If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

C - D

C

Caballé, Montserrat (1933-), Spaanse sopraan. Haar operadebuut in 1956 in Basel as Mimì in La Bohème, is gevolg deur verdere debute by La Scala (1960), die Metropolitan Opera en die Glyndebourne-fees (beide in 1965), Covent Garden (1972) en die Salzburg-fees (1987). Met haar suiwer stem en gevoelvolle sang was sy wêreldbekend in Italiaanse opera, met ‘n enorme repertorium van byna honderd rolle. Daaronder tel Maddalena in Andrea Chenier, Elena in Mefistofele, Nedda in I Pagliacci, Santuzza in Cavalleria rusticana, Mimì in La Bohème, Liù in Turandot, Mathilde in Guillaume Tell, Mina in Aroldo, Gulnara in Il Corsaro, Elisabetta in Don Carlo, Amalia in I Masnadieri, en die titelrolle in Norma, La Gioconda, Manon Lescaut, Elisabetta Regina d'Inghilterra, Salome, Aida, Giovanna d’Arco en Luisa Miller. ‘n Hoogtepunt in haar loopbaan was haar optrede as Norma by die ‘Théâtre Antique Orange’ in Provence in 1974 onder Giuseppe Patanè, met ‘n rolprentopname wat daarvan gemaak is. In 1985 is haar loopbaan onderbreek toe sy bestraling moes ondergaan vir ‘n breingewas. Sy het in Madrid tot die verhoog teruggekeer met ‘n opvoering van Gluck se Armide. Tydens die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona het sy in ‘n duet met die rock-sanger Freddy Mercury gesing, waarvan die opname besonder gewild geword het. Verdere opnames: liedere uit die Spaanse Renaissance (met Manuel Cubedo as vihuela-begeleier); Chausson se Poème de l'amour et de la mer; Debussy se La demoiselle élue; die genoemde operas van Mascagni, Ponchielli, Puccini, Rossini, R. Strauss en Verdi, asook Così fan tutte; en ‘n versameling arias van Donizetti, Rossini en Verdi (1967).

Caetani, Oleg (1956-), Russiese-gebore Switserse dirigent, seun van die vermaarde musikus Igor Markewitsj (uit beskeidenheid gebruik hy sy Italiaanse moeder se nooiensvan). Hy het onder bekendes soos Nadia Boulanger, Franco Ferrara, Kyrill Kondrasjin en sy vader studeer. In 1981 het hy ‘n dirigeerdiploma aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium verwerf, waar sy leermeester Ilya Musin was. Vir die volgende 3 jaar was hy ‘n assistent vir Otmar Suitner by die Deutsche Staatsoper in Berlyn. Hy het in dié tyd die RAI dirigeerkompetisie in Turyn en die Karajan-kompetisie in Berlyn gewen. Daarna was hy hoofdirigent van die Nasionale Teater in Weimar (1984-7), eerste dirigent van die Frankfurt Opera (1987-92) en algemene musiekdirekteur in Wiesbaden (1992-5). Vervolgens was hy algemene musiekdirekteur in Chemnitz, waar hy in 1998 die eerste Ring-siklus in Oos-Duitsland gedirigeer het. Hy het in die 1990’s gereeld as gasdirigent by die Stuttgart Staatsopera opgetree, waar hy 3 keer die seisoen geopen het. Verdere debute is gemaak by La Scala (2001) en in San Francisco (2003), en naas opera dirigeer hy van die voorste simfonie-orkeste in Europa. As bekende in Russiese musiek het hy minder operas van Rimski-Korsakof, Sjostakowitsj en Tsjaikofski gedirigeer. Opnames: Mahler se tweede simfonie, Mendelssohn se vierde simfonie en Sjostakowitsj se sewende simfonie.

Cahill, Teresa (1944-), Engelse sopraan. Drie jaar nadat sy in 1967 haar debuut met die Phoenix Opera gemaak het, het sy die John Christie-Toekenning gewen. Daarna het sy gedebuteer by die Walliese Nasionale Opera (1970), Santa Fé (1973), La Scala (1976) en die Engelse Nasionale Opera (1977). Sy het ook opgetree by die Glyndebourne-fees (1970-80) en Covent Garden (1970-7). By laasgenoemde het sy in 1976 die rol van die Mal Vrou tydens die première van Henze se We come to the River geskep. Daarbenewens is sy 'n dosent aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege en 'n bekende konsertsangeres, veral in die musiek van Elgar. Sy het meesterlike vertonings gelewer in opnames van dié komponis se Coronation ode, King Olaf en The Spirit of England, asook van die opera Peter Grimes.

Caldwell, Sarah (1924-), Amerikaanse operaregisseur en dirigent. In 1947 het sy Vaughan Williams se Riders to the Sea by Tanglewood opgevoer en in 1957 die Boston Opera gestig. Daar  sou sy die Amerikaanse premières van verskeie operas deur Maxwell Davies, Nono, Prokofiëf, Schoenberg en andere aanbied. In 1976 het sy Berlioz se Benvenuto Cellini met Jon Vickers in die titelrol by die Boston Opera opgevoer en self gedirigeer, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. Sy het in die jaar daarop die eerste vrouedirigent geword om by die Metropolitan Opera op te tree. Sedert 1983 is sy artistieke direkteur van die Nuwe Operageselskap van Israel.

Callas, Maria (1923-77), Amerikaans-gebore Griekse sopraan, die beroemdste van die twintigste eeu. Sy is as Maria Kalogeropoulou in New York gebore en het in 1937 met haar moeder na Athene verhuis. Kort daarna het sy aan die Griekse hoofstad se konserwatorium begin studeer, en in 1940 het sy met sanglesse onder die Spaanse sopraan Elvira de Hidalgo begin. In die jaar daarop is haar debuut in Athene gemaak, as Beatrice in Suppé se Boccaccio. Tydens die Duitse besetting van Griekeland (1941-4) het sy dikwels voor Duitse en Italiaanse offisiere opgetree. Met die beëindiging van die Duitse besetting is sy deur die Griekse kommuniste van samewerking met die vyand beskuldig. Sy moes uit vrees vir haar lewe na Italië vlug. Daar het sy in 1947 haar eerste verskyning in Verona gemaak, in La Gioconda, onder Tullio Serafin wat haar vernaamste mentor sou word. Hierdie debuut het plaasgevind terwyl sy in folterende pyn vanweë ‘n geswikte enkel verkeer het, maar dit het meegehelp om haar gewildheid onder die Italiaanse publiek te verseker. Aanvanklik het sy op swaarder rolle van Puccini en Wagner gekonsentreer, totdat sy in 1949 in Venesië die rol van Elvira in I Puritani onder Serafin gesing het. Dit was haar deurbraak na die bel canto repertorium, en het gepaardgegaan met ‘n dramatiese gewigsverlies. Op dié wyse het sy die eerste sangeres sedert Lilli Lehmann geword het om koloratuurrolle met ‘n Wagneriaanse dramatiese krag te sing.

Onder afrigting van Serafin en Victor de Sabata het Callas voortgegaan om afgeskeepde Italiaanse operas soos Rossini se Armida en Il Turco in Italia, Cherubini se Medea, Spontini se La Vestale, Donizetti se Anna Bolena en Bellini se Il Pirata te herleef. In 1950 het sy onder Erich Kleiber die rol van Euridice in die eerste volledige opvoering van Haydn se opera L'anima del filosofo gesing. Haar debuut by La Scala is in dieselfde jaar in die titelrol van Aida gemaak, waarna sy ‘n lid van die geselskap geword het. Dit was by La Scala dat sy die titel van La divina (‘Die goddelike’) verwerf het vir haar lewenskragtige vertolkings van Italiaanse opera-heldinne. Vanaf 1950 was sy tot haar uittrede 15 jaar later die beroemdste sopraan ter wêreld in Italiaanse opera, hoewel haar tydgenoot en mededinger Renata Tebaldi met ‘n suiwerder stem kon spog. Sy het uitgeblink in die titelrolle van Norma, Lucia di Lammermoor, La Gioconda, Madama Butterfly, Manon Lescaut, Tosca, Turandot en Aida, en as Amina in La sonnambula, Nedda in I Pagliacci, Santuzza in Cavalleria rusticana, Mimì in La Bohème, Fiorilla in Il Turco in Italia, Amelia in Un ballo in maschera, Leonora in La forza del destino, Dame Macbeth in Macbeth, Abigaille in Nabucco, Gilda in Rigoletto, Violetta in La Traviata en Elena in I vespri siciliani. Later in haar loopbaan was sy ewe begaafd in mezzo-rolle soos die titelrol in Carmen, die vroulike hoofrol in Samson et Dalila en Eboli in Don Carlos. Alhoewel haar stem vanaf die laat 1950’s dikwels in die hoër note gefaal het, het sy nuwe operastandaarde met haar emosionele stemkrag, oortuigende toneelspel en musikale intelligensie gestel, waarvan haar talle opnames slegs gedeeltelik kan getuig.

Callas het onder die voorste opera-dirigente van haar tyd gesing, en met groot regisseurs soos Visconti en Zeffirelli saamgewerk. Norma was een van haar heel beste rolle, wat sy gesing het tydens haar debute by Covent Garden (1952), Chicago (1954) en die Metropolitan Opera (1956). In 1958 het sy haar laaste verskyning by La Scala gemaak en is sy by die Met ontslaan. Sy het in 1958/9 ‘n toer deur tien Amerikaanse stede onderneem, met Nicola Rescigno as dirigent. In 1965 het sy uit opera getree ná ‘n opvoering van Tosca onder Georges Prêtre by Covent Garden. Sy het nietemin voortgegaan om opnames te maak en meesterklasse in sang te gee. Dwarsdeur haar loopbaan het sy buitengewone publisiteit geniet, ook vanweë haar jarelange buite-egtelike verhouding met die Griekse skeepsmagnaat Ari Onassis. Hy het haar egter in die laat 1960’s verlaat ten gunste van Jacqueline Kennedy, weduwee van die vermoorde Amerikaanse president. Dit het aanleiding gegee tot haar enorm tragiese stelling dat sy eers haar gewig, daarna haar stem en laastens haar minnaar verloor het. Haar laaste lewensjare is in eensaamheid deurgebring, wat vererger is deur ‘n konserttoer deur drie vastelande in 1973/4. Sy is daarin vergesel deur haar groot sangvennoot van die 1950’s, Giuseppe di Stefano. Teen dié tyd was haar stem ‘n blote skadu van die vroeëre glorie, vererger deur senuagtigheid weens haar lang afwesigheid van die verhoog. Nogtans is sy oral deur groot skares bewonderaars toegejuig – die legende het in haar leeftyd reeds onsterflikheid bereik.

Callas het alleen in haar Paryse woonstel vermoedelik aan ‘n hartaanval gesterf, maar ‘n lykskouing is nie gedoen nie. Boonop is sy binne enkele dae veras en nie begrawe soos haar wens deurlopend was nie – om begrawe te word is die gebruik van die Ortodokse Kerk, ter bevestiging van die tradisionele geloof in die heropwekking van die liggaam vir die Laaste Oordeel. Dié onreëlmatighede het Zeffirelli laat bespiegel dat sy vergiftig is deur ‘n vriendin van haar laaste maande, wat haar enigste erfgenaam geword het. Selfs tot ná haar dood bly die diva dus ‘n enigma – ‘n lewende Griekse tragedie van die twintigste eeu. Opnames: die operas Norma, I Puritani, La Sonnambula, Medea, Lucia di Lammermoor, I Pagliacci, Cavalleria Rusticana, La Gioconda (Turyn 1952 en La Scala 1959), La Bohème, Madama Butterfly, Manon Lescaut, Tosca, Turandot, Il barbiere di Siviglia, Il Turco in Italia, Aida, Un ballo in maschera, La forza del destino, Macbeth, Nabucco, Rigoletto, La Traviata, Il Trovatore en I vespri siciliani; ‘n versameling arias van Bellini, Massenet en Puccini (Parys 1965, onder Prêtre, op DVD); ‘n versameling Puccini-arias (Londen 1954, onder Serafin); en versamelings Verdi-arias (Londen 1958, Parys 1963/4, 1965, 1969 – almal onder Rescigno).

Calvé, Emma (1858-1942), Franse sopraan. Ná studies in Parys het sy haar debuut in 1881 in Brussels as Marguerite in Faust gemaak. Dit is gevolg deur debute in Parys (1884), en by La Scala (1887), Covent Garden (1892) en die Metropolitan Opera (1893). Haar Met-debuut was ook haar eerste optrede in die titelrol van Carmen, wat haar beroemdste rol sou word. In die laaste dekade van die negentiende eeu het sy die rolle van Suzel in L'amico Fritz (1891) en Anita in La Navarraise (1894) geskep. Sy het oor 'n buitengewone stemreeks in die hoër registers beskik, wat sy na bewering van die pouslike kastraatsanger Domenico Mustafa aangeleer het. Nadat sy in 1904 by die Opéra Comique in Parys haar duisendste verskyning as Carmen gemaak het, het sy haar uittrede uit opera aangekondig. Nietemin het sy in 1907/8 by die Manhattan Opera in New York gesing. Vanaf 1910 het sy slegs in konserte gesing, onder andere in die VSA tot 1927. Later het sy ‘n sanatorium vir jong meisies in Cabrières gestig.

Cambreling, Sylvain (1948-), Franse dirigent. Hy het aan die Parys Konserwatorium studeer en in 1974 die internasionale dirigeerkompetisie in Besancon gewen. Intussen het hy in 1971 ‘n assistent vir Serge Baudo by die Orchestre de Lyon geword, waar hy vir ‘n aantal jare sou werk. Sy operadebuut is in 1975 in Lyon gemaak en vanaf 1976 was hy vir vyf jaar hoofgasdirigent van Pierre Boulez se Ensemble Intercontemporain. Hy het in 1980 by die Parys Opera gedebuteer, waarna hy musiekdirekteur van die Théatre Royal de la Monnaie in Brussels was (1981-92). Daar het hy ‘n hoogstaande opname van Offenbach se opera Les contes d’Hoffmann gedirigeer. Hy het die geselskap se koor en orkes voorts in ‘n puik opvoering van Verdi se Falstaff by die Aix-en-Provence fees in 1987 gedirigeer, met ‘n DVD wat gemaak is. Verdere debute is gemaak in Londen en by die Glyndebourne-fees (beide in 1981), La Scala (1984), die Metropolitan Opera (1985) en die Salzburg-fees (1985). Vanaf 1993 was hy vir vier jaar musiekdirekteur van die Frankfurt Opera. Hy tree wêreldwyd as gasdirigent in konserte op, en die tydskrif Opernwelt het hom reeds twee keer (in 1993/4 en 2000) as Dirigent van die Jaar benoem. Hy het in 1999 hoofdirigent van die SWR Simfonie-orkes in Baden-Baden en Freiburg geword. Sedert 2002 is hy ‘n besoekende hoogleraar in dirigeerkuns aan die Johannes Gutenberg Universiteit in Mainz. Voorts is hy hoofgasdirigent van die Klangforum Wien, met wie hy ‘n opname van werke deur die hedendaagse komponis Olga Neuwirth gemaak het. Sleutelopname: Berlioz se La damnation de Faust (Salzburg 1999, op DVD). Verdere opnames: Messian se koorwerk La Transfiguration de Notre-Seigneur Jésus-Christ; Berlioz se opera Les Troyens (Salzburg); Fibich se opera Sarka; en Janácek se opera Káta Kabanová (Salzburg).

Camerata Ireland, Ierse kamerorkes wat in 1999 deur die pianis Barry Douglas gestig is. Onder sy leiding toer die ensemble, waarvan die lede uit die noorde en suide van Ierland afkomstig is, wyd deur Europa, die Amerikas en die Verre Ooste. Hulle strewe daarna om ‘n kenmerkende Ierse strykerklank na vore te bring, gekenmerk deur energie, emosie en humor. Die orkes tree jaarliks by die Clandeboye-fees in Noord-Ierland op. In 2004 het die Ierse President Mary McAleese en die Britse Koningin Elizabeth II hul gesamentlike beskermhere geword.

Campoli, Alfredo (1906-91), Italiaans-gebore violis. Hy het as jong kind in Engeland gaan woon, waar hy op elfjarige leeftyd sy Londense debuut gemaak het. Aanvanklik het hy in ligte musiek bekend geraak en sy eie orkes daarin gelei, maar vanaf 1945 het hy hom op konserte toegespits. Sy Amerikaanse debuut het in 1953 in New York plaasgevind, en in 1975 het hy uitgetree. Met sy fyn afgewerkte, sekure spel was hy veral bekend in die vioolkonserte van Bliss en Elgar. Hy het in hoogstaande opnames van Beethoven, Elgar en Mendelssohn se vioolkonserte gespeel.

Caniglia, Maria (1905-79), Italiaanse sopraan. Na haar debuut in 1930 in Turyn was sy tot 1943 aan La Scala verbonde. Sy het verder gedebuteer by die Salzburg-fees (1935) en Covent Garden (1937), en in 1938/9 het sy by die Metropolitan Opera gesing. Vanaf 1948 tot 1951 het sy weer by La Scala opgetree. Met haar ryk stem en kragtige, gevoelvolle sang was sy beroemd in die titelrolle van Fedora en Tosca, en as die heldinne in Verdi se operas. By La Scala het sy onder Tullio Serafin die titelrol in ‘n historiese 1946-opname van Aida gesing, teenoor Beniamino Gigli as Radames. Verdere opnames: Fedora, Tosca (Rome 1938), Aida (Rome 1948) en La forza del destino (Rome 1941).

Canadian Brass, Kanadese koperblaserskwintet wat in 1970 gestig is. Hulle is in Toronto gebaseer en is wêreldbekend in veral Barokmusiek. Deur hul meer as 50 opnames en gereelde optredes met bekende orkeste in Noord-Amerika, Europa en Japan het hulle ‘n groot internasionale gevolg opgebou. Hulle het vele verwerkings tot hul krediet, en meer as 200 werke is vir hul gekomponeer. Hul repertorium sluit jazz en popmusiek in. Opnames: Bach se Goldberg Variasies, en werke van Beethoven, Gabrieli, Pachelbel, Purcell, Vivaldi en Wagner.

Canino, Bruno (1935-), Italiaanse pianis en komponis. Hy het klavier en komposisie aan die Milaan Konserwatorium studeer. Pryse is gewen in die Bolzano klavierkompetisie (1956 en 1958), en in Darmstadt (1960). Hy tree wêreldwyd op as solis, as vennoot van Antonio Ballista in ‘n klavierduet, en as lid van die Trio di Milano in kamermusiek. Verder was hy ‘n begeleier vir die sopraan Cathy Berberian in haar liedere-voordragte. Sy bekendheid lê veral in hedendaagse musiek, insluitend werke van Bussotti en Donatoni. Hy is sedert 1961 ‘n hoogleraar in musiek aan sy alma mater, en daarby gee hy meesterklasse in verskeie Europese lande en Japan. Vanaf 1991 tot 2002 het hy die meesterklasse aan die Bern Konserwatorium gelei. Met die violis Itzhak Perlman het hy in ‘n hoogaangeskrewe opname van Bazzini se Rondo des lutins gespeel.

Cantelli, Guido (1920-56), Italiaanse dirigent. Hy het in 1943 sy debuut in Novara gemaak en twee jaar later as gasdirigent by La Scala begin optree. As beskermling van Toscanini het hy ná die Tweede Wêreldoorlog spoedig een van die opwindendste dirigente van sy tyd geword. Hy het die NBC Simfonie-orkes in 1949 op uitnodiging van die maestro gedirigeer. Verdere debute is gemaak by die feeste in Edinburgh (1950) en Salzburg (1953), en vanaf 1951 het hy die Philharmonia Orkes in Londen gedirigeer. Met hulle het hy ‘n hele aantal hoogaangeskrewe opnames gemaak. Enkele dae voordat sy dood in ‘n vliegongeluk ‘n uiters belowende loopbaan kortgeknip het, is hy as musiekdirekteur van La Scala aangestel. Later is ‘n dirigeerkompetisie na hom vernoem. Sleutelopname: Debussy se toondigte La mer en Prélude à l’après-midi d’un faune (1954/5). Verdere opnames: Brahms se derde simfonie (1955); Mendelssohn se vierde simfonie (1951 en 1955); Hindemith se Mathis der Maler simfonie; Mozart se opera Cosi fan tutte; Schubert se agste simfonie; Schumann se vierde simfonie; Tsjaikofski se sesde simfonie; Wagner se Siegfried Idyll; en orkeswerke van Casella, Dukas, Falla en Ravel.

Capella Istropolitana, Slowaakse kamerorkes wat in 1983 gestig is en sedertdien uitgebrei is om ook orkeswerke van groter omvang te speel. Hulle is in Bratislawa gebaseer en onderneem gereelde Europese toere. Talle hoogaangeskrewe opnames van Barok- en Klassieke werke is onder ‘n verskeidenheid dirigente gemaak.

Cappella Romana, Amerikaanse koor wat in 1991 deur die musiekgeleerde Alexander Lingas gestig is. Hulle is in Portland gebaseer en spesialiseer in Ortodokse gewyde musiek. Onder leiding van Lingas het hulle in ‘n hoogstaande opname van Moody se Akáthistos Hymn, wat in 1998 vir hul geskryf is, gesing.

Cappuccilli, Piero (1929-2005), Italiaanse bariton. Sy debuut in 1956 in Milaan is gevolg deur debute by die Metropolitan Opera (1960), La Scala (1964), Covent Garden (1967) en die Salzburg-fees (1975). Met sy intense sang en intelligente vertolkings was hy ‘n uitmuntende sanger in Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Sy repertorium het rolle ingesluit soos Gellner in La Wally, Enrico in Lucia di Lammermoor, Masetto in Don Giovanni, Barnaba in La Gioconda, Marcello in La Bohème, Scarpia  in Tosca, Amonasro in Aida, Ezio in Attila, Renato in Un ballo in maschera, Rodrigo in Don Carlo, Don Carlos in La forza del destino, Iago in Otello, en die titelrolle in Macbeth, Nabucco, Rigoletto en Simon Boccanegra. Na ‘n ernstige motorongeluk in 1992 het hy uitgetree om op sangonderrig te konsentreer. Sleutelopname: Verdi se opera Nabucco (onder Sinopoli). Verdere opnames: die genoemde operas van Catalani, Donizetti, Mozart, Ponchielli, Puccini en Verdi, asook Faust, I Puritani, I due Foscari en I Masnadieri.

Capuana, Franco (1894-1969), Italiaanse dirigent. Ná sy debuut in 1919 in Brescia het hy dirigeerposte beklee in Turyn (1929/30), by San Carlo in Napels (1930-7) en by La Scala (1937-40). In 1941 het hy die Italiaanse première van Jenufa gedirigeer. Hy het in 1946 die eerste na-oorlogse opera-opvoering by Covent Garden gedirigeer, met La Traviata. Vanaf 1946 tot 1952 was hy weer aan La Scala verbonde. Hy was naas Italiaanse opera ‘n begaafde dirigent van Richard Strauss en Wagner se operas. Sleutelopname: La Fanciulla del West (Santa Cecilia Akademie, Rome met Renata Tebaldi in die titelrol, 1958). Verdere opnames: Adriana Lecouvreur en Aida.

Carewe, John (1933-), Engelse dirigent. Hy het in 1957 die New Music Ensemble gestig, met wie hy ‘n aantal eerste uitvoerings van werke deur onder meer Birwistle en Maxwell Davies gegee het. Die Britse premières van werke deur Boulez, Messiaen en Stockhauzen is ook deur hom gegee, en verder was hy vanaf 1958 tot 1966 aan die Morley Kollege verbonde. Daarna was hy dirigent van die BBC Walliese Simfonie-orkes (1966-71), musiekdirekteur van die Brighton Filharmoniese Vereniging (1974-87) en hoofdirigent van die ensemble Fires of London (1980-4). Sedert 1993 is hy hoofdirigent van die Chemnitz Opera en die Robert Schumann Filharmoniese Orkes. Hy was in die vroeë 1970’s ‘n leermeester van die later beroemde dirigent Simon Rattle aan die Koninklike Musiekkollege in Londen. Sleutelopname: Strawinski se ballette Die Vuurvoël en Les Noces (beide by Covent Garden, op DVD).

Carreras, José (1946-), Spaanse tenoor. Nadat hy sy professionele debuut in 1970 in Barcelona gemaak het, het hy die Verdi-kompetisie gewen en wyd begin toer. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera en Covent Garden (beide in 1974), La Scala (1975) en die Salzburg-fees (1976). Hy het in 1982 by die Edinburgh-fees in ‘n filmopname van Verdi se Requiem onder Claudio Abbado gesing. Sy loopbaan is in 1987/8 deur bloedkanker onderbreek, maar hy het ‘n triomfantelike terugkeer ná sy herstel gemaak. Met sy kragtige, suiwer sang en puik karakterisering is hy wêreldbekend in Italiaanse opera, veral dié van Verdi en Puccini, hoewel hy ook begaafd is in Spaanse en Franse musiek. Onder sy beste rolle tel Don José in Carmen, Paco in La vida breve, Eleazar in La juive, Loris in Fedora, Canio in I Pagliacci, Turiddú in Cavalleria rusticana, Pinkerton in Madama Butterfly, Des Grieux in Manon Lescaut, Cavaradossi in Tosca, Calaf in Turandot, Leicester in Elisabetta Regina d'Inghliterra, Radames in Aida, Don Alvaro in La forza del destino, Macduff in Macbeth, Gabriele in Simon Boccanegra, en die titelrolle in Werther, Otello (dié van Rossini), Il Corsaro, Don Carlos, Stiffelio en Sly. Sedert die 1990’s vorm hy met Domingo en Pavarotti die Drie Tenore, wie se konserte en opnames besonder gewild geraak het. Verdere opnames: Bernstein se musiekblyspel West Side Story; Puccini se Messa di Gloria; liedere van Tosti; Verdi se Requiem (onder Karajan, op DVD); die genoemde operas van Bizet, Falla, Giordano, Halèvy, Leoncavallo, Mascagni, Massenet, Puccini, Rossini, Verdi en Wolf-Ferrari, asook Poliuto, La pietra del paragone, La battaglia di Legnano, I due Foscari en Un giorno di regno.

Caruso, Enrico (1873-1921), Italiaanse tenoor, die beroemdste van die twintigste eeu en een van die grootstes nog. Met sy donker toonkleur was dit aanvanklik vir sy afrigters moeilik om te bepaal of hy ‘n tenoor of ‘n bariton sou wees. Daar is mettertyd op tenoor besluit, en in 1895 het sy debuut in sy geboortestad Napels plaasgevind. Vanaf 1899 het hy in Buenos Aires gesing, waar hy met Fedora gedebuteer het. Ná sy Monte Carlo-debuut in 1902 teenoor Nellie Melba in La Bohème het hy wêreldberoemd geword. In dieselfde jaar het hy sy eerste opnames gemaak en by Covent Garden begin optree, met ‘n debuut as die Hertog in Rigoletto. Dit was dieselfde rol waarmee hy in 1903 by die Metropolitan Opera sou debuteer, met meer as 600 optredes in 36 rolle wat hy by dié operahuis sou maak. Sy gewildste rolle naas die Hertog was stellig Edgardo in Lucia di Lammermoor, Canio in I Pagliacci, Rodolfo in La Bohème, Des Grieux in Manon Lescaut en Radames in Aida. Hy het die rolle geskep van Loris in Fedora (Milaan 1898), Maurizio in Adriana Lecouvreur (Milaan 1902) en Dick Johnson in La fanciulla del West (Met 1910).

In 1905 het Caruso die rol van Pinkerton in die Britse première van Madama Butterfly by Covent Garden teenoor Emmy Destinn gesing. Met sy meesterlike frasering en uitstekende akteursvermoëns het hy die beste elemente uit die operatradisies van bel canto en verismo byeengebring, en daardeur die agenda vir Italiaanse operasang van die twintigste eeu bepaal. Sy tegniek was weliswaar nie foutloos nie, maar met sy ryk stem vol resonansie kon hy sonder enige waarneembare inspanning die hoogste note met besondere lewenskrag sing. In 1920 het sy laaste optrede as Eleazar in La juive plaasgevind, en daarna het hy vanweë ‘n keelbesering na Napels teruggekeer. Sy afsterwe in die jaar daarop is wêreldwyd betreur. Hy was die eerste sanger om ‘n fortuin uit sy opnames te verdien, waarvan ‘n aantal albums reeds in sy leeftyd meer as ‘n miljoen kopieë verkoop het.

Carwood, Andrew (?-), Engelse tenoor en dirigent. Aanvanklik was hy ‘n koorsanger in Harrow, en in 1983 is hy met ‘n beurs na die St John’s College, Cambridge vir koorstudies onder George Guest. Hy was vervolgens aan Christ Church, Oxford verbone, en in 1990 is hy na die Westminster Katedraal. Sy solodebuut is in 1994 by die Sydney Opera gemaak, en in die jaar daarop het hy musiekdirekteur van die Brompton Oratorium geword. Hy het ook in bekende vroeë musiek ensembles soos The King’s Consort, The Tallis Scholars, The Sixteen en Pro Cantione Antiqua gesing. Met die ensemble Cardinall’s Musicke is hy tans besig met ‘n projek om die volledige vokale musiek van William Byrd op te neem, waarvan al die vrystellings hoë lof ingeoes het. Hul vertolkings word gekenmerk deur ‘n welkome vermyding van oormatige vibrato en gejaagde tempos. Sleutelopnames (met die Cardinall’s Musick): Byrd se Misse vir 3, 4 en 5 stemme; Ludford se Misse, Magnificat benedicta en Motette (4 kompakskywe); Victoria se Missa Gaudeamus en Missa Pro Victoria, en ‘n versameling motette. Verdere opnames: Cornysh se Magnificat, Salve regina en 2 motette; Prentes se Magnificat; ‘n versameling motette van Tallis; en Turges se Magnificat.

Casadesus, Jean (1927-72), Franse pianis. Hy is in 1939 as jong tiener na die VSA, waar hy sewe jaar later met die Philadelphia Orkes gedebuteer het. In 1947 het hy die Geneefse internasionale kompetisie gewen. Daarna het hy wyd getoer totdat ‘n noodlottige motorongeluk sy loopbaan kortgeknip het. Hy het ‘n voortreflike opname van J.S. Bach se Konsert vir 3 klawesimbels (BWV 1063) saam met sy vrou en seun nagelaat. Seun van Robert Casadesus.

Casadesus, Jean-Claude (1935-), Franse dirigent en komponis. Hy was vanaf 1959 tot 1968 solo-keteltromspeler in die Concert Colonne en vanaf 1969 vir twee jaar ‘n dirigent by die Parys Opera. Sedert 1976 dirigeer hy die Lille Nasionale Orkes, met wie hy ‘n hele aantal hoogstaande opnames van Franse musiek gemaak het. Daaronder tel ‘n versameling kantates van Berlioz asook sy oratorium L'Enfance du Christ, Debussy se opera Pelléas et Mélisande, Massenet se opera Werther, Milhaud se Le Boeuf sur le toit en La Creation du monde, en Poulenc se opera La voix humaine. Kleinneef van Robert Casadesus.

Casadesus, Marius (1892-1981), Franse violis. Hy was ‘n neef van die pianis Robert Casadesus, met wie hy uitvoerings gegee het. In 1920 was hy n stigterslid van die ‘Société des Instruments Anciens’, wat die gebruik van ou strykerinstrumente herleef het. Verder het hy in 1931 in Parys die Adelaide Konsert uitgevoer, wat toegeskryf is aan Mozart op tienjarige ouderdom. Enkele jare voor sy dood, in 1977, het Casadesus erken dat hy self die werk gekomponeer het.

Casadesus, Robert (1899-1972), Franse pianis en komponis. Sy konsertloopbaan het in 1922 begin en hy tot aan die einde van sy lewe ‘n halfeeu later opgetree. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy in die VSA gewoon. Hy was bekend as solis en as duet-vennoot van sy vrou Gaby, en het veral in die musiek van Mozart uitgeblink. Sleutelopnames: Mozart se klavierkonserte nrs. 21 en 26 (onder Szell). Verdere opnames: Mozart se klavierkonserte nrs. 22, 23, 24 en 27, en sy Dubbele klavierkonsert (met Gaby).

Casals, Pablo (1876-1973), Spaanse tjellis, pianis, dirigent en komponis. Hy is as jong kind blootgestel aan musiek deur sy vader, wat ‘n kerkorrelis en koormeester was. Sy eerste lesse in sang, klavier en komposisie is dus van sy vader ontvang. Op elf het hy die eerste keer ‘n tjello gehoor en dadelik geweet dat dit sou sy instrument sou wees. Hy het vanaf 1888 aan die munisipale musiekskool in Barcelona studeer, waar hy as jong tiener in kafees gespeel het om ‘n bestaan te maak. Op dertienjarige leeftyd, in 1890, het hy ‘n ou uitgawe van Bach se onbegeleide tjellosuites ontdek: monumentale werke wat soos die onbegeleide vioolsonates en -partitas lank verwaarloos is. Dit was die begin van ‘n lewenslange liefde. Hy sou oor die volgende twaalf jaar ‘n deeglike studie van die suites maak voordat hy dit in die openbaar herleef het, en vir die res van sy lang lewe sou hy elke oggend twee daarvan speel. Eers in sy vroeë sestigs (in Londen en Parys vanaf 1936 tot 1939) sou hy hom waardig ag om dit op te neem, in vertolkings wat steeds as uniek beskou word. Met die komponis Albéniz se hulp is hy as tiener na Madrid, waar hy Koningin Maria Cristina se gunsteling-musikus sou word. Vanaf 1893 het hy aan die konserwatorium in die Spaanse hoofstad studeer en twee jaar later het hy by die orkes van die Parys Opera aangesluit. Hy was vanaf 1897 vir twee jaar ‘n hoogleraar in tjello aan die Barcelona Konserwatorium, en in 1899 het sy orkesdebute in Madrid, Parys en Londen plaasgevind – in al drie gevalle met Lalo se tjellokonsert.

In 1901 het Casals sy eerste Amerikaanse toer onderneem, en vier jaar later het hy hom in Parys gevestig. In die Franse hoofstad het hy ‘n trio met die violis Jacques Thibaud en die pianis Alfred Cortot gestig wat wêreldberoemd sou word. Met sy warmbloedige, temperamentele geaardheid het hy ‘n veelbesproke verhouding met sy leerling Guilhermina Suggia gehad, en was hy vir ‘n tyd getroud met die sangeres Susan Metcalfe. Hy het in 1908 begin dirigeer en elf jaar later is sy eie orkes in Barcelona gestig. In 1927 het hy die Londense Simfonie-orkes in historiese opnames van Beethoven se Coriolanus ouverture en Brahms se Haydn Variasies gedirigeer. Met sy Barcelona-orkes het hy twee jaar later besondere opnames van Beethoven se eerste en vierde simfonieë gemaak. Saam het hulle ook in 1931 ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie gegee om die geboorte van die Spaanse Republiek te vier. In 1935 het hy ‘n ereburger van Madrid en erelid van die Spaanse Akademie geword, maar vier jaar later het hy Spanje verlaat uit protes teen Franco se Fascistiese bewind. Vanuit die staanspoor het hy as anti-fascis ook geweier om in Hitler se Duitsland op te tree. Hy het gesweer dat hy nie sou terugkeer terwyl sy geboorteland onder ‘n totalitêre bewind is nie, 'n belofte waarby hy gehou het. Vervolgens het hy in Prades in die Franse Pireneë in selfopgelegde ballingskap gaan woon, waar Amerikaanse ondersteuners met die tweehonderdjarige herdenking van Bach se dood in 1950 ‘n jaarlikse fees rondom die groot tjellis gestig het.

