If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Renaissance

Middeleeuse musiek is opgevolg deur die Renaissance-musiek van die laat vyftiende en sestiende eeue. Dit is vernoem na die enorme oplewing van sekulêre kuns en letterkunde wat op die einde van die Middeleeue gevolg het. Ná 'n duisendjarige oorheersing deur die Rooms-Katolieke kerk, waarna deur Protestantse skrywers as die ‘Donker Eeue’ verwys word, het Wes-Europa as 't ware 'n kulturele hergeboorte ondergaan en tot die Grieks-Romeinse wortels van die Westerse kultuur teruggekeer. Aan die negatiewe kant het die Renaissance ook die skeiding tussen kerk en samelewing ingelui, wat in later eeue tot die bykans volslae sekularisasie van die Westerse wêreld sou lei. Uit die sestiende eeu dateer die beskouing van Sint Cecilia, wat in ongeveer 176 as martelaar onder die Romeine gesterf het, as die beskermheilige van musiek. Haar feesdag is op 22 November.

Die vernaamste musiekvorme van die Renaissance was misse (gewyde sang vir kerkgebruik, dikwels met orrelbegeleiding), motette (polifoniese toonsettings van gewyde tekste), madrigale (sekulêre gedigte in sang), en liedere. Laasgenoemde het in Frankryk as chansons bekend gestaan en in Duitsland as lieder. Een van die grondleggers van Renaissance-musiek was John Dunstable (ong. 1390-1453), die vernaamste Engelse komponis van die vroeë vyftiende eeu. Sy bekendheid het wyd deur Europa gestrek, soos versamelings van sy werke in Frankryk en Italië getuig. Hy het merendeels gewyde musiek geskryf, waaronder misse en motette wat invloedryke vernuwings bevat het, soos instrumentele begeleiding.

Die landstreek wat vandag noordoos-Frankryk, België en Nederland vorm, het gedurende hierdie tydperk die voortou met kontinentaal-Europese musiek geneem. Een van die vroegste komponiste daar was die Waalse teoretikus Johannes Ciconia (ong. 1335-1411), wat mis-bewegings, motette en liedere geskryf het. Die Vlaamse oorheersing van kontinentale musiek is ingelui deur Guillaume Dufay (ong. 1400-74), die buite-egtelike kind van ‘n priester wat sy moeder se van aangeneem het. Hy het lank in Italië gewoon, waar hy in die pouslike kapel in Rome gesing het. Terug in Vlaandere was hy as priester aan die Cambrai-katedraal verbonde en het hy een van die die vernaamste komponiste van die vyftiende eeu geword. Hy was ewe voortreflik in die komposisie van kerkmusiek en sekulêre liedere, en in beide het hy invloedryke vernuwings ingelui. In sy volwasse werke, waaronder 8 misse en vele motette, het Renaissance-musiek tot wasdom gekom. Hy het die eerste Requiem (dodemis) geskryf, maar dit het helaas verlore geraak. Sy landgenoot Gilles de Binchois (ong. 1400-60) was ook 'n priester en daarby ‘n orrelis en vir ‘n tyd ‘n soldaat. Hy het gewyde musiek soos ‘n Te Deum gekomponeer, maar was merendeels vir sy sekulêre liedere bekend.

Gedurende die laat vyftiende eeu was die Vlaming Johannes Ockeghem (ong. 1410-1495) die bekendste komponis. Sy laaste vier dekades is in diens van drie Franse konings deurgebring. In sy talle misse en motette het hy Dufay se vernuwings voortgesit - hy was een van die eerste komponiste om met kontrapunt te eksperimenteer. Sy Missa pro Defunctis is die vroegste oorblywende dodemis, en sy chansons was die popmusiek van die dag. 'n Leerling van Ockeghem, Antoine Busnois (ong. 1430-92), het roem met sy liedere verwerf, waarvan meer as 60 behoue gebly het. As koormeester in Brugge het hy ook misse en motette gekomponeer. Hy het ‘n aansienlike invloed op sy tydgenote uitgeoefen. Nog 'n Vlaming, Jacob Obrecht (ong. 1450-1505), was ‘n kapelmeester in Utrecht en Brugge. Hy het ongeveer twee dosyn misse en byna dieselfde getal motette geskryf, benewens Nederlandse, Franse en Italiaanse liedere. ‘n Syfersimboliek is in baie van sy werke ontdek, wat aan Kabalistiese invloed toegeskryf word. Hy word as ‘n voorloper van Desprez (soms Des Prés gespel) beskou.

