If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

A - B

E

Eaglen, Jane (1960-), Engelse sopraan. Haar operadebuut is in 1984 met die Engelse Nasionale Opera gemaak, in Gilbert en Sullivan se operette Patience. Twee jaar later het sy haar eerste optrede by Covent Garden gemaak. Verdere debute sou volg by die Skotse Opera (1988), die Londense Proms (1989), die Weense Staatsopera (1991) en die Metropolitan Opera (1996). Laasgenoemde was as Donna Anna in Don Giovanni. Tans is sy met haar ryk, kragtige stem een van die wêreld se voorste sangeresse in dramatiese rolle soos Brünnhilde in die Ring, Elizabeth in Tannhäuser, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Medea in Corinto, Aida, Norma en Tosca. Onder James Levine het sy geskitter as Isolde in ‘n DVD-opname van die opera. Sy was in 2004 in Seattle ‘n solis tydens die wêreldpremière van Bright Sheng se The Phoenix. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Abbado); Mahler se agste simfonie (onder Chailly); ‘n versameling arias van Bellini en Wagner (onder Mark Elder); Wagner se Wesendonck Lieder; en die operas Medea in Corinto, Tosca (in Engels), Tannhäuser en Flammen.

Eames, Emma (1865-1952), Sjinees-gebore Amerikaanse sopraan. Sy het in Boston en Parys studeer, en in 1889 is haar debuut in die Franse hoofstad gemaak as Juliette in Roméo et Juliette. Daarna was sy verbonde aan die Parys Opera (1889-91) en die Metropolitan Opera (1891-1909). In 1891 het sy by Covent Garden gedebuteer en in 1911 is haar laaste verhoogoptrede in Boston gegee. Sy was veral bekend in Verdi se operas, waaronder Falstaff waarvan sy in 1895 in die Amerikaanse première gesing het.

Edelmann, Otto (1917-2003), Oostenrykse bas. Na studies aan die Weense Musiekakademie het hy in 1937 sy debuut in Gera in die titelrol van Le nozze di Figaro gemaak. Vanaf 1938 het hy vir twee jaar in Nürnberg gesing, waarna hy vir leërdiens in die Tweede Wêreldoorlog opgeroep is. Hy is deur die Russe gevang en vir twee jaar as krygsgevangene aangehou. In 1947 het hy by die Weense Opera aangesluit, waar hy as die Kluisenaar in Der Freischütz gedebuteer het. Hy sou vir 36 jaar aan dié operahuis verbonde wees, met nie minder nie as 430 optredes in 36 rolle. Verdere debute is gemaak by die feeste in Salzburg (1948), Bayreuth (1951) en Edinburgh (1952), en by die Metropolitan Opera (1954). Met sy kragtige, donker stem het hy uitgeblink as Baron Ochs in Der Rosenkavalier en in Wagner-rolle soos Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy het Ochs gesing in 'n klassieke opname onder Herbert von Karajan (1956) en weer in 1960 by die inwyding van die nuwe Grossesfestspielhaus in Salzburg. Onder sy verdere rolle het getel Don Pizarro in Fidelio, Leporello in Don Giovanni en die Graaf in Arabella. Later het hy ‘n leermeester geword, en vanaf 1982 was hy ‘n hoogleraar in sang aan die Weense Musiekakademie. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (in 1950 onder Karajan en in 1954 onder Furtwängler); Beethoven se negende simfonie (in 1951 en 1954, beide onder Furtwängler, en in 1955 onder Karajan); en die operas Fidelio, Don Giovanni, Arabella en Der Freischütz.

éder Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1973 gestig is. Hulle het wyd deur Europa, die VSA en Australasië getoer, en het hoogstaande opnames gemaak van Mozart en Sjostakowitsj se volledige strykkwartette. Verdere opnames: Haydn se strykkwartette nrs. 76-78; en (met 'n ekstra violis) Mozart se volledige strykkwintette.

Edinburgh-fees, ‘n jaarlikse kunstefees wat in die Skotse hoofstad gehou word. Dit is in 1947 gestig met Rudolf Bing as eerste direkteur, en het vanuit die staanspoor van die wêreld se voorste operageselskappe en soliste gelok. Talle operas het oor die jare hul Britse premières daar gehad. Daaronder tel Mathis der Maler (1952), The Rake’s Progress (1953), La vide breve (1958), La voix humaine (1960), Die liefde vir drie lemoene (1962), Uit die Huis van die Dode (1964), Intermezzo (1965), Die Soldaten (1972), Mary, Queen of Scots (1977), The Lighthouse (1980) en Greek (1988).

Edlinger, Richard (1958-), Oostenrykse dirigent. Ná studies in Wenen was hy in 1983 die jongste finalis nóg in die Guido Cantelli-dirigeerkompetisie by La Scala. Sedert 1986 is hy artistieke direkteur van die Capella Istropolitana in Bratislawa. Verder is hy in 1987 as musiekdirekteur van die Kampthal-fees in Oostenryk aangestel. Sleutelopnames: Telemann se Altvioolkonsert in G, Suite in A mineur vir blokfluit en strykers, Driedubbele vioolkonsert in F en Dubbele horingkonsert in E mol (almal Bratislawa, op een kompakskyf).

Edwards, Siân (1959-), Engelse dirigent. Ná studies in Leningrad (tans Sint Petersburg) het sy in 1984 die eerste Leeds-dirigeerkompetisie gewen. Sedertdien was sy ‘n gasdirigent van verskeie bekende Britse en Amerikaanse orkeste. Sy het in 1986 haar operadebuut by die Skotse Opera in Glasgow gemaak met Weill se Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1987) en Covent Garden (1988), in laasgenoemde geval as die eerste vrou om opera daar te dirigeer. Vanaf 1993 was sy vir twee jaar musiekdirekteur van die Engelse Nasionale Opera, waar sy in 1990 gedebuteer het. Met hulle het sy in 1994 ‘n voortreflike opname van Weir se Blond Eckbert gemaak. Sleutelopnames: Tsjaikofski se vyfde simfonie (Londense Filharmonie), 1812 Ouverture en Slawiese Mars (Koninklike Liverpool Filharmonie). Verdere opnames: orkeswerke van Prokofiëf en Ravel.

Egorof, Joeri (1954-88), Russiese pianis wat in Nederland gaan woon het. Hy het in 1971 ‘n prys by die Long-Thibaud kompetisie gewen en drie jaar later ook by die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou. Sy Amerikaanse debuut het in 1978 plaasgevind, en hy is tien jaar later op ‘n tragies vroeë leeftyf dood. Hy het uitstekende opnames van Schumann se Arabeske, Bunte Blätter, Carnaval, Kreisleriana en Papillon gemaak, gekenmerk deur verbeeldingryke, sensitiewe spel. Verdere opnames: Beethoven se klavierkonsert nr. 5 en Mozart se klavierkonsert nr. 20 (beide onder Sawallisch).

Ehrling, Sixten (1918-2005), Sweedse pianis en dirigent. Hy het klavier, viool en dirigeerkuns aan die Koninklike Musiekakademie in Stockholm studeer. Aanvanklik was hy ‘n repetiteur by die Koninklike Opera in die Sweedse hoofstad en in 1940 is sy dirigeerdebuut daar gemaak. Hy is in 1941 met ‘n beurs na Duitsland vir verdere studies onder Karl Böhm by die Dresden Staatsopera. Vanaf 1942 was hy aan die Göteborg Opera verbonde, waar sy konsertdebuut gemaak is. Hy het in 1944 na die Koninklike Opera teruggekeer, waarvan hy in 1953 die musiekdirekteur sou word. Met die Stockholm Filharmoniese Orkes het hy in 1952/3 die eerste siklus van Sibelius se volledige simfonieë opgeneem, in weergawes wat die komponis se goedkeuring weggedra het. Hy het in 1960 uit sy pos by die Stockholm Opera bedank nadat hul sy dirigeerstyl gekritiseer het. In dieselfde jaar is sy debuut by Covent Garden gemaak. Hy is in 1963 na die VSA, waar hy ’n dirigent was van die Detroit Simfonie-orkes (1963-73) en by die Metropolitan Opera (1973-7). By dié operahuis het hy die eerste Ring-siklus in 78 jaar gedirigeer. Vanaf 1973 was hy hoof van dirigeerkuns aan die Juilliard Musiekskool in New York, waar hy vir die res van sy lewe sou woon. Voorts was hy musiekadviseur van die Denver Simfonie-orkes (1978-85) en artistieke adviseur van die San Antonio Simfonie-orkes (1985-8). Hy was ewe bekend vir sy ensiklopediese kennis van musiek en sy vinnige humeur. Sleutelopnames: Berwald se 4 simfonieë (Malmö Simfonie-orkes). Verdere opnames: Berwald se eerste simfonie, en ‘n versameling ouvertures en toondigte (almal Sweedse Radio); Larsson se Variasies vir Orkes; Rosenberg se vierde simfonie; en Verdi se opera Rigoletto.

Eichhorn, Kurt (1908-94), Duitse dirigent. Nadat hy musiek in Würzburg studeer het, was hy dirigent van die München Filharmoniese Orkes, die Beierse Volksorkes en die Dresden Filharmoniese Orkes. Hy was ook eredirigent van die Brucker-orkes in Linz, en in 1991 het hy ‘n goue medalje van die Bruckner-vereniging ontvang. Daarby het hy dirigeerkuns aan die Musiekakademie in die Beierse hoofstad onderrig. Met die koor en orkes van die Beierse Radio en bekende sangers het hy in 1971 ‘n uitstekende opname van Humperdinck se opera Hänsel und Gretel gemaak.

Elder, Mark (1947-), Engelse fagotspeler en dirigent. Ná ‘n aanvanklike loopbaan as koorsanger was hy as fagotspeler verbonde aan die operafeeste in Wexford en Glyndebourne. In 1971 is sy dirigeerdebuut met die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes gemaak. Daarna het hy gedirigeer by die Australiese Opera (1972-4) en gedebuteer by die Engelse Nasionale Opera (1974). Vanaf 1979 tot 1993 was hy musiekdirekteur van die ENO, waar hy in 1986 die eerste Britse verhoogproduksie van Busoni se Doktor Faust gedirigeer het. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1976), die Bayreuth-fees (1981) en Glyndebourne (1995). In 1989 is die CBE aan hom toegeken en vanaf dié jaar tot 1994 was hy musiekdirekteur van die Rochester Filharmoniese Orkes. Hy was vanaf 1992 hoofgasdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes en tans is hy musiekdirekteur van die Hallé Orkes. Met hulle het hy in 2000 die eerste opname gemaak van Holst se grootse orkeswerk The Planets, soos deur Colin Matthews met Pluto afgerond. By die Glyndebourne-fees het hy in 2006 ‘n uitmuntende opvoering van Fidelio gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Verdere opnames: ‘n versameling orkeswerke van Butterworth en Delius; Sjostakowitsj se geleentheidsmusiek vir Hamlet en King Lear; Sibelius se simfonieë nrs. 1 en 3; ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas; en die operas Orpheus in the Underworld en Otello (beide in Engels met die ENO).

Elias, Rosalind (1930-), Amerikaanse mezzosopraan. Tydens haar studentejare in Boston het sy die titelrol in L’incoronazione di Poppeia gesing en met die stad se simfonie-orkes opgetree. Verdere studies by Tanglewood het gevolg, en vanaf 1948 het sy vir vier jaar met die Nieu-Engeland Opera gesing. Sy is daarop na Italië vir verdere studies, en het gesing by die San Carlos Teater in Napels en by La Scala. Terug in die VSA het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer in 1954, as Grimgerde in Die Walküre. Sy sou vir langer as 30 jaar aan die Met verbonde wees, waar sy rolle geskep het tydens die premières van Barber se operas Vanessa (1958) en Antony and Cleopatra (1966). Daarby het sy in Europese operahuise gesing en as konsertsangeres opgetree. Onder haar verdere rolle het getel Dorabella in Cosi fan tutte, Cherubino in Le nozze di Figaro, Suzuki in Madama Butterfly, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Octavian in Der Rosenkavalier en die titelrol in Carmen. Sleutelopname: Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate (onder Fritz Reiner). Verdere opnames: Berlioz se Roméo et Juliette (onder Charles Munch); Verdi se Requiem (onder Reiner); en die operas Vanessa en Madama Butterfly.

Ellis, Osian (1928-), Walliese harpspeler en sanger. Hy is veral bekend in die musiek van Britten en vir sy uitvoerings van Walliese liedere waarin hy homself begelei. Behalwe sy bekendheid as solis is hy ‘n lid van die Melos Ensemble, en verder was hy vanaf 1959 vir drie dekades ‘n hoogleraar in harp aan die Koninklike Musiekakademie. In 1971 is die CBE aan hom toegeken. Britten het sy Harpsuite vir hom geskryf en Arnold sy Fantasie (1975) vir soloharp. Opnames: die genoemde werke van Arnold en Britten; Glière se harpkonsert; Mozart se Konsert vir fluit en harp; Ravel se Inleiding en allegro; en Holst se 2 Eastern pictures.

Elman, Misja (1891-1967), Oekraïns-gebore violis. Hy was ‘n wonderkind wat in Odessa en onder Leopold Auer in Sint Petersburg studeer het. In 1904 is sy debuut in laasgenoemde stad gemaak en daarna het hy wêreldwyd getoer, met debute in Berlyn (1904), Londen (1905) en New York (1908). Hy het in 1923 'n Amerikaanse burger geword en was wêreldberoemd as solis. In 1943 het hy die eerste uitvoering van Martinu se tweede vioolkonsert, wat vir hom geskryf is, gegee.

Elmendorff, Karl (1891-1962), Duitse dirigent. Hy het in Keulen studeer en daarna in talle Duitse operahuise gedirigeer, onder andere in München, Düsseldorf en Berlyn. Vanaf 1927 tot 1942 het hy gereeld by die Bayreuth-fees opgetree, waar vroeë opnames van Tannhäuser (1930) en Tristan und Isolde (1928) onder sy dirigeerstaf gemaak is. Laasgenoemde was met Gunnar Graarud en Nanny Larsen-Todsen in die hoofrolle. Hy was vanaf 1943 dirigent van die Dresden Staatsopera, waar hy in die jaar daarop die première van Richard Strauss se Capriccio gedirigeer het. In Februarie 1945 is die operahuis egter deur die massiewe Anglo-Amerikaanse bombardering van die groot kultuurstad vernietig. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy ‘n dirigent in Wiesbaden (1948-56).

Elming, Poul (1949-), Deense tenoor. Nadat hy in 1978 sy konsertdebuut as bariton gemaak het, het hy gesing by die Jutland Opera in Aarhus (1979-84) en die Koninklike Opera in Kopenhagen (1984-9). Intussen het hy verder studeer en in 1989 is sy debuut as tenoor in die Deense hoofstad gemaak, in die titelrol van Parsifal. In die jaar daarop het hy by beide die Bayreuth-fees en Covent Garden gedebuteer. Onder sy verdere rolle tel Koning Erik in Drot og Marsk, Lukas in Die Dienares se Verhaal en Siegmund in Die Walküre. Hy het in 1992 by Bayreuth ‘n opwindende vertolking in laasgenoemde rol onder Daniel Barenboim gelewer. In 2001 het hy tydens die Australiese première van Parsifal in Adelaide die titelrol gesing. Opnames: Gade se Elverskud; en die operas Drot og Marsk, Die Dienares se Verhaal en Die Walküre.

Elwes, Gervase (1866-1921), Engelse tenoor. Hy het aanvanklik ‘n diplomatieke loopbaan gevolg en het eers in 1903 ‘n professionele musikus geword. Weldra het hy as liedere- en konsertsanger gewild geraak, veral as die Evangelis in Bach se Sint Mattheüspassie en in die titelrol van Elgar se The Dream of Gerontius. Hy het laasgenoemde vir die eerste keer in 1904 onder Felix Weingartner gesing, en sou die rol daarna sy eie maak. Tydens die eerste na-oorlogse Drie Kore-fees wat in 1920 in Worcester gehou is, het hy dit onder Elgar self gesing. Hy het in 1909 in die eerste uitvoering van Vaughan Williams se liedere-siklus On Wenlock Edge gesing, en vyf jaar later in die Britse première van Mahler se Das Lied von der Erde. Tydens sy liedere-voordragte in Duitsland is hy dikwels deur die pianis Fanny Davies begelei. Met sy afsterwe in Boston, VSA is ‘n liefdadigheidsfonds in sy nagedagtenis in die lewe geroep, wat mettertyd as die Musicians’ Benevolent Fund sou bekendstaan. Hulle onderhou sedertdien ‘n tehuis vir bejaarde en afgetrede musici.

Emerson Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1976 gestig is. Hulle is vernoem na die skrywer Ralph Waldo Emerson, en is verbonde aan die Smithsonian Instituut in Washington en die Hart Musiekskool aan die Universiteit van Hartford. In 1978 het hul die Naumburg-toekenning vir kamermusiek verwerf, en sedertdien tree hulle wêreldwyd by musiekfeeste en konserte op. Hul debuut by die Salzburg-fees is in 1987 gemaak. Hulle speel ook in kamermusiek met musici soos Yefim Bronfman, Maria Joao Pires, Menahem Pressler en Mstislaf Rostropowitsj. Die kwartet gee dikwels welwillendheidskonserte vir ‘n verskeidenheid sake. Hulle het hoogaangeskrewe opnames van Sjostakowitsj se volledige strykkwartette gemaak, in vertolkings wat as meer ‘internasionaal’ beskou word as dié van meeste van hul voorgangers. Hul violiste is Eugene Drucker en Philip Setzer, wat in uitstekende opnames van Bartók se 44 Duos en Fuchs se 20 Duos gespeel het. Sleutelopname: Bartók se 6 strykkwartette. Verdere opnames: Bach se Die Kunst der Fuge; Haydn se strykkwartette nrs. 35, 38, 57, 67, 74, 76 en 81; strykkwartette van hul landgenote Barber, Ives en Rorem; en Mozart se strykkwartette nrs. 16 en 18.

Endellion Kwartet, Engelse strykkwartet wat in 1979 gestig en na ‘n fees in Cornwallis vernoem is. Die fees is op sy beurt na ‘n Britse vroue-heilige van die sesde eeu vernoem. Met ‘n bekendheid wat veral in moderne musiek lê was die ensemble vanaf 1992 aan die Universiteit van Cambridge verbonde. Sedert 1995 is hulle by die Massachusetts Institute of Technology gebaseer. Sleutelopname: Beethoven se strykkwartette opus 18/3 en opus 132. Verdere opnames: strykkwartette van Barber, Bartók, Britten, Foulds, Haydn (nrs. 57-59, 71, 73 en 74), Tsjaikofski (volledig) en Walton; Martinu se Konsert vir strykkwartet en orkes; Tsjaikofski se Souvenir de Florence (met Boulton en Cohen); en Vaughan Williams se Merciless Beauty (met die tenoor Philip Langridge).

Enescu, Georges (1881-1955), Roemeense violis, pianis, dirigent en komponis. As wonderkind het hy op vyf jaar al sy eerste werk gekomponeer. Hy het vanaf sewejarige leeftyd as violis in die openbaar opgetree en aan die Weense Konserwatorium begin studeer. Voor sy dertiende verjaardag het hy met ‘n silwermedalje gegradueer. Tydens sy verblyf in die Oostenrykse hoofstad het hy werke van Brahms, Menselssohn en Sarasate in konserte gespeel. Op 13 is hy na die Parys Konserwatorium vir verdere studies in viool, harmonie en komposisie, laasgenoemde onder Massenet en Fauré. Sy dirigeerdebuut is in 1898 in Boekarest gemaak. Vervolgens het hy meesal in Frankryk gewoon, waar hy in 1910 die première van D’Ollone se opera Le Ménétrier gedirigeer het. Hy was ‘n vennoot van die beroemde pianis Alfred Cortot in sonate-uitvoerings. In 1923 is sy Amerikaanse debuut met die Philadelphia Orkes in New York gemaak. Hy was een van die virtuose vir wie Ysaÿe sy Sonates vir soloviool (1924) geskryf het. In 1937/8 het hy die New York Filharmoniese Orkes gedirigeer, en in 1939 is hy getroud met Maria Rosetti, ‘n vriendin van die latere Roemeense Prinses Marie.

Enescu het die Tweede Wêreldoorlog in Boekarest en Parys deurgebring, maar na die Sowjet-oorname van Roemenië in 1945 het hy nie weer na sy geboorteland teruggekeer nie. In 1951 het hy ‘n BBC-uitsending van Bach se Mis in B mineur met Suzanne Danco en Kathleen Ferrier as soliste gedirigeer, met ‘n opname wat daarvan getuig. Hy is in Parys oorlede en begrawe. As die grootste Roemeense musikus van die twintigste eeu was hy een van die instrumentele reuse van sy tyd. Daarby was hy 'n gevierde leermeester, met violiste soos Yehudi Menuhin, Ivry Gitlis, Christian Ferras, Arthur Grumiaux en Ida Haendel wat onder sy leerlinge getel het. Die paleis waarin hy en sy vrou tydens die oorlogsjare in Boekarest gewoon het, is tans ‘n museum wat aan sy werk opgedra is. Ook die Roemeense hoofstad se simfonie-orkes en ‘n musiekfees is na hom vernoem. Soos verwag kon word, vertoon sy eie komposisies die invloed van Roemeense volksmusiek. Onder sy werke tel 5 simfonieë; 2 Roemeense Rapsodieë vir orkes; kamerwerke soos strykkwartette, klavierkwartette, ‘n klavierkwintet en vioolsonates; en die opera Oedipe.

Ensemble Organum, Franse vokale en instrumentele ensemble wat in 1982 by die Senanque Abdy deur Marcel Pérès gestig is. Hulle is sedert 1984 by die Royaumont Stigting naby Parys gebaseer. Onder leiding van Pérès spesialiseer hul in vroeë musiek, vanaf Oud-Romeinse, Galliese en Karolingiese kantus tot by die vyftiende eeu, met ‘n klem op gewyde werke. Hulle is ten nouste betrokke by navorsing oor die uitvoering van Middeleeuse musiek, en elke jaar word ‘n bepaalde tema of manuskrip bestudeer. Die ensemble toer wyd en het vele hoogstaande opnames tot hul krediet. Daaronder tel werke van Desprez, Hildegard von Bingen, Machaut, Ockeghem en Palestrina; versamelings kantusse van Benevento, Toledo, Milaan, Korsika, Brittanje, Parys en Aquitainië; en ‘n versameling Cisterciënsiese kantus.

Engelse Kamerorkes, Britse ensemble wat in 1948 as die Goldsbrough Orkes gestig is. Die huidige naam dateer vanaf 1960 en sedert die jaar daarop is hulle aan die Aldeburgh-fees verbonde. Daar het hulle vele eerste uitvoerings van werke deur Britten, Tavener en andere gegee. Twee jaar nadat Jeffrey Tate in 1985 hul eerste hoofdirigent geword, het hy die orkes tydens hul Salzburg-feesdebuut gedirigeer. Hulle het talle opnames en internasionale toere tot hul krediet.

Engelse Nasionale Opera, operageselskap wat daarna streef om soveel moontlik operas in Engels op te voer. Dit het aanvanklik vanaf hul stigting in 1931 as die Sadler’s Wells Opera bekend gestaan, na aanleiding van ‘n waterput wat reeds in 1683 op die terrein van die latere operahuis ontdek is. In die 1930’s is ‘n aantal Britse premières daar gegee, onder andere van die Russiese operas Boris Godoenof en Die Sneeumeisie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die geselskap meesal getoer, en in 1945 is hul terugkeer na Londen gevier met die première van Britten se Peter Grimes. Sedertdien is talle premières daar aangebied, asook ‘n hele aantal opvoerings van Janácek-operas waardeur hy ‘n gewilde komponis in Brittanje geword het. Van besondere belang was hul opvoerings van Wagner se Die Meistersinger von Nürnberg en die Ring-siklus, almal in Engels onder Reginald Goodall. Hul musiekdirekteure het ingesluit Alexander Gibson (1957-9), Colin Davis (1959-65), Charles Mackerras (1970-78), Charles Groves (1978/9), Mark Elder (1979-93), Siân Edwards (1993-5) en Paul Daniels (sedert 1997). In 1974 het die geselskap hul huidige naam verkry. ‘n Afsonderlike afdeling, ENO Noord, is in 1978 in Leeds gestig met David Lloyd-Jones as musiekdirekteur. Sedert 1981 staan dié afdeling as Opera Noord bekend.

Ensemble Unicorn, Weense instrumentele ensemble wat hulself toespits op die uitvoering van musiek uit die Middeleeue en vroeë Renaissance op eietydse instrumente. Hulle maak soms van bykomende instrumentaliste of sangers gebruik. Onder hul hoogstaande opnames tel Agricola se Fortuna desperata, Alfonso X se Cantigas de Santa Maria, die Middeleeuse Carmina Burana, liedere van Dufay, ‘n versameling pelgrimsliedere van die Montserrat-klooster getiteld The Black Madonna, en ‘n versameling troebadoersliedere.

Entremont, Philippe (1934-), Franse pianis en dirigent. Hy het in 1951 as pianis die Belgiese Staatskompetisie in Brussels gewen en twee jaar later sy Amerikaanse debuut in New York gemaak. Later in sy loopbaan het hy as dirigent begin optree. Hy was onder meer musiekdirekteur van die Weense Kamerorkes (1976-80), dirigent van die New Orleans Filharmoniese Orkes (1980-5) en musiekdirekteur van die Denver Simfonie-orkes (1987-9). Intussen het hy in 1985 by die Salzburg-fees gedebuteer, en sedert 1988 is hy musiekdirekteur van die Colonne Orkes in Parys. Met sy Weense orkes het hy in 1990 ‘n voortreflike opname van Tsjaikofski se Serenade in C en Souvenir de Florence gemaak. Verdere opnames (as pianis): Bernstein se tweede simfonie, Falla se Nagte in die Tuine van Spanje (onder Ormandy), Franck se Simfoniese Variasies, Matheiu se Concerto de Québec, Ravel se Klavierkonsert vir die linkerhand, en solowerke van Satie.

Eötvös, Peter (1944-), Hongaarse dirigent en komponis. Hy het vanaf 1968 in Keulen opgetree, aanvanklik in die avant-garde komponis Stockhausen se elektroniese ensemble en vanaf 1971 vir agt jaar in die elektroniese ateljees van die Wes-Duitse Radio. Vervolgens was hy vanaf 1979 tot 1991 dirigent van die Ensemble Intercontemporain in Parys. Sy bekendheid lê in eksperimentele moderne musiek, met verskeie eerste uitvoerings van werke deur Birwistle, Reich, Stockhausen en andere tot sy krediet. In 1991 het hy by die Londense Proms 'n hoogstaande opname van Birwistle se Earth dances met die BBC Simfonie-orkes gedirigeer. Hy tree dikwels met die Ensemble Modern op. Verdere opnames: Bartók se opera Bloubaard se Kasteel, Carter se opera What next?, Lachenmann se Schwankungen am Rand en ander werke, Ligeti se Kamerkonsert en Maderna se Hyperion.

Equiluz, Kurt (1929-), Oostenrykse tenoor. Sy musiekloopbaan is afgeskop as altsolis in die Weense Seunskoor. Vanaf 1944 het hy vir elf jaar lank musiekteorie, harp en sang aan die Staatsakademie vir Musiek en Kuns in Wenen studeer. Hy was vanaf 1945 ‘n lid van die akademie se kamerkoor, en in dié tyd het hy die internasionale sangkompetisie in Engeland (1948) en die Weense Mozart-kompetisie (1949) gewen. Sy solodebuut by die Weense Staatsopera is in 1957 as Pedrillo in Mozart se Die Entführung aus dem Serail gemaak. Hy sou tot 1983 aan dié operahuis verbonde wees, waar hy in byna 70 rolle gesing het. Daaronder tel Rossillon in Die lustigen Witwe, Don Curzio in Le nozze di Figaro, Monostatos in Die Zauberflöte, die Keiser in Turandot en Scaramuccio in Ariadne auf Naxos. Daarby het hy vanaf 1954 gereeld by die Salzburg-fees gesing, waar hy rolle sou skep tydens die premières van Liebermann se Penelope (1954), Martin se Le mystère de la Nativité (1960) en Wagner-Régeny se Das Bergwerk zu Falun (1961). Dit was egter as konsertsanger in die gewyde musiek van Bach dat hy sy grootste roem sou verwerf, met optredes as solis in talle van die Barokreus se kantates onder Harnoncourt en Leinhardt tot sy krediet. Verder gee hy sedert 1964 onderrig, onder andere as hoogleraar aan die Graz Konserwatorium (vanaf 1971) en die Weense Musiekakadmie (vanaf 1982). Verdere opnames: Bach se Kersfeesoratorium; Biber se Requiem; Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine, Il combattimento di Tancredi e Clorinda, en sy opera Il ritorno d’Ulisse in Patria; en Mozart se Requiem.

Erb, Karl (1877-1958), Duitse tenoor. Hy het in 1907 sy debuut in Stuttgart gemaak, in die titelrol van Kienzl se Der Evangelimann. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Lübeck (1908-10) en München (1913-25). By laasgenoemde het hy in 1917 die titelrol tydens die première van Pfitzner se Palestrina geskep. Hy het verder gedebuteer by die Salzburg-fees (1925) en Covent Garden (1927), en in 1930 het hy uit opera getree. Nog ‘n operarol waarin hy uitgeblink het, was Florestan in Fidelio. Daarby was hy bekend as die Evangelis in Bach se Sint Mattheüspassie, wat hy in ‘n historiese 1939-opname onder Willem Mengelberg gesing het. Hy was verder ‘n begaafde liedere-sanger: sy opnames in die middel en laat 1930’s van liedere deur Beethoven, Brahms, Schubert, Schumann en Wolf (met Bruno Seidler-Winkler as begeleier) word deur kenners onder die bestes vir sy stemtipe gereken. Hy was getroud met die sopraan Maria Ivogün.

Erede, Alberto (1908-), Italiaanse dirigent. Ná sy Roomse debuut in 1930 was hy vanaf 1934 vir vyf seisoene ‘n assistent-dirigent vir Fritz Busch by die Glyndebourne-fees. Daar het hy opvoerings van Don Giovanni en Le nozze di Figaro gedirigeer. Hy was in dié tyd ook musiekdirekteur van die Salzburg Operagilde (1935-8), en in 1937 is sy Amerikaanse debuut met Toscanini se NBC Simfonie-orkes gemaak. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy aan ‘n hele aantal orkeste en operahuise in Europa en die VSA verbonde. Daaronder tel die Turynse Radio Simfonie-orkes (1945/6), die Nuwe Londense Operageselskap (1946-8), die Metropolitan Opera (1950-5, 1974/5), en die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf (1956-62). By laasgenoemde het hy ‘n jeugdige Carlos Kleiber aangemoedig om meer nuwe uitvoerings te dirigeer. Verder het hy gedebuteer by Covent Garden (1958), die Bayreuth-fees (1968) en die Skotse Opera (1975). As begaafde dirigent van Italiaanse opera het hy in 1988 op tagtigjarige leeftyd na die Roomse Opera teruggekeer. Opnames: Aida, Cavalleria Rusticana, La Bohème en Madama Butterfly (beide in 1951), en Tosca.

Ermler, Mark (1932-2002), Russiese dirigent. Hy het as vyfjarige met klavierlesse begin en drie jaar later aan die musiekkollege van die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium begin studeer. Op 18 het hy aan die konserwatorium self met studies in dirigeerkuns en klavier begin. Terwyl hy nog ‘n student was, is sy dirigeerdebuut in 1952 met die stad se beroemde filharmoniese orkes gemaak. Sy operadebuut is in die jaar daarop in Leningrad gemaak, met Die Entführung aus dem Serail. Hy het in 1956 as leerling-dirigent by die Bolsjoi Teater in Moskou aangesluit. Sy debuut daar is in 1957 gemaak toe hy met slegs twee dae kennis vir ‘n olike dirigent moes instaan, met Cavalleria rusticana. Daarna het hy naam gemaak vir sy vertolkings van Russiese opera en ballet. Dit sluit die eerste verhoogproduksie van Prokofiëf se opera Die verhaal van ‘n werklike man (1961) in, waarvan ‘n uitstekende opname gemaak is. By die Bolsjoi het hy oor die jare heen ook hoogstaande opnames gedirigeer van Vainberg se ballet Die Goue Sleutel (1966), en die operas Prins Igor (1969), Boris Godoenof (1982), Mozart en Salieri (1982) en Jewgeni Onegin (2000). Hy het dié beroemde geselskap voorts op geslaagde toere na Wes-Europa, Japan en Noord-Amerika gelei. Sy Britse debuut is in 1974 met die Bolsjoi gemaak, toe hy in Londen opvoerings van Giselle en Swanemeer gedirigeer het. Vanaf 1985 was hy hoofgasdirigent by Covent Garden, waar hy opnames van ballette deur Adam, Delibes, Prokofiëf en Tsjaikofski gedirigeer het. Hy het in 1992 by die Edinburgh-fees die Britse première van Tsjaikofski se opera Opritsjnik gedirigeer. In 2000 het hy musiekdirekteur van die Seoel Filharmoniese Orkes in Suid-Korea geword. Tydens ‘n inoefening met hulle het hy ineengestort, en kort daarna is hy aan nierversaking oorlede. Verdere opnames: Arenski se Tsjaikofski Variasies.

Ervy-Nowitskaja, Jekaterina (1951-), Russiese pianis. Na voltooiing van haar studies het sy ‘n assistent vir die pianis Lew Oborin geword. Op sewentien het sy die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen, waar sy haar mettertyd sou vestig. Haar loopbaan het slegs enkele jare geduur voordat sy uitgetree het om op haar gesin en onderrig te konsentreer. Sy het in 1995 in Moskou weer tot openbare optredes teruggekeer. ‘n Hoogaangeskrewe opname van ‘n versameling solowerke van Prokofiëf is deur haar gemaak.

Eschenbach, Christoph (1940-), Duitse pianis en dirigent. Sy moeder het tydens sy geboorte gesterf, en sy musikoloog-vader is deur die Nazis weggevoer. In 1945 het hy soos miljoene ander Duitsers voor die Sowjet-leërs uit gevlug, en op ‘n stadium was hy die enigste oorlewende uit ‘n kamp van 60 mense. Daarna wou hy vir ‘n jaar lank met niemand praat nie, maar in dié tyd het hy musiek begin luister – sy pleegmoeder was ‘n sangeres. Hy het begin om viool en klavier te bestudeer, en op elf jaar het hy die legendariese Wilhelm Furtwängler hoor dirigeer. Dit het hom geïnspireer om ‘n musiekloopbaan te volg. As twaalfjarige het hy die Steinway-klavierkompetisie gewen, in 1962 die internasionale klavierkompetisie in Luzern en in 1965 die eerste Clara Haskil-kompetisie in Montreux. Dit het hom onder die aandag van die beroemde dirigent Herbert von Karajan gebring, onder wie hy ‘n konsertopname gemaak het. Hy het in 1967 by die Salzburg-fees gedebuteer en in die jaar daarop die eerste uitvoering van Henze se tweede klavierkonsert (wat vir hom geskryf is) gegee. In die laat 1960’s het hy die volledige klaviersonates van Mozart in stylvolle, elegante vertolkings opgeneem. Sy Amerikaanse debuut is in 1969 met die Cleveland Orkes gemaak, en daar het hy die geleentheid benut om dirigeerkuns onder die vermaarde Georg Szell te bestudeer.

Eschenbach se dirigeerdebuut het in 1972 gevolg, en ses jaar later is sy operadebuut in Darmstadt met La Traviata gemaak. Gedurende die 1970’s het hy dikwels as gasdirigent met die Philharmonia Enescu in Roemenië opgetree, en in 1979 het hy dirigent van die Rheinland-Pfalz Staatsfilharmoniese Orkes geword. Hy was vanaf 1982 vir drie jaar dirigent van die Tonhalle Orkes in Zürich, en in 1984 het hy by Covent Garden gedebuteer. Sy internasionale loopbaan het in 1988 ‘n hupstoot gekry toe hy musiekdirekteur van die Houston Simfonie-orkes geword het. Hy sou die pos vir 11 jaar beklee, en met die ensemble het hy die volledige simfonieë van Brahms opgeneem. In dié tyd het hy ook as pianis en dirigent met die Houston Kamerorkes opgetree. Só het hy met drie van hul lede in ‘n hoogstaande opname van Messiaen se Kwartet vir die eindtyd gespeel. Hy het in 2000 musiekdirekteur van die Orchestre de Paris geword, en drie jaar later het hy Wolfgang Sawallisch as musiekdirekteur van die Philadelphia Orkes opgevolg. Daarby was hy hoofdirigent van die NDR Simfonie-orkes in Hamburg en artistieke direkteur van die Ravinia-fees in Chicago, poste wat afgelê is met die aanvang van sy dienstyd in Philadelphia. Hy behou egter sy pos in Parys en bly aan as artistieke direkteur van die Schleswig-Holstein Musiekfees in sy geboorteland. Met sy Franse orkes het hy in 2008 tydens die Herbert von Karajan eeufeesvierings ‘n uitvoering van Beethoven se Missa Solemnis gegee.

Eschenbach se dirigeerstyl is besonder fisies, en hoewel hy deeglike inoefeninge hou maak hy tydens konserte staat op die inspirasie van die oomblik. Onder die bekende musici met wie hy dikwels saamwerk, tel die sopraan Renée Fleming en die pianiste Tzimon Barto en Lang Lang. Hy is ‘n vrygesel met ‘n spartaanse leefwyse, en wou nog nooit leer om ‘n motor te bestuur nie. As pianis het hy bekende sangers soos Peter Schreier en Dietrich Fischer-Dieskau in hul opnames van Duitse liedere begelei. Sleutelopnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 29-32, en 6 Bagatelles; Mozart se klavierduette (met Justus Frantz). Verdere opnames (as pianis): die genoemde konsert van Henze; Brahms se klarinet- en horingtrios; Mozart se Konsert vir viool en klavier (met Midori); Schnittke se Stille Nacht en Gratulations rondo; Schubert se Forelle-kwintet (met die Koeckert Kwartet) en volledige werke vir vier hande (met Justus Frantz); (en as dirigent) Berlioz se Symphonie fantastique; Bruckner se vierde simfonie; Schumann se volledige simfonieë; en kamerwerke van Berg, Schoenberg en Webern.

Esswood, Paul (1942-), Engelse kontratenoor. Hy was aanvanklik as lekevikaris aan die Westminster Abdykoor verbonde (1964-71), waartydens hy sy solodebuut in Handel se Messiah gemaak het (1965). In 1968 het sy operadebuut in Berkeley, Kalifornië plaasgevind tydens die Amerikaanse première van Cavalli se Erismena, en in dieselfde jaar was hy ‘n medestigter van die vokale ensemble Pro Cantione Antiqua. Drie jaar later het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, en sedert 1973 is hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekkollege. Hy het in die premières van Penderecki se Paradise Lost (1978) en Glass se Akhnaten (1984) gesing, in laasgenoemde geval in die titelrol. Sy bekendheid lê merendeels in vroeë opera, waarin hy verder uitblink in die titelrol van Giulio Cesare, en as Arsamene in Serse, Mirtillo in Il pastor fido en Ottone in L'incoronazione di Poppea. Opnames: Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; ‘n versameling duetkantates van Handel (met die sopraan Maria Zádori), en sy oratoriums Israel in Egypt, Judas Maccabeus en Messiah (almal onder Mackerras); die genoemde operas van Glass, Handel en Monteverdi, asook David et Jonathas, Rinaldo en Il ritorno di Poppea.

Estes, Simon (1938-), Afro-Amerikaanse bas-bariton. Hy het aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer en sy debuut in 1965 met die Deutsche Oper in Berlyn gemaak, as Ramfis in Aïda. In die jaar daarop het hy ‘n silwermedalje in die internasionale Tsjaikofski-sangkompetisie in Moskou gewen. Daarna het hy by die voorste operahuise in Europa en die VSA begin optree, en met sy kragtige stem veral bekend geraak in Wagner-rolle. Verdere debute het gevolg by die feeste in Glyndebourne (1972), Bayreuth (1978) en Salzburg (1983), en by die Metropolitan Opera (1982) en Covent Garden (1986). Onder sy beste rolle tel Cenci in Beatrice Cenci, die Orakel in Idomeneo, Creon in Oedipus Rex en die titelrol in Der fliegende Holländer. Hy is ook ‘n voortreflike Porgy in Gershwin se Porgy and Bess, wat hy in 1985 tydens die Met-première van die opera gesing het. Opnames: Haydn se Mis nr. 11; Mahler se agste simfonie (onder Gielen); en die genoemde operas van Goldschmidt, Mozart, Strawinski en Wagner.

Europa Galante, Italiaanse Barokorkes wat in 1990 deur Fabio Biondi gestig is (sien verder onder Biondi, Fabio).

Evans, Anne (1939-), Engelse sopraan van Walliese afkoms. Aanvanklik het sy kleiner rolle in Genève gesing, en vanaf 1968 tot 1978 was sy verbonde aan die Engelse Nasionale Opera, waar sy as Mimì in La Bohème gedebuteer het. In 1974 het sy by die Walliese Nasionale Opera begin sing, waar sy dikwels sou optree in swaarder Wagner-rolle soos Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Haar debuut by die Bayreuth-fees het in 1983 plaasgevind, waar sy vanaf 1989 tot 1992 die rol van Brünnhilde sou sing. Dit sluit optredes in Daniel Barenboim se hoogstaande opnames van die Ring in. Sy het verder as Brünnhilde in Berlyn, Nice, Parys, Turyn en Zürich verskyn. Sedert 1990 tree sy weer by die ENO op, en twee jaar later het sy by die Metropolitan Opera gedebuteer. Onder haar verdere rolle tel Leonore in Fidelio en die Marschallin in Der Rosenkavalier. Haar afskeidsoptrede is in 2003 by die Londense Proms gemaak, as die Marschalline onder die veteraan Charles Mackerras.

