If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Barok

Die koms van die Barok-era in die sewentiende eeu het ‘n belangrike wending in Westerse musiek ingelui. Nogeens is die musiekstyl na die heersende boustyl vernoem. In hierdie tydperk is daar grotendeels na volmaaktheid van vorm gestreef, hoewel die inhoudelike geensins afgeskeep is nie. Barokmusiek word deur 'n swierige styl en gekonsentreerde instrumentasie gekenmerk. Musiekvorme wat in hierdie tydperk tot stand gekom en verder ontwikkel is, is die opera (veral te danke aan Monteverdi), die oratorium (veral Handel), die kantate (veral Telemann), die toccata en die fuga (veral Bach), kamermusiek (veral D. Scarlatti), en die instrumentele konsert (waarin veral Vivaldi 'n groot aandeel gehad het).

Barokmusiek kan rofweg in drie tydperke onderverdeel word, te wete vroeë, middel en laat Barok. Elkeen daarvan het ongeveer 'n halfeeu geduur, vanaf 1600 tot 1650, vanaf 1650 tot 1700, en vanaf 1700 tot 1750 onderskeidelik. Die vernaamste komponiste en hul werke word vervolgens in chronologiese volgorde bespreek.

Die Italiaanse orrelis Jacopo Peri (1561-1633) was 'n baanbreker wat met medewerkers die eerste Westerse opera, La Dafne, getoonset het. Dit was in ‘n monodiese styl, maar die musiek daarvan het helaas verlore geraak. Sy volgende opera, Euridice (1600), het die eerste geword wat behoue gebly het. Dele daarvan is geskryf deur Giulio Caccini (1551-1618), wat in dieselfde jaar die opera Il rapimento di Cefalo geskryf het vir die troue van Maria de Medici en die Franse koning Henri IV. Hy het ook ‘n pragtige toonsetting van die Ave Maria vir solis en orkes nagelaat. Beide komponiste was deel van ‘n Florentynse vereniging van digters en musici genaamd Camerata, wat daarna gestreef het om die musiek en drama van antieke Griekeland te herskep.

Hul landgenoot, die Fransiskaanse monnik Lodovico Viadana (ong. 1560-1627), het 'n aansienlike hoeveelheid gewyde musiek geskryf, waarvan Cento concerti ecclesiastici, a una, a due, a tre & a quattro voci ('n versameling van honderd stukke vir een, twee, drie of vier stemme met orrelbegeleiding) die bekendste was. Die Anerio-broers, Felice (ong. 1560-1614) en Giovanni (ong. 1567-1630), het heelwat madrigale en kerkmusiek geskryf, naas die feit dat Felice vanaf 1594 tot 1602 komponis van die pouslike kapel in Rome was. Onder hul meer bekende komposisies tel ‘n pragtige Requiem deur Giovanni en motette deur Felice.

Die vernaamste Italiaanse komponis van die vroeë Barok was Claudio Monteverdi (1567-1643). As begaafde sanger, orrelis en violaspeler het hy op 16 sy eerste gewyde madrigale gepubliseer. Hy was aanvanklik in diens van die Hertog van Mantua, met wie hy aan militêre ekspedisies langs die Donau en in Vlaandere deelgeneem het. Met sy eerste opera, La favola d’Orfeo (1607), is die begeleiding vir die eerste keer in die musiekgeskiedenis deur ‘n volle orkes gedoen. Sy indrukwekkende Vespro della beata Vergine (‘Vespers vir die Geseënde Maagd’) is in 1610 gepubliseer, en 3 jaar later het hy musiekmeester van die Venesiese Republiek geword. Terselfdertyd het hy Giovanni Gabrieli as kapelmeester van die Sint Markuskatedraal opgevolg, waarvoor hy ‘n groot aantal gewyde werke sou skryf. Dit het hom dwarsoor Europa bekend gemaak, en hy is in Venesië besoek deur Schütz. Sy musiek is bestudeer deur groot tydgenote soos Praetorius in Duitsland en Tomkins in Engeland. Tragies genoeg is die musiek vir 12 van sy operas vernietig toe Venesië in 1630 deur Oostenykse troepe geplunder is. Hy is in 1632 tot priester gewy, maar dit het hom nie verhinder om in sy laaste lewensjare sy twee grootste operas, L'incoronazione di Poppea en Il ritorno d'Ulisse in patria, te komponeer nie.

Monteverdi word as die vernaamste musikale brug tussen die Renaissance en Barok beskou, weens sy verbeeldingryke transformasie van tradisonele vorme en style eerder as op rewolusionêre wyses. Sy kerkmusiek sluit naas die beroemde Vespers ook 2 misse, ‘n versameling madrigale en talle motette in. ‘n Groot aantal sekulêre madrigale is oor ‘n tydperk van 40 jaar deur hom geskryf, waarin instrumentele begeleiding en ‘n meer dramatiese styl na vore gekom het. Sy operas word as die eerste musiekdramas beskou, met gebruik van leitmotiv en karakters wat menslik eerder as simbolies is. Hy het voorts ‘opera-ballette’ soos Ballo delle ingrate en Combattimento di Tancredi e Clorinda nagelaat. Die twintigste eeu sou ‘n enorme oplewing van belangstelling in hierdie besondere komponis aanskou.

Sover dit musiekteorie betref, het die orrelis Adriano Banchieri (1568-1634) ‘n belangrike bydrae met sy boeke oor begeleiding en sang gelewer. Hy het in 1613 kloosterhoof van Monte Oliveto geword. Naas kerkmusiek het hy voorlopers van komiese operas gekomponeer. Daarby het hy pionierswerk vir instrumentele ensembles gedoen.

Die priester Gregorio Allegri (1582-1652) word hoofsaaklik onthou vir sy gevierde koorwerk Miserere - ‘n toonsetting in 9 stemme van Psalm 51, wat vir 'n lang tyd die jaloers bewaarde eiendom van die Sistynse Kapel in Rome was. Hulle kon egter nie Mozart se genialiteit voorsien nie: as veertienjarige besoeker het hy ná 'n uitvoering die werk uit geheue neergeskryf. Girolamo Frescobaldi (1583-1643) was vanaf 1608 vir 20 jaar orrelis van die Sint Petruskatedraal in Rome. So groot was sy reputasie as virtuoos dat 30 000 mense na bewering sy eerste uitvoering daar bygewoon het. Hoewel hy ook kerkmusiek gekomponeer het, was sy vernaamste bydrae sy toccatas, fugas en ander werke vir orrel en klawesimbel. Vir bykans ‘n eeu is Barokmusiek deur sy ontwikkeling van variasie-vorm beïnvloed. Deur sy leerling Froberger het sy musiek ‘n aansienlike invloed op Duitse musiek uitgeoefen.

