If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Romanties

Die Romantiese era in Westerse musiek het vanaf ongeveer 1800 tot 1920 gestrek. Kenmerkend van hierdie uiters produktiewe tydperk is die onderwerping van vorm aan inhoud, asook 'n klemverskuiwing vanaf 'objektiwiteit' na 'subjektiwiteit'. Die musiekvorme van die kunslied (veral te danke aan Schubert en Schumann), die programmatiese simfonie (Berlioz), die poëtiese klavierstuk (Chopin), die simfoniese toondig (Liszt) en die musiekdrama (Wagner) is Romantiese skeppings en ontwikkelings. Vervolgens word die groot aantal Romantiese komponiste in chronologiese volgorde beskou, volgens land ingedeel, met die laat-Romantici daarop volgend.

Duitsland en Oostenryk

Johann Nepomuk Hummel (1778-1837) was 'n student van Mozart, Clementi en Salieri. Sy bekendste werke is die klavierkonserte, waarvan hy sewe gekomponeer het. Daarbenewens het nege operas, kamermusiek en koormusiek uit sy pen gevloei.

'n Leerling van Albrechtsberger, Konradin Kreutzer (1780-1849), het dertig operas geskryf, waaronder Das Nachtlager von Granada wye gewildheid verwerf het. Ook is 'n oratorium, drie klavierkonserte, kamermusiek en liedere deur hom gekomponeer.

Anton Diabelli (1781-1858) was die skepper van 'n walstema waarop nie minder nie as 51 ander komponiste, waaronder Beethoven (sy 33 Diabelli-variasies), Czerny, Hummel, Schubert en Liszt, variasies geskryf het.

Ludwig Spohr (1784-1859) was op sy dag ewe bekend as violis, dirigent en komponis. Hy was een van die eerstes om 'n dirigeerstaf te gebruik en word as die vader van die dirigeerkuns beskou. Onder sy groot verskeidenheid werke tel nege simfonieë, 15 vioolkonserte, 10 operas (waaronder Jessonda die vernaamste is), 'n nonet, 36 kwartette, asook ander kamermusiek, koormusiek, klavierstukke en werke vir die harp.

Die grondlegger van Duitse romantiese opera, Carl Maria von Weber (1786-1826), was ook 'n vermaarde pianis en een van die eerste groot dirigente. Deur sy opera Der Freischütz het Weber feitlik eiehandig daarin geslaag om Duitse opera van Italiaanse oorheersing los te maak en daardeur ook die weg vir Wagner help voorberei. Sy gewildste werke is egter Die Uitnodiging tot die Dans wat deur Berlioz georkestreer is, gevolg deur die ouvertures tot Der Freischütz, Euryanthe en Oberon. Daarbenewens het hy twee simfonieë, twee klavierkonserte, 'n Konzertstück vir klavier en orkes, twee klarinetkonserte, vier klaviersonates, kamermusiek en liedere gekomponeer.

Die fluitspeler Friedrich Kuhlau (1786-1832) word hoofsaaklik om sy fluitmusiek onthou, maar hy het ook operas, ander instrumentele musiek en talle liedere geskryf. Die pianis Karl Czerny (1791-1857), 'n leerling van Beethoven en 'n onderwyser van Liszt, het uitgeblink in die verwerking van andere se komposisies vir klavier. Sy klavieroefeninge word steeds gebruik.

Giacomo Meyerbeer (1791-1864), wat as Jakob Liebmann Beer gebore is, het deur sy Franse operas soos Robert le Diable, Les Huguenots en Le Prophéte 'n sterk invloed op Wagner se vroeë werke, veral Rienzi, uitgeoefen. 'n Student van Albrechtsberger en Salieri, Ignaz Moscheles (1794-1870), was 'n klaviervirtuoos wat dwarsdeur Europa getoer het. Voorts was hy die komponis van onder meer agt klavierkonserte en 'n onderwyser van Mendelssohn, met wie hy later by die Leipzigse Konservatorium saamgewerk het.

Die vernaamste vroeg-Romantikus, en een van die heel grootste Westerse komponiste, was Franz Peter Schubert (1797-1828). Alhoewel hy op die jeugdige ouderdom van 31 jaar oorlede is, het Schubert die byna ongelooflike getal van bykans 'n duisend werke gekomponeer; om presies te wees, 998 volgens Otto Deutsch se katalogus. Hy is veral beroemd vir sy meer as 600 liedere, waaronder grootse liedere-siklusse soos Die schöne Müllerin en Die Winterreise. Onder die indiwiduele liedere het veral Gretchen am Spinnrade en Erlkonig baie gewild geraak.

In Schubert se laat werke word daar 'n diepe geestelikheid aangetref wat geensins vir dié van Beethoven hoef terug te staan nie. 'n Mens dink hier veral aan die laaste twee simfonieë (nommers 8, die 'Onvoltooide', en 9, die 'Grote'), die misse, die laaste drie strykkwartette, die strykerkwintet, die twee klaviertrios, en die oktet vir windblasers en strykers. Schubert se bekendste kamermusiekwerk is die vrolike Forelle-kwintet. Verdere bekende werke van dié kort genie (hy was maar ongeveer een-en-'n halwe meter hoog in sy sokkies) is onder meer die Vyfde Simfonie, die Rosamunde-musiek, die Militêre Mars, die Arpeggione-sonate, die klaviersonate nr. 21 (sy laaste), asook die Impromptus, die Wanderer Fantasia en Moments Musicaux vir soloklavier.

