If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

A - B

A

Abbado, Claudio (1933-), Italiaanse dirigent. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en vanaf elfjarige leeftyd klavierlesse in sy geboortestad Milaan ontvang. Vyf jaar later het studies in dirigeerkuns en komposisie aan die konserwatorium in dié stad ‘n aanvang geneem, terwyl hy as kerkorrelis ‘n bestaan gemaak het. ‘n Ontmoeting met die jong dirigent Zubin Mehta, wat ‘n goeie vriend sou word, tydens meesterklasse in Siena het tot studies onder die gevierde leermeester Hans Swarowsky in Wenen gelei. In die Oostenrykse hoofstad het hy met die Duitse Klassiek-Romantiese tradisie sowel as die Tweede Weense Skool vertroud geraak. Tot sy eie verbasing het hy in 1958 die Koussewitzki-prys by Tanglewood gewen. In dieselfde jaar is sy operadebuut in Trieste gemaak, met Prokofiëf se Die liefde vir drie lemoene. Vanaf 1961 het hy vir twee jaar aan die Parma Konserwatorium in kamermusiek onderrig gegee, en in 1963 was hy ‘n medewenner van die Mitropoulos-prys in New York. Twee jaar later het hy op uitnodiging van Herbert von Karajan by die Salzburg-fees gedebuteer, met Mahler se tweede simfonie. Hy het in 1966 by La Scala gedebuteer met Bellini se I Capuleti e i Montecchi.

In 1968 het Abbado by die Metropolitan Opera en Covent Garden gedebuteer, en vanaf dié jaar sou hy vir byna twee dekades aan La Scala verbonde wees. Daar was hy eers hoofdirigent, vanaf 1972 tot 1986 musiekdirekteur, en vanaf 1977 vir twee jaar ook artistieke direkteur. In dié tyd het hy die orkes van die beroemdste Italiaanse operahuis met die Duitse en moderne repertoriums vertroud gemaak. Met sy besondere aanvoeling vir die musiek van Brahms en Mahler is hy in 1971 as hoofdirigent van die Weense Filharmoniese Orkes benoem, wat eintlik ‘n eretitel was. Vanaf dieselfde jaar was hy ook hoofgasdirigent van die Londense Simfonie-orkes, en in 1979 het hy André Previn as hoofdirigent opgevolg. Hy sou die pos tot 1988 beklee, waartydens die orkes se repertorium onder sy afrigting aansienlik met die Duitse repertorium versterk is. Verder was hy hoofdirigent van die Kamerorkes van Europa (vanaf 1981), hoofgasdirigent van die Chicago Simfonie-orkes (1982-5) en musiekdirekteur van die Weense Staatsopera (1986-91), waar hy in 1984 gedebuteer het. Sy toewyding tot musiek is hartstogtelik, soos blyk uit die feit dat twee bekende jeugorkeste deur hom gestig is, naamlik die Europese Gemeenskap Jeugorkes (1978) en die Gustav Mahler Jeugorkes in Wenen (1986).

Abbado is in 1989 gekies om Herbert von Karajan as hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes op te volg. Vanaf 1994 was hy ook artistieke direkteur van die Salzburg Paasmusiekfees wat deur Karajan gestig is. Hy het in 1999 by die Salzburg-fees ‘n uitvoering van Mozart se Requiem gedirigeer vir die tiende herdenking van Karajan se dood, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. In 2000 is sy loopbaan tydelik onderbreek deur maagkanker, waarvoor hy geopereer moes word. Hy het in die jaar daarop met die honderdjarige herdenking van Verdi se dood ‘n skitterende uitvoering en opname van sy Requiem in Berlyn gedirigeer. Ook in 2001 het hy met die Berlynse Filharmonie opwindende uitvoerings van Beethoven se volledige simfonieë in die Santa Cecilia Akademie in Rome gegee, met DVD-opnames wat van nommers 1 tot 8 gemaak is. Sy afskeidskonsert met die Berlynse orkes is in 2002 gegee, en in die jaar daarop het hy die Luzern Feesorkes herleef nadat dit tien jaar tevore ontbind is. Met hulle het hy in 2004 ‘n kragtige opname van Mahler se tweede simfonie gemaak.

Abbado is wêreldberoemd vir sy hoogstaande vertolkings van Rossini en Verdi se operas, en van die Duitse, Franse en Russiese repertoriums, sowel simfonies as vokaal. Daarby is hy een van die beste konsertbegeleiers van sy tyd, onder andere vir die pianiste Martha Argerich, Alfred Brendel en Maurizio Pollini. Soos in die geval van musiekreuse soos Arrau, Giulini, Karajan en Klemperer is musiek vir hom ‘n mistieke ervaring. Interessant genoeg is hy een van die min groot dirigente wat ‘n introverte geaardheid het, maar sy musikale kommunikasievermoëns is so presies en duidelik dat hy nogtans fenomenale resultate met sy orkeste behaal. Weens sy jarelange stryd teen kanker het hy ‘n maer, bleek voorkoms verkry, maar sy musikaliteit bly steeds uitsonderlik. Onder sy orkesspelers is hy as ‘n ware heer bekend. Sleutelopnames: Brahms se Ein deutsches Requiem (Wenen 1997, DVD); Debussy se opera Pelléas et Mélisande (Wenen); Mendelssohn se volledige simfonieë (Londen); Moessorgski se opera Khowansjina (Wenen 1989, DVD); Rossini se operas L’Italiana in Algeri (Wenen) en Il viaggio a Reims (Kamerorkes van Europa); Schubert se eerste twee simfonieë (Kamerorkes van Europa); Verdi se Requiem (Berlyn 2001, DVD); en die operas Falstaff (Berlyn), Simon Boccanegra (La Scala 1977) en Lohengrin (Wenen, DVD).

Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms, Mahler en Schubert, en ‘n aantal van Dvorák (nr. 9), Mozart en Tsjaikofski (nrs. 2 en 4); Bach se 6 Brandenburgkonserte (DVD); orkeswerke van Bartók, Berlioz, Berg, Bizet, Debussy, Hindemith, Janácek, Moessorgski, Prokofiëf, Ravel, Richard Strauss, Strawinski en Webern; ‘n versameling werke gebaseer op die Prometheus-mite deur Beethoven, Liszt en Skriabin; Beethoven se Koorfantasie, Leonore Prohaska en Die Weihe des Hauses; Berlioz se Te Deum; Brahms se Gesang der Parzen en Schicksalslied; Debussy se La mer en Le Martyre de Saint Sebastien (beide DVD), asook La damoiselle élue; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; Pergolesi se Stabat Mater; Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate; Schumann se Szenen aus Goethes Faust; Verdi se Requiem (Edinburgh 1982 en Wenen); ‘n versameling operakore van Verdi (La Scala 1975); en die operas Wozzeck, Carmen, Don Pasquale, Boris Godoenof, Il barbiere di Siviglia, La Cenerentola, Fierrabras, Elektra, Un ballo in maschera, Don Carlos en Macbeth.

Abbado, Roberto (1954-), Italiaanse dirigent. As kleinneef van die beroemde dirigent Claudio Abbado het hy dirigeerkuns bestudeer by La Fenice (onder Franco Ferrara) en aan die Santa Cecilia Akademie in Milaan. By laasgenoemde het hy die eerste student geword om hul orkes te dirigeer. Hy was vanaf 1991 vir sewe jaar hoofdirigent van die München Radio-orkes, met wie hy ‘n aantal opnames gemaak het. Sy Amerikaanse konsertdebuut is in 1991 in New York gemaak. As gasdirigent tree hy met die voorste orkeste in die VSA, Europa en Australië op, asook by bekende operahuise. Sy bekendheid lê veral in Italiaanse opera. By die Metropolitan Opera het hy in 1997 ‘n opvoering van Giordano se Fedora gedirigeer, met ‘n hoogstaande DVD-opname wat gemaak is. Sleutelopname: Don Pasquale (München). Verdere opnames: I Capuleti e i Montecchi, Tancredi en Turandot.

Abendroth, Hermann (1883-1956), Duitse dirigent. Hy was aanvanklik hoofdirigent van die Lübeck Opera (1907-11) en musiekdirekteur in Essen (1911-5). In 1915 het hy direkteur van die Keulen Konserwatorium geword en vanaf 1918 tot 1934 was hy ook musiekdirekteur van die Gürzenich Orkes in dié stad. Vir ‘n dekade (1927-37) was hy ‘n gasdirigent van die Londense Simfonie-orkes, met wie hy historiese opnames van Brahms se simfonieë nrs. 1 en 3 gemaak het. Soos sy beroemde kollega Wilhelm Furtwängler het hy verkies om in Nasionaal-Sosialistiese Duitsland te bly. In dié tyd was hy dirigent van die Leipzig Gewandhaus Orkes (1934-45) en in 1943/4 het hy by die Bayreuth-fees opgetree. Daar het hy ‘n historiese opname van Die Meistersinger von Nürnberg met van die voorste Wagner-sangers van sy tyd gedirigeer. Die res van sy lewe is in die voormalige Oos-Duitsland deurgebring, sodat hy nie soos ‘n aantal van sy kollegas van Nazi-samewerking aangekla sou word nie. Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het hy musiekdirekteur van die Weimar Nasionale Teater en Simfonie-orkes geword, en later was hy hoofdirigent van die Leipzig Radio Simfonie-orkes (vanaf 1949) en die Oos-Berlynse Radio Simfonie-orkes (vanaf 1953). Met die Leipzig-orkes het hy ‘n hele aantal besondere opnames gemaak, veral van Brahms-werke. Sy dirigeerkuns was in die laat-Romantiese tradisie waarvolgens die bladmusiek as vertrekpunt dien vir ‘n diep persoonlike vertolking. In sy geval was die vertolking impulsief en opwindend, met uiterstes van tempo maar musikaal nogtans bevredigend. Verdere opnames: Schubert se simfonieë nrs. 8 en 9.

Academy of Ancient Music, Engelse orkes en koor wat in 1973 deur Christopher Hogwood gestig is. Hulle bespeel eietydse instrumente en is vernoem na ‘n Londense vereniging wat na 1726 terugdateer. Die oorspronklike vereniging is gestig deur die komponis Pepusch en andere, en het vokale en instrumentele werke bestudeer en uitgevoer. Hulle het tot 1848 bestaan. Onder leiding van Hogwood het die moderne ensemble die eerste opnames van Handel se Messiah en van Mozart se volledige simfonieë volgens eietydse praktyke gemaak. Vir hul 25ste herdenking in 1998 het Tavener sy Eternity’s Sunrise geskryf en met die ensemble saamgewerk aan die opname daarvan en ‘n aantal ander werke van hom, met Patricia Rozario as sopraan-solis en Paul Goodwin as dirigent.

Academy of St Martin-in-the Fields, Londense kamerorkes wat in 1958 deur Neville Marriner gestig is. Hulle is vernoem na die kerk waarin hulle aanvanklik opgetree het. Gedurende die 1960’s het die ASMF, soos die ensemble allerweë bekendstaan, op musiek van die sewentiende en agtiende eeue gekonsentreer. In die 1970’s is die orkes vergroot om ook werke van die negentiende en twintigste eeue te speel. Marriner was tot 1978 hul direkteur, en daarna het Iona Brown die pos beklee. Hul debuut by die Salzburg-fees is in 1982 onder Marriner gemaak.

Accardo, Salvatore (1941-), Italiaanse violis en dirigent. Hy het as dertienjarige sy professionele debuut gemaak en was in 1958 die wenner van die Paganini-vioolkompetisie in Genua. Vanaf 1972 was hy vir sewe jaar direkteur van die Roomse ensemble I Musici. Hy het die eerste violis geword om die volledige vioolkonserte van Paganini op te neem. Tydens die Cremona-fees van 1987 het hy ‘n besondere opname van Vivaldi se Vier Seisoene gemaak, met ‘n verskillende Stradivarius-viool wat vir elk van die vier konserte bespeel is. Sleutelopname: Paganini se 24 Caprices, opus 1. Verdere opnames: vioolkonserte van Beethoven, Dvorák, Haydn, Sibelius en Vivaldi; Bach se Dubbelkonsert (met Anne-Sophie Mutter); Bruch se volledige werke vir viool en orkes; Chausson se Konsert vir viool, klavier en strykkwartet; ander werke vir viool en orkes van Ravel en Saint-Saëns; en vioolsonates van Poulenc en Vivaldi.

Ackermann, Otto (1909-60), Roemeens-gebore Duitse dirigent wat ‘n Switserse burger geword het. Hy het vir langer as dertig jaar gedirigeer by operahuise in Düsseldorf (1928-32), Brno (1932-5), Berne (1935-47), Wenen (die Theater an der Wien, 1947-53), Keulen (1953-8) en Zürich (1958-60). As gasdirigent het hy met van die voorste Europese orkeste opgetree. Sy bekendheid het merendeels in die operettes van Johann Strauss junior en Franz Lehár gelê. In die vroeë 1950’s het hy met beroemde sangers soos Elisabeth Schwarzkopf, Nicolai Gedda en Erich Kunz ‘n klassieke opname van Lehár se gewilde operette Die lustige Witwe gemaak. Dat sy repertorium heelwat wyer gestrek het, blyk uit sy voortreflike 1951-opname van Wagner se Das Rheingold met Inge Borkh as Fricka. Verdere opnames: Lehár se operette Das land des Lächelns; Strauss junior se operettes Die Fledermaus, Eine Nacht in Venedig en Der Zigeunerbaron.

Adam, Theo (1926-), Duitse bas-bariton. Nadat hy sy operadebuut in 1949 in Dresden as die Kluisenaar in Der Freischütz gemaak het, was hy vanaf 1953 vir etlike dekades aan die Berlynse Staatsopera verbonde. Vanaf 1952 het hy ook gereeld by die Bayreuth-fees gesing, en later sou hy daar as verhoogdirekteur optree. Hy was wêreldbekend vir sy uitmuntende sang in Wagner-rolle, veral as Wotan in die Ring. Tydens die Bayreuth-fees van 1967 het hy dit gesing in ‘n hoogstaande opname van die siklus onder Karl Böhm. Verdere debute is gemaak by Covent Garden (1967), en by die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees (beide in 1969). By laasgenoemde het hy in 1984 in die première van Berio se Un re in ascolto opgetree. Hy was verder begaafd in rolle soos Don Pizarro in Fidelio, die titelrolle in Wozzeck, Don Giovanni en Der fliegende Holländer, Publio in La clemenza di Tito, Achilles in Penthesilea, die Musiekmeester in Ariadne auf Naxos, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, Paolo Orsini in Rienzi, Omar in Abu Hassan en Caspar in Der Freischütz. As konsertsanger het hy veral uitgeblink in gewyde werke. Só het hy in Charles Mackerras se opname van Handel se Messiah in Mozart se Duitse verwerking opgetree. Verdere opnames: ‘n hele aantal kantates van Bach (onder Richter); Cavalieri se Die Dialoog van Siel en Liggaam; Mozart se Requiem; die genoemde operas van Beethoven, Schoeck, Strauss, Wagner en Weber, asook La clemenza di Tito, Alfonso und Estrella en Die schweigsame Frau.

Adams, Donald (1928-96), Engelse bas. Aanvanklik was hy 'n akteur, met 'n verhoogdebuut wat in 1944 gemaak is. Sewe jaar later het sy sangdebuut met die D'Oyly Carte Opera plaasgevind, waar hy tot 1969 die eerste bas sou wees. Verdere debute het gevolg in Chicago en by Covent Garden (beide in 1983), die Walliese Nasionale Opera (1984), die Engelse Nasionale Opera (1986) en die Glyndebourne-fees (1988). Hy was merendeels bekend in die operettes van Gilbert en Sullivan, in rolle soos Dick Deadeye in HMS Pinafore, Savoyard in The Mikado, die Seerowerkoning in The Pirates of Penzance en Sergeant Meryll in The Yeomen of the Guard. Opnames: die genoemde operettes, sowel as Cox and Box, Iolanthe, Patience, Princess Ida, Ruddigore en The Sorcerer.

Adler, Larry (1914-2001), Amerikaanse mondfluitjiespeler wat as jong tiener sy verhoogdebuut in New York gemaak het (1928). Daarna het hy wêreldwyd as solis getoer, en in 1949 het hy hom in Engeland gevestig. As enigste wêreldklas-virtuoos met dié instrument het hy komponiste soos Rodrigo, Milhaud, Arnold en Vaughan Williams geïnspireer om werke vir hom te skryf. Hy het verder as akteur in ‘n aantal Hollywood-rolprente verskyn, en het die klankbane vir Genevieve (1953) en High Wind in Jamaica (1965) gekomponeer. Hy het tot in sy tagtigs hy nog opgetree.

Adni, Daniel (1951-), Israeliese pianis. Ná sy Londense debuut in 1970 het hy as solis wyd deur Europa, Japan en die VSA begin toer. Daarby speel hy kamermusiek as lid van die Solomon Trio, wat die volledige klaviertrios van Dvorák in uitmuntende vertolkings opgeneem het. Verdere opnames: Addinsell se Warsaw Concerto; Grieg se volledige Liriese Stukke; solowerke van Debussy en Mendelssohn; en kamerwerke van Martinu.

Adriano, (1944-), Switserse dirigent en komponis. Hy is merendeels selfopgelei en het sedert die laat 1970’s bekend geraak as ‘n spesialis in die musiek van Respighi. Daarby het hy talle opnames gemaak van afgeskeepde simfoniese werke, meesal met die Slowaakse Radio Simfonie-orkes in Bratislawa. Hierdie projek hou verband met sy (straks korrekte) oortuiging dat die musiekgeskiedenis herskryf behoort te word, omdat dit eensydig ten gunste van die ‘groot komponiste’ gelaai is. Sedert 2005 is hy 'n gereelde gasdirigent van die Moskou Simfonie-orkes. Naas sy eie komposisies het hy instrumentele verwerkings van liedere deur Brahms, Wolf, Moessorgski en ander komponiste gemaak. Hy was ook die regisseur in ‘n hele aantal musiekvideos van klassieke werke. Opnames: Auric se La Belle et la Bête rolprentmusiek, asook 2 versamelings suites van sy filmmusiek; Honegger se Les Misérables rolprentmusiek; Ibert se Chant de folie, La Ballade de la Geole de Reading en Suite Elisabethaine; Respighi se orkeswerke Le astuzie di Colombia, La pentola magica, Sevres de la vieille France, Burlesca, Overture Carnavalesca, Suite in E en Simfoniese Variasies, sy kamerwerk Quattro liriche su poesie popolari armene (in sy eie verwerking), en sy kantate La primavera.

Agnew, Paul (1964-), Skotse tenoor. Hy het koorsang aan Magdalen College, Oxford bestudeer, waarna hy lank aan die Consort of Musicke verbonde was. Sedertdien het hy ‘n gewilde solis in konsertwerke en operas geword, veral in Barokmusiek. Onder sy operarolle tel Jupiter in Semele, Jason in Médée, Orfee in La descente d’Orphee aux enfers, die Matroos in Dido and Aeneas, Hippolyte in Hippolyte et Aricie, Abaris in Les Boréades en Valere in Les Indes Galantes. Verder gee hy dwarsoor Europa voordragte van Engelse luitliedere, soms met die bekende luitspeler Christopher Wilson as begeleier. Opnames: liedere van Gurney; Handel se oratoriums Acis and Galatea (as Acis), Saul (as die Hoëpriester) en Theodora (as Septimius); Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Purcell se Dioclesian; A. Scarlatti se oratorium La Santissima Trinitá; Schütz se Kersfeesverhaal (as die Evangelis); versamelings luitliedere (met Wilson); die genoemde operas van Handel, Purcell en Rameau, asook La Guirlande en Zéphyre.

Ahnsjö, Claes-Hakan (1942-), Sweedse tenoor. Hy het sang onder die tenore Max Lorenz en Aksel Schiotz bestudeer, en het in 1969 sy debuut as Tamino in Der Zauberflöte gemaak. Dit was by die Sweedse Koninklike Opera, waarna hy gereeld by hul someropvoerings in Drottningholm gesing het. Sedert 1973 is hy ‘n lid van die Beierse Staatsopera in München, waar hy bekendheid verwerf het in liriese rolle soos Rinaldo in Armida, Nencio in L’indedeltà delusa, Des Grieux in Manon, Idamante in Idomeneo, Almaviva in Il barbiere di Siviglia, David in Die Meistersinger von Nürnberg en die titelrol in Albert Herring. Sy Amerikaanse debuut is in 1975 in Washington gemaak, in Haydn se Die Jahreszeiten onder Antal Doráti. Die titel van Kammersänger is in 1977 in München aan hom toegeken, en hy het wyd deur Europa en in Japan verskyn. Hy het uitgeblink as die Evangelis in Bach se Sint Johannespassie in ‘n opname onder Enoch zu Guttenberg. Verdere opnames: Alfvén se vierde simfonie (onder Järvi); Haydn se Mis nr. 7 (onder Bernstein); die genoemde Haydn-operas, asook Ifigenia in Tauride, Orlando paladino, La vera costanza, Der Prinz von Homburg, Il ré pastore en Il sogno di Scipione.

Ahronowitsj, Joeri (1933-), Russies-gebore Israeliese dirigent. Hy het orkeste in Saratof, Jaroslaf en Moskou gedirigeer voordat hy in 1972 na Israel geëmigreer het. Twee jaar later het sy debuut by Covent Garden plaasgevind, en vanaf 1975 tot 1986 was hy dirigent van die Gürzenich-konserte in Keulen. Vanaf 1982 was hy vir vyf jaar hoofdirigent van die Stockholm Filharmoniese Orkes, wat hy op toere deur Noord-Amerika en Spanje gelei het. Hy het ook met hulle die première van Pettersson se simfonie nr. 16 gegee. Daarby was hy vanaf 1984 ‘n leermeester aan die Koninklike Sweedse Musiekakademie.

Aimard, Pierre-Laurent (1957-), Franse pianis. Hy het onder Yvonne Loriod aan die Parys Konserwatorium studeer en op 15 die eerste prys in die Olivier Messiaen internasionale kompetisie gewen. Sedertdien tree hy as solis met van die voorste orkeste in Europa en die VSA op, in vertolkings gekenmerk deur stylvolle spel. Hy was in 1976 ‘n stigterslid van die Ensemble Intercontemporain in Parys. Sy bekendheid lê merendeels in hedendaagse musiek, met eerste uitvoerings van vele werke deur Boulez, Ligeti, Stockhausen en andere tot sy krediet. Daarby word sy opnames van Beethoven se 5 klavierkonserte, Driedubbele Konsert en Koorfantasie (almal onder Nikolaus Harnoncourt) onder die beste weergawes daarvan gereken. Sleutelopname: Ligeti se klavierkonsert (onder Boulez). Verdere opnames: Bach se Kuns van die Fuga; Boulez se Notations, Structures vir 2 klaviere, en klaviersonate; Dvorák se klavierkonsert; en Messiaen se 20 Régards sur l‘Enfant Jésus.

Ainsley, John Mark (1962-), Engelse tenoor. Hy het sy debuut in 1984 in Londen gemaak en weldra met ensembles vir die uitvoering van vroeë musiek bekend geraak, soos The King’s Consort. Sy operadebuut is in 1988 by die Innsbruck-fees gemaak, in Scarlatti se Gli Equivoci nel Sembiante. Verdere debute het gevolg by die Engelse Nasionale Opera (1989), die Walliese Nasionale Opera (1991) en die Glyndebourne-fees (1992). Laasgenoemde was as Ferrando in Cosi fan tutte. Hy is veral bekend in rolle soos Hylas in Les Troyens, Don Ottavio in Don Giovanni, Aeneas in Dido and Aeneas, die Skaapwagter in Oedipus Rex, Frederic in The Pirates of Penzance, en die titelrolle in Orfeo en Dardanus. Ook in konsertwerke en liedere oor ‘n wye repertorium is hy ‘n toonaangewende sanger. Hy het in 1992 by die Chester-fees tydens die première van sy landgenoot John Tavener se koorwerk We shall see Him as He is gevoelvol gesing as Sint Johannes die Evangelis. Voorts het hy in 2007 as solis in die première van Tavener se koorwerk The Beautiful Names in die Westminster Katedraal verskyn. Sleutelopnames: Handel se oratorium Joshua (in die titelrol, onder King); Howells se Hymnus Paradisi (onder Handley); Rameau se opera Dardanus (onder Minkowski); ‘n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson); Zelenka se Lamentations Jeremiae Prophete (met die Chandos Baroque Players). Verdere opnames: kerkmusiek van Bruckner, Finzi, Stanford en Vaughan Williams; Bach se Magnificat; enkele kantates van Beethoven; Britten se Spring symphony; Carissimi se oratoriums Jephte, Judicium Salomonis en Jonas; Goldschmidt se Mediterranean songs; Handel se Acis and Galatea, The Occasional Oratorio, Ode for the Birthday of Queen Anne, Sing unto God en Te Deum in D; Mendelssohn se oratorium Elijah; Mozart se Mis nr. 18; Nielsen se Hymnus amoris; Tavener se We shall see Him as He is (onder Hickox); Vaughan Williams se Four Hymns en Serenade to Music; koorwerke van Hadley en Purcell; liedere van Howells, Ireland, Lloyd Webber, Vaughan Williams, Walton en Warlock; die genoemde operette van Sullivan; die genoemde operas van Berlioz, Monteverdi, Purcell en Strawinski, asook Gloriana, The Fairy Queen en Don Giovanni.

Alagna, Roberto (1964-), Frans-gebore tenoor van Siciliaanse afkoms. Nadat hy in 1988 die Pavarotti-kompetisie in Philadelphia gewen het, het sy operadebuut as Alfredo in La Traviata met die Glyndebourne Toeropera plaasgevind. Verdere debute het gevolg by La Scala (1990), en by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1992). Hy is getroud met die sopraan Angela Gheorghiu, met wie hy besonder gewild geraak het in opvoerings en opnames van Franse en Italiaanse opera. Hulle het vroeg in die een-en-twintigste eeu die hoofrolle in ‘n rolprentweergawe van Tosca in Rome gesing. Met sy kragtige stem blink hy uit in verdere rolle soos Don José in Carmen, Nemorino in L'elisir d'amore, Edgardo in Lucia di Lammermoor, die manlike hoofrol in Roméo et Juliette, Des Grieux in Manon, die titelrol in Werther, Rodolfo in La Bohème, Ruggero in La Rondine, Rinuccio in Gianni Schicchi, Arnold in Guillaume Tell, die titelrol in Don Carlos en die Hertog in Rigoletto. Sleutelopnames: Puccini se Messa di Gloria (onder Pappano); Verdi se Requiem (onder Abbado, op DVD). Verdere opnames: Berlioz se Te Deum; die genoemde operas van Bizet, Donizetti, Gounod, Massenet, Puccini en Verdi, asook Lucie de Lammermoor (in Frans); ‘n versameling Italiaanse opera-arias (onder Mark Elder); ‘n versameling Berlioz-arias (onder Bertrand de Billy); en ‘n versameling Verdi-duette (met Gheorghiu, onder Abbado).

Alain, Marie-Claire (1926-), Franse orrelis en dirigent. Sy het haar solodebuut as elfjarige in Saint Germain-en-Laye gemaak. Heelwat later, in 1950, het sy die orrelprys by die internasionale musiekkompetisie in Genève gewen. In dieselfde jaar het haar debuut in die Franse hoofstad plaasgevind, waarna sy wêreldwyd uitvoerings gegee het. Sy het die volledige orrelwerke van J.S. Bach nie minder nie as drie keer opgeneem. Daarby was sy 'n gesaghebbende in die musiek van haar komponis-broer Jehan Alain (1911-40), wie se volledige werke sy ook opgeneem het. Sleutelopnames (as solis): J. Alain se Sarabande vir Orrel, Strykkwintet & Keteldrom (onder Kantorow); die vernaamste orrelwerke van Franck (Saint-Etienne, Caen); Poulenc se orrelkonsert (onder Kantorow, 1997). Verdere opnames (as solis): Poulenc se Litanies a la vierge noire (onder Alldis); Saint-Saëns se derde simfonie (onder Jean Martinon); ‘n konsert vir viool, orrel en strykers van Vivaldi; solowerke van C.P.E. Bach, Buxtehude, Handel, Haydn, Messiaen, Pachelbel, Vierne en Widor; (en as dirigent:) Liszt se Missa choralis en Via crucis.

Alban Berg Kwartet, Oostenrykse strykkwartet wat in 1971 gestig is en ‘n jaarlikse konsertreeks in Wenen aanbied. Hulle voer veral moderne komponiste soos Berg en Webern se werke uit, maar is ewe begaafd in die Klassieke en Romantiese repertoriums. Met hul intense vertolkings, stylvolle spel en presiese intonasie is hulle een van die beste strykkwartette van hul tyd. Sleutelopnames: Brahms se 3 strykkwartette (middel 1970’s); Lutoslafski se strykkwartet (1995); Mozart se strykkwartette nrs. 14-23 (laat 1970’s). Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Bartók en Janácek, en talle kwartette van Beethoven, Berg, Dvorák, Haydn, Mozart, Schubert, Smetana en Strawinski; Mozart se strykkwintette (met Markus Wolf) en sy Klavierkwartet K493 (met Alfred Brendel); Schubert se strykkwintet (met Heinrich Schiff); en dansmusiek van die Strauss-familie.

Albanese, Licia (1913-), Italiaans-gebore sopraan. Sy het haar debuut in 1934 in Milaan in die titelrol van Madama Butterfly gemaak. Dit is gevolg deur debute by La Scala en Covent Garden in 1935 en 1937 onderskeidelik. Vanaf 1940 tot 1966 was sy verbonde aan die Metropolitan Opera, waar sy in meer as ‘n duisend opvoerings sou verskyn. Intussen het sy in 1946 ‘n Amerikaanse burger geword. Met haar gevoelvolle sang was sy uitmuntend in die kwesbare heldinne van Puccini, soos Mimì in La Bohème, Liù in Turandot, en die titelrolle in Madama Butterfly en Manon Lescaut. Verder was sy bekend in rolle soos Micaela in Carmen, Nedda in I Pagliacci en Violetta in La Traviata. By die Met het sy in historiese opnames van Carmen, I Pagliacci, La Bohème, Madama Butterfly en La Traviata opgetree.

Alberni Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1962 gestig is. Hulle is veral begaafd in werke uit die negentiende en twintigste eeue. In 1987 het hulle geskiedenis gemaak as die eerste Westerse kwartet om Sjina te besoek. Opnames: strykkwartette van Britten, Donizetti, Puccini, Schumann en Verdi; Schumann en Sjostakowitsj se klavierkwintette, met Thomas Rajna en Clifford Benson onderskeidelik as pianiste.

Albert, Werner Andreas (1935), Duitse dirigent. Aanvanklik het hy musiekwetenskap en geskiedenis studeer, en later dirigeerkuns onder Hans Rosbaud en Herbert von Karajan. Nadat hy in 1961 met die Heidelberg Kamerorkes gedebuteer het, het hy hoofdirigent van die Noordwes-Duitse Filharmoniese Orkes geword. Hy was mettertyd hoofdirigent van die Gulbenkian Orkes in Lissabon en die Nürnberg Simfonie-orkes. Daarby was hy hoofgasdirigent van radio-orkeste in Berlyn, Keulen en Frankfurt, en van die Bamberg Simfonie-orkes. Sedert 1981 dirigeer hy dikwels in Australië en in 1995 het hy hoofdirigent van die Queensland Simfonie-orkes geword. Voorts is hy hoofdirigent van die Beierse Staatsjeugorkes, met wie hy ‘n opname van Siegfried Wagner se opera Sternengebot gemaak het. As spesialis in opnames van minder bekende musiek het hy die volledige orkeswerke van Hindemith, Korngold, Pfitzner, and Benjamin Frankel tot sy krediet. Hy is ‘n senior dosent aan die Meistersinger Konserwatorium in Nürnberg en ‘n adjunk-hoogleraar aan die Universiteit van Queensland. Verdere opnames: S. Wagner se opera Die Heilige Linde.

Albrecht, Gerd (1935-), Duitse dirigent. Hy het sy debuut in 1956 in Hamburg gemaak en twee jaar later die Hilversum-dirigeerkompetisie gewen. Vanaf 1958 was hy vir drie jaar sangafrigter en dirigent by die Stuttgart Opera, waarna dirigeerposte gevolg het by operahuise in Mainz (1961-3), Lübeck (1963-6) en Kassel  (1966-72), en by die Deutsche Oper in Berlyn (1972-9). Vanaf 1975 het hy vir vyf jaar ook die Tonhalle Orkes in Zürich gedirigeer, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1977) en Covent Garden (1986). Hy het die premières van ‘n aantal werke deur Fortner, Henze en Reimann gegee, waaronder laasgenoemde se opera Lear in München (1978). Tydens die Salzburg-fees van 1982 het hy 'n uitstekende opname van Schoeck se opera Penthesilea gedirigeer. Vanaf 1988 was hy hoofdirigent van die Hamburg Staatsopera en Filharmoniese Orkes, en vier jaar later het hy die eerste Duitse hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes geword. Met hulle het hy ‘n ongewone versameling orkeswerke deur Joods-Tsjeggiese komponiste wat in Nazi-konsentrasiekampe gesterf het, opgeneem. In 1996 het hy egter te midde van 'n wolk van politieke omstredenheid uit dié pos bedank.

Albrecht is sedert 2000 hoofdirigent van die Deense Nasionale Radio Simfonie-orkes, met wie hy ‘n voortreflike versameling Wagner-ouvertures en -preludes opgeneem het. Naas sy bekendheid in moderne opera is hy 'n onvermoeide kampvegter vir afgeskeepde operas van vroeëre tydperke, insluitend werke van Dvorák, Schumann en Spontini. Verdere opnames: ‘n versameling koorwerke van Brahms; Dvorák se oratorium Saint Ludmila en kantate Die Spook se Bruid; orkeswerke van Reger; Schumann se Manfred; en die operas Arlecchino, Turandot (van Busoni), Dimitrij, Die Jakobyn, Wanda, Die Bassariden, Der Schatzgräber, Der Corregidor, Mathis der Maler, Historia von D Johann Fausten, Genoveva, Olympie, Die Bakchantinnen, Eine florentinische Tragödie en Der Geburtstag der Infantin.

Aldeburgh, ‘n dorp in Suffolk, Engeland waar sedert 1948 ‘n jaarlikse musiekfees gehou word. ‘n Uitstekende konsertsaal, The Maltings, in nabygeleë Snape word gebruik. Die feeste is vir etlike dekades oorheers deur die stigter daarvan, die komponis Benjamin Britten, met die eerste uitvoerings van ‘n aantal van sy werke wat daar gegee is. Sedert Britten se dood het Steuart Bedford, Mstislaf Rostropowitsj, Murray Perahia en Oliver Knussen as artistieke direkteure gedien.

Aleksasjkin, Sergei (?-), Russiese bas. Nadat hy in 1982 aan die Staatskonserwatorium in Saratof gegradueer het, is hy deur die stad se operahuis in diens geneem. Verdere studies het in 1983/4 by La Scala in Milaan gevolg en sedert 1989 is hy ‘n lid van die Kirof Opera in Sint Petersburg. Met hulle het hy aan toere na ‘n aantal Europese lande deelgeneem, asook na Israel en die VSA. Hy is met sy kragtige sang veral bekend in Russiese opera en konsertwerke. Onder sy beste rolle tel die titelrol in Die suinige ridder en Koning René in Jolanta. Sleutelopnames: Rachmaninof se opera Die suinige ridder (onder Järvi); Sjostakowitsj se simfonie nr. 13 (onder Jansons). Verdere opnames: Sjostakowitsj se simfonie nr. 13 (onder beide Barsjai en Temirkanof); en die operas Prins Igor en Oorlog en Vrede (beide op DVD), Die Tsaar se Bruid en Jolanta.

Aler, John (1949-), Amerikaanse tenoor. Hy het sy operadebuut in 1977 gemaak as Ernesto in Don Pasquale, en twee jaar later het hy in Europa begin sing. Daar het hy gedebuteer by die Glyndebourne-fees (1979), en later by Covent Garden (1986) en die Salzburg-fees (1988). Met sy hoë stem en soet toonkleur is hy bekend in Klassieke en vroeg-Romantiese rolle soos Gardefeu in Le Postillon de Longjumeau, Alphonse in La Muette de Portici, Nadir in Les pêcheurs de perles, Achille in Iphigénie en Aulide, Pylade in Iphigénie en Tauride, Jupiter in Semele, Gernando in L’isola disabitata, Ferrando in Così fan tutte, Paris in La Belle Hélène, Calisis in Les Boréades en die Graaf in Le Comte Ory. Verder is hy 'n begaafde konsertsanger, ook in moderne werke. Opnames: Bartók se Cantata profana; Beethoven se Missa solemnis; Berlioz se L'enfance du Christ; Dvorák se Stabat Mater, Psalm 149 en kantate Die Spook se Bruid; Gounod se Mors et Vita; Honegger se Jeanne d'Arc au bûcher; Liszt se Faust Simfonie (onder Conlon); Orff se Carmina Burana (onder Ozawa en Mata); die genoemde operette van Offenbach; die genoemde operas van Adam, Auber, Bizet, Gluck, Handel, Haydn, Mozart, Rameau en Rossini, asook Saint Francois d’Assise.

Alessandrini, Rinaldo (1960-), Italiaanse dirigent en musiekgeleerde. Hy is meesal selfopgelei en het sy loopbaan as klawesimbelspeler begin. In dié hoedanigheid het hy in 1993 ‘n hoogaangeskrewe opname van solowerke deur Italiaanse komponiste van die tydperk 1550-1700 gemaak. In 1995 het hy die vokale en instrumentele ensemble Concerto Italiano gestig, wat hy sedertdien dirigeer. Hulle spesialiseer in vroeë musiek, met ‘n hele aantal uitstekende opnames tot hul krediet. Hul opname van Domenico Scarlatti se Stabat mater en Missa Quatuor Vocum is in 2004 met ‘n Cannes Klassieke Toekenning bekroon. In dieselfde jaar is hul opname van Vivaldi se Vespri solenni per la festa dell’Assunzione di Maria Vergine vir ‘n Gramophone-toekenning benoem. Hy het afgeskeepde werke herleef soos Alessandro Scarlatti se oratorium San Filippo Neri (2002) en Melani se Il fratricidio di Cain (2003). As operadirigent is hy veral bekend in die musiek van Handel, Vivaldi en Mozart. Sleutelopnames: Monteverdi se Madrigale (Boeke 2, 3 en 5), en sy opera-ballette Il combattimento di Tancredi e Clorinda en Il ballo delle Ingrate; Pergolesi se Stabat Mater; A. Scarlatti se Stabat Mater. Verdere opnames (as solis): Bach se klawesimbelkonserte nrs. 2 en 3; triosonates van Zelenka; (as dirigent:) Bach se 6 Brandenburgkonserte (op DVD) en Die Kuns van die Fuga; Frescobaldi se Il primo libro de’ madrigale; die volledige madrigale van Monteverdi, en vele van Gesualdo en Marenzio; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Vivaldi se Strykerkonserte RV 117, RV 134, RV 151 & RV 243, die Vier seisoene, kantates Amor hai vinto en Cessate, omai cessate, koorwerke Gloria in D, Magnificat, Stabat Mater, La Senna festeggiante, en opera L’Olimpiade.

Alexander, John (1923-90), Amerikaanse tenoor. Sy debuut in 1952 by die Cincinatti Opera, in die titelrol van Faust, is gevolg deur verdere debute by die New York Stadsopera (1957), die Metropolitan Opera (1961), die Weense Opera (1968) en Covent Garden (1970). Verder het hy die titelrol gesing in die Amerikaanse première van Don Carlo in Boston (1973), en die rol van Koning Arindal in 'n hoogstaande opname van Die Feen onder Wolfgang Sawallisch.

Alexander, Roberta (1949-), Afro-Amerikaanse sopraan. Nadat sy in 1979 haar Europese debuut by die Nederlandse Opera gemaak het, het nog debute gevolg by Covent Garden (1980), die Metropolitan Opera (1983), en die feeste in Salzburg (1986) en Glyndebourne (1989). Met haar ryk, warm stem is sy begaafd in beide opera en konserte, asook in liedere van haar landgenote. Onder haar beste operarolle tel Stella in Der gewaltige Hahnrei, Cleopatra in Giulio Cesare, Elettra in Idomeneo, Agave in Die Bakchantinnen, en die titelrolle in Beatrice Cenci en Jenufa. Opnames: Handel se oratoriums Samson (as Dalila) en Theodora; Mahler se vierde simfonie (onder Haitink); Telemann se kantate Ino; versamelings liedere van Bernstein, Copland, Ives en Puccini; en die genoemde operas van Goldschmidt, Handel, Janácek, Mozart en Wellesz, asook Norma.

Aleksejef, Dimitri (1947-), Russiese pianis. Hy het op vyf begin klavier speel en as sesjarige met klavierlesse aan die Moskou Konserwatorium begin. Na graduering het hy verder onder Dimitri Basjkirof studeer, waarna hy pryse in etlike internasionale kompetisies sou wen. Daaronder tel die Marguerite Long in Parys (1969), die Enescu in Boekarest (1970) en die Tsjaikofski in Moskou (1974). In 1975 het hy die eerste Rus geword om die Leeds-kompetisie in Engeland te wen, en sedertdien tree hy as solis met van die voorste orkeste ter wêreld op. Sy Amerikaanse debuut is in 1976 in Chicago gemaak. Hy het in 2002 die wêreldpremière van Penderecki se Opstanding klavierkonsert met die Sjinese Filharmoniese Orkes in Beijing gegee. In dieselfde jaar het hy in Wenen in die première van Penderecki se Sekstet gespeel, met bekendes soos Basjmet en Rostropowitsj as vennote. Hy is in Engeland woonagtig en toer dikwels deur Rusland. Met sy aristokratiese spel is hy meesterlik in Russiese musiek en in die Romantiese repertorium oor die algemeen. Hy is bevriend met sy landgenoot Nikolai Demidenko, met wie hy dikwels in ‘n klavierduet speel. Hulle het werke vir twee klaviere van Metner en Rachmaninof opgeneem, waaronder laasgenoemde se Russiese Rapsodie en Simfoniese Danse. Hy het ‘n verwerking vir klavierduet gemaak van uittreksels uit Gershwin se opera Porgy and Bess. Sleutelopnames: Sjostakowitsj se twee klavierkonserte (onder Jerzy Maksymiuk). Verdere opnames: Brahms se Fantasias, Intermezzi en Stukke, opus 116-119; Metner se eerste klavierkonsert en klavierkwintet (laasgenoemde met die Nuwe Boedapest Kwartet); Schumann se Etudes symphoniques; Skriabin se Prometheus; Rachmaninof se 24 Preludes en ander solowerke; en solowerke van Chopin en Metner. Sy dogter Anya, ook ‘n pianis, het in 2002 die eerste uitvoering van Paul McCartney se klavierstuk A Leaf gegee.

Alldis, John (1929-2010), Engelse koordirigent. Hy het in 1962 die bekende koor wat na hom vernoem is gestig, wat hy vervolgens gedirigeer het. Onder die vele opnames waarin hul gesing het, tel werke van Bruckner en Webern. Verder was hy dirigent van die Londense Simfoniekoor wat ook deur hom gestig is (1966-9), die Londense Filharmoniese Koor (1969-82) en die Deense Radiokoor (1972-7). Hy was vanaf 1978 vir vyf jaar musiekdirekteur van die Groupe Vocale de France, met ‘n hoogstaande opname van ‘n versameling kerkmusiek deur Poulenc tot hul krediet.

Allegri Kwartet, Engelse strykkwartet wat in 1953 gestig is. Hulle is verbonde aan die Universiteit van Oxford en voer veral moderne Britse komponiste se werke op, maar is ewe begaafd in die Klassiek-Romantiese repertorium. Opnames: Brahms se klarinet- en klavierkwintette (met James Campbell en Rian de Waal onderskeidelik), Elgar se Inleiding en allegro, Mozart se klarinetkwintet (met Jack Brymer), Sirmen se strykkwartette nrs. 1-6, Sjostakowitsj se derde strykkwartet, en Vaughan Williams se Fantasia on a theme of Thomas Tallis.

Allen, Thomas (1944-), Engelse bariton. Sy operadebuut is in 1969 met die Walliese Nasionale Opera gemaak, as Figaro in Il barbiere di Siviglia. Daarna het debute gevolg by Covent Garden (1971), die Glyndebourne-fees (1973), die Metropolitan Opera (1981) en La Scala (1987). In 1986 het hy by die Engelse Nasionale Opera die titelrol in die eerste Britse verhoogproduksie van Doktor Faust geskep. Met sy warm, gevoelvolle sang en uitmuntende karakterisering is hy begaafd in Mozart-rolle soos Alfonso en Guglielmo in Così fan tutte, die titelrol in Don Giovanni, die Graaf in Le nozze di Figaro en Papageno in Die Zauberflöte. Ook blink hy uit in die titelrolle van Billy Budd en Jewgeni Onegin, en as Balstrode en Ned Keene in Peter Grimes, Malatesta in Don Pasquale, Oreste in Iphigénie en Tauride, die Bosbouer in Die geslepe klein wyfievos, Albert in Werther, Marcelline in La Bohème, Lescaut in Manon Lescaut, Aeneas in Dido and Aeneas, Figaro in Il barbiere di Siviglia, Eisenstein in Die Fledermaus, die Graaf in Capriccio, die Kaptein in HMS Pinafore, Hector in King Priam en Beckmesser in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy het verskyn in beeldopnames van die genoemde Puccini-operas by Covent Garden. Voorts was hy briljant as Beckmesser in ‘n 2001-opvoering by die Met onder James levine, met ‘n DVD wat daarvan getuig.