Die vernaamste Italiaanse opera-komponis van die sewentiende eeu was Pietro Francesco Cavalli (1602-76). Hy was aanvanklik ‘n koorsanger en later ‘n orrelis in die Sint Markuskatedraal in Venesië, waar hy moontlik ‘n leerling van hul beroemde musiekdirekteur Monteverdi was. Vanaf 1639 tot 1670 is 40 van sy operas in Venesië opgevoer, waarvan La Calisto in die twintigste eeu die bekendste sou word. Sy opera Xerse is in 1660 in Parys opgevoer as deel van Koning Lodewyk XIV se huweliksviering. Hy het ook kerkmusiek geskryf, waaronder ‘n Requiem en Vespers vir die Aankondiging.

As koormeester in Assisi en Rome was Giacomo Carrissimi (1605-74) 'n vroeë komponis van oratoriums, soos Jephte en Jonas. Daarin het hy gepoog om Monteverdi se vernuwings in opera by gewyde drama aan te pas. Voorts het misse en motette uit sy pen gevloei, en in Rome was hy vanaf 1656 ook koormeester vir die geabdikeerde Sweedse koningin Christina. Hy was daarby hy ‘n onderwyser van Charpentier.

Die Nederlandse orrelis Jan Pieterszoon Sweelinck (1562-1621) het sy vader in ongeveer 1580 as orrelis van die Oude Kerk in Amsterdam opgevolg, ‘n pos wat hy tot sy dood sou beklee. Hy het uitgeblink in die komposisie van werke vir klawerbord, waaronder variasies en fantasias vir die orrel tel. As pionier van die fuga het hy die grondslae gelê vir Bach se groot werke in dié vorm. Daarbenewens het hy meer as 250 vokale werke geskryf, insluitend toonsettings van al die Psalms. In sy 70 werke vir klawerbord is hy deur die Engelse en Italiaanse komponiste van sy tyd beïnvloed, terwyl hy self ‘n invloedryke leermeester van Duitse komponiste soos Scheidt en Scheidemann was.

In Duitsland is die Barok-era ingelui deur Michael Praetorius (1571-1621); sy van is die Latynse vorm van Schultz. Hy was ‘n orrelis wat ‘n groot aantal werke in verskeie vorme geskryf het, insluitend ‘n Lutherse Kersfeesmis en instrumentele werke soos danse. Daarby was hy ‘n belangrike musiekhistorikus: in sy Syntagma musicum (1614-21) word ‘n wye oorsig van musiek aangetref, insluitend die instrumentasie van sy tyd. Sy werk sou voortgesit word deur die Sch-drietal van Schütz, Schein en Scheidt.

Die orrelis Heinrich Schütz (1585-1672) sou die vernaamste Duitse komponis van die sewentiende eeu word - volgens sommige kenners was hy die grootste Duitse komponis tussen Luther en Bach. Hy is in 1609 na Venesië om onder Giovanni Gabrieli te gaan studeer. Vanaf sy terugkeer in 1613 was hy verbonde aan die howe in Kassel, Dresden en Kopenhagen. In 1627 het hy die eerste Duitse opera geskryf, Dafne, maar die musiek daarvan is in 1760 deur ‘n brand vernietig. Hy is in 1628/9 weer na Italië om onder andere Monteverdi te besoek. Hy het 'n enorme hoeveelheid gewyde musiek geskryf, waarin die Italiaanse vokale styl met Duitse polifonie versoen is. Sy bekendste werke is stellig die Kersfeesoratorium, die Sint Mattheüspassie, ‘n Duitse Requiem, die Psalmen Davids en die Sewe Woorde van Jesus Christus aan die Kruis. In die laat negentiende eeu is sy werke in 16 volumes deur die musiekgeleerde Phillipp Spitta geredigeer.

Die sanger Johann Hermann Schein (1586-1630) was aanvanklik aan die howe in Dresden en Weimar verbonde. Vanaf 1616 was hy kantor van die Sint Thomas-skool in Leipzig, ‘n pos wat Bach meer as ‘n eeu later sou beklee. Hy het byna 100 korale getoonset, naas gewyde gesange en liedere, motette, madrigale en instrumentele dans-suites wat uit sy pen gevloei het.

Vir sy hele volwasse lewe sou Samuel Scheidt (1587-1654) aktief wees in die musieklewe van sy geboortestad Halle: eers as kerkorrelis, daarna as koormeester vir die Markgraaf van Brandenburg, en eindelik as hofdirigent. Hy het baie vokale musiek geskryf, waaronder 70 Symphonien vir 3 stemme en basso continuo. Sy orrelwerke het invloedryke vernuwing in Duitse musiek meegebring, en in 1624 het hy ‘n lywige boek oor orrelmusiek gepubliseer.

Die orrelis Johann Jakob Froberger (1616-67) is in 1637 na Italië om vir vier jaar onder Frescobaldi te gaan studeer. Vervolgens het hy deur verskeie lande in noordwes-Europa getoer voordat hy die pos as hoforrelis in Wenen opgeneem het. Soos verwag kon word, het hy meesal werke vir orrel en klawesimbel gekomponeer, soos toccatas, partitas en van die vroegste klawerbordsuites.

As klawesimbelspeler aan die hof van die Franse koning Lodewyk XIV het Jacques Champion de Chambonnières (ong. 1602-72) talle werke vir sy instrument geskryf. Dit is in 1670 in twee boeke uitgegee, waardeur hy 'n aansienlike invloed op jonger komponiste uitgeoefen het. Hy word beskou as die grondlegger van die Franse klawesimbelskool en was 'n leermeester van onder meer Louis Couperin.

Vanaf die sestiende tot negentiende eeue het die Couperin-familie ‘n prominente rol in die Paryse musieklewe gespeel. Hulle sou byvoorbeeld vir langer as 170 jaar orreliste vir die St Gervais-kerk oplewer. Die bekendstes onder hul is Louis Couperin (ong. 1626-61) en sy kleinneef Francois (sien verderaan). Louis was ‘n kerkorrelis en violis, en was een van die voortreflikste komponiste van klawerbordwerke van sy tyd (nie minder nie as 132 in getal). Daaronder tel suites en preludes vir klawesimbel. Hy was voorts 'n pionier van strykersonates vir een of drie instrumente.

Die Portugees Manuel Cardoso (1566-1650) het die grootste deel van sy lang lewe as orrelis en koormeester in Lissabon deurgebring. Hy was ook vir ‘n tyd (1618-25) in diens van die Hertog van Barcelona, wat later Koning Juan IV sou word. Misse, motette en ander kerkmusiek het uit sy pen gevloei, waarin die invloed van Palestrina bemerk kan word. Helaas is baie van sy werke tydens die brand in Lissabon in 1755 vernietig.