Enkele maande voor sy afsterwe was Schubert 'n fakkeldraer tydens die begrafnis van die musiekreus Beethoven wat hy so intens bewonder het. Hy was so salig onbewus van die enorme posisie wat hy in die Westerse musiekwêreld sou beklee dat hy kort voor sy dood dit oorweeg het om 'n opknappingskursus in kontrapunt te doen sodat hy 'n beter komponis kon word. Later in die negentiende eeu is Schubert langs Beethoven in Wenen herbegrawe – ‘n groter eer sou hy bepaald nie kon bedink nie. Soos sy groot Weense voorgangers Haydn, Mozart en Beethoven was Schubert 'n immerborrelende fontein van skeppingskrag en 'n musiekreus in eie reg.

Johann Strauss senior (1804-49) word hoofsaaklik vir die opgewekte Radetzky-mars onthou. Op sy dag was hy 'n beroemde komponis van walse, wat sedertdien egter in die skadu van sy veel beroemder seun staan.

Die klassieke tradisie in Westerse musiek is deur drie van die grootste Romantiese komponiste, Mendelssohn, Schumann en Brahms, voortgesit. Een van die mees innemende figure in Westerse musiek is Felix Mendelssohn-Bartholdy (1809-47), kleinseun van die bekende filosoof Moses Mendelssohn. Sy familie was Joods, en met hul bekering tot die Protestantisme is Bartholdy tot hul van gevoeg. Hy was ‘n wonderkind wat as pianis sy openbare debuut op 9 gemaak het. Drie jaar later is hy na Weimar geneem om die beroemde digter Goethe te ontmoet. ‘n Warm vriendskap het tussen die twee kultuurreuse ontstaan, ‘n ouderdomsverskil van 60 jaar ten spyt. Reeds as tiener het hy voortreflike werke gekomponeer, en in 1829 het hy as ewe begaafde dirigent die Bach-herlewing ingelui met die eerste opvoering van die Sint Mattheuspassie sedert die Barokreus se afsterwe. In dieselfde jaar het hy die eerste van vele besoeke aan Brittanje gebring, waar hy vanuit die staanspoor besonder gewild was. Vanaf 1835 tot 1946 het hy in Leipzig gewerk, waar hy ‘n nuwe konserwatorium gestig en met Schumann saamgewerk het. Sy laaste besoek aan Brittanje is in 1847 gebring vir uitvoerings van sy oratorium Elijah. Hy is enkele maande later oorlede, te wyte aan ooreising en die skielike dood van sy lieflingsuster Fanny.

Mendelssohn se musiek word deur verfyndheid en elegansie gekenmerk, maar aan lewenskrag ontbreek dit veral in sy vyf simfonieë en ander orkeswerke geensins. Sy bekendste orkeswerke is die hoogs gewilde vioolkonsert, gevolg deur die derde (die ‘Skotse’) en vierde (die ‘Italiaanse’) simfonieë, die Hebrides Ouverture, en die Ouverture en Troumars uit A Midsummer Night's Dream. Daarbenewens het hy verskeie ander ouvertures en twee klavierkonserte geskryf. Onder sy kamermusiek tel die Oktet vir Strykers wat op sestienjarige ouderdom gekomponeer is, strykkwartette, klaviertrio's en tjellosonates.

Dit ly geen twyfel dat Mendelssohn een van die veelsydigste komponiste nóg was nie. Hy was 'n uitmuntende pianis, altviolis, orrelis en dirigent, ‘n goeie skilder, en ‘n briljante skrywer. Die bekende Lieder ohne Worte vir soloklavier asook ses orrelsonates is deur hom gekomponeer. Sy bekendste koorwerk is die indrukwekkende oratorium Elijah, wat teen die einde van sy lewe verskyn het. Dat sy aanvaarding van die Protestantse geloof nie ‘n blote skyn was nie, blyk uit die feit dat twee van sy simfonieë die Lutherse gesang Ein feste Burg ist unser Gott inspan: nr. 2 (die ‘Lofgesang’, met 4 soliste en ‘n koor in die slotdeel) en nr. 5 (die ‘Hervorming’). Hy het ook verskeie operas en ander verhoogmusiek geskryf, benewens liedere wat uit sy pen gevloei het. As dirigent het hy nuwe standaarde in orkesuitvoerings daargestel.

‘n Belangrike invloed op Mendelssohn was sy suster Fanny Mendelssohn (1805-47). Sy was self ‘n pianis van format, en het twee boeke van Lieder ohne Worte vir klavier en ‘n klavierkwartet geskryf. Daarby het sy liedere en ‘n oratorium gekomponeer.

Carl Nicolai (1810-49) het in 1842 die Weense Filharmoniese konserte gestig terwyl hy die eerste dirigent van die Weense hofopera was. Sy bekendste werk, die gewilde komiese opera Die Vrolike Vroue van Windsor, is kort voor sy dood gepubliseer. 