Dit sou die begin van ‘n tweede lewe as kamermusikus, dirigent en leermeester vir Casals inlui. Ses jaar later het hy in sy moeder se geboorteland Puerto Rico gaan woon, waar hy in 1957 ‘n musiekfees gestig het en met ‘n jong leerling, Marta Montanez, getroud is. In 1958 het hy by die Verenigde Nasies gespeel en vanaf 1960 was hy verbonde aan die Marlboro-fees in Vermont. Daar sou hy in 1964 ‘n opname van Bach se 6 Brandenburgkonserte in die Romantiese tradisie dirigeer. Met sy kragtige, gevoelvolle spel wat gekenmerk is deur ‘n besondere gebruik van vibrato is hy as die grootste tjello-virtuoos van sy tyd beskou. Hy het wyd deur Europa en die VSA getoer, en het ‘n belangrike rol gespeel om die tjello as solo-instrument te populariseer. Die enorme duur van sy loopbaan blyk uit die feit dat hy in 1899 vir Koningin Victoria en in 1961 vir President John Kennedy gespeel het. Hy is diep in sy negentigs in Puerto Rico oorlede. Verdere opnames (as solis): die tjellokonserte van Dvorák, Elgar en Schumann; Bach se 3 viola da gamba sonates; ‘n aantal tjellosonates van Beethoven en Brahms, asook laasgenoemde se Dubbelkonsert (met Thibaud, onder Cortot as dirigent); Bruch se Kol Nidrei; twee weergawes van Schubert se Strykkwintet; (as dirigent) Mozart se simfonie nr. 29 en Eine kleine Nachtmusik; en Schubert se vyfde simfonie.

Catzel, Andrea (?-), Suid-Afrikaanse sopraan. Sy het operasang aan die Universiteit van Kaapstad onder Desirée Talbot studeer en in 1977 gegradueer. Daarna het sy aan dié instansie onderrig gegee, en terselfdertyd in kabaret en musiekblyspele gesing. In 1983 is sy na Europa om onder sangers soos die beroemde Teresa Berganza te studeer, en in die jaar daarop het sy na haar geboorteland teruggekeer. Aanvanklik was sy ‘n mezzosopraan, maar het na sopraan oorgeslaan en daarin bekendheid verwerf. Sy is in 1986 as eerste sopraan by Kruik aangestel, waar sy in liriese rolle soos die Grafin in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Liù in Turandot, Rosalinde in Die Fledermaus, Alice Ford in Falstaff, Desdemona in Otello, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg en Elsa in Lohengrin sou sing. Vir haar vertolking van Desdemona is die Nederburg Operaprys aan haar toegeken.

Ceccato, Aldo (1934-), Italiaanse dirigent wat aanvanklik as pianis opgelei is. Vanaf 1961 was hy vir twee jaar Sergiu Celibidache se assistent by die Siena Akademie, en in 1964 is sy dirigeerdebuut gemaak. Daarna het hy bekend geraak vir sy opera-vertolkings, onder andere by die Wexford-fees (vanaf 1968), Covent Garden (vanaf 1970) en die Glyndebourne-fees (vanaf 1971). Met Beverly Sills in die titelrol het hy ‘n voortreflike opname van Maria Stuarda gedirigeer. Hy was verder hoofdirigent van die Detroit Simfonie-orkes (1973-7) en die Hamburg Staatsfilharmoniese Orkes (1975-83). Sedert 1985 is hy hoofdirigent van die Hannover Radio-orkes en die Bergen Simfonie-orkes. Vroeg in die 2000’s het hy met die Londense Filharmoniese Orkes opnames gemaak van simfoniese toondigte deur sy landgenoot Victor de Sabata, wat eerder as dirigent bekend was. Verdere opnames: Valen se eerste simfonie.

Celibidache, Sergiu (1912-96), Roemeense dirigent en komponis. Hy het musiek, filosofie en wiskunde aan die Universiteit van Boekarest en in Parys studeer. ‘n Belangrike invloed in dié tyd was Martin Steinke, wat hom aan die Boeddhisme bekendgestel het. In 1936 is hy na Berlyn vir verdere studies in musiek, met ‘n doktoraat oor die groot Renaissance-komponis Josquin des Pres. Met die voltooiing van sy studies in 1945 het hy hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes geword, ‘n gesogte pos wat hy tot 1952 sou beklee. Hy het voortgegaan om die orkes te dirigeer ná hul vorige hoofdirigent Wilhelm Furtwängler se terugkeer tot die podium in 1947, en het intussen (1945/6) ook die Berlynse Radio Simfonie-orkes gedirigeer. In sy jare saam met Furtwängler het hy laasgenoemde se mistieke benadering tot musiek aangeleer, wat hom later veral in die musiek van Bach en Bruckner goed te pas sou kom. Met Furtwängler se afsterwe in 1954 was hy ‘n kandidaat om hoofdirigent van die Berlynse Filharmonie te word, maar ‘n ondeurdagte opmerking tydens sy groot kollega se begrafnis het meegebring dat die pos aan Herbert von Karajan toegeken word. Hierdie teleurstelling het veroorsaak dat Celibidache vir die res van sy lewe ‘n intense afkeer sou koester jeens die beroemde Oostenryker, na wie hy neerhalend as ‘n ‘Coca-Cola dirigent’ verwys het. Dit sou 37 jaar duur, tot 1991, voordat hy weer die beroemde Berlynse orkes dirigeer.

Intussen is sy Londense debuut in 1948 met die stad se Filharmoniese Orkes gemaak, en daarna het hy dikwels in Italië gedirigeer. Oor die volgende drie dekades sou hy met sy uitgerekte inoefeningtye merendeels radio-orkeste dirigeer, waaronder dié in Stuttgart (vanaf 1959) en Stockholm (1962-71). Hy was vanaf 1975 vir twee jaar hoofgasdirigent van die Orchestre Nationale de France in Parys. Vanaf 1979 tot aan die einde van sy lewe was hy hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes, wat hy tot internasionale statuur opgebou het en met wie hy die meeste van sy ‘gemagtigde’ opnames gemaak het. Daaronder die volledige simfonieë van Beethoven. Tot enkele maande voor sy dood het hy ten spyte van ‘n ernstige siekte nog gedirigeer. Tydens sy leeftyd was hy bes moontlik die dirigent met die meeste ‘onwettige’ opnames in omloop, maar hy het ondanks die groot verlies aan inkomste wat dit vir hom meegebring het hom nooit daarteen uitgespreek nie. Hy het deurgaans ‘n afkeer in ateljee-opnames gehad, maar het ‘n groot aantal ‘lewendige’ konsertopnames nagelaat.

Naas sy dirigeerloopbaan was onderrig ‘n deurlopende aktiwiteit vir Celibidache. In die vroeë 1960’s het hy meesterklasse in Siena, Italië aangebied wat gesog onder jong dirigente was. Hy het later meesterklasse in dirigeerkuns in München aangebied. Daarby het hy gereeld aan die Universiteit van Mainz onderrig gegee en in 1984 ook aan die Curtis Instituut in Philadelphia. Met die orkes van laasgenoemde, wat nie eens ‘n professionele ensemble was nie, het hy in dieselfde jaar ‘n konsert in New York gegee wat deur sommige kritici as die beste in hul leeftyd bestempel is. Sy klasse was dikwels vir alle belangstellendes oopgestel, sonder om betaling te verwag. Terwyl hy sy Amerikaanse kollega Leonard Bernstein bewonder het, het hy Toscanini met sy teenoorgestelde benadering tot musiek as ‘n idioot wat vir 60 jaar regeer het, bestempel – dalk nie sonder goeie rede nie.

As Zen-Boeddhis was Celibidache gesteld op die inspirasie van die oomblik, iets waaraan ‘n konsert meer reg kan laat geskied as ‘n ateljee, en op die innerlike verwantskappe tussen dinge. Sy streng beheerste vertolkings is deur besonder stadige tempos gekenmerk, sodat sy opnames van werke in die Romantiese repertorium in die meeste gevalle die langste tydsduur in die katalogus vertoon. Veral in die simfonieë van Bruckner het dit tot unieke vertolkings gelei, met ‘n asemrowende effek van tydloosheid en ‘n besondere aandag aan instrumentele klank. Naas die Duitse repertorium (beide simfonies en gewyd) waarin hy uitgeblink het, was hy ‘n uitmuntende dirigent in Franse en Russiese musiek. As konsertbegeleier het hy met beroemde pianiste soos Daniel Barenboim en Arturo Michelangeli opgetree. Hy was ‘n mentor en vriend van die Rosamunde Kwartet wat in die Beierse hoofstad gebaseer is, en wat steeds deur die maestro se perfeksionisme en musikaliteit beïnvloed word. As komponis het hy vier simfonieë en ‘n klavierkonsert nagelaat, maar met kenmerkende beskeidenheid hy het geweier dat enige van sy werke tydens sy leeftyd uitgevoer word. Opnames: kerkmusiek van Bach, Bruckner, Fauré en Mozart; die volledige simfonieë van Brahms en sy Ein deutsches Requiem; talle simfonieë van Bruckner, Dvorák, Franck, Haydn, Mozart, Schubert, Schumann en Tsjaikofski; en orkeswerke van Debussy, Moessorgski, Ravel, Respighi, Rimski-Korsakof, Richard Strauss en Wagner.

Chailly, Riccardo (1953-), Italiaanse dirigent. Hy is as sesjarige deur sy vader, die administrateur-leermeester-komponis Luciano Chailly, na ‘n simfoniekonsert geneem. Kort daarna het hy begin droom om self ‘n dirigent te word. In sy vroeë tienerjare was hy ‘n tromspeler in ‘n popgroep, en daarna het hy komposisie aan die Verdi Konserwatorium in Milaan studeer. Hy het in 1968 op uitnodiging van Claudio Scimone sy dirigeerdebuut met die I Solisti Veneti in Padua gemaak, terwyl studies in dirigeerkuns onder Franco Ferrara aan die Accademia Chigiana in Siena voortgesit is. Vanaf sy graduering aan dié instelling in 1972 was hy vir die volgende twee jaar ‘n assistent vir Claudio Abbado by La Scala. Daar het hy sy beroemde mentor gehelp om die orkes in te oefen, en het hy met die musiek van onder meer Brahms, Mozart, Debussy en Ravel vertroud geraak. Ook in dié tydperk het sy operadebuut by die Teatro Nuovo in Milaan plaasgevind, met Werther. Sy oorsese dirigeerdebuut is in 1974 gemaak, met Madama Butterfly by die Chicago Liriese Opera. Drie jaar later het hy by die San Francisco Opera gedebuteer met Turandot. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1979), die Metropolitan Opera (1982) en die Salzburg-fees (1984). Hy was hoofgasdirigent van die Londense Filharmoniese Orkes (1982-5), musiekdirekteur van die Berlynse Radio Simfonie-orkes (1982-90), en musiekdirekteur van die Teatro Communale in Bologna (1986-90).

Chailly het Bernard Haitink in 1988 as hoofdirigent van die Koninklike Concertgebouw Orkes in Amsterdam opgevolg. Met hulle het hy in 2002 die première van Turandot volgens Berio se voltooiing van die opera gegee. Hy het al ‘n aantal kere as gas met die Berlynse en Weense filharmoniese orkeste opgetree. As bekende in Italiaanse opera is hy ‘n kampvegter vir vroeë operas van Verdi soos I masnadieri en I due foscari. Met die Concertgebouw en die Duitse Simfonie-orkes in Berlyn het hy ‘n siklus van Bruckner se simfonieë opgeneem wat onder die bestes van dié epiese werke gereken word. Ook sy siklus van Mahler se volledige simfonieë met die Concertgebouw word hoog aangeskryf. Hy het in 2005 musiekdirekteur van die Leipzig Gewandhaus Orkes en die Leipzig Opera geword. Met hulle het hy die volledige simfonieë van Beethoven opgeneem, in kragtige vertolkings waarin die komponis se merendeels vinnige metrononoom-aanwysings nougeset nagevolg is. Sleutelopnames (met die Concertgebouw tensy anders aangedui): Mahler se vyfde simfonie; twee versamelings korter orkeswerke van Sjostakowitsj getiteld The Film Album en The Dance Album (lg. Philadelphia); ‘n versameling orkeswerke van Varèse; Zemlinsky se Lyrische Symphonie en Symphonische Gesänge; die operas I Pagliacci, La Cenerentola (Bologna) en Eine florentinische Tragödie.

Verdere opnames: enkele simfonieë van Brahms, Mendelssohn (nr. 2) en Prokofiëf; orkeswerke van Berio, Bernstein, Gershwin, Messiaen, Mosolof, Strawinski en Zemlinsky; ‘n versamelings minder bekende orkes- en vokale werke van Puccini; ‘n versameling gewyde werke van Verdi uit sy studentejare; Beethoven se Mis in C; Janácek se Slawoniese Mis; Mahler se Das Klagende Lied en Des Knaben Wunderhorn; Rossini se Petite messe solennelle; Schoenberg se Gurrelieder; en die operas Andrea Chénier, Manon Lescaut, Guglielmo Tell en The Rake's Progress.

Chance, Michael (1955-), Engelse kontratenoor. Aanvanklik was hy ‘n aandelemakelaar (1977-80) en daarna het hy in konserte begin sing. As lid van die Tallis Scholars het hy in vroeë musiek bekendheid verwerf. In 1984 is sy operadebuut by die Buxton-fees gemaak, as Apollo in Cavalli se Jason. Verdere debute het gevolg by die Lyon Opera (1985), die Glyndebourne-fees (1989), en die Engelse Nasionale Opera, Covent Garden en die Skotse Opera (al drie in 1992). Intussen het hy in 1987 in Cheltenham die rol van die Militêre Goerwerneur tydens die première van Weir se opera A Night at the Chinese Opera geskep. Onder die operarolle waarin hy uitblink, tel die titelrolle in Giasone, Giustino en Ascanio in Alba, Apollo in Death in Venice, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Ottone in Agrippina, Athamas in Semele, Andronicus in Tamerlano, Ottone in L’incoronazione di Poppea, Speranza in Orfeo en die Gees in Dido and Aeneas. Met sy ferm, helder stem is hy ewe begaafd in konsertwerke oor ‘n wye repertorium, veral gewyde werke van die Barokera. Sleutelopnames: Handel se oratorium Israel in Egypt (onder Gardiner); Monteverdi se Vespro della Beata Vergine (onder Gardiner, op DVD); Purcell se Funeral Music for Queen Mary (onder Neary); Zelenka se Lamentations Jeremiae Prophete (met die Chandos Baroque Players). Verdere opnames: Bach se Kersfeesoratorium, Magnificat, Mis in B mineur, Missae breves (BWV 233&236) en Sint Mattheüspassie; kantates van Buxtehude (onder Koopman); liedere van Dowland (met die luitspeler Christopher Wilson); liedere uit die Elizabethaanse tyd (met die ensemble Fretwork); Handel se kantate Il duello amoroso, en oratoriums Jephta (as Hamor) en Messiah; Howells se Requiem; Pergolesi se Stabat Mater en In coelestibus regnis; Purcell se Lost is my quiet for ever; Tavener se Fall and Resurrection; Vaughan Williams se Mis in G mineur; Vivaldi se Gloria; Zelenka se Missa dei Filii en Litaniae Laurentanae; die genoemde operas van Britten, Gluck, Handel, Monteverdi, Mozart en Purcell, asook The Fairy Queen.

Chang, Ha Nang (1982-), Koreaanse tjellis en dirigent. Sy het op driejarige leeftyd met klavierlesse begin en drie jaar later het sy na die tjello oorgeslaan. Haar gesin het in 1993 na die VSA verhuis, waar sy aan die Juilliard Musiekskool studeer het. Later is sy met ‘n beurs na Italië vir meesterklasse onder Mischa Maisky in Siena. Daarby het sy privaatlesse van Mstislaf Rostropowitsj ontvang. In 1994 het sy die internasionale Rostropowitsj-kompetisie in Parys met die maestro self as jurielid gewen. Haar amptelike debuut is in die jaar daarop in haar geboortestad Seoel met die Dresden Staatskapelle onder Giuseppe Sinopoli gemaak. Sedertdien verskyn sy met van die voorste orkeste en dirigente wêreldwyd. Sy speel ook in kamermusiek met Maisky, Gidon Kremer, Dimitri Sitkowetski en andere. Met haar natuurlike sensitiwiteit en aangrypende spel word sy deur sommige kenners met die jong Yehudi Menuhin vergeleyk. In 2009 het sy die Absolute Klassieke Fees in Korea gestig, waarvan sy die artistieke direkteur is. Haar Britse dirigeerdebuut is in 2012 met die Philharmonia Orkes in Londen gemaak. Sy is sedert 2013 musiekdirekteur van die Qatar Filharmoniese Orkes en hoofgasdirigent van die Trondheim Simfonie-orkes. Sleutelopnames (as tjellis): Prokofiëf se Sinfonia concertante (onder Pappano) en tjellosonate (begelei deur Pappano); Saint-Saëns se tjellokonsert nr. 1 en Tsjaikofski se Rococo Variasies (beide onder Rostropowitsj). Verdere opnames (as tjellis): Bruch se Kol Nidrei; Fauré se Elégie; Haydn se 2 tjellokonserte.

Chang, Hae Won (?-), Koreaanse pianis. Sy het as sesjarige begin klavier speel en het later aan die Ewha Universiteit in haar geboortestad Seoel gegradueer. Haar professionele debuut is in 1957 met die Seoel Filharmoniese Orkes gemaak in ‘n Beethoven-konsert. Drie jaar later het sy haar land se nasionale klavierkompetisie gewen, en sedertdien tree sy wêreldwyd as solis en begeleier op. Vanaf 1964 het sy vir vier jaar aan die Frankfurt Konserwatorium met ‘n beurs van die Duitse regering studeer. Met haar terugkeer na Korea het sy ‘n hoogleraar aan haar alma mater geword. In 1985 is sy as Korea se Musikus van die Jaar aangewys. Opnames: J.S. Bach se volledige klavierkonserte (onder Robert Stankovsky); en Hummel se klaviersonates nrs. 2, 3 en 5.

Chang, Sarah (1980-), Amerikaans-gebore Koreaanse violis. As wonderkind het sy op vyfjarige leeftyd haar openbare debuut gemaak. Op ses jaar het sy die legendariese Yehudi Menuhin laat verklaar dat sy die mees ideale violis is wat hy nog gehoor het. Twee jaar later het sy Paganini se eerste vioolkonsert met die New York Filharmoniese Orkes gespeel, en in 1992 is haar Londense debuut gemaak. Met haar suiwer toonkleur en sekure tegniek is sy tans een van die voorste viool-virtuose ter wêreld, in konserte en kamermusiek. Sy bespeel ‘n Guarneri-viool wat in 1717 gemaak is. Sleutelopnames: Dvorák se vioolkonsert (onder Colin Davis) en Klavierkwintet opus 81 (met Andsnes en andere); Lalo se Symphonie espagnole (onder Dutoit); Tsjaikofski se vioolkonsert (onder Davis). Verdere opnames: vioolkonserte van Dvorák, Mendelssohn, Paganini en Vieuxtemps; ‘n aantal van Brahms se Hongaarse Danse (met Jonathan Feldman as klavierbegeleier); Saint-Saëns se Havanaise en Inleiding en Rondo capriccioso; Dvorák se Strykersekstet en Tsjaikofski se Souvenir de Florence (beide as lid van ‘n strykerensemble); en Vaughan Williams se The Lark Ascending (onder Haitink).

Chanticleer, Amerikaanse mannestem-ensemble van twaalf lede wat in 1978 gestig is. Hulle spesialiseer in musiek van die Middeleeue en Renaissance, hoewel hul repertorium tot in die twintigste eeu strek. Vanuit hul standplaas in San Francisco toer hulle wyd deur die VSA, waardeur talle mense vir die eerste keer aan vroeë musiek blootgestel is. Toere is ook deur Europa, Asië en Australië onderneem. Sedert 1983 is Joseph Jennings die musiekdirekteur. Die ensemble het in 2002 die première van Tavener se Lamentations and Praises gegee, kort nadat hulle dit opgeneem het. Verdere opnames: ‘n versameling werke deur die Meksikaanse komponiste Jerúsalem en Zumaya; ‘n versameling gesange van Purcell; en ‘n versameling Kersfeesliedere.

Chiara, Maria (1939-), Italiaanse sopraan. Nadat sy in 1965 haar operadebuut in Venesië as Desdemona in Otello gemaak het, het sy bekend geraak in Verdi-rolle by operahuise in Italië, Duitsland en Oostenryk. Verdere debute het gevolg by La Scala (1972), Covent Garden (1973) en die Metropolitan Opera (1977). By La Scala het sy in 1985 uitgeblink in die titelrol van Aida in ‘n opname onder Lorin Maazel. Sy sou die prestasie herhaal in ‘n hoogstaande DVD-opname van dieselfde opera by die Verona-arena onder Anton Guadagno.

Chicago Simfonie-orkes, die derde oudste Amerikaanse orkes wat in 1891 deur Theodore Thomas gestig is. Met hul briljante klank en tegniese presisie word hulle as die mees begaafde Amerikaanse ensemble in die Duitse repertorium beskou. Die orkes se hoofdirigente het ingesluit Theodore Thomas (1891-1905), Frederick Stock (1905-42), Désiré Defauw 91943-7), Artur Rodzinski (1947/8), Rafael Kubelik (1950-53), Fritz Reiner (1953-63), Jean Martinon (1963-69), Georg Solti (1969-91) en sedert 1991 Daniel Barenboim. Die orkes het in 1971 vir die eerste keer ‘n Europese toer onderneem, en sewe jaar later is hul debuut by die Salzburg-fees onder Solti gemaak.

Chilingarian Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1971 gestig is. Hulle is merendeels bekend in die musiek van twintigste-eeuse komponiste, hoewel hul repertorium veel wyer strek. John Tavener het sy The Bridegroom vir hulle en die vokale ensemble Anonymous 4 geskryf. Sedert 1986 is die ensemble aan die Koninklike Musiekkollege verbonde. Hulle het ‘n hele aantal Europese en Amerikaanse toere onderneem. Opnames: strykkwartette van Arriaga, Bartók (volledig), Berwald (nr. 1), Chausson, Debussy, D’Indy, Dvorák (volledig), Grieg (beide), Haydn (nrs. 69-71), McEwen (nrs. 4, 7, 16 en 17), Mozart (nrs. 14-23), Panufnik, Ravel, Wikmanson (nr. 2) en Wood; klavierkwintette van Hahn en Vierne (met Stephen Coombs); Pärt se Summa en Fratres; Schubert se strykkwintet (met Ward Clark); en Tavener se The Hidden Treasure, The Last Sleep of the Virgin en Ikon of Light (laasgenoemde met die Tallis Scholars).

Chisholm, Erik (1904-65), Skotse pianis, dirigent en komponis. Tydens sy dirigentskap van die Glasgow Grand Opera (1930-9) het hy die Britse premières van ‘n aantal operas gegee. Daaronder tel Idomeneo, Les Troyens en Béatrice et Bénédict, en verder het hy La clemenza di Tito herleef. Vanaf 1946 tot sy dood was hy musiekdirekteur van die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Kaapstad, waar hy oorlede is. Gedurende hul Britse toer in 1956/7 het sy Suid-Afrikaanse operageselskap die Britse première van Bloubaard se Kasteel in Londen gegee. In 1957 is hy na die Sowjet-Unie genooi om die land se staatsimfonie-orkes te dirigeer. Hy het self tien operas en ander werke gekomponeer, en ‘n boek oor Janácek se operas geskryf.

Christie, William (1944-), Amerikaanse klawesimbelspeler, dirigent en musiekgeleerde. Hy was musiekdirekteur van Dartmouth Kollege in New Hampshire, VSA (1970/1), waarna hy in Parys gaan woon het. In die Franse hoofstad was hy vanaf 1971 vir vier jaar ‘n lid van die Five Centuries Ensemble. In 1978 het hy die ensemble Les Arts Florissants gestig, met wie hy wêreldbekend sou raak in uitvoerings en opnames van Franse en Italiaanse Barokmusiek op eietydse instrumente. Daaronder tel operas van M. Charpentier, Lully, Rameau en Rossi. Hulle het in 1987 ‘n uitstekende opname van Hasse se opera Cleofide gemaak. In 1990 het hul Londense debuut by Greenwich plaasgevind, en vyf jaar later het hy die opera The Fairy Queen gedirigeer tydens Covent Garden se driehonderdjarige herdenking van Purcell se afsterwe. Ook in 1995 het hy by die Aix-en-Provence Fees ‘n hoogaangeskrewe opname van Die Zauberflöte gedirigeer. Sedert 1982 is hy ‘n hoogleraar aan die Parys Konserwatorium, en in die laat 1990’s het hy ‘n Franse burger geword. Sleutelopnames (Les Arts Florissants): Charpentier se opera Actéon; Handel se opera Alcina; Rameau se opera Zoroastre. Verdere opnames (as dirigent): Charpentier se komedie-ballet Le malade imaginaire; Handel se Concerti grossi, opus 6/1, 2, 6, 7 &10, en sy oratoriums Messiah en Theodora (lg. op DVD); madrigale en motette van Monteverdi, uittreksels uit Selva morale e spirituale, sy Vespro della Beata Vergine en opera-ballette In ballo delle ingrate en Il combattimento di Tancredi e Clorinda; koorwerke van Campra, Charpentier, Delalande, Gesualdo, Lambert, Mondonville, Rameau en Rossi; die operas Idoménée, Les Arts Florissants, David et Jonathas, Médée, Les Troqueurs, Acis and Galatea, Orlando, Jephté, Die Entführung aus dem Serail, Atys, Dido and Aeneas, The Fairy Queen, King Arthur, Orfeo, Anacréon, Castor et Pollux, La Guirlande, Hippolyte et Aricie, Les Indes galantes, Les Boréades en Zéphyre; (as solis:) 6 Duetsonates van Boccherini (met Christophe Rousset); duetwerke van F. Couperin; en Rameau se Suite de clavecin in E mineur.

Christoff, Boris (1914-93), Bulgaarse bas-bariton. Nadat hy aanvanklik in Sofia as regsgeleerde opgelei is, het hy in Rome en Salzburg begin sing. Sy debuut as operasanger is in 1949 in Reggio gemaak, in die titelrol van Boris Godoenof. Hy sou die grootste vertolker van dié veeleisende rol sedert Fiodor Sjaljapin en moontlik van die hele twintigste eeu word. Daarby was hy ewe briljant as Méphistophélès in Faust en Koning Filips in Don Carlos. Verdere debute is gemaak by La Scala, Covent Garden en die Salzburg-fees (al drie in 1949), en in San Francisco (1956). Vanaf 1958 was hy vir vyf jaar aan die Chicago Opera verbonde, en in 1974 het hy by Covent Garden sy kwarteeu van Boris-vertolkings gevier. Ses jaar later het hy ‘n konsert in New York gegee, maar interessant genoeg het hy nooit by die Metropolitan Opera opgetree nie. Met sy donker stemtoon, kragtige dog sensitiewe sang, volmaakte stembeheer en besondere akteursvermoëns was hy ongeëwenaard in Russiese opera, en ewe begaafd in die musiek van Verdi en Wagner. Sy opera-repertorium het oor ongeveer 40 rolle in ses tale gestrek. Naas die genoemde rolle het dit ingesluit Prins Galitzki en Khan Konsjak in Prins Igor, Pimen en Varlaam in Boris Goedoenof, Iwan in Khowansjina, Tsar Iwan in Meisie van Pskow, die Wiking in Sadko, Prins Joeri in Die legende van die onsigbare stad Kitezh, Prins Gremin in Jewgeni Onegin, Ramfis in Aida, De Silva in Ernani, Fiesco in Simon Boccanegra, Procida in I vespri siciliani, Gurnemanz in Parsifal, Hagen in Götterdämmerung en Koning Mark in Tristan und Isolde. Daarby was hy een van die twintigste eeu se voorste vertolkers van Russiese liedere. Sleutelopnames: Moessorgski se volledige liedere (begelei deur Labinsky) en orkesliedere (onder Tzipine, 1955-57). Verdere opnames: talle liedere en orkesliedere van Balakiref, Borodin, Cui, Glinka, Rachmaninof, Rimski-Korsakof, Serof en Tsjaikofski; en die genoemde operas van Borodin, Gounod, Moessorgski, Rimski-Korsakof en Verdi.

Christophers, Harry (1953-), Engelse dirigent en koormeester. Hy het in 1977 die koor The Sixteen gestig om Renaissance- en Barokmusiek uit te voer, hoewel hulle ook begaafd in werke van moderne komponiste soos Britten en Tavener is. Hulle toer wyd en het in 1979 hul debuut by die Salzburg-fees gemaak met ‘n uitvoering van Bach se Sint Johannespassie. ‘n Gelyknamige orkes tree soms met die koor op. Vir hul 25ste verjaardagviering in 2002 het hulle ‘n opname van Engelse Renaissance-musiek getiteld Spem in alium gemaak (vernoem na Tallis se bekende motet vir 40 stemme), waarvan sommige werke vir die eerste keer sedert die komposisie daarvan uitgevoer is. Sleutelopnames: Sheppard se Ave maris stella, Kantata-mis en ‘n hele aantal motette; Taverner se Missa Corona spinea, Missa gloria tibi Trinitas, Missa Sancti Wilhelmi, Western Wynde Mass, Te Deum, Alleluia, Veni, electa mea, O splendor gloria, en motette Gaude plurium en In pace; Victoria se Requiem. Verdere opnames: J.S. Bach se Kersfeesoratorium, Mis in B mineur en 6 motette; Britten se Rejoice in the Lamb en ander koorwerke; Byrd se misse vir 4 en 5 stemme en van sy motette; Caldara se Crucifixus; Cavalli se Salve regina; G. Gabrieli se Hodie completi sunt; Handel se volledige Chandos anthems, asook Dixit dominus, Nisi dominus, Silete venti en oratoriums Alexander's Feast, Esther, Israel in Egypt en Messiah; Lassus se Missa Bell’Amfrit altera; Martin se Mass for double choir en ander koorwerke; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine, asook misse in 4 en 6 stemme en van sy motette; Poulenc se kantate Figure humaine en van sy motette; Purcell se opera The Fairy Queen; Sheppard se Western Wynde Mass en ‘n versameling motette; Tavener se The Lamb en The Tyger; Taverner se Missa Mater Christi sanctissima, Missa O Michael, Dum transisset sabbatum, Hodie nobis coelorum rex en Magnificat a 4; Victoria se Responsories for Tenebrae; ‘n versameling Portugese polifonie; ‘n versameling Amerikaanse koormusiek van die twintigste eeu; ‘n versameling Renaissance-Kersliedere uit Brittanje; ‘n versameling werke opgedra aan die Maagd Maria deur verskeie komponiste, getiteld A Mother’s Love; en 4 versamelings musiek uit die Eton-koorboek, met werke van Cornysh en andere.

Chung, Kyung-Wha (1948-), Koreaanse violis. Sy het as negejarige wonderkind haar openbare debuut gemaak en in 1961 met haar ouers na New York geëmigreer. Daar het sy onder Joseph Szigeti studeer en was sy ses jaar later ‘n medewenner (met Pinchas Zukerman) van die Leventritt-kompetisie. Haar openbare debuut in dié stad het in 1968 plaasgevind, haar Europese debuut twee jaar later met die Londense Simfonie-orkes en haar debuut by die Salzburg-fees in 1973. Met haar stylvolle spel en warm, ryk toonkleur is sy wêreldbekend as een van die voorste virtuose van haar tyd. Verder speel sy kamermusiek in ‘n trio met haar broer, die dirigent Myung-Whun Chung, en haar suster, die tjellis Myung-Wha Chung. Vir byna ‘n dekade het sy ook as vennoot van die briljante pianis Krystian Zimerman in sonate-uitvoerings opgetree. Verdere aanduiding van haar grootsheid as musikus is die feit dat sy ná etlike dekades van wêreldroem nie die konserte van Bach, Brahms en Mozart opgeneem het nie, omdat sy wou wag totdat sy gereed daarvoor was. Die Brahms-konsert is eers in 2001 onder Simon Rattle opgeneem. Sleutelopnames: Bartók se 2 vioolkonserte (onder Solti); Debussy en Franck se vioolsonates (beide met Radu Lupu); Respighi se vioolsonate (begelei deur Zimerman); Saint-Saëns se Havanaise en Inleiding en rondo capriccioso (onder Dutoit); Sibelius en Strawinski se vioolkonserte (beide onder Previn). Verdere opnames: vioolkonserte van Beethoven, Berg, Bruch, Dvorák, Elgar, Mendelssohn, Prokofiëf, Saint-Saëns, Tsjaikofski, Vieuxtemps en Walton; Bartók se 2 Rapsodieë; Chausson se Poème; Mendelssohn se Klaviertrio in D mineur (met Previn en Tortelier); Vivaldi se Vier Seisoene; en Richard Strauss se vioolsonate.

Chung, Myung-Whun (1953-), Koreaanse pianis en dirigent. Hy het as sewejarige sy debuut as pianis in Seoel gemaak en in 1974 ‘n tweede prys in die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen. Intussen het hy in 1971 begin dirigeer. Hy was ‘n assistent-dirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes (1978-81) en dirigent van die Saarlandse Radio Simfonie-orkes (1984-9). In 1986 is sy debuut by die Metropolitan Opera gemaak. Drie jaar later is hy as musiekdirekteur van die nuwe Bastille Opera in Parys aangewys, maar in 1994 is hy te midde van omstredenheid ontslaan. Sleutelopnames: Messiaen se Des Canyons aux étoiles en koorwerk La Transfiguration de Notre-Seigneur Jésus-Christ (beide as dirigent, Franse Radio), en sy Quatuor pour la fin du temps (as pianis, met Shaham, Meyer en Wang); en die opera Otello (Parys). Verdere opnames: Berlioz se Symphonie fantastique en La damnation de Faust; Dvorák se simfonieë nrs. 3, 6, 7 en 8; Nielsen se simfonieë nrs. 1, 2, 3 en 5; Sjostakowitsj se vierde simfonie; orkeswerke van Messiaen, Rimski-Korsakof en Strawinski; Rossini se Stabat Mater; en die operas Samson et Dalila en Dame Macbeth van Mtsensk.

Chung Trio, Koreaanse kamerensemble bestaande uit die Chung-susters Kyung-Wha (viool) en Myung-Wha (tjello) en hul broer Myung-Whun (klavier). Hulle is betreklik onbekend in die Weste, maar het hoogstaande opnames van klaviertrios deur Beethoven, Brahms en Mendelssohn tot hul krediet.