In Brittanje was Peter Philips (ong. 1561-1628) aanvanklik ‘n koorknaap in die Sint Pauluskatedraal in Londen. Omdat hy soos talle van sy tydgenote Rooms-Katoliek was, het hy in 1582 na Italië gevlug. Daar was hy vir drie jaar ‘n orrelis by die Engelse Kollege, waarna hy met Thomas Paget na Switserland, Spanje en Frankryk gereis het. Hy het hom in 1590 in Antwerpen as hoforrelis gevestig en drie jaar later die gevierde orrelis Jan Sweelinck in Amsterdam besoek. In dieselfde jaar (1593) is hy gearresteer omdat hy kwansuis by ‘n sameswering om Koningin Elizabeth I te vermoor, betrokke was. Hy is egter verontskuldig en vrygelaat, en in 1597 het hy die diens van die Aartshertog van Brussels betree. Tot sy dood sou hy die pos beklee, en in 1613 is hy deur sy landgenoot John Bull besoek. Hy het voortreflike motette, madrigale, misse en psalmtoonsettings geskryf.

Die orrelis John Bull (ong. 1562-1628) was in diens van Elizabeth I en James I, maar hy het in 1613 weens beskuldigings van egbreuk na België gevlug. Hy sou die res van sy lewe in dié land deurbring, as orrelis van die hofkapel in Brussels en die Antwerpen katedraal. Daar het hy met die groot orrelis Jan Sweelinck bevriend geraak. Alhoewel Bull soos meeste van sy tydgenote kerkmusiek geskryf het, was hy veral vir sy uitmuntende komposisies vir klawerbord (meer bepaald vir die virginaal) bekend. Hy word onder die pioniers van Engelse klawerbordpraktyk gereken.

Die vermaarde luitspeler en sanger John Dowland (ong. 1563-1626) was in die vroeë 1580’s in diens van die Britse ambassadeur in Parys, waar hy Katoliek geword het. Vervolgens was hy as luitspeler verbonde aan verskeie howe in Duitsland en Italië, en vanaf 1598 tot 1606 was hy in diens van Koning Christian IV van Denemarke. Terug in sy geboorteland was hy ‘n hofmusikus vir die Engelse konings James I en Charles I. Hy het die belangrikste komponis van solo-liedere met luitbegeleiding geword, waarvan 87 in sy leeftyd gepubliseer is. Verder het hy instrumentele werke geskryf, soos fantasias en dansstukke vir luitsolo.

Ook die veelsydige Thomas Campion (1567-1620) het uitgeblink in die komposisie van luitliedere. Hy het voorts seremoniële musiek genaamd masques vir die hof van Koning James I geskryf, naas literêre kritiek en ‘n verhandeling oor kontrapunt. Op sy beurt het Giles Farnaby (1563-1640) voortreflike werke vir die virginaal (‘n voorloper van die klawesimbel) gekomponeer, waaronder fantasias en canzonets. Daarby het hy toonsettings van verskeie Psalms gedoen. Die leëroffisier Tobias Hume (ong. 1569-1645) was ‘n komponis van werke vir lier-viool (Engels ‘lyra-viol’), waarvan ‘n groot hoeveelheid in 1607 onder die titel Captaine Humes Poeticall Musicke uitgegee is.

Soos met vele ander groot musici die geval was, het die Walliese orrelis Thomas Tomkins (1572-1656) uit ‘n musikale famile gekom. Hy was vir nie minder nie as 50 jaar lank orrelis van die Worcester Katedraal (1596-1646). In dié tyd was hy ook verbonde aan die hofkapel, en in 1625 het hy die musiek vir die kroning van Koning Charles I gekomponeer. Hy het baie kerkmusiek geskryf, waaronder 95 gesange, maar word veral vir sy veelstemmige madrigale onthou.

‘n Jonger kollega van Dowland en Tomkins, die hoforrelis Orlando Gibbons (1583-1625), het 'n groot hoeveelheid werke in 'n verskeidenheid musiekvorme gekomponeer. Daaronder tel motette, madrigale, gesange, fantasias vir solo-viool, kamermusiek en klawerbordwerke. In die Anglikaanse kerk word sy veelstemmige gesang This is the Record of John steeds gesing. Sy ouer broer Ellis (1573-1603) het ook madrigale geskryf, terwyl sy seun Christopher (1615-76) ook ‘n hoforrelis was wat gesange, stryker-fantasias en klawerbordwerke gekomponeer het.

Gedurende die vroeë sewentiende eeu het daar in Engeland 'n enorme oplewing in die komposisie van madrigale plaasgevind, ironies genoeg terwyl dit in Italië besig was om uit die mode te raak. Die bekendste komponiste daarvan was die orrelis Thomas Weelkes (ong. 1567-1623) en John Wilbye (1574-1628). Beide het ook kerkmusiek geskryf, en Weelkes instrumentele werke vir violas daarby. Wilbye het in 1613 ‘n welaf grondeienaar geword en daarna skynbaar niks gekomponeer nie

Hoewel Jean-Baptiste Lully (1632-87) as die Italianer Giovanni Battista Lulli gebore is, is hy op 14 na Frankryk, waar hy vir die res van sy lewe in diens van Koning Lodewyk XIV sou wees. Hy het in 1661 Franse burgerskap aanvaar en word beskou as die grondlegger van Franse opera. Dit is voorafgegaan deur sy komedie-ballette, waarvan die bekendste Le Bourgeois Gentilhomme is. Nadat hy van die koning die alleenreg verkry het om operas in Parys op te voer, het hy vir sy laaste 14 jaar op dié vorm gefokus. Hy het nie slegs die operas geskryf nie, maar ook die sangers met streng dissipline opgelei en die opvoerings gedirigeer. Voorts het hy kerkmusiek gekomponeer, soos 5 volumes Grands Motets. Sy dood is op 'n heel ongewone wyse teweeggebring: hy het aan bloedvergiftiging gesterf nadat hy sy voet tydens 'n uitvoering met 'n dirigeerstok raakgeslaan het.

Daarenteen het Marc-Antoine Charpentier (ong. 1643-1704) nooit ‘n hofpos beklee nie, maar was hy vanaf 1698 musiekmeester van Saint-Chapelle in Parys. Daar het hy van sy beste kerkmusiek gekomponeer, waaronder 10 toonsettings van die Magnificat, 4 van Te Deum, ‘n dodemis, die Vespres à la Vierge, en meer as 200 motette tel. Laasgenoemde sluit heelwat motette vir Kersfees in. Sy verhoogwerke soos Actéon, Les arts florissants, David et Jonathas en Médé het in die laat twintigste eeu opnuut gewild begin raak nadat dit lank in die vergetelheid verkeer het.