Die kontinentale musiek van die sestiende eeu is nogeens deur die Nederlandse Skool oorheers, hoewel Italië ook uitstaande komponiste in dié tyd opgelewer het. Die bekendste figuur onder die Vlaminge was stellig Josquin Desprez (ong. 1440-1521), ‘n leerling van Ockeghem wat die grootste deel van sy lewe in Italië deurgebring het. Daar was hy ‘n sanger in die Milaan-katedraal en die pouslike kapel, en ‘n koormeester in Ferrara. Weens ‘n plaag wat uitgebreek het, het hy in 1504 na die Lae Lande teruggekeer. In sy 18 misse, byna 100 motette en ongeveer 70 liedere het hy daarin geslaag om tegniese vaardigheid met gevoelvolheid te kombineer. Hy is deur Luther bewonder, en daar kan verklaar word dat hy die grondslae vir die gewyde musiek van die sestiende eeu gelê het.

‘n Tydgenoot van Desprez, Heinrich Isaac (ong. 1450-1517) het meesal in Italië en Oostenryk as orrelis, koormeester en hofkomponis gewerk. Hy het ‘n groot aantal sekulêre Duitse, Franse, Italiaanse en Latynse tekste getoonset. Daarbenewens het hy 36 misse en talle motette geskryf, maar sy vernaamste werk is 'n versameling polifoniese kerkmusiek getiteld Choralis Constantinus. Die tenoor Pierre de la Rue (ong. 1460-1518) was aanvanklik ‘n sanger in die Siena Katedraal in Italië. Hy het in ongeveer 1490 na die Nederlande teruggekeer, waar hy aan die s’ Hertogenbosch Katedraal en die Boergondiese hof verbonde was. In sy laaste twee lewensjare was hy kloosterhoof in Courtrai. Hy het 31 misse geskryf, asook talle motette en sekulêre chansons. Nog ‘n Vlaming, Nicolas Gombert (ong. 1495-1560), het in sy groot aantal werke, waaronder meer as 160 motette, tien misse, agt lofsange, en bykans sestig liedere, kontrapuntale kontinuïteit nagestreef. Daardeur het hy 'n belangrike invloed op Palestrina uitgeoefen.

‘n Verdere rondreisende Vlaming was Adriaan Willaert (ong. 1490-1562), wat vanaf 1515 in Italië gewoon het. Hy het sy laaste 35 jaar as musiekdirekteur van die Sint Markuskatedraal in Venesië deurgebring, waar hy die noordelike styl oorgedra het aan die groot aantal Italiaanse komponiste wat onder hom studeer het. Hoewel hy soos meeste van sy tydgenote misse, motette en liedere geskryf het, is dit sy antifoniese koormusiek, madrigale en polifoniese instrumentele musiek wat die grootste invloed uitgeoefen het. Dit is moontlik gemaak deurdat die katedraal oor 2 orrels en 2 kore beskik, met musikale moontlikhede wat later deur Giovanni Gabrieli en Monteverdi ten volle benut sou word.

Nog is het einde niet sover dit die groot Vlaamse komponiste van die sestiende eeu betref nie. Jacob Clemens (ong. 1510-57) was as ‘Clemens non Papa’ bekend. Dit het die dubbele betekenis gehad dat hy hom van 'n gelyknamige digter wou onderskei en lighartig wou beklemtoon dat hy nie die pous (wat as “Papa” aangespreek word) was nie. Sy aansienlike hoeveelheid misse, motette en liedere word as uitdrukkingsvol beskou. Hy het voorts 4 bundels Psalms gepubliseer wat volgens gewilde Vlaamse melodieë getoonset is.

