If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Laat-romanties

Die laat-Romantiese era in Westerse musiek het vanaf ongeveer 1890 tot 1920 gestrek, hoewel beroemde eksponente daarvan soos Rachmaninof en Richard Strauss nog tot in die 1940’s gekomponeer het. Dit is 'n interessante verskynsel dat verskeie laat-Romantiese komponiste tot diep in die twintigste eeu aan dié wesenlik negentiende-eeuse tradisie getrou gebly het. 'n Mens dink veral aan Puccini, Mahler, Strauss, Sibelius en Rachmaninof in dié verband. Alhoewel veral Mahler, Strauss en Sibelius se werke vernuwende elemente bevat, het almal van hulle ongestoord voortgegaan om musiek ter wille van die skoonheid en verhewenheid daarvan te komponeer. Daardeur het hulle vir hulself 'n blywende ereplek onder toekomstige geslagte Westerse musiekliefhebbers verseker.

In die wêreld van Romantiese vioolkonserte word dié van Beethoven, Mendelssohn, Brahms en Tsjaikofski (interessant genoeg, een van elk) gewoonlik as die bestes beskou. Nog 'n sterk aanspraakmaker is Max Bruch (1838-1920), wie se eerste vioolkonsert besonder gewild geraak het. Onder sy ander werke tel nog twee vioolkonserte, drie simfonieë en koorwerke. Die bekendstes naas die genoemde vioolkonsert is die Skotse Fantasie vir viool en orkes, en Kol Nidrei vir tjello en orkes.

As beskermling van Brahms het Antonín Dvorák (1841-1904) tot een van die grootste Romantiese simfoniste ontwikkel. Soos Schubert het Dvorák oor 'n spontane skeppendheid beskik. Soos Beethoven en Schubert het hy nege simfonieë gekomponeer, waarvan veral die laaste drie geensins vir dié van Brahms hoef terug te staan nie. Sy laaste simfonie, getiteld 'Uit die Nuwe Wêreld', is een van die gewildstes van alle werke in dié vorm. Dit is tydens 'n driejarige verblyf in Amerika geskryf, en weerspieël Amerikaanse invloede enersyds en sy heimwee na sy vaderland andersyds. Ook die kragtige sewende en liriese agste simfonieë is gewilde werke.

Onder Dvorák se vele ander orkeswerke is die lewenslustige Slawiese Danse, die melodieryke Tjellokonsert, die Karnaval-ouverture, die Serenade vir Strykers en 'n Romanse vir viool en orkes die bekendstes. Voorts het hy voortreflike konserte vir viool en klavier, nog vyf ouvertures, vyf simfoniese toondigte en drie Slawiese Rapsodieë gekomponeer. Onder sy koorwerke is die Stabat Mater waarskynlik die bekendste, met die patriotiese Hymnus, 'n Mis, 'n Requiem en 'n Te Deum wat uit sy hoogs produktiewe pen gevloei het.

Dvorák het nege operas geskryf, waarvan slegs Rusalka buite sy vaderland bekend geraak het. Sy groot hoeveelheid kamermusiek het egter in dié opsig veel beter gevaar. Onder sy veertien strykkwartette het nommer 12, die Amerikaanse, baie gewild geraak. Ook goed bekend is sy Klavierkwintet, die Vierde Klaviertrio (Dumky), en die Derde Altvioolkwintet. Daarbenewens is talle werke vir klaviersolo- en duet, asook liedere, deur dié geïnspireerde Tsjeg gekomponeer.

Jules Massenet (1842-1912) het onder meer 27 operas gekomponeer, waaronder Manon, Werther en Thais die bekendstes is. Uit laasgenoemde kom die gewilde 'Meditasie' vir orkes.