Die Deen Dietrich Buxtehude (1637-1707) het in 1668 orrelis van die Marienkirche (‘Maria-kerk’) in Lübeck geword, vanwaar sy roem as virtuoos dwarsoor Europa sou versprei. Só groot was dit dat die negentienjarige Bach meer as driehonderd kilometer van Arnstadt gestap het om Buxtehude te hoor speel. Die meesterorrelis het ook die praktyk herstel om musiekuitvoerings in samehang met kerkdienste te gee. Dit is Abendmusiken (aandkonserte) genoem en is jaarliks op die 5 Sondae voor Kersfees (die Advent-seisoen) aangebied. Benewens orrelmusiek (waardeur Bach beïnvloed is) het Buxtehude ook kerkmusiek, instrumentele sonates en klawesimbelwerke geskryf. Onder sy 20 kantates is die siklus Membra Jesu Nostri die bekendste. In sy arias kan die invloed van Monteverdi bemerk word.

Die Boheems-gebore violis Heinrich von Biber (1644-1704) het in 1684 kapelmeester in Salzburg geword, waar hy die res van sy lewe sou bly. Hy het heelwat vir die viool gekomponeer, waaronder sonates wat as virtuooswerke beskou word. Sy Batallia is ‘n vroeë voorbeeld van programmusiek. Nog ‘n Duitse orrelis, Johann Pachelbel (1653-1706), het hof- en kerkposte in Wenen, Eisenach, Erfurt, Stuttgart en Nürnberg beklee. Met sy klawesimbelsuites en talle orrelkorale het hy die weg vir Bach help voorberei. Onder sy instrumentele werke tel die hoogs gewilde Kanon in D vir 3 viole en orrel. Hy het ook voortreflike kerkmusiek gekomponeer, insluitend 13 toonsettings van die Magnificat. Op sy beurt was Georg Muffat (1653-1704) ‘n orrelis vir die biskoppe van Salzburg en Passau, en later kapelmeester vir lasgenoemde. Hy het orrelwerke en concert grossi agtergelaat.

Soos die sestiende eeu was die sewentiende ‘n veelbewoë tyd in die Britse geskiedenis, maar anders as in die vorige eeu wat deur die stryd tussen Katoliek en Protestant gekenmerk is, het daar hierdie keer ‘n stryd tussen koning en parlement gewoed. Dit het gelei tot die Engelse Burgeroorlog, die onthoofding van Koning Charles I, die Puriteinse skrikbewind van Oliver Cromwell, en die herstel van die monargie onder Charles II in 1660. ‘n Musikus wie se lang lewe hom in staat gestel het om al hierdie gebeure te beleef, was John Jenkins (1592-1678). Hy was in diens van beide Charles I en Charles II, en het meer as 800 instrumentele werke geskryf. Daaronder tel 12 sonates vir 2 viole, basstryker en continuo (orrel of theorbo), en vele fantasias en ander werke vir viola’s.

Ook die broers Henry Lawes (1596-1662) en William Lawes (1602-45) het hofposte in dié onstuimige tyd beklee. Beide was in diens van Koning Charles I, en beide het madrigale, liedere en teatermusiek gekomponeer. William het vanaf 1642 in die koninklike leër in die burgeroorlog geveg, en het tydens die beleg van Chester gesneuwel. Hy word as een van die mees invloedryke Britse komponiste beskou, en het ook werke vir viola’s en ander instrumente geskryf. Sy ouer broer het die stryd oorleef en het in 1660 die gesang Zadok the Priest vir die kroning van Charles II getoonset. Henry se laaste twee lewensjare is dus opnuut in koninklike diens deurgebring.

Een van die eerste koorsangers in die herstelde hofkapel van Koning Charles II was John Blow (1649-1708), wat later orrelis van die Westminster Abdy en koormeester van die Sint Pauluskatedraal sou wees. Hy het meer as 100 gesange geskryf, maar sy bekendste werk is die miniatuur-opera Venus and Adonis. Daarby was hy ‘n leermeester van Purcell (sien verderaan) en die orrelis Jeremiah Clarke (ong. 1674-1707). Laasgenoemde het heelwat kerkmusiek geskryf, maar sy bekendste werk is stellig The Prince of Denmark’s March, wat later onder die titel Trumpet Voluntary aan Purcell toegeskryf is. Volgens oorlewering het hy weens ‘n liefdesteleurstelling selfmoord gepleeg.

Die grootste Engelse komponis van die Barok-era, indien nie van alle tye nie, was Henry Purcell (1659-95). Soos sy leermeester Blow was hy aanvanklik ‘n koorsanger in die hofkapel en later orrelis van die Westminster Abdy. Hy het in 1680 met die komposisie van sy groot aantal verwelkomingsodes vir amptelike geleenthede begin, asook met die geleentheidsmusiek wat hy vir die teater geskryf het. Vanaf 1682 was hy ook ‘n hoforrelis, en 3 jaar later het hy die gesang My Heart is Inditing vir die kroning van James II gekomponeer. Hy het verder in 1689 musiek vir die kroning van William III en Mary II geskryf, en 6 jaar later het hy die aangrypende begrafnismusiek vir die ontslape koningin daargestel. Enkele maande later is dit vir sy eie begrafnis gebruik.

Purcell het in al die musiekvorme van die Barok gekomponeer, met werke wat gekenmerk word deur vindingrykheid, drama en gevoelvolheid. Sy opera Dido and Aeneas word as die eerste groot Engelse werk in dié genre beskou. Dit is in 1689 vir die eerste keer by ‘n kosskool vir meisies in Chelsea opgevoer. Hy het ook semi-operas soos King Arthur, The Fairy Queen en The Indian Queen geskryf, en grootse koorwerke soos Jubilate Deo, Te Deum, Ode for St Cecilia’s Day (4 weergawes) en Rejoice in the Lord always. Onder sy instrumentele werke tel vele triosonates, viool-fantasias en klawesimbelsuites. Voorts het hy talle liedere geskryf, wat deur kenners as die beste in Engels beskou word.

Die Italianer Arcangelo Corelli (1653-1713) was 'n vioolvirtuoos wat verbonde was aan die hof van die geabdikeerde Sweedse koningin Christina, en daarna in diens van twee kardinale. Sy 60 vioolsonates en 12 Concerti grossi het veel bygedra het om die viool as instrument te populariseer. Laasgenoemde is 'n gewilde Barok-musiekvorm waarin 'n groep solo-instrumente met die res van die orkes gekontrasteer word. Corelli se musiek het ‘n aanmerklike invloed op die solo-sonates en konserte van Bach en Handel uitgeoefen. Veral gewild is sy Kersfeeskonsert. Sy landgenoot Giuseppe Torelli (1658-1709) was ook 'n baanbreker op die gebied van die concerto grosso.

In Duitsland het Johann Phillipp Krieger (1649-1725) meer as 50 operas geskryf, asook heelwat kamermusiek, kerkmusiek en gewyde liedere. Sy orrelis-broer Johann (1652-1735) was vir langer as 50 jaar musiekdirekteur in Zittau. Met sy preludes en fugas vir orrel het hy die bewondering van Handel afgedwing, en daarby het hy liedere en kamermusiek gekomponeer.