Evans, Edgar (1912-), Walliese tenor. Ná studies in Londen en Milaan was hy ‘n koorsanger by die Sadler’s Wells Opera (1937-40). In laasgenoemde jaar het hy by die Londense polisiereserviste aangesluit. Hy was in 1946 ‘n stigterslid van die nuwe Koninklike Opera by Covent Garden, waarvan hy vir 29 ‘n lid sou wees. Sy repertorium het wyd deur Franse, Duitse en Italiaanse opera gestrek, en daarby was hy ‘n begaafde Hermann in Tsjaikofski se Pique Dame. Na sy uittrede by Covent Garden in 1975 het hy vir 10 jaar by die Koninklike Musiekkollege in Londen sangonderrig gegee. Opnames: Britten se Albert Herring (as die Burgemeester, onder die komponis self); en Wagner se Tristan und Isolde (as Melot, onder Wilhelm Furtwängler).

Evans, Geraint (1922-92), Walliese bariton. Hy het in Hamburg en Genève studeer, en in 1948 sy debuut by Covent Garden gemaak in Die Meistersinger von Nürnberg. Daar sou hy vier jaar later in Wilhelm Furtwängler se historiese opname van Tristan und Isolde sing. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1950), La Scala (1960), Wenen (1961), die Salzburg-fees (1962), die Metropolitan Opera (1964) en Parys (1975). In 1971 is hy tot ridder geslaan, en in 1984 het hy uitgetree. Met sy donker toonkleur was hy wêreldbekend in rolle soos Ned Keene in Peter Grimes, Dulcamara in L'elisir d'amore, Leporello in Don Giovanni, Coppelius in Les Contes d’Hoffmann, die Hertog in The Gondoliers, Melitone in La forza del destino, en die titelrolle in Le nozze di Figaro, Falstaff en Wozzeck. Opnames: Mahler se Des Knaben Wunderhorn (onder Wyn Morris); Mathias se Elegy for a Prince; die genoemde operette van Gilbert en Sullivan; die genoemde operas van Britten, Donizetti, Offenbach, Verdi en Wagner; en ‘n versameling Verdi-arias.

Evans, Nancy (1915-), Engelse mezzosopraan. Sy het in 1933 begin om liedere-voordragte in Liverpool te gee en in 1938 is haar operadebuut in Londen gemaak, in Sullivan se The Rose of Persia. Vanaf 1939 het sy ook by Covent Garden gesing. In die jare direk ná die Tweede Wêreldoorlog het sy in ‘n aantal belangrike opvoerings en opnames opgetree. Só het sy in 1946 die titelrol in The Rape of Lucretia by die Glyndebourne-fees met Kathleen Ferrier afgewissel. Sy sou die rol ook sing in ‘n opname onder die komponis Britten self. In dieselfde jaar (1946) het sy in Beecham se klassieke opname van Delius se Songs of Sunset opgetree. By Glyndebourne het sy verder in 1947 die rol van Nancy tydens die première van Albert Herring geskep. In die jaar daarop het sy die eerste uitvoering van Britten se liedere-siklus A Charm of Lullabies, wat vir haar geskryf is, gegee. Ná haar uittrede het sy aan die Britten-Pears Skool in Snape Maltings onderrig gegee. In 1991 is die OBE aan haar toegeken.

Evans, Rebecca (1963-), Walliese sopraan. Sy was aanvanklik ‘n verpleegster voordat sy aan die Guildhall Musiekskool begin studeer het. In 1990 het sy by die Walliese Nasionale Opera as Gretel in Hänsel und Gretel gedebuteer. Sy is in die jaar daarop as Jong Walliese Sanger van die jaar aangewys, en in 1993 is haar debute in San Francisco en München gemaak. Onder haar verdere rolle tel Miss Wordsworth in Albert Herring, Ilia in Idomeneo, Sophie in Der Rosenkavalier en Mary in Hugh the Drover. Ook in die operettes van Gilbert en Sullivan is sy begaafd, onder meer as Josephine in HMS Pinafore, Mabel in The Pirates of Penzance en die Pleitbesorger in Trial by Jury. Opnames: Beethoven se Mis in C; Delius se Song of the high hills en Requiem; Vaughan Williams se derde simfonie (onder Hickox); ‘n versameling Italiaanse liedere, begelei deur die pianis Michael Pollock; die genoemde operettes van Gilbert en Sullivan; en die genoemde operas van Britten, Mozart en Vaughan Williams, asook The Fairy Queen.

Ewing, Maria (1950-), Amerikaanse mezzosopraan van gemengde Nederlandse, Skotse en Indiaanse afkoms. Sy het haar debuut op agtienjarige leeftyd gemaak as Maddalena in Rigoletto, onder die dirigent James Levine met wie sy goed bevriend sou word. In 1973 het haar professionele debuut by die Ravinia-fees plaasgevind, gevolg deur debute by die Metropolitan Opera, La Scala en die Salzburg-fees (al drie in 1976), die Glyndebourne-fees (1978) en Covent Garden (1988). Met haar suiwer sang, ryk toonkleur en oortuigende toneelspel is sy begaafd in die titelrolle van Carmen, Tosca, Madama Butterfly en Dame Macbeth van Mtsensk, die vroulike hoofrol in Pelléas et Mélisande, Dido in Dido and Aeneas, en Donna Elvira in Don Giovanni. Sy was voorts voortreflik as Cherubino in Jean-Pierre Ponnelle se filmweergawe van Le nozze di Figaro (1976). By die Glyndebourne-fees van 1984 het sy geskitter in die titelrol van L’incoronazione di Poppea, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Debussy se La damoiselle élue; Ravel se Shéhérazade; die genoemde operas van Debussy, Mozart en Sjostakowitsj, asook I vespri siciliani.

F

Fagan, Gideon (1904-80), Suid-Afrikaanse dirigent en komponis. Hy was dirigent van die BBC Noordelike Orkes (1939-42) en die Johannesburg Orkes (1949-52). Later was hy musiekdirekteur van die SAUK (1963-6) en lektor aan die Universiteit van Kaapstad (1967-73). In Londen het hy verskeie musiekblyspele gedirigeer, en onder sy komposisies tel die Afrikaanse Volksliedjie Suite.

Failoni Orkes, Hongaarse orkes wat in 1981 gestig is deur spelers van die Hongaarse Staatsopera-orkes. Onder leiding van die violis Belá Nágy het die orkes by 'n hele aantal inernasionale musiekfeeste opgetree. In Hongarye word hul slegs deur die Franz Liszt Kamerorkes oorskadu, wat heelwat ouer is. Die orkes is in Boedapest gebaseer en is vernoem na die Italiaanse dirigent Sergio Failoni, wat vanaf 1928 tot 1948 die Hongaarse Staatsopera gedirigeer het.

Fairfax, Bryan (1930-), Australiese violis en dirigent. Hy was vanaf 1954 vir twee jaar 'n violis in die Hallé Orkes. In 1961 het hy die Polyphonia Orkes gestig vir die uitvoering van nuwe of onbekende musiek. Hy het in dieselfde jaar die wêreldpremière van sy landgenoot Havergal Brian se magtige eerste simfonie (The Gothic) in Westminster gedirigeer. Onder die Britse premières wat deur hom gedirigeer is, tel Nielsen se derde simfonie en Sjostakowitsj se derde simfonie (beide in 1962), en Grainger se The Warriors (1970).

Faris, Alexander (1921-), Britse dirigent en komponis. Hy is in Noord-Ierland gebore en sy Londense debuut is in 1949 gemaak. Daarna was hy ‘n dirigent by die Carl Rosa Opera, die Sadler’s Wells Opera en die Koninklike Ballet. Hy was vir die laaste seisoen van die D’Oyly Carte Opera in 1981/2 hul musiekdirekteur. In 1982/3 het hy met die Londense Simfonie-orkes en die Ambrosian Choir filmopnames gemaak van Gilbert en Sullivan se operettes Cox and Box, The Gondoliers, HMS Pinafore, Iolanthe, The Mikado, Patience, The Pirates of Penzance, Princess Ida, Ruddigore, The Sorcerer, Trial by Jury en The Yeomen of the Guard. Die DVD-vrystellings daarvan word hoog aangeskryf. Hy het voorts die klankbane van ‘n aantal rolprente en TV-reekse gekomponeer. Sy biografie van die komponis Offenbach is in 1980 in Londen en New York gepubliseer. Sleutelopname: ‘n versameling hoogtepunte uit Offenbach se operettes La Belle Hélène en Orpheus in the Underworld (in Engels, Sadler’s Wells, vroeë 1960’s).

Farncombe, Charles (1919-), Engelse dirigent. Hy het in 1955 die Handel Operavereniging gestig en hulle tot 1985 gedirigeer, toe dit ontbind is. Hulle sou bekendheid verwerf vir hul herlewing van ‘n hele aantal Handel-operas, waarvan sommiges vir die eerste keer sedert die Barokreus se leeftyd opgevoer is. Die herlewing is ingelui deur Deidamia, en mettertyd sou Alcina, Rinaldo en verskeie ander aan die beurt kom. Oor die jare het van die voorste Britse sangers met die geselskap opgetree. Vanaf 1970 was hy vir nege jaar ook musiekdirekteur van die Sweedse Koninklike Teater in Drottningholm, en vanaf 1979 was hy hoofgasdirigent van die Badense Staatsteater in Karlsruhe. Die CBE is in 1977 aan hom toegeken. Sedert 1983 is hy musiekdirekteur van die Londense Kameropera. Met die Engelse Bach-feeskoor en Barokorkes het hy 'n hoogstaande opname van Rameau se opera Castor et Pollux gemaak.

Farrar, Geraldine (1882-1967), Amerikaanse sopraan en aktrise. Ná studies in Boston, New York, Parys en onder die beroemde Lilli Lehmann in Berlyn het sy in 1901 haar debuut in die Duitse hoofstad gemaak, as Marguerite in Faust. Daarna het sy wyd deur Europa getoer, en was vanaf 1904 vir twee jaar aan die Monte Carlo Opera verbonde. Sy het vanaf 1906 by die Metropolitan Opera opgetree, waar sy in dieselfde jaar die titelrol tydens die Met-première van Madama Butterfly gesing het. Vir die volgende sestien jaar sou sy die vernaamste liriese sopraan by dié beroemde operahuis wees. Daar het sy byna 500 optredes gemaak, dikwels met Caruso, voordat sy in 1922 op die betreklike jong ouderdom van veertig uitgetree het. Rolle is deur onder andere Puccini (in Suor Angelica) en Humperdinck vir haar geskryf. Sy het ook in verskeie rolprente opgetree.

Farrell, Eileen (1920-2002), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1941 oor die radio in popmusiek begin sing, met soveel sukses dat sy vir die volgende ses jaar haar eie program gehad het. In 1950 het sy by Dumbarton Oaks opgetree in die eerste uitvoering van Barber se verwerking van sy Knoxville: Summer of 1915 vir sopraan en kamerorkes (onder William Strickland). In die jaar daarop het sy die rol van Marie in Wozzeck in 'n konsertweergawe van die opera in New York gesing, en haar verhoogdebuut het in 1956 in Tampa, Florida plaasgevind. Sy het verder gedebuteer in San Francisco (1956) en by die Metropolitan Opera (1960), met laasgenoemde teenoor Nicolai Gedda in Alceste. Ten spyte van haar kragtige stem het sy nie in ‘n internasionale operaloopbaan belang gestel nie. Hoewel sy uitmuntend was in Wagner-rolle soos Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, het sy verkies om dit eerder in konserte te sing. Dit het meesal plaasgevind met Leonard Bernstein, wat haar gunsteling-dirigent was. Verder was sy bekend in die musiek van Gershwin. Later in haar loopbaan was sy ‘n hoogleraar in musiek aan die Indiana Universiteit in Bloomington (1971-80) en die Universiteit van Maine in Orono (vanaf 1984). Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Toscanini) en Missa Solemnis (onder Bernstein), en die opera Maria Stuarda (as Elizabeth).

Fasano, Renato (1902-79), Italiaanse dirigent, pianis en komponis. Hy was aanvanklik direkteur van die Cagliari Konserwatorium (1931-9) en artistieke direkteur van die Santa Cecilia Akademie in Rome (1944-7). In 1947 het hy die Collegium Musicum Italicum gestig, wat vyf jaar later die kamerensemble I Virtuosi di Roma geword het. As spesialiste in vroeë musiek het hulle in 1956 by die Salzburg-fees gedebuteer. Verder was hy direkteur van die konserwatoriums in Venesië (1952-60) en Rome (1960-72), en president van die Santa Cecilia Akademie (1972-6). Met sy Roomse ensemble het hy ‘n uitstekende opname van Gluck se opera Orfeo ed Euridice gemaak.

Fasolis, Diego (1958-), Switserse orrelis en dirigent. Hy het in Zürich studeer, waar hy diplomas in orrel, klavier, sang en koorleiding verwerf het. Verdere studies in orrel en die uitvoering van vroeë musiek het in Parys en Cremona onderskeidelik gevolg. Onder die pryse wat hy gewen het, tel eerste pryse in Stresa (1983) en van die Migros-Göhner Stigting (1983 en 1984), en die Heger-prys (1984). In 1985 was hy ‘n finalis in die Geneefse kompetisie en het hy Bach se volledige orrelwerke uitgevoer. Mettertyd het die volledige orrelwerke van Buxtehude, Franck, Liszt, Mendelssohn en Mozart aan die beurt gekom. Hy het vanaf 1986 by die Switserse radio as musikus en dirigent gewerk, en in 1993 het hy permanente dirigent van die Switsers-Italiaanse Radiokoor in Lugano geword. Hy het hulle in ‘n hele aantal hoogstaande opnames gedirigeer. In 1995 het hy die Ensemble Vanitas gestig, wat hy sedertdien lei. Met sy musikale veelsydigheid tree hy wyd as orrelis, dirigent, kamermusikus en leermeester op. Opnames: Bach se Mis in B mineur, Banchieri se Il Zabaione musicale, Buxtehude se Membra Jesu nostri, Cherubini se Requiem, Galuppi se opera Il mondo alla roversa, Gossec se Grande Messe des Morts en Symphony à 17, Piccinni se opera Le donne vendicate en Rosenmüller se Sinfonia XI.

Fassbänder, Brigitte (1939-), Duitse mezzosopraan. Nadat sy in 1961 haar debuut in München gemaak het in Les Contes d’Hoffmann, was sy aan die Beierse Staatsopera verbonde. Later het debute gevolg by Covent Garden (1971), die Salzburg-fees (1972), die Metropolitan Opera (1974), Wenen (1976) en die Glyndebourne-fees (1990). Met haar donker, lewenskragtige stem en sterk verhoogpersoonlikheid was sy wêreldbekend in opera, veral in sogenaamde manlike rolle. Onder die rolle waarin sy uitgeblink het, tel Grafin Geschwitz in Lulu, Nancy in Martha, Marthe in Faust, Hänsel in Hänsel und Gretel, Dorabella in Così fan tutte, Silla in Palestrina, Klytemnestra in Elektra, Octavian in Der Rosenkavalier, Maddalena in Rigoletto, Azucena in Il Trovatore, Magdalene in Die Meistersinger von Nürnberg, Waltraute in Die Walküre en Brangäne in Tristan und Isolde. Haar vertolkings van Orlofsky in die operette Die Fledermaus word as ongeëwenaard beskou, met opnames onder Boskovsky, Previn en Carlos Kleiber om dit te staaf. Daarbenewens geniet sy hoë aansien as konsert- en liedere-sangeres, veral in dié van Mahler en Schubert. In 1995 het sy op die kruin van haar loopbaan as sangeres uitgetree, maar sy werk voort as opera-regisseur waarin sy ses jaar tevore in München met Der Rosenkavalier gedebuteer het. Tans bied sy opvoerings by die Tiroler Landestheater in Innsbruck aan, insluitend ‘n geslaagde produksie van die operette Der Zigeunerbaron in 2004. Verdere opnames: kerkmusiek van Schubert (onder Sawallisch); Brahms se Alt Rapsodie; Mahler se tweede simfonie (onder Stokowski), Kindertotenlieder, Das klagende Lied, Rückert Lieder en Das Lied von der Erde; Schoenberg se Gurrelieder; Weill se ballet Die sieben Todsünden; liedere van Brahms, Liszt, Schumann en Wolf, asook Schubert se groot siklusse Winterreise en Schwanengesang; die genoemde operas van Berg, Flotow, Gounod, Humperdinck, Mozart, Pfitzner, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook La finta giardiniera en Capriccio.

Fedosejef, Wladimir (1932-), Russiese dirigent. Hy was vanaf 1959 tot 1974 hoofdirigent van die Akademie-orkes van Russiese Volksinstrumente, en vanaf 1974 het hy dieselfde pos by die Moskou Radio Simfonie-orkes beklee. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1990 gemaak. Die eretitel Volkskunstenaar van die USSR is aan hom toegeken. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Weense Simfonie-orkes (1997-2005). In 2007 het hy die eerste uitvoering van sy landgenoot Biskop Hilarion Alfejef se Sint Mattheüspassie vir koor, orkes en soliste in Moskou gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Moessorgski se opera Boris Godoenof; Prokofiëf se oratorium Iwan die Verskriklike; Skriabin se eerste simfonie; en Boris Tsjaikofski se Sinfonietta.

Fedotof, Wiktor (1933-2001), Russiese dirigent. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en as vierjarige reeds Russiese volksinstrumente soos die balalaika gespeel. Onder sy ouer broer Iwan se afrigting het hy voorts geleer om koperblasers te speel. Op 15 het hy in ‘n militêre orkes in ‘n uitvoering van Tsjaikofski se vierde simfonie gespeel, toe die dirigent skielik ‘n hartaanval gekry het. Die begaafde tiener het aangebied om die orkes verder te dirigeer, waarop hy vir studies na die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium gegaan het. Hy het in 1963 as dirigent gegradueer en ook die landswye dirigeerkompetisie gewen. In sy jare by die konserwatorium het hy geleer om operas sonder bladmusiek te dirigeer, en dié vermoë het hom ‘n pos as ballet-dirigent by die Kirof Teater bekom. Hy het in 1964 deur die VSA getoer, waar hy 16 verskillende orkeste sou dirigeer – op ‘n stadium 12 uitvoerings in 10 dae. Die ondervinding het hom laat opmerk dat sy haarkleur weens die toer van swart na wit verander het. Sy debuut by Covent Garden is ook in 1964 gemaak, en in die jare daarna sou hy heuglike opvoerings van Tsjaikofski en Prokofiëf se ballette daar dirigeer. Hy was bekend vir sy buigsame benadering tot opvoerings, sy sensitiwiteit teenoor dansers, en sy buitengewone konsentrasie. ‘n Filmopname is van sy 1968-opvoering van Swanemeer by die Kirof gemaak (later op DVD uitgereik). Hy was vanaf 1974 vir twee jaar hoofdirigent van die Kirof en in 1977 het hy ‘n hoogleraar aan sy alma mater in Leningrad geword. As gasdirigent het hy wyd opgetree, onder meer in Chicago, Tokio, Barcelona en Parys.

Fenby, Eric (William) (1906-97), Engelse orrelis, komponis en dirigent. Vanaf 1928 het hy bekendheid verwerf as amanuensis (skrywer) vir die blinde en verlamde komponis Frederick Delius, wat in Frankryk woonagtig was. Ná Delius se afsterwe in 1934 het Fenby die res van sy lewe gewy aan die verwerking en bevordering van sy musiek. Dit sluit ‘n boek oor sy verhouding met die komponis in (Delius as I knew him). Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy ‘n militêre simfonie-orkes in Engeland gedirigeer, waarna hy behulpsaam was met aanpassing in die samelewing van musici wat in die Britse magte gedien het. Na die oorlog het hy die musiekafdeling van die North Riding opleidingskollege in Yorkshire gestig en vir die volgende 14 jaar as direkteur daarvan gedien. In 1962 was hy artistieke direkteur van die Delius-eefeesvierings en in dieselfde jaar is hy tot ridder geslaan. Vanaf 1964 tot 1978 was hy 'n hoogleraar in komposisie aan die Koninklike Musiekakademie. Met die Koninklike Filharmoniese Orkes het hy opnames van ‘n aantal Delius-werke gemaak wat in dieselfde asem as dié van Thomas Beecham genoem word. Daaronder tel die eerste opname van die komponis se orkesliedere in 1983, met bekende Britse sangers as soliste.

Fennell, Frederick (1914-2004), Amerikaanse dirigent. In sy laat tienerjare was hy dirigent van die nasionale musiekkamp in Interlochen, Michigan en daarna het hy die Eastman Musiekskool se simfonie-orkes gedirigeer (1939-65). Intussen het hy in 1952 die Eastman Houtblasers gestig, nadat hy vir 6 weke bedlêend was weens geelsug en ‘n ingewing gehad het. Dit sou ‘n heel vrugbare stap blyk te wees, met altesaam 22 albums wat deur sy ensemble opgeneem sou word. Hulle het die model geword vir die duisende houtblasersorkeste wat sedertdien in Amerikaanse skole tot stand gekom het. Verder was hy dirigent van die Universiteit van Miami se musiekskool (1965-80), en gasdirigent van die Boston Pops-orkes. Vanaf 1984 het hy die Kosei Houtblasersorkes in Tokio gedirigeer. Sleutelopnames: Sleutelopname: Holst se Military Band Suites (Cleveland). Verdere opnames: Handel se Koninklike Vuurwerkemusiek (Cleveland 1978); ‘n versameling marse van sy landgenoot Sousa; orkeswerke van Anderson, Coates, Grainger, Jacob en Walton; en orkesverwerkings van liedere deur Gershwin en Porter.

Ferencsik, János (1907-84), Hongaarse dirigent. Aanvanklik was hy aan die Hongaarse Staatsopera verbonde, eers as repetiteur en vanaf 1930 as dirigent. Hy was in 1930/1 'n musiekassistent by die Bayreuth-fees. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy 'n dirigent by die Weense Staatsopera (1948-50) en hoofdirigent van verskeie orkeste in sy geboorteland. Daaronder tel die Hongaarse Radio Simfonie-orkes (1945-52), die Hongaarse Staatsimfonie-Orkes (1952-84) en die Boedapest Filharmoniese Orkes (1953-76). Verdere debute is gemaak in Londen (1957) en die VSA (1962). Hoewel hy merendeels bekend was in die musiek van sy landgenote, het hy in 1968 ‘n dinamiese opname van Schoenberg se Gurrelieder met die koor en orkes van die Deense Nasionale Radio gemaak. Verdere opnames: Erkel se opera Bánk bán; Kodály se Budavári Te Deum, Missa brevis en Háry János; en Liszt se Missa solemnis.

Fergus-Thompson, Gordon (1952-), Engelse pianis. Ná sy Londense debuut in 1976 het hy wyd deur Europa begin optree in konserte en voordragte. Met ‘n repertorium van 45 konserte en talle solowerke toer hy ook deur die VSA, die Verre Ooste en Australasië. Hy is veral begaafd in die musiek van die Franse Impressioniste en die Russiese Romantici. Sedert 1996 is hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekkollege, en daarby gee hy wêreldwyd meesterklasse. Opnames: Balakiref se klaviersonate; Headington se klavierkonsert; 2 versamelings solowerke van Ravel; en Skriabin se volledige Mazurkas.

Ferrara, Franco (1911-1985), Italiaanse dirigent. Hy het klavier, viool, orrel en komposisie aan die Bologna Konserwatorium studeer. Vervolgens was hy 'n violis in orkeste in Bologna, Rome en Florence. Laasgenoemde was in die stad se bekende Maggio Musicale vanaf 1933 tot 1940. Sy dirigeerdebuut is in 1938 in Florence gemaak nadat hy aangemoedig is om 'n dirigent te word. Skaars tien jaar later het hy weens gesondheidheidsredes van openbare konserte uitgetree, maar hy het voorgegaan om opnames te dirigeer. Sy loopbaan wat hom wêreldroem sou meebring het egter nog voorgelê, naamlik as leermeester oor 'n tydperk van meer as 30 jaar. Hy het onderrig in dirigeerkuns gegee aan die Santa Cecilia Akademie in Rome, die musiekakademie in Siena (1964-85), die Teatro Communale in Bologna (1974/5), die Nederlandse Radio in Hilversum (1958-73), die Parys Konserwatorium, die Switserse Radio in Lugano, die Tibor Varga-fees in Sion, die Tokio Akademie (1976), en in die VSA aan die Curtis Musiekinstituut in Philadelphia, die Juilliard Musiekskool in New York en die Berkshire Musieksentrum in Tanglewood (vanaf 1975). Onder sy later beroemde studente tel Jorma Panula, Myung-whun Chung, Andrew Davis, Roberto Abbado, Maurizio Arena, Riccardo Chailly, Gianluigu Gelmetti, Riccardo Muti en Daniel Oren. Daarby het hy die klankbane van 'n hele aantal rolprente gedirigeer, onder meer The Leopard, Barabbas, The Bible: In the beginning en Under ten flags. Hy het ook beroemde sangers soos Anna Moffo en Maria Lanza in van hul opnames begelei.

Ferras, Christian (1933-82), Franse violis. Hy het in 1946 sy konsertdebuut in Parys gemaak en daarna wêreldwyd as solis opgetree. As een van die mees onderskatte violiste van die twintigste eeu is sy spel gekenmerk deur intensiteit, vinnige vibrato en ‘n suiwer, fluweelgladde toonkleur. In 1954 het hy die Britse première van Fricker se Rapsodia Concertante in Cheltenham gegee. Hy het in die 1950's met Yehudi Menuhin in 'n opname van Bach se Dubbelkonsert gespeel wat ‘n topverkoper geword het. Verdere opnames: die vioolkonserte van Berg, Brahms, Sibelius en Strawinski; vioolsonates van Debussy, Fauré, Franck en Honegger; Dinicu se Hora staccato; Fauré se Berceuse; en werke vir viool en orkes van Chausson en Ravel.

Ferrier, Kathleen (1912-53), Engelse alt. Terwyl sy as skakelbord-operatrise by ‘n telefoonsentrale in Blackburn gewerk het, het sy begin om as pianis en klavierbegeleier by musiekkompetisies in die noorde van Engeland op te tree. In 1937 het sy ‘n sangkompetisie in Carlisle gewen, en drie jaar later het formele sanglesse ‘n aanvang geneem. Ná haar Londense debuut in 1943 as solis in Handel se Messiah het sy spoedig een van die voorste Britse sangers in gewyde werke soos Bach se Sint Mattheüspassie en Elgar se The Dream of Gerontius (as die Engel) geword. Sy het ná die Tweede Wêreldoorlog wyd deur Europa en die VSA getoer en by die musiekfeeste in Edinburgh, Glyndebourne en Salzburg opgetree. Haar operadebuut is in 1946 by Glyndebourne gemaak, in die titelrol van The Rape of Lucretia wat Britten vir haar geskryf het. In die jaar daarop het sy by Glyndebourne as Orfeo in ‘n historiese opname van Orfeo ed Euridice onder Fritz Stiedry gesing. Sy was in dieselfde jaar (1947) ‘n solis tydens die Britse première van Mahler se derde simfonie onder Adrian Boult, met ‘n historiese opname wat eweneens gemaak is. Steeds in 1947 het sy by die Edinburgh-fees in ‘n uitvoering van Mahler se Das Lied von der Erde onder Bruno Walter gesing. Haar Amerikaanse debuut is in 1948 in New York gemaak, in ‘n radio-uitsending van dieselfde werk met Walter as dirigent. Met Walter as klavierbegeleier het sy in 1949 by die Edinburgh-fees ‘n onvergeetlike voordrag van liedere deur Schubert, Schumann en Brahms gegee, met ‘n opname wat daarvan getuig.

Ferrier het tydens die tweehonderdjarige herdenking van Bach se dood in 1950 uitgeblink as solis in ‘n Weense opname van die Barokreus se Sint Mattheüspassie onder Herbert von Karajan. In 1951 het Arthur Bliss The Enchantress vir haar geskryf, hoewel hy van mening was dat sy met haar diepe geestelikheid ‘n te goeie mens vir só 'n rol is. Sy het in 1952, toe sy al terminaal siek weens kanker was, in ‘n hoogaangeskrewe opname van Das Lied onder Walter gesing. Haar laaste verskyning as sanger was in 1953 by Covent Garden (as Orfeo, onder John Barbirolli), en in dieselfde jaar is die CBE en die Goue Medalje van die Koninklike Filharmoniese Vereniging aan haar toegeken. Op haar sterfbed het sy haar met skilder besig gehou. Met haar ryk, suiwer stem en warm, humoristiese persoonlikheid het sy ‘n enorme aanhang geniet. Dit was veral die geval in Brittanje, sodat haar dood op betreklik jeugdige leeftyd wyd betreur is. Sy was ‘n ewe begaafde sangeres van Engelse volksliedere, en het dikwels liedere-voordragte met die tenoor Peter Pears en met Britten as klavierbegeleier gegee. Sleutelopnames: Brahms se Alt Rapsodie (onder Krauss); ‘n versameling Handel-arias (onder Boult); Mahler se Das Lied von der Erde (in 1948 en 1949), Kindertotenlieder en 3 Rückert Lieder (almal onder Walter). Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Enescu), Sint Mattheüspassie (in Engels, onder Reginald Jacques) en ‘n versameling arias (onder Boult); Berkeley se 4 Poems of St Teresa of Avila; Brahms se Vier ernste Gesänge (deur Sargent georkestreer); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Barbirolli), Rückert Lieder en tweede simfonie (onder Klemperer); en Pergolesi se Stabat Mater (onder Jacques).

Feuermann, Emanuel (1902-42), Oostenryks-gebore tjellis. Hy het in ‘n beskeie dog musikale Joodse familie in Galisië (destyds deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk, en tans in die Oekraïne) grootgeword. As elfjarige is sy openbare debuut gemaak en later het hy in Duitsland gaan woon. Daar het hy op sestien ‘n hoogleraar in tjello aan die Keulen Konserwatorium geword, op aanbeveling van sy leermeester. Later het hy dieselfde pos by die Berlynse Konserwatorium beklee (1929-33). Met die Nasionaal-Sosialistiese oorname in Duitsland in 1933 het hy na die VSA geëmigreer, waar hy in die jaar daarop met die Chicago Simfonie-orkes sou debuteer. Hy het later ‘n Amerikaanse burger geword, en as solis het hy met van die voorste orkeste opgetree. In kamermusiek het hy as vennoot van sulke grotes soos die pianiste Schnabel en Rubinstein en die violiste Heifetz en Huberman gespeel. ‘n Aanduiding van sy tegniese vaardigheid is te vinde in die feit dat hy die enigste tjellis was om Schoenberg se Konsert op temas van Monn te speel, wat selfs Pablo Casals as te moeilik beskou het. Hy het ‘n voorliefde vir gemaklike lewe en duur motors gehad, wat deels aan sy moeilike kinderjare toegeskryf kan word. ‘n Briljante loopbaan is deur sy dood op betreklik jeugdige leeftyd kortgeknip. Opnames: tjellokonserte van Dvorák en Haydn; Brahms se eerste klaviertrio (met Heifetz en Rubinstein), sy Dubbelkonsert (met Heifetz) en eerste tjellosonate; Dohnányi se Serenade vir strykertrio (met Heifetz en Primrose); en Hindemith se Scherzo en tweede strykertrio (met Goldberg en die komponis self).

Février, Jacques (1900-79), Franse pianis. Hy was veral bekend in Franse musiek, waaronder Poulenc se Konsert vir Twee Klaviere wat aan hom opgedra is. Met die komponis as vennoot het hy in 1962 in ‘n hoogstaande opname daarvan onder Georges Prêtre gespeel.

Fiedler, Arthur (1894-1979), Amerikaanse dirigent. Hy het in Berlyn studeer en as violis in Boston opgetree, waar hy in 1930 dirigent van die Pops-Orkes geword het. Tot aan die einde van sy lewe byna vyf dekades later sou hy hul jaarlikse somerkonserte dirigeer. Op dié wyse en deur sy talle opnames het hy besonder gewild in die VSA geword, met ‘n bekendheid wat merendeels in ligte klassieke werke gelê het. Sleutelopname: Offenbach/Rosenthal se ballet Gaité parissiene. Verdere opnames: Rossini/Respighi se ballet La boutique fantasque; Britten se Young person's guide to the orchestra; Saint-Saëns se Karnaval van die diere; dansmusiek van die Strauss-broers; en orkeswerke van Borodin, Grieg, Ibert, Khatsjatoerian, Rimski-Korsakof, Sibelius, Smetana en Tsjaikofski.

Field, Helen (1951-), Walliese sopraan. Nadat sy in 1976 by die Walliese Nasionale Opera as Euridice in Orfeus in die Onderwêreld gedebuteer het, was sy tot 1986 aan dié operahuis verbonde. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1982) en die Metropolitan Opera (1984), en vanaf 1983 tot 1990 was sy aan die Engelse Nasionale Opera verbonde. Sy het in 1987 by Opera Noord die titelrol gesing in die Britse première van Strauss se opera Daphne, en twee jaar later in Houston die rol van Jo-Ann geskep tydens die première van Tippett se New Year. Laasgenoemde het sy ook gesing met haar Glyndebourne-feesdebuut in 1990. Sy is ‘n begaafde sangeres in Romantiese en moderne opera, veral in dié van Janácek. Onder haar verdere operarolle tel Tatjana in Jewgeni Onegin, Desdemona in Otello, Marzelline in Fidelio, Mimì in La Bohème, Micaela in Carmen, Mila in Osud, Katerina in Die Griekse Passie en die titelrol in Jenufa. Opnames: Boughton se koordrama Bethlehem; Rossini se Petite messe solennelle en Stabat Mater; en die operas A Village Romeo and Juliet, Osud en Die Griekse Passie.

Figueras, Montserrat (1942-2011), Spaanse sopraan. Sy het in ‘n musikale gesin in Barcelona grootgeword, waar sy sang en drama studeer het. Op baie jeugdige leeftyd het sy reeds met die vroeë musiek-ensemble Ars Musicae opgetree. In 1968 is sy na Basel vir studies aan die Schola Cantorum Basiliensis en die Musiekakademie. Onder haar leermeesters daar het Kurt Widmer en Eva Krasznai getel. Sy is in dieselfde jaar getroud met haar mede-student, die vermaarde viola da gamba-speler Jordi Savall, met wie sy in 1974 die ensemble Hesperion XX sou stig. In 1987 het die egpaar na Barcelona teruggekeer, waar hul die vokale ensemble La Capella Reial de Catalyuna gestig het. Vanuit die staanspoor het sy met haar hoogstaande musikale intelligensie en fluweelagtige stem in vroeë musiek gespesialiseer, veral dié van haar geboorteland. Oor die jare het sy ‘n hele aantal toekennings ontvang, waaronder Duitse en Franse pryse vir uitstekende opnames. In 2003 het die Franse regering haar ‘n Offisier in die Orde van Kuns en Lettere gemaak. Vyf jaar later is sy en haar man as Vredeskunstenaars deur UNESCO aangewys. Die Katalaanse regering het die Creu de Sant Jordi in 2011 aan haar toegeken. Sy is aan kanker oorlede. Opnames: Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Mozart se Requiem; ‘n versameling wiegeliedere getiteld Ninna Nanna; ‘n versameling vroeë Spaanse musiek getiteld Entremeses del Siglo de Oro; in ‘n versameling Spaanse musiek van die Nuwe Wêreld getiteld Villancicos y Danzas Criollas; en in die Vesperdiens van die jaarlikse misteriespel in Elche, getiteld Misteri d’Elx: La Vespra (as die Maagd Maria).

Fingerhut, Margaret (1955-), Engelse pianis. Sy het in 1981 die toekenning Jong Kunstenaar van die Jaar van die Londen en Omstreke Kunstevereniging ontvang. Sedertdien tree sy as solis met bekende orkeste op, en het veral in die musiek van haar landgenoot Bax bekendheid verwerf. Onder die dirigeerstaf van Bryden Thomson het sy in hoogstaande opnames van dié komponis se Symphonic Variations, Morning Song, Winter Legends en Saga Fragment gespeel. Verdere opnames: Bax se Concertante vir die linkerhand en Oktet vir horing, klavier en strykers; versamelings solowerke van Berkeley, Blow en Sullivan; Falla se Nagte in die Tuine van Spanje (onder Geoffrey Simon); Novák se Liedere van ‘n Winternag en Pan; Stanford se tweede klavierkonsert; en 'n versameling Russiese solowerke van Arenski, Glazoenof, Liadof, Rachmaninof, Tanejef en Tsjaikofski.

Fink, Bernarda (1955-), Argentynse mezzosopraan van Sloweense afkoms. Sy het sang studeer aan die Instituto Superio de Arte del Teatro Colón in haar geboortestad Buenos Aires. Sy het dikwels by laasgenoemde operahuis opgetree en in 1985 het sy die Nuevas Voces Liricas kompetisie gewen. Daarop het sy na Europa verhuis, waar sy sedertdien met van die voorste orkeste en in operahuise verskyn. Onder haar operarolle tel Arnalta in L’incoronazione di Poppea, Proserpina in Orfeo, Penelope in Il ritorno d’Ulisse in Patria en Phèdre in Hippolyte et Aricie. Daarby is sy met haar ferm, ryk stem en wye stemreeks hoogs begaafd in konsertwerke van die agtiende en negentiende eeue. Sleutelopnames: Handel se oratorium Messiah (onder McCreesh); Haydn se Scena di Berenice (onder Jacobs); Mozart se konsertaria Ch’io mi scordi di te (onder Zacharias). Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 61 en 147, Sint Mattheuspassie en Magnificat (almal onder Harnoncourt), Kantates nrs. 35, 169 en 170 (onder Mullejans), en Kersfeesoratorium (onder Gardiner); Monteverdi se Lamento della ninfa (onder Jacobs); Schumann se oratorium Das Paradies und die Peri (onder Gardiner); en die genoemde operas van Monteverdi en Rameau.

Finnie, Linda (1952-), Skotse mezzosopraan. Sy het in 1974 die Kathleen Ferrier-prys gewen en drie jaar later ook die 's Hertogenbosch kompetisie. Intussen het haar professionele debuut in 1975 met die Skotse Opera plaasgevind in Orr se Hermiston, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden en die Engelse Nasionale Opera (beide in 1978), die Walliese Nasionale Opera (1980), Frankfurt en Nice (beide in 1987), en die Bayreuth-fees (1988). By laasgenoemde het sy uitgeblink as Fricka in die Ring, met optredes in hoogstaande opnames onder Daniel Barenboim om dit te staaf. Daarby is sy 'n begaafde konsertsangeres in ‘n aantal tale. Sleutelopname: Vivaldi se Inleiding tot Gloria RV 639 (onder Negri). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Walter Weller); Bliss se The Enchantress; Chausson se Poème de l'amour et de la mer; Diepenbrock se Hymne an die Nacht; Elgar se The Light of Life; Korngold se Abschiedslieder; Mahler se derde simfonie en Kindertotenlieder (beide onder Järvi); Mendelssohn se Elijah; Prokofiëf se kantate Alexander Nevsky; Respighi se Il tramonto; Vaughan Williams se opera Riders to the Sea (as Maurya); en Walton se Christopher Columbus.

Finnilä, Birgit (1931-), Sweedse alt. Haar professionele debuut in Göteborg in 1963 is vier jaar later in dieselfde stad gevolg deur haar operadebuut, as Orfeo in Orfeo ed Euridice. Tydens die Salzburg Paasmusiekfees van 1973/4 het sy die rol van Erda in die Ring gesing, met verdere debute wat gevolg het in Parys (1976) en by die Metropolitan Opera (1981). Sy is naas opera bekend as konsertsangeres, veral in gewyde werke. Opnames: Bach se Magnificat; Handel se Messiah (in Mozart se Duitse verwerking); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Sanderling); Vivaldi se oratorium Juditha triumphans; en Sjostakowitsj se opera Dame Macbeth van Mtsensk.

Firkusny, Rudolf (1912-94), Tsjeggies-gebore pianis en komponis. As agtjarige het sy debuut in Praag plaasgevind, en daarna was hy ‘n leerling van die komponiste Janácek, Schnabel en Suk. Hy het debute in Londen en New York in 1933 en 1938 onderskeidelik gemaak. Vervolgens het hy hom in 1940 in die VSA gevestig en ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het wêreldwyd getoer en in 1957 by die Salzburg-fees gedebuteer. Sy roem het gelê in sy meesterlike vertolkings van Tsjeggiese musiek, veral dié van Janácek. Die eerste uitvoerings van Martinu se derde (1949) en vierde (1956) klavierkonserte, asook die klavierkonserte van Menotti (1945) en Hanson (1948) is deur hom gegee. Met sy aristokratiese spel het hy tot in sy tagtigs nog opnames gemaak. Daarby het hy onderrig gegee aan die Berkshire Musieksentrum en die Juilliard Musiekskool. Sleutelopnames: Dvorák se klavierkonsert (onder Neumann), en klavierkwintette opus 5 en opus 81 (met die Ridge Kwartet); Janácek se Capriccio en Concertino (beide onder Neumann); Martinu se klavierkonserte nrs. 2-4 (onder Pesek). Verdere opnames: Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling; en solowerke van Debussy, Janácek, Martinu, Schubert en Smetana.

Fischer, Adam (1949-), Hongaarse dirigent. Nadat hy in 1973 die Guido Cantelli-dirigeerkompetisie gewen het, was hy ‘n dirigent by die Finse Nasionale Opera (1974-7). Dit is gevolg deur dirigeerposte by die operahuise in Karlsruhe (1977/8), Freiburg (1981-3) en Kassel (sedert 1987). Hy het gedebuteer by die Salzburg-fees (1980), die Parys Opera (1984) en Covent Garden (1989), en daarby is hy musiekdirekteur van die Haydn-fees in Eisenstadt. ‘n Besondere prestasie is dat hy slegs die tweede dirigent geword het (na sy landgenoot Doráti) om die volledige simfonieë van Haydn op te neem. Dit is vanaf 1987 tot 2001 gedoen in die Haydnsaal van die Esterházy-paleis, met ‘n orkes (die Oostenryks-Hongaarse Haydn-orkes) wat saamgestel is uit spelers van die Boedapest Feesorkes en die Weense Filharmoniese Orkes. Hul spel in die siklus opnames word gekenmerk deur warmte en elegansie. Tydens die Bayreuth-fees van 2001 het hy as plaasvervanger vir die afgestorwe Giuseppe Sinopoli die Ring-siklus gedirigeer, in vertolkings wat hoë lof ingeoes het. Opnames: Bartók se Konsert vir Orkes en Die Wonderbaarlike Mandaryn suite; en die operas Bloubaard se Kasteel, Die Königin von Saba en Il barbiere di Siviglia (dié van Paisiello). Broer van Iván.