Ciccolini, Aldo (1925-), Italiaans-gebore pianis. Hy het sy debuut in 1942 gemaak en was vanaf 1947 vir twee jaar ‘n hoogleraar in klavier in Milaan. Daarna het hy hom in Parys gevestig, en in 1950 is sy New York-debuut met Tsjaikofski se eerste klavierkonsert gemaak. Hy het in 1971 ‘n Franse burger geword en in dieselfde jaar ook 'n hoogleraar aan die Parys Konserwatorium. Onder sy leerlinge het Jean-Yves Thibaudet getel. Sy bekendheid lê veral in die Franse repertorium, soos Saint-Säens se volledige klavierkonserte wat hy in uitmuntende vertolkings onder Serge Baudo opgeneem het. Sleutelopname: d’Indy se Symphonie sur un chant montagnard francais (onder Baudo). Verdere opnames: Debussy se volledige klavierwerke; Liszt se Harmonies poétiques et religieuses; Massenet se klavierkonsert en van sy solowerke; Mozart se volledige klaviersonates; Saint-Säens se Karnaval van die Diere (onder Prêtre); en talle solowerke van Satie.

Ciesinski, Katherine (1950-), Amerikaanse mezzosopraan. Nadat sy kompetisies in Genève en Parys gewen het, het sy in 1976 haar Europese debuut by die Aix-en-Provence Fees gemaak, as Anina in La Traviata. Sedert 1988 sing sy by die Metropolitan Opera. Onder die rolle waarin sy uitblink, tel die titelrol in Ariane et Barbe-bleue en Sonja in Oorlog en Vrede. Sy het in uitstekende opnames van beide operas opgetree. Suster van Kristine.

Ciesinski, Kristine (1952-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1976 haar professionele debuut in Denver gemaak, as die Grafin in Capriccio, en vanaf dieselfde jaar tot 1985 by die Chesapeake Opera gesing. In 1977 het sy die internasionale sangkompetisie in Genève gewen, en vanaf 1979 tot 1981 was sy aan die Salzburg Landestheater verbonde. In 1980 het haar Salzburg-feesdebuut gevolg en vanaf 1985 tot 1988 was sy 'n lid van die Bremen Opera. Verdere debute het gevolg by die Skotse Opera (1985), die Wexford-fees (1988) en die Engelse Nasionale Opera (1989). Haar bekendheid lê merendeels in moderne opera, met optredes in hoogstaande opnames van Dame Macbeth van Mstsensk en Street scene (as Anna Maurant) tot haar krediet. Suster van Katherine.

Cigna, Gina (1900-2001), Frans-Italiaanse sopraan. Sy het in 1927 by La Scala gedebuteer as Freia in Das Rheingold. Dit was onder die skuilnaam Genoveffa Sens, maar twee jaar later het sy onder haar regte naam na La Scala teruggekeer. Sy sou tot 1943 daar sing, asook by Covent Garden (vanaf 1933) en die Metropolitan Opera (1936-8). Met haar kragtige sang het sy veral uitgeblink in die titelrolle van Norma, wat sy etlike honderde kere gesing het, en Turandot. Sy het in 1938 in historiese opnames van beide operas onder Vittorio Gui en Franco Ghione onderskeidelik opgetree. Vanaf 1948 het sy sangonderrig gegee.

Cincinatti Simfonie-orkes, Amerikaanse orkes wat in 1895 gestig is. Hul eerste hoofdirigent was Frank van der Stucken (1896-1907), en onder sy opvolgers het getel Leopold Stokowski (1909-12), Eugene Ysaÿe (1918-22), Fritz Reiner (1922-31), Eugene Goossens (1931-47), Max Rudolf (1958-70), Thomas Schippers (1970-77), Michael Gielen (1980-86) en Jesús Lopez-Cobos (1986-2001). Hul konsertsaal is die grootste in Noord-Amerika. Sedert 2001 is Paavo Järvi die musiekdirekteur.

Civil, Alan (1928-89), Engelse horingspeler en komponis. Hy was 'n lid van die Koninklike Filharmoniese Orkes (1953-5) en die Philharmonia Orkes (1955-66), en daarna eerste horingspeler van die BBC Simfonie-orkes (1966-88). Daarbenewens was hy 'n lid van verskeie kamerensembles en ‘n hoogleraar in horingspel aan die Koninklike Musiekkollege. Opnames: Arnold se tweede horingkonsert, Britten se Serenade vir tenoor, horing en strykers (met Robert Tear), en Mozart se vier horingkonserte.

Clark, Graham (1941-), Engelse tenoor. Hy het sy operadebuut met die Gemini Opera gemaak as Jenik in Die verruilde bruid. In 1975 het hy by die Skotse Opera gedebuteer en sedert die jaar daarop sing hy by die Engelse Nasionale Opera. Verdere debute het gevolg by die Bayreuth-fees (1981) en die Metropolitan Opera (1985). By Bayreuth het hy uitgeblink as Loge in Das Rheingold en Mime in Siegfried, ook in Daniel Barenboim se hoogaangeskrewe opnames daarvan. Hy het dié twee rolle tydens die Bayreuth-fees van 2001 steeds meesterlik vertolk onder Adam Fischer. By die Met het hy in 1991 in die première van Corigliano se The Ghosts of Versailles gesing. Voorts het hy ‘n karaktervolle vertoning gelewer as Piet die Pot in ‘n opname van Ligeti se opera Le Grand Macabre onder Salonen. Verdere opnames: Das Rheingold (Barcelona) en Siegfried (Amsterdam) – beide op DVD.

Clemencic, René (1928-), Oostenrykse klawesimbel- en blokfluitspeler, dirigent en komponis. In 1958 het hy die Musica Antiqua in Wenen gestig vir uitvoerings op eietydse instrumente. Verder het hy in 1969 die Clemencic Consort gestig en hul in ‘n wye repertorium gelei. Met die koor en orkes van die Switserse radio het hy ‘n voortreflike opname van Caldara se Missa Dolorosa gemaak.

Cleobury, Nicholas (1950-), Engelse dirigent, orrelis, pianis en klawesimbelspeler. Ná ‘n aanvanklike loopbaan as orrelis was hy vanaf 1976 vir drie jaar koormeester by die Glyndebourne-fees. Daarna het hy bekend geraak in opera, onder meer as hoof-operadirigent van die Koninklike Musiekkollege (1980-87). Hy het in 1984 Opera Noord se herlewing van Delius se A Village Romeo and Juliet gedirigeer. Sleutelopname: Richard Strauss se Houtblaserserenade in E mol (Britten Sinfonia). Verdere opnames: Falla se ballet El amor brujo; en Maxwell Davies se rolprentmusiek The Boyfriend en The Devils. Broer van Stephen.

Cleobury, Stephen (1948-), Engelse dirigent. Aanvanklik het hy as orrelis naam gemaak, en sedert 1982 is hy musiekdirekteur van King’s College, Cambridge. Met hul beroemde koor toer hy wyd en het hy bekendheid verwerf in gewyde musiek, soos sy gevierde voorganger David Willcocks. Talle werke is vir hulle geskryf deur komponiste soos Tavener en Macmillan. Daarby is hy sedert 1995 hoofdirigent van die BBC Singers. Met sy Cambridge-koor en die Academy of Ancient Music het hy ‘n briljante DVD-opname gemaak van Bach se kantates nrs. 12 en 140, Missa brevis in A, Magnificat in D, sowel as ‘n aantal korale en motette. Sleutelopnames: die genoemde werke van Bach; D. Scarlatti se Stabat Mater, Magnificat, Te Deum en Miserere in E mineur; ‘n versameling koorwerke van Stanford; Tavener se Magnificat & Nunc Dimittis. Verdere opnames (as dirigent): kerkmusiek van Bach, Bax, Berlioz, Brahms, Finzi, Gorécki, G. Gabrieli, Handel, Howells, Lassus, Mendelssohn, Mozart, Pärt, Philips, Rachmaninof, Victoria en Vivaldi; (en as orrelis:) werke van Bach, Duruflé, Elgar, Fauré, Howells, Mendelssohn en Poulenc. Broer van Nicholas.

Cleveland Kwartet, Amerikaanse strykkwartet wat in 1969 gestig en in 1995 ontbind is. Hul opnames van Beethoven se volledige strykkwartette word as een van die beste siklusse nóg van dié epiese werke beskou. Verdere opnames: Brahms se klavierkwintet (met Wladimir Asjkenazy) en Schubert se Forelle-kwintet (met Alfred Brendel).

Cleveland Orkes, Amerikaanse orkes wat in 1918 gestig is met Nikolai Sokoloff (1918-33) as hul hoofdirigent. Hy is opgevolg deur Artur Rodzinski, Erich Leinsdorf, George Szell, Lorin Maazel en (sedert 1984) Christoph von Dohnányi. Tydens die lang bewind van Szell (1946-70) het dit tot een van die voorste simfonie-orkeste ter wêreld ontwikkel, veral in die Duitse Klassieke en Romantiese repertoriums. In 1967 het hy die orkes ook tydens hul debuut by die Salzburg-fees gelei.

Cliburn, Van (1934-2013), Amerikaanse pianis. Sy moeder was 'n voortreflike pianis wat 'n leerling van Franz Liszt se student Arthur Friedheim was. Hy het vanaf driejarige leeftyd lesse van haar ontvang en op vier sy eerste uitvoering gegee. In 1946 het hy as jong tiener 'n klavierkompetisie in Texas gewen en die eerste klavierkonsert van Tsjaikofski in Houston uitgevoer. Hy is op 17 na die Juilliard Musiekskool in New York vir studies onder die befaamde Rosina Lhévinne, wat hom in die groot Russies-Romantiese tradisie geskool het. In 1948 is sy openbare debuut in New York gemaak en ses jaar later het hy die Leventritt-prys gewen. Sy internasionale deurbraak gemaak toe hy in 1958 die eerste internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen het. Dit was te midde van die Koue Oorlog tussen sy land en die destydse Sowjet-Unie, waarop hy 'n helde-ontvangs in New York beleef het. Daarna het hy wêreldbekend geraak in die musiek van veral Liszt, Tsjaikofski en Rachmaninof. Hy het 'n aantal kere teruggekeer na die Sowjet-Unie, waar hy besonder gewild was, vir uitvoerings en opnames. In 1962 is 'n internasionale klavierkompetisie wat na hom vernoem is in Fort Worth, Texas, gestig. Twee jaar later is sy Salzburg-feesdebuut gemaak en in 1978 het hy uitgetree nadat sy vader en bestuurder oorlede is. Hy het in 1989 sy loopbaan hervat en vyf jaar later 'n landswye toer onderneem. Oor 'n tydperk van vyf dekades het hy vir elke Amerikaanse president gespeel. Dit sluit 'n optrede in die Wit Huis tydens die Sowjet-president Gorbatsjef se besoek aan Ronald Reagan in 1987 in. In 1998 is hy deur sy voormalige homoseksuele vennoot vir 'n deel van sy bates en inkomste gedagvaar, maar die eis is deur die hof verwerp. Hy is aan beenkanker oorlede. Sleutelopname: Rachmaninof se klavierkonsert nr. 2 (onder Fritz Reiner, 1962). Verdere opnames: klavierkonserte van Beethoven (nr. 5), MacDowell (nr. 2), Rachmaninof (nr. 3), Schumann en Tsjaikofski (nr.1), asook solowerke van Barber en MacDowell.

Cluytens, André (1905-67), Belgies-gebore Franse pianis en dirigent. Nadat hy aanvanklik as pianis bekend was, het hy na dirigeer oorgeslaan. Hy was in dié hoedanigheid verbonde aan operahuise in Antwerpen (1927-32), Lyon (vanaf 1935) en Parys (vanaf 1941). In 1955 het hy die eerste Franse dirigent geword om by die Bayreuth-fees op te tree, toe hy op die laaste nippertjie moes instaan vir ‘n olike Eugen Jochum. Tydens die geleentheid het hy opvoerings van Tannhäuser, Lohengrin en Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer. Die jaar 1958 sou ‘n heuglike een vir hom wees: met die Philharmonia Orkes in Londen het hy indrukwekkende opnames van Borodin se In die Steppe van Sentraal-Asië en Polowtsiese Danse, Moessorgski/Ravel se Nag op ‘n Kaal Berg en Rimski-Korsakof se Capriccio espagnol gemaak; in die Franse hoofstad het hy die eerste opnames van Sjostakowitsj se twee klavierkonserte gedirigeer, met die komponis self as solis; en hy het die Weense Filharmoniese Orkes op ‘n toer na die VSA gelei. Vanaf 1959 was hy ‘n gereelde dirigent by die Weense Staatsopera. Met die Berlynse Filharmoniese Orkes het hy voortreflike opnames van Beethoven se volledige  simfonieë gemaak. Sleutelopname: Strawinski se opera Le Rossignol (Franse Radio). Verdere opnames: Berlioz se oratorium L’Enfance du Christ; Bizet se Simfonie in C en 2 L’Arlésienne suites; Franck se Psyché; Ravel se Alborada del gracioso en Daphnis et Chloé suites; Sjostakowitsj se elfde simfonie; Richard Strauss se Don Juan; Wagner se Siegfried Idyll, en ‘n versameling van sy preludes en ouvertures; en die operas Carmen, Les Pêcheurs de perles, Faust, Boris Godoenof, Les contes d'Hoffmann en Tannhäuser (Bayreuth).

Coates, Albert (1882-1953), Russies-gebore Britse dirigent en komponis. Hy het in Rusland onder die komponis Rimski-Korsakof en in Leipzig onder die dirigent Artur Nikisch studeer. Aanvanklik het hy dirigeerposte beklee in Leipzig, Elberfeld en Dresden (laasgenoemde vanaf 1906). Sy Londense debuut is in 1910 gemaak, en vier jaar later het hy Tristan und Isolde by Covent Garden gedirigeer. Vanaf 1911 het hy vir sewe jaar opera gedirigeer in Sint Petersburg, waartydens hy met die komponis Skriabin bevriend geraak het. Hy het in 1919 in Brittanje gaan woon, waar hy Thomas Beecham as hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes opgevolg het. Met sy lewenskragtige styl het hy ‘n bekende dirigent van Russiese musiek geword. Só het hy in 1932 met die Londense Simfonie-orkes die eerste opname van Tsjaikofski se derde simfonie gemaak, in ‘n vertolking wat steeds as meesterlik beskou word. Intussen het hy die premières van Vaughan Williams se tweede simfonie (1920), Bax se eerste simfonie (1922) en Holst se Koorsimfonie (1925) gedirigeer. Hy het hom in 1946 in Suid-Afrika gevestig, waar hy sewe jaar later oorlede is. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur; Borodin se tweede simfonie; orkeswerke van Glinka, Humperdinck, Liadof, Moessorgski, Ravel, Rimski-Korsakof, R. Strauss, Strawinski, Tsjaikofski en Weber; en uittreksels uit Tristan und Isolde.

Coertse, Mimi (1932-), Suid-Afrikaanse sopraan, stellig die grootste sanger wat dié land nog opgelewer het. Sy het op vyf jaar met klavierlesse begin, maar sang was vanuit die staanspoor haar groot liefde. Haar eerste openbare optrede is as sewejarige gemaak, waarna sy dikwels in plaaslike konserte sou optree. Op sestien het sy met sanglesse onder Aimée Parkerson begin, en in 1951 is haar konsertdebuut gemaak toe sy as solis in Handel se Messiah gesing het. Sy is in 1953 na Europa vir verdere studie, vergesel deur haar man, die pianis Dawid Engela (hul sou in 1957 skei). Ná ‘n verblyf van enkele weke in Engeland sing sy op Kersdag van 1953 in die Westduyn-kerk in Den Haag. Vroeg in 1954 is sy na die eintlike mikpunt, Wenen, waar sy met sanglesse onder Prof. Maria Hittorf begin het. Terselfdertyd het sy aan die Weense Musiekakademie onder Prof. Viktor Gräf studeer, wat haar later in liedere-voordragte op die klavier sou begelei. Haar operadebuut is in 1955 in Napels as ‘n Blommemeisie in Parsifal gemaak, onder die dirigeerstaf van Karl Böhm en terwyl sy nog ‘n student was. Kort na haar afstudering aan die Musiekakademie later in dieselfde jaar het haar jaarlikse konsertbesoeke aan Suid-Afrika ‘n aanvang geneem, en het sy as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte in Basel gedebuteer. Dit sou haar naamrol word, wat sy oor die volgende ses jaar meer as 500 keer by talle Europese operahuise en musiekfeeste sou sing.

Coertse se loopbaan het in 1956, toe sy slegs 23 jaar oud was, waarlik internasionale statuur bereik. Sy het in Maart by die Weense Staatsopera ‘n triomfantelike debuut as Koningin van die Nag gemaak, wat dadelik aan haar ‘n kontrak by dié beroemde operahuis sou besorg. By die Weense Volksopera het sy 3 weke later as Gilda in Rigoletto gedebuteer. Nog debute is gemaak by Covent Garden en die Salzburg-fees. By Covent Garden het sy jaarliks vanaf 1956 tot 1959 as Koningin van die Nag gesing en is sy deur kritici beskou as die beste vertolker van die rol in die na-oorlogse tydperk. In Salzburg het sy onder Georg Szell as Konstanze in Die Entführung aus dem Serail gedebuteer. Steeds in 1956 het sy as solis in Beethoven se negende simfonie onder Malcolm Sargent gesing, ter viering van die stad Johannesburg se 70ste verjaardag. Die jaar 1957 sou verdere seges meebring: debute is gemaak by die Londense Proms en onder John Pritchard by die Glyndebourne-fees, in laasgenoemde met Ariadne auf Naxos. In 1958 het sy tydens ‘n besoek aan haar geboorteland haar filmdebuut in Nooi van my hart gemaak en by die opening van die Universiteit van Pretoria se Aula-teater gesing. ‘n Verdere eer wat haar te beurt geval het, was om in 1962 die rol van Rosalinde in Die Fledermaus te sing tydens die opening van die herboude Theater an der Wien, wat soos die Staatsopera tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Geallieerde bomme vernietig is.

Vanaf 1957 tot 1973 was Coertse as eerste koloratuursopraan aan die Weense Staatsopera verbonde, waar sy in 469 opvoerings in 27 rolle sou optree. In die Oostenrykse hoofstad was sy allerweë as ‘onse Mimi’ bekend en het sy in 1966 die gesogte toekenning van Kammersängerin ontvang. Daar het sy in opera, operette en konserte opgetree, insluitend die Haydn-gedenkfees in 1959. Sy sou dikwels met die legendariese tenoor Fritz Wunderlich optree. Só het sy in 1958 die sopraansolo gesing in Bach se Sint Mattheüspassie tydens Wunderlich se Weense debuut, later in dieselfde jaar het hulle saam opgetree in Die Zauberflöte by die Aix-en-Provence Fees, en in 1965 het hulle as Konstanze en Belmonte in Die Entführung aus dem Serail by die Weense Staatsopera verskyn. As briljante operettesanger het sy in 1964 die vroulike hoofrol tydens die wêreldpremière van Robert Stolz se Frühjarsparade in Wenen geskep, en vier jaar later het sy die rol van Aminta tydens die Weense première van Die schweigsame Frau vertolk. Sy het in 1972 op die kruin van haar loopbaan na haar geboorteland teruggekeer, maar sou nog tot 1978 by die Weense Staatsopera optree. Haar afskeidsoptrede daar is as Elisabetta in Don Carlos gemaak. Onder haar goeie vriende in Wenen het die vermaarde sangers Walter Berry, Christa Ludwig, Erich Kunz en Eberhard Wächter getel.

Coertse was as lojale Suid-Afrikaner by meer as een geleentheid ‘n slagoffer van negatiewe politiekery, veral in die Engelssprekende wêreld. Nadat die beroemde dirigent Herbert von Karajan haar hoor sing het, het hy haar genooi om in ‘n opvoering van La Traviata by die Metropolitan Opera in New York op te tree. Die bestuurder van die Met, Rudolf Bing (wat ironies genoeg in Oostenryk gebore is), wou haar egter nie op grond van haar Suid-Afrikaanse paspoort toelaat nie, vanweë die land se indertydse rassebeleid. Eweneens kon sy vanaf 1959 nie voortgaan om by Covent Garden in Londen te sing nie, omdat die vakunie Equity, waaraan meeste van die Britse uitvoerende kunstenaars behoort het, van haar vereis het om ‘n ooreenkoms te onderteken dat sy nie in lande waar veelrassige gehore verbied word, sal optree nie. Dit sou verdere optredes in Suid-Afrika onmoontlik maak, en met groot integriteit het sy gekies om lojaal aan haar geboorteland te bly. Selfs in Suid-Afrika is sy later nie genooi om die Staatsteater in Pretoria in te wy nie, tot verstomming van die groot Sweedse sopraan Birgit Nilsson wat wel ‘n eregas was. Vier Suid-Afrikaanse universiteite se ouditoriums is wel deur haar ingewy.

In Suid-Afrika het Coertse tot diep in in haar sestigs in opera, konserte en liedere-voordragte verskyn. Daaronder tel jaarlikse optredes in Kaapstad tot 1980 met groot sangers soos Franco Bonisolli, Hermann Prey en haar landgenoot Gé Korsten. Met haar soepel, helder stem was sy uitmuntend in Italiaanse opera en Afrikaanse liedere, maar dit was met haar briljante sang in die musiek van Mozart en Richard Strauss dat sy wêreldroem verwerf het. Haar repertorium het verdere operarolle ingesluit soos Marguerite in Faust, Nedda in I Pagliacci, die Grafin in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, beide Donna Anna en Donna Elvira in Don Giovanni, beide Despina en Fiordiligi in Così fan tutte, al vier heldinne in Les contes d'Hoffmann, die Engel in Palestrina, Musetta in La Bohème, Liù in Turandot, Zerbinetta in Ariadne auf Naxos, Fiakermilli in Arabella, Aminta in Die schweigsame Frau, Leonora in Il Trovatore, Violetta in La Traviata, asook die titelrolle in Lucia di Lammermoor, Norma, Martha, Suor Angelica, Die ägyptische Helena en Daphne. Sy was ewe begaafd in operetterolle soos Kunigunde in Candide (wat sy onder die komponis Bernstein self gesing het), Hanna in Die lustige Witwe en Rosalinda in Die Fledermaus. Daarby was sy begaafd in konsertwerke van Bach, Mahler en Mozart.

Naas haar briljante loopbaan in opera en operette het Coertse nie haar gelyke gehad met die uitvoering van die Afrikaanse lied nie. Haar inspirasie was die gevierde Spaanse sopraan Victoria de los Angeles, wat sy kort na haar aankoms in Europa in ‘n uitvoering van Spaanse liedere gehoor het. Sy het daarop besluit dat sy Afrikaanse liedere tot kunsvorm sou verhef. So vroeg in haar Europese loopbaan as 1957 het die groot digter D.J. Opperman ‘n kwatryn vir haar geskryf. Later sou sy Pieter de Villiers se Sewe Boerneef-liedjies en Arnold van Wyk se Vier weemoedige liedjies op ongeëwenaarde wyse vertolk. Ook Dvorák se Zigeunerlieder het in haar ‘n waardige vertolker gevind. As aktrise het sy verder gespeel in die rolprente Adam (1989) en Die prins van Pretoria (1990), en in die 1990’s teenoor die ewe vermaarde sanger-akteur Gé Korsten in die TV-sepie Egoli.

Vanuit die staanspoor het Coertse haar aan die bevordering van musiek in Suid-Afrika gewy. Die Mimi Coertse-beurs is in 1959 deur haar gestig vir verdere studies in die buiteland deur jong sangers. Onder die wenners daarvan het latere bekendes in die operawêreld soos Hans van Heerden en Michelle Breedt getel. Ook by die Potchefstroomse Universiteit het sy ‘n beurs onder haar moeder se naam in die lewe geroep: die Maria Coertse-beurs. In 1962 het sy gesing met die opening van die Johannesburgse Stadskouburg, waartydens ‘n borsbeeld van haar onthul is. Sedert 1983 stel sy tweejaarliks belowende jong sangers in Pretoria se Staatsteater aan die publiek bekend. In 1985 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens (goud) deur die staatspresident aan haar toegeken, en twee jaar later het sy ‘n Artes-toekenning ontvang vir haar vertolking van die titelrol in Suor Angelica. Sy het in 1996 die Oostenrykse Goue Erekruis vir Kuns en Kultuur ontvang. ‘n Eredoktorsgraad is in 1998 deur die Universiteit van Pretoria aan haar toegeken, presies 40 jaar na haar opening van hul Aula-teater. Met die herdenking van haar sewentigste verjaardag in 2002 is die boek Kammersängerin Mimi Coertse – Eine Wienerin aus Südafrika by die Weense Staatsopera bekendgestel, asook ‘n Afrikaanse feesbundel getiteld Mimi in Pretoria. In Wenen het sy by dié geleentheid die gesogte Rathausman-toekenning van die stad se burgemeester ontvang.

Opnames: Bach se Magnificat (onder Prohaska); Haydn se Die Schöpfung (onder Horenstein); Mahler se tweede en agste simfonieë (onder Scherchen en Mitropoulos onderskeidelik); Pergolesi se Stabat Mater; Richard Strauss se Vier letzte Lieder (onder beide Cree en Frémaux); Vivaldi se Gloria (onder Scherchen); die operettes Die lustige Witwe en Frühjarsparade; en die operas Bastien und Bastienne, Der Schauspieldirektor, Palestrina, Arabella, Ariadne auf Naxos, Die ägyptische Helena en Rigoletto; en verskeie versamelings uittreksels uit operas en operettes, Kersliedere, Afrikaanse liedere en Weense liedere.

Cohen, Harriet (1895-1967), Engelse pianis. Sy was bekend as kampvegter vir vroeë klawerbordmusiek sowel as vir moderne Britse werke. Verskeie komponiste het werke vir haar geskryf, waaronder Bax se Simfoniese Variasies (1917). Ook in 1917 is sy met Bax vir ‘n romantiese somervakansie na die dorp Tintagel in Cornwallis, wat hom so geïnspireer het dat hy sy beroemdste orkeswerk na die dorp vernoem het. Die klavierkonserte van Vaughan Williams (1933) en Fricker (1954) is eweneens vir haar geskryf. In 1945 het sy die Cornish Rhapsody van Bath in die rolprent Love Story gespeel. Nadat sy haar regterhand beseer het, het Bax sy klavierkonsert vir die linkerhand vir haar geskryf, waarvan sy in 1950 die eerste uitvoering sou gee. ‘n Klavierkompetisie is na haar en Dinu Lipatti vernoem. Opnames: Bax se Winter Legends vir klavier en orkes (onder Raybould), en sy solowerke A Hill Tune en A Mountain Mood.

Cohen, Robert (1959-), Engelse tjellis. Hy het in 1971 sy solodebuut in Londen gemaak met Boccherini se tjellokonsert. Later het hy die Piatigorski-kompetisie by Tanglewood gewen en in 1979 sy Amerikaanse debuut gemaak. Benewens sy optredes as solis speel hy in ‘n trio met sy violis-vader Raymond Cohen en sy pianis-moeder Anthya Rael. Sy bekendheid lê merendeels in laat-Romantiese en moderne musiek, veral dié van sy landgenote. Opnames: Bliss, Elgar en Walton se tjellokonserte; en die tjellosonates van Britten, Franck en Grieg.

Coin, Christophe (1958-), Franse tjellis en dirigent. Hy het tjello onder André Navarra aan die Parys Konserwatorium studeer en in 1974 ‘n eerste prys daar gewen. Verdere studies is onderneem onder Nikolaus Harnoncourt in Wenen en Jordi Savall in Basel. Hy tree as solis met bekende vroeë musiek-ensembles op, insluitend Jordi Savall se Hespèrion XX, en het in 1984 die Mosaïques Kwartet gevorm. As dirigent en solis op piccolo-tjello het hy met bekende soliste hoogstaande opnames van 3 kantates deur Bach gemaak. Daarby is hy in beheer van die kursusse in baroktjello en viola da gamba by beide die Nasionale Konserwatorium in Parys en die Schola Cantorum in Basel. Sleutelopnames: ‘n versameling Vivaldi-konserte vir 2 tot 4 strykinstrumente (onder Antonini). Verdere opnames: Boccherini se tjellokonserte nrs. 3, 7 en 9; en ‘n versameling kwartette vir fluit, fagot, viola da gamba en continuo van Telemann.

Collard, Jean-Philippe (1948-), Franse pianis. In 1964 het hy wêreldwyd as solis begin optree en bekendheid verwerf in Franse musiek, asook in die musiek van Rachmaninof. Hy het die groot laat-Romantikus se volledige klavierkonserte en Paganini Rapsodie in meesterlike vertolkings onder Michel Plasson opgeneem. Sleutelopname: Fauré se Ballade en Fantaisie (beide onder Plasson). Verdere opnames: Bizet se Jeux d’enfants (met Michel Béroff); Chausson se Konsert vir viool, klavier en strykkwartet (met Dumay en die Muir Kwartet); solowerke van Fauré, en sy volledige klavierkwartette en -kwintette (met die Parrenin Kwartet); Franck se Simfoniese Variasies; d’Indy se Simfonie op ‘n Franse Berglied; Poulenc se Dubbelkonsert (met Duchable); Rachmaninof se tweede klaviersonate en ander solowerke; Schubert se 2 klaviertrios (met Dumay en Lodéon) en Grand Duo sonate.

Collegium Aureum, Duitse ensemble wat in 1964 deur Franzjosef Maier gestig is vir die uitvoering van Barok- en vroeë Klassieke werke. Hulle het toere deur Europa, Latyns-Amerika, Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Rusland en Japan onderneem, en was pioniers in die uitvoering van musiek op eietydse instrumente. In ooreenstemming met historiese praktyk speel hulle sonder ‘n dirigent, en word deur die konsertmeester as eerste onder gelykes gelei. Opnames: Bach se Kantates nrs. 202, 209, 211 en 212; Handel se Concerti grossi (opus 6); Mozart se 4 fluitkwartette (met Barthold Kuijken) en sy vroeë Quodlibet; Pergolesi se opera La serva padrona; Rameau se suites Dardanus en Les Indes Galantes; en houtblaserverwerkings deur Johann Wendt van uittreksels uit twee van Mozart se operas.

Collier, Marie (1927-71), Australiese sopraan. Sy het in 1954 haar debuut in Melbourne gemaak, as Santuzza in Cavalleria rusticana, en twee jaar later by Covent Garden begin sing. In 1960 het sy uitgeblink in die titelrol van Madama Butterfly in ‘n Engelstalige opname van die opera by Sadler’s Wells. Sy het twee jaar later die rol van Hecuba tydens die première van King Priam geskep. Vervolgens het sy in die Britse verhoogpremières van Katerina Ismailowa (in 1963 by Covent Garden, in die titelrol) en Die vurige engel (in 1965 by Sadler’s Wells, as Renata) opgetree. Verdere debute is gemaak in San Francisco (1964) en by die Metropolitan Opera (1967). Met haar ryk stem en besondere akteursvermoëns was sy verder bekend as Emilia Marty in Die Makropoulos-saak. Sy is tragies genoeg in haar vroeë veertigs oorlede.

Collingwood, Lawrance (1887-1982), Engelse dirigent en komponis. Hy was vir 'n tyd lank Albert Coates se assistent by die Sint Petersburg Opera. Vanaf 1920 het hy opera in Brittanje gedirigeer, onder andere as hoofdirigent van die Engelse Nasionale Opera (1931-47). Hy het oor ‘n tydperk van ‘n halfeeu talle opnames gemaak, ook tydens Elgar se laaste sessie in 1934. Juis van dié komponis se ligter orkeswerke sou hy in 1964 met die Koninklike Filharmoniese Orkes hoogaangeskrewe opnames maak.

Collins, Anthony (1893-1963), Engelse dirigent en komponis. Aanvanklik was hy eerste altviolis in die Londense Simfonie-orkes en die orkes van Covent Garden. In 1936 het hy begin dirigeer, waarna hy tot 1945 in dié hoedanigheid in die VSA opgetree het. Hy het die Londense Mozart-orkes gestig en was veral bekend vir sy vertolkings van Sibelius. Sy opnames met die Londense Simfonie-orkes van die Nordiese musiekreus se volledige simfonieë in die vroeë 1950’s word onder die beste siklusse daarvan gereken. Naas sy eie komposisies, soos die gewilde orkeswerk Vanity Fair, het hy Schubert se klaviersonate Grand Duo (D813) georkestreer. Sleutelopnames: Sibelius se simfonieë nrs. 1 en 7; Walton se Facade (1954, met die digteres Edith Sitwell en die tenoor Peter Pears). Verdere opnames: Sibelius se toondigte Night Ride and Sunrise, Pelléas et Mélisande Suite en Pohjola’s Daughter.

Collins, Michael (1962-), Engelse klarinettis. In 1978 was hy ‘n finalis in die BBC se Jong Musikus van die Jaar kompetisie. Hy het ses jaar later die klarinetkonsert van Musgrave by die Londense Proms gespeel en in dieselfde jaar (1984) sy debuut in New York gemaak. Sedert 1985 is hy ‘n hoogleraar in klarinet aan die Koninklike Musiekkollege, en sedert 1988 is hy eerste klarinettis van die Philharmonia Orkes in Londen. Opnames: Britten se Rondo concertante; Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Mustonen, Bell en Isserlis); Mozart se klarinetkonsert en Beethoven se vioolkonsert (deur Mikhail Pletnjef vir die klarinet verwerk, beide onder Pletnjef); en Mozart se Kegelstatt klarinettrio (met lede van die Nash Ensemble).

Comissiona, Sergiu (1928-2005), Roemeens-gebore dirigent. Nadat hy ‘n violis in ‘n strykkwartet en orkes was (1946-8), was hy dirigent van die Roemeense Staatsensemble (1948-55) en die Roemeense Staatsopera (1955-9). Daarna het hy wêreldwyd as dirigent opgetree, onder meer van die Haifa Simfonie-orkes in Israel (1960-6), die Göteborg Simfonie-orkes in Swede (1966-77), die Ulster Orkes in Belfast (1967-9), die Baltimore Simfonie-orkes (1969-84), die Amerikaanse Simfonie-orkes (1977-82) en die Houston Simfonie-orkes (1984-8). Tydens sy verbintenis met die Baltimore-orkes het hy hulle tot ‘n voortreflike ensemble opgebou, en het hul op hul eerste internasionale toer gelei. Hulle het saam ‘n uitstekende opname van Respighi se toondigte Feste Romane en Denne van Rome gemaak. Hy het in 1976 ‘n Amerikaanse burger geword, en operadebute is gemaak by Covent Garden (1974) en in New York (1977). Vanaf 1982 was hy ook hoofdirigent van die Hilversum Radio Filharmoniese orkes in Holland. In 1987/8 was hy musiekdirekteur van die New York Stadsopera, en vanaf 1990 het hy die Helsinki Filharmoniese Orkes gedirigeer. Verdere opnames: Pettersson se sewende simfonie.

Concertgebouw Orkes – sien Koninklike Concertgebouw Orkes.

