerk); en ‘n versameling opera-verwerkings van Mozart, Rossini, Verdi en Weber genaamd A Night at the Opera (onder Franz Welser-Möst).

Micheau, Janine (1914-76), Franse sopraan. Sy het in 1933 haar debuut in Parys gemaak, as die Koerantverkoopster in Louise. Vanaf 1940 was sy aan die Parys Opera verbonde, waar sy in 1950 die rol van Manuela tydens die première van Milhaud se Bolivár geskep het. Verder het sy gedebuteer by Covent Garden (1937), San Francisco (1938) en Chicago (1956). Sy was ‘n solis in Sergei Koussewitzky se 1950-opname van Beethoven se negende simfonie, met die vokale dele in Frans gesing. Vanaf 1960 was sy ‘n hoogleraar in sang aan die Parys Konserwatorium. Met haar briljante koloratuurstem was sy ‘n begaafde sangeres in Franse opera, veral in rolle soos Micaela in Carmen en die vroulike hoofrol in Pelléas et Mélisande. Sleutelopname: Strawinski se opera Le Rossignol (in die titelrol, onder Cluytens). Verdere opnames: Delage se 4 Poèmes hindous (onder Cluytens); die genoemde operas van Bizet en Debussy, asook Bizet se Ivan IV en Rousseau se Le Devin du village.

Michelangeli, Arturo Benedetti (1920-95), Italiaanse pianis, die grootste wat dié land in die twintigste eeu opgelewer het. Ná studies in Brescia en Milaan het hy in 1939 die internasionale klavierkompetisie in Genève gewen. Daarna was hy tot 1941 'n hoogleraar in klavier aan die Bologna Konserwatorium, gevolg deur wêreldwye toere. Sy Britse en Amerikaanse debute is in 1946 en 1948 onderskeidelik gemaak. In 1949 is hy gekies as die amptelike pianis met die honderdjarige herdenking van Chopin se dood. Kort daarna is sy loopbaan deur siekte onderbreek, maar in die 1960's het hy dit hervat. Sy Russiese debuut is in 1964 gemaak. Hy het ‘n besonder hoë agting as solis geniet, maar sy openbare verskynings was wisselvallig. Met sy hoogs eksentrieke persoonlikheid het hy 'n reputasie gehad dat hy konserte op kort kennisgewing kanselleer. Sy wye repertorium vanaf Bach tot by Ravel is met buitengewone helderheid en tegniese vaardigheid gespeel. Helaas het hy nie veel opnames nagelaat nie, maar hulle word deur die bank hoog aangeskryf. Hy was ook as leermeester bekend, onder meer as artistieke direkteur in Brescia (1964-9). Sleutelopnames: Rachmaninof se klavierkonsert nr. 4 en Ravel se Klavierkonsert in G (beide onder Ettore Gracis, 1957); en Ravel se Gaspard de la nuit (1959). Verdere opnames: solowerke van Bach/Busoni, Beethoven, Brahms, Chopin, Clementi, Debussy en D. Scarlatti.

Midori (1971-), Japannese violis. Sy is as wonderkind deur haar moeder opgelei en het op tienjarige leeftyd haar openbare debuut gemaak. Daarna het sy aan die Juilliard Musiekskool in New York begin studeer en haar in dié stad gevestig. In 1982 het sy onder Zubin Mehta met die New York Filharmoniese Orkes gespeel, en sedertdien verskyn sy as solis met van die voorste Europese en Amerikaanse orkeste. Opnames: vioolkonserte van Bartók, Bruch, Dvorák, Mendelssohn, Sjostakowitsj (nr. 1) en Tsjaikofski; Bruch se Skotse fantasie; Mozart se Konsert vir viool en klavier (met Christoph Eschenbach) en Sinfonia concertante (met Nabuko Imai).

Migenes, Julia (1945-), Amerikaanse sopraan. As kind het sy by die Metropolitan Opera verskyn in die rol van die seun in Madama Butterfly. Later het sy in Broadway-musiekblyspele gesing, en in 1965 het sy by die New York Stadsopera gedebuteer as Anina in The Saint of Bleeker Street. Vanaf 1973 het sy vir vyf jaar by die Weense Volksopera in Mozart-rolle gesing, met nog debute wat gemaak is in San Francisco (1978), by die Met (1979), Genève en die Weense Staatsopera (beide in 1983), en Covent Garden (1987). Intussen het sy in 1984 die titelrol meesterlik vertolk in Rosi se rolprentweergawe van Carmen, met 'n opname daarvan wat onder Maazel gemaak is. Verdere opnames: Poulenc se La Voix humaine (onder Prêtre).

Mikhailof, Maxim (1893-1971), Russiese bas. Hy is in die provinsie Kazan gebore, en het as seun in sy dorpie se kerkkoor gesing. As tiener het hy na die stad Kazan verhuis, waar hy mettertyd by ‘n Ortodokse klooster sou aansluit. Hy was diep beïndruk toe hy die legendariese bas Sjaljapin die titelrol in Ivan Sussanin hoor sing. As diaken in die Russies-Ortodokse kerk het hy naam as kerk- en katedraalsanger gemaak. Vanaf 1930 het hy oor die radio gesing, en twee jaar later het hy ‘n lid van die Bolsjoi Opera in Moskou geword. Oor die volgende 24 jaar sou hy al die groot basrolle daar vertolk. Daaronder tel Ivan Sussanin, wat hy meer as 400 keer sou sing. Hy het in 1937 in die eerste volledige opname van Jewgeni Onegin verskyn, en het ook in Eisenstein se rolprent Iwan die Verskriklike opgetree.

Mikulás, Peter (?-), Slowaakse bas. Hy het aan die Musiekakademie in Bratislawa studeer, waar hy in 1978 gegradueer het. Vervolgens het hy ‘n aantal internasionale sangkompetisies gewen, waaronder die Dvorák in Karlovy Vary (1978), die Tsjaikofski in Moskou (1982) en die Miriam Helin in Helsinki (1984). Hy is ‘n lid van die Slowaakse Nasionale Opera in Bratislawa en sing wêreldwyd in van die voorste operahuise. Daarby is hy ‘n begaafde konsertsanger. Opnames: Brian se eerste simfonie (onder Ondrej Lenárd); Dvorák se Mis in D; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 13 (onder Maxim Sjostakowitsj) en 14 (onder Wladislaf Slovák); en die operas Bloubaard se Kasteel (in die titelrol) en Simon Boccanegra (as Fiesco).

Milanov, Zinka (1906-89), Kroatiese sopraan. Ná studies in Zagreb, Praag en New York het sy in 1927 haar debuut in Ljubljana as Leonora in Il Trovatore gemaak. Sy was vanaf 1928 tot 1935 die eerste sopraan by die Zagreb Opera, en in 1937 het sy by die Salzburg-fees in Verdi se Requiem onder Toscanini gesing. Vanaf laasgenoemde jaar tot 1966 was sy aan die Metropolitan Opera verbonde, met verdere debute wat plaasgevind het in Chicago (1940), San Francisco (1943), La Scala (1950) en Covent Garden (1956). Met haar suiwer, ferm sang en aantreklike voorkoms was sy een van die gewildste soprane van haar tyd in rolle soos Santuzza in Cavalleria rusticana, die titelrol in Aida en Leonora in Il Trovatore. Opnames:  die genoemde operas van Verdi; en 6 liedere uit Joego-Slawië (New York, 1944).

Mildmay, Audrey (1900-53), Engelse sopraan. Sy het in 1927/8 deur die VSA getoer as Polly in The Beggar's Opera, waarna sy in Engeland by die Carl Rosa en Sadler’s Wells operahuise gesing het. In 1931 is sy met die onderwyser en orrelbouer John Christie (1882-1962) getroud. Hy het ‘n operahuis vir haar by sy woning Glyndebourne in Sussex gebou, waar ‘n operafees in die somer van 1934 die eerste keer aangebied is. Daar en by die opeenvolgende feeste het sy rolle soos Susanna in Le nozze di Figaro, Zerlina in Don Giovanni en Norina in Don Pasquale gesing. Dit sluit opnames van die genoemde Mozart-operas onder Fritz Busch in. Sy het in 1943 uitgetree. Nie alleen was sy die inspirasie vir die wêreldberoemde Glyndebourne-fees nie, maar ook die Edinburgh-fees was haar breinkind.

Miles, Alastair (1961-), Engelse bas. Hy sing wêreldwyd in konserte en opera, en sedert 1999 gee hy ook liedere-voordragte. Hy het in hoogstaande opnames van die minder bekende Italiaanse operas Medea in Corinto, Orazi e Curiazi, Ricciardo e Zoraide en Rosmonda d’Inghilterra gesing. Onder sy meer bekende rolle tel Don Fernando in Leonore, Mephistopheles in Faust, die Kardinaal in La Juive, Claudio in Agrippina, die titelrol in Le nozze di Figaro, die Leermeester in Le Comte Ory, Ramfis in Aida en Zachariah in Nabucco. Daarby is hy ewe bekend as konsertsanger in ‘n wye repertorium. Só het hy in 1989 as solis in John Eliot Gardiner se uitvoering van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine in Venesië gesing, met ‘n hoogaangeskrewe DVD wat daarvan gemaak is. Verdere opnames: Beethoven se Missa solemnis en Mis in C; Berlioz se Roméo et Juliette; Handel se oratoriums Samson (as Harapha) en Saul (in die titelrol); Verdi se Requiem; en die genoemde operas van Beethoven (in Engels), Gounod (in Engels), Halévy, Handel, Mozart, Rossini en Verdi (in Engels).

Millo, Aprile (1958-), Amerikaanse sopraan. Terwyl sy aan die San Diego Operasentrum studeer het (1977-80), het sy die rol van die Hoëpriesteres in Aida gesing. Haar debuut in Salt Lake City in die titelrol van Aida is gevolg deur debute by La Scala (1982), en by die Walliese Nasionale Opera en die Metropolitan Opera (beide in 1984). Naas Aida is sy met haar kragtige sang bekend in die titelrol van Luisa Miller en as Leonora in Il Trovatore. Sy het by die Met in uitstekende opnames van die genoemde Verdi-operas onder James Levine gesing.