Mendelssohn se vriend en medewerker Robert Schumann (1810-56) het in die komposisie van liedere en klavierwerke uitgeblink, benewens verskeie orkeswerke en heelwat kamermusiek wat uit sy pen gevloei het. Sy bekendste orkeswerke is 'n pragtige klavierkonsert, die Manfred-ouverture, 'n tjellokonsert en vier simfonieë. Onder sy musiek vir soloklavier tel die gewilde Fantasia, Kinderscenen, Arabeske, Carnaval, Fantasiestücke, Kreisleriana, Humoreske, Papillons en études symphoniques. Sy bekendste liedere-siklusse is Dichterliebe en Frauenliebe und Leben.

Schumann het voorts 'n joernaal vir die bevordering van Romantiese musiek uitgegee, waarin komponiste soos Chopin en Brahms bekendgestel en aangemoedig is. Tesame met Mendelssohn moet Schumann die eer ontvang vir die popularisering van J.S. Bach se musiek op 'n stadium toe dit nie hoog geag is nie.

Clara Schumann (1819-96), vrou van Robert en moeder van hul sewe kinders, was een van die voorste pianiste van die negentiende eeu en 'n hoogaangeskrewe leermeester. As komponis het sy onder meer 'n klavierkonsert, ander klavierwerke en liedere geskryf. Ná haar man se afsterwe was sy en die veel jonger Johannes Brahms vir vier dekades lank hegte vriende en medewerkers. Friedrich von Flotow (1812-83) het verskeie operas geskryf, waarvan Martha die bekendste is.

Wie was die grootste opera-komponis van alle tye? Sommiges sou Mozart of Wagner antwoord, andere weer Verdi of Puccini. Maar Richard Wagner (1813-83) is een opsig onder hierdie reuse uniek: hy het self die librettos vir al sy operas geskryf - 'n prestasie wat hom tesame met die verruklik skone musiek daarvan in die heel boonste geledere van Westerse komponiste plaas. Voorts was hy soos sy medewerker Liszt 'n musiekrewolusionêr wat die radikale kant van Romantiese musiek verteenwoordig het - 'n kant wat later op 'n briljante wyse deur Richard Strauss voortgesit sou word. Hy was die skepper van die musiekdrama, waarin musiek, poësie en drama tot 'n organiese geheel verwerk is. In sy operas het hy die konsep van die leitmotiv ontwikkel, oftewel leidende motiewe wat voortdurend deur die orkes aangedui word.

Wagner se gepubliseerde operas is Die Feen, Das Liebesverbot (na Shakespeare se Measure for Measure), Rienzi, Der fliegende Holländer, Tannhäuser en Lohengrin, volgens talle musiekliefhebbers die grootste Romantiese opera. Hulle is opgevolg deur die musiekdramas Tristan und Isolde, Die Meistersinger von Nürnberg, en die vier operas wat gesamentlik as die Der Ring des Nibelungen bekendstaan en sedert 1876 so opgevoer word: Das Rheingold, Die Walküre, Siegfried en Götterdämmerung. Daarin word die konflik (soos in Germaanse mites beskryf) tussen gode, reuse, mense en dwerge op 'n geniale en onvergeetlike wyse in sang, orkesmusiek en drama voorgestel.

In die jaar voor Wagner se dood het sy laaste musiekdrama, Parsifal, verskyn. Daarbenewens het hy die orkeswerke Siegfried Idyll en Eine Faust Ouverture, die oratorium Das Liebesmal der Apostel, en die pragtige liedere-siklus, die Wesendonk Lieder, gekomponeer. Sy enorme hoeveelheid prosawerke oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe is ná sy afsterwe in nie minder nie as tien boekdele uitgegee.

'n Indertyds bekende operadirigent, Franz von Suppé (1819-95), het meer as dertig operettes gekomponeer. Hy word hoofsaaklik onthou vir die gewilde ouvertures tot verskeie daarvan, waaronder Skone Galathea, Ligte Ruitery, Oggend, middag en aand in Wenen, Verergde dame en Digter en Kleinboer.

Die grootste Romantiese simfoniste ná Beethoven was Brahms, Bruckner, Tsjaikofski en Mahler. Onder hulle is Anton Bruckner (1824-96) vandag merendeels vir sy simfonieë bekend. Alhoewel hy ook koorwerke gekomponeer het, waaronder drie toonsettings van die Mis en 'n indrukwekkende toonsetting van die Latynse lofgesang Te Deum, naas orrelwerke, is dit sy tien magtige simfonieë wat roem vir dié eenvoudige, vroom meester-orrelis verwerf het. Hulle is nommers 0 tot 9 genommer, en is in omvang en emosionele intensiteit sedertdien slegs deur Mahler en plek-plek deur Sjostakowitsj geëwenaar. Bruckner se bekendste simfonie is nommer Vier, die 'Romantiese', gevolg deur nommers Sewe, Agt en Nege.

Die Weense walskoning Johann Strauss junior (1825-99) het waarskynlik die gewildste walse van alle tye gekomponeer. Watter musiekliefhebber ken nie die lieflike melodieë van walse soos Die Blou Donau, Sprokies uit die Weense Woude, die Keiserwals (wat al drie tewens as Weense simfoniese toondigte beskou kan word), Rose uit die suide, Weense Bloed en 'n Kunstenaarslewe nie? Byna ewe bekend is die polkas genaamd Pizzicato, Tritsch-Tratsch en Onder Donder en Weerlig. Strauss was ook 'n uitmuntende komponis van operettes, waarvan die bekendste Die Fledermaus ('Die vlermuis') is, gevolg deur Der Zigeunerbaron ('Die sigeunerbaron') en Eine Nacht in Venedig ('n Nag in Venesië'). Geen wonder dus dat hy deur sulke groot musici soos Brahms, Richard Strauss (geen verwantskap nie) en Ravel bewonder is nie.

