If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Middeleeus

Geleidelik het die Westerse wêreld tydens die Middeleeue 'n eiesoortige musikale uitdrukking geskep, namate daar al verder van die antieke Christelike geloof en gebruike wegbeweeg is.3 Hierdie musiek het veral in die noord-Europese lande vanaf die dertiende tot vroeë vyftiende eeue voorgekom, maar die geestelike en bowesinlike elemente daarvan sou nog veel later voortleef in die werke van komponiste soos Bach, Buxtehude en Bruckner.

Gedurende hierdie tydperk het polifoniese of veelstemmige musiek kenmerkend van Westerse musiek geword. Dit behels die gelyktydige verklanking van verskillende toonhoogtes, of die saamval van twee of meer melodielyne, of beide. Sodoende word moontlikhede om spanning te skep en dit op te los, daargestel. In musiekterme staan hierdie skepping en oplossing van spanning onderskeidelik as dissonansie en konsonansie bekend. Polifoniese musiek sou mettertyd oorheersend in die Westerse kultuur word, veel meer só as in enige ander kultuur op aarde.

Die uitvinding van notasie, oftewel die neerskryf van musiek in parallelle lyne, word aan die Italiaanse monnik Guido D’Arezzo (ong. 995-1050) toegeskryf. Vir die eerste keer kon koorsangers gesange wat hul nie vooraf gehoor het nie sing, met behulp van bladlees wat die toonhoogtes aandui. Hierdie hoogs betekenisvolle wending het die goedkeuring van Pous Johannes XIX weggedra. Vervolgens kon komponiste hul naam hul naam aan ‘n manuskrip heg en sodoende nadoods met hul musiekskeppings vereenselwig word.

Die vroegste bekende komponis van die Middeleeue was die Duitse mistikus Hildegard von Bingen (1098-1179). Sy het as vyftienjarige meisie 'n non geword en in 1136 hoof van die Benediktynse klooster te Disibodenberg. In ongeveer 1147 het sy 'n verdere klooster te Rupertsberg naby Bingen in die Rynvallei gestig, waar sy die res van haar lang lewe sou deurbring. Haar geloof het in briewe, musiek, gedigte en selfs ‘n mediese verhandeling tot uiting gekom. Hildegard se komposisies van geestelike musiek, wat dikwels deur visioene geïnspireer is, word deur indiwidualiteit en kompleksiteit gekenmerk. Een van haar vroegste komposisies is ‘n sedespel genaamd Ordo Virtutum, wat die stryd van die siel tussen 16 deugde en die duiwel voorstel. Sy het in die 1150’s ‘n versameling van 77 gedigte wat getoonset is onder die titel Symphonia armonie celestium revelationum uitgegee. Voorts het sy 35 antifone, 18 response, 6 sekwensies en 10 gesange gekomponeer. Hierdie merkwaardige vrou se statuur was van so ‘n aard dat sy 'n uitgebreide korrespondensie met verskeie pouse en keisers van die twaalfde eeu gevoer het om hul van raad oor allerlei sake te bedien – hoogs ongewoon vir ‘n vrou in die Middeleeue. Ongetwyfeld verdien sy haar toenemende gewildheid meer as agt eeue ná haar afsterwe ten volle.

Musiekvorme wat gedurende hierdie tydperk ontwikkel het, is die organum (gewyd), die motet (gewyd of sekulêr), en die liriek of populêre liedjie. Eersgenoemde is veral deur die sogenaamde Franse Skool van Notre Dame 4 (verbonde aan die beroemde Gotiese katedraal in Parys) gekomponeer. Die bekendste figure daarvan is Leoninus (sterf 1190) en sy opvolger as koormeester by die katedraal, Perotinus (ong. 1160-1220). Hulle het liturgiese musiek in die styl van die ars antiqua ('ou kuns') geskryf, wat op eenstemmige koraalsang en organum gebaseer was. Met die verloop van tyd is ‘n ekstra musieklyn in organum bygevoeg, sodat die sang in twee stemme verloop het. ‘n Waardevolle versameling van sulke tweestemmige sang is reeds in die elfde eeu in die Winchester katedraal in Engeland saamgestel, bekend as die Winchester Troper.

Die vroegste motette dateer uit die dertiende eeu, en invloedryke komponiste daarvan was Franco de Colonia en Petrus de Cruce. Hierdie is die mees gesofistikeerde musiekvorm van die Middeleeue en bestaan uit twee, drie of selfs vier stemdele. Motette het in beide kerksang en wêreldse seremonies gewild geraak, tot so ‘n mate dat Pous Johannes XXII in 1323 ‘n Pouslike bul uitgereik het om die toenemende afskeping van toewyding in kerksang te veroordeel.

‘n Besonder interessante figuur van hierdie tydvak is die Katalaanse koning Alfonso X (1221-1284), wie se bynaam ‘El Sabio’ was – Die Wyse. Hy kan as ‘n filosoof-koning in die Platoniese tradisie beskou word, en het homself met geleerdes in verskeie lewensterreine omring. As komponis het hy etlike honderde Cantigas de Santa Maria (‘Lofsange tot die Heilige Maria’) vir stemme en instrumente nagelaat.

