If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

H - I - J

H

Haas, Werner (1931-1976), Duitse pianis. Hy het aan die Musiekakademie in sy geboortestad Stuttgart studeer, gevolg deur privaatlesse onder die befaamde pianis Walter Gieseking. Vanaf die 1950's het hy 'n loopbaan as solis deur Europa gevolg, met 'n bekendheid veral in die musiek van Debussy en Ravel. Sy repertorium het nogtans wyd deur die Romantiese en moderne eras gestrek. Hy is op betreklik jeugdige leeftyd in 'n motorongeluk in Frankryk oorlede. Sy opnames van Debussy se volledige klavierwerke is in 1970 met 'n Grand Prix du Disque bekroon. Sleutelopname: Brahms se klavierkwintet (met lede van die Berlynse Filharmoniese Oktet). Verdere opnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 8, 14 en 23; Rakhmaninof se tweede klavierkonsert en Paganini Rapsodie (onder Eliahu Inbal); en die volledige klavierwerke van Ravel (insluitend die konserte onder Alceo Galliera).

Häbler, Ingrid (1926-), Oostenrykse pianis. Sy het haar debuut in 1937 in Salzburg gemaak en in 1954 is haar eerste verskyning by die beroemde musiekfees daar gemaak. Steeds in 1954 het sy die internasionale klavierkompetisies in München en Genève gewen. Sy het vanaf 1969 aan die Salzburg Mozarteum onderrig gegee, en twee jaar later is die Mozart-Medalje in Wenen aan haar toegeken. Haar bekendheid lê veral in die musiek van Mozart, hoewel sy met haar delikate spel ook begaafd is in die res van die Duitse Klassieke repertorium. Opnames: die volledige klavierkonserte van J.C. Bach en Mozart; Mozart se Kwintet vir klavier en houtblasers (met die Bamberg Houtblaserskwartet); Schubert se Forelle-kwintet (met Arthur Grumiaux en ander soliste); en Mozart se Variasies vir klaviersolo.

Hacker, Alan (1938-2012), Engelse klarinettis en dirigent. Hy het vanaf 1958 tot 1966 in die Londense Filharmoniese Orkes gespeel. Daarna het hy ‘n aantal ensembles gestig, waaronder die Pierrot Players in 1967. Hy het die gebruik van die basklarinet en die barokklarinet herleef, en het die oorspronklike tekste van Mozart se klarinetkonsert en -kwintet herstel. As solis het hy die premières van verskeie werke deur Boulez, Davies, Stockhausen en andere gegee. Sedert die 1970’s het hy ook gedirigeer en vanaf 1975 tot 1985 was hy direkteur van die York Vroeë Musiekfees. Hy het in 1986/7 die eerste volledige opvoering van Mozart se La finta giardiniera by die Sweedse Nasionale Opera gedirigeer. In 1990 het hy by die Skotse Opera die première van Weir se The Vanishing Bridegroom gedirigeer. Daarby het hy onderrig gegee aan die Koninklike Musiekakademie, en aan die universiteite in Leeds (1972/3) en York (vanaf 1976). Die OBE is in 1988 aan hom toegeken. Sleutelopname: Mozart se klarinetkwintet (met die Salomon Kwartet). Verdere opnames: Finzi se klarinetkonsert.

Hadari, Omri (?-), Israeliese dirigent. Aanvanklik was hy ‘n trompetspeler met ‘n landswye bekendheid. Ervaring is opgebou met die Israeliese Kamerorkes en die Jerusalem Simfonie-orkes, gevolg deur dirigeerstudies aan die Guildhall Musiekskool in Londen. Hy het daarna vele orkeste in Engeland, die VSA en Australië gedirigeer, met ‘n bekendheid veral in die simfoniese werke van Bruckner, Mahler, Sibelius, Prokofiëf en Sjostakowitsj. Daarby dirigeer hy opera en ballet in ‘n aantal lande. Hy is deur die Britse Filminstituut versoek om die oorspronklike weergawe van Sjostakowitsj se New Babylon filmmusiek te herkonstrueer. Nadat die Westerse première daarvan in Londen gegee is, het hy die werk by feeste in New York, San Francisco, Helsinki en Vlaandere gedirigeer. Hy het in 1985 hoofgasdirigent van die Kaapstadse Simfonie-orkes geword en was vanaf 1989 vir drie jaar hul hoofdirigent. In dié tyd het hy al die voorste Suid-Afrikaanse orkeste gedirigeer. Vanaf 1992 tot 1998 was hy hoofgasdirigent van die Orquestra Nacional do Porto in Portugal. Hy het drie toere met die Nasionale Simfonie-orkes van Taiwan onderneem. In 1999 het hy hoofdirigent van die Asjdod Kamerorkes in sy geboorteland geword, wat hy in die jaar daarop op ‘n Britse toer gelei het. Hy is vanaf 2002 ook musiekdirekteur van die Hadera Kamerorkes in Israel en sedert 2007 tree hy met 'n verskeidenheid Turkse orkeste op.

Hadley, Jerry (1952-2007), Amerikaanse tenoor. Hy het sy debuut in 1978 in Saratoga gemaak as Lyonel in Martha, en in die jaar daarop het hy by die New York Stadsopera begin sing. Sy Europese debuut is in 1982 in Wenen gemaak, gevolg deur debute by die Glyndebourne-fees en Covent Garden (beide in 1984), die Chicago Liriese Opera (1986) en die Metropolitan Opera (1987). In Chicago sou hy vervolgens 11 hoofrolle in 80 opvoerings sing, ‘n rekord vir ‘n Amerikaans-gebore tenoor. As beskermling van die beroemde musikale egpaar Richard Bonynge en Joan Sutherland was hy ewe bekend in opera, operette en musiekblyspele. In 1989 het hy die titelrol gesing in ‘n uitstekende opname van Bernstein se operette Candide wat deur die komponis self in Londen gedirigeer is. Onder sy verdere rolle het getel Sam in Susannah, Steva in Jenufa, Prins Sou-Chong in The Land of smiles, Ferrando in Così fan tutte, Idamante in Idomeneo, Tamino in Die Zauberflöte, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly, Almaviva in Il barbiere di Siviglia, Tom Rakewell in The Rake's Progress, en die titelrolle in Faust en Werther. Hy het skynbaar selfmoord gepleeg. Sleutelopname: Lehár se operette The Land of Smiles (in Engels). Verdere opnames: Verdi se Requiem (onder Shaw); die musiekblyspele Showboat (van Kern) en Magdalena (van Villa-Lobos); ‘n versameling uittreksels uit musiekblyspele van Weill; die operette The Czarevitch (in Engels); die genoemde operas van Floyd, Janácek, Strawinski en Thomas, asook Anna Bolena, Idomeneo, Il rè pastore en Die Zauberflöte; en ‘n versameling opera-duette met die bariton Thomas Hampson.

Haendel, Ida (1923-), Pools-gebore violis. As agtjarige wonderkind het sy haar openbare debuut gemaak. Haar Londense debuut is in 1937 as tiener met Brahms se vioolkonsert onder Henry Wood gemaak. Daarna het sy haar in Brittanje gevestig en ‘n Britse burger geword, maar in 1952 het sy in Kanada gaan woon. Sy het wêreldwyd getoer (onder andere deur Rusland in 1966) en was bekend vir die krag en warmte van haar spel, veral in die Romantiese repertorium. Sy het tot in haar sewentigs nog opgetree, en in 1982 is die Sibelius-Medalje aan haar toegeken en. Opnames: Beethoven, Brahms, Britten, Bruch, Sibelius, Tsjaikofski en Walton se vioolkonserte; Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas; en Sibelius se 2 Serenades vir viool en orkes.

Häfliger, Ernst (1919-), Switserse tenoor. Hy het in 1942 sy debuut as die Evangelis in Bach se Sint Johannespassie in Genève gemaak, met verdere debute wat na die oorlog gevolg het by die feeste in Salzburg (1949) en Glyndebourne (1956). Tydens sy Salzburg-debuut het hy in Wilhelm Furtwängler se opname van Die Zauberflöte in ‘n klein rol verskyn. By die Luzern-fees in 1954 was hy ‘n solis in ‘n opname van Beethoven se negende simfonie onder dieselfde dirigent. Hy het voorts in 1960 onder Bruno Walter as solis in ‘n opname van Mahler se Das Lied von der Erde gesing. Vanaf 1971 was hy ‘n hoogleraar in sang aan die München Konserwatorium, en in 1995 het hy uitgetree. Sy bekendheid het merendeels in die operas van Mozart gelê, onder andere as Don Ottavio in Don Giovanni en Tamino in Die Zauberflöte. Verder was hy begaafd as konsert- en liederesanger in die Duitse repertorium. Daarbenewens het hy ‘n boek oor sang geskryf. Sleutelopname: Telemann se Der getreue Music-Meister (1966/7). Verdere opnames: kerkmusiek van Dvorák en Kodály; Bach se Sint Mattheuspassie (as die Evangelis) en talle van sy kantates, almal onder Richter; Beethoven se negende simfonie (onder Fricsay, Karajan en Klemperer); Bruckner se Misse nrs. 2 en 3 (onder Jochum); Mahler se Das klagende Lied; Mozart se Mis nr. 18 (onder Fricsay); en die genoemde operas van Mozart.

Hagegard, Hakan (1945-), Sweedse bariton. Hy het gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1973), die Metropolitan Opera (1978), Covent Garden (1987) en Chicago (1988). In 1975 het hy die rol van Papageno gesing in Ingmar Bergman se rolprentweergawe van Die Zauberflöte. By die Met het hy in 1991 die rol van Beaumarchais tydens die première van Corigliano se The Ghosts of Versailles geskep. Hy is ewe begaafd in opera en konserte, en is ook ‘n uitmuntende vertolker van Duitse en Franse liedere. Onder sy bekende rolle tel die Offisier in A Dream Play, die titelrol in Don Giovanni, die Graaf in Le nozze di Figaro, Figaro in Il barbiere di Siviglia en die Graaf in Capriccio. Sleutelopname: Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Chailly). Verdere opnames: Brahms se Ein deutsches Requiem; Diepenbrock se Im grossen Schweigen; Grieg se Sigurd Jorsalfar, Landkjenning en Den bergtekne; kerkmusiek van Mozart; Orff se Carmina Burana; Rosenberg se vierde simfonie (onder Ehrling); liedere van Brahms, Gounod, Grieg, Hahn, Mozart, Schubert, Richard Strauss en Wolf; en die genoemde operas van Lidholm, Mozart en R. Strauss, asook Die Meisie in die toring.

Hagen Kwartet, Oostenrykse strykkwartet wat in Salzburg gebaseer is. Dit is vernoem na twee broers en ‘n suster met die van Hagen, wie se vader self ‘n violis was. Hulle het studeer aan die Salzburg Mozarteum, die musiekakademies van Basel en Hannover, en die Universiteit van Cincinatti. Een van hul leermeesters was die befaamde tjellis Heinrich Schiff. Hulle tree dikwels met die violis Gidon Kremer by sy Lockenhaus Kamermusiekfees op, waar hulle in 1981 ‘n prys gewen het. In die jaar daarop is die kwartet se internasionale deurbraak gemaak toe hul die eerste prys in die Portsmouth-kompetisie gewen en hul Londense debuut gemaak het. Verdere pryse is in 1983 in Evian, Bordeaux en Banff gewen. Die kwartet toer wêreldwyd en is bekend vir hul gekultiveerde spel en onberispelike tegniek. Hul repertorium strek vanaf Bach tot by moderne komponiste soos Ligeti en Lutoslafski. Sleutelopname: die 6 strykkwartette van Bartók. Verdere opnames: Beethoven se Grosse fuge; die strykkwartette van Debussy en Ravel; Haydn se strykkwartette nrs. 1, 67 en 74; Ligeti se strykkwartet nr. 1; Mozart se Salzburg simfonieë; en Schubert se Forelle-kwintet (met Schiff as ekstra tjellis).

Hager, Leopold (1935-), Oostenrykse orrelis en dirigent. Hy het in 1954 as orrelis by die Salzburg-fees gedebuteer en vier jaar later sy operadebuut in Mainz gemaak, met L’Italiana in Algeri. Daarna was hy 'n assistent-dirigent by die Mainz Opera tot 1962. Dit is gevolg deur dirigeerposte in Linz (1962-4), Keulen (1964/5) en Freiburg (1965-9). Vanaf 1969 tot 1981 was hy hoofdirigent van die Salzburg Mozarteum Orkes. Intussen het hy in 1971 die eerste hedendaagse opvoering van Mozart se opera Mitridate, rè di Ponto by die Salzburg-fees gedirigeer. Nog debute is gemaak in Wenen (1973), by die Metropolitan Opera (1976), Buenos Aires (1977) en Covent Garden (1978). Met sy Salzburg-orkes het hy hoogstaande opnames gemaak van Mozart se minder bekende operas Apollo et Hyacinthus, Ascanio in Alba, La finta giardiniera, Il re pastore, Lucio Silla, Mitridate en Il sogno di Scipione.

Hagley, Alison (1961-), Engelse sopraan. Tydens die Aldeburgh-fees in 1985 het sy die titelrol in Rodelinda gesing, en in die jaar daarop het sy in La finta giardiniera by die Camden-fees opgetree. Verdere debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (1988), Covent Garden (1989) en die Engelse Nasionale Opera (1991). In 1992 het sy die rol van Mélisande in 'n uitstekende opname van Pelléas et Mélisande by die Walliese Nasionale Opera onder Pierre Boulez gesing. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel L'Amour in Orfeo ed Euridice, Dorabella in Così fan tutte en Susanna in Le nozze di Figaro. Verdere opnames: Britten se Spring symphony; Elgar se Starlight Express; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Weller); orkesliedere van Ravel; en die laasgenoemde drie operas.

Hahn, Hilary (1979-), Amerikaanse violis. Sy het kort voor haar vierde verjaardag begin viool speel, in ‘n plaaslike kinderkonsert. Vanaf vyf tot tien jaar het sy onder die Russiese leermeesteres Klara Berkovich in Baltimore studeer. Vervolgens het sy vanaf 1990 aan die Curtis Instituut in Philadelphia studeer onder Jascha Brodsky, wat die laaste oorlewende student van die groot violis Eugène Ysaÿe was. Verdere studies is aan Curtis in tale en letterkunde onderneem, asook viool met Jaime Laredo en kamermusiek met Gary Graffman. Sy het in 1999 ‘n graad in musiek verwerf, hoewel sy al 3 jaar tevore aan die vereistes daarvoor voldoen het. Haar debuut as solis is intussen in 1992 met die Baltimore Simfonie-orkes gemaak, en drie jaar later het haar Duitse debuut met die Beierse Radio Simfonie-orkes onder Lorin Maazel plaasgevind. Sy tree sedert 1992 ook in kamermusiekfeeste op en het in die laat 1990’s vir vier somers kamermusiek by die Marlboro-fees in Vermont studeer. Haar debuutopname van Bach se onbegeleide vioolsonates en -partitas is in 1997 met ‘n Franse Diapason d’Or bekroon. Ook haar volgende 3 opnames sou pryse in verskeie lande wen, waaronder ‘n Grammy-toekenning, ‘n Echo Klassik en ‘n Cannes Klassieke toekenning. Met haar intellektuele en emosionale volwassenheid is sy in haar vroeë twintigs al as een van die voorste viool-virtuose ter wêreld gereken. Sy tree met van die voorste orkeste in Europa, Asië en Noord-Amerika op, en het voorts in die klankbaan van die rolprent The Village gespeel. In 2007 het sy onder die gewilde jong dirigent Gustavo Dudamel in ‘n Stuttgart-konsert ter viering van Pous Benedict XVI se 80ste verjaardag gespeel. Verdere opnames: vioolkonserte van Bach, Barber, Beethoven, Brahms, Elgar, Mendelssohn, Meyer, Sjostakowitsj en Strawinski; Bernstein se Serenade; en Vaughan Williams se The Lark ascending.

Haim, Emmanuelle (1967-), Franse klawesimbelspeler en dirigent. Sy het 'n Joodse vader maar is as Katoliek opgevoed. Vir nie minder nie as 13 jaar het sy studeer aan die Konserwatorium vir Musiek en Dans in haar tuisstad Parys, waar sy vyf eerste pryse sou losslaan. Aanvanklik het sy orrel studeer onder André Isoir, gevolg deur klawesimbel onder Kenneth Gilbert en Christophe Rousset. Sy is daarop deur William Christie genooi om die klawesimbel te speel in sy ensemble Les Arts Florissants. Op Christie se aanbeveling was sy ook 'n assistent vir Simon Rattle. Na 'n aantal jare met Les Arts Florissants het sy 'n dirigent geword en in 2000 het sy haar eie Barokorkes gestig, Le Concert d'Astrée. Sy spesialiseer in vroeë musiek, veral van die Barokera. Haar debuut met die Glyndebourne Toeropera is in 2001 gemaak met 'n opvoering van Handel se Rodelinda. Sy het in 2007 die eerste vrou geword om die Liriese Opera in Chicago te dirigeer, met Giulio Cesare. Drie jaar later is sy deur die Parys Opera afgedank vir 'n opvoering van Idomeneo, nadat klagtes van die teater se orkes ontvang is. Later is sy toegelaat om Rameau se Hippolyte et Aricie daar te dirigeer, maar met haar eie orkes. Sy is 'n ridder in beide die Légion d'Honneur en die Ordre des Arts et des Lettres. Erelidmaatskap van die Koninklike Musiekakademie in Londen is ook aan haar toegeken. Opnames: Handel se kantates Aci, Galatea e Polifemo en Il delirio amoroso; en Monteverdi se opera L'Orfeo.

Haitink, Bernard (1929-), Nederlandse dirigent. As elfjarige het hy met vioollesse begin tydens die Duitse besetting van sy vaderland. Hy het ook konserte bygewoon in die beroemde Concertgebouw, wat naby sy ouerhuis in Amsterdam geleë was. Sy vader is vir ‘n aantal maande deur die Duitsers in ‘n konsentrasiekamp aangehou en moes daarna deurentyd op sy hoede wees vir die Gestapo. Dit het meegebring dat die toekomstige dirigent ‘n lewenslange weersin in geraas en uniforms sou behou. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy viool en dirigeerkuns aan die Amsterdamse Musiekakademie studeer. Daarna het hy op aanbeveling van die dirigent Ferdinand Leitner ‘n violis in die Nederlandse Radio-orkes geword. Slegs ‘n paar maande later is hy as assistent-dirigent by hulle aangestel en in 1951 het hy hoofdirigent geword, ‘n pos wat hy vir vyf jaar sou beklee. Sy deurbraak het gekom toe hy in 1956 deur Eduard van Beinum gevra is om in te staan vir ‘n ongestelde Carlo Maria Giulini, vir ‘n uitvoering van Cherubini se Requiem met die Concertgebouw Orkes. Dit was die begin van sy lang verbintenis met dié ensemble, wat hy van toe af gereeld as gasdirigent gelei het. Met Van Beinum se skielike dood in 1959 is hy saam met Eugen Jochum as hul mededirigent aangestel, en drie jaar later het hy hoofdirigent en artistieke direkteur geword. Hy sou die pos tot 1987 beklee en talle bekroonde opnames met hulle maak. In 1967 het hy met die Concertgebouw die première van sy landgenoot Vermeulen se sewende simfonie gegee.

‘n Groot deel van Haitink se loopbaan sou in Brittanje ontvou. Hy was vanaf 1967 tot 1980 hoofdirigent van die Londense Filharmoniese Orkes, en in 1972 het hy met Die Entführung aus dem Serail by die Glyndebourne-fees gedebuteer. Daar het hy sedertdien gereeld opgetree en roem verwerf met sy uitstekende Mozart-vertolkings. In 1977 is hy tot ereridder geslaan en vanaf 1980 was hy vir sewe jaar musiekdirekteur by Glyndebourne. Hy het daar opvoerings van Idomeneo (1983) en La Traviata (1988) gedirigeer, met hoogstaande DVD-opnames wat gemaak is. By Glyndebourne het hy ook in 1994 ‘n opvoering van Le nozze di Figaro met die opening van die nuwe operahuis gedirigeer, net mooi 60 jaar na die inwyding van die oorspronklike teater. Verdere debute is intussen gemaak by Covent Garden (1977) en die Metropolitan Opera (1982). Vanaf 1987 tot 2002 was hy musiekdirekteur by Covent Garden, waar hy die hoë artistieke standaarde van sy voorganger Colin Davis voortgesit het. Daar het hy onder meer in 1989-91 en 1994-6 siklusse van die Ring gedirigeer, asook opvoerings van operas deur Janácek en Verdi wat hoë lof ingeoes het. Tydens die tydelike sluiting van die operahuis vir opknappingswerk (1997-9) het hy konsertweergawes van die Ring voor groot skares elders in Londen en in Birmingham gedirigeer. Hy het sy gewildheid gebruik om te voorkom dat die orkes en koor van Covent Garden in dié tyd ontbind word. In 2008 het hy ‘n opvoering van Fidelio in Zürich gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Hy het in 2010 die Concertgebouw in ‘n uitvoering van Mahler se negende simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat gemaak is. As gasdirigent tree hy met van die voorste orkeste in Europa en die VSA op, insluitend die beroemde filharmoniese orkeste in Berlyn en Wenen.

Met sy ingetoë dirigeerstyl, vloeiende staftegniek en helder ritme-aanwysings is Haitink ‘n meesterlike dirigent van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium, asook van moderne komponiste soos Bartók, Debussy, Ravel en Sjostakowitsj. Met sy Amsterdam-orkes en die Londense Filharmoniese Orkes het hy die 1970’s en 1980’s eerste Westerse dirigent geword om laasgenoemde se volledige simfonieë op te neem, in vertolkings wat in dieselfde asem as dié van groot Russiese dirigente soos Mrawinski, Kondrashin en Barsjai genoem word. Hy dirigeer nie Barokmusiek of radikale moderne werke nie, eersgenoemde omdat daar genoeg ander musici is wat dit doen en laasgenoemde omdat dit oormatig gespesialiseerd en van die publiek verwyderd is. As konsertbegeleier het hy die bewondering van groot musici soos die pianis Wladimir Asjkenazy en die sanger Janet Baker afgedwing. Op die persoonlike vlak is hy bekend vir sy hoogstaande professionaliteit en beleefdheid. In sy vrye tyd lees hy letterkunde, veral Thomas Mann en poësie.

Sleutelopnames: Bartók se opera Bloubaard se Kasteel (Berlyn); Bruckner se simfonieë nrs. 1 en 9 (Amsterdam), en 3 en 8 (Wenen); Debussy se Images, Jeux, Nocturnes en La Mer (Amsterdam); Mahler se Das Lied von der Erde (Amsterdam); Mozart se opera Le nozze di Figaro (Londen, DVD); Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 6, 12 en 14; Richard Strauss se opera Arabella (Londen, DVD); Strawinski se ballette Die Vuurvoël, Petroesjka en Die Lente se Wydingsoffer (Londen). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Brahms, Bruckner, Mahler, Schumann, Tsjaikofski en Vaughan Williams; op nr. 2 na die volledige simfonieë van Mendelssohn; Beethoven se Driedubbele Konsert; orkeswerke van Bartók, Liszt, Ravel, R. Strauss en Vaughan Williams; Bruckner se Te Deum; en die operas Fidelio, A Midsummer Night’s Dream, Peter Grimes, Pelléas et Mélisande, Jenufa, Così fan tutte, Don Giovanni, Die Zauberflöte, Der Rosenkavalier, Falstaff, Die Meistersinger von Nürnberg (Londen 1997) en die Ring-siklus (München).

Halász, Michael (1938-), Hongaarse dirigent. Sy musiekloopbaan is afgeskop as eerste fagotspeler in die Philharmonia Hungarica, 'n pos wat hy vir agt jaar beklee het. Vandaar is hy na Essen in Duitsland vir dirigeerlesse. Vanaf 1972 tot 1975 was hy aan die Gärtnerplatz Teater in München verbonde, waar hy al die operette-opvoerings gedirigeer het. Hy het in 1975 ‘n assistent-dirigent by die Frankfurt Opera onder Christoph von Dohnányi geword. Twee jaar later is hy saam met Dohnányi na Hamburg, waar hy hoofkapelmeester by die Staatsopera geword het. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Hagen Opera (1978-1991) en sedert 1991 is hy 'n residensiële dirigent by die Weense Staatsopera. Hy tree wêreldwyd as gasdirigent op, onder andere van uitsaai-orkeste in Australië en Pole. Sleutelopnames: Liszt se toondigte Les Préludes, Mazeppa, Prometheus en Tasso (almal Katowice). Verdere opnames: Beethoven se ballet Die Skeppings van Prometheus; Bruch se eerste en tweede simfonieë; Mahler se sewende simfonie; Schubert se derde en sesde simfonieë; R. Strauss se Vier letzte Lieder (met die sopraan Ricarda Merbeth); en die operas Fidelio, Die Zauberflöte en Der ferne Klang.

Hale, Robert (1943-), Amerikaanse bas-bariton. Twee jaar nadat hy in 1965 sy debuut in Denver in die titelrol van Le nozze di Figaro gemaak het, het hy by die New York Stadsopera aangesluit. Heelwat later het debute plaasgevind in Keulen (1983), by Covent Garden (1988), La Scala (1989), en die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees (beide in 1990). In 1991 het hy by die Weense Staatsopera die titelrol in ‘n hoogstaande opname van Der fliegende Holländer onder Christoph van Dohnányi gesing. Met sy kragtige, edel sang blink hy ook uit as Wotan in die Ring-siklus, wat hy in 1989 in ‘n uitstekende opvoering by die Beierse Staatsopera onder Wolfgang Sawallisch gesing het, met ‘n opname wat daarvan getuig. Hy was getroud met die Deense sopraan Inga Nielsen, totdat hul in 2005 geskei is. Verdere opnames: die opera Salome (as Jokanaan).

Hall, Marie (1884-1956), Engelse violis. Sy het gedebuteer in Praag (1902), Londen (1903) en New York (1905). In 1916 het sy in die eerste opname van Elgar se vioolkonsert (in ‘n erg verkorte weergawe) onder die komponis self gespeel. Sy het vier jaar later die eerste uitvoering van Vaughan Williams se The Lark ascending gegee.

Hallé Orkes, Britse simfonie-orkes wat in 1858 in Manchester gestig is deur die Duits-gebore pianis Carl (Charles) Hallé. Hy was tot sy dood in 1895 hul eienaar, hoofdirigent en eerste pianis. Onder hul bekende hoofdirigente daarna het Hans Richter (1895-1911), Hamilton Harty (1920-33) en Malcolm Sargent (1939-42) getel. In die tydperk 1933 tot 1940 was Thomas Beecham ‘n gereelde gasdirigent van die orkes. Tydens die lang bewind van John Barbirolli (1943-70) het die ensemble wêreldbekend deur hul opnames en oorsese toere geraak. Hy is opgevolg deur James Loughran (1971-83), Stanislaf Skrowaczefski (1984-92) en Kent Nagano (sedert 1992). Die orkes het eerste uitvoerings van verskeie werke deur Elgar en Vaughan Williams gegee.

Halsey, Simon (1958-), Engelse dirigent. Nadat hy musiekmeester by die Warwick Universiteit was (1980-8), het hy poste beklee as koormeester van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (vanaf 1982), assistent-direkteur van die Philharmonia Koor (vanaf 1986), musiekdirekteur van die Stad Birmingham Toeropera (vanaf 1987), en koordirekteur van die Academy of Ancient Music (vanaf 1988) en die Vlaamse Opera (sedert 1991). Met sy Birmingham-koor het hy hoogstaande opnames gemaak van Elgar se Scenes from the Bavarian Highlands, Holst se Dirge and Hymeneal, 2 Motette en 5 Liedere, en Rossini se Petite messe solennelle.

Halstead, Anthony (1945-), Engelse dirigent. Hy het aan die Chetham’s Skool in sy geboortestad Manchester studeer, en daarna klavier, horing en komposisie aan die Koninklike Musiekkollege in dié stad. Terwyl hy eerste horingspeler in die Londense Simfonie-orkes en later die Engelse Kamerorkes was, het hy verder studeer onder George Malcolm (klawesimbel), Michael Rose en Charles Mackerras (dirigeerkuns). Sy professionale dirigeerdebuut is in 1976 gemaak, en sedertdien tree hy wyd deur Europa en Australasië as dirigent, klawesimbelspeler en horingspeler op. Hy het ‘n voorliefde vir ensembles wat eietydse instrumente bespeel, en is tans direkteur van The Hanover Band. Met hulle is hy besig om die volledige orkeswerke van J.C. Bach, jongste seun van die Barokreus, op te neem. Die vrystellings sover van die sinfonias, sinfonias concertantes, klawesimbel- en klavierkonserte (waarin hy ook die solis is), en opera-ouvertures word hoog aangeskryf. Sleutelopnames: J.C. Bach se Amadis des Gaules ouverture en balletmusiek, en Endimione, Lucio Silla en Temistocle ouvertures. Verdere opnames: J.S. Bach se volledige Brandenburgkonserte; en Roman se volledige Drottningholm musiek.

Hamari, Julia (1942-), Hongaarse alt en mezzosopraan. Sy het aan die Boedapest Musiekakademie studeer en in 1954 die Erkel-kompetisie gewen. Daarna het studies aan die Stuttgart Konserwatorium gevolg, en in 1966 het sy haar solodebuut in Bach se Sint Mattheüspassie in Wenen gemaak. In die jaar daarop het haar Amerikaanse debuut met die Chicago Simfonie-orkes plaasgevind, waarna sy verbonde was aan die operahuise in Düsseldorf en Stuttgart. Sy het by die Salzburg-fees onder Herbert von Karajan opgetree en oor die jare heen heen by die Grand Slam operahuise gesing. Onder haar bekende rolle tel Cherubino in Le nozze di Figaro, Dorabella in Cosi fan tutte, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Magdalene in Die Meistersinger von Nürnberg, en die titelrolle in Carmen en La Cenerentola. Daarby is sy ewe begaafd as konsert- en liederesangeres. Opnames: Bach se Kantates nrs. 80 en 140 en sy Sint Mattheüspassie; Mahler se agste simfonie (onder Kubelik); Vivaldi se oratorium Juditha triumphans; die operette Der Zigeunerbaron; en die operas Jewgeni Onegin, Die Meistersinger von Nürnberg en Oberon.

Hamelin, Marc-André (1961-), Kanadese pianis. Ná studies aan die Vincent d’Indy Musiekskool in Montreal het hy na die VSA verhuis. Hy het hom in Philadelphia gevestig, waar hy aan die Tempel Universiteit sy studies voortgesit het. In 1985 het hy die internasionale musiekkompetisie in New York gewen. Met sy briljante tegniek, dog elegant en verfynd, is hy een van die voorste virtuose van sy tyd in die laat-Romantiese en moderne repertoriums. Hy het ‘n hele aantal opnames van werke deur minder bekende komponiste gemaak. Sleutelopnames: Albéniz se Iberia en ander solowerke; Alkan se Konsert vir soloklavier; Metner se volledige klavviersonates, en ander solowerke; Reger se Bach Variasies en Telemann Variasies; Sjostakowitsj se twee klavierkonserte (onder Litton); die volledige klaviersonates van Skriabin. Verdere opnames: Alkan se Concerti da camera nrs. 1 en 2, Esquisses, Symphony for Piano, Grande sonate en ander solowerke; Bernstein se tweede simfonie (onder Sitkowetski); Bolcom en Busoni se klavierkonserte; Godowsky se Passacaglia; solowerke van Grainger; solowerke van Kapustin; Liszt se Paganini-studies; Roslawets se Cinq Préludes; Sjedrin se tweede klavierkonsert; Von Henselt se klavierkonsert; en klaviersonates van Barber, Chopin, Copland, Godowsky, Ives en Sorabji.

