If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Rococo

Die oorgang vanaf Barokmusiek na Klassieke musiek staan bekend as Rococo-musiek, wat nogeens na die heersende boustyl vernoem is. Die Rococo-era het naastenby vanaf 1730 tot 1770 geduur, sodat dit met die laat Barok en vroeë Klassieke eras oorvleuel het. Nog meer as in die geval van Barokmusiek is die Rococo-era deur Duitse komponiste oorheers, met enkele Italiaanse en Engelse bydreas. Sommige werke van F. Couperin en Rameau (sien die vorige afdeling) kan ook as in die Rococo-styl beskou word.

Verskeie van J.S. Bach se seuns het 'n toonaangewende rol in Rococo-musiek gespeel. Die oudste seun, Wilhelm Friedemann (1710-84), was 'n uitmuntende kerkorrelis in Dresden en Halle. Hy het nogtans nie aan sy ouers se verwagtinge voldoen nie - in sy laaste 20 lewensjare het hy geen vaste pos beklee nie en by tye orreluitvoerings in Duitse stede gegee. Armoede het hom genoop om van sy vader se manuskripte te verkoop, sommige daarvan onder sy eie naam. Sy komposisies behels kantates, sinfonias, triosonates, en werke vir solo-orrel en -klawesimbel.

Die sonatevorm wat die grondslag vir die meeste Klassieke musiek gelê het, het veel te danke aan die pionierswerk wat die derde oudste seun, Carl Philipp Emanuel (1714-88), op hierdie gebied gedoen het. Hy was vir 'n lang tyd (1738-67) klawesimbelspeler vir die Pruisiese Koning Frederik die Grote, en het Telemann in 1767 as direkteur van kerkmusiek in Hamburg opgevolg. Onder sy komposisies tel meer as 200 klawerbordsonates, twee oratoriums, 50 klawerbordkonserte, tjellokonserte, fluitkonserte, hobokonserte, sinfonias, vioolsonates en talle liedere. Hy het voorts ‘n gevierde verhandeling oor klawerbordspel geskryf.

Die oudste seun uit J.S. Bach se tweede huwelik, Johann Christoph Friedrich (1732-95), was kamermusikus en later konsertmeester van die hof te Bückeburg. Hy het ook in verskeie vorme gekomponeer, naamlik 14 sinfonias, 8 klawerbordkonserte, klawerbordsonates, triosonates, kantates, oratoriums en liedere. Sy werke het egter minder bekend as dié van sy broers gebly.

Die jongste seun, Johann Christian (1735-82), het die laaste twintig jaar van sy lewe in Londen deurgebring en staan dus as die Engelse Bach bekend. Hy het klavierspel by sy halfbroer Carl Philipp in Berlyn geleer en is in 1754 na Italië om kontrapunt onder Martini te bestudeer. Nadat hy Rooms-Katoliek geword het, was hy vanaf 1760 orrelis van die Milaan Katedraal. In die vroeë 1760’s is van sy operas in Turyn en Napels opgevoer, maar dit is as onbehoorlik ligsinnig beskou. Daarop het hy in 1762 in Londen gaan woon, waar hy opera-komponis vir die koninklike teater sou wees. Vanaf 1763 was hy ook musiekmeester vir Koningin Charlotte, en in die jaar daarop het hy in Londen saam met die 8-jarige Mozart in ‘n konsert gespeel. Hy het baanbrekerswerk vir die klavier as uitvoeringsmedium gedoen, waardeur hy 'n aansienlike invloed op Mozart se vroeë klavierkonserte sou uitoefen. Weens uitstaande skuld is hy in ‘n massagraf in die Britse hoofstad begrawe, maar Koningin Charlotte het sy weduwee te hulp gekom sodat sy na Italië kon terugkeer. Benewens byna 40 klavierkonserte en meer as 90 sinfonias, het dié vlytige komponis 11 operas, 'n oratorium, kamermusiek, werke vir solo-klavier en liedere geskryf. Ook Haydn en Beethoven is daardeur beïnvloed.