Milne, Hamish (1939-), Engelse pianis. Hy het aan die Koninklike Musiekakademie in Londen studeer, en later in Italië onder Guido Agosti. In die 1970’s het hy die eerste pianis geword om omvattende opnames van Nikolai Metner se klaviermusiek te maak sedert die komponis se eie opnames in die vroeë twintigste eeu. Hy gee onderrig aan sy alma mater in Londen. Opnames: klavierkonserte van Holbrooke (nr. 1), Lyapoenof (nrs. 2 en 3) en Haydn Wood; Lyapoenof se Oekrainse Rapsodie; talle solowerke van Metner, insluitend die Sonates in E mineur, F mineur, G mineur en A mineur; en Weber se 4 klaviersonates.

Milnes, Sherrill (1935-), Amerikaanse bariton. Hy het in 1958 ‘n meestersgraad aan die Drake Universiteit verwerf en daarna by die Santa Fé Opera as koorsanger en in kleiner rolle opgetree. In 1960 het hy by die Goldovsky Toeropera aangesluit, met wie hy sy operadebuut in Boston gemaak het as Masetto in Don Giovanni. Hy sou vir die volgende vyf jaar aan dié geselskap verbonde wees en vervolgens aan die New York Stadsopera (1964-7). Verdere debute het plaasgevind by die Metropolitan Opera (1965) en Covent Garden (1971). Met sy sterk, helder stem en goeie akteurspel was hy by die Met die voorste bariton in Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Onder sy beste rolle tel Don José in Carmen, Michonnet in Adriana Lecouvreur, Enrico in Lucia di Lammermoor, Gérard in Andrea Chénier, Barnaba in La Gioconda, Jack Rance in La Fanciulla del West, Michele in Il Tabarro, Scarpia in Tosca, Figaro in Il barbiere di Siviglia, Vanna in Monna Vanna, Jokanaan in Salome, Amonasro in Aida, Renato in Un ballo in maschera, Rodrigo in Don Carlo, Don Carlo in La forza del destino, Miller in Luisa Miller, Iago in Otello, Germont in La Traviata, die Graaf in Il Trovatore, Monforte in I vespri siciliani, die Graaf in Sly, en die titelrolle in Guglielmo Tell, Hamlet, Macbeth en Rigoletto. Hy tree ook soms as opera-dirigent op. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Leinsdorf); Fauré se Requiem; die genoemde operas van Bizet, Cilea, Donizetti, Giordano, Ponchielli, Puccini, Rachamaninof, Rossini, Richard Strauss, Verdi en Wolf-Ferrari, asook Don Pasquale, I Pagliacci, Le Roi de Lahore, La Bohème, Attila en Giovanno d’Arco.

Milstein, Nathan (1904-92), Oekraïns-gebore violis. As wonderkind het hy aanvanklik in Odessa studeer en in 1920 sy debuut daar gemaak. Daarna het studies in Sint Petersburg onder Leopold Auer gevolg, en in 1921 het hy deur Rusland as duet-vennoot van die pianis Wladimir Horowitz getoer. Vier jaar later het hy die violis Eugene Ysaÿe in Brussels ontmoet en onder hom studeer. In 1929 het sy Amerikaanse debuut in Philadelphia plaasgevind. Hy het hom in dié land gevestig, waar hy in 1942 ‘n Amerikaanse burger geword het. Verder was hy ‘n leermeester in New York en Zürich, en in 1954 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy was wêreldbekend vir sy sensitiewe vertolkings van Romantiese musiek, maar sy wye repertorium het vanaf Bach tot by Prokofiëf gestrek. Opnames: Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas; vioolkonserte van Beethoven, Brahms, Bruch, Dvorák, Glazoenof, Goldmark, Mendelssohn, Saint-Saëns, Tsjaikofski en Vivaldi; vioolsonates van Beethoven, Handel, Mozart, Prokofiëf, Tartini en Vivaldi; en Brahms se Dubbelkonsert (met Gregor Piatigorski).

Mingardo, Sara (1961-), Italiaanse alt. Sy het aan die Marcello Akademie in haar tuisstad Venesië studeer en ‘n aantal sangpryse gewen. Daaronder tel die Giulietta Simionato-prys by die Weense Kompetisie en eerste prys by die Toti dal Monte-kompetisie. Haar debuut is in 1987 gemaak, en sedert 1989 sing sy by die voorste Italiaanse operahuise en die Salzburg-fees. Met haar donker, klankryke stem is sy hoogs begaafd in opera en konserte, veral in Barokmusiek. Onder haar operarolle tel die titelrolle in Handel se Riccardo en Rinaldo, en Melindo in Vivaldi se La verita in cimento. Sleutelopnames: Pergolesi en A. Scarlatti se toonsettings van die Stabat Mater (onder Rinaldo Alessandrini). Verdere opnames: Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Vivaldi se kantates Amor hai vinto en Cessate, omai cessate, sy Gloria in D, Magnificat, Stabat Mater, Clarae stella scintillate, Vespers for the Assumption of the Virgin Mary (almal onder Alessandrini, lg. deur hom verwerk), en sy genoemde opera.

Minkowski, Marc (1962-), Franse dirigent. Hy was aanvanklik ‘n fagotspeler in ensembles wat in vroeë musiek spesialiseer. Mettertyd het hy begin dirigeer en is hy na die VSA om aan die Pierre Monteux Dirigeerskool in Hancock, Maine te studeer. In 1984 het hy die eerste prys in die internasionale kompetisie vir vroeë musiek in Brugge, België gewen, en in dieselfde jaar het hy die ensemble Les Musiciens du Louvre gestig vir die uitvoering van vroeë musiek op eietydse instrumente. Met hulle het hy wye bekendheid deur uitvoerings en opnames verwerf, en het hy minder bekende operas van Gluck en Handel herleef. Hy is in 1990 as die beste jong dirigent deur die Franse Académie du disque lyrique aangewys, en drie jaar later het hy Lully se Phaëton vir die heropening van die Lyon Opera gedirigeer. In 1997 het by die Salzburg-fees met ‘n opvoering van Die Entführung aus dem Serail gedebuteer. Hy en sy orkes is woonagtig in Grenoble, waar hulle in 1997 met die Grenoble Kamerorkes kragte saamgesnoer het. Tydens die Aix-en-Provence Fees in 2000 het hy ‘n indrukwekkende opvoering van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sleutelopnames: Offenbach se operette La Belle Hélène (Parys 2000, DVD); Rameau se opera Dardanus; Stradella se oratorium San Giovanni Battista. Verdere opnames: Berlioz se Symphonique fantastique en kantate Herminie; Boieldieu se opera La Dame blanche; Handel se Dixit Dominus, oratorium La Resurrezione, en operas Amadigi di Gaula, Ariodante, Giulio Cesare, Hercules en Teseo; Marais se opera Alcyone; Méhul se eerste twee simfonieë; Mondonville se opera Titon et Aurore; Offenbach se operette Orphée aux enfers, en ‘n versameling uittreksels uit sy operettes; en Rameau se opera Hippolyte et Aricie.

Minnesota Orkes, Amerikaanse simfonie-orkes wat in 1903 as die Minneapolis Simfonie-orkes gestig is deur Emil Oberhoffer, wat tot 1922 die dirigent was. Hy is opgevolg deur onder andere Bruno Walter, Eugene Ormandy, Dimitri Mitropoulos, Antal Doráti, Stanislaf Skrowaczefski, Neville Marriner en Edo de Waart. In 1968 is die orkes se naam na die huidige een verander, en sedert 1995 is Eiji Oue hul dirigent.

Minton, Yvonne (1938-), Australiese mezzosopraan. Drie jaar nadat sy in 1961 ‘n internasionale sangkompetisie in ‘s Hertogenbosch in Nederland gewen het, het sy haar operadebuut in Londen gemaak. Dit was in die titelrol van The Rape of Lucretia, en daarna het debute plaasgevind by Covent Garden (1965), Keulen (1969), Chicago (1970), die Metropolitan Opera (1973), asook by die feeste in Bayreuth (1974), Salzburg (1978) en Glyndebourne (1994). Intussen het sy in 1970 by Covent Garden die rol van Thea tydens die première van The Knot Garden geskep. Sy is wêreldbekend in opera, veral dié van Mozart en moderne komponiste, asook in konsertwerke. Onder haar beste rolle tel Adalgisa in Norma, Grafin Geschwitz in Lulu, Geneviève in Pelléas et Mélisande, Sesto in La clemenza di Tito, Cherubino in Le nozze di Figaro en Octavian in Der Rosenkavalier. Verder was sy uitmuntend as die Engel in Elgar se The Dream of Gerontius, wat sy in ‘n opname gedirigeer deur die komponis Britten gesing het. Verdere opnames: kerkmusiek van Bach en Mozart; Berlioz se Roméo et Juliette; Bruckner se Te Deum; Elgar se Coronation Ode; Mahler se derde simfonie (onder Boulez), agste simfonie en Lieder eines fahrenden Gesellen (beide onder Solti); Schoenberg se melodrama Pierrot Lunaire; die genoemde operas van Bellini, Berg, Debussy, Mozart en R. Strauss, asook Die Entführung aus dem Serail en King Priam.

Mintz, Shlomo (1957-), Russies-gebore Israeliese violis en dirigent. Hy het in 1966 sy openbare debuut gemaak, en twee jaar later het hy as jong tiener Mendelssohn se vioolkonsert met die Israeliese Filharmoniese Orkes onder Zubin Mehta gespeel. In 1973 het hy aan die Juilliard Musiekskool in New York begin studeer, met debute wat gevolg het by die feeste in Brighton (1976) en Salzburg (1980). Daarna het hy begin dirigeer, en vanaf 1989 was hy vir vier jaar musiekdirekteur van die Israeliese Kamerorkes. Sleutelopnames: Mozart se 5 vioolkonserte en Sinfonia concertante (lg. met Hagai Shaham), waarin hy self die Engelse Kamerorkes dirigeer. Verdere opnames (as solis): vioolkonserte van Prokofiëf, Vieuxtemps (nr. 5) en Vivaldi; werke vir viool en orkes van Lalo en Saint-Saëns; Brahms se volledige viool- en altvioolsonates; solowerke van Kreisler; en vioolsonates van Bach, Debussy, Fauré, Franck, Mendelssohn en Ravel.

