If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Klassiek

Die Klassieke tydperk in Westerse musiek het vanaf ongeveer 1750 tot 1820 gestrek. Klassieke musiek in hierdie sin van die woord vertoon 'n bykans volmaakte balans van vorm en inhoud, selfs meer so as by Barok-musiek. Gedurende hierdie tydperk is die sonatevorm verder ontwikkel, sodat die Klassieke simfonieë, konserte en strykkwartette daarop gebaseer is. Hierdie musiekvorme vertoon 'n struktuur van drie of vier dele, waarin vinnige en stadige tempos mekaar afwissel. Dit sou tot met die musiek van die laat-Romantiese era die geval bly, en selfs tot in sommige twintigste-eeuse komponiste se werke.

Drie komponiste wat in die vroeë 1790’s in Wenen gaan woon het en die res van hul lewens daar sou deurbring, vorm die groot Klassieke trio: Haydn, Mozart en Beethoven. Al drie word onder die heel grootste Westerse komponiste gereken. Terwyl Haydn as die grondlegger van die Klassieke styl beskou word en Mozart as die hoogtepunt daarvan, is Beethoven van kardinale belang in die Westerse musiekgeskiedenis as synde die brug tussen die Klassieke en Romantiese eras. Beethoven was dus beide die vervulling van Klassieke musiek en die grondlegger van Romantiese musiek.

Die eerste groot Klassieke komponis was Franz Joseph Haydn (1732-1809). Hy het nie minder nie as 104 simfonieë gekomponeer, wat gekenmerk word deur kragtige lewenslus, stylvolle elegansie en heel dikwels 'n ondeunde humor - die komponis word nie verniet as die platjie van die musiekwêreld beskou nie. Tesame met sy 84 strykkwartette (waarvan die laaste een onvoltooid was) vorm Haydn se simfonieë die grondslag van die Klassieke styl, waarop Mozart voortgebou het.

Haydn was ook die grondlegger van die Weense simfoniese tradisie, wat deur Beethoven, Schubert, Brahms, Bruckner en Mahler voortgesit is. Daarbenewens het Haydn ongeveer 21 konserte (vir klavier, viool, tjello, horing of trompet en orkes), ongeveer 18 operas, 10 oratoriums en kantates, 12 misse, kamermusiek (waaronder 31 klaviertrios, 56 strykertrios en 125 divertimenti), 52 klaviersonates en 47 liedere gekomponeer. Veral bekend is die twee groot koorwerke, Die Skepping en Die Seisoene, wat hy in sy laaste skeppende fase geskryf het. Hierdie fase, toe die komponis reeds oor die sestig jaar oud was, het ook die laaste twaalf simfonieë en die laaste ses misse meegebring - 'n besondere prestasie en 'n treffende bevestiging van Haydn se grootsheid.

'n Merkwaardige komposisie van Haydn en een wat hom self moes gefassineer het, is Die Sewe Laaste Woorde van die Verlosser aan die Kruis. Dit is aanvanklik as 'n orkeswerk met sewe stadige dele op versoek van die Katedraal te Cadiz, Spanje geskep, maar die komponis het dit slegs twee jaar later as 'n strykkwartet verwerk. Op vier-en-sestigjarige ouderdom het Haydn dit uiteindelik ook as 'n koorwerk herskep.

Haydn het uiteenlopende interpersoonlike verhoudings met sy groot Weense medekomponiste gehad. Terwyl hy goed met Mozart bevriend was, kon hy en sy leerling Beethoven nie oor die weg kom nie. 'n Verdere interessantheid rondom Haydn is dat hy die melodie van die Oostenrykse volkslied geskryf het. Met die 1848-opstande is dit as Deutschland über Alles gesing en tydens die Weimar-era is dié statige lied tot amptelike Duitse volkslied verklaar. Haydn se jonger broer, Johann Michael (1737-1806), het self 'n groot hoeveelheid kerkmusiek en 52 simfonieë gekomponeer. Daarbenewens was hy 'n onderwyser van Weber.