Concerto Köln, instrumentele ensemble wat in 1985 in Keulen gestig is. Hul bestaan uit graduandi van verskeie Europese musiekkolleges wat spesialiseer in die uitvoering van musiek uit die sewentiende en agtiende eeue op eietydse instrumente. Hoewel hul leier Werner Ehrhardt die artistieke direkteur is, speel die ensemble sonder ‘n dirigent sodat elke lid die geleentheid kry om kundigheid by te dra. Saam met die radiostasie Deutschlandfunk het hul in 1992 die Festtage Alte Musik Köln gestig vir die herlewing van werke deur afgeskeepde komponiste. Die feeste behels lesings, konserte en uitstallings, en het vir die eerste aantal jare agtereenvolgens op Kraus, Brunetti, Locatelli en Rosetti gefokus. Die ensemble tree wyd deur Europa, Suid-Amerika en Suid-Asië op. Onder die bekende musici wat met hul optree, tel Andreas Staier, Anner Bylsma en Rainer Kussmaul. Opnames: ‘n versameling Sinfonias van J.C. Bach, J.C.F. Bach en W.F. Bach; ‘n versameling fluittrios van Haydn; Mendelssohn se 12 Strykersimfonieë; Telemann se 6 Konserte en 6 Suites (1734), Kleine Cammermusiek, en 6 Trios (1718); en ‘n versameling simfonieë van Vanhal.

Conlon, James (1950-), Amerikaanse dirigent. Hy het in 1971 by die Spoleto-fees in Italië die opera Boris Godoenof gedirigeer terwyl hy nog ‘n student was. Verdere debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1976), die Ravinia-fees (1977) en Covent Garden (1979). In die eerste 25 jaar na sy Met-debuut het hy meer as 200 keer daar verskyn. Hy was musiekdirekteur van die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1983-91), en daarna algemene musiekdirekteur van die stad Keulen in Duitsland. In 1996 het hy musiekdirekteur van die Bastille Opera in Parys geword. Daar het hy in 2003 ‘n herlewing van Verdi se Les Vêpres siciliennes in die oorspronklike Franse weergawe, die eerste opvoering daarvan in meer as 140 jaar, gedirigeer. Hy het in 2004 musiekdirekteur van die Ravinia-fees in Chicago geword. Sleutelopnames: Rossini se opera Semiramide (Metropolitan 1990); Zemlinsky se Cymbeline Suite, Sinfonietta, Die Seejungfrau, kantate Frühlingsbegräbnis en opera Der Zwerg (almal in Keulen). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Bruch; Liszt se Faust Simfonie en oratorium Christus; Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling; verdere koorwerke en orkesliedere van Zemlinsky; en die operas Rusalka, Le Rossignol en Der Traumgörge.

Connell, Elizabeth (1946-2012), Suid-Afrikaans-gebore Ierse sopraan. Sy was aanvanklik 'n mezzosopraan en het in 1972 die Maggie Teyte-prys gewen. In dieselfde jaar is haar debuut by die Wexford-fees gemaak as Varvara in Kata Kabanová. Sy was daarna verbonde aan die Australiese Opera (1973-5) en die Engelse Nasionale Opera (1975-80). Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1976), die Bayreuth-fees (1980), La Scala (1981), die Salzburg-fees (1983), en die Metropolitan Opera en die Glyndebourne-fees (beide in 1985). Intussen het sy in 1983 as sopraan begin sing, met ‘n bekendheid veral as konsert- en liederesangeres. Opnames: Bantock se The Wilderness and the Solitary Place; Mendelssohn se tweede simfonie (onder Abbado) en oratorium Elijah; Mahler se agste simfonie (onder Tennstedt); ‘n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson); Szymanowski se Stabat Mater (onder Rattle); Vaughan Williams se Serenade to Music; en die operas Die Gezeichneten (as Carlotta) en Eugene Onegin (in Engels).

Consort of Musicke, Engelse vokale ensemble wat in 1969 deur Anthony Rooley gestig is. Die soprane Emma Kirkby en Evelyn Tubb, alt Mary Nichols, tenore Joseph Cornwell en Andrew King, en bas Simon Grant vorm die kern van die koor. Hul spesialiseer in musiek vir stemme en instrumente uit die sestiende en sewentiende eeue, op eietydse instrumente. Dit was veral in die uitvoering van madrigale en luitliedere uit die Renaissance dat die ensemble in die 1970’s en 1980’s nouliks hul gelyke gehad het. Onder hul prestasies tel opnames van Monteverdi se volledige madrigale in die 1990’s. Sien verder onder Rooley, Anthony.

Cook, Brian Rayner (1945-), Engelse bariton. Hy het in 1968 in die Glyndebourne-koor begin sing en in die jaar daarop in ‘n Londense konsert verskyn. In 1972 het hy by die Worcester-fees asook in België en Italië gesing. Sy debuut by die Londense Proms het in die jaar daarop plaasgevind en sy operadebuut in 1974. Hy is bekend in Britse koorwerke, veral dié van Elgar en Vaughan Williams. Onder Vernon Handley het hy in ‘n hoogstaande opname van Elgar se King Olaf gesing.

Coombs, Stephen (1960-), Engelse pianis. Hy het op 13 ‘n tweede prys in ‘n nasionale klavierkompetisie gewen, en twee jaar later is sy Londense debuut as solis gemaak. Sedertdien tree hy wyd deur Europa, die Verre Ooste en die VSA in konserte op, in spel gekenmerk deur virtuositeit sowel as sensitiwiteit. Daarby gee hy meesterklasse en is hy ‘n kampvegter vir minder werke. Sleutelopname: Milhaud se musiek vir 2 klaviere (met Artur Pizarro). Verdere opnames: Arenski se klavierkonsert en 4 Suites vir 2 klaviere; Bortkiewicz se klavierkonsert nr. 1; ‘n versameling van Debussy vir klavierduet en 2 klaviere (met Christopher Scott); Glazoenof se 2 klavierkonserte en sy volledige solowerke; Goedicke se Concertstück; Hahn en Massenet se klavierkonserte; Hahn en Vierne se klavierkwintette (met die Chilingarian Kwartet).

Cooper, Emil (1877-1960), Russies-gebore dirigent. Nadat hy in 1896 in Odessa gedebuteer het, was hy vanaf 1900 vir vier jaar aan die Kiëf Opera verbonde. In 1909 het hy in Moskou die première van Die Goue Haantjie gedirigeer en vyf jaar later ook die Londense première daarvan. Hy het in dié tyd ook die eerste opvoerings deur Russiese geselskappe van Wagner se Der Ring des Nibelungen en Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer. Verder het hy in 1908/9 in Parys operas vir die gevierde impresario Djagilef gedirigeer, onder andere Boris Godoenof met die legendariese bas Fiodor Sjaljapin in die titelrol. In 1913 het sy Londense debuut plaasgevind, en in 1921/2 het hy die Leningrad (tans Sint Petersburg) Filharmoniese Orkes gedirigeer. Hy het Rusland in 1922 verlaat, waarna hy musiekdirekteur was van die Riga Opera (1925-8), en dirigent by die Chicago Opera (1929-32) en die Metropolitan Opera (1944-50). By laasgenoemde het hy historiese opnames van die Franse operas Pelléas et Mélisande en Roméo et Juliette gemaak. Vanaf 1950 het hy by die Montreal Operagilde opgetree.

Cooper, Imogen (1949-), Engelse pianis. Sy het onder Kathleen Long in Londen en Jacques Février in Parys studeer, en in 1967 het sy ‘n Premier Prix gewen. Twee jaar later het ‘n Mozart-prys gevolg en in 1973 het sy by die Londense Proms gedebuteer. As solis tree sy met van die wêreld se voorste orkeste op, met ‘n Amerikaanse debuut wat in 1984 in Los Angeles gemaak is. Sy is veral bekend in die musiek van Mozart, wie se twee Dubbelkonserte sy met Alfred Brendel opgeneem het. Dit verbaas dus nie dat sy in die klankbaan van die 1984-rolprent Amadeus gespeel het nie. Haar opnames van Schubert se volledige klaviersonates vanaf 1986 tot 1989 word onder die beste weergawes daarvan gereken. Verder tree sy as klavierbegeleier vir die bariton Wolfgang Holzmair in sy liedere-opnames op. Sleutelopnames: Mozart se Sonates vir klavierduet K497 en K521 (met Anne Queffélec). Verdere opnames: Beethoven se klaviersonate nr. 28; Brahms se Fantasias, opus 116; Mozart se klaviersonate nr. 8; Ravel se Miroirs; Schumann se Abegg Variasies en Davidsbündlertänze; Schubert se 6 Moments musicaux, 16 Deutsche Tänze en 4 Impromptus, asook sy volledige werke vir vier hande (met Queffélec).

Cooper, Kenneth (1941-), Amerikaanse klawesimbelspeler en pianis. Hy het opnames met die beroemde tjellis Yo-Yo Ma as vennoot gemaak. Daarby het hy werke van Monteverdi en ander komponiste geredigeer.

Coote, Alice (1968-), Engelse mezzosopraan. Sy het aan die Guildhall Musiekskool, die Koninklike Noordelike Musiekkollege en die Nasionale Opera-ateljee studeer. Onder die pryse wat sy ingepalm het, tel die Brigitte Fassbänder en die Kathleen Ferrier. Sy tree wyd deur Europa en die VSA in opera en konserte op, met ‘n debuut by die Londense Proms in 2001. Met haar ferm, helder stem word sy deur sommige kenners in dieselfde asem as haar groot voorganger Janet Baker genoem. In haar liedere-voordragte word sy deur die vermaarde pianis Julius Drake begelei. Hulle het in 2003 by die Proms die eerste uitvoering van Judith Weir se siklus The Voice of Desire gegee, ‘n werk wat hul geskryf is. Opnames: Handel se kantate The Choice of Hercules (as Deug); Haydn se kantate Arianna a Naxos; 4 van Mahler se Des Knaben Wunderhorn liedere en 4 Rückert Lieder; Monteverdi se opera Orfeo (as die Boodskapper); Schumann se liedere-siklus Frauenliebe und Leben; en Verdi se opera Falstaff (in Engels).

Corboz, Michel (1934-), Switserse dirigent. Nadat hy sang en komposisie in Fribourg studeer het, het hy in 1953 direkteur van kerkmusiek in Lausanne geword. Agt jaar later het hy die Ensemble Vocal de Lausanne gevorm vir die uitvoering van Renaissance- en Barokmusiek. Hul internasionale deurbraak is in 1965/66 gemaak met hoogaangeskrewe opnames van Monteverdi se Vespro della beata Vergine en opera Orfeo. Sedert 1969 lei hy ook die Gulbenkian-Koor in Lissabon in uitvoerings van simfoniese werke. Met dié twee kore het hy al meer as honderd opnames gemaak, waarvan talle bekroon is. Dit sluit die bykans volledige gewyde werke van Vivaldi in die 1970’s in. Daarby gee hy sedert 1976 onderrig in koorleiding aan die Geneefse Konserwatorium. Hy het eretoekennings van die Franse en Portugese regerings ontvang, en in 1990 ook die Groot Prys van die Stad Lausanne. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur, Kersfeesoratorium en Magnificat; Carissimi se Mis in 8 en 3 kort oratoriums; Duruflé se Requiem en van sy motette; Goudimel se Missa le bien que j’ay; Mendelssohn se Psalms 98 en 114; Puccini se Messa di Gloria; A. Scarlatti se Missa ad usum Cappellae Pontificae en 6 van sy motette; en Schumann se Mis in C mineur en Requiem vir Mignon.

Corelli, Franco (1921-2003), Italiaanse tenoor. Hy het geleer sing deur na opnames te luister en in 1951 sy debuut in Spoleto gemaak, as Don José in Carmen. Drie jaar later het hy teenoor Maria Callas by La Scala gesing tydens die herlewing van Spontini se La Vestale. Daarna het hy wêreldwyd opgetree, met debute wat gemaak is by Covent Garden (1957), die Metropolitan Opera (1961), die Salzburg-fees (1962) en die Weense Staatsopera (1963). Sy debuut by die Met, wat vir ‘n lang tyd sy gunsteling-operahuis sou wees, is gemaak as Manrico in Il Trovatore teenoor Leontyne Price, wat terselfdertyd daar gedebuteer het. Met sy kragtige stem, briljantheid in die hoër note en aantreklike voorkoms was hy een van die grootste tenore nog in die heroïese rolle van Italiaanse opera. Soos sy groot voorganger Caruso kon hy die hoogste note sonder waarneembare inspanning sing. Naas die genoemde rolle het hy uitgeblink as Pollione in Norma, Canio in I Pagliacci, Turiddu in Cavalleria rusticana, Calaf in Turandot, Radames in Aida, Don Alvaro in La forza del destino, die Hertog in Rigoletto, Manrico in Il Trovatore, en die titelrolle in Andrea Chénier, Faust, Werther, Don Carlo en Otello.

Corelli het in operahuise wêreldwyd opgetree teenoor groot sangeresse soos Maria Callas, Birgit Nilsson, Renata Tebaldi en Joan Sutherland. Met Nilsson het hy dikwels by die Met in opvoerings van Turandot gesing, wanneer hulle gewedywer het om te sien wie die hoë noot aan die einde van die liefdesduet die langste kon volhou. In een geval toe sy hom geklop het, het hy haar uit jaloesie in die nek gebyt dat die blood loop. Platjie dat sy was, het sy daarop by die bestuurder van die Met aangedring om vir hondsdolheid getoets te word. Mettertyd het hy meer op konserte gekonsentreer, en in 1976 het hy uitgetree. Nietemin het hy in 2002 in Milaan op 80-jarige ouderdom as gas opgetree en ‘n staande toejuiging ontvang. Hy is enkele maande na ‘n beroerte-aanval in Milaan oorlede, op dieselfde dag as sy landgenoot Franco Bonisolli. Hy het in hoogstaande opnames van die genoemde operas van Bellini, Giordano, Gounod, Leoncavallo, Mascagni en Puccini opgetree, asook van Aida, La forza del destino en Il Trovatore. Daardeur het hy 'n blywende invloed op latere tenore uitgeoefen, sodat hy as rolmodel deur sulke gewilde hedendaagse sangers soos Andrea Bocelli en Luciano Pavarotti erken word.

Corena, Fernando (1916-84), Switsers-Italiaanse bas. Nadat hy in 1937 sy debuut in Milaan gemaak het, het hy met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Zürich teruggekeer en vir die oorlogsjare daar gebly. Sy na-oorlogse debuut het in 1947 in Trieste plaasgevind, as Varlaam in Boris Godoenof. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1954), die feeste in Salzburg en Edinburgh (beide in 1956), en by Covent Garden (1960). Hy was ‘n begaafde sanger in Italiaanse opera, onder meer as Rodolfo in La Sonnambula, die titelrol in Don Pasquale, Leporello in Don Giovanni, beide Alcindoro en Benoit in La Bohème, die Bonze in Madama Butterfly, Scarpia in Tosca, Basilio in Il barbiere di Siviglia en Ramfis in Aida. Opnames: die genoemde operas van Bellini, Donizetti, Mozart, Puccini, Rossini en Verdi; asook ‘n versameling arias wat in 1954/5 opgeneem is.

Corp, Ronald (1951-), Engelse dirigent en komponis. Hy het in 1988 voltyds begin dirigeer, toe hy die New London Orchestra gestig het. Hul is sedert 2001 die residensiële orkes van die Londense Universiteitskollege in Bloomsbury (UCL). Daarby is hy die stigter van die Nuwe Londense Kinderkoor, wat hy insgelyks dirigeer. Hulle het in die klankbaan van die rolprent Star Wars Episode I: The Phantom Menace gesing. Hy spesialiseer in die herlewing van verwaarloosde werke uit die laat negentiende en twintigste eeue, en in die bevordering van hedendaagse musiek. Onder sy eie komposisies tel ‘n aantal koorwerke, insluitend die Missa San Marco wat in 2003 in die Sint Markus-katedraal in Venesië uitgevoer is. Daarbenewens is hy 'n Anglikaanse priester en het hy ‘n boek oor koorsang geskryf. Opnames: Hahn se balletsuite Le Bal de Beatrice d’Este; Poulenc se Aubade en Sinfonietta; Sullivan se The Foresters geleentheidsmusiek, opera The Contrabandista en oratorium The Golden Legend; en ‘n versameling filmmusiek van Thomson.

 

Cortot, Alfred (1877-1962), Switsers-gebore pianis en dirigent. Hy het in Parys studeer, waar hy in 1896 sy debuut as pianis gemaak het. Vanaf 1898 was hy vir drie jaar ‘n assistent vir Hans Richter en Felix Mottl by die Bayreuth-fees. Daarna het hy hom in Frankryk gevestig en ‘n kampvegter vir Wagner geword, wie se Parsifal, Tristan und Isolde en Götterdämmerung hy in Parys gedirigeer het. Hy het ook die eerste Franse uitvoerings van Beethoven se Mis in D en Brahms se Ein deutshes Requiem gedirigeer. Vanaf 1905 het hy in ‘n beroemde trio met die violis Jacques Thibaud en die tjellis Pablo Casals gespeel, met wie hy later besondere opnames van klaviertrios deur Beethoven, Haydn, Mendelssohn, Schubert en Schumann sou maak. Verder was hy vanaf 1907 vir tien jaar ‘n hoogleraar in klavier aan die Parys Konserwatorium en in 1919 het hy ‘n musiekskool in Parys gestig. Hy het vanaf 1928 die Parys Simfonie-orkes gedirigeer. Sy debuut by die Salzburg-fees het vyf jaar later met Saint-Saëns se vierde klavierkonsert plaasgevind. In die tydperk tussen die twee wêreldoorloë het hy opnames van klaviermusiek oorheers, maar in 1944 is hy op aanklag van Nazi-samewerking deur die Franse owerhede gearresteer. Hy is egter spoedig weer vrygelaat. As solis was hy veral bekend vir sy elegante, poëtiese vertolkings van Chopin. Daarby het hy werke van Chopin, Schumann en Liszt geredigeer, en ‘n aantal boeke geskryf. Opnames: klavierkonserte van Chopin (nr. 2) en Schumann; talle solowerke van Chopin; Debussy se Préludes; Franck se Simfoniese Variasies; Ravel se klavierkonsert vir die linkerhand; Saint-Saëns se klavierkonsert nr. 4; en Schumann se Papillons.

Corydon Singers – sien Best, Matthew.

Cossotto, Fiorenza (1935-), Italiaanse mezzosopraan. Sy het haar debuut in 1957 by La Scala tydens die première van Les dialogues des Carmélites gemaak, en was daarna tot 1973 aan dié operahuis verbonde. Verdere debute is gemaak by die Wexford-fees (1958), Covent Garden (1959) en die Metropolitan Opera (1968). Sy was wêreldbekend in Italiaanse opera, veral dié van Verdi waarin sy as die voorste mezzo van haar tyd beskou is. Onder andere het sy uitgeblink as Teresa in La Sonnambula, die titelrol in La Favorita, Santuzza in Cavalleria rusticana, Cherubino in Le nozze di Figaro, Laura in La Gioconda, Suzuki in Madama Butterfly, Amneris in Aida, Ulrica in Un ballo in maschera, Eboli in Don Carlos, Preziosilla in La forza del destino, Dame Macbeth in Macbeth en Azucena in Il Trovatore. Sy was ook ‘n begaafde solis in Verdi se Requiem (waarin sy met haar Salzburg-feesdebuut in 1975 opgetree het) en liederesangeres. Opnames: Verdi se Requiem (onder Karajan); die genoemde operas van Bellini, Donizetti, Mascagni, Mozart, Ponchielli, Puccini en Verdi, asook Un giorno di regno.

Costa, Mary (1930-), Amerikaanse sopraan. Aanvanklik het sy in televisie-advertensies opgetree, maar in 1958 het haar deurbraak plaasgevind toe sy vir Elisabeth Schwarzkopf moes instaan by die Hollywood Bowl. Daarna het sy gesing by die Glyndebourne-fees, en by operahuise in San Francisco en Cincinatti. Haar debuut by die Metropolitan Opera het in 1964 plaasgevind en in 1978 het sy die Knoxville Operageselskap gestig. Sy het in in 'n hoogaangeskrewe opname van La Cenerentola onder Riccardo Chailly gesing.

Cotrubas, Ileana (1939-), Roemeense sopraan. Sy het in 1964 haar debuut by die Boekarest Opera gemaak, as Yniold in Pelléas et Mélisande. Daarna het debute gevolg by die Salzburg-fees (1967), die Weense Opera en die Glyndebourne-fees (beide in 1969), Covent Garden (1971) en die Metropolitan Opera (1977). Met haar soet stemtoon het sy uitgeblink in liriese operarolle soos Micaela in Carmen, Tytania in A Midsummer Night’s Dream, Norina in Don Pasquale, Adina in L'elisir d'amore, Ines in La Favorita, Nerina in La fedeltà premiata, Despina in Così fan tutte, Ismene in Mitridate, rè di Ponto, Antonia in Les Contes d’Hoffmann, Mimi in La Bohème, Lauretta in Gianni Schicchi, Tatjana in Jewgeni Onegin, Gilda in Rigoletto, Violetta in La Traviata, en die titelrolle in Louise, Suor Angelica en Alzira. Sy het uitgeblink in ‘n beeldopname van La Bohème by Covent Garden. Daarby was sy ‘n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde werke. In 1989 het sy uit opera getree. Opnames: Haydn se oratorium Die Jahreszeiten; Mahler se tweede en agste simfonieë (onder Mehta en Haitink onderskeidelik); Mozart se Litaniae Lauretanae, Mis nr. 16 en Requiem; die genoemde operas van Bizet, Britten, Charpentier, Donizetti, Haydn, Mozart, Offenbach, Puccini en Verdi, asook La Calisto, Rinaldo, Der Schauspieldirektor en Le sposo deluso.

Couraud, Marcel (1912-86), Franse dirigent. Hy het orrel en musiekteorie aan die Ecole Normale de Musique in Parys studeer, naas komposisie onder Nadia Boulanger en dirigeerkuns onder Charles Munch. In 1945 het hy die vokale ensemble wat na hom vernoem is, gestig. Hy sou hul tot 1954 dirigeer, waarna hy ‘n dirigent in Stuttgart was. In 1967 het hy artistieke direkteur van die ORTF kore in Parys geword. Hy het in 1976 die Groupe Vocal de France gestig en hulle vir die volgende twee jaar gedirigeer. Onder sy opnames tel ‘n voortreflike weergawe van Rossini se Guillaume Tell met die Badische Staatskapelle, die Karslruhe Oratorio-koor, en Franse en Duitse soliste.

Craft, Robert (1923-), Amerikaanse dirigent, musiekgeleerde en skrywer. Hy is bekend as ‘n kampvegter vir moderne komponiste van die Tweede Weense Skool en van Strawinski, met wie hy vanaf 1948 tot die komponis se dood in 1971 ten nouste bevriend was. Hy het met Strawinski in verskeie opnames van sy werke saamgewerk en het ook 'n aantal boeke oor hom geskryf. In 1979 het hy die Amerikaanse première van die volledige opera Lulu in Santa Fè gedirigeer. Opnames: Schoenberg se Gurrelieder en Kamersimfonie nr. 2; Strawinski se ballette Die Vuurvoël, Petroesjka, Le sacre du printemps en Les Noces, en sy opera Oedipus Rex.

Craig, Charles (1920-1997), Engelse tenoor. Sy konsertdebuut in 1952 onder Thomas Beecham is in die jaar daarop gevolg deur sy operadebuut met die Carl Rosa-geselskap, in La Bohème. Vanaf 1956 was hy vir drie jaar die eerste tenoor by Sadler’s Wells, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden (1960) en die Salzburg-fees (1970). In 1960 het hy by Sadler’s Wells uitgeblink as Pinkerton in ‘n Engelstalige opname van Madama Butterfly. Hy het bykans vyftig rolle by al die voorste operahuise gesing, maar was veral bekend in die titelrol van Otello en as Siegmund in Die Walküre.

Crass, Franz (1928-2012), Duitse bas-bariton. Hy het aan die Keulen Konserwatorium studeer en eerste pryse aan ‘n aantal Duitse musiekakademies verwerf. In 1954 het hy by die Stadsteater in Krefeld begin sing en twee jaar later by die Landestheater Hannover. Hy het in 1959/60 by die Bayreuth-fees opgetree, in Lohengrin en Der fliegende Holländer. Vanaf 1962 was hy vir twee jaar aan die Keulen Opera verbonde en vanaf 1964 was hy ‘n lid van die Hamburg Staatsopera. In 1960 was hy ‘n solis in Otto Klemperer se uitvoering van Beethoven se negende simfonie by die Weense Fees, met ‘n opname wat gemaak is. Hy het as begaafde operasanger in die Duitse repertorium wyd deur Europa gesing, insluitend by La Scala en Covent Garden. Onder sy bekende rolle tel Sarastro in Die Zauberflöte, Pogner in Die Meistersinger von Nürnberg, Gurnemanz in Parsifal en die Kluisenaar in Der Freischütz. Daarby was hy ‘n begaafde konsertsanger, veral in gewyde werke. Verdere opnames: Bach se Mis in B mineur en Sint Mattheüspassie; Brahms se Ein deutsches Requiem; Mahler se agste simfonie (onder Kubelik); Mozart se Requiem; die genoemde operas van Mozart en Weber, asook Die Meistersinger von Nürnberg.

Crespin, Régine (1927-2007), Franse sopraan. Nadat sy aanvanklik aptekerswese studeer het, is sy met ‘n beurs na die Parys Konserwatorium, waar sy ‘n aantal sangpryse sou verower. Sy het haar debuut in 1950 in Mulhouse as Elsa in Lohengrin gemaak en in die jaar daarop het sy by die Parys Opera begin sing. In die laat 1950’s het sy gedebuteer by die feeste in Bayreuth (1958, as Kundry in Parsifal) en Glyndebourne (1959, as die Marschallin in Der Rosenkavalier). Laasgenoemde sou een van haar beste rolle word, gekenmerk deur besondere grasie en warmte. Verdere debute sou volg by Covent Garden (1960, weer as die Marschallin), Chicago (1962, in die titelrol van Tosca), die Salzburg Paasmusiekfees (1967, onder Herbert von Karajan) en die Metropolitan Opera (1972). Sy is in die 1960’s internasionaal as die voorste Franse operasanger beskou. Met haar sensuele sang en aantreklike voorkoms het sy verder uitgeblink as Dido in Les Troyens, Dulcinée in Don Quixote, Madame Lidoine in Les dialogues des Carmélites, Sieglinde in Die Walküre, en die titelrolle in La Périchole en Salome. Vanaf 1971 het sy as mezzosopraan gesing, onder meer die titelrol in Carmen en Charlotte in Werther. Sy is in 1977 met kanker gediagnoseer, waarna haar optredes verminder het. Haar afskeidsoptrede is in 1989 in Parys as die Grafin in Pique Dame gegee. Daarna het sy op Franse liedere-voordragte gekonsentreer, waarin sy met haar volmaakte uitspraak uitmuntend was. Vir 15 jaar het sy ook aan die Parys Konserwatorium onderrig gegee, naas meesterklasse wat hoogs gewild was. Sy het in 1982 ‘n outobiografie gepubliseer. Onder die talle eerbewyse wat sy van haar land se regering ontvang het, tel ridder (1972), offisier (1982) en kommandeur (1994) in die Légion d’Honneur. Sleutelopnames: Berlioz se Les nuits d'été en Ravel se Shéhérazade (beide onder Ansermet). Verdere opnames: Berlioz se La damnation de Faust (as Marguerite); Poulenc se Stabat mater; liedere van Brahms, Debussy, Poulenc en Schubert; Offenbach se operettes La Périchole en La Vie parisienne; die genoemde operas van Massenet, R. Strauss en Wagner; en ‘n versameling Franse opera-arias.

Cross, Joan (1900-93), Engelse sopraan en opera-regisseur. Sy het in 1924 by die Old Vic operageselskap aangesluit en weldra in hoofrolle begin sing. Daarna was sy eerste sopraan by Sadler’s Wells (1931-46) en vanaf 1943 ook vir twee jaar direkteur van die operahuis. Intussen het sy in 1931 by Covent Garden as Mimi in La Bohème gedebuteer, en vanaf 1947 tot 1954 sou sy daar sing. In 1946 was sy ‘n stigterslid van die Engelse Operagroep, waar sy vir die volgende agt jaar sou optree. Met Anne Wood het sy ook in 1948 ‘n operaskool gestig wat later die Nasionale Operaskool sou word. Tot 1964 het sy as direkteur daarvan gedien. Sy het in Britse opera uitgeblink en verskeie nuwe rolle daarin geskep, onder andere in vyf operas van Britten, van wie sy 'n vriendin en medewerker was. Hulle was Ellen Orford in Peter Grimes (1945), die Vrouekoor in The Rape of Lucretia (1946), Lady Billows in Albert Herring (1947), Elizabeth I in Gloriana (1953) en Mrs Grose in TheTturn of the Screw (1954). Daarby was sy 'n opera-regisseur, met opvoerings in Londen, Oslo, Amsterdam en Toronto tot haar krediet. Later was sy direkteur van die Phoenix Opera. Met die regisseur Eric Crozier het sy Smetana se opera Die verruilde bruid in Engels vertaal. Die CBE is in 1951 aan haar toegeken. Sy het in hoogstaande opnames van Norma, Peter Grimes, The Rape of Lucretia en The Turn of the Screw gesing.

Crossley, Paul (1944-), Engelse pianis. Hy was ‘n student van die komponis Messiaen en sy vrou Yvonne Loriod in Parys. In 1968 het hy die Messiaen-klavierkompetisie in Royaun gewen, en in dieselfde jaar is sy debuut in Tours gemaak. Vanaf 1988 tot 1994 was hy mede-artistieke direkteur van die ‘London Sinfonietta’. As bekende in moderne musiek het Tippett sy derde en vierde klaviersonates vir hom geskryf. Hy het verder opgetree as vennoot van die groot violis Arthur Grumiaux in sonate-uitvoerings. Opnames: Berg se Kamerkonsert (met die violis György Pauk); Fauré se volledige werke vir klaviersolo; Janácek se Capriccio en Concertino; Lutoslafski se klavierkonsert; werke vir klavier en orkes van Messiaen en Strawinski; Takemitsu se Quotation of Dream (onder Knussen); Tippett se 4 klaviersonates; en solowerke van Poulenc en Ravel.

Crowson, Lamar (1926-1998), Amerikaans-gebore pianis. Hy het vanaf 1948 aan die Koninklike Musiekkollege in Londen studeer, met die komponis Arthur Benjamin as leermeester. Benjamin het hom gekies om die solis in opnames van sy klavierkonsert en klavier-concertino te wees. Hy was daarby ‘n wenner van die Koningin Elizabeth van België klavierprys. Sy fokus was egter op kamermusiek gerig, veral as jarelange lid van die beroemde Melos Ensemble. Met hulle sou hy in vele hoogstaande opnames optree. In 1965 is hy by die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Kaapstad as hoof van die klavierdepartement aangestel. Vier jaar later is hy terug na Londen as hoogleraar in klavier aan sy alma mater. Hy het in 1975 na Suid-Afrika teruggekeer, waar hy tot sy dood aan die Universiteit van Kaapstad verbonde sou wees. Onder sy leerlinge het later bekende pianiste soos Steven de Groote, Melanie Horne en Albie van Schalkwyk getel. ‘n Eredoktorsgraad is in 1996 deur die UK aan hom toegeken vir sy dienste aan musiek. Hy is in Kaapstad aan ‘n hartaanval oorlede.

Cuénod, Hugues (1902-2010), Switserse tenoor. Aanvanklik het hy aan die Geneefse Konserwatorium onderrig gegee, waarna hy ‘n konsertloopbaan begin volg het. In 1928 het sy operadebuut in Parys plaasgevind, tydens die Franse première van Krenek se Jonny spielt auf. Daarna het hy gesing in Genève (1930-3) en Parys (1934-7), en vanaf 1940 was hy vir ses jaar aan die Geneefse Konserwatorium as hoogleraar in sang verbonde. In 1951 het hy in Venesië die rol van Sellem tydens die première van Strawinski se opera The Rake's Progress geskep. Verdere debute is in 1954 by Covent Garden en die Glyndebourne-fees gemaak, as die Astroloog in Die Goue Haantjie en as Sellem onderskeidelik. By Glyndebourne sou hy meer as 470 keer sing en was hy veral bekend as Don Basilio in Le nozze di Figaro. Daar het hy opgetree in uitstekende opnames van dié opera onder Vittorio Gui en van La Calisto (in die rol van Linfea) onder Raymond Leppard. Hy kon besonder hoog sing, en was naas opera ook bekend in liedere en Middeleeuse musiek. As een van die twintigste eeu se mees blywende musici het hy tot in sy tagtigs nog opgetree, soos tydens Glyndebourne se 50ste herdenkingseisoen (1984), in sy debuut by die Metropolitan Opera (1987) en in Genève (1989). Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (onder Hermann Scherchen); en die operas Andrea Chénier (as Fleville), L’incoronazione di Poppea, L'Heure espagnole, L'Enfant et les sortilèges, Ariadne auf Naxos en Turandot (as die Keiser).

Cummings, Lawrence (1968-), Engelse orrelis en klawesimbelspeler. Hy aan Christ Church, Oxford studeer en in 1989 met lof gegradueer. Verdere studies het gevolg aan die Koninklike Musiekkollege, waar hy die Raymond Russell-prys gewen het. Hy tree wyd as solis op en as begeleier vir vooraanstaande vroeë musiek-ensembles soos die Gabrieli Consort, Orchestra of the Age of Enlightenment, Oxford Camerata en The Sixteen. In 2001 het hy met die briljante sopraan Emma Kirkby as solis die eerste opname van Handel se Gloria gedirigeer. Verdere opnames (as solis): koorwerke van Gibbons, Purcell en Tomkins (almal met die Oxford Camerata); en solowerke van Louis en Francois Couperin.

Curtin, Phyllis (1922-), Amerikaanse sopraan. Nadat sy haar debuut in 1946 met die Nieu-Engeland Opera as Lisa in Pique Dame gemaak het, het sy bekendheid in opera verwerf. In 1953 het sy by die New York Stadsopera aangesluit, waar sy twee jaar later die vroulike hoofrol in Walton se Troilus and Cressida tydens die plaaslike première gesing het. Verdere debute sou volg by die Glyndebourne-fees (1959), Wenen (1960) en die Metropolitan Opera (1961). Sy was in 1963 'n solis tydens die Amerikaanse première van Britten se War Requiem in Boston, onder die dirigeerstaf van Erich Leinsdorf. Voorts het sy as solis uitgeblink in opnames van Beethoven se negende simfonie (onder Fritz Reiner) en Sibelius se Luonnotar (onder Leonard Bernstein). In 1984 het sy uit opera getree. Sy het onderrig gegee in Aspen, by Tanglewood, en aan die Kunsteskool van Boston Universiteit, waarvan sy mettertyd dekaan sou word. Opnames: Britten se War Requiem (op DVD).