Die vermaarde fluitspeler Johann Joachim Quantz (1697-1773) was aanvanklik in diens van die Poolse koning in Dresden en Warskou. Vanaf 1728 was hy ‘n onderwyser vir Kroonprins Frederik van Pruise, en nadat laasgenoemde Koning Frederik II geword het, is Quantz in 1741 as kamermusikus en hofkomponis aangestel. Hy het die tegnieke van fluitspel verbeter en ‘n omvattende verhandeling daaroor geskryf. Nie minder nie as 300 fluitkonserte en 200 fluitsonates is deur hom gekomponeer, naas 60 triosonates, 22 gesange, en ‘n aantal liedere.

Die Pruisiese koning Frederik die Grote (1712-86) was naas sy indrukwekkende staatsmanskap 'n voortreflike musikus en beskermheer. Hy het fluitlesse van Quantz ontvang, wat vir meer as 30 jaar in Frederik se diens was. ‘n Hoforkes is in 1740 in Berlyn deur hom gestig en twee jaar later ‘n operahuis. Vanaf 1740 het hy C.P.E. Bach as klawesimbelspeler in diens geneem, en in 1747 het J.S. Bach die koninklike hof te Potsdam besoek. Die gevolg daarvan was Bach se Musikale Offer, gebaseer op ‘n tema van Koning Frederik. Ongeveer honderd fluitwerke is deur die koning gekomponeer, naas sinfonias, operas en marse.

Nog ‘n musikus wat in diens van Koning Frederik die Grote gestaan het, was die tenoor Karl Graun (1704-59). Hy was aanvanklik as sanger en kapelmeester aan die Bruinswyk Opera verbonde, en vanaf 1740 was hy ‘n dirigent van die Pruisiese koning se nuwe operahuis in Berlyn. Altesaam 26 Italiaanse operas is vir Berlyn deur hom geskryf, waaronder Rodelinda en Ezio. Voorts het hy ‘n Passie-kantate genaamd Der Tod Jesu gekomponeer, wat jaarliks vanaf 1755 tot diep in die twintigste eeu in Berlyn uitgevoer is.

Nog is het einde niet sover dit Koning Frederik se beskerming van die skone kunste betref. Die altviolis Johann Heinrich Rolle (1718-85) het ook vir ‘n tyd in sy hoforkes gedien. Hy het hoofsaaklik kerkmusiek, waaronder 20 oratoriums, 5 passies, kantates en motette gekomponeer, asook orrelwerke.

Een van die invloedrykste figure in die ontwikkeling van opera as musiekvorm was Christoph Willibald Gluck (1714-87). Hy het musiek en filosofie in Praag studeer, en het daarna wyd deur Europa gereis en begin om operas te skryf. In 1754 is hy deur Keiserin Maria Theresa as kapelmeester van die hofteater in Wenen aangestel, ‘n pos wat hy vir 16 jaar sou beklee. Sy operas Orfeo ed Euridice en Alceste en ballet Don Juan is in dié tyd gekomponeer. Hy het vanaf 1773 tot 1779 in Parys gewoon, waar Koningin Marie Antoinette ‘n groot bewonderaar en ondersteuner van sy operas was. In die Franse hoofstad het die operas Armide, Iphigènie en Tauride en Iphigènie en Aulide verskyn. Deur sy opera-vernuwings het hy 'n aansienlike invloed op die operas van Mozart, Cherubini, Beethoven en Berlioz uitgeoefen.

Die orrelis Johann Krebs (1713-80) het poste in Zwickau, Zeits en Altenburg beklee. Naas orrelwerke het hy kerkmusiek en fluitwerke, soos sonates en trio’s, gekomponeer. Op sy beurt het die klaviervirtuoos Georg Wagenseil (1715-77) in 1739 ‘n hofkomponis in Wenen geword, en was hy mettertyd musiekmeester vir Keiserin Maria Theresa. Hy het 'n groot aantal werke in verskeie musiekvorme geskryf, wat 16 operas, 30 sinfonias, harpkonserte, klawesimbelkonserte en kamermusiek insluit.