Hamburg Filharmoniese Orkes, Duitse orkes wat in 1829 hul eerste konsert gegee het. Teen die einde van die negentiende eeu is hul vir ‘n lang tyd deur die orkes van die stad se operahuis onder die vermaarde Hans von Bülow in die skadu gestel. Vanaf 1922 is hul deur Karl Muck opgebou, tot sy uittrede in 1933 toe hul met die opera-orkes saamgesmelt het. Die gesamentlike orkes is deur Eugen Jochum (1934-49) en Hans Schmidt-Isserstedt (1935-42) gedirigeer. Onder die na-oorlogse dirigente tel Josef Keilberth (1950-9) en Wolfgang Sawallisch (1961-73).

Hamburg Opera, Noord-Duitse operahuis waarvan die ontstaan na 1678 terugdateer. Vanaf 1696 is hul vir ses jaar gedirigeer deur Reinhard Keiser, wat meer as 50 operas vir die geselskap geskryf het. Handel was vir ‘n tyd sy assistent daar, en ook Telemann het operas vir Hamburg geskryf. Vanaf die 1870’s het Bernhard Pollini (Pohl) die operas van Wagner in Hamburg gepopulariseer. Hy het die komponis Mahler as dirigent gewerf (1891-7). In die vroeë twintigste eeu het hul dirigente ingesluit Klemperer (1910-2), Pollak (1917-31) en Böhm (1931-4). Die operahuis is in 1943 tydens die massiewe Anglo-Amerikaanse bombardering van die stad vernietig, maar is in 1955 herbou. Onder die na-oorlogse dirigente tel Arthur Gruber (1946-50), Leopold Ludwig (1951-71), Horst Stein (1972-7), Christoph van Dohnányi (1977-84) en Gerd Albrecht (sedert 1988).

Hammond, Joan (1912-96), Nieu-Seelands-gebore sopraan. Aanvanklik was sy ‘n violis in Sydney, totdat haar sangdebuut in 1928 as Giovanna in Rigoletto gemaak is. Tien jaar later het haar debute in Wenen en Londen gevolg, en daarna het sy in verskeie Europese operahuise in operas soos Aida en Fidelio gesing. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1948) en in New York (1949), en in 1959 het sy die titelrol in die eerste Engelstalige opvoering van Rusalka vertolk. Sy het in 1965 uitgetree, en in 1974 is sy tot dame geskep. Onder die opnames wat sy nagelaat het, tel die liefdesduet uit die eerste bedryf van Tosca met Charles Craig.

Hammond-Stroud, Derek (1926-), Engelse bas. Hy het in 1955 sy debuut in Londen as Pluto in ‘n konsertuitvoering van Haydn se Orfeo gemaak. Sy verhoogdebuut het twee jaar later in die Britse hoofstad plaasgevind, as Publius in La clemenza di Tito. Vanaf 1961 was hy vir tien jaar die eerste bas by Sadler’s Wells, met nog debute wat gevolg het by Covent Garden (1971), die Glyndebourne-fees (1973), Houston (1975) en die Metropolitan Opera (1977). In 1987 is die OBE aan hom toegeken. Hy was uitmuntend in Wagner-rolle soos Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg en Alberich in die Ring-siklus, wat hy gesing het in Reginald Goodall se Engelstalige opvoerings, met opnames daarvan. Verdere opnames: Elgar se The Starlight Express (onder Vernon Handley); Tsjaikofski se Hamlet geleentheidsmusiek (onder Geoffrey Simon); en Verdi se opera La forza del destino (onder John Matheson).

Hampson, Thomas (1955-), Amerikaanse bariton. Hy het in 1978 die Lotte Lehmann-toekenning verwerf, en daarna het hy pryse in Nederland en New York gewen. Vanaf 1981 was hy vir drie seisoene verbonde aan die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1986), die Salzburg-fees (1988) en Covent Garden (1993). Met sy ryk, ferm stem en intelligente vertolkings is hy wêreldbekend in ‘n wye repertorium musiek. Hy is ewe tuis in Italiaanse en Franse opera, Duitse en Franse liedere, en konsertwerke, operette en musiekblyspele. Onder sy beste operarolle tel Escamillo in Carmen, Danilo in Die lustige Witwe, Guglielmo in Così fan tutte, Arbace in Idomeneo, die Graaf in Le nozze di Figaro, Marcello in La Bohème, Figaro in Il barbiere di Siviglia, Roland in Fierrabras, Amonasro in Aida, Posa in Don Carlo, Ford in Falstaff, Gunther in Götterdämmerung, Amfortas in Parsifal, Wolfram in Tannhäuser, en die titelrolle in Billy Budd, Doktor Faust, Faust, Koning Roger, Eugene Onegin (in Engels), Hamlet en Macbeth. Op die hoogtepunt van die Drie Tenore gier, in 1999, het hy met sy landgenoot, die bas-bariton Samuel Ramey, ‘n versameling duette getiteld No tenors allowed opgeneem. In 2003 het hy die titelrol in Rossini se Guillaume Tell gesing tydens ‘n herlewing van die opera by die Bastille Opera in Parys, die eerste opvoering daar sedert 1932. Hy was voorts ‘n solis tydens ‘n Mozart gala-konsert in Salzburg in 2006, onder die dirigeerstaf van Riccardo Muti.

As liedere-sanger is Hampson uitmuntend in die werke van Mahler, Schubert en Schumann. In die liedere van sy landgenoot Stephen Foster word hy as onoortreflik beskou, asook in toonsettings van Walt Whitman-gedigte deur Bernstein, Vaughan Williams en Weill. Hy tree verder as verteller in musiekvideos op. Sleutelopnames: Orff se kantate Carmina Burana (onder Plasson); Puccini se Messa di Gloria (onder Pappano). Verdere opnames: Bernstein se musiekblyspel On the Town (as Gabey); die dodemisse van Duruflé en Fauré; Mahler se Kindertotenlieder, en 11 vroeë liedere (met orkes); Mendelssohn se Die erste Walpurgisnacht; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; kerkmusiek van Mozart; Orff se Carmina Burana (onder Ozawa); Porter se musiekblyspel Kiss me Kate (as Petruchio); uittreksels uit musiekblyspele van Kern, Kretzmer, Lloyd Webber, Rodgers, Webern en Weill; liedere van Barber, Berlioz, Brahms, Copland, Duparc, Griffes, Ives, Liszt, Loewe, Macdowell, Mahler, Mendelssohn, Robert en Clara Schumann, Richard Strauss, Wagner en Weber; die genoemde operette van Lehár; ‘n versameling minder bekende Duitse opera-arias; ‘n versameling opera-duette met die tenoor Jerry Hadley; die genoemde operas van Bizet, Britten, Busoni, Gounod, Mozart, Schubert, Szymanowski, Tsjaikofski, Thomas, Verdi en Wagner, asook A Village Romeo and Juliet, Hérodiade, Thaïs en Der Schauspieldirektor.

Hänchen, Hartmut (1943-), Duitse dirigent. Sy musiekloopbaan is begin as lid van die Dresden Kruiskoor en as vyftienjarige het hy reeds uitvoerings as kantor gedirigeer. Op 17 jaar het hy wye aandag getrek met sy herlewing van Hasse se Requiem. Vanaf 1960 het hy sang en dirigeerkuns aan die Dresden Konserwatorium studeer, gevolg deur meesterklasse in Berlyn en Oostenryk. Hy was dirigent van die Hallé Filharmoniese Orkes (1966-72) en het in 1971 die Weber-kompetisie in Dresden gewen. In 1972/3 was hy musiekdirekteur van die Zwickau Opera, waartydens sy debuut by die Deutsche Staatsoper in Berlyn met Boris Godoenof gemaak is. Hy was vervolgens dirigent van die Dresden Filharmoniese Orkes (1973-6), gasdirigent van die Dresden Staatsopera (1974-6) en musiekdirekteur van die Mecklenburg Staatsorkes en -teater in Schwerin (1976-9). In 1980 het hy artistieke direkteur van die CPE Bach Kamerorkes in die Duitse hoofstad geword, met wie hy roem verwerf het deur vele toere, TV-optredes en bekroonde opnames. Vanaf 1980 was hy vir ses jaar ook ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Dresden Konserwatorium.

Hänchen het in 1986 in Amsterdam gaan woon, waar hy musiekdirekteur van die Nederlandse Opera en hoofdirigent van die pasgestigde Nederlandse Filharmoniese Orkes en Nederlandse Kamerorkes geword het. Onder sy leiding het die operahuis bekendheid verwerf vir hul hoogstaande opvoerings, veral in die operas van Mozart, Wagner en Richard Strauss. Sy Covent Garden-debuut is in 1991 met Gluck se Orfeo ed Euridice gemaak, met ‘n hoogstaande DVD-opname wat daarvan getuig. Hy tree wyd deur Europa, Japan en Noord-Amerika as gasdirigent op, en sedert 1995 is hy hoofgasdirigent van die Deutsche Staatsoper in Berlyn. In die laat 1990’s het hy siklusse van Wagner se Ring-operas met ‘n aantal Nederlandse orkeste en bekende sangers uitgevoer wat hoë lof ingeoes het, met DVD-opnames wat daarvan gemaak is. Hy het in 2002 uit sy pos by die Nederlandse Filharmonie bedank uit protes teen besnoeiings in hul begroting. Nietemin het hy hul drie jaar later in opnames van die Ring-siklus gedirigeer. Verdere opnames: 5 Berlynse Sinfonias van C.P.E. Bach; en Pergolesi se Stabat Mater en Salve regina.

Handford, Maurice (1929-86), Engelse horingspeler en dirigent. Hy was vanaf 1949 tot 1961 eerste horingspeler van die Hallé Orkes, en later (1966-71) hul mede-dirigent. In 1970 het hy die orkes in ‘n heuglike uitvoering van Elgar se The Dream of Gerontius gedirigeer met die alt Janet Baker as solis, tydens hul herdenkingskonsert in Manchester vir die pas afgestorwe John Barbirolli. Verder was hy ‘n dirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1970-4) en hoofdirigent van die Calgary Filharmoniese Orkes (1971-5).

Handley, Vernon (1930-2008), Engelse dirigent. Terwyl hy Engelse taalkunde aan Balliol College, Oxford studeer het, het hy amateurkonserte gedirigeer sonder dat hy enige musiekopleiding ontvang het. Daarna het hy aan die Guildhall Musiekskool in Londen studeer, met die kontrabas as instrument. Privaatlesse het onder die groot dirigent Adrian Boult gevolg, van wie hy sy helder staftegniek geleer het. In dié tyd was hy dirigent van die Tonbridge Filharmoniese Vereniging (1958-61), en in 1961 het Boult hom gehelp om sy eerste professionele optrede te bekom met die Bournemouth Simfonie-orkes. Hy sou lank as gasdirigent aan hul verbind wees. Dit het hom in staat gestel om sy eerste voltydse pos te bekom, as musiekdirekteur van die Guildford Filharmoniese Orkes in 1962. Hy sou die pos tot 1983 beklee. Daarbenewens was hy hoofdirigent van die Proteus-koor (1962-81), die Ulster Orkes (1985-9) en die Malmö Simfonie-orkes in Swede (1985-91), en hoofgasdirigent van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1989-95). Hy was vanaf 1966 vir ses jaar ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Koninklike Musiekkollege. In 1994 het hy hoofdirigent van die Wes-Australiese Simfonie-orkes in Perth geword. Hy het in 2003 vir die vyftigste herdenking van Bax se dood die komponis se volledige simfonieë en toondig Tintagel met die BBC Filharmoniese Orkes opgeneem. Dit is in die jaar daarop vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. In 2006 het hy die Engelse Simfonie-orkes in ‘n Elgar-fees gedirigeer en aan die begin van 2007 het hy hul hoofdirigent geword. ‘n Beplande projek om orkeswerke van John Joubert op te neem, is deur sy dood kortgeknip.

Handley was bekend as kampvegter vir sy landgenote Vaughan Williams, Bax en Bantock. Vir sy briljante uitvoerings en opnames van seldsame Britse werke het hy in 2003 ‘n spesiale toekenning van Gramophone ontvang. Die CBE is in 2004 aan hom toegeken. Op die persoonlike vlak was hy alombekend vir sy gevatte humorsin. In sy later lewensjare moes hy dikwels konserte kanselleer weens beserings wat jare tevore in ‘n ernstige motorbotsing in Duitsland opgedoen is. Hy was drie keer getroud, maar elke poging het in ‘n egskeiding geeïndig. Sleutelopnames: die genoemde werke van Bax; Elgar se tweede simfonie (Londense Filharmonie); Howells se Hymnus Paradisi en An English Mass (Liverpool); Vaughan Williams se eerste simfonie (Liverpool). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Arnold, Dvorák, Simpson, Stanford en Vaughan Williams, en ‘n aantal van Bainton, Boughton, Rubbra en Grace Williams; ander orkeswerke van Bantock, Bax, Bliss, Bridge, Britten, Delius, Dvorák en Holst; Elgar se vokale werke King Olaf, The Dream of Gerontius en The Starlight Express; en ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas.

Hardenberger, Hakan (1961-), Sweedse trompetspeler en kornetblaser. Hy het kompetisies in Parys, München en Genève gewen, en in 1984 sy Britse debuut by Crystal Palace met Howarth se trompetkonsert gemaak. Twee jaar later het hy by die Londense Proms in Crosse se Array gespeel, en in 1987 het hy in Zürich die eerste uitvoering van Birwistle se Endless Parade gegee. Hy is een van die beste trompetspelers van sy tyd, met 'n besonder wye repertorium. In 2003 het hy by die Proms onder Martyn Brabbins die première van Beamish se trompetkonsert gegee. Sleutelopnames: Haydn se Trompetkonsert in E mol (onder Marriner); Hummel se Trompetkonsert in E (onder Marriner). Verdere opnames: trompetkonserte en ander werke van Albinoni, Baldassare, Birwistle, Corelli, Franceschini, J. en M. Haydn, Hertel, Holmboe, Marcello, Maxwell Davies, Molter, L. en W. Mozart, Richter, Stamitz, Telemann, Torelli, Vivaldi, Viviani, Watkins en Zimmermann; en as 'n solis in Henze en Tubin se dodemisse.

Harding, Daniel (1975-), Britse dirigent. Hy het trompet aan die Chetham Musiekskool studeer en was reeds op 13 lid van die Nasionale Jeugorkes. In 1993/4 was hy ‘n assistent vir Simon Rattle by die Stad Birmingham Simfonie-orkes. Ná ‘n jaar se studies aan die Cambridge Universiteit het hy Claudio Abbado se assistent by die Berlynse Filharmoniese Orkes geword. Hy het in 1996 die jongste dirigent nóg by die Londense Proms geword. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Trondheim Simfonie-orkes (1997-2000), die Deutsche Kammerphilharmonie Bremen (1999-2003) en die Mahler Kamerorkes (sedert 2003). In 2005 het hy die openingsaand by La Scala met ‘n opvoering van Idomeneo gedirigeer. Sedert 2006 is hy hoofgasdirigent van die Londense Simfonie-orkes, met wie hy Britten se opera Billy Budd opgeneem het. Hy is sedert 2007 ook hoofdirigent van die Sweedse Radio Simfonie-orkes. In 2010 het hy die Concertgebouw Orkes in Amsterdam in ‘n uitvoering van Mahler se eerste simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is. Sleutelopname: Britten se opera The turn of the screw. Verdere opnames: die opera Cosi fan tutte (op DVD).

Harnoncourt, Nikolaus (1929-), Oostenrykse dirigent, tjellis en musiekgeleerde. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en tydens die oorlogsjare saam met ander kinders ‘n orkes gevorm om by militêre hospitale musiek te maak. In 1948 is hy na Wenen vir verdere studies, waar hy ook sy toekomstige vrou en medewerker Alice, ‘n violis, ontmoet het. In die Oostenrykse hoofstad het hy in 1954 die Concentus Musicus gestig vir die uitvoering van veral Barokmusiek op eietydse instrumente. Sedertdien het hy met die orkes ‘n beduidende rol gespeel in die herlewing van ‘n eietydse benadering tot pre-Romantiese musiek. Daarnaas het hy voortgegaan om tjello te speel, soos in sy voortreflike opname van Bach se volledige onbegeleide tjellosuites wat in 1965 gemaak is. Sy Britse en Amerikaanse debute is in 1966 gemaak, en vanaf 1972 was hy ‘n hoogleraar in musiek aan beide die Salzburg Mozarteum en die Universiteit van Salzburg. Gedurende die 1970’s en 1980’s het hy heuglike opvoerings van Barok-operas by die Zürich Opera gedirigeer. Daaronder tel Jean-Pierre Ponnelle se gevierde opvoering van Monteverdi se L’incoronazione di Poppea in 1979, die eerste wat op DVD uitgereik is. Sedert die 1980’s dirigeer hy ook simfonie-orkeste vanuit sy historiese perspektief en in 1992 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Met die Kamerorkes van Europa en die Koninklike Concertgebouw Orkes onderskeidelik het hy in die vroeë 1990’s opnames van Beethoven en Schubert se volledige simfonieë gemaak wat deur kenners onder die beste siklusse daarvan gereken word. Vir die Beethoven-siklus is die getal strykers verminder om die vele klanke van die musiekreus se orkestrasie na vore te bring, met treffende resultate. Vir die Schubert-siklus het hy die komponis se manuskripte bestudeer, wat heelwat korreksies van latere uitgawes meegebring het. Verder het hy die volledige gewyde werke van Mozart opgeneem en met Gustav Leonhardt ook ‘n byna volledige siklus van Bach se kantates.

As musiekgeleerde het Harnoncourt operas van Monteverdi en koorwerke van Bach geredigeer. Hy het in 1974 die eerste opname van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea met eietydse instrumente gedirigeer. Tans is hy ook een van die voorste dirigente in Mozart se operas. Hy het in 2001 en 2003 die Nuwejaarskonserte in Wenen gedirigeer. Tydens die Syriarte-fees in Graz in 2001 het hy Haydn se simfonie nr. 92 en sy Arianna auf Naxos en Scena di Berenice gedirigeer, met ‘n hoogstaande DVD-opname wat gemaak is. Vir die vyftigste verjaardag van die Concentus Musicus in 2004 het hulle ‘n briljante uitvoering van Haydn se oratorium Die Schöpfung onder hul stigter gegee, met ‘n opname wat die geleentheid verewig het. Hy dirigeer altyd sonder ‘n dirigeerstok omdat hy nie met die konsep van tydhou deur ‘n dirigent saamstem nie. Sleutelopnames: Bach se Sint Mattheüspassie (Concentus); Beethoven se volledige simfonieë (KOE 1990/1); Bruckner se simfonie nr. 7 (Weense Filharmonie); 4 van Dvorák se toondigte (Concertgebouw), en sy volledige Slawoniese Danse (Kamerorkes van Europa); Haydn se simfonieë nrs. 30, 31, 53, 59, 69 en 73, en oratorium Die Schöpfung; die 2003 Nuwejaarskonsert in Wenen (DVD); ‘n versameling Telemann-konserte (Wenen 1966); en Weber se opera Der Freischütz (Berlyn 1995).

Verdere opnames: simfonieë van Bruckner (nrs. 4, 5 en 9), Dvorák (nrs. 8 en 9), Haydn (nrs. 82-87, 94-99 en 101-104), Mendelssohn (nrs. 3 en 4) en Mozart; orkeswerke van Bach, Bartók, Biber en Vivaldi; Bach se 6 motette en Kersfeesoratorium; Beethoven se Missa Solemnis; Handel se Alexander’s Feast, Belshazzar, Ode for St Cecilia’s Day en Samson; Haydn se Mis nr. 10, Salve Regina en Die sieben letzten Worte; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream en Die erste Walpurgisnacht; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Mozart se Thamos, Koning van Egipte; Schmidt se Das Buch mit sieben Siegeln; die operettes Der Zigeunerbaron en La Belle Hélène; en die operas Fidelio, Armida, Giulio Cesare, L’incoronazione di Poppea, Il ritorno d’Ulisse in Patria, La clemenza di Tito, Così fan tutte, Die Entführung aus dem Serail, Idomeneo, Le nozze di Figaro, Lucio Silla en Der Schauspieldirektor.

Harnoy, Ofra (1964-), Israelies-gebore tjellis. Sy het die eerste uitvoering van Offenbach se tjellokonsert gegee, en is met haar liriese spel veral bekend in die Romantiese repertorium. Met die Toronto Kamerorkes het sy die volledige tjellokonserte van Vivaldi (altesaam 27) in stylvolle vertolkings opgeneem. Verdere opnames: tjellokonserte van Lalo, Offenbach en Saint-Saëns; Bloch se Schelomo; Bruch se Adagio op Keltiese temas; Offenbach se Concerto militaire; Vivaldi se Dubbelkonserte vir tjello en viool RV 544 en RV 547 (met Igor Oistrach); en tjellosonates van Vivaldi.

Harper, Heather (1930-), Ierse sopraan. Nadat sy in 1954 haar operadebuut in Oxford in die titelrol van Dame Macbeth van Mtsensk gemaak het, het sy verder gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1957), Covent Garden (1962), die Bayreuth-fees (1967) en die Metropolitan Opera (1977). Sy het opgetree in die eerste Britse verhoogproduksie van Schoenberg se Erwartung (1960), asook in die eerste uitvoerings van Britten se War Requiem (1962) en Tippett se derde simfonie (1972). In 1971 het sy die rol van Mrs Coyle tydens die première van Britten se Owen Wingrave geskep, en in 1984 het sy uit opera getree. Sy is sedert 1985 ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekkollege en sedert die jaar daarop sangdirekteur van die Britten-Pears Skool in Snape Maltings. Haar bekendheid het veral gelê in Britten se operas, onder andere as Ellen in Peter Grimes, en in rolle soos Nadia in The Ice break, Elsa in Lohengrin en die titelrol in Arabella. Met ‘n wye repertorium vanaf Handel tot by Tippett was sy ook een van die mees begaafde konsert- en liederesangeresse van haar tyd. Opnames: kerkmusiek van Bach; Beethoven se negende simfonie (onder beide Hickox en Stokowski); Britten se War Requiem; Bruckner se Te Deum (onder Klemperer); Delius se A Mass of Life; Handel se Messiah (onder Colin Davis); Harty se The Children of Lir en Ode to a nightingale; Haydn se The Seasons (in Engels); Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder Solti), 4 (onder Barbirolli) en 8 (onder beide Solti en Haitink); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream (onder Klemperer); enkele madrigale van Monteverdi; Mozart se Mis nr. 18; Ravel se Shéhérazade; Richard Strauss se Vier letzte Lieder; Tippett se derde simfonie (onder Colin Davis); 4 duette van Tsjaikofski (met Janet Baker, begelei deur Britten); Vaughan Williams se derde simfonie (onder Previn) en Benedicte; liedere en orkesliedere van Webern; en die genoemde operas van Britten en Tippett, asook A Midsummer Night’s Dream, The Rape of Lucretia, Oedipus der Tyrann en King Arthur.

Harrell, Lynn (1944-), Amerikaanse tjellis. Hy het onder Leonard Rose studeer en sy debuut in 1960 in New York gemaak. Vanaf 1965 was hy vir ses jaar eerste tjellis in die Cleveland Orkes. Daarna het hy as solis met van die voorste orkeste in die VSA en Europa begin optree, met verdere debute wat gemaak is in Londen (1975) en by die Salzburg-fees (1979). As een van die voorste tjello-virtuose van sy tyd is hy veral bekend in die Romantiese en moderne repertoriums. Daarby het hy onderrig gegee aan die Universiteit van Cincinatti (1971-6), die Juilliard Musiekskool (1976-86), die Universiteit van Suid-Kalifornië in Los Angeles (1986-92) en die Koninklike Musiekakademie in Londen (1986-93). Van laasgenoemde instansie was hy in 1993/4 die hoof. Sleutelopnames: Hindemith se tjellokonsert (onder Chailly); Prokofiëf se Simfonie-konsert en Tjello-konsertino (onder Asjkenazy); die enkele tjellosonates van Prokofiëf, Rachmaninof en Sjostakowitsj (almal begelei deur Asjkenazy); Tanejef se klaviertrio en -kwintet (lg. met Pletnjef, Repin, Gringolts en Imai). Verdere opnames: tjellokonserte van Dutilleux, Dvorák, Elgar, Haydn, Lalo, Schumann, Vivaldi en Walton; die volledige onbegeleide tjellosuites van Bach; die volledige tjellosonates van Beethoven, Brahms en Mendelssohn; en Tsjaikofski se Rococo Variasies.

Harrhy, Eiddwen (1949-), Walliese sopraan. Sy het ‘n operaprys gewen en in 1974 haar operadebuut in Oxford gemaak, as Ilia in Idomeneo. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1974), die Engelse Nasionale Opera (1977) en Los Angeles (1986). Haar bekendheid lê merendeels in vroeë opera, in rolle soos Morgana in Alcina en Melissa in Amadigi di Gaula. Opnames: M. Charpentier se Te Deum; Rameau se opera-ballet La Princesse de Navarra; en die genoemde operas van Handel, asook L'assedio di Calais, Ugo Conte di Parigi en The Fairy Queen.

Harries, Kathryn (1951-), Britse sopraan. Haar konsertdebuut is in 1977 in Londen gemaak, en sy het vir ‘n tyd die BBC TV-program Music Time aangebied. In 1983 het sy haar operadebuut by die Walliese Nasionale Opera as die Blommemeisie in Parsifal gemaak. Verdere debute het gevolg by die Buxton-fees en die Engelse Nasionale Opera (beide in 1983), die Skotse Opera (1985), die Metropolitan Opera (1986) en Covent Garden (1989). By die Skotse Opera het sy die titelrol tydens die première van Hedda Gabler geskep. Sy het in 1987 in Lyons die rol van Dido in die eerste volledige opvoering van Berlioz se Les Troyens in Frankryk vertolk. Ook mezzo-rolle word deur haar vertolk: By die Glyndebourne-fees het sy in 1996 uitgeblink as Grafin Geschwitz in ‘n DVD-opname van Lulu onder Andrew Davis. Verdere opnames: Janácek se opera Osud.

Harrison, Beatrice (1892-1965), Engelse tjellis. Sy het in 1907 met die Queen’s Hall Orkes gedebuteer en later beroemd geraak in Elgar se tjellokonsert, wat sy twee keer onder die komponis self opgeneem het. In 1918 het sy die première van Delius se tjellosonate gegee en vyf jaar later ook die Britse première van sy tjellokonsert. Sy het verder die Britse premières van Ravel se sonate vir viool en tjello en van Kodály se onbegeleide tjellosonate gegee. Interessant genoeg het sy in vroeë uitsendings van die BBC in die Surrey-woud tjello gespeel met nagtegaalsang as begeleiding. Haar suster May Harrison (1891-1959) was ‘n violis wat onder Leopold Auer in Sint Petersburg studeer het. Hulle het dikwels saam uitvoerings gegee, en Delius se Dubbelkonsert is vir hulle geskryf.

Harty, Hamilton (1879-1941), Ierse orrelis, pianis, dirigent en komponis. Hy was merendeels selfopgelei, maar dit het hom nie verhinder om as twaalfjarige ‘n kerkorrelis in Antrim te word nie. Later het hy poste in Belfast en Dublin beklee, en in 1900 het hy hom in Londen gevestig. In die Britse hoofstad het hy as ‘n briljante klavierbegeleier naam gemaak totdat hy hom op dirigeer begin toespits het, onder andere by Covent Garden. In 1920 het hy hoofdirigent van die Hallé Orkes in Manchester geword, ‘n pos wat hy tot 1933 sou beklee. Hy sou hulle tot een van die voorste simfonie-orkeste in Europa ontwikkel. Onder die premières wat hy in Manchester gedirigeer het, tel Bantock se oratorium The Song of Songs (1927), Lambert se koorwerk Rio Grande (1929), en die Britse premières van Mahler se negende simfonie (1930) en Sjostakowitsj se eerste simfonie (1932). Hy is in 1925 tot ridder geslaan. Hy het Willem Mengelberg in 1932 as hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes opgevolg, met wie hy twee jaar later die eerste uitvoering van Walton se eerste simfonie gegee het, waarvan ‘n historiese opname gemaak is. Naas eie komposisies soos die Irish Symphony, ‘n vioolkonsert en ‘n klavierkonsert, het hy gewilde orkesverwerkings van Handel se Watermusiek en Koninklike Vuurwerkemusiek gemaak. Verdere opnames: Mendelssohn se vierde simfonie; en orkeswerke van Bax, Berlioz, Schubert, Sibelius en Smetana.

Harwood, Elizabeth (1938-90), Engelse sopraan. Sy het in 1960 die Kathleen Ferrier-prys gewen en in dieselfde jaar haar operadebuut by die Glyndebourne-fees gemaak, as die Tweede Seun in Die Zauberflöte. Vanaf 1961 tot 1965 het sy by die Sadler’s Wells Opera gesing, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden (1967), die Salzburg-fees (1970) en die Metropolitan Opera (1976). Sy was veral bekend in die oratoriums van Handel en Elgar, die operettes van Gilbert en Sullivan, en Engelse liedere. Haar repertorium het rolle ingesluit soos Vreli in A Village Romeo and Juliet, Musetta in La Bohème, Phyllis in Iolanthe, Elsie in The Yeomen of the Guard en die titelrol in Princess Ida. Opnames: Britten se Noye's Fludde; Handel se Messiah; Scarlatti se Sint Ceciliamis; Schumann se Szenen aus Goethes Faust (as Gretchen); die genoemde operettes, asook Patience en Ruddigore; en die genoemde operas van Delius en Puccini, asook Montezuma, A Midsummer Night's Dream en A Midsummer Marriage.

Haskil, Clara (1895-1960), Roemeens-gebore pianis van Spaanse afkoms. Sy het in 1904 haar debuut gemaak en ses jaar later haar konsertloopbaan begin. Naas haar optredes as solis was sy aanvanklik ‘n vennoot van groot violiste soos Enescu, Francescatti en Szigeti in sonate-uitvoerings. Dit was egter haar lang, produktiewe vennootskap met die violis Arthur Grumiaux wat onvergeetlik is. Beide is as musikale aristokrate beskou, en saam het hulle die volledige vioolsonates van Beethoven en Mozart in hoogaangeskrewe vertolkings opgeneem. In 1949 het sy ‘n Switserse burger geword. Verdere opnames: klavierkonserte van Beethoven, Chopin, Mozart (nrs. 20 en 24) en Schumann; Falla se Nagte in die tuine van Spanje (onder Markewitsj); Mozart se Konsert vir 2 klaviere K365 (met Géza Anda); en solowerke van Beethoven, Ravel, D. Scarlatti, Schubert en Schumann.