Allen se wye repertorium, wat vanaf Purcell tot by moderne Britse komponiste strek, sluit ook talle liedere en konsertwerke in. Die CBE is in 1989 aan hom toegeken. Sleutelopnames: Purcell se Come, Ye Sons of Art (onder Gardiner); Vaughan Williams se Fantasia on Christmas Carols en Five mystical songs (beide onder Best). Verdere opnames: Britten se Curlew River en War Requiem; Berlioz se L'enfance du Christ; Duruflé se Requiem; Hoddinott se Dives and Lazarus; Mahler se agste simfonie (onder Sinopoli); Mendelssohn se Elijah; Orff se Carmina Burana; Vaughan Williams se Dona nobis pacem, Psalm 90 en Serenade to Music; Walton se Belshazzar's Feast; liedere van Barber, Brahms, Duparc, Fauré, Poulenc, Ravel, Schubert, Vaughan Williams en Wolf; die genoemde operettes van J. Strauss en Sullivan; die genoemde operas van Britten, Donizetti, Gluck, Janácek, Massenet, Mozart, Puccini, Purcell, Rossini, R. Strauss, Tsjaikofski en Tippett, asook Béatrice et Bénédict en I Pagliacci; en ‘n versameling Mozart-arias (onder Richard Armstrong).

Alsop, Marin (1956-), Amerikaanse dirigent. Sy het aan die Yale Universiteit, die Juilliard Musiekskool en die Tanglewood Musieksentrum studeer. By Tanglewood was sy ‘n leerling van die dirigente Leonard Bernstein en Seiji Ozawa. Daar het sy in 1989 die eerste vrou geword om die Koussewitzki-dirigeerprys te wen. Sy het in dieselfde jaar die Stokowski-dirigeerkompetisie in New York gewen en vanaf 1993 was sy musiekdirekteur van die Colorado Simfonie-orkes. In 1999 het sy hoofgasdirigent van die Koninklike Skotse Nasionale Orkes in Glasgow geword, met wie sy hoogstaande opnames van haar landgenoot Barber se orkeswerke sou maak. Sy het in 2002 hoofdirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes geword, en daarby is sy musiekdirekteur van die Cabrillo-fees vir eietydse musiek in Kalifornië. Haar debuut by die Engelse Nasionale Opera is in 2003 met Rigoletto gemaak, en in dieselfde jaar is sy as Gramophone se Kunstenaar van die Jaar bekroon. Haar bekendheid lê veral in moderne musiek, waarvan sy talle opnames op die Naxos etiket gemaak het. Sy het in 2007 musiekdirekteur van die Baltimore Simfonie-orkes geword – die eerste vrou om aan die spits van ‘n vooraanstaande Amerikaanse orkes te staan. Met hulle is sy besig om die volledige simfonieë van Dvorák op te neem, waarvan die eerste vrystelling (nr. 9) spoedig ‘n internasionale topverkoper geword het. Sleutelopnames: Barber se 2 simfonieë, Adagio vir Strykers en Medea balletsuite (almal Glasgow). Verdere opnames: Barber se Knoxville: Summer of 1915; Bartók se Danssuite, Hongaarse Prente en ballette The Miraculous Mandarin en The Wooden Prince; Bernstein se Chichester Psalms en Mass; Brahms se volledige simfonieë en ouvertures; Collins se Simfonie in B mineur; Glass se simfonieë nrs. 1 en 4; Orff se Carmina Burana; 'n versameling orkeswerke van Takemitsu; Weill se  simfonieë nrs. 1 en 2; en die opera Bloubaard se Kasteel.

Altmeyer, Jeannine (1948-), Amerikaanse sopraan van Duitse afkoms. Sy het haar debuut by die Metropolitan Opera in 1971 gemaak, in Don Carlos. Daarna het debute in Chicago (1972), by die Salzburg Paasmusiekfees (1973), Covent Garden (1975) en die Bayreuth-fees (1976) gevolg. Laasgenoemde was met die eeufeesviering, waartydens sy Sieglinde in Die Walküre en Gutrune in Götterdämmerung gesing het. Gedurende die 1970’s was sy verbonde aan operahuise in Zürich (1973-5) en Stuttgart (1975-9). Sy is ‘n begaafde sangeres in Wagner-operas, naas die genoemde rolle ook as Isolde in Tristan und Isolde en Brünnhilde in die Ring. By Bayreuth het sy onder Pierre Boulez in uitstekende opnames van die genoemde Wagner-operas gesing. Sy het heelwat later, in 1999, weer as Brünnhilde uitgeblink in Ring-opvoerings by die Amsterdam Teater onder Hartmut Hänchen, met DVD-opnames wat gemaak is.

Altmeyer, Theo (1931-), Duitse tenoor. Na studies in Keulen het hy in 1956 by die Berlynse Stadsopera aangesluit, waar hy vir vier jaar sou bly. Daarna het hy ‘n lid van die Hannover Opera geword, en later het hy by die Stuttgart Opera en die Weense Staatsopera opgetree. Sedert 1974 gee hy onderrig aan die Hannover Konserwatorium, terwyl hy voortgegaan het om in opera en konserte te sing. Hy het uitgeblink as die Evangelis in hoogstaande opnames van Bach se Kersfeesoratorium, Sint Johannespassie en Sint Mattheüspassie, en hy het verder in ‘n hele aantal opnames van Bach-kantates gesing.

Alva, Luigi (1927-), Peruwiaanse tenoor. Hy het sy debuut in 1949 in Lima gemaak en daarna in Milaan gaan studeer. Verdere debute het gevolg by La Scala (1956), die Salzburg-fees (1957), Covent Garden (1960) en die Metropolitan Opera (1964). Met sy ligte stem was hy bekend in liriese operarolle soos Nemorino in L'elisir d'amore, Ecclitico in Il mondo della luna, Don Ottavio in Don Giovanni, Almaviva in Il barbiere di Siviglia, Don Ramiro in La Cenerentola en Fenton in Falstaff. Hy het in 1982 die rol van Sempronio in Haydn se opera Lo Speziale in Lugano, Switserland gesing, met 'n beeldopname wat gemaak is. In 1989 het hy uitgetree. Verdere opnames: enkele madrigale van Monteverdi; die genoemde operas van Donizetti, Haydn, Mozart, Rossini en Verdi, asook Alcina, La fedeltà premiata en L'isola disabitata.

Amadeus Kwartet, Brits-gebaseerde strykkwartet (met drie lede wat in Duitsland of Oostenryk gebore is) wat in 1948 hul Londense debuut gemaak het. Tien jaar later het hul eerste wêreldtoer plaasgevind, en vanaf 1966 was hulle vir twee jaar aan die Universiteit van York verbonde. Hulle het vanaf 1987, ná die dood van die altviolis, as die Amadeus Trio voortgespeel. Met hul soepel, elegante spel was hulle veral in die Weense repertorium wêreldberoemd, maar ook Britten het sy derde strykkwartet vir hulle geskryf. Hulle het dié werk in 1976 vir die komponis in sy Aldeburgh-huis, kort voor sy dood, gespeel. Eredoktorsgrade is van die universiteite van Londen en York ontvang, asook toekennings van die Duitse en Oostenrykse regerings. Opnames: die volledige strykkwartette van Beethoven en Brahms, asook laasgenoemde se volledige strykkwintette en -sekstette (met Aronowitz en Pleeth as ekstra lede); 'n hele aantal van Britten, Dvorák, Haydn, Mozart (nrs. 15-23), Schubert, Smetana en Tippett se strykkwartette; Mozart se strykkwintette nrs. 2, 3, 5 en 6 (met Aronowitz) en sy klarinetkwintet (met De Peyer); Schubert se Forelle-kwintet (2 weergawes, met Emil Gilels en Hephzibah Menuhin as pianiste); en Richard Strauss se Capriccio prelude (met Aronowitz en Pleeth).

Ambache Kamerorkes, Londense ensemble wat in 1984 deur die pianis en musiekgeleerde Diana Ambache gestig is. Hulle tree sonder 'n dirigent op en spesialiseer in die musiek van Mozart en sy tydgenote, met gereelde toere wat deur Europa, die Verre Ooste en die VSA onderneem word. Daarbenewens doen hulle pionierswerk om die musiek van vroue-komponiste soos Amy Beach, Fanny Mendelssohn en Clara Schumann te bevorder. Vier van hulle vorm die Ambache Kwartet. As solis het Diana Ambache in ‘n hoogstaande opname van Donizetti se Wals in C gespeel. Verdere opnames: Beach se klavierkwintet, klaviertrio, Theme and Variations vir fluit en strykkwartet (met Helen Keen), Pastorale vir houtblaserskwintet, strykkwartet en vioolsonate.

Ameling, Elly (1933-), Nederlandse sopraan. Sy het in Rotterdam en Den Haag studeer, en onder die vermaarde liederesanger Pierre Bernac in Parys. Daarna het sy eerste pryse gewen by die sangkompetisies in s’Hertogenbosch (1956) en Genève (1958). Haar amptelike debuut is in 1961 in Amsterdam met ‘n liedere-voordrag gemaak, waarna sy wêreldwyd in konserte en voordragte begin sing het. Dit sluit debute in Londen (1966) en New York (1968) in. Met haar suiwer stemtoon, akkurate intonasie en natuurlike kunstenaarskap is sy wêreldbekend in Duitse liedere, veral dié van Schubert. Sy is ewe begaafd as konsertsangeres, met ‘n repertorium wat strek vanaf Monteverdi tot by moderne komponiste soos Britten en Poulenc. Veral in die gewyde werke van Bach is sy een van die beste sangers van die twintigste eeu. Onder haar weinige opera-optredes het dié getel in 1970 oor die Nederlandse TV in die titelrol van Madama Butterfly, en as Ilia in Idomeneo in Scheveningen onder Michael Gielen (1973) en in Amsterdam onder Hans Vonk (1976). In 1971 is sy deur die Nederlandse koningin tot Ridder in die Orde van Oranje Nassau geslaan.

Ameling het in meer as 150 opnames gesing, waarvoor toekennings soos die Edison-prys, die Grand Prix du Disque en die Preis der Deutsche Schallplattenkritik verwerf is. Eredoktorsgrade is deur ‘n aantal universiteite in Kanada en die VSA aan haar toegeken. Haar afskeidstoer is in 1995 onderneem, maar sy gaan voort om wêreldwyd meesterklasse vir sangers en begeleiers aan te bied. Sleutelopnames: ‘n versameling Schubert-liedere wat in 1815 geskryf is (met Graham Johnson as begeleier); Vivaldi se Nulla in mundo pax sincera (onder Negri). Verdere opnames: kerkmusiek van Handel en Mendelssohn; Grieg se Peer Gynt suite; Bach se Kantates nrs. 10 en 147, en sy Kersfees- en Paasfeesoratoriums, Magnificat en Sint Johannespassie; Haydn se Mis nr. 7 en oratorium Die Schöpfung; Mahler se tweede en vierde simfonieë (beide onder haar landgenoot Bernard Haitink); Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; ‘n versameling konsertarias van Mozart, en sy Exsultate, jubilate; Vivaldi se oratorium Juditha triumphans; liedere van Brahms, Martin, Mozart, Schumann en Wolf; en Haydn se opera Orlando paladino.

Amoyal, Pierre (1949-), Franse violis. Hy het as jong musikus 'n aantal belangrike pryse gewen, waaronder die Ginette Neveu (1963), die Paganini (1964) en die Enescu (1970). In 1971 het hy Berg se vioolkonsert onder Georg Solti gespeel, en sedertdien toer hy wêreldwyd. Sy New York-debuut het in 1985 plaasgevind. Hy was ‘n hoogleraar in viool aan die Parys Konserwatorium (1977-86) en aan die Lausanne Konserwatorium. Met sy soet toonkleur en gevoelvolle spel is hy begaafd in ‘n repertorium vanaf die Barok tot die twintigste eeu. Sleutelopname: Fauré se 2 vioolsonates (met Pascal Rogé). Verdere opnames: Sibelius en Tsjaikofski se vioolkonserte; Brahms se 3 vioolsonates; Janácek se vioolsonate; Lalo se Symphonie espagnole; Respighi se Concerto gregoriano; Saint-Säens se vioolkonsert nr. 3; Tartini se vioolkonserte D.56 en D.82; en Tsjaikofski se klaviertrio (met Rogé en Lodeon).

Amsterdam Loeki Stardust Kwartet, Nederlandse ensemble van vier blokfluitspelers. Met hul ryk toonkleur en gepoleerde spel is hulle wêreldbekend in musiek van die Renaissance en Barok. Opnames: ‘n versameling blokfluitkonserte van Heinichen, Marcello, Schickhardt, Telemann en Vivaldi (met die Academy of Ancient Music); en ‘n versameling Italiaanse blokfluitmusiek.

Ancerl, Karel (1908-73), Tsjeggiese dirigent. Hy was vanaf 1929 vir twee jaar ‘n assistent vir Hermann Scherchen in Königsberg, waarna hy ‘n dirigent was van die Praag Radio-orkes (1933-9). In 1942 het die Nazis hom na die Theresienstadt konsentrasiekamp gestuur. Daar het hy die eerste uitvoering van sy mede-gevangene Pavel Haas (wat in die kamp gesterf het) se Studies vir strykorkes gegee. Ná die Tweede Wêreldoorlog was hy hoofdirigent van die Tsjeggiese Radio-orkes (1947-50) en die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes (1950-68). Met laasgenoemde het hy in 1963 by die Salzburg-fees gedebuteer. Hul opname van Strawinski se opera Oedipus Rex met die Praag Filharmoniese Koor is in 1968 met ‘n Grand Prix du Disque bekroon. Hy het sy geboorteland met die Sowjet-inval in dieselfde jaar verlaat en hom in Kanada gevestig. In dié land was hy tot sy afsterwe enkele jare later hoofdirigent van die Toronto Simfonie-orkes. Hy was ‘n meesterlike vertolker van Tsjeggiese en Russiese musiek, veral van die twintigste eeu. Sleutelopname: Dvorák se Requiem (Praag 1959). Verdere opnames: Bartók se Konsert vir Orkes; Dvorák se negende simfonie; Janácek se Glagolitiese Mis, Sinfonietta en Taras Bulba; Martinu se simfonieë nommers 1, 3, 5 en 6, en sy koorwerk Bouquet of Flowers; Prokofiëf se eerste simfonie en kantate Alexander Nevsky; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 5 en 10; Smetana se Má Vlast; Strawinski se ballet Le sacre du printemps en Simfonie van Psalms; en Vycpálek se Kantate van die Mens se Laaste Dinge en Requiem.

Anda, Géza (1921-76), Hongaars-gebore pianis en dirigent. Hy was ‘n leerling van die pianis en komponis Ernö Dohnányi en het in 1940 die Liszt-prys gewen. Twee jaar later het hy na Switserland uitgewyk, waar hy hom gevestig het. Hy het in 1952 ‘n Switserse burger geword en in dieselfde jaar is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. Die legendariese dirigent Wilhelm Furtwängler het hom daar as ‘n troebadoer van die klawerbord bestempel. Sy vertolkings van sy landgenoot Bartók was uitmuntend, en hy was met sy elegante spel ewe briljant in die musiek van Beethoven, Brahms en Mozart. Sleutelopname: Bartók se 3 klavierkonserte (onder Fricsay, 1959/60). Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Mozart, asook Brahms se tweede en die een van Grieg; Bartók se Suite; Beethoven se Driedubbele konsert (met Schneiderhan en Fournier), en klaviersonates nrs. 7, 14 en 28; Brahms se Paganini Variasies; Mozart se Konsert vir 2 klaviere, K365 (met Clara Haskil); en Schumann se études symphoniques.

Anders, Peter (1908-1954), Duitse tenoor. Sy debuut is in 1931 in Hamburg in Offenbach se operette La Belle Hélène gemaak. Later was hy verbonde aan die Beierse Staatsopera in München (1938-40), die Berlynse Staatsopera (1940-8) en die Hamburg Opera (1948-54). Hy het verdere debute gemaak by die feeste in Salzburg (1941) en Edinburgh (1950), en by Covent Garden (1951). Sy bekendheid het merendeels in die operas van Mozart gelê, en daarby was hy ‘n begaafde konsertsanger. Só het hy uitgeblink in opnames van Beethoven se negende simfonie en vier orkesliedere van Richard Strauss, beide in 1942 met die Berlynse Filharmoniese Orkes onder Wilhelm Furtwängler. Hy is in ‘n motorongeluk dood.

Anderson, June (1950-), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1978 haar operadebuut by die New York Stadsopera gemaak, as die Koningin van die Nag in Der Zauberflöte. Vier jaar later het haar Europese debuut in Rome plaasgevind, gevolg deur debute in Parys (1985), by Covent Garden en La Scala (beide in 1986), Wenen (1987) en die Metropolitan Opera (1989). Haar bekendheid lê merendeels in koloratuurrolle soos Madeleine in Le Postillon de Longjumeau, Elvira in La Muette de Portici, Cunegonde in Candide, Elena in La donna del lago, Elvira in I Puritani, Eudoxia in Le juive, L'Ensoleillad in Chérubin, die Koningin van die Nag, Anna in Maometto II, die titelrol in Semiramide, Ophélie in Hamlet en Giselda in I Lombardi. By die Teatro Regio in Parma het sy in 2001 stewig vertoon in die titelrol van Norma (onder Fabio Biondi), met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Albinoni se Il nascimento dell'Aurora; Beethoven se negende simfonie (onder Bernstein); die genoemde operette van Bernstein; en die genoemde operas van Adam, Aubert, Donizetti, Halèvy, Meyerbeer, Mozart, Rossini, Thomas, Tsjaikofski en Verdi.

Anderson, Marian (1897-1993), Afro-Amerikaanse alt. Sy het in 1929 haar eerste uitvoering in New York gegee en in die jaar daarop in Londen gedebuteer. In 1955 het sy geskiedenis gemaak deur die eerste swart sanger te word om by die Metropolitan Opera te verskyn. Dit was as Ulrica in Un ballo in maschera. Sy het gesing by die inhuldigings van die Amerikaanse presidente Eisenhower (1953) en Kennedy (1961), en in 1965 het sy uitgetree. Haar bekendheid het meer in konsertmusiek as in opera gelê, en asook in Sibelius se liedere.

Anderszewski, Piotr (1969-), Poolse pianis. Hy het vanaf sesjarige leeftyd klavierlesse ontvang en later sou uitgebreide studies plaasvind aan die konserwatoriums in Lyon en Strasbourg, die musiekakademie in Warskou en die Universiteit van Suidelike Kalifornië in Los Angeles. Meesterklasse het in Italië gevolg onder die vermaarde pianiste Fou Ts’ong, Murray Perahia en Leon Fleisher. Sy professionele loopbaan is afgeskop toe hy tydens die internasionale klavierkompetisie in Leeds in 1990 die Variasies (opus 27) van Webern gespeel het, maar uit teleurstelling met sy spel onttrek het. In die jaar daarop het hy  die veeleisende Diabelli Variasies van Beethoven in Londen met groot sukses uitgevoer. Sedertdien woon hy meesal in Parys en tree wyd deur Europa as solis op. Voorts was hy in die 1990’s ‘n vennoot van die violis Wiktoria Mullowa in haar sonate-uitvoerings en -opnames. Hulle het toere na die Verre Ooste en deur Europa onderneem, en sy eerste opname is met haar gemaak, van sonates deur Debussy, Janácek en Prokofiëf. Sy opname van solowerke deur Bach, Beethoven en Webern is in 1996 met die Poolse Fryderyk-toekenning bekroon. In 2000 het hy die Szymanowski-toekenning in sy geboorteland ontvang. Sleutelopname: Beethoven se Diabelli Variasies. Verdere opnames: Bach se Partita nr. 2 en Engelse suite nr. 6; Beethoven se klaviersonate nr. 31; en solowerke van Bartók, Janácek, Schumann en Webern.

André, Franz (1893-1975), Belgiese violis, dirigent en komponis. Hy het vanaf 1923 as violis in die Belgiese Radio-orkes gespeel en later hul dirigent geword. In 1935 het hy die Belgiese Radio Simfonie-orkes gestig, waarvan hy tot 1958 die musiekdirekteur sou wees. Daarby het hy vanaf 1920 tot 1944 aan die Brussels Konserwatorium onderrig gegee. As kampvegter vir moderne musiek het hy in 1955 die eerste uitvoering van Milhaud se sewende simfonie gedirigeer.

André, Maurice (1933-), Franse trompetspeler. Nadat hy in 1954 sy debuut gemaak het, het hy die internasionale kompetisies in Genève (1955) en München (1963) gewen. Hy het as solis met bekende orkeste opgetree, en in 1966 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind. Vanaf 1967 tot 1978 was hy 'n hoogleraar in trompetspel aan die Parys Konserwatorium. Met sy meesterlike spel is hy wêreldbekend in Barok- en Klassieke musiek, asook in sommige moderne werke. Hy het gespeel in Fritz Werner se hoogstaande opnames van ‘n groot aantal Bach-kantates vanaf die laat 1950’s tot die vroeë 1970’s. Verdere opnames: trompetkonserte en ander werke van Handel, J. en M. Haydn, Hummel, Richter, Molter, A. Scarlatti, Telemann, Torelli en Vivaldi.

Andsnes, Leif Ove (1970-), Noorse pianis. Hy het aan die Bergen Konserwatorium onder die Tsjeggiese hoogleraar Jiri Hlinka studeer en talle pryse gewen. Daaronder tel die Hindemith-prys in Frankfurt (1987), die Levin-prys in Bergen en die Noorse Musiekkritici-prys in Oslo (beide in 1988) en die Grieg-prys in Bergen (1990). Sy 1990-opname van Grieg se klavierkonsert en Liszt se klavierkonsert nr. 2 onder Dimitri Kitajenko het hoë lof ingeoes. Sedertdien is hy wêreldwyd in aanvraag, as voordraer en as solis met die voorste orkeste en dirigente. Onder sy verdere toekennings tel die Dorothy Chandler in Los Angeles (1992) en die Gilmore in Kalamazoo, Michigan (1997). Met die prysgeld van laasgenoemde het hy ‘n Weense Bösendorfer-klavier gekoop met die oog op uitvoering van Haydn en Schumann se musiek. Hy het in 2000 ‘n toekenning as beste instrumentalis van die Koninklike Filharmoniese Vereniging ontvang. As aanduiding van sy grootsheid dien die feit dat hy in dieselfde jaar sy bedrywige loopbaan vir ses maande onderbreek het om in ‘n houthuis in die Noorse berge te bly, ter wille van afsondering en innerlike fokus. Sy Russiese debuut is na afloop daarvan in 2001 met die Sint Petersburg Filharmoniese Orkes in Rachmaninof se derde klavierkonsert gemaak.

Andsnes is ‘n gereelde solis by die Londense Proms en het al ‘n hele aantal toere deur Japan onderneem. Verder tree hy as begeleier vir bekende liedere-sangers soos Ian Bostridge en Matthias Görne op. Hy is ook baie lief vir kamermusiek, onder meer as artistieke direkteur van die Risor Kamermusiekfees in sy geboorteland waarheen bekende musici jaarliks genooi word. ‘n Gereelde vennoot in sonate-uitvoerings is die violis Christian Tetzlaff. In 2002 is hy ‘n Kommandeur van die Koninklike Noorse Orde van Sint Olaf gemaak – sy land se hoogste eerbewys. Sleutelopnames: Chopin se 3 klaviersonates; Grieg se klavierkonsert (onder Jansons), en ‘n versameling Liriese Stukke; Haydn se klavierkonserte nrs. 3, 4 en 11 (met die Noorweegse Kamerorkes wat hy vanaf die klawerbord dirigeer), en klaviersonates nrs. 24, 30, 32, 33 en 44; 2 versamelings solowerke van Liszt en Nielsen; Schubert se klaviersonate nr. 20; Schumann se klavierkonsert (onder Jansons); as solis in Szymanowski se vierde simfonie (onder Simon Rattle). Verdere opnames: klavierkonserte van Brahms, Britten, Liszt (nr. 2), Mozart (nrs. 9 en 18), Rachmaninof (nr. 3) en Sjostakowitsj; Dvorák se klavierkwintet, opus 81 (met Sarah Chang en andere); Janácek se klaviersonate en In the Mists; Schumann se Fantasia in C en eerste klaviersonate.

Angerer, Paul (1927-), Oostenrykse dirigent en komponis. Hy was aanvanklik ‘n altviolis in verskeie Weense en Switserse orkeste, en vanaf 1953 vir vier jaar eerste altviolis van die Weense Simfonie-orkes. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Weense Kamerorkes (1956-63), dirigent van die Bonn Staatsteater (1964-6), musiekdirekteur van die Ulm Teater (1966-8) en hoofdirigent van die Salzburg Landestheater (1967-72). Intussen het hy in 1961 by die Salzburg-fees gedebuteer. Vanaf 1972 tot 1982 was hy direkteur van die Suidwes-Duitse Kamerorkes in Pforzheim, en sedert 1983 is hy 'n hoogleraar aan die Weense Konserwatorium. Daarby het hy klawesimbel en blokfluit in ‘n aantal Barokensembles gespeel.

Anissimof, Alexander (1947-), Russiese dirigent. Hy het die Glinka-skool in Sint Petersburg, wat al vir etlike eeue bekend is vir hul koortradisie, bygewoon. Vervolgens het hy vir 15 jaar in ‘n koor gesing, met studies wat in klavier en orrel plaasgevind het. Hy het ook dirigeerkuns aan die stad se konserwatorium studeer, en later is hy na die Moskou Konserwatorium om onder Leo Ginsburg en Gennadi Rozhdestwenski te studeer. Ná graduering het hy vir 5 jaar by die Maly Teater in Sint Petersburg gedirigeer. Sy debuut met die stad se beroemde filharmoniese orkes (indertyds die Leningrad Filharmonie) is in 1978 gemaak. Hy het in 1980 met ‘n opvoering van Don Giovanni in Minsk gedebuteer, waarop hy genooi is om hoofdirigent van die Belarussiese hoofstad se Bolsjoi Teater te word. In dieselfde jaar het hy ‘n orkes vir die plaaslike konserwatorium gestig, wat hy tot 1995 sou dirigeer. Behalwe vir ‘n onderbreking van 5 jaar (1985-90) waartydens hy hoofdirigent van die Tsjaikofski Teater in Perm was, het hy deurentyd sy pos in Minsk beklee. In dié twee stede het hy die Sowjet-premières van Prokofiëf se operas Die Vurige Engel, Oorlog en Vrede en Maddalena gedirigeer. Met die voltooing van sy dienstyd in Perm het hy ‘n eretoekenning van die Russiese regering ontvang.

Sedert die vroeë 1990’s tree Anissimof ook wêreldwyd as gasdirigent op. Vir die 500-jarige herdenking van Columbus se ontdekking van Amerika in 1992 het hy Don Carlos in Genoa gedirigeer. Hy het in 1993 besonder wyd getoer, insluitend ‘n debuut by die Wexford-fees in Ierland met Tsjaikofski se opera Tsjerewitski. Vanaf dieselfde jaar dirigeer hy dikwels by die Kirof Opera in Sint Petersburg, waar hy met hul gevierde hoofdirigent Walery Gergijef saamwerk. In 1996 het hy die Kirof-geselskap na Seoel in Suid-Korea geneem vir ‘n opvoering van Prins Igor. Hy het in 1995 hoofgasdirigent van die Nasionale Simfonie-orkes van Ierland geword en drie jaar later hul hoofdirigent. In die laat 1990’s het hy met die Moskou Simfonie-orkes die volledige simfonieë, ballette en toondigte van Glazoenof opgeneem. Hy het voorts in 2000 in Dublin die Ierse première van Sjostakowitsj se opera Dame Macbeth van Mtsensk gedirigeer. Twee jaar later het hy Wagner se volledige Ring-siklus met die Ierse Nasionale Jeugorkes in Limerick en Birmingham opgevoer. Sleutelopnames: Glazoenof se simfonieë nrs. 5 en 8. Verdere opnames: Glazoenof se simfonie nr. 6, toondig Die Woud, en ballet Raymonda; en Rachmaninof se simfonieë nrs. 2 en 3.

Anonymous 4, Amerikaanse vrouestem-kwartet wat hul eerste uitvoering in 1986 in New York gegee het. Vanuit die staanspoor het hulle sonder instrumentele begeleiding gesing en in Middeleeuse musiek van die elfde tot veertiende eeue gespesialiseer. Met hul debuutopname in 1993 van ‘n Engelse Mis ter ere van die Maagd Maria, getiteld An English Ladymass, het die groep sterstatus in die VSA verwerf, waarna hulle die een van die gewildste vroeë musiekensembles sou word. Teen 2003 het hul reeds byna eenduisend konserte op vier vastelande gegee, en is daar aangekondig dat hulle beplan om in 2004 te ontbind. Oor die jare het hul repertorium uitgebrei om hedendaagse musiek in te sluit, met premières van werke deur Tavener, Maxwell Davies en andere tot hul krediet. Daaronder tel Tavener se The Bridegroom, wat in 2000 vir hulle en die Chilingarian Strykkwartet geskryf is. Verdere opnames: ‘n versameling Middeleeuse gesange tot eer van die Maagd Maria, getiteld The Lily and the lamb; ‘n versameling Middeleeuse gesange tot eer van Sint Jakobus, getiteld Miracles of Sant’Iago; ‘n versameling Franse motette uit die Montpellier Kodeks, getiteld Love’s illusion; ‘n versameling Middeleeuse Kersliedere, getiteld Yoolis Night; ‘n versameling Hongaarse Kersliedere, getiteld A Star in the East; ‘n versameling Amerikaanse gesange, getiteld American Angels; Hildegard von Bingen se The Origin of Fire en 11 000 Virgins; en die genoemde werk van Tavener.

Ansermet, Ernest (1883-1969), Switserse dirigent en komponis. Aanvanklik was hy ‘n wiskunde-onderwyser in Lausanne, en in 1911 het hy dirigent van die Casino-konserte in Montreux geword. Hy het vier jaar later ‘n dirigent van die beroemde impresario Sergei Djagilef se Russiese Ballet geword, wat hy tot 1923 sou dirigeer. Met hulle het hy die eerste uitvoerings van ‘n aantal Strawinski-werke gegee. In 1918 het hy die Geneefse orkes gestig wat Switserland se voorste simfonie-orkes sou word en wat hy vir bykans vyf dekades (tot 1967) sou dirigeer: die Orchestre de la Suisse Romande. Hy was vanaf 1924 vir drie jaar ook dirigent van die Buenos Aires Simfonie-orkes in Argentinië. Sy debuut by die Salzburg-fees het in 1942 plaasgevind en by die Metropolitan Opera in 1962. In 1946 het hy die première van Britten se The Rape of Lucretia by die Glyndebourne-fees gedirigeer. Hy was ‘n kampvegter vir moderne musiek, veral dié van Debussy, Ravel, Strawinski en Prokofiëf. Ironies genoeg het hy in 1961 ‘n boek gepubliseer waarin verskeie aspekte van moderne musiek gekritiseer is. Met sy Switserse orkes het hy vanaf 1955 tot 1965 die bykans volledige orkeswerke van Strawinski in gesaghebbende vertolkings opgeneem. Sleutelopnames: Offenbach se La Belle Hélène en Orpheus in the Underworld ouvertures; Rossini se ballet La Boutique Fantasque (Londen, 1950); Strawinski se 2 Orkessuites (1961). Verdere opnames: Beethoven se sewende simfonie; Borodin se derde simfonie en In die Steppe van Sentraal- Asië; Brahms se Alt Rapsodie; Debussy se La Mer en Le Martyre de Saint Sébastien; Rimski-Korsakof se Scheherazade, Russiese Paasfeesouverture en 3 suites; Tsjaikofski se Suite nr. 4 en ballet Swanemeer (1959, effens verkort); en die operas Pelléas et Mélisande, L'enfant et les sortilèges en L'heure espagnole.

Antál, Mátyás (1945-), Hongaarse fluitspeler en dirigent. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword, en het fluit en dirigeerkuns aan die Franz Liszt Akademie in Boedapest studeer. Na voltooiing van sy studies het hy in 1972 by die Hongaarse Staatsorkes as fluitspeler aangesluit. In 1984 het hy koormeester van die Boedapest Koor geword en twee jaar later mededirigent van die Hongaarse Staatsorkes. Hy het laasgenoemde gedirigeer in ‘n uitstekende opname van werke op Hongaarse temas deur Berlioz, Hubay, Kodály en Liszt. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa op. Verdere opnames: Bach se Kantates nommers 51, 80, 147, 208, 211 en 212 (met die Failoni Kamerorkes en ‘n verskeidenheid Hongaarse sangers).

Antonini, Giovanni (1965-), Italiaanse blokfluitspeler en dirigent. Hy het fluit en blokfluit in sy geboortestad Milaan en in Genève studeer. Daarna het hy ‘n bekende solis geword, met optredes wyd deur Europa, en toere na die Verre Ooste en die VSA. In 1985 was hy ‘n stigterslid van die instrumentele ensemble Il Giardino Armonico (‘Die Harmonieuse Tuin’) vir die uitvoering van vroeë musiek op eietydse instrumente. Hy het in 1989 begin om die ensemble te dirigeer, waarna ‘n hele aantal bekroonde opnames gemaak is. Hulle het ook in opvoerings van operas deur Monteverdi, Pergolesi en Handel verskyn. Daarby tree hy as gasdirigent met ‘n aantal Europese orkeste op. Met die Basel Kamerorkes het hy ‘n lewenskragtige opname van Beethoven se derde simfonie gemaak, maar dieselfde lof geld nie vir hul opname van die komponis se vierde simfonie nie. By die Salzburg-fees het hy die eerste hedendaagse uitvoering van Conti se oratorium Il martirio di San Lorenzo gedirigeer. Sleutelopnames: ‘n versameling Vivaldi-konserte vir 2 tot 4 strykinstrumente (met Christophe Coin as solis). Verdere opnames: Bach se 6 Brandenburgkonserte.

Aradia Ensemble, vokale en instrumentele ensemble wat in Toronto gebaseer is. Onder leiding van Kevin Mallon spesialiseer hulle in die uitvoering van musiek uit die sewentiende en agtiende eeue op eietydse instrumente. Hulle speel ook in rolprentklankbane en hedendaagse werke wat vir hulle geskryf is. In 1998 het hulle ‘n bekroonde opname van balletmusiek vir die Franse Koning Lodewyk XIV gemaak, en twee jaar later het hul by die internasionale kamermusiekfees in Nieu-Seeland opgetree. Verdere opnames: Caldara se Kersfeeskantate, en sy sinfonias nrs. 5 en 6; en versamelings Kersfeesmotette van M. Charpentier, asook sy Te Deum en Dixit Dominus.

Aragall, Giacomo (1939-), Spaanse tenoor. As seun was hy ‘n koorsanger en vanaf negentienjarige leeftyd het hy sanglesse ontvang. Hy het in 1962 ‘n sangkompetisie in Bilbao gewen en ‘n beurs vir verdere studies in Milaan verwerf. Later in dié jaar het hy ook die Verdi-kompetisie in Bussetto gewen, waarna sy debuut in Venesië in Verdi se opera Gerusalemma gevolg het. In 1963 het hy die jongste tenoor nóg geword om by La Scala te debuteer, met optredes in La Bohème en L'amico Fritz. Verdere debute het plaasgevind by Verona (1965), Covent Garden (1966) en die Metropolitan Opera (1968), en sedertdien het hy by die vernaamste operahuise in Europa en die Amerika’s opgetree. Sy bekendheid lê merendeels in Italiaanse operarolle soos Turiddù in Cavalleria rusticana, Cavaradossi in Tosca, Gabriele in Simon Boccanegra en Alfredo in La Traviata. Hy het in uitstekende opnames van laasgenoemde vier operas gesing, asook van Lucrezia Borgia en Esclarmonde. Onder sy beeldopnames tel ‘n opvoering van Tosca by die Verona Teater.

Araiza, Francisco (1950-), Meksikaanse tenoor. Hy het in 1970 sy operadebuut in Fidelio gemaak en sing sedert 1974 hy in Europa. Verdere debute het plaasgevind by die feeste in Bayreuth (1978) en Salzburg (1981), asook by Covent Garden (1983) en die Metropolitan Opera (1984). Sy bekendheid lê merendeels in die ligter operarolle van Mozart en Rossini, waaronder Ferrando in Così fan tutte, Ottavio in Don Giovanni, die titelrol in Idomeneo, Tamino in Die Zauberflöte, Almaviva in Il barbiere di Siviglia, die Prins in La Cenerentola, Lindoro in L'italiana in Algeri en Graaf Libenskof in Il viaggio a Reims. Daarby is hy begaafd in die titelrolle van Faust en Les contes d'Hoffmann, en as Zamoro in Alzira. Hy is ook 'n begaafde konsertsanger, veral in gewyde werke. Opnames: Bach se Magnificat in D; Berlioz se Roméo et Juliette en Te Deum; Mahler se Das Lied von der Erde (onder Giulini); Mozart se Mis nr. 16 en Requiem; Schubert se Misse nrs. 5 en 6; en die genoemde operas van Mozart, Offenbach, Rossini en Verdi.

Arányi, Jelly d' (1893-1966), Hongaars-gebore Britse violis. Sy was ‘n kleinniggie van die legendariese violis Joseph Joachim, wat op sy beurt ‘n vriend en medewerker van Brahms was. Sy het in 1908 haar debuut in Wenen gemaak en haar later in Londen gevestig, waar sy ‘n Britse burger geword het. Gedurende die 1920’s is ‘n aantal werke vir haar geskryf, waaronder Bartók se twee vioolsonates, Vaughan Williams se vioolkonsert en Ravel se Tzigane. Ook het sy die Britse premières van Schumann se vioolkonsert en Szymanowski se eerste vioolkonsert gegee.

Arditti Kwartet, Engelse strykkwartet wat in 1974 gestig is en merendeels ingewikkelde moderne werke uitvoer. Met die Nash Ensemble het hulle in ‘n opname van Birwistle se Pulse Shadows onder Reinbert de Leeuw gespeel, wat in 2002 ‘n Gramophone toekenning verwerf het. Verdere opnames: die volledige strykkwartette van Henze; en strykkwartette en –trio’s van Cage, Mason, Schoenberg en Webern.

Argenta, Nancy (1957-), Kanadese sopraan. Sy het grootgeword in die dorpie Argenta, waarvan sy haar professionele van ontleen het (haar eintlike van is Robinson). Ná studies in Vancouver en aan die Universiteit van Wes-Ontario het sy in 1980 die eerste prys in die Eckhardt-Gramasté kompetisie gewen. Vir die volgende jaar het sy onder Jacqueline Richard in Düsseldorf studeer, en in 1982 het sy in Engeland gaan woon. Daar het sy studeer onder Peter Pears, Gérard Souzay en Vera Rosza. Sy het in 1983 uitgeblink as La Chasseuresse in Rameau se Hyppolyte et Aricie by die Aix-en-Provence Fees. In dieselfde jaar het haar professionele debuut plaasgevind, en sedertdien het sy roem verwerf in musiek van die Barok- en Klassieke tydperke. Met haar helder sang en soet toonkleur is sy ewe begaafd in opera, konserte en liedere. Onder haar beste operarolle tel Asteria in Tamerlano en Caio Sillo in Ottone in Villa. Sleutelopnames: Bach se Kantates nrs. 51, 82a, 84, 199, 202 en 209 (met die Trio Sonnerie en Monica Huggett); Handel se oratorium Solomon (as die Koningin, onder Gardiner). Verdere opnames: Bach se Kersfeesoratorium, Mis in B mineur, Magnificat en Missae breves in F en in G; Handel se oratoriums Alexander’s Feast, Esther, Israel in Egypt en Saul (as Michal), en sy kantate Il duello amoroso; Haydn se Mis nr. 10; Purcell se The Fairy Queen; A. Scarlatti se Dixit Dominus; Vivaldi se Gloria; Zelenka se Missa dei Filii en Litaniae Laurentanae; liedere van Blow, Eccles, Purcell en Schubert; die genoemde operas van Handel en Vivaldi, asook Venus and Adonis, Iphigénie en Tauride, Orfeo en Cosi fan tutte.

Argerich, Martha (1941-), Argentynse pianis. Sy het as agtjarige haar openbare debuut in Buenos Aires gemaak, waarna sy in Europa onder Friedrich Gulda en Arturo Benedetto Michelangeli gaan studeer het. In 1957 het sy as tiener beide die Busoni-kompetisie en die internasionale musiekkompetisie in Genève gewen. Verder het sy in 1965 die Chopin-kompetisie in Warskou gewen en ses jaar later is haar debuut by die Salzburg-Fees gemaak. Sy tree dikwels as solis met van die wêreld se voorste orkeste op. In kamermusiek speel sy as vennoot van bekende musici soos Rostropowitsj, Kremer en Maisky. Met haar kragtige, behendige spel word sy as een van die beste pianiste ter wêreld beskou, al word haar vertolkings dikwels deur gejaagde tempos gekenmerk. Sleutelopnames: Chopin se 2 klavierkonserte (onder Dutoit). Verdere opnames: klavierkonserte van Bartók (nr. 1), Beethoven (nrs. 1-3), Liszt (nr. 1), Mozart (nr. 25), Prokofiëf (nrs. 1 en 3), Rachmaninof (nr. 3), Ravel, Schumann, Sjostakowitsj (nr. 1) en Tsjaikofski (nr. 1); solowerke van Bach, Brahms, Chopin, Prokofiëf en Ravel; duetwerke van Brahms, Debussy, Mozart, Rachmaninof en Ravel; Bartók se Sonate vir twee klaviere en slaginstrumente en sy konsertweergawe van dieselfde werk; Beethoven se Driedubbele konsert (met Capucon en Maisky), en klaviertrio’s nrs. 4, 5 en 7 (met Denemark en Dobrinsky); Brahms se eerste klavierkwartet (met Basjmet, Kremer en Maisky); Liszt se klaviersonate; Lutoslafski se Paganini Variasies (met Freire); Mendelssohn se eerste klaviertrio; Messian se Visions de l'amen (met Rabinowitsj) en Tema en Variasies (met Kremer); Rachmaninof se Suite nr. 2 vir 2 klaviere (met Freire); Saint-Saëns se Karnaval van die diere; Schumann se Fantasiestücke (met Kremer en Maisky); Skriabin se Prometheus; en Strawinski se Les noces.

Arkhipowa, Irina (1925-2010), Russiese mezzosopraan. Sy was vanaf 1956 aan die Bolsjoi Opera in Moskou verbonde, waar sy in die premières van Prokofiëf se Oorlog en Vrede en Die Verhaal van ‘n Werklike Man gesing het. In 1965 is haar debuut by La Scala gemaak en in 1975 by Covent Garden. Onder haar verdere rolle het getel Filipijewna in Jewgeni Onegin en die Grafin in Pique Dame. Opnames: Prokofiëf se kantate Iwan die Verskriklike (onder Muti); en die laasgenoemde twee operas.

Armstrong, Karan (1941-), Amerikaanse sopraan. Nadat sy in 1966 haar debuut by die San Francisco Opera gemaak het, het debute gevolg by die Metropolitan Opera (1969), die Bayreuth-fees (1979) en Covent Garden (1981). Sy het as bekende in moderne opera in 1981 in München die titelrol tydens die première van Sinopoli se Lou Salomé geskep. Drie jaar later het sy by die Salzburg-fees in die première van Berio se Un re in ascolto gesing, wat terselfdertyd die Salzburg-debuut was van haar man, die operaregisseur Götz Friedrich (1930-2000). Onder haar verdere rolle tel Mélisande in Pelléas et Mélisande, Agave in Die Bassariden, Marietta in Die Tote Stadt, en die titelrolle in Tosca en Madama Butterfly. Sy het in ‘n hoogstaande opname van Die Bassariden onder Gerd Albrecht gesing.

Armstrong, Richard (1943-), Engelse dirigent. Hy was vanaf 1968 tot 1973 assistent-dirigent en daarna tot 1986 musiekdirekteur van die Walliese Nasionale Opera, met wie se orkes hy die sopraan Elisabeth Söderström in ‘n voortreflike opname van Britten se Our Hunting Fathers en ander orkesliedere begelei het. Intussen het hy in 1979 die Janácak-Medalje verwerf, en drie jaar later is sy debuut by Covent Garden gemaak. Sedert 1993 is hy musiekdirekteur van die Skotse Opera, waar hy in 2003 ‘n siklus van Wagner se Ring uitmuntend gedirigeer het. Die CBE is in 2004 aan hom toegeken.

Armstrong, Sheila (1942-), Engelse sopraan. Sy het in 1965 haar operadebuut by Sadler’s Wells gemaak, waarna debute gevolg het by die Glyndebourne-fees (1966), in New York (1971) en by Covent Garden (1973). Sy is ‘n hoogs begaafde konsertsangeres in ‘n wye repertorium, en was verder bekend in Vaughan Williams se operas. In 1993 het sy uit opera getree. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Giulini); Berlioz se La belle voyageuse; Britten se Spring symphony; Elgar se oratoriums The Apostles en The Kingdom; Fauré se Requiem; Mahler se tweede simfonie (onder Bernstein); enkele madrigale van Monteverdi; Orff se Carmina Burana; Rachmaninof se kantate Die Klokke; Schubert se Stabat Mater en Magnificat; Tippett se oratorium A Child of our time; Gilbert en Sullivan se operette The Mikado; Vaughan Williams se eerste simfonie (onder Boult) en sewende simfonie (onder Haitink); en die operas Dido and Aeneas, Hugh the Drover (as Mary) en The Pilgrim's Progress.

Aronowitz, Cecil (1916-78), Suid-Afrikaans-gebore altviolis van Russies-Litause afkoms. Hy is as violis opgelei, maar het na die altviool oorgeslaan en was eerste altviolis in ‘n aantal Londense orkeste. Verder was hy ‘n stigterslid van die Melos Ensemble en ‘n gereelde speler in kamermusiek. Hy was voorts hoogleraar in altviool aan die Koninklike Musiekkollege (1950-75), hoof van die strykerskool van die Koninklike Noordelike Musiekkollege (1975-7), en direkteur van strykerstudies van die Snape Maltings Skool (1977/8). In 1978 is sy debuut by die Salzburg-fees saam met die Amadeus Kwartet gemaak. Opnames: Brahms se Twee liedere, opus 91 (met die alt Helen Watts), en sy strykkwintette en -sekstette (met die Amadeus Kwartet); Hindemith se Trauermusik; Holst se Liriese beweging; en Richard Strauss se Capriccio prelude (met die Amadeus Kwartet en William Pleeth).