Fischer, Annie (1914-95), Hongaarse pianis. Sy het as jong kind met studies wat nege jaar sou duur (1923-32) aan die Koninklike Musiekakademie in Boedapest begin. In 1925 het sy ook aan die Liszt-Akademie onder Arnold Székely en Ernö Dohnányi studeer, en in dieselfde jaar is haar konsertdebuut met Beethoven se eerste klavierkonsert gemaak. Sy het in 1926 Schumann se klavierkonsert in Zürich gespeel, en in beide 1929 en 1930 die Liszt-prys van die Hongaarse regering ontvang. Haar Parys-debuut het in 1930 gevolg. In 1933 het sy as die jongste onder honderd deelnemers die internasionale Liszt-kompetisie in Boedapest gewen, waarna haar internasionale loopbaan in alle erns begin het. Vanaf 1941 het sy vir vyf jaar in Swede gewoon en opgetree, waarna sy na na haar geboorteland teruggekeer het. In 1949, 1955 en 1965 het sy die Kossuth-prys, Hongarye se hoogste kulturele toekenning, ontvang. Sy het in 1961 gedebuteer by die Edinburgh-fees en in die VSA, in laasgenoemde geval met die Cleveland Orkes onder Szell, en drie jaar later ook by die Salzburg-fees.

In 1974 is Fischer deur die Hongaarse regering as Kunstenaar van Verdienste vereer, en in 1976/7 het sy die volledige klaviersonates van Beethoven in die Hongaarse hoofstad uitgevoer. Sy het in 1977 begin om dié werke op te neem, 'n projek wat danksy haar afkeer in ateljee-opnames nie minder nie as agtien jaar (tot kort voor haar dood) sou duur. Haar debuut in Boston is in 1982 gemaak, en in 1995 het sy op 80-jarige leeftyd haar laaste uitvoering in Londen gegee. Met haar diepsinnige, intense spel was sy een van die grootste pianiste van die twintigste eeu, waardeur sy die bewondering van groot musici soos die dirigent Otto Klemperer en haar pianis-landgenoot András Schiff afgedwing het. Sleutelopnames: Mozart se klavierkonserte nrs. 21 en 22 (onder Sawallisch, 1959). Verdere opnames: Bartók se derde klavierkonsert; Mozart se klavierkonserte nrs. 20, 23, 24 en 27; en solowerke van Bartók, Brahms, Dohnányi, Liszt, Schubert en Schumann.

Fischer, Edwin (1886-1960), Switserse pianis en dirigent. Ná studies in Basel en Berlyn was hy vanaf 1905 tot 1914 ‘n bekende leermeester aan die Stern Konserwatorium in die Duitse hoofstad. Later het hy dirigeerposte beklee in Lübeck (1926-8) en München (1928-32). In 1931 het hy Artur Schnabel by die Berlynse Konserwatorium opgevolg en in die jaar daarop het hy ‘n kamerorkes gestig. Hy het sy ensemble vanaf die klavier gedirigeer, een van die eerste musici om hierdie agtiende-eeuse praktyk te herleef. Vanaf 1933 tot 1936 het hy die 48 Preludes en Fugas van Bach opgeneem – die eerste pianis om die projek te onderneem. Die siklus word steeds deur sommige kenners as ongeëwenaard beskou, gekenmerk deur ‘n diepe beskeidenheid voor grootse kuns. Verder het hy wyd as solis getoer, met ‘n debuut wat in 1938 by die Salzburg-fees gemaak is. Hy was wêreldbekend vir sy intelligente, poëtiese vertolkings van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium. Sy 1951-opname van Beethoven se vyfde klavierkonsert onder Wilhelm Furtwängler word steeds as een van die beste weergawes van die werk beskou. Daarbenewens het hy in die vroeë 1950’s as klavierbegeleier vir die beroemde sopraan Elisabeth Schwarzkopf in haar opnames van Schubert-liedere gedien. Hy het ‘n boek oor Beethoven se klaviersonates geskryf. Verdere opnames: klaviersonates van Beethoven; Brahms se klavierkonsert nr. 2 (onder Furtwängler); Furtwängler se Simfoniese Konsert (onder die komponis); solowerke van Handel; Mozart se klavierkonserte nrs. 22 en 24; en Schubert se Moments musicaux.

Fischer, György (1935-), Hongaarse pianis en dirigent. Hy was ‘n assistent vir Herbert von Karajan by die Weense Staatsopera, waarna hy opera gedirigeer het in Keulen, München en Suid-Amerika. Sy Britse debuut het in 1973 by die Walliese Nasionale Opera plaasgevind met Die Zauberflöte. Tydens sy Londense debuut ses jaar later by die Camden-fees het hy as Mozart-spesialis die Britse première van Mitridate, ré di Ponto gedirigeer. Verdere debute het gevolg by die Wexford-fees (1984) en die Australiese Opera (1987). In die vroeë 1990’s het hy met die Weense Kamerorkes die mezzosopraan Cecilia Bartoli in hoogstaande opnames van Mozart-arias begelei. As pianis en orrelis het hy in ‘n opname van Mozart se Vrymesselaarsmusiek onder sy landgenoot István Kertész opgetree. Daarby het hy as klavierbegeleier vir bekende sangers soos Lucia Popp en ook Bartoli gedien.

Fischer, Iván (1951-), Hongaarse dirigent. Hy het in Boedapest, Wenen, Milaan en Florence opgetree, voordat hy in 1976 die Rupert Stigting se kompetisie in Engeland gewen het. In die jaar daarop het sy operadebuut in Zürich met ‘n opvoering van Don Giovanni plaasgevind. Vanaf 1979 was hy vir drie jaar mede-musiekdirekteur van die Noordelike Sinfonia, met Britse operadebute wat gemaak is in Kent (1982) en Manchester (1983). In 1983 het hy die Boedapest Feesorkes gestig, waarvan hy sedertdien die musiekdirekteur is. Hulle het ‘n hele aantal hoogaangeskrewe opnames tot hul krediet, waaronder Mahler se tweede simfonie wat in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon is. Hy was vanaf 1984 ook musiekdirekteur en later artistieke direkteur van die Kent Opera, totdat die geselskap in 1990 gelikwideer is. Intussen het hy gedebuteer by die Engelse Nasionale Opera (1987) en die Weense Staatsopera (1988). Vanaf 2000 was hy vir drie jaar musiekdirekteur van die Lyon Opera. Hy het in 2010 die Concertgebouw Orkes in Amsterdam in ‘n uitvoering van Mahler se vierde simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Sleutelopnames: Bartók se Konsert vir orkes; Dvorák se simfonieë nrs. 8 en 9, en sy Legends, Miniatures, Notturno en Praag-walse; Kodály se 2 stelle Danse. Verdere opnames: Bartók se Die Wonderbaarlike Mandaryn en Roemeense Volksdanse; Brahms se volledige Hongaarse Danse; Dvorák se volledige Slawoniese Danse; Liszt se Faust simfonie; Mahler se simfonieë nrs. 1, 2 en 4; en Rachmaninof se tweede simfonie. Broer van Adam.

Fischer, Julia (1983-), Duitse violis. Sy het as driejarige met vioollesse onder Helge Thelen begin en enkele maande later ook met klavierlesse onder haar moeder Viera, wat in 1972 van Slowakye na München verhuis het. Formele studies in viool het aan die Leopold Mozart Konserwatorium in Augsburg gevolg, en vanaf nege jaar studeer sy aan die musiekakademie in die Beierse hoofstad. Sy het in 1995 die internasionale Yehudi Menuhin-vioolkompetisie onder die beroemde musikus se toesig gewen, en in die jaar daarop ook die Eurovisie-kompetisie vir jong instrumentaliste in Lissabon. Sedertdien tree sy wêreldwyd met bekende dirigente en orkeste op. Haar opname van 3 Russiese vioolkonserte onder Jakow Kreizberg het in 2005 ‘n Echo klassieke prys verower. Met die 250ste herdenking van Mozart se geboorte in 2006 het sy die voorreg gehad om sy viool te speel in die kamer in Salzburg waar hy gebore is. Sy bespeel ‘n Guadagnini-viool van 1750, met ‘n repertorium wat strek vanaf Bach tot by Sjostakowitsj. Reeds in die eerste dekade van haar jong loopbaan het sy 8 kompetisies gewen: 5 vir viool en 3 vir klavier. Sy is in 2007 as Gramophone se Kunstenaar van die Jaar vereer. Sleutelopname: Vivaldi se Vier Seisoene (onder Kenneth Sillito, op DVD). Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas; en vioolkonserte van Glazoenof, Khatsjatoerian en Prokofiëf (nr. 1).

Fischer, Thierry (1957-), Switserse fluitspeler en dirigent. Nadat hy fluit onder sy landgenoot Aurèle Nicolet studeer het, het hy eerste fluitspeler geword in Hamburg en by die Zürich Opera. By laasgenoemde het hy bladmusiek met die gevierde dirigent Nikolaus Harnoncourt studeer. Sy dirigeerdebuut is gemaak met die Kamerorkes van Europa, waarin hy tevore eerste fluitspeler onder Claudio Abbado was. Vanaf 1997 tot 2001 was hy hoofdirigent van die Nederlandse Balletorkes. Hy was vanaf 2001 vir vyf jaar hoofdirigent van die Ulster Orkes in Belfast, met wie hy ‘n aantal werke van Jean Francaix opgeneem het. Sedert 2006 is hy hoofdirigent van die BBC Nasionale Orkes van Wallis, wat hy in 2011 by die Londense Proms gelei het. Hy was ook vanaf 2008 tot 2011 hoofdirigent van die Nagoya Filharmoniese Orkes in Japan. Daarby is hy sedert 2009 musiekdirekteur van die Utah Simfonie-orkes. Sleutelopname: Francaix se Les Bosquets de Cythere en Les Malheurs de Sophie. Verdere opnames: Francaix se derde simfonie, en ballette Les Demoiselles de la nuit en Le Roi nu; Janácek se Mladi en Rikadla; en Mozart se eerste fluitkonsert (as beide solis en dirigent).

Fischer-Dieskau, Dietrich (1925-2012), Duitse bariton. As kind van ouers wat beide akademici was, het hy vroeg reeds klavierlesse ontvang. ‘n Goeie aanduiding van die gesin se kulturele vlak is te vinde in die feit dat die seun dramas van Goethe en Schiller in hul eie marionette-teater opgevoer het. Op sestien het hy musiek in sy tuisstad Berlyn onder Hermann Weissenborn begin studeer. Aanvanklik het hy in kantates van Bach gesing, maar sy eerste voordrag van Schubert se Winterreise (op 17) is deur ‘n Geallieerde bomaanval onderbreek. Sy gestremde broer is deur die Nasionaal-Sosialiste weggeneem en as deel van hul genadedood-program van sy lewe ontneem. Hy is in 1943 vir leërdiens in die Tweede Wêreldoorlog opgeroep, waarop hy vir twee jaar perde aan die Oosfront opgepas het. In die laaste maande van die oorlog het hy in Italië diens gedoen, waar hy deur die Amerikaners gevange geneem is. Vanaf 1945 was hy vir twee jaar ‘n krygsgevangene, waartydens hy in Geallieerde kampe liedere-voordragte gegee het. Ná sy vrylating in 1947 het hy in Berlyn onder George Walter studeer. Sy debuut as solis is later in dieselfde jaar in ‘n uitvoering van Brahms se Ein deutsches Requiem gemaak, sonder dat hy enige kans op inoefening gehad het. Hy het in 1948 sy operadebuut by die Berlynse Staatsopera as Posa in Don Carlos gemaak. In 1949 is hy getroud met die tjellis Irmgard Poppen, by wie hy drie seuns sou hê. Vanaf dieselfde jaar het hy in Wenen gesing en in 1951 is sy Londense debuut gemaak in Delius se A Mass of Life onder Thomas Beecham. Nog debute is gemaak by die Salzburg-fees (1951) en in New York (1955), en vanaf 1952 het hy dikwels by die Edinburgh-fees verskyn. Baie van sy vroeë opnames is deur die gevierde regisseur Walter Legge onderneem, met wie se sopraan-vrou Elisabeth Schwarzkopf hy dikwels opgetree het. Vanaf 1954 tot 1956 het hy by die Bayreuth-fees verskyn in rolle soos die Herout in Lohengrin, Wolfram in Tannhäuser en Amfortas in Parsifal. Hy het verder gedebuteer by die Weense Staatsopera (1957) en Covent Garden (1965), in laasgenoemde geval as Mandryka in Arabella.

Met sy intelligente vertolkings, aristokratiese voorkoms en presiese uitspraak het Fischer-Dieskau in talle operarolle oor ‘n wye repertorium uitgeblink. Daaronder tel naas die genoemde rolle Geronimo in Il matrimonio segreto, Mittenhofer in Elegie für junge Liebende, Kinderschreck in Die beiden Pädagogen, Kauz in Die Heimkehr aus der Fremde, Don Pippo in L'Oca del Cairo, die Graaf in Le nozze di Figaro, Papageno in Die Zauberflöte, Borromeo in Palestrina, Jokanaan in Salome, Germont in La Traviata, Gunther in Götterdämmerung, Telramund in Lohengrin, Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg, Wotan in die Ring-siklus, Wolfram in Tannhäuser, Kurwenal in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Doktor Faust, Mathis der Maler, Don Giovanni, Falstaff, Macbeth en Wozzeck. Onder die premières waarin hy verskyn het, tel Henze se Elegie fur junge Liebende (1961), Tippett se The Vision of Saint Augustine (1966) en Reimann se Lear (1978). Daarby het hy as solis gesing in die première van Britten se War Requiem tydens die inwyding van die herboude Coventry-katedraal in 1962. Hy was ‘n goeie vriend van die Britse komponis, wat later ook liedere vir hom geskryf het, insluitend toonsettings van William Blake. In 1971 het hy die eerste Duitse musikant geword om in Israel op te tree. Hy het ‘n stewige vertoning gelewer as die Graaf in Jean-Pierre Ponnelle se filmweergawe van Le nozze di Figaro (1976).

Naas sy operaloopbaan het Fischer-Dieskau vanaf die vroeë 1950’s as die wêreld se voorste sanger van Duitse liedere bekend geraak. Sy onberispelike asembeheer, subtiele ritmiese sin en sensitiewe toonkleuring van die teks het hom besonder wel in dié verband gedien. Hy het die eerste sanger geword om die bykans volledige liedere van Beethoven, Brahms, Mendelssohn, Schubert, Schumann, Richard Strauss, Weber en Wolf op te neem. Dit het meegebring dat hy die klassieke sanger met die meeste opnames agter sy naam nóg geword het. In vennootskap met die gevierde begeleier Gerald Moore het hy vanaf 1951 tot 1965 talle Schubert-liedere vir die platemaatskappy EMI opgeneem. Dit was slegs die inleiding tot hul produktiewe verbintenis in Schubert. Saam sou hulle in die laat 1960’s vir Deutsche Gramophon die musiekreus se volledige liedere vir manstem opneem, behalwe die drie groot siklusse wat in 1971/2 gevolg het. Verder was hy uitmuntend in Bach se gewyde musiek, onder meer as Jesus in die Sint Mattheüspassie, en in Mahler se orkesliedere. Vanaf 1973 het hy soms gedirigeer en in 1992 is sy laaste sangvoordrag in München gegee. Daarbenewens het hy ‘n hele antal boeke geskryf, onder meer oor Schubert, Schumann en Wagner. ‘n Engelse vertaling van sy memoirs is in 1989 uitgegee. Asof al hierdie aktiwiteite nie genoeg was nie, het hy ook geskilder. Hy was tot sy afsterwe getroud met die sopraan Julia Varady, sy vierde vrou, wat hy as dirigent in ‘n voortreflike opname van Wagner se Wesendonck Lieder begelei het. Sy kleinseun Martin Fischer-Dieskau is ook ‘n dirigent, met ‘n hoogstaande opname van orkeswerke deur Humperdinck tot sy krediet.

Sleutelopnames: Dvorák se 6 Bybelse Liedere (begelei deur Jörg Demus); Mahler se Des Knaben Wunderhorn (onder Szell, 1968); Schubert se liedere-siklusse Die schöne Müllerin, Schwanengesang en Winterrreise (almal met Gerald Moore, 1971-2), nogeens Winterreise (met Jörg Demus, 1960’s), en verdere versamelings van sy liedere (met Moore, 1950’s en 1969-70; en met Swiatoslaf Richter, 1977); ‘n versameling Schumann-liedere, insluitend Dichterliebe en Liederkreis (met Christoph Eschenbach, 1974-6); Wolf se Italienisches Liederbuch en Spanisches Liederbuch (met Moore). Verdere opnames: liedere van C.P.E. Bach, Barber, Berg, Henze, Loewe, Reutter, Schoeck en Spohr; Bach se Kantates nrs. 56 en 92 (onder Richter), en Sint Mattheuspassie (onder Klemperer); Beethoven se negende simfonie (onder Fricsay); Brahms se Ein deutsches Requiem (1951 onder Furtwängler en 1955 onder Kempe); Britten se War Requiem; Debussy se 3 Ballades de Francois Villon; Fauré se Requiem (onder Barenboim); Hartmann se Gesangszene; Haydn se oratorium Die Schöpfung (onder Karajan) en Die Seisoene (onder Marriner); Henze se Das Floss der Medusa; Mahler se agste simfonie (onder Kubelik), Das Lied von der Erde (onder beide Bernstein en Kletzki), Kindertotenlieder, Lieder eines fahrenden Gesellen (in 1951 en 1952, beide onder Furtwängler) en Rückert Lieder; klavierweergawes van Mahler se Des Knaben Wunderhorn, Lieder eines fahrenden Gesellen, Rückert Lieder en Lieder und Gesänge 1-14 (almal met Barenboim as begeleier, 1978); Martin se Everyman Monologues; Orff se Carmina Burana; Schubert se oratorium Lazarus en ander kerkmusiek (onder Sawallisch), en Winterreise (met Alfred Brendel); Schumann se Requiem (onder Klee) en Szenen aus Goethes Faust (in die titelrol, onder Britten); Sjostakowitsj se veertiende simfonie (onder Haitink); Zemlinsky se Liriese simfonie; die genoemde operas van Busoni, Cimarosa, Henze, Hindemith, Mendelssohn, Mozart, Pfitzner, Strauss, Verdi en Wagner, asook Cardillac, Alfonso und Estrella, Olympie, Capriccio, Intermezzo en Der Corregidor; en ‘n versameling Handel-arias.

Fisher, Gillian (1950-), Engelse sopraan. Na studies aan die Koninklike Musiekkollege in Londen het sy ‘n konsertloopbaan begin volg, wat haar wêreldwyd sou neem. Met haar helder stem het sy bekendheid verwerf in vroeë musiek en tree sy met bekende Britse ensembles daarin op. Sy het byvoorbeeld as solis gesing in uitvoerings van Handel se Messiah in Japan (in 1987 onder Ton Koopman) en tydens ‘n wêreldtoer met The Sixteen in 1992. Onder haar operarolle tel Papagena in Die Zauberflöte. Sleutelopname: Handel se kantate Aminta e Filide (onder Darlow). Verdere opnames: Delalande se Miserere; Handel se kantates Amarilli vezzosa, Clori en O come chiare e belle, en sy oratorium The Triumph of Time and Truth; Pergolesi se Stabat Mater en Salve Regina.

Fisher, Sylvia (1910-96), Australiese sopraan. Sy het in 1932 in Melbourne gedebuteer en vanaf 1948 by Covent Garden gesing. By dié operahuis sou sy vir die volgende tien jaar die voorste sopraan in Duitse rolle soos Brünnhilde en Sieglinde in die Ring, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, en die Marschallin in Der Rosenkavalier wees. In 1956 het sy die rol van Kostelnicka in die Britse première van Jenufa gesing, en drie jaar later het sy in Chicago gedebuteer. Vanaf 1963 tot 1971 het sy met die Engelse Operagroep en by Sadler's Wells opgetree, veral in Britten se operas. Só het sy in 1966 die rol van Elizabeth I in Gloriana gesing, en later sou sy die rol van Miss Wingrave tydens die premières van Owen Wingrave skep (in 1971 op TV en in 1973 by Covent Garden). Sy het in uitstekende opnames van Owen Wingrave en Albert Herring (as Lady Billows) gesing, beide onder Britten self.

Fistoulari, Anatole (1907-95), Russies-gebore dirigent. As wonderkind het hy reeds op sewejarige ouderdom Tsjaikofski se sesde simfonie in Kiëf gedirigeer. Later het hy dikwels in Brittanje en die VSA opgetree, onder andere in 1943/4 met die Londense Filharmoniese Orkes. In 1948 het hy 'n Britse burger geword. Hy was een van die voorste ballet-dirigente van die twintigste eeu. Opnames: die ballette Giselle (Adam), Sylvia (Delibes) en Ballet égyptien (Luigini); en ander orkeswerke van Berlioz, Gliére en Tsjaikofski.

Fitelberg, Grzegorz (1879-1953), Poolse violis, dirigent en komponis. In 1905 het hy met die komponis Karol Szymanowski en ander landgenote in Berlyn die groep Jong Pole gestig. Hy was dirigent van die Warskou Filharmoniese Orkes (1907 en weer 1923-34), die Weense Opera (1911-4), en in Petrograd (tans Sint Petersburg) en Moskou (1914-20). In 1934 het hy die Poolse Radio Simfonie-orkes gestig en hulle tot 1939 gedirigeer. Hul verbintenis is deur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog onderbreek, maar in 1947 is dit hervat. Hy het in 1946 met die Londense Filharmoniese Orkes ‘n kleurryke opname van Borodin se Polowtsiese Danse gemaak.

Flagstad, Kirsten (1895-1962), Noorse sopraan. Sy het in Oslo en Stockholm studeer, en as agtienjarige is haar operadebuut by die Oslo Nasionale Teater as Nuri in d’Albert se Tiefland gemaak. Daarna het sy by die Göteburg Opera in Swede en elders in Skandinawië gesing, in liriese rolle soos Marguerite in Faust, Minnie in La fanciulla del West, Desdemona in Otello en Agathe in Der Freischütz. Met haar troue in 1930 het sy tydelik uitgetree, totdat positiewe berigte oor haar eerste optrede in die vroulike hoofrol van Tristan und Isolde, in 1932 in Oslo, gelei het tot klein rolle by die Bayreuth-fees in die jaar daarop. In 1934 het sy die rolle van Gutrune in Götterdämmerung en Sieglinde in Die Walküre by Bayreuth gesing, met verdere debute wat gevolg het by die Metropolitan Opera (in 1935 as Sieglinde) en by Covent Garden (in 1936 as Isolde). By die Met sou sy tot 1941 dikwels met die legendariese heldentenor Lauritz Melchior in Wagner-operas optree, in vertolkings wat allerweë as ongeëwenaard beskou word. In 1941 het sy te midde van die Tweede Wêreldoorlog na haar geboorteland teruggekeer om by haar man te wees en optredes te maak, waarvoor sy ná die oorlog deur die Geallieerdes van Nazi-samewerking beskuldig is. Sy is onskuldig bevind en het weer vanaf 1947 in die VSA gesing, maar is in 1951 nietemin met vyandigheid by die Met begroet.

Vanaf 1948 tot 1951 het Flagstad opnuut Wagner-rolle by Covent Garden gesing. Haar debuut by die Salzburg-fees is in 1949 in Fidelio gemaak. In die jaar daarop het sy in Londen onder die dirigeerstaf van Wilhelm Furtwängler die eerste uitvoering van Richard Strauss se Vier letzte Lieder gegee. By La Scala was sy ‘n beroemde Brünnhilde in die Ring, met ‘n historiese 1950-opname onder Furtwängler wat daarvan getuig. Ironies genoeg het sy nooit dié rol óf Isolde by Bayreuth gesing nie. In 1951 het sy haar laaste optrede as Isolde in Liverpool gemaak. Sy het in 1952 uitgeblink as Dido in ‘n opname van Dido and Aeneas onder Geraint Jones. Haar afskeidsoptrede het in 1953 by Covent Garden plaasgevind, nogeens as Dido. Met haar ryk, warm en ferm stem was sy vanaf die vroeë 1930’s tot haar uittrede in 1953 die voorste sopraan ter wêreld in die dramatiese rolle van Wagner, veral as Brünnhilde en Isolde. Talle kenners beskou haar as die grootste vertolker nóg van hierdie veeleisende rolle. Sy het ook uitgeblink as Leonore in Fidelio, Kundry in Parsifal en Fricka in Das Rheingold.

Ná haar uittrede uit opera het Flagstad voortgegaan om liedere-voordragte in Noorweë te gee. As liedere-sangeres was sy veral briljant in die musiek van haar landgenoot Grieg, wie se Haugtussa-siklus sy altesaam drie keer opgeneem het. Dit was in 1940, 1950 en 1956, telkens met haar getroue vriend en medewerker Edwin McArthur as klavierbegeleier. Teen die einde van haar lewe (1958-60) was sy direkteur van die Noorse Staatsopera. Sleutelopname: Wagner se Wesendonk Lieder (onder Furtwängler). Verdere opnames: Mahler se Kindertotenlieder en Lieder eines fahrenden Gesellen (onder Adrian Boult); Wagner se Wesendonk Lieder (onder Knappertsbusch); die genoemde operas van Beethoven en Wagner; ‘n versameling arias en duette uit Wagner-operas wat in 1939/40 met Melchior gemaak is; die eerste bedryf uit Die Walküre (onder Knappertsbusch, 1958); en die slottoneel uit Götterdämmerung (in 1948 en 1952 in Londen, beide onder Furtwängler).

Fleisher, Leon (1928-), Amerikaanse pianis en dirigent. As sewejarige het hy sy debuut gemaak, en later het hy begin speel in San Francisco (1942) en New York (1944). Hy het in 1952 die Koningin Elizabeth-kompetisie in Brussels gewen. Met sy intellektuele dog gevoelvolle vertolkings is hy as een van die groot pianiste van sy tyd beskou. Teen die vroeë 1960’s het hy egter sy arms ooreis met oefeninge, sodat hy in 1964 die gebruik van sy regterhand verloor het. Veel later is dit as ‘n senu-aandoening genaamd distonia gediagnoseer. Daarna het hy in konserte vir die linkerhand (onder andere dié van Britten, Prokofiëf en Ravel) gespeel en aan die Peabody Konserwatorium in Baltimore onderrig gegee. Hy het in 1970 ook begin dirigeer, en was ‘n dirigent van die Baltimore Simfonie-orkes (1973-8). Vanaf 1985 was hy vir langer as ‘n dekade artistieke direkteur van die Tanglewood Musieksentrum. In sy sewentigs het hy begin om ‘n radikale terapie met Botox te ondergaan, wat sy opmekaargetrekte vingers laat ontspan het. Dit het meegebring dat hy in 2004 sy loopbaan as pianis met beide hande kon hervat, ingelui deur ‘n opname getiteld Two Hands met solowerke van Chopin, Debussy, Scarlatti en Schubert. Verdere opnames: Beethoven se volledige klavierkonserte; die genoemde werke vir die linkerhand; ‘n aantal klavierkonserte van Mozart en die een van Schumann.

Fleming, Renée (1959-), Amerikaanse sopraan. Beide haar ouers was sangafrigters, sodat sy vanaf vroeë leeftyd sanglesse van hulle ontvang het. Terwyl sy later in New York studeer het, het sy in ‘n jazz-trio in ‘n kroeg gesing. Daarna het sy aan die Eastman Musiekskool en die Juilliard Musiekskool studeer, en in 1988 het sy die Metropolitan Opera se nasionale oudisies gewen. Verdere prestasies het gevolg, waaronder die Richard Tucker- en George London-pryse, ‘n internasionale sangkompetisie in België, en ‘n Fulbright-beurs om in Duitsland te studeer. Haar professionele debuut is ook in 1988 gemaak, toe sy die Grafin in Le nozze di Figaro in Houston gesing het. Daarna het sy gedebuteer by die New York Stadsopera en Covent Garden (beide in 1989), en die Metropolitan Opera (1991). Sedertdien tree sy dikwels by die Met op, en in ander bekende operahuise soos die Bastille Opera in Parys, Chicago en San Francisco. Met haar suiwer liriese stem in ‘n wye register, musikale intelligensie en aantreklike voorkoms is sy een van die gewildste sangeresse van haar tyd in beide opera en konserte. Onder die verdere rolle waarin sy uitblink, tel die titelrolle in Alcina, Louise, Manon, Rusalka en Thaïs, Donna Anna in Don Giovanni, Fiordiligi in Cosi fan tutte, die Marschallin in Der Rosenkavalier, Tatjana in Jewgeni Onegin en Desdemona in Otello. As kampvegter vir nuwe werke het sy in die premières van Corigliano se The Ghosts of Versailles en Previn se A Streetcar named Desire verskyn, beide met die San Francisco Opera. Sy het ook in die klankbaan van die rolprent A Midsummer Night’s Dream gesing. Verdere opnames: Mendelssohn se oratorium Elijah; Rachmaninof se kantate Die Klokke (onder Shaw); Richard Strauss se Vier letzte Lieder en nog 5 orkesliedere (almal onder Eschenbach); Verdi se Requiem (onder Gergijef); die operas Rusalka, Manon, Thaïs, Le nozze di Figaro, A Streetcar named Desire en Otello; ‘n versameling Mozart-arias (onder Mackerras); ‘n versameling arias uit Rosmonda d’Inghilterra (onder Parry); en ‘n versameling arias deur Amerikaanse komponiste.

Flesch, Carl (1873-1944), Hongaarse violis. Hy het in Wenen en Parys studeer, en in 1895 is sy debuut in die Oostenrykse hoofstad gemaak. As solis het hy wyd getoer, en daarbenewens het hy onderrig gegee aan die Boekarest Konserwatorium (1897-1902), die Amsterdamse Konserwatorium (1903-8), die Curtis Instituut in Philadelphia (1924-8) en die Berlynse Konserwatorium (1929-34). Later het hy in Londen en Nederland gewoon, en in 1943 het hy hom in Luzern gevestig. Hy het ‘n invloedryke boek oor vioolspel geskryf.

Flor, Claus Peter (1953-), Duitse dirigent. Hy het dirigeerkompetisies in Pole en Denemarke gewen, en was vanaf 1981 vir drie jaar hoofdirigent van die Suhler Filharmoniese Orkes. Sedert 1985 is hy musiekdirekteur van die Berlynse Simfonie-orkes, en in dieselfde jaar is sy Amerikaanse debuut met die Los Angeles Filharmoniese Orkes gemaak. Hy is verder hoofgasdirigent van die Dallas Simfonie-orkes en die Giuseppe Verdi Simfonie-orkes in Milaan. Sleutelopname: 6 Mendelssohn-ouvertures (Bamberg Simfonie-orkes). Verdere opnames: Bruch se oratorium Moses; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Prokofiëf se ballet Romeo en Juliet; en Zemlinsky se Liriese Simfonie.

Florestan Trio, Engelse klaviertrio wat in 1995 deur Susan Tomes, Anthony Marwood en Richard Lester gestig is. In 2000 het hul die Koninklike Filharmoniese Vereniging se toekenning vir kamermusiek ontvang. Hulle word as een van die beste klaviertrios ter wêreld beskou, soos hul hoogaangeskrewe opnames kan getuig. Die trio toer wêreldwyd, met ‘n Amerikaanse debuut wat in 2002 gemaak is. Naas kamermusiek speel hul dikwels in Beethoven se Driedubbele konsert. ‘n Aantal werke is vir die trio geskryf, en hulle het die Europese première van Weir se klaviertrio gegee. Die lede van die ensemble is residensiële kunstenaars by die Guildhall Musiekskool. Sleutelopnames: Beethoven se volledige klaviertrios; Brahms se 3 klaviertrios; Ravel se klaviertrio; Schubert se 2 klaviertrios. Verdere opnames: Haydn se klaviertrios nrs. 28-31; Debussy en Fauré se enkele klaviertrios.

Flórez, Juan Diego (1973-), Peruwiaanse tenoor. Sy vader was ‘n bekende kitaarspeler en sanger van Peruwiaanse volksmusiek in sy geboortestad Lima. As seun moes hy soms in sy moeder se kroeg sing wanneer die gewerfde sangers onwel was. Op 17 het hy aan die Nasionale Konserwatorium in die Peruwiaanse hoofstad begin studeer. Hy het tydens sy studentejare in die Peruwiaanse Nasionale Koor gesing, en as solis in uitvoerings van gewyde werke van Mozart en Rossini met hul verskyn. In 1993 is hy met ‘n beurs na die Curtis Instituut in Philadelphia vir verdere studies wat drie jaar sou duur. Daar het hy in studente-opvoerings van operas deur Bellini, Donizetti en Rossini gesing, ‘n repertorium wat sy spesialiteit sou word. Hy het in dié tyd ook in Santa Barbara onder die gevierde Rossini-sangeres Marilyn Horne studeer. Sy deurbraak is in 1996 by die Rossini-fees gemaak toe hy vir ‘n olike Bruce Ford in ‘n opvoering van Matilde di Shabran moes instaan. Hy het daarop gedebuteer by La Scala (1996), Covent Garden (1997), die Weense Staatsopera (1999) en die Metropolitan Opera (2002). Laasgenoemde twee was as Graaf Almaviva in Il barbiere di Siviglia. Met sy ligte, liriese stem wat oor twee oktawe strek, behendige sang en onberispelike asembeheer word hy beskou as een van die grootste koloratuurtenore nog, indien nie die beste nie. In 2007 is Peru se hoogste eerbewys aan hom toegeken. Sleutelopname: Rossini se opera Le Comte Ory (as die Graaf, Pesaro 2003). Verdere opnames: ‘n versameling Rossini-arias (onder Chailly).

Focile, Nuccia (1961-), Italiaanse sopraan. Sy het aan die Turynse Konserwatorium studeer, en sing sedertdien in opera, konserte en liedere. Haar debuut by die Metropolitan Opera is in 1995 as Mimi in La Bohème gemaak. Onder haar beste rolle tel Zerlina in Don Giovanni, Susanna in Le nozze di Figaro en Giovanna in La Prigione di Edimburgo. Opnames: die genoemde operas van Mozart en Ricci, asook L’assedio di Calais en Cosi fan tutte; Pergolesi se Lo frate ‘nnamorato (onder Muti); en ‘n versameling liedere en arias van Puccini.

Foldes, Andor (1913-92), Hongaars-gebore pianis en komponis. Hy was as agtjarige ‘n solis met die Boedapest Filharmoniese Orkes in 'n klavierkonsert van Mozart. Daarna het hy onder die pianis- komponis Dohnányi studeer en in 1933 die Liszt-kompetisie gewen. Vir die volgende ses jaar het hy deur Europa getoer, waarna hy hom in die VSA gevestig het. Daar sou hy in 1948 ‘n Amerikaanse burger word, maar in 1950 het hy na Europa teruggekeer. Hy het in Duitsland en Switserland gewoon, en het die befaamde pianis Walter Gieseking as hoogleraar aan die Saarbrücken Konserwatorium opgevolg. Hy was ‘n gesaghebbende vertolker en medewerker van Bartók, en het as begeleier vir die violis Joseph Szigeti opgetree. 'n Boek oor klaviertegniek is deur hom geskryf.

Ford, Bruce (1956-), Amerikaanse tenoor. Sy debuut is in 1990 in Pesaro gemaak, en sedertdien sing hy by die voorste operahuise en musiekfeeste in Europa en die VSA. Met sy vokale behendigheid is hy veral bekend in Mozart en die bel canto repertorium, in rolle soos Ruggiero in Emma d’Antiochia, die Hertog in Francois di Foix, Almaviva in Le nozze di Figaro, Ferrando in Cosi fan tutte, die titelrol in Idomeneo, Uberto in La donna del Lago en Paolo in Maometto III. Onder David Parry het hy uitgeblink in opnames van versamelings arias deur Donizetti, Mercadante, Meyerbeer, Pacini en Rossini. Verdere opnames: die operas Le domino noir, Emma d’Antiochia, Francois di Foix en Idomeneo; en ‘n versameling liedere van Belgiojoso, Benedict, Costa, Czerny, Donizetti en Rossini, getiteld Il Salotto.

Forrester, Maureen (1930-2010), Kanadese alt. Sy het in 1953 haar debuut in Montreal gemaak en twee jaar later het sy deur Europa getoer. In 1956 het haar Amerikaanse debuut in New York plaasgevind. Sy het in die jaar daarop as solis in ‘n opname van Mahler se tweede simfonie onder Bruno Walter gesing. Haar Londense debuut is in 1958 by die Proms gemaak, as solis in Verdi se Requiem. In 1961 het haar operadebuut in Toronto gevolg, as Orfeo in Orfeo ed Euridice. Sy was vanaf 1966 vir vyf jaar hoof van die sangdepartement aan die Philadelphia Musiekakademie. Verdere debute is gemaak in San Francisco (1967), by die Salzburg-fees (1968), Covent Garden (1971), die Metropolitan Opera (1975) en Parys (1981). In 1978 het sy solis met die Toronto Simfonie-orkes deur Sjina en Japan getoer. Met haar ryk stem was sy uitmuntend in die musiek van Mahler, en in Britse konsertwerke soos Elgar se The Dream of Gerontius. Sy was ‘n solis in Gilbert Kaplan se gevierde 1987-opname van Mahler se tweede simfonie, wat die topverkoper onder Mahler-opnames van alle tye sou word. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Fricsay); Delius se Songs of sunset; Handel se oratorium Theodora; Mahler se tweede simfonie (onder Mehta), derde simfonie (onder Van Beinum, Mehta en Haitink), en Das Lied von der Erde (onder Reiner); die genoemde opera van Gluck, asook Pique Dame (as die Grafin).

Forster, Karl (1904-63), Duitse dirigent en komponis. Hy het vanaf 1923 vir 5 jaar teologie en filosofie in Regensburg studeer, en is in 1928 tot Rooms-Katolieke priester gewy. Vanaf 1929 het hy kerkmusiek, komposisie en musiekwetenskap aan die Staatsakademie vir Skone Kunste en die Maximiliaan Universiteit in München studeer. Hy sou vanaf 1934 tot sy dood byna 3 dekades later koormeester van die Sint Hedwigskatedraal in Berlyn wees. In 1943 is die koor deur die Nazi-owerhede verbied om verder op te tree en is die Sint Hedwigskatedraal deur Geallieerde bomme vernietig. Die koor se eerste na-oorlogse optrede was in Julie 1945 in ‘n Berlynse radio-uitsending, en twee maande later is hul eerste a capella konsert gegee. Hul aktiwiteit is aansienlik bemoeilik deur die verdeling van die stad tussen die 4 Geallieerde besetters, en vanaf 1961 deur die Berlynse Muur. Daarby was hy direkteur van musiekstudies aan die Vrye en Tegniese Universiteit in Berlyn (1952-63) en direkteur van die musiekkollege aldaar. In 1953 is die Musiekprys van die Stad Berlyn aan hom toegeken, en in 1961 het hy en sy koor ‘n privaatkonsert vir Pous Johannes XXIII in die Vatikaan gegee. Onder hul opnames tel Bach se Kantates nrs. 158 en 203, en arias en kore uit Kantates nrs. 8, 13, 73, 123, 157 en 159, met die Berlynse Filharmoniese Orkes en die beroemde bariton Dietrich Fischer-Dieskau as solis (1958/60).

Foss, Lukas (1922-2009), Duits-gebore Amerikaanse pianis, dirigent en komponis. Hy het op ses jaar met klavierlesse in sy geboortestad Berlyn begin. Met die res van sy Joodse gesin (hul van was destyds Fuchs) is hy in 1933 na Parys, waar hy klavier, fluit, komposisie en orkestrasie studeer het. Hulle het in 1937 in die VSA gaan woon, waar hul van na Foss verander is. Hy het daar aan die Curtis Musiekinstituut in Philadelphia studeer, onder meer dirigeerkuns onder Fritz Reiner. By Curtis het sy lewenslange vriendskap met die dirigent Leonard Bernstein begin. Verdere studies is onderneem by die Berkshire Musieksentrum onder Sergei Koussewitzki en by die Yale Universiteit onder die komponis Hindemith. In 1942 het hy 'n Amerikaanse burger geword. Later was hy vanaf 1944 vir ses jaar pianis van die Boston Simfonie-orkes en daarna het hy in Rome gewerk (1950-2). Hy het in dié tyd in ‘n voortreflike opname van Hindemith se Die vier temperamente gespeel. Terug in die VSA het hy in 1953 die komponis Schoenberg opgevolg as hoogleraar in musiek aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. Voorts was hy musiekdirekteur van die Filharmoniese Orkeste in Buffalo (1963-70) en Brooklyn (1971-88). In dié tydperk was hy ook dirigent van die Jerusalem Simfonie-orkes (1972-5) en musiekdirekteur van die Milwaukee Simfonie-orkes (1981-6). Vanaf 1991 was hy 'n hoogleraar aan die Boston Universiteit. Hy het ‘n hele aantal operas, orkeswerke, vokale werke en kamermusiek gekomponeer.