Die Weense hoforrelis Johann Georg Albrechtsberger (1736-1809) was 'n onderwyser van Beethoven, wat volgens sy mening nie 'n belowende leerling was nie. Selde in die musiekgeskiedenis sou 'n oordeel so verkeerd bewys word! Sy eie komposisies was meesal op die gebied van gewyde en instrumentele musiek, maar hy word merendeels vir ‘n invloedryke handleiding oor komposisie onthou.

As vader van moontlik die grootste musiekgenie in die Westerse geskiedenis was Leopold Mozart (1719-87) vir sy hele volwasse lewe aan die Oostenrykse stad Salzburg verbonde: eers as student, vanaf 1743 as violis in die orkes van die aartsbiskop en prins, en vanaf 1762 as hofkomponis en kapelmeester. Naas sy professionele verpligtinge het hy baie tyd spandeer aan die opleiding en bekendstelling van sy hoogs begaafde kinders, Maria Anna (1751-1829) en Wolfgang. Sy bekendste komposisie is dalk die Kindersimfonie, waarin speelgoed-instrumente naas strykers en ‘n klavier gebruik word. Daarby het hy ‘n invloedryke boek oor vioolspel geskryf.

Sy seun Wolfgang Amadeus Mozart (1756-91) se komposisies is gedurende die negentiende eeu deur die musikoloog Ludwig Köchel gelys en in chronologiese volgorde gerangskik. Die komponis se gunsteling-musiekvorm was opera, waarvan hy tussen 14 en 20 (afhangende van die omskrywing daarvan) geskryf het. Daaronder tel sulke meesterwerke soos Idomeneo, Die Ontvoering uit die Harem, Die Huwelik van Figaro, Don Giovanni, Così fan tutte en Die Towerfluit. Altesaam 41 genommerde en verskeie ongenommerde simfonieë het uit Mozart se pen gevloei, waaronder nommers 35 (die Haffner), 36 (die Linz), 38 (die Praag), 39, 40 en 41 (die Jupiter) hoogs gewild geword het. Verdere orkeswerke van dié genie is 27 klavierkonserte, 5 vioolkonserte, 2 fluitkonserte, 'n hobokonsert, 'n fagotkonsert, 'n manjifieke klarinetkonsert, 'n konsert vir fluit en harp, 4 horingkonserte, verskeie serenades (waaronder die beroemde Eine kleine Nachtmusik vir strykers), die Sinfonia concertante vir viool en altviool, asook talle divertimenti, marse en danse.

Onder die aansienlike hoeveelheid kamermusiek van Mozart tel gewilde werke soos die klarinetkwintet, die horingkwintet, die laaste tien strykkwartette (nommers 14 tot 23) en die hobokwartet. Vir solo-instrumente het onder meer 17 klavier- en 42 vioolsonates verskyn. Om hierdie gedeeltelike dog reeds indrukwekkende lys mee af te sluit, kan daar verwys word na ongeveer 18 misse, waaronder die grootse Requiem (Mozart se laaste werk, wat deur sy leerling Süssmayr voltooi is) en die Kroningsmis, asook die motet Ave verum corpus. Dat dit alles in 'n kort leeftyd van 36 jaar geskep kon word, is 'n aanduiding van Mozart se genialiteit en grootsheid.

Karl Ditters von Dittersdorf (1739-99) het 'n groot hoeveelheid werke gekomponeer, waaronder ongeveer 40 operas, kerkmusiek, meer as honderd konserte, kamermusiek en klaviersonates. Sy bekendste werke is die twaalf simfonieë wat gebaseer is op die groot Romeinse digter Ovidius se Metamorfoses.

