If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Gregoriaans

In Wes-Europa was die Gregoriaanse cantus tot met die Protestantse hervorming van die sestiende eeu die heersende kerkmusiek. Dit is vernoem na Pous Gregorius I (heers 590-604) wat volgens Rooms-Katolieke tradisie die kerkmusiek van sy tyd gesistematiseer het, alhoewel hierdie aanspraak deur geen eietydse verwysings gestaaf word nie. Hoe dit ookal sy, Gregoriaanse sang het vanaf ongeveer 750 na Wes-Europa deurgedring. Daar is dit veral gevestig deur Karel I, 'die Grote' (742-814), wat op Kersdag 800 as eerste Keiser van die ‘Heilige Romeinse Ryk’ deur Pous Leo III gekroon is.2 Gregoriaanse sang is wesenlik deur Bisantynse, of Oos-Romeinse, en Midde-Oosterse musiek beïnvloed. Die belangrike ontwikkeling van notasie, wat onontbeerlik is vir die aanduiding van musiek se toonhoogte en ritme, het in hierdie tydperk plaasgevind.

Gedurende die vroeë Middeleeue was die gewyde musiek uitsluitlik van 'n vokale aard, aangesien die Kerk musiekinstrumente en hul spelers gewantrou het. Die rede daarvoor is dat instrumentele musiek en losbandigheid dikwels hand aan hand in die heidense Romeinse Ryk gegaan het. Tot vandag is die Ortodokse kerkmusiek (Grieks, Russies ensomeer) altyd sonder instrumentele begeleiding. Voorts was Gregoriaanse sang monofonies, of eenstemmig, want verskillende toonhoogtes het nooit saamgeval nie. Die musiekvorme van hierdie tydperk word as antifonaal of responsoriaal geklassifiseer. Terwyl antifoniese musiek op 'n afwisseling van twee groepe sangers berus, maak responsoriese musiek van afwisseling tussen 'n solis en die koor gebruik. Voorbeelde van hierdie musiekstukke is soos volg:
(i) Antifonaal: antifoon, introïtus, kommunie, offertorium, ordinarium en gesange.
(ii) Responsoriaal: responsorie, graduaal, traktaat en halleluja.

'n Belangrike vernuwing wat in die tiende eeu plaasgevind het, was die liturgiese drama. Dit was wesenlik 'n Paaspel wat in die kerke opgevoer is. Aangesien die antieke Grieks-Romeinse dramas teen daardie tyd lankal nie meer opgevoer is nie, het die liturgiese dramas die voorlopers van die moderne Europese drama geword.

Voetnota:
2. Vanuit ‘n Oosters-Christelike perspektief word die ‘Heilige Romeinse Ryk’ in Wes-Europa nie as heilig of Romeins beskou nie. Die Oos-Romeinse Ryk met sy hoofstad in Konstantinopel, waarna westerlinge gewoonlik as die Bisantynse Ryk verwys, was die legitieme voortsetting van die Romeinse Ryk vanaf die vierde tot die vyftiende eeu, en wel in ‘n Christelike vorm teenoor sy heidense voorganger.