Een van die invloedrykste musici van die laat negentiende en vroeë twintigste eeue was Nikolai Rimski-Korsakof (1844-1908). Eerstens was hy die bekendste figuur onder die nasionalistiese groep, die Koetsjka, en tweedens het hy as leidsman opgetree van opkomende komponiste soos Liadof, Glazoenof en Arensky. Voorts het hy 'n hoogs invloedryke boek oor orkestrasie geskryf, en ten slotte het hy 'n aansienlike invloed op sy leerling Strawinski en ander moderne komponiste uitgeoefen. En dan het ons nog nie eens by sy eie komposisies uitgekom nie!

Dié begaafde Rus se bekendste musiek is die gewilde orkeswerke Sheherazade, wat op die Duisend- en-Een Arabiese Nagte gebaseer is, en Capriccio Espagnole. Ook bekend is die vlugvoetige orkeswerk Vlug van die Hommelby, en die statige Russiese Paasfeesouverture wat deur Russies- Ortodokse kerkmusiek geïnspireer is. Hy het verskeie operas gekomponeer, waaronder Die Goue Haantjie die bekendste is. Drie simfonieë, kamermusiek en liedere het ook uit sy pen gevloei.

Tesame het Balakiref, Borodin, Cui, Moessorgski en Rimski-Korsakof die groep komponiste bekend as die Koetsjka ('Die Vyf') verteenwoordig. Onder Balakiref se leiding het hulle gepoog om as 'n nasionalistiese teenwig tot die meer Westersgesinde komponiste soos Tsjaikofski en Glazoenof te dien.

'n Toonbeeld van verfyndheid en elegansie - só word die musiek van Gabriel Fauré (1845-1924) allerweë beskryf. Hy was 'n leerling van Saint-Saëns en self onderwyser van bekende musici soos Ravel, Boulanger en Enesco. Sy bekendste werke is die Ballade vir klavier en orkes, die Elégie vir tjello en orkes, die Dolly-suite, die Pavane vir orkes en koor, die Requiem en 'n vioolsonate. Voorts was hy 'n meesterlike liedereskrywer, met onder meer drie siklusse tot sy krediet. Soos Beethoven het hy die laaste twintig jaar van sy lewe toenemend onder doofheid gelei.

Die orrelis Charles Widor (1845-1937) het bekendheid verwerf met tien nommers van 'n onkonvensionele musiekvorm, die 'orrelsimfonie' vir solo-orrel. Daarbenwens het verskeie operas, simfonieë, konserte en ander werke uit sy pen gevloei.

As sangmeester van die Britse koningshuis het Francesco Tosti (1846-1916), wat homself in 1880 in Londen gevestig het, bekendheid verwerf met die talle liedere wat hy geskryf het. Die bekendste daaronder is Farewell.

Die sogenaamde Engelse musiekrenaissance is deur Hubert Parry (1848-1918) en die Anglo-Ier Charles Stanford (1852-1924) ingelui. Parry het ‘n groot aantal werke in al die vorme geskryf, maar word hoofsaaklik vir sy koorwerke onthou. Die bekendste een is stellig sy toonsetting van Blake se Jerusalem, wat die status van ‘n Britse volkslied behaal het. Op sy beurt het Stanford baie gedoen om die musiek van Brahms in Brittanje te bevorder. Dit verbaas dus nie dat sy eie orkes- en kamerwerke, waaronder 7 simfonieë en ‘n hele aantal konserte, kwintette, kwartette, trios en sonates in die tradisie van die Romantiese reus staan nie. ‘n Meer eiesoortige styl word aangetref in sy operas, koorwerke en liedere. Een van sy dienste (in B mol, opus 10) word steeds in die Anglikaanse kerk gebruik.

'n Leerling van Franck, Vincent d'Indy (1851-1931), het 'n hele aantal werke, waaronder operas, simfonieë en simfoniese toondigte geskryf. Sy bekendste werk is die pragtige Simfonie op 'n Franse Berglied vir klavier en orkes.

Engelbert Humperdinck (1854-1921) was 'n medewerker en volgeling van Wagner. Onder sy ses operas is Hansel und Gretel die bekendste.