In Italië was die gevierde luitspeler Francesco da Milano (1497-1543) die eerste bekende komponis van die Renaissance, met hoofsaaklik werke vir die luit, soos Fantasias, wat uit sy pen gevloei het. Van veel groter historiese belang is Giovanni da Palestrina (1525-94), wat gedurende sy leeftyd reeds Princeps Musicae genoem is: meester van musiek. Hy is vernoem na sy geboortedorp naby Rome, en was vanaf 1544 ‘n orrelis en koormeester. In 1555 is hy deur Pous Paulus IV uit sy pos ontslaan omdat hy getroud was, waarna hy Lassus as koormeester van die Sint Johanneskerk in Rome opgevolg het. Verdere poste het gevolg, en met die afsterwe van sy vrou en 2 seuns weens ‘n epidemie in die 1570’s het hy besluit om ‘n priester te word. Hy het egter spoedig van plan verander en met ‘n ryk weduwee getrou, wat hom in staat gestel het om 16 versamelings van sy musiek te publiseer.

Vir meer as twee eeue na sy leeftyd is Palestrina deur talle as die grootste meester van kontrapunt en skepper van die suiwerste gewyde polifonie beskou. Hierdie verering het hy verdien deur sy honderde gewyde werke, waaronder meer as 90 misse en byna 300 motette. Sy bekendste werk is stellig die Missa Papae Marcelli, geskryf tydens die Konsilie van Trent waarmee die Rooms-Katolieke Teenhervorming geloods is. Onder sy verdere kerkmusiek tel 35 toonsettings van die Magnificat (die lofsang van die Maagd Maria soos in Lukas 1 aangeteken is), asook 6 Cantiones sacrae. Talle madrigale, sowel gewyd as sekulêr, het voorts uit sy vlytige pen gevloei.

Palestrina se bekendste tydgenoot was die Vlaming Roland de Lassus (1532-94), ook bekend as Orlando di Lasso. Tydens sy jeug het hy deur Sicilië en Italië gereis, en in 1553/4 was hy koormeester van die Sint Johanneskerk in Rome. Daarop het hy na Vlaandere teruggekeer, en in 1556 is hy na München. Hy sou sy laaste 38 jaar in diens van die Hertog van Beiere deurbring, vanaf 1563 as kapelmeester. Sy styl is ewe internasionaal as Palestrina s'n: Franse, Duitse en Italiaanse invloede kan daarin onderskei word. Onder De Lassus se byna 2 000 werke in al die vorme van daardie tyd, insluitend honderde Italiaanse madrigale, Franse chansons en Duitse lieder, word sy meer as vyfhonderd motette deur kenners as die belangrikste beskou. Hy word tesame met Palestrina en Victoria onder die opperste meesters van sestiende-eeuse polifonie gereken.

Die musiekuitgewer Claudio Merulo (1533-1604) was orrelis van die Sint Markuskatedraal in Venesië. Hy het naas madrigale en misse 'n opera, La Tragedia, in madrigaalstyl geskryf. Sy roem berus grotendeels op sy Toccatas vir orrel, wat as die bestes van die sestiende eeu beskou word.

Gedurende die sestiende eeu het sekulêre Franse liedere, chansons, besonder gewild geraak. Die vernaamste komponiste daarvan was Claudin de Sermisy (ong. 1490-1562), Clément Janequin (ong. 1485-1558) en Claude le Jeune (ong. 1528-1600). Ook in Italië is liedere getoonset deur komponiste soos Bartolomeo Tromboncino (sterf ong. 1535) en Marchetto Cara (sterf ong. 1530). Janequin kan beskou word as 'n vroeë voorloper van programmusiek (wat in die negentiende eeu so gewild onder komponiste sou word), want in sommige van sy meer as 250 chansons het hy byvoorbeeld voëlsang probeer naboots. Daarbenewens het hy as hofkomponis in Parys heelwat kerkmusiek geskryf.