Curtis, Alan (1934-), Amerikaanse musiekgeleerde, klawesimbelspeler en dirigent. Sedert 1960 is hy verbonde aan die Universiteit van Kalifornië in Berkeley, waar hy tien jaar later ‘n hoogleraar geword het. Hy is ‘n gesaghebbende oor die minder bekende dog invloedryke Barok-komponis Sweelinck, en in die uitvoering van vroeë musiek volgens eietydse praktyke. Sedert die vroeë 1980’s dirigeer hy Barok-operas deur Gluck, Handel, Rameau en andere, waarvan sommiges deur homself geredigeer is. Hy het die ensemble Il Complesso Barocco in ‘n rolprent oor die komponis Gesualdo gedirigeer. Sleutelopname: C.P.E. Bach se Dubbelkonsert in F vir 2 klawesimbels (met Leonhardt, onder Maier). Verdere opnames (as dirigent): Handel se operas Admeto, Arminio, Rodelinda en Rodrigo; die volledige kamerduette van Monteverdi; Stradella se oratorium La Susanna; Vivaldi se opera Il Giustino; (as klawesimbelspeler) J.S. Bach se Franse suites en Engelse suites; en W.F. Bach se Konsert vir 2 klawesimbels (met Uittenbosch).

Cura, José (1962-), Argentynse tenoor. Hy het komposisie en dirigeerkuns aan die Nasionale Universiteit van Rosario en die Kunsteskool van die Teatro Colón in Buenos Aires studeer. In 1991 het hy na Europa verhuis, waar hy aanvanklik in Verona gewoon het. Mettertyd sou hy hom in Madrid vestig. Sy deurbraak is in 1993 gemaak, toe hy as Jan in Bibalo se Miss Julie in Trieste gesing het. In die jaar daarop het hy die Placido Domingo internasionale sangkompetisie gewen. Sy Londense debuut is in 1995 in Stiffelio gemaak, en in dieselfde jaar het hy in Nabucco by die Parys Opera ter opening van die seisoen gesing. Met sy kragtige stem en akteursvermoëns blink hy uit in rolle soos Simson in Samson et Dalila, Gregor in Vec Makropulos, Canio in I Pagliacci, Des Grieux in Manon Lescaut, Manrico in Il Trovatore en die titelrol in Otello. In 2002 het hy by Covent Garden stewig vertoon in ‘n DVD-opname van Il Trovatore onder Carlo Rizzi. Hy dirigeer ook, onder meer as hoofgasdirigent van die Sinfonia Varsova in Warskou. Met hulle het hy ‘n voortreflike opname van Rachmaninof se tweede simfonie gemaak. Sleutelopname: die opera I Pagliacci (onder Chailly).

Curzon, Clifford (1907-82), Engelse pianis. Hy was ‘n student van groot musici soos Schnabel, Landowska en Boulanger, en het as sestienjarige sy Londense debuut gemaak in ‘n uitvoering van Bach se Driedubbele Konsert by die Proms onder Henry Wood. In 1931 het hy met die Amerikaanse klawesimbelspeler Lucille Wallace getrou, en nege jaar later is sy Amerikaanse debuut in New York gemaak. Sy debuut by die Salzburg-fees het in 1955 gevolg. Hy was wêreldbekend vir sy poëtiese vertolkings van veral Beethoven, Mozart en Schubert. Voorts het hy in klavierduette met die komponis Britten gespeel. In 1958 is die CBE aan hom toegeken en in 1977 is hy tot ridder geslaan. Sy beskeidenheid en selfontkenning was legendaries. Sleutelopnames: Beethoven se klavierkonserte nrs. 4 en 5 (onder Hans Knappertsbusch); Brahms se klavierkwintet (met die Amadeus Kwartet, 1974); Franck se Simfoniese Variasies (onder Boult, 1959); die Scherzo uit Litolff se Concerto symphonique nr. 4 (onder Boult, 1958); Mozart se klavierkonserte nrs. 20, 23, 24, 26 en 27 (onder Britten en Kertész, 1967-70), en sy 2 klavierkwartette (met lede van die Amadeus Kwartet); Schumann se Fantasia in C en Kinderszenen. Verdere opnames: klavierkonserte van Brahms en Grieg; Mozart se Dubbele klavierkonsert (met Barenboim); klavierkwintette van Dvorák en Schumann, en Brahms se klavierkwartet nr. 2 (almal met die Boedapest Kwartet); Dvorák en Franck se klavierkwintette, en Schubert se Forelle-kwintet (almal met die Weense Filharmoniese Kwartet); Falla se Nagte in die Tuine van Spanje; en solowerke van Brahms, Liszt en Schubert.

Czerwenka, Oskar (1924-), Oostenrykse bas. Sy operadebuut is in 1947 in Graz gemaak, as die Kluisenaar in Der Freischütz. Vanaf 1951 was hy vir langer as 30 jaar ‘n lid van die Weense Staatsopera, waar hy rolle soos Osmin in Die Entführung aus dem Serail en Baron Ochs in Der Rosenkavalier gesing het. Hy het debute gemaak by die Metropolitan Opera (1960), en die feeste in Salzburg (1953) en Glyndebourne (1959). Sy repertorium het oor meer as 70 rolle gestrek. By die Salzburg-fees van 1954 het hy in Wilhelm Furtwangler se gevierde opname van Der Freischütz die rol van Kuno gesing. Twee jaar later het hy uitgeblink in ‘n opname van Die barbier van Baghdad onder Erich Leinsdorf.

Cziffra, György (1921-94), Hongaars-gebore pianis. Hy het op vyfjarige leeftyd sy openbare debuut gemaak en was vanaf 1933 tot 1941 ‘n bekende solis in Europa. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy ‘n krygsgevangene, en asof dit nie genoeg was nie is hy vanaf 1950 vir drie jaar deur die kommunistiese owerhede weens sy politieke oortuigings opgesluit. Dit het dwangarbeid as straf vir ‘n mislukte ontsnappoging ingesluit. In 1955 het hy die eerste nie-komponis geword om die Liszt-prys te wen, maar in die jaar daarop het hy Hongarye tydens die Sowjet-inval verlaat en hom in Frankryk gevestig. Hy was een van die twintigste eeu se grootste klaviervirtuose, met beide flambojansie en fyn musikale aanvoeling in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Dit geld veral in die musiek van Liszt waarin hy deur kenners as onoortreflik beskou word. In 1968 het hy die Concours International de Piano in Versailles vir jong pianiste gestig. Opnames: Chopin se eerste klavierkonsert, die een van Grieg en die twee van Liszt; Gershwin se Rhapsody in Blue; Liszt se klaviersonate, 12 Etudes d’execution transcendante, 19 Hongaarse Rapsodieë, 2 Legendes en ander solowerke; en talle solowerke van Bach/Busoni, Beethoven, Chopin, F. Couperin, Liszt, Lully, Mozart, Rameau, Ravel, D. Scarlatti en Schumann.

D

Dalberto, Michel (1955-), Franse pianis. Hy het in 1975 die eerste Mozart-kompetisie in Salzburg gewen en drie jaar later ook die internasionale Leeds-kompetisie. In 1993 het hy onder Eliahu Inbal in die eerste opname van Schumann se Inleiding en allegro (opus 134) gespeel. Verdere opnames: Schumann se klavierkonsert.

Dal Monte, Toti (1893-1975), Italiaanse sopraan. Sy het in 1916 in Milaan gedebuteer as Biancafiore in Zandonai se Francesca da Rimini. Ses jaar later het sy die rol van Gilda in Rigoletto onder Toscanini in Milaan gesing. Benewens haar bekendheid by operahuise in Italië het sy opgetree in Chicago (1924-8), by die Metropolitan Opera (1924-5) en Covent Garden (1925). In 1949 het sy haar afskeidsoptrede in Verona gegee, waarna sy ‘n leermeester geword het.

Damrosch, Walter (1862-1950), Duits-gebore dirigent en komponis. As kind het hy in 1871 met sy ouers en broer na die VSA geëmigreer. Hy het sy vader Leopold Damrosch opgevolg as dirigent van die New York Oratoriumvereniging (1885-98) en as assistent-dirigent by die Metropolitan Opera (1885-1891). In 1886 het hy die eerste konsertuitvoering van Parsifal in die VSA gedirigeer. Vanaf 1894 het hy sy eie operageselskap gelei, met wie hy deur die VSA getoer en hoofsaaklik Wagner-operas opgevoer het. Dit is in 1899 ontbind, waarop hy vanaf 1900 vir drie jaar weer aan die Met verbonde was. Hy het in 1903 die New York Simfonie-vereniging as ‘n permanente orkes georganiseer, en sou die hoofdirigent wees tot hul samesmelting met die stad se filharmoniese orkes in 1928. In hul laaste jaar saam is ‘n historiese opname van Brahms se tweede simfonie gemaak. Hulle het intussen in 1924 die Amerikaanse  première van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling volgens Leonardi se orkestrasie gegee. Met die beroemde Nadia Boulanger as solis het hul in 1925 die eerste uitvoering van Copland se Simfonie vir Orrel gegee, waarvan die dissonansie hom laat opmerk het dat indien Copland op 23 so ‘n werk kon skryf, hy binne 5 jaar gereed sal wees om moord te pleeg. As kampvegter vir Wagner het hy die Amerikaanse premières van Die Meistersinger von Nürnberg, Tristan und Isolde, Das Rheingold, Siegfried en Götterdämmerung gedirigeer. Verder het hy die eerste Amerikaanse uitvoerings van Brahms se simfonieë nrs. 3 en 4, Bruckner se derde simfonie en Mahler se vierde simfonie gedirigeer. Hy was ook ‘n pionier van konsertuitsendings oor die radio in die VSA. Sy komposisies sluit koorwerke en vier operas in, en hy het ook ‘n indrukwekkende orkesverwerking van Bach se koorwerk Ein feste Burg gemaak. Sy ouer broer Frank Damrosch (1859-1937) was ‘n koordirigent en stigter van ‘n aantal koorverenigings in New York. Hy het in 1905 die Instituut vir Musikale Kuns in New York gestig en was die direkteur daarvan tot hul samesmelting met die Juilliard Musiekskool in 1926.

Danco, Suzanne (1911-2000), Belgiese sopraan en mezzosopraan. Ná studies aan die Brussels Konserwatorium het sy in 1936 die Weense sangkompetisie gewen. Verdere studies het in Praag gevolg, waarop sy na Italië is. Daar het haar konsertdebuut in 1940 plaasgevind, en in die jaar daarop het haar operadebuut in Genoa gevolg, as Fiordiligi in Così fan tutte. Sy sou ‘n gewilde sangeres by La Scala word, waar sy in die huispremières van Peter Grimes (in 1947, as Ellen Orford) en Oedipus Rex (in 1948, as Jocasta) gesing het. Verdere debute is gemaak by die Edinburgh-fees (1948) en Covent Garden (1951). In 1951 het sy as solis gesing in Enescu se gevierde opname van Bach se Mis in B mineur. Met haar suiwer, byna anderwêreldse stem was sy uitmuntend in rolle soos Marie in Wozzeck, Marguerite in La Damnation de Faust, Mélisande in Pelléas et Mélisande, Euridice in Orfeo ed Euridice, beide Donna Anna en Donna Elvira in Don Giovanni, en die Grafin in Le nozze di Figaro. Ook in Franse konsertwerke, veral dié van Berlioz, Debussy en Ravel, was sy onoortreflik. Daarby was sy met haar duidelike uitspraak en elegante frasering ‘n begaafde vertolker van Franse, Duitse en Italiaanse liedere. Só het sy uitgeblink in ‘n 1956-opname van ‘n versameling liedere (Album de musique) wat in die 1830's deur Rossini saamgestel is, met die dirigent Francesco Molinari-Pradelli as klavierbegeleier. Later in haar loopbaan het sy onderrig aan die Siena Musiekakademie gegee. Verdere opnames: Ravel se Shéhérazade; die genoemde operas van Berlioz, Debussy en Gluck, die twee operas van Ravel, asook Don Giovanni en Le nozze di Figaro.

Daniel, Paul (1958-), Engelse dirigent. Nadat hy in 1982 sy debuut met ‘n opvoering van The Beggar’s Opera gemaak het, was hy tot 1985 aan die Engelse Nasionale Opera verbonde. Vervolgens was hy musiekdirekteur van die ‘Opera Factory’ (1987-90), en vanaf 1990 het hy vir sewe jaar dieselfde pos by Opera Noord en die Engelse Noordelike Philharmonia beklee. Sy Amerikaanse debuut is in 1988 gemaak en in 1993 het hy by Covent Garden gedebuteer. Sedert 1997 is hy musiekdirekteur van die Engelse Nasionale Opera. Hy het verskeie Britse premières van moderne operas gedirigeer, onder andere Glass se Akhnaten in 1985. Sleutelopnames: Elgar se derde simfonie, soos deur Anthony Payne voltooi (Bournemouth); uittreksels uit Moessorgski se opera Boris Godoenof (Manchester, in Engels); Walton se tweede simfonie, Johannesburg Feesouverture en Hindemith Variasies (Manchester). Verdere opnames: Berg se opera Wozzeck (in Engels); Bernstein se opera Trouble in Tahiti (DVD); Mendelssohn se oratorium Elijah; Vaughan Williams se vierde simfonie en Flos Campi; Verdi se opera Falstaff (in Engels); en Walton se eerste simfonie.

Daniels, David (?-), Amerikaanse kontratenoor. Beide ouers was leermeesters in sang, en hy het aanvanklik as tenor aan die Cincinatti Musiekkollege studeer. Tydens nagraadse studies aan die Universiteit van Michigan het hy na kontratenoor oorgeslaan. Met sy ryk toonkleur en verbeeldingryke sang word hy beskou as een van die voorste sangers in sy stemtipe ter wêreld, in opera, konserte en liedere. Onder sy beste operarolle tel die titelrolle in Giulio Cesare en Rinaldo, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Bertarido in Rodalinda, en Nerone en Ottone in L’incoronazione di Poppeia. In 1997 is die Richard Tucker-prys aan hom toegeken. Sleutelopnames: Handel se opera Rinaldo (onder Christopher Hogwood); Vivaldi se Longe mala, Nisi Dominus en Stabat Mater (onder Fabio Bondi). Verdere opnames: die operas Rinaldo (onder Harry Bicket, DVD); 2 versameling Handel-arias, een uit sy oratoriums (onder Nelson) en een uit sy operas (onder Norrington); ‘n versameling arias van Gluck, Handel en Mozart (onder Bicket).

Dart, Thurston (1921-71), Engelse klawesimbelspeler, orrelis, dirigent en musiekgeleerde. Hy het in België studeer en daarna onderrig gegee aan universiteite in Cambridge (1947-64) en Londen (vanaf 1964), vanaf 1962 as hoogleraar. As klawesimbelsolis het hy wyd getoer en in ‘n omstrede opname van Bach se Brandenburgkonserte gespeel. Vanaf 1948 het hy ook in die Boyd Neel Orkes gespeel, en vanaf 1955 was hy vir vier jaar artistieke direkteur van die Philomusica in die Britse hoofstad. In 1954 het hy ‘n boek oor die vertolking van musiek gepubliseer, benewens talle artikels wat uit sy pen verskyn het. Hy was ‘n gesaghebbende oor die musiek van Bach en die klawerbordmusiek van die sestiende tot agtiende eeue. Met die groot sopraan Elisabeth Schwarzkopf as solis het hy die Philharmonia Orkes in die laat 1950’s in hoogstaande opnames van Bach se Kantates nrs. 199 en 202 sowel as arias uit Kantates nrs. 68 en 208 gedirigeer. Voorts het hy in 1962 die klawesimbel bespeel in Anthony Lewis se gevierde opname van Purcell se opera Dido and Aeneas. Die Spaanse komponis Roberto Gerhard het sy klawesimbelkonsert vir hom geskryf.

Dausgaard, Thomas (1963-), Deense dirigent. Hy is sedert 1997 hoofdirigent van die Sweedse Kamerorkes, met wie hy ‘n hele aantal oorsese toere onderneem het, insluitend ‘n Japannese toer in 2005. Hulle het die volledige simfonieë en ander orkesmusiek van Beethoven en Schumann in lewenskragtige dog stylvolle vertolkings opgeneem. Vanaf 2001 is hy aan die Deense Nasionale Simfonie-orkes verbonde, eers as hoofgasdirigent (tot 2004), daarna as hoofdirigent (tot 2011), en sedertdien as ere-dirigent. Met hulle toer hy ook internasionaal, met konserte wat onder meer in Beijing en Seoel gegee is. Hy verskyn verder dikwels as gasdirigent met die Leipzig Gewandhaus Orkes in Duitsland en die Toronto Simfonie-orkes in Kanada. Hy is 'n kampvegter vir die musiek van sy landgenoot Per Norgard en ander Skandinawiese komponiste. Daarby is hy hoogs begaafd in die Duitse Romantiese tradisie. Verdere opnames: Beethoven se Egmont-musiek (met Henriette Bonde-Hansen); Berwald se 4 simfonieë; Liszt se Faust Simfonie (met Christian Elsner); 'n versameling ouvertures van Nielsen; Norgard se simfonie nr. 3, 6, 7 en Terrains vagues; Sinding se simfonieë nrs. 1 en 2; Svendsen se 2 simfonieë; Wirén se simfonieë nrs. 3 en 3, en 2 Konsertouvertures.

Davan Wetton, Hilary (1943-), Engelse dirigent. Hy het aan die Universiteit van Oxford en onder die beroemde dirigent Adrian Boult aan die Koninklike Musiekkollege in Londen studeer, waar hy die Ricordi-dirigeerprys gewen het. Sedert 1979 is hy musiekdirekteur van die Sint Paulus-meisieskool in Hammersmith, waar die komponiste Holst, Vaughan Williams en Howells sy voorgangers was. Daarby is hy hoofdirigent van die Milton Keynes-stadsorkes (sedert 1975), en musiekdirekteur van beide die Guildford Koorvereniging en die Londense Stadskoor. Hy was ook dirigent van die Holst Singers (1978-90), wat deur hom gestig is, en die Wren Orchestra in Londen (1989-96). Sy bekendheid lê merendeels in koorwerke van moderne Britse komponiste. Hy het ‘n verdere voorliefde om met jeugorkeste te werk, soos die Skotse Skole-orkes (1984-95) en die Edinburgh Jeugorkes (1994-7), met wie hy in 1996 ‘n Skandinawiese toer onderneem het. As gasdirigent verskyn hy met orkeste en kore elders in Europa, die VSA, Australië en Singapoer. ‘n Eredoktorsgraad is deur die Universiteit van Montfort aan hom toegeken. Opnames: Bliss se Lie strewn the white flocks; Holst se A Choral Fantasia, Choral Symphony, Choral Hymns from the Rig Veda, Evening Watch, Six Choruses, 7 Partsongs en 2 Psalms; Parry se oratorium Job; Vaughan Williams se 5 Mystical Songs en 5 Tudor Portraits.

Davies, Arthur (1941-), Walliese tenoor. Voordat hy professioneel begin sing het, was hy 'n fabriekstekenaar. In 1972 het sy solodebuut as Squeak in Billy Budd by die Walliese Nasionale Opera plaasgevind. Daarna het hy opgetree by Covent Garden (vanaf 1976), die Engelse Nasionale Opera, Opera Noord, en by verskeie operahuise in Europa en die VSA. Onder sy beste rolle tel Don José in Carmen, Romeo in A Village Romeo and Juliet, die Vos in Die geslepe klein wyfievos, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly en Troilus in Troilus and Cressida. Hy is ook 'n begaafde sanger in gewyde werke, veral dié van Britse komponiste. Daaronder tel die titelrol in Elgar se The Dream of Gerontius, wat hy in ‘n hoogstaande opname onder Richard Hickox gesing het. Verdere opnames: Elgar se koorwerke Caractacus, The Kingdom en The Light of Life, Mendelssohn se Elijah, Mozart se Requiem, Rossini se Stabat Mater, Vaughan Williams se Serenade to Music en Walton se Christopher Columbus; en die genoemde operas van Delius (onder Mackerras) en Walton (onder Hickox).

Davies, Fanny (1861-1934), Engelse pianis. Ná haar Londense debuut in 1885 met ‘n klavierkonsert van Beethoven het sy bekendheid as solis en in kamermusiek verwerf. Onder haar vennote het groot musici soos Casals, Joachim en Piatti getel. In Duitsland is sy hoog geag as vertolker van Brahms en Schumann, en in dié land het sy as klavierbegeleier vir die tenoor Gervase Elwes in sy liedere-voordragte opgetree. Sy was die eerste pianis om Debussy se Préludes in Brittanje te speel. Haar landgenoot Elgar het sy Concert Allegro (1901) vir haar geskryf. Tydens die komponis Janácek se 1926-besoek aan Londen het sy in ‘n uitvoering van sy kamerwerke gespeel.

Davies, Meredith (1922-2005), Engelse orrelis en dirigent. Hy het as kind aan die Koninklike Musiekkollege studeer, en in 1941 het hy ‘n beurs verwerf vir orrelstudies aan die Universiteit van Oxford. Dit is onderbreek deur deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Daarna was hy dirigent van die Londense Bach-koor (1947), orrelis en koormeester van die Sint Albanskatedraal (1947-9), orrelis van die Hereford Katedraal (1949-56) en van New College, Oxford (1956-60), mededirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1957-60), musiekdirekteur van die Engelse Operagroep (1963-5), dirigent van die Vancouver Simfonie-orkes (1964-71) en die BBC Opleidingsorkes (1969-72), en musiekdirekteur van die Koninklike Koorvereniging (1972-85) en die Leeds Filharmoniese Vereniging (1975-84). As gasdirigent het hy by Covent Garden en ‘n aantal musiekfeeste verskyn. Hy het in 1960 en 1961 operas van Britten by die Aldeburgh-fees gedirigeer, op uitnodiging van die komponis. In 1962 was hy ‘n mededirigent tydens die première van Britten se War Requiem in die herboude Coventry-katedraal. Hy het in 1974 in Londen met die Nuwe Philharmonia Orkes en die John Alldis-koor ‘n pioniersopname van Vaughan Williams se opera Sir John in Love gemaak. Vanaf 1979 tot 1988 was hy hoof van die Trinity Musiekkollege in Londen. Die CBE is in 1982 aan hom toegeken. Verdere opnames: die operas A Village Romeo and Juliet en Riders to the Sea.

Davies, Ryland (1943-), Walliese tenoor. Hy het die Ricordi-operaprys gewen en daarna in die Glyndebourne-koor gesing. In 1964 is sy debuut met die Walliese Nasionale Opera gemaak, as Almaviva in Il barbiere di Siviglia. Hy het in die jaar daarop die John Christie-beurs gewen. In dieselfde jaar (1965) het hy by die Glyndebourne-fees begin optree, waar hy vir die volgende 25 jaar gereeld sou sing. Verdere debute het plaasgevind by die Skotse Opera (1966), Covent Garden (1969), die Salzburg-fees en San Francisco (beide in 1970), en die Metropolitan Opera (1975). Sy bekendheid lê merendeels in ligter rolle soos Paolino in Il matrimonio segreto, Arturo in Lucia di Lammermoor, Tichon in Káta Kabanová, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, beide Idamante en Arbace in Idomeneo, en die Graaf van Lerma in Don Carlos. Daarby het hy aan die Koninklike Noordelike Musiekkollege onderrig gegee. Sleutelopname: Handel se oratorium Judas Maccabeus (onder Mackerras). Verdere opnames: Mozart se Misse nrs. 16 en 18 en sy Requiem; Strawinski se ballet Pulcinella; die genoemde operas van Cimarosa, Donizetti, Janácek, Mozart en Verdi, asook A Midsummer Night’s Dream en Thérèse.

Davis, Andrew (1944-), Engelse dirigent, pianis en orrelis. Hy was vanaf 1966 vir vier jaar ‘n pianis/orrelis/klawesimbelspeler met die Academy of St Martin-in-the-Fields. Vervolgens was hy mededirigent van die BBC Skotse Simfonie-orkes (1970-2), die Nuwe Philharmonia Orkes (1974) en die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1974-6), en hoofdirigent van die Toronto Simfonie-orkes (1975-88). Vanaf 1989 was hy musiekdirekteur van die Glyndebourne Opera, waar hy in 1973 met ‘n opvoering van Capriccio gedebuteer het. Hy het die Britse premières van Tippett se The Mask of Time (Londen, 1986) en New Year (Glyndebourne, 1990) gedirigeer, asook die wêreldpremière van Elgar se derde simfonie soos deur Anthony Payne voltooi. By Glyndebourne het hy uitstekende opvoerings van Káta Kabanová (1988), Jenufa (1989), La clemenza di Tito (1991), Pique Dame (1992), Die Makropoulos-saak (1995), Lulu (1996) en Le Comte Ory (1997) gedirigeer, met DVD-opnames wat telkens gemaak is. Hy was daarby vanaf 1989 tot 2000 hoofdirigent van die BBC Simfonie-orkes, wat hy op toere na die VSA en Hong Kong gelei het. Hulle het dikwels by die Laaste Nag van die Proms opgetree, waar hy besonder gewild was weens sy humoristiese toesprake vanaf die podium. Hy het die orkes in 1997 in ‘n hoogstaande opname van Elgar se The Dream of Gerontius by die Sint Pauluskatedraal in Londen gedirigeer.

Vanaf 1995 was Davis vir drie jaar mede-hoofgasdirigent van die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes, wat hy in 1996 tydens die Nobelprys-seremonie in die Sweedse hoofstad sou lei. In 1991 is die CBE aan hom toegeken en sewe jaar later is hy tot ridder geslaan. Hy het in 2001 musiekdirekteur van die Chicago Liriese Opera geword. Sleutelopnames: Elgar se Enigma Variasies, Cockaigne ouverture en Strykerserenade (BBC); Janácek se operas Jenufa, Káta Kabanová en Die Makropoulos-saak (almal Glyndebourne, DVD); Stenhammar se Serenade vir Orkes (Stockholm); Tippett se Corelli Fantasia en Konsert vir dubbele strykorkes (BBC); Vaughan Williams se sesde simfonie, Tallis Fantasia en The Lark Ascending (BBC). Verdere opnames: simfonieë van Borodin (al drie), Elgar (nr. 2), Hoddinott (nr. 5), Vaughan Williams (nr. 9) en Wood; Birwistle se opera The Mask of Orpheus; orkeswerke van Britten en Janácek; Grieg se Holberg Suite en 2 Peer Gynt Suites; orkesuittreksels uit enkele operas van Richard Strauss; ‘n versameling musiek vir Nobelprys-seremonies; (as solis:) klawesimbelkonserte van Bach, en in Handel se Dixit Dominus.

Davis, Colin (1927-2013), Engelse dirigent. Nadat hy aanvanklik as klarinettis opgelei is, het hy aan die Koninklike Musiekkollege studeer. Hy is nie tot die dirigeerkuns toegelaat nie omdat hy nie klavier kon speel nie. In 1948 het hy in die pasgestigde Kalmar Orkes begin speel en in die jaar daarop het hy hul dirigent geword. Uit dié ensemble is die Chelsea Operagroep in 1950 gestig, waarvan hy die hoofdirigent was. Met hulle is sy professionele dirigeerdebuut met Der Schauspieldirektor en Don Giovanni gemaak. Dit was die begin van sy passie vir die musiek van Mozart, wat sy gunsteling-komponis sou word. Gedurende die 1950’s het hy as klarinettis by Glyndebourne en elders gespeel. Vanaf 1957 was hy vir twee jaar mededirigent van die BBC Skotse Simfonie-orkes, terwyl hy steeds aan die Chelsea Operagroep verbonde was. In 1959 het sy deurbraak plaasgevind toe hy in die plek van ‘n ongestelde Otto Klemperer ‘n opvoering van Don Giovanni in Londen moes dirigeer, met die beroemde soprane Elisabeth Schwarzkopf en Joan Sutherland as soliste. Sy dirigeerdebuut by Glyndebourne is in die jaar daarop met Die Zauberflöte gemaak. Vanaf 1961 was hy vir vier jaar musiekdirekteur by Sadler’s Wells, waar hy reeds in 1958 gedebuteer het. Daar het hy die Britse premières van Die geslepe klein wyfievos (1961) en Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny (1963) gedirigeer, asook die première van The Mines of Sulphur (1965).

Intussen het Davis vanaf 1960 ballet by Covent Garden gedirigeer en vyf jaar later is sy operadebuut daar gemaak. In 1965 is die CBE aan hom toegeken en twee jaar later is sy debuut by die Metropolitan Opera gemaak. Hy was vanaf 1967 vir vier jaar hoofdirigent van die BBC Simfonie-orkes. In 1971 is hy deur beide die Boston Simfonie-orkes en Covent Garden uitgenooi om hul musiekdirekteur te word. Hy het Covent Garden gekies, waar hy tot 1986 aan die spits sou wees. Daar het hy die premières van sy komponis-vriend Tippett se operas The Knot Garden (1970) en The Ice Break (1977) gedirigeer. By Covent Garden het hy ook vir die eerste keer Wagner se Tristan und Isolde en die Ring-siklus met hoë lof gedirigeer, en in 1981 die Britse première van die volledige Lulu. Intussen het hy in 1976 by die Salzburg-fees gedebuteer. Hy het in 1977 die eerste Brit geword om by die Bayreuth-fees te dirigeer, met ‘n opvoering van Tannhäuser. In 1978 is dit herhaal, waartydens die eerste beeldopname van Tannhäuser by Bayreuth gemaak is. Hy is in 1980 tot ridder geslaan en vier jaar later is die Hamburg Shakespeare-prys aan hom toegeken. Verder was hy hoofdirigent van die Beierse Radio Simfonie-orkes (1983-92) en die Londense Simfonie-orkes (1995-2007). As gasdirigent tree hy gereeld met bekende orkeste in Londen, Boston en Amsterdam op. Met die Dresden Staatskapelle het hy in die vroeë 1990’s hoogstaande opnames van Beethoven se volledige simfonieë gemaak.

Met sy intense dog buigsame dirigeerstyl en getrouheid aan die partituur was Davis vir etlike dekades een van die wêreld se voorste vertolkers van Berlioz, Mozart, Sibelius en Tippett. Veral in die musiek van Berlioz was hy onoortreflik - hy het in 2003 ‘n reeks konserte met die LSO gegee om die tweehonderdjarige herdenking van Berlioz se geboorte te vier. Sy repertorium het egter veel wyer getrek, vanaf Haydn tot by Strawinski. Op die persoonlike vlak was hy sedert ‘n jeugdige leeftyd besonder lief vir letterkunde en het hy self al gedigte geskryf. Nog ‘n groot liefde was om bome te plant. Sleutelopnames: Berlioz se volledige ouvertures, asook Roméo et Juliette (Wenen 1993), en operas La Damnation de Faust (Londen 2000) en Les Troyens (Londen); Mozart se Ave verum corpus en Vesperae solennes (Londen); Sibelius se volledige simfonieë, asook The Bard, Night Ride and Sunset, The Oceanides en Tapiola (Londen 1992-2000); Strawinski se opera Oedipus Rex (Londen 1960).

Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, Schubert en Sibelius (lg. met die Boston Simfonie-orkes, 1970’s), en ‘n hele aantal van Bruckner (nrs. 6 en 9), Dvorák (nrs. 6-9), Haydn (nrs. 93-104), Mozart (nrs. 35, 38-41) en Tippett; orkeswerke van Hindemith, Reger en Strawinski; Beethoven se Missa solemnis en Mis in C; Berlioz se Symphonie fantastique, La damnation de Faust, L'enfance du Christ, Requiem en Roméo et Juliette; Handel se Messiah; Haydn se The Seasons (in Engels); Mozart se Ave verum corpus, Requiem en Misse nrs. 16 en 18; die operas Béatrice et Bénédict, Benvenuto Cellini, Les Troyens (1969), Carmen (in Engels), Peter Grimes, Werther, La clemenza di Tito, Don Giovanni, Le nozze di Figaro, Idomeneo, Der Schauspieldirektor, Lo sposo deluso, Tosca, Ariadne auf Naxos (DVD), Falstaff (Londen 2004) en The Midsummer marriage.

Davislim, Steve (?-), Australiese tenoor. Aanvanklik was hy ‘n horingspeler, waarna sangstudies aan die Victoria Kunstekollege onder die sopraan Joan Hammond plaasgevind het. Verdere studies het onder die bekende sangers Gösta Winbergh, Neil Schicoff, Luigi Alva en Ileana Cotrubas gevolg, asook by die internasionale operaskool in Zürich. Hy is sedert 1994 ‘n lid van die Zürich Opera, en daarby sing hy wyd deur Europa en Noord-Amerika in liriese operarolle en konsertwerke. In 1997 het hy sy geboorteland in die internasionale sangkompetisie in Cardiff verteenwoordig. Sy debuut by Covent Garden is in 2001 gemaak, as Fenton in Falstaff. Sleutelopname: Weber se Oberon (die titelrol in Engels, onder Gardiner). Verdere opnames: Handel se opera Rodelinda (as Grimoaldo).

Dawidowitsj, Bella (1928-), Russies-gebore pianis. Sy het vanaf sesjarige leeftyd klavierlesse ontvang en was in 1949 ‘n medewenner van die Chopin-kompetisie in Warskou. Vanaf 1950 tot 1978 was sy ‘n solis met die Leningrad Filharmoniese Orkes, en vanaf 1962 tot 1978 was sy 'n hoogleraar aan die Moskou Konserwatorium. In 1967 is haar Europese debuut in Amsterdam gemaak en vier jaar later het sy deur Italië getoer. Sy het in 1978 na die VSA uitgewyk, waar sy in die jaar daarop haar debuut in New York gemaak het. Sedert 1982 gee sy aan die Juilliard Musiekskool onderrig. Sy is die moeder van die violis Dimitri Sitkowetski, onder wie se dirigeerstaf sy in ‘n uitstekende opname van Haydn se klavierkonsert nr. 11 gespeel het.

Dawson, Anne (1952-), Engelse sopraan. Sy het in 1978 by die Bath-fees die rol van Angelica in Handel se Orlando gesing. In die jaar daarop het sy by die Grenoble-fees verskyn, en in 1981 is haar professionele operadebuut by die Engelse Nasionale Opera gemaak as Xenia in Boris Godoenof. Sy het in 1982 die Kathleen Ferrier-gedenkbeurs gewen, met nog debute wat sou volg by die Glyndebourne-fees (1984) en Covent Garden (1988). Onder haar verdere rolle tel Mrs Coyle in Owen Wingrave en Princess Etain in The Immortal Hour. Opnames: die genoemde operas van Boughton en Britten; Ferguson se The Dream of the Rood; Offenbach se Christopher Columbus; en Vaughan Williams se Serenade to Music.