Arrau, Claudio (1903-91), Chileense pianis. Hy was ‘n wonderkind wat sy eerste uitvoering as vyfjarige in sy tuisdorp Chillán gegee het, waarna hy in Berlyn onder Martin Krause studeer het. Laasgenoemde was ‘n leerling van Franz Liszt, wat op sy beurt onder Karl Czerny, ‘n leerling van Beethoven, studeer het. ‘n Ononderbroke musikale oordraglyn het dus vanaf Beethoven tot by Arrau gestrek. As jong tiener het hy in 1914 sy eerste Berlynse uitvoering gegee, en in beide 1919 en 1920 het hy die Liszt-prys gewen, wat vir die eerste keer in 45 jaar toegeken is. Sy wêreldtoere is daarop voortgesit, met verdere debute wat gemaak is in Londen (1922) en die VSA (1923). Hy het in 1927 die internasionale klavierkompetisie in Genève gewen, en vanaf 1924 tot 1940 was hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Stern Konserwatorium in die Duitse hoofstad. Intussen het hy deur die destydse Sowjet-Unie getoer (1929/30), en in 1935/6 het hy die volledige werke vir klawerbord van Bach in twaalf Berlynse uitvoerings gespeel. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1938 gemaak. In 1940 het hy sy eie musiekskool in Santiago begin, en in die jaar daarop het hy hom in New York gevestig. Hy het in 1944 met die gevierde violis Josef Szigeti die volledige vioolsonates van Beethoven by die Kongresbiblioteek uitgevoer, met opnames wat van sy formidabele spel getuig. In 1946 het hy in Buenos Aires voor ‘n gehoor van 25 000 mense gespeel, indertyds ‘n wêreldrekord vir ‘n pianis. Drie jaar later was hy ‘n ontvanger van die hoogste Meksikaanse kunste-toekenning, die Gunstelingseun van Meksiko.

Vanaf 1954 het Arrau weer in Berlyn gespeel, en in 1968 het hy weer in Moskou en Leningrad (tans Sint Petersburg) verskyn. In 1970 is die Duitse Bundesverdienstkreuz aan hom toegeken en nege jaar later het hy ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het met sy tagtigste verjaardag in 1983 ‘n heuglike konsert onder Riccardo Muti in New York gegee. In 1984 het hy ná ‘n afwesigheid van 17 jaar na sy geboorteland teruggekeer, maar hy het geweier om die diktator Pinochet se hand te skud. Hy het wêreldwyd tot in sy tagtigs met van die voorste orkeste en dirigente opgetree, en het ook die klaviersonates van Beethoven geredigeer. Met sy aristokratiese benadering en liriese sensitiwiteit is hy deur talle kenners beskou as die grootste lewende vertolker van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium, en van Chopin en Liszt. Volgens eie erkenning is hy as pianis sterk beïnvloed deur die pianis-komponis Ferruccio Busoni en die grootste vroue-pianis van haar tyd, Teresa Carreno (1853-1917). Ter aanduiding van sy geestelike benadering dien die feit dat hy musiek as heilig en mistiek beskou het. Hy is in Oostenryk oorlede. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven en Brahms; Weber se Konzertstück; die volledige klaviersonates van Beethoven; en solowerke van Brahms, Chopin, Debussy, Liszt, Schubert en Schumann.

Arroyo, Martina (1936-), Amerikaanse sopraan. Nadat sy haar debuut in 1958 in New York gemaak het, het sy by die Weense Staatsopera en die Deutsche Oper in Berlyn gesing. Verdere debute het by die Metropolitan Opera (1959) en Covent Garden (1968) plaasgevind, en vanaf 1963 was sy vir vyf jaar aan die Zürich Opera verbonde. In 1965 het sy vir Birgit Nilsson in die titelrol van Aida by die Met ingestaan. Met haar ryk, kragtige stem het sy uitgeblink in die swaarder rolle van Verdi se operas, naas Aida as Amelia in Un ballo in maschera, Leonora in La forza del destino en Elena in I vespri siciliani. Sy was ook begaafd as Valentine in Les Huguenots, Donna Anna in Don Giovanni, en in konsertwerke. Opnames: Barber se Andromache’s farewell (onder Schippers); Mahler se agste simfonie (onder Kubelik); Schoenberg se Gurrelieder (onder Ferencsik); Verdi se Requiem (onder Bernstein); en die genoemde operas van Meyerbeer, Mozart en Verdi.

Arwel Hughes, Owain (1942-), Walliese dirigent. As seun van die komponis Arwel Hughes (1909-88) het hy in 1968 sy professionele debuut gemaak. Daarna het hy as gasdirigent by die Walliese en Engelse nasionale operas opgetree, en was hy musiekdirekteur van die Koninklike Nasionale Eistedfodd van Wallis (1977) en die Huddersfield Koorvereniging (1980-6). Die OBE is in 2004 aan hom toegeken. Opnames: Holmboe se volledige simfonieë en van sy kamerkonserte; Rachmaninof se tweede en derde simfonieë; en Delius se Brigg Fair.

Asjkenazy, Wladimir (1937-), Russies-gebore pianis en dirigent. Hy het as vierjarige met klavierlesse begin en skaars drie jaar later is sy debuut met ‘n klavierkonsert van Haydn gemaak. Later het studies aan die Moskou Konserwatorium gevolg en in 1955 het hy ‘n tweede prys by die Chopin-kompetisie in Warskou gewen. In die jaar daarop het hy die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen, waarna hy toegelaat is om deur Europa en die VSA te toer. Omdat hy dit gewaag het om gunstig van hedendaagse kuns en musiek te praat, is hy met sy terugkeer na Moskou deur die kommunistiese owerhede ondervra en vir drie jaar verbied om die land te verlaat. Teen die einde van dié tydperk is hy met ‘n Yslandse pianiste getroud, en in 1962 het hy onder owerheidsdruk aan die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou deelgeneem. Hy was die medewenner daarvan (met die Brit John Ogdon) en is vervolgens weer toegelaat om in die Weste op te tree. In 1963 het hy met sy vrou en babaseun na die Weste uitgewyk, waar hy in 1972 ‘n Yslandse burger sou word. Hy het in 1969 begin dirigeer, met debute in dié hoedanigheid in 1977 in Londen en in 1981 by die Salzburg-fees. Vanaf 1987 tot 1995 was hy musiekdirekteur van die Koninklike Filharmoniese Orkes en vanaf 1989 ook hoofdirigent van die Duitse Radio Simfonie-orkes in Berlyn. Hy het die Sweedse Radio Simfonie-orkes in Christopher Nupen se twee rolprente oor Tsjaikofski gedirigeer, asook in ‘n beeldopname van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling volgens Funtek se orkestrasie. Vanaf 1998 was hy hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes en in 2003 het hy Charles Dutoit as musiekdirekteur van die NHK Simfonie-orkes in Tokio opgevolg. Hy het in 2009 die Kamerorkes van Europa in ‘n konsert van werke deur Sibelius en Schumann gedirigeer, waarvan ‘n beeldopname gemaak is.

Asjkenazy word deur kenners as ‘n musikale denker beskou, sodat sy vertolkings gevoelvol maar nie oordrewe emosioneel is nie. As pianis is hy ‘n briljante en poëtiese vertolker van die Klassieke, Romantiese en moderne repertoriums, veral van Duitse en Russiese komponiste. Hy het in 1983 in Londen ‘n meesterlike uitvoering van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling in die oorspronklike klavierweergawe gegee, wat gelukkig vir musiekliefhebbers verfilm is. Vanaf die laat 1980’s het hy Schumann se volledige werke vir klaviersolo in uitmuntende vertolkings opgeneem. Hy het voorts vanaf 1996 oor ‘n tydperk van twee jaar die 24 Preludes en fugas van Sjostakowitsj in ongeëwenaarde vertolkings opgeneem. As dirigent berus sy bekendheid op sy uitstekende vertolkings van laat-Romantiese en moderne musiek. Sedert sy tienerjare is een van sy gunsteling-komponiste Skriabin. Interessant genoeg dirigeer hy nie opera nie omdat dit vir hom te teatraal is. Hy het sy eie orkestrasie van Moessorgski se genoemde werk onderneem, omdat Ravel se bekende weergawe te veel van die klavierweergawe afwyk en vroeë drukkersfoute voortsit. ‘n Opname daarvan is in 1982 met die Philharmonia Orkes gemaak. Sleutelopnames (as pianis): Bartók se 3 klavierkonserte (onder Solti); Beethoven se klaviertrios nrs. 5-8, 10 en 12 (met Perlman en Harrell); Prokofiëf se 5 klavierkonserte (onder Previn); Rachmaninof se 4 klavierkonserte (onder Previn) en 24 Preludes; Schubert se klaviersonates 13 en 14, Hongaarse Melodie D817 en 12 Walse D145 (1966); Sjostakowitsj se klavierkwintet (met die Fitzwilliam Kwartet); Strawinski se Konsert vir 2 klaviere (met Gawrilof); (as dirigent) Dvorák se simfonie nr. 9, en 3 ouvertures (Praag); Glazoenof se ballet Die Seisoene (Londen); Prokofiëf se ballette Cinderella (Cleveland) en Romeo en Juliet (Londen).

Verdere opnames (as pianis): die volledige klavierkonserte van Beethoven en Mozart; Beethoven se Koorfantasie en die res van sy klaviertrios (laasgenoemde met Perlman en Harrell); Beethoven en Mozart se kwintette vir klavier en houtblasers (met die Londense Houtblasersoliste); Rachmaninof se Paganini Rapsodie; Rautavaara se klavierkonsert nr. 3 en Autumn Gardens; Skriabin se klavierkonsert, Prometheus en volledige klaviersonates; Richard Strauss se Alphorn vir sopraan, horing en klavier (met McLaughlin en Tuckwell); Strawinski se Sonate vir 2 klaviere (met Gawrilof); Tsjaikofski se klaviertrio (met Perlman en Harrell) en Die Seisoene; talle solowerke van Beethoven, Chopin, Liszt, Prokofiëf, Rachmaninof, Ravel, Schubert en Schumann; (as dirigent:) die volledige simfonieë van Mendelssohn, Rachmaninof, Sibelius en Skriabin, en ‘n hele aantal van Beethoven, Borodin, Franck, Knussen, Sjostakowitsj, Tsjaikofski (nrs. 4-6) en Walton; orkeswerke van Britten, Richard Strauss en Tsjaikofski; Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; en Rachmaninof se kantate Die Klokke. Met sy seun Wowka het hy ‘n hoogstaande opname van Bartók se Sonate vir 2 klaviere en slaginstrumente gemaak.

ASMF Kamerensemble, afdeling van die bekende Londense orkes Academy of St Martin-in-the-Fields wat gevorm is om groter kamerwerke uit te voer. Onder leiding van Kenneth Sillito toer hul wyd deur Europa, die Verre Ooste en Noord-Amerika. Vanaf 1982 tot 1984 het hulle die bykans volledige kamerwerke van Handel in uitstekende vertolkings opgeneem. Vir die ensemble se 25ste verjaardag in 1993 het hul ‘n reeks Londense konserte gegee waarop Brahms se vernaamste kamerwerke uitgevoer is. Sleutelopnames: ‘n versameling Handel-sonates vir houtblasers en continuo. Verdere opnames: Glazoenof se strykkwintet; Mendelssohn se Oktet en strykkwintet nr. 2; Nielsen se Strykkwintet in G; Schubert se Adagio en Rondo en Oktet; Spohr se 4 Dubbelkwartette; Svendsen se Oktet; en Tsjaikofski se Souvenir de Florence.

Atherton, David (1944-), Engelse dirigent. Hy was in 1968 ‘n medestigter van die Londense Sinfonietta en sou tot 1973 hul musiekdirekteur wees. Tydens hul inwydingskonsert is die première van Tavener se kantate The Whale uitgevoer, met ‘n hoogstaande opname wat gemaak is. Ook in 1968 het hy die jongste dirigent nóg by Covent Garden geword, waaraan hy tot 1980 verbonde sou wees. Verdere operadebute is gemaak by La Scala (1976) en in San Francisco (1978). Later was hy hoofdirigent van die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes (1980-3), en musiekdirekteur van die San Diego Simfonie-orkes (1981-7) en van die Hong Kong Filharmoniese Orkes (sedert 1989). Vanaf 1989 was hy vir twee jaar weer musiekdirekteur van die Londense Sinfonietta. Sy bekendheid lê feitlik uitsluitlik in moderne musiek, met ‘n aantal opera-premières tot sy krediet. Daaronder tel Birwistle se Punch and Judy (in 1968 by die Aldeburgh-fees) en Henze se We come to the river (in 1976 by Covent Garden). Verdere opnames: die genoemde opera van Birwistle; Britten se opera Billy Budd; Goehr se Metamorfose/Dans; Hoddinott se derde simfonie; Ligeti se Kamerkonsert; Mathias se Divertimento vir strykorkes; orkeswerke van Revueltas; Schoenberg se Suite (opus 29) en Houtblaserskwintet (opus 26); Tippett se operas The Ice-break en King Priam; Weill se Kleine Dreigroschenmusiek; en Grace Williams se Sea sketches.

Atlantof, Wladimir (1939-), Russiese tenoor. Hy was vanaf 1963 aan die Kirof Opera in sy geboortestad Leningrad (tans Sint Petersburg) verbonde. Sedert 1967 is hy ‘n lid van die Bolsjoi Teater in Moskou, met wie hy in die Weste getoer het. Debute is gemaak in Wenen (1971), Milaan (1973), Berlyn (1974) en New York (1975). Met sy lewenskragtige sang het hy bekendheid verwerf in Russiese en Italiaanse opera. In 1977 het hy ook as bariton begin sing. Dit het hom goed te pas gekom in die titelrol van Otello, wat hy gesing het tydens sy Covent Garden-debuut in 1987 en in ‘n DVD-opname by die Verona-arena (onder Zoltan Pesko). Onder sy verdere rolle tel Grigori in Boris Godoenof. Verdere opnames: Prins Igor en Boris Godoenof (beide onder Mark Ermler), en Khowansjina (onder Claudio Abbado).

Atzmon, Moshe (1931-), Hongaars-gebore dirigent. Hy het in 1964 die internasionale Liverpool-dirigeerkompetisie gewen en drie jaar later is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. In 1969 het sy operadebuut in Berlyn plaasgevind. Daarna was hy verbonde aan die Sydney Simfonie-orkes (1969-71), die Noord-Duitse Radio Simfonie-orkes (1972-6), die Basel Simfonie-orkes (1972-7), die Tokio Metropolitaanse Simfonie-orkes (1978-82) en die Amerikaanse Simfonie-orkes in New York (1982-4). Met laasgenoemde het hy in 1984 die eerste uitvoering van Carragan se voltooiing van Bruckner se negende simfonie gedirigeer. Sedert 1991 is hy musiekdirekteur van die Dortmund Opera, en daarby verskyn hy as gasdirigent met ‘n aantal Skandinawiese orkeste. Opnames: Koppel se simfonieë nrs. 1-4; en Pettersson se vyfde simfonie.

Auer, Leopold (1845-1930), Hongaars-gebore violis. Hy het in Boedapest, Wenen en onder Joseph Joachim in Hannover studeer, en vanaf 1868 tot 1917 was hy 'n hoogleraar aan die Imperiale Konserwatorium in Sint Petersburg. In 1917 het hy na die VSA geëmigreer en die volgende jaar sy debuut in New York gemaak, waar hy hom gevestig en in 1926 'n Amerikaanse burger geword het. Hy was 'n wêreldbekende solis, en Tsjaikofski se vioolkonsert is aanvanklik aan hom opgedra. As leermeester aan die Curtis Instituut het sulke groot musici soos Elman, Heifetz, Milstein en Zimbalist onder sy leerlinge getel, en daarbenewens het hy twee boeke oor vioolspel geskryf.

Augér, Arleen (1939-93), Amerikaanse sopraan. Sy het in 1967 haar debuut by die Weense Staatsopera gemaak, en het later by die Salzburg-fees (1970) en die Metropolitan Opera (1978) gedebuteer. Verder was sy vanaf 1975 tot 1987 ‘n hoogleraar aan die Frankfurt Universiteit, en in 1986 het sy by die Hertog van York se troue gesing. Met haar ligte, suiwer koloratuurstem en soet toonkleur was sy wêreldbekend in opera, konsertwerke en liedere. Dit geld veral vir die operas van Handel, Haydn en Mozart, en gewyde werke van Bach, Handel en Haydn. Onder haar operarolle het getel Carolina in Il matrimonio segreto, Angelica in Orlando, Alcina in Orlando paladino, Donna Anna in Don Giovanni, Konstanze in Die Entführung aus dem Serail, die Grafin in Le nozze di Figaro, Aspasia in Mitridate, rè di Ponto, en die titelrolle in Alcina en L'incoronazione di Poppea. Sy het ook uitgeblink as liederesangeres in ‘n wye repertorium, hetsy met klavier- of orkesbegeleiding. Die musiekwêreld is in rou gedompel toe sy in haar vroeë vyftigs aan kanker oorlede is.

Sleutelopnames: Haydn se kantates Arianna a Naxos, Miseri noi en Scena di Berenice (almal onder Hogwood, 1988); ‘n versameling Schubert-liedere (met Graham Johnson). Verdere opnames: talle Bach-kantates (onder Rilling); Beethoven se negende simfonie (onder Hogwood); Berg se Lulu suite (onder Rattle); Brahms se Ein deutsches Requiem; Canteloube se Chants d'Auvergne (onder Tortelier); Fauré se Requiem; Handel se oratoriums Belshazzar (as Nitocris) en Messiah; Haydn se oratorium The Creation (in Engels) en Stabat Mater; Larsen se Ses Sonnette (wat vir haar geskryf is); Mahler se tweede en agste simfonieë (onder Rattle en Solti onderskeidelik); Orff se Carmina Burana en Catulli Carmina; Ravel se Shéhérazade (onder Pesek); liedere van Britten, Copland, Mahler, Mozart en Purcell; die genoemde operas van Cimarosa, Handel, Haydn, Monteverdi en Mozart, asook Il mondo della luna, Apollo et Hyacinthus, Ascanio in Alba, Lucio Silla en Der Schauspieldirektor; en ‘n versameling arias van Bach en Handel (onder Schwarz).

Austbo, Hakon (1948-), Noorse pianis. Hy het in Parys studeer, aan beide die Konserwatorium en die Ecole Normale de Musique. In 1970 het hy die eerste nie-Fransman geword om die Concours National de la Guilde Francaise des Artistes Solistes in Parys te wen, en in die jaar daarop is die eerste prys in die Messian-kompetisie vir eietydse musiek in Royan aan hom toegeken. Verdere studies is onderneem aan die Juilliard Musiekskool in New York, die Staatskonserwatorium in München, en in Londen. Hy het in 1974/5 internasionale kompetisies gewen in München, Parys en Bratislawa, in 2 daarvan as lid van ‘n duet of trio. As solis tree hy wyd deur Europa, Asië en Amerika op, en daarby is hy ‘n dosent in musiek aan die Amsterdamse Konserwatorium. In sy geboorteland het hy die prys van die Noorse musiekkritici ontvang (1989) en is hy as Kunstenaar van die Jaar aangewys (1992). Hy het bekroonde opnames van Messiaen se volledige werke vir klaviersolo gemaak. Tans is hy besig met ‘n projek om die volledige werke vir klaviersolo van Debussy op te neem.

Austin, Frederic (1872-1952), Engelse bariton en komponis. Sy operadebuut is in 1908 by Covent Garden as Gunther in Götterdämmerung onder Hans Richter gemaak. Sewe jaar later het hy eerste bariton van Thomas Beecham se operageselskap geword. Hy het in 1920 die rol van Peachum in sy eie verwerking van The Beggar’s Opera gesing. Sy weergawe van dié immergroen werk wat vanuit 1728 dateer, het so gewild geraak dat dit nie minder nie as 1 463 opvoerings sou beleef. Vanaf 1924 tot 1929 was hy artistieke direkteur van die Britse Nasionale Operamaatskappy. Sy seun Richard (1903-89) was ‘n dirigent en hoogleraar aan die Koninklike Musiekkollege.

Australiese Kamerorkes, ensemble wat in 1975 gestig is en beide eietydse en moderne instrumente bespeel. Die violiste en altvioliste speel staande, soos die gebruik in vorige eeue was. Sedert die violis Richard Tognetti in 1989 die artistieke direkteur geword het, het die orkes met van die bekendste sangers en instrumentaliste van hul tyd saamgewerk. Met met as 80 konserte wat jaarliks in verskeie Australiese stede gegee word, is hulle die kamerorkes met die grootste getal intekenare ter wêreld. Hulle onderneem dikwels toere na Europa en die VSA, en is in 1999 tydens ’n Europese toer deur die Londense dagblad The Times as die beste kamerorkes op aarde beskryf. In dieselfde jaar is ‘n kamerkoor, die ACO Voices, gestig wat gewyde werke van Bach, Handel en Mozart met die orkes uitvoer. Hulle het in 2002 ‘n bekroonde opname gemaak van strykkwartette deur Haas, Janácek en Szymanowski, wat Tognetti vir kamerorkes verwerk het. Verdere opnames: Beethoven se Prometheus ouverture; Haydn se simfonie nr. 104; Ligeti se vioolkonsert; Saint-Saëns se Karnaval van die Diere; schubert se strykkwintet; Vaughan-Willaims se A Lark Ascending; en orkeswerke van hul landgenoot Peter Sculthorpe.

Ax, Emanuel (1949-), Oekraïns-gebore pianis. Hy het in 1959 na Kanada geëmigreer en hom twee jaar later in New York gevestig, waar hy aan die Juilliard Musiekskool studeer het. In 1974 het hy die Arthur Rubinstein-kompetisie gewen en in die volgende jaar is sy debuut in New York gemaak. Met sy elegante spel is hy veral bekend in die musiek van Beethoven, Brahms, Chopin en Haydn. Onder André Previn het hy in die middel 1980’s die volledige klavierkonserte van Beethoven in uitmuntende vertolkings opgeneem. Hy blink ook uit in werke van moderne komponiste soos Bartók, Ravel en Schoenberg. Sedert vroeg in sy loopbaan tree hy in kamermusiek op met die tjellis Yo-Yo Ma, sodat hulle in 2003 ‘n kwarteeu van vennootskap met ‘n uitvoering gevier het. Verder het hy in die klankbaan van die rolprent East-West gespeel, en begelei hy die bariton Hakan Hagegard in liedere-opnames. Sleutelopnames: Brahms se 3 klavierkwartette (met Stern, Laredo en Ma); Haydn se klavierkonsert nr. 11 (met die Franz Liszt Kamerorkes), en klaviersonates nrs. 29, 31, 34, 35 en 49. Verdere opnames: Beethoven se Koorfantasie (onder Mehta); klavierkonserte van Brahms en Schoenberg; klavierkwartette van Beethoven, Fauré, Mozart en Schumann (almal met Stern, Laredo en Ma); solowerke van Brahms; en Richard Strauss se Burleske.

Ayo, Felix (1933-), Spaanse violis. Hy het sy musiekstudies op 14 met lof voltooi, waarna verdere studies in Parys, Siena en Rome onderneem is. As stigterslid van die kamerensemble I Musici was hy vir 16 jaar hul eerste violis. In 1970 het hy die Beethoven Kwartet van Rome gestig. Oor die jare het hy wêreldwyd as solis met bekende orkeste opgetree en meesterklasse gegee. Onder die toekennings wat hy vir sy talle opnames verwerf het, tel die Preis der Deutschen Schallplattenkritik, die Edison-prys, die Mar del Plata-prys en die Grand Prix du Disque. Dit sluit ‘n 1960-opname van Vivaldi se Vier Seisoen met I Musici in, gekenmerk deur ryk toonkleur en stylvolle spel. Hy bespeel ‘n Guadagnini-viool wat in 1744 gemaak is.

B

Babak, Renata (1934-2003), Oekraïns-gebore mezzosopraan. Ná studies aan die Rimski-Korsakof Konserwatorium in Leningrad (tans Sint Petersburg) was sy aan die Leningrad Opera verbonde. Met hulle sou sy wyd deur Europa en Kanada optree. Sy was vanaf 1962 ‘n lid van die Bolsjoi Opera in Moskou, met wie sy voortgegaan het om internasionaal te sing. In 1967 is sy deur die KGB, die geheime polisie van die destydse Sowjet-Unie, verbied om buite die land te reis en om Oekraïnse liedere te sing. Tydens ‘n besoek van die Bolsjoi aan La Scala in 1973 vir ‘n opvoering van Moessorgski se Khowanschina het sy haarself vermom en na Kanada gevlug, waar sy vir twee jaar moes wegkruip. In 1975 is haar Amerikaanse debuut in New York onder groot toejuiging gemaak, waarop sy na dié stad verhuis het. Kort daarna is sy na Washington, D.C. op uitnodiging van die bariton George London, indertyds algemene direkteur van die Washington Opera. In die federale hoofstad het sy haar buitengewone talent tot diens van die Konserwatorium gestel, in plaas daarvan om haar operaloopbaan voort te sit. Sy het wel konserte en voordragte in Washington gegee, dikwels in belang van menseregte. Daarby het sy nie gehuiwer om Sowjet-onderdrukking in die openbaar te veroordeel nie, asook die owerhede se onbeholpe hantering van die Tsjernobil-krisis in 1986, waaronder ook haar ouers in Kiëf gely het. In 1991 het sy begin om Russies in ‘n landbouprogram te onderrig, en twee jaar later het sy ‘n Amerikaanse burger geword. Haar laaste opera-verskyning was in 1997 in New York, in Iolanta, maar sy sou nog vir ‘n verdere vyf jaar liedere-voordragte gee. Sy is op die laaste dag van 2003 aan pankreaskanker dood. Indien dit nie vir politieke omstandighede was nie, sou sy stellig met haar enorm kragtige dog streng beheerste stem veel meer bekend gewees het. Haar repertorium het naas Russiese rolle ingesluit Ulrica in Un ballo in maschera, Leonora in Il forza del destino, en die Heks in Hänsel und Gretel.

Babin, Victor (1908-72), Russies-gebore pianis en komponis. Hy is in 1933 getroud met sy mede-pianis Vitya Vronsky (1909-92), met wie hy ‘n bekende klavierduet gevorm het. Hulle het in 1937 na die VSA geëmigreer, waar hulle mettertyd Amerikaanse burgers sou word. Vanaf 1961 was hy die direkteur van die Cleveland Musiekinstituut. Die egpaar het in ‘n hoogstaande opname van Vaughan Williams se Dubbele klavierkonsert onder Adrian Boult gespeel.

Baccaloni, Salvatore (1900-69), Italiaanse bas. Hy het sy debuut in 1922 in Rome gemaak, met verdere debute wat gevolg het by La Scala (1926), Covent Garden (1928), Chicago (1930), en by die feeste in Glyndebourne (1936) en Salzburg (1939). Vanaf 1940 tot 1962 was hy aan die Metropolitan Opera verbonde. As die voorste Italiaanse bas van sy tyd in komiese operarolle het hy ook wyd in Europa en Suid-Amerika opgetree, en in sy later jare het hy dikwels in rolprente verskyn. Met sy besondere karakterisering en akteursvermoëns was hy uitmuntend in die titelrol van Don Pasquale en as Leporello in Don Giovanni, Bartolo in beide Le nozze di Figaro en Il barbiere di Siviglia, Geronte in Manon Lescaut en Melitone in La forza del destino. Hy het in historiese opnames van Don Pasquale, La fille du régiment, Manon Lescaut en La forza del destino by die Met gesing, en van Don Giovanni by Glyndebourne.

Bachauer, Gina (1913-76), Griekse pianis van Oostenrykse afkoms. Nadat sy in 1935 haar debuut in Athene gemaak het, het sy as solis in die Midde-Ooste en Parys opgetree. Verdere debute het ná die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind in Londen (1947) en New York (1950). Onder Antal Doráti het sy meesterlike vertolkings gelewer in opnames van Chopin se twee klavierkonserte.

Backhaus, Wilhelm (1884-1969), Duits-gebore pianis. Hy het in Leipzig en Frankfurt studeer, en vanaf 1900 is ‘n konsertloopbaan gevolg. Vanaf 1905 het hy vir vier jaar in Londen en Manchester onderrig gegee, en in 1907 het hy die Rubinstein-prys in Sondershausen gewen. Later in sy lewe het hy ‘n Switserse burger geword en in 1953 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Met sy briljante tegniek was hy wêreldbekend as ‘n onoortreflike vertolker van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium, veral Beethoven en Brahms. Sy spel is gekenmerk deur krag, helderheid en getrouheid aan die partituur, sonder enige flambojansie. Hy het nooit probeer om sy eie persoonlikheid na vore te bring of om sy gehore te beïndruk nie. In 1958/9, toe hy al in sy sewentigs was, het hy die volledige klavierkonserte van Beethoven in gesaghebbende vertolkings onder Hans Schmidt-Isserstedt opgeneem. Tydens die Weense Fees in 1962 was hy die solis in ‘n uitvoering van Beethoven se klavierkonsert nr. 4 onder Hans Knappertsbusch, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Hy het to kort voor sy dood nog opgetree. Verdere opnames: die twee klavierkonserte van Brahms (onder Böhm); Mozart se klavierkonsert nr. 27 (onder Böhm); Schumann se klavierkonsert (onder Wand); die volledige klaviersonates van Beethoven; en talle solowerke van Bach, Brahms, Haydn, Mendelssohn, Mozart, Schubert en Schumann.

Badura-Skoda, Paul (1927-), Oostenrykse pianis. Nadat hy in 1948 sy debuut in Wenen gemaak het, het hy wyd begin toer en bekend geraak as ‘n Mozart-spesialis. Sy Salzburg-feesdebuut is in 1950 gemaak. Hy het self die kadenzas vir sy konsertuitvoerings gekomponeer en het ook ‘n boek oor Mozart se klaviermusiek geskryf. Daarby het hy kamermusiek gespeel in ‘n trio met die violis Jean Fournier en die tjellis Antonio Janigro. Onder Wilhelm Furtwängler het hy in voortreflike opnames van Mozart se klavierkonsert nr. 22 en sy Konsert vir twee klaviere (met Dagmar Bella as mede-solis) gespeel.

Bailey, Norman (1933-), Engelse bas-bariton. Hy het in 1959 sy debuut by die Weense Kameropera gemaak en daarna ook by Covent Garden en die Bayreuth-fees (beide in 1969), die New York Stadsopera (1975) en die Metropolitan Opera (1976). Sy bekendheid berus veral op sy uitmuntende vertolkings van Wagner-rolle, wat hy ewe knap in Duits en Engels gesing het. Daaronder tel Hans Sachs in Die Meistersinger, die titelrol in Der fliegende Holländer, Amfortas in Parsifal, Gunther in Götterdämmerung, Kurwenal in Tristan und Isolde en Wotan in die Ring. Laasgenoemde rol het hy gesing in Reginald Goodall se hoogstaande opnames van die siklus (in Engels) by die Engelse Nasionale Opera. Verder het hy uitgeblink by Covent Garden (1981) as Balstrode in Peter Grimes en by die Glyndebourne-fees (1996) as Schigolch in Lulu, met DVD-opnames wat van beide getuig. Verdere opnames: die genoemde operas van Wagner, asook L'assedio di Calais en King Priam (in die titelrol).

Baillie, Alexander (1956-), Engelse tjellis. Hy het die eerste uitvoerings van ‘n aantal werke deur Lutoslafski, Schnittke en Takemitsu gegee, asook van Matthew se tjellokonsert. Laasgenoemde het in 1984 by die Londense Proms plaasgevind. Sedert 1992 is hy ‘n hoogleraar in tjello aan die Koninklike Musiekakademie. Opnames: Headington se Serenade; en Rawsthorne se tjellokonsert.

Baillie, Isobel (1895-1983), Skots-gebore sopraan. Sy het haar debuut in 1921 by die Hallé Konsert in Manchester gemaak en daarna by die vernaamste Britse musiekfeeste gesing. Met haar suiwer stem en eenvoudige sangstyl was sy 'n begaafde sangeres in gewyde werke en Duitse liedere. Sy is deur Toscanini gekies om in uitvoerings van Brahms se Ein Deutsches Requiem te sing. Haar Amerikaanse debuut het in 1933 plaasgevind, en vyf jaar later het sy in Londen as solis in die première van Vaughan Williams se Serenade to Music gesing. In 1951 is die CBE aan haar toegeken. Sy het sangonderrig gegee aan die Koninklike Musiekakademie (1955-7), die Cornell Universiteit (1960/1) en die Manchester Musiekskool (vanaf 1970). In 1978 is sy tot dame geskep. Oor 'n tydperk van 'n halfeeu het sy in talle opnames opgetree, onder andere in Malcolm Sargent se 1946-weergawe van Handel se Messiah. Verdere opnames: die genoemde werk van Vaughan Williams, asook sy eerste simfonie (onder Boult); kerkmusiek van Bach, Haydn en Mendelssohn; arias van Mozart; en liedere van Schubert.

Bakels, Kees (1945-), Nederlandse violis en dirigent. Hy het dirigeerkuns aan die Amsterdamse Konserwatorium en die Chigiana Akademie in Siena studeer. In dié tyd het hy assistent-dirigent van die Amsterdamse Filharmoniese Orkes geword en later was hy hul mede-dirigent. Verder was hy hoofgasdirigent van die Nederlandse Kamerorkes, wat hy op feeste in verskeie Europese lande gelei het. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa, Brittanje en Rusland op, en in 1988 het hy hoofgasdirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes geword. Met hulle het hy hoogstaande opnames gemaak van Vaughan Williams se simfonieë nrs. 2 en 3 en 5 tot 9 en The Wasps ouverture. Hy het voorts opvoerings by die Engelse en Walliese nasionale operas gedirigeer. Sy spesialiteit is minder bekende operas van Verdi, Mascagni en Leoncavallo. In 1998 het hy musiekdirekteur van die pasgestigte Maleisiese Filharmoniese Orkes in Kuala Lumpur geword.

Baker, Janet (1933-), Engelse mezzosopraan. Aanvanklik het sy as alt aan die Salzburg Mozarteum en onder Lotte Lehmann studeer. Daarna het sy in die Leeds Filharmoniese Koor gesing, met ‘n debuut as solis wat in 1953 in Haydn se Mis nr. 11 gemaak is. Twee jaar later het sy by die Ambrosian Singers aangesluit, en in 1956 het sy ‘n tweede prys in die Kathleen Ferrier-kompetisie gewen. In dieselfde jaar is haar operadebuut met die Oxford Universiteit se operaklub gemaak (as Roza in Smetana se Die Geheim) en het sy in die Glyndebourne-koor begin sing. Sy het in 1959 die Koninginsprys gewen en hoofrolle met die Handel Operavereniging begin vertolk. Vanaf 1962 het sy by die Aldeburgh-fees onder die komponis Britten opgetree. Twee jaar later het sy die titelrol in sy The Rape of Lucretia tydens die Engelse Operagroep se Russiese toer gesing. Verdere debute is gemaak in New York en by Covent Garden (beide in 1966), die Glyndebourne-fees (1970), die Engelse Nasionale Opera (1971) en die Salzburg-fees (1973). Sy het in 1970 in Manchester as solis in Elgar se The Dream of Gerontius in ‘n herdenkingskonsert vir die pas afgestorwe dirigent John Barbirolli gesing, met trane van emosie wat langs haar wange afgevloei het. In dié tyd het sy nog toekennings verwerf, naamlik die CBE (1970) en die Hamburg Shakespeare-prys (1971).

Baker se intense, intelligente vertolkings in liedere, konserte en opera, en haar enorme repertorium in Duits, Engels, Frans en Italiaans, sou aan haar wêreldroem besorg. In die musiek van Berlioz, Britten, Elgar en Mahler word sy as ongeëwenaard in haar stemtipe beskou. Sy het veral uitgeblink as die Engel in Elgar se The Dream of Gerontius, in sy Sea Pictures, en in Mahler se Das Lied von der Erde. In 1964/5 het sy onder Barbirolli onoortreflike vertolkings gelewer in opnames van beide Elgar-werke. Verder het sy die rol van Kate tydens die première van Britten se opera Owen Wingrave geskep, in 1971 op TV en twee jaar later op die verhoog by Covent Garden. In 1975 het sy in Minneapolis die eerste uitvoering gegee van Argento se liedere-siklus From the Diary of Virginia Woolf, wat vir haar geskryf is. Britten het ook sy dramatiese kantate Phaedra vir haar geskryf, waarvan sy in 1976 by Aldeburgh die eerste uitvoering gegee het. Sy is in dieselfde jaar tot dame geskep. Onder haar verdere operarolle het getel Béatrice in Béatrice et Bénédict, Diana in La Calisto, Orfeo in Orfeo ed Euridice, Vitellia in La clemenza di Tito, Dido in Dido and Aeneas, en die titelrolle in Maria Stuarda, Ariodante, Giulio Cesare en Savitri. In 1982 het sy uit opera getree, met afskeidsoptredes as Mary Stuart by die Engelse Nasionale Opera en as Orfeo by Glyndebourne. Hoogaangeskrewe opnames is van beide geleenthede gemaak. Sy het in 1989 ook uit konserte getree, en vyf jaar later is die Companion of Honour aan haar toegeken.

Sleutelopnames: Berlioz se liedere-siklus Les nuits d’êtê (onder Barbirolli in 1967 en onder Giulini in 1975); Brahms se Alt Rapsodie (onder Hickox); Elgar se Sea Pictures en The Dream of Gerontius (beide onder Barbirolli); Handel se oratorium Judas Maccabeus (onder Mackerras); ’n versameling liedere van Liszt (begelei deur Geoffrey Pasons); Mahler se Kindertotenlieder, Lieder eines fahrenden Gesellen en Rückert Lieder (almal onder Barbirolli), klavierweergawes van Lieder eines fahrenden Gesellen en Lieder und Gesänge (begelei deur Parsons), en Das Lied von der Erde (onder Haitink); liedere van Mendelssohn (begelei deur Parsons); ‘n versameling Schubert-liedere na gedigte van Schiller en Goethe (met Graham Johnson), en ‘n verdere versameling van sy liedere begelei deur Gerald Moore en Geoffrey Parsons; Vaughan Williams se Kersfeeskantate Hodie (onder Willcocks); en die opera Dido and Aeneas (onder Anthony Lewis).

Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 147, 159 en 170, Kersfeesoratorium en Mis in B mineur; Berlioz se La damnation de Faust, La mort de Cléopâtre, La belle voyageuse, La captive en Zaïde; Brahms se Alt Rapsodie; Britten se Spring symphony en Phaedra; Bruckner se Te Deum; Egk se kantate Die Versoeking van Sint Antonius; Elgar se The Music Makers; Handel se oratorium Messiah, kantates Ah! crudel, nel pianto mio, Armida abbandonata en Lucrezia, en ‘n versameling arias; Holst se A Choral Fantasia; Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder Barbirolli, Rattle en Stokowski) en 3 (onder Tilson Thomas), Kindertotenlieder (onder Bernstein), Das Lied von der Erde (onder Kempe, Kubelik en Leppard) en Des Knaben Wunderhorn; Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream, Infelice en Psalm 42; Ravel se Shéhérazade; Respighi se Aretusa, Il tramonto en La sensitiva; Schoenberg se Gurrelieder; Tippett se A Child of our time; 4 duette van Tsjaikofski (met Heather Harper, begelei deur Britten); Verdi se Requiem; Vivaldi se Gloria in D; liedere van Fauré, Mahler, Schubert, Schumann, Richard Strauss, Vaughan Williams en Warlock; die genoemde operas van Berlioz, Britten, Cavalli, Handel, Holst en Mozart, asook Così fan tutte.

Baltsa, Agnes (1944-), Griekse mezzosopraan. Nadat sy die eerste Maria Callas-beurs gewen het, was sy vanaf 1968 vir drie jaar aan die Frankfurt Opera verbonde, waar sy as Cherubino in Le nozze di Figaro gedebuteer het. Verdere debute het gevolg in Wenen, Berlyn en by die Salzburg-fees (almal in 1970), La Scala en Covent Garden (beide in 1976), en die Metropolitan Opera (1979). Sy het spoedig wêreldbekend geraak vir haar intense, intelligente vertolkings in Italiaanse, Franse en Duitse opera. Dit geld veral vir die titelrolle van Carmen en La Cenerentola, en as Romeo in I Capuleti ed i Montecchi, Dido in Les Troyens, Serafina in Il Campanello, Dorabella in Così fan tutte, Idamante in Idomeneo, Giulietta in Les Contes d’Hoffmann, Laura in La Gioconda, Orlofsky in Die Fledermaus, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Isabella in L'italiana in Algeri, Octavian in Der Rosenkavalier, Herodias in Salome, Amneris in Aida, Eboli in Don Carlos, Preziosilla in La forza del destino en Venus in Tannhäuser. Sy gee erkenning aan die dirigent Herbert von Karajan as die vernaamste invloed op haar loopbaan en haar persoon. Naas opera is sy ‘n begaafde konsertsangeres in die Duitse repertorium. Sleutelopname: Verdi se Requiem (onder Muti, 1979). Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie, Bruckner se Te Deum en Mozart se Mis nr. 16 (almal onder Karajan); Mahler se derde en agste simfonieë (onder Maazel en Bernstein onderskeidelik), en Das Lied von der Erde (onder Tennstedt); Verdi se Requiem (onder Karajan, op DVD); die genoemde operette van Johann Strauss junior; die genoemde operas van Bellini, Berlioz, Bizet, Donizetti, Mozart, Offenbach, Ponchielli, Rossini, R. Strauss, Verdi en Wagner, asook Ascanio in Alba, Don Giovanni en Mitridate, rè di Ponto.

Bamberg Simfonie-orkes, Beierse orkes wat in 1946 uit die Duitse Filharmoniese Orkes van Praag gestig is. Hul dirigente was agtereenvolgens Herbert Albert (1947/8), Eugen Jochum (1948/9), Joseph Keilberth (1949-68), weer Jochum (1969-78), James Loughran (1978-83), Witold Rowicki (1983-6) en Horst Stein (1985-97). Onder laasgenoemde se leiding het die orkes in 1993 in die nuwe Joseph Keilberth-saal ingetrek. In 2004 het die orkes die eerste Gustav Mahler-dirigeerkompetisie in samewerking met die Beierse Staatsfilharmoniese Orkes aangebied, met die komponis se kleindogter Marina Mahler as beskermvrou. Dit is deur Gustavo Dudamel van Venezuela gewen.

Bamert, Matthias (1942-), Switserse dirigent, hobospeler en komponis. Hy het in 1957 in Londen gaan woon en was vanaf 1965 vir vier jaar eerste hobospeler van die Salzburg Mozarteum Orkes. In 1966 het hy as solis by die Salzburg-fees gedebuteer, en in 1970/1 was hy Leopold Stokowski se assistent by die Amerikaanse Simfonie-orkes in New York. Hy was vanaf 1977 tot 1983 musiekdirekteur van die Basel Radio Simfonie-orkes. Sedert 1993 is hy musiekdirekteur van die London Mozart Players, met wie hy vele hoogaangeskrewe opnames gemaak het. Daarby is hy sedert 1992 artistieke direkteur van die Luzerne-fees in sy geboorteland. Hy het ‘n aantal premières van werke deur Takemitsu, MacMillan en andere gedirigeer, naas heelwat musiek deur minder bekende tydgenote van Mozart en Beethoven. Met die Residentie Orkes van Den Haag en die Nederlandse Konsertkoor het hy die eerste opname van Johannes Verhulst se Mis gemaak. Sleutelopnames (Londen): Gerhard se Konsert vir Orkes en tweede simfonie (BBC Simfonie); Michael Haydn se simfonieë nrs. 11, 16, 25, 34 en 40; Myslivecek se simfonieë F26-F31. Verdere opnames: die volledige simfonieë van Parry, en ‘n aantal van Gerhard, Gossec, Gyrowetz, Kozeluch, Krommer, Stamitz, Vanhal en Verhulst; Korngold se Sinfonietta en Sursum corda; Moessorgski se Nag op ‘n Kaal Berg en Skilderye op ‘n Uitstalling, beide soos deur Stokowski verwerk; Stokowski-verwerkings van werke deur Bach (2 versamelings) en Wagner; orkeswerke van Dohnányi, Martin, Saxton en Voormolen; en Parry se koorwerke The Soul's ransom en The Lotos eaters.

Bampton, Rose (1908-), Amerikaanse sopraan. Sy het haar debuut in 1928 in Chautauqua gemaak en het vier jaar later by die Metropolitan Opera begin sing, waarvan sy tot 1950 ‘n lid sou wees. Daar het sy bekendheid verwerf in rolle soos Leonore in Fidelio, Donna Elvira in Don Giovanni en die titelrol in Alceste, met uitmuntende optredes in opnames van al drie operas tot haar krediet. In 1932 het sy onder Leopold Stokowski as solis in die eerste opname van Schoenberg se Gurrelieder gesing. Haar Covent Garden-debuut is in 1937 gemaak, en vanaf 1942 het sy vir agt jaar in Buenos Aires gesing. Vanaf 1974 het sy aan die Juilliard Musiekskool onderrig gegee.

Banowetz, Joseph (1936-), Amerikaanse pianis. Hy het aanvanklik in New York studeer onder Carl Friedberg, wat ‘n leerling van Clara Schumann was. Later het hy aan die Weense Musiekakademie gegradueer met ‘n eerste prys in klavier. Die Oostenrykse regering het hom daarop op ‘n Europese toer gestuur, wat sy internasionale loopbaan afgeskop het. Sedert 1983 is hy ‘n gereelde besoeker aan die Sjinese Volksrepubliek, waar hy met ‘n hele aantal orkeste opgetree het. Hy het in 1984 in Beijing die première van An-Lun se eerste klavierkonsert gegee en opgeneem. Dit was die eerste keer dat ‘n buitelandse kunstenaar amptelik genooi is om ‘n première deur ‘n Sjinese komponis in dié land te gee. In 1985 het hy ‘n besoekende hoogleraar aan die Shenyang Konserwatorium geword. Die Liszt-Medalje is in 1992 aan hom toegeken vir sy uitvoerings van die Romantiese reus se musiek. Hy tree wêreldwyd as solis, as leermeester en in die voorste klavierjuries op. Sy boek oor pedaalwerk, The Pianist’s Guide to Pedalling, is tot dusver in 5 tale vertaal. Hy het in die eerste opnames van werke deur Balakiref en Anton Rubinstein gespeel, waardeur hy verskeie toekennings sou verwerf.