Foster, Lawrence (1941-), Amerikaanse dirigent van Roemeense afkoms. Nadat hy sy debuut in 1960 met 'n orkes vir jong musici in Los Angeles gemaak het, het hy hulle vir vier jaar gedirigeer. Terselfdertyd was hy dirigent van die San Francisco Ballet (1962-5) en daarna assistent-dirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes (1965-8). Intussen het hy in 1966 die Koussewitzki-dirigeerprys by Tanglewood gewen, en in die jaar daarop het hy in Londen met die Engelse Kamerorkes gedebuteer. Hy het in 1967 met die Melos Ensemble die eerste opname van Birwistle se Tragoedia gemaak. Vanaf 1971 was hy vir sewe jaar dirigent van die Houston Simfonie-orkes, en in 1972 het hy die eerste uitvoering van Birwistle se The Triumph of Time gedirigeer. Sy debuut by Covent Garden het in 1976 plaasgevind met Troilus and Cressida, waarvan 'n voortreflike opname gemaak is. Voorts was hy hoofdirigent van die Monte Carlo Filharmoniese Orkes en Opera (vanaf 1979), algemene musiekdirekteur in Duisburg (1982-8), musiekdirekteur van die Lausanne Kamerorkes (1985-90) en dirigent van die Jerusalem Simfonie-orkes (sedert 1988). Hy is ‘n kampvegter vir die musiek van Enescu, met hoogstaande opnames van die komponis se simfonieë nrs. 1-3, twee Roemeense Rapsodieë en opera Oedipe tot sy krediet.

Fournet, Jean (1913-), Franse fluitspeler en dirigent. Hy het aanvanklik dirigeerposte beklee in Rouen (1938) en Marseilles (1940), en het daarna vir die Franse Radio gewerk. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die Opéra Comique in Parys (1944-57), en dirigent van die Nederlandse Radio-orkes (1961-8) en die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1968-73). Intussen was hy 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die école Normale de Musique in Parys (1944-62), en het hy in 1958 in Tokio die Japannese première van Pelléas et Mélisande gedirigeer. Sy Amerikaanse debuut het in 1965 by die Chicago Opera plaasgevind en in 1987 het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer. Opnames: Berlioz se Symphonie fantastique, Dukas se Simfonie in C en L'apprenti sorcier, Saint-Saëns se Danse macabre, en die operas Louise en Pelléas et Mélisande.

Fournier, Pierre (1906-86), Franse tjellis. Ná studies in Parys het hy in 1925 sy debuut in die Franse hoofstad gemaak. Met sy warm, aristokratiese spel was hy een van die voorste tjello-virtuose van sy tyd in die Klassiek-Romantiese repertorium. Hy was ewe bekend in kamermusiek, met groot musici soos Cortot, Primrose, Schnabel, Szigeti en Thibaud wat onder sy vennote getel het. Daarbenewens het hy vanaf 1941 vir 8 jaar meesterklasse aan die Parys Konserwatorium gegee. In 1958 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind, en in sy later jare het hy in Switserland gewoon. Hy het die eerste uitvoerings van Poulenc se tjellosonate en Martin se tjellokonsert gegee. Opnames: die volledige onbegeleide tjellosuites van Bach; die volledige tjellosonates van Beethoven; Brahms se Dubbelkonsert (twee weergawes, met Oistrach en Francescatti onderskeidelik); die tjellokonserte van Dvorák en Elgar; Bloch se Schelomo; Bruch se Kol Nidrei; Schubert se Arpeggione sonate (wat hy self vir die tjello verwerk het); Richard Strauss se Don Quixote (onder Krauss en Karajan); Tsjaikofski se Rococo Variasies; en solowerke van Haydn, Rimski-Korsakof, Saint-Saëns, Schumann en Weber. Sy broer Jean Fournier (1911-2003) was ‘n violis wat bekend was in kamermusiek as vennoot van sy vrou, die pianis Ginette Doyen, en in ‘n trio met die pianis Paul Badura-Skoda en die tjellis Antonio Janigro.

Fowke, Philip (1950-), Engelse pianis. Hy het sy Londense en Amerikaanse debute in 1974 en 1982 onderskeidelik gemaak. Naas sy optredes as solis is hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekakademie. In 1995 het hy onder Proinnsias O’ Duinn in ‘n versameling klavierkonserte wat vir rolprente geskryf is (waaronder Addinsell se immergewilde Warsaw Concerto) gespeel. Verdere opnames: Bliss se klavierkonsert, klaviersonate en ander solowerke; Danzi se sonates vir horing en klavier; Finzi se Grand Fantasia and Toccata; en Rachmaninof se tweede klavierkonsert en Paganini Rapsodie.

Fox, Virgil (1912-80), Amerikaanse orrelis. Hy het in Parys onder die komponis Dupré studeer, en in 1933 sy eerste uitvoerings in Londen en New York gegee. Vanaf 1946 tot 1965 was hy orrelis van die Riverside Kerk in New York. Hy het 'n groot rol gespeel om die orrel as konsertinstrument te populariseer en het tot aan die einde van sy lewe nog opgetree. Veral gewild was sy konserte wat met skouspelagtige ligvertonings gepaard gegaan het.

Francescatti, Zino (1902-91), Frans-gebore violis van deels Italiaanse afkoms. Hy het as vyfjarige in die openbaar begin speel, en in 1926 het hy deur Brittanje met die komponis Ravel as pianis-begeleier getoer. Vanaf 1927 het hy in Parys onderrig gegee en in 1936 is sy Salzburg-feesdebuut gemaak. Ná sy Amerikaanse debuut met die New York Filharmoniese Orkes in 1939 het hy hom in dié land gevestig. As solis het hy met van die wêreld se voorste orkeste opgetree, met ‘n repertorium wat gestrek het vanaf Bach en Paganini tot by Falla en Strawinski. Hy was 'n vriend en vennoot van die pianis Robert Casadesus, met wie hy voortreflike opnames van verskeie van Beethoven se vioolsonates gemaak het. Sleutelopname: Walton se vioolkonsert (onder Ormandy). Verdere opnames: vioolkonserte van Mozart en Sibelius; Bernstein se Serenade; en Brahms se Dubbelkonsert (met Pierre Fournier).

Francesch, Homero (1947-), Uruguyaans-gebore Switserse pianis. Op ses jaar het hy met klavierlesse onder Santiago Reyes in sy geboortestad Montevideo begin, en sy openbare debuut is op 13 gemaak. Later is hy met ‘n uitruilbeurs na Duitsland, waar hy onder Hugo Steurer en Ludwig Hoffman aan die München Konserwatorium studeer het. Hy het in 1973 in ‘n Duitse TV-uitsending verskyn, waarna hy wêreldwyd begin optree het, insluitend by bekende musiekfeeste. In 1991 het hy die volledige klavierkonserte en -sonates van Mozart opgeneem. Onder werke van hedendaagse komponiste waarvan hy die premières gegee het, tel Henze se Tristan. Hy het ook die volledige klavierwerke van dié komponis opgeneem. In 1997 het hy in Lugano ‘n voortreflike uitvoering van Beethoven se klavierkonsert nr. 5 onder Serge Baudo gegee, met ‘n DVD wat daarvan getuig. As inwoner van Zürich gee hy meesterklasse in klavier aan die Switserse stad se konserwatorium. Hy het verdere opnames van werke deur Bartók en Strawinski tot sy krediet.

Francis, Alun (1954-), Engelse horingspeler en dirigent. Nadat hy aanvanklik ‘n horingspeler in die Hallé Orkes en die Bournemouth Simfonie-orkes was, het hy ‘n dirigeerloopbaan begin volg. In 1978 het hy Donizetti se opera Gabriella di Vergy in Belfast herleef, en daarna was hy direkteur van die Noordwes Kamerorkes in Seattle (1980-5) en dirigent van die Overijssels Filharmoniese Orkes in Holland (1985-7). Sedert 1989 is hy hoofdirigent van die Noordwes-Duitse Filharmoniese Orkes en die Berlynse Radio Simfonie-orkes. Opnames: Milhaud se simfonieë nrs. 7-9; Pettersson se negende simfonie; Toch se simfonieë nrs. 1 en 4; die operas Gabriella di Vergy, Maria Padilla, Ugo Conte di Parigi en Robinson Crusoe (in Engels); en ‘n pastiche genaamd Christopher Columbus uit ‘n aantal Offenbach-werke.

Francis, Sarah (?-), Engelse hobospeler. As dogter van die bekende klawesimbelspeler Millicent Francis het sy aan die Koninklike Musiekkollege en onder Pierre Pierlot in Parys studeer. Sy het haar loopbaan as eerste hobospeler in die BBC Walliese Orkes begin. Haar eerste opname as solis, van Britten se Six Metamorphoses after Ovid, is in die 1960’s gemaak. Die komponis het haar genooi om dié werk by die Aldeburgh-fees te speel. Met haar stylvolle spel en elegante frasering is sy ewe begaafd in agtiende-eeuse musiek en werke van moderne Britse komponiste. Sy tree vanaf 19 jaar gereeld in BBC-uitsendings op, insluitend vanaf die Londense Proms waar sy Crosse se hobokonsert Ariadne, wat vir haar geskryf is, met die Londense Simfonie-orkes gespeel het. In 1985 het sy Lutoslafski se Dubbelkonsert onder die komponis self by die internasionale somerskool in Dartington gespeel. Sy is voorts direkteur van die London Harpsichord Ensemble en ‘n hoogleraar aan haar alma mater in die Britse hoofstad. Daarbenewens het sy meesterklassse gegee in Moskou, Amsterdam, Keulen en Genève. Sleutelopnames (met haar ensemble tensy anders aangedui): Albinoni se hobokonserte opus 7/3, 6, 9 &12 en opus 9/2, 5, 8 en 11; Handel se 3 hobokonserte, 4 sonates vir hobo en continuo, en Sonata vir hobo, viole en continuo; Krommer se 2 hobokonserte en Mozart se hobokonsert (al 3 met die London Mozart Players onder Howard Shelley); Telemann se volledige hobokonserte, en ‘n versameling sonates vir hobo en ander instrumente. Verdere opnames: Bax se hobokwintet; Boughton se hobokonsert nr. 1, hobokwartet nr. 1 en Pastoral; Harty se 3 Stukke vir hobo en klavier; Holst se 3 Stukke vir hobo en strykkwartet; Howells se hobosonate; Krommer se 2 hobokwartette en 2 hobokwintette; Rubbra se hobosonate; en Vanhal se 6 hobokwartette.

Frankl, Peter (1935-), Hongaars-gebore pianis. Hy het in die laat 1950’s pryse in internasionale klavierkompetisies in Parys, München en Rio de Janeiro gewen. In 1967 het hy ‘n Britse burger geword. Hy is ‘n gereelde solis in konsertuitvoerings, maar is eerder bekend as lid van ‘n trio met die violis György Pauk en die tjellis Ralph Kirshbaum. Opnames: klavierkwintette van Dvorák en Martinu (met die Lindsay Kwartet); en solowerke van Bartók, Dohnány, Kodály en Liszt.

Frantz, Ferdinand (1906-59), Duitse bas-bariton. Aanvanklik het hy in ‘n kerkkoor gesing en privaat sanglesse ontvang in sy tuisstad Kassel, totdat sy debuut in 1927 (as bas) gemaak is as Ortel in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy was vervolgens verbonde aan operahuise in Halle (1930-32), Chemnitz (1932-7), Hamburg (1937-43) en München (1943 tot sy dood). Tydens sy verblyf in die Beierse hoofstad het hy as bariton begin sing, met verskynings wat ook gemaak is in Wenen en Dresden. In die na-oorlogse era het hy opgetree by La Scala, in Napels en Parys, en by Covent Garden vanaf 1953. By die Salzburg-fees van 1948 was hy uitmuntend as Don Pizarro in Fidelio, met ‘n opname wat onder Wilhelm Furtwängler gemaak is. Hy het in 1949 by die Metropolitan Opera gedebuteer as Wotan in die Ring-siklus, en oor die volgende drie seisoene sou hy 20 optredes daar maak. Sy bekendheid het merendeels in Wagner-rolle gelê, maar hy was ook begaafd as Don Pizarro en as Galitzky in Prins Igor. Hy het Wotan gesing in Furtwängler se opnames van die Ring (La Scala 1950 en Rome 1953) en van Die Walküre (Wenen 1954).

Franz Liszt Kamerorkes, Hongaarse ensemble wat na die grootste Hongaarse komponis vernoem is. Nadat die lede aan die Franz Liszt Akademie in Boedapest studeer het, is hul debuut in 1963 gemaak. Hulle bestaan uit 17 strykers wat aangevul word deur ‘n klawesimbel en houtblasers soos benodig, en word sedert hul stigting deur die violis Janos Rolla gelei. Hy het in 1985 die Kossuth-prys van die Hongaarse regering ontvang. Die orkes toer wêreldwyd en tree met van die bekendste instrumentaliste van hul tyd op. Hulle het al meer as 200 opnames gemaak en is drie keer met die Franse Grand Prix du Disque vereer.

Fredman, Myer (1932-), Engelse dirigent. Hy was verbonde aan die Glyndebourne Opera (1959-74), onder andere as koormeester. Terselfdertyd was hy hoofdirigent van die Glyndebourne Toeropera (1968-74). In die vroeë 1970’s het hy die Londense Filharmoniese Orkes in hoogstaande opnames van Bax se tweede simfonie en Brian se simfonieë nrs. 6 en 16 gedirigeer. Daarop is hy na Australië, waar hy musiekdirekteur was van die Adelaide Opera (vanaf 1975) en operahoof van die Sydney Staatskonserwatorium (1981-92). Met die Nieu-Seeland Simfonie-orkes het hy ‘n uitstekende opname van Brigg Fair en ander orkeswerke deur Delius gemaak.

Freiburg Barokorkes, Duitse kamerorkes wat in 1987 gestig is vir die uitvoering van Barokmusiek op eietydse instrumente. Twee jaar later het hulle internasionaal begin toer en in 1995 is hul Amerikaanse debuut gemaak. Hul repertorium is weldra uitgebrei na latere komponiste soos Beethoven en Schubert. Vanaf 1990 was Thomas Hengelbrock die artistieke direkteur, en in in 1997 is hy deur Gottfried von der Goltz opgevolg. Met laasgenoemde het die ensemble ‘n hoogaangeskrewe DVD-opname van Bach se Brandenburgkonserte gemaak in die Cöthen-kasteel, waar die werke geskryf is. Nie minder nie as helfte van hul konserte vind in die buiteland plaas, dikwels met bekende dirigente soos Ivor Bolton , René Jacobs , Philippe Herreweghe en Trevor Pinnock . Onder Jacobs het die orkes in uitmuntende opnames van Haydn se oratorium Die Jahreszeiten en simfonieë nrs. 91 en 92 gespeel. Naas gewilde konserte in hul tuisstad Freiburg gee die orkes jaarlikse konsertreekse in Berlyn en Stuttgart.

Freire, Nelson (1944-), Brasiliaanse pianis. Hy het op drie jaar begin klavier speel en nouliks twee jaar later sy openbare debuut met ‘n Mozart-sonate gemaak. Nadat hy in 1957 as jong tiener goed gevaar het in die internasionale klavierkompetisie in Rio de Janeiro, is hy na Wenen vir studies onder Bruno Seidlhofer. In 1964 het hy die internasionale klavierkompetisie in Lissabon gewen, en is die Lipatti- en Harriet Cohen-medaljes in Londen aan hom toegeken. Hy volg sedert 1959 ‘n internasionale loopbaan, met optredes wat wyd deur Europa, die Amerikas, Japan en Israel met van die voorste orkeste en dirigente plaasvind. Met die 150-jarige herdenking van Chopin se dood in 1999 het hy ‘n besondere uitvoering van die komponis se klavierkonsert nr. 2 in Warskou gegee. Sy opnames van Brahms se twee klavierkonserte onder Riccardo Chailly is in 2007 as beide Classic FM en Gramophone se Opname van die Jaar bekroon. Tydens die Salzburg-fees van 2009 het hy ‘n voordrag met die befaamde pianis Martha Argerich gegee, waarvan die opname hoog aangeskryf word. Verdere opnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 14, 21, 26 en 31; Chopin se 24 Preludes; en solowerke van Debussy.

Frémaux, Louis (1921-), Franse dirigent. Hy was dirigent van die Monte Carlo Nasionale Orkes (1956-66) en die Rhône-Alpes Filharmoniese Orkes (1968-71), en hoofdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1969-78) en die Sydney Simfonie-orkes (1979-81). In 1980 het hy in Johannesburg die sopraan Mimi Coertse in ‘n konsertuitvoering met die Nasionale Simfonie-orkes begelei. Met sy Britse orkes het hy uitstekende opnames van Fauré se Requiem en van Poulenc se Gloria en Les biches suite gemaak.

Fremstad, Olive (1871-1951), Sweeds-gebore sopraan. Sy het op twaalfjarige ouderdom haar debuut as pianis gemaak, gevolg enkele jare later deur haar operadebuut in Boston (1890). Vanaf 1893 het sy in Berlyn onder die beroemde Lilli Lehmann studeer, met verdere debute wat plaasgevind het in Keulen (1895), by die Bayreuth-fees (1896) en in Londen (1902). Vanaf 1900 het sy vir drie jaar by die München Opera gesing, en daarna was sy tot 1914 aan die Metropolitan Opera verbonde. Daar het sy in 1906 die titelrol in Carmen teenoor Caruso gesing en in die jaar daarop die titelrol in Salome. Sy was egter meer bekend in Wagner se operas, veral as Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Laasgenoemde het sy vir die eerste keer gesing onder die komponis Mahler met sy dirigeerdebuut by die Met in 1908. Ná 1914 het sy opera gesing in Boston en Chicago, tot haar uittrede in 1920.

Freni, Mirella (1935-), Italiaanse sopraan. Sy het as tienjarige ‘n sangkompetisie in haar tuisdorp Modena gewen. Daarop is sy deur haar moeder na die legendariese tenoor Beniamino Gigli geneem, wat haar aangeraai het om ‘n paar jaar te wag voordat sy met sanglesse begin, waarna sy ‘n fabelagtige stem sou hê. Ná sanglesse in haar laat tienerjare is haar debuut op 19 in Modena gemaak as Micaela in Carmen. Vervolgens het sy met haar goeie vriend Luciano Pavarotti drie keer per week na Mantua gereis vir studies onder die sangonderwyser Campogagliani. Sy was aanvanklik verbonde aan die Nederlandse Opera in Amsterdam (1959/60), met debute wat sou volg by die Glyndebourne-fees (1960), Covent Garden (1961), La Scala en die Wexford-fees (beide in 1962), die Metropolitan Opera (1965) en die Salzburg-fees (1966). Haar La Scala-debuut sou in Handel se Xerxes wees, maar sy het op kort kennisgewing ingestaan as Nanetta in Falstaff. Sy het in 1963 wêreldroem verwerf as Mimi in La Bohème onder die dirigeerstaf van Herbert von Karajan en met Franco Zeffirelli as regisseur. Tot vandag word sy as stellig die beste vertolker van dié rol beskou. Helaas was haar optrede as Violetta in La Traviata minder suksesvol, sodat sy deur ‘n deel van die gehoor uitgejou is. Met kenmerkende vasberadenheid het sy egter voortgegaan om Violetta te sing, insluitend in ‘n 1972-rolprentweergawe. Intussen het sy in 1970 in Herbert von Karajan se rolprentweergawe van Otello die rol van Desdemona gesing. Voorts het sy uitgeblink as Susanna in Jean-Pierre Ponnelle se filmweergawe van Le nozze di Figaro (1976).

Met haar soet, suiwer stem wat aan dié van haar befaamde landgenoot Renata Tebaldi herinner, was Freni een van die beste liriese soprane van die twintigste eeu in Italiaanse opera, veral dié van Puccini en Verdi. Later in haar loopbaan het sy meer dramatiese rolle begin sing, ook in Franse en Russiese opera. Haar repertorium sluit verder in Margherita in Mefistofele, Norina in Don Pasquale, die titelrol in Fedora, Zerlina in Don Giovanni, Matilde in Guglielmo Tell, Tatjana in Jewgeni Onegin, Elisabetta in Don Carlo, Elvira in Ernani, Maria in Simon Boccanegra, asook die titelrolle in Aida, Madama Butterfly, Manon Lescaut en Tosca. Sy het dikwels met Pavarotti en Placido Domingo verskyn, en met Karajan as dirigent. Later in haar loopbaan het sy as opera-verhoogdirekteur opgetree en in 2002 het sy ‘n Gramophone toekenning vir Lewenslange Prestasie ontvang. Sy was getroud met die groot bas Nikolai Ghiuselef, met wie sy oor ‘n tydperk van 29 jaar saam gesing het. Hulle het in 2002 ‘n musiekskool in Modena gestig, waar sy lewenslank woon. Haar afskeidsoptrede het in 2005 by die Washington Opera plaasgevind in Tsjaikofski se Meisie van Orleans, wat terselfdertyd haar debuut in dié rol was. Verdere opnames: Martucci se liedere-siklus Le canzone dei ricordi; Verdi se Requiem; en die genoemde operas van Bizet, Boito, Donizetti, Mozart, Puccini, Rossini, Tsjaikofski en Verdi, asook Alcina en L’amico Fritz.

Fretwork, Britse altviool-ensemble wat in 1986 hul Londense debuut gemaak het. Hulle het naam gemaak in musiek vir stemme en altviool van die sestiende en sewentiende eeue. Werke is ook deur hedendaagse komponiste vir hul geskryf. Hul tree dikwels met bekende sangers soos Emma Kirkby en Michael Chance op. Sleutelopname: ‘n versameling uit Dowland se Lachrimae en ‘n aantal van sy galliards. Verdere opnames: ‘n versameling Consort Songs van Byrd (met Kirkby); en ‘n versameling Consort Music van Jenkins.

Frey, Paul (1942-), Kanadese tenoor. Aanvanklik was hy 'n professionele yshokkiespeler totdat hy deur 'n besering buite aksie vir dié sport gestel is. Hy het in 1978 sy operadebuut in Toronto gemaak in die titelrol van Werther, en het in die jaar daarop by die Basel Opera aangesluit. Verdere debute het gevolg by die Edinburgh-fees en München (beide in 1986), die Bayreuth-fees en die Metropolitan Opera (beide in 1987), en Covent Garden (1988). In 1990/1 was hy aan die Keulen Opera verbonde. Onder sy beste rolle tel die titelrol in Lohengrin en Bacchus in Ariadne auf Naxos, wat hy in hoogstaande opnames onder Peter Schneider en Kurt Masur onderskeidelik gesing het.

Frick, Gottlob (1906-94), Duitse bas. Hy was die jongste van 13 kinders van ‘n Swabiese bosbouer. In 1927 het hy by die koor van die Stuttgart Opera aangesluit om vir sy sangstudies aan die stad se konserwatorium te betaal. Nadat hy in 1934 sy debuut as Daland in Der fliegende Holländer in Coburg gemaak het, het hy gesing in Freiburg en Königsberg (1934-9). Hy het in 1938 by die Dresden Staatsopera gedebuteer, waarvan hy vanaf 1942 tot 1950 ‘n lid sou wees. Daarna was hy verbonde aan die Berlynse Stadsopera (1950-53), en vanaf 1953 het hy in München en Wenen gesing. Nog debute is gemaak by die Bayreuth-fees en Covent Garden (beide in 1951), die Salzburg-fees (1955, as Sarastro) en die Metropolitan Opera (1961, as Fafner). As uitmuntende Wagner-sanger het hy vanaf 1957 tot 1964 jaarliks by die Bayreuth-fees opgetree. Vanaf 1957 tot 1967 het hy ook gereeld by Covent Garden verskyn. Met sy kragtige, ryk en donker stem en intelligente sang was hy wêreldbekend in rolle soos Rocco in Fidelio, Van Bett in Zar und Zimmermann, Commendatore in Don Giovanni, Osmin in Die Entführung aus dem Serail, Sarastro in Die Zauberflöte, Falstaff in Die lustigen Weiber von Windsor, Ramfis in Aida, Koning Hendrik in Lohengrin, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Gurnemanz in Parsifal, Hermann in Tannhäuser, Koning Mark in Tristan und Isolde, en Fafner, Hagen en Hunding in die Ring. Hy het in 1970 amptelik uitgetree maar voortgegaan om sporadies in Wenen, München en Stuttgart te sing. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Karajan); die genoemde operas van Beethoven, Lortzing, Mozart, Nicolai, Verdi en Wagner, asook Die Kluge en Der Freischütz.

Fricsay, Ferenc (1914-63), Hongaarse dirigent. Hy was ‘n leerling van sy komponis-landgenote Kodály en Bartók, en was daarna 'n dirigent by die Boedapest Opera (1939-45). Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy verskeie dirigeerposte in Duitsland beklee, onder andere by die Berlynse Stadsopera (1948-52), die Berlynse Radio Simfonie-orkes (1948-54), die Beierse Staatsopera (1956-8) en die Deutsche Oper in Berlyn (vanaf 1961). Met sy Berlynse radio-orkes en die Sint Hedwigs Katedraalkoor het hy in die vroeë 1950’s ‘n opwindende opname van Verdi se Requiem gemaak. Hy het intussen by die feeste in Salzburg en Edinburgh gedebuteer, in 1947 en 1950 onderskeidelik. By Salzburg het hy die premières van Einem se Dantons Tod (1947) en Orff se Antigonae (1949) gedirigeer. Verder het hy in 1961 'n opvoering van Don Giovanni gedirigeer tydens die inwyding van die herboude Berlynse operahuis. Hy was bekend vir sy kragtige vertolkings van sy Hongaarse leermeesters se musiek, asook dié van Mozart. Opnames: Bartók se Konsert vir Orkes en Musiek vir Perkussie, Strykers en Celesta; Beethoven se negende simfonie; Dvorák se negende simfonie; Haydn se simfonieë nrs. 44, 95 en 98; Henze se 2 Ballet Variasies; Liszt se Les Préludes; die dodemisse van Mozart en Verdi; en die operas Bloubaard se Kasteel (in 1953 en 1958), Fidelio, Don Giovanni, Idomeneo en Die Zauberflöte.

Fried, Miriam (1946-), Romeens-gebore Israeliese violis. Sy het in 1968 die Paganini-kompetisie in Genoa gewen en in die jaar daarop haar debuut in New York gemaak. In 1971 het sy die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen en haar Britse debuut by die Windsor-fees gemaak. Onder Okko Kamu het sy in ‘n voortreflike opname van Sibelius se vioolkonsert gespeel.

Fried, Oskar (1871-1941), Duits-gebore horingspeler, dirigent en komponis. As jeugdige het hy viool en horing by plaaslike geleenthede gespeel. Hy het in 1889 ‘n horingspeler in die orkes van die Frankfurt Opera geword. Kort daarna het hy met komposisielesse onder die komponis Humperdinck begin. In 1898 het hy na sy geboortestad Berlyn teruggekeer, en vervolgens het hy as gasdirigent van bekende Europese orkeste opgetree. In die Duitse hoofstad was hy dirigent van die Stern Koorvereniging (vanaf 1904), die Gesellschaft der Musikfreunde (1907-10), die Bluthner Orkes (1908-14) en die Berlynse Simfonie-orkes (1925/6). Sy kantate Das trunkene Lied is in 1904 gepubliseer en was dadelik gewild. In die jaar daarop het hy Mahler se tweede simfonie (die ‘Opstanding’) gedirigeer, in ‘n vertolking wat die groot komponis se goedkeuring weggedra het. Hy het in 1924 in die Duitse hoofstad met die Katedraalkoor en die orkes van die Staatsopera die eerste opname van ‘n Mahler-simfonie gemaak, die tweede. In die jaar daarop het hy ballet by die Salzburg-fees gedirigeer. Met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in Duitsland in 1933 het sowel sy Joodse identiteit as sy sosialistiese oortuigings teen hom getel. Gevolglik moes hy sy geboorteland in 1934 verlaat, waarop hy in die Sowjet-Unie gaan woon het. In die ‘werkersparadys’ het hy opera gedirigeer in Tbilisi en was hy hoofdirigent van die Unie Radio-orkes in Moskou. Sy 1937-opname van Berlioz se Symphonie fantastique met die USSR Staatsimfonie-orkes word as ‘n formidabele weergawe beskou. In 1940 het hy ‘n Sowjet-burger geword. Met sy gedissiplineerde dog indiwidualistiese vertolkings was hy bekend as kampvegter vir die musiek van tydgenote soos Mahler, Schoenberg, Delius en Busoni. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie, Brahms se eerste simfonie, Liszt se Les Preludes, Mozart se Eine kleine Nachtmusik, Rimski-Korsakof se Scheherazade, Richard Strauss se Eine Alpensinfonie, Saint-Saëns se Danse Macabre, Strawinski se Vuurvoël suite, Tsjaikofski se sesde simfonie en Wagner se Faust ouverture.

Friedheim, Arthur (1859-1932), Russies-gebore Duitse pianis en komponis. As leerling en sekretaris van Liszt was hy 'n uitmuntende vertolker van dié musiekreus se werke. Hy het by tye in Duitsland, Brittanje en Noord-Amerika gewoon, waar hy onder andere in Manchester en Toronto onderrig gegee het. Hy het ook die volledige werke van Chopin geredigeer en werke van Liszt verwerk.

Friedman, Ignaz (1882-1948), Pools-gebore pianis en komponis. Hy het in Wenen onder die groot leermeester Theodor Leschetizky studeer, en het deur die verloop van sy loopbaan wêreldwyd in ongeveer 2800 konserte opgetree. Ná ‘n verblyf in Berlyn het hy in 1914 in Kopenhagen gaan woon en in 1940 in Sydney. Hy was ‘n vennoot van die violis Bronislaf Huberman in sonate-uitvoerings. Verder het hy klavierwerke van Chopin, Schumann en Liszt geredigeer.

Friend, Lionel (1945-), Engelse dirigent. Nadat hy in 1969 by die Walliese Nasionale Opera met La Traviata gedebuteer het, was hy tot 1972 aan dié operahuis verbonde. Vervolgens was hy ‘n dirigent by die Cassel Opera (1972-5) en die Engelse Nasionale Opera (1976-89), asook musiekdirekteur van die Nexus Opera (vanaf 1981). Sedert 1989 is hy musiekdirekteur van die Nuwe Sussex Opera. Sy bekendheid lê merendeels in moderne musiek, veral dié van sy landgenote. Só het hy in 1992 by die Aldeburgh-fees die première van Tavener se opera Mary of Egypt gedirigeer, met ‘n uitstekende opname wat daarvan gemaak is. Verdere opnames: Brian se simfonieë nrs. 3 en 18; orkeswerke van Holt, Poulenc en Rawsthorne; Lambert se ballet Mr Bear; en Strawinski se L'histoire du soldat.

Frith, Benjamin (1957-), Engelse pianis. Hy het sy Londense debuut in 1981 gemaak en was vyf jaar later 'n medewenner van die Busoni-klavierkompetisie. Vervolgens was hy in 1989 'n medewenner van die Arthur Rubinstein Meestersklavierkompetisie in Tel Aviv. Met sy elegante spel blink hy uit in die Romantiese repertorium, veral in die musiek van Mendelssohn. As lid van die Gould Klaviertrio wat in 1987 gestig is, speel hy kamermusiek. Hulle het uitstekende opnames van Mendelssohn se twee klaviertrios gemaak. Sleutelopnames: Weber se 2 klavierkonserte, Konzertstück en Polacca brillante (almal onder O’Duinn). Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Field en Mendelssohn; Mendelssohn se Capriccio brillant, Rondo brillant en Konsert vir twee klaviere (laasgenoemde met Hugh Tinney); Messiaen se Visions de l' Amen (met Peter Hill); en die volledige solowerke van Mendelssohn, asook verskeie van Arnold, Beethoven, Field en Schumann.

Frittoli, Barbara (1967-), Italiaanse sopraan. Sy het aan die Giuseppe Verdi Konserwatorium in haar geboortestad Milaan studeer, waar sy etlike pryse gewen en met die hoogste lof gegradueer het. Haar operadebuut is in 1989 in Florence gemaak, in Bucchi se Il Giuoco del barone. As die voorste Italiaanse liriese sopraan van haar tyd is sy begaafd in rolle soos Micaela in Carmen, Nedda in I Pagliacci, Fiordiligi in Cosi fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, die Grafin in Le nozze di Figaro, Mimi in La Bohème, Liu in Turandot, Alice in Falstaff, Desdemona in Otello en Amelia in Simon Boccanegra. Sleutelopname: I Pagliacci (onder Chailly). Verdere opnames: Pergolesi se Stabat Mater (onder Muti); en die opera Falstaff.

Frühbeck de Burgos, Rafael (1933-), Spaanse dirigent van Duitse afkoms. Hy was hoofdirigent van die Bilbao Orkes (1958-62), die Spaanse Nasionale Orkes in Madrid (1962-79), die Düsseldorf Simfonie-orkes (1966-70) en die Montreal Simfonie-orkes (1974-76). As gasdirigent het hy met van die voorste Europese en Amerikaanse orkeste opgetree, en in 1988 is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. Hy was vervolgens hoofdirigent van die Weense Simfonie-orkes (1991-96) en die Deutsche Oper in Berlyn (vanaf 1992). By laasgenoemde het hy in 1995 ‘n uitstekende opvoering van Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer, waarvan ‘n DVD-opname gemaak is. Verdere opnames: orkeswerke van Albéniz, Debussy, Falla, Strawinski en Vaughan Williams; Bizet se opera Carmen; Haydn se oratorium Die Schöpfung; en Orff se kantate Carmina Burana.

Funtek, Leo (1885-1965), Sloweens-gebore violis en dirigent. Hy het in die Duitse stad Leipzig studeer, aan beide die konserwatorium en die universiteit. Die res van sy lewe sou meesal in Finland afspeel. In dié land was hy aanvanklik konsertmeester van die Helsinki Filharmoniese Orkes (1906–09) en direkteur van die Viipuri Orkes (1909-10). Hy was vanaf 1916 tot 1919 assistent-konsertmeester van die hoforkes in Stockholm, Swede, en vir etlike dekades (vanaf 1915 tot 1959) was hy dirigent van die Finse Opera. Naas sy musiekloopbaan het hy onderrig in viool gegee aan die Helsinki Musiekinstituut (later die Sibelius Akademie), eers as dosent (1911-39) en vervolgens as hoogleraar (1939-55). In sy laaste vyf jaar aldaar het hy ook die dirigeerklasse onderrig, met die later bekende Jorma Panula wat onder sy studente getel het. Hy word veral onthou vir sy orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling, wat in 1922 gepubliseer is – slegs enkele maande voor Ravel se meer bekende weergawe. Daarin word die Russiese komponis se oorspronklike klavierweergawe veel getrouer nagevolg as in die geval van die Franse Impressionis se werk. Hy was getroud met die Finse sopraan Ingeborg Liljeblad en is in Helsinki oorlede.

Furlanetto, Ferruccio (1949-), Italiaanse bas. Hy het in 1974 sy debuut in Lonigo as Sparafucile in Rigoletto gemaak en daarna by verskeie Italiaanse operahuise gesing, met ‘n La Scala-debuut as Banquo in Macbeth. Verdere debute het gevolg in San Francisco (1979), Covent Garden (1988) en die Metropolitan Opera (1990), asook by die feeste in Glyndebourne (1980) en Salzburg (1986). Met sy suiwer sang en besondere karakterisering is hy wêreldbekend in Italiaanse opera, veral dié van Mozart en Verdi. Daaronder tel rolle soos Guglielmo in Così fan tutte, Leporello in Don Giovanni, die titelrol in Le nozze di Figaro, beide Idraote en Astarotte in Armida, Procida in I vespri siciliani, asook die Kardinaal in Halévy se La juive. Hy het geskitter as Leporello in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni by die Salzburg-fees in 1987, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Mozart se Kroningsmis (onder Karajan); Verdi se Requiem (onder Bitsjkof); die laasgenoemde ses operas, asook Don Carlos.

Fürst, Janos (1935-2007), Hongaarse dirigent. Hy het aan die Liszt Akademie in Boedapest onder die komponiste Kodály en Ligeti studeer. Met die Hongaarse opstand in 1956 het hy uitgewyk na die Weste, waar sy studies aan die Parys Konserwatorium voortgesit is. Vanaf 1958 was hy in Ierland woonagtig, waar hy aanvanklik ‘n violis in die Ierse Radio Simfonie-orkes in Dublin was. Hy het in 1963 die Ierse Kamerorkes gestig. Met die stigting van die Ulster Orkes in Belfast in 1966 is hy as orkesleier aangewys, en 5 jaar later het hy hul assistent-dirigent geword. Sy internasionale deurbraak is in 1972 in Londen gemaak toe hy vir ‘n olike Rudolf Kempe met die Koninklike Filharmoniese Orkes ingestaan het. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Malmö Orkes in Swede (1974-8), musiekdirekteur van die Aalborg Simfonie-orkes (1980-3) en dirigent van die RTE Orkes in Dublin (1983-9). Met laasgenoemde het hy in die laat 1980's ‘n volledige siklus van Mahler se simfonieë uitgevoer. As gasdirigent het hy wyd deur Europa, Noord-Amerika, Australasië en Suid-Afrika verskyn. Vanaf 1990 was hy musiekdirekteur van die Winterthur Munisipale Orkes in Oostenryk. Sy Amerikaanse debuut is in dieselfde jaar in Indianapolis gemaak. Hy was vir 9 jaar musiekdirekteur van die Marseilles Opera, en het ook opera by die Engelse Nasionale Opera, die Skotse Opera en die Koninklike Stockholm Opera gedirigeer. Daarby het hy ‘n boek oor die dirigeerkuns geskryf, en vanaf 1997 was hy ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Parys Konserwatorium. Met die Deense Radio Konsertorkes het hy ‘n indrukwekkende opname van Maxwell Davies se ballet Salome gemaak, waarvan hy in 1978 die première gedirigeer het. Hy is aan kanker oorlede. Verdere opnames: Rangström se derde simfonie.

Furtwängler, Wilhelm (1886-1954), Duitse dirigent, pianis en komponis. Hy is in Berlyn gebore, waar sy vader ‘n bekende hoogleraar in argeologie was. As jong kind het hy met die res van sy gesin na die suide van Beiere verhuis. Hy het in ‘n musikale huis grootgeword, met klavierlesse wat onder sy moeder en tante geneem is. Met sy vader het hy reise na Griekeland en Italië onderneem, waartydens hy ‘n lewenslange waardering vir die Klassieke erfenis van Europa ontwikkel het. Later het hy aan die München Konserwatorium onder die orrelis-komponis Josef Rheinberger studeer. Teen die tyd dat hy in 1905 sy eerste pos bekom het, as koorrepetiteur by die Breslau Stadsteater, het hy reeds ‘n aantal werke gekomponeer, waaronder ‘n oratorium, ‘n simfonie en ‘n strykkwartet. Op twintigjarige leeftyd is sy dirigeerdebuut met Bruckner se negende simfonie gemaak – ‘n komponis waarvan hy een van die grootste vertolkers nóg sou word. Vervolgens was hy ‘n koorrepetiteur by operahuise in Zürich (1906/7) en München (1908/9), by laasgenoemde onder Felix Mottl. In 1910 het hy ‘n assistent vir die komponis Hans Pfitzner by die Strasbourg Opera geword, met ‘n blywende vriendskap wat tussen die twee musici sou ontwikkel. Uit erkenning vir die hulp wat hy indertyds van Pfitzner ontvang het, sou hy dwarsdeur sy loopbaan van die komponis se werke uitvoer. Hy het ook in 1910 die eerste uitvoering van sy eie Te Deum in Breslau gedirigeer. Dit is gevolg deur dirigeerposte by operahuise in Lübeck (1911-5) en Mannheim (1915-20), waar hy Hermann Abendroth en Artur Bodanzky onderskeidelik opgevolg het. In dié tyd het hy vir die eerste keer operas soos Fidelio, Die Meistersinger von Nürnberg en die Ring-siklus gedirigeer – werke wat ‘n integrale deel van sy repertorium sou bly.

Intussen het Furtwängler in 1912 by Bayreuth die voorreg gehad om die legendariese Wagner-dirigent Hans Richter in aksie te sien. Die belewenis sou ‘n blywende indruk op die jong genie maak, veral sover dit die intieme verband tussen woorde en musiek in Wagner se operas betref. Sy Weense debuut is in 1913 gemaak en vier jaar later het hy met die Berlynse Filharmoniese Orkes gedebuteer. Ook in 1917 het hy vir die eerste keer die volledige Ring-siklus gedirigeer, te wete in Baden-Baden met sy Mannheim-geselskap. Vanaf 1919 tot 1924 het hy gereeld konserte van die Tonkünstler Orkes in Wenen gedirigeer. Teen die 1920’s is hy as die voorste jong dirigent in Duitsland beskou, te midde van beroemde kollegas soos Klemperer, Busch, Kleiber en Walter. Sy deurbraak het in 1922 gekom toe hy Arthur Nikisch as hoofdirigent van sowel die Berlynse Filharmonie as die Leipzig Gewandhaus Orkes opgevolg het. Ook in 1922 is sy debuut met die Weense Filharmoniese Orkes gemaak, tydens die herdenking van Brahms se afsterwe ‘n kwarteeu tevore. Tot sy dood 32 jaar later sou die groot Berlynse en Weense orkeste sy vernaamste musikale platforms wees.

Furtwängler het in 1924 in Londen en in die jaar daarop in New York gedebuteer, in laasgenoemde geval met die gevierde tjellis Pablo Casals as solis. Hy het in 1926/7 weer deur die VSA getoer, wat sy laaste verskynings in dié land sou wees. In 1927 is ‘n ere-doktorsgraad deur die Heidelberg Universiteit tydens die Beethoven-fees aan hom toegeken. Steeds in 1927 het hy Felix Weingartner as hoofdirigent van die Weense Filharmonie opgevolg, ‘n pos wat hy vir drie jaar sou beklee. In 1927/8 het hy die eerste keer met sy Berlynse orkes in Londen en Parys verskyn. Hy het in 1928 algemene musiekdirekteur van die Stad Berlyn geword en uit sy Leipzig-pos bedank. In 1930 het hy die eerste keer opera in Berlyn gedirigeer, met Le nozze di Figaro. Sy debuut by die Bayreuth-fees is in 1931 met ‘n opvoering van Tristan und Isolde gemaak en in die jaar daarop het hy sy Berlynse orkes tydens hul halfeeuviering gedirigeer. Ook in 1932 is die Goethe-medalje aan hom toegeken. Hy het in 1933 die feesrede in Wenen gegee tydens die honderdjarige herdenking van Brahms se geboorte. Daar het hy ook konserte gedirigeer met groot soliste soos Casals, Bronislaf Huberman en Artur Schnabel.