Miricioiu, Nelly (1952-), Roemeense sopraan. Nadat sy in 1974 haar debuut in Iasi as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte gemaak het, was sy vanaf die jaar daarop tot 1978 aan die Brasof Opera verbonde. Verdere debute het gevolg in Glasgow (1981) en by Covent Garden (1982). Laasgenoemde was as Nedda in I Pagliacci, teenoor sulke groot sangers soos Jon Vickers, Piero Cappuccili en Thomas Allen. Sy het in 1983 by La Scala ‘n triomfantelike debuut in die titelrol van Lucia di Lammermoor gemaak, en sedertdien tree sy wêreldwyd in die voorste operahuise op. Haar bekendheid lê veral in die bel canto repertorium, asook die musiek van Puccini en Verdi. Dit sluit verdere rolle in soos Elizabetta in Roberto Devereux, Santuzza in Cavalleria rusticana, Silvana in La Fiamma, Elisabetta in Don Carlos, Elvira in Ernani, Violetta in La Traviata, en die titelrolle in Norma, Maria Stuarda, Anna Bolena, Fedora, Emma d’Antiochia, Madama Butterfly, Tosca, Semiramide en Luisa Miller. In 1986 het sy in Amsterdam ‘n reeks middaguurkonserte by die Concertgebouw begin, en ses jaar later is haar debuut by die Salzburg-fees gemaak. Sy het in 2004 die titelrol in Respighi se Maria Vittoria tydens die wêreldpremière daarvan by die Roomse Opera geskep. Opnames: die operas Cavalleria rusticana (in Engels), Orazi e Curiazi, Rosamunde d’Inghilterra, Maria regina d’Inghilterra, Emma d’Antiochia en Tosca; sowel as versamelings arias van Donizetti, Rossini en bel canto (al drie onder David Parry).

Mitchinson, John (1932-), Engelse tenoor. Hy was in 1953 ‘n stigterslid van die BBC Northern Singers en het ses jaar later sy opera-verhoogdebuut met die Handel Operavereniging gemaak, as Jupiter in Semele. Later was hy verbonde aan die Engelse Nasionale Opera (1972-8) en die Walliese Nasionale Opera (1978-82). Hy is ‘n begaafde sanger in beide opera en konserte. Opnames: Alwyn se opera Miss Julie; Janácek se Glagolitiese Mis; Mahler se agste simfonie (onder Bernstein) en Das Lied von der Erde (onder beide Horenstein en Leppard); Martinu se opera The Greek Passion (in Engels); en Maunder se kantate Olivet to Calvary.

Mitropoulos, Dimitri (1896-1960), Grieks-gebore dirigent, pianis en komponis. Hy het in Athene en onder die pianis-komponis Busoni in Berlyn studeer. Vanaf 1921 was hy vir vier jaar ‘n repetiteur by die Berlynse Staatsopera. Vervolgens was hy ‘n dirigent van die Odeon Konserwatorium se orkes in Athene (1924-9) en van die Parys Simfonie-orkes (1932-6). Ná sy Amerikaanse debuut in 1936 in Boston het hy die Minneapolis Simfonie-orkes gedirigeer (1937-49). Hy het in 1946 ‘n Amerikaanse burger geword. Sy laaste pos was as hoofdirigent van die New York Filharmoniese Orkes (1949-58). Met vertolkings gekenmerk deur beide dryfkrag en sensitiwiteit het hy wêreldwyd as gasdirigent verskyn, onder andere by La Scala, die Metropolitan Opera (vanaf 1954), en die feeste in Salzburg (ook vanaf 1954), Florence en Edinburgh. As kampvegter vir twintigste-eeuse musiek het hy eerste uitvoerings van werke deur Hindemith, Copland en Barber tot sy krediet. Daaronder tel die première van Barber se opera Vanessa in 1958 by die Met, waarvan ‘n klassieke opname gemaak is. Verder het hy in 1959 by die Salzburg-fees met beroemde sangers die eerste opname van Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln gemaak.

Enkele weke voor sy dood het Mitropoulos ‘n uitstekende opvoering van Verdi se La forza del destino by die Weense Staatsopera gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Hy het aan ‘n hartaanval gesterf tydens inoefeninge vir Mahler se derde simfonie. As een van die mees begaafde dirigente van die twintigste eeu het hy die vermoë gehad om partiture feitlik op sig te memoriseer. Sedert 1963 is ‘n Amerikaanse kompetisie vir jong dirigente na hom vernoem. Naas sy eie komposisies het hy meesterlike verwerkings van Beethoven se strykkwartet nr. 14 (vir strykers) en Bach se Fantasia en Fuga in G mineur (vir strykers en houtblasers) gemaak. Sleutelopname: Vaughan Williams se vierde simfonie (New York 1956). Verdere opnames: Mahler se simfonieë nrs. 6 en 9; Prokofiëf se Romeo en Juliet suites; Schoenberg se Verklärte Nacht (vir strykorkes); Sjostakowitsj se tiende simfonie; Richard Strauss se Also sprach Zarathustra; en die operas Don Giovanni, Elektra en Ernani.

Mödl, Martha (1912-), Duitse sopraan. Sy was aanvanklik ‘n boekhouer totdat sy in 1935 met sangstudies aan die konserwatorium in haar geboortestad Nürnberg begin het. Dit was as mezzosopraan, ‘n stemtipe waarna sy later in haar loopbaan sou terugkeer. Verdere studies het in Milaan plaasgevind, en in 1942 is haar operadebuut in Remscheid gemaak het as Hänsel in Hänsel und Gretel. Sy was ná die Tweede Wêreldoorlog verbonde aan operahuise in Düsseldorf (1945-9) en Hamburg (1949-55). Haar Covent Garden-debuut is in 1949 gemaak in die titelrol van Carmen, waarna sy gereeld to 1966 daar sou sing. Vanaf 1950 het sy as dramatiese sopraan instede van mezzosopraan begin sing, met ‘n suksesvolle Berlynse verskyning as Dame Macbeth in Verdi se opera Macbeth. Met die heropening van die Bayreuth-fees in 1951 het sy gesing as Kundry in Parsifal en Gutrune in Götterdämmerung, met hoogaangeskrewe opnames wat van beide operas gemaak is. Gedurende die 1950’s en 1960’s sou sy dikwels by Bayreuth verskyn, veral as Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Sy het vanaf 1952 ook by die Weense Staatsopera gesing, en het in 1952 en 1958 by die Edinburgh-fees opgetree. Met die heropening van die Weense Staatsopera in 1955 het sy Leonore in ‘n uitvoering van Fidelio gesing. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1957) en die Salzburg-fees (1964), in eersgenoemde geval as Brünnhilde. Met haar warm stem, intense sang en besondere akteursvermoëns was sy uitmuntend in Wagner-rolle, naas die genoemdes ook as Waltraute in Götterdämmerung. Sy het die veeleisende rol van Brünnhilde meesterlik vertolk in Wilhelm Furtwängler se Roomse opname van die Ring-siklus in 1953. Voorts was sy begaafd as Marzelline in Fidelio, Kostelnicka in Jenufa en in die titelrol van Elektra. Sy het in die premières van verskeie moderne operas opgetree, en het op tagtigjarige leeftyd die Grafin in Tsjaikofski se Pique Dame in Wenen gesing. Opnames: die genoemde operas van Beethoven, Janácek, Richard Strauss en Wagner, asook Henze se Elegie für junge Liebende.

Moffo, Anna (1932-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1955 haar operadebuut in Spoleto as Norina in Don Pasquale gemaak. Weldra het sy wêreldbekend geraak in Italiaanse opera en in konsertwerke. Verdere debute het gevolg in Chicago en by die Salzburg-fees (beide in 1957), die Metropolitan Opera (1959) en Covent Garden (1964). Met haar wye stemreeks, knap akteurspel en aantreklike voorkoms het sy uitgeblink in liriese rolle soos Euridice in Orfeo ed Euridice, Sylva in Die Csárdásfürstin, Zerlina in Don Giovanni, Susanna in Le nozze di Figaro, Musetta in La Bohème, Liu in Turandot, Rosina in Il barbiere di Siviglia, die Grafin in Capriccio, Nannetta in Falstaff, Gilda in Rigoletto, en die titelrolle in Madama Butterfly en Luisa Miller. Opnames: Canteloube se Chants d’Auvergne, Rachmaninof se Vocalise en Villa-Lobos se Bachianas Brasileiras nr. 5 (almal onder Stokowski); die genoemde operette van Kálmán; en die genoemde operas van Gluck, Mozart, Puccini, Richard Strauss en Verdi.

Mogrelia, Andrew (?-), Engelse dirigent. Hy is inwonende dirigent by die Birmingham Konserwatorium en was vanaf 1992 vir twee jaar mede-musiekdirekteur van die Nasionale Ballet in Amsterdam. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa op, met ‘n bekendheid veral in balletmusiek waarin hy tans een van die voorste dirigente ter wêreld is. Opnames: Adam se ballette La Filleule des fees, Giselle en La Jolie Fill de Grand; Delibes se ballette Coppélia en Sylvia; verskeie balletsuites van Prokofiëf; Saint-Saëns se ballet Javotte en balletmusiek vir die opera Henry VIII; Suk se orkeswerke A Summer Tale en A Winter’s Tale; en Tsjaikofski se ballet Doringrosie.

Moiseiwitsj, Benno (1890-1963), Oekraïns-gebore pianis. Hy het op negejarige leeftyd die Rubinstein-prys gewen en was later in Wenen ‘n leerling van die beroemde leermeester Theodor Leschetizky. In 1909 is sy Londense debuut gemaak, waarna hy wyd deur Europa getoer het. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy hom in Brittanje gevestig en in 1937 het hy ‘n Britse burger geword. Hy het in 1938 ‘n meesterlike vertolking gelewer in ‘n Londense opname van Beethoven se klavierkonsert nr. 5, die 'Keiser', onder Georg Szell. Met sy aristokratiese, elegante spel was hy veral begaafd in die musiek van sy vriend Rachmaninof, soveel só dat sy vertolkings van die groot laat-Romantikus in dieselfde asem as die komponis se eie genoem word. Daarby was hy 'n kampvegter vir die Finse komponis Selim Palmgren. Slegs ‘n maand voor sy dood het hy in nog ‘n meesterlike opname van die Keiserkonsert gespeel, dié keer onder Malcolm Sargent. Verdere opnames: Beethoven se klavierkonsert nr. 3; Delius, Grieg en Schumann se klavierkonserte; Liszt se Hongaarse Fantasie; Rachmaninof se eerste twee klavierkonserte en Paganini Rapsodie; Saint-Saëns se klavierkonsert nr. 2; Tsjaikofski se eerste twee klavierkonserte; en solowerke van Beethoven, Brahms, Chopin, Debussy, Liszt, Mendelssohn, Moessorgski, Palmgren, Ravel, Schumann en Weber.