'n Leerling van Rimski-Korsakof, Anatol Liadof (1855-1914), is hoofsaaklik bekend vir sy simfoniese toondigte soos Baba Yaga, Die Betowerde Meer en Kikimora. Hy het egter ook ander orkesmusiek, koorwerke, klavierstukke en liedere geskryf.

Sergei Tanejef (1856-1915) was 'n leerling van Tsjaikofski en het in verskeie musiekvorme gekomponeer. Sy bekendheid berus egter hoofsaaklik op die feit dat hy 'n onderwyser van sy veel meer bekende landgenote Skriabin, Glière en Rachmaninof was.

Die pianis Christian Sinding (1856-1941) het in verskeie Duitse stede studeer en vanaf 1909 in beide Oslo en Berlyn gewoon. Alhoewel hy heelwat grootskaalse werke soos 'n opera, drie simfonieë en 'n vioolkonsert gekomponeer het, is hy vandag feitlik uitsluitlik bekend om sy klavierstukke, waarvan Rustle of Spring die gewildste is.

Die grootste Britse komponis van die Romantiese era was Edward Elgar (1857-1934). Alhoewel hy eers in 1934 oorlede is en talle van sy werke dus ook in die moderne tydvak val, is sy musiek veel eerder Romanties as modern van aard. Elgar was 'n uitmuntende orkestreerder en het ook uitgeblink in koorwerke. Sy bekendste orkeswerke is die Enigma-Variasies, die vyf Pomp and Circumstance- marse, die Serenade vir Strykers, twee simfonieë, 'n vioolkonsert en 'n tjellokonsert. Onder sy talle koorwerke is die oratoriums The Dream of Gerontius en The Kingdom bes moontlik die gewildstes. Daarbenewens het kamermusiek, orrelsonates en liedere uit sy pen gevloei. Laasgenoemde kategorie sluit die pragtige liedere-siklus Sea Pictures vir sopraan en orkes in.

Die vermaarde Franse pianis Cécile Chaminade (1857-1944) het orkes-, koor- en kamermusiek geskryf, maar haar bekendheid berus vandag op haar klaviermusiek en liedere. Die Belgiër Eugène Ysaÿe (1858-1931) was 'n vioolvirtuoos en in sy later jare ook 'n bekende dirigent. Sy bekendste komposisies is ses vioolkonserte en ander werke vir sy geliefde instrument.

Onder die musiekliefhebbende publiek val Giacomo Puccini (1858-1924) se operas onder die heel gewildste werke in dié vorm. Hy was die grootste laat-Romantiese Italiaanse komponis, 'n waardige opvolger vir sy landgenoot Verdi. Sy operas word gekenmerk deur manjifieke melodieë, dramatiese dog gevoelvolle orkestrasie, en 'n besondere teatersin. Die heel gewildstes is die drietal wat rondom die eeuwending gekomponeer is: La Bohème, Tosca, en Madama Butterfly. Kort op hul hakke volg sy laaste werk, Turandot, waarvan die einde ná sy dood deur Alfano voltooi is, en een van sy eerstes, Manon Lescaut. Minder bekend is die drietal wat gesamentlik as Il Trittico bekendstaan, naamlik Il Tabarro, Suor Angelica, en Gianni Schicchi, die Amerikaanse opera La Fanciulla del West, sy eerste opera, Le Villi, en La Rondine. Daarbenewens het dié begaafde komponis - sy swakheid vir dobbel, vinnige voertuie en mooi vrouens desnieteenstaande - pragtige liedere, 'n ewe mooi strykkwartet getiteld Crisantemi, en 'n kragtige koorwerk, Messa di Gloria, daargestel.

Sy landgenoot Ruggiero Leoncavallo (1858-1919) se bekendste werk is die opera I Pagliacci, wat gewoonlik saam met Mascagni se Cavalleria Rusticana opgevoer word.

Sergei Liapoenof (1859-1924) was op sy beurt 'n leerling van Tsjaikofski en Tanejef. Hy het Rusland tydens die Kommunistiese rewolusie verlaat, en daarna as pianis en dirigent in Duitsland en Oostenryk opgetree. Onder sy komposisies tel twee simfonieë, twee klavierkonserte, en talle klaviersolowerke.