Verskeie lede van ‘n musikale Boheemse familie het in die agtiende eeu ‘n vername rol in die Duitse musieklewe gespeel. Veral bekend is die Benda-broers Frantisek (1709-86), Jiri Antonin (1722-95) en Josef (1724-1804). Die violis Frantisek (Franz) was vanaf 1732 verbonde aan die Berlynse hof van die Pruisiese kroonprins wat later Koning Frederik die Grote geword het. Hy was vanaf 1771 Frederik se konsertmeester, en het hom in fluitkonserte begelei. Meesal werke vir die viool, soos konserte en sonates, is deur hom gekomponeer. Sy broer Jiri Antonin (Georg) was ‘n voortreflike hobo- en klawerbordspeler en violis. Hy het vanaf 1742 in die Berlynse hoforkes gespeel en 6 jaar later kapelmeester vir die Hertog van Gotha geword. Die melodramas Arianna en Medea het uit sy pen gevloei, asook sinfonias. Josef het Frantisek as leier van Frederik die Grote se hoforkes opgevolg. ‘n Aantal van die drietal se seuns het ook bekendheid in Pruisiese hoforkeste verwerf.

‘n Volgeling van Domenico Scarlatti, die Spanjaard Antonio Soler (1729-1783) het ongeveer 120 klawerbordsonates geskryf. Hy het in 1752 ‘n moonik geword en in die jaar daarop orrelis van die Escorial-klooster. Daarby het hy kerkmusiek en kwintette vir orrel en strykers nagelaat.

Die tjello-virtuoos Luigi Boccherini (1743-1805) was hofkomponis vir die Pruisiese Koning Friedrich Wilhelm II, maar het nogtans in armoede gesterf. Hy het 'n groot hoeveelheid kamermusiek gekomponeer, waaronder 125 strykkwintette (waarvan een se Minuet baie gewild is), 102 strykkwartette, 60 strykertrios en 27 vioolsonates. Heelwat kerkmusiek, 'n opera en vier tjellokonserte het ook uit sy bedrywige pen gevloei.

Domenico Cimarosa (1749-1801) het indertyds roem verwerf met sy bykans sestig operas, waarvan Die geheime huwelik die bekendste was. Hy het ook kerkmusiek, liedere en klaviersonates geskryf, en was by geleentheid hofkomponis vir die Russiese Tsarin Katherina II en daarna vir die Oostenrykse Keiser Leopold II.

Nog 'n Weense hofkomponis, Antonio Salieri (1750-1825), was 'n onderwyser van sulke musiekreuse soos Beethoven, Schubert en Liszt. Daarbenewens het hy ongeveer veertig operas, heelwat kerkmusiek, 'n simfonie en verskeie konserte geskryf. Alhoewel hy in intriges teen Mozart betrokke was, is daar geen bewys vir die bewering wat die digter Poesjkin later sou maak dat Salieri vir Mozart vergiftig het nie.

'n Klaviervirtuoos wat wyd oor Europa opgetree het, Muzio Clementi (1752-1832), het die Weense musiekreuse Haydn, Mozart en Beethoven goed geken. Hy het ongeveer 60 klaviersonates en 'n reeks klavierstudies geskryf, waardeur hy veel gedoen het om die moontlikhede van die klavier te verbreed en ander komponiste in hul komposisies vir dié instrument te beïnvloed.

Nicola Antonio Zingarelli (1752-1837) het 35 operas, talle oratoriums en kantates, en 'n groot hoeveelheid kerkmusiek gekomponeer. Toe hy nie in 1811 'n Te Deum ter viering van Napoleon se seun wou uitvoer nie, is hy van sy pos aan die Sint Petruskatedraal in Rome onthef. Dit het nietemin nie verhinder dat sy kantate Isaiah in 1829 by die Birmingham-fees opgevoer word nie.

Die Duitser Josef Martin Kraus (1756-92) het hofdirigent aan die Sweedse koningshuis geword. Toe Koning Gustav III vermoor is, het Kraus die kragtige Begrafnismusiek vir sy voormalige beskermheer gekomponeer. Daarbenewens het hy vier simfonieë, ouvertures, kamermusiek en koorwerke geskryf.