Die Boheemse regsgeleerde Johann Kuhnau (1660-1722) was as Bach se voorganger aan die Sint Thomaskerk in Leipzig verbonde, eers as orrelis en later as kantor. Hy het voortreflike werke vir klawerbord gekomponeer, insluitend werke op Bybelse temas wat as vroeë voorbeelde van programmusiek beskou word.

Die Oostenryks-gebore orrelis Johann Fux (1660-1741) was vanaf 1696 in Wenen werksaam as orrelis, koormeester en imperiale kapelmeester. Vanaf 1716 het hy voltyds gekomponeer, en in 1725 is sy werk Gradus ad Parnassum gepubliseer waarin die reëls vir kontrapunt uiteengesit is. Onder sy meer as 400 werke tel 20 operas, 14 oratoriums, ongeveer 80 misse, en instrumentele partitas.

Een van die gewildste komponiste in Duitsland in sy leeftyd was Reinhard Keiser (1674-1739). Hy het meer as 100 operas vir Hamburg geskryf, asook 'n groot hoeveelheid kerk- en instrumentele musiek. Sy weelderige arias en instrumentasie is nageboots deur Handel, wat viool en klawesimbel by die Hamburg Opera onder leiding van Keiser gespeel het. Nietemin was laasgenoemde so jaloers op die sukses van sy jonger kollega se opera Almira in sy eie noord-Duitse musiekvesting dat hy 'n jaar later dieselfde libretto getoonset het. Onder sy kerkmusiek tel treffende oratoriums en Passies.

Die selfopgeleide orrelis Georg Philipp Telemann (1681-1767) is deur sy tydgenote as die vernaamste Duitse komponis beskou. Dit verbaas dus nie dat hy in 1722 voor sy vriend Bach as kantor van die Sint Thomaskerk in Leipzig aangestel is nie. Sy werkgewer (die stadsvaders van Hamburg) het hom egter terstond tot musiekdirekteur van die stad se operahuis bevorder, sodat hy die res van sy lewe in Hamburg sou deurbring. Hy het vanaf tienjarige ouderdom tot aan die einde van sy leeftyd van 86 jaar gekomponeer en die verbysterende getal van meer as drieduisend werke geskryf. Daaronder tel minstens 12 kantate-siklusse (met ongeveer 50 kantates in elk), ongeveer 40 elk van passies, operas en serenades, ongeveer 600 orkessuites, heelwat kamermusiek en talle klawerbordwerke. In die laat twintigste eeu het sy gewildheid weer begin toeneem, veral van sy konserte vir 'n groot verskeidenheid instrumente, die 3 dele Tafelmusiek en ander orkessuites, die triosonates en die fluit-fantasias.

Een van die grootste geeste van Westerse musiek is George Frideric Handel (1685-1759), wat as Georg Friedrich Händel in Duitsland gebore is. Hy het aanvanklik regte studeer omdat sy vader gekant was teen ‘n musiekloopbaan, maar na Händel senior se afsterwe kon musiekstudies in sy geboortestad Halle wel plaasvind. Hy is in 1703 na Hamburg, waar hy viool in die orkes van die operahuis gespeel het. Sy eerste operas is ook vir Hamburg geskryf. In 1706 is hy na Italië, waar hy Corelli en die twee Scarlatti’s ontmoet en verdere operas gekomponeer het. Na die sukses van sy opera Rinaldo in Londen het hy hom in 1712 in die Britse hoofstad gevestig. Hy sou die res van sy lewe daar bly en burgerskap verkry. In Londen het hy ‘n groot aantal operas geskryf, asook die Watermusiek suite en die 4 Kroningsgesange, laasgenoemde vir die kroning van George II in 1727. Vanaf die vroeë 1730’s het sy fokus na die komposisie van oratoriums verskuif, en in 1737 het hy weens ooreising ‘n beroerte gehad. Na sy herstel het hy nog oratoriums geskryf, waarvan Messiah in 1742 in Dublin uitgevoer is en vir die komponis blywende roem verseker het. Sy laaste 7 jaar is blind geslyt.

Handel se oorheersing van die Engelse musiektoneel het langer as 'n eeu geduur, totdat die geniale Mendelssohn sy verskyning daar gemaak het. Sy vernaamste bydrae tot die Westerse musiekerfenis is die groot aantal operas en oratoriums wat hy geskryf het. Laasgenoemde is merendeels op Bybelse tema’s gebaseer, en sluit naas Messiah ook Athalia, Deborah, Gideon, Nabal en Saul in. Vir bykans 150 jaar na sy dood is hy byna uitsluitlik vir sy oratoriums vereer, maar sedert die herlewing van sy operas in Duitsland in die 1920’s is ‘n meer gebalanseerde siening daargestel. Naas die oratoriums en ongeveer 100 kantates het hy baie kerkmusiek gekomponeer, waaronder bekendes soos die Utrecht Te Deum, die Dettingen Te Deum en die 11 Chandos Anthems tel. Ook sy instrumentele werke is van ‘n hoogstaande gehalte. Gewilde werke daaronder is die Koninklike Vuurwerkemusiek, 18 concerti grossi (waarin hy deur Corelli beïnvloed is), klawesimbelsuites, triosonates en orrelkonserte.

Die grootste Westerse komponis van alle tye is stellig Johann Sebastian Bach (1685-1750). Hy was lid van ‘n familie wat vir 3 eeue ‘n sentrale rol in die Duitse musieklewe gespeel het: nie minder nie as 53 van hulle het poste as orreliste, kantors of dorpsmusici beklee. Johann Sebastian het as tienjarige weeskind by sy ouer broer Johann Christoph gaan woon, van wie hy klavier- en orrellesse ontvang het. Op 15 het hy in die koor van die Sint Michael-kerk in Lüneburg begin sing, waar hy oor die volgende 3 jaar (1700-3) veel van die orrelis Georg Böhm sou leer. Vervolgens het sy loopbaan soos volg ontvou:
(i) Orrelis agtereenvolgens in Arnstadt (1703-7), Mühlhausen (1707/9) en Weimar (1709-17), laasgenoemde in diens van die hertog. Tydens sy verblyf in Arnstadt het hy ‘n legendariese staptog van meer as 300 km onderneem om Buxtehude in Lübeck te hoor orrel speel. Hy het in dié tydperk al begin om orrelwerke en gewyde kantates te skryf;
(ii) Kapelmeester aan die hof van Anhalt-Cöthen (1717-23), waartydens instrumentele werke soos die Brandenburgkonserte, vioolkonserte, suites, sonates en klavierwerke gekomponeer is; en
(iii) Kantor van die Sint Thomaskerk in Leipzig (1723-50). Hier sou meer as 250 gewyde kantates, die Sint Mattheüspassie, die Mis in B mineur, die Kersfeesoratorium, die Goldberg-variasies en die (onvoltooide) Kuns van die Fuga uit sy pen vloei.