Haugland, Aage (1944-2000), Deense bas-bariton. Vyf jaar nadat hy in 1968 sy debuut in Oslo gemaak het in Martinu se Komedie op die Brug, het hy by die Deense Koninklike Opera aangesluit. In 1975 het hy by Covent Garden gedebuteer, waar hy in die jaar daarop die rol van Hunding tydens die eeufeesviering van die Ring gesing het. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1979), in Milaan (1981), en by die feeste in Salzburg (1982) en Bayreuth (1983). Hy was ‘n uitmuntende sanger in laat-Romantiese en moderne opera, veral in rolle soos Dokter in Wozzeck, Jens Grand in Drot og Marsk, Varlaam in Boris Godoenof, Iwan Khowanski in Khowansjina, Jeronimus in Maskarade, Saul in Saul en Dawid, die Kommandeur in Die Diensmeisie se Verhaal, Aron in Moses und Aron, Boris in Dame Macbeth van Mtsensk en Baron Ochs in Der Rosenkavalier. Opnames: Strawinski se L’histoire du soldat (onder Järvi); die genoemde operas van Berg, Heise, Moessorgski, Nielsen, Ruders, Schoenberg, Sjostakowitsj en Wagner, asook Twilight of the Gods (in Engels, as Hagen).

Haymon, Cynthia (1958-), Afro-Amerikaanse sopraan. Sy het haar debuut in 1984 in Santa Fé gemaak, tydens die Amerikaanse première van Henze se opera We come to the River. In die jaar daarop het sy by dieselfde operahuis die rol van Xanthe in die Amerikaanse première van Die Liebe der Danae geskep. Sy het ook in Norfolk, Virginia die titelrol tydens die première van Musgrave se opera Harriet geskep. Haar Europese debuut het in 1986 by die Glyndebourne-fees plaasgevind, as Bess in Porgy and Bess. Onder haar verdere rolle tel Mimì in La Bohème en Liù in Turandot. Sleutelopname: Tippett se oratorium A Child of our Time (onder Hickox). Verdere opnames: Gershwin se opera Porgy and Bess (onder Rattle); en Mendelssohn se tweede simfonie (onder Weller).

Heger, Robert (1886-1978), Duitse dirigent en komponis. Hy het in 1907 in Strasbourg sy debuut gemaak, en het later opera gedirigeer in Nürnberg (1913-21), Wenen (1925-33), Berlyn (1933-50) en München (vanaf 1950). In 1927 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer met ‘n opvoering van Le nozze di Figaro. Ses jaar later het hy by die Weense Staatsopera die eerste opname van Der Rosenkavalier in ‘n verkorte weergawe gedirigeer. Dit sou ‘n gevierde opname word, met beroemde sangers soos Lotte Lehmann, Elisabeth Schumann en Richard Mayr wat daarin verskyn het. Vanaf 1925 tot 1935 het hy ook gereeld by Covent Garden opgetree. Heelwat later, in 1953, sou hy daar die Britse première van Capriccio dirigeer. Verdere opnames: die operas Martha, Zar und Zimmermann, Die lustigen Weiben von Windsor en Lohengrin.

Heifetz, Jasja (1901-87), Russies-gebore violis, volgens talle kenners die grootste van die twintigste eeu. As wonderkind het hy vanaf driejarige ouderdom lesse van sy vader ontvang, en sy openbare debuut is as vyfjarige in Vilna gemaak. Op agt jaar het hy by die Sint Petersburg Konserwatorium ingeskryf, waar hy onder Leopold Auer studeer het. In 1911 het sy konsertdebuut in dié stad plaasgevind, en in die jaar daarop het hy Tsjaikofski se vioolkonsert in Berlyn, Wenen en Leipzig gespeel. In eersgenoemde geval het hy as solis met die die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Arthur Nikisch opgetree. In 1917 het hy met die res van sy gesin na die VSA geëmigreer, waar hy in dieselfde jaar sy Amerikaanse debuut in New York gemaak het. Vir die volgende aantal dekades is hy met sy briljante tegniek as een van die grootste virtuose ter wêreld in enige instrument beskou. Sy Londense debuut is in 1920 gemaak, en vyf jaar later het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Konserte is deur onder andere Walton (1939) en Castelnuovo-Tedesco vir hom geskryf, en in 1947 het hy die eerste uitvoering van Korngold se vioolkonsert gegee. Naas sy solo-optredes het hy kamermusiek in ‘n trio met die pianis Arthur Rubinstein en die tjellis Gregor Piatigorski gespeel. In sy sonate-uitvoerings is hy dikwels deur die pianis Emanuel Bay begelei.

Heifetz het talle verwerkings van werke deur Bach, Vivaldi en andere gedoen, waarvan Diniccu se Hora staccato sy bekendste is. Vanaf 1962 tot 1972 het hy aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles onderrig gegee. Hy het in 1974 uit konserte getree, maar voortgegaan om kamermusiek in ‘n trio met Piatigorski en die pianis Leonard Pennario te speel. ‘n Enorme aantal opnames in ‘n wye repertorium is deur hom nagelaat, met uitsondering van eksperimentele moderne werke waarvan hy nie gehou het nie. Volgens sommige kenners was sy tegniek die mees skouspelagtige wat nog opgeneem is, sodat hy ter wille van balans ‘n dermsnaar-viool gebruik het om ‘n ryk klank aan sy vertolkings te verleen. Sleutelopnames: Beethoven se vioolkonsert (onder Toscanini, 1939); Walton se vioolkonsert (onder die komponis self, 1950). Verdere opnames: vioolkonserte van Brahms, Bruch, Castelnuovo-Tedesco, Elgar, Glazoenof, Korngold, Mendelssohn, Prokofiëf, Rósza, Sibelius, Tsjaikofski, Vieuxtemps en Wieniawski; die volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas van Bach; die volledige vioolsonates van Beethoven; die Dubbelkonserte van Bach (met Erick Friedman) en Brahms (met Emanuel Feuermann); Dohnányi en Francaix se strykertrios; Martinu se Duo; Sarasate se Zigeunerweisen; Waxman se Carmen Fantasie; en vioolsonates van Debussy, Ferguson, Khatsjatoerian, Ravel, Respighi en Richard Strauss.

Heilmann, Uwe (1960-), Duitse tenoor. Hy het in Detmold studeer en in 1981 sy debuut daar gemaak as Tamino in Die Zauberflöte. Vier jaar later het hy ‘n lid van die Stuttgart Staatsopera geword, waar hy die voorste tenoor in Mozart-rolle sou word. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1990) en by La Scala (1994), in beide gevalle as Belmonte in Die Entführung aus dem Serail. Onder die verdere rolle waarin hy uitblink, tel Orfeo in L’anima del filosofo, Don Ottavio in Don Giovanni, die titelrol in La clemenza di Tito, en Flamand in Capriccio. Naas opera is hy bekend as konsert- en liederesanger in die Duitse repertorium, veral in die gewyde werke van Bach. Opnames: Bach se Magnificat, Vivaldi se Gloria, en die operas L’anima del filosofo, La clemenza di Tito en Die Entführung aus dem Serail.

Helfgott, David (1947-), Australiese pianis van Pools-Joodse afkoms. As tiener het hy ‘n hele aantal kompetisies van die Australiese uitsaaikorporasie gewen, waardeur hy die aandag van beroemde pianiste soos Daniel Barenboim en Julius Katchen getrek het. Op veertien het hy die violis Isaac Stern so met sy spel beïndruk dat die maestro hom aangemoedig het om oorsee te gaan studeer. Hy is eers vyf jaar later na Londen om aan die Koninklike Musiekkollege onder Cyril Smith te studeer. In die Britse hoofstad het hy in 1970 ‘n uitvoering van Liszt se eerste klavierkonsert voor ‘n groot gehoor gegee, maar in dieselfde jaar is sy loopbaan deur ‘n geestesiekte kortgeknip. Hy is terug na Perth, waar hy vir langer as ‘n dekade in onbekendheid geleef het. In 1982 het hy sy eerste belangrike uitvoering in twaalf jaar gegee, waarna hy terug na Europa is om onder die leermeester Peter Feuchtwanger te studeer. Hy het daarop wyd deur Europa getoer, en in die middel 1990’s het hy wêreldroem verwerf met die rolprent Shine wat oor sy lewe gehandel het. Dit was veral sy opname van Rachmaninof se derde klavierkonsert vir die klankbaan wat besonder gewild geraak het, ‘n werk wat hy na ‘n VSA-toer in 1997 tydens ‘n triomfantelike konsert in Londen sou uitvoer. In dieselfde jaar was hy die klassieke kunstenaar met die meeste verkope en het hy verskeie toekennings verwerf. Sedertdien toer hy wêreldwyd.

Heltay, László (1930-), Hongaars-gebore dirigent. Hy was vanaf 1952 aan die personeel van die Boedapest Radio verbonde, totdat hy vier jaar later na Brittanje uitgewyk het. Daar het hy in 1960 die Schola Cantorum in Oxford gestig en twee jaar later ‘n Britse burger geword. Vervolgens was hy musiekdirekteur van Merton College, Oxford (1962-4) en ‘n assistent-dirigent van die Nieu-Seeland Uitsaaikorporasie se simfonie-orkes (1964-4). Vanaf 1968 was hy musiekdirekteur van die Gardner Sentrum aan die Sussex Universiteit, en vanaf 1970 het hy die Collegium Musicum van Londen gedirigeer. Ook die Brighton Feeskoor is deur hom gestig, met wie hy uitstekende opnames van sy voormalige landgenoot Kodály se Missa brevis, Pange lingua en Psalm 114 gemaak het. Hy het dié koor en die Leicestershire Skole Simfonie-orkes voorts in 1974 in ‘n seldsame opname van Havergal Brian se Psalm 23 gedirigeer. In 1984 het hy die koor van die Academy of St Martin-in-the-Fields in die klankbaan van die rolprent Amadeus gedirigeer. Verdere opnames: Haydn se Salve Regina en Stabat Mater.

Hempel, Frieda (1885-1955), Duitse sopraan. Sy het haar debuut in Breslau gemaak en vanaf 1905 in Berlyn gesing. Daarna was sy verbonde aan die Schwerin Opera, waar sy Keiser Wilhelm II só beïndruk het dat hy die stadsowerhede opdrag gegee het om haar in Berlyn te laat sing. Vervolgens was sy ‘n lid van die Berlynse Opera (1907-12), en in 1907 het sy haar debuut by Covent Garden gemaak. Sy was vanaf 1912 vir sewe jaar verbonde aan die Metropolitan Opera, en in 1921 het sy op betreklike jong leeftyd in Chicago haar laaste optrede gegee. Haar roem het veral op haar vertolkings van die Marschallin in Der Rosenkavalier berus, wat sy tydens die premières van dié opera in Berlyn (1911) en New York (1913) gesing het. Haar repertorium het ook die titelrol in Euryanthe, Eva in Die Meistersinger, die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte en Rosina in Il barbiere di Siviglia ingesluit. Daarby was sy begaafd in Duitse liedere, onder andere dié van Richard Strauss. Later in haar loopbaan het sy konserte aangetrek as die sogenaamde Sweedse Nagtegaal, Jenny Lind (1820-87), gegee. Opnames: arias uit die genoemde Mozart-opera.

Hemsley, Thomas (1927-2013), Engelse bariton. Hy het sy verhoogdebuut in 1951 in Londen gemaak, as Aeneas in Dido and Aeneas teenoor Kirsten Flagstad as Dido. In die jaar daarop sou hy in ‘n voortreflike opname daarvan onder Geraint Jones sing. Daarna was hy eerste bariton van die Aachen Opera (1953-56), die Deutsche Oper am Rhein (1957-63) en die Zürich Opera (1963-67). Verder het hy gesing by die feeste in Glyndebourne (1953-61) en Bayreuth (1968-70), en in 1970 het hy by Covent Garden gedebuteer. Intussen het hy in 1960 by die Aldeburgh-fees die rol van Demetrius tydens die première van Britten se A Midsummer Night's Dream geskep. ‘n Verdere rol waarin hy uitgeblink het, was Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg, wat hy by Bayreuth gesing het. As gas het hy by verskeie Britse operahuise verskyn, waaronder die Walliese Nasionale Opera (1977-85). As begaafde konsert- en liederesanger het hy in 1965 as solis in slegs die tweede Britse uitvoering van Delius se Requiem gesing, in Liverpool onder Charles Groves. Voorts het hy in 1976 met David Wilde as klavierbegeleier ‘n uitstekende opname van Schubert se liedere-siklus Schwanengesang gemaak. Vanaf 1987 was hy ‘n hoogleraar in sang aan die Guildhall Musiekskool. Verdere opnames: Handel se Utrecht Te Deum (ook onder Jones) en oratorium Saul (onder Woldike); en die genoemde Wagner-opera (onder Kubelik).

Henderson, Roy (1899-2000), Skotse bariton. Ná militêre diens in die Eerste Wêreldoorlog het hy aan die Koninklike Musiekakademie in Londen studeer. Daar sou hy altesaam 13 pryse en toekennings verower. Sy debuut het in 1925 in die Britse hoofstad plaasgevind, as Zarathustra in Delius se A Mass of Life. Vir die volgende twee dekades sou hy die voorste vertolker van dié rol wees. Hy het sy operadebuut in 1928 by Covent Garden gemaak as Donner in Das RheingoldIn die jaar daarop het hy in die eerste opname van Delius se Sea Drift onder Thomas Beecham gesing, en daarna het hy in die eerste uitvoerings van verskeie werke deur Britse komponiste opgetree. Met die opening van die eerste Glyndebourne-fees in 1934 het hy die rol van die Graaf in Le nozze di Figaro gesing. Vir die volgende vyf seisoene sou hy verdere Mozart-rolle soos Guglielmo in Così fan tutte, Commendatore in Don Giovanni en Papageno in Die Zauberflöte daar sing. Dit sluit optredes in klassieke opnames van Le nozze di Figaro en Don Giovanni onder Fritz Busch in. In 1938 het hy as solis in die eerste uitvoering van Vaughan Williams se Serenade to Music opgetree. Hy het vanaf 1940 aan die Koninklike Musiekakademie sangonderrig gegee, terwyl hy voortgegaan het om in konsertuitvoerings op te tree. Vanaf 1942 sou hy vir nege jaar lank ‘n leermeester van die briljante alt Kathleen Ferrier wees, en in 1946 het hy ‘n opname van Pergolesi se Stabat Mater met haar as solis gedirigeer. As koordirigent was hy vanaf 1936 tot 1952 aan die Nottingham Oriana Koor verbonde. Hy het in 1952 as sanger uitgetree, maar voortgegaan om sangonderrig te gee. In 1970 is die CBE aan hom toegeken.

Hendricks, Barbara (1948-), Afro-Amerikaanse sopraan. Nadat sy aanvanklik wiskunde en skeikunde studeer het, het sy na sang oorgeslaan en aan die Juilliard Musiekskool onder Jennie Tourel studeer. In 1971 het sy die internasionale sangkompetisie in Genève gewen en drie jaar later is haar operadebuut in San Francisco gemaak, in Cavalli se L'Ormindo. Daarna het sy deur Europa getoer, met debute by die feeste in Glyndebourne (1974) en Salzburg (1977). Tydens haar debute in Berlyn, Wenen, Hamburg en München het sy die rol van Susanna in Le nozze di Figaro gesing. In 1977 het sy met Herbert von Karajan deur Japan getoer, wat die eerste van verskeie besoeke aan dié land sou wees. Sy woon sedert 1977 in Parys. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1982), die Metropolitan Opera (1986) en La Scala (1987). ‘n Besondere eer het haar te beurt geval toe sy in 1987 deur die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge as Welwillendheids-ambassadeur aangewys is. In 1988 het sy die rol van Mimì in 'n rolprentweergawe van La Bohème gesing, en vyf jaar later het sy opgetree tydens Bill Clinton se inhuldiging as Amerikaanse president. Sy is met ‘n Sweed getroud en besoek gereeld die Skandinawiese lande. In 1986 het die Franse regering haar tot Kommandeur in die ‘Ordre des Arts et des Lettres’ verhef, en sedert 1990 is sy ‘n lid van die Sweedse Akademie. Die ‘Légion d'Honneur’ is in 1993 deur die Franse President Mitterand aan haar toegeken vir haar humanitêre werk, wat besoeke aan vlugtelingkampe in Afrika en Suidoos-Asië sowel as optredes in die oorloggeteisterde Balkanstreek ingesluit het.

In 1998 het Hendricks die rol van Liu in Turandot vertolk tydens die uitvoering van die opera in Beijing se Verbode Stad. Sy het in dieselfde jaar ‘n stigting vir vrede en versoening op die been gebring om konflik te voorkom of versoening te fasiliteer. In 2001 het sy tydens die Nobelprys-seremonie in Oslo gesing en in die jaar daarop by die onafhanklikheidsvieringe van Oos-Timor. Ere-doktorsgrade is deur universiteite in Dundee, Nebraska en Grenoble aan haar toegeken, asook deur haar alma mater in New York. As een van die voorste liriese soprane van haar tyd is sy uitmuntend in verdere rolle soos Micaela in Carmen, Minka in Le roi malgré lui, Norina in Don Pasquale, Euridice in Orfeo ed Euridice, die vroulike hoofrolle in Pelléas et Mélisande en Roméo et Juliette, Rozenn in Le roi d'Ys, die titelrol in Manon, Ilia in Idomeneo, Rosina in La finta semplice, Pamina in Die Zauberflöte, Antonia in Les contes d’Hoffmann, Sophie in Der Rosenkavalier, Tatjana in Jewgeni Onegin, Nannetta in Falstaff en Gilda in Rigoletto. Sy is ‘n ewe begaafde konsert- en liederesangeres in ‘n wye repertorium. Sedert 1994 sing sy ook wêreldwyd in jazz-feeste, met ‘n debuut wat in Montreux gemaak is. Sleutelopname: Mozart se Mis nr. 18 (onder Karajan). Verdere opnames: Bach se Magnificat; Debussy se La damoiselle élue; Gounod se Messe solennelle de Sainte-Cécile (onder Prêtre); Grieg se Peer Gynt (onder Salonen); Handel se oratorium Solomon (as die Koningin van Skeba, onder Gardiner); Haydn se oratorium Il ritorno di Tobia; Mahler se tweede simfonie (onder Bernstein) en vierde simfonie (onder Salonen); Vivaldi se Gloria; ‘n versameling Nordiese liedere deur Grieg, Nielsen, Rangström en Sibelius; en die genoemde operas van Chabrier, Donizetti, Gluck, Lalo, Puccini, R. Strauss, asook Serse, L'infedeltà delusa, Hänsel und Gretel, Idomeneo, La finta semplice, Die Zauberflöte, Die ägyptische Helena en Falstaff.

Hengelbrock, Thomas (1958-), Duitse dirigent. Sy debuut is in 1993 by die Weense Fees met Gluck se Alceste gemaak. Daarna het hy operas van Gluck, Mozart en Purcell elders in Europa gedirigeer. Hy het ook werke herleef waarvan hy die manuskripte in argiewe ontdek het, soos Alessandro Scarlatti se Mitridate Eupatore by die Ambrasser-kasteelkonserte in Innsbruck en die Schwetzingen-fees, en Galuppi se Il filosofo di campagna in Potsdam. Sedert 1995 is hy artistieke direkteur van die Deutsche Kammerphilharmonie in Bremen. Opnames: D’Astorga se Stabat Mater; Durante se Magnificat; Haydn se oratorium Die Schöpfung; en Pergolesi se Confitebor tibi Domine.

Henschel, George (1850-1934), Duits-gebore bariton, pianis, dirigent en komponis. As jong tiener het hy in 1862 sy openbare debuut as pianis in Berlyn gemaak. Later het hy aan die konserwatoriums in Leipzig en Berlyn studeer, en in 1868 het hy die rol van Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg in ‘n konsertopvoering in München gesing. Sewe jaar later het hy as solis in Bach se Sint Mattheüspassie gesing onder die dirigeerstaf van niemand minder nie as Johannes Brahms, met wie hy goed bevriend sou raak. Sy Londense debuut is in 1877 gemaak, en later was hy die eerste dirigent van die Boston Simfonie-orkes (1881-4). Daarna het hy homself in Londen as sanger en dirigent gevestig, en was hy ‘n hoogleraar in sang aan die Koninklike Musiekkollege (1886-8). Hy het vanaf 1886 tot 1896 die Londense Simfoniekonserte gedirigeer, en was vanaf 1891 vir vier jaar dirigent van die Skotse Orkes in Glasgow. Intussen het hy in 1890 ‘n Britse burger geword, en vanaf 1905 het hy vir drie jaar in New York onderrig gegee. Vanaf 1909 tot 1914 het hy gereeld gesing en homself op die klavier begelei. Hy is in 1914 tot ridder geslaan. Tot in sy sewentigs was hy nog aktief met uitsendings en opnames.

Heppner, Ben (1956-), Kanadese tenoor. Aanvanklik het hy operarolle van Mozart, Rossini en Donizetti in Toronto gesing, waarna hy as dramatiese tenoor begin optree het. In dié stemtipe het hy in 1987 sy debuut in Melbourne gemaak, as Bacchus in Ariadne auf Naxos. Verdere debute het gevolg in Chicago (1988), San Francisco en Stockholm (beide in 1989), Milaan en Covent Garden (beide in 1990), en Amsterdam (1991). Met sy kragtige, klankryke stem is hy tans een van die wêreld se voorste heldentenors in rolle soos Florestan in Fidelio, Aeneas in Les Troyens, die Prins in Rusalka, Johannes in Hérodiade, Calaf in Turandot, Erik in Der fliegende Holländer, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg en die manlike hoofrol in Tristan und Isolde. Hy het die rolle van Florestan, Walther en Tristan skitterend vertolk in DVD-opnames van die betrokke operas onder James Levine. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Abbado); Mahler se agste simfonie (onder Chailly) en Das Lied von der Erde (onder Bertini); ‘n versameling orkesliedere van Tosti; en die genoemde operas van Berlioz, Dvorák, Massenet, Puccini, Strauss en Wagner.

Herbig, Günther (1931-), Tsjeggies-gebore Duitse dirigent. Hy was musiekdirekteur van die Dresden Filharmoniese Orkes (1972-7) en die Berlynse Simfonie-orkes (1977-83). In 1973 het hy sy Britse debuut gemaak, en later was hy hoofgasdirigent van die BBC Noordelike Simfonie-orkes (1980-4). In 1984 het hy na die VSA verhuis, waar hy tot 1989 musiekdirekteur van die Detroit Simfonie-orkes was en in daardie jaar musiekdirekteur van die Toronto Simfonie-orkes geword het.

Herincx, Raimund (1927-), Engelse bas-bariton. Vanaf 1950 het hy in konserte in België en Frankryk gesing, en in 1957 het sy operadebuut by die Wallliese Nasionale Opera plaasgevind. Dit was in die titelrol van Boito se Mefistofele, en vir die volgende dekade sou hy aan die Sadler’s Wells Opera verbonde wees. Hy het in 1962 onder Anthony Lewis in ‘n ongeëwenaarde opname van Dido and Aeneas die rol van Aeneas (wat eintlik vir tenoor geskryf is) teenoor Janet Baker as Dido gesing. By Sadler’s Wells het hy in 1963 die rol van Segura tydens die première van Williamson se Our man in Havana geskep. In 1966 het hy in New York gedebuteer en twee jaar later ook by Covent Garden, waar hy met verloop van tyd verskeie rolle sou skep. Daaronder tel Faber in The knot garden (1970), die Wit Ab in Taverner (1972) en die Goewerneur in We come to the river (1976). Intussen het hy in 1968 in die première van Tavener se kantate The Whale onder David Atherton gesing, met ‘n hoogstaande opname wat daarvan gemaak is. Hy het verder as Wotan en Hagen in Ring-opvoerings by die Engelse Nasionale Opera (1970-4) en in Seattle (1977-81) gesing. Intussen is debute gemaak by die Salzburg Paasmusiekfees (1973) en die Metropolitan Opera (1977). Sy repertorium het ook rolle ingesluit soos Don Pizarro in Fidelio, Vader in Hänsel und Gretel, Scarpia in Tosca, Falstaff in Sir John in Love en die titelrol in Nabucco. Verdere opnames: die genoemde operas van Humperdinck (in Engels) en Vaughan Williams.

Herrmann, Bernard (1911-75), Amerikaanse dirigent en komponis. Hy was vanaf 1942 tot 1959 hoofdirigent van die CBS Simfonie-orkes, en was ‘n kampvegter vir die musiek van sy landgenoot Ives en van minder bekende Britse komponiste soos Bax, Brian en Scott. Sy bekendheid het egter in sy rolprent- en radiomusiek gelê - hy het die klankbane van nie minder nie as 49 rolprente geskryf. Daaronder tel verskeie van die beroemde regisseurs Orson Welles en Alfred Hitchcock, bv. Citizen Kane (1941), North by Northwest (1959) en Psycho (1960). Hy was een van die eerste komponiste om van elektriese instrumente gebruik te maak. Opnames: Raff se vyfde simfonie; Sjostakowitsj se rolprentmusiek vir Hamlet; Sibelius se Finlandia; asook sy eie eerste simfonie en opera Wuthering Heights.

Herreweghe, Philippe (1947-), Belgiese dirigent en koormeester. Hy het in 1969 die Collegium Vocale in Trent gestig en vroeë musiek saam met Ton Koopman en Gustav Leonhardt uitgevoer. Agt jaar later was hy ‘n medestigter van die Ensemble Vocal la Chapelle Royale. In 1989 het hy deelgeneem aan die Towards Bach reeks in Londen, en in dieselfde jaar het hy dirigent van die Europese Vokale Ensemble geword. Hy is wêreldbekend as 'n uitmuntende vertolker van gewyde werke vanaf die sestiende tot negentiende eeue. Dat sy repertorium egter wyer as dit strek, blyk uit die feit dat hy in 1991 konserte van Mahler en Schoenberg met die Ensemble Musique Oblique gedirigeer het. Opnames: dodemisse van Campra, Fauré, Gilles en Mozart; Bach se Mis in B mineur, Paasfeesoratorium, Sint Matteuspassie en Kantate nr. 66; Beethoven se Missa Solemnis; Berlioz se kantate Herminie; Cardoso se Missa Miserere en Magnificat; motette van M. Charpentier en Des Prés; Delalande se Dies irae en Miserere; Hassler se Missa super Dixit Maria; Lassus se La Lagrime di San Pietro en 9 Lamentationes Hieremiae; Lully se opera Armide; Mahler se Das Lied von der Erde; Mendelssohn se Psalm 42 en oratorium Elijah; Rameau se Les Indes galantes en motette In convertendo en Quam dilecta laboravi; Schubert se Mis in A mol; en Schütz se Musicalische Exequien.

Herrick, Christopher (1942-), Engelse orrelis. Hy was vir 10 jaar orrelis van die Westminster Abdy in Londen, waartydens hy meer as 200 uitvoerings gegee het. Sedert 1984 toer hy wêreldwyd as konsertorrelis-virtuoos. Hy het die volledige orrelwerke van J.S. Bach op ‘n aantal kerk- en stadsorrels in Switserland opgeneem, ‘n enorme projek wat op 16 kompakskywe vrygestel is. Die sukses daarvan het daartoe gelei dat hy genooi is om in 1998 tydens die Lincolnsentrum-fees in New York dieselfde reeks werke uit te voer - in 14 konserte op 14 agtereenvolgende dae. Hy is tans besig met ‘n projek om Buxtehude se volledige orrelwerke op te neem. Sleutelopnames: ‘n versameling solowerke van Sweelinck (op die orrel van die Norrfjärden-kerk in Pitea, Swede).

Hertz, Alfred (1872-1942), Duits-gebore dirigent. Hy het as jong kind met klavierlesse in sy geboortestad Frankurt-am-Main begin en op ses het hy begin komponeer. Teen 19-jarige leeftyd het hy die Halle Opera gedirigeer, waarna hy aan ‘n aantal Duitse operahuise verbonde was. Hy het in 1899 konserte in Londen gedirigeer, en drie jaar later het hy na die VSA verhuis. Sy Amerikaanse debuut is in dieselfde jaar (1902) by die Metropolitan Opera in New York gemaak. Daar sou hy tot 1915 as direkteur van Duitse musiek roem verwerf met sy Wagner-opvoerings. Dit sluit die eerste opvoering van Parsifal buite Bayreuth in (1903). Hy was in San Francisco as dirigent vir die legendariese Caruso op toer met die Metropolitan geselskap ten tyde van die groot aardbewing in 1906. In 1913 het hy ‘n historiese opname van uittreksels uit Parsifal met die Berlynse Filharmoniese Orkes gemaak. Vanaf 1915 tot 1930 was hy musiekdirekteur van die San Francisco Simfonie-orkes. Hy het die orkes in hul eerste opnames (vanaf 1925) en radio-uitsendings (vanaf 1926) gedirigeer. Onder hul opnames in die laat 1920’s tel Moessorgski se Nag op ‘n kaal berg. Sy afskeidskonsert met die Kaliforniese orkes in 1930 is deur 11 000 mense bygewoon. Vanaf 1932 tot 1939 het hy Amerikaanse radio-uitsendings ter wille van musiekopvoeding gedirigeer.’n Konsertsaal in Berkeley is na hom vernoem.

Hess, Myra (1890-1965), Engelse pianis. Aanvanklik het sy aan die Guildhall Musiekskool in Londen studeer, en op 12 is sy met ‘n beurs na die Koninklike Musiekakademie vir studies onder Tobias Matthay. Sy het in 1907 haar konsertdebuut in Londen onder Thomas Beecham gemaak, in Beethoven se vierde klavierkonsert. Daarna het sy wyd deur Europa en Noord-Amerika getoer, met ‘n Amerikaanse debuut in 1922 in New York. Sy was besonder gewild in die Engelssprekende wêreld, en in 1936 is die CBE aan haar toegeken. Kort ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het sy die daaglikse etensuurkonserte in Londen gestig. Dit is in die Nasionale Galery aangebied, wat van kunsskatte leeggemaak is om van die verwagte Duitse bombardering te ontkom. Sy het die konserte gelei, bekende musici genooi en gereeld self daarin opgetree sonder om betaling te vra. Die projek is as ‘n aansienlike stuwing van die Britse publiek se moreel beskou, en in 1941 het ‘n dankbare Koning George VI haar tot dame geskep. Met die terugkeer van die kunsskatte na die galery in 1946 het die konserte tot ‘n einde gekom, tot teleurstelling van talle Londense musiekliefhebbers.

Ná die oorlog het Hess haar internasionale toere voortgesit. Sy was bekend vir haar poëtiese, gevoelvolle vertolkings van Beethoven, Mozart en Schumann. Naas haar loopbaan as solis het sy in kamermusiek gespeel, onder meer in ‘n klavierduet met haar niggie Irene Scharrer. Voorts het sy 'n gewilde klavierverwerking van die koor Jesu, joy of man’s desiring uit Bach se Kantate nr. 147 gemaak. Sy het in 1961 na ‘n beroerte besluit om uit te tree, waarna sy vir oulaas by die Londense Proms en in die Royal Festival Hall uitvoerings gegee het. Dit was van Beethoven se klavierkonsert nr. 4 en Mozart se klavierkonsert nr. 23 onderskeidelik, met voortreflike opnames wat daarvan getuig. Verdere opnames: die genoemde werk van Bach; Beethoven se klavierkonserte nrs. 2, 3 en 5, asook sy klaviersonates nrs. 30 en 31; Brahms se eerste klaviertrio (met Pablo Casals en Isaac Stern); Franck se Simfoniese Variasies; Mozart se klavierkonsert nr. 9; Schumann se klavierkonsert, en van sy solowerke.