'n Komponis wat vir Beethoven beïnvloed het, was Maria Luigi Cherubini (1760-1842). Hy het talle operas en heelwat kerkmusiek geskryf, asook ses strykkwartette en ses klaviersonates. Franz Danzi (1763-1826) het onder meer vier fluitkonserte geskryf.

Die groot violis Rodolphe Kreutzer (1766-1831) het in diens gestaan van sulke bekende en uiteenlopende figure soos Lodewyk XVI, Napoleon en Lodewyk XVIII. Terwyl op toer in Oostenryk het hy Beethoven ontmoet, wat 'n sonate vir viool en klavier aan Kreutzer opgedra het. Sy aansienlike lys komposisies sluit 21 vioolkonserte (waaronder twee vir twee viole), 'n konsert vir viool en tjello, 15 strykkwartette, 15 strykertrios, 40 Etudes vir soloviool en 40 operas in.

Soos in die geval van Barok- en Rococo-musiek, is ook die Klassieke era deur Duitse en Italiaanse komponiste oorheers. Eers met die daaropvolgende tydvak sou dié situasie begin verander.

Alhoewel Ludwig van Beethoven (1770-1827) heelwat minder werke (altesaam 135 genommerdes) as Bach, Haydn of Mozart geskryf het, het dié feit nog nooit afbreuk aan sy massiewe statuur as komponis gedoen nie. Ten spyte van sy doofheid het hierdie musiekreus deur die krag en intensiteit van sy werke die Romantiese tydvak in Westerse musiek feitlik eiehandig ingelui, sodat sy invloed nog dwarsdeur die negentiende eeu en tot in die twintigste eeu voortgeduur het.

Soos Mozart voor hom het Beethoven in al die musiekvorme uitgeblink. Onder sy nege simfonieë het veral nommers Drie (die Eroica), Vyf, Ses (die Pastorale), Sewe en Nege (die Koorsimfonie) besonder gewild geraak, benewens die invloed wat hulle op komponiste so uiteenlopend soos Schubert, Mendelssohn, Berlioz, Wagner, Brahms, Bruckner en Mahler uitgeoefen het. Sy vyf klavierkonserte en vioolkonsert word as die bestes in hul onderskeie vorme beskou. Verdere gewilde orkeswerke is die ouvertures Egmont, Coriolanus, Fidelio, Leonore (1, 2 en 3), Naamgeedag, Die Wyding van die Huis, Koning Stephan, Die Ruïnes van Athene en Die Skepsels van Prometheus; twee Romanses vir viool en orkes; die konsert vir klavier, viool en tjello; en die onderskatte dog pragtige Koorfantasie vir klavier, koor en orkes.

Onder Beethoven se kamermusiek kan die septet, die 16 strykkwartette en die Aartshertog- klaviertrio uitgesonder word. Sy 32 klaviersonates, waaronder sulke beroemdes soos nommers 8 (die Pathétique), 14 (die Maanlig), 21 (die Waldstein), 23 (die Appassionata) en 29 (die Hammerklavier), het sedertdien die standaard gestel waaraan alle werke in dié vorm gemeet word. Verdere sonates wat uit Beethoven se pen gevloei het, is tien vir viool, waaronder die gewilde nommers 5 (die Lente) en 9 (die Kreutzer), vyf vir tjello en een vir horing en klavier. Sy bekendste koorwerk is die magtige Missa Solemnis. Slegs een opera is deur Beethoven gekomponeer, naamlik Fidelio, maar dit het baie gewild onder opera-liefhebbers geword. Daarbenewens het verskeie liedere verskyn, insluitend die siklus An die ferne Geliebte (Aan die verre geliefde). Voorwaar 'n skeppingslys om op trots te wees.