Nog 'n leerling van Rimski-Korsakof, Mikhail Ippolitof-Iwanof (1859-1935), het vir etlike dekades onderrig in Tiflis en Moskou gegee. Hy het heelwat Russiese volksmusiek benut in sy talle komposisies, waaronder die Kaukasiese Sketse vir orkes die bekendste is. Ook operas, koormusiek, en meer as honderd liedere is deur hom geskryf.

Die Spaanse pianis Isaac Albéniz (1860-1909) was soos vele ander musici van sy tyd 'n leerling van Liszt. Hy het ongeveer 250 klavierstukke gekomponeer, waarvan die lateres vrylik van Spaanse volksmusiek gebruik gemaak het. Die bekendste een daarvan is die suite Iberia, in twaalf bewegings.

Een van die groot meesters van Duitse liedere in die tydperk ná Schubert en Schumann was Hugo Wolf (1860-1903). Hy het talle daarvan, insluitend siklusse soos Lieder aus der Jugendzeit, Goethe-Lieder, die Spaanse Liedereboek en die Italiaanse Liedereboek, gekomponeer in die betreklike kort tydperk vanaf 1876 tot 1897, toe hy sy verstand verloor en in 'n asilum opgeneem is. Sy tragiese einde was dus nog 'n ooreenkoms tussen hom en Schumann.

Die majestieuse Weense simfoniese tradisie, wat teen die middel van die agtiende eeu deur Haydn ingelui is, is aan die begin van die twintigste eeu deur Gustav Mahler (1860-1911) afgesluit. Hy het as Duitssprekende Jood in die landstreek Bohemië, indertyds deel van die Oostenryks-Hongaarse ryk, grootgeword. As briljante dirigent was hy vanaf 1897 in beheer van die Weense Hofopera, wat hy tot een van die voorste teaters ter wêreld opgebou het. Vir die pos moes hy 'n Rooms-Katolieke doop ontvang. Tien jaar later het 'n driedubbele tragedie hom getref: sy geliefde dogter is na 'n aaklige lyding oorlede; hy moes sy pos in Wenen onder druk verlaat; en 'n ongeneeslike hartkwaal is gediagnoseer. Sy oorblywende lewensjare is deels in New York deurgebring en is met 'n Joodse begrafnis afgesluit. Hy het by geleentheid die aandoenlike stelling gemaak dat hy driemalig haweloos is: as 'n Bohemiër onder Oostenrykers, as 'n Oostenryker onder Duitsers, en as 'n Jood oral in die wêreld.

Mahler se tien simfonieë, waarvan die laaste onvoltooid ten tyde van sy dood was, word gekenmerk deur emosionele intensiteit wat deur geen ander komponis voor of na hom geëwenaar is nie. In 'n aantal daarvan het hy die tradisie van die vokale simfonie, wat deur Beethoven in sy gevierde Negende Simfonie ingelui is, voortgesit. Daarvan getuig sy simfonieë nommers Twee (die 'Opstanding'), Drie, Vier en Agt. Onder sy nie-vokale simfonieë is nommers Vyf en Nege stellig die gewildstes. Voorts het hy Berlioz se innovasie van orkesliedere in sy vier groot siklusse verder ontwikkel, te wete Des Knaben Wunderhorn, Kindertotenlieder, Lieder eines fahrenden Gesellen en Rückert Lieder. Onder sy verdere vokale werke tel die jeugwerk Das klagende Lied en die laat meesterstuk Das Lied von der Erde, wat op Sjinese gedigte gebaseer is.