'n Belangrike rol in die ontwikkeling van die simfoniese vorm is gespeel deur die Mannheim-skool, vernoem na 'n Duitse dorp met 'n indertyds beroemde hoforkes. Hul styl is gekemerk deur elemente soos melodiese prominensie van die viole, uitgebreide crescendo’s en presiese dinamika. Daardeur is die fondamente vir die simfonieë van Klassieke komponiste soos Haydn en Mozart gelê. Die Boheems-gebore violis Johann Stamitz (1717-57) het in 1743 musiekdirekteur van die Mannheim-orkes geword en word as die stigter van die Mannheim-skool gereken. Onder sy komposisies tel 58 simfonieë, 15 vioolkonserte en vioolsonates. Sy seuns Karl (1745-1801) en Anton (1750-89) was ook violiste. Hulle het in 1770 in Parys gaan woon, waar Anton kort na die begin van die Franse Rewolusie dood is. Karl het vroeër na ‘n verblyf van twee jaar in Londen na Duitsland teruggekeer, waar hy ‘n dirigent in Jena geword het. Hy het ook Rusland besoek. Beide broers het 'n groot aantal simfonieë en kamerwerke gekomponeer. Verl bekend is Karl se klarinetkonserte en tjellokonserte.

'n Verdere komponis wat met hierdie skool verbind word, is die violis en koormeester Franz Richter (1709-89). Hy het die indrukwekkende getal van 69 simfonieë geskryf, asook ses klawesimbelkonserte, 12 triosonates, 28 misse, en ander kamer- en kerkmusiek. Daarbenewens was hy die skrywer van 'n handleiding oor harmonie en het hy 'n leidende rol in die invloedryke Mannheim-orkes gespeel.

Een van Bach se leerlinge in Leipzig, Karl Abel (1723-87), het in 1759 in Londen gaan woon. Hy het daar 'n kamermusikus vir Koningin Charlotte geword en ‘n medewerker van J.C. Bach. Hul konserte is vanaf 1765 tot 1782 aangebied. Onder sy komposisies tel simfonieë, ouvertures en kamermusiek.

Vir sy hele volwasse lewe was Charles Avison (1709-70) ‘n kerkorrelis in sy tuisdorp Newcastle. Hy het 60 konserte vir strykorkes en 3 volumes sonates vir klawesimbel en viool gekomponeer. Voorts het hy 12 klawesimbelsonates van D. Scarlatti as concerti grossi uitgegee. In 1752 het hy ‘n opstel gepubliseer waarin Handel ongunstig met Geminiani en B. Marcello vergelyk is – ‘n mening wat allermins die toets van die tyd sou deurstaan.

Die voorste Britse komponis van die agtiende eeu was Thomas Arne (1710-78), wat veral bekend was vir sy geleentheidsmusiek vir dramas van Shakespeare en andere. Daarby het hy talle operas, 2 oratoriums, 6 kantates, orrelkonserte, simfonieë, sonates en liedere gekomponeer.

Vir 35 jaar was William Boyce (1711-79) ‘n bekende orrelis in Londen, insluitend van die koninklike kapel. Soos Beethoven het hy toenemend onder doofheid gely, sodat hy in sy laaste 10 jaar geen vaste pos kon beklee nie. Hy het nogtans die tyd benut om ‘n versameling Engelse katedraalmusiek te redigeer, wat vir ongeveer 150 jaar gebruik sou word. Naas kerkmusiek het hy 8 simfonieë, kamermusiek en liedere geskryf.

Soos in al die voorafgaande tydperke in Westerse musiek het Italië ook in die Rococo-era bekende komponiste opgelewer. Een van hulle was die vioolvirtuoos Giuseppe Tartini (1692-1770), wat as 18-jarige uit Padua moes vlug omdat sy huwelik afgekeur is. Hy het vir vyf jaar in ‘n klooster gaan skuil, waar hy nuwe strykertegnieke ontwikkel het. Met sy terugkeer na Padua het hy in orkeste gespeel en later ‘n beroemde skool van vioolspel gestig. As komponis het 135 vioolkonserte, 42 vioolsonates, 12 sonates vir viool en tjello, asook simfonieë, kerkmusiek en konserte vir ander instrumente uit sy vlytige pen gevloei. Voorts het hy heelwat oor vioolspel geskryf.

'n Toonaangewende figuur in Milaan was Giovanni Sammartini (1700-75), wat koormeester van 8 kerke was. Meer as 2 000 werke in feitlik al die musiekvorme van sy tyd word aan hom toegeskryf, insluitend operas, simfonieë en kamermusiek. Hy was vanaf 1737 tot 1741 'n onderwyser van Gluck. Deur die ontwikkeling van die sonatevorm in sy talle simfonieë, waarvan hy die grootste Italiaanse komponis van sy tyd was, het hy die instrumentele style van Haydn en Mozart vooruitgeloop.