'n Verdere genre wat indertyds baie gewild geraak het, was madrigale. Een van die vroegste komponiste van Italiaanse madrigale was die Vlaming Philippe Verdelot (sterf ong. 1540), wat die grootste deel van sy lewe in Italië deurgebring het. Nog Vlaminge wat bekend geraak het vir hul Italiaanse madrigale was Cipriano de Rore (1516-65), wat ook lank in Italië gewoon het, en Jacob Arcadelt (ong. 1504-1568). Laasgenoemde was ‘n sanger en sangmeester in Italië en later in Parys. Benewens meer as 200 sekulêre madrigale het hy 126 chansons, talle motette en misse geskryf.

Onder Italianers self wat madrigale gekomponeer het, was Costanzo Festa (ong. 1490-1545), Andrea Gabrieli (ong. 1515-86), Luca Marenzio (1553-99) en Carlo Gesualdo (ong. 1560-1613) die bekendstes. Festa het as koormeester van die Vatikaan ook kerkmusiek geskryf, waaronder ‘n Te Deum wat steeds met elke verkiesing van ‘n nuwe pous gespeel word. In sy talle madrigale het die luitspeler Gesualdo 'n hoë mate van gevoelsuitdrukking en harmoniese kompleksiteit bereik, waardeur hy eeue later die bewondering van Strawinski sou afdwing. Ook kerkmusiek het uit sy pen gevloei. Waarskynlik uniek onder komponiste is die feit dat Gesualdo sy eerste vrou en haar minnaar weens egbreuk laat vermoor het. Dat hy daarmee weggekom het, was heel waarskynlik te danke aan die feit dat hy slegs 'n jaar ná die moord sy vader as Prins van Venosa opgevolg het. Hy het nietemin 'n beduidende invloed uitgeoefen op die orrelis Luzzasco Luzzaschi (1545-1607), wat talle madrigale en enkele orrelwerke geskryf het.

Andrea Gabrieli het Lassus op ‘n besoek aan Duitsland ontmoet, wat die begin van ‘n lewenslange vriendskap was. Hy was vir sy laaste 20 jaar orrelis van die Sint Markuskatedraal in Venesië, waartydens sy noord-Europese tydgenote Hassler en Sweelinck onder hom studeer het, asook sy kleinneef Giovanni Gabrieli (1554-1612). Naas die komposisie van ‘n groot hoeveelheid orrelwerke, motette en sekulêre madrigale, is 7 misse deur Gabrieli senior getoonset. Hy is as orrelis van Sint Markus deur Giovanni opgevolg, wat een van die grootste Venesiese komponiste van motette met instrumentele begeleiding sou word. Die jonger Gabrieli het ook orrel- en instrumentele werke gekomponeer waarin hy toenemend van die Renaissance-konvensies weggebreek het. Van sy belangrikste vernuwings was die komposisie van werke met kontrasterende kore en koperblasers. Hy het ook konserte en sekulêre madrigale geskryf. Onder sy leerlinge het die Duitsers Praetorius en Schütz getel.

Aan die hof van die Medici’s in Florence het Emilio de Cavalieri (1550-1602) ‘n aantal vroeë musiekdramas geskryf. Hy was een van die eerste komponiste om ‘n basso continuo te gebruik – dit verwys na die praktyk waarin ‘n orrelis of klawesimbelspeler die laagste stemparty navolg. Voorts het hy ‘n sedespel genaamd La rappresentazione di anima e di corpo (‘Die voorstelling van siel en liggaam’) gekomponeer, wat as ‘n voorloper van die oratorium beskou word.