Bär, Olaf (1957-), Duitse bariton. Hy was vanaf 1966 tot 1975 ‘n lid van die Dresden Kruiskoor, en het gedurende die 1970’s bekendheid as liederesanger begin verwerf. In 1981 het sy operadebuut by die Dresden Staatsopera plaasgevind, waarvan hy die eerste bariton sou word. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1986), die feeste in Glyndebourne (1987) en Salzburg (1990), en in Chicago (1997). Hy is tans een van die voorste sangers van Duitse liedere, waarskynlik die beste onder baritons. Daarin is hy aanvanklik deur die vermaarde Geoffrey Parsons tot die pianis se dood in 1995 begelei. Sedertdien tree Helmut Deutsch merendeels as sy begeleier op. As operasanger is hy bekend in die operas van Mozart en Richard Strauss, in rolle soos Guglielmo in Così fan tutte, Papageno in Die Zauberflöte, die Graaf in Le nozze di Figaro, die titelrol in Don Giovanni, die Harlekyn in Ariadne auf Naxos en Olivier in Capriccio. Onder sy verdere rolle tel Doktor Falke in Die Fledermaus en Kurwenal in Tristan und Isolde. Ook as konsertsanger blink hy uit in gewyde werke vanaf die Barok tot die twintigste eeu, en in Mahler se Kindertotenlieder. Opnames: Bach se Kersfeesoratorium, Magnificat in D, Missae breves en Sint Mattheüspassie; Haydn se oratorium Die Schöpfung; Schubert se liedere-siklusse Die schöne Müllerin, Schwanengesang en Winterreise; Wolf se Spanisches Liederbuch; liedere van Brahms en Schumann; ‘n versameling Kersfeesliedere van Cornelius, Haas, Humperdinck, Reger en Trunk; die genoemde operette van J. Strauss; die eersgenoemde twee operas van Mozart, asook dié van Richard Strauss en Wagner.

Barbieri, Fedora (1920-2003), Italiaanse mezzosopraan. Nadat sy in 1940 debute in Trieste en Florence gemaak het, het sy in verskeie Italiaanse operahuise begin optree. Dit sluit ‘n 1943-debuut by La Scala in. Ná die Tweede Wêreldoorlog sou sy internasionaal sing, onder andere by Covent Garden (in 1950 en weer 1957/8) en die Salzburg-fees, waar sy in 1952 gedebuteer het. Gedurende die 1940’s en 1950’s is sy beskou as een van die voorste operasangers ter wêreld. Sy was vanaf 1950 tot 1975 aan die Metropolitan Opera verbonde, waar sy in meer as honderd rolle opgetree het. Haar bekendheid het veral in die musiek van Verdi gelê, en sy het in verskeie opnames met Maria Callas gesing. Onder haar beste rolle het getel Neris in Medea, die titelrolle in Carmen en La Favorita, Laura in La Gioconda, die Prinses in Suor Angelica, Amneris in Aida, Ulrica in Un ballo in maschera, Quickly in Falstaff en Azucena in Il Trovatore. Sy het in uitstekende opnames van die genoemde operas van Bizet, Cherubini, Ponchielli, Puccini en Verdi gesing, asook in laasgenoemde se Requiem. Daarby het sy in ‘n aantal rolprentweergawes van operas opgetree.

Barbirolli, John (1899-1970), Engelse dirigent van Italiaans-Franse afkoms. Ná studies in Londen het hy sy loopbaan as tjellis begin, onder andere in die orkes van Covent Garden waar hy onder Puccini gespeel het. Dit was die begin van ‘n lewenslange liefde vir dié groot komponis se musiek. Hy het in 1911 as solis gedebuteer en vyf jaar later ‘n lid van die Queen’s Hall orkes geword. In 1918 het hy leërdiens verrig, waarna hy deur Europa as lid van ‘n strykkwartet getoer het. Hy was in 1920 ‘n tjellis tydens die eerste na-oorlogse Drie Kore-fees in Worcester, waartydens die komponis sy The Dream of Gerontius gedirigeer het. Sy dirigeerdebuut het in 1925 plaasgevind met die Britse Kamerorkes wat deur hom gestig is, en in die jaar daarop het hy by die Britse Nasionale Opera aangesluit. In 1929 is sy debuut as dirigent by Covent Garden met Madama Butterfly gemaak, en vir die volgende vier jaar sou hy hoofdirigent van dié operahuis se toergeselskap wees. Hy het in Londen die eerste uitvoering van Warlock se Serenade (1925) en die Britse première van Berg se Kamerkonsert (1931) gedirigeer. Vanaf 1933 het hy die Skotse Orkes in Glasgow gedirigeer, en in 1935 het hy die Londense Filharmoniese Orkes en die legendariese Jascha Heifetz in ‘n historiese opname van Wieniawski se tweede vioolkonsert gedirigeer. In 1936 is hy na die VSA om Toscanini as dirigent van die New York Filharmoniese Orkes op te volg. Hy sou die pos tot 1942 beklee, en met hulle het hy ‘n uitstekende versameling uittreksels uit Wagner-operas opgeneem. Tydens sy verblyf in New York is hy met die hobospeler Evelyn Rothwell getroud, en het hy die premières van sy landgenoot Britten se vioolkonsert (1940) en Sinfonia da Requiem (1941) gedirigeer.

In 1943 het Barbirolli na Brittanje teruggekeer en hoofdirigent geword van die Hallé Orkes, wat hy weens die ontwrigting van die Tweede Wêreldoorlog feitlik van meet af moes opbou. Hulle het in winter van 1943/44 die eerste opname van ‘n Bax-simfonie (nr. 3) gemaak, in ‘n onoortreflike vertolking. Hy was tot aan die einde van sy lewe aan die Hallé Orkes verbonde, waartydens hy hulle op verskeie oorsese toere gelei en tot een van die voorste simfonie-orkeste in Europa opgebou het. Hulle het die eerste uitvoerings van Vaughan Williams se sewende en agste simfonieë gegee in 1953 en 1956 onderskeidelik, waarvan laasgenoemde werk aan die dirigent opgedra is. Intussen het hy in 1946 sy debuut by die Salzburg-fees met die Weense Filharmoniese Orkes gemaak, en drie jaar later is hy tot ridder geslaan. Vanaf 1950 tot 1959 het hy gereeld by die Cheltenham-fees opgetree, waar hy die eerste uitvoerings van verskeie Britse werke (soos Fricker se eerste simfonie) gedirigeer het. Vanaf 1951 het hy vir drie jaar opera by Covent Garden gedirigeer, met sulke groot sangers soos Maria Callas (in Aida) en Sylvia Fisher en Ludwig Suthaus (in Tristan und Isolde) wat onder hom gesing het. Dit sluit ‘n besondere 1953-opname van Aida met Callas in. By Covent Garden was hy ook die dirigent toe Kathleen Ferrier in 1953 haar laaste openbare verskyning as Orfeo in Gluck se opera gemaak het.

Gedurende die laaste 25 jaar van sy lewe het die reeds genoemde The Dream of Gerontius as ‘n geestelike en musikale anker vir die diep godsdienstige Barbirolli gedien. Hy het dit die eerste keer in 1946 in Sheffield gedirigeer, met Ferrier as die Engel, en daarna dikwels en in vele plekke, soos New York en Houston. Met die honderdjarige herdenking van Elgar se geboorte in 1957 het hy The Dream in Rome vir die eerste radio-uitsending daarvan in Italië gedirigeer. In die jaar daarop het hy die eerste deel van die werk vir Pous Pius XII in Perugia uitgevoer, enkele dae voor sy geestelike hoof se afsterwe. Tydens sy eerste optrede met die Philharmonia Orkes in Londen in 1963 het hy The Dream gedirigeer, en in die volgende jaar is ‘n opname met die Hallé Orkes en met Janet Baker as die Engel gemaak, waarvan die geestelike intensiteit as ongeëwenaard beskou word. Die werk is in 1970 na sy dood vir ‘n herdenkingskonsert in Manchester uitgevoer, weer met Baker as solis.

Verder was Barbirolli hoofdirigent van die Houston Simfonie-orkes (1961-7) en gasdirigent by van die voorste orkeste ter wêreld. Hy was veral gewild in Berlyn, waar hy gedurende die 1960’s ‘n jaarlikse dirigent van die stad se beroemde filharmoniese orkes was. In sy laaste lewensjaar het hy vir oulaas Aida by die Roomse Opera gedirigeer, waar hy drie jaar tevore 'n onoortreflike opname van Madama Butterfly gemaak het. In 1969 is die Companion of Honour aan hom toegeken. Met sy warm, gevoelvolle benadering was hy ‘n beroemde dirigent van Britse en laat-Romantiese komponiste soos Elgar, Mahler, Puccini, Sibelius, Vaughan Williams en Verdi. Hy het ook orkesverwerkings van werke deur Barok- en Elisabethaanse komponiste gedoen. Daaronder tel ‘n hobokonsert op temas van Pergolesi, wat vir sy vrou verwerk is. Sleutelopnames: Elgar se eerste simfonie (Hallé 1970), Introduction and Allegro en Strykerserenade (beide Sinfonia of London); Lehár se Goud en Silver wals, en Johann Strauss junior se Die Fledermaus ouverture en Keiserwals (almal Proms 1969); Vaughan Williams se Fantasia on Greensleeves en Fantasia on a Theme of Thomas Tallis (Sinfonia of London). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Sibelius, en ‘n groot aantal van Bax, Bruckner (nr. 8), Beethoven (nr. 7), Dvorák, Haydn (nrs. 83 en 96), Mahler (nrs. 2, 3, 4, 5, 6 en 9), Mozart (nrs. 35 en 40), Nielsen, Rubbra, Schubert (nrs. 5 en 8) en Vaughan Williams; Delius se koorwerk Appalachia; Richard Strauss se Ein Heldenleben; Wagner se Siegfried Idyll; ander orkeswerke van Arenski, Delius, Schoenberg en Tsjaikofski; en die operas Turandot en Otello.

Barenboim, Daniel (1942-), Argentyns-gebore Israeliese pianis en dirigent. Sy ouers was Russies-Joodse immigrante in Suid-Amerika, en op ses jaar het hy met klavierlesse onder sy vader begin. Hy het in 1950 sy eerste konsert in Buenos Aires gegee, waarna hy ‘n loopbaan as wonderkind begin het. In 1952 het hy met die res van sy gesin na Israel verhuis, en is debute in Wenen en Rome gemaak. Kort daarna is hy na Salzburg vir studies onder Igor Markewitsj. Op elf jaar, in 1954, het hy in dié Oostenrykse stad klavier vir Wilhelm Furtwängler gespeel, waardeur hy die legendariese dirigent so beïndruk het dat hy die jong pianis as fenomenaal beskryf het. Op sy beurt het hy konserte en inoefeninge van Furtwängler bygewoon, wat tot ‘n lewenslange bewondering vir hom sou lei. Helaas het sy ouers die maestro se uitnodiging aan die jong pianis om ‘n klavierkonsert van Beethoven in Berlyn te gaan speel van die hand gewys, weens die Jodeslagting deur die Nasionaal-Sosialiste in die Tweede Wêreldoorlog. Daarna het hy vir agtien maande in Parys harmonie en komposisie onder Nadia Boulanger studeer.

Barenboim se debuut as konsertpianis is in 1955 in die Franse hoofstad gemaak, sy Britse debuut in dieselfde jaar in Bournemouth, sy Londense debuut in 1956 en sy Amerikaanse debuut in 1957 in New York. Hy het oor die jare heen uitvoerings van Beethoven se volledige klaviersonates in verskillende wêrelddele gegee. Sy dirigeerdebuut is in 1962 in Israel gemaak en drie jaar later het hy as pianis by die Salzburg-fees gedebuteer. Vervolgens het hy as gasdirigent met van die voorste orkeste ter wêreld begin optree, onder andere in Londen, Berlyn en New York. Hy het in 1967 in Jerusalem met die beroemde tjellis Jacqueline du Pré getrou en hom in Brittanje gevestig, waar hy ‘n suksesvolle loopbaan as pianis en dirigent sou volg. Die egpaar het in 1969 in ‘n besondere filmweergawe van Schubert se Forelle-kwintet met hul vriende Itzhak Perlman, Pinchas Zukerman en Zubin Mehta gespeel.

Dit was veral met die Engelse Kamerorkes dat Barenboim ‘n produktiewe verbintenis geniet het, met uitstekende opnames van Mozart se volledige klavierkonserte (waarin hy die orkes vanaf die klawerbord gedirigeer het) en simfonieë nommers 29 tot 41 wat daaruit gevloei het. Sy operadebuut is in 1973 by die Edinburgh-fees met Don Giovanni gemaak, en vervolgens was hy musiekdirekteur van die Orchestre de Paris (1975-89). Met hulle het hy heelwat moderne werke naas sy gebruiklike repertorium uitgevoer. Vanaf 1987 het hy dieselfde pos by die Bastille Opera beklee, totdat hy in 1990 te midde van omstredenheid ontslaan is. Vanaf 1981 tot 1999 het hy gereeld by die Bayreuth-fees opgetree, waar hy as Wagner-vertolker roem verwerf het. Dit sluit hoogaangeskrewe opnames van die Ring-siklus (1991/2), Tristan und Isolde (1995, op DVD) en Die Meistersinger von Nürnberg (1999) in. Sy eerste opname van ‘n Beethoven-simfonie, die sewende, is in 1989 met die Berlynse Filharmoniese Orkes gemaak. In 1991 het hy Solti as hoofdirigent van die Chicago Simfonie-orkes opgevolg, met wie hy tien jaar later die Amerikaanse première van Furtwängler se tweede simfonie sou gee. Hy sou die pos tot 2006 beklee.

In 1992 het Barenboim musiekdirekteur van die Duitse Staatsopera in Berlyn geword, waar hy sedertdien woonagtig is. Met hul orkes (die Staatskapelle) hy ‘n hoogstaande siklus van Beethoven se volledige simfonieë opgeneem. Hy het gedurende die 1990’s met die Berlynse Filharmonie ook die volledige simfonieë van Bruckner opgeneem, in vertolkings wat in dieselfde asem as dié van Jochum en Karajan genoem word. Steeds met die Berlynse Filharmonie het hy tussen 1986 en 1998 die bykans volledige klavierkonserte van Mozart opgeneem, wat hy soos in sy Londen-siklus vanaf die klavier gedirigeer het. In 1998 het hy ‘n konsert met die Berlynse Filharmonie by die Staatsopera gegee, insluitend Beethoven se agste simfonie, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Hy het in 2000 in Buenos Aires voor ‘n enorme gehoor ‘n klaviervoordrag gegee ter viering van sy debuut ‘n halfeeu tevore. Ses jaar later het hy die Nuwejaarskonsert in die Argentynse hoofstad gedirigeer en vanaf dieselfde jaar (2006) was hy hoofgasdirigent van La Scala. Sy debuut by die Metropolitan Opera is eers in 2008 gemaak, met Tristan und Isolde. In dieselfde jaar het hy ‘n rare opvoering van Prokofiëf se opera Die Dobbelaar by die Berlynse Staatsopera gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Hy het in 2009 die Weense Filharmoniese Orkes in hul gewilde Nuwejaarskonsert gedirigeer. Sedert 2011 is hy naas sy Berlynse pos ook musiekdirekteur van La Scala.

Barenboim is ‘n omstrede figuur in Israel, onder meer weens sy teenkanting teen die kleinlike verbod op uitvoerings van Wagner se musiek in dié land. In 2001 het hy met sy Berlynse orkes dele van Tristan und Isolde by die Israel-fees in Jerusalem uitgevoer, tot misnoë van militantes in die Israelse regering. Sy grootgeestigheid blyk verder uit sy vriendskap met die Palestyns-Amerikaanse akademikus, pianis en musiekkritikus Edward Said. ‘n Versameling van hul gesprekke is in 2002 in boekvorm as Parallels and Paradoxes: Explorations in Music and Society deur Pantheon uitgegee. Met Said se afsterwe in 2003 het hy as pianis in ‘n herdenkingskonsert in Chicago vir sy vriend en medewerker opgetree. Hulle het saam in 1999 die jaarlikse Oos-Wes Orkes-werkswinkel in Chicago gestig, waartydens jong Arabiese en Joodse musici vir drie weke ontmoet om saam musiek te maak. Dit het mettertyd in ‘n volwaardige orkes van internasionale statuur ontwikkel (sien Wes-Oosterse Divan-orkes). In 2004 het Barenboim ‘n gedeelte van die Wolf-prys wat aan hom toegeken is aangewend om ‘n konserwatorium in Ramallah te stig, tot konsternasie van die Sionistiese media in Israel.

As pianis is Barenboim uitmuntend in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium, veral in die musiek van Mozart, Beethoven en Brahms. Altesaam drie siklusse is van Beethoven se volledige klaviersonates opgeneem: in die 1960’s, in die 1980’s, en in 2005 in die Berlynse Staatsopera (lg. op DVD). Hy het groot sangers soos Janet Baker en Dietrich Fischer-Dieskau op die klavier begelei, en daarby het hy kamermusiek gespeel met Itzhak Perlman, Pinchas Zukerman, Gregor Piatigorski en Maxim Wengerof as vennote. As dirigent is hy naas Wagner hoogs begaafd in die musiek van Beethoven, Berlioz, Brahms, Bruckner en Elgar. In sy vertolkings van dié Romantiese reuse laat hy die grootsheid van hul werke in die tradisie van Furtwängler na vore kom. Soos sy legendariese voorganger word sy vertolkings gekenmerk deur meesterlike struktuurbegrip en subtiele tempoverskuiwings. Met sy kragtige dog verfynde dirigeerwerk blink hy ook uit in die werke van talle moderne komponiste. Onder sy talle eerbewyse tel ere-doktorsgrade van die universiteite van Jerusalem, Londen en Oxford; die Grosses Bundesverdienstkreuz; die Bruckner-medalje; die Goethe-medalje; die Furtwängler-prys; en Kommandeur in die Franse Legioen van Eer.

Sleutelopnames: Beethoven se Driedubbele Konsert en Koorfantasie (Berlyn 1995, DVD); Brahms se klavierkonsert nr. 1 (onder Rattle, DVD); Debussy se Nocturnes en Printemps (Parys, 1977/8); Mozart se klavierkonserte nrs. 5, 9, 11, 13, 14, 15, 16, 18, 19, 26 en 27 (almal Berlyn); ‘n versameling orkeswerke van Wolf, insluitend Italiaanse Serenade en Penthesilea (Parys). Verdere opnames (as dirigent): die volledige simfonieë van Brahms en Schumann, en ‘n aantal van Corigliano, Haydn (nr. 45), Lutoslafski, Saint-Saëns (nr. 3) en Tsjaikofski (nr. 5); orkeswerke van Berio, Carter, Delius, Elgar, Fauré, Schoenberg, Takemitsu, Vaughan Williams en Walton; Beethoven se Missa Solemnis; Berlioz se La damnation de Faust; Bruckner se Te Deum en Misse nrs. 2 en 3; Fauré se Requiem; Liszt se Dante Simfonie; Richard Strauss se Ein Heldenleben en Till Eulenspiegel; Strawinski se Die Lente se Wydingsoffer en Simfonie van Psalms; Tsjaikofski se 1812 ouverture en ballet Swanemeer (lg. op DVD); ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas; die operas Wozzeck, La damnation de Faust, Il matrimonio segreto, Samson et Dalila, Così fan tutte, Lohengrin (Berlyn), Parsifal, Tannhäuser (Berlyn) en Tristan und Isolde (Berlyn); (as pianis) die volledige klavierkonserte van Beethoven en Brahms, asook die een van Schumann; Beethoven se volledige klaviertrios en sy Koorfantasie (lg. onder Klemperer); Berg se Kamerkonsert (met Zukerman) en klaviersonate; Falla se Nagte in die Tuine van Spanje (onder Domingo); Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Yordanov, Tetard en Desurmont); Tsjaikofski se klaviertrio (met Zukerman en Du Pré); talle solowerke van Chopin, Liszt, Mendelssohn, Schubert en Schumann; en (as orrelis) die volledige orrelsonates van Mozart.

Barker, Joyce (1931-1992), Suid-Afrikaanse sopraan. Sy was die eerste wenner van die Kathleen Ferrier-beurs en het wyd deur Brittanje in opera gesing, asook by die New York Stadsopera. In 1963 het sy na haar geboorteland teruggekeer, waar sy opera in al vier provinsies gesing het. Met haar kragtige stem was sy uitmuntend in dramatiese rolle soos die titelrol in Turandot, wat sy meer as honderd keer sou vertolk. Dit sluit ‘n opname van ‘n 1965-opvoering in Kaapstad teenoor Gé Korsten in. Na haar uittrede het sy ‘n leermeester in Johannesburg geword. Verdere opnames: Mahler se agste simfonie (onder Horenstein).

Barsjai, Rudolf (1924-2010), Russiese altviolis en dirigent. Hy het in die 1940’s viool aan die Moskou Konserwatorium studeer onder Lev Zeitlin, wat op sy beurt ‘n leerling van die gevierde leermeester Leopold Auer was. As student het hy reeds na die altviool oorgeslaan ten einde in strykkwartette te speel. Daarna het hy ‘n solo-loopbaan as altviolis gevolg en kamermusiek met sy gevierde landgenote Emil Gilels, Swiatoslaf Richter en David Oistrach gespeel, asook in ‘n trio met Mstislaf Rostropowitsj en Leonid Kogan. In 1945 was hy ‘n stigterslid van die Borodin Kwartet, waarin hy tot 1953 sou speel. Daarby was hy ‘n stigterslid van die Tsjaikowski Kwartet. In dié tyd het sy vriendskap met die komponis en pianis Dimitri Sjostakowitsj begin, met wie hy ook in kamermusiek sou optree. Hy het in 1955 die Moskou Kamerorkes gestig, wat hy op vele toere sou lei en waardeur Russiese gehore aan Barokmusiek bekendgestel is. ‘n Hele aantal komponiste het werke vir sy ensemble geskryf, en in 1969 het hul in Leningrad (tans Sint Petersburg) die première van Sjostakowitsj se veertiende simfonie gegee. In die jaar na die groot komponis se dood, 1977, het hy na Israel geëmigreer. Hy was artistieke direkteur van die Israel Kamerorkes tot 1981 en het as gasdirigent met vele orkeste in Europa, Asië en die VSA begin verskyn. As verdere aanduiding van sy grootsheid dien die feit dat hy publisiteit vermy het ten einde sy orkeste te fokus op die verkryging van helderheid en fokus in hul uitvoerings. Sy vertolking van Beethoven se derde simfonie is deur Sjostakowitsj met dié van Klemperer vergelyk.

Barsjai se debuut by die Salzburg-fees is in 1980 gemaak, en daarna was hy hoofdirigent van die Vancouver Simfonie-orkes (1981/2) en die Bournemouth Simfonie-orkes (1982-88). Met laasgenoemde het hy ‘n kragtige opname van Sjostakowitsj se agste simfonie gemaak. Hy het in 1983 ‘n Britse burger geword. Met die Wes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Keulen en Russiese sangers het hy in die 1990’s die volledige simfonieë van Sjostakowitsj in gesaghebbende vertolkings opgeneem. Die siklus het in 2003 ‘n Cannes klassieke toekenning verwerf. Daarby het hy soms die Kamerorkes van Europa en die Junge Deutsche Philharmonia in opnames gedirigeer. Hy het verwerkings van Sjostakowitsj se agste en tiende strykkwartette gemaak, as Kamersimfonie en Simfonie vir Strykers onderskeidelik. Verder het hy in 2000 Mahler se tiende simfonie herkonstrueer en voltooi. Hy was drie keer getroud: eers met ‘n Russiese skilder, daarna met ‘n Japannese vertaler en eindelik met ‘n Russiese orreliste. Sy later jare is in Switserland deurgebring, waar hy oorlede is. Slegs ‘n week voor sy dood het hy ‘n orkestrasie van Bach se Die Kunst der Fuge voltooi. Verdere opnames: Mahler se vyfde simfonie; en die genoemde verwerkings van Mahler en Sjostakowitsj.

Barstow, Josephine (1940-), Engelse sopraan. Sy het in 1964 haar operadebuut gemaak, gevolg deur debute by Covent Garden (1969), die Metropolitan Opera (1977) en die Salzburg-fees (1986). Haar bekendheid lê veral in Britten-rolle soos Lady Billows in Albert Herring, Koningin Elizabeth in Gloriana en Miss Wingrave in Owen Wingrave. By die Glyndebourne-fees van 1972 het sy ‘n formidabele vertoning as Dame Macbeth in Macbeth gelewer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Sy blink verder uit in dramatiese rolle soos Marie in Wozzeck, die titelrolle in Salome en Jenufa, Kostelnicka in Jenufa, Vitellia in Idomeneo, Amelia in Un ballo in maschera en Elisabetta in Don Carlos. Verder het sy in die premières van The Knot Garden (1970), The Ice Break (1977) en Die schwarze Maske (1986) gesing. Sy was ‘n solis tydens die opening van die Barbican-sentrum in Londen in 1982, en weer met die silwerjubileum van die Londense Konsertorkes in 1997. In 1995 is sy tot dame geskep. Verdere opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Walter Weller); die musiekblyspel Kiss me Kate (as Lilli); en die genoemde operas van Berg, Britten, Janácek, Mozart en Verdi.

Barto, Tzimon (1963-), Amerikaanse pianis. Hy het op vyf jaar met klavierlesse begin en op nege ‘n opera geskryf. Vanaf 1981 het hy vir vier jaar aan die Juilliard Kollege studeer, waar hy die konsertkompetisie sou wen. Hy het ook die Gina Bachauer-kompetisie twee keer gewen. Die komponis Menotti het hom genooi om by die Spoleto-fees in 1984 op te tree as beide pianis en dirigent. Daar het hy in die volgende jaar Menotti se opera The Saint of Bleecker Street gedirigeer. Hy het in 1988 in Lugano in ‘n Switserse TV-uitsending van Chopin se eerste klavierkonsert onder die dirigeerstaf van Roderick Brydon gespeel, waarvan ‘n DVD mettertyd uitgereik is. In die jaar daarop het hy by die Weense Musiekvereniging gedebuteer onder die dirigent Christoph Eschenbach, en is sy eerste opname met werke van Prokofiëf, Ravel en Gershwin vrygestel. Hy het in 1990 by die Salzburg-fees verskyn, op uitnodiging van Herbert von Karajan wat intussen oorlede is. Sedertdien tree hy wyd deur Europe en die VSA op, as een van die min Amerikaanse pianiste wat bekendheid aan beide kante van die Atlantiese Oseaan verwerf het. ‘n Bundel van sy gedigte getitled A lady of Greek origin is in 2001 uitgegee. Hy praat nie minder nie as vyf tale en lees klassieke tale soos Grieks, Hebreeus en Latyn.

Bartók Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1963 gestig is. As meesterlike vertolkers van die Romantiese en moderne repertoriums het hulle opnames van Beethoven, Brahms, Bartók, Debussy en Ravel se volledige strykkwartette gemaak.

Bartoletti, Bruno (1926-2013), Italiaanse dirigent. Hy het fluit en klavier aan die Cherubini Konserwatorium in sy tuisstad Florence studeer. Aanvanklik het hy in die orkes van die stad se Maggio Musicale gespeel, totdat hy deur die legendariese Tullio Serafin aangemoedig is om dirigeerkuns te studeer. Nadat sy dirigeerdebuut in 1953 in Florence gemaak is, was hy residensiële dirigent van die Maggio Musicale Orkes (1957-64), hoofdirigent van die Koninklike Deense Opera (1957-60), en artistieke direkteur van die Roomse Opera (1965-73) en die Maggio Musicale Orkes (1985-91). Hy het die Italiaanse première van Sjostakowitsj se opera Die Neus in Florence gedirigeer. Sy Amerikaanse debuut is in 1956 met die Liriese Opera in Chicago gemaak in 'n opvoering van Il trovatore. Hy sou vir baie jare aan dié teater verbonde wees, onder meer as artistieke direkteur en hoofdirigent (beide 1964-99). Vanaf 1956 tot 2007 het hy nie minder nie as 600 opvoerings van 55 operas in Chicago gedirigeer, met 'n afskeid in La traviata. Daaronder tel die Amerikaanse première van Britten se Billy Budd (1970) en die wêreldpremière van Penderecki se Paradise Lost (1978). Sy bekendheid het bykans uitsluitlik in opera gelê, veral Italiaanse opera. Hy het in sy later jare ook in Siena onderrig gegee. Sy laaste verskyning was in 2011 met 'n opvoering van Manon Lescaut. Opnames: die operas Andrea Chénier (DVD, Milaan 1973), La Gioconda, La Bohème (DVD, La Scala 2003), Manon Lescaut, La gazza ladra (DVD, Keulen 1987) en Un ballo in maschera.

Bartoli, Cecilia (1966-), Italiaanse mezzosopraan. Beide haar ouers was sangers by die Roomse Opera, sodat dit nie verbasend is dat sy sanglesse van haar moeder ontvang het nie. Reeds as negejarige het sy haar debuut in die Italiaanse hoofstad gemaak, as die Skaapwagterseun in Tosca. In 1985 het sy gesing in Rossini-arias wat gebeeldsend is, wat haar onder die aandag van Herbert von Karajan en Daniel Barenboim gebring het. Daarna het sy met dié groot dirigente in konserte opgetree en opnames gemaak. Haar optrede by die Verona Arena in 1987 het haar internasionale loopbaan ‘n verdere hupstoot gegee. Sy het in 1993 by die Salzburg-fees gedebuteer en drie jaar later by die Metropolitan Opera. Met haar gladde, behendige stem, lewenskragtige sang en insigryke vertolkings is sy wêreldberoemd in die koloratuurrolle (vir sowel sopraan as mezzo) van Mozart en Rossini. Daaronder tel Sesto in La clemenza di Tito, beide Despina en Dorabella in Così fan tutte, beide Donna Elvira en Zerlina in Don Giovanni, Idamante in Idomeneo, Sifare in Mitridate, re di Ponto, sowel Cherubino, die Grafin en Susanna in Le nozze di Figaro, Cecilio in Lucia Silla, Rosina in Il barbiere di Siviglia en die titelrol in La Cenerentola. Verder is sy ewe begaafd in die operas van Handel, Haydn en Vivaldi, onder meer in die titelrolle van Rinaldo en Armida, en as Almirena in Rinaldo en Euridice in L'anima del filosofo.

Bartoli is ook uitmuntend in konsertwerke van die agtiende eeu, en in Italiaanse, Franse en Duitse liedere. In haar voordragte word sy dikwels deur die briljante pianis Andras Schiff begelei. Haar aantreklike voorkoms en gemoedelike persoonlikheid dra verder daartoe by dat sy tans een van die wêreld se gewildste sangeresse is. Sy het in 2001 tydens die Syriarte-fees in Graz as solis uitgeblink in Haydn se Arianna auf Naxos en Scena di Berenice onder Nikolaus Harnoncourt, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Met die 250ste herdenking van Mozart se geboorte in Salzburg in 2006 het sy ‘n uitvoering van sy Exsultate, jubilate onder Riccardo Muti gegee. Sleutelopnames: Handel se opera Rinaldo (onder Hogwood); 2 versamelings Vivaldi-arias, een onder Antonini op DVD, en een met dieselfde dirigent se ‘Il Giardino Armonico’ op kompakskyf. Verdere opnames: Haydn se kantate Arianna a Naxos (met A. Schiff); Mozart se Exsultate, jubilate (onder Adam Fischer); liedere van Beethoven, Berlioz, Bizet, Delibes, Ravel, Rossini en Schubert; die genoemde operas van Haydn, Mozart en Rossini; en versamelings arias van Gluck (onder Forck), Mozart (onder Fischer) en Rossini (onder beide Marin en Patané).

Basjmet, Joeri (1953-), Russiese altviolis en dirigent. Hy het in 1976 die internasionale altvioolkompetisie in München gewen, waarna hy as solis met bekende Europese orkeste begin optree het. In 1986 het hy die Moskou Soliste gestig, met wie hy drie jaar later by die Salzburg-fees gedebuteer het. As kampvegter vir die altviool was hy die eerste om as solis met dié instrument op te tree in Carnegie Hall in New York, die Concertgebouw in Amsterdam en die Royal Albert Hall in Londen. Hy is wêreldbekend in moderne musiek, met talle werke wat vir hom geskryf is. Daaronder tel altvioolkonserte van Gubaidulina, Schnittke en Ruders, Schnittke se Konsert vir Drie (met Rostropowitsj en Kremer as mede-soliste), en Tavener se The Myrrh Bearer. Hy tree dikwels in kamermusiek met ander bekende musici op. In 1990 het hy in ‘n konsert van Mozart se Sinfonia concertante onder Yehudi Menuhin in Strasbourg verskyn, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Hy het voorts in 2006 met Gidon Kremer as vennoot ‘n uitvoering van dieselfde werk tydens ‘n gala-konsert in Salzburg gegee, waarvan ‘n DVD insgelyks getuig. Sleutelopname: Walton se altvioolkonsert (onder Previn). Verdere opnames: Brahms se altvioolsonates (oorspronklik vir klarinet geskryf) en sy eerste klavierkwartet (met Argerich, Kremer en Maiski); altvioolsonates van Glinka, Kollontay, Roslawets en Sjostakowitsj; Britten se Dubbelkonsert (met Kremer); Bruch se Dubbelkonsert; Enescu se Konzertstück; en Schnittke se altvioolkonsert.

Bastianini, Ettore (1922-67), Italiaanse bariton. Aanvanklik het hy bas gesing, met ‘n debuut in dié stemtipe in 1945 in Ravenna. Drie jaar later het hy by La Scala gedebuteer en vanaf 1951 het hy as bariton opgetree. In 1953 het hy die rol van Prins Andrei in Oorlog en Vrede in die Europese premiére daarvan in Florence gesing. Vanaf 1953 tot 1966 was hy ‘n lid van die Metropolitan Opera in New York. Hy het ook tot 1964 gereeld by La Scala opgetree, met verdere debute wat gemaak is by die Salzburg-fees (1958) en Covent Garden (1962). Met sy ferm, ryk stem was hy begaafd in Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Daaronder het rolle getel soos Enrico in Lucia di Lammermoor, Gerard in Andrea Chénier, Alfio in Cavalleria rusticana, Marcello in La Bohème, Renato in Un ballo in maschera, Rodrigo in Don Carlos, Don Carlo in Ernani en Graaf Luna in Il Trovatore. Hy het in hoogstaande opnames van die genoemde operas van Giordano, Mascagni, Puccini en Verdi gesing.

Bastin, Jules (1933-96), Belgiese bas-bariton. Hy het in 1960 in Brussels gedebuteer en was vanaf dieselfde jaar aan die Belgiese Nasionale Opera verbonde. Verdere debute sou later volg by Covent Garden (1972) en die Salzburg-fees (1976). In 1979 het hy in Parys die rol van die Bankier in die eerste volledige opvoering van die opera Lulu onder Pierre Boulez gesing. Onder sy verdere rolle het getel Méphistophélès in La damnation de Faust en Lopez in L’Amant jaloux. Opnames: die genoemde operas van Berg, Berlioz en Grétry, asook Le Domino noir en Fra Diavolo.

Bate, Jennifer (1944-), Engelse orrelis en komponis. Sy het die komponis Olivier Messiaen in 1975 ontmoet, waarna sy deur hom beskou is as die voorste vertolker van sy orrelmusiek. Tussen 1979 en 1981 het sy op die orrel van die Saint Pierre-kerk in Beauvais die volledige orrelwerke van Messiaen opgeneem. Sy het in 1986 in die Westminster Katedraal die Britse première van sy Livre du Saint Sacrement gegee. ‘n Opname van die werk is in die jaar daarop by die Sainte-Trinité kerk in Parys gemaak. Haar wye repertorium strek terug tot in die agtiende eeu. Sleutelopnames: die volledige orrelwerke van Messiaen. Verdere opnames: solowerke van Boyce, Elgar, Franck, Handel, Liszt, Parry, Schumann, Stanford, Vaughan Williams en Wesley.

Bathori, Jane (1877-1970), Franse sopraan. Sy het haarself soms op die klavier begelei, en tydens die Eerste Wêreldoorlog het sy ook as verhoogdirekteur opgetree. Werke deur Debussy, Ravel en Satie is aan haar opgedra.

Batiashvili, Elisabeth (1979-), Georgiaanse violis. Sy het onder Mark Lubotsky studeer en in 1995 op sestienjarige leeftyd die jongste deelnemer nóg aan die Sibelius-kompetisie in Helsinki geword. ‘n Tweede prys is deur haar losgeslaan, waarna sy internasionaal begin optree het. Sy speel op ‘n Stradiwarius-viool van 1709. Opnames: Bach se Partita in B mineur; Brahms se eerste vioolsonate; Schubert se Rondo in B mineur.

Bátiz, Enrique (1942-), Meksikaanse dirigent. Hy het as vyfjarige sy debuut as pianis gemaak, en daarna in Dallas en aan die Juilliard Musiekskool in New York studeer. Verdere studies in dirigeerkuns het in Warskou plaasgevind. Later was hy dirigent van die Meksikaanse Staatsimfonie-orkes (1971-83 en weer sedert 1990) en musiekdirekteur van die Meksikostad Filharmoniese Orkes (1983-9). Sedert 1984 is hy ook hoofgasdirigent van die Koninklike Filharmoniese Orkes, met wie hy uitstekende opnames gemaak het van simfonieë deur Mozart en Tsjaikofski, en ander orkeswerke van Berlioz, Rachmaninof en Respighi. Verdere opnames: simfonieë van Chávez, en orkeswerke van Ginastera, Liadof, Revueltas en Rimski-Korsakof.

Battle, Kathleen (1948-), Afro-Amerikaanse sopraan. Sy het haar professionele debuut in 1972 by die Spoleto-fees in Brahms se Ein deutsches Requiem gemaak, en drie jaar later het haar operadebuut in Detroit plaasgevind. Verdere debute sou volg by die Metropolitan Opera (1978), by die feeste in Glyndebourne (1979) en Salzburg (1982), en by Covent Garden (1985). Met haar ligte koloratuurstem wat oor twee-en-’n-half oktawe strek, is sy wêreldbekend in liriese operarolle soos Adina in L'elisir d'amore, Despina in Così fan tutte, Zerlina in Don Giovanni, Rosina in Il barbiere di Siviglia, Elvira in L'italiana in Algeri, Sofia in Il Signor Bruschino, Oscar in Un ballo in maschera en die titelrol in Semele. Vanaf 1978 was sy aan die Met verbonde, waar sy weldra berug geraak het vir haar wangedrag, klagtes oor onbenullighede, laatkommery en afbrekende kritiek op mede-sangers. Eindelik is sy in 1994 tydens inoefeninge vir La fille du regiment deur die Met-bestuurder ontslaan, onder applous van die rolverdeling, weens haar venynige optrede teenoor die mezzosopraan Rosalind Elias. Sedertdien het sy nog nie by enige van die groot operahuise in die VSA gesing nie, en konsentreer sy op opnames en konsertuitvoerings. Sy het uitgeblink as Zerlina in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni by die Salzburg-fees in 1987, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Sleutelopname: Johann Strauss junior se Frühlingsstimmen (onder Karajan tydens die 1987 Nuwejaarskonsert in Wenen). Verdere opnames: Brahms se Ein deutsches Requiem; Haydn se Die Schöpfung (onder Levine); Mahler se simfonieë nrs. 2 (onder Mehta) en 4 (onder Maazel); Mendelssohn se A Midsummer Night’s Dream; die genoemde operas van Donizetti, Handel, Mozart, Rossini en Verdi, asook Don Carlos; en ‘n versameling opera-duette met Plácido Domingo.

Baudo, Serge (1927-), Franse dirigent. Hy het komposisie en dirigeerkuns aan die Parys Konserwatorium studeer, waarna hy vir die Franse radio gewerk en klankbane vir rolprente geskryf het. Sy professionele debuut as dirigent is in 1950 gemaak, en later was hy ‘n dirigent van die radio-orkes in Nice (1959-62). Hy was vervolgens verbonde aan operahuise in Parys (1962-5) en Lyon (1969-71), en het meegewerk aan die klankbaan vir Jacques Cousteau se rolprent World without Sun (1964). As bekende in Franse musiek is ‘n aantal premières deur hom gedirigeer, insluitend Messiaen se Et exspecto resurrectionem mortuorum (1965), Milhaud se La Mère coupable (1966), Daniel-Leseur se opera Andrea del Sarto (1969) en Dutilleux se tjellokonsert (1970). Daarby word sy opnames van sy landgenoot Honegger se volledige simfonieë met die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes in die 1960’s deur sommige kenners as die beste siklus daarvan beskou. Voorts was hy dirigent van die Orchestre de Paris (1968-70) en die Orchestre de Lyons (1971-89). Hy het verdere debute gemaak by die Salzburg-fees (1969), La Scala (1970) en die Metropolitan Opera (1971). Vanaf 1979 was hy artistieke direkteur van die Berlioz-fees in Lyon, wat deur hom gestig is. Hy was verder hoofdirigent van die Orchestra della Svizzera Italiana (1997-2000), met wie hy in 1997 ‘n voortreflike uitvoering van Brahms se derde simfonie gegee het, waarvan ‘n DVD getuig. Vanaf 2001 tot 2006 was hy musiekdirekteur van die Praag Simfonie-orkes. Hy is ‘n kleinneef van die befaamde tjellis Paul Tortelier. Verdere opnames: Beethoven se oratorium Christus am Olberge; orkeswerke van Debussy en Messiaen; Dutilleux se eerste simfonie; en Poulenc se Stabat Mater en Salve Regina.

Bauer, Harold (1873-1951), Brits-gebore pianis. Hy was 'n leerling van die legendariese Jan Paderefski, en het vir 'n tyd lank met die violis Jacques Thibaud en die tjellis Pablo Casals in kamermusiek gespeel. In 1919 het hy die Beethoven-Vereniging in New York gestig en twee jaar later het hy 'n Amerikaanse burger geword. Hy was bekend vir sy vertolkings van veral Schumann, asook van Bach, Beethoven en Brahms. Daarby was hy 'n kampvegter vir Franse musiek, veral dié van Debussy, Franck en Ravel.

Baumann, Hermann (1934-), Duitse horingspeler. Hy was eerste horingspeler in die orkeste in Dortmund (1957-61) en van die Stuttgart Radio (1961-7), en is sedertdien 'n hoogleraar in Essen. Hy tree wêreldwyd as solis op en het in 1977 by die Salzburg-fees gedebuteer. Verskeie werke is deur hom aan die vergetelheid ontruk. Opnames: Mozart se volledige horingkonserte en sy Kwintet vir klavier en houtblasers (met Brendel, Nicolet, Holliger en Thunemann); en horingkonserte van Danzi, Glière, Haydn en Rosetti.

Baumgartner, Rudolf (1917-), Switserse violis en dirigent. Hy het in 1956 met die groot violis Wolfgang Schneiderhan die Luzern-fees Strykers gestig. Daarna het hy wyd met hulle getoer, in 1957 by die Salzburg-fees gedebuteer en vele opnames gemaak. Daaronder tel stylvolle weergawes van Bach se volledige Brandenburgkonserte en Orkessuites in 1977/8. Verder het hy eerste uitvoerings van werke deur Penderecki en Ligeti gegee, en Bach se Kuns van die Fuga en Musikale Offer verwerk. Vanaf 1960 was hy direkteur van die Luzern Konserwatorium en vanaf 1968 tot 1980 ook direkteur van die Luzern-fees.

Bayo, Maria (1961-), Spaanse sopraan. Ná aanvanklike musiekstudies in Pamplona is sy na Duitsland om in Detmold verder te studeer. Sy het in 1988 die internasionale sangkompetisie in Wenen gewen, waarna haar internasionale loopbaan ontvou het. Met haar helder, elegante sang en charismatiese persoonlikheid blink sy veral uit in Mozart-rolle soos Susanna en Cherubino in Le nozze di Figaro, Ilia in Idomeneo, Zerlina en Donna Anna in Don Giovanni, en Despina en Fiordiligi in Cosi fan tutte. Verder is sy bekend as Euridice in Orfeo ed Euridice, en tree sy dikwels met haar landgenote Alfredo Kraus en Placido Domingo in Spaanse musiek op. Daaronder tel uitstekende opnames van Bretón se La Verbena de la Paloma (as Susana) en Vives se Dona Francisquita (in die titelrol), beide onder Antoni Ros Marbà. In 2001 het sy die titelrol gesing in die eerste opname van Traetta se Antigone onder Christophe Rousset. Die kultuurprys Principe de Viana is deur Prins Felipe de Borbón van Navarre aan haar toegeken. Haar versameling arias en kantates van Handel is vir ‘n Grammy-toekenning benoem.