Tydens sy laaste 10 jaar het Bach toenemend las met sy sig ervaar, en sy laaste lewensjaar is na ‘n onsuksesvolle oogoperasie blind deurgebring. Hy was twee keer getroud en het minstens 20 kinders gehad, van wie die helfte kleintyd dood is. Gedurende sy leeftyd was hy as orrelvirtuoos beroemd, maar nie juis as komponis nie. Sy musiek is as outyds beskou, en minder as ‘n dosyn werke is tot 1750 gedruk. Die herlewing van belangstelling in sy musiek kan dateer word na Mendelssohn se uitvoering van die Sint Mattheüspassie in Berlyn in 1829. Vanaf die honderdjarige herdenking van die Barokreus se dood in 1850 is sy werke stelselmatig deur die Bach Gesellschaft uitgegee. Wagner sou die heersende mening in die musiekwêreld verwoord toe hy Bach as ‘die mees oorbluffende wonderwerk in alle musiek’ beskryf het.

Bach het behalwe opera (wat hy as ligsinnig beskou het, soos Brahms later) in elke musiekvorm van sy tydvak uitgeblink. Ongeag of hy vir die orkes, koor, orrel, klawesimbel, viool, tjello of ander solo-instrumente geskryf het, het hy deurentyd 'n onoortreflik hoë standaard van komposisie gehandhaaf. Meer as 'n duisend van sy werke het behoue gebly, waarvan altesaam 1 080 in die twintigste eeu deur Wolfgang Schmieder gekatalogiseer sou word. Hulle word met BWV-nommers (Bach Werke-Verzeichnis) aangedui. Dit sluit die volgende in:

Meer as tweehonderd kantates vir solosangers, koor en orkes;
6 motette vir onbegeleide koor;
2 toonsettings van die Magnificat;
die grootse Mis in B mineur en 4 kleiner misse;
die Sint Mattheüs- en Sint Johannes-passies;
die Kersfees- en Paasfees-oratoriums;
talle konserte vir een of meer solo-instrumente en orkes, waaronder die 6 Brandenburgkonserte, 3 vioolkonserte (waarvan een vir 2 soliste), 5 hobokonserte, 6 orrelkonserte, en 14 konserte vir een of meer klawesimbels en orkes;
4 orkessuites;
die Musikale Offer, wat op 'n tema van Frederik die Grote geskryf en aan dié  Pruisiese koning opgedra is;
die Kuns van die Fuga, wat deur kenners as die hoogtepunt van die Westerse polifoniese tradisie beskou word;
talle sonates, partitas en suites vir viool, tjello, fluit, en ander instrumente;
etlike honderde werke vir solo-orrel of -klawesimbel.

Onder die kantates is nrs. 51 (Jauchzet Gott), 80 (Ein’ feste Burg ist unser Gott), 82 (Ich habe genug), 140 (Wachet auf), 147 (Herz und Mund und Tat und Leben), 202 (die ‘Troue-kantate’), 208 (Was mir behacht), 211 (die ‘Koffie-kantate’) en 212 (die ‘Kleinboer-kantate) wyd bekend. Bach se bekendste orrelwerk is die dramatiese Toccata en Fuga in D mineur. Werke vir klawesimbel wat hoogs gewild geraak het, sluit in die 48 preludes en fugas (Das Wohltemperierte Klavier), die Chromatiese fantasia en fuga, die 6 Engelse en 6 Franse suites, die Italiaanse Konsert en die Goldberg-variasies. Sommige musici verkies om die werke vir klawesimbel, insluitend die konserte, op klavier te speel, met 'n duidelike verhoging in uitdrukkingskrag as gevolg.

Die Kuns van die Fuga is ‘n enigmatiese werk. Bach het nie aangedui vir watter medium dit geskryf is nie, met die gevolg dat dit in die moderne tydvak uitgevoer is in weergawes vir orrel, klavier, strykers, en orkes. Laasgenoemde was die produk van die hedendaagse Roemeense dirigent Erich Bergel, wat volgens sy eie erkenning deur Bach se musiek in staat gestel is om dwangarbeid en eensame aanhouding deur die kommunistiese owerhede in sy geboorteland te oorleef. Die instrumentele werke sluit gewildes in soos 3 partitas en 3 sonates vir solo-viool; 6 sonates vir viool en klavier/klawesimbel; 6 sonates vir fluit en klawesimbel; 3 sonates vir viola da gamba en klavier; en 6 suites vir solo-tjello. Laasgenoemde is in die vroeë twintigste eeu deur Pablo Casals herleef nadat dit lank in die vergetelheid verkeer het.

Sover dit Italië betref, is 'n groot aantal operas deur Marc' Antonio Ziani (1653-1715) geskryf. Daaronder tel Damira placata, en voorts het hy oratoriums en motette tot sy krediet. Die besonder langlewende Giacomo Perti (1661-1756) was vir altesaam 60 jaar koormeester van die Sint Petruskerk in Bologne. Ongeveer 30 operas het uit sy pen gevloei, maar min daarvan het behoue gebly. Mettertyd het hy op kerkmusiek soos oratoriums, kantates en misse gefokus. Hy het ook instrumentele werke soos sonates vir viool en tjello gekomponeer.

Die grootste Italiaanse komponiste van die laat Barok naas Vivaldi is Alessandro Scarlatti (1660-1725) en sy seun Domenico Scarlatti (1685-1757). Alessandro is op 12 na Rome, waar hy onder Carissimi studeer het. Hy was daar vir 4 jaar in diens van die Sweedse koningin Christina wat na haar abdikasie in Rome gewoon het. Vanaf 1684 het hy vir die res van sy lewe hof- en kerkposte in Napels en Rome beklee, waartydens hy roem verwerf het as die grootste Italiaanse opera-komponis van sy tyd. Sy grootste opera is dalk Mitridate Eupatore, wat in 1707 vir Prins Ferdinando de Medici geskryf is maar ‘n mislukking tydens die eerste opvoering in Venesië was. Hy sou nie minder nie as 115 operas komponeer, waarvan slegs een ‘n komiese opera was. Daarvan het 64 behoue gebly, met die laaste, La Griselda, straks die bekendste een. Asof hierdie produksie nie genoeg was nie, het hy ook ongeveer 20 oratoriums, meer as 40 motette, ongeveer 660 kantates, en vele serenades, madrigale en kamerkonserte geskryf.