Molinari, Bernardino (1880-1952), Italiaanse dirigent. Hy was vanaf 1921 tot 1943 ‘n dirigent van die Augusteo-orkes in Rome. Daarby was hy ‘n gereelde gasdirigent in Europa en die VSA, met ‘n Amerikaanse debuut wat in 1928 in New York gemaak is. Sy bekendheid het merendeels in die musiek van moderne komponiste soos Respighi en Malipiero gelê. Hy het 1936 in Rome die première van Barber se eerste simfonie gedirigeer.

Molinari-Pradelli, Francesco (1911-96), Italiaanse dirigent. Hy het sy debuut in 1938 gemaak en in die jaar daarop ‘n opvoering van L’elisir d’amore in Bologna gedirigeer. Hy was veral as opera-dirigent bekend, met verdere debute wat gemaak is by La Scala (1946), Covent Garden (1955), San Francisco (1957) en Wenen (1959). In 1956 het hy as klavierbegeleier vir die sopraan Suzanne Danco in ‘n opname van Italiaanse liedere gespeel. Vier jaar later het hy as dirigent by Covent Garden die opkomende sopraan Joan Sutherland in ‘n opname van ‘n versameling opera-arias begelei. Hy het intussen in 1958 by die San Carlo Opera in Napels ‘n voortreflike opvoering van La forza del destino met Renata Tebaldi in die vroulike hoofrol gedirigeer, waarvan ‘n beeldopname gemaak is. By die Roomse Opera het hy in 1965 met Birgit Nilsson en Franco Corelli as soliste ‘n briljante opvoering van Turandot gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Vanaf 1966 tot 1973 het hy by die Metropolitan Opera gedirigeer. Verdere opnames: L’elisir d’amore en La traviata (lg. ook met Tebaldi).

Moll, Kurt (1938-), Duitse bas. Hy het in Keulen studeer en in 1961 sy debuut in Aachen gemaak, as Lodovico in Otello. Vervolgens was hy verbonde aan operahuise in Aachen, Mainz en Wuppertal, voordat hy in 1970 ‘n lid van die Hamburg Staatsopera geword het. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Salzburg (1970) en Bayreuth (1972), asook in San Francisco en by La Scala (beide in 1974), Covent Garden (1977), die Metropolitan Opera (1978) en Chicago (1983). Met sy ferm, donker stem is hy een van die voorste basse ter wêreld in Duitse musiek, veral in die operas van Mozart, Wagner en Weber, en in gewyde werke. Onder sy beste rolle tel Rocco in Fidelio, Osmin in Die Entführung aus dem Serail, Bartolo in Le nozze di Figaro, Sarastro in Die Zauberflöte, die Inkwisiteur in Die vurige engel, Quasimodo in Notre Dame, Graaf Heribert in Die Verschworenen, die Ou Gevangene in Dame Macbeth van Mtsensk, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Daland in Der fliegende Holländer, Koning Hendrik in Lohengrin, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Gurnemanz in Parsifal, Fafner in Das Rheingold en Siegfried, Koning Mark in Tristan und Isolde, Omar in Abu Hassan en die Kluisenaar in Der Freischütz. Hy het ook stewig vertoon as Hunding in James Levine se hoogaangeskrewe opvoerings van Die Walküre en Götterdämmerung by die Met in 1989/90, met DVD-opnames wat gemaak is. Die titel van Kammersänger is deur drie operahuise aan hom toegeken, en sedert 1992 is hy ‘n hoogleraar aan die Keulen Musiekakademie. Verdere opnames: Beethoven se Mis in C en Missa solemnis; Haydn se oratorium Die Schöpfung (as Raphael); Mozart se Mis nr. 4; die genoemde operas van Beethoven, Mozart, Prokofiëf, Schmidt, Schubert, Sjostakowitsj, R. Strauss, Wagner en Weber, asook Der Schauspieldirektor en Die Feen.

Monoyios, Ann (1949-), Amerikaanse sopraan. Nadat sy aan die Universiteit van Princeton en onder Oren Brown studeer het, het sy in Barokmusiek met die Folger Consort in Washington, D.C. gesing. Haar verhoogdebuut is in New York in Rameau se Les Fetes d’Hebe gemaak. In 1986 is haar Europese debuut by die Göttingen-fees in Händel se Terpsichore onder John Eliot Gardiner gemaak. Sedertdien tree sy wyd deur Europa, die Verre Ooste en Noord-Amerika in opera, konserte en liedere op. Dit sluit toere as solis met die bekende ensemble Tafelmusik in. Sy was in 1989 ‘n solis in John Eliot Gardiner se uitvoering van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine in Venesië, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is. Hoewel sy merendeels in Barokmusiek bekend is, strek haar repertorium tot by Britten en Falla. Sy gee ook onderrig aan die Koninklike Musiekkonserwatorium in Toronto, naas meesterklasse in Baroksang. Haar gunsteling tydverdryf is om saam met haar man en dogter kano te roei in die Noordpoolsee. Verdere opnames: J.C. Bach se Endimione; J.S. Bach se Kantates nrs. 65 en 180, Missa brevis in F, en Sint Mattheuspassie; D’Astorga se Stabat Mater; Handel se opera Almira (in die titelrol); Haydn se kantate The Battle of the Nile; en Pergolesi se Confitebor tibi Domine.

Montague, Diana (1954-), Engelse mezzosopraan. Nadat sy in 1977 haar operadebuut met die Glyndebourne Toeropera as Zerlina in Don Giovanni gemaak het, het sy vanaf die jaar daarop tot 1983 by Covent Garden gesing. Verdere debute het gevolg by die feeste in Bayreuth (1983), Salzburg (1986) en Glyndebourne (1989), asook by die Metropolitan Opera (1987). Met haar behendige sang blink sy uit in koloratuurrolle soos Iphigénie in Iphigénie en Tauride, Gleemaiden in John Socman, Armando in Il Crociato in Egitto, Idamante in Idomeneo, Annio in La clemenza di Tito en Isolier in Le Comte Ory. ‘n Opname van ‘n versameling opera-arias wat sy onder David Parry sing, is in 2000 vir ‘n Gramophone toekenning benoem. Verdere opnames: enkele orkesliedere van Berlioz (onder Gardiner); Mozart se Mis nr. 18; Vaughan Williams se Serenade to Music; en die genoemde operas van Gluck, Lloyd, Meyerbeer, Mozart en Rossini.

Monteux, Pierre (1875-1964), Franse dirigent. Hy is aanvanklik as violis opgelei en het altviool gespeel in die Opéra-Comique in Parys, onder andere in die première van Debussy se Pelléas et Mélisande (1902). Daarna het hy dirigent van Djagilef se Russiese Ballet in Parys geword, met wie hy die eerste uitvoerings van verskeie moderne werke gegee het. Daaronder tel Strawinski se Petroesjka (1911) en Le Sacre du Printemps (1913), Debussy se Jeux (1913) en Ravel se Daphnis et Chloé (1912). Tydens die eerste uitvoering van Le sacre het die berugste gehooroproer van die twintigste eeu plaasgevind, met woeste gevegte tussen groepe in die saal. In 1913/4 het hy die Parys Opera gedirigeer, waartydens die première van Strawinski se opera Die Nagtegaal gegee is, en in 1916 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind. Daarna het hy vanaf 1917 vir twee jaar by die Metropolitan Opera gedirigeer, onder andere die Amerikaanse première van Die Goue Haantjie in 1918. Vervolgens was hy verbonde aan die Boston Simfonie-orkes (1919-24), die Concertgebouw Orkes (1924-34), die Parys Simfonie-orkes (1929-38) en die San Francisco Simfonie-orkes (1935-52). Laasgenoemde het hy tot ‘n ensemble van wêreldgehalte opgebou, en intussen het hy in 1942 ‘n Amerikaanse burger geword.

Vanaf 1953 het Monteux weer vir drie jaar by die Met opgetree, en vanaf 1961 tot aan die einde van sy lewe was hy hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes. Alhoewel die groot Duitse komponiste sy gunsteling-repertorium was, was hy onder musiekliefhebbers eerder gewild vanweë sy helder, kragtige vertolkings van Franse simfoniese musiek. As een van die twintigste eeu se mees blywende musici het hy tot enkele maande voor sy dood, toe hy al in sy laat tagtigs was, nog opnames gemaak. Naas Strawinski was hy ‘n kampvegter vir die musiek van sy landgenoot Vincent d’Indy. Sleutelopname: Franck se Simfonie in D mineur (Chicago). Verdere opnames: simfonieë van Beethoven, Brahms (nr. 3), Chausson, d’Indy, Schubert, Schumann (nr. 4) en Tsjaikofski (nr. 6); ander orkeswerke van Berlioz, Debussy, Delibes, Elgar, Gounod, Liszt, Ravel, Rimski-Korsakof, Skriabin, Richard Strauss, Strawinski, Tsjaikofski en Wagner; Berlioz se La damnation de Faust; en die opera Manon.

Montreal Simfonie-orkes, Kanadese orkes wat in 1935 gestig is, maar waarvan die oorsprong na ‘n voorloper in 1897 teruggevoer kan word. Die huidige naam is in 1954 verkry. Onder hul bekende dirigente het Wilfrid Pelletier, Désire Défauw, Otto Klemperer (1950-3), Igor Markewitsj (1955-60), Zubin Mehta (1961-7), Franz-Paul Decker (1968-75), Raphael Frühbeck de Burgos (1975/6) en Charles Dutoit (1978-90) getel. Dutoit het die orkes tot wêreldroem opgebou deur hul opnames en toere.

Moolman, Jannie (?-), Suid-Afrikaanse tenoor. Sy sangloopbaan het as ‘t ware per abuis begin toe hy as sestienjarige weens wangedrag in sy klas gedwing is om as koorsanger in ‘n skoolopvoering van Gilbert en Sullivan se operette Trial by Jury te sing. Daarna het hy vir ‘n jaar in die Natalse Jeugkoor gesing, waarna hy kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein gaan studeer het. Tydens sy finale studiejaar (in 1990) het hy in die plaaslike operakoor gesing. Kort nadat hy ‘n derde plek onder ongeveer 3 000 sangers in die internasionale Belvedere-sangkompetisie in Wenen behaal het, is hy deur die dirigent Giuseppe Raffa genooi om die rol van Pinkerton in sy Operama-opvoering van Madama Butterfly vroeg in 2000 in Pretoria te sing. Dit was ‘n klinkende sukses, en sedertdien het hy bekendheid in liriese operarolle verwerf. Hy is ewe bekend in ligte Afrikaanse musiek, waarin hy met plaaslike sangers optree en deur die land toer.