Bayreuth, die Beierse dorp in Duitsland waar ‘n jaarlikse somerfees van Wagner se operas plaasvind. Die teater is deur die komponis self ontwerp en gebou, met ‘n ideale akoestiek vir sy musiek. Dit is in 1876 ingewy met die première van die Ring-tetralogie, onder die dirigeerstaf van Hans Richter. Ná Wagner se dood in 1883 is die teater agtereenvolgens deur sy weduwee Cosima (tot 1908), sy seun Siegfried (1908-30), sy skoondogter Winifred (1931-44), en sy kleinseuns Wieland (1951-66) en Wolfgang (1966-2008) beheer. Tydens die Derde Ryk-era is die fees vir alle praktiese doeleindes deur die Nasionaal-Sosialiste gekaap, met Hitler en sy gevolg as jaarlikse eregaste by Bayreuth. As strafmaatreël het die Geallieerdes ná die Tweede Wêreldoorlog vir ses jaar geen opvoerings daar toegelaat nie, totdat die fees in 1951 herleef is. Dié geleentheid word as die na-oorlogse kulturele hergeboorte van die Duitse volk beskou. Gedurende die 1950’s is opvoerings van die Ring-siklus by die fees oorheers deur die sogenaamde K-dirigente: Karajan, Krauss, Knappertsbusch, Keilberth en Kempe. Hulle was die voorste Wagner-dirigente van hul tyd met ‘n ongeëwenaarde begrip van die Ring, tesame met Furtwängler wat in die na-oorlogse tydvak slegs toegelaat is om Beethoven se negende simfonie by die fees te dirigeer. Helaas het Wieland Wagner tot uiterstes gegaan om sy grootvader se weldeurdagte verhoogaanwysings omver te werp, sodat talle opvoerings tydens sy 15-jarige bewind deur dekonstruksie gekenmerk is. Gelukkig vir liefhebbers van Wagner se musiek het die posisie tydens die langdurige bestuur van Wolfgang Wagner verbeter, met ‘n terugkeer na estetiese standaarde. In 2008 is daar bekendgemaak dat Wolfgang Wagner se dogters Eva en Katharina voortaan in beheer van sake by die Bayreuth-fees sal wees. Sedert 2010 is Christian Thielemann die fees se musiekadviseur.

BBC Filharmoniese Orkes, streekorkes van die BBC wat in 1931 as die Noordelike Draadloos-orkes gestig is. Hulle is in Manchester gebaseer en het oor die jare heen met komponiste soos Berio, Copland, Penderecki, Tippett en Walton saamgewerk. Reise is na die Verre Ooste, die Midde-Ooste en die Amerika’s onderneem. Onder hul hoofdirigente het getel Charles Groves (1944-51), John Hopkins (1952-7), George Hurst (1958-68), Bryden Thomson (1968-73), Raymond Leppard (1973-80), Edward Downes (1980-91) en Yan Pascal Tortelier (sedert 1991). Die orkes het in 1983 hul huidige naam ontvang.

BBC Nasionale Orkes van Wallis, streekorkes van die BBC wat uit die laat 1920’s dateer en in Cardiff gebaseer is. Hul huidige naam is in 1993 verkry, terwyl Tadaaki Otaka die hoofdirigent was (1987-1996). Hy is opgevolg deur Mark Wigglesworth (1996-2001) en Richard Hickox (sedert 2001).

BBC Simfonie-orkes, Londense orkes wat in 1930 deur Adrian Boult gestig is. Tydens sy lang bewind as hoofdirigent (tot 1950) is die orkes tot internasionale gehalte opgebou, sodat sulke legendariese dirigente soos Koussewitzki, Toscanini en Walter dit geniet het om hulle te dirigeer. Boult is opgevolg deur Malcolm Sargent (1950-7), Rudolf Schwarz (1957-62), Antal Doráti (1962-6), Colin Davis (1967-71), Pierre Boulez (1971-5), Rudolf Kempe (1975/6), Gennadi Rozhdestwenski (1978-81), John Pritchard (1981-9) en Andrew Davis (1989-2000). In 2001 het Leonard Slatkin die hoofdirigent geword, en is Mark-Anthony Turnage as hul eerste mede-komponis aangestel. Oor die dekades heen het die orkes die premières van meer as ‘n duisend werke gegee, waarvan talle vir hulle geskryf is.

BBC Skotse Simfonie-orkes, streeksorkes van die BBC in Glasgow waarvan die voorloper in 1935 deur Ian Whyte, wat vanaf 1945 tot 1960 hul hoofdirigent was, gestig is. Vanaf 1947 het hulle dikwels by die Edinburgh-fees opgetree, met bekende musici soos Victoria de los Angeles, Yehudi Menuhin, Artur Schnabel, Isaac Stern en Guilhermina Suggia as soliste. Sedert 1962 tree die orkes jaarliks by die Promenadekonserte in Londen op (allerweë as die Proms bekend). Onder Jerzy Maksymiuk, wat in 1983 hoofdirigent geword het, het hulle wyd deur Europa, Kanada en die Ooste getoer. In 1995 is die Sjinees-gebore Tan Dun as mededirigent aangestel.

Bean, Hugh (1929-2003), Engelse violis. Hy het vanaf vyfjarige leeftyd vioollesse van sy vader ontvang, waarna studies onder Albert Sammons en aan die Koninklike Musiekkollege gevolg het. Nadat hy op sewentien van laasgenoemde gegradueer het, is hy na Brussels vir ‘n jaar se studies aan die konserwatorium. Daar het hy eerste pryse in solospel en kamermusiek gewen, en met twee ander pryswenners het hy die Boise Trio gestig. Hy is op 24 as hoogleraar in viool aan die Koninklike Musiekkollege aangestel, ‘n pos wat hy vir 37 jaar sou beklee. Gedurende dié tyd het hy in ‘n aantal Londense orkeste gespeel, onder meer as orkesleier van die Philharmonia Orkes (1956-67) en die BBC Simfonie-orkes (1967-9). Vanaf 1969 het hy ‘n sololoopbaan gevolg totdat hy in 1989 na die Philharmonia teruggekeer het. Hy was daarby ‘n lid van die ‘Music Group of London’, met wie hy wêreldwyd in kamermusiek gespeel het. Dit sluit vier besoeke aan Sjina in. Die CBE is in 1970 aan hom toegeken. Sy spel is gekenmerk deur liriese skoonheid en warmte. Opnames: Bach se Dubbelkonsert (met Kenneth Sillito); Elgar se vioolkonsert en -sonate; Vaughan Williams se The Lark Ascending; en Vivaldi se Vier Seisoene (onder Stokowski, 1966).

Beaux Arts Trio, Amerikaanse kamer-ensemble vir klavier, tjello en viool. Hulle het in 1955 tydens die Berkshire-fees hul eerste uitvoering gegee en in 1979 by die Salzburg-fees gedebuteer. Die ensemble word gelei deur die pianis Menahem Pressler, die enigste oorblywende stigterslid van die trio. Hy het oor die dekades heen in meer as 50 opnames as lid van die trio gespeel, met waardevolle kontinuïteit in styl en tegniek wat deur hom verskaf is. As een van die beste kamer-ensembles van hul tyd is hulle wêreldbekend in ‘n wye repertorium van Klassieke, Romantiese en moderne werke. Met hul natuurlike, ongeforseerde spel het hulle die volledige klaviertrios van Beethoven, Brahms, Chausson, Dvorák, Haydn, Mozart, Ravel en Schubert in meesterlike vertolkings opgeneem. Sleutelopnames: Beethoven se klaviertrios nrs. 4, 5 en 7 (1965). Verdere opnames: klaviertrio's van Chopin, Fauré, Ives, Mendelssohn, Poulenc, Clara en Robert Schumann, Sjostakowitsj, Smetana en Tsjaikofski; Beethoven se Driedubbele konsert (onder Masur); Brahms se 3 klavierkwartette (met Walter Trampler); Mozart se 2 klavierkwartette (met Bruno Giuranna); Schubert se Forelle-kwintet (met Samuel Rhodes en Georg Hörtnagel); en Schumann se klavierkwartet en -kwintet.

Bedford, Steuart (1939-), Engelse dirigent en pianis. Nadat hy in 1964 met die Oxford Kamerorkes sy debuut gemaak het, was hy vanaf 1965 vir twee jaar aan die musiekpersoneel van Glyndebourne verbonde. Terselfdertyd was hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie, en in 1967 het sy professionele dirigeerdebuut by Sadler’s Wells plaasgevind. Verder was hy vanaf 1973 artistieke direkteur van die Aldeburgh-fees, waar hy deur Britten gekies is om hom as opera-dirigent op te volg. Daar het hy die premières van dié komponis se opera Death in Venice (1973) en kantate Phaedra (1976) gedirigeer. As Britten-spesialis het hy ‘n orkessuite uit eersgenoemde verwerk, wat in 1984 by Aldeburgh uitgevoer is. Hy tree voorts as klavierbegeleier vir die tenoor Philip Langridge in van sy liedere-voordragte op. Opnames: die genoemde werke van Britten, asook sy Simple Symphony en operas Albert Herring en The turn of the screw; Gay se The Beggar's Opera; en Saxton se Music to celebrate the resurrection of Christ.

Beecham, Thomas (1879-1961), Engelse dirigent. Ná studies in Fleetwood en Oxford is sy Londense dirigeerdebuut in 1905 gemaak. Vier jaar later het hy sy eie simfonie-orkes gestig en in 1910 het hy by Covent Garden aangesluit. Vanaf daardie tydstip het hy baanbrekerswerk in verskeie opsigte gedoen, soos om die musiek van sy landgenoot Frederick Delius bekend te stel; om Russiese ballette vir die eerste keer in Brittanje op te voer, met Djagilef se geselskap (1913-4); en om die Britse premières van Richard Strauss se operas Elektra (1910), Der Rosenkavalier en Ariadne auf Naxos (beide in 1913) te dirigeer. In 1915 het hy Artur Nikisch as hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes opgevolg, het hy sy eie operageselskap op die been gebring, en is hy tot ridder geslaan. Hy het sy vader in 1916 as baron opgevolg. Sy debuut by die Salzburg-fees is in 1931 gemaak. Hy het in 1932 die Londense Filharmoniese Orkes gestig, wat hy tot 1940 sou dirigeer. Hul eerste opname, in Desember 1932, was van sy eie balletsuite The Origin of Design, een van sy Handel-verwerkings. In 1933 het hy artistieke direkteur van Covent Garden geword. Daar het hy in 1936 met ‘n uitmuntende Duitse rolverdeling ‘n opvoering van Die Meistersinger von Nürnberg gedirigeer, waarvan uittreksels opgeneem is. Hy het voorts in die laat 1930’s in Berlyn ‘n historiese opname van Die Zauberflöte met die Berlynse Filharmoniese Orkes en van die voorste Duitse sangers van die dag gemaak.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Beecham in die VSA opgetree, onder andere by die Metropolitan Opera vanaf 1942. In 1946 het hy die Koninklike Filharmoniese Orkes gestig, wat hy tot sy dood vyftien jaar later sou dirigeer. Met hulle het hy talle opnames gemaak, waarvan ‘n hele aantal steeds deur kenners as ongeëwenaard beskou word. Daaronder tel Delius se volledige orkes- en koorwerke. As spitsvondige, lewenslustige mens was Beecham geliefd onder sy orkeste, en as musikus was hy een van die twintigste eeu se grootste dirigente. Hy was meesterlik in die musiek van Haydn, Mozart, Richard Strauss, Sibelius, Franse Romantici soos Berlioz, Bizet en Gounod, en sy landgenoot Delius. Hy het ‘n biografie oor Delius geskryf, en die premières van sy A Mass of Life (1909), A Village Romeo and Juliet (1910), Songs of Sunset (1911), North Country Sketches (1915), Cynara (1929), Koanga (1935), Florida Suite (1937) en Irmelin (1953) gedirigeer. In 1947 het hy ‘n Strauss-fees in Londen georganiseer, met dramatiese opvoerings van Ariadne auf Naxos en Elektra wat deur hom gedirigeer is. Naas sy bevordering van Delius en Strauss was hy ‘n vroeë kampvegter vir die musiek van Sibelius. Hy was getroud met die pianiste Betty Humby, vir wie hy ‘n klavierkonsert saamgestel uit Handel-bewegings geskryf het. Hulle het ‘n historiese opname daarvan gemaak.

Sleutelopnames: Balakiref se simfonie nr.1; Berlioz se Symphonie fantastique; Bizet se opera Carmen (1959/9); Borodin se Ouverture en Polowtsiese Danse uit Prins Igor (1957); Goldmark se Rustic Wedding Symphony (1952); uittreksels uit Grieg se Peer Gynt (1957); Schubert se simfonieë nrs. 3, 5 en 6. Verdere opnames: simfonieë van Beethoven (nrs. 2, 3, 6, 7 en 8), Bizet, Dvorák (nr. 8), Franck, Haydn (nrs. 93-104), Mendelssohn, Mozart (nrs. 29, 31, 34, 35 en 38), Schubert (1, 2 en 8) en Sibelius (nrs. 2, 4 en 7); orkeswerke van Arnell, Balakiref, Bizet, Brahms, Chabrier, Debussy, Dvorák, Gounod, Grieg, Handel, Massenet, Mendelssohn, Mozart, Nicolai, Rimski-Korsakof, Rossini, Saint-Saëns, Sibelius, Suppé en Tsjaikofski; Beethoven se Mis in C en Die Bouvalle van Athene; Berlioz se Requiem; Handel se oratoriums Messiah (1947 en 1959, laasgenoemde volgens Eugene Goossens se orkestrasie) en Solomon; Liszt se Faust simfonie; Mozart se Requiem; Schumann se Manfred-musiek; Richard Strauss se Ein Heldenleben; ‘n versameling orkesuittreksels uit Wagner-operas; en die operas Louise, A Village Romeo and Juliet, Faust (in Engels), The Tales of Hoffmann (in Engels), La Bohème, Götterdämmerung en Tristan und Isolde (laasgenoemde met Fritz Reiner gedeel).

Beethoven Kwartet, Russiese strykkwartet wat vanaf 1923 tot 1975 gespeel het. Hulle het die eerste uitvoerings van byna al Sjostakowitsj se strykkwartette gegee.

Behrens, Hildegard (1937-2009), Duitse sopraan. As jong kind het sy met klavierlesse begin en later het sy aan die Universiteit van Freiburg in die regte gegradueer. Sy het daarop na  sang oorgeslaan en het aan die Freiburg Musiekakademie studeer. In 1971 is haar operadebuut in Freiburg gemaak, as die Grafin in Le Nozze di Figaro. Vanaf 1972 was sy 'n lid van die Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1976), en by die feeste in Salzburg (1977) en Bayreuth (1983). Haar Salzburg-debuut was in die titelrol van Salome, waarin sy deur Herbert von Karajan afgerig is. Met haar kragtige dog sensitiewe sang, uitmuntende akteurspel en aantreklike voorkoms was sy wêreldbekend in die dramatiese operarolle van Richard Strauss en Wagner. Daaronder tel die titelrolle in Tosca, Elektra, Die Frau ohne Schatten en Salome, Senta in Der fliegende Holländer en Brünnhilde in die Ring-siklus. By die Met het sy in 1989/90 ‘n formidabele vertoning gelewer as Brünnhilde, in James Levine se hoogaangeskrewe siklus wat verfilm is. Verder was sy begaafd as Leonore in Fidelio, Marie in Wozzeck en Moeder in Hänsel und Gretel, asook in Duitse liedere. Onder haar vele ere-toekennings tel 'n Bundesverdienskreuz van die Duitse federale regering, en Kammersängerin van beide die Weense en Beierse Staatsoperas. Sy is onverwags weens slagaarbreuk tydens 'n besoek aan Tokio oorlede. Verdere opnames: liedere van Schubert; en die genoemde operas van Beethoven, Berg, Humperdinck, R. Strauss en Wagner (insluitend ‘n verdere Ring-siklus onder Wolfgang Sawallisch by die Beierse Staatsopera).

Beierse Radio Simfonie-orkes, Duitse orkes wat in 1949 in München gestig is. Eugen Jochum het hulle tot 1961 gedirigeer, en onder sy opvolgers het getel Rafael Kubelik (1961-79), Colin Davis (1983-92) en (sedert 1992) Lorin Maazel. As een van die voorste orkeste in Europa het hulle het vele toere en opnames agter die rug.

Belcea Kwartet, Engelse strykkwartet wat in 1994 by die Koninklike Musiekkollege gestig is. Vyf jaar later het hulle die internasionale kompetisies in Osaka en Bordeaux gewen, en in dieselfde jaar (1999) het hulle in ‘n hele aantal Europese stede asook New York gedebuteer. Sedert 2001 is die kwartet aan die Wigmore Hall verbonde. Hoewel hulle op die klassieke repertorium konsentreer, werk hul ook saam met hedendaagse komponiste soos Holt en Komarowa. Sleutelopnames: Bartók se 6 strykkwartette; Britten se 3 strykkwartette en 3 Divertimenti; die enkele strykkwartette van Debussy en Ravel. Verdere opnames: Brahms se eerste strykkwartet en eerste strykkwintet (lg. met die altviolis Thomas Kakushka); en Schubert se strykkwartette nrs. 10, 12 en 13.

Belkin, Boris (1948-), Russies-gebore violis. Hy het as sesjarige sy openbare debuut gemaak, in 1973 die nasionale Sowjet-kompetisie gewen en in die jaar daarop na Israel geëmigreer. In 1974 is sy debuut in dié land onder Zubin Mehta gemaak, en daarna het hy as solis met van die voorste Europese en Amerikaanse konserte opgetree. Met sy kragtige dog sensitiewe spel is hy veral bekend in die Romantiese repertorium. Opnames: Brahms, Sibelius en Richard Strauss se vioolkonserte; Sibelius se Serenade nr. 1.

Bell, Joshua (1968-), Amerikaanse violis. As leerling van Joseph Gingold, wat op sy beurt onder die legendariese Eugene Ysaÿe studeer het, het hy as twaalfjarige sy openbare debuut gemaak. Kort daarna het hy met die Philadelphia Orkes onder Riccardo Muti gespeel. Sy New York-debuut is in 1985 gemaak. Twee jaar later het hy deur Duitsland getoer en sy Londense debuut met die Koninklike Filharmoniese Orkes gemaak. In 1993 het hy die eerste uitvoering van Maw se vioolkonsert in New York gegee. Hy het as solis in die klankbaan van die rolprent The Red Violin uitgeblink. Met sy briljante dog sensitiewe spel is hy tans een van die voorste vioolvirtuose ter wêreld in die Romantiese en moderne repertoriums. Hy bespeel ‘n Stradiwarius-viool van 1713 wat voorheen aan Bronislaf Huberman behoort het. Sleutelopnames: Barber se vioolkonsert (onder Zinman); Prokofiëf se 2 vioolkonserte (onder Dutoit); Schumann se vioolkonsert (onder Dohnányi); Walton se vioolkonsert (onder Zinman). Verdere opnames: vioolkonserte van Brahms, Bruch, Mendelssohn, Mozart (nrs. 3 en 5), Tsjaikofski en Wieniawski (nr. 2); Bernstein se West Side Story suite (deur Brohn verwerk) en Serenade; Bloch se Baal Shem; Chausson se Konsert vir klavier, viool en strykkwartet (met Thibaudet en die Takács Kwartet); ‘n versameling solowerke van Kreisler; Messiaen se Quatuor pour la fin du temps (met Mustonen, Isserlis en Collins); en Sarasate se Carmen Fantasie.

Belohlávek, Jirí (1946-), Tsjeggiese dirigent. Hy was in 1971 ‘n finalis in die Herbert von Karajan-dirigeerkompetisie, waarna hy tot 1977 dirigent van die Brno Staatsfilharmoniese Orkes was. Vervolgens was hy hoofdirigent van die Praag Simfonie-orkes (1977-90), wat hy in 1990 na die Edinburgh-fees geneem het. Hy was voorts hoofdirigent van die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes (1990-2), en verskyn as gasdirigent met bekende Amerikaanse, Britse en Russiese orkeste. In 1995 het hy hoofgasdirigent van die BBC Filharmoniese Orkes geword en sedert 2006 is hy musiekdirekteur van die BBC Simfonie-orkes. By die Glyndebourne-fees het hy in 2007 ‘n uitstekende opvoering van Tristan und Isolde gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Hy het in dieselfde jaar die première van John Tavener se koorwerk The Beautiful Names in die Westminster Katedraal gedirigeer. Sleutelopnames: Martinu se Konsert vir Dubbele Strykorkes en simfonie nr. 1 (Tsjeggiese Filharmonie); Suk se Asrael Simfonie (Praag Filharmonie). Verdere opnames: Dvorák se simfonieë nrs. 6-8, asook sy kantate Die Spook se Bruid, Stabat Mater en Psalm 149; Fibich se derde simfonie; Hindemith se Mathis der Maler simfonie en Konsertmusiek vir koperblasers en strykers; Janácek se Sinfonietta en Taras Bulba; Martinu se simfonieë nrs. 3, 4 en 6, ‘n versameling van sy ander orkeswerke, sy koorballet The Butterfly that stamped, oratorium The Epic of Gilgamesh, en koorwerke Memorial to Lidice en Field Mass; Suk se Fantastic Scherzo; Zelenka se Missa in D en Responsoria pro Hebdomada Sancta; en Dvorák se opera Die hardkoppige minnaars.

Benacková, Gabriela (1944-), Tsjeggiese sopraan. Sy het in 1963 die Dvorák-sangkompetisie in Karlovy Vary gewen. In 1970 is haar operadebuut in Praag gemaak, waarna sy ‘n lid van die Praag Nasionale Teater was. Verdere debute sou volg in Dublin (1975), Moskou (1977), Wenen (1978), by Covent Garden (1979) en die Salzburg-fees (1984). Haar bekendheid lê merendeels in die operas van haar landgenote, soos die titelrolle in Libuse, Jenufa, Káta Kabanová en Rusalka, en as Marenka in Die Verruilde Bruid. Met haar ryk stem is sy verder begaafd as Leonore in Fidelio en Marguerite in Faust. Sy het uitgeblink in ‘n opvoering van Fidelio onder Christoph von Dohnányi by Covent Garden, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: Janácek se Glagolitic Mass (onder Tilson Thomas); liedere van Dvorák, Janácek en Martinu (begelei deur Rudolf Firkusny); en die genoemde operas van Dvorák en Smetana.

Berberian, Cathy (1925-83), Amerikaanse sopraan. As hoogs indiwidualistiese sanger-aktrise het sy gespesialiseer in avant-garde werke, veral dié van Luciano Berio met wie sy vanaf 1950 tot 1966 getroud was. Sy is beskou as die beste vertolker van Kurt Weill sedert die legendariese Lotte Lenya, en Strawinski was ‘n verdere komponis wat werke vir haar geskryf het. In 1972 het sy in ‘n hoogstaande opname van werke deur Berio en Weill, met haar man as dirigent, gesing. Haar debuut by die Salzburg-fees het in 1974 plaasgevind. Daarby het sy uitgeblink as die Boodskapper in Orfeo en as Ottavia in L'incoronazione di Poppea in opnames van dié Monteverdi-operas onder Nikolaus Harnoncourt. Sy was ook ‘n leermeester, komponis en skrywer.

Berezofski, Boris (1969-), Russiese pianis. Hy was in 1990 die wenner van die internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou, en sedertdien toer hy internasionaal. Met sy formidabele tegniek en verfynde spel is hy ‘n uitmuntende vertolker van die Russiese repertorium, en ewe begaafd in die musiek van ander Romantici. Sleutelopnames: Liszt se 12 Etudes d’exécution transcendante; Moessorgski se Nag op ‘n Kaal Berg; Schumann se klaviersonate nr. 2 en Davidsbündlertänze. Verdere opnames: Balakiref se Islamey; Bartók/Székely se Roemeense Volksdanse (met Wadim Repin); Beethoven se klavierkonserte nrs. 1-3 (onder Dausgaard), en sy Driedubbele konsert (met Svensson en Rondin); Brahms se Ein deutsches Requiem (in die kamerweergawe); Liszt se twee klavierkonserte en Totentanz (almal onder Hugh Wolff), en sy 12 Etudes d’exécution transcendante (op DVD); Rachmaninof se Chopin Variasies; Schubert se Forelle-kwintet (met soliste van Covent Garden); Tsjaikofski se eerste klavierkonsert (onder Nagano); en solowerke van Chopin, Liadof, Metner en Rachmaninof.

Berganza, Teresa (1935-), Spaanse mezzosopraan. Sy het onder Lola Aragón, ‘n leerling van Elisabeth Schumann, studeer en in 1954 ‘n sangkompetisie aan die Madrid Konserwatorium gewen. Ná haar debuut die volgende jaar in die Spaanse hoofstad het debute gevolg by La Scala (1957), die Glyndebourne-fees (1958), Covent Garden (1960), die Metropolitan Opera (1967) en die Salzburg-fees (1972). Met haar verfynde, romerige stem was sy wêreldbekend in die operas van Mozart en Rossini, en ewe begaafd in Romantiese opera, konsertwerke en Spaanse liedere. Haar repertorium sluit rolle in soos Ruggiero in Alcina, Dulcinée in Don Quichotte, Suzuki in Madama Butterfly, Angelina in La Cenerentola, en die titelrolle in Carmen en L'italiana in Algeri. In 1965 het die Spaanse regering die Orde van Isabella die Katoliek aan haar toegeken. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Kubelik); Duruflé se Requiem; Falla se ballet Die driehoekige hoed; Ravel se Shéhérazade; Strawinski se ballet Pulcinella; talle liedere van Granados, Villa-Lobos en andere; ‘n versameling konsertarias van Mozart; en die genoemde operas van Bizet, Gluck, Massenet, Puccini en Rossini, asook La vida breve en La clemenza di Tito.

Bergel, Erich (1930-), Roemeense dirigent en komponis. Hy was afkomstig van die landstreek Transsilvanië, voorheen bekend as Siebenburgen (Seweburge) weens die groot Duitse bevolking wat vir eeue daar gewoon het. Sy vader was van Luxemburg en sy moeder was Spaans-Hongaars, en bowendien was hulle ‘n musikale gesin. Met sy violis-vader en ‘n hele aantal broers en susters het hy bykans elke dag kamermusiek gespeel, waartydens hy verskeie instrumente leer bemeester het. Op 18 het hy ‘n fluitspeler in die Hermannstad Filharmoniese Orkes geword. Vanaf 1950 het hy vir vyf jaar orrel, fluit, dirigeerkuns en komposisie aan die Cluj (voorheen Klausenburg) Musiekkollege studeer, waartydens hy ‘n hartstogtelike liefde vir die musiek van Bach ontwikkel het. Hy het die volledige orrelwerke van Bach in 35 uitvoerings gespeel. Na voltooiing van sy studies was hy vir vier jaar ‘n musiekdirekteur in Nagyvárad, waarna hy in 1959 dirigent geword het van die Cluj Filharmoniese Orkes, die vernaamste simfonie-orkes in sy geboorteland. In dieselfde jaar is hy egter deur die kommunistiese owerhede gaerresteer, op grond van beweerde ondermyning teen die staat. Die werklike rede vir sy vervolging was dat hy gewyde werke van Handel, Haydn en Mozart gedirigeer en orrelkonserte uitgevoer het. Hy is tot sewe jaar dwangarbeid gevonnis, waartydens hy soms tot 14 uur per dag in winterweer moes werk. Vir twee jaar is hy in eensame aanhouding gehou, waartydens hy nie ‘n woord gepraat of enigiemand gesien het nie.

In 1962 is Bergel onverwags vrygelaat, waarna hy vir jare aan akute skeelhoofpyn gely het. Aanvanklik is hy nie toegelaat om weer te dirigeer nie, en het hy ‘n bestaan gemaak deur trompet in sy voormalige orkes te speel. Met behulp van joga en ‘n intensiewe studie van Bach se laaste werk, Die Kunst der Fuge, het hy van sy lyding herstel. In 1965 het hy weer hoofdirigent van die Cluj Filharmonie geword, en verder het hy as gasdirigent in die destydse Sowjet-Unie, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en Oos-Duitsland begin optree. In dié tyd sou ‘n meer vriendelike bestemming ingryp. Die groot dirigent Herbert von Karajan het ‘n kassetopname van Bergel se voltooiing van die laaste deel van Die Kunst gehoor, waarop hy aan die Roemeense regering geskryf en hulle op die epogmakende betekenis daarvan gewys het. In 1971 is Bergel toegelaat om Roemenië te verlaat, waarna hy in Wes-Berlyn gaan woon het. Vanaf 1971 was hy vir drie jaar hoofdirigent van die Noordwes-Duitse Filharmoniese Orkes in Herford. Hy het ook as gas met Karajan se Berlynse Filharmoniese Orkes verskyn en daarna ‘n internasionale loopbaan as gasdirigent begin volg. Dit het optredes met talle orkeste op al die vastelande behels, in Suid-Afrika ‘n aantal kere met die Kaapstadse Simfonie-orkes. Vanaf 1972 het hy ook aan die Berlynse Musiekakademie onderrig gegee, en vanaf 1979 was hy ‘n hoogleraar aan die Berlynse Kunste-Akademie. Hy was vanaf 1989 vir vyf jaar hoofdirigent van die Boedapest Filharmoniese Orkes en was ‘n gereelde gasdirigent by die Hongaarse Staatsopera.

Bergel se bekendheid het naas Bach veral in die musiek van Beethoven, Brahms en Bruckner gelê, waarin hy beskou word as ‘n voortsetting van die groot Duitse tradisie van Furtwängler en Karajan. Met sy diep geestelike inslag het hy musiek beskou as ‘n godsdienstige daad, en as leermeester van die grootste vreugde en die grootste erns. In die 1980’s het hy twee boeke oor Die Kunst der Fuge gepubliseer (deur Brockhaus Musikverlag,y Bonn), wat hoë lof onder musiekgeleerdes ingeoes het. ‘n Ewe groot prestasie was sy orkestrasie van dié werk, wat hy eers aangepak het nadat Karajan se verswakkende gesondheid sy voorneme om dit te doen aan bande gelê het. Onder sy opnames tel Die Kunst en die volledige simfonieë van Brahms.

Berger, Erna (1900-90), Duitse sopraan. Haar debuut het in 1925 in Dresden plaasgevind, en vanaf 1929 het sy vir vier seisoene by die Bayreuth-fees opgetree. Verdere debute het gevolg by die Salzburg-fees (1932) en Covent Garden (1934), en vanaf 1934 was sy 'n lid van die Berlynse Staatsopera. Sy het in 1937 as solis uitgeblink in ‘n uitvoering en opname van Beethoven se negende simfonie tydens die kroningsgeleentheid van Koning George VI in Londen, onder Wilhelm Furtwängler. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy by die Metropolitan Opera gesing (1949-51), en in 1953/4 weer by die Salzburg-fees. Haar bekendheid het merendeels in Mozart-rolle soos Zerlina in Don Giovanni en die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte gelê. Dit sluit klassieke opnames van laasgenoemde in die laat 1930's onder Thomas Beecham in Berlyn en van eersgenoemde in 1953/4 onder Furtwängler in Salzburg in. Na haar uittrede uit opera in 1955 het sy 'n leermeester geword. Verdere opnames: Mozart se Mis in C mineur.

Berglund, Paavo (1929-2012), Finse dirigent. Aanvanklik was hy ‘n violis in die Finse Radio Simfonie-orkes (1949-56), en daarna was hy hul assistent-dirigent (1956-62) en hoofdirigent (1967-71). Intussen is sy Britse debuut in 1965 met die Bournemouth Simfonie-orkes gemaak. Hy het in 1970 die eerste uitvoerings van Sibelius se Kullervo simfonie buite Finland gedirigeer, in Londen en Bournemouth. Vanaf 1972 was hy vir sewe jaar hoofdirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes, en terselfdertyd was hoofdirigent van die Helsinki Filharmoniese Orkes (1975-9). In 1977 is die OBE aan hom toegeken, en later was hy hoofdirigent van die Stockholm Filharmoniese Orkes (1987-91). Hy het hulle op toere deur Europa en Japan gelei. Vanaf 1993 was hy hoofdirigent van die Koninklike Deense Orkes, met wie hy vanaf 1987 tot 1989 hoogstaande opnames van Nielsen se volledige simfonieë gemaak het. Met sy kragtige, direkte vertolkings was hy ‘n begaafde dirigent van Skandinawiese musiek. Hy het sy landgenoot Sibelius se volledige simfonieë drie keer met verskillende orkeste opgeneem, insluitend die Helsinki Filharmonie. Verdere opnames: Grieg se Simfoniese Danse en Peer Gynt suites; Sibelius se toondigte Finlandia, The Oceanides en Tapiola; Sjostakowitsj se simfonieë nrs. 7 en 11; en Smetana se Má vlast.

Bergonzi, Carlo (1924-), Italiaanse tenoor. Hy het in 1948 sy debuut as bariton in die rol van Figaro in Il barbiere di Siviglia gemaak. Drie jaar later het hy as tenoor begin sing, met ‘n debuut in die titelrol van Andrea Chénier. Verdere debute het gevolg by La Scala (1953), Chicago (1955), die Metropolitan Opera (1956), Covent Garden (1962) en die Salzburg-fees (1970). Met sy kragtige dog sensitiewe stem, ryk toonkleur en stylvolle sang was hy wêreldbekend in Italiaanse opera, veral in die heroïese rolle van Verdi en Puccini. Daaronder het getel Maurizio in Adriana Lecouvreur, Canio in I Pagliacci, Turiddu in Cavalleria rusticana, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly, Cavaradossi in Tosca, Radames in Aida, Riccardo in Un ballo in maschera, Don Alvaro in La forza del destino, Rodolfo in Luisa Miller, Macduff in Macbeth, Alfredo in La Traviata en die titelrol in Ernani. In 1991 het hy sy afskeidsuitvoering by Covent Garden gegee, waarna hy artistieke direkteur van die Verdi Teater in Busseto geword het. In dié hoedanigheid het hy in 2001 met die Verdi Eeufeesviering aan ‘n opname van Aida in Busseto deelgeneem. Hy word deur talle beskou as een van die grootste Italiaanse tenore van die tweede helfte van die twintigste eeu, indien nie die heel beste nie. Opnames: die genoemde operas van Leoncavallo, Mascagni, Puccini en Verdi, asook Attila, I Masnadieri en Oberto; en ‘n groot versameling arias uit feitlik al Verdi se operas wat in 1972 en 1974 onder Santo en Gardelli onderskeidelik gemaak is.

Berkes, Kálmán (1952-), Hongaarse klarinettis. Hy het in 1972 aan die Liszt Musiekakademie in Boedapest gegradueer. Twee jaar later het hy ‘n tweede prys aan die intenasionale kompetisie in Genève gwen, en in 1975 was hy met sy houtblaserskwintet ‘n pryswenner in München. Hy was eerste klarinettis in voorste Hongaarse orkeste, soos die staatsopera en die Boedapest Filharmoniese Orkes. Daarby was hy ‘n lid van die Boedapest Kamerensemble, en in 1982 het hy die Boedapest Houtblasersensemble gestig. Met hulle het hy bekroonde opnames van Krommer se Partitas (opp. 57, 71 en 78) en Marse nrs 3 tot 5 gemaak. Hy gee wêreldwyd konserte, asook meesterklasse in Europa en Amerika. Verder is hy as besoekende hoogleraar aan die Musashino Musiekakademie in Tokio verbonde. Verdere opnames: Bartok se Contrasts (met Pauk en Jandó), Brahms se klarinetsonates (met Jandó), ‘n hele aantal klarinetkonserte van Stamitz, en Weber se klarinetkwintet (met die Auer Kwartet).

Berlynse Filharmoniese Orkes, selfregerende Duitse orkes wat in 1882 deur onvergenoegde lede van die Bilse’sche Kapelle gestig is. Dit word deur talle musiekliefhebbers as die beste simfonie-orkes ter wêreld beskou. Die orkes is wêreldberoemd vir hul Pruisiese gedissiplineerdheid en die dramatiese briljantheid van hul spel. Die hoofdirigente daarvan was agtereenvolgens Hans von Bülow (1882-94), Arthur Nikisch (1895-1922), Wilhelm Furtwängler (1923-45), Sergiu Celibidache (1945-51), weer Furtwängler (1952-54), Herbert von Karajan (1955-89) en Claudio Abbado (1989-2002). Onder Bülow het groot geeste soos Brahms, Grieg, Richter, Weingartner, Mahler, Pfitzner en Richard Strauss as gasdirigente opgetree. Nikisch het sy orkes aan die musiek van Bruckner bekendgestel en in sy bewindstyd het beroemde musici soos Backhaus, Adolf Busch, Busoni, Casals, Cortot, Heifetz, Huberman, Ivogün, Schlussnus en Thibaud as soliste met die orkes verskyn.

Met sy diep filosofiese benadering het Furtwängler die Berlynse Filharmonie deur die Nasionaal-Sosialistiese bewind en die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog gelei, sonder dat die orkes veel skade gely het. Hulle het elke jaar vanaf 1937 tot 1944 ‘n konsert ter ere van Hitler se verjaardag gegee, sonder dat die Duitse diktator enige daarvan bygewoon het. Tydens die oorlogjare is die orkes ook deur bekendes soos Knappertsbusch en Krauss gedirigeer. Hul laaste oorlogtydse konsert is in April 1945 gegee, en ‘n maand later is daar tydens ‘n reünie vasgestel dat drie orkeslede intussen selfmoord gepleeg het. In ‘n merkwaardige vertoning van lewenskrag het die Berlynse Filharmonie in dieselfde maand (Mei 1945) hul eerste na-oorlogse konsert onder Leo Borchard gegee. Dit het in die Titania Palast plaasgevind, want die Filharmoniese Saal is vroeg in 1944 deur Geallieerde bomme vernietig. Ná Borchard se skielike dood weens ‘n Amerikaanse koeël het die orkes onder Celibidache die kulturele isolasie van die Nazi-era oorkom deur bekendes soos Yehudi Menuhin vir hul konserte te nooi en toere te onderneem.

In 1946 het Furtwängler weer begin om die orkes te dirigeer ná ‘n verbod deur die Geallieerdes, en ses jaar later het hy nogeens hul hoofdirigent geword. Hy is opgevolg deur die geniale Karajan, onder wie se dirigeerstaf die orkes vir dekades lank die musiekwêreld met hul talle opnames en internasionale toere oorheers het. Hul eerste besoek aan die VSA het in 1955 plaasgevind, en oor die volgende 27 jaar sou hulle 105 konserte in dié land gee. Onder Karajan het die orkes ook elf besoeke aan Japan onderneem, waar hul besonder gewild was. Hul eerste konserte in Sjina is in 1978 gegee. Vanaf 1983 tot 1986 het Karajan die orkes in Duitse televisie-uitsendings gedirigeer, waardeur hul ‘n veel groter gehoor as konsertgangers bereik het. Onder musiekliefhebbers wêreldwyd word die kombinasie van Karajan en die Berlynse Filharmonie steeds as ‘n dubbele waarborg van gehalte in opnames beskou.

‘n Nuwe konsertsaal met uitstekende akoestiek, die Filharmonie, is in 1963 ingewy (die gebou is deur Hans Scharoun ontwerp). Sedert die stigting van die Salzburg Paasmusiekfees in 1967 deur Karajan verskaf die orkes ook die musiek daarvoor. Onder Abbado is die orkes se repertorium uitgebrei om meer moderne werke in te sluit en is heelwat nuwe bloed onder die spelers ingevoer. Hy het verder begin om konsertweergawes van operas met die orkes te gee. In 2002 het Simon Rattle die eerste Britse hoofdirigent van die orkes geword. Hy het hul egter in 2011 van hul lang verbintenis met die Salzburg Paasmusiekfees onttrek.

Berlynse Staatsorkes (Berliner Staatskapelle), orkes van die Deutsche Staatsoper unter den Linden. Dit is in 1570 as die Kurbrandenburgische Hofkapelle deur die keurvors Prins Joachim II van Brandenburg gestig, wat dit een van die oudste orkeste in Duitsland maak. Sedert 1992 is Daniel Barenboim die musiekdirekteur.

Berman, Boris (1948-), Russies-gebore pianis. Hy het onder Lev Oborin aan die Moskou Konserwatorium studeer, waar hy in beide klavier en klawesimbel gegradueer het. Vervolgens het hy wyd deur die destydse Sowjet-Unie as solis opgetree, totdat hy in 1973 na Israel geëmigreer het. Hy het sedertdien wêreldbekend as solis, in kamermusiek en as leermeester geraak. In beide Israel en die VSA het hy konsertreekse gestig en gelei, en daarby was hy die stigter van somerskole in klavier by die Yale Universiteit en in Hong Kong. Hy is tans ‘n hoogleraar aan Yale en hoof van die klavierdepartement. In 2002 is sy boek oor klaviertegniek en -vertolking deur Yale uitgegee. Hy het die eerste musikus geword om Prokofiëf se volledige werke vir klaviersolo op te neem. Sleutelopnames: Sjnittke en Sjostakowitsj se klavierkwintette (beide met die Vermeer Kwartet). Verdere opnames: Janácek se Capriccio en Concertino; Pärt se Credo (onder Järvi); klavierkonserte van Prokofiëf en Strawinski; die volledige klaviersonates van Skriabin; en solowerke van Cage, Liszt en Sjostakowitsj.

Berman, Lazar (1930-2005), Russiese pianis. Hy het klavierlesse van sy moeder ontvang en vanaf vierjarige leeftyd in die openbaar in sy geboortestad Leningrad (tans Sint Petersburg) opgetree. Later is hy na die Tsjaikofski Konserwatorium in Moskou, en op 10 jaar het hy met die stad se filharmoniese orkes opgetree. Hy was ook ‘n leerling van die gevierde pianis Swiatoslaf Richter en in 1957 is sy professionele debuut gemaak. Vanweë politieke beperkings deur die destydse Sowjet-owerhede kon hy eers in die 1970’s sy internasionale loopbaan afskop. Sy Amerikaanse debuut is in 1976 in New York gemaak, waarna hy ‘n aantal internasionale toere onderneem het. Met sy formidabele tegniek sonder vertoon was hy veral bekend in die musiek van Chopin, Liszt en die Russiese Romantici. Sy opname van Liszt se Etudes transcendante is in 1977 met die Hongaarse Liszt-Prys bekroon. Hy het in 1995 in Florence gaan woon, waar hy onderrig gegee het. Opnames: solowerke van Chopin; Liszt se 2 klavierkonserte en volledige Années de pèlerinage; Rachmaninof se Corelli Variasies en enkele preludes; en Tsjaikofski se eerste klavierkonsert.

Bernac, Pierre (1899-1979), Franse bariton. Hy het privaat sanglesse in Parys ontvang terwyl hy vir sy vader se makelaarsfirma gewerk het. Nadat hy in 1925 sy eerste uitvoering gegee het, het hy spoedig bekend geraak as 'n begaafde vertolker van moderne Franse liedere. Sy debuut in Parys het in 1926 met ‘n uitvoering van liedere deur Auric en Poulenc gevolg, en later het hy die kuns om Duitse liedere te sing in Salzburg gaan leer. Terug in Parys het hy begin om naas sy konserte onderrig te gee, onder andere met die bariton Gérard Souzay as ‘n leerling. Hy het ‘n lewenslange vriend geword van Poulenc, wat verskeie van sy liedere-siklusse vir hom geskryf het. Verder het die komponis dikwels as sy klavierbegeleier tydens toere deur Europa en die VSA opgetree. Verskeie van Poulenc se liedere is saam deur die tweetal in hoogstaande vertolkings opgeneem. Hy het ook in die VSA meesterklasse gegee, en was ‘n dosent aan die Amerikaanse Konserwatorium in Fontainebleau.

Bernas, Richard (1950-), Amerikaanse pianis en dirigent. Sy debuut as pianis is in 1966 by die Kent Universiteit gemaak en sy dirigeerdebuut tien jaar later in Londen. Hy was dirigent van die Musiekprojekte in die Britse hoofstad (1978) en inwonende dirigent van die Sussex Universiteit (1979-82). In 1988 het hy by Covent Garden gedebuteer. Hy het boeke geskryf oor operas van Rossini en Verdi en oor die viool. ‘n Hoogstaande opname van Turnage se opera Greek, ‘n hedendaagse aanpassing van die Oedipus-mite, is deur hom gedirigeer.

Bernius, Frieder (1947-), Duitse dirigent. Hy het in 1968 die Stuttgart Kamerkoor gestig, wat hy sedertdien dirigeer. Hulle toer wêreldwyd, onder andere deur die Verre Ooste (1988) en die VSA (1989), en het verskeie pryse in internasionale kompetisies gewen. Ook in Stuttgart het hy die Barokorkes (1985) en die internasionale fees van vroeë musiek (1987) gestig vir eietydse uitvoerings van werke uit die sewentiende en agtiende eeue. Hy tree daarby dikwels met ander vroeë musiek-ensembles op, soos Musica Fiata van Keulen en Tafelmusik van Toronto. In 1990 is sy opnames van Schütz se Symphoniae Sacrae III en van Zelenka se Missa dei filii met die Edison-prys (Nederland) en die Diapason d’or (Frankryk) onderskeidelik bekroon. Sleutelopnames: Zelenka se Missa Dei Filii en Litaniae Laurentanae (Tafelmusik).

Bernstein, Leonard (1918-90), Amerikaanse pianis, dirigent en komponis, stellig die grootste musikus wat dié land in die twintigste eeu opgelewer het. Hy het vanaf 1935 vir vier jaar aan die Harvard Universiteit studeer. Daar het hy in 1936 ‘n uitvoering van Beethoven se strykkwartet nr. 14 (vir strykorkes verwerk) onder die dirigeerstaf van Dimitri Mitropoulos gehoor. Dit het ‘n enorme indruk op hom gemaak en het daartoe gelei dat hy vanaf 1939 dirigeerkuns aan die Curtis Instituut in Philadelphia onder Fritz Reiner bestudeer het. In die jaar daarop het hy ook met studies wat drie jaar sou duur by die Tanglewood-somerskool onder die komponis Paul Hindemith en die dirigent Sergei Koussewitzki begin. Hy het in 1942 laasgenoemde se assistent by die Berkshire-fees geword. Sy besondere talent is waargeneem deur Artur Rodzinski, wat hom genooi het om ‘n assistent-dirigent van die New York Filharmoniese Orkes te word. Sy debuut met die beroemde ensemble is in 1943 gemaak, toe hy vir niemand minder nie as Bruno Walter ingestaan het. Vanaf 1945 was hy vir drie jaar ‘n dirigent van die New York Stadsentrum-orkes, met wie hy heelwat hedendaagse werke uitgevoer het. Sy debuut as operadirigent is in 1946 by Tanglewood gemaak met die Amerikaanse première van Peter Grimes. Drie jaar later het hy die eerste uitvoering van Messiaen se Turangalîla simfonie in Boston gedirigeer, en vanaf 1951 tot 1955 het hy by beide Tanglewood en die Brandeis Universiteit onderrig gegee.