In die tweede helfte van die negentiende eeu was die vernaamste komponis van 'absolute musiek', of musiek ter wille van sigself, Johannes Brahms (1833-97). Soos sy groot voorgangers Mozart, Beethoven en Schubert het Brahms in 'n verskeidenheid musiekvorme werke van hoogstaande gehalte daargestel. Sy vier simfonieë word in dieselfde asem as Beethoven se nege genoem, sodat sommige musiekliefhebbers kollektief daarna as die Dertien Simfonieë verwys. Sy twee klavierkonserte, die vioolkonsert, die dubbelkonsert vir viool en tjello, sy koorwerke, kamermusiek, solo-klaviermusiek en liedere word onder die bestes in dié vorme gereken. Hy was die laaste groot Romantiese komponis in die klassieke tradisie, alhoewel die Weense simfoniese tradisie ook deur sy tydgenoot Bruckner en ietwat later nog deur Mahler voortgesit is.

Onder Brahms se koormusiek tel die bekendste Protestantse koorwerk van die Romantiese era, Ein Deutsches Requiem. Dit is op die Lutherse Bybel eerder as die Katolieke mis gebaseer. Ook bekend is die Alt-Rapsodie, en dan is daar twee minder bekende orkesliedere, die Noodlotslied en die Triomflied. Laasgenoemde is ter viering van die Duitse oorwinning in die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1 gekomponeer. Verdere orkeswerke sluit die gewilde Tragiese Ouverture en Akademiese Feesouverture, twee Serenades en die Variasies op 'n Tema van Haydn in. Die orkesweergawes van sy 21 Hongaarse Danse, wat aanvanklik vir klavier geskryf is, het ook baie gewild geraak.

Een van Brahms se bekendste kamermusiekwerke is die gevoelvolle Klarinetkwintet, een van sy laaste werke. Nog 'n laat werk en byna ewe gewild, is die Klarinettrio. Ander bekendes sluit twee strykersekstette, 'n klavierkwintet, 'n altvioolkwintet, verskeie klavierkwartette, strykkwartette en klaviertrio's, 'n horingtrio, twee klarinetsonates, drie vioolsonates en twee tjellosonates in. Vir solo- klavier het onder meer drie sonates, vier ballades, die Handel-Variasies en talle intermezzi uit sy pen verskyn. Sy elf Koraalpreludes is gewild onder orreliste, maar nog meer gewild onder die publiek is sy meer as tweehonderd liedere, waaronder die Liebeslieder-walse en etlike volksliedere. Soos in die gevalle van Brahms se groot musiekhelde Bach en Beethoven is syne inderdaad 'n indrukwekkende skeppingslys.

Die Weense operetteskrywer Carl Zeller (1842-98) het indertyds roem verwerf met Der Vogelhändler ('Die Voëlhandelaar'), wat steeds een van die gewildste werke in dié genre is. Ook Karl Millöcker (1842-99) het bekend geraak vir sy operettes, soos Der Bettelstudent ('Die Bedelstudent') en Gasparone.

Italië

As hofkomponis vir Keiserin Josefine, Napoleon se vrou, en daarna in Berlyn het Gasparo Spontini (1774-1851) hoofsaaklik operas geskryf. Die bekendstes daaronder was indertyds La Vestale en Fernand Cortez, waarin historiese en politieke temas vir die eerste keer in die Napoleontiese era voorgekom het.

Moontlik die grootste violis van alle tye, Niccolò Paganini (1782-1840), is indertyds vanweë sy uitsonderlike virtuositeit deur bekrompe mense daarvan beskuldig dat hy deur die duiwel geïnspireer is. Hy het nietemin verskeie vioolwerke gekomponeer, waaronder die 24 caprices wat sulke groot komponiste soos Liszt, Schumann, Brahms en Rachmaninof tot verwerkings of variasies daarop geïnspireer het. Daarbenewens is minstens vyf vioolkonserte en kamermusiek vir gitaar (waarin hy ook uitgeblink het) en strykers deur Paganini geskryf.

Gioacchino Rossini (1792-1868) was die grootste Italiaanse opera-komponis voor Verdi. Onder sy 38 operas is die bekendstes Die Barbier van Seville, Wilhelm Tell, Die Italianer in Algiers, Tancredi en Cinderella. Benewens gewilde ouvertures soos Semiramide en La gazza ladra het gewyde werke soos die Stabat Mater, liedere en kamermusiek uit sy pen gevloei. Soos Sibelius 'n eeu later, het hy vriend en vyand verras deur in die laaste drie dekades van sy lewe baie min te komponeer, in beide gevalle nadat 'n staatspensioen aan hulle toegeken is om voltyds te kan skryf. Volgens oorlewering het Rossini slegs drie maal in die openbaar trane gestort - met sy moeder se begrafnis, tydens 'n bootrit toe die opgestopte kalkoen wat vir middagete geoormerk was oorboord geval het, en toe hy die eerste keer vir Paganini hoor viool speel het.