Gedurende die tweede helfte van die sestiende eeu het Italië dus die voortou in Westerse musiek begin neem. Belangrike bydraes sou ook uit Engeland, Duitsland, Frankryk en Spanje voortkom. In Spanje was Cristóbal de Morales (ong. 1500-53) die eerste bekende komponis van polifoniese kerkmusiek, met ‘n meesterskap daarin wat byna in dieselfde asem as dié van Palestrina en Victoria genoem word. Hy was kapelmeester van ‘n aantal Spaanse katedrale, en vanaf 1535 was hy vir tien jaar ‘n lid van die pouslike koor in Rome. Tydens sy Italiaanse verblyf is meeste van sy kerkmusiek geskryf.

Morales se werk is voortgesit deur Tomás Luis de Victoria (ong. 1548-1611), wat in 1565 na Rome is vir ‘n verblyf van 30 jaar. Daar is hy tot priester gewy en het hy as orrelis en koormeester moontlik onder Palestrina studeer. Met sy terugkeer na Spanje het hy orrelis en koormeester van ‘n klooster in Madrid geword. In die Spaanse hoofstad was hy vanaf 1580 ook kapelaan vir Keiserin Maria, suster van die magtige Koning Filips II. Met haar afsterwe in 1603 het hy ‘n statige Requiem tot haar eer gekomponeer. Hy het uitsluitlik kerkmusiek geskryf, insluitend toonsettings van al die gesange van die Rooms-Katolieke kerkjaar. As een van die sestiende eeu se grootste komponiste van gewyde musiek was hy ‘n meester van kontrapunt, gekenmerk deur Spaanse lewenskrag en kleur.

Ten spyte van die alomteenwoordigheid van die Inkwisisie het ook sekulêre musiek in sestiende-eeuse Spanje floreer. Die vroegste bekende komponis daarvan was ironies genoeg 'n priester, Juan del Encina (Enzina) (1468-1529). Hy het by tye in Rome gewerk, en het ‘n aantal pastorale dramas en talle liedere vir 3 of 4 stemme geskryf. Op sy beurt het Luis de Milán (ong. 1500-61) die eerste versameling begeleide liedere van die Renaissance geskryf, asook Fantasias en Pavanes vir die vihuela (‘n voorloper van die kitaar). Hy het ook ‘n handleiding vir die instrument geskryf. Sy tydgenoot Luis de Narváez (ong. 1500-55) het ook vele werke vir die vihuela geskryf. Hy word gekrediteer vir die bekendtelling van die variasie-vorm in Spanje. 'n Interessante figuur was die blindgebore Antonio de Cabezón (1510-66), op sy dag hoforrelis vir sulke belangrike staatsmanne soos Keisers Karel V en Filips II. Hy het merendeels werke vir die klawerbord gekomponeer, sowel gewyd as sekulêr, waaronder dié vir die orrel hoog aangeslaan word. Sy musiek word as gevorderd vir sy tyd beskou, soos met sy El caballero-variasies.

Die sestiende eeu was een van die onstuimigste tydperke in die veelbewoë Duitse geskiedenis. In 1517 het die Augustynse monnik Martin Luther (1483-1546) sy gevierde ‘Vyf-en-negentig Stellinge’ aan die deur van die Wittenberg kasteelkerk vasgespyker, en daardeur (aanvanklik onbedoeld) die Protestantse hervorming ingelui. Sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament het geen geringe rol in hierdie omwenteling gespeel nie. Teen die middel van die eeu was die Duitssprekende lande verdeel in 'n hoofsaaklik Protestantse noorde en 'n oorwegend Katolieke suide, sodat twee verskillende tradisies van gewyde polifonie tot stand gekom het. Luther het musiek beskou as ondergeskik slegs aan teologie, met beide in diens van God. Hy was 'n voorstander van polifoniese kerkmusiek, teenoor radikale hervormers soos Calvyn, Knox en Zwingli wat dit uit hul Gereformeerde kerke verban het. As Katolieke monnik was hy deeglik vertroud met Gregoriaanse sang, en daarby is hy opgelei as sanger en luitspeler. Dit verbaas dus nie dat Luther self 'n komponis van formaat was nie, met onder meer 'n Latynse Mis, 'n Duitse Mis, 'n motet, en die woorde vir talle gesange wat uit sy pen gevloei het. Stellig sy bekendste komposisie is die koorwerk Ein’ feste Burg ist unser Gott, wat steeds in talle Protestantse kerke gesing word. Hy het die gebruik van beide Latynse en Duitse Misse voorgestaan, eersgenoemde vir katedrale en kloosters en laasgenoemde vir gemeentekerke. Mettertyd is die Lutherse eredienste in beide tale gehou: polifoniese musiek is tot die meer seremoniële dele van die liturgie beperk, terwyl gemeentesang vir die res aangemoedig is. Alhoewel Luther se teologie in die Middeleeue begrond was, was hy musikaal gesproke ‘n produk van die Renaissance, met ‘n klem op die menslike en emosionele dimensie van musiek. Interessant genoeg was die Duitse hervormer van mening dat ook wêreldse musiek deur meer opbouende verbintenisse geheilig kan word.