In 1953 het Bernstein die eerste Amerikaner geword om by La Scala te dirigeer, met ‘n opvoering van Cherubini se Medea waarin Maria Callas die titelrol gesing het. Hy het in 1957 mededirigent (met Mitropoulos) en in die jaar daarop musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes geword, as die eerste gebore Amerikaner om dié pos te beklee. In 1959 het hy die orkes op ‘n konserttoer van die Sowjet-Unie geneem, waartydens hy die groot komponis Sjostakowitsj in Moskou ontmoet het. Later in die jaar het hul sy vyfde simfonie opgeneem. Met sy New York-orkes het hy voorts in die 1960’s die eerste siklus opnames van Mahler se volledige simfonieë gemaak, in vertolkings wat steeds as toonaangewend beskou word. In 1969 is hy as die orkes se lewenslange eredirigent aangestel, met debute wat intussen gemaak is by die Salzburg-fees (1959), die Metropolitan Opera (1964) en in Wenen (1966). As gasdirigent het hy dikwels met bekende orkeste in Londen en Israel opgetree, asook met die Weense Filharmonie. Veral met laasgenoemde het hy ‘n uitstekende verhouding gehad en ‘n aantal hoogaangeskrewe opnames gemaak. Dit sluit ‘n siklus beeldopnames van Mahler se volledige simfonieë (buiten nr. 2) in die 1970’s in. Helaas is hul siklus van die Sibelius-simfonieë in die 1980’s bederf deur die dirigent se oordrewe beklemtoning van sommige frases. Sy enigste optrede met die Berlynse Filharmoniese Orkes is in 1979 gemaak, met ‘n uitstekende opname van Mahler se negende simfonie as blywende resultaat.

Bernstein het in 1988 by die Schleswig-Holstein Musiekfees ‘n uitvoering van Sjostakowitsj se eerste simfonie met ‘n orkes bestaande uit jong musiekstudente gegee, met ‘n sonderlinge DVD-opname wat daarvan getuig. In die jaar daarop het hy met die Santa Cecilia Orkes Orkes in Rome ‘n DVD-opname van orkeswerke deur Debussy gemaak. Op Kersdag van dieselfde jaar (1989) het hy in die Duitse hoofstad ‘n uitvoering van Beethoven se negende simfonie gedirigeer om die val van die Berlynse Muur te vier. Daarin het hy die woord ‘vreugde’ in die beroemde slotdeel van die werk met ‘vryheid’ vervang, iets wat stellig die komponis se goedkeuring sou wegdra. Die orkes vir die geleentheid is uit spelers vanuit Duitsland, die Sowjet-Unie, Frankryk, Brittanje en die VSA saamgestel. Die soliste was insgelyks uit vier verskillende lande afkomstig en die kore vanuit Oos- en Wes-Duitsland, met ‘n beeldopname wat die besondere geleentheid van internasionale versoening deur musiek verewig het.

Met sy flambojante dirigeerstyl en ekstroverte lewenswyse (onder andere as selferkende homoseksueel) was Bersntein besonder gewild in Amerika, waar hy deur talle beskou is as hul eweknie van Herbert von Karajan aan die oorkant van die Atlantiese Oseaan. Sy dirigeerstyl was bekend as die ‘Lenny-dans’, gekenmerk deur oordrewe gebare, spronge en gegryns. Nietemin was hy ‘n meesterlike vertolker van komponiste soos Brahms, Haydn, Mahler, Sjostakowitsj en Sibelius, asook Amerikaanse komponiste. In sy eie werke was hy onoortreflik, en verder was hy ‘n begaafde opera-dirigent en pianis. Daarby het hy ‘n groot gehoor bereik met sy opvoedkundige musiekprogramme oor die televisie, en het hy ‘n aantal boeke geskryf. Sy bekendste komposisies is stellig die opera Trouble in Tahiti, die musiekblyspele On the Town en West Side Story, die operette Candide, drie simfonieë en die koorwerk Chichester Psalms.

Sleutelopnames: Mozart se simfonieë nrs. 25, 29, 35, 36, 38-41 (Wenen 1984-90). Verdere opnames (as dirigent): die volledige simfonieë van Beethoven, Brahms en Schumann (almal in Wenen), en van Sibelius (New York); simfonieë van Bizet, Haydn (nrs. 88, 92 en 94), Honegger, Ives, Mendelssohn (nr. 4), Nielsen (nrs. 3 en 5), Prokofiëf, Roussel, Sjostakowitsj (nrs. 1, 5 en 7), Tsjaikofski en Vaughan Williams (nr. 4); ander orkes- of vokale werke van Barber, Beethoven, Berlioz, Copland, Debussy, Gershwin, Hindemith, Holst, Milhaud, Ravel en Strawinski; koorwerke van Janácek, Poulenc en Strawinski; Joodse gewyde musiek van Ben-Haim, Bloch en Foss; Beethoven se strykkwartette nrs. 14 en 16, deur Mitropoulos en Bernstein onderskeidelik georkestreer, asook sy Missa Solemnis; Haydn se Mis nr. 7 en Die Schöpfung; Liszt se Faust Simfonie; Mahler se Das Lied von der Erde; Milhaud se Les Choéphores; Tsjaikofski se Capriccio italienne, 1812 Ouverture, en fantasie-ouvertures vir Hamlet en Romeo en Juliet; Verdi se Requiem (Londen 1970); bykans al sy eie werke; die operas Fidelio, Carmen, Falstaff en Tristan und Isolde; (as pianis): klavierkonserte van Mozart, Ravel en Sjostakowitsj; Gershwin se Rhapsody in blue; en Schumann se klavierkwintet (met die Juilliard Kwartet).

Béroff, Michel (1950-), Franse pianis. Hy het onder die komponis Messiaen en sy vrou Yvonne Loriod studeer en in 1966 sy Parys-debuut gemaak. In die jaar daarop het hy die Messiaen-kompetisie gewen, en in 1977 het hy by die Salzburg-fees gedebuteer. Met sy besondere tegniese vaardigheid is hy uitmuntend in die musiek van Messiaen en ander moderne komponiste. Sleutelopname: Liszt se 2 klavierkonserte, Hongaarse Fantasie en Totentanz (almal onder Masur, 1977). Verdere opnames: Prokofiëf se 5 klavierkonserte (onder Masur); en Messiaen se Turangalila simfonie, Kwartet vir die eindtyd (met De Peyer, Gruenberg en Pleeth), Préludes en Vingt regards sur l'enfant Jésus.

Berry, Walter (1929-), Oostenrykse bas-bariton. Hy het in 1950 sy debuut by die Weense Opera gemaak en vanaf 1953 gereeld by die Salzburg-fees opgetree. Daar het hy ‘n aantal rolle in moderne werke geskep, en in 1959 in ‘n hoogstaande opname van Schmidt se oratorium Das Buch mit sieben Siegeln onder Dimitri Mitropoulos gesing. Verdere debute is gemaak in Londen (1954), by die Metropolitan Opera (1966) en Covent Garden (1976). Hy het dikwels saam met sy vrou, die beroemde mezzosopraan Christa Ludwig, opgetree. Hulle is egter in 1970 geskei. Hy was uitmuntend in rolle soos Don Pizarro in Fidelio, Peter in Hänsel und Gretel, Don Alfonso in Così fan tutte, Masetto in Don Giovanni, Papageno in Der Zauberflöte, Waldner in Arabella, Barak in Die Frau ohne Schatten, Baron Ochs in Der Rosenkavalier, die Koning in Aida, Wotan in die Ring, Kurwenal in Tristan und Isolde, en die titelrolle in Bloubaard se Kasteel, Le nozze di Figaro en Wozzeck. In 1993 het hy die rol van die Dood gesing in ‘n opname van Ullmann se Der Kaiser von Atlantis onder Lothar Zagrosek. As begaafde konsert- en liederesanger in die Duitse repertorium het hy as solis in Herbert von Karajan se 1950-opname van Bach se Sint Mattheüspassie gesing. Verdere opnames: Bach se Sint Mattheüspassie (onder Klemperer); Beethoven se negende simfonie (onder beide Karajan en Klemperer); Haydn se oratorium Die Jahreszeiten; Schumann se Szenen aus Goethes Faust (as Mephistopheles); liedere van Mahler, Mendelssohn, Pfitzner en Wolf; die genoemde operas van Bartók, Beethoven, Humperdinck, Mozart, Richard Strauss, Verdi en Wagner, asook Violanta en Die Opernprobe.

Bertini, Gary (1927-2005), Israeliese dirigent en komponis. Hy is in Bessarabië gebore en het in Italië, Tel Aviv en Parys studeer. In 1947 het hy na Israel geëmigreer, waar hy baie sou bydra tot die land se musieklewe. Hy was vanaf 1958 hoof van die dirigeerklasse aan die Israeliese Musiekakademie. In 1965 het hy die Israeliese Kamerorkes gestig, wat hy vervolgens gedirigeer het. Sy Britse debuut is in 1965 met die Engelse Kamerorkes gemaak, en gedurende die 1970’s was hy hoofgasdirigent van die Skotse Nasionale Orkes. Later was hy dirigent van die Jerusalem Simfonie-orkes (1977-86), die Detroit Simfonie-orkes (1981-3) en die Keulen Radio Simfonie-orkes (vanaf 1983), en musiekdirekteur van die Frankfurt Opera (1987-91) en die Nuwe Israeliese Opera (1994-5). Met sy Keulen-orkes het hy vanaf 1984 tot 1991 ‘n uitmuntende siklus van Mahler se volledige simfonieë asook Das Lied von der Erde opgeneem, in besonder idiomatiese vertolkings. Die agste simfonie en Das Lied is tydens uitvoerings in Tokio opgeneem. Sy laaste pos was as musiekdirekteur van die San Carlo Teater in Napels. By die Weense Staatsopera het hy ‘n uitstekende opname van Donizetti se Il Campanello gedirigeer. Voorts het hy in 2000 die eerste Franse opvoering van Prokofiëf se Oorlog en Vrede by die Opéra Bastille in Parys gedirigeer, met ‘n DVD-opname wat daarvan gemaak is. Die Israel-Prys is in 1987 aan hom toegeken.

Best, Matthew (1957-), Engelse dirigent en bas. In 1973 het hy die Corydon Singers gestig, wat hy sedertdien dirigeer. Sy operadebuut het in 1978 in Cambridge plaasgevind en vier jaar later het hy die Kathleen Ferrier-prys gewen. Vanaf 1980 was hy vir ses jaar die eerste bas by Covent Garden en as gasdirigent het hy met verskeie bekende orkeste opgetree. As beide sanger en dirigent blink hy uit in gewyde musiek en ander vokale werke oor ‘n wye repertorium. Onder sy operarolle tel Don Pizarro in Leonore, Don Quijote in El retablo de Maese Pedro, Pimen in Boris Godoenof (in Engels) en Ford in Falstaff. Met die Corydon Singers en His Majesty’s Sagbutts & Cornetts het hy ‘n versameling gewyde vroeë Barokwerke van Scheidt, Praetorius en Giovanni Gabrieli asook van die moderne komponis Francis Poulenc opgeneem, wat onder die titel O Magnum Mysterium op DVD uitgereik is. Sleutelopnames (as dirigent): Vaughan Williams se Serenade to music. Verdere opnames (as dirigent): Barber se Agnus Dei; kantates van Beethoven en sy Opferlied; Berlioz se L’Enfance du Christ; Bernstein se Chichester Psalms; ‘n versameling kerkmusiek van Britten; Bruckner se Te Deum, motette en 3 misse; Cherubini se Mis nr.1; Copland se In the Beginning; Duruflé se Requiem; Fauré se Requiem; Finzi se Dies Natalis en Intimations of immortality; Howells se Requiem; beide Rachmaninof en Tsjaikofski se toonsettings van die Russies-Ortodokse Liturgie van Sint Johannes Chrysostomos, en eersgenoemde se toonsetting van die Vespers; ‘n versameling koormusiek van Simpson; Vaughan Williams se Mis in G mineur, Te Deum, Dona nobis pacem en Magnificat; ‘n versameling koorwerke van Villa-Lobos; die operas The Pilgrim's Progress en Hugh the Drover; (as sanger) Elgar se oratorium The Dream of Gerontius, en die genoemde operas van Beethoven, Moessorgski (in Engels) en Verdi.

Beyers, Zoe (1982-), Suid-Afrikaanse violis. Sy het op sesjarige leeftyd met vioollesse onder Noel Travers begin en op elf is haar debuut met die Sweedse Kamerorkes onder Paavo Järvi gemaak. Daarna het sy in haar geboorteland en Brittanje onder bekende dirigente begin optree. In 2002 het sy met die beroemde Sint Petersburg Filharmoniese Orkes in die openingskonsert van die Russiese stad se Olympus-musiekfees gespeel. Tydens die geleentheid het sy die première van Eichberg se Qilaatersorneq gegee, asook ‘n uitvoering van Lalo se Symphonie Espagnole. Sy het in 2005 met ‘n goue medalje aan die Koninklike Musiekkollege in Londen gegradueer, en is tans daar besig met nagraadse studies met behulp van ‘n Yehudi Menuhin-beurs. Onder die vele ensembles waarvan sy ‘n lid is, tel die Solaris Kwartet en die Skotse Kamerorkes.

Beznosiuk, Lisa (1956-), Engelse fluitspeler van Oekrainse en Ierse afkoms. Nadat sy aan die Guildhall Musiekskool studeer het, is haar Londense debuut as solis in 1983 gemaak. Sy spesialiseer in die uitvoering van Barok- en klassieke werke op eietydse fluite, en was ‘n lid van ‘n aantal Britse orkeste wat eietydse instrumente bespeel. Daaronder tel The English Concert, Orchestra of the Age of Enlightenment, English Baroque Soloists, Academy of Ancient Music, London Classical Players and New London Consort. Met hulle het sy wyd deur Europa, die Verre Ooste en die Amerikas getoer. Daarby is sy ‘n hoogleraar in fluit aan die Koninklike Musiekakademie, die Koninklike Musiekkollege, die Koninklike Noordelike Musiekkollege en die Universiteit van Birmingham. Sy is ‘n suster van die violis Pavlo Beznosiuk en is getroud met die tjellis Richard Tunnicliffe. Opnames: Bach se Konsert vir fluit, viool en klawesimbel (2 weergawes, een met Wallfisch en Nicholson, en een met Pinnock en Standage); Handel se Sonates vir fluit, hobo, blokfluit of viool en continuo (met Beckett, Tunnicliffe, Wallfisch en Nicholson), Fluitsonates opus 1/1, 5 & 9 en Halle Sonates 1-3 (met Tunnicliffe en Nicholson); en Vivaldi se 6 Fluitkonserte, opus 10.

Beznosiuk, Pavlo (?), Engelse violis van Oekrainse en Ierse afkoms. Met sy veelsydigheid en virtuositeit is hy ewe tuis op die viool, altviool en Middeleeuse viool (Engels fiddle). Onder die bekende vroeë musiek-ensembles wat hy al gelei het, tel die Amsterdam Barokorkes, Academy of Ancient Music, Orchestra of the Age of Enlightenment en The Hanover Band. Naas sy optredes in Barokmusiek gee hy onderrig in Barokviool aan die Koninklike Konserwatorium in Den Haag. Hy is ‘n broer van die fluitspeler Lisa Beznosiuk. Opnames: Avison se 12 vioolkonserte, opus 6; J.S. Bach se Driedubbele vioolkonsert (met Wallfisch en Mackintosh); en Biber se Rosenkranz vioolsonates.

Biggs, E. Power (1906-77), Brits-gebore orrelis. Hy het hom in die VSA gevestig en in 1937 'n Amerikaanse burger geword. Vanaf 1942 tot 1958 het hy in weeklikse radiokonserte opgetree en die volledige orrelwerke van Bach gespeel, asook ander werke vanaf die sestiende tot die twintigste eeue. Hy het wyd deur die VSA en Europa getoer, waardeur hy 'n groot bydrae gelewer het tot die popularisering van die orrel as solo-instrument. Daarbenewens was hy 'n redakteur van orrelmusiek. Onder sy talle opnames tel Copland se Simfonie vir orrel en orkes.

Bilson, Malcolm (1935-), Amerikaanse klawesimbelspeler en pianis. Hy het in Wenen en Parys studeer, waarna hy bekendheid verwerf het met sy vertolkings van Mozart, Chopin en andere se musiek, op eietydse instrumente. Onder John Eliot Gardiner het hy die volledige klavierkonserte van Mozart op die fortepiano in hoogstaande vertolkings opgeneem. Daarbenewens is hy sedert 1975 ‘n hoogleraar aan die Cornell Universiteit. Verdere opnames: Mozart se Dubbele klavierkonsert (met Levin), Driedubbele klavierkonsert (met Levin en Tan), en 2 klavierkwartette (met Wilcock, Sclapp en Mason).

Binns, Malcolm (1936-), Engelse pianis. Hy het in 1957 sy debuut gemaak en vier jaar later in Londen die eerste Britse uitvoering van Prokofiëf se vierde klavierkonsert gegee. Verder was hy ‘n hoogleraar in klavier aan die Koninklike Musiekkollege (1962-9). Hy spesialiseer in die uitvoering van minder bekende kavierkonserte, waarin hy meesterlik is. Opnames: klavierkonserte van Balakiref (volledig), Harty, Rimski-Korsakof, Stanford en Sterndale Bennett (volledig).

Biondi, Fabio (1961-), Italiaanse violis en dirigent. Sy internasionale loopbaan is afgeskop toe hy op twaalf in ‘n konsert met die RAI Simfonie-orkes gespeel het. Op 16 het hy Bach se vioolkonserte by die Musikverein in Wenen uitgevoer. Daarna het hy met bekende Barokensembles soos La Capella Reial, Musica Antiqua Wien, Seminario Musicale, La Chapelle Royale and Les Musiciens du Louvre opgetree. In 1990 het hy sy eie ensemble, Europa Galante, gestig vir die uitvoering van Italiaanse Barokmusiek op eietydse instrumente. Met hulle het hy vele hoogaangeskrewe opnames gemaak. Hy is sedert 2005 artistieke direkteur vir Barokmusiek van die Stavanger Simfonie-orkes. Sleutelopnames: Boccherini se strykkwintette opus 25/1,4&6 en opus 11/5; Vivaldi se 12 vioolkonserte The Trial between Harmony and Invention (opus 8), en ‘n versameling van sy konserte vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente. Verdere opnames (as dirigent): Boccherini se strykkwartet, opus 24/6; Corelli se 12 Concerti grossi, opus 6; Locatelli se Concerti grossi, opus 1/2,5&12, Il pianto d’Arianna en Sinfonia in F mineur; A. Scarlatti se oratorium Oratorio per la Santissima Trinità; Vivaldi se Vier Seisoene en 12 vioolkonserte (opus 3); (en as solis) Vivaldi se 12 Manchester vioolsonates.

Biret, Idil (1941-), Turkse pianis wat as driejarige wonderkind met klavierlesse begin het. Later is sy na Frankryk, waar haar studies aan die Parys Konserwatorium deur die Turkse regering betaal is. Laasgenoemde het selfs ‘n wet deurgevoer om dit vir die res van haar gesin moontlik te maak om met haar in Frankryk te gaan woon. Sy het klavier onder die groot pianiste Alfred Cortot en Wilhelm Kempff studeer, en komposisie onder die ewe vermaarde Nadia Boulanger. Op vyftien het sy met drie eerste pryse gegradueer, en het sy die voorreg gehad om met Kempff (wat sy as ‘Oom Kempff’ geken het) in die Dubbele klavierkonsert van Mozart te speel. Vanaf sestienjarige ouderdom het sy wêreldwyd in konserte verskyn, onder dirigente soos Boult, de Burgos, Groves, Kempe, Mackerras, Monteux, Pritchard en Sargent. Onder die vele pryse wat sy gewen het, tel die Lily Boulanger Herdenkingstoekenning (in 1954 en 1964), die Harriet Cohen/Dinu Lipatti Goue Medalje (1959) en die Poolse Artistieke Merietetoekenning (1974). Sy is in 1964 as ‘n Ridder van die Ordre du Mérite benoem. In 1969 het sy aan die 85ste verjaardagviering van Wilhelm Backhaus deelgeneem en in 1985 aan die 90ste verjaardagviering van haar mentor Kempff. Sy het die volledige klavierwerke van Chopin opgeneem, waarvoor sy in 1995 die Grand Prix du Disque ontvang het. Verdere opnames: die drie klaviersonates van Boulez; talle solowerke van Brahms; Liszt se klavierverwerking van Berlioz se Symphonie fantastique; Saint-Saëns se klavierkonserte nrs. 2 en 4; Strawinski se Vuurvoël in ‘n klavierverwerking; en ‘n versameling solowerke met ‘n kindertema van Debussy, Schumann en Tsjaikofski.

Bishop-Kovacevich, Stephen [sien Kovacevich, Stephen].

Bitsjkof, Semjon (1952-), Russies-gebore dirigent. Hy het aan die Leningrad (tans Sint Petersburg) Konserwatorium onder Ilya Musin studeer. Nadat hy vanaf 1972 vir twee jaar hul orkes gedirigeer het, het hy in 1975 na die VSA geëmigreer. In dié land was hy musiekdirekteur van die orkes van die Mannes Musiekkollege in New York (1976-80), die Grand Rapids Simfonie-orkes (1980-5) en die Buffalo Filharmoniese Orkes (1985-9). Intussen het hy in 1983 ‘n Amerikaanse burger geword. Hy het Daniel Barenboim in 1990 opgevolg as hoofdirigent van die Orchestre de Paris, met wie hy twee jaar later ‘n hoogaangeskrewe opname van Tsjaikofski se opera Jewgeni Onegin gemaak het. Die eer het hom verder te beurt geval om in 2001 die eerste Ring-siklus in die herboude Dresden Staatsopera, waarvan die oorspronklike in 1945 deur Anglo-Amerikaanse bomme verwoes is,  te dirigeer. As pianis-dirigent het hy met die Labèque-susters in ‘n voortreflike opname van Mozart se Driedubbele konsert gespeel. Hy is tans hoofdirigent van die Wes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Keulen, met wie hy ‘n hele aantal uitmuntende opnames gemaak het. Daaronder tel Verdi se Requiem, waarin drie Duitse en Italiaanse kore ingespan is. Verdere opnames: Brahms se simfonieë nrs. 1 en 2 (op DVD); Dutilleux se tweede simfonie en ander orkeswerke; Honegger se Pacific 231; Milhaud se Le boeuf sur le toit; Poulenc se ballet Les biches; Rachmaninof se tweede simfonie; Sjostakowitsj se simfonie nr. 11; Richard Strauss se Ein Heldenleben en Metamorphosen; Tsjaikofski se ballet Die Neutkraker; en Wagner se opera Lohengrin (Keulen) (Keulen). Broer van Jakow Kreizberg.

Björling, Jussi (1911-60), Sweedse tenoor. Hy het in 'n musikale gesin grootgeword en is as kind deur sy vader, wat 'n professionele tenoor was, afgerig. Reeds as sesjarige het hy internasionaal in 'n kwartet met sy vader en twee broers getoer. Ná verdere studies in Gothenburg en onder Joseph Hislop in Stockholm het hy in 1930 in die Sweedse hoofstad sy operadebuut gemaak, as Ottavio in Don Giovanni. Verdere debute het plaasgevind in Wenen (1936), by die Salzburg-fees en Chicago (beide in 1937), en by Covent Garden (1939). Vanaf 1938 tot 1941 en weer vanaf 1945 tot 1959 het hy gereeld by die Metropolitan Opera gesing. Hy het die oorlogsjare meesal in sy geboorteland deurgebring en sy terugkeer na die Met in 1945 is met ‘n triomfantelike optrede as die Hertog in Rigoletto gevier, met ‘n opname wat gemaak is. Daar het hy later dikwels as vennoot van die legendariese sopraan Renata Tebaldi verskyn. Soos sy groot voorganger by die Met, Beniamino Gigli, was hy ‘n suiwer tenoor, met ‘n bedrieglik eenvoudige tegniek. Sy stem het weliswaar nie die warmte van Gigli s’n gehad nie, maar hy het daarvoor vergoed met sy pragtige toonkleur. Vanweë sy senuagtige persoonlikheid het hy soms skerp in die hoogste note geklink, maar sy bemeestering van die verskeidenheid tale waarin hy gesing het, was ongeëwenaard.

Met sy kragtige stem en gevoelvolle sang was Björling een van die twintigste eeu se grootste liriese tenore, veral in Italiaanse en Franse opera. Onder sy beste rolle het getel die titelrol in Faust, die manlike hoofrol in Roméo et Juliette, Turiddù in Cavalleria rusticana, Rodolfo in La Bohème, Pinkerton in Madama Butterfly, Des Grieux in Manon Lescaut, Calaf in Turandot, Radames in Aida en Manrico in Il Trovatore. Later in sy loopbaan het hy ewe beroemd in liedere en operettes geword. Een van sy gewildste opnames is die beroemde duet uit Die Pêrelvissers met die bariton Robert Merrill. Verdere opnames: Verdi se Requiem (onder Reiner); liedere van Grieg; en die genoemde operas van Gounod, Mascagni, Puccini en Verdi.

Black, Neil (1932-), Engelse hobospeler. Hy was eerste hobospeler van die Londense Filharmoniese Orkes (1958-60) en ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie (1960-70). Daarna was hy eerste hobospeler van die Engelse Kamerorkes, die Academy of Saint Martin-in-the-Fields, die London Mozart Players en die Monteverdi Orkes. Hy verskyn dikwels as solis met orkeste en kamerensembles. Sleutelopnames: Handel se 2 hobosonates en Mozart se hobokwartet (almal met die ASMF Kamerensemble); Vivaldi se Dubbele hobokonsert (onder Marriner). Verdere opnames: hobokonserte van Mozart en Vaughan Williams; Vaughan Williams se 10 Blake songs (met die tenoor Robert Tear); Vivaldi se Dubbelkonsert vir viool en hobo (met Menuhin) en Hobokonsert in F; en kamerwerke van Villa-Lobos.

Black, Stanley (1913-), Engelse komponis, dirigent en pianis. Oor die dekades heen het hy poste beklee soos dirigent van die BBC Dansorkes (1944-52), musiekdirekteur van ABC Rolprente (1958-63), hoofdirigent van die BBC Noord-Ierland Orkes (1968/9), assistent-dirigent van die Osaka Filharmoniese Orkes (1971) en dirigent van die Nieu-Seeland Proms in 1972. Sy bekendheid het merendeels in filmmusiek gelê, waarvan hy self meer as honderd klankbane gekomponeer het. Die OBE is in 1986 aan hom toegeken.

Blake, Rockwell (1951-), Amerikaanse tenoor. Hy sing sedert 1981 by die Metropolitan Opera en spesialiseer in rolle met hoë toonhoogtes, soos in sommige van Mozart en Rossini se operas. By die Lyon Opera het hy in 1986 geskitter in die titelrol van Mitridate, re di Ponto onder Theodor Guschlbauer, met ‘n DVD-opname wat daarvan getuig. Verdere opnames: die operas La Dame blanche en La donna del lago (lg. as Uberto/Giacomo).

Blech, Harry (1910-), Engelse violis en dirigent. Hy het in 1933 die Blech Strykkwartet gestig en hulle tot 1950 gelei. Verdere orkeste wat deur hom gestig is, is die Londense Houtblasers (1942), die Londense Simfoniespelers (1946) en die London Mozart Players (1949). Hy was tot 1984 musiekdirekteur van laasgenoemde. In 1962 is hy tot ridder geslaan.

Blech, Leo (1871-1958), Duitse dirigent en komponis. Nadat hy dirigeerposte in Aachen en Praag beklee het, is hy in 1906 as dirigent van die Koninklike Berlynse Opera aangestel. Vanaf 1913 was hy vir tien jaar hul musiekdirekteur, en in daardie tyd het hy ten nouste met Richard Strauss saamgewerk en ‘n aantal premières van sy operas gedirigeer. Ná ‘n tydjie in Wenen het hy vanaf 1926 saam met Erich Kleiber die Berlynse Staatsopera gedirigeer. Daar het hy uittreksels uit Tristan und Isolde met Walter Widdop en Gota Ljungberg in die hoofrolle gedirigeer. Voorts het hy in die Duitse hoofstad die legendariese violis Fritz Kreisler sensitief begelei in sy opnames van vioolkonserte deur Beethoven, Brahms en Mendelssohn. Hy is in 1937 deur die Nasionaal-Sosialiste van sy pos onthef, waarop hy Duitsland verlaat het. Oor die volgende dekade was hy ‘n dirigent in Riga (1937-41) en Stockholm (1941-6). Hy het ná die Tweede Wêreldoorlog na Berlyn teruggekeer, waar hy dirigent van die Stadsopera was (1949-53).

Blegen, Judith (1941-), Amerikaanse sopraan. Sy het vanaf 1965 vir vyf jaar by die Nürnberg Opera gesing en in 1967 haar debuut by die Salzburg-fees gemaak. Verdere debute het gevolg by die Metropolitan Opera (1970) en Covent Garden (1975). Naas opera was sy ‘n begaafde konsertsangeres, veral in gewyde werke. Opnames: Bach se Magnificat in D (onder Karajan); die dodemisse van Duruflé en Fauré; Haydn se Misse nrs. 7 en 11, en sy oratorium Die Schöpfung (almal onder Bernstein); Mahler se simfonieë nrs. 4 (onder Levine) en 8 (onder Bernstein); Orff se Catulli Carmina (onder Ormandy); en Poulenc se Gloria.

Bloch, Thomas (1962-), Franse musikus wat spesialiseer in seldsame instrumente soos die glasharmonika, ondes Martenot en kristal-Baschet. Hy het aan konserwatoriums in Colmar, Strasbourg en Parys studeer en ‘n meestersgraad in musikologie aan die Universiteit van Strasbourg verwerf. Sy musikale veelsydigheid blyk uit die feit dat hy al meer as 2 500 uitvoerings wêreldwyd gegee het, in klassieke en hedendaagse werke, jazz en rock. Hy is voorts ‘n bekende in teater-, film- en balletmusiek, hetsy as instrumentalis of komponis. Daaronder tel ‘n optrede in Milos Forman se bekroonde rolprent Amadeus. Hy tree dikwels in duette met die manlike sopraan Fabrice di Falco op. Sedert 1992 gee hy onderrig aan die Strasbourg Konserwatorium. Verdere opnames: Messiaen se Turangalîla Simfonie (onder Antoni Wit); en ‘n versameling werke vir glasharmonika deur klassieke komponiste soos Mozart, Reichardt en Naumann, asook die hedendaagse komponis Holt Sombach en sy eie toonsetting van die Santa Maria.

Blochwitz, Hans Peter (1949-), Duitse tenoor. Hy het rekenaarwetenskap in Mainz en Frankfurt studeer, waarin hy ‘n doktorsgraad behaal het. Sy operadebuut is in 1984 as Lenski in Tsjaikofski se Jewgeni Onegin gemaak, waarna hy in operahuise wêreldwyd begin sing het. Daaronder tel debute by die Metropolitan Opera en die Salzburg-fees in 1990/1. Hy blink veral uit in die liriese rolle van Mozart, soos Don Ottavio in Don Giovanni, Belmonte in Die Entführung aus dem Serail, Idamante in Idomeneo en die titelrol in La clemenza di Tito. Só is hy gekies om Don Ottavio te sing toe Peter Schreier in 1987 in Hamburg die eerste keer Don Giovanni gedirigeer het, ‘n rol wat Schreier se gunsteling Mozart-rol was. Met sy stylvolle sang en puik uitspraak is hy naas opera begaafd in konsertwerke, veral as die Evangelis in Bach se twee Passies. In 1993 het hy die première van Zender se Winterreise in Frankfurt gegee, waarna hy genooi is om die werk by al die voorste Europese musiekfeeste te sing. Opnames: Bach se Kersfeesoratorium en Sint Mattheuspassie; Handel se oratorium Theodora; Haydn se oratorium Die Schöpfung; en liedere van Zemlinsky.

Blomstedt, Herbert (1927-), Amerikaans-gebore dirigent wat 'n Sweedse burger geword het. Hy het dirigeerkuns bestudeer aan die Stockholm Koninklike Musiekakademie (1950-2), gevolg deur studies in filosofie aan die Uppsala Universiteit. Daarna was hy musiekdirekteur van die Nörrkoping Simfonie-orkes (1954-61) en 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die genoemde musiekakademie in die Sweedse hoofstad (1961-7). Hy was verder as dirigent verbonde aan die Oslo Filharmoniese Orkes (1962-8), die Deense Nasionale Simfonie-orkes (1967-77), die Dresden Staatsorkes (1975-85, waarmee hy in 1976 sy debuut by die Salzburg-fees gemaak het), die Sweedse Radio Simfonie-orkes (1977-82) en die San Francisco Simfonie-orkes (1985-95). In 1998 het hy Kurt Masur as musiekdirekteur van die Leipzig Gewandhaus Orkes opgevolg. Met sy intellektuele benadering en gedissiplineerde dirigeerstyl is hy 'n hoogs begaafde dirigent van Skandinawiese musiek en die Duitse Romantiese repertorium. Sleutelopnames: Nielsen se volledige simfonieë (San Francisco). Verdere opnames: Brahms se Alt Rapsodie en van sy ander koorwerke; Nielsen se volledige simfonieë (Deense Radio); ‘n aantal simfonieë van Bruckner, Dvorák, Harbison, Mahler, Mendelssohn, Schubert, Sessions en Sibelius; orkeswerke van Bartók, Grieg, Hindemith, Orff en Richard Strauss; en Grieg se Peer Gynt.

Bodanzky, Artur (1877-1939), Oostenrykse dirigent. Hy het aanvanklik poste by kleiner operahuise beklee, totdat hy in 1903 'n assistent vir die komponis-dirigent Gustav Mahler by die Weense Staatsopera geword het. Onder Mahler is sy voorliefde vir Wagner ontwikkel, wat hom later in Brittanje en die VSA handig te pas sou kom. In 1914 het hy die eerste Britse verhoogproduksie van Wagner se Parsifal by Covent Garden gedirigeer. Vanaf die jaar daarop tot sy dood 24 jaar later het hy in 'n wye repertorium by die Metropolitan Opera opgetree, onder andere in die Amerikaanse premières van Krenek se opera Jonny spielt auf (1929) en Janácek se Slawoniese Mis. Hy het berug geraak vir die snitte wat hy in Wagner se Ring-siklus gemaak het, maar het nietemin by die Met historiese opnames van Das Rheingold (1937), Siegfried (1937) en Götterdämmerung gedirigeer, asook van Der Rosenkavalier.

Boettcher, Wilfried (1929-), Duitse tjellis en dirigent. Nadat hy vanaf 1956 vir twee jaar eerste tjellis by die Hannover Opera was, het hy vanaf 1958 as hoogleraar in tjello aan die Weense Musiekakademie onderrig gegee. In die volgende jaar het hy die Weense Soliste gestig en hulle gedirigeer, met 'n Salzburg-feesdebuut wat in 1964 gemaak is. Verder was hy vanaf 1965 'n hoogleraar in tjello en kamermusiek aan die Hamburg Akademie, en dirigent van die Hamburg Simfonie-orkes (1967-71). As gasdirigent het hy by verskeie Britse orkeste opgetree.

Boedapest Filharmoniese Orkes, Hongaarse ensemble wat in 1853 deur die komponis Ferenc Erkel (1810-93) gestig is. Hy sou die orkes tot 1871 lei. Tans is Rico Saccani die hoofdirigent.

Boedapest Kwartet, Hongaarse strykkwartet wat in 1917 gestig en in 1967 ontbind is. In 1933 het hul ‘n opname van Sibelius se Voces intimae en Wolf se Italiaanse Serenade gemaak wat steeds as onoortreflik beskou word. Vanaf 1936 was die lede daarvan almal Russies-Joods, en twee jaar later het hulle in die VSA gaan woon. Hulle was bekend vir die briljantheid van hul spel en het Beethoven se volledige strykkwartette drie keer opgeneem. Verdere opnames: Brahms se klavierkwartet nr. 2; klavierkwintette van Brahms, Dvorak en Schumann (almal met die pianis Clifford Curzon); strykkwartette van Debussy en Grieg.

Böhm, Karl (1894-1981), Oostenrykse dirigent. Op vyfjarige leeftyd het hy ‘n opvoering van die opera Fidelio gehoor, ‘n werk wat hom dwarsdeur sy lang loopbaan sou bybly. In 1913 is hy na Wenen om onder die musiekgeleerde Guido Adler te studeer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog is hy deur ‘n skop van ‘n perd beseer en uit die leër ontslaan. Hy het in 1917 sonder enige dirigeeropleiding ‘n assistent-dirigent by die operahuis in sy geboortestad Graz geword. Ná ‘n opvoering van Lohengrin daar is hy deur die groot Wagner-dirigent Karl Muck genooi om al die partiture van dié komponis met hom te bestudeer. Slegs ‘n jaar nadat hy in 1920 hoofdirigent van die Graz Opera geword het, is hy op uitnodiging van die beroemde dirigent Bruno Walter na München, waar hy tot 1927 die Beierse Staatsopera sou dirigeer. Dit was die begin van sy vriendskap met Walter, van wie hy ook sy besondere liefde vir Mozart geërf het. Vervolgens was hy vanaf 1927 vir vier jaar musiekdirekteur van die Darmstadt Opera, waar hy in 1928 ‘n opvoering van Wozzeck onder die komponis Berg se toesig gedirigeer het. Dit is gevolg deur dieselfde pos by die Hamburg Staatsopera (1931-4), waar hy die komponis Richard Strauss na ‘n opvoering van sy Elektra ontmoet het.

Böhm het Fritz Busch in 1934 as musiekdirekteur van die Dresden Staatsopera opgevolg, ‘n pos wat hy tot 1943 sou beklee. Daar het sy lang verbintenis en goeie vriendskap met Strauss ontwikkel, waardeur die Strauss-tradisie van dié operahuis voortgesit is. Reeds in sy eerste jaar in Dresden het hy Der Rosenkavalier ter viering van die komponis se sewentigste verjaarsdag gedirigeer, gevolg deur die premières van Die schweigsame Frau (1935) en Daphne (1938). Intussen het hy in 1936 sy debuut by Covent Garden gemaak en twee jaar later ook by die Salzburg-fees, laasgenoemde met Don Giovanni. Hy het in 1943 musiekdirekteur van die Weense Staatsopera geword, waar hy in die jaar daarop ‘n opvoering van Ariadne asuf Naxos gedirigeer het ter viering van Strauss se tagtigste verjaarsdag. In 1945 is die teater deur Geallieerde bomme vernietig, en het die dirigent met sy vrou na die Amerikaanse sektor gevlug. Ná die Tweede Wêreldoorlog is hy vir twee jaar deur die Geallieerdes verbied om te dirigeer, ten spyte van die feit dat hy nie ‘n lid van die Nasionaal-Sosialistiese party was nie en dat Bruno Walter (wat Joods was) vir hom ingetree het. Hy het in 1947 by La Scala gedebuteer, ook met Don Giovanni. Vanaf 1950 tot 1953 het hy elke jaar vir ‘n aantal maande by die Teatro Colón in Buenos Aires gedirigeer. In 1955/6 was hy weereens musiekdirekteur van die Weense Staatsopera, waar hy die herboude teater met ‘n opvoering van Fidelio ingewy het. In die jaar daarop het hy Elektra gedirigeer tydens die inwyding van die herboude Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf, en vanaf 1957 het hy gereeld by die Metropolitan Opera opgetree. By die Met het hy in 1970 ‘n opvoering van Fidelio gedirigeer tydens die 200-jarige herdenking van Beethoven se geboorte, en twee jaar later is ‘n briljante opname van Otello onder sy dirigeerstaf daar gemaak.

Vir langer as 'n kwarteeu was Böhm hoofdirigent van die Salzburg-fees, waar hy wêreldberoemd vir sy uitstekende vertolkings van Mozart en Strauss geword het. Dit sluit ‘n filmopname van Ariadne auf Naxos (1965) in. Hy het daar op sy tagtigste verjaarsdag (in 1974) ‘n opvoering van Così fan tutte dirigeer, wat terselfdertyd sy derde opname van dié werk was. Daarbenewens was hy ‘n gewilde gasdirigent van die Berlynse en Weense Filharmoniese orkeste, en het ‘n aantal internasionale toere met laasgenoemde onderneem. In 1962 is sy debuut by die Bayreuth-fees gemaak, waar hy later opnames van Tristan und Isolde (1966) en die Ring-siklus (1967) sou dirigeer wat deur kenners onder die heel bestes daarvan gereken word. Intussen is hy in 1964 as ‘n ereburger van die stad Salzburg aangewys, waardeur hy tot die geledere van musiekreuse soos Wolfgang Amadeus Mozart en Herbert von Karajan (wat beide daar gebore is) gevoeg is. Al die operas, simfonieë, konserte en serenades van Mozart is deur hom opgeneem. Die simfonie-siklus, die eerste volledige een wat ooit gemaak is, is met die Berlynse Filharmonie onderneem. Hy het ook veel gedoen om afgeskeepde Mozart-operas soos Così fan tutte en Idomeneo te populariseer. Verdere eerbewyse wat hy ontvang het sluit in die Goue Mozart-Medalje van die stad Salzburg (1959), die Grosses Bundesverdienstkreuz van Wes-Berlyn (1964), en die ereburgerskap van Wenen (1978). Met sy intellektuele benadering en streng beheersde tempos was hy ‘n hoogs begaafde vertolker van die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium. As konsertbegeleier het hy ‘n besondere verhouding met die pianis Maurizio Pollini onder andere gehad.

Tot in sy tagtigs het Böhm nog gereeld as gasdirigent met orkeste opgetree, onder andere in Londen en Wenen, totdat sy gesondheid in 1979 merkbaar begin agteruitgaan het. Hy het in 1973 by die Théâtre Antique in Orange, Frankryk ‘n opvoering van Tristan und Isolde gedirigeer wat as selfs beter as sy Bayreuth-weergawe beskou word (met ‘n DVD-opname wat daarvan gemaak is). Twee dae na sy dood in 1981 het Karajan tydens die Salzburg-fees ‘n uitvoering van Mozart se Vrymesselaars Begrafnismusiek tot sy nagedagtenis gedirigeer. Sleutelopnames: Beethoven se sesde simfonie (Wenen 1971); Bruckner se vierde simfonie (Wenen 1973); Schubert se vyfde simfonie (Wenen 1979); Mozart se opera Così fan tutte (Londen). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Schubert, en ‘n aantal van Beethoven (nrs. 4, 5, 6, 7 en 9),  Bruckner (nrs. 3 en 8) en Haydn; Haydn se oratoriums Der Schöpfung en Die Jahreszeiten; Reger se Variasies op ‘n Tema van Mozart; orkeswerke van Richard Strauss; die operette Die Fledermaus; en die operas Fidelio, Lulu, Wozzeck, La clemenza di Tito, Die Entführung aus dem Serail, Idomeneo, Le nozze di Figaro, Die Zauberflöte, Ariadne auf Naxos, Capriccio, Die schweigsame Frau, Der Rosenkavalier en Salome.

Böhme, Kurt (1908-89), Duitse bas. Nadat hy in 1929 sy debuut in Bautzen gemaak het, was hy vanaf die jaar daarop tot 1950 aan die Dresden Opera verbonde. Daar het hy in die premières van die operas Arabella (1933) en Die schweigsame Frau (1935) gesing. Hy het in 1936 by Covent Garden gedebuteer, en vanaf 1941 tot 1959 het hy gereeld by die Salzburg-fees opgetree. Na die Tweede Wêreldoorlog was hy verbonde aan operahuise in München (vanaf 1950) en Wenen (vanaf 1955). Hy het voorts gedebuteer by die Bayreuth-fees (1952) en die Metropolitan Opera (1954). Die rol van Baron Ochs in Der Rosenkavalier is meer as 500 keer deur hom gesing, waarvan die eerste in 1942 by La Scala was. Hy het in 1954 by Salzburg uitgeblink as Kaspar in ‘n opname van Der Freischütz onder Wilhelm Furtwängler. Vanaf 1956 het hy weer vir ‘n aantal seisoene by Covent Garden verskyn. Onder sy verdere rolle het getel Herodes in Salome, Morosus in Die schweigsame Frau en Fafner in Das Rheingold. Verdere opnames: Orff se kantate Trionfo di Afrodite (onder Jochum); die laasgenoemde drie operas van Richard Strauss, asook Das Rheingold en Siegfried (beide onder Böhm en Solti), en Der Freischütz (onder Jochum).

Bolet, Jorge (1914-90), Kubaans-Amerikaanse pianis en dirigent. Hy was ‘n leerling van Leopold Godowski en het sy Europese debuut in 1935 in Amsterdam gemaak. In 1946 was hy musiekdirekteur van die Amerikaanse besettingsmagte in Tokio, waartydens hy die Japannese première van Gilbert en Sullivan se operette The Mikado gedirigeer het. Hy was in 1960 die pianis in die klankbaan van Song without End, ‘n rolprent oor die lewe van Liszt. Vanaf 1968 tot 1977 was hy ‘n hoogleraar aan die Indiana Universiteit en daarna hoof van die klavierafdeling by die Curtis Instituut. Eers gedurende die 1970’s het hy wêreldbekend geraak vir sy vertolkings van grootskaalse Romantiese werke. Dit geld veral vir Liszt se musiek, waarvan hy talle opnames gemaak het. Opnames: Gershwin se Rhapsody in Blue; Liszt se Hongaarse Fantasie en Totentanz (beide onder Fischer), klaviersonate, Annees de pelerinage, Consolations 1-6, 12 Etudes d’execution transcendante, Liebesträume 1-3, Valse impromptu en ander solowerke; en solowerke van Chopin en Mendelssohn.

Bolsjoi Teater, die oudste en vernaamste opera- en balletteater in Moskou. Die oorspronklike gebou is in 1780 gebou en in 1805 deur ‘n brand verwoes, die volgende gebou is in 1825 geopen maar in 1853 weer deur ‘n brand verwoes, en die huidige gebou is in 1856 geopen. Vanaf 1783 tot 1859 was daar ook ‘n Bolsjoi Teater in Sint Petersburg.