Giuseppe Saverio Mercadante (1795-1870) het bykans sestig operas, waaronder Elisa e Claudio en Il Giuramento indertyds die bekendstes was, geskryf. Nogtans moes hy in sy landgenote Rossini en Donizetti se skadu bly. Daarbenewens het hy 21 misse, 4 begrafnissimfonieë, instrumentele werke en liedere gekomponeer.

Gaetano Donizetti (1797-1848) het naastenby 75 operas gekomponeer, waaronder veral Lucia di Lammermoor hoogs gewild geraak het. Dit word gevolg deur L'elisir d'amore, Don Pasquale, Anna Bolena en Maria Stuarda. Vroeg in sy loopbaan het hy ook ongeveer 18 strykkwartette geskryf, 'n voorbeeld wat later in die negentiende eeu deur sy landgenoot Puccini nagevolg sou word. 'n Leerling van Zingarelli, Vincenzo Bellini (1801-35), het verskeie operas geskryf, waaronder La Sonnambula, Norma en I Puritani die bekendstes is.

Die grootste Italiaanse komponis van die negentiende eeu was Giuseppe Verdi (1813- 1901). Hy word deur talle kenners as die Latynse eweknie van Wagner beskou, en was soos die groot Germaan 'n uitmuntende orkestreerder met 'n voorliefde vir die dramatiese. Verdi het van die gewildste operas ooit gekomponeer, waaronder Nabucco, Ernani, Macbeth, Rigoletto, Il Trovatore, La Traviata, Simon Boccanegra, Un ballo in maschera, La Forza del destino, Don Carlos, Aida, Otello en Falstaff tel. Laasgenoemde twee meesterstukke is op dramas van Shakespeare gebaseer, en is betreklik laat in sy lewe ná 'n sestienjaarlange stilswye gekomponeer. In sy later lewensjare het Verdie heelwat gewyde koorwerke geskryf, sy selfverklaarde agnostisisme ten spyt. Die bekendste een is die Requiem, wat een van die gewildste werke in dié vorm geword het. Ook 'n strykkwartet en verskeie liedere het uit Verdi se bedrywige pen gevloei.

Daarenteen word Amilcare Ponchielli (1834-86) feitlik uitsluitlik vir sy opera La Gioconda, wat die gewilde Dans van die Ure bevat, onthou. Hy was voorts 'n onderwyser van Puccini.

Frankryk

Hector Berlioz (1803-69) was waarskynlik die grootste Franse komponis en ongetwyfeld die grootste een van die Romantiese tydvak. Hy was die pionier van sowel liedere-siklusse met orkesbegeleiding, wat later so uitmuntend deur Mahler voortgesit is, en van programmusiek, dit wil sê musiek wat verhalend van aard is. Deur laasgenoemde vernuwing het Berlioz die weg vir Liszt en Richard Strauss se simfoniese toondigte help voorberei en homself tot die meer radikale kant van Romantiese musiek gevoeg.

Voorts word Berlioz as een van die grootste Romantiese orkestreerders beskou. Sy bekendste werk is die hoogs gewilde Symphonie fantastique. Ander bekende orkeswerke is Harold in Italië en die Romeinse Karnaval-ouverture. Eersgenoemde bevat 'n solo-altviool en is vir Paganini geskryf, maar die groot violis het geweier om dit te speel omdat dit kwansuis nie uitdagend genoeg vir hom was nie. Onder Berlioz se etlike koorwerke is Romeo en Juliet, die Verdoemenis van Faust en die Requiem die bekendstes. 'n Verdere gewilde werk is die liedere-siklus Les Nuits d' Eté (Somernagte).

Adolph Adam (1803-56) het verskeie operas gekomponeer, maar vandag is sy bekendste werk die ballet Giselle. Sy landgenoot Charles Gounod (1818-93) het roem verwerf met sy uiters gewilde opera Faust, wat op Goethe se beroemde drama gebaseer is. Hy het ook drie simfonieë, verskeie ander operas en heelwat koormusiek gekomponeer. Onder laasgenoemde tel die statige dog onderskatte Sint Cecilia-mis.

Jacques Offenbach (1819-80) het nie minder nie as negentig operettes geskryf, waaronder Orfeus in die Onderwêreld, Die Verhale van Hoffmann die bekendste is. Die Fransman Victor Lalo (1823-92) se Spaanse afkoms het in sy gewildste werk, die Symphonie espagnole vir viool en orkes, na vore gekom. Onder sy drie operas is Le Roi d'Ys die bekendste.

Die militêre ingenieur César Cui (1835-1918), seun van 'n Franse vader en 'n Litause moeder, het 'n groot aantal operas gekomponeer, waarvan sommiges op werke van groot skrywers soos Poesjkin, Heine en Hugo gebaseer is. Sy operas het egter meesal onbekend gebly, soos ook die geval is met sy liedere en klavierstukke.