 

Heward, Leslie (1897-1943), Engelse dirigent en komponis. Nadat hy sy loopbaan as koorsanger en orrelis begin het, was hy vanaf 1920 musiekdirekteur van die Westminster-Skool in Londen en het ook opera gedirigeer. In 1924 het hy in Suid-Afrika gaan woon, waar hy tot 1927 dirigent van die Kaapstadse Orkes was. Daarna het hy na Brittanje teruggekeer en was vanaf 1930 tot sy dood hoofdirigent van die Hallé Orkes. Met hulle het hy kort voor sy skielike dood die eerste opname van Moeran se Simfonie in G gemaak en ook die konsertbegeleiding vir Eileen Joyce in Ireland se klavierkonsert verskaf. Beide opnames word steeds deur sommige kenners as ongeëwenaard beskou.

Hewitt, Angela (1958-), Kanadese pianis. Sy het in ‘n musikale gesin grootgeword, op drie jaar met klavierstudies begin en as vierjarige in die openbaar begin optree. Reeds op nege het sy haar eerste uitvoering by die Koninklike Konserwatorium in Toronto gegee, waar sy vir 9 jaar sou studeer. Vervolgens het sy aan die Universiteit van Ottawa gegradueer, waarna sy ‘n hele aantal pryse gewen het. Daaronder tel ‘n eerste plek in die Viotti-kompetisie in Italië, in 1978. In 1985 het sy in Londen gaan woon en in dieselfde jaar is haar deurbraak gemaak toe sy die internasionale Bach-kompetisie in Toronto gewen het. Sedertdien word sy met haar intelligente, stylvolle spel as een van die voorste Bach-pianiste ter wêreld beskou - volgens sommige kenners die heel beste. Sy het 1994 met ‘n projek begin om Bach se volledige werke vir die klawerbord op te neem. Met die 250ste herdenking van Bach se dood in 2000 het sy ‘n aantal uitvoerings van die 48 Preludes en fugas in Noord-Amerika en Europa gegee. Sy tree ook wyd deur die Verre Ooste, Australië en Rusland op. Eredoktorsgrade is deur die universiteite van Ottawa en Kingston aan haar toegeken, en in 1997 het sy die Sleutel tot die Stad Ottawa ontvang. In 2000 is sy tot ‘n Offisier in die Orde van Kanada verhef. Sleutelopnames: Bach se 6 Engelse Suites, 6 Franse suites, 48 Preludes en fugas en 7 Toccatas. Verdere opnames: Bach se volledige Partitas, Goldberg Variasies, en verwerkings van Bach-korale vir die klavier; Chopin se Nocturnes 1-21 en Impromptus 1-4; en solowerke van F. Couperin, Granados en Ravel.

Hickox, Richard (1948-2008), Engelse orrelis en dirigent. Hy het in 1971 sy professionele debuut in Londen gemaak nadat hy orrel aan Queen’s College, Cambridge studeer het. Vervolgens was hy orrelis en musiekdirekteur van die Sint Margaret-kerk, Westminster (1972-82), waartydens hy die City of London Sinfonia gestig het. Hy was in 1974 ‘n naaswenner in die John Player dirigeerkompetisie wat deur Simon Rattle gewen is. Voorts was hy musiekdirekteur van die Londense Simfoniekoor (1976-91) en artistieke direkteur van die Northern Sinfonia in Newcastle (1982-6). In 1983/4 was hy ‘n assistent-dirigent van die San Diego Simfonie-orkes, en in 1985 het hy die eerste mededirigent van die Londense Simfonie-orkes geword. Operadebute is gemaak in Manchester (1974), by die Engelse Nasionale Opera (1979), Covent Garden (1985) en Los Angeles (1986). Met die violis Simon Standage het hy in 1990 die Collegium Musicum 90 gestig vir die uitvoering van Barokmusiek op eietydse instrumente. Hy het die volldige Misse van Haydn in hoogstaande vertolkings met dié ensemble opgeneem. In 1992 het hy die première van sy landgenoot Tavener se We shall see Him as He is by die Chester-fees gedirigeer, met ‘n puik opname wat enkele dae later by die Londense Proms gemaak is. Hy het met die Londense Simfonie-orkes die eerste opname van die oorspronklike (1913) weergawe van Vaughan Williams se tweede simfonie gemaak, wat in 2001 ‘n Gramophone-prys gewen het. Vanaf 2001 was hy hoofdirigent van die BBC Nasionale Orkes van Wallis en vier jaar later het hy ook musiekdirekteur van die Australiese Opera geword.

Hickox het gereeld as gasdirigent elders in Europa en in die VSA opgetree. Hy was wêreldbekend in koormusiek (vanaf Barok tot hedendaags) en in moderne Britse opera. Sy opnames van Britten se operas word deur kenners as die beste weergawes daarvan beskou. Hy was ook ‘n kampvegter vir Vaughan Williams se operas. Vir sy dienste aan Britse musiek is die eerste Charles Groves-prys aan hom toegeken. Sy onverwagse dood weens ‘n hartaanval het die Britse musiekwêreld geskok. Hy was getroud met die mezzosopraan Pamela Helen Stephen. Ongeveer 300 opnames is deur hom nagelaat, meeste daarvan op die Chandos etiket. Sleutelopnames: Beethoven se Mis in C; Britten se War Requiem en opera The turn of the screw (DVD); Delius se Sea Drift, Songs of Sunset en Songs of Farewell; Haydn se Misse nrs. 10 en 14, Salve Regina en 2 Te Deums in C; Holst se Choral Fantasia, The Cloud Messenger en Hymn of Jesus; Hummel se Mis in E mol en Te Deum; Mendelssohn se oratorium Elijah; Poulenc se Gloria en Stabat Mater; Rossini se Stabat Mater; ‘n versameling uittreksels uit operettes van Gilbert en Sullivan (Northern Sinfonia 1980’s); Vaughan Williams se simfonieë nrs. 2 (oorspronklike weergawe), 4 en 5, asook sy Mis in G mineur, Dona nobis pacem en Sancta civitas; en die operas Oorlog en Vrede (Spoleto 1999) en The Pilgrim’s Progress (Covent Garden).

Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Rubbra, en ‘n aantal van Arnold, Berkeley, Dyson, Schubert, Sullivan, Tippett en Vaughan Williams; orkeswerke van Lennox en Michael Berkeley, Bridge, Delius, Dyson, Finzi, Grainger, Martinu, Poulenc, Respighi en Strawinski; Bach se Magnificat; Bernstein se Chichester Psalms; Brahms se Ein deutsches Requiem; Delius se A Mass of Life (in Duits) en Requiem; Elgar se oratoriums The Apostles, Caractacus, The Dream of Gerontius, The Kingdom en The Light of Life; Fauré se Requiem; ‘n versameling operette-arias van Gilbert en Sullivan; vele koorwerke van Grainger en Holst; 4 Misse van Hummel en sy Te Deum; Mahler se Das Klagende Lied; Mendelssohn se oratorium St Paul; Mozart se Requiem; Orff se Carmina Burana; Tavener se Fall and Resurrection; Tippett se A Child of our Time; Verdi se Requiem; Vivaldi se Gloria; Walton se oratorium Belshazzar’s Feast; en die operas A Dinner Engagement, Ruth, Albert Herring, Billy Budd, Paul Bunyan, Death in Venice, Peter Grimes, The Rape of Lucretia, Savitri, L’incoronazione di Poppea, Sir John in Love, The Poisoned Kiss, The Bear en Troilus and Cressida.

Higginbottom, Edward (1947-), Engelse orrelis en dirigent. Terwyl hy nog op skool was, het hy al ‘n genoot van die Koninklike Kollege van Orreliste geword. Hy het daarop met ‘n studiebeurs orrel aan Corpus Christi College, Cambridge gaan studeer. Terselfdertyd het hy in Parys onder die vermaarde orrelis Marie-Claire Alain studeer en ‘n voorliefde vir Franse musiek bekom. Hy sou Francois Couperin se kamermusiek redigeer en artikels oor Franse musiek tot woordeboeke bydra. Die Franse Ministerie van Kultuur het die Officier de l’Ordre des Arts et des Lettres aan hom toegeken vir sy rol in die herlewing van skoolkore in dié land. Aan Cambridge het hy ‘n doktorsgraad in Franse Barokmusiek verwerf en daarna het hy vir drie jaar navorsing gedoen (1973-6). In Cambridge was hy ook direkteur van die Purcell Vereniging, met wie hy gereeld in Frankryk opgetree het. In 1976 is hy as musiekdirekteur van die New College Choir in Oxford aangestel, met wie hy wye roem sou verwerf deur hul Europese toere en vele hoogstaande opnames. Hy speel self die orrel tydens hul uitvoerings. Hulle konsentreer op musiek van die Renaissance en Barok, maar sing soms werke van hedendaagse komponiste soos Pärt en Tavener. Hul opname van Pergolesi se Maria-Vespers is in 2004 vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. Daarby gee hy onderrig aan die Universiteit van Oxford. Sleutelopnames: Bach se Sint Johannespassie; Lassus se Missa tous le regretz en ander koorwerke; 2 van Mondonville se Grands motets en 3 van sy Petits motets; ‘n versameling motette en gesange van Palestrina; ‘n versameling koorwerke van Stanford. Verdere opnames: versamelings koorwerke van Boyce, Byrd, Delalande, Howells, Tallis, Tomkins en Taverner.

Hill, Martyn (1944-), Engelse tenoor. Hy het in 1982 in die eerste uitvoering van Carter se In Sleep, In Thunder in Londen opgetree. Drie jaar later het hy met die Glyndebourne Toeropera in Idomeneo gedebuteer en in 1988 by die Fees self. Intussen het hy vanaf 1986 by die Skotse Opera gesing en twee jaar later is sy Amerikaanse debuut in New Hampshire gemaak. Sy repertorium sluit verdere operarolle soos Eumete in Il ritorno d'Ulisse in Patria en Sir Philip Wingrave in Owen Wingrave in. Daarby is hy 'n begaafde konsert- en liederesanger, veral in die musiek van sy landgenote. Opnames: Alain se Prière pour nous autres charnels; Almeida se La Giuditta; Britten se Ballad of heroes, Serenade (onder beide Asjkenazy en Hickox), Spring symphony, War Requiem en koordanse uit Gloriana; Ferguson se kantate Amore langueo; Handel se Acis and Galatea (as Damon), Anthem for the Foundling Hospital, Ode for the birthday of Queen Anne en The Ways of Zion do mourn; verskeie misse van Haydn; Holloway se Sea Surface Full of Clouds; Howells se Missa Sabrinensis; Humfrey se koorwerk O Lord my God; Locke se The Tempest; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; teatermusiek van Purcell; Tavener se Fall and Resurrection; Vaughan Williams se Serenade to Music; liedere van Lili Boulanger, Dowland, Hahn, Purcell, Rawsthorne, Schubert, Tippett en Walton; orkesliedere van Bax en Walton; die genoemde operas van Britten en Monteverdi, asook Partenope, The Fairy Queen en The Indian Queen.

Hill, Peter (1948-), Engelse pianis en musiekgeleerde. Met sy sensitiewe spel spesialiseer hy in klaviermusiek van die twintigste eeu, veral dié van Messiaen. Sy opnames van Messiaen se volledige klaviermusiek, wat tussen 1986 en 1992 in samewerking met die komponis gedoen is, word hoog aangeskryf. Hy het voorts die eerste opnames van sy landgenoot Havergal Brian se klaviermusiek gemaak. Daarby het hy ‘n boek oor Messiaen geskryf, en is hy ‘n hoogleraar aan die Universiteit van Sheffield. Verdere opnames: ‘n versameling solowerke van Berg, Schoenberg en Webern.

Hilliard Ensemble, Britse mannestem-kwartet wat in 1974 gestig is met Paul Hillier as direkteur. Hulle het wye roem verwerf vir hul innoverende vertolkings van musiek wat voor 1600 gekomponeer is, dit wil sê van die Middeleeue en Renaissance. Daarby is hulle tuis in sommige hedendaagse werke, met komponiste soos Heinz Holliger en Arvo Pärt wat werke vir hul geskryf het. Hul 1988-opname van Pärt se Sint Johannespassie in die Durham-katedraal het heelwat bygedra om die Estiese komponis in die Engelssprekende wêreld te populariseer. Die opname is ook op DVD uitgereik.

Hillier, Paul (1949-), Engelse sanger en dirigent. Hy het in 1974 die Hilliard Ensemble, ‘n vokale kwartet, gestig en vervolgens gedirigeer. In 1990 het hy ook The Theatre of Voices gestig. Vervolgens het hy vir langer as 10 jaar in die VSA onderrig gegee, eers aan die Universiteit van Kalifornië in Davis en toe as direkteur van die Instituut vir Vroeë Musiek aan die Universiteit van Indiana. By laasgenoemde was hy ook direkteur van die Pro Arte Singers. Hy het in 2003 na Europa teruggekeer, waar hy tans hoofdirigent van die Ars Nova in Kopenhagen en die Estiese Filharmoniese Kamerkoor is. Voorts tree hy wêreldwyd as gasdirigent op. Hy het al meer as 100 opnames tot sy krediet, waarvan talle pryse gewen het. Daarby het hy boeke geskryf oor Arvo Pärt en Steve Reich. In 2002 het hy ‘n ere-hoogleraar in musiek aan die Universiteit van Kopenhagen geword, en twee jaar later is die Estiese Kultuurprys aan hom toegeken. Die OBE is in 2006 aan hom toegeken. Hy is woonagtig in Kopenhagen, waar hy sy Ars Nova vokale ensemble in hoogaangeskrewe opnames van Schütz se Kersfeesverhaal, Opstandingsverhaal, Sint Mattheuspassie, Sint Lukaspassie, Sint Johannespassie en Die Sewe Woorde gedirigeer het. Verdere opnames: kerkmusiek van Abelard, Byrd, De Machaut, Des Prés, Dunstable, Gesualdo, Kancheli, Mansurian, Pérotin, Power en Schütz; Pärt se Summa en Stabat Mater.

Hilton, Janet (1945-), Engelse klarinettis. Sy was eerste klarinettis by die Walliese Nasionale Opera (1970-3) en in die Skotse Kamerorkes (1973-80), en speel ook gereeld met die Manchester Camerata. Daarbenewens het sy onderrig gegee aan die Koninklike Skotse Musiekakademie (1974-8) en die Koninklike Noordelike Musiekkollege (1982-6). As een van die voorste klarinet-virtuose van haar tyd is sy ewe begaafd in konsert- en kamermusiek van Romantiese en moderne komponiste. Opnames: klarinetkonserte van Arnold, Copland, Nielsen, Stanford en Weber; klarinetkwintette van Bliss, Brahms en Weber (elk met die Lindsay Kwartet); Bax se klarinetsonate; Lutoslafski se Danspreludes; Mozart se Kegelstatt Trio (met Nobuko Imai en Roger Vignoles); en Vaughan Williams se 6 Studies.

Hirokami, Jun'ichi (1958-), Japannese dirigent. Hy was in 1983 ‘n assistent-dirigent van die Nagoya Filharmoniese Orkes en het daarna internasionaal as gasdirigent begin optree, onder andere by die Orchestre National de France (1986) en die Israeliese Filharmoniese Orkes (1988). Sy Londense debuut het in 1989 plaasgevind met die Londense Simfonie-orkes. In dieselfde jaar het sy operadebuut by die Australiese Opera gevolg, met Verdi se Un ballo in maschera. Sedert 1991 is hy hoofdirigent van die Norrköping Simfonie-orkes.

Hirsch, Rebecca (?-), Engelse violis. Sy tree wyd as solis deur Brittanje en elders in Europa op, en word beskou as een van die voorste violiste in hedendaagse musiek. Só het sy die premières gegee van vioolkonserte deur Borreson, Norgard, Ruders, Sorenson en Wilson. Haar opnames van Rawsthorne se twee vioolkonserte is vir ‘n Gramophone toekenning benoem. Verdere opnames: vioolkonserte van Berg, Britten en Norgard; en Pärt se Tabula Rasa (met Leslie Hatfield).

Hislop, Joseph (1884-1977), Skotse tenoor. Hy het in 1914 by die Sweedse Koninklike Opera gedebuteer en ses jaar later ook by Covent Garden begin sing. Benewens sy suskesvolle opera- loopbaan het hy bekendheid verwerf as 'n leermeester aan die Guildhall Musiekskool en die Koninklike Akademie in Stockholm (1936-49). By laasgenoemde instansie het sy leerlinge die groot tenoor Jussi Björling ingesluit.

Hodgson, Alfreda (1940-92), Engelse mezzosopraan. Twee jaar nadat sy in 1961 haar debuut in Liverpool gemaak het, het sy in Londen begin sing. Verdere debute het plaasgevind by die Engelse Nasionale Opera (in 1974, as Ulrica in A Masked Ball) en Covent Garden (in 1983, in L'Enfant et les Sortilèges). Verder het sy as konsertsangeres uitgeblink in werke oor 'n wye repertorium, onder andere as die Engel in Elgar se The Dream of Gerontius wat sy in ‘n voortreflike opname onder Alexander Gibson gesing het. Verdere opnames: Bach se Sint Johannespassie; Beethoven se negende simfonie (onder beide Hickox en Tennstedt); Elgar se The Apostles, The Kingdom en Coronation Ode; Haydn se Salve regina en Stabat Mater; Kodály se Missa brevis; Mahler se Das klagende Lied (onder Rattle) en Das Lied von der Erde (onder Horenstein); Mozart se Requiem; en die opera La Gioconda.

Höffgen, Marga (1921-95), Duitse alt. Sy het aan die Berlynse Konserwatorium onder Hermann Weissenborn studeer. Haar konsertdebuut is in 1952 in Berlyn gemaak, en in dieselfde jaar het sy ‘n geslaagde verskyning as solis in Bach se Sint Mattheuspassie onder Herbert von Karajan in Wenen gemaak. Daarna het sy een van die voorste sangeresse in Bach se gewyde werke geword, met talle opnames wat gemaak is. Sy het ook opera gesing by Covent Garden, die Weense Staatsopera en die Bayreuth-fees. Opnames: Bach se Kantates nrs. 67 en 78 (onder Werner), Kantates nrs. 41, 48, 96, 125 en 146 (onder Rilling), en Mis in B mineur (onder Karajan, 1952); en Beethoven se negende simfonie (onder Karajan in 1955 en Klemperer in 1964, lg. op DVD).

Hoffman, Grace (1925-), Amerikaanse mezzosopraan. Nadat sy in 1951 met die VSA Toergeselskap gedebuteer het as Lola in Cavalleria rusticana, was sy ‘n lid van die Zürich Opera (1953-5). Daarna het debute gevolg by die Bayreuth-fees (1957), die Metropolitan opera (1958) en Covent Garden (1959). Vanaf 1978 was sy ‘n hoogleraar in sang aan die Stuttgart Konserwatorium. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Klemperer); Mahler se Das klagende Lied (onder Boulez); en die opera Salome.

Hoffmann, Bruno (1913-91), Duitse glasharpspeler en komponis. As seun van ‘n kerk-musiekdirekteur het hy klavier- en orrellesse ontvang. Op sestien het hy die onaardse klanke van die ‘musikale glase’ ontdek, wat ‘n lewenslange toewyding tot gevolg sou hê. Hy het terstond begin om sy eie instrument te maak, waarmee hy wyd deur Duitsland en die Britse eilande sou optree. Met sy Londense debuut in 1938 het hy Mozart se Adagio en Rondo (K617) herleef nadat dit lank in die vergetelheid gelê het. Dekades later, in die 1980’s, het hy met Heinz Holliger en Aurèle Nicolet in ‘n hoogaangeskrewe opname van dié werk gespeel. Onder sy verdere opnames tel Fellini se rolprent Casanova (1976) en ‘n dokumentêre rolprent oor Benjamin Franklin, ontwerper van die glasharmonika. Hy het ‘n sleutelrol gespeel in die herlewing van belangstelling in die glasharp en glasharmonika in die tweede helfte van die twintigste eeu.

Hofmann, Josef (1876-1957), Pools-gebore pianis en komponis. Hy was ‘n wonderkind wat sy openbare debuut as sesjarige gemaak en drie jaar later as solis met die Berlynse Filharmoniese Orkes gespeel het. In 1887 het hy as elfjarige sy debuut in New York gemaak, maar sy Amerikaanse toer is kortgeknip weens besware van beweerde kindermishandeling. Hy het teësinnig na Europa teruggekeer en ‘n gedwonge uittrede tot op die ouderdom van agtien jaar aanvaar. Nietemin het hy in 1888 in die heel eerste opnames van klaviermusiek gespeel. Vanaf 1892 het hy vir twee jaar in Sint Petersburg onder die komponis Anton Rubinstein studeer, en in 1894 is sy openbare loopbaan met 'n uitvoering in Dresden hervat. Daarna het hy weer wyd getoer en vanaf 1898 merendeels in die VSA gewoon. In 1926 het hy ‘n Amerikaanse burger geword, en vanaf dié jaar tot 1938 was hy direkteur van die Curtis Instituut in Philadelphia. Hy het in 1936 in ‘n radio-uitsending van Chopin se tweede klavierkonsert gespeel, met ‘n historiese opname wat daarvan gemaak is. Sy afskeidsoptrede is in 1946 in New York gegee. Hy was een van die grootste vertolkers van Chopin, Liszt en ander Romantici van sy tyd. Self het hy ‘n simfonie en heelwat klavierwerke, waaronder vyf konserte, gekomponeer. Hy het soms onder die skuilnaam Michel Dvorsky opgetree, en was interessant genoeg ook die uitvinder van die ruitveër. Verdere opnames: Beethoven se Waldstein klaviersonate; en Chopin se Ballade in G mineur.

Hofmann, Peter (1944-2010), Duitse tenoor. Nadat hy in 1972 sy debuut in Lübeck gemaak het as Tamino in Die Zauberflöte, was hy vanaf die jaar daarop aan die Stuttgart Opera verbonde. Hy het wêreldbekend geraak in die operas van Wagner, met verdere debute wat gevolg het in Wenen (1976) en San Francisco (1977). Sy rolle het ingesluit Erik in Der fliegende Holländer, die titelrolle in Lohengrin en Parsifal, Siegmund in Die Walküre, en Siegfried in Siegfried en Götterdämmerung. In 1976 het hy Siegfried gesing tydens die eeufeesvieringe van die Ring-siklus by Bayreuth en Covent Garden. Later het hy Parsifal gesing by Covent Garden (1979) en die Salzburg Paasmusiekfees (1980). Interessant genoeg was hy ook ‘n rock-sanger. Opnames: die genoemde Wagner-operas.

Hofmeyr, Zanta (?-), Suid-Afrikaanse violis. Sy het onder Vincent Fritelli studeer en op 14 haar debuut as solis met die Johannesburgse Simfonie-orkes gemaak. Later het sy aan die Juilliard Musiekskool in New York gaan studeer, en na graduering is ‘n debuut-voordrag in dié stad gegee. Sy het oor die jare vele toekennings in Suid-Afrika gewen en tree wyd as solis op. In 1999 het sy die volledige vioolsonates van Beethoven by die Grahamstad-fees uitgevoer. Daarby is sy ‘n hoogleraar in viool aan die Universiteit van Pretoria.

Hogwood, Christopher (1941-), Engelse klawesimbelspeler, dirigent en musiekgeleerde. Hy het sy loopbaan as klawesimbelspeler met die Academy of St Martin in the Fields begin. In 1967 het hy die Early Music Consort saam met David Munrow gestig, waarin hy tot 1976 sou speel. Intussen het hy in 1973 die Academy of Ancient Music gestig vir die uitvoering van Barok- en Klassieke musiek op eietydse instrumente. In die laat 1970’s en vroeë 1980’s het hulle die eerste eietydse siklus van Mozart se volledige simfonieë opgeneem, en in 1986 die eerste eietydse opname van Handel se Messiah. Verder was hy vanaf 1987 vir vier jaar ‘n dirigent van die Saint Paul Kamerorkes in Minnesota, en sedertdien is hy hul hoofgasdirigent. Hy is ‘n besoekende hoogleraar aan die King’s College in Londen, en is die skrywer van boeke oor Handel en Haydn en van ‘n handboek oor triosonates. In 1989 is die CBE aan hom toegeken. By Covent Garden het hy in 2009 ‘n opvoering van Handel se Acis and Galatea gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Sy meesterlike vertolkings van musiek uit die sewentiende en agtiende eeue het hom wêreldbekend gemaak, maar sy repertorium sluit ook ‘n hele aantal Romantiese en moderne komponiste se werke in.

Sleutelopnames (met die AAM tensy anders aangedui): Handel se opera Rinaldo; Martinu se The Amazing Flight, On tourne en La Revue de cuisine (Tsjeggiese Filharmonie); Mozart se Serenades nrs. 10-12, en 4 Divertimenti vir houtblasers; Vivaldi se 12 vioolkonserte L’estro armonico (met L’Arte dell’Arco). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven, Boyce en Gade, en talle van Haydn; ander orkeswerke van C.P.E. en J.S. Bach, Dvorák, Handel, Locke, Mozart, Purcell, Strawinski, Telemann en Vivaldi; Bach se Kantates nrs. 202 en 210; kerkmusiek van F. Couperin; Handel se oratoriums Alceste, Athalia, Esther en La Rezurrezione, en opera Orlando; Haydn se oratorium The Creation (in Engels); Locke se The Tempest; Mozart se Mis nr. 18 en Requiem; ‘n aansienlike versameling teatermusiek van Purcell; Schulz se se kantate Christe Dod en motet Denk ich Gott an deine Güte; die operas Athalia, Orlando, L’Anima del filosofo, Armida, La clemenza di Tito, Die Entführung aus dem Serail en Dido and Aeneas; (en as solis) C.P.E. Bach se Fantasie in C; J.S. Bach se Franse suites; Byrd se My Ladye Nevells Booke; en 2 solowerke van Schulz.

Holl, Robert (1947-), Nederlandse bas. Nadat hy die internasionale sangkompetisies in ‘s Hertogenbosch (1971) en München (1972) gewen het, was hy vanaf 1973 aan die Beierse Staatsopera in München verbonde. Sedert 1975 konsentreer hy op ‘n konsertloopbaan, veral gewyde werke waarin hy uitmuntend is. Hy sing sedert 1996 soms Wagner-rolle soos Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg en Koning Mark in Tristan und Isolde met groot sukses. Opnames: ‘n hele aantal kantates van Bach en sy Magnificat in D (laasgenoemde onder Karajan); Beethoven se negende simfonie en Missa Solemnis (beide onder Harnoncourt); liedere van Brahms en Schumann; Bruckner se Te Deum; Diepenbrock se Die Nacht; Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; Sjostakowitsj se dertiende simfonie (onder Inbal); kerkmusiek van Vivaldi (onder Negri); en die opera Tristan und Isolde.

Holliger, Heinz (1939-), Switserse hobospeler, dirigent en komponis. Hy het in Berne en later onder die komponis Pierre Boulez in Basel studeer. In 1959 het hy die internasionale musiekkompetisie in Genève gewen en twee jaar later ook dié in München. Vanaf 1959 tot 1964 was hy eerste hobospeler van die Basel Orkes, en in 1961 het sy Salzburg-feesdebuut plaasgevind. Sedert 1966 is hy 'n hoogleraar in hobo aan die Freiburg Konserwatorium. Sy repertorium strek oor al die tydperke, maar hy is veral bekend in moderne musiek, met talle werke wat deur Berio, Henze, Lutoslafski, Ligeti, Messiaen, Penderecki, Stockhausen en andere vir hom geskryf is. As die bekendste hobospeler van die tweede helfte van die twintigste eeu het hy 'n belangrike rol gespeel om die tegniek van sy instrument uit te brei. Verder dirigeer hy soms ensembles soos die Stuttgart Radio Simfonie-orkes en die Kamerorkes van Europa. Sleutelopnames: Bach se Dubbelkonsert vir viool en hobo (met Grumiaux); Schoenberg se 2 Kamersimfonieë en Verklärte Nacht (Kamerorkes van Europa). Verdere opnames (as solis): hobokonserte van Albinoni, C.P.E. en J.S. Bach, Handel, Maderna, Marcello, Martinu, Mozart, Richard Strauss, Telemann, Vivaldi en Zimmermann; Bach se Dubbelkonsert vir viool en hobo (met Gidon Kremer); Mozart se Adagio en Rondo (met Bruno Hoffmann, Aurèle Nicolet en andere); hobowerke van Berg, Berio, M. Haydn, Honegger, Martin, Messian, Schoenberg en Zelenka; (en as dirigent) Koechlin se orkeswerke Le Buisson ardent en La Course de printemps; en sy eie opera Schneewitten. Sy vrou is die harpspeelster Ursula Holliger.

Holliger, Ursula (1937-), Switserse harpspeelster. As solis het sy met van die voorste orkeste ter wêreld opgetree, met 'n Salzburg-feesdebuut wat in 1974 gemaak is. Daarbenewens is sy 'n hoogleraar in harp aan die Basel Musiekakademie. Sy is getroud met die beroemde hobospeler Heinz Holliger, met wie sy dikwels in uitvoerings en opnames optree. Soos Heinz is sy veral bekend in moderne musiek, sodat vele werke deur moderne komponiste soos Henze, Ligeti en Lutoslafski vir hulle geskryf is. Daaronder tel Henze se Dubbelkonsert (1966). Sleutelopname: Handel se harpkonsert opus 4/6 (onder Pinnock). Verdere opnames: C.P.E. Bach se Solo in G mineur; (en met Heinz): Henze en Ligeti se Dubbelkonserte; Honegger se Antigone; en Martin se Pièce brève.

Hollins, Alfred (1865-1942), Engelse orrelis, pianis en komponis. Hy was blindgebore, maar het nogtans dikwels in klavierkonserte en ander uitvoerings opgetree.

Hollreiser, Heinrich (1913-2006), Duitse dirigent. Nadat hy aan die Staatsmusiekakademie in sy tuisstad München studeer het, is dirigeerposte beklee in Wiesbaden, Darmstadt, Mannheim en Duisburg. Hy was vanaf 1942 vir drie jaar hoofdirigent van die Beierse Staatsopera in München en daarna was hy musiekdirekteur van die Düsseldorf Opera (1945-52). Vanaf 1945 tot 1951 het hy ook die Berlynse Filharmoniese Orkes en die Bamberg Simfonie-orkes gedirigeer. Intussen het hy in 1947 die Duitse première van Britten se Peter Grimes in Hamburg gedirigeer. Hy was voorts ‘n dirigent by die Weense Staatsopera (1952-61), waar hy die Oostenrykse première van Strawinski se opera The rake’s progress gedirigeer het. Vanaf 1961 was hy vir drie jaar verbonde aan die Deutsche Oper in Berlyn  en vanaf 1973 het hy vir drie seisoene by die Bayreuth-fees opgetree, met ‘n debuut wat daar met Tannhäuser gemaak is. Hy het in dié tyd by die Dresden Staatsopera ‘n voortreflike opname van Wagner se vroeë opera Rienzi gemaak. In 1976 het hy die Ring-siklus in Wenen gedirigeer en twee jaar later is sy Amerikaanse debuut met die Cleveland Orkes gemaak. As gasdirigent het hy ook in Madrid en Barcelona opgetree.