In 1930 het Wagner se weduwee Cosima en hul seun Siegfried gesterf. In dieselfde jaar het Arturo Toscanini by die Bayreuth-fees gedebuteer en in die jaar daarop was dit Furtwängler se beurt. Hul veelbesproke verskynings by Bayreuth in dié tyd sou die musikale agtergrond verskaf vir die legendariese mededinging tussen die twee dirigente, wat veral deur die Amerikaanse media aangevuur is. Dit was wesenlik ‘n voortsetting van die musikale tweestryd in die vorige eeu tussen Wagner en Mendelssohn: soos met Wagner was Furtwängler se styl meer Teutonies, meer harmonieus, meer subjektief, en meesal stadiger in tempo. Soos met Mendelssohn was Toscanini se styl meer Mediterreens, meer melodieus, meer objektief, en meesal vinniger in tempo. Daar moet in gedagte gehou word dat hierdie vergelyking in ‘n mate op veralgemenings berus - só byvoorbeeld was Toscanini se opvoeringstye vir Tristan en Parsifal by Bayreuth langer as dié van Furtwängler. Om sake te vererger, was Toscanini ‘n Italiaanse nasionalis en anti-fascis, terwyl Furtwängler apolities was. Nietemin het Toscanini sy Duitse kollega in 1936 as sy opvolger by die New York Filharmoniese Orkes aanbeveel, wat tot ‘n storm van protes deur die stad se groot Joodse gemeenskap gelei het. In die jaar daarop het ‘n skeiding van weë tussen die twee mededingers plaasgevind, toe Furtwängler tydens die Salzburg-fees deur Toscanini daarvan beskuldig is dat hy ‘n Nasionaal-Sosialis is en met Hitler saamwerk. Hoe ongegrond hierdie beskuldigings was, sal uit die volgende paragrawe blyk.

Furtwängler se omstrede verhouding met die Nasionaal-Sosialistiese bewind in Duitsland het in 1933 begin toe hy as direkteur van die Berlynse Staatsopera en vise-president van die Reichsmusikkammer onder Richard Strauss as president aangestel is. Terselfdertyd is hy deur die Nazi’s onder druk geplaas om van die Joodse musici in sy Berlynse orkes en van sy Joodse sekretaresse Berta Geissmar ontslae te raak. In dieselfde jaar het hy ‘n ope brief aan die propagandaminister Joseph Göbbels geskryf om beswaar aan te teken teen die Nazi’s se behandeling van Walter, Klemperer en ander Joodse musici. Toe Göbbels daarop opdrag gee dat die Reich se voorste musikus ter wille van die land se internasionale aansien in vrede gelaat moet word, het Furtwängler dit as ‘n teken beskou dat hy ‘n positiewe rol in belang van beskaafde waardes kon speel deur in Duitsland te bly – ‘n oortuiging wat vir die res van sy lewe teen hom gehou sou word. Hy het byvoorbeeld verbode musiek van Joodse komponiste soos Mendelssohn aanhou uitvoer nadat ander Duitse dirigente en orkeste aan die Nazi-verbod gehoor gegee het. Teen die einde van 1934 het hy ‘n kritiese artikel oor die Nazi’s se hantering van die komponis Hindemith, soos hul verbod op sy opera Mathis der Maler, in verskeie Duitse koerante gepubliseer. Hy is venynig deur die Nazi-pers aangeval, waarop hy uit al sy poste bedank het. Sy paspoort is afgeneem en is hy verbied om die land te verlaat – ‘n voorval wat sy kollega Erich Kleiber aangespoor het om Duitsland te verlaat.

Vroeg in 1935 het Furtwängler 'n kompromie met Göbbels bereik en is hy weer as hoofdirigent van die Berlynse Filharmonie aangestel. Daar is ooreengekom dat hy later in die jaar ‘n opvoering van Die Meistersinger by die Nazi-saamtrek in Nürnberg sou dirigeer, maar tot hul misnoë het hy volstrek geweier om die Nazi-saluut te gee of hul Horst Wessel Lied te dirigeer. Later sou hy deur die Nazi’s beskuldig word dat hy die geld vir sy buitelandse optredes elders opgaar, maar in werklikheid het hy groot bedrae weggegee, onder meer vir vriende om hul te help emigreer. Dwarsdeur die Nazi-tydperk het Furtwängler ‘n verbete stryd teen die owerhede gevoer om die Duitse kuns en kultuur teen ideologiese verwringing te beskerm. Daardeur het hy die bewondering van beroemde musici soos die Joodse violis Bronislaf Huberman afgedwing, maar ironies genoeg is hy toenemend in die buiteland van Nazi-samewerking beskuldig. Nogtans het die groot dirigent sy bes gedoen om Joodse musici in Duitsland te beskerm. Daaronder tel die eerste violis in sy Berlynse orkes, Richard Wolff, wat later die dirigent as die Jode se groot weldoener beskryf het. Hy het voorts die komponis Arnold Schoenberg en die violis Szymon Goldberg gehelp om uit Duitsland te emigreer, en in teenstelling met sy jonger kollega Herbert von Karajan het hy nooit by die Nasionaal-Sosialistiese party aangesluit nie. Ná die oorlog het hy ‘n kampvegter gevind in die gevierde Joodse violis Yehudi Menuhin, wat tydens ‘n Europese toer in 1944/5 eerstehands van Furtwängler se eerbare rekord verneem het.

Vir die Berlynse Filharmonie se 1934/5 seisoen het Furtwängler ‘n hele aantal beroemde soliste genooi om in hul konserte op te tree, maar slegs die pianis Alfred Cortot het dit aanvaar. In 1935 het hy by Covent Garden gedebuteer en in 1936 het hy Die Meistersinger by die Parys Opera gedirigeer, met Toscanini in die gehoor. Hy het vanaf 1937 gereeld by die Salzburg-fees verskyn. In 1937 het hy in Berlyn die eerste uitvoering van sy eie klavierkonsert met Edwin Fischer as solis gedirigeer. ‘n Hoogtepunt in sy loopbaan was sy optrede in 1937 tydens die kroningsplegtigheid van Koning George VI in Londen, toe hy die Ring-siklus met van die voorste Wagner-sangers van die dag gedirigeer het. Dit is in die jaar daarop by Covent Garden herhaal, in beide gevalle met die Londense Filharmoniese Orkes. Vreemd genoeg het hy geen operas by Salzburg tussen Die Meistersinger in 1938 en Fidelio in 1948 gedirigeer nie. In 1938 het hy opnuut hoofdirigent van die Weense Filharmonie geword, nadat hy vir vyf jaar die pos met Bruno Walter gedeel het. Vanaf die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was sy loopbaan merendeels tot Berlyn en Wenen beperk. Ten spyte van versoeke deur die Nazi’s het hy geweier om in Duits-besette lande op te tree, met enkele uitsonderinge in Praag en Kopenhagen. Sy beginselvastheid blyk verder uit sy weiering van ‘n aanbod deur Hitler van ‘n privaat villa met ‘n bomskuiling vir sy gesin. Hy het sy Weense orkes in 1943 op ‘n toer na Skandinawiese stede soos Kopenhagen, Stockholm en Uppsala gelei. Vroeg in 1944 het hy vir die laaste keer in die Filharmoniese Saal in Berlyn gedirigeer, voordat dit deur Geallieerde bomme vernietig is. Later in die jaar is sy debuut by die Luzern-fees in Switserland gemaak.

Aan die begin van 1945 het Furtwängler vir oulaas tydens die oorlog in Berlyn en Wenen opgetree, en kort daarna het hy sonder amptelike toestemming na Switserland uitgewyk. Hy is daartoe aangemoedig deur Hitler se vertroueling Albert Speer, wat soos die dirigent ‘n hoogs gekultiveerde mens was, omdat die SS-hoof Heinrich Himmler toenemend sy mes vir Furtwängler ingehad het. In Switserland het hy by sy tweede vrou Elisabeth en hul babaseun aangesluit en konserte in Genève en Lausanne gedirigeer, maar ‘n beplande konsert in Zürich is deur die Switserse regering verbied. Hy sou vir die res van sy lewe in Clarens, Switserland woonagtig wees. Met die beëindiging van die oorlog is hy deur die Geallieerdes formeel van sy Berlynse pos onthef en van Nazi-samewerking aangekla. Soos sy kollegas Böhm, Karajan en Knappertsbusch is hy verbied om verder te dirigeer, maar nadat die Russe hom die pos van artistieke direkteur van die Oos-Duitse Staatsopera aangebied het, het die Westerse Geallieerdes in Desember 1946 sonder verdere versuim met sy verhoor begin. Nadat die tribunaal hom van alle aanklagte van Nazi-samewerking vrygespreek het, is sy verbod vier maande later opgehef. Hy is reeds in 1946 deur die nuwe Oostenrykse owerheid vrygespreek en burgerskap aangebied, wat hy nie wou aanvaar nie.

In April 1947 kon Furtwängler sy roemryke loopbaan hervat met ‘n konsert in Rome en in die maand daarop is hy as gasdirigent met die Berlynse Filharmonie in ‘n Beethoven-program herenig. Die verarmde Duitse publiek het vir die geleentheid met skilderye, breekware en sigarette tougestaan om kaartjies te probeer bekom. Opnames van Beethoven se vyfde simfonie en Egmont ouverture getuig van die emosiebelaaide atmosfeer van die hereniging. Suksesvolle konserte in ‘n hele aantal Europese lande het gevolg, en in Oktober van dieselfde jaar is sy terugkeer tot die operahuis met ‘n Berlynse opvoering van Tristan und Isolde gemaak. Hy het vanaf 1947 ook gereeld by die feeste in Salzburg, Luzern en Edinburgh opgetree. By Salzburg het hy vanaf 1949 tot 1954 opvoerings van Mozart-operas met die voorste Mozart-sangers van die tyd gedirigeer. In Brittanje het vele konserte plaasgevind met die Philharmonia Orkes wat kort tevore deur Walter Legge gestig is. Dit sluit die eerste uitvoering van Richard Strauss se Vier letzte Lieder met die groot sopraan Kirsten Flagstad in 1950 in. Verdere gasoptredes is so ver as Egipte, Buenos Aires, Besancon en Caracas gemaak. In 1951 het hy by La Scala ‘n opvoering van Gluck se Orfeo ed Euridice gedirigeer, maar die opname daarvan word helaas deur onbevredigende sang deur die soliste en koor bederf.

Furtwängler is in 1951 toegelaat om opnuut by die Bayreuth-fees te dirigeer, maar slegs in ‘n konsertuitvoering van Beethoven se negende simfonie. Die opname daarvan het terstond legendariese status bereik. Vanaf 1952 tot sy dood was hy nogeens hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes. In dié tyd het sy gehoor begin agteruitgaan weens longontsteking, maar hy het geweier om ‘n gehoorapparaat te dra. Hy het hierdie wending ervaar as ‘n kortwieking van sy lewenstaak om grootse musiek na liefhebbers daarvan te bring. Dit het meegebring dat sy laaste jare ten spyte van hernude roem deur swaarmoedigheid gekenmerk is. Ná die oorlog het hy slegs vier Ring-siklusse gedirigeer, almal in Italië: drie by La Scala in 1950 en ‘n Roomse radiokonsertreeks in 1953. Sy laaste optrede as dirigent was ‘n Weense ateljee-opname met ‘n uitmuntende Duitse rolverdeling van Die Walküre in September/Oktober 1954, as eerste aflewering van ‘n beplande Ring-siklus. Dit was terselfdertyd die eerste volledige ateljee-opname van dié epiese werk. Voorts was dit een van slegs drie ateljee-opnames van volledige operas wat hy gedirigeer het; die origes was van Tristan und Isolde (Londen 1952) en Fidelio (Wenen 1953). Sy afsterwe enkele weke later vanweë longpypontsteking is wêreldwyd deur musiekliefhebbers betreur. Tydens ‘n Londense herdenkingskonsert deur die Koninklike Filharmoniese orkes in 1955 het hul dirigent Thomas Beecham hulde aan Furtwängler se grootsheid gebring.

Ná 1927 het Furtwängler nie weer in die VSA opgetree nie, merendeels as gevolg van Sionistiese opruiing teen hom. Toe die direkteurskap van die Chicago Simfonie-orkes hom in 1948 aangebied is, het dit tot ‘n storm van protes gelei. Bekende musici soos Horowitz, Rubinstein, Brailowski, Piatigorski, Heifetz, Milstein, Stern, Pons en Kostelanetz het gedreig om nie weer met die orkes op te tree indien die Duitse dirigent aangestel word nie. Op sy beurt het Menuhin die beswaarmakers se gedrag as veragtelik bestempel. Die groot violis het goeie rede vir sy weersin gehad: reeds voor die einde van die oorlog het Heifetz sy kommer teenoor Menuhin uitgespreek oor ‘n verwagte toeloop van Europese kunstenaars na die VSA. Enkele jare later moes Rudolf Bing, die bestuurder van die Metropolitan Opera, insgelyks afsien van ‘n plan om die legendariese dirigent as hul musiekdirekteur aan te stel. Teen die einde van 1954 sou Furtwängler sy Berlynse orkes op ‘n Amerikaanse toer lei, maar sy dood het dit voorkom.

Vir Furtwängler was die einddoel van die dirigeerkuns die sensualisering van die geestelike en die vergeesteliking van die sensuele – ‘n treffende aanduiding van sy metafisiese benadering tot musiek. Hy was godsdienstig maar nie ‘n kerkganger nie. Talle musici wat met hom saamgewerk het, het getuig dat hulle as ‘t ware deur sy magnetiese kragte gehipnotiseer is. Sy diep filosofiese vertolkings van Wagner en Bruckner en sy meesterlike begrip van hul massiewe musiekstrukture word deur talle kenners as ongeëwenaard beskou. Ironies genoeg het hy slegs in vyf seisoene operas van Wagner by Bayreuth gedirigeer: in 1931 (Tristan), 1936 (Ring, Parsifal en Lohengrin), 1937 (Ring en Parsifal), 1943 en 1944 (beide Die Meistersinger). Ná die oorlog is hy nie weer toegelaat om Wagner by Bayreuth te dirigeer nie, maar gelukkig kon hy dit wel in Berlyn, Milaan, Londen en Turyn doen, met opnames wat sy oorheersende konsep van ‘eindelose melodie’ in Wagner vir die nageslag bewaar het. Met sy hoogs indiwidualistiese benadering was hy ook ‘n uitmuntende vertolker van die res van die Duitse Klassiek-Romantiese tradisie, veral van Beethoven en Brahms. In teenstelling met Wagner se siening het hy Beethoven se werke as suiwer musiek beskou en nie as programmusiek nie. Met die groot filharmoniese orkeste van Berlyn en Wenen het hy vanaf 1937 tot 1954 weergalose opnames van al nege simfonieë gemaak. Sy gunstelingsimfonie was Beethoven se vyfde, met ongeveer ‘n dosyn opnames oor ‘n tydperk van byna drie dekades (1926-54) wat nagelaat is. Hy het boeke oor Brahms en Bruckner geskryf.

‘n Verdere werk waarmee Furtwängler ‘n besondere verhouding gehad het, was Beethoven se negende simfonie. Volgens sy sekretaresse Berta Geissmar was elke uitvoering daarvan vir hom ‘n gewyde geleentheid, sodat hy dit byvoorbeeld nie tydens die Eerste Wêreldoorlog gedirigeer het nie. In die tussenoorlogse jare is die werk telkens aan die einde van sy jaarlikse konsertseisoene uitgevoer, waarvan die opbrengs vir die orkeste se pensioenfondse aangewend is. Minstens nege opnames is beskikbaar, met nog opnames wat van tyd tot tyd ontdek word. Die vroegste daarvan dateer uit 1937, met sy Berlynse orkes tydens die kroningsplegtigheid van Koning George VI in Londen. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy uitvoerings van die werk gebruik om sy woede en frustrasie oor die gebeure in Duitsland mee uit te druk. ‘n Onuitwisbare indruk is daarmee op oorlogtydse gehore gemaak, soos opnames van 1942 in Berlyn en 1943 in Stockholm kan getuig. Verdere opnames is ná die oorlog gemaak, waarin ‘n hernude sin van kalmte en perspektief aangetref word. Dit sluit uitvoerings in Wenen (1951, 1952 en 1953), Bayreuth (1951 en 1954), en Luzern (1954) in. Laasgenoemde was met die Philharmonia Orkes en was sy laaste uitvoering van die werk.

Interessant genoeg was Furtwängler as verbete klassikus ook ‘n kampvegter vir die musiek van sommige moderne komponiste. Só het hy die premières gedirigeer van Bartók se klavierkonsert nr.1, Prokofiëf se klavierkonsert nr. 5 en Strawinski se klavierkonsert, telkens met die betrokke komponis as solis. Hy het verder die eerste uitvoerings gegee van Hindemith se Konsert vir Orkes (1925), orrelkonsert (1929), altvioolkonsert (1930) en Mathis der Maler simfonie (1934), Schoenberg se Variasies, opus 31 (1928), Honegger se Chant de joie (1926) en Mouvement symphonique nr. 3 (1933), en Strawinski se Baiser de la fée suite (1938).

As jong musikus was Furtwängler vasbeslote om ‘n komponis te wees, met dirigeer as deeltydse aktiwiteit. Om praktiese redes en later die vereistes van roem is hy egter genoodsaak om hom voltyds aan die dirigeerkuns te wy, maar hy het nogtans dwarsdeur sy lewe gekomponeer. Sy vernaamste werke was ‘n Te Deum, drie simfonieë, Simfoniese Konsert (vir klavier en orkes), en twee vioolsonates. Die tweede simfonie word beskou as ‘n voortsetting van die laat-Romantiese tradisie van Bruckner, terwyl die Simfoniese Konsert meer die invloed van Brahms vertoon. Hy het daarby dikwels as pianis in kamermusiek gespeel en soms as solis met orkeste opgetree. Dit sluit opnames van Bach se Brandenburgkonsert nr. 5 in 1940 en 1950 met die Weense Filharmonie in. Voorts het hy in 1953 by die Salzburg-fees as klavierbegeleier vir Elisabeth Schwarzkopf in ‘n voordrag van Wolf-liedere gedien, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. Sy vermoëns as pianis is deur niemand minder nie as Claudio Arrau bewonder. Hy was twee keer getroud: eers met Zitla Lund, ‘n Deen, en later met Elisabeth. Interessant genoeg was die groot dirigent die vader van minstens vyf onwettige kinders, waarvan twee deur hom en Zitla aangeneem is.

Sleutelopnames: Beethoven se negende simfonie (Luzern); Haydn se simfonie nr. 88 (Berlyn); Richard Strauss se toondigte Don Juan, Till Eulenspiegel en Tod und Verklärung (Wenen 1950, 1954); Wagner se opera Tristan und Isolde (Londen 1952). Verdere opnames: Bach se Brandenburgkonserte nrs. 3 en 5, Orkessuite nr. 3, en Sint Mattheüspassie (Wenen 1954); Berlioz se La damnation de Faust (Luzern 1950, in Duits); Brahms se Ein deutsches Requiem (Stockholm 1948); Beethoven en Brahms se volledige simfonieë (tallose weergawes), en simfonieë van Bruckner (nrs. 4, 5, 7, 8 en 9), Franck (in D mineur), Mozart (nrs. 39 en 40), Schubert (nrs. 8 en 9), Schumann (nrs. 1 en 4) en Tsjaikofski (nr. 6); Beethoven se Grosse Fuge; Brahms se Haydn Variasies; sy eie tweede simfonie (3 weergawes); Hindemith se Die Harmonie der Welt, Konsert vir Orkes en Symphonische Metamorphosen; Liszt se Les préludes; Mahler se Lieder eines fahrenden Gesellen (Salzburg 1951 en Londen 1952, beide met Dietrich Fischer-Dieskau); Mozart se Serenades nrs. 10 en 13; Sibelius se En Saga; J. Strauss se Keiserwals; R. Strauss se Metamorphosen en Symphonia domestica; Wagner se Siegfried Idyll; ouvertures van Beethoven, Castro, Gluck, Mendelssohn, Nicolai, Pfitzner, Rossini, Schubert, Schumann, J. Strauss, Wagner en Weber; en die operas Fidelio (Salzburg 1948 en 1950, en Wenen 1953), Don Giovanni (Salzburg 1950, 1953 en 1954), Le nozze di Figaro (Salzburg 1953, in Duits), Die Zauberflöte (Salzburg 1949 en 1951), Otello (Salzburg 1951), Die Meistersinger von Nürnberg (Bayreuth 1943), Der Ring des Nibelungen (Milaan 1950 en Rome 1953), Die Walküre (Wenen 1954) en Der Freischütz (Salzburg 1954).

G

Gabrieli Consort and Players, Britse vokale en instrumentele ensemble wat in 1982 deur Paul McCreesh gestig is (sien verder onder McCreesh, Paul).

Gabrieli Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1967 deur Kenneth Sillito gestig is. Hul Londense debuut is in die jaar daarop gemaak, en sedertdien het hulle in 'n wye repertorium werke bekend geraak. Dit sluit heelwat moderne musiek in. Opnames: Brahms en Mozart se klarinetkwintette (beide met Thea King); Sibelius se klavierkwintet (met Anthony Goldstone); en verskeie strykkwartette van Dohnányi, Janácek, Schubert, Sibelius, Smetana en Walton.

Gabrilowitsj, Ossip (1878-1936), Russies-gebore pianis, dirigent en komponis. Hy het in Sint Petersburg onder die komponiste Anton Rubinstein, Liadof en Glazoenof studeer. Daarna het verdere studies in Wenen onder Theodor Leschetizky gevolg. In 1896 is sy debuut as pianis in Berlyn gemaak, waarna hy deur Europa en die VSA getoer het. Vanaf 1905 het hy ook as dirigent opgetree, onder andere in Wenen en Parys. In die Oostenrykse hoofstad was hy in 1906 'n repetiteur vir Gustav Mahler, met wie hy bevriend sou raak. Hy het die groot komponis bygestaan tydens inoefeninge vir die première van sy sesde simfonie. Vanaf 1910 was hy vir vier jaar dirigent van die München Konsertvereniging. Daarna het hy in die VSA gaan woon, waar hy vanaf 1918 tot 1935 die Detroit Simfonie-orkes gedirigeer het. In dié land het hy sy konserttoere hervat en vanaf 1928 saam met Leopold Stokowski ook die Philadelphia Orkes gedirigeer. Hy was getroud met die skrywer Mark Twain se dogter Clara, wat ‘n alt was.

Gadski, Johanna (1872-1932), Duitse sopraan. Nadat sy in 1889 by die Kroll Oper in Berlyn in Lortzing se Undine gedebuteer het, was sy vir vyf jaar aan dié operahuis verbonde. Haar Amerikaanse debuut het in 1895 by die Metropolitan Opera plaasgevind, waarna sy vir drie seisoene Wagner-rolle met die Damrosch Operageselskap by die Met gesing het. Sy het in 1898 by Covent Garden gedebuteer. In die jaar daarop het sy die rol van Eva in Die Meistersinger von Nürnberg by die Bayreuth-fees gesing. Vanaf 1900 was sy vir sewentien jaar aan die Met verbonde, waar sy meesal in operas van Verdi en Wagner opgetree het. Sy was ook ‘n begaafde Donna Anna in Don Giovanni. Heelwat later, vanaf 1929, het sy gesing in ‘n Wagner-geselskap wat deur die VSA getoer het. Sy het in die Duitse hoofstad in ‘n motorongeluk gesterf. Opnames: arias uit die genoemde Mozart-opera.

Galli-Curci, Amelita (1882-1963), Italiaanse sopraan. Ná studies in klavier en komposisie in Milaan, maar voordat sy enige sangafrigting ontvang het, het sy in 1906 haar debuut in Trani gemaak. Dit was as Gilda in Rigoletto, waarna sy wyd deur Europa en Suid-Amerika opgetree het. In 1916 is haar Amerikaanse debuut in Chicago gemaak, en tot 1924 sou sy aan die Chicago Opera verbonde wees. Sy het ook gesing by die Metropolitan Opera (1921-30), waar sy as Violetta in La Traviata gedebuteer het. In 1937 het sy uitgetree. Met haar soet, suiwer stem en behendige sang was sy wêreldbekend in die koloratuurrolle van Italiaanse en Franse opera. Benewens die genoemde rolle was sy uitmuntend as Mimì in La Bohème, Elvira in I Puritani, Leila in Les Pêcheurs de perles, die titelrolle in Madama Butterfly, Lucia di Lammermoor en Lakmé, en die vroulike hoofrol in Roméo et Juliette. Sy het opnames van 'n hele aantal arias en liedere nagelaat.

Galliera, Alceo (1910-1996), Italiaanse dirigent en komponis. Hy het klavier, orrel en komposisie aan die Konserwatorium in sy geboortestad Milaan studeer. aanvanklik aan die Milaan Konserwatorium onderrig gegee, en in 1941 is sy dirigeerdebuut in Rome gemaak. Daarna het hy as gasdirigent met talle orkeste opgetree, onder andere in opera by La Scala. In 1948 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer en in 1950/1 was hy dirigent van die Melbourne Simfonie-orkes. Verdere dirigeerposte is beklee in Genua (1957-60) en Strasbourg (1964-71). Hy het daarby as orkesbegeleier vir 'n groot aantal beroemde musikante opgetree, insluitend sangers, pianiste, violiste en tjelliste. Onder sy hoogaangeskrewe opnames tel orkeswerke van Ravel en die opera Il barbiere di Siviglia. Laasgenoemde is in 1958 in Londen met Maria Callas en Tito Gobbi gemaak.

Gallois, Patrick (1956-), Franse fluitspeler. Hy het op 17 met musiekstudies aan die Parys Konserwatorium onder Jean-Pierre Rampal en Maxence Larrieu begin. Sy tweede instrument was die kontrabas, en daarby het hy skilderkuns en wiskunde studeer. Na voltooiing van sy studies het hy ‘n fluitspeler in die Lille Filharmoniese Orkes geword. Hy het op 21 by die Franse Nasionale Orkes in Parys aangesluit. Sedert 1984 volg hy ‘n vryskutloopbaan as solis. Met sy moeitelose spel gekenmerk deur verfyndheid en intelligensie het hy wêreldbekend as virtuoos geraak. As dirigent het hy ‘n voortreflike opname van orkesuittreksels uit Kraus se opera Aeneas in Carthago met die Sinfonia Finlandia gemaak. Sleutelopnames: C.P.E. Bach se fluitkonserte Wq.22 en Wq.166-169 (onder Kevin Mallon), en sy Sonate vir solofluit Wq.132; Vivaldi se 6 fluitkonserte, opus 10 (met die Orpheus Kamerorkes). Verdere opnames: Nielsen en Rautavaara se fluitkonserte.

Galway, James (1939-), Ierse fluitspeler. Ná studies in Londen en Parys was hy ‘n fluitspeler in die orkeste van Sadler's Wells (1960-5) en Covent Garden (1965). Daarna was hy eerste fluitspeler van die Londense Simfonie-orkes (1966/7), die Koninklike Filharmoniese Orkes (1967-9) en onder Herbert von Karajan in die Berlynse Filharmoniese Orkes (1969-75). Sedertdien het hy as solis met bekende orkeste en in kamermusiek gespeel. In 1977 is die OBE aan hom toegeken. Hy is een van die voorste fluit-virtuose ter wêreld, met ‘n repertorium wat vanaf Barok- tot moderne musiek strek. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1990 gemaak, en in 2001 is hy tot ridder geslaan. Opnames: fluitkonserte van C.P.E. Bach, Khatsjatoerian, Mercadante, Mozart, Quantz en Vivaldi; fluitsonates of -suites van Dvorák, Fauré, Martinu en Widor; Rodrigo se Concierto pastorale (wat vir hom geskryf is); en sy eie verwerkings van ‘n aantal Debussy-werke en van Vivaldi se Vier Seisoene.

Gamba, Pierino (1937-), Italiaanse pianis en dirigent. Hy was ‘n wonderkind wat as agtjarige Beethoven se eerste simfonie by die Roomse Opera gedirigeer het. Daarna het hy deur Europa en die Amerika’s getoer, en in 1948 is sy Londense debuut gemaak. Vier jaar later het hy in Madrid gaan woon. Vanaf 1959 het hy vir vier jaar gereeld in Londen gedirigeer, waartydens hy ‘n uitmuntende opname van Rossini-ouvertures met die Londense Simfonie-orkes gemaak het. Hy was later musiekdirekteur van die Winnipeg Simfonie-orkes (1970-81) en die Adelaide Simfonie-orkes (1980-8).

Gamba, Rumon (1973-), Engelse dirigent. Hy het musiek studeer aan die Universiteit van Durham en die Koninklike Musiekakademie in Londen. By laasgenoemde het hy die eerste student in dirigeerkuns geword om die voordraersdiploma te verwerf. Verdere studies is onder die dirigente Colin Davis, George Hurst, Martyn Brabbins en Mark Wigglesworth onderneem. In 1997 is hy as die Britse verteenwoordiger by die internasionale meesterklas vir dirigente aangewys. Nadat hy in 1998 ‘n BBC-kompetisie gewen het, het hy assistent-dirigent van die BBC Filharmoniese Orkes geword. Hy het hul op toere deur kleiner Britse stede gelei en reeds ‘n aantal hoogstaande opnames met hul gemaak. Daarby verskyn hy as gasdirigent met bekende Britse orkeste. Sleutelopname: ‘n versameling rolprentmusiek van Bliss (BBC Filharmonie). Verdere opnames: ‘n versameling ouvertures van Arnold; versamelings rolprentmusiek van Auric, Bax, Hawsthorne en Vaughan Williams.

Ganz, Rudolph (1877-1972), Switsers-gebore pianis, dirigent en komponis. Hy het in Zürich, Lausanne, Strasbourg en onder die pianis-komponis Ferruccio Busoni in Berlyn studeer. Later het hy hom in die VSA gevestig en ‘n Amerikaanse burger geword. Vanaf 1901 het hy vir vyf jaar onderrig aan die Chicago Musiekkollege gegee en in 1934 het hy president daarvan geword. Hy was vanaf 1921 tot 1927 ook dirigent van die Sint Louis Simfonie-orkes.

Gardelli, Lamberto (1915-), Italiaans-gebore dirigent en komponis. Aanvanklik was hy ‘n assistent vir Tullio Serafin by die Roomse Opera, totdat hy in 1944 sy dirigeerdebuut met La Traviata in die Italiaanse hoofstad gemaak het. Daarna het hy in Skandinawië gedirigeer, eers by die Stockholm Opera (1946-55) en vervolgens by die Deense Nasionale Simfonie-orkes (1955-61). In dié tyd het hy Sweedse burgerskap aanvaar. Hy was daarna musiekdirekteur van die Boedapest Opera (1961-5) en hoofdirigent van die München Radio Simfonie-orkes (1983-8). Intussen het hy gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1964), die Metropolitan Opera (1966) en Covent Garden (1969). Hy het by laasgenoemde teater ‘n puik opvoering van La Bohème gedirigeer, met ‘n beeldopname wat gemaak is. Vanaf 1986 was hy vir drie jaar weer aan sy voormalige Deense orkes verbonde en vanaf 1990 het hy nogeens sy ou pos in Boedapest beklee. Tesame met Toscanini en Serafin was hy een van die twintigste eeu se mees begaafde dirigente van Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Hy verdien veral krediet vir sy herlewing van ‘n hele aantal verwaarloosde operas. Verdere opnames: Respighi se orkeswerke Die Denne van Rome en Die Fonteine van Rome; en die operas Djamileh, Medea, Fedora, Le Cinesi, La Fiamma, Semirama, Guillaume Tell, Alzira, Attila, La Battaglia di Legnano, Il Corsaro, La forza del destino, I due Foscari, Un giorno di regno, I Lombardi, Macbeth, I Masnadieri, Nabucco, Oberto, Stiffelio en La Traviata.

Garden, Mary (1874-1967), Skots-gebore sopraan. As kind het sy na die VSA geëmigreer, waar sy in Chicago studeer het, en in 1895 het sy haar in Parys gevestig. In Frankryk sou sy wêreldroem in Franse opera verwerf, vandat sy in 1900 haar debuut in Charpentier se Louise gemaak het. Twee jaar later het sy die vroulike hoofrol tydens die première van Debussy se Pelléas et Mélisande geskep, en in 1905 in Monte Carlo ook die titelrol in Massenet se Chérubin. Sy het in 1902/3 by Covent Garden gesing en vanaf 1907 tot 1910 by die Manhattan Opera in New York. Vanaf 1910 was sy aan die Chicago Opera verbonde, waar sy in die jaar daarop in ‘n heuglike opvoering van Cendrillon teenoor Maggie Teyte opgetree het. Sy was vanaf 1920 tot 1931 die direkteur van die Chicago Opera. In 1934 het sy uit opera getree, en vanaf die volgende jaar het sy aan die Chicago Musiekkollege onderrig gegee. Sy het in 1939 na haar geboorteland teruggekeer.

Gardiner, John Eliot (1943-), Engelse dirigent en musiekgeleerde. Hy is ‘n kleinneef van die komponis Balfour Gardiner, wat op sy beurt ‘n weldoener van die komponiste Delius en Holst was. Terwyl hy ‘n student aan die Universiteit van Cambridge was, het hy die Monteverdi Koor in 1964 gestig vir ‘n herlewing van die groot komponis se Vespro della Beata Vergine, ‘n werk wat hom reeds as kind betower het. Hy het mettertyd ook die Monteverdi Orkes (1968) en die Engelse Baroksoliste (1978) gestig, laasgenoemde vir die uitvoering van vroeë musiek op eietydse instrumente. Sy professionele debuut het in 1966 plaasgevind, en twee jaar later het hy die jongste dirigent nóg by die Promenade-konserte in Londen geword. Operadebute is gemaak by Sadler’s Wells (1969) en Covent Garden (1973), en vanaf die laat 1960’s het hy werke van Monteverdi en Rameau geredigeer. Hy het in 1982 die eerste verhoogproduksie van Rameau se opera Les Boréades in Aix-en-Provence gedirigeer. Verder was hy hoofdirigent van die Kanadese Uitsaaikorporasie-orkes in Vancouver (1980-3), artistieke direkteur van die Handel-fees in Göttingen (1981-90), musiekdirekteur van die Lyon Opera (1982-8) en hoofdirigent van die Noord-Duitse Radio Simfonie-orkes in Hamburg (1991-4). In Lyon het hy operas van Chabrier, Charpentier, Debussy, Handel en Leclair gedirigeer. Hy het in 1989 in die Sint Markuskatedraal die genoemde werk van Monteverdi gedirigeer, met ‘n uistekende DVD wat van die uitvoering gemaak is.

Die jaar 1990 was van besondere belang vir Gardiner: hy het by die Salzburg-fees gedebuteer, die CBE is aan aan hom toegeken, en hy het die Orchestre Révolutionnaire et Romantique (ORR) gestig vir die uitvoering van Romantiese werke volgens eietydse praktyke. In 1993 het hy hulle in die eerste hedendaagse uitvoering van Berlioz se Messe solennelle in Parys gedirigeer, met ‘n briljante opname wat daarvan getuig. Hy het die ORR in die 1990’s ook in opwindende opnames van Beethoven se volledige simfonieë gelei. Sy opname van ‘n versameling vokale werke van sy landgenoot Percy Grainger het in 1996 ‘n Gramophone-toekenning verwerf. Hy is wêreldberoemd vir sy rewolusionêre dog meesterlike vertolkings in ‘n enorme repertorium vanaf Renaissance- tot Romantiese musiek. Dit sluit die operas van Gluck, Handel, Monteverdi, Mozart en Purcell in, waarin hy tans nouliks sy gelyke het. Met die 250ste herdenking van Bach se dood in 2000 het hy die volledige gewyde kantates (altesaam 200) van dié musiekreus in verskeie kerke in Europa en die VSA gedirigeer, tydens hul toepaslike dae in die liturgiese jaar. ‘n Groot aantal daarvan is opgeneem en op kompakskyf vrygestel. Sy opvoering met die ORR van Berlioz se massiewe opera Les Troyens by die Chatelet Teater in 2003 is op DVD opgeneem.

Sleutelopnames (met die Engelse Baroksoliste tensy anders aangedui): Bach se Kantates nrs. 113, 179 en 199 (op DVD), nrs. 140 en 147, asook sy Kersfeesoratorium, Mis in B mineur, Sint Johannes- en Sint Matteuspassies; Beethoven se volledige simfonieë (ORR) en Missa Solemnis; Brahms se Ein deutsches Requiem; Handel se Dixit Dominus, en oratoriums Israel in Egypt en Solomon; Haydn se Misse nrs. 11 en 12, en Te Deum in C; Holst se The Planets; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine (Venesië 1989); Purcell se Come, Ye Sons of Art Away, Funeral Music for Queen Mary, en geleentheidsmusiek vir The Indian Queen en The Tempest (1976-82); Schumann se 4 simfonieë; Schütz se Musicalisches Exequien en 4 motette; en die operas Iphigénie en Tauride (Lyons), Orfeo ed Euridice, L'incoronazione di Poppea, Così fan tutte en Le nozze di Figaro (lg. 2 op DVD), The Fairy Queen en Oberon (in Engels). Verdere opnames: simfonieë van Brahms (nr. 2), Mendelssohn (nrs. 4 en 5) en Mozart; orkeswerke van J.S. Bach, Brahms, Chabrier, Couperin, Dvorák, Handel, Janácek en Rachmaninof; kerkmusiek van Carissimi, Cavalli, Clement en G. Gabrieli; Beethoven se opera Leonore (die oorspronklike weergawe van Fidelio); Berlioz se L’enfance du Christ, Messe solennelle en Symphonie fantastique; Britten se Spring symphony en War Requiem; Brahms se Alt Rapsodie en ‘n aantal koorwerke; Campra se Requiem; Gluck se ballet Don Juan; Grainger se balletmusiek The Warriors; Handel se Acis and Galatea en Alexander's Feast; Humfrey se O Lord my God; Mozart se Requiem; Purcell se Dioclesian en Timon of Athens; D. Scarlatti se Stabat Mater; Schumann se Das Paradies und die Peri, Requiem für Mignon en Nachtlied; Verdi se Requiem; Weill se ballet Die sieben Todsünden; die operette Die lustige Witwe; en die operas L'Etoile, Iphigénie en Aulide, La recontre imprévue, Agrippina, Hercules, Jephta, Semele, Tamerlano, Fortunio, Orfeo, Les Boréades, La clemenza di Tito, Don Giovanni, Die Entführung aus dem Serail, Idomeneo, Die Zauberflöte, Les brigands, The Indian Queen, King Arthur, Le Comte Ory en The Rake’s Progress.

Garrard, Don (1929-), Kanadese bas. Hy het in Santa Barbara, Kalifornië onder die legendariese sopraan Lotte Lehmann studeer, asook aan die Toronto Konserwatorium. Vir ‘n tyd was hy aan die Kanadese Operageselskap verbonde, totdat verdere studies in New York en Milaan gevolg het. In 1961 het hy ‘n lid van die Sadler’s Wells Opera in Londen geword, waarna hy ook by die Skotse Opera en die Walliese Nasionale Opera sou sing. Drie jaar later het hy by die Aldeburgh-fees in die première van Britten se Curlew River opgetree. Nog debute is gemaak by Covent Garden (1970) en die Glyndebourne-fees (1973). Oor die jare heen het hy in meer as honderd rolle verskyn by vele operahuise in Europa, Noord-Amerika, Israel en Suid-Afrika. Daaronder tel die titelrolle in Bloubaard se Kasteel en Boris Goedoenof, en Sarastro in Die Zauberflöte, Padre Guardiano in La forza del destino en Wotan in die Ring-siklus. Hy het in vele radio-opnames van die Britse, Kanadese en Nederlandse uitsaaidienste gesing, waaronder La forza del destino by die BBC in 1981. Verder het hy die rol van Trulove in ‘n hoogstaande opname van Strawinski se The Rake’s Progress onder die komponis self vertolk. Hy is ‘n ontvanger van die Britse Koningin se Jubileum-medalje vir uitstekende artistieke prestasie.

Garrett, Lesley (1955-), Engelse sopraan. Sy het aan die Koninklike Musiakakademie studeer en was in 1979 ‘n medewenner van die Kathleen Ferrier-prys. In die jaar daarop is haar operadebuut in Londen en haar debuut by die Wexford-fees gemaak. Sedert 1984 is sy verbonde aan die Engelse Nasionale Opera, waar sy opslae gemaak het toe sy tydens ‘n opvoering van Die Fledermaus haar rug vir die gehoor ontbloot het. In dieselfde jaar het sy by die Glyndebourne-fees gedebuteer. Sy is gewild in ligter rolle soos Euridice in Orfeo ed Euridice, Susanna in Le nozze di Figaro, Despina in Così fan tutte, die titelrol in Zaide, Musetta in La Bohème, Adèle in Le Comte Ory, die titelrol in Die geslepe klein wyfievos en Yum-Yum in The Mikado. Onder die breër publiek is sy ewe bekend vir haar solo-opnames en televisie-optredes, met ‘n TV-debuut wat in 1996 gemaak is.

Gatti, Daniele (1962-), Italiaanse dirigent. Hy het in 1982 sy operadebuut in Milaan gemaak met Verdi se Giovanna d’Arco. Dit is later gevolg deur debute by La Scala (1988), in Chicago (1991) en by Covent Garden (1992). Vanaf 1992 was hy musiekdirekteur van die Santa Cecilia Akademie in Rome. Hy het Wladimir Asjkenazy in 1996 as musiekdirekteur van die Koninklike Filharmoniese Orkes opgevolg. By die Weense Staatsopera het hy in 2002 ‘n knap opvoering van Simon Boccanegra gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Hy het voorts in 2010 die Concertgebouw Orkes in Amsterdam in ‘n uitvoering van Mahler se vyfde simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is. Sleutelopnames: Respighi se Feste romane, Fonteine van Rome en Denne van Rome (Santa Cecilia); Tsjaikofski se vyfde simfonie en Romeo en Juliet Fantasie Ouverture. Verdere opnames: Mahler se vierde simfonie.