Camille Saint-Saëns (1835-1921) was 'n bekende skrywer, digter en dramaturg, 'n uitmuntende pianis, en het die eer te beurt geval om deur Liszt as die grootste orrelis ter wêreld beskou te word. Hy het 'n groot aantal werke gekomponeer, waarvan die Derde Simfonie (die 'Orrelsimfonie') die gewildste geraak het. Ander bekende werke van dié veelsydige kultuurmens is die Tweede en Vierde Klavierkonserte, die Derde Vioolkonsert, die Eerste Tjellokonsert, die Havanaise vir viool en orkes, die simfoniese toondig Danse macabre, die opera Simson en Delila en 'n 'dierkundige fantasie', die Karnaval van die Diere vir twee pianiste en orkes. Laasgenoemde werk bevat Die Swaan, een van die lieflikste melodieë wat nog getoonset is. Verskeie sonates is ook vir viool, tjello, klarinet, hobo en fagot geskryf.

Clément Delibes (1836-91) het gewilde ballette soos Coppélia en Sylvia geskryf. Daardeur, en deur operas soos Lakmé, het hy dit vermag om 'n musiekreus soos Tsjaikofski se bewondering af te dwing.

Een van die gewildste operas nóg is Georges Bizet (1838-75) se Carmen, wat die invloedryke filosoof Friedrich Nietzsche se gunstelingwerk ná sy breuk met sy eertydse held Wagner geword het. Nog 'n bekende opera van dié begaafde Franse komponis wat betreklik jonk gesterf het, is Die Pêrelvissers, wat een van die pragtigste opera-duette bevat. Voorts het hy 'n gewilde Simfonie in C, die L'Arlésienne-suites, Jeux d'enfants (vir sowel twee klaviere as orkes) en verskeie liedere gekomponeer.

'n Vurige bewonderaar van Wagner, Alexis Chabrier (1841-94), het self 'n aantal operas, liedere en klavierstukke geskryf. Vandag word hy egter merendeels onthou vir die lewendige orkeswerk Espana en die Marche Joyeuse.

Rusland

Die violis Alexei Lwof (1798-1870) was die komponis van die Russiese Tsaristiese volkslied, asook operas en kerkmusiek. Sy landgenoot Mikhail Glinka (1805-57) was die vader van ‘n eiesoortige musiektradisie, waarvan die grondslae veral deur sy twee operas gelê is. Hulle is 'n Lewe vir die Tsaar (ook bekend as Ivan Sussanin, wat eintlik die oorspronklike titel daarvan was) en Russlan en Ludmilla. In laasgenoemde werk het die oosterse elemente wat mettertyd kenmerkend van Russiese musiek sou word, na vore getree. Verdere bekende komposisies van dié musiekpionier is die orkeswerke Karaminskaya, waarin volksang vir instrumente verwerk is, en Jota Aragonesa, wat deur 'n besoek aan Spanje geïnspireer is. As leerling van Field het hy ook klavierwerke geskryf.

As vooraanstaande chemikus het Alexander Borodin (1833-87) tussen sy wetenskaplike navorsing en onderrig as hoogleraar in Sint Petersburg deur beswaarlik tyd vir komposisie gehad. Nietemin het hy as komponis bekendheid verwerf met die tweede van sy drie simfonieë, sy Tweede Strykkwartet, die simfoniese toondig In die Steppe van Midde-Asië, en die opera Prins Igor. Uit laasgenoemde werk, wat ná sy dood deur Rimski-Korsakof en Glazoenof voltooi is, het die ouverture en veral die Polowtsiese Danse hoogs gewild geraak. Minder bekend is sy eerste opera, Bogatyri, en sy liedere. In sy musiek kan sy oosterse afkoms aan moederskant duidelik bespeur word.

Mily Balakiref (1837-1910) was 'n pianis, later 'n leermeester, en uiteindelik direkteur van die hoforkes in Sint Petersburg. Sy musiek is deur sowel Russiese volksmusiek as die Romantiese musiek van veral Liszt beïnvloed. Onder sy werke tel twee simfonieë, die King Lear-ouverture, twee simfoniese toondigte, Islamey ('n 'oosterse fantasie') vir klaviersolo, 'n klaviersonate en liedere. Sy latere landgenoot Skriabin sou sy hand beseer tydens 'n futiele poging om 'n moeiliker klavierstuk as Islamey te skryf.

Die enigmatiese Piotr Tsjaikofski (1840-93) se melodieryke, emosionele musiek het uiters gewild onder tallose musiekliefhebbers geword. Hy was 'n gemartelde siel met 'n diepe skuldgevoel oor sy verskuilde homoseksualiteit, wat ná 'n rampspoedige en kortstondige poging tot 'n huwelik selfmoord probeer pleeg het, en dit veel later skynbaar wel vermag het deur ongekookte water te drink en binne enkele dae aan cholera te sterf. Nietemin het hy 'n groot aantal werke in bykans al die musiekvorme gekomponeer, waaronder elf operas ('n vorm wat selfs die gedugte Brahms nie aangedurf het nie), drie ballette, ses simfonieë en verskeie ander orkeswerke, drie klavierkonserte, kamermusiek, solo-klavierwerke, koormusiek en meer as honderd liedere. Onder Tsjaikofski se uiters gewilde werke tel die volgende:

- Simfonieë nommers 4, 5 en 6 (die 'Pathetique');
- die 1812 Ouverture, die Cappricio Italien, die Slawiese Mars, die fantasie-ouverture Romeo en Juliet en die Serenade vir Strykers, almal vir orkes;
- die Eerste Klavierkonsert en die Vioolkonsert;
- die ballette Neutkraker, Swanemeer en Slapende Skoonheid; en
- die operas Jewgeni Onegin, Pique Dame (of Skoppensvrou) en Jolanta.