Bolton, Ivor (1958-), Engelse dirigent. Hy was vanaf 1990 vir drie jaar musiekdirekteur van die Engelse Rondgaande Opera. Daarna het hy dieselfde pos by die Glyndebourne-fees beklee, en sedert 1994 dirigeer hy ook die Skotse Kamerorkes. Met die Saint James Singers and Baroque Players het hy ‘n hoogstaande opname van Purcell se opera Dido and Aeneas gemaak. Sedert 2004 is hy musiekdirekteur van die Mozarteum Orkes in Salzburg, met wie hy ‘n voortreflike opname van Bruckner se derde simfonie gemaak het.

Bonisolli, Franco (1938-2003), Italiaanse tenoor. Hy het onder Alfredo Laretto studeer en in 1961 die internasionale sangkompetisie in Spoleto gewen. In die jaar daarop het sy professionele debuut in Spoleto plaasgevind, as Ruggero in Puccini se La Rondine. Hy is in 1963 deur die komponis Menotti genooi om die rol van die Prins in Prokofiëf se opera Die liefde vir drie lemoene by die Spoleto-fees te sing. In 1968 het hy ‘n lid van die Weense Staatsopera geword, waaraan hy vir langer as 30 jaar verbonde sou wees. Sy debuut by La Scala is in 1969 gemaak, as Cleomene in Rossini se L’assedio di Corinto. Nog debute het gevolg in San Francisco (in 1969, as Alfredo in La Traviata) en by die Metropolitan Opera (in 1971, as Almaviva in Il barbiere di Siviglia). By die Met sou hy vir 2 dekades sing. Gedurende die 1970’s het hy verder in bekende operahuise in Frankryk, die VSA en Duitsland opgetree. In dié tyd het hy in swaarder rolle soos Manrico in Il trovatore, Alvaro in La forza del destino, en die titelrolle in Otello en Andrea Chénier bekend geraak. Hy het in 1978 in Wenen woedend van die verhoog afgestorm tydens ‘n openbare inoefening vir Il Trovatore. Dit was met Karajan as dirigent, en hy is terstond deur Placido Domingo vervang.

Bonisolli sou tot aan die einde van sy loopbaan berug bly vir sy drifbuie – só het hy in 2002 tydens ‘n opvoering van Cavalleria rusticana in Sicilië van die verhoog gestorm, omdat die dirigent se tempo te stadig na sy sin was. In die 1980’s het hy ook gesing in Monte Carlo, Berlyn, Kaapstad en Verona. Sy debuut by Covent Garden is in 1987 gemaak, as Calaf in Turandot. Hy het tot in sy sestigs nog opgetree, met ‘n afskeidsoptrede by die Weense Staatsopera in 2000 as Manrico. Met sy ryk, kragtige stem was hy uitmuntend in die liriese en dramatiese rolle van Italiaanse en Franse opera. Naas die genoemde operas sluit dit in die manlike hoofrolle van L’elisir d’amore, Rigoletto, Manon Lescaut, Les contes d’Hoffmann, La donna del lago, Faust, La fanciulla del West, Tosca, Aida en Fedora. Hy is in Monte Carlo oorlede, op dieselfde dag as sy landgenoot Franco Corelli. Opnames: Verdi se operas I Masnadieri, Il Trovatore en La Traviata.

Bonney, Barbara (1956-), Kanadese sopraan. Sy het in 1979 haar operadebuut in Darmstadt gemaak en in 1983/4 in ‘n aantal Duitse operahuise gesing, waaronder dié in Frankfurt, Hamburg en München. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1984), die Salzburg-fees (1987) en die Metropolitan Opera (1989). Met haar hoë, suiwer stem is sy wêreldbekend in opera, veral dié van Mozart. Onder haar beste rolle tel Marzelline in Fidelio, Gretel in Hänsel und Gretel, Valencienne in Die lustige Witwe, Servilia in La clemenza di Tito, Susanna in Le nozze di Figaro, Pamina in Die Zauberflöte, Alphise in Les Boréades, Adèle in Die Fledermaus, die Jongmeisie in Moses und Aron, Sophie in Der Rosenkavalier en die Skaapwagterseun in Tannhäuser. Daarby is sy een van die voorste konsert- en liederesangeresse van haar tyd, veral in die Skandinawiese en Duitse repertoriums. Sleutelopname: ‘n versameling sekulêre liedere van Purcell, waaronder Music for a while (onder Robert King). Verdere opnames: Bach se 4 Missa breves en Magnificat in D; Beethoven se negende simfonie (onder Rattle); Berg se 7 Vroeë Liedere (onder Chailly); Brahms se Ein deutsches Requiem; Fauré se Requiem; Grieg se Peer Gynt en Sigurd Jorsalfar; Handel se Acis and Galatea (in Mozart se Duitse verwerking); Haydn se oratorium Die Schöpfung; Mahler se vierde simfonie en Des Knaben Wunderhorn (beide onder Chailly); Mendelssohn se tweede simfonie (onder Masur); Mozart se Requiem; Nielsen se Hymnus amoris; Pergolesi se Stabat Mater en Salve Regina in F mineur; Schumann se Das Paradies und die Peri en Szenen aus Goethes Faust; liedere van Alfvén, Grieg, Mendelssohn, Mozart, Schubert, Clara Schumann, Sibelius, Stenhammar, R. Strauss, Wolf en Zemlinsky; die genoemde operettes van Lehár en J. Strauss; die genoemde operas van Beethoven, Humperdinck, Mozart, Rameau, Schoenberg, R. Strauss en Wagner, asook Don Giovanni.

Bonynge, Richard (1930-), Australiese dirigent. Hy is in 1954 met die briljante sopraan Joan Sutherland getroud en het daarna die meeste van haar opnames gedirigeer. Vanuit die staanspoor het hy gekonsentreer op bel canto operas van die laat agtiende en vroeë negentiende eeue. In 1962 het sy debuut in Rome plaasgevind, in 1964 ook by Covent Garden en in 1970 by die Metropolitan Opera. Hy was musiekdirekteur van die Vancouver Opera (1974-8) en die Australiese Opera (1975-86). In 1983 het hy ‘n offisier van die Orde van Australië geword. Op Oujaarsaand 1989/90 het hy by Covent Garden ‘n Engelstalige opvoering van Die Fledermaus gedirigeer, met ‘n uitstekende DVD-opname wat daarvan getuig. Hy was een van die twintigste eeu se voorste dirigente van balletmusiek en Italiaanse opera, veral dié van Bellini en Donizetti, en was ewe begaafd in Handel en Massenet. ‘n Hele aantal voorheen onbekende ballette is deur hom herleef. Sleutelopnames: Lehár se operette The Land of smiles (in Engels, Londen); Massenet se balletsuite Le Cid; die operas Norma (Sydney 1978, DVD), La Fille du regiment (Londen), Lucia di Lammermoor (Londen 1971), Les Contes d’Hoffmann (Switserland). Verdere opnames: Adam se ballet Giselle; Auber se ballet Gustave III; Chopin se ballet Les Sylphides; Delibes se ballette Coppélia, Sylvia en La Source; Messager se ballet Les Deux Pigeons; Minkus se ballet La Bayadère; Tsjaikofski se balllette Die Neutkraker, Doringrosie en Swanemeer; Kálmán se operette Die Csárdásfürstin; Lehár se operette The Czarevitch (in Engels); en die operas Le domino noir, Beatrice di Tenda, Norma, I Puritani, La Sonnambula, Griselda, Adriana Lecouvreur, Lakmé, Anna Bolena, L'elisir d'amore, La Favorita, Lucrezia Borgia, Montezuma, Alcina, Don Quichotte, Esclarmonde, L’Oracolo, Thérèse, Le Roi de Lahore, Les Huguenots, Don Giovanni, Semiramide, Rosina, Hamlet, Rigoletto, La Traviata en Il Trovatore.

Borchard, Lev (1899-1945), Duits-Russiese dirigent. Hy is in Moskou vanuit Duitse ouers gebore, maar het in Sint Petersburg grootgeword waar hy musiek studeer het. In 1920 het hy na Duitsland uitgewyk, waar hy Otto Klemperer se assistent by die Kroll Opera in Berlyn geword het. Hy het die Duitse hoofstad se filharmoniese orkes vir die eerste keer in 1933 gedirigeer, in dieselfde maand waarin Hitler die Duitse kanselier geword het. Twee jaar later is hy deur die Nasionaal-Sosialiste as ‘polities onbetroubaar’ van die dirigeerpodium verban. Daarop het hy in sy woonstel onderrig gegee en komponis-vriende ontvang. Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog in Berlyn gebly en aan die weerstand teen Hitler deelgeneem, onder die skuilnaam Andrik Krassnow. In Mei 1945 het hy die Berlynse Filharmonie in hul eerste na-oorlogse konsert gedirigeer, en ‘n week later is hy deur die Sowjet-owerhede as die beroemde orkes se musiekdirekteur aangewys, as plaasvervanger vir Wilhelm Furtwängler wat in Switserland in ballingskap was. As gevolg van sy anti-Nazi agtergrond en vlot Russiese spraak het hy ‘n goeie verhouding met die owerhede geniet. Nadat hy 22 konserte as musiekdirekteur gegee het, is hy een aand op pad huistoe na afloop van ‘n konsert deur ‘n Amerikaanse skildwag doodgeskiet. Sy vriendin en drywer was ongedeerd, en die amptelike verduideliking van die voorval was dat dit weens ‘n misverstand plaasgevind het. Vyftig jaar later, in 1995, het die Berlynse Filharmonie onder Claudio Abbado ‘n uitvoering van Mahler se sesde simfonie gegee ter herdenking van sy tragiese afsterwe. Hy het opnames van ouvertures deur Suppé, Tsjaikofski en Weber nagelaat, asook van Boccherini se bekende Minuet en Glazoenof se Stenka Razin.

Borg, Kim (1919-), Finse bas en komponis. Hy het in 1947 sy konsertdebuut in Helsinki gemaak en twee jaar later het hy begin opera sing. Daarna het debute gevolg by die feeste in Salzburg en Glyndebourne (beide in 1956), en by die Metropolitan Opera (1959). Onder sy bekendste rolle was die titelrolle in Boris Godoenof en Don Giovanni, en as Rangoni in eersgenoemde en Scarpia in Tosca. Hy was ewe begaafd in gewyde werke oor ‘n wye repertorium. Vanaf 1972 was hy ‘n hoogleraar aan die Deense Koninklike Musiekakademie. Opnames: Beethoven se Missa Solemnis; Bruckner se Misse nrs. 2 en 3 (onder Jochum); Dvorák se Requiem; Elgar se The Dream of Gerontius; Haydn se Die Schöpfung; Mozart se Requiem; orkesliedere van Moessorgski (onder Jochum); Verdi se Requiem (onder Fricsay); en die opera Boris Godoenof.

Bori, Lucrezia (1887-1960), Spaanse sopraan. Sy het in 1908 haar debuut in Rome gemaak as Micaela in Carmen, en twee jaar later het sy in Parys die titelrol in Manon Lescaut teenoor Caruso gesing. In dieselfde jaar (1910) het sy by La Scala gedebuteer en in 1912 ook by die Metropolitan Opera. Intussen het sy in 1911 in Milaan die rol van Octavian in die Italiaanse première van Der Rosenkavalier gesing. Haar sangloopbaan is in 1915 deur ‘n keeloperasie onderbreek, maar vier jaar later is dit hervat. Sy was vanaf 1921 tot 1936 ‘n lid van die Met, en daarna ‘n direkteur van dié operahuis. As begaafde vertolker van Puccini het sy uitgeblink as Mimì in La Bohème en in die titelrolle van Madama Butterfly en Manon Lescaut. Sy was een van die eerste sangeresse om aan opera-uitsendings oor die radio deel te neem.

Borkh, Inge (1917-), Duits-gebore Switserse sopraan. Sy was aanvanklik ‘n aktrise en het in 1940 haar sangdebuut gemaak. Ná 'n suksesvolle optrede in Menotti se opera Die Konsul in 1952 in Luzern het sy ‘n internasionale loopbaan gevolg, met debute wat gevolg het by die Bayreuth-fees (1952), San Francisco (1953), die Salzburg-fees (1955), die Metropolitan Opera (1958) en Covent Garden (1959). Sy was ‘n lid van die Stuttgart Opera, en haar bekendheid het merendeels in die dramatiese rolle van Richard Strauss en Wagner se operas gelê. Daaronder tel beide Fricka en Freia in Das Rheingold, en die titelrolle in Elektra en Salome. By Salzburg het sy in 1957 in 'n klassieke opname van Elektra onder Dimitri Mitropoulos gesing. Verder was sy begaafd as Dame Macbeth in Macbeth en as Eglantine in Euryanthe. Verdere opnames: die operas Salome (onder Reiner), Das Rheingold (onder beide Ackermann en Keilberth), en Euryanthe (onder Giulini).

Borodin Kwartet, Russiese strykkwartet wat in 1945 deur die violis Rostislaf Dubinsky as die Moskou Filharmoniese Kwartet gestig is. Hulle het ‘n noue verbintenis geniet met Sjostakowitsj, wie se volledige strykkwartette hulle twee keer opgeneem het (in die laat 1960’s en vroeë 1980’s). Hulle het die eerste uitvoerings van die meeste daarvan in die Weste gegee. In die 1970’s het Dubinsky en sy mede-violis Jaroslaf Alexandrof na die Weste uitgewyk. Naas Russiese musiek is die kwartet ewe begaafd in die Duitse Klassiek-Romantiese repertorium. Hulle het dikwels met die pianis Swiatislaf Richter in kwintette gespeel, en met die klarinettis Iwan Mosgowenko het hulle ‘n besondere opname van Brahms se klarinetkwintet gemaak. Sleutelopnames: Schubert se strykkwartette nrs. 10, 12 en 13 (1991); Sjostakowitsj se klavierkwintet (met Leonskaja); Tsjaikofski se 4 strykkwartette en Souvenir de Florence (lg. met Yurov en Milman). Verdere opnames: Borodin en Brahms se volledige strykkwartette, asook Mozart se K421, Schnittke se kwartet nr. 3 en Schubert se kwartet nr. 14; Brahms, Schnittke, Schumann en Sjostakowitsj se klavierkwintette (met Wirsaladse in die eerste geval, Berlinski in die tweede en Richter in die laaste twee as pianiste); Haydn se Die sieben letzten Worte; Schubert se strykkwintet (met Misha Milman as ekstra tjellis); en Vainberg se strykkwartet nr. 12.

Borodin Trio, Russiese klaviertrio wat in 1976 gestig is. Hulle toer wyd deur Europa en Noord-Amerika, tree by talle musiekfeeste op en het heelwat hoogstaande opnames gemaak. Met hul gevoelvolle spel is die ensemble uitmuntend in die Klassiek-Romantiese repertorium. Sleutelopname: Smetana se Klaviertrio in G mineur. Verdere opnames: Arenski se klaviertrio nr. 1, Dvorák se 4 klaviertrios, Glinka se Trio pathétique, Hummel se klaviertrios nrs. 1, 5 en 7, Mendelssohn se 2 klaviertrios, Mozart se 6 klaviertrios, en Tartini se Klaviertrio in D.

Borodina, Olga (1960-), Russiese mezzosopraan. Sy is sedert 1987 aan die Kirof Opera verbonde, waar sy roem sou verwerf onder die gevierde dirigent Walery Gergijef. Verdere debute is gemaak by die Edinburgh-fees (1991), en by Covent Garden en die Metropolitan Opera (beide in 1992). Met haar ryk, ferm stem is sy uitmuntend in Russiese operarolle soos Konsjakowna in Prins Igor, Marina in Boris Godoenof, Marfa in Khowansjina, Sonja in Oorlog en Vrede, Liubasha in Die Tsaar se Bruid, Pauline in Pique Dame en Olga in Jewgeni Onegin. Met haar intense, gevoelvolle sang is sy ewe begaafd in konsertwerke en Russiese liedere. Só het sy in 2000 by Covent Garden as solis geskitter in ‘n opname van Verdi se Requiem onder Gergijef. Sleutelopname: Prokofiëf se Alexander Nevsky kantate (onder Gergijef, Moskou 2002). Verdere opnames: Berlioz se La mort de Cléopâtre (onder Gergijef) en Roméo et Juliette (in die vroulike hoofrol, onder Colin Davis); Rachmaninof se Vespers; liedere van Tsjaikofski; Verdi se Requiem (onder Bitsjkof); die genoemde operas van Borodin, Moessorgski, Prokofiëf, Rimski-Korsakof en Tsjaikofski, asook Aida (as Amneris).

Boskovsky, Willi (1909-91), Oostenrykse violis en dirigent. Hy het in 1938 sy debuut as violis by die Salzburg-fees gemaak, en was daarna vir langer as drie dekades (1939-71) mede-leier van die Weense Filharmoniese Orkes. By die Salzburg-fees het hy in 1950 as solis in Wilhelm Furtwangler se opname van Bach se Brandenburgkonsert nr. 5 opgetree. Vanaf 1969 het hy die Weense Strauss-orkes gedirigeer, en daarby het hy die Weense Oktet en die Weense Filharmoniese Kwartet gestig. Met hierdie kamer-ensembles het hy hoogstaande opnames gemaak van Schubert se klavierkwintet (in 1957, met Clifford Curzon as pianis), Oktet (in 1958) en strykkwartet nr. 14 (in 1963). Hy was egter veral beroemd vir die gewilde Nuwejaarskonserte wat hy jaarliks vanaf 1955 tot 1980 in Wenen gelei het, waartydens die Strauss-familie se musiek gespeel is. Daarin het hy sowel die Weense Filharmonie gedirigeer en as solis in van die werke gespeel. Hy het ‘n groot aantal opnames van die Strauss-familie (Johann senior, Johann junior, Josef en Eduard) se musiek nagelaat. Ook in die dansmusiek van ander Weense reuse soos Haydn, Mozart, Beethoven en Schubert het hy as dirigent uitgeblink, soos sy opnames daarvan getuig. Sleutelopnames: ‘n ruim versameling bekende Walse van Johann Strauss junior. Verdere opnames (as solis): Brahms se Dubbelkonsert (met Emanuel Brabec, onder Furtwängler); (as dirigent) ‘n versameling Walse van Lehár, en sy operette Giuditta; Mozart se Salzburg simfonieë, en J. Strauss junior se operette Wiener Blut.

Bostock, Douglas (1955-), Engelse dirigent. Hy het aan die Universiteit van Sheffield en in Londen onder Adrian Boult studeer, as een van die gevierde dirigent se laaste privaatstudente voor sy afsterwe in 1983. Deur Boult kon hy in die musiek van sy vriende Elgar, Holst en Vaughan Williams geskool word. Verdere studies het in Freiburg, Duitsland plaasgevind, en vanaf 1979 was hy algemene musiekdirekteur in Konstanz. Daar het hy dikwels as gas die Suidwes-Duitse Filharmoniese Orkes gedirigeer. Sedertdien verskyn hy as gasdirigent van ‘n groot aantal orkeste in Europa, Noord-Amerika en Japan. Hy was vanaf 1991 vir 7 jaar hoofdirigent van die Carlsbad Simfonie-orkes in die Tsjeggiese Republiek, waartydens hulle wye erkenning verwerf het. Sedert 1992 is hy ook hoofgasdirigent van die Tsjeggiese Kamer-filharmoniese Orkes, met wie hy Schumann se vier simfonieë opgeneem het. Daarby is hy hoofdirigent van die Kosei Houtblasersorkes in Tokio (sedert 2000) en die Aargau Simfonie-orkes in Switserland (sedert 2001), en permanente gasdirigent van die München Simfonie-orkes. Sy bekendheid lê merendeels in die moderne Britse repertorium. Sleutelopname: Arthur Butterworth se eerste simfonie (München). Verdere opnames: Arnold se vyfde simfonie en 4 korter orkeswerke; Gipps se tweede simfonie; Gregson, Hoddinott en McCabe se Konserte vir Orkes; Holst se Cotswold Symphony en The Perfect Fool balletsuite; Jacob se tweede simfonie, Little Symphony en Festival Overture.

Boston Simfonie-orkes, Amerikaanse orkes wat in 1881 in Massachusetts gestig is met George Henschel as eerste dirigent daarvan (tot 1884). Hy is later opgevolg deur sulke beroemdes soos Arthur Nikisch en Pierre Monteux. Onder die dirigeerstok van Sergei Koussewitzki (1924-49) het die orkes wêreldbekend geword, onder andere deur talle nuwe werke van Amerikaanse komponiste sowel as van Bartók, Prokofiëf en Strawinski die lig te laat sien. Koussewitzki is opgevolg deur Charles Munch (1949-62), Erich Leinsdorf (1962-69), William Steinberg (1969-72) en Seiji Ozawa (vanaf 1973).

Bostridge, Ian (1966-), Engelse tenoor. Hy het sy operadebuut in 1994 by die Edinburgh-fees gemaak, as Lysander in A Midsummer Night’s Dream. In 1996 het hy by die Engelse Nasionale Opera as Tamino in Die Zauberflöte gedebuteer. Onder sy verdere rolle tel Quint in The turn of the screw, die titelrol in Idomeneo, Aeneas in Dido and Aeneas, Vasek in Die verruilde bruid, Nerone in L’incoronazione di Poppea, die titelrol in Orfeo, Tom Rakewell in The Rake’s Progress en die Skaapwagter in Tristan und Isolde. Intussen het hy as liederesanger bekendheid begin verwerf, met optredes dwarsdeur Europa en die VSA. Hy het in 1997 in ‘n rolprentweergawe van Schubert se Winterreise gesing, begelei deur die pianis Julius Drake. In dieselfde jaar is sy boek oor heksery in die sewentiende en agtiende eeue gepubliseer. Daarby is hy ‘n begaafde konsertsanger, veral in gewyde werke van die Barok. Die CBE is in 2004 aan hom toegeken. Sleutelopnames: Purcell se Funeral Music for Queen Mary (onder Martin Neary); Schubert se liedere-siklus Die schöne Müllerin (met Graham Johnson), en ‘n verdere versameling van sy liedere begelei deur Drake. Verdere opnames: Bach se Kantates nrs. 55 en 82a (onder Biondi), sy Kantates nrs. 61, 147 en Magnificat (onder Harnoncourt, op DVD), en Sint Mattheuspassie (onder Herreweghe); Britten se Five Canticles, Serenade for tenor, horn and strings en Our hunting fathers; Rossini se Missa di Milano en Petite messe solennelle; Strawinski se ballet Pulcinella; Schubert se Winterreise (begelei deur Andsnes); liedere van Schumann en Vaughan Williams; die genoemde operas van Purcell, Strawinski en Wagner, asook The Turn of the Screw, Idomeneo en Orfeo.

Botha, Johan (1965-), Suid-Afrikaanse tenoor. Ná opleiding in Pretoria is hy in 1990 na Duitsland, waar hy in Kaiserslautern in Un ballo in maschera gedebuteer het. Daarna was hy verbonde aan operahuise in Hagen en Bonn, en sedert 1993 volg hy ‘n vryskutloopbaan. Hy tree wêreldwyd in die voorste operahuise en by musiekfeeste op. Debute is gemaak by die Bastille Opera in Parys (1993), die Metropolitan Opera (1997) en die Salzburg-fees (1998). Daarby sing hy dikwels by die staatsoperas in Berlyn en Wenen. In 2002 het hy by die Salzburg-fees uitgeblink as Calaf in ‘n opvoering van Turandot (met Berio se voltooiing), onder Walery Gergijef. Die gesogte titel van Kammersänger is in 2003 deur die Weense Staatsopera aan hom toegeken. Hy het in 2008 die rol van Walther gesing in ‘n Weense opname van Die Meistersinger von Nürnberg, met ‘n DVD-opname wat gemaak is. Verdere opnames: Koechlin se 3 Songs, opus 18 (onder Zinman); Puccini/Berio se Turandot (op DVD); en Wagner se Lohengrin (in die titelrol).

Botstein, Leon (1946-), Amerikaanse dirigent en musiekgeleerde wat in Switserland gebore is. Hy het in New York skoolgegaan en aan die Universiteit van Chicago studeer. Later het hy ‘n doktoraat in musiekgeskiedenis aan die Harvard Universiteit verwerf. In 1970 het hy die jongste kollege-president in die Amerikaanse geskiedenis geword toe hy op 23 president van Franconia Kollege geword het, ‘n pos wat hy vir vyf jaar sou beklee. Sedert 1975 is hy president van Bard Kollege in New York, waar hy ‘n hoogleraar is. Hy het in 1990 die Bard Musiekfees gestig, waarvan hy sedertdien ‘n artistieke direkteur is. In 1991 het hy hoofdirigent van die Amerikaanse Simfonie-orkes in New York geword. Met hulle het hy in 2002 ‘n opname van Richard Strauss se opera Die Aegyptische Helena gemaak het wat deur sommige kenners as die beste weergawe van die werk beskou word. Hy het met dieselfde orkes twee jaar later slegs die derde uitvoering van Bruno Walter se eerste simfonie gegee. Vanaf 2003 tot 2010 was hy musiekdirekteur van die Jerusalem Simfonie-orkes, en sedertdien is hy hul eredirigent. As gasdirigent tree hy met bekende orkeste in Brittanje en elders in Europa op. Sy opname van Popof se eerste simfonie met die Londense Simfonie-orkes is in 2006 vir ‘n Grammy-toekenning benoem. Hy het in 2007 die Noord-Duitse Radio-orkes in Hamburg in die eerste opname van Walter se eerste simfonie gedirigeer. In die jaar daarop het hy met sy New York-orkes die Amerikaanse première van Joseph Marx se Herfs-simfonie gegee. ‘n Hele aantal boeke en artikels het uit sy pen verskyn, insluitend ‘n boek oor Joodse rolle in die Duitse en Oostenrykse kultuur tussen 1848 en 1938. Die boek is in Duits geskryf en is in Russies vertaal. Verdere opnames: Hartman se simfonieë nrs. 1 en 6; Szymanowski se tweede simfonie, Konsert-ouverture en Slopiewnie.

Bott, Catherine (1952-), Engelse sopraan. Sy is wêreldbekend in vroeë musiek, veral in opera van die sewentiende eeu. Onder die rolle waarin sy uitblink, tel Mandane in Artaxerxes, Drusilla in L’incoronazione di Poppeia, La Musica, Proserpina en die Boodskapper in Orfeo, Herodiade in San Giovanni Battista, en die titelrolle in Venus and Adonis, Dido and Aeneas en The Fairy Queen. Met haar helder stem en akkurate, behendige sang is sy ewe begaafd in konsertwerke oor ‘n wye repertorium. Sy tree dikwels as solis op met Philip Pickett se ‘New London Consort.’ Sleutelopnames: Stradella se oratorium San Giovanni Battista (as Salome, onder Minkowski); Vivaldi se motet In furore iustissimae irae en Laudate pueri Dominum (met die Purcell Kwartet). Verdere opnames: ‘n versameling orkesliedere van Arne en ander Britse komponiste; Bach se Kersfeesoratorium; Blow se Venus and Adonis; ‘n versameling Londense liedere van Dove en andere (met Owen Norris as klavierbegeleier); Handel se kantates Notte placida e cheta en Tra la fiamme; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine, en sy opera-ballette Il ballo delle ingrate, I Combattimento di Tancredi e Clorinda en Tirsi e Clori (almal onder Pickett); en die operas Artaxerxes, Orfeo, Venus and Adonis en Dido and Aeneas.

Boulanger, Nadia (1887-1979), Franse leermeester, orrelis, dirigent en komponis. Sy het onder die komponiste Fauré en Widor aan die Parys Konserwatorium studeer, waar sy eerste pryse in harmonie en kontrapunt asook orrel en begeleiding gewen het. In 1908 het sy ‘n tweede plek in die Grand Prix de Rome met haar kantate La Sirène verower. Later sou sy wêreldroem verwerf as een van die grootste leermeesters van komposisie van die twintigste eeu. Sy was in dié hoedanigheid verbonde aan die école Normale de Musique in Parys (1920-39), die Amerikaanse Konserwatorium in Fontainebleau (vanaf 1921) en die Parys Konserwatorium (vanaf 1946). Intussen het sy in 1925 tydens haar Amerikaanse debuut as orrelis die eerste uitvoering van Copland se Simfonie vir Orrel gegee, met Walter Damrosch as dirigent. Sy het in 1937 die eerste vrou geword om ‘n volledige konsert van die Koninklike Filharmoniese Vereniging in Londen te dirigeer. In die jaar daarop het sy die eerste uitvoering van Strawinski se Dumbarton Oaks Concerto in Washington, D.C. gedirigeer. Sy het voorts in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog een van die eerste musici geword om die madrigale van Monteverdi te herleef, met beroemde opnames wat daarvan gemaak is.

Verder was Boulanger ‘n voortreflike dirigent van Fauré se Requiem, waarvan ‘n stemmige opname met die BBC Simfonie-orkes en Koor gemaak is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sy in die VSA gewoon, waar sy aan die Juilliard Musiekskool in New York onderrig gegee het. Onder haar leerlinge het getel die komponiste Berkeley, Copland en Harris, die pianiste Clifford Curzon en Dinu Lipatti, en die dirigente Igor Markewitsj en Antoni Wit. ‘n Ere CBE is in 1977 aan haar toegeken. Haar suster Lili Boulanger (1893-1918) wat in haar vroeë 20’s oorlede is, het in 1913 met haar kantate Faust et Hélène die eerste vrou geword om die Grand Prix de Rome te wen. Met die BBC Simfonie-orkes en -koor het Nadia voortreflike opnames van Lili se Psaume 24, Psaume 130 en Pie Jesu gemaak.

Boulez, Pierre (1925-), Franse pianis, dirigent en komponis. Hy het vanaf 1943 by die Parys Konserwatorium onder die komponis Messiaen studeer. Sedert die 1950’s spits hy hom toe op die bevordering van moderne musiek, veral dié van die Tweede Weense Skool. Hy in 1959 in Baden-Baden, Duitsland gaan woon, waar hy dirigent van die Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes geword het. In 1960 is sy dirigeerdebuut by die Salzburg-fees gemaak. By die Parys Opera het hy pionierswerk gedoen vir Berg se operas Wozzeck (eerste Franse verhoogproduksie in 1962) en Lulu (eerste volledige opvoering in 1979). Vanaf 1965 het hy dikwels by die Bayreuth-fees verskyn, waar sy Wagner-vertolkings hoog aangeslaan is. Hy was in 1969/70 hoofgasdirigent van die Cleveland Orkes en vanaf 1971 vir vier jaar hoofdirigent van die BBC Simfonie-orkes. Ook in 1971 het hy Leonard Bernstein opgevolg as musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes, ‘n pos wat hy vir ses jaar sou beklee.

Boulez het in 1972 met staatshulp die IRCAM navorsingsinstituut in die Franse hoofstad gestig vir die ondersoek van akoestiese en elektroniese verskynsels wat met musiek verband hou. Daarby het hy vier jaar later die Ensemble Intercontemporain gestig vir die bevordering van twintigste-eeuse musiek. Hulle het oor die jare heen die premières van meer as 200 werke gegee. Met die eeufeesviering by Bayreuth in 1976 het hy ‘n omstrede opvoering van die Ring-siklus, met sy landgenoot Patrice Chéreau as regisseur, gedirigeer. Dit het grootskaalse uitjouery en selfs vuisgevegte in die teater ontlok, sodat die kritikus Harold Rosenthal die opvoering as Frankryk se uitgestelde vergelding vir die Franko-Pruisiese Oorlog bestempel het. Die opnames daarvan (op kompakskyf en DVD vrygestel) word nietemin hoog deur musiekgidse aangeslaan. Hy het in 2010 die Concertgebouw Orkes in Amsterdam in ‘n uitvoering van Mahler se sewende simfonie gedirigeer, met ‘n DVD wat daarvan gemaak is.

Met sy intellektuele benadering en presiese, helder vertolkings is Boulez een van die mees begaafde dirigente nóg van moderne musiek. Só het hy in die laat 1960’s en vroeë 1970’s met talle soliste die volledige werke van Webern opgeneem. Aan die negatiewe kant skiet sy vertolkings van Klassieke of Romantiese werke dikwels kort aan warmte en gevoel, en is hy ‘n uitgesproke teenstander van die herlewing van vroeë musiek deur William Christie en ander dirigente in Frankryk. Hy was ook negatief teenoor die groot Sowjet-komponis Sjostakowitsj, wie se musiek as ‘n afgewaterde weergawe van Mahler s’n bestempel is. Om sake te vererger het hy in die 1960’s voorgestel dat die wêreld se operahuise opgeblaas word, en is hy in 1996 op ‘n lys van verdagte terroriste geplaas ná ‘n dreigoproep wat na ‘n onsimpatieke musiekkritikus gemaak is. Sy eie komposisies weerspieël die anti-estetiese kultus van die aaklige wat ná die Tweede Wêreldoorlog normatief onder Westerse komponiste geword het, met enkele eerbare uitsonderinge. Sleutelopnames: Berg se Kamerkonsert en opera Lulu (Parys 1979). Verdere opnames: Bruckner se agste simfonie; Mahler se derde en sesde simfonieë, en Das Lied von der Erde; Schoenberg se Erwartung, Gurrelieder en Die Jakobsleiter; Ravel se Shéhérazade; orkeswerke van Bartók, Berg, Berio, Birwistle, Debussy, Ligeti, Ravel, Schoenberg, Strawinski, Varèse en Xenakis; die operas Bloubaard se Kasteel, Wozzeck, Pelléas et Mélisande, Moses und Aron, Parsifal en die Ring (Bayreuth 1980/1, op DVD).

Boult, Adrian (1889-1983), Engelse dirigent. Ná studies in Oxford (waar hy ook as koorknaap gesing het) en onder Arthur Nikisch in Leipzig het hy in 1914 sy dirigeerdebuut gemaak. Vier jaar later het hy die première van Holst se gewilde suite The Planets gedirigeer. Daarna het hy bekend geraak in die musiek van Holst, en van sy ander landgenote Elgar en Vaughan Williams. Met al drie van hulle sou hy goed bevriend raak. Hy het in 1919 begin om die eerste dirigeerklasse in Brittanje aan te bied, by die Koninklike Musiekkollege. Vanaf 1924 was hy hoofdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes, totdat hy ses jaar later genooi is om musiekdirekteur van die BBC te word. In dieselfde jaar (1930) het hy die BBC Simfonie-orkes gestig. Hy sou die orkes tot 1950 dirigeer, waartydens hul tot ‘n ensemble van internasionale gehalte opgebou is. Hulle het saam in 1936 tydens ‘n Europese toer die eerste Weense uitvoering van Schoenberg se Variasies vir Orkes gegee, en in 1947 die eerste Britse uitvoering van Mahler se derde simfonie. Eerste uitvoerings van werke deur sy landgenote Bliss, Holst, Tippett en Vaughan Williams is deur hom gegee, asook die eerste Britse konsertweergawes van die operas Wozzeck (1934) en Doktor Faust (1937), en die Britse première van Bartók se Konsert vir Orkes (1946). Intussen het hy in 1935 sy debuut by die Salzburg-fees gemaak, en twee jaar later is hy tot ridder geslaan.

Vanaf 1950 was Boult vir sewe jaar hoofdirigent van die Londense Filharmoniese Orkes, met wie hy pioniersopnames van Vaughan Williams se volledige simfonieë gemaak het. Hy sou die projek in die laat 1960’s met drie bekende Londense orkeste herhaal. Oor die jare heen het hy ook as gasdirigent met van die wêreld se voorste orkeste opgetree. Só het hy in 1966 ‘n BBC-uitsending van Havergal Brian se eerste simfonie (The Gothic) in die teenwoordigheid van die komponis gedirigeer. Dit was die eerste professionele uitvoering van dié massiewe werk. Hy het in 1979 uitgetree, kort nadat hy The Planets vir oulaas opgeneem het. As tipies Engelse heer was hy afwysend teenoor die glans wat gewoonlik met groot dirigente verbind word. Naas die Britse repertorium was hy met sy hoogs ontwikkelde struktuurbegrip ‘n begaafde dirigent van Klassieke en Romantiese werke. Dit geld veral die musiek van Brahms en Wagner, alhoewel hierdie aspek van sy dirigeerwerk buite sy land betreklik onbekend gebly het. Vanweë spanning tussen hom en die invloedryke Thomas Beecham het hy helaas nie veel opera gedirigeer nie, maar wel ballet by Covent Garden en Sadler’s Wells. ‘n Handleiding oor dirigeertegniek is deur hom geskryf. Die heruitgawe van sy opname van Moeran se Simfonie in G is in 2007 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon.

Sleutelopnames: Elgar se oratorium The Dream of Gerontius (Londen 1976); Vaughan Williams se simfonieë nrs. 7 (1953) en 8 (1956). Verdere opnames: die volledige simfonieë van Brahms en Elgar, asook ‘n aantal van Beethoven, Franck, Rachmaninof (nr. 3), Schubert (nrs. 8 en 9), Sibelius (nr. 7) en Sjostakowitsj (nr. 6); ander orkeswerke van Bizet, Bliss, Elgar, Franck, Holst, Howells, Ravel, Sibelius, Tsjaikofski, Walton en Wolf; Elgar se oratorium The Kingdom; Handel se Acis and Galatea en Messiah; Vaughan Williams se ballet Job en opera The Pilgrim's Progress; en ‘n versameling Wagner-ouvertures.

Bour, Ernest (1913-2001), Franse dirigent. Hy het onder Hermann Scherchen studeer, waarna hy orkeste in Strasbourg en Hilversum gedirigeer het. In 1947 het hy met die koor en orkes van die Franse Nasionale Radio ‘n pioniersopname van Ravel se opera L’Enfant et les Sortilèges gemaak wat steeds as ongeëwenaard beskou word. In 1964 het hy Hans Rosbaud as hoofdirigent van die Suidwes-Duitse Radio Simfonie-orkes in Baden-Baden opgevolg. Hy sou die pos tot 1979 beklee, en was met hulle bekend as kampvegters vir die musiek van die Tweede Weense Skool en van moderne Franse komponiste. Sy vertolkings van Schoenberg, Berg en Webern is gekenmerk deur meer warmte as dié van bekende dirigente daarin soos Boulez en Gielen. In 1975 het hy ‘n radio-uitsending van Dallapiccola se opera Ulisse in Parys gedirigeer, met ‘n voortreflike opname wat daarvan gemaak is. Sleutelopname: die opera L’Enfant et les Sortilèges. Verdere opnames: Roussel se derde en vierde simfonieë; en orkeswerke van Bartók, Berg, Debussy, Ravel, Schoenberg, Strawinski, Ravel en Webern.

Bournemouth Simfonie-orkes, Engelse orkes wat sedert 1954 dié titel het, as opvolger van die Bournemouth Munisipale Orkes wat in 1893 gestig is. Hul dirigente het ingesluit Charles Groves, George Hurst, Paavo Berglund, Rudolf Barshay, Andrew Litton en (sedert 1995) Jakof Kreizberg. Hul kamerorkes, die Bournemouth Simfonietta, is in 1968 gestig.

Bowman, James (1941-), Engelse kontratenoor. Hy het in 1967 sy Londense konsertdebuut as Oberon in A Midsummer Night’s Dream gemaak, waarna hy wêreldbekend in vroeë musiek geraak het. In 1972 het sy debuut by Covent Garden plaasgevind, en in die volgende jaar het hy by die Aldeburgh-fees die rol van Apollo tydens die première van Britten se opera Death in Venice geskep. Hy is tans een van die voorste sangers in sy stemtipe, in sowel opera, liedere en konserte. Dit geld veral vir die musiek van Handel, beide sy oratoriums en operas. Onder die vroeë operarolle waarin hy uitblink, tel Ottone in L'incoronazione di Poppea, Trasimede in Admeto, en die titelrolle in Giulio Cesare, Orlando, Ottone en Silla. Hy het in beide David Willcocks en Ton Koopman se opnames van Handel se Messiah gesing, en tree ook as lid van die vokale ensemble Pro Cantione Antiqua op. Sleutelopnames: Handel se oratorium Joshua, en ‘n versameling sekulêre liedere van Purcell (beide onder Robert King). Verdere opnames: kerkmusiek van Britten, M. Charpentier, Pergolesi, Purcell, D. Scarlatti, Schütz en Tavener; Bach se Kantates nrs. 54, 169 en 170; orkesliedere van Burgon; liedere van Dowland; Gretsjaninof se In The Kingdom; Handel se oratoriums Belshazzar (as Daniel), Deborah (as Barak) en Israel in Egypt, asook Anthem for the Foundling Hospital, Ode for the birthday of Queen Anne en The Occasional Oratorio; Orff se Carmina Burana; teatermusiek van Purcell; die genoemde operas van Britten, Handel en Monteverdi, asook La Calisto en The Fairy Queen.

Bowyer, Kevin (1961-), Engelse orrelis. As wenner van vyf internasionale kompetisies het hy naam gemaak met uitvoerings van moderne en ongewone musiek. Só het hy in 1987 die eerste uitvoering gegee van Sorabji se Simfonie vir Orrel, wat sedert die publikasie van die werk in 1925 as onmoontlik om te speel beskou is – die tydsduur daarvan is ongeveer 2 ure. In 2003 het hy in die Sint Giles-kerk in Cripplegate die volledige orrelwerke van Messian, Vierne en Widor binne ‘n week uitgevoer. Hy is ook ‘n meesterlike vertolker van Bach, wie se volledige orrelwerke hy in Odense, Denemarke opgeneem het. Dit sluit baie van die Barokreus se onvoltooide werke in, asook werke wat later aan hom toegeskryf is, sodat die projek beskou word as die mees omvattende oorsig nóg van Bach se orrelmusiek. Hy gee onderrig in Engeland en Skotland, asook meesterklasse in talle lande, en is orrelis van die Universiteit van Glasgow. Sy gunsteling-tydverdryf is om te slaap. Sleutelopname: ‘n versameling orrelwerke van Alain. Verdere opnames: Glass se Duets and Canons.

Brabbins, Martyn (1959-), Skotse dirigent. Ná studies in komposisie in Londen en Leningrad (tans Sint Petersburg) het hy in 1988 die eerste prys in die Leeds-dirigeerkompetisie gewen. Hy is sedert 1994 mede-hoofdirigent van die BBC Skotse Orkes en van Sinfonia 21. Daarby is hy hoofkonsultant van die Koninklike Skotse Akademie vir Musiek en Drama, en permanente dirigent van die Huddersfield Koorvereniging. As gasdirigent tree hy wyd deur Europa op, met ‘n bekendheid veral in die musiek van Britse komponiste van die twintigste eeu. Sy BBC-opname van Korngold se opera Die Kathrin het ‘n prys by die Cannes internasionale musiekfees gewen. Sleutelopname: ‘n versameling orkeswerke van sy landgenoot Mackenzie, insluitend musiek vir Coriolanus en Twelfth Night (BBC Skotse). Verdere opnames: Bax se St Patrick’s Breastplate en The Morning Watch; Birwistle se Theseus Game en ‘n versameling kamerwerke; Britten se War Requiem; Lamond se Simfonie in A en Skotse Hooglande ouverture; MacCunn se The Land of the Mountain and the Flood ouverture en ander orkes- en koorwerke.

Brailofski, Alexander (1896-1976), Oekraïns-gebore Amerikaanse pianis. Nadat hy op vyftienjarige ouderdom met 'n goue medalje aan die Kiëf Konserwatorium gegradueer het, is hy na Wenen om onder die leermeester Theodor Leschetizky te studeer. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog is hy na Switserland, waar hy met die komponis-pianis Ferruccio Busoni saamgewerk het. Ná die oorlog het hy in Parys verder studeer en in 1919 'n sensasionele debuut in die Franse hoofstad gemaak. Vyf jaar later het sy debuut in New York plaasgevind, waarna hy hom in die VSA gevestig het. Hy het wêreldwyd getoer en gehore gaande gehad met sy uitvoerings van Chopin se volledige werke in ses konserte. Met sy verfynde toonkleur en tegniese presisie was hy een van die grootste vertolkers nóg van Chopin en Liszt se musiek, alhoewel sy repertorium veel wyer as dit gestrek het. Onder die opnames wat hy nagelaat het, tel Chopin se eerste klavierkonsert en vele van sy solowerke.

Brain, Alfred (1885-1966), Engelse horingspeler, broer van Aubrey Brain. Hy was eerste horingspeler van Henry Wood se Queen’s Hall orkes, totdat hy in 1923 na die VSA verhuis het. In dié land was hy eerste horingspeler van die Los Angeles Filharmoniese Orkes en bestuurder van die Hollywood Bowl konserte. Vanaf 1943 het hy ook in die ateljee-orkeste van MGM en 20th Century Fox gespeel.

Brain, Aubrey (1893-1955), Engelse horingspeler, broer van Alfred Brain. Hy was vanaf 1913 eerste horingspeler in Thomas Beecham se toeropera-orkes en later by Covent Garden. Daarna was hy ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie (1923-55) en eerste horingspeler van die BBC Simfonie-orkes (1930-45). Hy het in ‘n historiese opname van Brahms se horingtrio met Adolf Busch en Rudolf Serkin gespeel.

Brain, Dennis (1921-57), Engelse horingspeler, seun van Aubrey Brain. Hy en sy vader het in 1939 met die Léner Kwartet ‘n klassieke opname van Mozart se Divertimento nr. 17 gemaak. Ná studies in Londen het hy in 1943 in die eerste uitvoering van Britten se Serenade vir tenoor, horing en strykers met Peter Pears opgetree. Later was hy eerste horingspeler van die Philharmonia Orkes vanaf hul inwydingskonsert in 1945 tot aan die einde van sy lewe. In dié tyd was hy ook eerste horingspeler van die Koninklike Filharmoniese Orkes (tot 1954), met wie hy in 1950 deur die VSA getoer het. Daarby het hy dikwels as solis in konserte opgetree en het hy die houtblasersensemble wat na hom vernoem is, gestig. Met hulle het hy by die Salzburg-fees gedebuteer, enkele maande voor sy afsterwe op betreklik jeugdige leeftyd in ‘n motorongeluk. Hy is allerweë beskou as die voorste horingvirtuoos van sy tyd. Verdere werke is deur Arnold, Hindemith en ander komponiste vir hom geskryf. Sleutelopnames: Mozart se 4 horingkonserte (onder Karajan, 1954) en horingkwintet (met die Griller Kwartet in 1944 en die Engelse Strykkwartet in 1957); Richard Strauss se 2 horingkonserte (onder Sawallisch, 1956). Verdere opnames: Berkeley en Brahms se horingtrios; die genoemde werk van Britten; Hindemith se horingkonsert en -sonate; Beethoven se Kwintet vir klavier en houtblasers, Ibert se 3 Pieces breves en Jacob se Sekstet vir klavier en houtblasers (lg. 3 werke met sy ensemble).