'n Vriend en volgeling van Luther, Johann Walther (1498-1570), het in 1524 die eerste versameling Protestantse gesange die lig laat sien. Daarby het hy instrumentele werke geskryf. Die blinde Arnolt Schlick (voor 1460-ná 1517) was die vernaamste komponis van orrelmusiek van sy tyd in Duitsland. Hy het ook 'n boek oor orrelspel geskryf. Orrels het in die vyftiende eeu hul verskyning in kerke gemaak, maar aanvanklik was hul rol beperk tot begeleiding van koorsang. Die moderne Katolieke en Protestantse gebruik dat orrels eenstemmige gemeentesang begelei, dateer uit die sewentiende eeu. In Frankryk was Jean Titelouze (1563-1633) die vernaamste komponis van Renaissance-orrelmusiek.

Die gebruik van instrumente in eredienste is deur die vader van die Gereformeerde teologie, Johannes Calvyn, verbied. Slegs die Psalms is deur die Franse hervormer as geskikte kerksang beskou, terwyl sang in harmonie eweneens verbied is. Nogtans het van Calvyn se volgelinge voortgegaan om polifoniese kerkmusiek te komponeer. Eers is die Psalms deur Theodore de Beza in Frans vertaal, en vervolgens het Louis Bourgeois (ong. 1510-61) hul getoonset. Die produk daarvan was die Geneefse Psalter wat in 1562 voltooi is. Nog ‘n bekende Gereformeerde komponis was Claude Goudimel (ong. 1514-72), wat voor sy bekering tot die Calvinisme talle chansons geskryf het. Daarna het hy as Hugenoot kerkmusiek gekomponeer, waaronder polifoniese bewerkings van die Geneefse Psalter. Ironies genoeg is hierdie musiek dikwels op instrumente gespeel, met of sonder stemme. Veral die kombinasie van luit en sang het gewild geraak.

Twee Vlaminge het 'n belangrike rol in die Katolieke kerkmusiek van die laat sestiende eeu gespeel. Die grootste een was Philippe de Monte (1521-1603), wat in diens van Koning Filips II tydens dié heerser se kortstondige verblyf in Engeland was, gevolg deur poste as kapelmeester vir die Duitse Keisers Maximiliaan II en Rudolf II. Hy was een van die mees produktiewe meesters van polifoniese musiek van sy tydvak, met talle misse, motette, chansons, en sowel gewyde as sekulêre madrigale wat uit sy pen gevloei het. Minder bekend is die orrelis Jacob van Kerle (1532-91), wat naas polifoniese kerkmusiek ook spesiale gebede vir die Konsilie van Trent getoonset het. Ook hy was vir 'n tyd in diens van Rudolf II te Praag.