Höllscher, Ulf (1943-), Duitse violis (Engels Hoelscher). Ná aanvanklike lesse onder sy vader het hy onder Max Rostal in Keulen studeer. Hy is daarop na die VSA vir verdere studies onder Joseph Gingold aan die Universiteit van Indiana en Ivan Galamian aan die Curtis Instituut in Philadelphia. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1977 gemaak. As solis het hy met bekende Europese en Amerikaanse orkeste verskyn, en toere is deur Europa, die Verre Ooste en Australië onderneem. Hy het die eerste uitvoerings van hedendaagse werke deur Kirchner, Reimann en Franz Hummel gegee. In kamermusiek tree hy met bekende musici soos die tjellis Heinrich Schiff en die pianis Christian Zacharias op. Daarby gee hy onderrig aan die Berlynse Konserwatorium (sedert 1987), die Karlsruhe Konserwatorium en die Accademia di Cervo in Italië. Hy speel op ‘n Guarneri-viool van die agtiende eeu. Sleutelopname: Wolf-Ferrari se vioolkonsert (onder Francis). Verdere opnames: Beethoven se Driedubbele Konsert (met Zacharias en Schiff); Saint-Saëns se drie vioolkonserte; en R. Strauss se vioolkonsert.

Hollweg, Werner (1936-2007), Duitse tenoor en operaregisseur. Hy het sang studeer onder Frederick Husler in Detmold, asook in Lugano en München. Nadat hy in 1962 sy debuut by die Weense Kameropera gemaak het, het hy opera gesing in Bonn (1963-7), Gelsenkirchen (1967/8) en Düsseldorf. Ná afrigting onder Herbert von Karajan het hy by die voorste operahuise in Berlyn, Hamburg, München en Wenen opgetree. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1969), Covent Garden (1976) en Parys (1986). By Salzburg het hy oor ‘n tydperk van 20 jaar naam gemaak in Mozart se operas, onder andere as Belmonte in Die Entführung aus dem Serail en in die titelrolle van La clemenza di Tito en Idomeneo. Hy het daarby hoofrolle gesing in Nikolaus Harnoncourt se hoogaangeskrewe opvoerings van Monteverdi-operas in Zürich. As sanger het hy met groot dirigente soos Otto Klemperer, Rafael Kubelik, Igor Markewitsj, Claudio Abbado, Yehudi Menuhin en Carlo Maria Giulini verskyn. In die 1980’s het hy as regisseur begin werk, met ‘n debuut in Mozart se opera Zaise by die Weense Fees in 1983. Hy het 1989 die rol van Matthew Levi tydens die première van Holler se opera Die Meister und Margarita geskep, gebaseer op Mikhail Bulgakov se epiese roman. Ook was hy begaafd in konsertmusiek, insluitend gewyde werke. Hy was ‘n puik solis in Erich Leinsdorf se Lentekonsert met die Weense Simfonie-orkes, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Vir tien jaar was hy ‘n hoogleraar aan die Staatshoërskool vir Musiek in Freiburg. Verdere opnames: Haydn se oratorium Die Schöpfung (onder Dorati); Mahler se kantate Das klagende Lied (onder Chailly); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Karajan); madrigale van Monteverdi; Puccini se Messa di Gloria; en die operas Idomeneo, Mitridate, rè di Ponto, Zaïde en Tannhäuser.

Hollywood Kwartet, Amerikaanse strykkwartet. Hulle het bestaan uit vier ateljee-musici wat aanvanklik na werk bymekaargekom het om informeel musiek te maak. Vanaf 1948 het hul landswyd opgetree en mettertyd ook internasionaal, onder meer in ‘n heuglike Londense konsert in 1957. Tydens laasgenoemde geleentheid is historiese opnames van Haydn se strykkwartet nr. 76 en Mozart se strykkwartet nr. 17 gemaak. Vir hul opnames is slegs een mikrofoon gebruik, met spel wat gekenmerk is deur buitengewone virtuositeit, volmaakte ensemble en organiese kontinuïteit. Naas die klassieke repertorium was hul kampvegters vir nuwe werke deur Villa-Lobos, Piston, Walton, Creston en andere. Voor hul gevierde 1950-opname van Schoenberg se Verklärte Nacht het hul dit voor die bejaarde komponis gespeel, wat so beïndruk was dat hy die musieknotas vir die langspeelplaat geskryf het. Onder hul vennote tel die popsanger Frank Sinatra, met wie hul ‘n opname gemaak het. Sleutelopname: die genoemde werk van Schoenberg. Verdere opnames: strykkwartette van Beethoven (nrs. 12-16), Borodin (nr. 2), Creston, Dvorák (nr. 12), Hindemith (nr. 3), Kodály (nr. 2), Prokofiëf (nr. 2), Smetana (nr. 1), Tsjaikofski (nr. 1), Villa-Lobos (nr. 6) en Walton; Beethoven se Grosse Fuge; Glazoenof se 5 Novelettes; Schubert se Strykkwintet (met die tjellis Kurt Reher); en Turina se La oracion del toro.

Holst, Imogen (1907-84), Engelse dirigent en komponis. As dogter van die komponis Gustav Holst was sy die skrywer van twee boeke oor haar vader en het sy ‘n aantal van sy werke geredigeer. Sy het verskeie werke van Holst met die Engelse Kamerorkes opgeneem, en het ook boeke oor Byrd, Purcell en Britten geskryf. Vanaf 1943 tot 1951 was sy musiekdirekteur van Dartington Hall en vanaf 1952 tot 1964 direkteur van die Aldeburgh-fees, waar sy 'n medewerker van die komponis Benjamin Britten geword het.

Holten, Bo (1948-), Deense dirigent en komponis. Hy het in 1979 die vokale ensemble Ars Nova gestig, wat hy oor die volgende jaar 17 jaar in meer as 500 konserte sou lei. In 1996 het hy die vokale ensemble Musica Ficta gestig, met wie hy reeds ongeveer 250 uitvoerings gegee het. Met beide ensembles het hy ‘n hele aantal opnames gemaak. As bekende in vroeë musiek, veral in veelstemmige werke, tree hy ook wyd deur Europa as koordirigent op. Hy bied jaarliks sedert 1985 ‘n orkeswerkswinkel vir opkomende komponiste met die Suid-Jutland Simfonie-orkes aan. Sedert 1991 is hy gasdirigent van die BBC Singers, met wie hy in talle konserte opgetree het. Met die Aarhus Simfonie-orkes het hy hoogstaande opnames gemaak van Delius-werke wat deur Denemarke en Noorweë geïnspireer is. As komponis het hy al meer as honderd werke op sy kerfstok, insluitend 6 operas en meer as 30 a capella koorwerke. Verdere opnames: ‘n versameling gewyde koorwerke van die Portugese Renaissance-komponiste Cardoso, Lobo en Magalhaes.

Homer, Louise (1871-1947), Amerikaanse alt. Sy het in Parys studeer en haar debuut in 1898 in Vichy in La Favorita gemaak. By Covent Garden het sy in Wagner se operas uitgeblink. Sy het ook gesing by die Metropolitan Opera (1900-19 en weer 1927-30), en in Chicago (1920-25). Haar bekendheid het veral berus op haar vertolkings van Orfeo in Orfeo ed Euridice en Delila in Samson et Dalila.

Hongaarse Kwartet, strykkwartet wat in 1935 deur die violis Sándor Végh in Boedapest gestig is. In die jaar daarop het hulle die première van Bartók se vyfde strykkwartet gegee. Kort daarna het Végh hul verlaat om die kwartet wat na hom vernoem is te stig. Later het die ensemble in Nederland gaan woon, en in 1950 het hulle na die VSA geëmigreer. In dié land was hulle lank as residensiële kwartet aan die Universiteit van Suidelike Kalifornië verbonde. Hul debuut by die Salzburg-fees het in 1958 plaasgevind. Hulle het die volledige strykkwartette van Bartók en Beethoven in hoogaangeskrewe vertolkings opgeneem. In 1970 is die kwartet ontbind. Verdere opnames: Schubert se laaste 3 strykkwartette, en sy Strykkwintet (met die tjellis László Varga).

Höngen, Elisabeth (1906-97), Duitse mezzosopraan. Nadat sy in 1933 in Wuppertal as Dame Macbeth in Macbeth gedebuteer het, was sy verbonde aan operahuise in Düsseldorf (1935-40) en Dresden (1940-3), en aan die Weense Staatsopera (vanaf 1943). Na die Tweede Wêreldoorlog is verdere debute gemaak by Covent Garden (1947), die feeste in Salzburg (1948) en Bayreuth (1951), en die Metropolitan Opera (1952). Haar bekendheid het in dramatiese rolle soos Grootmoeder in Jenufa, Ortrud in Lohengrin, Amneris in Aida, Fricka in Das Rheingold en Die Walküre, Erda in Siegfried en Waltraute in Götterdämmerung gelê. Voorts was sy begaafd in die titelrol van Carmen. In 1950 het sy by La Scala in Wilhelm Furtwängler se opgeneemde Ring-siklus gesing. Sy het ook as konsertsangeres verskyn in twee van Furtwängler se legendariese opnames van Beethoven se negende simfonie: in Berlyn in 1942 en in Bayreuth in 1951. Vanaf 1957 het sy vir drie jaar aan die Weense Akademie sangonderrig gegee en in 1971 het sy uitgetree. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Horenstein); en die operas Götterdämmerung (onder Knappertsbusch) en Jenufa (onder Krombholc).

Horenstein, Jasja (1898-1973), Oekraïns-gebore dirigent. Hy het in Wenen onder Adolf Busch en in Berlyn studeer, en was vanaf 1921 vir twee jaar Wilhelm Furtwängler se assistent in die Duitse hoofstad. Daarna het hy die Weense Simfonie-orkes gedirigeer en vanaf 1929 die Düsseldorf Opera. Hy het intussen in 1928 ‘n historiese opname van Mahler se Kindertotenlieder met die bariton Heinrich Rehkemper en die Berlynse Staatsopera-orkes gemaak. Ná 1933 het hy wêreldwyd as gasdirigent in konserte en operas opgetree, met VSA-debute in 1940. Aanvanklik het hy ‘n Oostenrykse burger geword, maar in die vroeë 1940’s is hy deur die Nasionaal-Sosialiste gedwing om te emigreer, waarna hy ‘n Amerikaanse burger geword het. Hy het die Paryse premières van Wozzeck (1950) en Uit die huis van die dode (1951) gedirigeer, asook die Amerikaanse première in ‘n konsertweergawe van Doktor Faust (New York, 1964). In 1961 het hy by Covent Garden gedebuteer met Fidelio, en ‘n jaar voor sy dood het hy in Engeland ‘n uitstekende opname van Mahler se Das Lied von der Erde gedirigeer. Hy was 'n beskeie, fyn gekultiveerde mens en 'n hoogs begaafde vertolker van Bruckner, Mahler en Schoenberg. As jong musikus was hy bevriend met die komponis Berg, en het hy met Rachmaninof en Richard Strauss saamgewerk. Verdere opnames: verskeie simfonieë van Beethoven, Bruckner (nrs. 5, 8 en 9), Mahler (nr. 8), Prokofiëf en Simpson; 'n aantal werke van Panufnik; en Schoenberg se Verklärte Nacht.

Horne, Marilyn (1934-), Amerikaanse mezzosopraan. Sy was 'n student van die beroemde Lotte Lehmann in Kalifornië en het in 1954 in die rolprent Carmen Jones (in die titelrol) gesing. In dieselfde jaar het haar operadebuut in Los Angeles plaasgevind, as Hata in Die Verruilde Bruid. Vanaf 1956 was sy vir vier jaar ‘n lid van die Gelsenkirchen Operamaatskappy, met verdere debute wat gevolg het by die Salzburg-fees (1957), Covent Garden (1965), La Scala (1969) en die Metropolitan Opera (1970). Vanaf 1961 het sy dikwels met die sopraan Joan Sutherland in opvoerings en opnames gesing. Met haar ryk, gladde stem en kunstige frasering is sy beskou as die voorste Rossini-sangeres van haar tyd. In 1993 het sy haar laaste verskyning in ‘n Rossini-opera by Covent Garden gemaak, as Isabella in L'italiana in Algeri. Naas Carmen en Isabella was sy uitmuntend as Adalgisa in Norma, Orsini in Lucrezia Borgia, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Juno in Semele, Zerlina in Don Giovanni, die Prinses in Suor Angelica, Falliero in Bianca e Falliero, Arsace in Semiramide, Miss Quickly in Falstaff, Azucena in Il Trovatore, en die titelrolle in Carmen, Tancredi, Padmâvatî, Mignon en Orlando furioso. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Schmidt-Isserstedt); Bernstein se musiekblyspel West Side Story; Ravel se Shéhérazade; liedere van Bizet, Falla en Schubert; die genoemde operas van Bellini, Bizet, Donizetti, Gluck, Handel, Mozart, Puccini, Rossini, Roussel, Thomas, Verdi en Vivaldi, asook Giulio Cesare en Le Prophète; en 'n versameling Handel-arias.

Horowitz, Wladimir (1903-89), Russies-gebore pianis. Hy het in 1920 sy debuut in Kiëf gemaak, en ná sy Berlynse debuut ses jaar later het hy spoedig wêreldbekend as solis geraak. In 1928 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy nege jaar later met Toscanini se dogter Wanda getrou het. Intussen het hy in 1929 in Londen in ‘n opwindende opname van Rachmaninof se derde klavierkonsert onder Albert Coates gespeel. Hy het in 1950 die eerste uitvoering van Barber se klaviersonate gegee. Vanweë 'n senu-aandoening het sy konsertloopbaan in 1953 tydelik tot 'n einde gekom, maar hy het voortgegaan om opnames te maak. Vanaf 1965 tot in sy tagtigs het hy weer by geleentheid in veelgeroemde konserte opgetree. In 1982 het hy sy eerste Europese uitvoering in 31 jaar in Londen gegee, en vier jaar later het hy na Rusland teruggekeer vir ‘n reeks uitvoerings. As een van die laaste skakels met die Romantiese era het hy vier dae voor sy dood nog ‘n laaste opname gemaak. Hy was een van die grootste pianiste van die twintigste eeu, veral in die musiek van Chopin, Rachmaninof, D. Scarlatti en Skriabin. Voorts was hy ‘n begeleier vir die beroemde bariton Dietrich Fischer-Dieskau in sy liedere-voordragte, en het hy in kamermusiek met die tjellis Mstislaf Rostropowitsj en die violis Isaac Stern gespeel. Sleutelopnames: Mozart se klaviersonates nrs. 3, 10 en 13 (1985-89); Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling (1951); ‘n versameling solowerke van Skriabin (1950’s); Tsjaikofski se eerste klavierkonsert (onder Toscanini 1941). Verdere opnames: Rachmaninof se derde klavierkonsert (onder Reiner 1951 en Ormandy 1978); en solowerke van Barber, Beethoven, Chopin, Clementi, Debussy, Haydn, Kabalefski, Liszt, Mendelssohn, Moszkofski, Poulenc, Prokofiëf, Rachmaninof en Schumann.

Horszowski, Mieczyslaf (1892-1993), Pools-gebore pianis. As wonderkind het hy in Wenen en Parys studeer, en sy debuut in 1902 in Warskou gemaak met Beethoven se eerste klavierkonsert. Vanaf elfjarige leeftyd het hy wyd getoer en in 1939 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy nege jaar later ‘n Amerikaanse burger geword het. Vanaf 1941 het hy aan die Curtis Instituut in Philadelphia onderrig gegee, met later bekende pianiste soos Murray Perahia en Richard Goode wat onder sy leerlinge getel het. Hy was ‘n vriend en vennoot van Pablo Casals en Jacques Thibaud, en het as honderdjarige nog uitvoerings in Londen en elders gegee. Sy bekendheid het veral berus op sy elegante vertolkings van Bach, Mozart, Schubert, Chopin en moderne komponiste. Opnames: Mozart se klavierkonsert nr. 27 (onder beide Casals en Toscanini); Schubert se Forelle-kwintet (met die Boedapest Kwartet); en Schumann se eerste klaviertrio (met Alexander Schneider en Pablo Casals).

Horvat, Milan (1919-), Kroatiese dirigent. Hy het onder die gevierde leermeester Igor Markewitsj studeer en in 1946 dirigent van die Zagreb Radio Simfonie-orkes geword. Vanaf 1953 was hy vir vyf jaar hoofdirigent van die Nasionale Simfonie-orkes in Dublin, Ierland. Hy was ook hoofdirigent van beide die filharmoniese orkes en die Nasionale Opera in die Kroatiese hoofstad. Met eersgenoemde het hy wyd deur Europa en in die VSA opgetree. Vanaf 1970 het hy 'n aantal meesterklasse in Salzburg gegee, en daarby was hy hoofdirigent van die pasgestigde Oostenrykse Radio Simfonie-orkes in Weben (1969-75). Hy het hul in opnames van Dvorák se vierde en agste simfonieë en Sjostakowitsj se tiende simfonie gedirigeer. Vanaf 1975 tot sy aftrede in 1989 het hy onderrig in dirigeerkuns gegee aan die Universiteit van Musiek in Graz, Oostenryk. Hy was vanaf 1981 hoofgasdirigent van die Sloweense Filharmoniese Orkes in Ljubljana, wat hy in 'n opname van Mahler se tweede simfonie gedirigeer het. In 1983 het hy 'n uitvoering van Schubert se sesde simfonie in Lugano, Switserland gedirigeer, waarvan 'n beeldopname gemaak is.

Hotter, Hans (1909-2003), Duitse bas-bariton. Hy het in München studeer, beide filosofie aan die universiteit en sang, orrel en klavier aan die konserwatorium. Aanvanklik was hy ‘n kerkorrelis en koormeester. Sy sangdebuut is in 1929 in Passau as solis in Handel se Messiah gemaak, en in die jaar daarop het sy operadebuut in Troppau plaasgevind, as Wolfram in Tannhäuser. In dieselfde seisoen (1930/1) het hy die sleutelrol van Wotan vir die eerste keer gesing, in ‘n opvoering van Siegfried in Troppau. Daarna het hy opgetree in Praag (1932-4) en Hamburg (1934-45). Hy was vir langer as drie dekades verbonde aan die Beierse Staatsopera (1937-72), waar hy die rolle van die Kommandant in Friedenstag (1938) en Olivier in Capriccio (1942) tydens die betrokke premières geskep het. Vir byna net so lank het hy gesing by die Weense Staatsopera (1939-70), met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1942), Covent Garden (1947), in Buenos Aires (1948), die Metropolitan Opera (1950) en die Bayreuth-fees (1952). In 1944 het hy in Salzburg die rol van Jupiter tydens die nie-amptelike première van Die Liebe der Danae geskep.

Hotter was een van die voorste sangers van sy tyd in die operas van Richard Strauss en Wagner. Naas die genoemde rolle was hy ook begaafd as Jokanaan in Salome, die titelrol in Der fliegende Holländer, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Gurnemanz in Parsifal en Kurwenal in Tristan und Isolde. Veral as Wotan het Hotter sy gelyke nie geken nie, en hy sou die rol gereeld tot 1972 vertolk. Hy het dikwels teenoor die gevierde sopraan Astrid Varnay in Wagner-operas opgetree. Dit sluit sy Met-debuut in die titelrol van Der fliegende Holländer in, met ‘n historiese opname wat onder Fritz Reiner van die geleentheid gemaak is (in 1950). Verder was hy begaafd as Sarastro in Die Zauberflöte, Figaro en Basilio in Il barbiere di Siviglia, en in die titelrolle van Giulio Cesare (beide van Handel en Malipiero), Don Giovanni, Le nozze di Figaro en Gianni Schicchi. As blyk van sy veelsydigheid dien die feit dat hy die rol van Schigolch in Berg se opera Lulu op gevorderde leeftyd in San Francisco (1989) en Parys (1991) gesing het.

Hotter was ewe briljant in konsertwerke en liedere in die Duitse repertorium. In 1950 het hy met die tweehonderdjarige herdenking van Bach se dood in die eerste opname van sy Kantate nr. 82 (Ich habe genug) onder Anthony Bernard ‘n ongeëwenaarde vertolking gelewer. Met die pianis Erik Werba as begeleier het hy in 1961 in ‘n ewe skitterende opname van Schubert se Winterreise gesing. Verder het hy as verhoogdirekteur by Covent Garden (1962-4) die Ring-siklus opgevoer, en elders opvoerings van Fidelio, Palestrina en Arabella. Sy Weense afskeidsoptrede het in 1978 plaasgevind, maar hy het tot in sy tagtigs nog gesing. Sleutelopnames: die genoemde werk van Bach; ‘n versameling liedere van Brahms en sy Vier ernste Gesänge (begelei deur Gerald Moore). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Klemperer); Brahms se Ein deutsches Requiem (in 1947 onder Furtwängler); Schoenberg se Gurrelieder; Schubert se liedere-siklusse Winterreise en Schwanengesang (begelei deur Moore, 1950’s); die genoemde operas van Wagner, asook Die Zauberflöte, Der Mond, Capriccio (3 weergawes) en Die schweigsame Frau.

Hough, Stephen (1961-), Engelse pianis. Nadat hy die internasionale Naumberg-klavierkompetisie gewen het, het hy in 1984/5 by die Ravinia-fees in Chicago opgetree. Hy het in 1985 by die Londense Proms gedebuteer, en sedertdien tree hy met van die voorste Europese en Amerikaanse orkeste op. Met sy weldeurdagte benadering gee hy voorkeur aan die bladmusiek eerder as aanvaarde tradisies van vertolking. Sleutelopnames: Brahms se klaviersonate nr. 3 en sy 4 Ballades, opus 10; Hummel se twee klavierkonserte (onder Bryden Thomson); Saint-Saëns se volledige klavierkonserte (onder Sakari Oramo). Verdere opnames: Chopin se volledige Ballades en Scherzi; Mozart se Kwintet vir klavier en houtblasers (met die Berlynse Filharmoniese Houtblaserskwintet); Rachmaninof se volledige klavierkonserte en Paganini Rapsodie; Sauer se klavierkonsert nr. 1; Scharwenka se klavierkonsert nr. 4; en solowerke van Bowen, Britten, Franck, Hummel, Liszt en Saint-Saëns.

Howard, Leslie (1948-), Australiese pianis en komponis. Hy het sy debuut as pianis in 1967 in Melbourne gemaak. Vanaf 1970 het hy vir drie jaar aan die Monash Universiteit onderrig gegee. In 1975 het sy Londense debuut plaasgevind. As meesterlike vertolker van Liszt het hy die volledige solowerke van dié musiekreus opgeneem, in nie minder nie as 94 kompakskywe. Verdere opnames: Bax se Legend (met die altviolis Paul Coletti); en Anton Rubinstein se vier klaviersonates.

Howarth, Elgar (1935-), Engelse dirigent en komponis. Aanvanklik was hy ‘n trompetspeler in Londense orkeste, onder andere by Covent Garden (1958-63), die Koninklike Filharmoniese Orkes (1963-9), die Londense Sinfonietta (1968-71) en die ‘Philip Jones Brass Ensemble’ (1965-76). Vanaf 1969 was hy ‘n gasdirigent van die Londense Sinfonietta en vanaf 1973 hul direkteur. Hy het in 1978 in Stockholm die première van Ligeti se Le grand macabre gedirigeer en vier jaar later ook die Britse première daarvan by die Engelse Nasionale Opera. In 1985 het hy by Covent Garden gedebuteer met Tippett se King Priam, en daarna het verdere pionierswerk vir moderne komponiste in Brittanje gevolg. Só het hy die Britse première van Nielsen se Maskarade in 1990 by Opera Noord gedirigeer, en elders ook die premières van Birwistle se The Mask of Orpheus (1986), Gawain (1991) en The Second Mrs Kong (1994). Daarby is hy ‘n bekende dirigent van blaasorkeste, met ‘n aantal komposisies daarvoor tot sy krediet, asook ‘n verwerking van Moessorgski se Skilderye op 'n Uitstalling in 1977. Sleutelopname: Arnold se Little Suites for Brass Band (met die Grimethorpe Cilliery band). Verdere opnames: ‘n aantal orkeswerke van Birwistle; en Ligeti se opera Le grand macabre.

Howarth, Judith (1960-), Engelse sopraan. Haar konsertdebuut in 1984 met Mozart-arias is gevolg deur haar operadebuut by die Koninklike Skotse Musiekakademie. In 1985 het sy beide die Decca-Ferrier-prys gewen en haar debuut by Covent Garden gemaak, as die Eerste Meisie in Der Zwerg. Daarna het sy by Opera Noord en die Skotse Opera opgetree in Mozart-rolle soos Susanna in Le nozze di Figaro en Zerlina in Don Giovanni. Verdere debute is gemaak in Seattle (1989), en by die Londense Proms en die Salzburg-fees (beide in 1991). Opnames: Boyce se The Secular Masque (onder Graham Lea-Cox); Elgar se koorwerke Caractacus en The Light of Life (beide onder Richard Hickox); die operette Die Fledermaus (as Adèle, in Engels); en die opera Troilus and Cressida (as Cressida).

Howell, Gwynne (1938-), Walliese bas. Hy het in 1968 by die Sadler’s Wells Teater aangesluit, met ‘n debuut as Monterone in Rigoletto. Daarna het debute gevolg by die Glyndebourne-fees (1969), Covent Garden (1970) en die Metropolitan Opera (1985). Met sy kragtige sang het hy bekendheid verwerf in Italiaanse operarolle soos Capellio in I Capuleti ed i Montecchi, Jake Wallace in La Fanciulla del West, Samuel in Un ballo in maschera, Graaf Walter in Luisa Miller en Fiesco in Simon Boccanegra. By Covent Garden het hy in 1972 die rol van Richard Taverner tydens die première van die opera Taverner geskep. Verder was hy begaafd as Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, en as konsertsanger in ‘n wye repertorium. Opnames: Bach se Sint Johannespassie; Beethoven se negende simfonie (onder Hickox, Masur, Morris en Tennstedt); Berlioz se L'enfance du Christ; Bruckner se Mis nr. 3; Elgar se Coronation ode en The Dream of Gerontius; Handel se Messiah; Haydn se Salve regina en Stabat Mater; Mozart se Requiem; Vaughan Williams se Serenade to Music; Walton se Belshazzar's Feast; die genoemde operas van Bellini, Puccini en Wagner, asook Manon Lescaut, L'assedio di Corinto en die laasgenoemde drie van Verdi.

Huang, Ying (?-), Sjinese sopraan. Sy het aan die Sjanghai Konserwatorium gegradueer en ‘n tweede prys in die 19de internasionale sangkompetisie in Parys gewen. Haar internasionale deurbraak is gemaak toe sy in 1995 in Frédéric Mitterand se rolprent van Madame Butterfly ‘n aangrypende vertolking van die titelrol gelewer het. Sedertdien sing sy wêreldwyd in operas en konserte, vanaf die Verre Ooste tot Noord-Amerika. Sy blink veral uit in Mozart-rolle soos Zerlina in Don Giovanni, Susanna in Le nozze di Figaro, Despina in Così fan tutte en Pamina in Die Zauberflöte. In konsertwerke is sy begaafd in die musiek van Mahler, wat sy onder bekende dirigent sing. In 2004 het sy in ‘n konsert in Athene gesing vir die opening van die Olimpiese Spele aldaar. Sy word allerweë beskou as een van Sjina se se vernaamste kulturele ambassadeurs. Verdere opnames: Haydn se opera L’isola disabitata (as Silvia), onder David Golub; en Howard Shore se The Lord of the Rings: Six Movements for Orchestra and Chorus.

Hubay, Jenö (1858-1937), Hongaarse violis, dirigent en komponis. As wonderkind was hy ‘n leerling van sulke groot violiste soos Joachim en Vieuxtemps. Sy openbare debuut is as elfjarige gemaak. Vanaf 1878 het hy in Parys gespeel, en later was hy ‘n hoogleraar in viool aan die konserwatoriums in Brussels (vanaf 1882) en Boedapest (1886-1919). Hy was vanaf 1919 tot 1934 direkteur van die Boedapest Konserwatorium, en ‘n leermeester van onder meer Jelly d’Aranyi en Joseph Szigeti.

Huberman, Bronislaf (1882-1947), Poolse violis. Nadat hy as sewejarige wonderkind sy openbare debuut met Spohr se tweede vioolkonsert gemaak het, het hy in Warskou, Parys en Berlyn (onder Joachim) studeer. As tienjarige het sy Weense debuut plaasgevind en in 1894 sy Londense debuut. Op veertienjarige ouderdom, in 1896, het hy Brahms se vioolkonsert in die komponis se teenwoordigheid gespeel. Met sy magnetiese persoonlikheid, pragtige spel en warm toonkleur was hy wêreldbekend as virtuoos. Verder het hy in 1936 saam met William Steinberg die Palestynse Simfonie-orkes gestig. Opnames: vioolkonserte van Mozart, Beethoven en Tsjaikofski; en Lalo se Symphonie espagnole.

Huddersfield Koorvereniging, Britse amateurkoor wat in 1836 in Huddersfield, Yorkshire gestig is. Sedert 1881 word gereelde konserte gegee en in 1928 het hul eerste oorsese toer, na Nederland, plaasgevind. Vir hul eeufeesviering in 1936 het Vaughan Williams sy Dona nobis pacem geskryf. Hulle het by die meeste Britse musiekfeeste opgetree, talle opnames gemaak, en wyd deur Europa en die VSA getoer. Beide Henry Coward en Malcolm Sargent was vir langer as dertig jaar as dirigente aan die koor verbonde. Verdere dirigente het ingesluit John Pritchard (1973-80), Owain Hughes (1980-6) en Jane Glover (sedert 1988).

Huggett, Monica (1953-), Engelse violis. Sy bespeel ‘n dermsnaar-viool wat uit die vroeë sewentiende eeu dateer. In 1980 was sy saam met Ton Koopman ‘n medestigter van die Amsterdamse Barokorkes, waarvan sy vir die volgende sewe jaar die leier sou wees. As solis is sy met haar suiwer intonasie, soet toonkleur en veerkragtige artikulasie uitmuntend in Barok- en Klassieke werke. Daarby tree sy as ‘n lid van die ensembles Hausmusik, The Greate Consort en die Ensemble Sonnerie met eietydse instrumente op. As mede-leier van die Orchestra of the Age of Enlightenment het sy in hoogaangeskrewe opnames van Bach se 6 Brandenburgkonserte gespeel. Sy het voorts die Hanover Band in karaktervolle opnames van Beethoven se simfonieë nrs. 1, 2 en 5 gelei. Verdere opnames: Bach se volledige vioolsonates en -partitas, en (as leier van die Ensemble Sonnerie) sy Kantates nrs. 51, 82a, 84, 199, 202 en 209 (met Nancy Argenta as solis); Biber se volledige Rosenkranz vioolsonates, sy vioolsonates nrs. 2, 3, 5 en 7, en Nisi Dominus vir viool, bas en continuo (met die bas Thomas Guthrie); Giuliani se Duo concertante vir viool en kitaar (met Richard Savino); Handel se 6 Triosonates, opus 2 (met Benjamin, Crouch, Hazelzet en Halls) en 6 orrelkonserte, opus 4 (met Matthew Halls); Lawes se Royal consorts; Mendelssohn se tweede strykkwartet en tweede strykkwintet; Mozart se volledige vioolkonserte, asook Adagio (K261) en Rondo (K269); vioolsonates van D. Scarlatti; Telemann se 6 Nouveaux Paris fluitkwartette; en vioolkonserte van Vivaldi.