Mahler was 'n meesterlike orkestreerder en het dikwels van uitgerekte, nostalgiese melodieë gebruik gemaak. In sy leeftyd is hy egter as een van die beste dirigente erken, maar nie as 'n groot komponis nie. Gedurende die eerste dekades van die twintigste eeu is baanbrekerswerk deur legendariese dirigente soos Bruno Walter en Willem Mengelberg gedoen om Mahler se musiek te bevorder. Gelukkig het die jare meer perspektief meegebring, soos wat dikwels op talle lewensterreine die geval is, sodat hy vandag 'n enorme aanhang onder musiekliefhebbers geniet. Hierdie nadoodse oplewing is inderdaad deur die komponis voorsien met sy gevierde stelling, Meine Zeit will noch kommen - my tyd sal nog kom.

Soos sy beroemde landgenoot Puccini was Pietro Mascagni (1863-1945) 'n leerling van Ponchielli. Anders as met Puccini berus sy roem hoofsaaklik op 'n enkele opera, die gewilde Cavalleria Rusticana, alhoewel hy verskeie ander werke in dié vorm gekomponeer het. As oortuigde fasjis het hy tydens die Mussolini-bewind die vriendskap van Toscanini en ander musici verloor, en eindelik eensaam en verstote in 'n hotelkamer gesterf.

Die grootste Duitse komponiste van die laat-Romantiek was Mahler en Richard Strauss (1864-1949). Beide was toegewyde bewonderaars van Wagner, maar sy invloed het op uiteenlopende wyses onder hulle tot uiting gekom. Soos reeds gesien, was Mahler 'n meester van simfonieë en orkesliedere. Strauss, daarenteen, se roem berus hoofsaaklik op sy onoortreflike simfoniese toondigte, terwyl hy ook ná Puccini die bekendste operas van die twintigste eeu gekomponeer het. In sy meer radikale fase, wat vanaf ongeveer 1886 tot 1910 geduur het, het hy Liszt se skepping van die simfoniese toondig tot voleinding gebring en operas in 'n moderne idioom geskryf. Onder sy tien toondigte is die bekendstes Also Sprach Zarathustra (gebaseer op Nietzsche se gelyknamige meesterwerk), Till Eulenspiegel, Don Juan, Ein Heldenleben en Tod und Verklärung. In dié tydperk het ook die indertyds opspraakwekkende operas Salome en Elektra verskyn.

Daarna het die jeugdige rebel tot feitlik almal se verstomming een van die grootste Romantiese komponiste van die vroeë twintigste eeu, indien nie dié grootste nie, geword. Die wending is as 't ware aangekondig deur Strauss se gewilde opera Der Rosenkavalier, waarskynlik die gewildste opera van die twintigste eeu (weereens buiten Puccini s'n). Dit het voortgeduur tot in sy laaste lewensjare, toe sulke pragtige werke soos die opera Capriccio, die Tweede Horingkonsert, die Hobokonsert, die Dubbelkonsert vir Klarinet en Fagot, en die Metamorphosen vir 23 strykers gekomponeer is. In laasgenoemde werk, wat indertyds in die Germanofobiese Nederland verban was, het die komponis sy droefheid oor die Geallieerde vernietiging van sy geliefde Duitsland in die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog uitgedruk.

Onder Strauss se kamermusiek, wat merendeels in sy pre-rebelse jeug geskryf is, is die Tjellosonate en Vioolsonate die bekendstes. Veel bekender egter is sy liedere, waarvan hy die vernaamste Duitse eksponent in die twintigste eeu was. Meer as 150 liedere is deur dié laaste groot Romantikus in musiek gekomponeer, insluitend die Vier Laaste Liedere vir sopraan en orkes. Hierdie verruklike werk was sy heel laaste komposisie, en kon dus nie 'n meer gepaste naam ontvang het nie. Daarin kom die ryke ervaring van 'n lang, produktiewe lewe tot hoogste vergestalting, sodat dit terselfdertyd as die vervulling en die swanesang van die Romantiese tydvak in Westerse musiek beskou kan word.