Voorts is die gewildste Russiese komponis se Derde Simfonie, simfoniese fantasie Francesca da Rimini, Rococo-Variasies vir tjello en orkes, Eerste Strykkwartet en Klaviertrio werke van so 'n hoë gehalte dat hulle waarskynlik vir enige mindere komponis steeds roem sou verwerf het. 'n Interessante aspek van Tsjaikofski se lewe is dat talle van sy beste werke geskryf is gedurende die jare vanaf 1877 tot 1890, terwyl hy van 'n inkomste voorsien is deur 'n adellike bewonderaar, Nadezhda von Meck, vir wie hy nooit ontmoet het nie. As Ortodokse gelowige het hy 'n stemmige toonsetting van die Liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos gedoen.

Ná Tsjaikofski was Modest Moessorgski (1839-81) die grootste Russiese komponis van die negentiende eeu. Hy het bykans sy ganse volwasse lewe as alkoholis geslyt en betreklik jonk aan alkoholiese epilepsie gesterf. Sy benarde leefwyse het hom egter nie verhinder om 'n hele aantal werke wat mettertyd as meesterstukke beskou sou word, te skryf nie. Die gewildste een daaronder is die Skilderye op 'n Tentoonstelling vir klaviersolo, wat heelwat later deur Ravel georkestreer en aldus beroemd sou word. Dit is gebaseer op skilderye wat deur Moessorgski se vriend, Victor Hartmann, gedoen is. Ook gewild is die simfoniese toondig Nag op 'n Kaal Berg, waarin 'n nagtelike heksemis uitgebeeld word. Sy lewenskragtige opera Boris Godoenof word allerweë as die grootste Russiese nasionalistiese opera beskou. Verdere operas wat deur dié tragiese figuur geskryf is, was Sorochintsy Kermis en Khovanschina, wat deur onderskeidelik Tjerepnin en Rimski-Korsakof voltooi is. Uit laasgenoemde werk het die Voorspel en die Dans van die Persiese Slawe ook as vrystaande orkeswerke gewild geraak. Moessorgski was waarskynlik die beste Russiese liedere-skrywer, met ongeveer sestig werke in dié vorm wat uit sy wisselvallige pen gevloei het. Daaronder tel die groot siklusse Die Kinderkamer, Liedere en Danse van die Dood, en Sonloos.

Gedurende sy leeftyd is Moessorgski se onverskrokke harmonieë en ritmes as blyke van onbekwaamheid of onhandigheid beskou. Dit is weliswaar so dat hy geen formele musiekopleiding geniet het nie, maar dieselfde kon ook van Cui en Borodin gesê word. In 'n goedbedoelde poging om Moessorgski se komposisies te 'verbeter' het Rimski-Korsakof dus werke soos die Nag op 'n Kaal Berg en selfs Boris Godoenof aangepas, en daardeur die rewolusionêre inslag daarvan afgewater. Nogtans het dit, soos Ravel se orkestrasie van die Skilderye, aansienlik bygedra om Moessorgski se werk te populariseer.

Bohemië

‘n Eiesoortige musiektradisie in Bohemië, tans deel van die Tsjeggiese Republiek, word na Bedrich Smetana (1824-84) teruggevoer. Verreweg sy gewildste werk is Die Moldau, een van ses simfoniese toondigte wat kollektief as Má vlast ('My land') bekendstaan. Sy bekendste opera, en bes moontlik steeds die bekendste Tsjeggiese werk in dié vorm, is Die Verkoopte Bruid, waaruit die ouverture en danse ook as vrystaande orkeswerke gewild geraak het. Ook bekend is die eerste van sy twee strykkwartette, getiteld Uit my lewe. Dit is outobiografies van aard, en weerspieël onder ander die komponis se doofheid wat hom op vyftigjarige ouderdom skielik getref het. Soos Donizetti en Schumann voor hom het Smetana sy laaste dae in 'n inrigting vir sielsiekes geslyt.

Ierland

Die Ierse klaviervirtuoos John Field (1782-1837) het 'n hele aantal dekades in Rusland gewoon, waar hy 'n onderwyser van onder meer Glinka was. Hy het die nocturne vir soloklavier uitgevind en daardeur 'n sterk invloed op Chopin uitgeoefen. Onder sy ander klavierwerke tel sewe konserte en vier sonates.

Pole

Een van die grootste pianiste nóg, Frédéric Chopin (1810-49), het roem verwerf met sy talle hoogstaande werke vir klaviersolo. Tot vandag is sy klaviermusiek uiters gewild onder sowel musici as musiekliefhebbers. Daaronder tel 'n groot aantal Etudes, Mazoerkas, Nocturnes, Polonaises, preludes, walse, sonates, ballades, impromptu's en scherzo's. Hy het ook twee pragtige klavierkonserte, kamermusiek en liedere gekomponeer. Een van die grootste violiste van sy tyd, Henryk Wieniawski (1835-80), het soos verwag kon word twee vioolkonserte en ander werke vir dié instrument gekomponeer.