In Duitsland het die meestersangers die Middeleeuse tradisie van die minnesangers voortgesit, met die verskil dat hulle merendeels uit die middestand afkomstig was teenoor hul aristokratiese voorgangers. Deur hul wydverspreide gildes het die meestersangers bygedra om die grondslae te lê vir die voorrang wat Duitse musiek gedurende die agtiende eeu in die Weste sou inneem. Die bekendste komponis van hierdie musiekvorm was die skoenmaker Hans Sachs (1494-1576) van Nürnberg, wat met ‘n ontsaglike produksie van meer as 4 000 meestersgedigte en byna 2 000 ander gedigte kon spog. Hy sou drie eeue later deur Wagner in sy opera Die Meistersinger von Nürnberg verewig word.

In teenstelling met die monofoniese liedere van die meestersangers was die Lied, of Duitse kunslied, polifonies met 'n sekulêre teks. Die vroegste bekende komponiste daarvan was Heinrich Isaac, na wie vroeër verwys is, en die Oostenrykse orrelis Paul Hofhaimer (1459-1537). Hul werk in dié genre is voortgesit deur die Switser Ludwig Senfl (ong. 1489-1543), 'n leerling van Isaac en kapelmeester van die koninklike howe te Wenen en München. Hy was 'n veelsydige komponis wat naas Lieder ook Lutherse koormusiek enersyds en Latynse gesange, misse, motette en lofsange andersyds geskryf het.

Die vernaamste komponis van Lieder aan die einde van die sestiende eeu was die Duitser Hans Leo Hassler (1562-1612), 'n leerling van Andrea Gabrieli. Hy was vanaf 1586 agtereenvolgens orrelis in Augsburg, Nürnberg en Dresden, en het ook sekulêre koormusiek, misse, motette en orrelwerke geskryf. Een van sy liedere is deur Bach aangepas en in sy grootse Sint Mattheuspassie gebruik. Hassler se orrelis-broers Jakob (1569-1622) en Kaspar (1562-1618) het onderskeidelik Italiaanse madrigale en kerkmusiek gekomponeer. Hulle het daarby gewyde musiek onder die titel Sacrae symphoniae geredigeer.

Die bekendste Engelse komponis van die vroeë sestiende eeu was waarskynlik John Taverner (ong. 1490-1545). As meester van polifoniese musiek het hy 'n aansienlike hoeveelheid kerkmusiek geskryf, waaronder 8 misse, 3 toonsettings van die Magnificat, en motette. Daardeur het hy die grondslae vir die Tudor-kerkmusiek van die sestiende en sewentiende eeue gelê. Hy word voorts beskou as die vernaamste skakel tussen Middeleeuse en Renaissance-musiek in die Britse eilande.

Nog een van die groot Tudor-komponiste was die orrelis Thomas Tallis (ong. 1505-85), wat in diens van nie minder nie as 4 Britse monarge gestaan het, vanaf Henry VIII tot by Elizabeth I. Soos sy kollega William Byrd het hy tot aan die einde van sy lewe Katoliek gebly, die wreedaardige vervolging van hul geloofsgenote deur die Tudor-heersers (behalwe Mary) ten spyt. In 1575 het hulle gesamentlik die alleenreg van Elizabeth verkry om musiek in Engeland uit te gee. Hoewel Tallis ook sekulêre musiek soos klawerbordwerke gekomponeer het, berus sy roem grotendeels op sy Anglikaanse en Latynse kerkmusiek, waaronder talle misse, motette, lofsange en klaagliedere tel. Sy meesterwerk is stellig die motet Spem in alium (‘In geen ander’) vir 40 stemme, geskryf as Engelse mededinging vir ‘n soortgelyke werk deur die Italianer Alessandro Striggio.

Die musiekgeleerde Christopher Tye (ong. 1505-73) was koormeester van die Ely Katedraal vanaf 1543 tot 1561. Hy was moontlik ‘n onderwyser vir die seunkoning Edward VI, en in 1560 is hy tot priester gewy. Merendeels kerkmusiek is deur hom gekomponeer, insluitend The Acts of the Apostles vir 4 stemme en luit, en die Missa Euge bone.