Die Rus Alexander Glazoenof (1865-1936) se musiek hoort soos dié van sy veel bekender landgenote Tsjaikofski en Rachmaninof eerder tot die Europese hoofstroom as die Russies-nasionalistiese skool. Hy was 'n leerling van Rimski-Korsakof, en het later eers 'n onderwyser aan en toe direkteur van die Sint Petersburg Konserwatorium geword. Sy laaste jare is in Parys deurgebring nadat hy in 1928 sy geboorteland, wat intussen 'n Marxistiese 'werkersparadys' geword het, verlaat het. Onder sy orkeswerke tel agt simfonieë, twee klavierkonserte, 'n vioolkonsert, 'n tjellokonsert, ses suites (waarvan Die Seisoene die gewildste is), ses ouvertures en die simfoniese toondig Stenka Razin. Voorts het kamermusiek, waaronder sewe strykkwartette, asook koorwerke, klavier- en orrelwerke, en liedere uit sy bedrywige pen gevloei. Hy het daarbenewens sy eertydse leermeester gehelp om Borodin se onvoltooide opera Prins Igor te voltooi, en onder meer die hele ouverture daartoe volgens geheue herskep.

Tesame met Grieg word Jean Sibelius (1865-1957) as die grootste Skandinawiese komponis beskou. Gedurende die 1890's het sowel hy as Richard Strauss in Duitsland, onafhanklik van mekaar, 'n aantal simfoniese toondigte geskryf wat gesamentlik die hoogtepunt van dié aarts-Romantiese musiekvorm verteenwoordig. Daarbenewens was hy een van die grootste simfoniste van die twintigste eeu, indien nie dié grootste een nie. In sy werke kan die ongenaakbaarheid en grootsheid van die Finse woude, mere en ys aangevoel word.

Onder Sibelius se sewe simfonieë is die manjifieke Tweede die bekendste, maar al die ongelyke nommers is ook besondere werke met lieflike melodieë. Nommers Vier en Ses is meer onkonvensioneel in hul harmonieë, terwyl die Sewende eksperimenteel was in die sin dat dit uit 'n enkele lang beweging bestaan. Onder die simfoniese toondigte het die dramatiese Finlandia wêreldwyd gewild geraak, gevolg deur die ingetoë Swaan van Tuonela uit die Vier Legendes, wat gebaseer is op die Finse epos, die Kalevala. Met die verskyning van Finlandia in 1899 het dit vanuit die staanspoor as fokuspunt vir Finse nasionalisme gedien in dié volk se vryheidstrewe teen Russiese oorheersing, tot só 'n mate dat die werk deur die Russe verban is.

Verdere bekende orkeswerke van Sibelius is die simfoniese toondigte En Saga, Tapiola en Pohjola se Dogter, die gewilde Karelia Suite en Valse Triste, en die pragtige Vioolkonsert, een van die twintigste eeu se heel bestes. Minder bekende werke van dié Nordiese genie is die strykkwartet Voces intimae en heelwat ander kamermusiek, die koorwerk Kullervo, en liedere. Sy vernaamste bydrae tot Westerse musiek is egter sy kragtige simfonieë en simfoniese toondigte.

Die grootste Deense komponis was Carl Nielsen (1865-1931), wat in dieselfde jaar as sy mede- Skandinawiër Sibelius gebore is. In verskeie van sy werke het hy gebruik gemaak van 'progressiewe tonaliteit', waarvolgens 'n werk in verskillende toonaardes begin en eindig. Hy het ses kragtige simfonieë gekomponeer, asook konserte vir klarinet en viool. Voorts het twee operas, Saul en Dawid en Maskerade, kamermusiek soos 'n windblaserskwintet, en liedere uit sy pen gevloei.

Wassili Kalinnikof (1866-1901) het die laaste jare van sy betreklike kort lewe aan tering gely. Sy bekendheid berus hoofsaaklik op sy pragtige eerste simfonie, wat vanuit die staanspoor in Rusland en in ander Europese lande gewild was.