Gaubert, Philippe (1879-1941), Franse fluitspeler, dirigent en komponis. Hy het het in Parys studeer en vanaf 1919 aan die Konserwatorium in die Franse hoofstad onderrig gegee. Vanaf dieselfde jaar tot 1938 was hy ook dirigent van die Konserwatorium se konserte.

Gauci, Miriam (1958-), Maltese sopraan. Sy het aanvanklik sanglesse van haar sopraan-tante ontvang, en later het sy in Milaan aan die Verdi Konserwatorium en die La Scala Sangakademie studeer. Sy het internasionale sangkompetisies in Milaan, Treviso en Bologna gewen. Haar professionele debuut is in 1984 in Bologna in ‘n opvoering van Poulenc se La voix humaine gemaak. In die jaar daarop het sy by La Scala gedebuteer as Prosperino, in die eerste moderne herlewing van Rossini se Orfeo. Sy het in 1987 haar Amerikaanse debuut in Santa Fé in die titelrol van Madama Butterfly gemaak. Sedertdien tree sy by die voorste operahuise in Europa en die Amerika’s op, met van die bekendste sangers en dirigente van haar tyd. Met haar suiwer stem en elegante sang is sy uitmuntend in Italiaanse opera, veral dié van Puccini en Verdi. Dit sluit verdere rolle in soos Margherita in Mefistofele, Nedda in I Pagliacci, Mimi in La Bohème, Liu in Turandot, Elisabetta in Don Carlo, Desdemona in Otello, Amelia in Simon Boccanegra en Violetta in La Traviata, en die titelrolle in Anna Bolena, Manon Lescaut, Suor Angelica en Luisa Miller. Opnames: Beethoven se negende simfonie en Egmont-musiek; en die operas I Pagliacci, Madama Butterfly, Manon Lescaut en Simon Boccanegra (almal onder Alexander Rahbari).

Gaudier Ensemble, kamerorkes wie se lede aan ‘n verskeidenheid Europese orkeste verbonde is. ‘n Tweejarige verblyf by Kettle’s Yard aan die Universiteit van Cambridge het hulle in staat gestel om ‘n eiesoortige musikale identiteit te ontwikkel voordat daar met toere en opnames begin is. Hul Londense debuut is in 1989 gemaak, en sedertdien verskyn hulle as een van die beste kamerensembles van hul tyd dwarsdeur Europa in konsertsale en by musiekfeeste. Die ensemble het twee jaarlike kamermusiekfeeste ingestel: in Cerne Abbas, Dorset (1991) en in Leersum, Holland (1997). Hul pianis is die briljante Susan Tomes, wat ook met haar spel in ander ensembles naam gemaak het. Sleutelopnames: Beethoven se Houtblasersekstet en Septet; Francaix se Oktet, klarinetkwintet, Divertissement vir fagot en strykkwintet en L’Heure du berger; Mozart se horingkwintet, hobokwartet, Kwintet vir klavier en houtblasers en Kwintet-beweging K580b; Spohr se Oktet en Nonet. Verdere opnames: Berwald se Groot Septet, Kwartet vir klavier en houtblasers en klaviertrio nr. 2; Dvorák se klavierkwintet en strykkwintet nr. 2; Schubert se Oktet.

Gavazzeni, Gianandrea (1909-96), Italiaanse dirigent en komponis. Hy het hom aanvanklik op komposisie toegespits, maar in 1940 is sy dirigeerdebuut gemaak en mettertyd het hy die uitvoering van sy eie werke afgeraai. Vanaf 1948 was hy dirigent by La Scala, waar hy in 1957 gevierde opnames van Anna Bolena en Un ballo in maschera met Maria Callas in die vroulike hoofrolle gedirigeer het. Vanaf 1965 was hy vir drie jaar artistieke direkteur van La Scala. Verdere debute het plaasgevind by die Edinburgh-fees en in Chicago (beide in 1957), die feeste in Salzburg (1961) en Glyndebourne (1965), en by die Metropolitan Opera (1976). In 1970 het hy die orkes en koor van die Roomse Radio en TV in die eerste volledige opname van Bellini se opera Il Pirata gedirigeer. Sleutelopname: Mascagni se L’amico Fritz (Covent Garden 1969). Verdere opnames: Andrea Chénier, Cavalleria rusticana, Il Turco in Italia en Simon Boccanegra.

Gawrilof, Andrei (1955-), Russiese pianis. Hy het in 1974 die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen en in dieselfde jaar by die Salzburg-fees gedebuteer. Daarna het debute gevolg in Londen (1976) en New York (1985), terwyl hy by verskeie Europese musiekfeeste ‘n bekende figuur geword het. Hy is ‘n uitmuntende vertolker van Russiese musiek en voortreflik in die Romantiese repertorium oor die algemeen. Sleutelopnames: Handel se Klawerbordsuites nrs. 1, 4, 6, 7, 10, 11, 13 en 15 (Tours 1979). Verdere opnames: klavierkonserte van Prokofiëf, Rachmaninof (nrs. 2 en 3) en Tsjaikofski; Rachmaninof se Paganini Rapsodie (onder Muti); Strawinski se Sonate en Konsert vir twee klaviere (beide met Asjkenazy); en solowerke van Chopin, Rachmaninof en Schubert.

Gawrilof, Sasjko (1929-), Duitse violis van Bulgaarse afkoms. Sy vader het in die beroemde Leipzig Gewandhaus orkes gespeel, sodat aanvanklike lesse van hom ontvang is. Mettertyd het hy aan die stad se konserwatorium en in Berlyn studeer, en vanaf 1947 tot 1966 was hy ‘n konsertmeester in ‘n aantal Duitse orkeste. Hy het in 1953 internasionale kompetisies in München en Berlyn gewen, en ses jaar later ook die Paganini-kompetisie in Genua. Vanaf 1959 het hy in Nürnberg, Detmold en Essen onderrig gegee, en vanaf 1963 ook by die internasionale somerklasse vir nuwe musiek in Darmstadt. Hy het Max Rostal in 1982 as hoogleraar in viool aan die Keulen Konserwatorium opgevolg. As bekende in hedendaagse musiek het hy in die premières van kamerwerke deur Ligeti, Rihm en andere gespeel. Sleutelopname: Ligeti se vioolkonsert (onder Boulez).

Gedda, Nicolai (1925-), Sweeds-gebore tenoor. Hy is as jong kind aangeneem deur Russiese ouers wat vir ‘n tyd in Duitsland gewoon het, sodat hy vanaf vroeë leeftyd aan ‘n aantal tale blootgestel is. Aanvanklik het hy onder sy vader, wat vroeër ‘n lid van die Don Kossakke-koor in Kuban en later ‘n koormeester van die Russies-Ortodokse kerk in Leipzig was, studeer. Verdere studies het gevolg aan die Sweedse Koninklike Musiekakademie en in 1951 is sy debuut in die Sweedse hoofstad gemaak. In dieselfde jaar het hy die rol van Grigori in ‘n opname van Boris Godoenof onder Dimitri Mitropoulos gesing. Verdere debute het gevolg by La Scala (1953), Covent Garden (1954), Wenen en die Salzburg-fees (beide in 1957). Hy het in 1957 by die Metropolitan Opera in die titelrol van Faust gedebuteer, waarna hy tot 1979 aan dié operahuis verbonde sou wees. Daar het hy in 1958 die rol van Anatol tydens die première van Barber se opera Vanessa geskep, met ‘n opname wat onder Mitropoulos gemaak is. Met sy suiwer stem en besondere veeltaligheid (hy was nie minder nie as 7 tale magtig) was hy wêreldberoemd in ‘n wye repertorium liriese rolle in Duitse, Italiaanse, Franse en Russiese operas. Dit het naas die genoemde rolle ingesluit Vincent in Mireille, Lionel in Martha, die Blinde Regter in Das Wunder der Heliane, die Markies in Zar und Zimmermann, Des Grieux in Manon, Ferrando in Così fan tutte, Don Ottavio in Don Giovanni, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, Tamino in Die Zauberflöte, Kuragin in Oorlog en Vrede, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly, Arnoldo in Guillaume Tell, Narciso in Il turco in Italia, die Prins in Padmâvatî, die Italiaanse Tenoor in Der Rosenkavalier, die Skaapwagter in Oedipus Rex, Vaudemont in Iolanta, Adolar in Euryanthe, en die titelrolle in La damnation de Faust, Fra Diavolo, Werther, Idomeneo, Les contes d'Hoffmann, Palestrina en Abu Hassan.

Verder was Gedda begaafd in operetterolle soos die Goewerneur in Candide, Sou-Chong in Das Land des Lächelns, Symon in Der Bettelstudent, die Hertog in Eine Nacht in Venedig en Eisenstein in Die Fledermaus. Anders as talle ander operasangers het hy nie ‘n bohaai opgeskop wanneer hy oor iets ongelukkig was nie, sodat hy besonder maklik was om mee saam te werk. As konsertsanger het hy veral uitgeblink in gewyde werke. Hy het in 1975 met die koor van die Russies-Ortodokse katedraal in Parys in ‘n opname van Ortodokse kerkmusiek gesing. Tot diep in sy sewentigs sing hy nog, byvoorbeeld in ‘n 1993-opname van Russiese volksliedere met die Russiese Soliste, en as die Hoëpriester in ‘n 2003-opname van Idomeneo onder David Parry. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Karajan); Beethoven se negende simfonie (onder Cluytens) en Christus am ölberge (as Jesus); Berlioz se L’Enfance du Christ (onder Cluytens); Elgar se The Dream of Gerontius (onder Boult); Janácek se Die dagboek van een wat verdwyn het; Jean-Jacques Rousseau se Le Devin du village; Schumann se Szenen aus Goethes faust (as beide Ariel en Pater Ecstaticus) en Requiem (onder Klee); Verdi se Requiem (onder Giulini); die genoemde operettes van Bernstein, Lehár, Millöcker en Johann Strauss, asook Die lustige Witwe, Wiener Blut en Der Zigeunerbaron; die genoemde operas van Auber, Barber, Berlioz, Flotow, Gounod, Korngold, Lortzing, Massenet, Moessorgski, Mozart, Prokofiëf, Puccini, Rossini, Roussel, Strawinski, Tsjaikofski en Weber, asook Die barbier van Baghdad, Dame Macbeth van Mtsensk, Capriccio en Jolanta.

Gencer, Leyla (1924-2008), Turkse sopraan. Sy het op 16 aan die Ankara Konserwatorium begin studeer, en in 1950 is haar debuut by die stad se staatsteater in Cavalleria rusticana gemaak. Drie jaar later het sy na Italië verhuis, waar sy in verskeie operahuise insluitend La Scala sou sing. Sy het in 1957 in die wêreldpremière van Poulenc se Dialogue des Carmelites die rol van Madame Lidoine geskep. Haar Amerikaanse debuut is in 1956 in San Francisco in Francesca da Rimini gemaak, en haar Covent Garden-debuut in 1962. Met ‘n bekendheid veral in bel canto rolle asook Mozart en Verdi het sy wyd deur Europa en die VSA opgetree, onder gevierde dirigente soos Karajan, Solti, Serafin en Muti. Haar repertorium sou mettertyd nie minder nie as 62 rolle behels. Vanaf die middel 1970’s het sy minder opera gesing ten einde meer op voordragte te konsentreer. Haar afskeidsoptrede in opera was in 1985 in Venesië, waar sy besonder gewild was. Sedert 1995 word ‘n sangkompetisie wat na haar vernoem is in Istanbul gehou. Sy het in ‘n aantal filmopnames van operas verskyn, insluitend Werther, Don Giovanni, Il trovatore en Aida.

Gendron, Maurice (1920-90), Franse tjellis. Hy het in 1945 sy solo-debuut in Londen gemaak tydens die Europese première van Prokofiëf se eerste tjellokonsert. Daarna het hy wêreldwyd as solis getoer en dikwels by die Aldeburgh-fees opgetree. Daar het hy in 1963 met Benjamin Britten as pianis en Yehudi Menuhin as violis in voortreflike opnames van klaviertrios deur Beethoven, Bridge en Mozart gespeel. Hy het meesterklasse in Frankryk en Duitsland gegee, en in 1971/2 was hy ‘n assistent-dirigent van die Bournemouth Sinfonietta. Sy spel is gekenmerk deur ryk toonkleur, elegansie en fyn afwerking, en hy was ongelukkig om in sy fleur deur sy beroemde landgenote Jacques Fournier en Paul Tortelier oorskadu te word. Hy het vir langer as 30 jaar ‘n Stradivarius-tjello wat in 1693 gemaak is, bespeel. Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide tjellosuites; tjellokonserte van Boccherini, Dvorák en Schumann; tjellosonates van Debussy, Fauré en Schubert; Saint-Saëns se Die Swaan; Schubert se 2 klaviertrios (met Yehudi en Hephzibah Menuhin); en Tsjaikofski se Rococo Variasies (onder Ansermet, 1954).

Gens, Véronique (1966-), Franse sopraan. Sy het aan die Parys Konserwatorium studeer, waar sy ‘n eerste prys verwerf het. Haar debuut is in 1986 met die ensemble Les Arts Florissants onder William Christie gemaak, waarna sy spoedig in Barokmusiek naam begin maak het. Onder Jean-Claude Malgoire het sy begin om ook Mozart-rolle soos Cherubino in Le nozze di Figaro en Vitellia in La clemenza di Tito te sing. Verdere rolle waarin sy uitblink, sluit in die titelrol in Agrippina, Prosperina in Orfeo, die Grafin in Le nozze di Figaro, Fiordiligi in Cosi fan tutte, Donna Elvira in Don Giovanni, Dido in Dido and Aeneas, Iphise in Dardanus, en beide sopraanrolle in King Arthur. Daarby is sy met haar buitengewone stemreeks begaafd in gewyde werke van Bach, Handel, Mozart en Berlioz. Sy gee ook wyd deur Europa liedere-voordragte. Opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Herreweghe); uittreksels uit Canteloube se Chants d’Auvergne (onder beide Casadesus en Baudo); Galuppi se motet Confitebor tibi (met Gérard Lesne); A. Scarlatti se oratorium La Santissima Trinitá (as Goddelike Liefde); die genoemde operas van Purcell en Rameau, asook Agrippina, Orfeo, Cosi fan tutte en Le nozze di Figaro.

Genz, Christoph (1971-), Duitse tenoor. Hy het soos sy broer Stephan aanvanklik in die Sint Thomas-seunskoor in Leipzig gesing, waarvan niemand minder nie as J.S. Bach in die agtiende eeu die dirigent was. Studies aan die King’s College in Cambridge het gevolg, waar hy in hul beroemde koor gesing het. Hy het verder studeer aan die Leipzig Konserwatorium onder Hans-Joachim Beyer en het ook privaatlesse van Elisabeth Schwarzkopf ontvang. Sangpryse is gewen in die Bach-kompetisie in Leipzig en die internasionale sangkompetisie in Grimsby, Engeland. Hy tree wyd deur Europa in konserte en liedere-voordragte op. Opnames: enkele kantates van Bach en sy Sint Johannespassie; C.PE. Bach se oratorium Die Auferstehung und Himmelfahrt Jesu; Graun se kantate Der Tod Jesu; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Helmuth Rilling); ‘n versameling arias en duette van Mozart (met Stephan, onder Sigiswald Kuijken); en die opera Ariadne auf Naxos (as Birghella, onder Giuseppe Sinopoli).

Genz, Stephan (1973-), Duitse bariton. Aanvanklik het hy soos sy broer Christoph in die Sint Thomas-seunskoor in Leipzig gesing. Verdere studies is aan die Leipzig Konserwatorium onder Hans-Joachim Beyer onderneem. Hy het vanaf 1994 aan die Karslruhe Staatskonserwatorium onder die bekende sanger-egpaar Mitsuko Shirai en Hartmut Holl studeer. Privaatlesse is ook van Dietrich Fischer-Dieskau en Elisabeth Schwarzkopf ontvang. Onder die pryse wat hy gewen het, tel die Brahms-kompetisie in Hamburg (1994) en die internasionale Wolff-kompetisie in Stuttgart. Hy tree wyd deur Europa in opera, konserte en liedere-voordragte op, met ‘n Londense debuut wat in 1997 gemaak is. Sy repertorium sluit operarolle in soos die Harlekyn in Ariadne auf Naxos en Olivier in Capriccio. Sleutelopname: ‘n versameling liedere van Beethoven (begelei deur Roger Vignoles). Verdere opnames: C.P.E. Bach se oratorium Die Auferstehung und Himmelfahrt Jesu; Graun se kantate Der Tod Jesu; Mahler se liedere-siklusse Kindertotenlieder, Lieder eines fahrenden Gesellen en Lieder und Gesänge (begelei deur Vignoles); ‘n versameling arias en duette van Mozart (met Christoph, onder Sigiswald Kuijken); liedere van Beethoven en Wolff; en die genoemde operas van Richard Strauss.

George, Michael (?-), Engelse bas-bariton. Hy was ‘n koorsanger by King’s College, Cambridge onder die gevierde dirigent David Willcocks. Daarna het hy aan die Koninklike Musiekkollege in Londen studeer, waar hy ‘n aantal pryse gewen het. Sedertdien het hy wye bekendheid in vroeë musiek verwerf, met optredes onder beroemde dirigente soos Harry Christophers, Robert King en Philip Pickett. Hy het deelgeneem aan King se projek om die volledige gesange, dienste en liedere van Purcell op te neem. Daarby het hy die rol van Christus gesing in Paul Hillier se 1988-opname van Pärt se Sint Johannespassie, wat ook op DVD uitgereik is. Sleutelopnames: Handel se oratorium Joshua (as Caleb, onder King); Zelenka se Lamentations Jeremiae Prophete (met die Chandos Baroque Players). Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur; Blow se Venus and Adonis (as Adonis); Elgar se oratorium The Dream of Gerontius; Handel se Acis and Galatea, Dixit Dominus, Nisi Dominus, Silete venti, en oratoriums Deborah (as Abinoam), Esther, Judas Maccabeus, Messiah en The Occasional Oratorio; Monteverdi se opera Orfeo; en ‘n versameling koorwerke van Zelenka.

Georgiadis, John (?-), Engelse violis en dirigent. Ná vioolstudies aan die Koninklike Musiekakademie het hy orkesleier geword van die Stad Birmingham Simfonie-orkes en daarna van die Londense Simfonie-orkes. In laasgenoemde ensemble het hy dikwels onder die legendariese dirigent Leopold Stokowski gespeel. Hy het as orkesleier ook uitgeblink in Jewgeni Swetlanof se uitstekende opname van Rimski-Lorsakof se Scheherazade in 1978. Sedert die stigting van die London Virtuosi in 1972 was hy hul musiekdirekteur, en vanaf 1987 het hy vir drie jaar eerste viool in die Gabrieli Kwartet gespeel. Studies in dirigeerkuns onder die gevierde Sergiu Celibidache het tot ‘n loopbaan as dirigent gelei. Hy het in 1991 hoofgasdirigent van die Queensland Filharmoniese Orkes geword. Sleutelopnames: Weber se 2 simfonieë en enkele opera-uittreksels (Queensland). Verdere opnames: ‘n versameling orkeswerke van Fauré.

Gergijef, Walery (1953-), Russiese dirigent. Hy het in Noord-Ossetië in die Kaukasus grootgeword, waar hy in die hoërskool met klavierlesse begin het. Vanaf 1972 het vir vyf jaar dirigeerkuns aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium studeer, meesal onder die gevierde Ilja Musin. Hy het 1977 ‘n tweede prys in die Karajan-dirigeerkompetisie gewen en ‘n assistent-dirigent by die Kirof Opera in Leningrad geword. Sy debuut is met ‘n opvoering van Prokofiëf se Oorlog en Vrede gemaak. Vanaf 1981 was hy vir vier jaar hoofdirigent van die Armeense Staatsimfonie-Orkes. Sy Britse debuut is in 1985 by die Lichfield-fees gemaak, tesame met sy beroemde landgenote Jewgeni Kissin, Maxim Wengerof en Wadim Repin. In 1988 is sy debuut met die Londense Simfonie-orkes gemaak en in dieselfde jaar het hy Joeri Temirkanof as hoofdirigent van die Kirof opgevolg. Hy het dié operahuis, wat intussen die Marijinski Teater hernoem is, feitlik eiehandig tot een van die voorstes ter wêreld opgebou. Dit het hy vermag deur onder meer sy sangers self uit te soek en gesamentlike produksies tussen die Marijinski en Covent Garden te reël. Verdere Westerse debute is in 1991 by die Beierse Staatsopera in München en die San Francisco Opera gemaak, met Boris Godoenof en Oorlog en Vrede onderskeidelik. Vanaf 1995 tot 2008 was hy ook hoofdirigent van die Rotterdam Filharmoniese Orkes, met wie hy ‘n dramatiese opname van Prokofiëf se rolprentmusiek vir Iwan die Verskriklike gemaak het. Asof die werklading verbonde aan sy poste in Sint Petersburg en Rotterdam nie voldoende was nie, was hy vanaf 1997 tot 2008 hoofgasdirigent van die Metropolitan Opera in New York. Daarby tree hy wyd by musiekfeeste op, insluitend die Wit Nagte-fees in Sint Petersburg waarvan hy die artistieke direkteur is.

Tydens ‘n besoek van sy Marijinski-geselskap aan Covent Garden in 2000 het Gergijef ‘n karaktervolle uitvoering van Verdi se Requiem gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Hy het vroeg in 2002 met sy geselskap die wêreldpremière van sy landgenoot Sofia Gubaidulina se Sint Johannespaasfees (die vervolg op haar Sint Johannespassie) in Hamburg gegee, en enkele maande later ook die Britse première daarvan tydens die Londense Proms. Ook in 2002 het hy tydens die eerste Moskou Paasmusiekfees ‘n kragtige uitvoering van Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate gedirigeer, met Olga Borodina as solis. Hy het in 2003 by die Marijinski Teater die eerste volledige opvoering van Wagner se Ring-siklus in 90 jaar in Rusland gegee. Sedertdien het hul dieselfde produksie wêreldwyd opgevoer, onder meer in Cardiff, Wallis en Costa Mesa, Kalifornië (beide 2006), die Metropolitan Opera en Beijing (beide 2007), en Covent Garden (2009). Telkens het dit luide toejuiging in volgepakte teaters ontvang. Hul opvoering van die Ring by Baden-Baden in 2003/4 was die eerste in Duitsland deur ‘n buitelandse geselskap.

In 2007 het Gergijef die veteraan Colin Davis as hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes opgevolg, met wie hy die volledige simfonieë van Mahler en Prokofiëf opgeneem het. Laasgenoemde siklus is eintlik al in 2004 gemaak en is met ‘n Gramophone-toekenning bekroon. Daarby het hy ‘n hele aantal hoogstaande opnames met die Weense Filharmoniese Orkes gemaak, insluitend van Strawinski se ballet Die Vuurvoël by die Salzburg-fees in 2000 (op DVD). Tydens die Salzburg-fees van 2007 het hy Berlioz se opera Benvenuto Cellini gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Hy het die Weense Filharmonie in ‘n herdenkingskonsert in New York tydens die Herbert von Karajan eeufeesviering in 2008 gedirigeer. In 2009 het hy die Ierse première van Sjostakowitsj se sewende simfonie in Belfast gedirigeer, met sy Sint Petersburg-orkes. Saam het hulle in die jaar daarop ‘n Wes-Europese toer onderneem, waartydens Tsjaikofski se ses simfonieë in ‘n hele aantal stede uitgevoer is. Ook in 2010 het hy ‘n puik opvoering van Boris Godoenof by die Met gedirigeer. Sedert 2011 is hy voorsitter van die Internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou, waar hy die akademiese beoordelaars met bekende musikante vervang het. Hy het op sy sestigste verjaardag in 2013 die openingskonsert van die nuwe Marijinski Teater in sy tuisstad gedirigeer, kort nadat President Putin die eerbewys 'Held van Arbeid' aan hom toegeken het. Gelukkig vir musiekliefhebbers is die opwindende konsert op beeld vasgevang.

Met sy hartstogtelike dog soepele dirigeerstyl, waardeur hy poog om musikale en dramatiese elemente in die tradisie van Wilhelm Furtwängler byeen te bring, is Gergijef tans die mees gesogte dirigent van Russiese musiek ter wêreld. Hy dirigeer meesal sonder ‘n stok en maak van rimpelende vingerbewegings gebruik om klanke as ‘t ware uit sy orkeste te trek, met onoortreflike resultate. Soms dirigeer hy egter met 'n tandestokkie, wat heel komies lyk. Sy suster Larissa Gergijewa is direkteur van die Marijinski se Sangakademie. Sleutelopnames: Balakiref/Liapoenof se Islamey; Prokofiëf se volledige simfonieë (Londen), Alexander Nevsky kantate (Moskou) en Scythian Suite; Rimski-Korsakof se Scheherazade; Tsjaikofski se vierde en vyfde simfonieë (beide Wenen); en die operas Ruslan en Ludmilla (DVD), Boris Godoenof (op DVD, asook die oorspronklike en hersiene weergawes op kompakskyf), Die Vurige Engel (DVD) en Pique Dame (DVD). Verdere opnames: Berlioz se Symphonie fantastique; Borodin se In die Steppe van Sentraal-Asië; Gubaidulina se Sint Johannespassie; Mahler se simfonieë nrs. 6 tot 8; Moessorgski se Nag op ‘n Kaal berg en Skilderye op ‘n Uitstalling (lg. deur Ravel georkestreer); Rachmaninof se tweede simfonie; Sjostakowitsj se vierde en sewende simfonieë; Skriabin se Prometheus en Gedig van Ekstase; Tsjaikofski se sesde simfonie; die ballette Romeo en Juliet (Prokofiëf), Die Vuurvoël en Le sacre du printemps (Strawinski), en Doringrosie (Tsjaikofski); ‘n dokumentêre rolprent oor die Parsifal-legende, met musiek uit Wagner se opera; en die operas Prins Igor, Hérodiade, Khowansjina, Die liefde vir drie lemoene, Die Vurige Engel, Oorlog en Vrede, Semjon Kotko, Turandot, Sadko, Mazeppa, Jolanta en La forza del destino.

Gerhardt, Elena (1883-1961), Duits-gebore sopraan. Sy het vanaf 1900 aan die Leipzig Konserwatorium studeer en is deur die beroemde dirigent Arthur Nikisch afgerig. Haar debuut het in 1903 plaasgevind, maar ná slegs enkele opera-optredes het sy haar op Duitse liedere toegespits. Sy het daarna roem verwerf as ‘n meesterlike vertolker van Brahms, Schubert, Schumann, Richard Strauss en Wolf se liedere, dikwels met Nikisch as haar klavierbegeleier. Vanaf 1906 het sy in Brittanje gesing en vanaf 1912 ook in die VSA. Sy het in 1934 in Londen gaan woon, en tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy in konserte opgetree. Later het sy ‘n leermeester geword.

Germani, Fernando (1906-), Italiaanse orrelis en komponis. Nadat hy in 1936 sy Londense debuut gemaak het, was hy vir die volgende twee jaar 'n hoogleraar aan die Curtis Instituut in Philadelphia. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy vanaf 1948 tot 1959 eerste orrelis van die Sint Petruskerk in Rome. As solis het hy wêreldwyd opgetree, en daarbenewens het hy die orrelwerke van Frescobaldi geredigeer en ‘n orrelhandleiding geskryf. Onder sy voortreflike opnames tel die bekende Toccata uit Widor se vyfde orrelsimfonie.

Ghazarian, Sona (1945-), Libanese sopraan. Sy was vanaf 1972 ‘n lid van die Weense Staatsopera, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1973) en die Metropolitan Opera (1989). Met haar sterk stem was sy begaafd in Verdi-rolle soos Oscar in Un ballo in maschera en Violetta in La traviata. Sy het ook uitgeblink as Donna Anna in ‘n opname van Don Giovanni onder Neeme Järvi.

Gheorghiu, Angela (1965-), Roemeense sopraan. Sy het in 1990 by die Boekarest Opera gedebuteer, gevolg deur debute by Covent Garden en in Wenen (beide in 1992), en by die Metropolitan Opera (1993). Met haar sterk stem, ryk toonkleur, aantreklike voorkoms en akteursvermoëns is sy besonder gewild in die liriese rolle van Italiaanse en Franse opera. Daaronder tel beide die titelrol en Micaëla in Carmen, Adina in L'elisir d'amore, die vroulike hoofrol in Roméo et Juliette, die titelrol in Manon, Charlotte in Werther, Zerlina in Don Giovanni, Mimì in La Bohème, Magda in La Rondine, Lauretta in Gianni Schicchi, Liù in Turandot, Nannetta in Falstaff en Violetta in La Traviata. Sy is getroud met die ewe gewilde tenoor Roberto Alagna, wat sy op die verhoog ontmoet en met wie sy opnames van opera-duette gemaak het. Hulle het in 2001 die hoofrolle in ‘n rolprentweergawe van Tosca gesing. Sleutelopname: Verdi se Requiem (onder Abbado, op DVD). Verdere opnames: die genoemde operas van Bizet, Donizetti, Gounod en Massenet, asook La Rondine, Gianni Schicchi en La Traviata; en ‘n versameling Verdi-duette (met Alagna, onder Abbado).

Ghiaurof, Nikolai (1929-2004), Bulgaarse bas. Hy het as veertienjarige al verskeie instrumente bespeel en het operasang aan die Sofia Musiekakademie studeer. Tydens diensplig in die Bulgaarse leër het hy gehelp om ‘n koor en orkes te stig, waarin hy die klarinet bespeel en gedirigeer het. Sangstudies het aan die Sofia Konserwatorium en in Moskou plaasgevind, en hy het pryse by sangkompetisies in Warskou en Parys gewen. Met sy terugkeer na Bulgarye is sy debuut in 1955 in Sofia gemaak, as Don Basilio in Il barbiere di Siviglia. Dit sou een van sy gunsteling-rolle word, wat hy dwarsdeur sy lang loopbaan sou vertolk. Hy het ‘n lid van die Sofia Nasionale Opera geword, met verdere debute wat gevolg het in Wenen (1957), by La Scala (1960), Covent Garden en die Salzburg-fees (beide in 1962), en die Metropolitan Opera (1965). By die Met sou hy in meer as 80 opvoerings verskyn, met ‘n afskeidsoptrede in 1996 as Sparafucile in Rigoletto. In Januarie 2004, byna ‘n halfeeu na sy debuut in Sofia, het hy nog die rol van Don Basilio by die Malibran Teater in Venesië gesing. Hy was getroud met die beroemde sopraan Mirella Freni, met wie hy dikwels saam in konserte en opnames opgetree het.

Met sy klankryke stem was Ghiaurof een van die voorste basse van sy tyd in Russiese, Franse en Italiaanse opera. Veral in die operas van Verdi is hy as die grootste bas van die tweede helfte van die twintigste eeu beskou. Onder die wye repertorium operarolle waarin hy uitgeblink het, tel Graaf Rodolfo in La Sonnambula, Konsjak in Prins Igor, Raimondo in Lucia di Lammermoor, die Notaris in Don Pasquale, Méphistophélès in Faust, Alvise in La Gioconda, Timur in Turandot, Gremin in Jewgeni Onegin, Ramfis in Aida, Filips II in Don Carlos, Silva in Ernani, Banquo in Macbeth, Fiesco in Simon Boccanegra, Ferrando in Il Trovatore, en die titelrolle in Mefistofele, Don Quichotte, Don Giovanni, Boris Godoenof en Attila. Daarby was hy 'n ewe begaafde vertolker van Russiese liedere. Opnames: Berlioz se Roméo et Juliette; Verdi se Requiem (3 weergawes, onder Abbado, Giulini en Karajan); liedere van Borodin, Dargomizhsky, Glinka, Moessorgski, Rubinstein en Tsjaikofski, en enkele Russiese volksliedere (lg. met orkes); en die genoemde operas van Bellini, Boito, Borodin, Donizetti, Massenet, Moessorgski, Mozart, Ponchielli, Puccini, Tsjaikofski en Verdi, asook I Puritani, La Favorita, Le Roi de Lahore, La Bohème en Guglielmo Tell.

Ghiuselef, Nikolai (1936-), Bulgaarse bas. Hy het sy debuut in 1961 in Sofia met die Bulgaarse Nasionale Opera gemaak, as Timur in Turandot. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1965), die Holland-fees (1966) en Covent Garden (1976). As begaafde sanger in Russiese opera het hy by Covent Garden in 1990 die rol van Galitzki in Prins Igor gesing. Onder sy verdere rolle tel Leporello in Don Giovanni, Dokter Wonderwerk in Les Contes d’Hoffmann, en Kutuzow in Oorlog en Vrede. Hy het in hoogstaande opnames van die laasgenoemde vier operas en van La Battaglia di Legnano gesing.

Giacomini, Giuseppe (1940-), Italiaanse tenoor. Sy debuut in 1966 in Vercelli, as Pinkerton in Madama Butterfly, is gevolg deur debute in Berlyn en Wenen (beide in 1972), Hamburg (1973), La Scala (1974), Parys (1975), die Metropolitan Opera (1976) en Covent Garden (1980). Hy was uitmuntend in die titelrol van Otello, wat hy in 1991 in ‘n hoogstaande opname onder Alain Lombard gesing het.

Gibson, Alexander (1926-95), Skotse dirigent. Hy was aanvanklik as repetiteur en assistent-dirigent verbonde aan die Sadler’s Wells Opera (1951/2) en die BBC Skotse Simfonie-orkes (1952-4). Daarna was hy dirigent en later musiekdirekteur van Sadler's Wells (1954-9). Vervolgens was hy vir 'n kwarteeu (1959-84) hoofdirigent van die Skotse Nasionale Orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Sibelius in hoogstaande vertolkings opgeneem het. Terselfdertyd was hy ook musiekdirekteur van die Skotse Opera wat in 1962 deur hom gestig is, tot 1987. Intussen het hy in 1957 by Covent Garden gedebuteer, tien jaar later is die CBE aan hom toegeken en in 1977 is hy tot ridder geslaan. Een van sy prestasies by die Skotse Opera was om in 1969 die eerste volledige opvoering in 'n enkele aand van Berlioz se opera Les Troyens (in Engels) te dirigeer. Daar het hy verder in 1971 die eerste Ring-siklus buite Londen sedert 1933 gedirigeer, asook die premières van Orr se Full Circle (1968) en Hamilton se The Catiline Conspiracy (1974). As begaafde vertolker van moderne musiek het hy ook vele werke van komponiste soos Schoenberg, Stockhausen, Berio, Lutoslafski en Ligeti in Brittanje bekendgestel. Sleutelopnames: Sibelius se Rakastava, Scènes historiques en Valse lyrique. Verdere opnames: Beethoven se Koorfantasie; Berlioz se La mort de Cléopâtra; Elgar se The Dream of Gerontius, Coronation ode en The spirit of England; Rachmaninof se tweede simfonie; en orkeswerke van Berlioz, Bizet, Britten, Dukas, Elgar, German, Harty, MacCunn, Ravel, Respighi, Rossini, Saint-Saëns, Smyth en Strawinski.

Gielen, Michael (1927-), Oostenrykse pianis, dirigent en komponis. Hy is in Dresden gebore en het in 1939 met die res van sy gesin in Argentinië gaan woon, waardeur hul die verskrikkinge van die Tweede Wêreldoorlog in Europa ontkom het. Daar het hy filosofie, musiekteorie, klavier en komposisie in Buenos Aires studeer. In die Argentynse hoofstad het hy vanaf 1942 oor ‘n tydperk van sewe jaar Schoenberg se volledige klavierwerke uitgevoer. Hy was vanaf 1947 tot 1950 ook aan die Teatro Colón verbonde. In 1950 het hy na Europa teruggekeer, waar hy tot 1960 eers 'n kapelmeester en daarna ‘n dirigent by die Weense Staatsopera was. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Koninklike Sweedse Opera in Stockholm (1960-5) en dirigent van die Wes-Duitse Radio-orkes in Keulen (1965-9). Met laasgenoemde het hy die volledige simfonieë van Mahler opgeneem, in vertolkings wat deur sommige kenners as besonder idiomaties beskou word. Hy was voorts musiekdirekteur van die Belgiese Nasionale Orkes (1969-72) en die Nederlandse Opera (1973/4). Verdere debute is gemaak in New York (1971) en by die Salzburg-fees (1972). In 1974 het hy met die koor en orkes van die Oostenrykse Radio ‘n hoogaangeskrewe opname van Schoenberg se opera Moses und Aron gemaak. Vanaf 1977 was hy vir tien jaar opera- en musiekdirekteur van die Stad Frankfurt.

Gielen was voorts hoofgasdirigent van die BBC Simfonie-orkes (1979-82) en musiekdirekteur van die Cincinatti Simfonie-orkes (1980-6). In 1981 het hy met die heropening van die Alte Oper in Frankfurt ‘n atmosferiese uitvoering van Mahler se agste simfonie gedirigeer, met ‘n opname wat daarvan getuig. Sedert 1986 is hy hoofdirigent van die Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Baden-Baden. In die jaar daarop het hy ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Salzburg Mozarteum geword. Hy tree dikwels as gasdirigent met die voorste Europese en Amerikaanse orkeste op. As kampvegter vir twintigste-eeuse musiek is hy veral bekend vir sy helder, presiese vertolkings van Mahler en Schoenberg. Vanaf 1997 tot 2000 het hy met sy orkes in Baden-Baden ‘n siklus van Beethoven se volledige simfonieë uitgevoer, met DVD-opnames wat daarvan gemaak is. Sleutelopname: Bruckner se derde simfonie (Baden-Baden). Verdere opnames: Berg se Liriese Suite; Bruckner se agste simfonie; Carter se Variasies vir orkes; orkeswerke van Ives, Lachenmann en Rihm; Mahler se volledige simfonieë (Baden-Baden); Schoenberg se Die Jakobsleiter en twee kamersimfonieë; en Zemlinsky se Liriese Simfonie.

Gieseking, Walter (1895-1956), Frans-gebore Duitse pianis en komponis. Hy het in Hannover studeer en in 1912 sy debuut gemaak. Daarna het hy internasionaal getoer, met debute in Londen (1923), New York (1926), Parys (1928) en by die Salzburg-fees (1939). Met sy sensitiewe en sekure spel was hy ‘n uitmuntende vertolker van Debussy en Ravel, asook van Beethoven en Brahms. Sy vertolkings van Grieg se klavierkonsert het vir baie jare as maatstaf vir dié virtuooswerk gedien, soos sy 1944-opname onder Wilhelm Furtwängler kan getuig. In die 1950’s het hy met lede van die Philharmonia Orkes opnames van Beethoven en Mozart se Kwintette vir klavier en houtblasers gemaak wat volgens sommige kenners slegs deur Murray Perahia en sy mede-soliste geëwenaar is. As komponis het hy voortreflike werke vir klavier- en fluitsolo geskryf. Sleutelopnames: Debussy se volledige klavierwerke (1951-55); ‘n versameling solowerke van Ravel (1954). Verdere opnames: Franck se Simfoniese Variasies; die 2 klavierkonserte van Liszt, en Mozart se nr. 24; die volledige solowerke van Mozart en Ravel, en vele van Beethoven en Grieg.

Gigli, Beniamino (1890-1957), Italiaanse tenoor. Ná studies in Rome het sy debuut in 1914 in Rovigo as Enzo in La Gioconda plaasgevind. Hy het spoedig bekend geraak by al die bekende operahuise in Europa, onder andere by La Scala waar hy in 1918 onder Toscanini as Faust in Boito se Mefistofele gedebuteer het. Vanaf 1920 was hy verbonde aan die Metropolitan Opera, waar hy ook as Faust sy debuut gemaak het. Daar is hy saam met Giovanni Martinelli as Caruso se opvolger beskou. Hy het in 1928 as Ruggero in die Met-première van La Rondine gesing. In 1932 het hy egter die Met verlaat omdat hy nie bereid was om ‘n vermindering in sy salaris tydens ‘n finansiële krisis by die operahuis te aanvaar nie. Verdere debute gemaak by Covent Garden (1930) en die Salzburg-fees (1936). Later het hy na Italië teruggekeer, waar hy tydens die Tweede Wêreldoorlog gebly het. Anders as Caruso het hy ‘n suiwer tenoorstem gehad, sodat hy aanvanklik op liriese operarolle gekonsentreer het. Mettertyd het hy die stemkrag vir swaarder rolle ontwikkel, hoewel sy stem uiters delikaat sou bly. Hy was nie so ‘n groot akteur soos Caruso nie, maar het met besondere emosionele oorgawe gesing. As die voorste liries-dramatiese tenoor van sy tyd in Italiaanse opera het hy uitgeblink in die titelrol van Andrea Chenier, as Turiddu in Cavalleria rusticana, Rodolfo in La Bohème, Cavaradossi in Tosca, Radames in Aida en die Hertog in Rigoletto. Hy was ook ‘n begaafde sanger van Franse en Duitse liedere, en het in ‘n aantal rolprente opgetree. Sy sangloopbaan het oor bykans veertig jaar gestrek. By La Scala het hy in historiese opnames van I Pagliacci (1934), Cavalleria rusticana (1940), Aida (1946) en La Bohème gesing, en by die Roomse Opera van Tosca (1938) en Aida (1948). Hy het ook opnames van talle arias en liedere nagelaat.

Gilbert, Kenneth (1931-), Kanadese klawesimbelspeler, orrelis en musiekgeleerde. Nadat hy vanaf 1952 tot 1967 ‘n kerkorrelis in Toronto was, het hy in 1968 sy Londense debuut gemaak. Hy het ook onderrig gegee aan die Montreal Konserwatorium (1957-74), McGill Universiteit (1964-72) en Laval Universiteit in Quebec (1969-76). Sedert 1988 is hy ‘n hoogleraar in klawesimbel aan sowel die konserwatoriums in Stuttgart en Parys as die Salzburg Mozarteum. Daarbenewens het hy F. Couperin se Pièces de clavecin en die volledige sonates van D. Scarlatti geredigeer. Op die klawesimbel is hy met sy presiese, verfynde spel een van die voorste gesaghebbendes en virtuose van sy tyd. Opnames: Bach se Goldberg Variasies, 48 Preludes en dubbelkonserte vir klawesimbel (laasgenoemde met Trevor Pinnock); Couperin se volledige klawesimbelsuites, asook verskeie van Froberger en Handel; Rameau se Les Indes galantes en ander werke vir klawesimbel; en Soler se ses konserte vir twee klawerbordinstrumente (ook met Pinnock as vennoot).