Moore, Gerald (1899-1987), Engelse pianis. As seun het hy in Kanada gaan woon, maar later het hy na Engeland teruggekeer. Vanaf 1925 het hy as klavierbegeleier vir die tenoor John Coates opgetree. Later het hy wêreldbekend as 'n sensitiewe liedere-begeleier geword, vir sulke groot sangers soos Peter Dawson, Kathleen Ferrier, Elisabeth Schumann, Elisabeth Schwarzkopf, Irmgard Seefried, Victoria de los Angeles, Janet Baker, Hans Hotter en Dietrich Fischer-Dieskau. Hy het in talle liedere-opnames met hulle opgetree. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1954 met Schwarzkopf gemaak, en in dieselfde jaar is die CBE aan hom toegeken. Hy het in 1967 uit konserte getree maar voortgegaan om opnames te maak, te skryf en lesings te gee. Drie boeke oor die begeleikuns het uit sy pen gevloei.

Moore, Grace (1898-47), Amerikaanse sopraan. Ná studies in Frankryk het sy in 1928 haar debuut by die Metropolitan Opera gemaak, as Mimì in La Bohème. Sy het daar gesing tot 1932 en weer vanaf 1935 tot 1946, met verdere debute wat plaasgevind het by Covent Garden (1935) en die Salzburg-fees (1946). Daarby het sy dikwels by die Parys Komiese Opera opgetree. Haar bekendheid het veral in die titelrol van Louise gelê, wat sy onder die komponis (Charpentier) self bestudeer het. Sy het dit in 'n klassieke opname by die Met onder Thomas Beecham gesing. Verder was sy ‘n rolprentaktrise, totdat sy in Denemarke in 'n vliegongeluk gesterf het.

Moralt, Rudolf (1902-58), Duitse dirigent. Hy was aanvanklik 'n koorafrigter by die München Opera (1919-23), en daarna 'n operadirigent in Kaiserslautern (1923-8), Brno (1932-4), Brunswick (1934-6) en Graz (1937-40). In 1939 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, waar hy sewe jaar later met die na-oorlogse heropening van die fees ‘n opvoering van Le nozze di Figaro sou dirigeer. Hy het in 1952 dieselfde opera by Salzburg gedirigeer in die plek van Wilhelm Furtwängler wat tydens die finale inoefening ongesteld geraak het. Vanaf 1940 tot 1958 het hy gereeld by die Weense Opera opgetree. In 1956 het hy 'n klassieke opname van Così fan tutte met die Weense Simfonie-orkes gedirigeer. Hy was 'n familielid van die komponis Richard Strauss.

Morandi, Pier Giorgio (?-), Italiaanse hobospeler en dirigent. Nadat hy vir tien jaar eerste hobospeler van die La Scala Orkes was, het hy hul assistent-dirigent onder Riccardo Muti geword. Verdere dirigeerstudies het onder Leonard Bernstein en Seiji Ozawa gevolg, en in 1989 het hy hoofdirigent van die Roomse Opera geword. Hy dirigeer as gas by van die voorste Europese operahuise en in konserte. Met die koor en orkes van die Hongaarse Staatsopera het hy ‘n hele aantal uitstekende opnames gemaak. Daaronder tel Donizetti se L’elisir d’amore, Puccini se Messa di Gloria, Rossini se Stabat Mater, Verdi se Requiem, en die volledige ouvertures en preludes van Verdi.

Moravec, Ivan (1930-), Tsjeggies-gebore pianis. Hy het aanvanklik klavier aan die konserwatorium en musiekakademie in Praag studeer. In 1957 het die legendariese Arturo Benedetti Michelangeli hom hoor speel en hom na Italië genooi vir verdere studies. Daar het hy aan die maestro se meesterklasse in Arezzo deelgeneem. Sy Amerikaanse debuut is in 1964 met die Cleveland Orkes onder Georg Szell gemaak. Sedertdien tree hy wyd deur Noord-Amerika, Europa, Australië en Japan in konserte en voordragte op. Hy het sedert die vroeë 1960’s in ‘n groot aantal opnames gespeel, asook in die klankbaan van die 1984-rolprent Amadeus. Die Supraphon platemaatskappy het in 1999 ‘n platinumskyf aan hom oorhandig nadat hy meer as ‘n kwartmiljoen opnames van hul etiket verkoop het. In 2000 het die Tsjeggiese president Vaclav Havel hom vereer met die Meriete-orde en het hy die Prys van Karel die Vierde, sy geboorteland se hoogste eerbewys, ontvang. Twee jaar later is hy met ‘n Cannes Klassieke Toekenning vir lewenslange prestasie vereer. Opnames: Beethoven se klavierkonsert nr. 4, Franck se Simfoniese Variasies en Ravel se Klavierkonsert in G (almal onder Jirí Belohlávek).

Mordkowitsj, Lydia (1950-), Russies-gebore violis. Sy het in Moskou onder die legendariese David Oistrach studeer en in 1974 na Israel geëmigreer. Later het sy haar in Brittanje gevestig, waar sy in 1979 haar debuut met die Hallé Orkes gemaak het. In 1985 het sy by die Londense Proms gespeel. Met haar donker, warm toonkleur en hartstogtelike spel is sy uitmuntend in twintigste-eeuse musiek. Sleutelopnames: Dyson se vioolkonsert en Howells se 3 Danse vir viool en orkes (beide onder Hickox). Verdere opnames: vioolkonserte van Bax, Britten, Kabalefski, Khatsjatoerian, Sjostakowitsj, Strawinski, Szymanowski, Veale en Walton; vioolsonates van Busoni, Ireland, Metner (1-3), Prokofiëf, Sjostakowitsj en Szymanowski; Grieg se 3 vioolsonates (met haar dogter Elena as klavierbegeleier); Respighi se Concerto gregoriano; Schnittke se Prelude in memoriam Sjostakowitsj; en Ysaÿe se 6 Sonates vir soloviool.

Morison, Elsie (1924-), Australiese sopraan. Vier jaar na haar 1944-debuut in Melbourne in Handel se Messiah het sy die eerste keer in Londen opgetree, in dieselfde komponis se Acis and Galatea. Sy was vervolgens in die Britse hoofstad verbonde aan die operahuise by Sadler's Wells (1948-54) en Covent Garden (1953-62). By laasgenoemde het sy in 1961 uitgeblink as Marzelline in ‘n skitterende opname van Fidelio onder Otto Klemperer. Tydens die Britse premières van The Rake's Progress (Edinburgh, 1953) en Les dialogues des Carmélites (Covent Garden, 1958) het sy die rolle van Anne Trulove en Blanche onderskeidelik geskep. Sy was verder bekend in die operettes van Gilbert en Sullivan, in rolle soos Phyllis in Iolanthe, Yum-Yum in The Mikado, die titelrol in Patience en Mabel in The Pirates of Penzance. Daarby was sy ‘n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde werke. Sy is in 1963 met Rafael Kubelik getroud, en in die laat 1960's het sy as solis ‘n warm, poëtiese vertolking in dié groot dirigent se opname van Mahler se vierde simfonie gelewer. Verdere opnames: Handel se oratoriums Messiah (onder Sargent) en Solomon (onder Beecham); Mozart se Requiem (onder Beecham); en die genoemde operettes.

Mork, Truls (1961-), Noorse tjellis. Hy het aanvanklik lesse van sy vader ontvang, waarna hy in Swede onder Frans Helmerson studeer het. Daarna is verdere studies onder Heinrich Schiff in Oostenryk en onder Natalia Sjakowskaja in Rusland onderneem. In 1982 het hy die eerste Skandinawiër geword om 'n prys by die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou te wen. Hy het debute gemaak in New York (1986) en by die Londense Proms (1988), en in 1994 het hy 'n wêreldtoer met die Oslo Filharmoniese Orkes onder Mariss Jansons onderneem. 'n Verdere prestasie was om 'n internasionale kamermusiekfees in Stavanger te stig, waarvan hy die artistieke direkteur is. Sleutelopname: Ravel se Sonate vir viool en tjello (met Juillet). Verdere opnames: Dvorák, Elgar, Haydn en Schumann se tjellokonserte; Bloch se Schelomo; Bruch se Kol Nidrei; Strawinski se Suite italienne; Tsjaikofski se Rococo Variasies; Vivaldi se Dubbelkonsert vir viool en tjello (met Menuhin); en tjellosonates van Brahms, Grieg, Miaskofsi, Prokofiëf, Rachmaninof en Sjostakowitsj.

Morris, James (1947-), Amerikaanse bas-bariton. Hy het aan die Philadelphia Musiekakademie onder Nicola Moscona studeer. Sy debuut is in 1967 in Baltimore gemaak, as Crespel in Les contes d'Hoffmann. Verdere debute sou volg by die Metropolitan Opera (1971, as die Koning in Aida), en by die feeste in Glyndebourne (1972) en Salzburg (1982). Nadat hy die rol van Wotan in Die Walküre in 1984 in Baltimore gesing het, het hy verdere afrigting van die legendariese Hans Hotter ontvang. Sedertdien sing hy dié rol by van die voorste operahuise in Europa en die VSA, onder andere in San Francisco en Wenen (beide in 1985), München en Berlyn (beide in 1987), en Covent Garden (1988-91). Hy het Wotan meesterlik vertolk by die Met in James Levine se hoogaangeskrewe 1989/90-siklus van die Ring, met uitstekende DVD-opnames wat daarvan gemaak is. In 1992 het hy by die San Francisco Opera die titelrol in Boris Godoenof gesing, wat ook een van sy beste rolle sou word. Hy is verder bekend as Enrico in Anna Bolena, Guglielmo in Così fan tutte, Claudius in Hamlet, Banquo in Macbeth, Ferrando in Il Trovatore, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg en die titelrol in Der fliegende Holländer. Verdere opnames: die dodemisse van Duruflé en Fauré; en die laasgenoemde vyf operas, asook Le Roi de Lahore, Desire under the Elms en die Ring (onder Haitink).