Die Italiaanse klaviervirtuoos en vermaarde leermeester Ferruccio Busoni (1866-1924) het vir baie jare in Duitsland geleef. Sy vernaamste komposisie was die opera Doktor Faust, waarvoor hy soos met sy ander operas self die libretto geskryf het. Hy was 'n veelsydige musikus wat naas operas ook 'n klavierkonsert met 'n finale koordeel (in die tradisie van Beethoven se Koorfantasie), orkessuites, klavierwerke, kamermusiek en liedere geskryf het. Ook het hy boeke oor musiekteorie geskryf en 'n groot getal verwerkings gedoen, maar helaas het hy nooit as komponis so bekend geword soos wat hy as pianis en leermeester was nie.

Dieselfde aanwending van 'n Spaanse idioom in sy musiek geld vir die pianis en dirigent Enrique Granados (1867-1916). Hy het talle werke in 'n verskeidenheid vorme gekomponeer, maar is vandag veral bekend vir die versameling klavierstukke bekend as Goyescas. Hulle is op skilderye van sy landgenoot Goya gebaseer, en het ook die materiaal vir sy gelyknamige opera verskaf. Met sy terugkeer na Spanje vanaf 'n opvoering van die opera Goyescas in New York is die skip waarin hy gereis het in die Engelse Kanaal getorpedeer.

Tesame met sy ietwat ouer landgenoot Richard Strauss was Hans Pfitzner (1869-1949) die laaste komponis in die groot Duits-Romantiese musiektradisie. Hy het lewenslank 'n verbete stryd gevoer teen modernistiese invloede in musiek, wat hy as bederwend beskou het. Alhoewel hy 'n groot aantal werke in verskeie vorme geskryf het, waaronder ongeveer honderd liedere, berus sy bekendheid merendeels op sy opera Palestrina waarin hy aan die groot Renaissance-komponis hulde gebring het.

Die Hongaars-gebore Franz Lehár (1870-1948) het vanaf 1902 in Wenen gewoon, waar hy roem verwerf het met sy talle operettes. Die bekendste een daaronder is Die lustige Witwe ('Die Vrolike Weduwee'), terwyl Der Graf von Luxemburg ('Die Graaf van Luxemburg'), Der Zarewitsch ('Die Tsarewitsj'), Zigeunerliebe ('Sigeunerliefde') en Das Land des Lächelns ('Glimlagland') ook gewild geraak het. Met sy voorliefde vir pragtige melodieë en sy teatersin kan Lehár byna as 'n Hongaars-Weense weergawe van Puccini beskou word. Of, om dit anders te stel, indien Puccini in Wenen gewoon het en operettes sou skryf, sou dit waarskynlik soos Lehár s'n geklink het. En dít is geen geringe komplement nie.

In Frankryk was die blindgebore Louis Vierne (1870-1937) 'n leerling van Franck en Widor, en self 'n leermeester van die legendariese Nadia Boulanger. Hy was vir baie jare orrelis van die beroemde Notre Dame in Parys, en het soos verwag kon word verskeie orrelwerke (waaronder ses 'simfonieë' vir dié instrument) gekomponeer.

Die indertyde befaamde dirigent Alexander von Zemlinsky (1871-1942) was 'n leermeester van Schoenberg, wat op sy beurt die libretto vir Zemlinsky se eerste opera Sarema geskryf het. Twee verdere operas is op werke van Oscar Wilde gebaseer, benewens ander komposisies wat gedoen is.

In sy vroeë werke, waaronder twee simfonieë, 'n klavierkonsert, drie klaviersonates en sewe klavierpreludes, het die Russiese pianis Alexander Skriabin (1872-1915) die invloed van Chopin, Liszt en Wagner vertoon. Daarna is sy musiek grondliggend deur sy Teosofiese oortuigings beïnvloed, wat in esoteriese harmonieë tot uiting gekom het. Onder dié 'eksperimentele' werke tel Die Goddelike Gedig en Gedig van Ekstase vir orkes, en vele klavierwerke soos sewe sonates, agt preludes en ses Gedigte.