Braithwaite, Nicholas (1939-), Engelse dirigent. Aanvanklik was hy eerste tromboonspeler van die Nasionale Jeugorkes van Groot-Brittanje (1955-7). In 1966 het sy dirigeerdebuut met die Walliese Nasionale Orkes plaasgevind, waarna hy poste beklee het as assistent-dirigent van die Bournemouth Simfonie-orkes (1967-70) en assistent-hoofdirigent by Sadler’s Wells (1971-5). By dié operahuis het hy in 1973 die Britse première van Penderecki se Die Duiwels van Loudun gedirigeer, en in dieselfde jaar het hy by Covent Garden gedebuteer. Later was hy dirigent van die Glyndebourne Toeropera (1977-81), hoofdirigent van die Göteborg Opera in Swede (1981-4) en direkteur van die Manchester Camerata (1984-91). Vanaf 1987 was hy dekaan van die musiekfakulteit van die Victorian College of the Arts in Melbourne en dirigent van die Adelaide Simfonie-orkes. Met die Nieu-Seelandse Kamerorkes het hy hoogstaande opnames van Holst se Brook Green suite en ander orkeswerke gemaak. Sy opname met die Londense Filharmoniese Orkes van Wordsworth se tweede en derde simfonieë is in 1991 met ‘n Gramophone toekenning bekroon. Met dieselfde orkes het hy ‘n seldsame opname gemaak van Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling volgens Henry Wood se orkestrasie.

Bramall, Anthony (1957-), Engelse dirigent. Hy was vir vyf jaar 'n koorsanger by die Westminster Abdy, waarop musiekstudies aan die Purcell Skool en die Guildhall Musiekskool onderneem is. Dirigeerlesse is van Vilem Tausky ontvang, waarna hy by teaters in Brittanje en Noord-Ierland gewerk het. In 1981 het hy assistent vir die algemene musiekdirekteur van die Munisipale Teater in Pforzheim geword. Hy het in 1984 'n spesiale prys in die Hans Swarowsky dirigeerkompetisie gewen en vervolgens het sy loopbaan meesal in Duitsland ontvou. Poste is beklee as musiekdirekteur van die Munisipale Teater in Augsburg (vanaf 1985), eerste kapelmeester van die Coburg Teater (vanaf 1989), kapelmeester van die Hannover Staatsopera (vanaf 1990), algemene musiekdirekteur van die verenigde stad Krefeld-Mönchengladbach (vanaf 1995) en algemene musiekdirekteur van die Karslruhe Staatsopera (2002-2008). Sedert 2008 is hy 'n hoogleraar in dirigeerkuns aan die Franz Liszt Musiekskool in Weimar. Daarby tree hy wyd as gasdirigent in Europa en elders op. Hy het in 1987 die Tseggo-Slowaakse Radio Simfonie-orkes in Bratislava in 'n opname van werke deur Rimski-Korsakof, Glinka, Borodin en ander Russiese komponiste getiteld Russian Festival gedirigeer.

Brannigan, Owen (1908-73), Engelse bas. Hy het in 1943 in Newcastle gedebuteer en was daarna aan Sadler’s Wells verbonde (1943-8 en weer 1952-8). Verdere debute is gemaak by die Glyndebourne-fees (1946) en by Covent Garden (1948). Die komponis Britten het verskeie rolle in sy operas vir hom geskryf, soos Swallow in Peter Grimes, Collatinus in The Rape of Lucretia, Superintendent Budd in Albert Herring, Noye in Noye’s Fludde en Bottom in A Midsummer Night’s Dream. Daarbenewens was hy ‘n begaafde sanger in kerkmusiek, Engelse volksliedere, en Gilbert en Sullivan se operettes. Onder laasgenoemde tel rolle soos Dick Deadeye in HMS Pinafore, Don Alhambra in The Gondoliers, die Sersant in The Pirates of Penzance, Wilfred in The Yeomen of the Guard en die titelrol in The Mikado. In 1964 is die OBE aan hom toegeken. Opnames: Britten se Noye's Fludde en Cantata academica; Stainer se The Crucifixion; Warlock se lied Yarmouth Fair; die genoemde operettes, asook Iolanthe en Ruddigore; en die operas Albert Herring, A Midsummer Night's Dream, Peter Grimes, The Tales of Hoffmann (in Engels, onder Beecham) en The Fairy Queen.

Brautigam, Ronald (1954-), Nederlandse pianis. Hy het in sy geboortestad Amsterdam onder Jan Wijn studeer, met verdere studies in Londen en onder die beroemde Rudolf Serkin in die VSA. In 1984 is die Nederlandse Muziekprijs, die hoogste musiektoekenning in die land, aan hom toegeken. Sedertdien tree hy as solis met van die voorste Europese orkeste op, en daarby gee hy gereeld uitvoerings op die fortepiano. Op dié voorloper van die klavier het hy die volledige klavierwerke van Beethoven, Haydn en Mozart opgeneem, asook Mendelssohn se klavierkonserte. Sy opnames van Haydn se sonates nommers 33 en 39 tot 41 is in 2004 met ‘n Cannes Klassieke Toekenning bekroon. Hy speel ook in kamermusiek met bekendes soos Isabelle van Keulen, Nobuko Imai en Melvyn Tan as vennote. Sleutelopname: Hindemith se klavierkonsert (onder Chailly). Verdere opnames: enkele vioolsonates en -sonatines van Mozart (met Van Keulen); Reger se altvioolsonate (met Imai); en ‘n versameling kamerwerke van Duruflé, Hahn, Nikolajewa en Weinberg (met Bezaly en Imai).

Bream, Julian (1933-), Engelse kitaar- en luitspeler. Hy was ‘n kitaarleerling van die gevierde Andres Segovia en het sy debuut in 1947 in Cheltenham gemaak. In 1950 het hy die luitmusiek van Dowland in Warlock se klavierverwerkings ontdek, wat ‘n lewenslange liefde vir die luit sou meebring. Hy het gedurende die 1950’s pioniersopnames van solowerke deur Bach en Dowland gemaak, asook musiek vir luit en sangers van Dowland. In 1960 het hy die Julian Bream Consort gestig vir die uitvoering van veral vroeë musiek. Hy het in die jaar daarop die Semley-fees in Wiltshire gestig vir die bevordering van seldsame kamermusiek. Tydens die Toronto-fees in 1965 het hy in ‘n uitvoering van Strawinski se Symphony of Psalms onder die dirigeerstaf van die komponis gespeel, met ‘n beeldopname wat gemaak is. Werke is deur onder meer Britten, Henze, Takemitsu, Tippett en Walton vir hom geskryf. Hy het dikwels die tenoor Peter Pears in liedere-voordragte van Britten en Walton op die luit of kitaar begelei. Sedert Segovia se afsterwe in 1987 word hy as die wêreld se voorste kitaarspeler beskou, met ‘n wye repertorium van luit- en kitaarmusiek vanaf die Renaissance tot by die moderne tydvak. Ook het hy heelwat vroeë musiek vir beide sy instrumente geredigeer of verwerk, waaronder Bach se luitsuites wat hy vir kitaar verwerk en opgeneem het. Sleutelopnames: ‘n versameling kitaarwerke van Albéniz; Arnold se kitaarkonsert (onder die komponis self). Verdere opnames: kitaarkonserte van Bennett, L. Berkeley en Brouwer; Rodrigo se Concierto de Aranjuez; Takemitsu se To the Edge of Dream; Vivaldi se luitkonsert RV 93; solowerke van Granados, Mompou, Sor, Villa-Lobos en Vivaldi; en ‘n aantal duetwerke met John Williams.

Breedt, Michelle (1967-), Suid-Afrikaanse mezzosopraan. Sy het in 1986 die Mimi Coertse-beurs gewen en later aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer. In 1990 is sy na Duitsland, waar sy eers aan die ateljee van die Keulen Opera verbonde was en daarna aan die Braunschweig Staatsteater. In Braunschweig was sy ‘n leerling van die vermaarde sangeres Brigitte Fassbänder en het in sommige van haar opvoerings as verhoogdirekteur gesing. Sy tree by van die voorste operahuise in Europa op, in rolle soos Adalgisa in Norma, Romeo in I Capuleti e I Montecchi, die titelrol in Carmen, Charlotte in Werther, Cherubino in Le nozze di Figaro, die Komponis in Ariadne auf Naxos, Octavian in Der Rosenkavalier, Fricka in Das Rheingold en Brangäne in Tristan und Isolde. In 2000 het sy ‘n geslaagde debuut by die Bayreuth-fees gemaak as Magdalena in Die Meistersinger von Nürnberg. Twee jaar later het die Weense Staatsopera, waar sy dikwels as gas optree, die Eberhard Wächter-medalje aan haar toegeken. Sy het in 2004 teenoor Placido Domingo die vroulike hoofrol in Menotti se opera Goya by die Weense Klangbogen-fees vertolk. As ewe begaafde konsert- en liederesangeres tree sy sedert 1997 gereeld by die Schubertiade in Oostenryk op. Onder die DVD-opnames waarin sy verskyn tel Ariadne auf Naxos (Zürich 2006), Das Rheingold en Die Walküre (beide Bayreuth 2008), en Tristan und Isolde (Bayreuth 2009). Verdere opnames: Dvorák se oratorium Saint Ludmila en opera Wanda; Korngold se A Midsummer Night’s Dream; die genoemde Mozart-opera; en Wellesz se opera Die Bakchantinnen.

Breiner, Peter (1957-), Slowaakse pianis, dirigent en komponis. Hy het op vier jaar met klavierlesse begin en op nege is hy na die konserwatorium in Kosice. Daar het hy klavier, slaginstrumente, komposisie en dirigeerkuns bestudeer. Vervolgens het hy na Bratislawa verhuis, waar hy vanaf 1975 tot 1981 komposisie aan die Akademie vir Uitvoerende Kunste onder Alexander Moyzes studeer het. Vanaf 1992 tot 2007 het hy in die Kanadese stad Toronto gewoon, waarop hy na New York verhuis het. Hy het reeds meer as 150 albums opgeneem, hetsy as pianis of dirigent. Daarby is hy bekend vir sy verwerkings, waaronder die musiek wat by die Olimpiese Spele in Athene in 2004 tydens medalje-seremonies gespeel is. Hy het ook Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling vir ‘n groot orkes verwerk, wat in 2012 met die Nieu-Seelandse Simfonie-orkes opgeneem is. Onder sy eie komposisies tel Songs and Dances of the Silk Road vir viool en orkes. Hierdie veelsydige musikus is nie minder nie as sewe tale magtig. Verdere opnames: Janáček se Six Operatic Suites (in sy eie verwerking).

Brembeck, Christian (1960-), Duitse orrelis en dirigent. Terwyl hy orrel, klavier en dirigeerkuns aan die München Konserwatorium studeer het, het hy in 1981 die orrelprys van die stad Würzburg verwerf. Sedert die voltooiing van sy studies in 1987 is hy verbonde aan die München Filharmoniese Orkes en die Tölz Seunskoor. By die Filharmonie het hy verder onder die legendariese dirigent Sergiu Celibidache studeer. Hy tree wêreldwyd as orrelis, klawesimbelspeler en dirigent op, en sedert 1992 is hy permanente dirigent van die Capella Istropolitana in Bratislawa. Met hulle het hy hoogstaande opnames gemaak van Bach se Mis in B mineur en sy Kantates nrs. 199, 202 en 209 (lg 3 met Friederike Wagner as solis).

Brendel, Alfred (1931-), Tsjeggies-gebore pianis. Hy was ‘n leerling van die vermaarde pianis Edwin Fischer en het hom in Oostenryk gevestig. Daar het hy in 1948 in Graz sy eerste voordrag gegee, en in 1960 is sy debuut by die Salzburg-fees gemaak. Sedert 1972 woon hy in Brittanje, waar hy in 1989 ‘n ereridder geword het. Met sy verfynde dog hartstogtelike spel is hy een van die voorste vertolkers van die Klassieke en Romantiese repertoriums van sy tyd, veral in die musiek van Mozart, Beethoven en Schubert. Sy tweede opname van Liszt se klaviersonate is in 1983 met ‘n Gramophone-toekenning bekroon. Verder is hy onoortreflik in Schoenberg se klavierkonsert, en is hy die skrywer van ‘n aantal boeke oor musiek. Hy het in 1985 as begeleier vir die bariton Dietrich Fischer-Dieskau in ‘n hoogaangeskrewe opname van Schubert se Winterreise gespeel. Sy afskeidskonsert is in 2008 met die Weense Filharmoniese Orkes onder Charles Mackerras gegee. Sleutelopnames: Mozart se klavierkonserte nrs. 19, 20, 21, 23 en 24 (onder Marriner), en klaviersonates nrs. 10, 11 en 16; Schubert se Impromptus 1-8, Moments musicaux 1-6, 12 Duitse Danse D790 en 16 Duitse Danse D783, en klaviersonate nr. 21. Verdere opnames: die volledige klavierkonserte van Beethoven (altesaam vier siklusse), Brahms, Liszt en Mozart; Beethoven se Koorfantasie (onder Haitink) en sy volledige klaviersonates (drie siklusse); Brahms se volledige Hongaarse Danse en Mozart se sonates vir klavierduet (almal met Walter Klien); Mozart se klavierkonsert nr. 12 (vir klavier en strykkwartet verwerk) en klavierkwartet nr. 2 (beide met die Alban Berg Kwartet), en sy Kwintet vir klavier en houtblasers; Schoenberg se klavierkonsert (drie weergawes); Schubert se Forelle-kwintet (met Thomas Zehetmair en andere); en vele solowerke van Chopin, Haydn, Liszt, Mozart, Schubert, Schumann en Weber. Sy seun Alfred is ‘n tjellis, en hul gesamentlike opname van Beethoven se 5 tjellosonates en 3 stelle Variasies word as ‘n sleutelopname gereken.

Brendel, Wolfgang (1947-), Duitse bariton. Hy het in 1971 by die Beierse Nasionale Opera in München aangesluit, en sedertdien het hy ook by die Weense Staatsopera, La Scala en die Metropolitan Opera gesing. Sy debute by die Salzburg-fees en Covent Garden is in onderskeidelik 1975 en 1985 gemaak. Met sy ferm, donker stem blink hy uit in rolle soos Papageno in Die Zauberflöte, Eisenstein en Falke in Die Fledermaus, Mandryka in Arabella, Graaf Luna in Il Trovatore en Hans Sachs in Die Meistersinger von Nürnberg. Hy was voortreflik as laasgenoemde in ‘n 1995-opname onder Frühbeck de Burgos, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Brahms se Triumphlied; die genoemde operette van Johann Strauss; die genoemde operas van Mozart, Richard Strauss en Verdi, asook Samson et Dalila.

Brewer, Christine (1955-), Amerikaanse sopraan. Sy het haar professionele loopbaan by die Sint Louis Opera afgeskop, waar sy rolle sou sing soos Ellen Orford in Peter Grimes, Donna Anna in Don Giovanni, en die titelrolle in Gloriana, Armida en Ariadne auf Naxos. Laasgenoemde is een van haar beste rolle, wat sy gesing het in Londen en Parys, asook met haar debuut by die Metropolitan Opera onder James Levine. Sy is ewe bekend as konsert- en liedere-sangeres in ‘n wye repertorium. In 2010 was sy ‘n solis in ‘n uitvoering van Mahler se agste simfonie met die Concertgebouw Orkes onder Maris Jansons, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Bolcom se Songs of Innocence and of Experience (onder Slatkin); Dvorák se Stabat Mater en Psalm 149 (onder Shafer); Mahler se agste simfonie (onder Rattle); ‘n Schubert-versameling van gewyde liedere (met Graham Johnson) en korter koorwerke (met die Holst Singers).

Brodsky Kwartet, Britse strykkwartet wat in 1972 gestig is. Hul is vernoem na die Russies-gebore violis Adolf Brodsky (1851-1929), wat vanaf 1895 tot sy dood hoof van die Koninklike Musiekkollege in Manchester was. Die kwartet bespeel hul instrumente staande, en maak insiggewende en dikwels humoristiese toesprake voor hul uitvoerings. In 1998 het hulle die Koninklike Filharmoniese Vereniging se toekenning ontvang. Sleutelopnames: Respighi se Strykkwartet in D en Quartetto dorico; Tsjaikofski se strykkwartette nrs 1-3. Verdere opnames: Delius, Elgar en Sjostakowitsj se volledige strykkwartette; Britten se eerste strykkwartet en Divertimenti.

Bronfman, Jefim (1958-), Russies-gebore pianis. Hy het in 1974 sy debuut in Israel gemaak en sewe jaar later in Londen begin optree. Sedertdien tree hy as solis met van die voorste Amerikaanse orkeste op, en as vennoot van die violis Shlomo Mintz in sonate-uitvoerings. Daarby het hy as solis in die klankbaan van die rolrent Fantasia 2000 onder James Levine gespeel. Sy opnames van Beethoven se klavierkonserte nrs. 1, 2 en 5 en Koorfantasie (almal onder David Zinman) word onder die beste weergawes daarvan beskou. Verdere opnames: Moessorgski se Skilderye op ‘n Uitstalling; die volledige klavierkonserte en -sonates van Prokofiëf; en die klaviertrios van Arenski en Tsjaikofski (met Lin en Hoffman).

Brouwensteijn, Gré (1915-1999), Nederlandse sopraan. Ses jaar ná haar debuut in Amsterdam in 1940 het sy ‘n lid van die Nederlandse Opera geword. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1951), en die feeste in Bayreuth (1954) en Glyndebourne (1959). Met haar ryk stem, soet toonkleur en sterk verhoogpersoonlikheid het sy die bewondering van dirigent-reuse soos Beecham, Furtwängler en Klemperer afgedwing. Haar veelsydigheid en musikale intelligensie het haar in staat gestel om in rolle so uiteenlopend soos Tatjana in Jewgeni Onegin, Elisavetta in Don Carlos, Desdemona in Otello, Elisabeth in Tannhäuser, Sieglinde in Die Walküre, Reiza in Oberon en die titelrol in Jenufa uit te blink. Haar bekendste rol was stellig Leonore in Fidelio, waarin sy as Lotte Lehmann se opvolger beskou is. Sy het dit tydens haar afskeidsoptrede by die Nederlandse Opera in 1971 gesing. Opnames: Beethoven se negende simfonie (onder Cluytens,  Furtwängler en Klemperer); Otello (onder Kubelik); Tannhäuser (onder Cluytens en Karajan); en Die Walküre (onder Keilberth en Knappertsbusch).

Brown, Iona (1941-2004), Engelse violis en dirigent. Sy het in ‘n musikale huis grootgeword, met twee broers en ‘n suster wat ook professionele musici sou word. Vanaf 1963 was sy vir drie jaar ‘n violis in die Londense Filharmoniese Orkes, en in die jaar daarop het sy in die Academy of St Martin-in-the-Fields begin speel. Sy het in 1974 ‘n direkteur van die ASMF geword. As violis was sy begaafd in die Klassieke en Romantiese repertoriums, wat sy met elegansie en warmte vertolk het. Haar landgenoot David Blake het sy vioolkonsert vir haar geskryf. Weens gewrigsrumatiek het sy later in haar loopbaan begin dirigeer, sodat sy die filharmoniese orkeste van Londen, Kopenhagen en Tokio in konserte sou lei. In 1981 is sy op aanbeveling van die groot tjellis Mstislaf Rostropowitsj as artistieke direkteur van die Noorse Kamerorkes aangestel. Sy sou hulle in uitstekende opnames van strykerwerke deur ‘n hele aantal komponiste dirigeer. Daarby was sy gasdirigent van die Stad Birmingham Simfonie-orkes (1985-9), en vanaf 1987 was sy artistieke direkteur van die Los Angeles Kamerorkes. Sy is in haar geboortedorp Salisbury aan kanker oorlede. Sleutelopnames: Bartók se Divertimento vir Strykers; Grieg se volledige strykerwerke; Janácek se Idyll en Suite vir Strykers; en Vivaldi se La Cetra (ASMF). Verdere opnames: (as solis) Handel se vioolsonate in E majeur; Mozart se simfonie nr. 35 en 39, Serenades nrs. 7 en 9, volledige vioolkonserte, Konsert vir klavier en viool (met Howard Shelley) en Sinfonia concertante (met beide Josef Suk en Nabuko Imai); Walton se vioolkonsert; (as dirigent) Richard Strauss se Metamorphosen; en Tsjaikofski se Souvenir de Florence.

Browning, John (1933-2003), Amerikaanse pianis. Hy was ‘n leerling van die gevierde egpaar Josef en Rosina Lhévinne, en het as tienjarige sy debuut gemaak. In 1955 het hy die Leventritt-prys gewen, en in die jaar daarop het hy ‘n silwermedalje by die Koningin Elisabeth-kompetisie in Brussels gewen en is sy debuut met die New York Filharmoniese Orkes gemaak. Hy het daarna as solis met van die wêreld se voorste orkeste opgetree. In 1962 het hy die eerste uitvoering van Barber se klavierkonsert, wat vir hom geskryf is, in Boston gegee. Voorts het hy in die laat 1960’s die eerste pianis geword om Prokofiëf se volledige klavierkonserte op te neem, in indrukwekkende vertolkings onder Erich Leinsdorf. Verdere opnames: Barber se klavierkonsert (onder beide Szell en Slatkin) en klaviersonate; Tsjaikofski se eerste klavierkonsert; en as begeleier vir Thomas Hampson en Cheryl Studer in liedere van Barber.

Brownlee, John (1901-69), Australiese bariton. Hy het in 1926 in Parys gedebuteer en later in dieselfde jaar as Marcello in La Bohème by Covent Garden gesing, tydens die legendariese sopraan Nellie Melba se afskeidsoptrede. Daarna was hy verbonde aan die Parys Opera (1927-36) en die Metropolitan Opera (1937-56). Intussen het hy vanaf 1935 vir vier agtereenvolgende seisoene by die Glyndebourne-fees opgetree, waar hy as Don Alfonso in Così fan tutte en in die titelrol van Don Giovanni uitgeblink het. Hy het daar ook in klassieke opnames van beide operas onder Fritz Busch gesing. In sy later jare was hy aan die Manhattan Musiekskool in New York verbonde, as dosent (vanaf 1953), direkteur (vanaf 1956) en president (1966-69).

BRT Filharmoniese Orkes, Vlaamse orkes wat in Brussels gebaseer is. Die ontstaan daarvan kan na die 1930’s teruggevoer word met die totstandkoming van die Belgiese Radio Simfonie-orkes, waarvan Franz André die eerste musiekdirekteur was. Oor die volgende aantal dekades het hulle bekendheid verwerf vir hul uitvoerings van moderne musiek. Die orkes het die eerste Europese uitvoering van Bartók se Konsert vir Orkes in Parys gegee, asook die eerste uitvoering van Sjostakowitsj se vierde simfonie in Wes-Europa. Oor die jare heen het hulle met beroemde dirigente soos Pierre Boulez, Lorin Maazel en Zubin Mehta saamgewerk. In 1978 het die huidige orkes uit die Frans-Vlaamse voorganger daarvan tot stand gekom, met Fernand Terby as hoofdirigent. In 1988 is hy deur Alexander Rahbari opgevolg.

Brüggen, Frans (1934-), Nederlandse blok- en dwarsfluitspeler en dirigent. Hy is stellig die voorste blokfluitspeler van die tweede helfte van die twintigste eeu, met bekende musici soos Anner Bylsma, Gustav Leonhardt en Bob van Asperen as sy begeleiers. As dirigent is hy ‘n pionier in die uitvoering van Barok- en Klassieke musiek volgens eietydse praktyke, met ensembles soos die Orchestra of the Age of Enlightenment en die Orchestra of the Eighteenth Century. Hy het laasgenoemde in ‘n hoogstaande siklus opnames van Beethoven se volledige simfonieë gedirigeer. Daarby is hy ‘n hoogleraar in beide fluittipes aan die Koninklike Konserwatorium in Den Haag, en het hy die avant garde ensemble Sourcream gestig. Verskeie werke, waaronder Berio se Gesti (1966), is vir hom geskryf. Verdere opnames (as fluitspeler): Telemann se 12 Fantasias, en sy Sonates vir blokfluit en continuo; vele werke van J.S. Bach, Boismortier, Corelli, F. Couperin, Fasch, Handel, Quantz, Rameau, Sammartini, A. Scarlatti, Van Eyck en Vivaldi; (en as dirigent) Bach se Sint Johannespassie; Haydn se simfonieë nrs. 40 tot 59 en 82 tot 104, Sinfonia concertante en oratorium Die Schöpfung; Mendelssohn se simfonieë nrs. 3 tot 5; Mozart se Kroningsmis en ander gewyde werke; Rameau se orkessuites Les Boréades, Dardanus en Les Indes galantes, asook die orkesmusiek van sy opera Castor et Pollux.

Brunelle, Philip (1943-), Amerikaanse dirigent. As musiekdirekteur van die Minnesota Opera vir byna drie dekades (1968-85) het hy in 1969 die Plymouth Musiekreekse in dié stad gestig. Met hul koor en orkes het hy die eerste volledige opname van Britten se opera Paul Bunyan gemaak, asook hoogstaande opnames van Copland se The Tender Land en Smyth se Mis in D. Daarbenewens het hy as gasdirigent wyd deur die VSA en Europa opgetree, onder andere in 1989/90 by die Aldeburgh- fees.

Bruscantini, Sesto (1919-2003), Italiaanse bariton. Hy het in 1946 sy debuut in Civitanova gemaak en daarna gedebuteer by La Scala (1949), en by die feeste in Glyndebourne (1951) en Salzburg (1952). So vroeg in sy loopbaan as 1950 het hy met sy kragtige sang as Koning Archibaldo indruk gemaak in ‘n radio-opname van Montemezzi se opera L’amore dei tre re in Milaan (onder Arturo Basile). Tot 1956 en weer vanaf 1960 sou hy gereeld by Glyndebourne in operas van Mozart en Rossini optree, onder andere in klassieke opnames van Le nozze di Figaro en La Cenerentola onder Vittorio Gui. Sy Amerikaanse debuut is in 1960 in Chicago gemaak, en in 1976 het hy die titelrol in Falstaff by die Skotse Opera gesing. Sy enorme repertorium het oor meer as honderd rolle gestrek. Hy was wêreldbekend in die titelrolle van Don Pasquale, Le nozze di Figaro en Simon Boccanegra, en as Don Romualdo in Emelia di Liverpool, Don Alfonso in Così fan tutte, Marcello in La Bohème, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Dandini in La Cenerentola en Germont in La Traviata. As regisseur het hy in 1981 Verdi se Un giorno di regno by die Wexford-fees opgevoer. Verdere opnames: die genoemde operas van Donizetti, Mozart, Puccini, Rossini en Verdi, asook Orlando furioso.

Bruson, Renato (1936-), Italiaanse bariton. Hy het sy operadebuut in 1961 in Spoleto gemaak, met nog debute wat gevolg het by die Metropolitan Opera (1969), La Scala en die Edinburgh-fees (beide in 1972), en Covent Garden (1976). Met sy intense sang is hy een van die voorste baritons van sy tyd in Italiaanse opera, veral dié van Verdi. Onder sy beste rolle tel Enrico in Lucia di Lammermoor, Alfio in Cavelleria rusticana, Lescaut in Manon Lescaut, Gusmano in Alzira, Renato in Un ballo in maschera, Don Carlo in Ernani, Carlo in La forza del destino, Miller in Luisa Miller, Germont in La Traviata, en die titelrolle in Don Pasquale, Don Giovanni, Falstaff, Macbeth, Nabucco en Rigoletto. Opnames: die genoemde operas van Donizetti, Mascagni, Mozart, Puccini en Verdi, asook L'isola disabitata, Samson et Dalila.

Brydon, Roderick (1939-2010), Skotse dirigent. Hy het ná universiteitstudies in Edinburgh musiek studeer in Wenen en Siena, in laasgenoemde geval onder die legendariese Sergiu Celibidache. Vanaf 1963 tot 1969 was hy ‘n dirigent by die Sadler’s Wells Opera, waar hy met ‘n opvoering van Attila gedebuteer het. In 1965 het hy mededirigent van die Skotse Nasionale Orkes geword, wat hy vir die res van sy lewe sou dirigeer, en is sy debuut by die Skotse Opera gemaak met Madama Butterfly. Hy het in 1975 die Skotse Kamerorkes gestig, met wie hy gereelde toere deur Skotland, insluitend die hooglande en eilande, sou onderneem. Tot 1984 was hy hul artistieke direkteur, en vervolgens was hy musiekdirekteur van die Lucerne Opera (1984-87) en die Berne Opera (1988-90) in Switserland. As gasdirigent het hy in dié tyd wyd deur Europa opgetree. Sy Australiese debuut is in 1991 by die Victoria Staatsopera gemaak, nogeens met Madama Butterfly. Vyf jaar later het hy ‘n opvoering van Lucia di Lammermoor in Sydney gedirigeer. Hy het ‘n besondere verhouding met Britten se musiek gehad en vele opvoerings van sy operas gedirigeer. Daarby was hy ‘n kampvegter vir Skotse komponiste, sodat hy in 1982 die wêreldpremière van Hamilton se derde simfonie by die BBC Proms gegee het.

Brymer, Jack (1915-2003), Engelse klarinettis. Hy was aanvanklik ‘n onderwyser totdat hy na ‘n musiekloopbaan oorgeslaan het. Daarna was hy tot in sy sewentigs eerste klarinettis in ‘n aantal Britse orkeste, naamlik die Koninklike Filharmoniese Orkes waarvan hy ‘n stigterslid was (1947-63), die BBC Simfonie-orkes (1963-71) en die Londense Simfonie-orkes (1971-87). Hy was ook ‘n bekende solis en ‘n gewilde radio-omroeper. Vanaf 1950 was hy vir nege jaar ‘n hoogleraar aan die Koninklike Musiekakademie, en in 1960 is die OBE aan hom toegeken. Hy het in 1968 die ‘London Wind Soloists’ in voortreflike opnames van J.C. Bach se 6 Simfonieë en Haydn se 8 Divertimenti (almal vir houtblasersekstet) gelei. Verdere opnames: Brahms se klarinetkwintet (met die Allegri Kwartet); Krommer en Mozart se klarinetkonserte; Mozart se Kegelstatt klarinettrio (met Kovacevich en Ireland), en sy klarinetkwintet (twee weergawes, met die Medici Kwartet en die Allegri Kwartet).

Bryn-Julson, Phyllis (1945-), Amerikaanse sopraan van Noorse afkoms. Sy is aanvanklik as pianis opgelei, en het in 1966 haar sangdebuut in Boston gemaak in Berg se Lulu-Symphonie. Daarna het sy met haar volmaakte toonhoogte en stemreeks van drie oktawe bekendheid in moderne musiek verwerf, met ‘n Londense debuut wat in 1975 in Boulez se Pli selon pli plaasgevind het. In die jaar daarop het sy in die Amerikaanse première van Sessions se opera Montezuma in Boston opgetree, en vanaf 1987 het sy meesterklasse by die Moskou Konserwatorium gegee. Opnames: Birwistle se opera Punch and Judy; die genoemde werk van Boulez; Britten se Our hunting fathers; Griffes se Three Poems of Fiona Mcleod, Schoenberg se Erwartung; Strawinski se Pastorale; Sibelius se Luonnotar; en orkesliedere van Strawinski en Wuorinen.

Buchbinder, Rudolf (1946-), Oostenrykse pianis. Hy het in 1962 as tiener sy Londense debuut gemaak en was vier jaar later ‘n pryswenner in die Van Cliburn-kompetisie. In 1971 het sy debuut by die Salzburg-fees plaasgevind. Hy tree gereeld in kamermusiek op en is ‘n hoogleraar aan die Basel Musiekakademie. Sy opname van Schumann se klavierkonsert onder Wolfgang Sawallisch is in 2004 vir ‘n Gramophone-toekenning benoem.

Bumbry, Grace (1937-), Afro-Amerikaanse mezzosopraan en later sopraan. Vanaf 1957 het sy vir vier jaar onder die legendariese leermeester Lotte Lehmann in Kalifornië studeer, waarna hul tot laasgenoemde se afsterwe in 1976 bevriend sou bly. Sy het in 1960 haar debuut by die Parys Opera gemaak. In die jaar daarop het sy die eerste swart sanger geword om by die Bayreuth-fees op te tree, as Venus in Tannhäuser. Verdere debute het gevolg by Covent Garden (1963), die Salzburg-fees (1964) en die Metropolitan Opera (1965). Met haar sensuele sang en voorkoms het sy in 1967 geskitter in die titelrol van Carmen, in ‘n rolprentopname onder Herbert von Karajan. Sy het in die vroeë 1970’s meer sopraanrolle begin sing, veral die titelrol in Salome wat sy met haar debute in Toronto (1975) en Houston (1986) sou vertolk. Met die opening van die Bastille Opera in Parys in 1990 het sy die rol van Cassandra in Berlioz se Les Troyens gesing. Onder haar verdere rolle het getel beide Amneris en die titelrol in Aida, Dame Macbeth in Macbeth en Baba die Turk in The Rake’s Progress. Opnames: Verdi se Requiem (onder Giulini); en die genoemde operas van Strawinski, Verdi en Wagner, asook Le Cid.

Burchuladze, Paata (1950-), Georgiaanse bas. Hy het in 1975 sy operadebuut in Tblisi gemaak en in 1981-82 ‘n aantal sangkompetisies gewen. Daarna het debute gevolg by Covent Garden (1984), die Salzburg-fees (1987) en die Metropolitan Opera (1989). Hy is ewe begaafd in Russiese en Italiaanse opera, in rolle soos Khan Konsjak in Prins Igor, Dosifei in Khowansjina, Commendatore in Don Giovanni, Timur in Turandot, Basilio in Il barbiere di Siviglia, Gremin in Jewgeni Onegin, beide Ramfis en die Koning in Aida, Padre Guardiano in La forza del destino en die Hoëpriester in Nabucco. Hy het Commendatore gesing in Herbert von Karajan se opvoering van Don Giovanni by die Salzburg-fees in 1987, met ‘n DVD wat daarvan getuig. Verdere opnames: Mozart se Requiem; en die genoemde operas van Borodin, Moessorgski, Puccini, Rossini, Tsjaikofski en Verdi.

Burgess, Sally (1953-), Suid-Afrikaans-gebore Britse mezzosopraan. Sy het in 1976 haar debuut as sopraan in Londen gemaak, in Brahms se Ein deutsches Requiem. Daarna het sy bekendheid by die Engelse Nasionale Opera en elders verwerf in die titelrol van Carmen. In 1978 het sy in die Britse première van Martinu se Julietta opgetree. In 1983 het sy na mezzosopraan oorgeslaan, en in dieselfde jaar het sy by Covent Garden en die Glyndebourne-fees gedebuteer. Sy het in 1985 die rol van Nefertiti in Glass se opera Akhnaten by die ENO gesing. Verder is sy begaafd in rolle soos Octavian in Der Rosenkavalier, Florence Pike in Albert Herring, die Blommeverkoopster in Hugh the Drover, Amneris in Aida en Azucena in Il Trovatore. Daarby is sy ‘n begaafde konsertsangeres, ook in kabaret en jazz. Sleutelopnames: Delius se Songs of Sunset (onder Hickox); Lambert se Summer’s Last Will and Testament (onder David Lloyd-Jones). Verdere opnames: Mendelssohn se tweede simfonie (onder Chailly); Ravel se 5 Mélodies populaires grecques; en die operas Albert Herring, Hugh the Drover en Orpheus in the Underworld (in Engels).

Burrowes, Norma (1944-), Ierse sopraan. In 1970 het haar professionele debuut met die Glyndebourne Toergeselskap as Zerlina in Don Giovanni plaasgevind, gevolg deur debute by die fees self en Covent Garden (ook in 1970), by die feeste in Salzburg en Wexford (beide in 1971), en by die Metropolitan Opera (1979). Met haar soet stemtoon was sy begaafd in vroeë opera en dié van Vaughan Williams, asook in gewyde werke. Onder haar beste rolle tel die titelrol in Semele, Zelmira in Armida, Vanity Fair in The Pilgrim's Progress en Nora in Riders to the Sea. Sy het in 1982, toe sy maar in haar laat dertigs was, uitgetree. Opnames: Fauré se Requiem; Finzi se In terra pax en Magnificat; Handel se Acis and Galatea (as Galatea) en The Ways of Zion do mourn; Monteverdi se Vespro della Beata Vergine; Poulenc se Gloria; die genoemde operas van Handel, Haydn en Vaughan Williams, asook The Fairy Queen.

Burrows, Stuart (1933-), Walliese tenoor. Hy was ‘n onderwyser totdat hy in 1959 die tenoorkompetisie by die Koninklike Eisteddfod gewen het. Vier jaar later het sy operadebuut met die Walliese Nasionale Opera plaasgevind, met verdere debute wat sou volg by Covent Garden en in San Francisco (beide in 1967), Wenen en die Salzburg-fees (beide in 1970), en die Metropolitan Opera (1971). Hy is merendeels bekend in die operas van Donizetti en Mozart, in rolle soos Percy in Anna Bolena, Leicester in Maria Stuarda, die titelrol in La clemenza di Tito, Don Ottavio in Don Giovanni en Tamino in Die Zauberflöte. Verder is hy begaafd as Lenski in Jewgeni Onegin en in konsertmusiek. Opnames: Berlioz se La damnation de Faust; Hoddinott se Sinfonia fidei; Mahler se Das klagende Lied; en die genoemde operas, asook The Midsummer Marriage.

Busch, Adolf (1891-1952), Duits-gebore violis en komponis, broer van Fritz Busch. Hy het as tienjarige met studies in viool, dirigeerkuns en komposisie aan die Keulen Konserwatorium begin. Sy Berlynse debuut is in 1910 met Reger se vioolkonsert gemaak, met die komponis as dirigent. Twee jaar later het sy Londense debuut gevolg, en vanaf dieselfde jaar (1912) was hy orkesleier van die Weense Konsertvereniging en Kwartet. Vanaf 1918 het hy vir vier jaar meesterklasse in viool aan die Berlynse Konserwatorium gegee. Hy het in 1919, na afloop van die Eerste Wêreldoorlog, sy kwartet as die Busch Strykkwartet herstig. Vanaf 1921 het hy dikwels met die pianis Rudolf Serkin (sy skoonseun) in kamermusiek opgetree. Hulle sou tien jaar later die eerste opname van Schubert se Fantasie in C maak, wat steeds deur kenners as ongeëwenaard beskou word. Intussen het hy in 1927 na Switserland geëmigreer en hom in Basel gevestig. Hy het dikwels met groot dirigente soos Furtwängler, Toscanini en Walter opgetree. In 1933 het hy Duitsland gerepudieer weens die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in sy geboorteland. Twee jaar later is die Busch Kamerspelers deur hom gestig, en in 1938 was hy ‘n medestigter van die Luzern-fees in Switserland. Hy het in 1939 na die VSA geëmigreer, waar hy ‘n nuwe kamerensemble gestig het.

Busch, Fritz (1890-1951), Duits-gebore dirigent, broer van Adolf Busch. Ná studies in Keulen was hy 'n dirigent by operahuise in Riga (vanaf 1909), Aachen  (vanaf 1912) en Stuttgart (vanaf 1918). In 1915 het hy die Amerikaanse première van Korngold se Sinfonietta in New York gedirigeer. Vervolgens was hy vanaf 1922 tot 1933 musiekdirekteur van die Dresden Staatsopera, waar hy ‘n medewerker van Richard Strauss was. Hy het by dié operahuis die premières van Strauss se operas Intermezzo (1924) en Die ägyptische Helena (1928) gedirigeer, asook van Busoni se Doktor Faust (1925) en Hindemith se Cardillac (1926). Verder het hy by die feeste in Bayreuth en Salzburg in onderskeidelik 1924 en 1929 gedebuteer. Hy het Duitsland in 1933 verlaat uit protes teen die Nasionaal-Sosialistiese beleidsrigtings en hom in Denemarke gevestig, maar het voortgegaan om orkeste in Buenos Aires, New York en elders te dirigeer. In 1936 het hy in Buenos Aires die eerste volledige opname van Parsifal met van die voorste sangers van sy tyd gedirigeer. Vanaf 1937 was hy vir drie jaar hoofdirigent van die Koninklike Stockholm Filharmoniese Orkes. Hy was wêreldberoemd as die eerste hoofdirigent van die Glyndebourne-fees (1934-9 en weer in 1950/51), waar hy historiese opnames van Le nozze di Figaro (1934), Così fan tutte (1935 en 1950) en Don Giovanni (1936) gedirigeer het. Verder het hy in 1947 ‘n indrukwekkende opname van Lohengrin by die Metropolitan Opera gedirigeer.

Busch Kwartet, Duitse strykkwartet wat in 1919 deur die violis Adolf Busch gestig is. Hul tussenoorlogse opnames van vele Klassieke en Romantiese werke word onder die beste weergawes daarvan gereken. Opnames: strykkwartette van Beethoven (nrs. 1, 9, 11, 12, 14-16), Dvorák, Mozart, Schubert (nrs. 8, 14 en 15) en Schumann.

Busser, Henri (1872-1973), Franse orrelis, dirigent en komponis. Hy het op 21 die gesogte Prix de Rome gewen, en later het hy dirigent geword van die Opéra-Comique (1902) en die Parys Opera (1905). By laasgenoemde sou hy in 1930 ‘n opname van Faust dirigeer wat onder die beste weergawes nog gereken word. Verder was hy vanaf 1931 tot 1949 ‘n hoogleraar in komposisie aan die Parys Konserwatorium. Hy het verskeie werke van Debussy georkestreer, naas sy eie komposisies wat ‘n aantal operas ingesluit het.

Butt, Clara (1872-1936), Engelse alt. Sy het haar debuut in 1892 gemaak, en hoewel sy begaafd was as Orfeo in Gluck se Orfeo ed Euridice, sou sy merendeels op konserte konsentreer. In 1899 het sy in die eerste uitvoering van Elgar se Sea Pictures by die Norwich-fees gesing, onder die komponis se dirigeerstaf. Later in dieselfde jaar het sy dit vir Koningin Victoria by die Balmoral-kasteel gesing. Drie jaar later het sy die première van die vokale weergawe van Elgar se Land of Hope and Glory gegee. Met haar diep, byna manlike stem was sy dwarsdeur die Britse Gemenebes as balladesinger bekend. Sy het in 1916 as die Engel in uittreksels van Elgar se The Dream of Gerontius onder Henry Wood uitgeblink. In 1920 het sy geskiedenis gemaak deur die eerste musikus te word wat tot dame geskep is. Onder die verdere opnames wat deur haar nagelaat is, tel Sullivan se The lost chord.

Butt, Yondani (?-), Kanadese dirigent wat in Macau gebore is. Hy het musiek studeer aan die universiteite van Indiana en Michigan. Daarby het hy ‘n doktoraat in chemie, ‘n vak waaroor hy al ‘n hele aantal navorsingstukke gepubliseer het. As stigter van die Symphonie Canadiana het hy hul op etlike toere deur Noord-Amerika gelei. Daarby is hy sedert 1983 hoofdirigent van die internasionale Victoria-fees, waar hy die geslaagde konsertreeks Concerti Extravaganza tot stand gebring het. Hy tree ook wyd deur Noord-Amerika, Europa en die Verre Ooste as gasdirigent op. Opnames: Glazoenof se simfonie nrs. 3 en 6, asook 2 Serenades, Stenka Razin en Triomfmars; Goldmark se Rustic Wedding Symphony, tweede simfonie, Sakuntala ouverture en Italiaanse ouverture; Lalo se Namouna balletsuites; en Rimski-Korskof se 3 simfonieë.

Bylsma, Anner (1934-), Nederlandse tjellis. Hy het in ‘n musikale gesin grootgeword en aan die Koninklike Konserwatorium in Den Haag studeer. In 1959 het hy die konserwatorium se Prix d’excellence verwerf en twee jaar later het hy die Pablo Casals-kompetisie gewen. Hy was vir ses jaar eerste tjellis van die Concertgebouw Orkes in Amsterdam, en daarna het hy in ‘n aantal ensembles gespeel. Daaronder tel L’Archibudelli (waarvan hy ‘n stigter was), die Australiese Kamerorkes, die Orpheus Kamerorkes en Tafelmusik. As solis op beide Barok- en moderne tjello’s tree hy wyd deur Europa, Rusland, Japan, die Amerika’s en Australasië op, met van die voorste orkeste. Verder gee hy meesterklasse in beide tipes instrument in Parys, Berlyn en New York. Daarby is hy sedert 1982 verbonde aan die Harvard Universiteit, en in sy geboorteland aan sy alma mater en die Sweelinck Konserwatorium in Amsterdam. ‘n Ere-doktorsgraad is in 1995 deur die Nieu-Engeland Konserwatorium aan hom toegeken. Hy het ‘n boek geskryf oor Bach se eerste 3 tjellosuites. Sy opnames van Brahms se tjellosonates is in 1995 vir ‘n Grammy-toekenning benoem. Sleutelopnames: Boccherini se tjellokonserte nrs. 4, 6, 7, en 8 (onder Jaap Schröder, 1965). Verdere opnames: C.P.E. Bach se 3 tjellokonserte; J.C. Bach se Sinfonia concertante (met die Leonhardt Consort); J.S. Bach se volledige onbegeleide tjellosuites (2 weergawes), asook ‘n DVD-opname van nrs. 1 en 5; tjellokonserte van Vivaldi (met Tafelmusik), asook sy tjellosonates nrs. 1-6.

 

Encyclopedia: Western Music