Hongarye

Die Hongaars-gebore Franz Liszt (1811-86) was een van die grootste pianiste en musiekrewolusionêres in Westerse musiek. As pianis was hy dwarsoor Europa in aanvraag, en sy virtuositeit is deur talle kenners as onoortreflik beskou. Hy het gewilde klavierwerke soos die twintig Hongaarse Rapsodieë, die Mefisto-wals, 'n sonate en Liebesträume gekomponeer. Deur sy orkeswerke, waaronder die Faust en Dante Simfonieë, twee klavierkonserte en veral die twaalf simfoniese toondigte, het hy die programmusiek waarvan die grondslag deur Berlioz gelê is verder ontwikkel.

Onder Liszt se simfoniese toondigte is Les Préludes die gewildste, gevolg deur Tasso en Mazeppa. Een van sy beste werke is die Hongaarse Fantasie vir klavier en orkes. Die orkesweergawes van sy Hongaarse Rapsodieë het byna net so gewild soos die klavierweergawes geword. Daarbenewens het hy meer as vyftig liedere gekomponeer.

As dirigent het Liszt 'n groot rol gespeel om sy mede-musiekrewolusionêr Wagner se musiek te bevorder terwyl die opera-reus in ballingskap in Switserland verkeer het. Hy het onder meer in 1850 die première van Lohengrin te Weimar opgevoer. Gedurende die 1860's het Liszt in Rome gewoon, waar hy as abbé of wêreldlike priester verordineer is en sy oratoriums, waaronder die Hongaarse Kroningsmis, geskryf het. In sy later jare het hy 'n invloedryke leermeester geword, met sulke bekende leerlinge soos die pianiste Busoni en Siloti en die dirigent Weingartner onder hulle.

België

Die Belgiese vioolvirtuoos Henri Vieuxtemps (1820-81) het 'n aantal vioolwerke, waaronder etlike konserte, geskryf. Sy laaste jare is verlam deurgebring vanweë 'n beroerte. Een van die grootste orreliste van sy tyd, César Franck (1822-90), het werke in 'n verskeidenheid vorme geskryf, waarvan een of twee uit elk gewild geraak het. Hulle is 'n simfonie, die Simfoniese variasies vir klavier en orkes, drie orrelkorale en 'n vioolsonate. Daarbenewens het oratoriums, ander koorwerke, operas, simfoniese toondigte, en heelwat ander kamermusiek, orrel- en klavierwerke uit sy pen gevloei.

Denemarke

Die orrelis en violis Niels Gade (1817-1890) het in Duitsland met Mendelssohn bevriend geraak. Sy eerste simfonie is deur die groot komponis en dirigent gedirigeer, en op sy beurt het hy die eerste Deense uitvoering van Bach se Sint Mattheüspassie uitgevoer. Hy het Engeland in 1876 besoek om sy kantate The Crusader te dirigeer. Sy komposisies vertoon die invloed van Mendelssohn en Schumann, en sluit 8 simfonieë in.

Noorweë

Soos sy veel bekender landgenoot Grieg het Johan Svendsen (1840-1911) aanvanklik in Leipzig gaan studeer en daarna sy musiekopleiding nader tuis uitgeleef. Hy het onder meer twee simfonieë, konserte vir viool en tjello, en kamermusiek geskryf. Sy bekendheid berus vandag egter merendeels op orkeswerke soos Karnaval in Parys.

Alhoewel Edvard Grieg (1843-1907) se liriese vaardighede ten beste in kleinskaalse werke soos sy liedere en werke vir klaviersolo tot uiting gekom het, is sy gewildste werke die immergroen Klavierkonsert en twee orkeswerke, die Peer Gint-suites en die Holberg-suite vir strykers. Terwyl eersgenoemde op 'n drama van Grieg se landgenoot Ibsen gebaseer is, met baie bekende gedeeltes soos die melodieuse Oggend en die dramatiese In die Saal van die Bergkoning daarin, is die strykersuite as huldeblyk aan die agtiende eeuse pionier van Deense letterkunde gekomponeer. Met sy vernuwings in harmonie en klanktint word Grieg as 'n voorloper van impressionisme in musiek beskou.

Hierdie grootste Noorse komponis het voorts 'n betreklik onbekende simfonie geskryf, en meer bekende orkeswerke soos die Twee Elegiese Melodieë vir strykers, die vier Noorweegse Danse, en die Liriese Suite. 'n Ouverture, In Herfs, en enkele koorwerke het ook uit sy pen gevloei. Onder sy kamermusiek tel drie vioolsonates, ‘n tjellosonate en ‘n strykkwartet; en onder sy klavierstukke ‘n sonate, die Liriese Stukke in tien boekdele, en Ballades. Uit Grieg se talle liedere kan die Haugtussa-siklus as verteenwoordigend van sy skeppende vermoëns uitgesonder word.

Engeland

Gedurende die negentiende eeu het Brittanje so min bekende komponiste opgelewer dat die Duitsers na hul tradisionele opposisie oorkant die Engelse Kanaal as Die Land ohne Musik - die land sonder musiek - verwys het. Een van die min uitsonderings op hierdie reël was Arthur Sullivan (1842-1900). Alhoewel hy werke in verskeie musiekvorme gekomponeer het, berus sy bekendheid feitlik uitsluitlik op die talle operettes wat in samewerking met sy librettoskrywer Gilbert tot stand gebring is. Daaronder tel sulke gewildes soos Die Gondeliers, HMS Pinafore, Iolanthe, Die Mikado en Die Seerowers van Penzance.