Morris, Wyn (1929-2010), Walliese dirigent. Hy het in 1957 die Walliese Simfonie-orkes gestig en hulle vir die volgende drie jaar gedirigeer. Later was hy dirigent van die Koninklike Koorvereniging (1968-70) en die Huddersfield Koorvereniging (1969-74). As bekende in die musiek van Mahler het hy in 1972 die eerste uitvoering van Deryck Cooke se uitgawe van dié komponis se onvoltooide tiende simfonie gedirigeer. Met die Londense Simfonie-orkes het hy die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem. Hy het voorts ‘n aantal opnames van minder bekende vokale werke van groot komponiste nagelaat. Opnames: die eerste deel van Beethoven se tiende simfonie, soos deur Barry Cooper voltooi); Bruckner se Helgoland; Debussy se kantate La demoiselle élue; Mahler se Des Knaben Wunderhorn; en Wagner se Das Liebesmal der Apostel.

Mosaïques Kwartet, strykkwartet wat in 1984 deur die tjellis Christophe Coin gestig is. Hulle bespeel eietydse instrumente en spesialiseer in die musiek van Haydn, Mozart, Beethoven en Schubert. Hul vertolkings word deur sekure intonasie en ensemble gekenmerk. Sleutelopnames: Haydn se strykkwartette nrs. 31-36; Schubert se strykkwartette nrs. 10 en 13. Verdere opnames: Haydn se strykkwartette nrs. 37-42, 50-56, 63, 65, 68, 81-83; en Mozart se 6 Haydn-kwartette.

Moser, Edda (1938-), Duitse sopraan. Sy is die dogter van die musiekgeleerde Hans Moser (1889-1967) en het in 1962 by die Berlynse Stadsopera gedebuteer, as Kate Pinkerton in Madama Butterfly. Vanaf 1964 het sy by operahuise in Hagen en Bielefeld gesing, met nog debute wat sou volg by die Salzburg Paasmusiekfees en die Metropolitan Opera (beide in 1968), en die Salzburg-fees (1970). As bekende sangeres in moderne musiek het sy in die eerste uitvoering van Henze se oratorium Das Floss der Medusa in Wenen (1971) verskyn. Opnames: Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; die genoemde werk van Henze, asook sy Being beauteous, Whispers from heavenly death, Cantata della fiaba estrema en Novae de infinito lauda; en Weber se opera Abu Hassan (as Fatime).

Moser, Thomas (1945-), Amerikaanse tenoor. Hy het sy operadebuut in 1975 in Graz gemaak en in die jaar daarop die rol van Belmonte in Die Entführung aus dem Serail in München gesing. Vanaf 1977 het hy by die Weense Opera in merendeels Mozart-rolle opgetree, met nog debute wat plaasgevind het by die Salzburg-fees (1976) en die New York Stadsopera (1979). In 1984 het hy die rol van die Tenoor tydens die première van Berio se opera Un re in Ascolto by die Salzburg-fees geskep. Sy debuut in die manlike hoofrol van Tristan und Isolde is in 2003 by die Weense Staatsopera teenoor Deborah Voigt gemaak. Onder sy verdere rolle tel Titzikan in Lodoïska, Silango in Le Cinesi, die Prins in Königskinder, Federico in Stiffelio en die Stuurman in Der fliegende Holländer. Sleutelopname: Schoenberg se Gurrelieder (onder Rattle). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Abbado en Sinopoli); Berlioz se Roméo et Juliette (in die manlike hoofrol); Mahler se kantate Das klagende Lied (onder Tilson Thomas); Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; die genoemde operas van Cherubini, Gluck, Humperdinck, Verdi en Wagner, asook La finta giardiniera en Il sogno di Scipione.

Mrawinski, Jewgeni (1906-88), Russiese dirigent, stellig die grootste wat dié kultuurryke land in die twintigste eeu opgelewer het. Hy het as jong tiener, in 1918, as verhooghulp by die Marijinski Teater in sy geboortestad Sint Petersburg begin werk. Aanvanklik het hy biologie aan die stad (eers hernoem na Petrograd, daarna Leningrad) se universiteit studeer, gevolg deur musiekstudies aan die konserwatorium. Vanaf 1923 tot 1931 was hy ‘n ballet-repetiteur en in 1929 is sy dirigeerdebuut gemaak. Hy was vanaf 1932 vir ses jaar ‘n dirigent by die Leningrad Opera en Ballet, wat later die Kirof Teater sou word. In 1938 het hy die Sowjet-dirigeerkompetisie gewen en hoofdirigent van die Leningrad Filharmoniese Orkes geword. Hy sou die pos vir ‘n verstommende 50 jaar beklee, waartydens die ensemble tot die voorste simfonie-orkes in die destydse Sowjet-Unie opgebou is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hulle na Siberië verskuif om aan die Duitse beleg van Leningrad te ontkom. Hul eerste buitelandse toer was na die Praag Lentefees in 1946. Tien jaar later is ‘n toer na Oos- en Wes-Duitsland, Oostenryk en Switserland onderneem. In 1960 het hy sy orkes op hul eerste besoek aan Brittanje gelei, waartydens skouspelagtige konserte in Edinburgh en Londen gegee is. Hul eerste besoek aan Japan is in 1973 gebring, en hul laaste buitelandse toer saam was in 1984 na Wes-Duitsland. Daarby was hy ‘n hoogleraar aan die Leningrad Konserwatorium, en in 1982 het hy amptelik uitgetree maar voortgegaan om sy beroemde orkes te dirigeer. Sy laaste opname is in 1984 gemaak, van Sjostakowitsj se simfonie nr. 12. In 1987 het hy sy laaste konsert gedirigeer.

Mrawinski se dirigeerstyl was opwindend, dog met eenvoudige gebare sonder die gebruik van ‘n dirigeerstaf. Sy vertolkings is gekenmerk deur klassieke suiwerheid en akkuraatheid, terwyl sy orkes deurentyd ‘n intensiewe inoefeningskedule gevolg het. Hy het nie gehuiwer om van die bladmusiek af te wyk ten einde die musikale effek te verhoog nie, veral met behulp van tempowisselings. In die musiek van Tsjaikofski en Sjostakowitsj word hy allerweë as ongeëwenaard beskou. As goeie vriend van Sjostakowitsj het hy die eerste uitvoerings van ‘n aantal van sy werke gedirigeer, waarvan sommiges aan hom opgedra was. Daaronder tel die vyfde (1937), sesde (1939), agste (1943), negende (1945), tiende (1953) en twaalfde (1961) simfonieë. Hy was verder ‘n uitmuntende dirigent van die Duitse Romantici, asook ‘n kampvegter vir die musiek van sy tydgenote Kabalefski, Miaskofski en Prokofiëf. In 1947 het hy die première van Prokofiëf se sesde simfonie in Leningrad gedirigeer. Helaas het sy talle opnames dikwels onder swak tegniese versorging en gehoorgeraas gely, deels omdat hy vanaf 1961 konsertopnames bo die ateljee verkies het. Interessant genoeg het hy geen opera-opnames nagelaat nie. Opnames: simfonieë van Beethoven (nrs. 1 en 6), Brahms, Bruckner, Honegger (nr. 3), Mozart (nr. 33), Schubert, Sibelius, Sjostakowitsj (nrs. 5, 8 en 10) en Tsjaikofski (nrs. 4-6); en orkeswerke van Bartók, Debussy, Hindemith, Moessorgski, Prokofiëf, Skriabin, Strawinski, Wagner en Weber.

Muck, Karl (1859-1940), Duitse dirigent en pianis. Nadat hy sy loopbaan as ‘n koormeester in Zürich begin het, het hy opera gedirigeer in Salzburg, Brno, Graz en Praag. In 1889 het hy die eerste Russiese opvoerings van die Der Ring des Nibelungen in Moskou en Sint Petersburg gedirigeer. Hy was vanaf 1892 vir 20 jaar ‘n dirigent van die Berlynse Opera, en vanaf 1908 was hy die musiekdirekteur. In 1899 het hy by Covent Garden gedebuteer. Sy lang verbintenis met die Bayreuth-fees het in 1901 begin, en tot 1930 sou hy gereeld by die groot Wagner-fees dirigeer. Dit sluit ‘n historiese opname van Parsifal in 1927/8 in. Sy stylvolle Wagner-vertolkings word beskou as halfpad tussen die vrygewigheid van Furtwängler en die intensiteit van Toscanini. Intussen was hy ook mededirigent van die Weense Filharmoniese Orkes (1903-6). Vanaf 1906 het hy die Boston Simfonie-orkes gedirigeer en ses jaar later het hy hul hoofdirigent geword. Hy het dié pos tot 1918 beklee, maar met die Amerikaanse toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog in 1917 is hy soos talle ander vooraanstaande Duitsers in die VSA geïnterneer. Ná die oorlog was hy dirigent van die Hamburg Filharmoniese Orkes (1922-33), en in 1925 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Onder sy verdere opnames tel Wagner se Siegfried Idyll, en ‘n versameling ouvertures en preludes uit sy operas – almal met die Berlynse Staatsopera-orkes (1927-9).

Müller, Maria (1898-1958), Tsjeggiese sopraan. Sy het in 1919 in Linz as Elsa in Lohengrin gedebuteer. Vanaf 1925 het sy vir 10 seisoene agtereenvolgens by die Metropolitan Opera gesing. Daarby het sy vanaf 1940 tot 1944 gereeld in Berlyn en by die Bayreuth-fees opgetree. Verdere debute is gemaak by die Salzburg-fees (1931) en Covent Garden (1934). Haar bekendheid het veral in Wagner-rolle gelê. Sy word as een van die beste vertolkers nóg van Eva in Die Meistersinger von Nürnberg beskou, en was ewe begaafd as Elsa in Lohengrin en Sieglinde in Die Walküre. Onder Wilhelm Furtwängler het sy verskyn in hierdie operas, met opnames wat nagelaat is van Die Meistersinger (Bayreuth 1943), en van uittreksels uit Lohengrin (Bayreuth 1936) en Die Walküre (Covent Garden 1937).