Dawson, Lynne (1953-), Engelse sopraan. Haar operadebuut in 1986 by die Kent Opera, as die Grafin in Le nozze di Figaro, is gevolg deur verdere debute by die Skotse Opera en in Parys (beide in 1988), en by die Salzburg-fees (1990). Met haar soet, suiwer stemtoon is sy uitmuntend in vroeë operarolle soos Iphigénie in Iphigénie en Aulide, Rezia in La rencontre imprévue, die Musiekfiguur in Orfeo, Donna Elvira in Don Giovanni, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, en beide Dido en Belinda in Dido and Aeneas. Sy is ook 'n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde musiek. Opnames: Bach se Mis in B mineur; Beethoven en negende simfonie (onder Brüggen); Handel se volledige Chandos anthems, sy Silete venti en oratoriums Jephta (as Iphis), Messiah en Saul (as Michal); liedere van Howells; Mendelssohn se A Midsummer Night's Dream en Elijah; Mozart se Requiem; Orff se Carmina Burana; Purcell se Dioclesian en Timon of Athens; Rubbra se negende simfonie (onder Hickox); Vaughan Williams se A Song of thanksgiving; Vivaldi se Laudate pueri dominum; en die genoemde operas van Gluck, Monteverdi, Mozart en Purcell, asook Venus and Adonis en The Fairy Queen.

Dawson, Peter (1882-1961), Australiese bas-bariton. Hy het in 1904 met opnames begin en vyf jaar later by Covent Garden gedebuteer. Hoewel hy ‘n uitstekende opera- en liederesanger was, was hy hoofsaaklik bekend in konserte, veral van ballades waarvan sommiges deur homself gekomponeer is. Nie minder nie as 13 miljoen van sy plate is in sy leeftyd verkoop.

De Abravanel, Maurice (1903-93), Grieks-gebore Amerikaanse dirigent. Hy het in 1924 sy debuut in Berlyn gemaak en daarna in Zwickau, Berlyn en Rome gedirigeer. As medewerker van die komponis Kurt Weill het hy in die tussenoorlogse jare aan vroeë uitvoerings en opnames van sy werke deelgeneem. Vanaf 1934 het hy vir twee jaar deur Australië getoer, waarna sy loopbaan in die VSA verder ontvou het. Aanvanklik het hy by die Metropolitan Opera gedirigeer en later in Chicago, by die Met onder andere in historiese opnames van die operas Manon en Les contes d'Hoffmann. Vanaf 1947 was hy vir langer as dertig jaar (tot 1979) hoofdirigent van die Utah Simfonie-orkes, wat hy tot 'n uitmuntende ensemble in die uitvoering van veral twintigste eeuse musiek ontwikkel het. Dit sluit laat-Romantici soos Mahler in, wie se volledige simfonieë hulle in 1976 opgeneem het. Verdere opnames: Bloch se Israel symphony, Goldmark se Landelike Bruilofsimfonie, Honegger se oratoriums Judith en Le Roi David, ballette en ander orkeswerke van Satie, Tsjaikofski se ballet Swanemeer, Vaughan Williams se twee Fantasias en ander orkeswerke, en Varèse se koorwerke Ecuatorial en Nocturnal.

De Almeida, Antonio (1928-97), Franse dirigent. Nadat hy die orkes van die Portugese Radio gedirigeer het (1957-60), was hy hoofdirigent van die Stuttgart Filharmoniese Orkes (1960-4) en die Houston Simfonie-orkes (1969-71). In sy laaste lewensjare was hy musiekdirekteur van die Moskou Simfonie-orkes, met wie hy die volledige simfonieë van Malipiero opgeneem het. Sleutelopname: Thomas se opera Hamlet (Londen). Verdere opnames: orkeswerke van Turina; en die operas La Juive en Mignon.

Dean, Stafford (1937-), Engelse bas. Aanvanklik het hy getoer met Opera for All (1962-4), en in 1964 het hy sy debuut by die Glyndebourne-fees as Lictor in L’incoronazione di Poppeia gemaak. Vanaf dié jaar tot 1970 was hy aan Sadler’s Wells verbonde. In dié tyd het hy onder Colin Davis in voortreflike opnames van Mozart se Misse nrs. 16 en 18 gesing. Verdere debute het plaasgevind by Covent Garden (1969) en die Metropolitan Opera (1976). In 1984 was hy ‘n solis in die eerste uitvoering van Penderecki se Requiem in Stuttgart. Sy bekendste operarol is Leporello in Don Giovanni, wat hy al honderde kere gesing het.

De Billy, Bertrand (1965-), Franse dirigent. Hy het in ‘n seunskoor gesing en geleer om viool en altviool te speel. Vanaf 1986 was hy vir vier jaar dirigent van die Orchestre Symphonique des Jeunesse en Ile de France, waarna hy ‘n assistent-dirigent van die Orchestre Colonne in Parys geword het. Sy operadebuut is in 1991 in Spanje gemaak, met La traviata tydens die Orviedo-fees. Hy was voorts vanaf 1993 tot 1995 eerste dirigent van die Anhaltischen Teater in Dessau, waar hy opera en konserte gedirigeer het. Sy Weense debuut is in 1995 by die Volksopera gemaak, met Bizet se Les pêcheurs de perles. Hy was vanaf 1996 vir twee jaar eerste dirigent van die Weense Volksopera. In 1997 het hy by die Weense Staatsopera gedebuteer met ‘n opvoering van L’elisir d’amore. As gasdirigent verskyn hy by ander bekende operahuise in Europa en die VSA, en vanaf 1999 tot 2004 was hy musiekdirekteur van die pas heropende Gran Teatre del Liceu in Barcelona. Daar het hy Wagner se Ring-siklus gedirigeer, met DVD-opnames wat gemaak is, maar dit is helaas deur die regisseur Harry Kupfer se surrealistiese opvoerings bederf. ‘n DVD-opname is ook van sy Tristan und Isolde by dieselfde teater gemaak. Hy het in 2002 hoofdirigent van die Oostenrykse Radio Simfonie-orkes in Wenen geword, met wie hy ‘n hoogstaande opname van Le nozze di Figaro gemaak het.

Decker, Franz-Paul (1922-), Duitse dirigent. Hy was musiekdirekteur in Krefeld (1946-50), Wiesbaden (1950-6) en Bochum (1956-64), en hoofdirigent van die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1962-8). Daarna het hy vir ‘n tyd lank in Kanada opgetree, waar hy musiekdirekteur was van die Montreal Simfonie-orkes (1967-75), en musiekadviseur van die Calgary Filharmoniese Orkes (1975-7) en die Winnipeg Simfonie-orkes (1981/2). In dié land het hy in 1976 met bekende sangers soos Jon Vickers en Maureen Forrester ‘n opname van tonele uit Tristan und Isolde gemaak. Terug in Europa was hy vanaf 1986 musiekdirekteur van die Barcelona Simfonie-orkes, en in 1990 het hy hoofdirigent van die Nieu-Seelandse Simfonie-orkes geword.

Deense Nasionale Simfonie-orkes, in 1925 gestig as een van die wêreld se eerste radio-orkeste. Hulle het oor die jare heen met groot dirigente soos Fritz Busch, Nikolai Malko, Bruno Walter, Sergiu Celibidache en Giuseppe Sinopoli saamgewerk. Oor die afgelope dekades het hul hoofdirigente ingesluit Herbert Blomstedt (1967-77), Leif Segerstam (1988-95) en Ulf Schirmer (1995-8). Sedert 2000 is Gerd Albrecht die hoofdirigent.

De Fabritiis, Oliviero (1902-82), Italiaanse dirigent en komponis. Nadat hy in 1920 in Rome gedebuteer het, het hy in Salerno en die Italiaanse hoofstad gewerk. Vanaf 1932 tot 1943 was hy artistieke direkteur van die Roomse Operahuis. Daar het hy in 1938 ‘n heuglike opvoering van Tosca met Maria Caniglia en Beniamino Gigli in die hoofrolle gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Hy het in 1938 begin om someropvoerings by die Caracalla-baddens te gee. In 1951 het hy in Meksikostad ‘n opvoering van Aida met Maria Callas in die titelrol gedirigeer, met ‘n opname wat insgelyks gemaak is. Sy Britse debuut is in 1963 by die Edinburgh-fees gemaak met Adriana Lecouvreur, en twee jaar later het sy Covent Garden-debuut gevolg. Sy laaste opname was van Boito se opera Mefistofele, met beroemdes soos Ghiaoerof, Pavarotti, Freni en Caballé wat daarin gesing het.

Défauw, Désiré (1885-1960), Belgiese violis en dirigent. Sy Londense debuut is in 1910 gemaak, en vier jaar later het hy die Geallieerde Strykkwartet gevorm wat tot 1918 opgetree het. Vanaf 1926 was hy aan die Brussels Konserwatorium verbonde as beide hoogleraar en dirigent van die orkes. Hy het in 1937 die Orchestre National de Belgique gestig, en in die jaar daarop het hy na die VSA geëmigreer. Daar het hy vanaf 1943 tot 1947 die Chicago Simfonie-orkes gedirigeer, en in 1949 het hy na sy geboorteland teruggekeer. Kort daarna is hy terug na die VSA, waar hy vanaf 1950 vir agt jaar die Gary Simfonie-orkes in Indiana gedirigeer het.

De Gaetani, Jan(ice) (1933-89), Amerikaanse mezzosopraan. Sy het in 1958 haar debuut in New York gemaak en vanuit die staanspoor in moderne musiek gespesialiseer. As solis was sy veral bekend in Schoenberg se Pierrot Lunaire. Onder die eerste uitvoerings wat sy gegee het, tel Crumb se Ancient Voices of Children (1970) en Maxwell Davies se Stone Litany (1973). Vanaf 1973 het sy aan die Eastman Musiekskool onderrig gegee. Opnames: Hindemith se dodemis When lilacs last in the dooryard bloom'd (onder Robert Shaw); en Schoenberg se Pierrot lunaire en The Book of the Hanging Gardens (onder Arthur Weisberg).

De Groote, Steven (1953-89), Suid-Afrikaanse pianis van Belgiese afkoms. Vir drie geslagte was bykans elke familielied ‘n professionele musikant, met sy vader dirigent van die Universiteit van Kaapstad se simfonie-orkes. As kind het hy reeds deur Suid-Afrika getoer en trios uitgevoer, met sy vader op die viool en sy broer op die tjello. Hy het later studeer onder Lamar Crowson in Kaapstad en aan die Koninklike Musiekkonserwatorium in Brussels, waar hy in 1971 met die eerste prys in klavier gegradueer het. In die jaar daarop is hy na die VSA vir studies aan die Curtis Musiekinstituut in Philadelphia, met gevierde pianiste soos Rudolf Serkin en Mieczyslaf Horszowski as dosente. Hy het in 1975 gegradueer, waarna pryse gewen is in die Leventritt-kompetisie (1976) en die Jong Konsertkunstenaars-oudisies (1977), beide in New York. Sy internasionale deurbraak is gemaak toe hy in 1977 die goue medalje by die internasionale Van Cliburn-kompetisie in Fort Worth, Texas gewen het. Daarna het hy wyd deur Noord-Amerika en Europa as solis met bekende orkeste opgetree. Sy debuut by die Londense proms is in 1981 met Gershwin se klavierkonsert gemaak.

Vanaf 1981 het De Groote ook aan die Staatsuniversiteit van Arizona onderrig gegee. In 1983 het hy in 'n uitvoering van Chopin se klavierkonsert nr. 2 onder die dirigeerstaf van Milan Horvat in Lugano, Switserland gespeel, wat gelukkig vir musiekliefhebbers verfilm is. Hy het in 1983/4 deur die VSA getoer met die Warskou Filharmoniese Orkes onder Kazimierz Kord, en in 1987 deur Engeland met die Salzburg Mozarteum-orkes onder Hans Graf. In 1987 het hy Lili Kraus as residensiële kunstenaar by die Texas Christelike Universiteit in Fort Worth opgevolg. Hy is in dieselfde jaar deur die Senaat van die deelstaat Texas vereer vir sy hoogstaande bydrae tot musiek. Naas sy loopbaan as solis het hy kamermusiek gespeel met bekende ensembles soos die Guarneri Kwartet and the Chilingirian Kwartet (sy broer Philip is die tjellis in laasgenoemde). As amateur-vliënier is hy in 1985 ernstig beseer in ‘n vliegongeluk naby Phoenix. Ná uitgebreide sjirurgiese behandeling het hy sy musiekloopbaan en vliegery hervat. Hy het in 1989 na sy geboorteland teruggekeer vir ‘n familiebesoek en ‘n konserttoer, maar is weens tuberkulose en longontsteking in die hospitaal opgeneem. Enkele dae later is hy op betreklik jeugdige leeftyd aan veelvuldige orgaanversaking oorlede. Verdere opnames: Beethoven se klaviersonates nrs. 2 en 21; Chopin se klavierkonsert nr. 2; en Prokofiëf se klaviersonate nr. 8.

De la Martinez, Odaline (1949-), Kubaans-gebore dirigent en komponis. In 1961 het sy na die VSA geëmigreer en tien jaar later het sy ‘n Amerikaanse burger geword. Sy is egter in Brittanje woonagtig, en het in 1976 'n kamer-ensemble genaamd Lontano gestig vir die uitvoering van moderne werke. Hulle het voortreflike opnames van koorwerke deur Villa-Lobos en verskeie werke van Britse vroue-komponiste gemaak. In 1984 het sy die eerste vrou geword om 'n volledige program by die Londense Proms te dirigeer, en drie jaar later het Ruders sy Dramaphonia vir haar ensemble geskryf. Sy het verder in 1988 die première van Goldschmidt se Beatrice Cenci in die Britse hoofstad gedirigeer. Met die BBC Filharmoniese Orkes het sy ‘n indrukwekkende opname van Ethel Smyth se Serenade in D gemaak.

De Lancie, John (1921-), Amerikaanse hobospeler. Hy was aanvanklik ‘n hobospeler in die Pittsburgh Simfonie-orkes (1940-2), waarna hy leërdiens in die Tweede Wêreldoorlog gedoen het. Teen die einde van die oorlog in 1945 was hy gestasioneer in Garmisch, waar hy niemand minder nie as Richard Strauss gevra het of hy dit al oorweeg het om ‘n hobokonsert te skryf. Die groot komponis het ontkennend geantwoord, maar is gelukkig oorreed om enkele maande later die bekendste hobokonsert van die twintigste eeu te skryf. Ná die oorlog was De Lancie vir byna drie dekades ‘n hobospeler in die Philadelphia Orkes (1946-74), waarvan die laaste twintig jaar as eerste hobospeler. Daarby het hy onderrig gegee aan die Curtis Instituut (1954-74) en was hy direkteur daarvan (1977-85). Intussen het hy die eerste uitvoerings gegee van Francaix se L'horloge de Flore (1961) en Lees se hobokonsert (1963), wat beide vir hom geskryf is. Diep in sy sestigs het hy onder Max Wilcox in ‘n uitstekende opname van die genoemde werke van Francaix en Strauss gespeel, asook van Ibert se Symphonie concertante.

De Larrocha, Alicia (1923-2009), Spaanse pianis. Sy het as driejarige met klavierlesse onder haar tante begin en ‘n jaar later het sy onder Frank Marshall begin studeer. Hy het haar in die musiek van haar landgenoot Granados verdiep, asook Bach en Mozart. Reeds op 9 jaar is haar eerste opnames gemaak, van twee Chopin-werke. As elfjarige wonderkind het haar konsertdebuut in Madrid gevolg, in 1935. Vanaf 1947 het sy wêreldwyd begin toer, met debute in Londen (1953), New York (1955) en by die Salzburg-fees (1986). Vanaf 1959 was sy ook direkteur van ‘n musiekakademie in Barcelona wat deur eertydse mentor Marshall gestig is. As die wêreld se voorste vertolker van Spaanse klaviermusiek het sy 4 opnames elk van Albéniz se Iberia en Granados se Goyescas gemaak. Haar landgenote Mompou, Rodrigo, Montsalvage en Surinach het werke vir haar geskryf. Met haar helder, elegante spel sonder oordrywing of vertoon was sy ewe begaafd in die Duitse, Franse en Russiese repertoriums. In 1950 is sy met die pianis Juan Torra getroud, wat haar in 1982 sou ontval. Sy het in 2003, op 80-jarige leeftyd, ‘n afskeidstoer onderneem. Sleutelopname: Granados se Goyescas (1977). Verdere opnames: klavierkonserte van Beethoven, Mozart (nrs. 21 en 23), Schumann en Surinach; Albéniz se Rapsodia espanola; Beethoven se Koorfantasie; Falla se Nagte in die tuine van Spanje; Handel se Suite nr. 5; Schumann se klavierkwintet (met die Tokio Kwartet); Turina se Rapsodia sinfónica; en solowerke van Albéniz, Falla, Mompou, Montsalvatge, Mozart en Schubert.

Della Casa, Lisa (1919-), Switserse sopraan. Nadat sy haar debuut in 1941 in Solothurn-Biel in die titelrol van Madama Butterfly gemaak het, was sy verbonde aan die Stadsteater in Zürich (1943-50) en die Weense Staatsopera (1947-74). Sy het ook vanaf 1953 tot 1968 by die Metropolitan Opera gesing, met verdere debute wat plaasgevind het by die feeste in Salzburg (1947), Glyndebourne (1951) en Bayreuth (1952), en by Covent Garden (1953). Rolle in verskeie moderne operas is vir haar geskryf, maar sy was eerder bekend vir haar stylvolle sang in die operas van Mozart en Richard Strauss. Onder haar beste rolle daarin was Donna Elvira in Don Giovanni, die Grafin in Le nozze di Figaro, die titelrol in Arabella en die Marschallin in Der Rosenkavalier. Verder het sy in in 1953 in die eerste kommersiële opname van Strauss se Vier letzte Lieder onder Karl Böhm gesing. In 1974 het sy uitgetree. Opnames: Brahms se Ein deutsches Requiem; Mahler se vierde simfonie (onder Fritz Reiner); liedere van Richard Strauss; die genoemde operas van Mozart en Strauss; en ‘n versameling arias en duette (met die tenoor Rudolf Schock) uit Ariadne auf Naxos.

Deller, Alfred (1912-79), Engelse kontratenoor en dirigent. In 1947 het hy by die koor van die Sint Pauluskatedraal in Londen aangesluit, en drie jaar later het hy die Deller Consort gestig vir die uitvoering van vroeë musiek en Engelse volksmusiek. In 1972, twee jaar nadat hy tot ridder geslaan is, is hul debuut by die Salzburg-fees gemaak. Onder hul hoogstaande opnames tel Gesualdo se Response vir Wit Donderdag (1611) en ‘n versameling vokale werke van Purcell. Hy het ‘n vername rol gespeel in die herlewing van sy stemtipe, en werke is deur onder andere Britten vir hom geskryf. Verdere opnames (as sanger): Buxtehude se kantates In dulce jubilo en Jubilate domino; liedere en orkesliedere van Byrd, Dowland en Purcell; kerkmusiek van Gibbons; Italiaanse madrigale van Janequin, Lassus, Monteverdi en andere; Monteverdi se opera-ballet In ballo delle Ingrate; talle Engelse volksliedere (waarvan sommiges deur Vaughan Williams verwerk is); en die operas A Midsummer Night’s Dream (in die rol van Oberon), The Fairy Queen en The Indian Queen. In laasgenoemde twee gevalle was hy ook die dirigent. Sy seun Mark (1938-) is ook ‘n kontratenoor en het gesing in die opera-opnames wat deur sy vader gedirigeer is, asook in opnames van verskeie duette vir hul stemtipe.

Del Mar, Norman (1919-94), Engelse dirigent, musiekgeleerde en skrywer. Aanvanklik was hy ‘n horingspeler in die Koninklike Filharmoniese Orkes onder Thomas Beecham, en later (1947/8) was hy ‘n assistent-dirigent van dié beroemde ensemble. Intussen het hy in 1944 die Chelsea Simfonie-orkes gestig, wat hy sou dirigeer in uitvoerings van werke wat indertyds in Brittanje redelik onbekend was. Daaronder tel Busoni se klavierkonsert en Mahler se tweede simfonie. Hy was voorts hoofdirigent van die Engelse Operagroep (1948-56). In 1949 het hy by die Aldeburgh-fees die première van Britten se Let's make an opera gedirigeer. Vervolgens was hy dirigent van die Yorkshire Simfonie-orkes (1954/5), die BBC Skotse Simfonie-orkes (1960-5) en die Göteborg Simfonie-orkes (1969-73). Vanaf 1952 was hy vir agt jaar ‘n hoogleraar aan die Guildhall Musiekskool in Londen. Hy het in 1967 die Britse première van Prokofiëf se vierde simfonie (die 1947-weergawe) by die Cheltenham-fees gedirigeer. In 1975 is die CBE aan hom toegeken. Hy het die Londense Filharmoniese Orkes gedirigeer in uittreksels uit Wagner se operas Parsifal, Siegfried en Tristan und Isolde vir die klankbaan van die 1981-rolprent Excalibur. Vanaf 1985 was hy vir drie jaar artistieke direkteur van die Aarhus Simfonie-orkes en in 1990 het hy die Londense première van Richard Strauss se Daphne in ‘n konsertweergawe gedirigeer. Hy het boeke oor Richard Strauss, Beethoven, Mahler en orkeste geskryf. Opnames: simfonieë van Hoddinott, Rubbra en Stanford; orkeswerke van Delius, Elgar, Holst, Schoenberg, Vaughan Williams en Warlock; Delius se A Mass of Life. Sy seun Jonathan Del Mar (1951-) is ook ‘n dirigent en musiekgeleerde, wat in die 1990’s ‘n kritiese uitgawe van Beethoven se volledige simfonieë daargestel het.

Delmé Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1962 gestig is. Hulle is kort voor lank deur die BBC genooi om in Londense konserte te speel, en daarby tree hul by van die voorste Europese musiekfeeste op. Die kwartet het ‘n lang en produktiewe verbintenis met die komponis Robert Simpson geniet, met opnames van 10 van sy strykkwartette wat daaruit gevloei het. Vir hul veertigste verjaardagviering in 2002 het hul hoogstaande opnames van Dvorák se strykkwartette nrs. 9 en 14 gemaak. Sleutelopnames: Hummel se 3 strykkwartette. Verdere opnames: Bach se Die Kuns van die Fuga (in Simpson se verwerking); Bliss se 2 strykkwartette; Simpson se strykertrio, klarinetkwintet (met Thea King) en 2 strykkwintette (met Christopher Van Kampen); en die enkele strykkwartette van R. Strauss en Verdi.

Del Monaco, Mario (1915-82), Italiaanse tenoor. Hy het vanaf dertienjarige ouderdom in opera gesing en in 1939 sy professionele debuut in Pesaro gemaak. Dit was as Turiddù in Cavalleria rusticana, en verdere debute sou volg in Milaan (1941), by Covent Garden (1946) en San Francisco (1950). Vanaf 1950 het hy vir agt jaar by die Metropolitan Opera opgetree, en in 1973 het hy uitgetree. Met sy kragtige stem en aantreklike voorkoms was hy uitmuntend in die heroïese rolle van Italiaanse opera. Dit geld veral vir die titelrol van Otello wat hy meer as 400 keer gesing het, onder andere in ‘n rolprentweergawe in 1958 onder Tullio Serafin. Onder die verdere rolle waarin hy uitgeblink het, tel Faust in Mefistofele, Maurizio in Adriana Lecouvreur, Loris in Fedora, Dick Johnson in La Fanciulla del West, Radames in Aida, Riccardo in Un ballo in maschera, Don Alvaro in La forza del destino, Manrico in Il Trovatore, Paolo in Francesca di Rimini, en die titelrolle in Andrea Chénier en Ernani. Hy het dikwels teenoor die briljante sopraan Renata Tebaldi in opnames verskyn, waaronder ‘n hele aantal van Verdi en Puccini se operas. Verdere opnames: die genoemde operas van Boito, Cilea, Giordano, Puccini en Verdi, asook La Wally; en ‘n versameling uittreksels uit Francesca da Rimini (met die sopraan Magda Olivero).

De los Angeles, Victoria (1923-2005), Spaanse sopraan. Sy het in ‘n musikale gesin grootgeword en aan die Liceu Konserwatorium in haar geboortestad Barcelona studeer. Op 18 jaar het sy met lof gegradueer nadat sy ‘n 6-jaar kusrus in slegs 3 jaar voltooi het. In dieselfde jaar (1941) is haar debuut in Barcelona gemaak, as Mimì in La Bohème. Sy het vervolgens as lid van die Ars Musicae ensemble in liedere en vroeë musiek gesing. Haar professionele operadebuut is in 1945 in Barcelona gemaak, as die Grafin in Le nozze di Figaro. In 1947 het sy die internasionale sangkompetisie in Genève gewen, en in 1949 is haar Engelse debuut by die BBC gemaak. Daarna het sy gedebuteer by Covent Garden (1950), die Metropolitan Opera (1951) en die Bayreuth-fees (1961). Met haar warm, meesleurende stem, volmaakte toonbeheer en musikale veelsydigheid was sy een van die twintigste eeu se grootste soprane in opera, konserte en liedere. In opera was dit die liriese rolle van Franse en Italiaanse opera waarin sy uitmuntend was. Daaronder het getel Marguerite in Faust, Charlotte in Werther, Mimì in La Bohème, Lauretta in Gianni Schicchi, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Amelia in Simon Boccanegra, Violetta in La Traviata, Angelica in Orlando furioso, en die titelrolle in Carmen, Manon, Madama Butterfly en Suor Angelica.

In 1969 het De los Angeles uit opera getree, maar haar loopbaan sou nog vir bykans twee dekades voortduur. Een van haar laaste optredes was met die afsluitingseremonie van die Olimpiese Spele in haar geboortestad in 1992. Sy was ‘n meesterlike liedere-sangeres in verskeie tale, meesal met Gerald Moore as klavierbegeleier, en in Franse en Spaanse orkesliedere was sy onoortreflik. In haar uitvoerings van Spaanse liedere het sy haarself soms op die kitaar begelei. Opnames: Berlioz se oratorium L’Enfance du Christ (onder Cluytens) en liedere-siklus Les Nuits d'été (onder Munch); Canteloube se Chants d’Auvergne; Falla se ballet El amor brujo; orkesliedere van Chausson, Debussy, Duparc, Granados, Ravel, Rodrigo en Villa-Lobos; liedere van Beethoven, Berlioz, Brahms, Debussy, Dvorák, Fauré, Granados, Hahn, Mozart, Purcell, Ravel, Rodrigo, Saint-Saëns, Schubert en Tsjaikofski; en die genoemde operas van Bizet, Gounod, Massenet, Puccini, Rossini, Verdi en Vivaldi.

De Luca, Giuseppe (1876-1950), Italiaanse bariton. Hy het in 1897 in Piacenza as Valentine in Faust gedebuteer, en vanaf 1903 tot 1910 het hy by La Scala gesing. Daar het hy in 1904 die rol van Sharpless geskep tydens die rampspoedige première van Madama Butterfly. In 1907 is sy debuut by Covent Garden gemaak. Later het hy lank (1915-35, 1939/40) by die Metropolitan Opera gesing. By die Met het hy in 1918 die titelrol tydens die première van Gianni Schicchi geskep en het hy met die beroemde tenoor Giovanni Martinelli bevriend geraak. Later het hy aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee. Met sy stylvolle sang en besondere legato was hy uitmuntend in die operas van Puccini, hoewel hy ook 'n komiese rol soos Figaro in Il barbiere di Siviglia meesterlik kon vertolk.

Demidenko, Nikolai (1955-), Russies-gebore pianis. Hy het aan die Moskou Konserwatorium onder Dimitri Basjkirof studeer. Daarna was hy ‘n pryswenner in die internasionale Montreal-kompetisie (1974) en die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou (1976). In 1985 is sy Britse debuut met die Moskou Radio Simfonie-orkes gemaak. Hy het aan die Yehudi Menuhin-skool in Brittanje onderrig gegee, en sedert 1990 is hy in dié land woonagtig. Hy tree gereeld met die Sint Petersburg Filharmoniese Orkes en hul dirigent Joeri Temirkanof op. In 2007 het hy deur Australië en Nieu-Seeland getoer. Alhoewel hy bekend is as kampvegter vir minder bekende komponiste soos Alkan, Clementi, Metner, Anton Rubinstein en Vorisek, is hy met sy skitterende, poëtiese spel ‘n begaafde vertolker van die Romantiese repertorium oor die algemeen. Daarby is hy bevriend met sy landgenoot Dimitri Aleksejef, met wie hy dikwels in ‘n klavierduet speel. Hulle het werke vir twee klaviere van Metner en Rachmaninof opgeneem, insluitend laasgenoemde se Russiese Rapsodie en Simfoniese Danse. Hy het in 1992 ‘n Gramophone-toekenning verwerf vir sy opnames van Metner se tweede en derde klavierkonserte. Verdere opnames: Chopin se twee klavierkonserte; Skriabin se klavierkonsert; Tsjaikofski se eerste klavierkonsert; en solowerke van Chopin, Liszt, Prokofiëf, Rachmaninof, Schumann, Skriabin en Vorisek.

Demus, Jörg (1928-), Oostenrykse pianis. Hy het gedebuteer in Wenen (1943), Londen (1950) en by die Salzburg-fees (1960). Intussen het hy in 1956 die Busoni-prys in Bolzano gewen en in 1977 ook die Harriet Cohen Bach-Medalje. Hy is bekend as solis en as liedere-begeleier vir groot sangers soos Elisabeth Schwarzkopf, Elly Ameling en Dietrich Fischer-Dieskau. Daarbenewens het hy in 1970 in medewerking met Paul Badura-Skoda ‘n boek oor Beethoven se klaviersonates geskryf.

De Peyer, Gervase (1926-), Engelse klarinettis en dirigent. Hy het sy debuut met ‘n radio- uitsending van Mozart se klarinetkonsert gemaak terwyl hy nog op skool was. Daarna het hy aan die Koninklike Musiekkollege onder Frederick Turston studeer. In 1950 was hy ‘n stigterslid van die Melos Ensemble, en later was hy eerste klarinettis van die Londense Simfonie-orkes (1955-71). Tydens die Cheltenham-fees van 1956 het hy die eerste uitvoering van Benjamin Frankel se klarinetkwintet gegee, hoewel die werk aan Thea King opgedra is. Hy was ook ‘n hoogleraar in klarinet aan die Koninklike Musiekakademie (1959-68), en in 1973 het hy as direkteur van die LSO Houtblasers by die Salzburg-fees gedebuteer. Daarby het hy as solis opgetree, onder andere in eerste uitvoerings van werke deur Musgrave, Hoddinott en andere. Vanaf 1969 tot 1989 het hy in kamermusiek-uitvoerings by die Lincoln Sentrum in New York gespeel. Sleutelopnames: Brahms se 2 klarinetsonates (met Gwenneth Prior); Mozart se klarinetkonsert (onder Maag). Verdere opnames: Brahms, Mozart en Weber se klarinetkwintette (met die Melos Ensemble), Berwald se Groot Septet, Messiaen se Kwartet vir die eindtyd, Schumann se Fantasiestücke, Schubert se Arpeggione sonate en Weber se Silvana Variasies.

De Preist, James (1936-2013), Afro-Amerikaanse dirigent. Hy het komposisie aan die  Musiekkonserwatorium in sy tuisstad Philadelphia studeer, gevolg deur ‘n graad aan die Universiteit van Pennsylvania en ‘n MBA aan die Wharton-skool. Terwyl hy in 1962 op ‘n toer deur Thailand was, het hy polio opgedoen. Hy het egter genoegsaam herstel om die internasionale Mitropoulos-dirigeerkompetisie te wen, waarop hy deur Leonard Bernstein genooi is om in 1965/6 sy assistent by die New York Filharmoniese Orkes te wees. Sy Europese debuut is in 1969 met die Rotterdam Filharmoniese Orkes gemaak en twee jaar later het hy mede-dirigent van die Nasionale Simfonie-orkes in Washington, D.C. geword. Hy was vervolgens musiekdirekteur van die Quebec Simfonie-orkes (1976-83), die Malmö Simfonie-orkes (1991-94), die Monte Carlo Filharmoniese Orkes (1994-98) en die Oregon Simfonie-orkes (1980-2003). Daarby het hy as gasdirigent met vele orkeste in Europa, die Verre Ooste, Australië en Israel verskyn. Hy was ook permanente dirigent van die Tokio Metropolitaanse Simfonie-orkes (2005-2008) en direkteur van dirigeerkuns aan die Juilliard Musiekskool in New York. Met die Helsinki Filharmoniese Orkes het hy die volledige simfonieë van Sjostakowitsj opgeneem. Oor die jare heen het hy talle toekennings ontvang en nie minder nie as 15 eredoktorsgrade. Hy het in die laat 1980's twee digbundels gepubliseer. Opnames: Hindemith se Nobilissima visione; Respighi se toondigte Feste romane, Fonteine van Rome en Denne van Rome; Saint-Saëns se derde simfonie (met Hans Fagius as orrelis) en Danse macabre; Sjostakowitsj se elfde simfonie; en Tsjaikofski se 1812 Ouverture, Hamlet fantasie-ouverture en Die Storm.

Dermota, Anton (1910-89), Oostenrykse tenoor. Hy het in 1936 sy debuut in Wenen gemaak in Die Zauberflöte, en twee jaar later het hy in die première van Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben siegeln opgetree. In 1947 is sy debuut by Covent Garden gemaak. Met sy kragtige stem was hy bekend in Duitse opera en konsertwerke, veral in Wenen en Salzburg waar hy dikwels opgetree het. Hy het in 1955 die rol van Florestan in Fidelio gesing tydens die inwyding van die herboude Weense Staatsopera. Daarby het hy uitgeblink as Don Ottavio in Don Giovanni, Tamino in Die Zauberflöte, Alfred in Die Fledermaus en Matteo in Arabella. By Salzburg het hy gesing in hoogstaande opnames van die operas Otello en Die Zauberflöte (beide in 1951 onder Wilhelm Furtwängler), en van Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln (in 1959 onder Dimitri Mitropoulos). In 1966 het hy uit opera getree, waarna hy aan die Weense Musiekakademie onderrig gegee het. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (onder Furtwängler) en Kantate nr. 78 (onder Felix Prohaska); Mahler se Das Lied von der Erde (onder Otto Klemperer); Mozart se Requiem; die operette Die Fledermaus (onder Ackermann en Krauss); en die genoemde operas van Beethoven en R. Strauss, asook Salome.

Dernesch, Helga (1939-), Duitse sopraan. Sy was verbonde aan operahuise in Berne (1961-3), Wiesbaden (1963-6) en Keulen (1966-9), en het vanaf 1965 vir vier jaar by die Bayreuth-fees opgetree. In 1969 het sy die rol van Sieglinde gesing in Otto Klemperer se opname van die eerste bedryf uit Die Walküre. As beskermling van Herbert von Karajan het sy daarna opgetree by sy Salzburg Paasmusiekfees (1969-77), met verdere debute wat sou volg by Covent Garden (1970), in Wenen (1972) en by die Metropolitan Opera (1985). Sedert 1979 sing sy mezzo-sopraanrolle, onder andere as Herodias in Salome. Met haar warm, ryk stem en vol toonkleur was sy een van die voorste soprane van haar tyd in die swaarder rolle van Wagner en Richard Strauss, naas Sieglinde ook as Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde. Sy was ewe begaafd as Leonore in Fidelio, in die titelrol van Penthesilea, as Elisabeth in Tannhäuser en Frau Peacham in Die Dreigroschenoper. Ter bevestiging van haar musikale veelsydigheid het sy in moderne operas van Reimann die rolle van Goneril in Lear (1978) en Hecuba in Troades (1986) geskep, en in ‘n DVD-opname van Henze se Der Prinz von Homburg gesing. Verdere opnames: Mahler se derde simfonie (onder Solti); en die genoemde operas van Beethoven, Schoeck, Wagner en Weill, asook Arabella.