Domenico was ‘n leerling van sy vader en het Handel in Venesië ontmoet. Volgens een biograaf is ‘n vriendskaplike klawerbordkompetisie tussen die twee gereël met ‘n gelykop uitslag tot gevolg: Handel was die wenner op die orrel en Scarlatti op die klawesimbel. Dit sou ‘n profetiese uitslag blyk te wees, want Domenico sou dieselfde baanbrekerswerk vir die klawerbord doen as wat sy vader vir opera verrig het. Hy was ‘n koormeester in die Sint Petruskerk en het hofposte beklee in Rome, Lissabon en Madrid, waar hy oorlede is. In sy meer as 550 sonates wat in Spanje geskryf is, is baie nuwe tegnieke vir klawesimbelspel ingevoer. Sover dit veelsydigheid en vlytigheid betref het die appel nie ver van die boom geval nie: hy het ook 14 operas, ‘n aantal misse en kantates, ‘n Stabat Mater en Salve Regina, minstens 12 concerti grossi en 17 sinfonias agter sy naam.

Hul landgenoot Tomaso Albinoni (1671-1751) was die eerste Italiaanse komponis van hobokonserte en die eerste om drie bewegings in ‘n konsert in te span. Hy het voorts van die eerste konserte vir solo-viool en orkes gekomponeer. Daardeur het hy die bewondering afgedwing van Bach, wat verwerkings vir klawerbord van sy musiek gedoen het. Verder het 81 operas, 99 sonates en 9 sinfonias uit sy pen gevloei. Sy bekendste werk is die Adagio in G mineur vir strykers en orrel, wat ironies genoeg meer material bevat van Giazotto, die musiekgeleerde wat dit verwerk het, as van Albinoni self.

Aanvanklik was Antonio Caldara (1670-1736) ‘n koorknaap in die Sint Markuskatedraal in Venesië. Daarna was hy as koormeester verbonde aan howe in Mantua en Rome, en in 1716 het hy Fux as kapelmeester van die imperiale hof in Wenen opgevolg. Hy sou die res van sy lewe in die Oostenrykse hoofstad deurbring, waar hy ‘n gunsteling van Keiser Karel VI was. Onder sy 87 operas tel die eerste toonsetting van La Clemenza di Tito in 1734 – byna 60 jaar voor Mozart se meer bekende weergawe. Voorts het meer as 40 oratoriums, misse, ‘n Kersfeeskantate en ander kerkmusiek het uit sy pen gevloei, asook liedere soos Come raggio di sol.

Die violis Antonio Vivaldi (1678-1741) het op 25 ‘n priester geword, maar het na slegs 2 jaar nie weer die Mis gevier nie as gevolg van ‘n oorerflike borskwaal. Hy sou vir die res van sy lewe aan ‘n weeshuis in Venesië verbonde wees, eers as violis en mettertyd as musiekmeester. Vanaf 1714 is sy operas in dié stad opgevoer, en vanaf 1719 was hy ook vir 3 jaar in diens van die Markgraaf van Hesse in Mantua. Teen die tyd dat sy vioolkonserte getiteld Le quattro stagioni (‘Die Vier Seisoene’) in 1725 verskyn het, was hy dwarsoor Europa bekend. ‘n Terugslag het hom in 1737 getref toe die pouslike owerhede die opvoering van ‘n nuwe opera in Ferrara verbied het, omdat hy ‘n onaktiewe priester was wat na bewering ‘n verhouding met ‘n sangeres gehad het. In die jaar daarop het hy Amsterdam besoek vir die eeufeesviering van die koninklike teater. Hy is hoër geag in Holland, Frankryk en Engeland as in sy tuisstad – nog ‘n geval van ‘n profeet wat nie in sy eie land vereer is nie. Nietemin is sy kantates steeds in Venesië uitgevoer, maar in 1741 het hy die stad verlaat en is hy na Wenen. Hy het stellig gehoop om ‘n hofaanstelling te bekom, maar hy is daar oorlede en in ‘n ongemerkte graf begrawe – net soos 50 jaar later met Mozart sou gebeur.

Vivaldi, na wie indertyds in die volksmond as 'die rooihaarpriester' verwys is, het 'n enorme aantal werke in verskeie musiekvorme gekomponeer. Aan die begin van die moderne Vivaldi-herlewing is hy merendeels vir sy strykermusiek waardeer, maar intussen het sy operas en kerkmusiek ook tot hul reg begin kom. Hy het ongeveer 50 operas gekomponeer, waarvan Orlando furioso die bekendste is. Sy kerkmusiek sluit in die oratorium Juditha triumphans, ‘n toonsetting van die Mis en dele daarvan (insluitend ‘n gewilde Gloria), en verskeie toonsettings van die Dixit Dominus, Magnificat, Salve Regina en Stabat Mater. Voorts het hy vele motette en sekulêre kantates geskryf. Sover dit instrumentele musiek betref, het hy die indrukwekkende getal van ongeveer 450 konserte vir ‘n verskeidenheid solo-instrumente en orkes geskryf. Dit sluit naas etlike honderde vioolkonserte talle fagot-, tjello-, fluit-, hobo- en blokfluitkonserte in. Met sy ongewone instrumentasie en eindelose vindingrykheid word hy as ‘n baanbreker in die ontwikkeling van die vioolkonsert beskou. Daaronder het Die Vier Seisoene die gewildste klassieke werk in terme van die aantal verskillende opnames geword. Verskeie van sy vioolkonserte is deur Bach, wat sy Italiaanse tydgenoot bewonder het, as klawesimbel- of orrelkonserte oorgeskryf. Naas hierdie werke is ‘n groot getal sonates vir solo-instrumente met basso continuo gekomponeer.

Ten spyte van hierdie merkwaardige musiekskepping was Vivaldi vir byna twee eeue ná sy afsterwe feitlik vergete, totdat die Amerikaanse digter Ezra Pound hom tydens sy lang verblyf in Italië (1924-45) herontdek en bekendgestel het. Dit het nie verhinder dat Pound ná die Tweede Wêreldoorlog deur sy landgenote vir 14 jaar in ‘n inrigting vir sielsiekes aangehou is nie, op grond van sy ondersteuning vir die Italiaanse diktator Mussolini. Nogtans het Vivaldi gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu sy regmatige plek as die grootste Italiaanse Barok-komponis ingeneem.

Die vioolvirtuoos Francesco Geminiani (c. 1687-1762), 'n leerling van Corelli, het vanaf 1714 die res van sy lewe in Londen, Dublin en Parys deurgebring. Hy het in 1716 vir Koning George I viool gespeel met Handel as begeleier op die klawesimbel. Naas 42 concerti grossi het hy meer as 40 vioolsonates, 6 tjellosonates, die ballet La foresta incantata, asook trio’s, konserte en solo-klawesimbelwerke gekomponeer. Daarbenewens het hy 'n aantal boeke oor musiekteorie, veral vioolspel, geskryf en sodoende baanbrekerswerk vir dié instrument gedoen.

Verdere Italiaanse komponiste van hierdie tydvak was Alessandro Marcello (1669-1747) en sy broer Benedetto (1686-1739). Beide het kantates, sonates en konserte gekomponeer. Veral bekend is Alessandro se hobokonserte, waarvan een deur Bach oorgeskryf is. Op sy beurt het Benedetto ook 50 toonsettings van die Psalms vir stemme met instrumentele begeleiding gedoen.