Hugh, Tim (?-), Engelse tjellis. Hy het tjello aan Yale Universiteit studeer, gevolg deur ‘n meestersgraad in medisyne en fisiese antropologie aan die Universiteit van Cambridge. In dié tyd het hy tjello onder die virtuose William Pleeth en Jacqueline du Pré studeer. Hy het in 1990 beide die Bach-prys en die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Sedert 1995 is hy eerste tjellis van die Londense Simfonie-orkes, met wie hy as solis in konserte optree. Daarby toer hy wêreldwyd, met ‘n bekendheid veral in die musiek van sy landgenote. Sleutelopnames: Tavener se Svyati (met die koor van St John’s College, Cambridge); Walton se tjellokonsert (onder Paul Daniel). Verdere opnames: Brahms se Dubbelkonsert (met die violis Gordan Nikolitch); tjellokonserte van C.P.E. Bach, Bliss, Boccherini en Finzi; die tjellosuites van Britten; en werke vir tjello en orkes van Britten en Holst.

Humburg, Will (1957-), Duitse dirigent. Hy het in Hamburg onder die dirigente Horst Stein en Christoph von Dohnányi studeer. Vanaf 1979 was hy vir vier jaar ‘n dirigent by die Bremen Teater. Later het hy direkteur geword van die Alessandria-fees in Piedmont (1988) en musiekdirekteur in Münster (1991). Hy is ‘n kampvegter vir moderne musiek en ‘n begaafde opera-dirigent. Met Hongaarse kore en orkeste het hy uitstekende opnames van Il barbiere di Siviglia en Falstaff gemaak, waarvan eersgenoemde deur sommige kenners as die beste opname van dié gewilde opera beskou word. Hy het in 2007 by die Saarland Staatsteater ‘n herlewing van Deshewof se vroeë Sowjet-opera Yster en Staal gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig.

Hunt, Donald (1930-), Engelse orrelis, dirigent en komponis. Hy was assistent-orrelis van die Gloucester Katedraal (1948-54), musiekdirekteur van die Leeds Gemeentekerk (1957-74) en orrelis van die Worcester Katedraal (1974-96). Met die katedraal se beroemde koor het hy uitstekende opnames van koorwerke deur Elgar, Finzi, Howells en Sumsion gemaak. Vir drie dekades (1957-88) was hy ook dirigent van die Halifax Koorvereniging. In 1993 is die OBE aan hom toegeken.

Hunt Lieberson, Lorraine (1954-2006), Amerikaanse mezzosopraan. Aanvanklik was sy ‘n altviolis, maar sy het na ‘n sangloopbaan oorgeslaan en spoedig bekendheid in opera en konserte verwerf. In 1985 het sy verskyn in ‘n omstrede opvoering van Handel se Giulio Cesare in Boston, waarin sy die rol van Sesto as ‘n gewapende terroris gesing het. Daarna het sy met haar gevoelvolle sang naam gemaak in vroeë musiek, veral dié van Bach, Handel en Mozart. Onder haar beste rolle het getel Mary in El Nino, Irene in Theodora, Ottavia in L’incoronazione di Poppeia, Minerva in Il ritorno d’Ulisse in Patria, Sesto in beide Giulio Cesare en La clemenza di Tito, Donna Anna in Don Giovanni, Idamante in Idomeneo, Dido in Dido and Aeneas, en die titelrolle in Médée, Ariodante en Xerxes. Daarby was sy bekend in sommige hedendaagse werke. Sy het in 1997 in haar tuisstad Santa Fé die rol van Triraksha tydens die première van Peter Lieberson se opera Ashoka’s Dream geskep. Daarna was die twee onafskeidbaar, en in 1999 is hul getroud nadat die komponis sy vrou geskei het. Haar debuut by die Metropolitan Opera is in 1999 gemaak, as Myrtle Wilson tydens die première van Harbison se The Great Gatsby. In haar laaste jare het sy teen borskanker gestry en ook akute pyn in haar laer rug ervaar. By die Holland-fees in 2005 het sy as solis verskyn in Bach se Kantate nr. 82 (Ich habe genug), treffend geklee as ‘n terminale siek hospitaalpasiënt. Haar laaste openbare optrede was in die première van Lieberson se Naruda Songs met die Boston Simfonie-orkes. Sy het in filmweergawes van Giulio Cesare en Don Giovanni gesing. Opnames: Bach se Kantates nrs. 82 en 199 (onder Craig Smith), en sy Anna Magdalena Notaboek (onder Nicholas McGegan); Handel se oratoriums Messiah, Susanna en Theodora; Mahler se tweede simfonie (onder Tilson Thomas); die operas El Nino, Ariodante, Il ritorno d’Ulisse in Patria, Idomeneo en Dido and Aeneas; en 2 versamelings Handel-arias (onder Bicket en McGegan).

Hunter, Rita (1933-), Engelse sopraan. Sy sing sedert 1956 in opera, met ‘n debuut wat gemaak is as Inez in Il trovatore. In 1963 het sy by Covent Garden gedebuteer en vanaf 1965 was sy die eerste sopraan van die Engelse Nasionale Opera. Daar het sy bekendheid in Wagner-rolle verwerf, veral as Brünnhilde in die Engelstalige Ring onder Reginald Goodall, met hoogstaande opnames wat daarvan getuig. In 1972 het sy haar debuut by die Metropolitan Opera gemaak, en sewe jaar later het sy geskitter as Dame Macbeth in John Matheson se herlewing van die oorspronklike weergawe van Macbeth. Sedert 1981 is sy aan die Australiese Opera verbonde. Verdere opnames: die operas Carmen (in Engels), Hänsel und Gretel (in Engels, as Moeder) en Euryanthe (as Eglantine).

Hurford, Peter (1930-), Engelse orrelis en komponis. Nadat hy in 1957 sy debuut in Londen gemaak het, was hy vanaf die jaar daarop tot 1978 musiekmeester van die Sint Albanskerk. Daarna was hy in Australië vanaf 1979 vir drie jaar aan die Sydney Operahuis verbonde. Vanaf 1974 tot 1986 het hy die volledige orrelwerke van J.S. Bach op 10 verskillende orrels in verskillende wêrelddele opgeneem. Met dié ontsaglike projek het hy ‘n kentering in Bach-vertolking op die orrel teweegebring, weg van die pedagogiese Duitse tradisie van Walcha en andere na ‘n meer energieke aanslag. Sleutelopnames: ‘n hele aantal van Bach se vernaamste orrelwerke. Verdere opnames: Couperin en Hindemith se volledige orrelwerke; orrelkonserte van Handel en Poulenc; en as solis in Saint-Säens se derde simfonie (onder Charles Dutoit).

Hurst, George (1926-2012), Britse dirigent van Roemeense en Russiese afkoms. Hy was dirigent van die York Simfonie-orkes in Pennsylvania (1950-5), assistent-dirigent van die Londense Filharmoniese Orkes (1955-7), hoofdirigent van die BBC Noordelike Simfonie-orkes (1958-68) en die Bournemouth Simfonie-orkes (1969-71), dirigent van die Bournemouth Sinfonietta (tot 1978) en dirigent van die Nasionale Simfonie-orkes van Ierland (1990-3). Opnames: Elgar se eerste simfonie en Enigma Variasies; en orkeswerke van Vaughan Williams.

Hüsch, Gerhard (1901-84), Duitse bariton. Sy debuut in 1923 in Osnabrück in Lortzing se Der Waffenschmied is gevolg deur operasang in Bremen (1924-7), Keulen (1927-30) en Berlyn (1930-42). Intussen het hy in 1930 by beide Covent Garden en die Bayreuth-fees gedebuteer. Hy was een van die voorste liederesangers van sy tyd, soos sy opnames van liedere deur Pfitzner met die komponis as klavierbegeleier kan getuig. Verder het hy in die laat 1930's die rol van Papageno in 'n klassieke Berlynse opname van Die Zauberflöte onder Thomas Beecham vertolk. Onder sy verdere operarolle het Wolfram in Tannhäuser getel.

Hworostofski, Dimitri (1962-), Russiese bariton. Hy het vanaf 1986 by die Krasnojarsk Opera in Siberië gesing en in die volgende aantal jare verskeie sangpryse gewen. Daaronder tel die Glinka-prys (1987), die Toulouse-sangkompetisie (1988) en die internasionale sangkompetisie in Cardiff (1989). In laasgenoemde jaar is sy debuut in Londen met ‘n liedere-voordrag gemaak, asook sy Westerse operadebuut in Nice as Jerletski in Pique Dame. Met sy kragtige sang en ferm, donker stem het hy wêreldbekend in Russiese opera en liedere geword. Daaronder tel verdere rolle soos Gryaznoy in Die Tsaar se Bruid, Robert in Jolanta en die titelrol in Jewgeni Onegin. Nog debute het gevolg by Covent Garden (1992), in Chicago (in 1993, as Germont in La Traviata) en by die Metropolitan Opera (in 1996, weereens in Pique Dame). Hy het in 2002 by Covent Garden uitgeblink as Graaf Luna in ‘n opvoering van Il Trovatore onder Carlo Rizzi, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Saam met die gewilde sopraan Anna Netrebko het hy in 2013 'n konsert van Italiaanse opera-arias en -duette op die Rooi Plein in Moskou gegee, wat gelukkig verfilm is. Verdere opnames: Moessorgski se liedere-siklus Liedere en Danse van die Dood (onder Temirkanof); liedere van Tsjaikofski; ‘n versameling Russiese krygsliedere; die operas Die Tsaar se Bruid, Jewgeni Onegin, Jolanta en La Traviata; ‘n versameling Russiese arias van Borodin, Rachmaninof, Rimski-Korsakof en Rubinstein; en ‘n versameling Verdi-arias.

Hynninen, Jorma (1941-), Finse bariton. 'n Jaar nadat hy in 1969 die Lappeenranta sangkompetisie gewen het, het sy konsert- en operadebute in Helsinki gevolg, in laasgenoemde geval as Silvio in I Pagliacci. Verdere debute is gemaak in Wenen, Hamburg en Milaan (al drie in 1977), München (1979) en Parys (1980). Oor die jare heen is ‘n hele aantal rolle in operas deur sy landgenote vir hom geskryf. Daaronder tel Topi in Die rooi lyn (1978), en die titelrolle in Die koning gaan uit na Frankryk (1984), Kullervo (1992) en Aleksis Kivi. In 1987 het hy in Edinburgh die titelrolle in Rigoletto en Merikanto se Juha gesing, en verder was hy vanaf 1984 vir ses jaar artistieke direkteur van die Finse Nasionale Opera. As ewe begaafde konsert- en liederesanger het hy in 1994 ‘n besondere DVD-opname van Schubert se liedere-siklus Winterreise in ‘n museum in Finse Lapland gemaak, met Ralf Gothoni as klavierbegeleier. Verdere opnames: Bach se Magnificat; liedere van Järnefelt (met Ilkka Paananen as begeleier); Mahler se agste simfonie (onder Tennstedt); ‘n versameling orkesliedere van Sibelius (onder Jorma Panula), sy Die Storm (onder Saraste) en Kullervo simfonie (drie weergawes, onder Berglund, Salonen en Saraste); Vivaldi se Gloria; en die operas Aleksis Kivi, Pohjalaisa en Die Meisie in die toring.

I

Imai, Nobuko (1942-), Japannese altvioolspeler. Sy het die internasionale kompetisies in München en Genève gewen, en vanaf 1974 was sy vir vyf jaar lid van die Vermeer Kwartet. Daarna het sy haar in Brittanje gevestig, waar sy in 1980 in die première van Tippett se Driedubbele Konsert gespeel het. Haar debuut by die Salzburg-fees het in 1990 plaasgevind. Met haar ryk toonkleur is sy veral bekend in Romantiese en moderne werke. Sy tree dikwels in kamermusiek met bekende musici soos Ronald Brautigam en Thea King op. Sleutelopname: Vaughan Williams se Flos Campi (met die Corydon Singers). Verdere onames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites, vir altviool verwerk; Berlioz se Harold in Italië; Brahms se 2 altvioolsonates; Bruch se Dubbelkonsert (met King); Hindemith se 3 altvioolsonates; Martinu se Rapsodie-konsert; Mozart se Kegelstatt Trio (met Hilton en Vignoles) en Sinfonia concertante (met Brown); Reger se altvioolsonate en -suites; Schumann se Märchenbilder; Tanejef se klavierkwintet (met Pletnjef, Repin, Gringolts en Harrell); Nystroem, Pettersson, Takemitsu en Walton se altvioolkonserte; en ‘n versameling kamerwerke van Duruflé, Hahn, Nikolajewa en Weinberg (met Brautigam en Bezaly).

Inbal, Eliahu (1936-), Israeliese dirigent. Nadat hy in Italië onder die legendariese Sergiu Celibidache studeer het, het hy in 1963 die Cantelli-dirigeerkompetisie gewen. Hy het in 1969 by die Salzburg-fees gedebuteer. In dieselfde jaar is sy operadebuut in Bologna gemaak met ‘n opvoering van Elektra. Vanaf 1974 tot 1990 was hy musiekdirekteur van die Frankfurt Radio Simfonie-orkes, en vanaf 1984 was hy vir twee jaar ook artistieke direkteur van La Fenice in Venesië. Met sy Duitse orkes het hy die volledige simfonieë van Bruckner en Mahler opgeneem. Dit sluit Mahler se tiende simfonie, soos deur die musiekgeleerde Deryck Cooke geredigeer, in. Vir sy Brucker-uitvoerings gebruik hy die oorspronklike weergawes van die simfonieë, met die eerste opnames van nommers 3, 4 en 8 in dié gestalte tot sy krediet. Hy is sedert 2008 hoofdirigent van die Tokio Metropolitaanse Simfonie-orkes. Met die Weense Simfonie-orkes het hy opnames van ‘n aantal Sjostakowitsj-simfonieë gemaak, waarvan die dertiende deur kenners as uitstekend beskou word. Hy het in 2010 die Concertgebouw Orkes in Amsterdam in ‘n uitvoering van Mahler se tiende simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Liszt se Faust simfonie; Puccini se Messa di Gloria; Schoenberg se Die Jakobsleiter; Skriabin se drie simfonieë; en Strawinski se Le sacre du printemps.

Inghelbrecht, Désiré-Emile (1880-1965), Franse dirigent en komponis. Hy het vanaf 1919 tot 1923 die Sweedse Ballet in Parys en Londen gedirigeer. Vanaf 1932 was hy dirigent van die Opéra Comique en vanaf 1945 tot 1950 van die Parys Opera. Intussen het hy in 1934 die Franse Nasionale Radio-orkes gestig en hulle tot 1944 gedirigeer, en weer vanaf 1951 tot 1958. Met hulle en die gelyknamige koor het hy in 1955 hoogstaande opnames van Fauré se Requiem en Cantique de Jean Racine gemaak. Daarbenewens het hy verskeie boeke geskryf, waaronder een oor die dirigeerkuns (1953). Verdere opnames: Debussy se La mer.

Irving, Robert (1913-91), Engelse dirigent. Nadat hy aanvanklik as repetiteur by Covent Garden en musiekmeester van Winchester Kollege gewerk het, was hy ‘n assistent-dirigent van die BBC Skotse Orkes (1945-8). Dit is gevolg deur poste as musiekdirekteur van die Koninklike Ballet by Covent Garden (1949-58) en van die New York Stadsballet (1958-89). Met laasgenoemde het hy in 1965 by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy was een van die vernaamste ballet-dirigente van die twintigste eeu, met vele hoogstaande opnames van balletmusiek tot sy krediet. Daaronder tel werke van Arnold, Bartók, Glazoenof, Kabalefski, Khatsjatoerian, Prokofiëf, Scarlatti/Tomassini, Sjostakowitsj en Walton.

Isepp, Martin (1930-), Oostenryks-gebore Britse pianis en klawesimbelspeler. As seun van 'n sangonderwyseres het hy in die 1950’s met die Engelse Operagroep gewerk. Daarna was hy vir langer as dertig jaar (1957-93) verbonde aan die Glyndebourne Opera, onder andere as hoofafrigter (1973-8) en hoof van die musiekpersoneel (1978-93). By dié operahuis en met die Glyndebourne Toeropera het hy operas van Mozart gedirigeer. Terselfdertyd was hy hoof van operastudies aan die Juilliard Musiekskool (1973-7) en hoof van musiekstudies aan die Nasionale Opera-ateljee (vanaf 1978). Verder het hy as klavierbegeleier vir bekende liederesangers opgetree, onder andere Janet Baker en Elisabeth Söderström. Hy het Baker begelei in haar hoogstaande 1966-opname van Duitse liedere, en in haar 1975-première van Argento se From the Diary of Virginia Woolf.

Isokoski, Soile (1957-), Finse sopraan. Haar solodebuut is in 1986 in Finland gemaak, en vanaf die jaar daarop tot 1994 was sy verbonde aan die Finse Nasionale Opera, waar sy as Mimi in La Bohème gedebuteer het. Sy het ‘n tweede prys in die BBC se Sanger van die Wêreld-kompetisie in 1987 gewen, en was voorts die wenner van die Elly Ameling-kompetisie (1988) en die internasionale Tokio-kompetisie (1990). Met haar suiwer, liriese stem is sy wêreldbekend in opera, konserte en liedere. Debute is gemaak by die Savonlinna Operafees (1992), die Weense Staatsopera en die Salzburg-fees (beide in 1993), die Deutsche Oper in Berlyn (1994), Covent Garden (1997) en die Metropolitan Opera (2002). Onder haar beste rolle tel die titelrol in La Juive, Fiordiligi in Cosi fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, Lenore in Die Loreley en die Prinses in Der Zwerg. In 2002 het sy ‘n Gramophone-toekenning ontvang vir haar opname van Richard Strauss se Vier letzte Lieder onder Marek Janowski. Sleutelopname: Sibelius se Luonnotar (onder Järvi). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Barenboim); Mahler se agste simfonie (onder Rattle); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Spering); ‘n versameling Finse gewyde liedere (onder Storgards); Sibelius se Kroningskantate en Kullervo simfonie (beide onder Segerstam); Zemlinsky se Waldgespräch en Malblumen blühten überall (beide onder Conlon); liedere van Grieg en Sibelius; en die operas La Juive, Cosi fan tutte, Die Loreley en Der Zwerg.

Israeliese Filharmoniese Orkes, in 1936 as die Palestynse Simfonie-orkes deur Bronislaf Huberman gestig en in Tel Aviv gebaseer. In Desember van daardie jaar het Toscanini hul eerste konsert gedirigeer, en sedert 1951 onderneem die orkes gereeld buitelandse toere. Onder hul hoofdirigente het Jean Martinon, Paul Kletzki en Zubin Mehta getel, terwyl Leonard Bernstein ‘n bekende gasdirigent was. In 1971 het hul debuut by die Salzburg-fees onder Mehta plaasgevind.

Isserlis, Steven (1958-), Engelse tjellis. Hy het sy debuut in 1977 in Londen gemaak, en het weldra met sy intense dog sensitiewe spel as een van die voorste tjello-virtuose van sy tyd bekend geword. Hoewel sy repertorium meesal Romantiese en moderne werke insluit, word hy ook met die musiek van sy landgenoot John Tavener verbind. Só het hy in 1989 die eerste uitvoering van Tavener se The Protecting veil gegee, en verder is Thrinos en Svyati vir hom geskryf. Sy opname van Bach se onbegeleide tjellosuites is in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon. Sleutelopnames: Martinu se 3 tjellosonates (met Peter Evans); Tavener se The Protecting veil (onder Rozhdestwenski). Verdere opnames: Bloch se From Jewish life en Schelomo; Bridge se Oration; Britten se Tjellosimfonie en derde tjellosuite; die volledige tjellosonates van Brahms, Fauré en Mendelssohn; Elgar en Haydn se tjellokonserte; Fauré se Allegretto Moderato (met Pascal Devoyon); Kabalefski se tweede tjellokonsert; Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Mustonen, Bell en Collins); Rachmaninof se tjellosonate; Ravel se klaviertrio (met Joshua Bell en Jean-Yves Thibaudet); Richard Strauss se Don Quixote (onder beide De Waart en Maazel) en tjellosonate; Tavener se Eternal memory; en Tsjaikofski se Andante cantabile en Rococo Variasies (beide onder Gardiner).

Istomin, Eugene (1925-2003), Amerikaanse pianis van Russiese afkoms. Beide ouers was sangers, en as sesjarige het hy sy moeder in ‘n voordrag begelei. Op twaalf is hy na die Curtis Instituut in Philadelphia, waar hy onder Rudolf Serkin studeer het. Hy het in 1943 die Leventritt-prys gewen, waarop sensasionele debute met die Philadelphia Orkes (onder Ormandy) en die New York Filharmoniese Orkes (onder Rodzinski) gemaak is. In beide gevalle was Brahms se tweede klavierkonsert die werk onder uitvoering. Op 25 het hy ‘n lang vennootskap met die tjellis Pablo Casals begin, met wie hy by die Prades-feeste sou optree. Twee jaar na Casals se dood in 1973 het hy met sy weduwee Marta getrou. Intussen het hy in 1961 ‘n klaviertrio met die violis Isaac Stern en die tjellis Leonard Rose gestig, waarin hy vir langer as 20 jaar sou speel. Hulle het vanaf 1965 tot 1970 die volledige klaviertrios van Beethoven in meesterlike vertolkings opgeneem. Hy het daarby as solis wêreldwyd in meer as 4 000 konserte verskyn, onder groot dirigente soos Bernstein, Reiner, Stokowski, Szell en Walter. Vanaf 1988 het hy vir nege jaar agtereenvolgens konserttoere deur die VSA onderneem, waartydens hy sy eie klaviere en instemmer saamgeneem het. Opnames: Mozart se klavierkonsert nr. 14 (onder Casals); Beethoven se Driedubbele Konsert, asook Brahms en Schubert se volledige klaviertrios (almal met Rose en Stern).

Italiaanse Kwartet, strykkwartet wat in 1945 gestig en in 1987 ontbind is. Hulle het 'n wye repertorium volgens geheue en ná deeglike voorbereiding gespeel, en het dikwels internasionale toere onderneem. Met hul diepsinnige benadering en intelligente, verfynde spel was hulle meesterlike vertolkers van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium en van sommige moderne komponiste. Sleutelopnames: Schubert se strykkwartette nrs. 13 en 14. Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Beethoven, Brahms, Mozart en Webern; enkele strykkwartette van Haydn, Milhaud en Schubert (nrs. 12 en 15), en dié van Debussy en Ravel.

Iturbi, José (1895-1980), Spaanse pianis en dirigent. Hy het in Parys studeer en was vanaf 1919 tot 1923 hoof van die klavierdepartement aan die Geneefse Konserwatorium. Daarna het hy deur Europa en die VSA getoer, met debute in Londen (1923) en Philadelphia (1928). Vanaf 1933 het hy in Meksiko begin dirigeer, en later het hy hom in die VSA gevestig. In dié land was hy vanaf 1935 tot 1944 musiekdirekteur van die Rochester Filharmoniese Orkes. Hy het verskeie kere in rolprente opgetree en was 'n vennoot van sy suster Amparo (1898-1969) in klavierduette. Sy bekendheid het meesal in Spaanse musiek gelê.

Ivogün, Maria (1891-1987), Hongaarse sopraan. Nadat sy in 1913 in München as Mimì in La Bohème gedebuteer het, was sy vir die volgende twaalf jaar aan die operahuis in dié Beierse stad verbonde. Daar het sy in 1917 die rol van Ighino tydens die première van Pfitzner se Palestrina geskep, met haar man, die tenoor Karl Erb, in die titelrol. Met haar suiwer stem en behendige sang was sy een van die beste koloratuursoprane van haar tyd. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1924) en die Salzburg-fees (1925), in eersgenoemde geval as Zerbinetta in Ariadne auf Naxos. Die komponis Richard Strauss het haar as ongeëwenaard in dié rol beskou. Vanaf 1925 het sy vir nege jaar by die Berlynse Munisipale Opera gesing, en ná haar uittrede het sy sangonderrig gegee. Onder haar leerlinge het later bekendes soos Rita Streich en Elisabeth Schwarzkopf getel. Sy het opnames van 'n aantal arias en liedere nagelaat.

Iwaki, Hiroyuki (1932-), Japannese dirigent. Hy het onder Herbert von Karajan studeer en was vanaf 1966 vir drie jaar 'n gasdirigent in Hamburg, Berlyn en Wenen. Daarna was hy vanaf 1969 hoofdirigent van die NHK Simfonie-orkes in Japan en vanaf 1974 het hy die Melbourne Simfonie-orkes gedirigeer. Sedert 1988 is hy dirigent van die Kanazawa Simfonie-orkes.

J

Jablonski, Dimitri (1962-), Russiese tjellis en dirigent (Engels Yablonsky). Sy moeder is die bekende konsertpianis Oxana Jablonskaja en sy vader is eerste hobospeler in die Moskou Radio en TV Orkes. Hy het op ses jaar met tjelloklasse aan die Sentrale Musiekskool vir begaafde kinders in die Russiese hoofstad begin, en op 9 is sy orkesdebuut met ‘n tjellokonsert van Haydn gemaak. Hy en sy moeder het in 1977 na die VSA uitgewyk, waar hy aan die Juilliard Musiekskool, die Curtis Instituut en Yale Universiteit verder studeer het. As solis het hy met van die voorste orkeste en dirigente gespeel, en in kamermusiek met bekende musici. Hy het mettertyd dirigeerkuns onder Otto-Werner Müller en Joeri Simonof studeer, en in 1990 is sy debuut in dié hoedanigheid met die Santa Cecilia Orkes in Rome gemaak. Naas verskynings as gasdirigent in Europa en die Verre Ooste was hy vir drie jaar hoofgasdirigent van die Moskou Simfonie-orkes. In 1998 het hy die Puigcerda-fees op die Spaans-Franse grens gestig, en vier jaar later het hy hoofdirigent van die Moskou Filharmoniese Orkes geword. Sleutelopnames: Miaskofski se simfonieë nrs. 24 en 25 (Moskou Filharmonie). Verdere opnames (as dirigent): Arenski se Egiptiese Nagte en 3 Orkessuites; ‘n versameling minder bekende orkeswerke van Dvorák, insluitend American Suite en 7 Interludes; Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky; Sjostakowitsj se 2 Jazz Suites en Tahiti Trot; Tsjaikofski se ballet Swanemeer; (as solis:) Dvorák se Rondo en Silent Woods vir tjello en orkes; en Lutoslafski se tjellokonsert.

Jackson, Francis (1917-), Engelse orrelis, dirigent en komponis. Op sestien het hy die kerkorrelis in sy geboortedorp Malton geword, ‘n pos wat hy vir sewe jaar sou beklee. Daarna was hy vir etlike dekades (1946-82) dirigent en musiekmeester van York Minster. Hy het dikwels elders uitvoerings gegee, en in 1978 is die OBE aan hom toegeken. Met sy York-orrel het hy in ‘n uitstekende opname van solowerke deur Cocker, Dubois, Leighton en andere gespeel.

Jackson, Richard (1960-), Engelse bariton. Hy was 'n stigterslid van die ‘Songmakers’ Almanac’ en het met die Glyndebourne Toeropera, die Handel Operavereniging en by die Kent Opera gesing. Sy bekendheid lê veral in vroeë musiek, met 'n konsertrepertorium wat werke van Bach, Handel en Monteverdi insluit. Hy het in uitstekende opnames van liedere deur Poulenc en Schubert gesing.

Jacobs, Paul (1930-83), Amerikaanse pianis en klawesimbelspeler. Hy was vanaf 1951 tot 1960 in Europa werksaam, waar hy in Parys die volledige klavierwerke van Schoenberg uitgevoer het. Terug in die VSA was hy ‘n solis by die New York Filharmoniese Vereniging (1962-74), en het hy onderrig gegee aan die Brooklyn Kollege en die Manhattan Musiekskool. Hy was ‘n spesialis in Barokwerke op die klawesimbel en in avante-garde werke op die klavier. Sy opnames van Debussy se Préludes word deur sommige kenners as ongeëwenaard beskou.

Jacobs, René (1946-), Vlaamse kontratenoor, dirigent en musiekgeleerde. Aanvanklik was hy ‘n tenoor, maar nadat hy Alfred Deller hoor sing het, het hy na sy huidige stemtipe oorgeslaan. Hy het in 1977 die ensemble Concerto Vocale gestig vir die uitvoering van vroeë musiek, insluitend dié van minder bekende komponiste soos Cesti, d’India, Ferrari, Guédron, Lambert en Marenzio. Waardevolle navorsing oor kontratenoorsang en die toepassing daarvan in Barok-verhoogwerke is deur hom gedoen. Verder dirigeer hy sy eie uitgawes van Barokwerke by feeste, byvoorbeeld Cavalli se Giasone (by Innsbruck in 1988) en Monteverdi se L'Orfeo (by Salzburg in 1993). Hy het in 1993 by die Schwetzinger-fees ‘n opvoering van Monteverdi se Il incoronazione di Poppea gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. By die Théâtre Royal de la Monnaie in Brussels het hy in 2004 die première van Cavalli se Eliogabalo gedirigeer, nadat die werk sedert 1668 in die vergetelheid verkeer het. Sy opname van Handel se Rinaldo met die Freiburg Barokorkes is in 2004 met ‘n Cannes Klassieke Toekenning bekroon. In dieselfde jaar is sy opname van Le nozze di Figaro met die Collegium Vocale van Ghent en die Concerto Köln as Gramophone se opname van die jaar bekroon.

As beide sanger en dirigent (wat hy dikwels tegelyk doen) is Jacobs ‘n briljante vertolker van vroeë musiek, sowel gewyd as sekulêr. In opera geld dit veral vir die werke van Gluck, Handel, Haydn en Mozart. Anders as vele ander dirigente wat eietydse uitvoerings doen, word Jacobs se vertolkings gekenmerk deur warmte en gevoelvolheid. Sleutelopnames: Caldara se oratorium Maddalena ai piedi di Cristo; Haydn se simfonieë nrs. 91 en 92, en Scena di Berenice. Verdere opnames (as sanger): kantates van Buxtehude; Campra se opera-ballet L'Europe galante; motette van M. Charpentier; Lully se komedie-ballet Le bourgeois gentilhomme; kantates van Telemann; Zelenka se Lamentationes Jeremiae Prophetae; en die operas Xerse, Admeto, David et Jonathas, Alessandro en Tamerlano; (as dirigent): Almeida se oratorium La Giuditta; Bach se Kersfeesoratorium; sekulêre kantates van Carissimi; duette en kantates van Handel (met die sopraan Judith Nelson); Haydn se oratorium Die Jahreszeiten; madrigale van Marenzio; madrigale, motette en kamerduette van Monteverdi; Mozart se simfonieë nrs. 38 en 41; Schütz se Die Auferstehung unsres Herren Jesu Christi en sy volledige Italiaanse Madrigale; Telemann se Brockes-Passion; Zelenka se Lamentationes Jeremiae Prophetae; en die operas Venus and Adonis, Giasone, Cleopatra e Cesare, Xerse, Le Cinesi, Flavio, Giulio Cesare, Croesus, L’Orfeo, Il ritorno d’ Ulisse in Patria, L’incoronazione di Poppeia, Cosi fan tutte, Dido and Aeneas, Orpheus en Griselda.

Janácek Kwartet, Tsjeggiese strykkwartet wat in 1947 deur studente aan die Brno Konserwatorium gestig is. Hul huidige naam is ná hul Praag-debuut in 1949 aangeneem en in 1958 het hulle Brittanje vir die eerste keer besoek. Hoewel hulle veral met Janácek se twee kwartette en ander moderne werke verbind word, is hulle met hul sekure tegniek ewe begaafd in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Hulle speel altyd volgens geheue. Opname: Mendelssohn se Oktet (twee weergawes, beide met die Smetana Kwartet); strykkwartette van Beethoven, Dvorák, Haydn, Hoffstetter, Janácek, Mozart en Smetana; en klavierkwinette van Brahms en Dvorák (met Eva Bernáthová).