Een van die vernaamste komponiste van orrelmusiek van die laat-romantiese tydvak was Max Reger (1873-1916), wat ook 'n bekende dirigent en leermeester was. In sy komposisies, wat ook in ander vorme soos orkeswerke, koorwerke en konserte verskyn het, het hy die kontrapuntale tradisie van Bach en Brahms voortgesit. Hy kan dus saam met Pfitzner, en teenoor die meer radikale Richard Strauss, tot die meer behoudende kant van die Duitse musiek van sy era gevoeg word.

Wie was die grootste pianis van die Romantiese tydvak? Tesame met die flambojante Liszt en die verfynde Chopin moet die Rus Sergei Rachmaninof (1873-1943) ongetwyfeld een van die sterkste aanspraakmakers op dié titel wees, alhoewel Mendelssohn, Clara Schumann en Busoni volgens alle aanduidings ook onder die voorlopers gereken kan word. Rachmaninof was die enigste een onder dié uitgelese geselskap wat sy aanspraak op die titel van meester-virtuoos by wyse van plaatopnames kon staaf, maar uiteraard hou dié tegnologiese bemiddeling voor- en nadele vir 'n musikus in. Enersyds dien dit immers as onweerlegbare getuienis van grootsheid, maar andersyds ook van moontlike tekortkominge.

Hoe dit ookal sy, Rachmaninof se eie klavierwerke het uiters gewild onder musici en die publiek geword. Die bekendstes daaronder is ongetwyfeld die Tweede Klavierkonsert en die Rapsodie op 'n Tema van Paganini. Meesleurende melodieë en kragtige orkestrasie span daarin saam om 'n onvergeetlike emosionele impak op die luisteraar te maak. Sy oorblywende drie klavierkonserte is self pragtige werke, soos ook die geval is met sy drie simfonieë, waaronder die Tweede die gewildste is. Onder sy oorblywende orkeswerke tel die simfoniese toondig Die Dodeseiland en die Simfoniese Danse. Soos wat te wagte kon wees van 'n virtuoos-pianis het talle werke vir klaviersolo, waaronder die bekende Prelude in C-kruis mineur, uit die laat-Romantikus se pen gevloei. Hy het ook pragtige toonsettings onderneem van Russies-Ortodokse kerkmusiek, naamlik die Liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos en die aanddiens bekend as Vespers, of Deurnagwaak.

Rachmaninof was 'n vurige bewonderaar van Tsjaikofski, en minstens sy vroeë musiek getuig van dié musiekreus se invloed. Met die Kommunistiese rewolusie waardeur Rusland in 1917 van balans geruk en vir vele dekades daarna aan 'n totalitêre stelsel onderwerp is, het hy soos talle van sy landgenote sy geboorteland verlaat en hom later in die VSA gaan vestig, waar hy sy oorblywende lewensjare deurgebring het.

Die Oostenrykse tjellis, orrelis en pianis Franz Schmidt (1874-1939) se musiek word as ‘n voortsetting van die Bruckner-tradisie beskou. Hy het onder meer twee operas (Notre Dame en Fredigundis), vier simfonieë, twee klavierkonserte, twee strykkwartette, die oratorium Das Buch mit sieben Siegeln (‘Die Boek met Sewe Seëls’) en orrelwerke gekomponeer.

'n Leerling van Rimski-Korsakof, die Italianer Ottorino Respighi (1879-1936), se kleurryke orkestrasie het in bekende werke soos Die Fonteine van Rome, Die Denne van Rome, Die Voëls en Antieke Arias en Danse tot uiting gekom. Onder sy vele ander werke in verskeie vorme tel nege operas, en daarbenewens het hy 'n oorsetting van Monteverdi se opera Orfeo gedoen.

Die Engelsman George Butterworth (1885-1916) het intieme orkeswerke soos A Shropshire Lad en The Banks of Green Willow geskryf, voordat hy op betreklik jeugdige ouderdom in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. 'n Mens kan nie anders as om te wonder watter pragstukke nog uit sy pen sou kon vloei indien hy langer geleef het nie.