Gilels, Emil (1916-85), Russiese pianis. Hy het as vyfjarige aan die Odessa Konserwatorium begin studeer en op dertien sy debuut in dié stad gemaak. Vanaf 1935 het hy vir drie jaar onder Heinrich Neuhaus in Moskou studeer, en daarna het hy internasionale kompetisies in Wenen (1936) en Brussels (1938) gewen. Hy het in 1944 die eerste uitvoering van Prokofiëf se klaviersonate nr. 8 in Moskou gegee. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy wêreldwyd getoer, met debute wat gemaak is in Parys en Londen (beide in 1954), die VSA (1955) en by die Salzburg-fees (1969). Met sy meesterlike tegniek, ryk toonkleur en kragtige dog elegante spel was hy wêreldbekend in veral Beethoven en Prokofiëf se musiek, alhoewel sy repertorium wyd deur die Klassieke, Romantiese en moderne tydperke gestrek het. Sy dood het ‘n beplande volledige siklus van die Beethoven-sonates kortgeknip, maar hy kon gelukkig 27 daarvan in monumentale vertolkings opneem. Hy was bevriend met die groot komponis Sjostakowitsj. Sleutelopnames: Brahms se twee klavierkonserte (onder Eugen Jochum); Mozart se klavierkonsert nr. 27 en Dubbele klavierkonsert (beide onder Böhm, lg. met sy dogter Elena); Sjostakowitsj se klaviersonate nr. 2 (1965); Tsjaikofski se klavierkonsert nr. 1 (onder Cluytens 1960, op DVD). Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven, en enkeles van Rachmaninof (nr. 3) en Saint-Saëns (nr. 2); talle solowerke van Chopin, Grieg, Liszt, Metner, Mozart, Prokofiëf, Ravel, Schubert, Sjostakowitsj en Skriabin; Brahms se eerste klavierkwartet (met die Amadeus Kwartet); Poulenc se klawesimbelkonsert (op die klavier); en Schubert se Forelle-kwintet (met die Amadeus Kwartet). Met sy dogter Elena het hy voorts opnames van werke vir klavierduet gemaak, insluitend Schubert se Fantasia in F mineur.

Gitlis, Ivry (1922-), Israeliese violis. Hy het sy eerste openbare uitvoering as agtjarige gegee, en ná die Tweede Wêreldoorlog het hy as solis met Britse orkeste begin optree. In 1952 het hy die Thibaud-prys gewen en in die jaar daarop is sy debuut met die Israeliese Filharmoniese Orkes gemaak. Later het hy in Parys gaan woon. Sy bekendheid lê merendeels in moderne musiek soos dié van Bartók, hoewel hy met sy behendigheid en intelligensie ewe tuis in die Romantiese repertorium was. Onder Jascha Horenstein en Hans Swarowsky het hy in hoogstande opnames van vioolkonserte deur Bartók, Bruch, Mendelssohn en Tsjaikofski gespeel.

Giulini, Carlo Maria (1914-2005), Italiaanse dirigent van gedeeltelik Oostenrykse afkoms. Hy het vanaf vyfjarige leeftyd vioollesse ontvang en is nege jaar later na Rome om aan die Akademie te studeer. In die Italiaanse hoofstad het hy na altvioolstudies tesame met komposisie oorgeslaan, en in 1930 het hy in die Augusteo Orkes begin speel. Sy leermeester in altviool was van mening dat sy student se elmboë te swak was om ‘n dirigent te word. Op twintig is sy dirigeerdebuut met ‘n orkes bestaande hoofsaaklik uit vriende gemaak, waartydens hy besluit het om dit sy loopbaan te maak. Daarna het studies by meesterklasse in Siena en Rome gevolg. In die Italiaanse hoofstad het hy aan die Santa Cecilia-akademie onder Bernadino Molinari studeer en in 1941 gegradueer. Daar het hy in hul orkes onder groot dirigente soos De Sabata, Furtwängler, Klemperer, Walter, Mengelberg en Richard Strauss gespeel. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hy as leëroffisier na Joego-Slawië gestuur om die partisane te gaan beveg. Met die terugroep van sy regiment na Rome het hy en sy twee broers gedros en vir nege maande lank in ‘n huis geskuil. Ná die Amerikaanse oorname van Rome in 1944 is hy genooi om die eerste post-Fasjistiese konsert by die Augusteo te dirigeer, wat sy amptelike dirigeerdebuut was. Kort daarna het hy ‘n assistent-dirigent van die Italiaanse Radio-orkes in Rome geword. Twee jaar later het hy hul musiekdirekteur geword, en in 1950 is hy as musiekdirekteur van die pasgestigde radio-orkes in Milaan aangestel. Met hulle het hy talle operas opgevoer, waaronder Haydn se Il mondo della luna, wat Toscanini só beïndruk het dat hy sy jonger kollega na sy huis genooi en gelukgewens het.

In 1951 het Giulini sy opera-verhoogdebuut met La Traviata by die Bergamo-fees gemaak, met die gevierde sopraan Renata Tebaldi as Violetta. Op aanbeveling van Toscanini het hy in die jaar daarop Victor de Sabata se assistent by La Scala geword, waar hy met Falla se La vida breve gedebuteer het. Met De Sabata se dood in 1953 is hy as musiekdirekteur van die beroemde operahuis aangestel, waar hy vir drie jaar sou bly en heuglike opvoerings van operas deur Gluck, Rossini en Verdi gedirigeer het. In dié tyd het hy begin naam maak as een van die voorste opera-dirigente ter wêreld, met sangers soos Callas en Simionato en regisseurs soos Visconti en Zeffirelli wat met hom saamgewerk het. By die Maggio Musicale-fees in Florence het hy in 1954 ‘n opwindende opvoering van Weber se Euryanthe gedirigeer. Die opname daarvan sou sy enigste van ‘n Duitse opera word, sy meesterskap van die Duitse Romantiek ten spyt. Hy is in dieselfde jaar deur die beroemde Fritz Reiner genooi om die Chicago Simfonie-orkes te dirigeer, wat die begin was van sy lang verbintenis as gasdirigent (tot 1978) met dié groot Amerikaanse orkes. Met Reiner se dood in 1963 is die pos van hoofdirigent aan hom gebied, maar ter wille van sy gesin se Europese bande het hy die aanbod van die hand gewys.

Giulini se Britse debuut het intussen in 1955 by die Edinburgh-fees met ‘n opvoering van Falstaff plaasgevind, en vanaf 1958 het hy by Covent Garden gedirigeer. In dié tyd het ‘n verdere lang en produktiewe verbintenis begin, met die Philharmonia Orkes en Koor in Londen, in samewerking met die regisseur Walter Legge en die koordirigent Wilhelm Pitz. As diep godsdienstige mens het hy dié ensembles in meesterlike uitvoerings van gewyde koorwerke deur Bach, Beethoven, Cherubini en Verdi gedirigeer. Verder het hy hulle in 1959 in legendariese opnames van die Mozart-operas Don Giovanni en Le nozze di Figaro gelei, in beide gevalle met die sopraan Elisabeth Schwarzkopf as solis. In 1970 het hy by die Salzburg-fees begin optree, maar vanaf 1968 tot 1982 het hy nie opera gedirigeer nie. Sy beweegrede was om meer op musiek te fokus waarin sangers nie die aandag kan aflei nie. In dié tyd was hy hoofgasdirigent van die Chicago Simfonie-orkes (1969-73) en hoofdirigent van die Weense Simfonie-orkes (1973-76). Tydens sy jare in Wenen het hy ‘n intensiewe studie van Schubert onderneem, insluitend die oorspronklike partiture van sy laat simfonieë. Hy was vervolgens musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes (1978-84), waar sy kontrak hom uitdruklik van sosiale aktiwiteite vrygeskeld het. Hy het uit die pos bedank om meer tyd met sy ongestelde vrou Marcella deur te bring. Sy is in 1995 oorlede. In 1982 het sy hertoetrede tot die opera-wêreld plaasgevind met opvoerings van Falstaff in Los Angeles en by Covent Garden. Hy het in 1989 ‘n Grammy-toekenning gewen. In sy later jare was hy in Milaan woonagtig en het hy nie langer opera gedirigeer nie, weens die tydrowende inoefeninge daaraan verbonde.

Oor sy lang loopbaan heen het Giulini in die musiekwêreld as ‘n uiters beleefde heer bekend geraak, wat uitnemende resultate bereik het sonder om ooit sy stem te verhef. Hy het die rol van die dirigent gesien as een van leiding en nie oorheersing nie, sodat dit nie verbaas dat hy besonder gewild onder sy orkeste en kore was nie. Om ten volle waardeer te kan word, moet musiek sowel rasioneel en emosioneel benader word. Met sy warm, intense vertolkings en oorwegend stadige tempos was hy meesterlik in die Duits-Romantiese simfoniese repertorium, veral in Brahms tot wie se musiek hy vanuit die staanspoor aangetrokke gevoel het. Daarin vertoon hy ‘n besondere sin vir detail en getrouheid aan die komponis se bedoelings. Namate hy ouer geword het, het sy tempos selfs meer verlangsaam, wat bygedra het tot ‘n bykans mistieke diepte in sy klankwêreld. Sy gunsteling opera-komponis was Mozart, en daarby is hy in die operas van Verdi beskou as een van die grootste dirigente sedert Toscanini. Hy was die beste vertolker van sy tyd van Verdi se Requiem, waarvan hy in 1963/4 drie opnames in Londen gemaak het. Interessant genoeg het hy nie Puccini en Wagner se operas gedirigeer nie. Dieselfde geld vir die meeste moderne musiek, omdat dit nie die luisteraar emosioneel betrek nie. Soos sommige ander dirigente van die ouer skool het hy op diep emosionele kontak met sy orkesspelers staatgemaak eerder as op ‘n bepaalde tegniek. Verder het hy wyd gelees en baie tyd aan die oordenking van partiture spandeer.

Giulini word beskou as ‘n brug tussen die ouer geslag Italiaanse dirigente soos Toscanini en De Sabata, en die nuwer geslag van Abbado en Muti. Sy kombinasie van die mistieke en die dramatiese in die musiek van Beethoven, Brahms en Bruckner word as ‘n voortsetting van die Furtwängler-styl beskou. As beskeie mens het hy slegs werke gedirigeer waarvoor hy homself met uiterste toewyding voorberei het, sodat sy repertorium kleiner as dié van die meeste ander groot dirigente was. Musiek is deur hom as ‘n geheimenis beskou en dirigente as liefdevolle dienaars van die genieë (die komponiste) wat dit uit niks geskep het. As verdere aanduiding van sy geestelike diepte dien die feit dat hy volkome ontspan het met slegs drie dinge: die see, afsondering en stilte. Hy het ‘n Goue Medalje van die Bruckner-Vereniging ontvang. Sleutelopnames (in Londen tensy anders aangedui): Schubert se Mis nr. 6 (Edinburgh 1968); Verdi se Requiem (1963); en die operas Don Giovanni (1959) en Don Carlos (1970). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Beethoven en Brahms, en ‘n hele aantal van Bruckner (nrs. 7-9), Dvorák (nrs. 7-9), Mahler (nrs. 1 en 9), Schubert (nr. 9), Schumann en Tsjaikofski (nrs. 2 en 6); Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; Tsjaikofski se Francesca da Rimini en Romeo en Juliet Ouverture; orkeswerke van Britten, Debussy, Ravel, Rossini, Strawinski en Weber; ballette van Falla en Ravel; Bach se Mis in B mineur; Beethoven se Missa Solemnis; Britten se War Requiem; Fauré se Requiem; Mahler se Das Lied von der Erde; en die operas Le nozze di Figaro, Falstaff, Rigoletto, La Traviata, Il Trovatore en Euryanthe.

Glemser, Bernd (1962-), Duitse pianis. Terwyl hy nog ‘n student was, is hy as hoogleraar aan die Saarbrücken Konserwatorium aangestel om die befaamde pianis Andor Foldes op te volg. Onder die vele kompetisies wat hy gewen het, tel die Andor Foldes-prys (1992) en die eerste Europese Pianiste-prys (1993). Hy blink veral uit in virtuooswerke van die laat negentiende en vroeë twintigste eeue, in die besonder dié van Rachmaninof. Onder Antoni Wit het hy in hoogstaande opnames van die groot laat-Romantikus se volledige klavierkonserte en Paganini Rapsodie gespeel. Sleutelopnames: Tsjaikofski se tweede klavierkonsert en Konsert Fantasie (beide onder Wit). Verdere opnames: Lutoslafski se Paganini Variasies; en ‘n aantal klaviersonates van Prokofiëf en Schumann.

Glennie, Evelyn (1965-), Skotse slaginstrumentspeler, pianis en komponis. Sy het op ‘n plaas noord van haar geboortestad Aberdeen grootgeword. As kind het sy erg doof geword, maar sy kan na bewering musiekvibrasies aanvoel. Sy het aan die Koninklike Musiekakademie in Londen studeer en in die Nasionale Jeugorkes van Skotland gespeel. Haar debuut as solis het in 1986 in Londen plaasgevind, waarna sy spoedig die eerste voltydse slaginstrument-solis geword het. Onder die wye reeks instrumente wat sy bespeel is dit veral die marimba waarin sy ongeëwenaard is. Sy tree met van die voorste orkeste wêreldwyd op, in uitvoerings wat deur besondere emosionele intensiteit gekenmerk word. By die Londense Proms het sy in 1989 die eerste uitvoering van haar landgenoot McLeod se The Song of Dionysus gegee, en drie jaar later ook van MacMillan se Veni, Veni, Emmanuel. Sy voer dikwels werke deur Oosterse komponiste uit. Haar charismatiese persoonlikheid dra verder daartoe by dat sy tans een van die gewildste Britse musici is. In 1992 is die OBE aan haar toegeken. Opnames: Bartók se Sonate vir twee klaviere en slaginstrumente (met Solti en Perahia as mede-soliste); Glass se Concerto Fantasy vir 2 poukeniste en orkes (met Haas); die genoemde werk van MacMillan; Turnage se Fractured Lines; en konserte van Bennett, Milhaud, Miyoshi en Rosauro.

Glossop, Peter (1928-2008), Engelse bariton. Terwyl hy as bankklerk in sy geboortestad Sheffield gewerk het, het hy privaat sanglesse ontvang. Hy het by die plaaslike operavereniging aangesluit, en in 1949 is sy debuut met hul gemaak in Offenbach se Les contes d’Hoffmann. In 1952 het hy ‘n lid van die Sadler’s Wells Opera geword, waar hy vanaf 1956 hoofrolle sou sing. Hy was aan dié geselskap verbonde tot 1965 en het as vermaarde sanger in Verdi-rolle bekendheid verwerf. Intussen het hy in 1961 die pasgestigte internasionale kompetisie vir jong sangers in Sofia gewen, en in 1964 het die goue medalje in die Verdi-kompetisie in Parma gevolg. Nog debute is gemaak by La Scala (1966), in New York (1967), Wenen (1968), die Salzburg-fees (1970) en die Metropolitan Opera (1971). Sy repertorium het ingesluit die titelrolle in Billy Budd, Falstaff, Macbeth en Rigoletto, asook Demetrius in A Midsummer Night’s Dream, Chorebus in Les Troyens, Tonio in I Pagliacci, Scarpia in Tosca, Don Carlo in La forza del destino, Graaf Luna in Il Trovatore en Iago in Otello. Hy het Tonio en Iago gesing in Herbert von Karajan se rolprentweergawes van die betrokke operas. In die 1980’s het hy uitgetree om onderrig te gee en gholf te speel. Die Universiteit van Sheffield het ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Verdere opnames: die operas Les Troyens, Billy Budd, Roberto Devereux, La forza del destino en Macbeth, asook hoogtepunte uit Rigoletto.

Glover, Jane (1949-), Engelse dirigent en musiekgeleerde. Haar debuut as student by die Oxford Universiteitsopera in 1971, met Le nozze di Figaro, is gevolg deur haar professionele debuut in 1975 by die Wexford-fees. Vanaf 1980 was sy vir vier jaar koordirekteur by die Glyndebourne-fees en vanaf 1982 vir drie jaar artistieke direkteur van die Glyndebourne Toeropera. Sy was verder artistieke direkteur van die London Mozart Players (1984-92) en hoofdirigent van die Huddersfield Koorvereniging (1988-96). Operas van Cavalli en Monteverdi is deur haar geredigeer en gedirigeer. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1988) en die Engelse Nasionale Opera (1989). Daarby het sy onderrig gegee by St Hugh’s College, Oxford (1976-84), St Anne’s College (1976-80) en Pembroke College (1979-84). Met haar Londense orkes het sy uitstekende opnames van talle simfonieë deur Haydn en Mozart gemaak. Sy het daarby ‘n insiggewende boek geskryf oor drie belangrike vrouens in Mozart se lewe: sy moeder, sy suster en sy vrou. Sleutelopnames: Mozart se simfonieë nrs. 34, 35 en 39. Verdere opnames: Mozart se Requiem; en Walton se Facade.

Gluck, Alma (1884-1938), Roemeens-gebore Amerikaanse sopraan. Sy het in 1909 haar operadebuut met die Metropolitan-geselskap gemaak as Sophie in Werther, en was daarna tot 1912 aan dié operahuis verbonde. Met haar suiwer, delikate stem was sy onoortreflik as Musetta in La Bohème en Nedda in I Pagliacci, en was ook begaafd as liederesangeres. Vanaf 1913 het sy hoofsaaklik in konserte gesing, en in die jaar daarop is sy met die violis Efrem Zimbalist getroud. Sy het geskiedenis gemaak deur die eerste sanger te word om meer as 'n miljoen kopieë van een plaatopname in die VSA te verkoop. Haar dogter uit ‘n vorige huwelik, Abigail Gluck, het as die roman- en musiekskrywer Marcia Davenport bekendheid verwerf.

Glyndebourne, Britse operahuis in Sussex waar elke somer ‘n musiekfees gehou word. Dit is in die vroeë 1930's gebou deur John Christie vir sy vrou, die sopraan Audrey Mildmay. Die inwyding daarvan het in 1934 plaasgevind met Le nozze di Figaro onder Fritz Busch, en sedertdien is Mozart se operas deurentyd daar opgevoer. Die feeste is tydens die Tweede Wêreldoorlog onderbreek en in 1946 hervat. In 1951 is Busch deur Vittorio Gui as hoofdirigent opgevolg, en daarna het John Pritchard (1960-77), Bernard Haitink (1977-87) en Andrew Davis (sedert 1989) dié pos beklee. Oor die dekades heen het talle van die wêreld se grootste sangers daar opgetree. In 1994 is ‘n nuwe teater ingewy presies sestig jaar na die oorspronklike feesopening, weer met Mozart se Figaro (onder Haitink). Intussen is die Glyndebourne Toergeselskap in 1968 gestig om ‘n jaarlikse toer deur Brittanje te onderneem. Hul artistieke direkteure was Myer Fredman (1968-74), Kenneth Montgomery (1975/6), Nicholas Braithwaite (1977-80), Jane Glover (1982-5), Graeme Jenkins (1986-91) en sedert 1992 Ivor Bolton.

Gobbi, Tito (1913-84), Italiaanse bariton. Hy het aanvanklik regte bestudeer, maar het na sang oorgeslaan en in 1935 in Gubbio gedebuteer as Rodolfo in La Sonnambula. In 1937 het sy debuut in Rome plaasgevind as Germont in La Traviata, en in dieselfde jaar het hy die Weense internasionale sangkompetisie gewen. Vyf jaar later (in 1942) het hy die titelrol in die Italiaanse première van Wozzeck gesing en sy debuut by La Scala gemaak. Verdere debute het ná die Tweede Wêreldoorlog gevolg in San Francisco (1948), by die Salzburg-fees (1950), Covent Garden (1951) en die Metropolitan Opera (1956). Vanaf 1954 tot 1973 was hy aan die Chicago Liriese Opera verbonde. Hy het ook dikwels by Covent Garden gesing. Met sy kragtige stem en besondere karakterisering was hy een van die twintigste eeu se grootste baritons in Italiaanse opera, veral dié van Puccini en Verdi. Sy enorme repertorium het rolle in 'n honderd operas ingesluit, maar sy bestes was stellig Enrico in Lucia di Lammermoor, De Siriex in Fedora, Cim-Fen in L'Oracolo, Michele in Il Tabarro, Scarpia in Tosca, Figaro in Il barbiere di Siviglia, Amonasro in Aida, Renato in Un ballo in maschera, Rodrigo in Don Carlos, Iago in Otello, asook die titelrolle in Le nozze di Figaro, Gianni Schicchi, Falstaff, Macbeth, Nabucco, Rigoletto en Simon Boccanegra. Hy het ook in talle rolprente verskyn en was vanaf 1965 ‘n opera-verhoogdirekteur, met opvoerings in Chicago en by Covent Garden tot sy krediet. Sleutelopname: Falstaff (onder Karajan, 1956). Verdere opnames: die genoemde operas van Donizetti, Giordano, Leoni, Mozart, Puccini, Rossini en Verdi, asook I Pagliacci en Le Villi.

Godfrey, Daniel (1868-1939), Engelse dirigent. As lid van ‘n familie wat verskeie militêre orkesleiers opgelewer het, het hy in Londen en Duitsland studeer en self in 1890 ‘n militêre orkes gedirigeer. Daarna is hy na Suid-Afrika, waar hy in 1891/2 opera gedirigeer het. Met sy terugkeer na Engeland het hy in 1893 die Bournemouth Munisipale Orkes (later Simfonie-orkes) gestig. Tot sy uittrede in 1934 het hy hulle in ongeveer tweeduisend simfoniekonserte gedirigeer. Dit het talle eerste uitvoerings van werke in Brittanje ingesluit, waarvan ‘n hele aantal deur Britse komponiste was. Hy is in 1922 tot ridder geslaan. By die D’Oyly Carte Opera in Londen het hy historiese opnames van talle operettes deur Gilbert en Sullivan gemaak. Sleutelopnames: die operettes HMS Pinafore, The Mikado, Patience, The Pirates of Penzance, Trial by Jury. Verdere opnames: die operettes Cox and Box, The Gondoliers, Iolanthe, Ruddigore en The Sorcerer.

Godowski, Leopold (1870-1938), Pools-gebore pianis en komponis. Hy het in 1879 sy debuut in Vilna gemaak en spoedig as solis bekend geraak. Daarna het hy in Berlyn studeer (1881-4), deur die VSA getoer (1884-6), en in Frankryk van die komponis Saint-Saëns onderrig ontvang (1887-90). Gedurende die 1890’s het hy ‘n gewilde konsertpianis in die VSA geword, en in 1891 het hy Amerikaanse burgerskap verkry. Daarby het hy onderrig in Philadelphia en aan die Chicago Konserwatorium gegee, in laasgenoemde geval as direkteur van die klavierskool (1895-1900). Met die eeuwending het hy na Europa teruggekeer, waar hy onderrig gegee het in Berlyn (1900-09) en aan die Weense Akademie (1909-14). Laasgenoemde was as direkteur van die meesterskool in klavier. Hy het in 1912 na die VSA teruggekeer en hom twee jaar later in dié land gevestig. In 1930 het hy vanweë siekte uitgetree. Benewens sy eie komposisies vir die klavier het hy talle verwerkings van bekende orkeswerke vir sy instrument gedoen en uitgevoer. Hy het ‘n opname van Grieg se Ballade in G mineur gemaak wat deur sommige kenners as ongeëwenaard beskou word.

Goebel, Reinhard (1952-), Duitse violis, dirigent en musiekgeleerde. Na skoolverlating het hy viool aan die Keulen Konserwatorium onder Franzjosef Maier studeer, en daarna onder Sasjko Gawrilof in Essen. Intensiewe vioolstudies het gevolg onder Eduard Melkus en Marie Leonhardt, en daarby het hy musiekwetenskap in Keulen studeer. Hy het in 1973 na graduering die instrumentele ensemble Musica Antiqua Köln gestig, wat aanvanklik uit medestudente bestaan het. Met hulle het hy wye bekendheid verwerf in die uitvoering van Barokmusiek volgens eietydse praktyke, as beide solis en direkteur. Hul internasionale deurbraak is in 1979 tydens die Hollandse Fees en die Engelse Bach-fees in Londen gemaak. Nadat sy regterhand onverklaarbaar verlam geraak het, moes hy sy loopbaan as solis prysgee, maar hy het voortgegaan om sy ensemble te lei. Ook as musiekgeleerde het hy ‘n beduidende rol gespeel om belangstelling in afgeskeepde Duitse komponiste van die sewentiende en agtiende eeue, soos Heinichen, Schmelzer, Biber en lede van die Bach-familie, te herleef. Sleutelopnames: ‘n versameling Telemann-konserte vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente. Verdere opnames: J.S. Bach se Kantates nrs. 51, 202 en 210, en Die Kunst der Fuge; ‘n versameling orkeswerke van Heinrich, Johann Christoph en Johann Ludwig Bach; ‘n versameling dubbelkonserte van C.P.E., J.C., J.C.F. en W.F. Bach; ‘n versameling kantates van J.C., J.M., G.C. en H. Bach; Biber se 6 Mensa sonora; ‘n versameling strykerkonserte van Telemann, en sy volledige Tafelmusik.

Goehr, Walter (1903-60), Engelse dirigent en komponis van Duitse afkoms. Vanaf 1925 het hy vir ses jaar die Berlynse Radio-orkes gedirigeer, vir wie hy die opera Malpopita geskryf het. Hy het in 1933 na Engeland uitgewyk, waar hy tot 1948 onder die naam George Walter sou optree. In dié land was hy musiekdirekteur van die Columbia Platemaatskappy (1933-9), dirigent van die Morley Kollege se konserte (1943-60) en dirigent van die BBC Teaterorkes (1945-8). Hy het die eerste uitvoerings gedirigeer van Britten se Serenade (1943), Tippett se Fantasia on a Theme of Handel (1942) en A Child of our Time (1944), Seiber se Ulysses (1949), en sy seun Alexander se kantate The Deluge (1959). Voorts het hy die eerste Britse uitvoerings gedirigeer van Mahler se sesde simfonie (1950) en Messian se Turangalîla simfonie (1953). Met die Tonhalle Orkes in Zürich het hy in 1952 die heel eerste opname van Monteverdi se opera L’incoronazione di Poppeia gemaak, in 'n verhoogopvoering. Dit is in 1954 uitgereik en het terstond 'n Grand Prix du Disque verower. Daarby het hy ‘n orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling onderneem en Monteverdi se gewyde koorwerk Vespro della Beata Vergine geredigeer. Voorts het hy klankbane vir rolprente en dramas geskryf. Sy seun Alexander (1932-) is ‘n Britse komponis en hoogleraar in musiek.

Goldberg, Reiner (1939-), Duitse tenoor. Sy operadebuut het in 1966 in Dresden plaasgevind as Luigi in Il Tabarro. Later was hy verbonde aan die operahuis in dié stad (1973-7) en die Berlynse Staatsopera (sedert 1977). Verdere debute het gevolg by Covent Garden, Parys en die Salzburg-fees (aldrie in 1982), New York (1983), La Scala (1984), die Bayreuth-fees (1988) en die Metropolitan Opera (1992). As bekende heldentenor in Wagner-operas het hy die titelrol in Parsifal gesing in die klankbaan van ‘n rolprent deur Syerberg. Verdere opnames: die operas Salome (as Herodes) en Die Walküre (as Siegmund).

Goldberg, Szymon (1909-93), Pools-gebore violis en dirigent. Hy het in 1921 in Warskou gedebuteer, en daarna as leier van die filharmoniese orkeste van Dresden (1925-9) en Berlyn (1929-34) opgetree. Vanaf 1930 was hy vir vier jaar lid van ‘n bekende trio met die altviolis-komponis Paul Hindemith en die tjellis Emanuel Feuermann, met wie hy in ‘n hoogstaande opname van Hindemith se strykertrio gespeel het. Met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in Duitsland is hy deur die groot dirigent Wilhelm Furtwängler gehelp om te emigreer. Hy het vanaf 1935 vir vyf jaar sonate-uitvoerings met die pianis Lili Kraus gegee, insluitend ‘n uitstekende opname van Beethoven se Vioolsonate (opus 96). Later (1951-60) was hy lid van ‘n klavierkwintet in Aspen, Colorado. Hy het lank in Nederland gewoon, waar hy vanaf 1955 tot 1978 die Nederlandse Kamerorkes gedirigeer het. Daarna het hy in Brittanje en die VSA gewoon, waar hy as leermeester bekend geraak het. Verdere opnames: Mozart se vioolsonates nrs. 17 tot 34; en enkele Schubert-werke.

Goldschmidt, Berthold (1902-96), Duits-gebore komponis en dirigent. Hy was assistent-dirigent van die Berlynse Staatsopera (1926/7), dirigent van die Darmstadt Opera (1927-9), gasdirigent van die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes (1931) en artistieke adviseur van die Berlynse Staatsopera (1931-3). Daarna is sy werke deur die Nazis verbied, sodat hy in 1935 in Engeland gaan woon het. Daar het hy twaalf jaar later 'n Britse burger geword en in dieselfde jaar (1947) 'n opvoering van Macbeth by die eerste Edinburgh-fees gedirigeer. Later het hy die musiekgeleerde Deryck Cooke gehelp om Mahler se onvoltooide tiende simfonie vir uitvoering gereed te kry, waarvan hy in 1964 die eerste uitvoering in Londen gedirigeer het. In 1980 het hy ook sy jong kollega Simon Rattle van raad voorsien toe laasgenoemde dié werk vir die eerste keer opgeneem het. Sy operas Der gewaltige Hahnrei en Beatrice Cenci het in die 1990's 'n herlewing beleef.

Goldstone, Anthony (1944-), Engelse pianis. Hy het sy debuut in 1965 onder die beroemde dirigent John Barbirolli in Manchester gemaak. Daarna was hy 'n pryswenner in internasionale kompetisies in München en Wenen, en in 1968 het sy Londense debuut gevolg. Naas sy optredes as solis speel hy kamermusiek in ‘n trio met die violis Ralph Holmes en die tjellis Moray Welsh, en in ‘n klavierduet met sy vrou Caroline Clemmow. Opnames: Glière se Preludes en ander solowerke; Sibelius se klavierkwintet (met die Gabrieli Kwartet); en werke vir klavierduet van Fibich, Goetz, Moscheles en Tsjaikofski (met Clemmow).

Goltz, Christel (1912-), Duitse sopraan. Haar debuut is in 1935 in Fürth gemaak, as Agathe in Der Freischütz. Nadat sy opera gesing het in Plauen, was sy vanaf 1940 tot 1950 ‘n lid van die Dresden Staatsopera. Nog debute is gemaak by Covent Garden en die Salzburg-fees (beide in 1951), en by die Metropolitan Opera (1954). Sy was vanaf 1951 tot 1970 ‘n lid van die Weense Staatsopera, waar sy veral in Strauss-rolle naam gemaak het. By die Salzburg-fees het sy in Wilhelm Furtwängler se uitmuntende 1951-opname van Die Zauberflöte (as die Eerste Dame) verskyn. Daar sou sy ook drie jaar later die titelrol in Liebermann se opera Penelope skep. Haar enorme repertorium het oor meer as honderd rolle gestrek, met ‘n bekendheid veral as Marie in Wozzeck, die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Tosca, Elektra en Salome. Sy het laasgenoemde gesing in ‘n 1954-opname onder Clemens Krauss.

Gomez, Jill (1942-), Engelse sopraan. Haar operadebuut is in 1967 in Cambridge gemaak, en in die jaar daarop het sy met die Glyndebourne Toeropera as Adina in L'elisir d'amore gedebuteer. Nog debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1969), Covent Garden (1970) en die Wexford-fees (1974). Tippett het die rol van Flora in The Knot Garden (1970) vir haar geskryf, en sy het verder in die eerste uitvoerings van werke deur McCabe en Matthews gesing. Naas haar operarolle is sy bekend as konsert- en liederesangeres in ‘n wye repertorium. Sleutelopnames: Canteloube se Chants d'Auvergne (onder Handley); Villa-Lobos se Bachianas Brasileiras nr. 5 en sy Suite vir stem en viool (lg. met Peter Manning). Verdere opnames: Alwyn se opera Miss Julie (in die titelrol); kabaretliedere van Britten; Falla se ballet Die driehoekige hoed en sy El corregidor y la molinara; Handel se Ode for St Cecilia's Day en opera Admeto (as Antigona); Hoddinott se Sinfonia fidei; 7 vroeë orkesliedere van Mahler; Matthews se Cantiga; Ravel se Poèmes de Stéphane Mallarmé; orkesliedere van Walton; en liedere van Berlioz, Bizet, Britten, Debussy, Mozart, Porter, Satie, Schoenberg, Weill en Zemlinsky.

Gönnenwein, Wolfgang (1933-), Duitse dirigent. Hy het musiek en filosofie in Stuttgart, Heidelberg en Tübingen studeer. Na voltooiing van sy studies het hy in 1959 dirigent geword van die Suid-Duitse Madrigaalkoor in Stuttgart, met wie hy deur Europa en Suid-Amerika getoer het. In 1968 het hy ‘n hoogleraar in koorleierskap aan die Stuttgart Konserwatorium geword, en vanaf dieselfde jaar tot 1973 was hy direkteur van die Keulense Bach-koor. Hy het verder in 1972 artistieke direkteur van die Kasteelfees in Ludwigsburg geword, en in die jaar daarop ook rektor van die Musiekakademie in Stuttgart. Vanaf 1985 was hy vir sewe jaar bestuurder van die Württemberg Staatsopera in Stuttgart. Tydens die Ludwigsburg-fees van 1992 het hy ‘n stylvolle opvoering van Die Zauberflöte gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Met sy Stuttgart-koor het hy voorts voortreflike opnames gemaak van Bach se Sint Johannespassie en Sint Mattheüspassie, en van Mozart se Requiem.

Goodall, Reginald (1901-90), Engelse orrelis en dirigent. Aanvanklik is hy aan die Lincoln Katedraal se koorskool onderrig (1910-4), waarna hy in Toronto gaan woon het. Daar het hy aan die plaaslike universiteit studeer, maar later het hy na Engeland teruggekeer om aan die Koninklike Musiekkollege te studeer (1925-8). Hy was vanaf 1929 vir sewe jaar orrelis van die Sint Alban-kerk in Holborn, waar hy die eerste Britse uitvoerings van gewyde Bruckner-werke en vroeë Britten-werke sou dirigeer. In 1936 is sy operadebuut in Londen met ‘n opvoering van Carmen gemaak, en in dieselfde jaar het hy Albert Coates se assistent by Covent Garden geword. Vervolgens was hy assistent-dirigent van die Koninklike Koorvereniging (1936-9), dirigent van die Wessex Filharmoniese Orkes in Bournemouth (1940-3) en dirigent by Sadler’s Wells (vanaf 1944). By laasgenoemde operahuis het hy in 1945 die première van Peter Grimes gedirigeer. In die jaar daarop het sy debuut by die Glyndebourne-fees plaasgevind, met The Rape of Lucretia. Hy het historiese opnames van dié twee Britten-werke gedirigeer. Vanaf 1946 het hy verder bekend geraak vir sy Wagner-vertolkings by Covent Garden, terwyl hy elders sulke Wagner-meesters soos Wilhelm Furtwängler, Clemens Krauss en Hans Knappertsbusch bygestaan het. Dit sluit die Bayreuth-fees in, waar hy tydens die 1950’s aan Knappertsbusch se legendariese opvoerings van Parsifal deelgeneem het. Dit verbaas dus nie dat sy vertolkings van Wagner-operas deur hoë vlakke van konsentrasie en uitgestrektheid gekenmerk word nie. Vanaf 1968 het hy ‘n aantal Wagner-operas in Engels gedirigeer, waaronder Die Meistersinger von Nürnberg by Sadler’s Wells (1968), Parsifal by Covent Garden (1971) en die Ring-siklus by die Engelse Nasionale Opera (1973-77). Hoogaangeskrewe opnames is van elkeen gemaak. Ook van Tristan und Isolde sou hy by die Walliese Nasionale Opera ‘n voortreflike opvoering en opname dirigeer. Hy is in 1985 tot ridder geslaan.

Goode, Richard (1943-), Amerikaanse pianis. Hy het sy debuut in 1962 in New York gemaak en twee jaar later sy Europese debuut by die Spoleto-fees. Aanvanklik het hy op kamermusiek gekonsentreer, onder andere as lid van die Boston Simfonie Kamerspelers (1967-9) en die Kamermusiekvereniging van die Lincolnsentrum in New York (1969-79 en 1983-9). Intussen het hy in 1973 die Clara Haskil-kompetisie gewen. Later het hy met sy kragtige spel en subtiele beheer van toonkleur as ‘n meesterlike vertolker van Beethoven bekend geraak. Dit geld ook vir sy Mozart-vertolkings, sodat hy tans besig is om die volledige klavierkonserte van dié musiekreus met die Orpheus Kamerorkes op te neem. Daarin dirigeer hy self die orkes vanaf die klawerbord. Hy tree verder as klavierbegeleier vir die sopraan Dawn Upshaw in van haar liedere-opnames op. Sleutelopnames: Bach se 6 Partitas vir klawerbord; Beethoven se volledige klaviersonates; Mozart se klavierkonserte nrs. 18, 20, 23 en 24.

Goodman, Benny (1909-86), Amerikaanse klarinettis. Ná ‘n aanvanklike jazz-loopbaan het hy bekend geraak in kamermusiek en as solis in konserte met 'n aantal Amerikaanse orkeste. Verskeie klarinetwerke, waaronder Bartók se Contrasts (1939) en die konserte van Copland en Hindemith (beide in 1947), is vir hom geskryf. In 1962 het hy met sy eie orkes deur Rusland getoer en in 1985 by die Aldeburgh-fees opgetree. Opnames: die genoemde werk van Bartók, Copland se klarinetkonsert, Gould se Derivations vir klarinet en orkes en Strawinski se Ebony concerto.

Goodman, Roy (1951-), Engelse violis en dirigent. Hy het in die 1960’s toe hy ‘n tiener was as diskant-solis in ‘n beroemde opname van Allegri se Miserere met die koor van Kings College, Cambridge onder David Willcocks gesing. Sedert 1971 gee hy musiekonderrig, onder andere as direkteur van vroeë musiek by die Koninklike Musiekakademie. Hy het in 1975 die Brandenburg Consort gestig vir die uitvoering van musiek uit die agtiende en negentiende eeue op eietydse instrumente. Daarna was hy mededirekteur van die Parley of Instruments (1979-86). Sedert 1986 is hy hoofdirigent van The Hanover Band, met wie hy ‘n aantal toere deur die VSA onderneem het. Hy het met hulle die volledige strykersimfonieë van Mendelssohn en die volledige simfonieë van Schubert en Schumann in stylvolle vertolkings opgeneem. Sy projek om die volledige simfonieë van Haydn op te neem is egter onderweg laat vaar weens teleurstellende verkope. Nogtans word talle van die simfonieë wat wel opgeneem is as sleutelopnames gereken. Sleutelopnames: Handel se Concerti grossi, opus 3; Haydn se simfonieë nrs. 13-25, 42-47, 70-72, en 76-78; Wassenaer se 6 Concerti Armonici. Verdere opnames: Arne se opera Artaxerxes; Avison se 12 Concerti grossi after Scarlatti; Bach se Brandenburgkonserte, Orkessuites, en Kantates nrs. 202, 208, 210, 211 en 212; Beethoven se simfonieë nrs. 3, 4, 6-9, en enkele ouvertures; die volledige simfonieë van Berwald en 2 ouvertures; Boyce se Solomon; Handel se kantate Apollo e Dafne; en orkeswerke van Avison, Corelli, Holst, Mozart, Telemann, Vivaldi en Weber.

Goossens, Eugene (1893-1962), Engelse dirigent, violis en komponis van Belgiese afkoms. Ná studies in Brugge, Liverpool en Londen was hy 'n violis in die Queen's Hall Orkes (1911-5) en daarna 'n assistent vir die groot dirigent Thomas Beecham (1916-20). In 1921 het hy sy eie orkes gestig, wat hy in Russiese opera en ballet by Covent Garden gedirigeer het. Daaronder tel die Britse première van Strawinski se Die Lente se Wydingsoffer in 1921 en die eerste uitvoering van Holst se The Perfect Fool twee jaar later. Vervolgens is hy na die VSA, waar hy vanaf 1923 tot 1931 dirigent van die Rochester Filharmoniese Orkes was. Hy het Fritz Reiner in 1931 as hoofdirigent van die Cincinatti Simfonie-orkes opgevolg, ‘n pos wat hy tot 1947 sou beklee. In 1941 het hy die orkes gedirigeer in die enigste opname wat nog van Vaughan Williams se tweede simfonie in die hersiene (1920) weergawe gemaak is. Dit was kort nadat hul saam met Jascha Heifetz die eerste opname van Walton se vioolkonsert gemaak het. In 1947 het hy na Australië verhuis, waar hy tot 1956 die Sydney Simfonie-orkes sou dirigeer. Hy is in 1955 tot ridder geslaan. As kampvegter vir moderne musiek het hy in 1959 met die Londense Simfonie-orkes die eerste opname van Antheil se vierde simfonie gemaak. Sy susters Marie (1894-1991) en Sidonie (1899-) was beide professionale harpspelers in Britse orkeste, wat mettertyd hoogleraars in harp geword het. Sy broer Léon was ‘n hobospeler (sien die volgende inskrywing). Onder sy komposisies tel twee simfonieë en die opera Judith. Verdere opnames: Copland se Statements for orchestra; Delius se The Walk to the Paradise Garden; Ginastera se Estancia suite; en Strawinski se ballet Petroesjka.