Jandó, Jenö (1952-), Hongaarse pianis. Hy het as sewejarige met klavierlesse begin, gevolg deur studies aan die Liszt Musiekakademie in Boedapest. In 1977 het hy ‘n internasionale kompetisie in Sydney gewen, en sedertdien toer hy wyd deur Europa, Noord-Amerika en Japan. Hy het in 1987 in 'n opname van Beethoven se sonates nrs. 8, 14 en 23 gespeel wat 'n topverkoper in die geskiedenis van klassieke klaviermusiek geword het. Met sy kragtige, onsentimentele spel is hy wêreldbekend in die Klassieke en Romantiese repertoriums, asook in sy landgenoot Bartók se musiek. Naas sy optredes as solis speel hy in kamermusiek met bekende musici soos Kálmán Berkes, György Pauk, Maria Kliegel en Takako Nishizaki. Sleutelopnames: Liszt se Années de pèlerinage (jare 2 en 3). Verdere opnames: die volledige klaviersonates van Beethoven, Haydn en Mozart; die volledige klavierkonserte van Bartók en Mozart, asook die een van Dvorák; die eerste en tweede klavierkonserte van Brahms en Rachmaninof onderskeidelik; Beethoven se Driedubbele Konsert (met Kang en Kliegel); die klavierkwintette van Bartók, Brahms en Schumann (elk met die Kodály Kwartet); Mozart se Kegelstatt trio (met Balogh en Konrád); klavierwerke vir vier hande van Schubert (met Zsuzsa Kollár); Schumann se Inleiding en allegro; en vele solowerke van Bach (insluitend die 48 Preludes en Fugas), Beethoven, Liszt en Schubert.

Janigro, Antonio (1918-89), Italiaanse tjellis en dirigent. Nadat hy in 1934 sy solodebuut as tjellis gemaak het, het hy wêreldwyd begin toer. Hy het vir ‘n kwarteeu ‘n noue verbintenis met die Kroatiese hoofstad Zagreb geniet, eers as hoof van gevorderde tjelloklasse aan die universiteit (1939-53) en daarna as dirigent van die stad se radio-orkes (1954-64). Met die Zagreb Radio Simfonie-orkes het hy in 1963 styvolle opnames van Haydn se simfonieë nrs. 44 tot 49 (Sturm und Drang) gemaak. Verder het hy in 1956 die kamerensemble I solisti di Zagreb gestig en hulle tot 1967 gedirigeer, met ‘n Salzburg-feesdebuut wat in 1956 gemaak is. Hulle het ‘n uitstekende opname van Barber se Adagio vir strykers gemaak. Daarna was hy dirigent van die Angelicum Orkes in Milaan (1965-7) en die Saar Kamerorkes (vanaf 1968), en hoof van gevorderde tjelloklasse aan die Schumann Konserwatorium in Düsseldorf (1965-74). Hy het die eerste uitvoerings van ‘n aantal werke deur Ligeti en Penderecki gedirigeer. Voorts het hy kamermusiek gespeel in ‘n trio met die pianis Paul Badura-Skoda en die violis Jean Fournier. Verdere opnames (as solis): Richard Strauss se Don Quixote (onder Fritz Reiner).

Janis, Byron (1928-), Amerikaanse pianis. As negejarige seun het sy debuut in Pittsburgh plaasgevind, in 1948 het hy in sy eerste konsert in New York gespeel, en vier jaar later het sy Europese debuut in Amsterdam plaasgevind. Hy het in 1962 deur die destydse Sowjet-Unie getoer, en in Moskou het hy onder Kirill Kondrasjin in uitstekende opnames van Prokofiëf se derde klavierkonsert en Rachmaninof se eerste klavierkonsert gespeel. Ten spyte van gewrigsontsteking in beide hande het hy in die 1960's sy loopbaan voortgesit. As leerling van die legendariese Wladimir Horowitz was hy een van die voorste virtuose van sy tyd in die Romantiese repertorium. Hy het in 1967 ondertekende manuskripte van twee Chopin-walse in Frankryk ontdek. Verdere opnames: klavierkonserte van Rachmaninof (nrs. 2 en 3, lg. onder beide Munch en Dorati), Schumann en Tsjaikofski; Liszt se Totentanz; Richard Strauss se Burleske; en solowerke van Pinto en Prokofiëf.

Janowitz, Gundula (1937-), Duitse sopraan. Nadat sy in 1959 haar debuut by die Weense Staatsopera as Barbarina in Le nozze di Figaro gemaak het, was sy vir dertig jaar aan dié beroemde operahuis verbonde. Verdere debute het gevolg by die feeste in Bayreuth (1960), Salzburg (1963) en Glyndebourne (1964), asook by die Metropolitan Opera (1967) en Covent Garden (1976). In 1973 het sy die Grafin in Le nozze di Figaro gesing tydens die heropening van die Parys Opera. Met haar suiwer, romerige stemtoon en gevoelvolle frasering was sy een van die voorste soprane van haar tyd in Duitse opera, konsertwerke en liedere. Haar repertorium het rolle ingesluit soos Fiordiligi in Così fan tutte, Pamina in Die Zauberflöte, Rosalinde in Die Fledermaus, die titelrol in Ariadne auf Naxos, die Grafin in Capriccio, Gutrune in Götterdämmerung, Elsa in Lohengrin, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Sieglinde in Die Walküre en Agathe in Der Freischütz. Sy was verder in 1990/1 direkteur van die Graz Opera. Sleutelopname: ‘n ruim versameling Schubert-liedere (begelei deur Irwin Gage, 1976-7). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie en Egmont-musiek (beide onder Karajan); Haydn se Die Schöpfung (2 weergawes onder Karajan, in 1965 en 1969); 'n versameling konsertarias van Mozart (onder Böttcher) en sy Mis nr. 4 (onder Abbado); Orff se Carmina Burana; liedere van Hüttenbrenner; Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder Karajan) en 9 ander orkesliedere (onder Richard Stamp); die genoemde operette van Johann Strauss junior; en die genoemde operas van Mozart, Strauss, Wagner en Weber.

Janowski, Marek (1939-), Pools-gebore Duitse dirigent. Hy was ‘n assistent-dirigent by operahuise in Aachen, Keulen en Düsseldorf, en daarna musiekdirekteur in Freiburg (1973-5) en Dortmund (1975-9). Sy Londense debuut het in 1969 plaasgevind met die Britse première van Der junge Lord. In 1972 het hy die Londense Simfonie-orkes in seldsame opnames van Wagner se Huldigungsmarsch, Kaisermarsch en Grosser Festmarsch gedirigeer. Sy Amerikaanse operadebute is gemaak in Chicago (1980) en by die Metropolitan Opera (1984). In die vroeë 1980’s het hy die eerste Ring-siklus wat op kompakskyf uitgereik is met die Dresden Staatskapelle en die Leipzig Radio-koor opgeneem. Dit word deur kenners onder die beste weergawes van dié epiese werke gereken. Hy was voorts artistieke direkteur van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1983-6) en dirigent van die Gürnemanz Orkes in Keulen (1986-91). Vanaf 1984 tot 1998 het hy die die Franse Radio Filharmoniese Orkes gedirigeer, waartydens die ensemble tot internasionale statuur opgebou is. Hy het in 2002 musiekdirekteur van die Monte Carlo Filharmoniese Orkes geword. Drie jaar later het hy dieselfde pos by die Orchestre de la Suisse Romande in Genève oorgeneem. Met hulle is hy besig om die volledige simfonieë van Bruckner op te neem. Hy is veral bekend in die Duitse Romantiese repertorium, asook sommige moderne werke. Verdere opnames: Brahms se vier simfonieë (Pittsburgh Simfonie-orkes); Lutoslafski se Konsert vir orkes; Roussel se derde en vierde simfonieë; Saint-Saëns se Karnaval van die Diere; Schmitt se ballet La tragédie de Salomé en Psalm 47; en die operas Violanta, Bloubaard se Kasteel, Die Harmonie der Welt, Die schweigsame Frau, Tannhäuser, Der Freischütz en Euryanthe.

Jansons, Mariss (1943-), Lettiese dirigent. Sy vader was die dirigent Arvid Yansons en sy moeder was ‘n Joodse sangeres, wat onder skuiling tydens die Duitse besetting van Letland aan hom geboorte geskenk het. Haar vader en broer het tevore in die Riga ghetto gesterf. Op ses het hy met vioollesse onder sy vader begin, en in 1956 het die gesin na Leningrad (tans Sint Petersburg) verhuis. In dié Russiese stad het hy viool, klavier en dirigeerkuns aan die konserwatorium studeer, waar hy met lof sou gradueer. Vanaf 1969 het hy vir drie jaar in Wenen onder Hans Swarowsky en in Salzburg onder Herbert von Karajan studeer. Nadat hy in 1971 ‘n tweede prys in die Karajan-dirigeerkompetisie gewen het, is hy deur die Duitse maestro genooi om sy assistent by die Berlynse Filharmoniese Orkes te wees. Die Sowjet-owerhede het egter verseker dat hy nie van die aanbod verneem nie. Hy is in 1973 deur die musiekdirekteur van die Leningrad Filharmoniese Orkes, Jewgeni Mrawinski, wat hy reeds as vyfjarige ontmoet het, genooi om hom as mededirigent by te staan. Die jong dirigent sou ‘n lewenslange bewondering vir sy legendariese mentor behou, beide as musikus en as persoon.

In 1979 het Jansons musiekdirekteur van die Oslo Filharmoniese Orkes geword, wat hy tot een van die beste orkeste ter wêreld sou opbou. Met hulle het hy talle hoogaangeskrewe opnames gemaak. Daarby het hy in 1985 mede-hoofdirigent van die Sint Petersburg Filharmoniese Orkes geword, en in 1992 hul hoofgasdirigent. Met beide orkeste het hy wyd deur Europa, Japan en die VSA getoer. Uit erkenning vir sy werk met die Oslo Filharmonie het Koning Harald V van Noorweë in 1995 die dirigent as Kommandeur met Ster van die Koninklike Noorse Meriete-Orde aangewys, die hoogste toekenning van dié land aan ‘n buitelander. Verder is die Noorse Kultuurprys van Anders Jahre aan hom toegeken. Sy Amerikaanse debuut is in 1987 met die Oslo-orkes gemaak, en drie jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Naas die genoemde poste het hy in 1992 hoofgasdirigent van die Londense Filharmoniese Orkes geword, en vanaf 1997 was hy hoofdirigent van die Pittsburgh Simfonie-orkes. As gasdirigent tree hy gereeld met van die voorste orkeste in Europa en Noord-Amerika op. Oor ‘n tydperk van 17 jaar (1988-2005) het hy die volledige simfonieë van Sjostakowitsj met 8 verskillende orkeste opgeneem.

Met so ‘n ontsaglike werklading van toere, konserte, opnames, en talle radio- en televisie-optredes is dit eintlik nie verbasend dat Jansons in 2000 ‘n hartaanval op die podium gehad het nie. Hy is na Switserland vir behandeling ten einde sy internasionale loopbaan te hervat. In dieselfde jaar het hy uit sy Oslo-pos bedank ná ‘n dispuut oor die akoestiek van die stad se konserthuis. Hy het in 2003 musiekdirekteur van die Beierse Radio Simfonie-orkes in München geword. Sy pos in Pittsburgh is in die jaar daarop weens lugtamheid afgestaan. Daarby het hy in 2004 hoofdirigent van die Koninklike Concertgebouw Orkes in Amsterdam geword. Hy het in 2006 die Nuwejaarskonsert in Wenen gedirigeer, waarvan ‘n DVD-opname gemaak is. In 2007 het hy en sy Beierse orkes ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie voor Pous Benedictus XVI en 7 000 gaste in Rome gegee. Die geleentheid is wêreldwyd gebeeldsend. Hy het die orkes verder in ‘n herdenkingskonsert tydens die Herbert von Karajan eeufeesviering in 2008 gedirigeer. Twee jaar later het hy die Concertgebouw in uitvoerings van Mahler se tweede, derde en agste simfonieë gedirigeer, waarvan DVD-opnames gemaak is.

Met sy fyn afgewerkte vertolkings is Jansons ‘n meesterlike dirigent in Romantiese en moderne simfoniese musiek. Soos sy eertydse mentor Jewgeni Mrawinski dirigeer hy nie juis opera nie. Daarby is hy ‘n hoogleraar aan sy alma mater in Sint Petersburg, waar hy en sy tweede vrou woonagtig is. Sy dogter Ilona uit ‘n vorige huwelik is ‘n pianis by die stad se beroemde Marijinski Teater. Sleutelopnames (Oslo tensy anders aangedui): Dvorák se vyfde simfonie; Sjostakowitsj se simfonie nr. 13 (München); Svendsen se 2 simfonieë; Tsjaikofski se derde simfonie en Manfred Simfonie. Verdere opnames: Dvorák se volledige simfonieë (Oslo); Rachmaninof se volledige simfonieë (Sint Petersburg); Tsjaikofski se volledige simfonieë (Oslo); ‘n aantal simfonieë van Honegger (nrs. 2 en 3), Mahler (nrs. 2 en 6), Prokofiëf (nr. 5) en Sibelius (nrs. 1, 2, 3 en 5); Dvorák se Otello ouverture en Scherzo capriccioso; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n uitstalling; Rachmaninof se Eiland van die Dode, Vocalise en Simfoniese Danse; Sibelius se Finlandia, Tapiola en ander orkeswerke; Richard Strauss se Ein Heldenleben; en Tsjaikofski se 1812 Ouverture, Francesca di Rimini, Romeo en Juliet Fantasie ouverture en ballet Neutkraker.

Janssen, Herbert (1892-1965), Duits-gebore bariton. Hy het sy debuut in 1922 in Berlyn gemaak as Herodes in Der Schätsgraber. Daarna was hy tot 1938 ‘n lid van die Berlynse Staatsopera, terwyl hy ook opgetree het by Covent Garden (1926-39) en by die Bayreuth-fees (1930-7). Hy was ‘n uitmuntende sanger in Wagner-rolle soos Kothner in Die Meistersinger von Nürnberg, Gunther in Götterdämmerung, Amfortas in Parsifal, Wolfram in Tannhäuser en Kurwenal in Tristan und Isolde. By Bayreuth het hy in ‘n historiese 1930-opname van Tannhäuser onder Karl Elmendorff gesing. Ses jaar later het hy by Covent Garden met die legendariese Kirsten Flagstad en Lauritz Melchior in ‘n opname van Tristan und Isolde onder Fritz Reiner gesing. In die volgende twee seisoene by dié operahuis het hy uitgeblink as Gunther onder Wilhelm Furtwängler. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is hy na die VSA, waar hy in 1946 ‘n Amerikaanse burger geword het. In dié land was hy vanaf 1939 tot 1952 aan die Metropolitan Opera verbonde. Later in sy loopbaan het hy verdere Wagner-rolle soos Wotan in die Ring en Hans Sachs in Die Meistersinger vertolk.

Järnefelt, Armas (1869-1958), Fins-gebore dirigent en komponis. Hy het in Helsinki, Berlyn en Parys studeer, en vanaf 1907 tot 1932 het hy die Koninklike Opera in Stockholm gedirigeer. Daar het hy in 1910 ‘n Sweedse burger geword. Daarna het hy die Finse Nasionale Opera (1932-6) en die Helsinki Filharmoniese Orkes (1942/3) gedirigeer, waartydens hy Wagner se musiek in Finland bekend gestel het. Vanaf 1940 was hy ook ‘n hoogleraar aan die Helsinki Universiteit. Sy suster was met die komponis Sibelius getroud.

Jarrett, Keith (1945-), Amerikaanse pianis en komponis van gemengde Skots-Ierse en Hongaarse afkoms. As wonderkind op die klavier het hy in sy vroeë tienerjare al getoer, en later het hy 'n beurs om onder die vermaarde leermeester Nadia Boulanger in Parys te gaan studeer afgewys ten gunste van ‘n jazz-loopbaan. Nogtans het hy voortreflike vertolkings gelewer in opnames van Bach se 48 Preludes en fugas (waarvan die eerste helfte op klavier en die res op klawesimbel uitgevoer is), en van Sjostakowitsj se 24 Preludes en fugas.

Järvi, Kristjan (1973-), Esties-gebore dirigent, seun van Neeme Järvi. Hy het as jong seun met die res van sy gesin na New York verhuis, waar hy klavier bestudeer het. In 1993 het hy die Absolute Ensemble gestig vir die uitvoering van ‘n wye verskeidenheid musiekvorme, en met hulle het hy deur Europa en Sentraal-Amerika getoer. Hulle het ‘n voortreflike opname van Tuür se Architectonics tot hul krediet. Hy het verskeie eerste uitvoerings van hedendaagse werke gedirigeer, en was vanaf 1998 vir twee jaar mededirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes. In 2001 het hy hoofdirigent van die Norrlands Opera en Simfonie-orkes in Umea, Swede geword. Hy tree wyd deur Europa, die Verre Ooste en Australië as gasdirigent op. Sy vrou is die bekende violis Leila Josefowicz.

Järvi, Neeme (1937-), Esties-gebore dirigent. As vierjarige was hy al vaardig op die xilofoon en op elf het hy in die orkes van sy geboortestad Tallinn gespeel. Dit het hom in staat gestel om die tegnieke van die groot Russiese dirigente en soliste wat Tallinn besoek het waar te neem. Hy is in 1955 na Leningrad (tans Sint Petersburg), waar hy vir vyf jaar onder die legendariese dirigent Jewgeni Mrawinski studeer het. Daarna was hy musiekdirekteur van die Estiese Staatsimfonie-Orkes (1960-80) en die Estiese Opera in Tallinn (1964-77). Intussen het hy in 1971 die dirigeerkompetisie by die Santa Cecilia Akadenie in Rome gewen. Sy debuut by die Kirof Opera is in dieselfde jaar met ‘n opvoering van Carmen gemaak. In 1979 is sy debuut by die Metropolitan Opera met Jewgeni Onegin gemaak, en later in die jaar het hy sy landgenoot Pärt se Credo met sy Estiese orkes gedirigeer. Die volgende dag is hy en al die orkeslede deur die kommunistiese owerhede afgedank en het hy besluit om te emigreer. Hy is in 1980 met sy gesin na die VSA, waar hy drie jaar later ‘n Amerikaanse burger geword het. In die Weste het hy poste beklee as hoofdirigent van die Göteburg Simfonie-orkes in Swede (vanaf 1982), hoofgasdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1981-4), en hoofdirigent van die Skotse Nasionale Orkes (1984-8). Met sy Sweedse orkes het hy die bykans volledige orkeswerke van Grieg in hoogstaande vertolkings opgeneem, en met sy Skotse orkes ook die volledige toondigte van Richard Strauss. Hy is sedert 1990 musiekdirekteur van die Detroit Simfonie-orkes, en voorts is hy ‘n gasdirigent van die Japannese Filharmoniese Orkes en eredirigent van die Skotse Nasionale Orkes.

Sedert Estiese onafhanklikheid van die Sowjet-Unie in 1991 keer Järvi twee of drie keer per jaar na sy geboorteland terug, onder meer om elke Julie meesterklasse in dirigeerkuns in Pärnu aan te bied. Hy was instrumenteel daarin om ‘n nuwe musiekakademie in Tallinn gevestig te kry, wat in 2000 geopen het. Elke Kersfees vind daar onder sy leiding ‘n gesinsreünie in Estland plaas. Hy is wêreldbekend as orkesbouer en as kampvegter vir Estiese komponiste soos Arvo Pärt en Eduard Tubin. Met vertolkings wat deur beheerstheid en verfyning gekenmerk word, is hy uitmuntend in laat-Romantiese en moderne musiek. Dit geld veral vir die Skandinawiese en Russiese repertoriums, waarin hy een van die onbetwiste meesters van sy tyd is. Onder sy honderde opnames tel die volledige simfonieë van Alfvén, Berwald, Borodin, Brahms, Dvorák, Fibich, Gade, Glazoenof, Kallinikof, Martinu, Nielsen, Prokofiëf, Rimski-Korsakof, Schmidt, Sibelius, Sjostakowitsj, Stenhammar en Tubin. Met die Londense Filharmoniese Orkes het hy ‘n ongewone opname van Tsjaikofski se sewende simfonie in Bogatirijef se verwerking gemaak.

Sleutelopnames: Martinu se volledige simfonieë (Bamberg); Rachmaninof se operas Aleko, Francesca di Rimini en Die suinige ridder (almal Göteburg, 1996); Reger se 4 Böcklin-toondigte en Hiller Variasies (Concertgebouw); Schmidt se 4 simfonieë (Detroit); ‘n ruim versameling orkeswerke van Sibelius (Göteburg); Tsjaikofski se Die Sneeumeisie geleentheidsmusiek (Detroit); Tubin se volledige simfonieë (Stockholm, Bergen, Bamberg, Göteburg). Verdere opnames: Barber se 2 Essays vir orkes; Bartók se Hongaarse Prente en ballet Die Houtprins; Beach se Gaelic Symphony; Bruckner se agste simfonie; Chadwick se simfonieë nrs. 2 en 3, ballade Tam O’Shanter en 2 ouvertures; Eller se toondig Dagbreek en Elegia vir harp en strykers; Enescu se 2 Roemeense Rapsodieë; Grieg se Peer Gynt; Honegger se simfonieë nrs. 3 en 5; Ives se eerste simfonie; Khatsjatoerian se tweede simfonie, en ballette Gayaneh en Spartacus; Mahler se derde simfonie; Pärt se Cantus in memoriam Benjamin Britten; Prokofiëf se Alexander Nevsky-kantate, Kantate vir die 20ste herdenking van die Oktober Rewolusie en Pieter en die Wolf; Rachmaninof se derde simfonie en Simfoniese Danse; Raid se eerste simfonie; Reger se Beethoven Variasies; Sjostakowitsj se 5 balletsuites en Feesouverture; Skriabin se simfonieë nrs. 2 en 3, Le Poème de l’extase en Rêverie; Smetana se Má Vlast; Steiner se klankbaan vir die rolprent Gone with the Wind; Richard Strauss se tweede simfonie, Aus Italien en Metamorphosen; Strawinski se L'histoire du soldat, en sy ballette Die Vuurvoël en Petroesjka; Tanejef se vierde simfonie; Tsjaikofski se 4 Orkessuites en 1812 Ouverture; Tubin se Toccata vir Orkes en Requiem; ‘n versameling orkeswerke van Langgard, Lemba en Weiner; en die operas Saul en Dawid, Die vurige engel, Die Meisie in die Toring en Mazeppa. Sy seuns Paavo en Kristjan is ook dirigente (sien afsonderlike inskrywings), en sy dogter Maarika is ‘n fluitspeelster.

Järvi, Paavo (1963-), Esties-gebore dirigent, seun van Neeme Järvi. As kind het hy gereeld sy vader se inoefeninge en opvoerings bygewoon, sodat hy op jeugdige leeftyd al besluit het om ‘n dirigent te word. Nadat hy aan die Tallinn Musiekskool studeer het, het hy as sewentienjarige met die res van sy gesin na die VSA geëmigreer. Daar het hy aan die Curtis Instituut onder Max Rudolf en in Los Angeles onder Leonard Bernstein studeer. Hy was hoofgasdirigent van die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes en die Stad Birmingham Simfonie-orkes, en het oor die jare met vele ander bekende orkeste in Europa, die VSA en Australië opgetree. Soos sy beroemde vader is hy ‘n kampvegter vir die musiek van Estiese komponiste soos Sumera en Tubin. In 2001 het hy musiekdirekteur van die Cincinatti Simfonie-orkes geword, met wie hy twee jaar tevore gedebuteer het. Sy opname van Sibelius-kantates met die Estiese Nasionale Simfonie-orkes is in 2004 vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. Met die Duitse Kamerfilharmonie in Bremen het hy Beethoven se volledige simfonieë opgeneem, wat in 2010 op DVD vrygestel is. Sleutelopnames (Cincinatti): ‘n versameling orkeswerke van Ravel; Strawinski se Die Vuurvoël Suite en ballet Petroesjka. Verdere opnames: Berlioz se Symphonie fantastique; Dvorák se agste simfonie; Grieg se Peer Gynt; Martinu se tweede simfonie; Pärt se derde simfonie en Cantus in memoriam Benjamin Britten; Sibelius se Kullervo simfonie; orkeswerke van Mozart, Nystroem, Stenhammar en Tüür; en ‘n versameling Russiese balletmusiek.

Jenkins, Newell (1915-), Amerikaanse dirigent en musiekgeleerde. Hy het in 1935 sy dirigeerdebuut met Dido and Aeneas in Freiburg gemaak en vyf jaar later die Yale Operagroep in New Haven gestig. Vanaf 1948 was hy vir vyf jaar dirigent van die Bologna Kamerorkes, en verder het hy die Piccola Academia Musicale in Florence (1952) en die Clarion-konserte in New York (1956) gestig. Met laasgenoemde se koor en orkes het hy in 1972 'n uitstekende opname van Rossini se minder bekende opera La pietra del paragone gemaak. Daarbenewens het hy onderrig gegee aan die New York Universiteit (1964-74) en die Universiteit van Kalifornië (1971-9). Hy was 'n gesaghebbende in die musiek van Sammartini en Cherubini.

Jeritza, Maria (1887-1982), Tsjeggies-gebore sopraan en aktrise. Sy het in Brno studeer en in 1910 haar debuut in Olmütz gemaak, as Elsa in Lohengrin. In 1912 het sy by die Weense Volksopera begin sing, maar in die jaar daarop het sy by die Weense Staatsopera aangesluit nadat die Oostenrykse Keiser Franz Josef haar hoor sing het. Sy was tot 1932 en weer vanaf 1949 tot 1952 aan dié operahuis verbonde. Met haar briljante stem, magnetiese verhoogpersoonlikheid en aantreklike voorkoms was sy uitmuntend in veral Richard Strauss se operas. Sy het die rolle geskep van Ariadne in Ariadne auf Naxos (1912), die titelrol in Jenufa (1918), die Keiserin in Die Frau ohne Schatten (1919) en Marietta in Die tote Stadt (1920) tydens die Weense premières van die operas. Vanaf 1921 tot 1932 het sy ook by die Metropolitan Opera gesing, waar sy die titelrolle geskep het tydens die Amerikaanse premières van Jenufa (1924), Turandot (1926) en Die ägyptische Helena (1928). Intussen het sy in 1925/6 by Covent Garden gesing. Gedurende die 1930's het sy in verskeie Hollywood-rolprente opgetree, en in 1935 is die Oostenrykse Orde van Verdienstelikheid aan haar toegeken. Sy het in 1943 ‘n Amerikaanse burger geword en agt jaar later haar afskeidsoptrede by die Met gegee, as Roselinda in Die Fledermaus. Ná haar uittrede het sy in Kalifornië gebly. Verdere opnames: uittreksels uit Goldmark se Heimchen am Herd.

Jerusalem, Siegfried (1940-), Duitse tenoor. Nadat hy aanvanklik ‘n fagotspeler in ‘n aantal Duitse orkeste was, is sy operasangdebuut in 1975 as die Eerste Gevangene in Fidelio gemaak. Verdere debute het gevolg by die feeste in Bayreuth (1977) en Salzburg (1979), asook by die Metropolitan Opera (1980) en Covent Garden (1986). Intussen was hy vanaf 1977 vir drie jaar aan die Deutsche Oper in Berlyn verbonde. Met sy kragtige stem, atletiese voorkoms en oortuigende akteurspel is hy een van die voorste heldentenors van sy tyd in Wagner-rolle soos die titelrolle in Lohengrin en Parsifal, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg, die manlike hoofrol in Tristan und Isolde, Loge en Froh in Das Rheingold, en Siegfried in Siegfried en Götterdämmerung. Hy het Parsifal onder Horst Stein gesing by die Bayreuth-fees in 1981. Later het hy uitgeblink as Loge en Siegfried in James Levine se hoogaangeskrewe Ring-siklus by die Met in 1989/90. Onder Levine het hy ook Parsifal gesing by die Met in 1992. DVD-opnames is van die genoemde geleenthede gemaak. Sy debuut as Tristan was by Bayreuth in 1993 teenoor Waltraud Meier as Isolde, met Daniel Barenboim as dirigent. Onder die verdere rolle waarin hy uitblink, tel Lionel in Martha, Asad in Die Königin von Saba, Tamino in Die Zauberflöte en Aegist in Elektra. Hy is ook ‘n begaafde konsertsanger in die Duitse repertorium. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Barenboim); Haydn se Die Jahreszeiten; Liszt se Faust Simfonie (onder Solti); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Chailly); Schoenberg se Gurrelieder; die genoemde operas van Flotow, Goldmark, Mozart, Richard Strauss en Wagner, asook Violanta.

Jilek, Frantisek (1913-93), Tsjeggiese dirigent, pianis en komponis. Oor ‘n tydperk van etlike dekades het hy ‘n aantal dirigeerposte in die destydse Tsjeggo-Slowakye beklee. Daaronder tel dirigent van die Brno Opera (1936-9 en weer 1948-52), assistent-dirigent van die Ostrawa Opera (1939-48) en artistieke direkteur van die Brno Opera (1952-78). Hy was veral bekend in die musiek van sy landgenote, en het in 1958 al Janácek se operas in Brno gedirigeer. Vanaf 1978 was hy vir vyf jaar hoofdirigent van die Brno Staatsfilharmoniese Orkes, en verder het hy as gasdirigent in Helsinki, Florence en Leipzig opgetree. Hy was ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Janácek Musiekakademie. Opnames: Janácek se Sinfonietta en opera Die Uitstappies van Mnr. Broucek; en Martinu se ballet Spalicek en koorwerk Dandelion.

Jo, Sumi (1962-), Koreaanse sopraan. As jong kind het sy onder aansporing van haar moeder begin om lesse in musiek, sang en skilderkuns te ontvang. Op negentienjarige ouderdom is sy na Italië, waar sy aan die Santa Cecilia Akademie studeer het. In 1986 het sy haar debuut in Trieste gemaak as Gilda in Rigoletto. As beskermling van Herbert von Karajan het sy in die jaar daarop by die Salzburg-fees gedebuteer as Oscar in Un ballo in maschera. Dit was die begin van haar internasionale loopbaan, met verdere debute wat gevolg het by die Metropolitan Opera (1989), Covent Garden (1991) en die Parys Opera (1993). Met haar helder stem, foutlose tegniek en intelligente sang het sy besonder gewild geraak, en word sy deur sommige kenners as die opvolger van Joan Sutherland beskou. Haar bekendheid lê veral in koloratuurrolle met die hoogste toonhoogtes, soos die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte, en in die bel canto repertorium. Dit sluit rolle in soos Cunegonde in Candide, Olympia in Les contes d'Hoffmann, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Adèle in Le Comte Ory, Amenaide in Tancredi, Fiorilla in Il Turco in Italia, Zerbinetta in Ariadne auf Naxos, en die titelrolle in Lakmé en Lucia di Lammermoor. Daarby is sy ewe begaafd in konsertwerke en liedere, met konserttoere in Australië, Brasilië en Frankryk wat hoë lof ingeoes het. Sleutelopname: Offenbach se Valse tyrolienne (onder Bonynge). Verdere opnames: Mahler se agste simfonie (onder Sinopoli); Orff se Carmina Burana; Rossini se Messa di Gloria; die genoemde operas van Mozart, Rossini en Verdi, asook Le domino noir; ‘n versameling Franse arias en orkesliedere (onder Bonynge); en ‘n versameling arias in verskeie tale (onder Olmi en Jordan).