Müller-Brühl, Helmut (1933-2012), Duitse dirigent. Hy het filosofie, teologie, kuns en musiek studeer, insluitend dirigeerkuns onder Hermann Abendroth en viool onder Wolfgang Schneiderhan. In 1964 het hy musiekdirekteur van die Keulen Kamerorkes geword, ‘n pos wat hy vir langer as vier dekades (tot 2008) sou beklee. Hul verbintenis is afgeskop met ‘n toer na Switserland saam met die groot pianis Wilhelm Kempff, en vervolgens het hulle met talle beroemde soliste opgetree. Hy het die orkes op 'n aantal toere deur Europa en na die Amerika’s en Asië gelei, insluitend optredes by meeste van die groot musiekfeeste. Vanaf 1976 het die orkes vir tien jaar op eietydse instrumente gespeel as die Capella Clementina, waardeur pionierswerk vir uitvoerings volgens historiese praktyke gedoen is. Sedert 1987 bespeel die Keulen Kamerorkes weer moderne instrumente, met die insigte wat opgedoen is. Hy het die orkes ook jaarliks in konsertreekse bekend as Das Meisterwerk gedirigeer, aanvanklik in Keulen (sedert 1988), en later ook in Parys (sedert 1995) en München (sedert 1997). In 2009 het hy sy Keulen-orkes en die Keulen Domkoor in Haydn se Mis nr. 14 tydens ‘n viering van die Mis deur Pous Benedictus XVI in Rome gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sleutelopnames: ‘n versameling blokfluitkonserte van Telemann. Verdere opnames: Bach se volledige orkeswerke; vele simfonieë van Haydn; en Telemann se Darmstadt Ouvertures.

Mullowa, Wiktoria (1959-), Russies-gebore violis. Sy het haar openbare debuut in 1971 met Vieuxtemps se vyfde vioolkonsert gemaak, en tien jaar later het sy die Sibelius-kompetisie in Helsinki gewen. Sy het in 1982 die goue medalje in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou verower, waarna sy Rusland op dramatise wyse verlaat het om ‘n internasionale loopbaan te volg. Haar Londense debuut het in 1984 plaasgevind, en tans is sy in Oostenryk woonagtig. Met die pianis Piotr Anderszewski as vennoot het sy in die 1990’s toere deur Europa en die Verre Ooste onderneem. Sy is veral bekend in moderne musiek, alhoewel haar repertorium terug tot by die Barokera strek. Opnames: Bach se vioolpartitas en -sonates; vioolkonserte van Mendelssohn, Paganini, Prokofiëf, Sjostakowitsj, Sibelius, Tsjaikofski, Vieuxtemps en Vivaldi; en vioolsonates van Bartók, Brahms, Prokofiëf en Ravel.

Munch, Charles (1891-1968), Frans-gebore violis en dirigent. Hy het viool in Strasbourg en Berlyn studeer, en was vanaf 1919 vir ses jaar ‘n hoogleraar in viool aan die Strasbourg Konserwatorium en orkesleier in dié stad. Daarna het hy orkesleier van die Leipzig Gewandhaus Orkes geword asook ‘n hoogleraar aan die Leipzig Konserwatorium (1925-32). Daar het hy verder onder die beroemde Wilhelm Furtwängler studeer, en in 1932 het hy sy dirigeerdebuut in Parys gemaak. Drie jaar later het hy die Orchestre de la Société Philharmonique in die Franse hoofstad gestig en hul tot 1938 gedirigeer. In 1938 is sy debuut in Londen gemaak. Vanaf dieselfde jaar tot 1946 was hy verbonde aan die Parys Konserwatorium, as dirigent van hul konserte en as hoogleraar in dirigeerkuns. Hy het in 1946 by die Salzburg-fees en in die VSA gedebuteer. Drie jaar later het hy Sergei Koussewitzki as hoofdirigent van die Boston Simfonie-orkes opgevolg, ‘n pos wat hy tot 1962 sou beklee. Hy het die orkes op toere na Europa, die Verre Ooste en Australië gelei. In 1954 het hulle die première van Barber se Prayers of Kierkegaard met Leontyne Price as solis gegee. Met sy Boston-orkes het hy talle werke van Berlioz opgeneem, waarvan ‘n hele aantal as ongeëwenaard beskou word.

Munch was vir ‘n tyd ook direkteur van die Berkshire Musieksentrum (1951-62). In 1967 het hy die Orchestre de Paris georganiseer, wat weldra die voorste simfonie-orkes in Frankryk sou word. As een van die twintigste eeu se grootste dirigente van Franse simfoniese musiek het hy verskeie eerste uitvoerings gegee, waaronder Dutilleux se tweede simfonie en Métaboles. Sleutelopnames (almal Boston): 4 ouvertures van Berlioz, en sy Requiem (1959) en Roméo et Juliette (1953 en 1961); Ibert se Escales (1956); Ravel se ballet Daphnis et Chloé (1950’s); Saint-Saëns se derde simfonie (met die orrelis Bert Zamkochian, 1959). Verdere opnames: simfonieë van Chausson en Honegger (nr. 2); Berlioz se La damnation de Faust en L'enfance du Christ; Debussy se La Mer en Le martyre de Saint-Sébastien; en orkeswerke van Barber, Dutilleux, Elgar, Milhaud, Ravel, Saint-Saëns, Richard Strauss en Tsjaikofski.

Münchinger, Karl (1915-90), Duitse dirigent. Nadat hy dirigent was van die Hannover Simfonie-orkes (1941-3), het hy in 1945 die Stuttgart Kamerorkes gestig. Hy het sy ensemble op vele internasionale toere gelei, met debute wat gemaak is in Londen (1949) en by die Salzburg-fees (1952). Sy bekendheid het merendeels in Barok- en Klassieke musiek gelê, veral gewyde werke waarin hy uitmuntend was. As gasdirigent het hy soms die Weense Filharmoniese Orkes in opnames gedirigeer. In 1988 het hy uitgetree. Opnames: J.C. Bach se 6 Sinfonias (opus 18); J.S. Bach se Kuns van die Fuga, Musikale Offer, Brandenburgkonserte (3 weergawes), Kersfees- en Paasfeesoratoriums, Mis in B mineur, en Kantates nrs. 10, 80 en 140; Haydn se simfonieë nrs. 88 en 101, Missa brevis en oratorium Die Schöpfung; Schubert se Rosamunde ouverture en geleentheidsmusiek; ‘n versameling ouvertures van Schubert, Schumann en Weber; en orkeswerke van Albinoni, Boccherini, Gluck, Handel, L. Mozart en Pachelbel.

München Filharmoniese Orkes, Beierse simfonie-orkes wat in 1924 gestig is. Onder hul bekende hoofdirigente het Hans Rosbaud (1945-8), Rudolf Kempe (1967-76) en Sergiu Celibidache (1979-96) getel.

Mund, Uwe (1941-), Duitse dirigent. Hy het as veertienjarige sy eerste openbare uitvoering as pianis gegee en later in Wenen onder Hans Swarowsky studeer. In 1961 het hy dirigent van die Weense Seunskoor geword en ook die Weense Filharmoniese Orkes gedirigeer. Twee jaar later is hy aangestel as Herbert von Karajan se assistent by die Weense Staatsopera en as assistent-dirigent van die Weense Sangvereniging. Hy was musiekdirekteur in Gelsenkirchen (vanaf 1977) en daarna van die Liceu Teater in Barcelona. As gasdirigent het hy wyd in Europa en die VSA opgetree.

Munrow, David (1942-76), Engelse blokfluitspeler en dirigent. As kampvegter vir vroeë musiek het hy in 1967 die Early Music Consort of London gestig. Hulle het pionierswerk gedoen in die uitvoering van Renaissance-musiek volgens eietydse praktyke, met instrumentasie wat as die mees verbeeldingryke in die repertorium beskou word. In die jaar voor sy dood op tragies vroeë leeftyd het hulle ‘n hoogstaande opname van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine gemaak, saam met die beroemde koor van King’s College, Cambridge. Hy was ook ‘n dosent in vroeë musiekgeskiedenis aan die Leicester Universiteit (vanaf 1967) en ‘n hoogleraar in blokfluit aan die Koninklike Musiekakademie (vanaf 1969). Daarbenewens het hy ‘n boek oor instrumente van die Middeleeue en die Renaissance geskryf, en musiek vir rolprente en televisie gekomponeer en verwerk. Opnames: Dufay se mis Se la face ay pale en motet Gloria ad modum tubae; ballades en motette van De Machaut; Praetorius se Danse van Terpsichore; ‘n versameling Franse liedere van Binchois, De Machaut, Dufay en andere; en ‘n versameling musiek deur minder bekende tydgenote van Monteverdi.

Murray, Ann (1949-), Iers-gebore mezzosopraan. Sy het in 1974 haar operadebuut in die titelrol van Alceste met die Skotse Opera gemaak, met verdere debute wat gevolg het by Covent Garden (1976), die Salzburg-fees (1981) en die Metropolitan Opera (1984). Haar bekendheid lê merendeels in Mozart-rolle soos Béatrice in Béatrice et Bénédict, Sesto in La clemenza di Tito, Despina in Così fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, Giacinta in La finta semplice, Cherubino in Le nozze di Figaro en Aminta in Il rè pastore. Verder is sy begaafd as Dangeville in Adriana Lecouvreur, Polly in The Beggar's Opera, Dido in Dido and Aeneas en Octavian in Der Rosenkavalier. As lid van die ensemble Songmakers’ Almanac blink sy ook uit in ‘n wye repertorium liedere, terwyl sy ewe begaafd is as konsertsangeres in ‘n aantal tale. Opnames: kerkmusiek van Boulanger en Rossini; Bach se Magnificat; Bernstein se derde simfonie (onder Leonard Slatkin); koorwerke van Brahms; Britten se Phaedra; Burgon se Requiem; Debussy se Le Martyre de Saint Sébastien; Duruflé se Requiem; Falla se Die driehoekige hoed; Monteverdi se Lamento della Ninfa; Mozart se Kroningsmis; Vivaldi se Gloria en oratorium Juditha triumphans (in die titelrol, onder Robert King); liedere van Beethoven, Brahms, Britten, Gounod, Mendelssohn, Poulenc, Purcell, Rossini, Schubert en Schumann; orkesliedere van Moeran en Strawinski; die genoemde operas van Cilea, Gay en Mozart, asook Giulio Cesare, Die Bassariden en The Fairy Queen; en ‘n versameling opera-arias van Mozart (onder Raymond Leppard).