‘n Interessante figuur was die koormeester William Mundy (ong. 1529-91), wat vir bykans dertig jaar in kapeldiens van Koningin Elizabeth gestaan en heelwat kerkmusiek geskryf het. Hoewel die Protestantisme tydens haar bewind op die Britse bevolking afgedwing is ná die kortstondige vervolgings van haar halfsuster en voorganger, Koningin Mary, het Mundy skynbaar tot aan die einde van sy lewe Katoliek gebly. Een van sy koorwerke wat juis tydens Mary se bewindstyd (1553-8) geskryf is, is die meesleurende Vox Patris Caelestis (‘Stem van die Hemelse Vader’) wat merendeels op tekste uit die Hooglied van Salomo gebaseer is. Sy seun John (ong. 1555-1630), wat vir langer as 40 jaar ‘n orrelis te Windsor was, het op sy beurt madrigale en instrumentele werke vir klawerbord en viola gekomponeer.

Daar is kenners wat William Byrd (1543-1623) in dieselfde asem as sulke Renaissance-reuse soos Lassus en Palestrina noem. Sy lewe en werk vertoon vele ooreenkomste met dié van Tallis: beide was vir lang tye hoforrelis vir die Britse monarge, beide het roem met hul kerkmusiek verwerf, beide het dit vermag om enduit Katoliek te bly, en saam het hulle in 1575 die alleenreg verkry om musiek in Engeland te druk en verkoop. Byrd het vanaf 1591 vir die res van sy lang lewe in Essex in die huishouding van sy beskermhere, die Petres, gewoon. Daar het hy musiek vir geheime Roomse misse geskryf – viering van die Mis is met die doodstraf deur Elizabeth I en haar opvolger James I verbied. Nogtans het hy hoë poste in die Anglikaanse kerk beklee en musiek vir beide kerke gekomponeer. Dit sluit drie misse, meer as tweehonderd motette en ander gewyde musiek in, waarin hy himself as die gelyke van sy voorste kontinentale tydgenote bewys het. Daarby het hy uitstekende madrigale en liedere geskryf, en met sy werke vir strykers en die klawerbord het hy die grondslae vir Engelse instrumentele musiek gelê.

Een van die vroegste luitspelers van sy tyd was John Johnson (ong. 1540-95). Hy was vanaf 1579 aan die hof van Koningin Elizabeth verbonde, waar hy werke vir luit-duet geskryf het. ‘n Groot aantal werke vir die cittern, ‘n voorloper van die kitaar, is deur Anthony Holborne (ong. 1545-1602) gekomponeer. Daaronder tel pavans en galliards, wat deesdae op die luit uitgevoer word. ‘n Leerling van Byrd, die orrelis Thomas Morley (ong. 1557-1602), het in 1598 die alleenreg van Elizabeth verkry om liedere uit te gee. Hy het op verskillende gebiede pionierswerk vir Engelse musiek gedoen. In 1594 het hy die eerste versameling Engelse madrigale gepubliseer; hy het ballet in sy land bekendgestel; en hy het die eerste omvattende Engelse verhandeling oor komposisie geskryf. Daarby het hy kerkmusiek en instrumentele werke gekomponeer.

Gedurende die sestiende eeu het instrumentele musiek tot die gelyke van vokale musiek ontwikkel. Die oorsake daarvan was volgens die gesaghebbende A History of European Music die toenemende verstedeliking en gepaardgaande opkoms van 'n middelklas, die uitvinding van die drukkuns, en die opkoms van die virtuoos-musikus. 'n Enorme hoeveelheid dansmusiek is in dié tyd geskryf, hetsy vir instrumentele ensembles of vir solo-instrumente soos die luit of klawesimbel. Instrumentele style van die laat-Renaissance wat in die volgende tydperk (naamlik vroeë Barok) voortgesit is, behels onder meer toccatas, fantasias en variasies vir klawerbord, en Engelse fantasias vir viole.