Jochum, Eugen (1902-87), Duitse dirigent. Hy het in München studeer, en was aanvanklik ‘n sangafrigter by operahuise in dié stad (1924/5) en in Kiel (1926/7). Daarna was hy ‘n dirigent by die Kiel Opera (1927-9) en op aanbeveling van Wilhelm Furtwängler in Mannheim (1929), voordat hy in 1930 musiekdirekteur in Duisburg geword het. Vanaf 1932 was hy vir twee jaar musiekdirekteur van die Berlynse Radio en ‘n dirigent by die Berlynse Staatsopera. In dié tyd het sy lewenslange verbintenis met die Berlynse Filharmoniese Orkes in die vorm van jaarlikse konserte begin. Hy het in 1934 musiekdirekteur van die Hamburg Staatsopera en Filharmoniese Orkes geword, met wie hy die Duitse première van die oorspronklike weergawe van Boris Godoenof gedirigeer het. Hy sou vir die volgende 15 jaar aan dié operahuis verbonde wees. In 1949 het hy die Beierse Radio Simfonie-orkes in München gestig, en as hul hoofdirigent tot 1961 het hy die orkes tot internasionale standaard opgelei. Intussen is sy debute by die feeste in Salzburg in 1945, Bayreuth in 1953 en Edinburgh in 1957 onderskeidelik gemaak. By Bayreuth het hy ‘n opname van die Ring-siklus met bekende soliste gedirigeer. Ná Eduard van Beinum se dood in 1960 het hy met Bernard Haitink mede-hoofdirigent van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam geword, ‘n pos wat hy vir drie jaar sou beklee. So vroeg as 1941 het hy al as gasdirigent by dié beroemde orkes begin optree, en vanaf die 1960’s het hy hulle op internasionale toere gelei, waaronder drie deur Japan. Intussen het hy in 1962 die Berlynse Filharmoniese Orkes tydens die herinwyding van die Coventry Katedraal gedirigeer. Vanaf 1969 tot 1978 was hy hoofdirigent van die Bamberg Simfonie-orkes. In 1975 het hy eredirigent van die Londense Simfonie-orkes geword en sewe jaar later het hy Japan met sy Bamberg-orkes besoek. Hy het die Ochestre National de France in 1980 in ‘n uitvoering van Bruckner se sewende simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat gemaak is.

Jochum was een van die grootste vertolkers van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium van sy tyd, veral van Haydn, Mozart, Beethoven, Brahms en Richard Strauss, asook van Bach se koormusiek. As diep godsdienstige mens het sy grootste roem egter in die musiek van Bruckner gelê, met opnames van sy volledige simfonieë en misse wat deur kenners onder die heel bestes van dié epiese werke gereken word. Dit is tussen 1958 en 1972 met sy Beierse orkes en die Berlynse Filharmonie gemaak. ‘n Tweede siklus van die Bruckner-simfonieë wat vanaf 1975 tot 1980 met die Dresden Staatskapelle opgeneem is, het tot ewe uitmuntende resultate gelei. Hy kon ook goeie rekenskap van homself in die musiek van Sibelius gee, en was bevriend met sy landgenoot Carl Orff. Gedurende die 1950’s het hy met sy Beierse orkes en koor opnames van Orff se sekulêre kantates Carmina Burana, Catulli Carmina en Trionfo di Afrodite gemaak wat die komponis se goedkeuring weggedra het. Verder was hy ‘n konsertbegeleier vir groot musici soos die pianiste Emil Gilels en Clara Haskil en die violis Wolfgang Schneiderhan. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Brahms, asook Haydn se simfonieë nrs. 93-104; Bach se Mis in B mineur; Brahms se Ein deutsches Requiem; Elgar se Enigma Variasies; Mahler se Das Lied von der Erde; Reger se Serenade (3 weergawes); en die operas Così fan tutte, Elektra, Die Meistersinger von Nürnberg en Der Freischütz.

Johnson, Edward (1878-1959), Kanadees-gebore tenoor en opera-administrateur. Hy het sy debuut in 1907 in New York gemaak en vyf jaar later sy Italiaanse debuut in Padua. In 1914 het hy ‘n lid geword van La Scala, waar hy in dieselfde jaar in die Italiaanse première van Parsifal onder Toscanini gesing het. Tot 1919 het hy by dié operahuis en ander in Rome, Milaan, Madrid, Buenos Aires en Rio de Janeiro in die vernaamste tenoorrolle opgetree. Daarna het hy tot 1922 by die Chicago Opera gesing, waartydens hy ‘n Amerikaanse burger geword het. Vervolgens was hy aan die Metropolitan Opera verbonde tot 1950, waarvan die laaste 15 jaar as bestuurder. Daar het hy in ‘n klassieke opname van Hanson se Merry Mount onder Tullio Serafin gesing.

Johnson, Emma (1966-), Engelse klarinettis. Sy het op nege jaar met klarinetlesse begin, en in 1984 het sy die BBC se Jong Musikus-kompetisie gewen. Studies in musiek en Engels het aan die Universiteit van Cambridge gevolg, waarna sy die eerste vrou geword het om ‘n eregenoot van Pembroke College te word. Die MBE is in 1996 aan haar toegeken. Sy tree met van die voorste orkeste wêreldwyd in ‘n repertorium van meer as 40 konserte op. Daarby speel sy in kamermusiek met ‘n aantal strykkwartette, en is sy direkteur van haar eie ensemble. Sleutelopnames: Weber se 2 klarinetkonserte en Klarinet Concertino, asook Grand duo concertante (lg. met Gordon Black). Verdere opnames: klarinetkonserte van Crusell, Kozeluch, Krommer en Mozart; Bärmann se Adagio; Rossini se Inleiding, Tema en Variasies; en die klarinetkwintette van Mozart en Weber.

Johnson, Graham (1950-), Rhodesies-gebore Britse pianis. Hy het in 1972 sy debuut in Londen gemaak en vier jaar later die vokale ensemble Songmakers’ Almanac gestig, waarvan hy die artistieke direkteur is. Met hulle het hy gewilde konserte van liedere-voordragte gegee. Daarby het hy wêreldbekend as klavierbegeleier vir sangers soos Janet Baker, Ian Bostridge, Victoria de los Angeles, Magdalena Kozena, Felicity Lott, Margaret Price, Peter Schreier, Elisabeth Schwarzkopf en Stephen Varcoe geraak. Hy was as begeleier die dryfveer agter 'n jarelange projek om die volledige liedere van Schubert met verskillende sangers op te neem. Dit is vrygestel deur die opnamemaatskappy Hyperion in altesaam 37 volumes, waarvan elk aan ‘n tema of kunstenaar gewy is. Die projek het hoë lof ingeoes, nie die minste nie vir die pianis se geïnspireerde begeleiding en die insiggewende musieknotas wat hy bygedra het.

Jones, Della (1946-), Walliese mezzosopraan. Sy het in 1969 die Kathleen Ferrier-gedenkbeurs gewen en in die jaar daarop is haar debuut in Genève gemaak, as Fiodor in Boris Godoenof. Daarna het sy gedebuteer by Sadler’s Wells (1973), die Walliese Nasionale Opera (1977) en Covent Garden (1983). Vanaf 1977 was sy vir vyf jaar ‘n lid van die Engelse Nasionale Opera, waar sy in 1981 die rol van Dolly tydens die première van Hamilton se Anna Karenina geskep het. In 1986 het haar Amerikaanse debuut in Los Angeles plaasgevind. Sy is een van die voorste mezzos van haar tyd in beide vroeë opera en dié van moderne Britse komponiste. Daaronder tel rolle soos Kristin in Miss Julie, Teresa in La Sonnambula, Mrs Herring in Albert Herring, Lady Essex in Gloriana, Lucretia in Beatrice Cenci, die titelrol in Agrippina, Ruggiero in Alcina, Juno in Semele, Medea in Teseo, Felicia in Il Crociato in Egitto, die Bokwagter in Dinorah, Nero in L'incoronazione di Poppea, Vitellia in La clemenza di Tito, Donna Elvira in Don Giovanni, Dido in Dido and Aeneas en Madame Popova in The Bear. Daarby is sy met haar ryk stem ‘n begaafde konsertsangeres. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder beide Mackerras en Morris); Rubbra se negende simfonieë (onder Hickox); Elgar se Sea Pictures; koorwerke van Haydn, Holst, Howells, Lambert, Parry, Rossini en Rubbra; Hindemith se Sancta Susanna (onder Tortelier); die operette Candide (as Paquette); ‘n versameling arias van Donizetti (onder David Parry); die genoemde operas van Alwyn, Bellini, Britten, Goldschmidt, Handel, Meyerbeer, Monteverdi, Mozart, Purcell en Walton, asook L'assedio di Calais, Maria Padilla, Ifigenia in Tauride en I vespri siciliani.

Jones, Geraint (1917-), Walliese orrelis, klawesimbelspeler en dirigent. Hy was vanaf 1940 vir vier jaar die orrelis by die Nasionale Galerykonserte in Londen, wat deur die beroemde pianis Myra Hess gestig is. In 1951 het hy ‘n orkes en koor wat na hom vernoem is, gestig. Agt jaar later het hulle in ‘n voortreflike opname van Handel se Utrecht Te Deum en ander koorwerke opgetree. Later was hy musiekdirekteur van die Lake District-fees (1960-78) en artistieke direkteur van die Salisbury-fees (1972-7). Daarbenewens was hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie. Met die koor en orkes van die Mermaid Teater, en groot sangers soos Kirsten Flagstad en Elisabeth Schwarzkopf, het hy in 1952 ‘n uitstekende opname van Purcell se opera Dido and Aeneas gemaak.

Jones, Gwyneth (1936-), Walliese sopraan. Nadat sy in 1962 in Zürich in Gluck se Orpheus gedebuteer het, was sy vanaf die jaar daarop aan Covent Garden verbonde. Verdere debute is gemaak in Wenen en by die Bayreuth-fees (beide in 1966), die Metropolitan Opera (1972) en die Salzburg-fees (1979). Met haar kragtige stem het sy roem verwerf in die swaarder operarolle van Richard Strauss en Wagner. Tydens die Bayreuth Eufeesviering in 1976 het sy die rol van Brünnhilde in die Ring-siklus onder Pierre Boulez gesing, met uitstekende opnames wat gemaak is. Daarna het sy Brünnhilde gesing in San Francisco, by die Met en by Covent Garden. Onder die verdere rolle waarin sy uitgeblink het tel die titelrolle in Turandot, Die ägyptische Helena, Elektra en Salome, asook Leonore in Fidelio, Esmeralda in Notre Dame, die Marschallin in Der Rosenkavalier, Desdemona in Otello, beide Elizabeth en Venus in Tannhäuser, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde en Kundry in Parsifal. In 1986 is sy tot dame geskep en in die jaar daarop is die Shakespeare-prys aan haar toegeken. Opnames: Mahler se agste simfonie (onder Bernstein); Sibelius se Luonnotar; die genoemde operas van Beethoven, Schmidt, Verdi en Wagner, asook Die ägyptische Helena, Der Rosenkavalier en Salome.

Jones, Martin (1940-), Engelse pianis. Hy het in 1968 die Myra Hess-toekenning ontvang, en in dieselfde jaar is sy debute in Londen en New York gemaak. Sedertdien tree hy wêreldwyd op, met ‘n bekendheid veral in moderne musiek. Oor die jare heen het hy die volledige solowerke van Grainger, Granados, Korngold, Mompou en Szymanowski in hoogstaande vertolkings opgeneem. In 1996 het hy die eerste bekende Britse musikus geword om ‘n voordrag in Jekaterinburg te gee - die Russiese stad waar die koninklike familie in 1918 deur Lenin se Bolsjewiste vermoor is. Verdere opnames: Albéniz se Iberia, Tango en Suite Espanola; Korngold se werke vir 4 hande (met McMahon).

Jones, Philip (1928-2000), Engelse trompetspeler. Ná studies aan die Koninklike Musiekkollege was hy eerste trompetspeler in ‘n aantal vooraanstaande Britse orkeste. Dit sluit in die orkes van Covent Garden (1949-56), die Koninklike Filharmoniese Orkes (1956-60), die Londense Filharmoniese Orkes (1964/5), die Nuwe Philharmonia (1965-7) en die BBC Simfonie-orkes (1968-71). Intussen het hy in 1951 die ensemble gestig wat na hom vernoem is (sien Philip Jones Brass Ensemble), en waarvan hy tot 1986 die direkteur sou wees. Daarbenewens was hy departementshoof by die Koninklike Noordelike Musiekkollege (1975-7) en die Guildhall Musiekskool (1983-8), en hoof van die Trinity Musiekkollege (1988-94). In 1977 is die OBE aan hom toegeken en nege jaar later ook die CBE. Opnames (met sy ensemble): Arnold se Symphony for Brass Instruments; koorwerke van G. Gabrieli; Henze se Versuch über Schweine; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Previn se Triolet; Rutter se Gloria; Schütz se Kersfeesverhaal; en as solis in Sjostakowitsj se eerste klavierkonsert (onder Jerzy Maksymiuk).

Jordan, Armin (1932-2006), Switserse dirigent. Nadat hy in 1957 by die Bienne Opera gedebuteer het, was hy later hoofdirigent daarvan (1961-6). Verder het hy dirigeerposte beklee by die operahuise in Zürich (1963-68), Saint Gallen (1968-71) en Basel (1971-89). Hy was ook musiekdirekteur van die Lausanne Kamerorkes (1973-85) en hoofdirigent van die Orchestre de la Suisse Romande (1985-1997). Met dié beroemde ensemble het hy voortreflike opnames van Schumann se volledige simfonieë gemaak. Hy het in 1982 die klankbaan gedirigeer van Hans-Jürgen Syberberg se rolprentweergawe van Parsifal. Sy Amerikaanse debuut is in 1985 gemaak toe hy opvoerings van Die Walküre in Seattle gedirigeer het. Hy het in 1991 en 1994 by die Mozart-fees in New York opgetree. Sy Tristan und Isolde in Seattle in 1998 het hoë lof ingeoes, maar longontsteking het verhoed dat hy in 2000 en 2001 die Ring-siklus daar dirigeer. As bekende in Franse musiek het hy die koor en orkes van die Franse Radio in uitstekende opnames van minder bekende Franse operas soos Le roi Arthus, Ariane et Barbe-bleue en Le roi d'Ys gedirigeer. Hy het ineengestort tydens ‘n opvoering van Prokofiëf se opera Die liefde vir drie lemoene in Basel. Verdere opnames: orkeswerke van Debussy, Dukas, Franck, Martin en Mendelssohn; Prokofiëf se Romeo en Juliet suites; Schubert se Mis nr. 6; Schumann se oratorium Das paradies und das Peri; en die opera Pelléas et Mélisande.

Jordan, Philippe (1974-), Switserse dirigent, seun van bogenoemde. Sy vader het hom so dikwels moontlik na inoefeninge en uitvoerings saamgeneem. As negejarige het hy ‘n model van dekor vir Das Rheingold gebou en op sestien het hy aan die Zürich Konserwatorium begin studeer. In sy laat tienerjare het hy sy vader as repetiteur bygestaan en op twintig het hy gegradueer in musikologie en klavier. Terwyl hy studeer het, was hy ‘n assistent vir Jeffrey Tate by die Théatre du Châtelet en in Aix-en-Provence. Hy het in 1994 ‘n dirigent by die Ulm Opera geword - dieselfde teater waar die legendariese Herbert von Karajan sy lang loopbaan begin het. Twee jaar later is hy as eerste kapelmeester in Ulm aangestel en in 1998 is hy na Berlyn as ‘n assistent vir Daniel Barenboim by die Staatsopera. Daar het hy die première van Milhaud se Christoph Columbus gedirigeer. In 2002 het hy musiekdirekteur van die Graz Opera geword, waar hy sy dienstyd met ‘n opvoering van Tsjaikofski se Jewgeni Onegin ingelui het. Nog debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (2002), en by Covent Garden en die Beierse Staatsopera in München (beide in 2003). By Covent Garden het hy in 2008 ‘n opvoering van Salome gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. In dieselfde jaar het hy Tannhäuser in Baden-Baden gedirigeer, maar die DVD-opname daarvan word deur die regisseur Nikolaus Lehnhoff se postmodernistiese dekonstruksie van Wagner bederf. Hy tree wêreldwyd in die voorste operahuise op, en is ewe bekend in Duitse en Franse werke.

Josefowicz, Leila (1977-), Amerikaanse violis. Sy het aan die Curtis Musiekinstituut onder Jaime Laredo en Jascha Brodsky studeer. Haar deurbraak is in 1994 gemaak met ‘n debuut in New York in Tsjaikofski se vioolkonsert, onder Neville Marriner. Sedertdien tree sy wyd deur Noord-Amerika, Europa en die Verre-Ooste met van die voorste orkeste en dirigente op. Daarby speel sy kamermusiek, wat sy aan Curtis onder Felix Galimir bestudeer het, met bekende musici soos Martha Argerich, Andras Schiff, Mitsuko Uchida en André Watts as vennote. Haar eerste opnames, van Tsjaikofski en Sibelius se vioolkonserte en van solowerke deur Bartók, Kreisler en Paganini, is beide met ‘n Diapason d’Or bekroon. In 2002 is haar uitvoering van Adams se vioolkonsert met die BBC Simfonie-orkes, met die komponis as dirigent, deur Europa gebeeldsaai. Sy is getroud met die dirigent Kristjan Järvi. Verdere opnames: vioolkonserte van Glazoenof, Mendelssohn en Prokofiëf.

Journet, Marcel (1867-1993), Franse bas. Sy debuut is in 1891 in Bézier gemaak, as Balthasar in La favorite. Vanaf 1894 het hy vir 6 jaar in Brussels gesing, en in 1897 het hy by Covent Garden gedebuteer. In die vroeë twintigste eeu het hy gesing in Londen (tot 1907, en weer in 1927/8), by die Metropolitan Opera (1900-8), die Parys Opera (1908-32), in Chicago (1915-8), en by La Scala (1917-28). Hy was beroemd in rolle soos Escamillo in Carmen, Colline in La Bohème, Wotan in die Ring-siklus en Méphistophélès in Faust. Laasgenoemde het hy briljant vertolk in ‘n historiese 1930-opname by die Parys Opera onder Henri Busser.

Joyce, Eileen (1912-91), Australies-gebore pianis. Sy het op 'n jeugdige ouderdom in Brittanje gaan woon, waar sy in 1930 haar Londense debuut by die Proms onder Henry Wood gemaak het. Later het sy met haar flambojante romantisme baie gewild in konserte geraak. Sy het vroeë Britse uitvoerings van werke deur tydgenote soos Sjostakowitsj en Khatsjatoerian gegee. Haar charismatiese styl het nie verhinder dat haar vertolkings deur helder en verfynde spel gekenmerk is nie, waardeur sy die bewondering van mede-pianiste soos Glenn Gould en Earl Wild afgedwing het. In 1942 het sy in die eerste opname van Ireland se klavierkonsert onder Leslie Heward gespeel, in 'n vertolking wat steeds deur kenners as ongeëwenaard beskou word. Haar veeleisende konsertloopbaan en die buitensporige publisiteit daaromheen het egter sy tol geëis, sodat haar openbare verskynings reeds in haar vroeë veertigs tot 'n einde gekom het. In 1981 is die CMG aan haar toegeken.

Judd, James (1949-), Engelse dirigent. Nadat hy by die Londense Operasentrum gewerk het, was hy ‘n assistent-dirigent by die Cleveland Orkes onder Lorin Maazel (1973-5). Vanaf 1978 was hy mededirigent van die Europese Gemeenskap Jeugorkes onder Claudio Abbado, en twaalf jaar later het hy hul musiekdirekteur geword. Hy was intussen in 1981 ‘n medestigter van die Kamerorkes van Europa, en vanaf 1987 tot 2001 was hy musiekdirekteur van die Florida Filharmoniese Orkes in Fort Lauderdale. Daarby was hy vanaf 1993 vir drie jaar artistieke direkteur van die Florida Opera in Miami. Hy is tans musiekdirekteur van die Nieu-Seeland Simfonie-orkes, met wie hy in 1999 ‘n sonderlinge DVD-opname van Vaughan Williams se sewende simfonie (met Antarktiese tonele as agtergrond) en van sy rolprentmusiek gemaak het. Daarby is hy hoofgasdirigent van die Adelaide Simfonie-orkes in Australië. Sleutelopnames: Elgar se Dream Children, Nursery Suite en Wand of Youth Suites (Nieu-Seeland); Koechlin se Seven Stars Symphony (Duitse Simfonie-orkes, Berlyn); Lilburn se drie simfonieë (Nieu-Seeland). Verdere opnames: Beethoven se Egmont-musiek; Bernstein se eerste simfonie; Breiner se Songs and Dances of the Silk Road; Elgar se eerste simfonie; Holst se The Planets; Mahler se eerste en negende simfonieë; en Meyerbeer se opera Dinorah.

Juilliard Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1946 gestig is. Hulle is verbonde aan die gelyknamige musiekskool in New York en is veral bekend in moderne musiek, hoewel hulle ook hoogs begaafde vertolkers van die klassieke repertorium is. Gedurende die eerste halfeeu van hul bestaan het die ensemble meer as 5 000 uitvoerings gegee, insluitend die eerste uitvoerings van meer as sestig werke. Opnames: die volledige strykkwartette van Bartók, Beethoven, Brahms en Webern, asook die enkeles van Debussy en Ravel; Bach se Kuns van die Fuga; Barber se Dover Beach (met Dietrich Fischer-Dieskau); Mozart se volledige strykkwintette; en Prokofiëf se Ouverture op Hebreeuse temas.

Jung, Manfred (1940-), Duitse tenoor. In 1967 het hy by die Bayreuth-Jeugfees as Arindal in Die Feen gedebuteer en daarna in die koor by dié operahuis gesing (1970-3). Sy solodebuut het in 1974 in Dortmund plaasgevind en sedert 1977 is hy aan die Düsseldorf Opera verbonde. In 1976 het hy met die Bayreuth Eeufeesviering die rol van Siegfried in die Ring gesing. Vir die volgende tien jaar sou hy gereeld by die Bayreuth-fees optree, ook in hoogstaande opnames van Götterdämmerung (1979) en Siegfried (1980) onder Pierre Boulez. Verder is hy begaafd in die operas van Richard Strauss, in rolle soos Herodes in Salome en Aegisthus in Elektra.

Junghänel, Konrad (1953-), Duitse luitspeler en dirigent. As een van die voorste virtuose van sy tyd in die luitmusiek van die sestiende tot agtiende eeue tree hy wêreldwyd as solis op. Daarby verskyn hy dikwels met bekende vroeë musiek-ensembles soos La Petite Bande, Musica Antiqua Köln, Les Arts Florissant en Tafelmusik, asook met die kontratenoor René Jacobs en die Kuijken-broers. Vir sy opnames van Weiss se solo-luitwerke is die Preis der Deutschen Schallplattenkritik in 1985 aan hom toegeken. Daarby is hy ‘n uitmuntende dirigent van Barok-koorwerke. Hy is sedert 1978 ‘n dosent aan die Staatsmusiek-konserwatorium in Keulen. Sleutelopnames: ‘n versameling kantates en motette deur lede van die Bach-familie, soos deur Johann Sebastian self versamel is – die ‘Altbachisches Archiv’ (met die Cantus Köln en Concerto Palatino). Verdere opnames (as dirigent): J.S. Bach se 6 motette; Biber se Missa Alleluia; ‘n versameling kantates van Buxtehude; Schmelzer se Vesperae sollennes; ‘n versameling kantates van Telemann.

Jürgens, Jürgen (1925-94), Duitse dirigent en musiekgeleerde. Hy het in 1955 direkteur van die Monteverdi Koor in Hamburg geword, met wie hy 'n wye repertorium vanaf Renaissance-musiek tot by moderne komponiste soos Henze sou dirigeer. In 1960 het hy 'n dosent by die Hamburg Universiteit geword, ses jaar later hul musiekdirekteur en in 1977 'n hoogleraar. As gesaghebbende op die gebied van vroeë musiek het hy werke van Monteverdi en Alessandro Scarlatti geredigeer. Hy het in 1966/7 ‘n stylvolle opname van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine met sy Hamburg-koor en soliste van die Weense Seunskoor gemaak Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 27, 158 en 198.

Jurinac, Sena (1921-2011), Oostenrykse sopraan wat in Bosnië gebore is. Haar vader was ‘n Kroatiese dokter en haar moeder was Weens. Sy het aan die Zagreb Musiekakademie studeer en in 1942 is haar debuut by die Zagreb Opera as Mimì in La Bohème gemaak. Twee jaar later is sy deur die dirigent Karl Böhm vir die Weense Staatsopera gewerf. Weens die Tweede Wêreldoorlog kon sy eers in 1946 daar begin sing, met ‘n debuut as Cherubino in Le nozze di Figaro. In haar eerste jaar by die Staatsopera moes sy in meer as 150 opvoerings sing, aansienlik meer as die gebruik vir so ‘n jong sangeres. Sy sou vir byna veertig jaar aan dié operahuis verbonde wees. Verdere debute het gevolg in Londen (1947), en by La Scala en die Edinburgh-fees (beide in 1948). Sy het ook gesing by die feeste in Salzburg (1947-80) en Glyndebourne (1949-56). In 1959 en 1963 het sy in San Francisco en Chicago onderskeidelik verskyn. Sy was wêreldbekend in Mozart en Richard Strauss se operas, in rolle soos Fiordiligi en Dorabella in Così fan tutte, Donna Anna en Donna Elvira in Don Giovanni, Ilia in Idomeneo, Cherubino en die Grafin in Le nozze di Figaro, die Komponis in Ariadne auf Naxos, en die Marschallin en Octavian in Der Rosenkavalier. Laasgenoemde rol sou sy meesterlik vertolk tydens die opening van die herboude Festspielhaus in Salzburg in 1960, teenoor die Marschallin van Lisa della Casa.

Jurinac was voorts ‘n begaafde Gutrune in Götterdämmerung, wat sy in 1953 in ‘n Roomse opname onder Wilhelm Furtwängler gesing het. Onder afrigting van Herbert von Karajan sou sy later in haar loopbaan swaarder rolle soos Leonore in Fidelio, Xenia in Boris Godoenof, Elisabetta in Don Carlo, en die titelrolle in Jenufa, Madama Butterfly en Tosca sing. Tydens die Londense Proms in 1961 het sy uitgeblink in R. Strauss se se Vier letzte Lieder onder Malcolm Sargent, met ‘n opname wat gemaak is. By die Weense Staatsopera het sy die titelrol gesing in Karajan se 1963-opname van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppea. Sy het ook verskyn in Karl Böhm se 1965-filmopname van Ariadne auf Naxos in Salzburg. Haar afskeidsoptrede by die Weense Opera is in 1983 as die Marschallin gemaak. Daarna het sy voortgegaan om liedere-voordragte te gee, asook sangonderrig in Europa en die VSA. Verdere opnames: Respighi se Il Tramonto (met die Barylli Kwartet); Schumann se Frauenliebe und Leben en Liederkreis; Strauss se Vier letzte Lieder (onder Fritz Busch); en die genoemde operas van Janácek, Moessorgski, Mozart, Strauss en Verdi.

Jurowski, Mikhail (1945-), Russiese dirigent. As seun van die komponis Wladimir Jurowski (1915-72) het hy aan die Moskou Konserwatorium studeer. Hy het in 1970 ‘n assistent-dirigent van die USSR Radio en Televisie Simfonie-orkes onder Gennadi Rozhdestwenski geword. Mettertyd het hy bekendheid verwerf in die musiek van veral Rimski-Korsakof en Sjostakowitsj. In 1990 het hy met sy gesin na Duitsland verhuis, waar hy opera in Berlyn, Leipzig, Dresden en Hamburg sou dirigeer. Hy het in 1992 algemene musiekdirekteur in Herford en Rostock geword, insluitend hoofdirigent van hul filharmoniese orkeste. Daarby het hy voortgegaan om in Berlyn te dirigeer, by die Komische Oper, die Deutsche Oper en die Staatsoper. Voorts was hy ‘n gereelde gasdirigent van die Berlynse Radio Simfonie-orkes, veral in uitvoerings van Sjostakowitsj-werke. Hy het in 1994 by die Semper Oper in Dresden televisie-opvoerings van Tsjaikofski se Francesca da Rimini en Iolanthe gedirigeer, waarin die beroemde akteur Peter Ustinov die verhoogdirekteur was. Daarby het hy vir drie jaar die Berlynse Sinfonietta in kamerkonserte gelei, onder meer in die Berlynse premières van Strawinski se kameroperas Mavra en Renard. In 1997 het hy uit sy poste in Herford en Rostock bedank ten einde permanente gasdirigent van die Berlynse Radio Simfonie-orkes te word. Hy is ook permanente gasdirigent van die Leipzig Opera, waar hy in 1997 ‘n opvoering van Sjostakowitsj se Die Neus gedirigeer het. In 2009 het hy ‘n opvoering van Falstaff by die Glyndebourne-feesgedirigeer, met ’n DVD-opname wat gemaak is. Sleutelopname: Prokofiëf se ballet Chout (Wes-Duitse Radio Simfonie-orkes, Keulen). Verdere opnames: ‘n versameling ouvertures van Lehár, en ‘n versameling orkesuittreksels uit sy operettes; Massenet se opera Werther; Peterson-Berger se simfonieë nrs. 1 en 3, Laaste Somer Suite en Earina Suite; Prokofiëf se ballet Die Klipblom; Rangström se simfonieë nrs. 1-3, Dithyramb en Intermezzo drammatica; Reznicek se Raskolnikof Ouverture, Schlemihl en toondig Der Sieger.

Jurowski, Wladimir (1972-), Russiese dirigent, seun van die dirigent Mikhail Jurowski. Hy  het sy musiekstudies aan die musiekkollege van die Moskou Konserwatorium afgeskop, en in 1990 het hy met sy gesin na Duitsland verhuis. Daar het hy sy musiekopvoeding aan die konserwatoriums in Dresden en Berlyn voortgesit. Dit het dirigeerkuns en sangafrigting ingesluit. Hy het in 1996 ‘n assistent vir Jakow Kreizberg by die Komische Oper in Berlyn geword, en vanaf die jaar daarop tot 2001 was hy hul eerste kapelmeester. Vanaf 2000 tot 2003 was hy hoofgasdirigent van die Teatro Comunale di Bologna in Italië, en in 2001 het hy musiekdirekteur van die Glyndebourne-fees geword. Daar het hy in 2004 uitstekende opvoerings van Puccini se Gianni Schicchi en Rachmaninof se Die suinige ridder gedirigeer, met DVD-opnames wat van beide gemaak is. Sy dirigeerdebuut met die Londense Filharmoniese Orkes is ook in 2001 gemaak, twee jaar later het hy hul hoofgasdirigent geword en in 2007 hul hoofdirigent. In 2005 is sy dirigeerdebuut met die Philadelphia Orkes in die VSA gemaak, en daarby is hy hoofgasdirigent van die Russiese Nasionale Orkes in Moskou. Hy het in 2010 met die Orchestra of the Age of Enlightenment uitvoerings van Beethoven se simfonieë nrs. 4 en 7 in Parys gegee, met DVD-opnames wat daarvan getuig. Verdere opnames: Rachmaninof se Isle of the Dead en Simfoniese Danse; en Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 1 en 6.


Encyclopedia: Western Music