Derwinger, Lowe (1966-), Sweedse pianis. Hy het sy debuut as solis op sestien in Liszt se tweede klavierkonsert met die Norrköping Simfonie-orkes gemaak. Sedertdien tree hy wêreldwyd in konserte, kamermusiek en voordragte op. Dit sluit ‘n jarelange vennootskap met Roland Pöntinen as ‘n klavier-duo in. Hy speel ook as begeleier vir die sopraan Barbara Hendricks in haar liedere-voordragte. Onder sy bekroonde opnames tel die oorspronklike weergawe van Grieg se klavierkonsert, asook Reger se klavierkonsert.

De Sabata, Victor (1892-1967), Italiaanse dirigent en komponis. Hy het vanaf 1902 vir agt jaar in Milaan studeer en was later ‘n dirigent van die Monte Carlo Opera (1919-29). Daar het hy in 1925 die première van Ravel se L’Enfant et les Sortilèges gedirigeer. In 1929 het hy by La Scala gedebuteer met ‘n opvoering van La fanciulla del West, waarna hy vir byna dertig jaar lank aan dié operahuis verbonde sou wees. By die Bayreuth-fees van 1939 het hy ‘n opvoering van Tristan und Isolde gedirigeer. Ter geleentheid van die Italiaanse Radio se 150ste herdenking van Mozart se dood in 1941 het hy die gekombineerde radio-kore van Rome en Turyn in ‘n aangrypende uitsending van die musiekreus se Requiem gedirigeer. As bewonderaar van Herbert von Karajan was hy ná die Tweede Wêreldoorlog instrumenteel daarin om sy jonger kollega by La Scala te laat optree. Hy het in 1947 die eerste opname van Debussy se ballet Jeux in ‘n besondere vertolking gedirigeer, en in 1950 het hy die La Scala-geselskap na Covent Garden geneem. In 1952 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, en vyf jaar later het hy ná ‘n hartaanval uitgetree. Gedurende die laaste vier jaar van sy loopbaan (1953-7) was hy artistieke direkteur van La Scala. Daar het hy heuglike opvoerings van Macbeth en Tosca met Maria Callas in die vroulike hoofrolle gedirigeer. Hy was ‘n gereelde gasdirigent in Europa en die VSA, en was met sy energieke vertolkings ewe bekend in opera en konserte. Onder sy eie komposisies tel twee operas en drie simfoniese toondigte. Sleutelopname: die opera Tosca (La Scala). Verdere opnames: Beethoven se sesde simfonie; Debussy se La Mer; orkeswerke van Glazoenof en Strawinski; Mozart se Requiem (Rome 1939); Respighi se Fonteine van Rome; Verdi se Macbeth (La Scala 1952) en sy Requiem.

Desderi, Claudio (1943-), Italiaanse bas-bariton en dirigent. Nadat hy vir 'n tyd in konserte gesing het, het hy in 1969 sy operadebuut by die Edinburgh-fees as Gaudenzio in Il Signor Bruschino gemaak. Hy het in 1975 in Parys die titelrol in Ulisse in ‘n radio-uitsending onder Ernest Bour vertolk. Vanaf 1976 het hy by Covent Garden in Rossini-rolle opgetree, met verdere debute wat gevolg het by die feeste in Salzburg (1977) en Glyndebourne (1981). Hy blink uit in Mozart-rolle soos Leporello in Don Giovanni, Don Alfonso in Così fan tutte en die titelrol in Le nozze di Figaro. Interessant genoeg het hy in 1989 laasgenoemde twee operas in Turyn gedirigeer. In 1991 het hy die titelrol in 'n voortreflike opname van Il Signor Bruschino onder Ion Marin gesing. Verdere opnames (as sanger): die genoemde Mozart-operas; (en as dirigent): Rossini se Il Signor Bruschino.

Désormière, Roger (1898-1963), Franse dirigent en komponis. Nadat hy ‘n fluitspeler in verskeie orkeste in Parys was, het hy in 1921 sy dirigeerdebuut met die Concerts Pleyel gemaak. Vanaf 1925 was hy vir vyf jaar dirigent van die Diaghilew Ballet, en in 1937 het hy ‘n dirigent van die Opéra Comique in die Franse hoofstad geword. Daar het hy in 1941 die eerste volledige opname van Debussy se Pelléas et Mélisande gedirigeer, in ‘n weergawe wat steeds as gesaghebbend beskou word. Hy was die Opéra Comique se musiekdirekteur vir twee jaar vanaf 1944, en in 1950 het hy uitgetree. Vroeë uitvoerings van werke deur Boulez en Messiaen is deur hom gedirigeer. Verdere opnames: Debussy se La mer; Ibert se Divertissement; en Scarlatti/Tommasini se balletsuite The Good-humoured Ladies.

Dessay, Natalie (1965-), Franse sopraan. Sy het aan die Bordeaux Konserwatorium studeer en ‘n eerste prys in die Franse televisiediens se Les Voix Nouvelles kompetisie gewen. Ná verdere studies aan die operaskool in Parys het sy die internasionale Mozart-kompetisie in Wenen gewen. Dit het haar internasionale loopbaan ingelui, en sedertdien sing sy koloratuurrolle in operahuise wêreldwyd. Sy het in 1993 met die opening van die Nuwe Lyon Opera gesing en daarna by die Weense Staatsopera aangesluit. Nog debute is gemaak by die Metropolitan Opera (1994), en by die feeste in Glyndebourne en Salzburg (beide in 1997). Met haar hoë stem en akkurate sang is sy uitmuntend in die titelrolle van Lakmé, Lucia di Lammermoor en Le Rossignol, en as Blondchen in Die Entführung aus dem Serail, Aspasia in Mitridate, re di Ponto, die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte, La Musica in Orfeo, Olympia in Les contes d’Hoffmann, Eurydice in Orphée aux enfers, Fiakermilli in Arabella, Zerbinetta in Ariadne auf Naxos en Sophie in Der Rosenkavalier. Sleutelopname: Orff se kantate Carmina Burana (onder Plasson). Verdere opnames: ‘n versameling woordlose sang getiteld Vocalise (onder Michael Schönwandt); Offenbach se operette Orphée aux enfers; ‘n versameling Franse opera-arias (onder Michel Plasson); die genoemde operas van Delibes, Monteverdi en Strawinski, asook Mitridate, Arabella en Ariadne auf Naxos.

Destinn, Emmy (1878-1930), Tsjeggiese sopraan. Sy is aanvanklik as violis opgelei en het daarna sang studeer onder Marie Loewe-Destinn, wie se van sy aangeneem het (sy was gebore Ema Kittl). In 1898 het haar debuut by die Kroll Opera in Berlyn plaasgevind, as Santuzza in Cavalleria Rusticana. Vir die volgende tien jaar sou sy by die Berlynse Hofopera sing. Vanaf 1901 het sy opgetree by die Bayreuth-fees, waar sy met haar debuut die rol van Senta in die eerste opvoering van Der fliegende Holländer daar gesing het. Sy het ook opgetree by Covent Garden (1904-14) en die Metropolitan Opera (1908-16). In 1905 het sy teenoor Caruso die titelrol in Madama Butterfly tydens die Britse première daarvan by Covent Garden gesing, en in die jaar daarop die titelrol in Salome tydens die Berlynse première. Verder het sy in 1910 die rol van Minnie tydens die première van La Fanciulla del West by die Met geskep. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het sy die naam Ema Destinnová gebruik uit simpatie met die Tsjeggiese nasionalistiese beweging, tot misnoeë van die Oostenrykse owerhede wat haar tot haar Boheemse landgoed ingeperk het. In 1919 het sy weer by die Met en Covent Garden begin optree, by beide in die titelrol van Aida. Sy het in 1926 uitgetree, maar twee jaar later in 'n Londense konsert onder Henry Wood gesing. Naas haar roemryke operaloopbaan was sy 'n dramaturg, digter en romanskrywer.

Detroit Simfonie-orkes, Amerikaanse orkes wat in 1914 gestig is met Weston Gales (1914-8) as hul hoofdirigent. Onder sy opvolgers het Ossip Gabrilovitsch (1918-35), Paul Paray (1952-63), Antal Doráti (1977-81) en (sedert 1990) Neeme Järvi getel. Hul konsertsaal, wat in 1919 gebou en in 1989 gerestoureer is, het ‘n reputasie vir uitmuntende akoestiek.

Deutekom, Cristina (1931-), Nederlandse sopraan. Haar ouers was beide koorsangers, en sy het in 1963 haar debuut by die Nederlandse Opera gemaak. Dit was as Koningin van die Nag in Die Zauberflöte. Sy sou bekendheid in die dramatiese rolle van Italiaanse opera verwerf, en het in hoogstaande opnames van Verdi se minder bekende operas Attila, I Lombardi en I Masnadieri (almal onder Lamberto Gardelli) gesing. ‘n Hartaanval in 1985 het haar gedwing om uit te tree, maar sy het voortgegaan om meesterklasse aan te bied. Verdere opnames: Beethoven se oratorium Christus am ölberge (onder Volker Wangenheim).

De Villiers, David (1944-), Suid-Afrikaans-gebore dirigent. Hy het in sy geboortestad Kaapstad en daarna in Duitsland studeer. In 1973 het hy koorrepetiteur by die Frankfurt Opera geword, waar hy  vanaf 1977 vir vyf jaar ‘n assistent-dirigent vir Michael Gielen sou wees. Vervolgens was hy ‘n dirigent by die Bielefeld Opera (1984-91) en algemene musiekdirekteur in die stad Giesen (1991-7). Sedert 1991 is hy ook verbonde aan die Wes-Duitse Radio-orkes in Keulen, en as gasdirigent tree hy gereeld met die Ljubljana Radio Simfonie-orkes in Slowenië en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op. Hy is sedert 1998 ‘n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Essen Konserwatorium.

De Vito, Gioconda (1907-94), Italiaans-gebore Britse violis. Sy het in 1932 die internasionale kompetisie in Wenen gewen. Vervolgens was sy ‘n hoogleraar in viool aan die beroemde Santa Cecilia-akademie in Rome, en in later jare aan die Bari Konserwatorium. Haar Londense debuut is in 1948 met die Londense Filharmoniese Orkes gemaak. Vier jaar later was sy ‘n solis in ‘n opname van Mendelssohn se vioolkonsert onder Wilhelm Furtwangler. Sy was bekend in die klassieke repertorium en het in 1961 uitgetree.

De Waart, Edo (1941-), Nederlandse dirigent. Aanvanklik was hy 'n hobospeler in die Concertgebouw Orkes in Amsterdam, totdat hy in 1964 die Mitropoulos-dirigeerkompetisie gewen en sy dirigeerdebuut met die Nederlandse Radio Filharmoniese Orkes gemaak het. In 1970 het sy operadebuut met die Nederlandse Opera plaasgevind, en sedertdien het hy naam gemaak as 'n orkesbouer. Hy was musiekdirekteur van die Rotterdam Filharmoniese Orkes (1973-9), die San Francisco Simfonie-orkes (1977-85) en die Minnesota Orkes (1986-95). Intussen het sy Amerikaanse operadebuut in 1971 in Santa Fé plaasgevind en sy Covent Garden-debuut vyf jaar later. Sedert 1993 is hy hoofdirigent van die Sydney Simfonie-orkes. Hy het oor die jare heen baie gedoen om moderne komponiste soos Adams, Reich en Schreker te bevorder. Opnames: Adams se koorwerk Harmonium en opera Nixon in China; orkeswerke van Adams en Reich; Glazoenof se Die Seisoene; Grieg se Peer Gynt suite; Prokofiëf se Romeo en Juliet; Schreker se opera Die Gezeichneten; Richard Strauss se Eine Alpensinfonie, Don Juan, Symphonia domestica en Till Eulenspiegel; en werke vir houtblasers van Mozart en Strauss.

Diaz, Justino (1940-), Puerto Ricaanse bas-bariton. Hy was nog 'n tiener toe hy in 1957 sy debuut  as Ben in The Telephone gemaak het, en vier jaar later het hy by die Nieu-Engeland Teater in Boston begin sing. In 1963 het hy by die Metropolitan Opera gedebuteer en drie jaar later by die Salzburg-fees begin optree. Hy het die rolle geskep van Antony in Barber se Antony and Cleopatra by die Met (1966) en van Francesco in Ginastera se Beatrix Cenci in Washington, D.C. (1971), tydens die onderskeie premières. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1976) en in San Francisco (1982), en in 1986 het hy die rol van Iago gesing in Franco Zeffirelli se rolprentweergawe van Otello. Hy het in uitstekende opnames van die operas La Wally, L'assedio di Corinto en La pietra del paragone opgetree.

Dickie, Murray (1924-95), Skotse tenoor. Nadat hy in 1947 in Londen gedebuteer het as Almaviva in Il barbiere di Siviglia, was hy aan Covent Garden verbonde (1948-52). Daar het hy in 1949 in die première van Bliss se The Olympians gesing. Verdere debute het gevolg by die Glyndebourne-fees (1950), die Weense Staatsopera (1951), die Salzburg-fees (1954) en die Metropolitan Opera (1962). In die 1950’s het hy by die Weense Staatsopera in ‘n klassieke opname van Le nozze di Figaro onder Erich Kleiber gesing. Later het hy as opera-regisseur opgetree, onder andere met ‘n opvoering van Johann Strauss junior se operette Eine Nacht in Venedig by die Engelse Nasionale Opera in 1976. Hy is in Kaapstad oorlede. Verdere opnames: Mahler se Das Lied von der Erde (onder Kletzki); en Wagner se opera Die Meistersinger von Nürnberg (as David).

Dimitrowa, Ghena (1941-2005), Bulgaarse sopraan. Sy het aan die Sofia Musiekakademie studeer en in 1965 as lid van die Bulgaarse Nasionale Opera in Skopje gedebuteer, as Abigaille in Nabucco. Vanaf 1970 het sy in Italië gesing en vanaf 1978 in Wenen. Later het debute gevolg in Dallas (1981), by La Scala (1983), Covent Garden en die Salzburg-fees (beide in 1984), en die Metropolitan Opera (1988, in die titelrol van Turandot). Met haar kragtige, klankryke stem was sy uitmuntend in Italiaanse opera. Haar repertorium het verdere rolle ingesluit soos Amneris in Aida, Dame Macbeth in Macbeth, Desdemona in Otello, en die titelrolle in Aida, Manon Lescaut en Tosca. Na haar afsterwe is ‘n fonds in Bulgarye gestig om jong operasangers te ondersteun. Sleutelopname: Verdi se opera Nabucco (onder Sinopoli). Verdere opnames: die operas Nabucco (onder beide Abbado en Arena, lg. op DVD) en Oberto.

Di Stefano, Giuseppe (1921-2008), Italiaanse tenoor. Ná sy debuut in 1946 in Reggio Emilia as Des Grieux in Manon Lescaut, het debute gevolg by La Scala (1947), die Edinburgh-fees (1957) en Covent Garden (1961). Vanaf 1948 tot 1965 was hy aan die Metropolitan Opera verbonde, waar hy as die opvolger van Beniamino Gigli beskou is. Sy roemryke vennootskap met Maria Callas het in 1952 met ‘n opvoering van I Puritani in Meksikostad begin. Vir die volgende vyf jaar sou hulle ‘n wêreldbekende operapaar vorm, met talle hoogstaande opnames wat daarvan getuig. Veel later, in 1973/4, sou hy die diva tydens haar laaste, katastrofiese konserttoer vergesel. Hul was in dié tyd ook kortstondig romanties verbind. As flambojante sanger-akteur was hy met sy kragtige, suiwer stem een van die grootste tenore van die twintigste eeu in die heroïese rolle van Italiaanse opera, veral dié van Puccini en Verdi. Daaronder het getel Edgardo in Lucia di Lammermoor, Canio in I Pagliacci, Turiddù in Cavalleria rusticana, Rodolfo in La Bohème, Des Grieux in Manon Lescaut, Cavaradossi in Tosca, Calaf in Turandot, Riccardo in Un ballo in maschera, Don Alvaro in La forza del destino, die Hertog in Rigoletto, Alfredo in La Traviata en Manrico in Il Trovatore. Sy afskeidsoptrede was as in 1992 as die Keiser in Turandot. Hy is in 2004 brutaal aangerand by sy vakansiehuis in Kenia, waarvan hy nooit ten volle herstel het nie. Opnames: Verdi se Requiem, en die genoemde operas.

Dobbs, Mattiwilda (1925-), Afro-Amerikaanse sopraan. Sy het in 1951 die eerste prys by die Genèva-fees gewen, en in die jaar daarop is haar operadebuut by die Nederlandse Fees gemaak. Verdere debute het gevolg by La Scala en die Glyndebourne-fees (beide in 1953), Covent Garden (1954) en die Metropolitan Opera (1956), waarvan sy ‘n lid geword het. Met haar hoë, behendige koloratuursang het sy in 1967 uitgeblink in ‘n opvoering van Mozart se opera The Abduction from the Seraglio (in Engels) by die Bath-fees onder Yehudi Menuhin, met ‘n opname wat gemaak is. Tydens die 1970’s het sy as besoekende hoogleraar aan verskeie Amerikaanse universiteite onderrig gegee.

Dobrowen, Issay (1891-1953), Russies-gebore dirigent, pianis en komponis. Nadat hy in Moskou en onder Leopold Godowski in Wenen studeer het, het hy in 1919 sy debuut in die Russiese hoofstad en twee jaar later ook by die Bolsjoi Teater gemaak. Daarna was hy ‘n medewerker van Fritz Busch in Dresden, waar hy in 1922 die Duitse première van Boris Godoenof gedirigeer het. Vanaf 1930 was hy vir vyf jaar dirigent van die San Francisco Simfonie-orkes, en daarna van die Göteborg Simfonie-orkes (1939), die Sweedse Koninklike Opera in Stockholm (vanaf 1941) en by La Scala (vanaf 1948). Intussen het hy in die 1930’s ‘n Noorse burger geword. As begaafde dirigent van Russiese musiek het hy in die jaar voor sy dood met die groot bas Boris Christoff in die titelrol ‘n klassieke opname van Boris Godoenof in Parys gemaak.

Dohnányi, Oliver (1955-), Slowaakse dirigent. Ná studies in Bratislawa, in Praag onder Václav Neumann en in Wenen onder Otmar Suitner het hy die Respighi-dirigeerkompetisie in Italië gewen. Vanaf 1979 was hy vir sewe jaar dirigent van die Tsjeggiese Radio Simfonie-orkes in Bratislawa. Sedert 1986 is hy hoof-operadirigent van die Slowaakse Nasionale Teater. Opnames: Mendelssohn se derde simfonie en enkele ouvertures; orkeswerke van Bach, Beethoven, J. Strauss en Vivaldi; en ‘n versameling operakore van Verdi.

Dolmetsch, Arnold (1858-1940), Switserse musikus en instrumentmaker. Hy het onder die Belgiese violis-komponis Henri Vieuxtemps studeer, waarna hy vioolonderrig aan die Dulwich Kollege gegee het (1885-9). Vervolgens het hy hom op die restourasie van ou musiekinstrumente toegespits, en ook begin om klawesimbels en klavichorde te maak. In die vroeë twintigste eeu het sy werk hom geneem na Boston in die VSA (1902-09) en na Parys (1911-4). Hy het hom in 1914 in Engeland gevestig. In Haslemere, Surrey het hy ‘n werkswinkel vir die vervaardiging en herstel van ‘n wye verskeidenheid instrumente begin. Later (in 1925) het hy daar ‘n jaarlikse fees ingestel, waartydens vroeë musiek deur hom en sy gesinslede op eietydse instrumente uitgevoer is. As invloedryke pionier het hy die eerste omvattende oorsig oor die vertolking van musiek uit die sewentiende en agtiende eeue geskryf (in 1915 gepubliseer). Die hedendaagse gewildheid van die blokfluit is grotendeels aan sy invloed te danke.

Dolmetsch, Carl (1911-97), Frans-gebore Britse blokfluitspeler. Soos sy vader Arnold (sien vorige inskrywing) het hy vroeë musiek op eietydse instrumente gespeel. Hy het as kind by die Haslemere-fees opgetree en as virtuoos wêreldwyd getoer. Met sy vader se afsterwe in 1940 het hy direkteur van die Fees en besturende direkteur van die werkswinkel geword. Hy het self blokfluite gemaak, en het ook die viool en die luit bespeel. Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu was hy die wêreld se voorste blokfluitspeler. In 1954 is die CBE aan hom toegeken.

Dolukhanowa, Zara (1918-), Russiese mezzosopraan van Armeense afkoms. Sy het in 1948 ‘n solis met die USSR Radio geword en sou vir die volgende 6 jaar aan hulle verbonde wees. In dié tyd het sy soms opera gesing, soos Cosi fan tutte en Les Contes d’Hoffmann. Vir die grootste deel van haar loopbaan het sy egter op konserte gekonsentreer, met vele opnames wat van haar moeitelose sang en pragtige toonkleur getuig. Daaronder tel liedere van Britten, Cui, Liszt, Mozart, Rachmaninof, Rossini, Schubert, Schumann, Richard Strauss, Tsjaikofski en Wolf. Sy is soms op die klavier begelei deur haar man, Alexander Dolukhanian. Verdere opnames: enkele arias van Bach en Handel; en Mozart se Exsultate, jubilate (onder Rudolf Barsjai).

Domgraf-Fassbänder, Willi (1897-1978), Duitse bariton. Hy het in 1922 sy operadebuut in Aachen gemaak as die Graaf in Le nozze di Figaro, en was daarna vanaf 1928 tot 1945 die eerste liriese bariton by die Berlynse Staatsopera. In 1934 het hy die titelrol in Le nozze di Figaro onder Fritz Busch gesing tydens die eerste Glyndebourne-fees, met ‘n verdere optrede daar in ‘n klassieke opname van Così fan tutte in die jaar daarop (weer onder Busch). Verder het hy in 1937 by die Salzburg-fees gedebuteer, en later was hy hoofregisseur van die Nürnberg Opera (1953-62). Daarna het hy direkteur van operastudies aan die konserwatorium in dié Beierse stad geword. Hy was die vader van die beroemde mezzosopraan Brigitte Fassbänder.

Domingo, Plácido (1941-), Spaanse tenoor en dirigent. Hy het vanaf 1950 in Meksiko gewoon, waar hy in 1957 sy debuut as bariton gemaak het. Sy debuut as tenoor is in 1961 gemaak as Alfredo in La Traviata. In dieselfde jaar is sy Amerikaanse debuut in Dallas gemaak, en vanaf 1962 was hy vir drie jaar ‘n lid van die Israeliese Nasionale Opera. Verdere debute het gevolg by die New York Stadsopera (1965), die Metropolitan Opera (1968), La Scala (1969), Covent Garden (1971) en die Salzburg-fees (1975). Sy debuut by die Met het plaasgevind toe hy op die nippertjie vir ‘n ongestelde Franco Corelli moes instaan, teenoor Renata Tebaldi in Adriana Lecouvreur. In 1982 het hy in ‘n rolprentweergawe van La Traviata gesing, en met Carreras en Pavarotti vorm hy sedert die 1990's die wêreldberoemde Drie Tenore. Sy besonder ferm, gevoelvolle stem en uitstekende akteurspel het aan hom wêreldroem in die liriese en heroïese rolle van Italiaanse opera besorg. Dit geld veral vir die titelrol in Otello, waarvan hy gedurende die 1980’s en 1990’s die voorste vertolker was. Hy het die rol gesing in opnames van Otello onder Carlos Kleiber, Levine en Chung, asook ‘n DVD-opname by die Met (onder Levine). As die wêreld se voorste heldentenor van die laat twintigste eeu is hy verder uitmuntend in Wagner se operas en dié van Franse komponiste.

Domingo se enorme repertorium sluit verder in Koning Arthur in Merlin, Bénédict in Béatrice et Bénédict, Don José in Carmen, Maurizio in Adriana Lecouvreur, Julien in Louise, Ernesto in Don Pasquale, Nemorino in L'elisir d'amore, Edgardo in Lucia di Lammermoor, Loris in Fedora, Canio in I Pagliacci, Turiddù in Cavalleria rusticana, Grimaldo in La Gioconda, Dick Johnson in La Fanciulla del West, Des Grieux in Manon Lescaut, Ruggero in La Rondine, Cavaradossi in Tosca, Calaf in Turandot, Figaro in Il barbiere di Siviglia (eintlik 'n baritonrol), die manlike hoofrol in Samson et Dalila, die Keiser in Die Frau ohne Schatte, Gherman in Pique Dame, Radames in Aida, Gustavo in Un ballo in maschera, Don Alvaro in La forza del destino, Oronte in I Lombardi, Rodolfo in Luisa Miller, Macduff in Macbeth, die Hertog in Rigoletto, Alfredo in La Traviata, Manrico in Il Trovatore, Arrigo in I vespri siciliani, Walther in Die Meistersinger von Nürnberg, Siegmund in Die Walküre, en die titelrolle in Andrea Chénier, Le Cid, Idomeneo, Les Contes d’Hoffmann, Don Carlos, Ernani, Otello, Lohengrin, Parsifal en Tannhäuser.

Naas sy sangloopbaan dirigeer Domingo operas en konserte. By die Met het hy in 1984 sy buiging as dirigent gemaak met ‘n opvoering van La Bohème. In dieselfde jaar het hy by Covent Garden ‘n filmweergawe van die operette Die Fledermaus gedirigeer. Later het hy die Chicago Simfonie-orkes in ‘n hoogstaande opname van Falla se Nagte in die Tuine van Spanje gedirigeer, met Daniel Barenboim as pianis. Sedert die stigting van die Los Angeles Opera in 1986 is hy aan die operahuis verbonde, eers as artistieke konsultant en mettertyd as artistieke direkteur. Hy het in 1996 ook artistieke direkteur van die Washington Opera geword, en in 2003 is hy as algemene direkteur van beide operahuise aangestel. In 2002 het hy by die Verdi Teater in Bussetto ‘n uitstekende opvoering van La Traviata gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. As verdere aanduiding van sy veelsydigheid dien ‘n opname van Die Fledermaus wat in München gemaak is, waarin hy beide die rol van Alfred sing en die Beierse Radiokoor en die stad se Radio Simfonie-orkes dirigeer.

Sleutelopname: Ponchielli se opera La Gioconda (onder Viotti). Verdere opnames (as sanger): Beethoven se negende simfonie (onder Leinsdorf), Christus am ölberge en Missa solemnis; die dodemisse van Lloyd Webber en Verdi (lg. onder Bernstein); die genoemde operas van Albéniz, Berlioz, Charpentier, Cilea, Donizetti, Giordano, Leoncavallo, Mascagni, Massenet, Mozart, Offenbach, Puccini, Rossini, Saint-Saëns, Strauss, Verdi en Wagner, asook Iris, Hérodiade, Gianni Schicchi, Il Tabarro, Le Villi, Giovanna d’Arco, Nabucco en Oberon; Breton se La Verbena de la Paloma; 'n versameling opera-duette met die sopraan Katia Ricciarelli; ‘n versameling Weense operette-arias (onder Julius Rudel); ‘n versameling liefdesduette uit Siegfried en Tristan und Isolde (met Deborah Voigt, onder Pappano); ‘n versameling arias en duette uit Siegfried en Götterdämmerung (onder Pappano); (as dirigent) Tsjaikofski se Capriccio italienne, 1812 Ouverture en Rome en Juliet Fantasie Ouverture.

Dominguez, Oralia (1928-), Meksikaanse mezzosopraan. Sy het in 1950 by die Meksikaanse Nasionale Opera gedebuteer. In die jaar daarop het sy as Amneris in Aida teenoor Maria Callas by dié teater gesing, met ‘n opname wat daarvan gemaak is. Verdere debute is gemaak by La Scala (1953, in Adriana Lecouvreur), Covent Garden en die Edinburgh-fees (beide in 1955), en die Glyndebourne-fees (1957). By Glyndebourne het sy uitgeblink as Arnalta in L’incoronazione di Poppea onder John Pritchard, met ‘n opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Mozart en Verdi se dodemisse (onder Gönnenwein en Fricsay onderskeidelik); en die operas La forza del destino (onder Molinari-Pradelli, op DVD), Das Rheingold en Siegfried.

Domus, Britse klavierkwartet wat in 1979 in Cornwallis gestig is. Hul is vernoem na die koepelvormige draagbare konsertsaal waarin hul aanvanklik gespeel het, met sitplek vir 200 mense. Vanuit die staanspoor het hul wyd deur Europa opgetree, en weens hul toenemende gewildheid moes hul weldra van konsertsale gebruik maak. Hul spel is gekenmerk deur intensiteit en sensitiwiteit, met besondere bydraes deur die die pianis Susan Tomes. Teen 1994 het die ensemble meeste van die bekende klavierkwartette uit die Romantiese era opgeneem en het hul lede almal solo-loopbane gevolg, waarop hul besluit het om te ontbind. Sleutelopnames: Dvorák se 2 klavierkwartette; Fauré se 2 klavierkwartette en 2 klavierkwintette (met Anthony Marwood as tweede violis).

Donath, Helen (1940-), Amerikaans-gebore sopraan. Sy het in haar geboortestad Corpus Christi, Texas en met Paola Nowikowa in New York studeer. Haar debuut as konsert- en liedere-sangeres is in 1958 in laasgenoemde stad gemaak. Daarna het sy in Duitsland gaan woon, waar sy in 1960 in Keulen haar operadebuut gemaak het as Inez in Il Trovatore. Sy was vervolgens verbonde aan operahuise in dié stad (1962/3) en Hannover (1963-7). In 1967 het sy by die Salzburg-fees in ‘n opvoering van Die Zauberflöte gedebuteer, waarna sy vir baie jare daar sou optree. Verdere debute is gemaak in San Francisco (1971) en by Covent Garden (1979). Sy was vanaf 1970 tot 1990 ‘n lid van die Weense Staatsopera, en daarby het sy wêreldwyd by van die voorste operahuise gesing. Met haar suiwer stemtoon was sy uitmuntend in liriese rolle soos Marzelline in Fidelio, die Goewernante in The Turn of the Screw, Amor in Orfeo ed Euridice, Hanna in The Land of Smiles, Lisbeth in Die Heimkehr aus der Fremde, Ilia in Idomeneo, Zerlina in Don Giovanni, Pamina in Die Zauberflöte, Ighino in Palestrina, Lauretta in Gianni Schicchi, Mimì in La Bohème, Zdenka in Arabella, Sophie in Der Rosenkavalier, Oscar in Un ballo in maschera, Eva in Die Meistersinger von Nürnberg, en die titelrolle in Sancta Susanna, Julietta en L'incoronazione di Poppea.

Naas opera is Donath ‘n begaafde sangeres in Duitse liedere en gewyde werke. Sy het as solis in Erich Leinsdorf se Lentekonsert met die Weense Simfonie-orkes uitgeblink, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. In 2006 het sy die rol van Despina in Cosi fan tutte gesing in Wenen, Salzburg en elders. Sedert die 1960’s is sy getroud met Klaus Donath, ‘n koormeester en dirigent wat sy tydens haar verblyf in Hannover ontmoet het. Hul seun Alexander is ‘n verhoogdirekteur, en in 2000 het al drie aan ‘n opvoering van Der Rosenkavalier by die Michigan Opera deelgeneem. Van die Neder-Saksiese deelstaat in Duitsland het sy die Staatsprys (1990) en die Verdienste-orde (2005) ontvang. Die titel Kammersängerin is deur Beiere aan haar toegeken. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Kubelik); Haydn se oratorium Die Schöpfung; Mahler se vierde simfonie (onder Inbal); Mendelssohn se oratorium Eliah; Mozart se Requiem en Misse nrs. 16 en 18 (onder Colin Davis); Schubert se oratorium Lazarus en van sy Misse; Schumann se Requiem; die genoemde operette van Lehár; die genoemde operas van Beethoven, Gluck, Hindemith, Mendelssohn, Monteverdi, Pfitzner, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook L’anima del filosofo, La vera costanza, Hänsel und Gretel, Lucio Silla, Die Zauberflöte, Gianni Schicchi en Der Corregidor.

Dönch, Karl (1915-1994), Duitse bas-bariton. Sy operadebuut is in 1936 in Görlitz gemaak, waarna hy in Reichenberg en Bonn gesing het. In 1946 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, en vanaf die jaar daarop was hy aan die Weense Staatsopera verbonde. Daar het hy naam gemaak in rolle soos Doktor in Wozzeck en Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg. By Salzburg het hy in hoogstaande opnames van Fidelio, Die Zauberflöte en Der Freischütz onder Wilhelm Furtwängler gesing. Hy het ook opgetree by die Metropolitan Opera (1959/60 en 1966/7) en by die Bregenz-fees (1955-84). Vanaf 1973 tot 1986 was hy direkteur van die Weense Volksopera. Verdere opnames: La forza del destino (as Melitone by die Weense Staatsopera, 1960).

Don Kossakke-koor, Russiese mannekoor wat in 1921 deur Sergei Jaroff gestig is. Hul is gevorm uit Kossakke wat hul moederland na die kommunistiese oorname verlaat en in ‘n vlugtelingkamp naby Istanbul in Turkye beland het. Vandaar is hul eers na die Griekse eiland Lemnos en toe die Bulgaarse dorp Cilingir. Die koor se openbare debuut is in 1923 in die Ortodokse Alexander Newsky-katedraal in Sofia gemaak. Daarop is hul na Wenen, waar hul konsert in die Hofburg in dieselfde jaar besonder geslaagd was. In 1926 het die koor deur Australië getoer en vier jaar later is hul eerste besoek aan die VSA gebring. Al die koorlede het in 1936 Amerikaanse burgerskap ontvang en tydens die Tweede Wêreldoorlog het hul in dié land gebly. Hul laaste toer met Jaroff het in 1979 plaasgevind en twee jaar later het hy uitgetree, ná 60 jaar as koorleier. Vervolgens was daar ‘n onderbreking totdat die koor in 1991 deur Wanja Hlibka en George Tymchenko herstig is. Hul gee steeds konserte, met meer as 10 000 konserte, drie rolprente en ses TV-films tot hul krediet. Die koor is wêreldbekend vir die diepte en resonansie van hul basse, wat inderdaad kenmerkend is van Russiese musiek.

Donohoe, Peter (1953-), Engelse pianis en dirigent. Hy het sy Londense debuut in 1979 gemaak, en drie jaar later het hy ‘n tweede plek in die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou behaal. Vanaf 1984 was hy vir drie jaar dirigent van die Noordelike Kamerorkes. As pianis is hy met sy kragtige, briljante spel veral bekend in moderne musiek, hoewel hy ewe tuis is in die Romantiese repertorium. Sleutelopnames: Tsjaikofski se klavierkonserte nrs. 2 en 3, en Konsert-Fantasie (almal onder Barsjai); Walton se Sinfonia concertante (onder Daniel). Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Bartók en Rawsthorne, asook die enkeles van Gerhard en Muldowney; Bliss se klavierkwartet en Elgar se klavierkwintet (beide met die Maggini Kwartet); Messiaen se Oiseaux exotiques en Turangalîla simfonie (onder Rattle); Rachmaninof se 24 Preludes; Strawinski se ballet Petroesjka; en werke vir klavier en orkes van Litolff, MacMillan en Muldowney.

