If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Inleiding

Westerse musiek word deur die elemente van harmonie, melodie en ritme gekenmerk. Indien enige van hierdie elemente nie in 'n bepaalde werk te vinde is nie, kan sulke musiek nie as Westers beskou word nie. Die elemente van musiek kan gekorreleer word met die basiese elemente van Plato se beskouing van die menslike siel, naamlik die rede, die hoër emosies en die laer drange (sien die Griekse wysgeer se invloedryke dialoog, Die Republiek). Musiek spreek sodoende die totale mens aan: harmonie spreek tot die rede, melodie spreek tot die hoër emosies en ritme spreek tot die laer drange. Die oormaat ritme in sommige nie-Westerse musiekvorme kan as bevestiging van hierdie argument beskou word.

Alhoewel die formele breuk tussen die Westerse en Oosterse Christendom in 1054 plaasgevind het, was daar reeds eeue tevore klemverskille tussen hulle.1 Sover dit hul musiek betref, was die verskille merendeels te wyte aan invloede uit die onderskeie gebiede waar die kerke werksaam was. Verskeie liturgieë met hul ooreenstemmende cantusse het sodoende ontstaan (cantus beteken lied, melodie of wysie in Latyn). In die Oosters-Christelike gebiede soos die Midde-Ooste, Klein-Asië en Griekeland is die Bisantynse cantus beoefen; in Noord-Italië, die Ambrosynse cantus, vernoem na die bekende biskop van Milaan, Sint Ambrosius (340-97); in die Frankiese lande, die Galliese cantus; en in die Iberiese skiereiland, die Wes-Gotiese of Mozarabiese cantus. Die Bisantynse cantus word tot vandag in die Grieks-Ortodokse kerke wêreldwyd beoefen. Mettertyd het die musiek van die Romeinse liturgie, wat as Gregoriaanse cantus bekendgestaan het, vanweë politieke redes die heersende musiek dwarsdeur Wes-Europa geword. Dit word vervolgens in oënskou geneem.

Voetnota:
1. In 1054 het die Pous van Rome die Patriarg van Konstantinopel geëkskommunikeer. Daarop is die Pous deur die Patriarge van Konstantinopel, Alexandrië, Antiochië en Jerusalem geëkskommunikeer. Sedertdien het die Rooms-Katolieke kerk in die Weste en die Ortodokse kerke in die Ooste toenemend van mekaar verwyderd geraak, teologies en liturgies. Sien Philip Sherrard se klassieke studie The Greek East and the Latin West (1959) oor die agtergrond en die gevolge van die skeuring.