Goossens, Léon (1897-1988), Engelse hobospeler, broer van die dirigent Eugene. As sestienjarige het hy die beroemde dirigent Henry Wood so met sy spel beïndruk dat hy eerste hobospeler van die Queen’s Hall Orkes geword het. Later sou hy dieselfde pos beklee by Covent Garden en in die Londense Filharmoniese Orkes, vanaf laasgenoemde se stigting in 1932. In 1927 het hy die première van sy broer se hobokonsert gegee. Daarby het hy as hoogleraar in hobo onderrig gegee aan die Koninklike Musiekakademie (1924-35) en die Koninklike Musiekkollege (1924-39). Vanaf 1939 het hy as briljante solis en in kamermusiek bekend geraak, sodat komponiste soos Elgar, Britten en Vaughan Williams werke vir hom geskryf het. Die CBE is in 1950 aan hom toegeken. In 1962 is sy tande en lippe in ‘n motorongeluk beskadig, maar vier jaar later het hy ‘n nuwe tegniek ontwikkel en sy spel hervat. Opnames: Bax se hobokwintet; verwerkte hobokonserte van Marcello en D. Scarlatti; en kort werke van Fauré, Saint-Saëns en andere.

Görne, Matthias (1970-), Duitse bariton. Hy het onder die legendariese liedere-sangers Elisabeth Schwarzkopf en Dietrich Fischer-Dieskau studeer. Daarna het hy met sy donker toonkleur en wye emosionele reeks self in Duitse liedere begin naam maak. Vroeg in sy loopbaan reeds het hy Schubert se drie groot siklusse in Londen uitgevoer, en sedertdien tree hy wêreldwyd op. Groot pianiste soos Alfred Brendel, Graham Johnson, Wladimir Asjkenazy en Christoph Eschenbach tel onder sy begeleiers, en in konsertwerke tree hy met van die voorste dirigente van sy tyd op. Hy blink byvoorbeeld uit as Jesus in Bach se Sint Matteuspassie. Hoewel liedere sy prioriteit is, sing hy tog operarolle soos Papageno in Die Zauberflöte, Marcello in La Bohème en Wolfram in Tannhäuser. Sy Salzburg-feesdebuut is in 1997 as Papageno gemaak. Sleutelopname: Schubert se Winterreise (met Graham Johnson), en ‘n versameling van sy Goethe Lieder (begelei deur Andreas Häfliger). Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 56, 82 en 158 (onder Norrington) en Sint Matteuspassie (onder Harnoncourt); Beethoven se negende simfonie (onder Pletnjef); Mahler se Des Knaben Wunderhorn (onder Chailly); Schubert se Die schöne Müllerin; ‘n versameling orkesliedere van Wolf (onder Chailly); en liedere van Eisler en Schumann.

Gorr, Rita (1926-), Belgiese mezzosopraan. Nadat sy in 1949 in Antwerpen as Fricka in Die Walküre gedebuteer het, was sy vir die volgende drie jaar aan die Strasbourg Opera verbonde. In 1952 het sy die internasionale sangkompetisie in Lausanne gewen en daarna by die Parys Opera aangesluit. Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1958), Covent Garden (1959), La Scala (1960) en die Metropolitan Opera (1962). Met haar buitengewone stemreeks kon sy musiek vir sopraan, mezzo en alt ewe goed sing. Onder die rolle waarin sy uitgeblink het, tel Madame de Croissy in Les dialogues des Carmélites, Dalila in Samson et Dalila, Herodias in Salome en Amneris in Aida. Sy het in hoogstaande opnames van die genoemde operas van Poulenc, Saint-Saëns en Verdi gesing.

Gortsjakowa, Galina (1962-), Russiese sopraan. Sy is afkomstig van Siberië, waar sy as kind na haar sanger-ouers se optredes in die Nowosibirsk Opera geluister het. Haar professionale debuut het in 1988 by die Swerdlowsk Opera plaasgevind, as Tatjana in Jewgeni Onegin. Daarna het debute gevolg by die Londense Proms (1991), en by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1992). As lid van die Kirof Opera is sy met haar ryk, ferm stem en aantreklike voorkoms ‘n hoogs begaafde sangeres in Russiese musiek. Dit sluit rolle in soos Jaroslafna in Prins Igor, Gorislawa in Ruslan en Ludmilla, Renata in Die Vurige Engel, die titelrol in Jolanta en Maria in Mazeppa. Daarby blink sy uit as Leonora in Verdi se La forza del destino. Sleutelopname: Glinka se Ruslan en Ludmila (onder Gergijef, op DVD). Verdere opnames: liedere van Moessorgski; die genoemde operas van Borodin en Prokofiëf, asook Jolanta en Mazeppa.

Gothic Voices, Britse koor wat in 1980 deur Christopher Page gestig is (sien verder onder Page, Christopher).

Göttingen, stad in Duitsland waar elke jaar ‘n fees van Handel se musiek gehou word. Die fees is in 1920 ingelui met ‘n opvoering van die opera Rodelinda, wat die eerste moderne opvoering van ‘n Handel-opera was. Sedert 1991 is Nicholas McGegan die artistieke direkteur van die fees.

Gould, Glenn (1932-82), Kanadese pianis en komponis. Ná studies in Toronto het hy as veertienjarige sy debuut met die stad se simfonie-orkes in Beethoven se vierde klavierkonsert gemaak. Daarna het hy wyd getoer, met ‘n Amerikaanse debuut wat in 1955 plaasgevind het en ‘n Europese debuut twee jaar later onder Herbert von Karajan in Berlyn. Ook in 1957 het hy geskiedenis gemaak deur die eerste Amerikaner te word om in die destydse Sowjet-Unie te speel, en in die jaar daarop het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Sy bekendheid was deels toe te skryf aan sy eienaardige vertolkings en gedrag, byvoorbeeld radikale tempos en geluide wat hy tydens opnames gemaak het. Vanaf 1964 het hy selde in konserte opgetree, maar het voortgegaan om opnames te maak. As uitmuntende vertolker van Bach het hy gevierde opnames van sy Goldberg Variasies gemaak, in 1955 en 1981 onderskeidelik. In die jare tussen die twee siklusse het sy spel ‘n meditatiewe kwaliteit begin verkry, sodat dit nie verbasend is dat die tweede opname heelwat stadiger as die eerste was nie. Daarby het hy die oorspronklike musiek geskryf vir die klankbaan van die 1972-rolprent Slaughterhouse Five. Sleutelopname: Bach se Goldberg Variasies (1981). Verdere opnames: klaviersonates van Haydn, Mozart en Beethoven; en Schoenberg se volledige solowerke.

Graffman, Gary (1928-), Amerikaanse pianis. Hy het sy openbare debuut in 1938 gemaak en in 1947 het sy konsertdebuut met die Philadelphia Orkes plaasgevind. In 1949 het hy die Leventritt-toekenning ontvang en ses jaar later is sy Europese debuut gemaak. Daarna het hy wêreldwyd getoer, maar in 1979 het hy die gebruik van sy regterhand vanweë siekte verloor. In die jaar daarna het hy aan die Curtis Instituut begin onderrig gee en in 1986 het hy artistieke direkteur daarvan geword. Hy het onder André Previn in voortreflike opnames van Rorem se Klavierkonsert vir die linkerhand en Richard Strauss se Parergon gespeel.

Graham, Susan (1960-), Amerikaanse mezzospraan. Sy is in New York opgelei en het in 1989 by die Seattle Opera die rol van Charlotte in Werther gesing. Met haar ryk stem blink sy uit in sogenaamde manlike rolle, veral as Cherubino in Le nozze di Figaro. Onder haar verdere rolle tel Ascanio in Les Troyens, Cecilio in Lucio Silla en Meg Page in Falstaff. Sy is ewe begaafd in konsertwerke, veral van Franse komponiste. Sleutelopname: Chausson se Poème de l’amour et de la mer (onder Yan Pascal Tortelier). Verdere opnames: Berlioz se Les nuits d’été; Ravel se Shéhérazade; Schumann se Szenen aus Goethes Faust (onder Abbado); en ‘n versameling opera-arias van Gluck en Mozart (onder Bicket).

Grand Slam, verwysend na optredes deur ‘n sanger in hoofrolle by vier bekende operahuise, naamlik La Scala, die Weense Staatsopera, Covent Garden en die Metropolitan Opera. Dit word as een van die grootste prestasies vir enige sanger beskou.

Grappelli, Stephane (1908-), Franse violis. Ná klassieke opleiding het hy in die laat 1930’s na jazz oorgeslaan. In 1969 is sy Amerikaanse debuut gemaak. Vanaf die 1970’s het hy bekend geraak in optredes en opnames, eers met Yehudi Menuhin en later met Nigel Kennedy.

Gray, Linda Esther (1948-), Skotse sopraan. Terwyl sy nog ‘n student was, het haar operadebuut in 1970 by Sadler’s Wells plaasgevind, as Marenka in die Die Verruilde Bruid en in die titelrol van L'incoronazione di Poppea. Sy het twee jaar later die Kathleen Ferrier-prys gewen en die rol van Mimì in La Bohème met die Glyndebourne Toeropera gesing. In 1973 het haar debuut by die Fees self gevolg, met verdere debute wat gemaak is in Parys (1976), die Engelse Nasionale Opera (1978), Covent Garden (1980) en Dallas (1981). Vanaf 1974 was sy vir vyf jaar aan die Skotse Opera verbonde, en in 1979 het sy die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde by beide die Walliese Nasionale Opera (in Duits) en die ENO (in Engels) gesing. Sy het in hoogstaande opnames van Villa-Lobos se musiekblyspel Magdalena en Wagner se opera Die Feen (in die rol van Ada) opgetree.

Greenberg, Noah (1919-66), Amerikaanse dirigent en musiekregisseur. Hy het in 1952 die New York Pro Musica gestig vir die uitvoering van vroeë musiek in ‘n eietydse styl. As spesialis in Middeleeuse en Renaissance-musiek het hy ses jaar later die Middeleeuse drama The Play of Daniel herleef en in 1960 deur Europa daarmee getoer.

Greevy, Bernadette (1940-2008), Ierse mezzosopraan. Sy het eers in haar geboortestad Dublin en daarna aan die Guildhall Musiekskool in Londen studeer. Haar verhoogdebuut is op 18 in Dublin gemaak, as Siebel in Faust. In 1961 het haar professionele debuut in Dublin plaasgevind, as Maddalena in Rigoletto. Verdere debute is gemaak by die Wexford-fees (1962) en Covent Garden (1982). Oor die jare het sy verskyn in verdere rolle soos Orfeo in Orfeo ed Euridice, Dido in Dido and Aeneas, Dalila in Samson et Dalila, Eboli in Don Carlos, Azucena in Il Trovatore, en die titelrolle in Carmen, The Rape of Lucretia, Ariodante, Hérodiade en Werther. Met haar ferm, ryk stem was sy egter merendeels bekend in oratoriums en liedere, veral in die musiek van Mahler wat sy onder bekende dirigente gesing het. Gedurende die 1990's het sy Mahler se vokale werke met orkes oor 'n tydperk van vier jaar in die Teatro Colon in Buenos Aires uitgevoer. Sy het dwarsdeur haar loopbaan verkies om in Dublin te woon, eerder as in die van die groter musieksentrums. In 2000 het sy die Anna Livia Operafees in Dublin gestig, waarvan sy die artistieke direkteur was. Daarby het sy jaarliks gewilde meesterklasse in die Ierse hoofstad gegee. Sy het eredoktorsgrade van twee Ierse universiteite ontvang, asook die Vatikaan se toekenning Pro Ecclesia et Pontifice. Opnames: Boulanger se Psaume 24 en Psaume 130; Brahms se Alt Rapsodie (onder James Loughran); Mahler se orkeslied-siklusse Kindertotenlieder, Lieder eines fahrenden Gesellen en Rückert Lieder.

Gregor, Bohumil (1926-), Tsjeggiese dirigent. Nadat hy in 1947 in Praag gedebuteer het, was hy ‘n assistent-dirigent van die Brno Opera (1949-51). Later was hy musiekdirekteur van die Ostrawa Opera (1958-62), en dirigent van die Praag Nasionale Teater (1962-6), die Stockholm Opera (1966-9) en die Hamburg Opera (1969-72). Intussen het hy in 1964 sy Britse debuut by die Edinburgh-fees gemaak met die Britse première van Vanuit die Huis van die Dode, en vyf jaar later sy Amerikaanse debuut in San Francisco met Jenufa. As spesialis in die operas van sy landgenoot Janácek het hy hoogstaande opnames van sy Die geslepe klein wyfievos en Die Makropoulos-saak gedirigeer.

Greindl, Josef (1912-93), Duitse bas. Hy het in sy tuisstad München onder Paul Bender en Anna Bahr-Mildenberg studeer. Sy debuut is in 1935 tydens ‘n semi-professionele opvoering van Der Freischütz gemaak, gevolg deur ‘n professionele debuut in die jaar daarop in Krefeld as Hunding in Die Walküre. Hy was verbonde aan die Düsseldorf Opera (1938-42), en in 1942 het hy na Berlyn verhuis. In die Duitse hoofstad was hy ‘n lid van die Staatsopera (1942-48) en daarna van die Stadsopera. Verder het hy gedebuteer by die feeste in Bayreuth (1943) en Salzburg (1949), en by die Metropolitan Opera (1952). By Salzburg het hy uitgeblink as Sarastro in opnames van Die Zauberflöte (1949 en 1951) en as Lodovico in Otello (1951), almal onder Wilhelm Furtwängler. Vanaf 1951 tot 1970 was hy die voorste bas by die Bayreuth-fees, waar hy al die vernaamste Wagner-rolle gesing het. Hy het vanaf 1956 ook in Wenen gesing, en in 1959 het hy die rol van Moses tydens die Duitse première van Moses und Aron in Berlyn geskep. Sy Londense debuut is in 1963 gemaak as Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg. Met sy donker, klankryke stem het hy ook uitgeblink in rolle soos Rocco in Fidelio, Commendatore in Don Giovanni, die titelrol in Boris Godoenof, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Fafner in Das Rheingold, Hagen in Götterdämmerung, Titurel in Parsifal, Hermann in Tannhäuser en Koning Mark in Tristan und Isolde. Daarby was hy vanaf 1973 ‘n hoogleraar in sang aan die Weense Konserwatorium. Later het hy sangonderrig in Saarbrücken gegee. Verdere opnames: Beethoven se Missa solemnis (onder beide Böhm en Klemperer); die genoemde operas van Beethoven, Mozart en Wagner, asook die eerste bedryf van Die Walküre (onder Knappertsbusch, op DVD).

Griller Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1928 deur die violis Sidney Griller (1911-1993) gestig is. Vanaf 1949 tot 1961 was die ensemble aan die Universiteit van Kalifornië verbonde, waarop hul ontbind is. Hul spel is gekenmerk deur warmte en spontaniteit. Sleutelopnames: Haydn se strykkwartet nr. 39; Mozart se strykkwartette nrs. 14 en 15. Verdere opnames: strykkwartette van Beethoven (nrs. 3, 11 en 15), Bloch (nr. 2) en Dvorák (nr. 12); en Mozart se Adagio en Fuga, K546.

Grinberg, Maria (1908-), Oekraïns-gebore Russiese pianis. Sy het slegs enkele optredes buite die destydse Sowjet-Unie gemaak, veral in Nederland. Met haar elegante spel was sy bekend in ‘n wye repertorium werke. Haar 1964-opname van Brahms se Schumann Variasies word as een van die beste weergawes van die werk beskou. Verdere opnames: solowerke van Brahms, Mozart, D. Scarlatti, Schumann, Seixas en Soler.

Gringolts, Ilya (1982-), Russiese violis. Hy het op 16 die internasionale Paganini-kompetisie in Italië met ‘n uitvoering van Sjostakowitsj se eerste vioolkonsert gewen. Sy mentor is die groot violis Itzhak Perlman, en sy ryk toonkleur en verfynde spel herinner aan dié van sy landgenoot David Oistrach. Sleutelopname: Paganini se vioolkonsert nr. 1 (onder Vänskä). Verdere opnames: vioolkonserte van Prokofiëf (nr. 1), Sjostakowitsj, Sibelius en Tsjaikofski; en Tanejef se klavierkwintet (met Repin, Imai, Harrell en Pletnjef).

Grist, Reri (1932-), Afro-Amerikaanse sopraan. Ná ‘n aanvanklike loopbaan in Broadway- musiekblyspele het sy in 1959 haar operadebuut in New York gemaak. Daarna het sy by van die voorste operahuise ter wêreld gesing, met debute wat plaasgevind het in Keulen (1960), by Covent Garden (1962), die Salzburg-fees (1964) en die Metropolitan Opera (1966). Haar bekendheid lê in liriese rolle soos Blonde in Die Entführung aus dem Serail, Susanna in Le nozze di Figaro, Madame Herz in Der Schauspieldirektor, die titelrol in Die schweigsame Frau, Oscar in Un ballo in maschera en Gilda in Rigoletto. Opnames: die genoemde operas van Mozart, R. Strauss en Verdi, asook Così fan tutte.

Gritton, Susan (1965-), Engelse sopraan. Sy het plantkunde aan die universiteite van Oxford en Londen studeer voordat sy na sang oorgeslaan het. In 1994 het sy die Kathleen Ferrier-gedenkprys gewen en in dieselfde jaar haar debuut as voordraer in Londen gemaak. Sy tree wyd deur Europa in konserte en opera op, soos die Londense Proms waar sy in 1996 gesing het. Sedert 2000 sing sy hoofrolle by die Engelse Nasionale Opera in ‘n wye repertorium. Daaronder tel Helen in Paride e Elena en Anne in Sir John in Love. As liederesangeres tree sy dikwels met die gevierde begeleier Graham Johnson op. Met haar suiwer sang en soet toonkleur is sy wêreldbekend in Barokmusiek, hoewel haar repertorium veel wyer strek. Sleutelopnames: Handel se oratorium Messiah (onder Paul McCreesh); ‘n versameling sekulêre liedere van Purcell (onder Robert King). Verdere opnames: Bach se Misse in A majeur en G mineur; Handel se oratoriums Deborah, The Occasional Oratorio, Saul, Solomon en Theodora (lg. in die titelrol); Haydn se Mis nr. 11 en Missa brevis; Hummel se Alma Virgo en Misse in E mol, D majeur en B mol majeur (almal onder Hickox); Mendelssohn se oratorium St Paul; Metner se Goethe Lieder; Mozart se Requiem; liedere van Fanny Mendelssohn en Clara Schumann; kerkmusiek van Vivaldi; die genoemde operas van Gluck en Vaughan Williams, asook Le nozze di Figaro en Ottone in villa.

Grobe, Donald (1929-86), Amerikaanse tenoor. Hy het in 1952 sy operadebuut in Chicago in Rigoletto gemaak en was vanaf 1960 verbonde aan die Deutsche Oper in Berlyn. Daar het hy die rol van Wilhelm tydens die première van Der junge Lord geskep (1965) en in die Duitse première van Death in Venice gesing. Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1962), Edinburgh (1965), die Metropolitan Opera (1968) en Covent Garden (1972). Opnames: Mahler se agste simfonie (onder Kubelik); Mozart se Mis nr. 16; en die operas Der junge Lord, Cardillac, Mathis der Maler, Das Rheingold en Oberon.

Grodd, Uwe (1958-), Duitse fluitspeler en dirigent. Hy het aan die Mainz Universiteit gegradueer, waarna verdere leiding van die gevierde dirigent Sergiu Celibidache ontvang is. Sy loopbaan sou merendeels in Nieu-Seeland ontvou, waar hy in 1989 musiekdirekteur van die Auckland Universiteit se simfonie-orkes geword het. In dieselfde jaar het hy met die Auckland Philharmonia ‘n opelugkonsert vir ‘n skare van ‘n kwartmiljoen mense gegee. Hy het in 1993 musiekdirekteur van die Stad Manukau se simfonie-orkes geword, met wie hy in 2005 ‘n nuwe konsertsaal in Manukau ingewy het. Tydens die geleentheid is die première van Leonie Holmes se The Journey deur hul uitgevoer. Vanaf 1998 tot 2002 was hy ook artistieke direkteur van die internasionale musiekfees in Nieu-Seeland. As kampvegter vir hedendaagse musiek het hy in 2002 die première van Rimmer en Ihimaera se multimedia-opera Galileo gedirigeer. Hy tree voorts gereeld by die Handel-fees in Halle, Duitsland op. Daar het hy in 2003/4 opvoerings van Handel se pas herontdekte opera Imeneo gedirigeer, waarvoor hy deur die Duitse musiektydskrif Opernwelt aangeprys is. Hy het met die Capella Istropolitana, die Failoni Orkes en die Nicolaus Esterházy Sinfonia hoogstaande opnames gemaak van werke deur minder bekende komponiste van die agtiende eeu. Sedert 2004 dirigeer hy dikwels konserte in Meksikostad. Daarby is hy artistieke direkteur van die Fluitfees in Nieu-Seeland, wat deur hom gestig is, en is hy ‘n hoogleraar in dirigeerkuns en fluit aan die Universiteit van Auckland. Hy het werke van Beethoven, Ries en Vanhal geredigeer. Sleutelopnames: Hummel se Missa Solemnis in C (die eerste opname van die werk, met die Nieu-Seeland Simfonie-orkes); Vanhal se simfonieë nrs. A9, C3, C11 en D17 (Esterházy Sinfonia). Verdere opnames: ‘n aantal simfonieë van Cannabich, Dittersdorf en Pleyel; en Vanhal se Missa Pastoralis en Missa Solemnis.

Groves, Charles (1915-92), Engelse dirigent. Aanvanklik was hy aan die BBC verbonde, eers as koormeester (1938-42) en daarna as mededirigent (1942-4). Vervolgens was hy 'n dirigent van verskeie Britse orkeste, naamlik die BBC Noordelike Orkes (1944-51), die Bournemouth Simfonie-orkes (1951-61), die Walliese Nasionale Opera (1961-63) en die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1963-77). Met laasgenoemde het hy in die vroeë 1970’s hoogstaande opnames van korter orkeswerke van Sibelius gemaak. In 1978/9 was hy musiekdirekteur van die Engelse Nasionale Opera. Intussen het hy die OBE en die CBE ontvang, en in 1973 is hy tot ridder geslaan. Hy was ‘n uitmuntende vertolker van laat-Romantiese en moderne Britse musiek, maar kon homself ook goed laat geld in die Duitse Klassieke repertorium. Opnames: die volledige simfonieë van Schubert, asook enkeles van Brian (nrs. 8 en 9), Haydn (nrs. 92 en 104), Jones, Mozart (nr. 31) en Sullivan; orkeswerke van Arnold, Bliss, Bridge, Britten, Butterworth, Delius, Elgar, Fauré, Ravel, Vaughan Williams, Warlock en G. Williams; Bliss se koorwerk Morning heroes; Delius se A Mass of Life; Elgar se koorwerke The Light of Life en The Black Knight; Hoddinott se koorwerk Sinfonia fidei; Jones se kantate The Country beyond the stars; en die opera Hugh the Drover.

Gruberová, Edita (1946-), Slowaakse sopraan. Sy het in 1968 haar operadebuut in Bratislawa gemaak, as Rosina in Il barbiere di Siviglia. Daarna het sy gedebuteer by die Weense Staatsopera (1970) en die Glyndebourne-fees (1973), in beide gevalle as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte. Verdere debute het plaasgevind by die Salzburg-fees (1974), die Metropolitan Opera (1977) en Covent Garden (1984). Sy is wêreldbekend in die koloratuurrolle van Donizetti en Mozart, en in die liriese rolle van Verdi. Naas die genoemde rolle sluit dit in die titelrolle in Norma, Lakmé, Anna Bolena en Lucia di Lammermoor, Elizabeth I in Roberto Devereux, die vroulike hoofrol in Bastien und Bastienne, Elettra in Idomeneo, Giunia in Lucio Silla, Rosalinde in Die Fledermaus, Zerbinetta in Ariadne auf Naxos, Amelia in Un ballo in maschera, Gilda in Rigoletto en Violetta in La Traviata. Sy het geskitter as Norma in ‘n 2006-opvoering by die Beierse Staatsopera onder Friedrich Haider, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Haydn se Die Schöpfung; Henze se Cantata della fiaba estrema; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Dohnányi); Orff se Carmina Burana; liedere van Richard Strauss; die genoemde operette van Johann Strauss; die genoemde operas van Bellini, Donizetti, Mozart, Richard Strauss en Verdi, asook Mitridate, rè di Ponto, Der Schauspieldirektor en Il sogno di Scipione; en ‘n versameling Franse en Italiaanse opera-arias.

Gruenberg, Erich (1924-), Oostenryks-gebore violis en dirigent. As jong tiener het hy in 1938 orkesleier van die Palestynse Uitsaai-orkes in Jerusalem geword, ‘n pos wat hy tot 1945 sou beklee. In 1946 het hy in Londen gaan woon, waar hy vier jaar later ‘n Britse burger geword het. Vervolgens was hy orkesleier van die Stockholm Filharmoniese Orkes (1956-8), die Londense Simfonie-orkes (1962-5) en die Koninklike Filharmoniese Orkes (1972-6). In laasgenoemde hoedanigheid het hy uitgeblink in Leopold Stokowski se puik opname van Rimski-Korsakof se Scheherazade in 1975. Hy was bekend as kampvegter vir hedendaagse vioolwerke en het gereeld in kamermusiek-ensembles gespeel. Daarbenewens was hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie. In 1994 is die OBE aan hom toegeken. Verdere opnames: Bax se 2 vioolsonates (met die pianis John McCabe); Messiaen se Kwartet vir die eindtyd (met De Peyer, Pleeth en Béroff); Parry se viool- en fantasie-sonates (met die pianis Roger Vignoles); en Holloway se Romanza.

Grimaud, Hélène (1969-), Franse pianis. Sy is van Noord-Afrika Joodse afkoms en het op dertien aan die Nasionale Konserwatorium in Parys onder Jacques Rouvier begin studeer. In 1985 het sy as sestienjarige tiener ‘n Grand Prix du Disque gewen vir haar opname van Rachmaninof se tweede klaviersonate. Haar professionele loopbaan is in 1987 afgeskop met 'n voordrag in die Franse hoofstad en 'n uitvoering met die Orchestre de Paris onder Daniel Barenboim. Sedertdien tree sy wêreldwyd met van die voorste orkeste en dirigente op, en in 2000 is by die Franse Victoires de la Musique as Solis van die Jaar aangewys. In 2002 het die Franse Ministerie van Kultuur haar tot Officier dans l’ordre des Arts et des Lettres aangestel. Sy het intussen in 1991 in die VSA gaan woon, waar sy ‘n gesin wolwe op haar kleinhoewe in die deelstaat New York aanhou. Toestemming is daarvoor verleen nadat sy vir twee jaar dieregedrag bestudeer het. Haar doel met die aanhou van die wolwe is om te demonstreer dat dié pragtige roofdiere nie hul wreedaardige reputasie verdien nie en om geleentheid aan bioloë vir wetenskaplike studie te bied. Tans is sy in Switserland woonagtig. Sy ervaar soms 'n toestand waarin een fisiese sintuig met 'n ander saamval, waartydens sy musiek as kleur kan waarneem. Haar kragtige, riskante spel word met dié van die legendariese Glenn Gould vergelyk. Met haar beeldskone voorkoms verbaas dit nie dat sy al by geleentheid modelwerk vir die tydskrif Vogue gedoen het nie. Verdere opnames: Bartók se derde klavierkonsert (onder Boulez); Beethoven se vierde klavierkonsert (onder Masur) en Koorfantasie (onder Salonen); Brahms se eerste klavierkonsert (onder Sanderling); Gershwin, Ravel en Schumann se klavierkonserte; Pärt se Credo; en Richard Strauss se Burleske.

Grumiaux, Arthur (1921-86), Belgiese violis. Ná studies onder George Enescu in Parys het hy in 1940 sy debuut in Brussels gemaak en vyf jaar later in Brittanje begin optree. Daarna het hy met sy warm, elegante spel en suiwer toonkleur wêreldbekend as solis geraak, veral in die Klassiek-Romantiese repertorium waarin hy een van die instrumentele reuse van die twintigste eeu was. Hy het gereeld met die pianis Clara Haskil in sonate-uitvoerings opgetree. Vanaf 1949 was hy ‘n hoogleraar in viool aan die Brussels Konserwatorium en in dieselfde jaar het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy het in 1969 as leier van sy eie strykertrio in hoogaangeskrewe opnames van twee Schubert-trios gespeel, en vier jaar later is hy tot baron in sy geboorteland verhef. Sleutelopnames: Bach se 2 vioolkonserte, Dubbele Vioolkonsert (met Krebbers), Dubbelkonsert vir viool en hobo (met Holliger) en volledige sonates vir viool en klawesimbel (met Jacottet); Mozart se 5 vioolkonserte en Sinfonia concertante (almal onder Colin Davis, lg. met Arrigo Pellicia). Verdere opnames: Bach se volledige onbegeleide vioolsonates en -partitas; Beethoven se volledige vioolsonates; Mozart se volledige vioolkwintette; vioolkonserte van Beethoven, Haydn, Mendelssohn, Brahms en Tsjaikofski; vioolsonates van Corelli, Debussy, Fauré, Franck, Lekeu, Ravel, Schubert, Tartini en Veracini; solowerke van Dvorák, Kreisler, Paganini, Sarasate en Vitali; en Schubert se Rondo in A.

Grümmer, Elisabeth (1911-86), Duitse sopraan. Aanvanklik was sy ‘n aktrise, en in 1940 het sy op aanbeveling van Herbert von Karajan haar operadebuut in Aachen gemaak as die Eerste Blommemeisie in Parsifal. Daarna het sy by operahuise in Duisburg en Praag opgetree, en vanaf 1946 tot 1972 was sy aan die Deutsche Oper in Berlyn verbonde. Daar het sy die rol van Ellen Orford in die Duitse première van Peter Grimes gesing. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1951), die feeste in Salzburg (1953) en Bayreuth (1957), en by die Metropolitan Opera (1967). Met haar soet toonkleur en sensitiewe sang was sy een van die voorste liriese soprane van haar tyd in Duitse opera, onder andere as Gretel in Hänsel und Gretel, Donna Anna in Don Giovanni, Elettra in Idomeneo, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, Elsa in Lohengrin, Freia in Das Rheingold, Octavian in Der Rosenkavalier en Agathe in Der Freischütz. Sy is deur Wilhelm Furtwängler gekies om die rol van Freia in sy Roomse opname van die Ring-siklus in 1953 te sing. Daarby was sy ‘n begaafde sangeres in gewyde werke van Bach. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (onder Furtwängler), en kantates nrs. 68 en 140; Brahms se Ein deutsches Requiem (onder beide Kempe en Klemperer); en die genoemde operas van Humperdinck, Mozart, Wagner en Weber.

Grundheber, Franz (1937-), Duitse bariton. Hy was vanaf 1966 ‘n lid van die Hamburg Opera en het in 1983 sy Weense debuut as Mandryka in Arabella gemaak. Vier jaar later het hy by die Weense Staatsopera stewig vertoon in die titelrol van Berg se Wozzeck. Nog debute het gevolg by die Salzburg-fees (1984) en Covent Garden (1992). Onder sy verdere rolle tel Orestes in Elektra, Faninal in Der Rosenkavalier, Jupiter in Die Liebe der Danae en die titelrol in Der fliegende Holländer. Hy het laasgenoemde gesing by die Savonlinna-fees in Finland in 1989, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Karajan, op DVD); Zemlinsky se Lyrische Symphonie (onder Beaumont); Wozzeck (onder beide Abbado en Barenboim); en die laasgenoemde drie operas van R. Strauss.

Guarneri Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1964 gestig is. Hulle het meesterlike vertolkings in opnames van Beethoven se volledige strykkwartette gelewer. Verdere opnames: klavierkwintette van Brahms en Dvorák (met Arthur Rubinstein); en strykkwartette van Debussy, Fauré en Ravel.

Güden, Hilde (1917-88), Oostenrykse sopraan. Sy het vanaf sestienjarige ouderdom in operettes gesing en in 1939 haar operadebuut in Zürich gemaak, as Cherubino in Le nozze di Figaro. Vanaf 1942 het sy op aanbeveling van Richard Strauss en Clemens Krauss by die München Staatsopera gesing. Daarna het sy opgetree in Rome en Florence (1942-5), met na-oorlogse debute wat gevolg het by die Salzburg-fees (1946), Covent Garden (1947) en die Metropolitan Opera (1951). Sy was vanaf 1947 tot 1973 aan die Weense Staatsopera verbonde, waar sy wêreldroem verwerf het in die operas van Mozart en Strauss, en in Lehár se operettes. Met haar ryk toonkleur het sy geskitter as Sophie in opnames van Der Rosenkavalier onder beide Georg Szell en Erich Kleiber. In 1953 het sy by die Met in die Amerikaanse première van The Rake's Progress gesing. Onder haar verdere rolle het getel Micaela in Carmen, beide Susanna en Cherubino in Le nozze di Figaro, Musetta in La Bohème, Rosalinde in Die Fledermaus, Zdenka in Arabella en die titelrol in Daphne. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Wilhelm Furtwängler); Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln; die operette Die Fledermaus; en die genoemde operas van Bizet, Mozart, Puccini en Strauss, asook Ariadne auf Naxos en Die schweigsame Frau.

Gueller, Bernhard (?-), Duitse dirigent. Aanvanklik het hy tjello aan die Stuttgart Konserwatorium studeer. Onder sy leermeesters het Antonio Janigro en Paul Tortelier getel, en verder het hy klasse van die Melos Kwartet bygewoon. In 1979 het hy die dirigeerkompetisie van die Duitse Radio gewen en sy loopbaan as dirigent afgeskop. Hy het vir jare intensief met Sergiu Celibidache saamgewerk, en is in 1981 deur die maestro genooi om hom op ‘n toer deur Duitsland met die Stuttgart Radio Simfonie-orkes by te staan. Verder is hy dikwels deur Celibidache genooi om die München Filharmoniese Orkes te dirigeer, en daarby was hy ‘n assistent vir bekende dirigente soos Georges Prêtre en Georg Solti. Sy Japannese debuut is in 1995 met die Gunma Simfonie-orkes gemaak, en sedertdien tree hy dikwels as gasdirigent in Sapporo en Yokohama op. Naas sy optredes in sy geboorteland en Japan het hy talle orkeste in Europa, die Verre Ooste, die Amerikas, Israel en Australië gedirigeer. Ook in Suid-Afrika het hy die filharmoniese orkeste van Johannesburg, Kwazulu-Natal en Kaapstad gedirigeer. Hy was tot einde 2000 hoofdirigent van die Kaapstadse Filharmonie, met wie hy in Desember van daardie jaar ‘n sonderlinge oudiovisuele uitvoering van Holst se The Planets in Ratanga Junction gegee het. Sedert 2002 is hy musiekdirekteur van die Nova Scotia Simfonie-orkes in Kanada, waar hy woonagtig is. Daarby het hy in 2005 musiekdirekteur van die Nürnberg Simfonie-orkes in sy geboorteland geword.

Guest, George (1924-), Walliese orrelis en dirigent. Hy was vir nie minder nie as 40 jaar (1951-91) orrelis en koormeester van die St Johns College, Cambridge, waartydens hulle tot een van die wêreld se beste kore in gewyde musiek ontwikkel het. Daarby was hy aan die Cambridge Universiteit verbonde as dosent (1953-82), hoogleraar in harmonie en kontrapunt (1960/1) en orrelis (1974-91). Sedert 1985 is hy artistieke direkteur van die Llandaff-fees in Wallis, en twee jaar later is die CBE aan hom toegeken. As uitmuntende dirigent van gewyde werke oor 'n wye repertorium het hy sy koor in talle hoogstaande opnames gedirigeer. Sleutelopnames: Vivaldi se twee toonsettings van die Gloria. Verdere opnames: Beethoven se Mis in C; Britten se Hymn to the Virgin; 5 motette van Bruckner; die dodemisse van Duruflé en Fauré; J. Haydn se Misse nrs. 7, 8, 9, 10, 12, 13 en 14; M. Haydn se Ave Regina; Liszt se Missa choralis; Mozart se Ave verum corpus en ander kerkmusiek; misse en ander werke van Palestrina en Poulenc; A. Scarlatti se Sint Cecilia mis; Stainer se The Crucifixion; Tallis se Missa Salve intemerata Virgo; Taverner se Western Wynd; mottette van Victoria en sy Litaniae de Beata Virgine.

Gui, Vittorio (1885-1975), Italiaanse dirigent en komponis. Hy het ná studies in Rome sy debuut in 1907 in die Italiaanse hoofstad met La Gioconda gemaak. Heelwat later (1923-5) was hy Toscanini se assistent by La Scala, waar hy met ‘n opvoering van Salome gedebuteer het. In 1925 het hy ‘n herlewing van Rossini se L'italiana in Algeri in Turyn gedirigeer, met die gevierde mezzosopraan Conchita Supervia in die titelrol. Vervolgens was hy vanaf 1928 tot 1940 dirigent van die Florence Orkes, en in 1933 was hy ‘n medestigter van die musiekfeeste bekend as die Maggio Musicale Fiorentino in dié stad. Daar sou operas soos Medea, Armide en Luisa Miller deur hom herleef word. Ook in 1933 het hy die eerste Italianer geword om by die Salzburg-fees te dirigeer, en vyf jaar later sou hy Toscanini se plek daar inneem met ‘n opvoering van Falstaff. In 1938 is sy debuut by Covent Garden gemaak en het hy in Italië ‘n opname van Norma met Gina Cigna in die titelrol gedirigeer. Hy het in die laat 1940’s en vroeë 1950’s opnames van Norma, Medea en Nabucco gedirigeer, met Maria Callas in die vroulike hoofrolle. Vanaf 1952 tot 1960 was hy hoofdirigent van die Glyndebourne-fees, waar hy ‘n aantal opnames gedirigeer het waarvan sommiges steeds as ongeëwenaard beskou word. Dit sluit in La Cenerentola (1953), Le nozze di figaro (1955), Le Comte Ory (1955), Il barbiere di Siviglia (1962) en Pelléas et Mélisande (1963). Verdere opnames: Mascagni se L’amico Fritz.

Gulda, Friedrich (1930-), Oostenrykse pianis en komponis. Hy het as tiener sy debuut in 1944 gemaak en twee jaar later het hy die Geneefse internasionale kompetisie gewen. Daarna het hy wêreldbekend as solis geraak, met debute wat gevolg het in New York (1950) en by die Salzburg-fees (1951). In die 1950’s en weer in die laat 1960’s het hy hoogstaande opnames van Beethoven se volledige klaviersonates gemaak. Hy was ook ‘n jazz-pianis. Verdere opnames: Beethoven se 5 klavierkonserte (onder Horst Stein); Mozart se klavierkonserte nrs. 20, 21, 23, 25, 26 en 27; Schumann se klavierkonsert; en Richard Strauss se Burleske.

Gunzenhauser, Stephen (?-), Amerikaanse dirigent. Hy het in New York studeer, met grade wat verwerf is van Oberlin Kollege en die New England Konserwatorium. Drie opeenvolgende Fulbright-beurse het hom in staat gestel om verder aan die Salzburg Mozarteum in Oostenryk te gaan studeer. Hy was ‘n assistent vir Igor Markewitsj in Monte Carlo en Leopold Stokowski in New York, en in 1974 het hy artistieke direkteur van die Wilmington Musiekskool in Delaware geword. Vyf jaar later is hy as musiekdirekteur van die Delaware Simfonie-orkes aangestel. Uit erkenning vir sy bydrae tot musiek is hy in 1990 as die deelstaat Delaware se eerste kulturele ambassadeur aangewys, en in 1999 is die Orde van die Eerste Staat deur die deelstaatregering aan hom toegeken. Hy het in die 1990’s wëreldbekend geraak vir sy hoogstaande opnames, waaronder die volledige simfonieë van Dvorák met die Slowaakse Filharmoniese Orkes tel. Meer as twee miljoen van sy kompakskywe is al verkoop. ‘n Eredoktorsgraad is deur Widener Universiteit aan hom toegeken. Verdere opnames: die drie simfonieë van Borodin; Grieg se geleentheidsmusiek Peer Gynt; Saint-Saëns se derde simfonie; en orkeswerke van Copland, Dvorák, Goldmark en Liadof.

Gutheil-Schroder, Marie (1874-1935), Duitse sopraan. Sy het in 1891 in Weimar gedebuteer en vier jaar later in die titelrol van Carmen begin sing, wat een van haar beste rolle sou word. In 1900 is sy deur die komponis-dirigent Mahler vir die Weense Hofopera gewerf, waar sy tot 1926 sou optree. Sy het in 1906 by die Salzburg-fees die rol van Susanna in Le nozze di Figaro onder die dirigeerstaf van Mahler gesing. Voorts het sy Octavian in Der Rosenkavalier gesing tydens die Weense première van die opera (1911), en by Covent Garden tydens haar enigste Londense optrede (1913). As uitmuntende sanger-aktrise was sy ook bekend in die titelrol van Elektra en in die musiek van die moderne komponis Schoenberg. Só het sy opgetree in die eerste uitvoering van sy tweede strykkwartet (Wenen, 1908) en het sy die rol van die Vrou in Erwartung geskep tydens die première in Praag in 1924. Ná haar uittrede het sy onderrig gegee en as verhoogdirekteur opgetree. By die Salzburg-fees het sy in laasgenoemde hoedanigheid opvoerings van Don Giovanni (1926) en Iphigénie en Aulide (1930) aangebied.

Gutiérrez, Horacio (1948-), Kubaanse pianis. Hy het sy debuut as jong tiener in 1959 met die Havana Simfonie-orkes gemaak. Daarna het hy as solis met van die voorste Amerikaanse en Europese orkeste opgetree. In 1967 het hy ‘n Amerikaanse burger geword, en drie jaar later het hy ‘n tweede prys in die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Hy het in uitstekende opnames van Prokofiëf se tweede en derde klavierkonserte onder Neeme Järvi gespeel.

 

Encyclopedia: Western Music