Donose, Ruxandra (1964-), Roemeense mezzosopraan. Sy het in 1990 ‘n prys gewen by die internasionale sangkompetisie in München. Twee jaar later het sy by die Weense Staatsopera gedebuteer as Varvara in Kata Kabanova, waarna sy gereeld daar en by die Volksopera verskyn. Verdere debute is gemaak in San Francisco (1996, as Nicklausse in Les contes d’Hoffmann), by Covent Garden (1997, as Sesto in Giulio Cesare) en by die Dresden Staatsopera (1998, as Cherubino in Le nozze di Figaro). Sy is ook bekend in rolle soos Adalgisa in Norma, die titelrol in Carmen, Hänsel in Hänsel und Gretel, Annio in La clemenza di Tito, Dorabella in Cosi fan tutte, Idamante in Idomeneo, Fiodor in Boris Godoenof en Rosina in Il barbiere di Siviglia. Sy is ewe begaafd as konsertsangeres. Opnames: Bach se Mis in B mineur (onder Celibidache), Beethoven se negende simfonie (onder Drahos) en die opera Le nozze di Figaro (onder De Billy).

Doráti, Antal (1906-88), Hongaars-gebore dirigent en komponis. Hy was ‘n student van sy komponis-landgenote Bartók en Kodály, en het aanvanklik opera gedirigeer in Boedapest (1924-8), Dresden (1928/9) en Münster (1929-32). Vanaf 1935 het hy vir ses jaar die Russiese Ballet in Monte Carlo gedirigeer en daarna tot 1945 die Balletteater in dié stad. Intussen het hy in 1940 in die VSA gaan woon en sewe jaar later het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy ‘n hele aantal orkeste in die VSA en Europa as hoofdirigent gelei. Daaronder tel die Dallas Simfonie-orkes (1945-9), die Minneapolis Simfonie-orkes (1949-60), die BBC Simfonie-orkes (1962-6), die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes (1966-74), die Nasionale Simfonie-orkes van Washington, DC (1970-6), die Koninklike Filharmoniese Orkes (1975-8) en die Detroit Simfonie-orkes (1977-81). Hy het die gevierde violis Yehudi Menuhin in ‘n 1947-filmopname van Mendelssohn se vioolkonsert met die Hollywood Simfonie-orkes begelei. Sy debute by die Salzburg-fees het plaasgevind in 1946 met ‘n konsert en in 1959 met opera. In 1983 is hy tot ere-ridder geslaan. Hy was bekend as orkesbouer en as kampvegter vir moderne musiek, veral dié van sy eertydse landgenote. Met sy energieke vertolkings was hy eweneens meesterlik in die musiek van Haydn en die Duitse Romantici.

Een van Doráti se grootste prestasies was om vanaf 1969 tot 1973 'n siklus van Haydn se volledige simfonieë op te neem, met die Philharmonia Hungarica. Sedertdien word dit allerweë beskou as die eerste sodanige siklus, maar inderwaarheid was dit die tweede siklus daarvan omdat Ernst Märzendorfer tevore die volledige simfonieë van Haydn met die Weense Kamerorkes opgeneem het. Hoe dit ookal sy, die tweede siklus opnames word steeds hoog aangeskryf en sluit alternatiewe weergawes van die simfonieë nommers 22, 53 en 63 in. Later in die 1970’s het hy 8 van dié musiekreus se operas met die Lausanne Kamerorkes en bekende sangers in ewe hoogstaande vertolkings opgeneem. Tydens die Brighton-fees van 1979 het hy die Koninklike Filharmoniese Orkes in ‘n uitvoering van Haydn se oratorium Il ritorno di Tobia gedirigeer, met ‘n opname wat gemaak is. Sleutelopname: Tsjaikofski se Capriccio italienne en 1812 Ouverture (Minneapolis). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms; orkeswerke van Auric, Beethoven, Berg, Brahms, Copland, Dvorák, Enescu, Grofé, Koechlin, Liszt, Messiaen, Milhaud, Moessorgski, Prokofiëf, Rimski-Korsakof, Satie, Schoenberg, Sibelius, Smetana, Strawinski en Webern; Bartók se Konsert vir Orkes, Musiek vir strykers, perkussie en celesta, Divertimento vir strykorkes, Mikrokosmos, Suite nr. 2 en Die Wonderbaarlike Mandaryn; Haydn se Sinfonia Concertante en oratoriums Die Jahreszeiten en Der Schöpfung; Janácek se Taras Bulba; Kodály se Konsert vir Orkes; Messiaen se koorwerk La Transfiguration de Notre Seigneur Jésus-Christ; Respighi se Ancient Airs & Dances; Sibelius se Luonnotar; Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker en Orkessuites 3 en 4; en die operas Bloubaard se Kasteel, Armida, La fedeltà premiata, L’incontro improvviso, L'infedeltà delusa, L'isola disabitata, Il mondo della luna, Orlando paladino, La vera costanza, Die ägyptische Helena en Der fliegende Holländer.

Dorfmann, Anja (1899-1984), Russiese pianis. Sy het as kind duet-uitvoerings met die groot violis Jascha Heifetz gegee. Vanaf 1920 het sy vir ses jaar Europese toere onderneem, waarna haar loopbaan meesal in die VSA verder ontvou het. Sy het haar New York-debuut in 1936 gemaak, waarna sy onder Toscanini in historiese opnames van Beethoven se eerste klavierkonsert, Driedubbele Konsert (met Piastro en Schuster) en Koorfantasie gespeel het. Vanaf 1966 het sy aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee.

Douglas, Barry (1960-), Britse pianis wat in Noord-Ierland gebore is. Aanvanklik het hy in sy geboortestad Belfast studeer, en op 16 het hy met lesse begin onder Felicitas LeWinter, ‘n leerling van Emil von Sauer wat op sy beurt ‘n leerling van die komponis Liszt was. Verdere studies het in Londen en Parys gevolg, en in 1981 is sy Londense debuut gemaak. Hy was ‘n pryswenner in ‘n aantal internasionale klavierkompetisies, waaronder die Santander Paloma O’Shea in Spanje (eerste), die Arthur Rubinstein in Israel (1983, silwer) en die Van Cliburn in Texas (1985, brons). Sy internasionale deurbraak het plaasgevind toe hy in 1986 die goue medalje by die Tsjaikofski-kompetisie in Moskou gewen het, met ‘n uitvoering van  Tsjaikofski se eerste klavierkonsert. Sodoende het hy die eerste nie-Russiese pianis sedert Van Cliburn in 1958 geword om die gesogte prys te wen. In 1988 is sy debuut in New York gemaak, en in 1999 het hy die Camerata Ireland gestig, wat hy sedertdien dirigeer. Met hulle het hy in 2002 die volledige simfonieë van Beethoven uitgevoer. Die OBE is in dieselfde jaar aan hom toegeken. Hy woon in Parys en is ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekkollege in Londen. ‘n Eredoktorsgraad in musiek is deur die Queen’s Universiteit in Belfast aan hom toegeken. Daarby is hy artistieke direkteur van die internasionale klavierfees in Manchester en die Clandeboye-fees in Noord-Ierland. Opnames: Corigliano se klavierkonsert; Rachmaninof se tweede klavierkonsert (onder Tilson Thomas); Tsjaikofski se 3 klavierkonserte en Konsert-fantasie (onder Slatkin); en klaviersonates van Prokofiëf.

Downes, Edward (1924-2009), Engelse horingspeler en dirigent. Terwyl hy aan die Aberdeen Universiteit onderrig gegee het, het hy sy eerste opera (Le nozze di Figaro) gedirigeer. Daarna was hy ‘n assistent-dirigent by die Carl Rosa Opera (1950/1) en ‘n dirigent by Covent Garden (1951-69). By laasgenoemde teater het hy in 1967 die eerste Britse dirigent sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog geword het om Wagner se volledige Ring-siklus te dirigeer. Hy het daar ook met sulke groot sangers soos Jussi Björling, Maria Callas en Boris Christoff saamgewerk. Daarna was hy hoofdirigent van die Australiese Opera (1972-6), waar hy in 1973 die eerste opvoering in die nuwe Sydney Operahuis gedirigeer het, naamlik Oorlog en Vrede. Gedurende die 1970’s het hy die Britse premières van Wagner se vroeë operas Die Feen, Das Liebesverbot en Rienzi gedirigeer, asook die premières van Maxwell Davies se Taverner (1972) en Prokofiëf se Maddalena. Van laasgenoemde opera het hy self die orkestrasie voltooi, met premières wat gegee is in 1978 met ‘n konsertweergawe in Manchester en in 1981 op die verhoog in Graz, Oostenryk. Vervolgens was hy vanaf 1980 tot 1991 hoofdirigent van die BBC Filharmoniese Orkes, met wie hy die volledige ouvertures, preludes en balletmusiek van Verdi opgeneem het. Daarna het hy dieselfde pos by Covent Garden beklee, waar hy in 1993 die eerste professionele Britse opvoering van Verdi se Stiffelio gedirigeer het. Met die Verdi-eeufeesviering in 2001 het hy by Covent Garden ‘n modernistiese opvoering van Rigoletto gedirigeer. Beeldopnames is van laasgenoemde twee opvoerings gemaak. Onder sy verdere prestasies was die vertaling van ‘n aantal Russiese librettos, onder andere Khowansjina en Katerina Izmailowa, in Engels. In 1986 is die CBE aan hom toegeken en vyf jaar later is hy tot ridder geslaan. Hy het ter voltooiing van sy produktiewe lewe sy vrou wat terminaal siek was na Switserland vergesel, waar beide die genadedood ontvang het. Opnames: enkele simfonieë van Elgar, Glière, Korngold en Miaskofski; Prokofiëf se musiek vir Jewgeni Onegin; Respighi se Sinfonia drammatica en Tre corali; en Verdi se Un ballo in maschera.

Drahos, Béla (1955-), Hongaarse fluitspeler en dirigent. Hy het in 1971 ‘n internasionale fluitkompetisie in Praag gewen en vyf jaar later eerste fluitspeler van die Boedapest Simfonie-orkes geword. In het hy 1985 die Liszt-prys gewen en in 1993 het hy hoofdirigent van die Hongaarse Staatsimfonie-Orkes geword. Met die Nicolaus Esterházy Sinfonia het hy uitstekende opnames van Beethoven se volledige simfonieë gemaak. Verdere opnames (as solis:) fluitsonates van C.P.E. Bach, en 6 fluitkonserte van Vivaldi (opus 10); (en as dirigent:) Haydn se simfonieë nrs. 69, 72, 89, 91, 93 en 95.

Dresden Filharmoniese Orkes, Duitse simfonie-orkes wat in 1871 gestig is. Onder hul hoofdirigente het getel Richard Strauss, Hans von Bülow, Arthur Nikisch, Felix Mottl, Paul van Kempen (1934-42), Heinz Bongartz (1947-64), H. Förster (1964-7), Kurt Masur (1967-72), Günther Herbig (1972-7), Herbert Kegel (1977-85) en Hans Vonk (1985-91). Sedert 1991 is Jörg Peter Weigl hul hoofdirigent.

Dresden Staatsopera, Duitse operahuis in die Saksiese hoofstad wat na die agtiende eeu, toe dit vir opvoerings van Italiaanse operas bekend was, teruggevoer kan word. In 1817 het die komponis Weber ‘n Duitse Opera daar gestig en in 1843 het Wagner die dirigent daarvan geword. Die premières van laasgenoemde se Rienzi (1842), Der fliegende Holländer (1943) en Tannhäuser (1845) is daar opgevoer. Intussen is die Koninklike Operahuis in 1841 geopen en in 1878 ná ‘n brand heropen. Vanaf 1882 was Ernst von Schuch hul dirigent en het die operahuis 'n goue tydperk beleef. Hy het die premières van Richard Strauss se Feuersnot (1901), Salome (1905), Elektra (1909) en Der Rosenkavalier (1913) gedirigeer. Schuch is opgevolg deur Fritz Reiner (1914-21) en Fritz Busch (1922-33), wat voortgegaan het om nuwe Strauss-operas te dirigeer. Daaronder tel die premières van Intermezzo (1924) en Die ägyptische Helena (1928), asook Hindemith se Cardillac (1926) en Busoni se Doktor Faust (1925). In 1933 is Busch deur die Nasionaal-Sosialiste uitgedryf en het Clemens Krauss die première van Arabella gedirigeer. Die Strauss-tradisie is voortgesit onder Karl Böhm (1934-42), met die premières van Die schweigsame Frau (1935) en Daphne (1938). Hy is opgevolg deur Karl Elmendorff, maar in Februarie 1945 is die operahuis deur die massiewe Anglo-Amerikaanse bomaanval op Dresden verwoes. Vanaf 1948 is die operahuis in ‘n tydelike teater gehuisves. ‘n Nuwe gebou, waarvan die ontwerp so getrou as moontlik op die oorspronklike gebaseer is, is in 1985 met Weber se Der Freischütz ingewy.

Dresden Staatsorkes (Staatskapelle Dresden), Duitse simfonie-orkes waarvan die oorspronge na 1548 teruggevoer kan word, en wat die musiek vir die Saksiese hoofstad se staatsopera verskaf. Sedert die Tweede Wêreldoorlog was hulle dirigente Joseph Keilberth (1945-50), Rudolf Kempe (1950-3), Franz Konwitschny (1953-5), Lovro von Matacic (1956-8), Otmar Suitner (1960-4), Kurt Sanderling (1964-7), Martin Turnofski (1967/8), Siegfried Kurz (1971-5), Herbert Blomstedt (1975-85), Hans Vonk (1985-91) en Giuseppe Sinopoli (1991-2001). Die orkes tel soos hul bure in Leipzig onder die bestes ter wêreld, met ‘n uitmuntende strykerafdeling wat onder Tsjeggiese invloed staan. In 1998 het hulle hul 450-jarige bestaan met ‘n konsert onder Sinopoli gevier. Sedert 2012 is Christian hul hoofdirigent en vanaf 2013 is hul die feesorkes vir die Salzburg Paasmusiekfees.

Drie Kore-fees, jaarlikse byeenkoms van die Engelse katedraalkore van Gloucester, Hereford en Worcester. Dit word sedert 1715 gehou, aanvanklik met die prysenswaardige doel om fondse in te samel vir weduwees en wese van geestelikes in die drie Anglikaanse bisdomme. In 1737 het die komponis Boyce die hoofdirigent van die fees in Worcester geword. Gedurende die agtiende eeu is verskeie werke van Handel daar opgevoer, waarvan Messiah die eerste oratorium was om volledig in die katedrale opgevoer te word. In die negentiende eeu het die musiek van Mendelssohn die gewildste werke by die fees geword, en in 1878 was die jong komponis Elgar (alhoewel Rooms-Katoliek) ‘n violis by die Worcester-fees. Gedurende die eerste derde van die twintigste eeu (1902-33) het Elgar elke jaar van sy eie werke daar gedirigeer, met die drie orreliste wat almal vriende van hom was. Verskeie werke van twintigste-eeuse komponiste het hul eerste uitvoerings by die fees beleef, waaronder Holst se Koorfantasie (1931), Sibelius se Luonnotar (1913) en Vaughan Williams se Fantasie op 'n Tema deur Thomas Tallis (1910). In 1928 het Kodály sy Psalmus Hungaricus daar gedirigeer. Die fees is deur die twee wêreldoorloë onderbreek, en sedert die hervatting daarvan in 1945 is die programme uitgebrei om ook sekulêre werke in te sluit.

Drottningholm Koninklike Opera, Sweedse operahuis in die koninklike paleis. Die eerste teater is in 1754 gebou, maar ná die sluipmoord op Koning Gustaf III in 1792 het dit in onbruik verval. In 1922 is die teater heropen en vanaf 1953 word ‘n jaarlikse fees van hoofsaaklik agtiende-eeuse musiek daar gehou. Die orkes dra eietydse kleredrag en speel op eietydse instrumente. Onder hul musiekdirekteure het getel Charles Farncombe (1970-9), Arnold östman (1980-91) en Elisabeth Söderström (1992-5).

Dudamel, Gustavo (1981-), Venezuelaanse dirigent. Beide ouers was musikante, sodat dit nie verbaas dat hy op tien jaar met vioollesse begin het nie, kort daarna gevolg deur studies in komposisie. Sy musiekopleiding is voortgesit by die konserwatorium in sy geboortestad Lara en aan die Latyns-Amerikaanse Vioolakademie. In 1995 het hy met dirigeerstudies begin en vier jaar later het hy musiekdirekteur van die Simon Bolivar Simfonie-orkes in sy geboorteland geword. Hy het Charles Dutoit se meesterklasse in Buenos Aires in 2002 bygewoon, en in die jaar daarop was hy 'n assistent vir Simon Rattle in Berlyn en Salzburg. In 2004 het hy die Gustav Mahler dirigeerkompetisie in Bamberg, Duitsland gewen. Dit het hom onder die aandag van die vermaarde dirigente Claudio Abbado en Simon Rattle gebring, wat uitnodigings aanvaar het om sy Venezuelaanse orkes te dirigeer. Sedertdien tree hy wêreldwyd met die Simon Bolivar Simfonie-orkes op. Dit sluit verskynings by die Beethoven-fees in Bonn in 2007 en die Londense Proms in 2011 in, waartydens fenomenale uitvoerings van Beethoven se derde simfonie en Mahler se tweede simfonie onderskeidelik gegee is.  Gelukkig vir musiekliefhebbers is beide geleenthede verfilm.

Dudamel het intussen in 2005 gedebuteer met die Philharmonia Orkes in Londen, die Israelse Filharmoniese Orkes en in die VSA met die Los Angeles Filharmoniese Orkes. In dieselfde jaar is sy debuut by die Londense Proms gemaak toe hy op die laaste nippertjie vir 'n olike Neeme Järvi moes instaan. Sy debuut by La Scala is in 2006 met ‘n opvoering van Don Giovanni gemaak. Vanaf 2007 tot 2012 was hy hoofdirigent van die Gothenburg Simfonie-orkes in Swede, terwyl hy sy pos in Venezuela behou het. Hy het in 2007 sy eerste verskyning met die Weense Filharmoniese Orkes by die Lucerne-fees gemaak, en in dieselfde jaar het hy die Stuttgart Radio Simfonie-orkes in ‘n konsert ter viering van Pous Benediktus XVI se 80ste verjaardag gedirigeer (met 'n DVD wat daarvan gemaak is). Sy debuut by die Salzburg-fees het in 2008 met sy Venezuelaanse orkes plaasgevind in ‘n uitvoering van Beethoven se Driedubbele Konsert en Moessorgski/Ravel se Skilderye op ‘n Uitstalling, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Hy het Esa-Pekka Salonen in 2009 as musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes opgevolg, met 'n kontrak wat intussen tot 2019 hernu is. In 2011 is hy deur Gramophone as Kunstenaar van die Jaar benoem en in die jaar daarop het hy 'n Grammy toekenning verwerf vir sy opname van Brahms se vierde simfonie. Verdere opnames: Tsjaikofski se vyfde simfonie en Francesa da Rimini; en ‘n versameling orkesmusiek van Bernstein, Ginastera, Revueltas en ander Latyns-Amerikaanse komponiste getitled Fiesta.

Duitse Simfonie-orkes, Berlynse orkes wat in 1946 deur die Geallieerdes gestig is en weldra as die Berlynse Radio Simfonie-orkes bekend geraak het. Die huidige naam is in 1993 verkry, nadat Riccardo Chailly vier jaar tevore deur Wladimir Asjkenazy as hoofdirigent opgevolg is.

Dumay, Augustin (1949-), Franse violis en dirigent. Hy was ‘n leerling van die gevierde violis Arthur Grumiaux. Sy internasionale deurbraak het in 1979 plaasgevind toe hy deur Herbert von Karajan genooi is om in ‘n Parys-konsert as solis met die tjellis Yo-Yo Ma op te tree. Hy is daarop genooi om Bartók se tweede vioolkonsert met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Colin Davis te speel, wat ‘n klinkende sukses was. Sedertdien verskyn hy met van die voorste orkeste in Europa en Noord-Amerika. Hy het al ‘n hele aantal toere deur Japan en Suidoos-Asië onderneem. Vanaf 2002 tot 2005 was hy artistieke direkteur van die Menton-fees. Hy is sedert 2003 hoofdirigent van die Koninklike Kamerorkes van Wallonië, met wie hy deur Europa en Asië toer. Voorts gee hy onderrig aan die Koningin Elizabeth Musiekkollege in Brussels. Opnames (as violis, in al die gevalle met Maria Joao Pires as klavierbegeleier): Beethoven se 10 vioolsonates; Brahms se 3 vioolsonates; Grieg se 3 vioolsonates; die enkele vioolsonates van Debussy en Franck; Ravel se Berceuse en Tzigane.

Du Plessis, Christian (1944-), Suid-Afrikaans-gebore bariton. Hy het in 1967 in Johannesburg gedebuteer as Yamadori in Madama Butterfly. Daarna het hy onder Otokar Kraus studeer in Londen, waar sy debuut in 1970 gemaak is as Mathieu in Andrea Chénier. Vanaf 1973 tot 1981 was hy ‘n lid van die Engelse Nasionale Opera, waar hy bekendheid verwerf het in die operas van Rossini. Hy het ook in minder bekende werke van Bellini en Donizetti gesing, onder meer die titelrol in Torquato Tasso, Corrado in Maria de Rudenz en Ernesto in Il Pirata. Verder het hy in 1979 die rol van die Dokter in John Matheson se BBC-uitsending van die oorspronklike weergawe van Verdi se Macbeth gesing. Hy het amptelik in 1988 uitgetree, maar gaan voort om in opnames van minder bekende operas te sing. Daaronder tel L’Assedio di Calais, Gabriella di Vergy, Maria Padilla, Ne m’oubliez pas, Ugo Conte di Parigi, Dinorah en Christopher Columbus.

Du Pré, Jacqueline (1945-87), Engelse tjellis. Haar van is te wyte aan haar Franse voorouers wat reeds in die elfde eeu op die Kanaaleilande gaan woon het, totdat haar vader met sy gesin na Londen verhuis het. Sy het op haar vyfde verjaarsdag ‘n tjello ontvang en dadelik met lesse onder haar musikus-moeder begin. In die jaar daarop het sy aan die Londense Tjelloskool begin studeer, en as sewejarige het sy tydens ‘n kinderkonsert haar openbare debuut gemaak. Op tien het sy aan die Guildhall Musiekskool met lesse onder William Pleeth begin, wat vir die volgende sewe jaar haar leermeester sou wees. Haar voorliefde vir kamermusiek het sy volgens eie erkenning aan hom te danke gehad. As elfjarige het sy die eerste internasionale Suggia-kompetisie gewen en vir ses maande onder Paul Tortelier in Parys gaan studeer. Sy het oor die jare talle pryse van haar musiekskool gewen, en in 1961 is haar Londense solo-debuut gemaak. In die jaar daarop het haar eerste optrede met ‘n orkes gevolg, toe sy Elgar se tjellokonsert met die BBC Simfonie-orkes onder Rudolf Schwarz gespeel het. Sy het in dieselfde jaar (1962) onder Malcolm Sargent by die Londense Proms gedebuteer. Daarna het sy wêreldwyd getoer, met verdere debute wat in New York (1965) en by die Salzburg-fees (1968) plaasgevind het. Intussen het sy in 1966 vir ses maande haar konserte opgeskort om onder die befaamde Mstislaf Rostropowitsj in Moskou te gaan studeer. Sy het in 1967 in Jerusalem met die pianis-dirigent Daniel Barenboim getrou. Die volgende dag het sy in Tel Aviv die tjellokonsert van Schumann met haar man as dirigent gespeel. Op dié wyse het 'n besondere persoonlike en professionele verhouding ontstaan, en een wat veel vrug vir die musiekwêreld sou dra.

Helaas het Du Pré in 1971 simptome van senu-uitputting begin ervaar, wat twee jaar later as verspreide sklerose gediagnoseer is. Daarna kon sy nie meer optree nie, maar sy het op ‘n moedige wyse haar siekte beveg deur musieklesse te gee en tuis in kamermusiek met Barenboim en vriende op te tree. Sy het ook ‘n navorsingsfonds vir die bestryding van die siekte gestig. In 1976 is sy tot dame geskep en twee jaar later het Prins Philip in sy hoedanigheid as kanselier van Salford Universiteit ‘n ere-doktorsgraad aan haar toegeken. Met haar briljante tegniek en hartstogtelike spel was sy die grootste vrouetjellis van die twintigste eeu. Haar vertolkings van Elgar se konsert, wat sy onder beide Barenboim en Barbirolli opgeneem het, word steeds as ongeëwenaard beskou. Sy het ook uitgeblink in kamermusiek, wat sy in ‘n trio met Barenboim en Pinchas Zukerman gespeel het. Hoewel sy vir slegs een dekade in staat was om opnames te maak, het sy ‘n indrukwekkende nalatenskap daardeur bewerkstellig. Sleutelopnames: Elgar se tjellokonsert (onder Barbirolli, 1965); Richard Strauss se Don Quixote (onder Boult, 1968). Verdere opnames: tjellokonserte van Boccherini, Delius, Dvorák, Haydn, Lalo, Monn/Schoenberg, Saint-Saëns en Schumann; Handel se Hobokonsert in G mineur (vir die tjello verwerk); Bach se Tjellosuites nrs. 1 en 2; die volledige tjellosonates van Beethoven, Britten, Chopin en Franck; 3 stelle Variasies van Beethoven; Bruch se Kol Nidrei; solowerke van Brahms, F. Couperin, Falla, Fauré, Handel, Saint-Saëns en Schumann; en Beethoven se volledige klaviertrios (met Barenboim en Zukerman).

Dutoit, Charles (1936-), Switserse violis en dirigent. Ná studies in Lausanne en Genève was hy aanvanklik ‘n violis in die Lausanne Kamerorkes en gasdirigent van die Orchestre de la Suisse Romande. In 1963 het sy orkesdebuut in Bern plaasgevind met Strawinski se Le Sacre du Printemps. Vanaf 1964 was hy vir sewe jaar artistieke direkteur van die Zürich Radio-orkes, en daarby was hy hoofdirigent van die Bern Simfonie-orkes (1967-77). Vervolgens was hy vanaf 1977 tot 1990 musiekdirekteur van die Montreal Simfonie-orkes, wat hy tot wêreldstatus opgebou het. In Kanada was hy ‘n omstrede figuur vanweë die voorkeur wat hy aan Franssprekende musici in sy orkes verleen het. Hy het sy orkes op vele geslaagde internasionale toere gelei, waaronder hul New York-debuut in 1982 en die orkes se eerste Suid-Amerikaanse toer in 1991 tel. Met hul ryk, warm klank en idiomatiese musikaliteit was hulle onder sy leiding allerweë beskou as die voorste orkes ter wêreld in die Franse repertorium. Hulle het ‘n groot aantal opnames gemaak en tientalle toekennings daarvoor verwerf. Vanaf 1990 was hy hul artistieke direkteur, totdat hy in 2002 bedank het ná beskuldigings deur sommige orkeslede dat hy tiranniek optree. Hy het ‘n aantal toekennings van die Kanadese Musiekraad, die Kanadese Kunstekonferensie en die Franse regering vir sy besondere bydrae tot musiek ontvang.

Intussen het Dutoit in 1983 sy operadebuut by Covent Garden gemaak en vier jaar later sy debuut by die Metropolitan Opera. Sedert 1991 is hy musiekdirekteur van die Orchestre National de France in Parys, en in 1998 het hy musiekdirekteur van die NHK Simfonie-orkes in Tokio geword. Met sy Japannese orkes het hy in 2003 die wêreldpremière van MacMillan se derde simfonie gegee. Hy verskyn as gasdirigent met van die voorste orkeste in Europa, die Verre Ooste, Noord- en Suid-Amerika. As konsertbegeleier tree hy met bekendes soos die pianis Pascal Rogé en die violiste Pierre Amoyal en Kyung Wha Chung op. Hy is verder artistieke direkteur van die somerfeeste van die Philadelphia Orkes en die Saratoga Kunstesentrum. Eredoktorsgrade is deur die Universiteit van Montreal en die Université Laval aan hom toegeken. Sleutelopnames: Bizet se Carmen suites en L’Arlésienne suites (Montreal); Poulenc se Sinfonietta en enkele ander orkeswerke (Parys); die vernaamste orkeswerke van Ravel (Montreal); ‘n versameling toondigte van Saint-Saëns (Londen 1979); Strawinski se Strykerkonsert in D, Danses concertantes en Dumbarton Oaks Concerto (Montreal). Verdere opnames: Berlioz se Requiem, Roméo et Juliette en Symphonie funèbre et triomphale; Fauré se Requiem; Honegger se Le Roi David; Poulenc se Gloria en Stabat Mater; Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate; Rachmaninof se kantate Die Klokke; simfonieë en ander orkeswerke van Alfvén, Bartók, Chabrier, Debussy, Dukas, Dvorák, Enescu, Franck, Glazoenof, Holst, Honegger, Ibert, Kodály, Liszt, Prokofiëf, Respighi, Satie, Strawinski, Suppé en Thomas; ballette van Falla, Ravel en Tsjaikofski; en die operas La damnation de Faust, Les Troyens, Le roi malgré lui en Pelléas et Mélisande.

Du Toit, Francois (?-), Suid-Afrikaanse pianis. Hy tree sedert 15-jarige leeftyd as solis in konserte op. Terwyl hy nog ‘n student aan die Universiteit van Kaapstad was, het hy in 1988 met die Kaapstadse Simfonie-orkes na Taiwan getoer. Nagraadse studies is aan dieselfde instelling onder die pianis Laura Searle onderneem. Daarby het hy diplomas van die Trinity Musiekkollege, Londen en die Hannover Konserwatorium in Duitsland verwerf. Tydens sy oorsese studiejare het hy verskeie internasionale kompetisies gewen, waaronder dié in Hannover (1991), Rotterdam (1992) en Marsala (1993), asook die Maria Callas-kompetisie in Athene (1994). Hy speel ook kamermusiek as lid van die Potch Trio, en is ‘n hoogleraar in klavier aan sy alma mater.

Du Toit, Nellie (1929-), Suid-Afrikaanse sopraan. Sy het in ‘n musikale gesin grootgeword en reeds as sestienjarige in ‘n operette gesing. Op negentien het sy in radio-uitsendings begin sing, waarna studies in Kaapstad (vir drie jaar onder Adelheid Armhold) en in Engeland (vir twee jaar onder Tatjana Makusjina) gevolg het. Kort voor haar vertrek na Engeland in 1952 het sy met die driehonderdjarige herdenking van Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap as solis in ‘n uitvoering van Mahler se vierde simfonie gesing. Terug in haar geboorteland het sy ‘n toer met Marcel Wittrisch onderneem, waarna sy met ‘n Unisa-beurs na Wenen is vir verdere studies onder Maria Hittorf. Vanaf 1957 het sy vir vyf jaar opera en oratorium in Pretoria en Johannesburg gesing, waartydens sy in die premières van Afrikaanse operas deur Henk Badings en John Joubert opgetree het. Vanaf 1963 het sy opera in verskeie Suid-Afrikaanse stede gesing en mettertyd ‘n repertorium van ongeveer dertig rolle opgebou. Haar bekendheid het veral berus op haar hoogstaande vertolkings van die titelrol in Madama Butterfly, waarvoor sy ‘n aantal kere die Nederburg Operaprys gewen het. Sy was in 1970 in Osaka, Japan ‘n finalis in ‘n kompetisie om die wêreld se beste Butterfly te vind. Sedert 1959 gee sy sangonderrig, met sulke bekende Suid-Afrikaanse musici soos Gé Korsten en Andrea Catzel wat onder haar studente getel het. Sy is sedert 1980 aan die Stellenbosch Konserwatorium verbonde, en het ook vir ‘n tyd aan die Kaapstadse Musiekkollege onderrig gegee.

Duval, Denise (1921-), Franse sopraan. Sy het in 1943 in Bordeaux gedebuteer as Lola in Cavalleria rusticana, en was daarna ‘n lid van die Folies Bergères. In 1947 het haar debuut by die Opéra Comique in Parys in die titelrol van Madama Butterfly plaasgevind, en in dieselfde jaar het sy die titelrol tydens die première van Poulenc se Les mamelles de Tirésias geskep. As begaafde vertolker van Poulenc het sy verder die rolle geskep van Blanche tydens die Paryse première van Les dialogues des Carmelites (1957) en van Elle in La voix humaine (1959). Van laasgenoemde is ‘n voortreflike opname onder Georges Prêtre gemaak, en in die jaar daarop het sy die rol by die Edinburgh-fees gesing. Poulenc het ook die liedere-siklus La courte paille vir haar geskryf. Sy het in 1963 by die Glyndebourne-fees as Mélisande in Pelléas et Mélisande verskyn, met ‘n hoogstaande opname wat daarvan getuig. In 1965 het sy op betreklik vroeë leeftyd as sangeres uitgetree, waarna sy aan die ècole Francaise de Musique in Parys onderrig gegee het.

Dvoráková, Ludmila (1923-), Tsjeggiese sopraan. Nadat sy in 1949 in Ostrawa gedebuteer het in die titelrol van Káta Kabanová, was sy ‘n lid van operahuise in Bratislawa (1952-4), Praag (1954-60) en by die Berlynse Staatsopera (vanaf 1960). Gedurende die vroeë 1960’s het sy bekend geraak in Wagner-rolle soos Brünnhilde in die Ring en die vroulike hoofrol in Tristan und Isolde, met verdere debute wat gevolg het in Wenen en by die Bayreuth-fees (beide in 1965), en by die Metropolitan Opera (1966). Vanaf 1966 tot 1971 het sy as Brünnhilde by Bayreuth opgetree, en in 1973/4 was sy aan die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf verbonde. Tydens die Bayreuth-fees van 1967 het sy die rol van Gutrune in ‘n uitstekende opname van Götterdämmerung onder Karl Böhm gesing. Vanaf die laat 1970’s het sy rolle vir mezzosopraan gesing, en in 1982 en 1984 het sy Japan met die Berlynse en Hamburgse operahuise onderskeidelik besoek.

Dvorsky, Peter (1951-), Slowaakse tenoor. Hy het in 1972 in Bratislawa as Lenski in Jewgeni Onegin gedebuteer, en drie jaar later het hy die Geneefse internasionale sangkompetisie gewen. Verdere debute het gevolg in Wenen en by die Metropolitan Opera (beide in 1977), Milaan en Covent Garden (beide in 1978), en die Salzburg-fees (1989). Hy blink uit in Tsjeggiese opera, in rolle soos die Prins in Rusalka, Steva in Jenufa, Boris in Káta Kabanová, Gregor in Die Makropoulos-saak en Jeník in Die Verruilde Bruid. Hy het in uitstekende opnames van laasgenoemde 5 operas gesing, asook I Pagliacci.

 

Encyclopedia: Western Music