Die Middeleeuse liriek het veral in Frankryk en Duitsland floreer, hoewel Spanje en Italië ook bydraes in dié vorm gelewer het. In eersgenoemde twee lande was die skrywers daarvan as troebadoers en minnesangers onderskeidelik bekend. Hul musiek was merendeels monofonies, maar dit het nogtans 'n beduidende invloed op die polifoniese motette uitgeoefen. In Frankryk, waar meer as sesduisend troebadoergedigte behoue gebly het, was Guillaume, Graaf van Poitiers (1071-1127), die eerste bekende komponis daarvan. Hy is opgevolg deur Marcabru en Bernard de Ventadour (beide twaalfde eeu), en Guiraut Riquier, Gace Brulé, Thibaut de Champage, Koning van Navarra, en Conon de Béthune in die dertiende eeu.

Die Duitse minnesangertradisie het in Oostenryk en Beiere ontstaan. Dit is eeue later deur Wagner in sy opera Tannhäuser, wat op 'n werklike sangwedstryd van 1207 gebaseer is, gehuldig. Die bekendste komponis onder hulle is stellig Walther von der Vogelweide (ong. 1170-1230), na wie Wagner in sy opera Die Meistersinger von Nürnberg goedkeurend sou verwys. Verdere figure was Neidhart von Reuenthal (ong. 1180-1240), Heinrich Frauenlob (sterf 1318), en Oswald von Wolkenstein (sterf 1445). Laasgenoemde het van die monofoniese tradisie afgewyk deur veelstemmige liedere te skryf.

'n Digter en kerkman wat die vernaamste Franse komponis van die veertiende eeu sou word, was Guillaume de Machaut (ong. 1300-77). Onder die vele belangrike poste wat hy beklee het, was dié van sekretaris vir Koning Jan van Bohemië en domheer van die Rheims-katedraal. Hy was 'n pionier van die ars nova ('nuwe kuns'), wat deur groter ritmiese vryheid en meerstemmige sang gekenmerk is. Voorts was hy die eerste komponis om eiehandig 'n polifoniese mis, die Messe de Notre Dame, te toonset. Dit bestaan uit ‘n Kyrie, Gloria, Credo, Sanctus, Agnus Dei - ‘n model wat oor die eeue sedertdien deur talle komponiste gevolg sou word. Naas sy magnum opus en 23 motette wat uit sy pen gevloei het, het Machaut die eerste groot versameling sekulêre liedere in Frans gekomponeer. Sommige van sy liefdesgedigte is geïnspireer deur sy verhouding, toe hy al in sy sestigs was, met ‘n 19-jarige meisie. Sy jonger tydgenoot, die Engelse skrywer Geoffrey Chaucer, was ‘n bewonderaar van sy digkuns. Byna ewe bekend in Frankryk was Philippe de Vitry (ong. 1291-1361), wat gedurende sy laaste tien jaar biskop van Meaux was. Hy het 'n hele aantal motette geskryf, asook 'n verhandeling, Ars Nova, oor die musiek van sy tyd. Daarin het hy belangrike verfynings in notasie aangebring.

In Italië het Giovanni da Cascia vroeg in die veertiende eeu naam gemaak met sy sekulêre vokale musiek, waarvan hoofsaaklik madrigale behoue gebly het. Hierdie musiekvorm was 'n latere uitvloeisel van die ars nova. Verdere bydraes daarin is later in dieselfde eeu deur Jacopo da Bologna en Gherardellus da Firenze gelewer. Die beroemdste Italiaanse komponis van die veertiende eeu was die orrelvirtuoos Francesco Landini (ong. 1325-97), wat as kind blind geraak het maar nogtans verskeie instrumente bespeel het. Hy was orrelis van die klooster van San Trinita (‘Heilige Drie-eenheid’) te Florence (vanaf 1361) en later van die stad se San Lorenzo-kerk (1365-97). Sy meer as 150 behoue werke, waaronder enkele madrigale, verteenwoordig meer as 'n derde van die oorblywende Italiaanse musiek van sy tyd.

Vanaf die laat veertiende eeu het verdere vernuwings plaasgevind, waaronder toenemende benutting van ritme, melodie en harmonie tel. Daardeur is die weg gebaan vir die volgende groot tydperk van Westerse musiek - dié van die Renaissance.

Voetnotas:
3. In die lig van Oswald Spengler se organiese kultuurmodel, soos in Die Ondergang van die Weste (1918/22) uiteengesit is, was hierdie beweging onvermydelik, want die Westerse Hoogkultuur is in ongeveer die elfde eeu gebore en het ‘n eiesoortige uitdrukking op vele lewensterreine, insluitend musiek, benodig. Die musiek van die vroeë Christendom was van Midde-Oosterse afkoms en was as sulks ‘n uitdrukking van die Arabiese Hoogkultuur, wat oorheersend in die Oosters-Christelike gebiede was.
4. In die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke word die Maagd Maria as die Moeder van God vereer. Haar titel Theotokos (Grieks vir ‘God-baarder’) is tydens die Derde Ekumeniese Konsilie van 431 in Efese bekragtig om erkenning te gee aan die sleutelrol wat sy in die menswording van die Seun van God gespeel het. Die Latynse Notre Dame beteken ‘Onse Dame’.