Nog ‘n leerling van Corelli, die vioolvirtuoos Pietro Locatelli (1695-1764), het in 1729 in Amsterdam gaan woon. Hy sou die res van sy lewe daar deurbring, en het nuwe tegnieke in vioolspel ontwikkel. Onder sy komposisies tel 12 concerti grossi, 6 vioolkonserte, 12 konserte en 24 caprices vir strykkwartet, 12 sonates vir solo-viool en 6 strykertrios.

Die violis en orrelis Giovanni Pergolesi (1710-36) was nouliks 25 tydens sy afsterwe weens tuberkulose. Hy was veral bekend as komponis van komiese operas, waarvan die eerste een ‘n mislukking was. In die moderne tyd het sy Stabat Mater vir sopraan, alt en orkes baie gewild geraak. Verdere koorwerke sluit ‘n Stabat Mater en ‘n kantate, Orfeo, in. Deur sy triosonates het hy Bach beïnvloed en 'n bydrae tot die ontwikkeling van die sonatevorm gelewer.

In Frankryk was die beroemdste lid van die musikale Couperin-familie Francois Couperin (1668-1733). Weens sy besondere vermoëns as orrelis was hy as ‘Couperin le Grand’ bekend. Hy was vanaf 1685 tot sy dood orrelis van die St Gervais-kerk, en vanaf 1693 ook hoforrelis vir Koningin Lodewyk IV. Op Sondae het hy saam met kollega’s kamerkonserte vir die koning gegee. As hofkomponis en die voorste Franse klawesimbelspeler het hy uitgeblink in die komposisie van werke vir klawesimbel en orrel. In sy kamerwerke, soos Les Nations vir 2 viole en klawesimbel, is hy beïnvloed deur Corelli se triosonates. Meer as 230 Pièces de Clavecin (suites vir klawesimbel) is deur hom geskryf, waarvan verskeie later deur Richard Strauss georkestreer sou word. Hy het voorts in 1716 ‘n boek oor klawesimbelspel gepubliseer, waardeur hy ‘n beduidende invloed op Bach uitgeoefen het. Daarbenewens is orrelwerke, liedere en kerkmusiek deur hierdie groot Barok-komponis geskryf. Sy landgenoot Ravel sou in die twintigste eeu ‘n huldeblyk getiteld Le tombeau de Couperin komponeer.

‘n Musiekvorm wat in die agtiende eeu besonder gewild in Frankryk sou word, die opera-ballet, was die skepping van André Campra (1660-1744). Hy was vanaf 1681 tot 1700 musiekdirekteur van katedrale in Arles, Toulouse en Parys. Sy eerste opera-ballet was L’Europe galante, wat in 1697 in Parys opgevoer is. Naas operas en opera-ballette het hy ook kerkmusiek geskryf, soos ‘n Requiem, ‘n Mis, en vele motette en psalms.

Op sy beurt was Antoine Forqueray (1672-1745) een van die voorste viola da gamba-spelers van sy tyd. Reeds as vyfjarige het hy vir Koning Lodewyk XIV gespeel, en op 17 het hy as kamermusikus die koninklike diens betree. Soos verwag kon word, het hy ‘n hele aantal werke vir viola da gamba (‘n voorloper van die tjello) gekomponeer, wat in 5 suites versamel is. Daarby het hy voortreflike suites vir die klawesimbel geskryf.

Nog ‘n bekende Franse musikale familie van die sewentiende en agtiende eeue was die Hotteterre’s - as instrumentmakers, komponiste en instrumentaliste. Die bekendste onder hul was Jacques Hotteterre (1674-1762), wat homself ‘le Romain’ genoem het, straks na aanleiding van ‘n besoek aan Italië in sy jeugjare. Hy was vanaf 1708 as fagot- en fluitspeler aan die koninklike hof verbonde, en was ook ‘n gewilde leermeester. Naas werke vir fluit en ander instrumente wat uit sy pen gevloei het, het hy 3 boeke oor fluitspel geskryf. Om dit als te kroon, het hy fluite gemaak wat as besondere voorbeelde van vakmanskap beskou word.

As beide kerkorrelis in Parys en hoforrelis vir Koning Lodewyk XIV het Louis-Nicolas Clérambault (1676-1749) die beste Franse kantates van die agtiende eeu gekomponeer. Altesaam 25 daarvan het sy pen gevloei, waaronder Orphée en Le Triomphe d’Iris tel. Hy het ook strykerwerke getiteld Simphonie-sonatas, klawerbordwerke en teaterstukke vir die koninklike hof gekomponeer.

Die merendeels selfopgeleide Jean-Philippe Rameau (1683-1764) was 'n grondlegger van die moderne musiekteorie. Hy was aanvanklik ‘n orrelis in verskeie Franse stede, totdat hy in 1722 in Parys gaan woon het. In die Franse hoofstad het hy klawesimbel onderrig en ‘n aantal invloedryke boeke oor harmonie gepubliseer. Vanaf 1733 het hy operas gekomponeer, waarvan die eerste, Hippolyte et Aricie, ‘n mislukking was. Hy het egter volhard en met werke soos Castor et Pollux, Les Indes galantes en Les Boréades die grootste Franse operaskrywer sedert Lully geword. Daarby het orkessuites, kantates en kamermusiek uit sy pen gevloei, maar meer bekend is sy 3 volumes van klawesimbelsuites getiteld Pièces de Clavecin. Interessant genoeg is verskeie van sy operas se libretto’s deur Voltaire geskryf.

‘n Groot aantal fluitwerke is gekomponeer deur Joseph Bodin de Boismortier (1689-1755). Daaronder tel fluitkonserte, en sonates en suites vir fluit en klawesimbel. Hy het ook voortreflike ballette geskryf, soos Don Quichotte chez la Duchesse.

Die Boheem Jan Zelenka (1679-1745) was vanaf 1729 in beheer van kerkmusiek te Dresden. Daarvan het hy 'n aansienlike hoeveelheid gekomponeer, maar dit is sy triosonates wat deur kenners as van hoogstaande gehalte beskou word.

In Swede was Johan Helmich Roman (1694-1758) 'n hofkomponis wat heelwat kerkmusiek, 21 simfonieë, ouvertures, konserte, en sonates vir viool en fluit geskryf het. Sy orkeswerke sluit die bekende Drottningholm Musiek in.

Dit kan uit bogenoemde name bemerk word dat die Barok-era deur Italiaanse en Duitse komponiste oorheers is, met enkele Franse, Engelse en ander toevoegings. Sedert die negentiende eeu word Bach as die grootste Barok-komponis beskou; talle musiekgeleerdes en musici beskou hom trouens as die grootste komponis van alle tye. Op sy hakke, in terme van gewildheid onder Barok-komponiste, volg Handel en Vivaldi.