Musica Antiqua Köln, Duitse ensemble wat in 1973 deur die violis Reinhard Goebel gestig is om Barok-kamermusiek op eietydse instrumente uit te voer. Tien jaar later is hul ledetal uitgebrei om ‘n Barokorkes te vorm. Die ensemble se internasionale deurbraak is in 1979 by die Hollandse Fees en die Engelse Bach-fees gemaak. Sedertdien het hul onder Goebel se leiding wêreldwye bekendheid verwerf vir hul lewendige, stylvolle uitvoerings van musiek uit die sewentiende en agtiende eeue. ‘n Aantal van hul opnames het internasionale pryse verower, soos die Grand Prix du Disque, die Deutscher Schallplattenpreis en die Gramophone-prys. Daaronder tel ‘n versameling werke van die Bach-familie voor Johann Sebastian, die volledige kamermusiek van J.S. Bach, en Heinrichen se Dresden Concerti.

Mustonen, Olli (1967-), Finse pianis, dirigent en komponis. Hy het op vyf jaar met lesse in klawesimbel begin en op sewe het hy klavierlesse onder Ralf Gothóni ontvang. Vanaf 1975 het hy komposisie met die komponis Rautavaara studeer, en klavierstudies is onder Eero Heinonen onderneem. Hy is besonder aktief in die Finse musieklewe, onder meer as artistieke direkteur van die musiekfeeste in Korsholm (vanaf 1989) en Turku (1990-92), en as medestigter en direkteur van die Helsinki Feesorkes. As pianis het hy in 1999 die première van Sjedrin se klavierkonsert nr. 5 met die Los Angeles Filharmoniese Orkes gegee. Sedert 2003 dirigeer hy die Tapiola Sinfonietta in sy geboorteland. Vir sy opname van Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas en Alkan se 25 Preludes het hy in 1992 ‘n Edison-toekenning en ‘n Gramophone-toekenning ontvang. Laasgenoemde word as ‘n sleutelopname beskou.

Muti, Riccardo (1941-), Italiaanse dirigent. Hy het vanaf agtjarige leeftyd in sy geboortestad Napels vioollesse ontvang en op twaalf het hy na klavier oorgeslaan. In 1961 is hy na die Verdi Konserwatorium in Milaan, waar hy dirigeerkuns onder Antonino Votto sowel as komposisie bestudeer het. Vyf jaar later het hy gegradueer en in 1967 het hy die Guido Cantelli-dirigeerkompetisie gewen. Intussen het hy by die Maggio Musicale-fees in Florence gedebuteer en in 1969 het hy hoofdirigent van dié jaarlikse musiekfees geword. Daar het hy bekendheid verwerf as ‘n briljante dirigent van Italiaanse en Franse operas. Tot 1981 sou hy gereeld daar optree, vanaf 1977 ook as artistieke direkteur. Intussen het hy in 1968 begin om die Italiaanse Radio Simfonie-orkes in Milaan te dirigeer. Verdere operadebute het gevolg by die Salzburg-fees (in 1971, met Don Pasquale), Wenen (1973) en Covent Garden (1977). Sy verbintenis met twee van die wêreld se voorste orkeste het in 1972 begin, toe hy as gasdirigent by die Nuwe Philharmonia Orkes en die Philadelphia Orkes opgetree het. Dit was onderskeidelik om in te staan vir ‘n ongestelde Otto Klemperer en op uitnodiging van Eugene Ormandy, wat hom in Florence tydens ‘n Europese toer raakgesien het. In die jaar daarop het hy hoofdirigent van die Philharmonia geword en in 1979 hul musiekdirekteur. Sedert 1982 is hy eredirigent van dié beroemde Londense orkes. Vanaf 1973 was hy ook hoofgasdirigent van die Philadelphia, en met Ormandy se uittrede in 1980 het hy met die maestro se goedkeuring as hul musiekdirekteur oorgeneem. Hy sou die pos tot 1992 beklee. Beide orkeste het die sogenaamde Muti-klank, veral gekenmerk deur helder en behendige strykerspel, onder hom ontwikkel.

Vanaf 1986 was Muti musiekdirekteur van La Scala, waar hy sy reputasie as ‘n opwindende dirigent van Italiaanse opera, in die besonder dié van Verdi, voortgesit het. By die Salzburg-fees van 1990 het hy ‘n uitvoering van Haydn se oratorium Die Schöpfung gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Daarbenewens tree hy as gasdirigent met bekende orkeste in Berlyn, Wenen en Amsterdam op. Dit sluit ‘n hele aantal Nuwejaarskonserte in die Oostenrykse hoofstad op: in 1993, 1997, 2000 en 2004. Hy het in 2001 met die honderdjarige herdenking van Verdi se dood in die komponis se tuisdorp Busseto ‘n uitstekende opvoering (met ‘n DVD-opname) van sy opera Falstaff gedirigeer. In die jaar daarop het hy Rossini se minder bekende opera Moise et Pharaon by La Scala gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Tydens die 250ste herdenking van Mozart se geboorte in 2006 het hy die Weense Filharmonie in ‘n herdenkingskonsert in die komponis se geboortestad Salzburg gedirigeer, waarvan nog ‘n DVD gemaak is. In 2008 het hy dieselfde orkes in ‘n uitvoering van Brahms se Ein deutsches Requiem by die Salzburg-fees gedirigeer, as deel van die Herbert von Karajan eeufeesvierings. Hy het tydens dieselfde fees ‘n opvoering van Otello gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Een van sy sterkpunte is ‘n besondere begrip vir die vermoëns van die menslike stem, waardeur hy die bewondering van groot sangeresse soos Agnes Baltsa en Brigitte Fassbänder afgedwing het. Hy is bekend vir sy nougesette getrouheid aan die bladmusiek, sodat die komponis se bedoelings gerespekteer kan word. Naas opera is hy begaafd in Russiese simfoniese musiek van die laat negentiende en twintigste eeue.

Sleutelopnames: Skriabin se 3 simfonieë  en Le poème de l’extase (Philadelphia); Strawinski se ballet Le sacre du Printemps (Philadelphia); Verdi se Requiem (Londen 1979). Verdere opnames: Berlioz se Symphonie fantastique; Handel se Watermusiek suites; Haydn se Die sieben letzte Worte (in die orkesweergawe, op DVD); Liszt se Les Préludes; Mahler se eerste simfonie; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; Orff se Carmina Burana; simfonieë van Prokofiëf; Ravel se Boléro; Respighi se 3 toondigte op Romeinse temas; die volledige simfonieë van Tsjaikofski en sy Francesca da Rimini; orkeswerke van Busoni, Casella en Martucci; die dodemisse van Cherubini en Verdi; Pergolesi se Stabat Mater; ‘n versameling preludes en ouvertures uit Verdi-operas; en die operas Lodoiska, I Capuleti ed i Montecchi, Don Pasquale, I Puritani, I Pagliacci, Cavalleria rusticana, Così fan tutte, Don Giovanni, Tosca, La donna del lago, Aida, Attila, Un ballo in maschera, Don Carlo, Ernani, Macbeth, Nabucco, Rigoletto, La Traviata en I vespri siciliani.

Mutter, Anne-Sophie (1963-), Duitse violis. Sy het as sewejarige wonderkind ‘n nasionale jeugkompetisie gewen, en ses jaar later (in 1976) het Herbert von Karajan haar tydens die Luzerne-fees hoor speel. Hy het haar genooi om by die volgende jaar se Salzburg-fees met sy Berlynse Filharmoniese Orkes op te tree, waarna sy spoedig wêreldbekend geraak het. Sy erken Karajan sedertdien as haar geestelike vader, en hy het haar op sy beurt as die grootste wonderkind in musiek sedert die jong Yehudi Menuhin beskou. In 1977 is haar Britse debuut in Brighton onder Daniel Barenboim gemaak. Sy het later gedebuteer in Moskou (1985) en New York (1988). Vanaf 1986 was sy vir 'n aantal jare as hoof van die departement vioolstudies aan die Koninklike Musiekakademie verbonde. Met haar sensuele, intense spel is sy een van die voorste viool-virtuose van haar tyd. Verskeie komponiste het werke vir haar geskryf, waaronder Lutoslafski se Partita en Chain 2, Rihm se Gesungene Zeit, en ‘n vioolkonsert van Penderecki. In 2002 het sy die eerste uitvoering van die bekende dirigent André Previn se vioolkonsert gegee, begelei deur die komponis self met die Boston Simfonie-orkes. Hulle is in dié tyd getroud. Sleutelopnames: Mozart se vioolkonserte nrs. 1 (onder Marriner), 2 en 4 (onder Muti), 3 en 5 (onder Karajan). Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Berg, Bartók, Brahms, Sibelius en Strawinski; Bach en Brahms se Dubbelkonserte (met Accardo en Meneses onderskeidelik); Beethoven se volledige vioolsonates (op DVD, 1999); Vivaldi se Vier Seisoene (beide onder Karajan en as direkteur van die Trondheim Soliste); en werke vir viool en orkes van Bernstein, Fauré, Lutoslafski, Massenet, Ravel, Rihm, Sarasate, Tartini en Wieniafski.

Muzio, Claudia (1889-1936), Italiaanse sopraan. Sy het in 1910 haar debuut in Arezzo gemaak in die titelrol van Massenet se Manon, en daarna 'n internasionale loopbaan gevolg. Dit het optredes ingesluit in Italië en Buenos Aires, met verdere debute wat plaasgevind het by La Scala (1913), Covent Garden (1914) en die Metropolitan Opera (1916). Laasgenoemde was in die titelrol van Tosca, en sy sou tot 1922 aan die Met verbonde wees. Daar het sy in 1918 die rol van Giorgetta tydens die première van Il Tabarro geskep. Twee jaar later het sy die rol van Tatjana gesing in die Met-première van Jewgeni Onegin. Verder het sy vanaf 1922 tot 1931 in Chicago gesing, in 1933/4 weer by die Met, en in 1934 het sy na Italië teruggekeer. Met haar besonder intense sang en gevoelvolle frasering was sy een van die grootste sanger-aktrises van die twintigste eeu, haar betreklike kort loopbaan ten spyt. Sy het uitgeblink in beide Italiaanse en Franse opera, ook in rolle soos Violetta in La Traviata en Desdemona in Otello. Klassieke opnames van 'n hele aantal opera-arias en liedere is deur haar nagelaat.


Encyclopedia: Western Music