If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

Twintigste Eeu

Die begin van die twintigste eeu kan vir alle praktiese doeleindes as die aanvangsdatum van moderne musiek beskou word, sodat dit chronologies met laat-Romantiese musiek oorvleuel. 'n Hoogs interessante verskynsel is dat in Duitsland en Italië, wat gedurende die voorafgaande drie eeue die musiek van die Weste oorheers het (alhoewel belangrike bydraes ook uit veral Frankryk en Rusland voortgekom het), daar gedurende hierdie tydvak 'n bykans hoorbare stilte geheers het in vergelyking met die voorafgaande tydperke.

Waaraan kan die relatiewe gebrek aan groot Duitse en Italiaanse komponiste van moderne musiek toegeskryf word? 'n Moontlike verklaring is dat dié twee lande geestelik-intellektueel gesproke as 't ware uitgeput was, ná eeue van volgehoue prestasie in musiek, letterkunde, kuns, filosofie en ander kulturele uitinge. Dat die Westerse kultuur enorm daardeur verryk is, kan allermins betwyfel word.

'n Minder vleiende verklaring lui dat hierdie twee lande gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu te besig was met oorlogvoering, veral in die twee wêreldoorloë wat in werklikheid een uitgerekte konflik (1914-45) met 'n onstabiele tussenpose (1918-39) was. En in oorlog manifesteer die dierlikheid van die mens met selfs erger brutaliteit as in die alledaagse lewe, sodat die hoër uitinge van die menslike gees, soos musiek, nie voldoende kans gegun word om na vore te kom nie. Hierdie argument strook egter nie met die feit dat lande soos Rusland, Brittanje en Frankryk ook ten diepste by dié uiters tragiese konflik betrokke was, maar nogtans 'n hele aantal van die eeu se grootste komponiste aan die Westerse kultuur voorsien het nie. Die eerste verklaring blyk dus meer geldig te wees.

Hoe dit ookal sy, gedurende die twintigste eeu is Westerse musiek oorheers deur komponiste vanuit Frankryk, Rusland, Brittanje en Hongarye. In Duitsland en Oostenryk het wel belangrike vernuwings plaasgevind, maar die musiek wat daarvan getuig is nie naastenby so gewild as dié van hul voorgangers of van hul tydgenote in ander lande nie. Die groot bydraes van laat-Romantiese komponiste uit lande soos Noorweë, Finland, Tsjeggië en Spanje, wat nog tot in die twintigste eeu werksaam was, is reeds in die vorige hoofstuk bespreek.

Dit is gepas om daarop te wys dat die meeste musiek wat gedurende die twintigste eeu in die Westerse wêreld gespeel is, nie as Westerse musiek kwalifiseer nie - nie eens in 'n moderne idioom nie. Spesifiek word hier na musiekstyle soos jazz en rock verwys, want beide is gewild onder talle Westerlinge. Jazz het aan die begin van die eeu onder swart Amerikaners ontstaan en is grootliks deur hulle verder ontwikkel, met inbegrip van style soos blues, swing en bop. Uit jazz het rock teen die middel van die eeu ontwikkel deur die gebruikmaking van veral elektriese ghitare, alhoewel rock (hetsy as rock 'n roll, folk rock, country rock of heavy metal) vanuit die staanspoor grotendeels deur Westerlinge geskep en ontwikkel is. Rock is dus oor die algemeen nader aan Westerse musiek as wat jazz is; trouens, daar het heelwat interaksie tussen beoefenaars van Westerse kunsmusiek en swaarder rock tipes soos progressiewe of metal rock plaasgevind.

Die moderne musiek waarna in die res van hierdie afdeling verwys word, word ondubbelsinnig as Westers beskou. Dit is min of meer ingelui deur die impressionistiese musiek wat in Frankryk ontstaan het, en wat as 't ware as brug tussen Romantiese en moderne musiek gedien het. Hierdie oorgangsrol is analoog aan die skilderkuns van Cézanne, wat as oorgang tussen die Romantiese kunstenaars voor hom en sowel die Kubistiese as abstrakte kunstenaars ná hom gedien het. Hieruit kan nogeens die noue verwantskap tussen die verskillende kulturele uitinge bemerk word; 'n verwantskap wat berus op die feit dat kultuur 'n funksie van die gees is en nie materialisties-biologies verklaar kan word nie.

Dit is gebruiklik om na die musiek van Debussy, Delius en Ravel as impressionisties te verwys, aan die hand van hul tydgenootskap met die impressionistiese skilders, waaronder Monet, Manet, Renoir, Constable en Turner die bekendstes is. Volgens die Collins Encyclopedia of Music sou dit egter meer korrek wees om hierdie musiekstyl as simbolisties te bestempel, aangesien dit eerder deur die werk van simbolistiese digters soos Mallarmé beïnvloed was.

Frankryk

In Frankryk was Claude Debussy (1862-1918) die eerste moderne komponis, benewens die feit dat hy die leier van 'n geheimsinnige Sionistiese groep was. Sy musiek is vol vlietende indrukke en kaleidoskopiese harmonieë – vandaar die term impressionisties. Hoewel hy geen simfonieë, konserte of ouvertures geskryf het nie, het verskeie van sy orkeswerke gewild geraak. Daaronder tel La Mer ('Die See'), die Voorspel tot die Namiddag van 'n Bosgod, drie Nokturnes, en Gewyde en Profane Danse vir harp en orkes. Ook bekend is die drie Images vir orkes, en die balletmusiek Jeux. Hy het ook koorwerke gekomponeer, maar hulle het betreklik onbekend gebly in vergelyking met sy enigste opera, Pelléas et Mélisande.

Debussy het van die twintigste eeu se bekendste klaviermusiek geskryf. 'n Mens dink hier veral aan die hoogs gewilde Clair de Lune ('Maanlig') uit die Suite bergamesque en die 24 Preludes in twee boekdele, asook Estampes, Images, Arabesques, Kinderhoekie en Reverie in dié verband. Onder sy kamermusiek is die Strykkwartet, die Tjellosonate, die Vioolsonate en die Sonate vir Fluit, Altviool en Harp ook bekende werke. Meer as vyftig liedere het uit Debussy se pen gevloei, onder andere die siklus Chansons de Bilitis. Hy het skynbaar 'n voorliefde vir ouer en getroude vrouens gehad, en is eindelik ná 'n lang stryd aan kanker dood.

Die musiekkritikus Paul Dukas (1865-1935) het betreklik min gekomponeer. Sy bekendste werke is die delikate orkeswerk Die Towenaar se Leerling, die opera Ariadne en Bloubaard, die ballet La Péri, en 'n klaviersonate. 'n Vriend van Debussy, Erik Satie (1866-1925), het musiek in 'n ironies-satiriese styl geskryf wat die teendeel van die heersende impressionisme verteenwoordig het. Hy het onder meer drie ballette, liedere en talle klavierstukke gekomponeer, waardeur hy 'n belangrike invloed op die latere groep bekend as Les Six uitgeoefen het. Veral gewild is sy 3 Gymnopédies vir klaviersolo.

Een van die gewildste moderne komponiste, Maurice Ravel (1875-1937), het verskeie dinge met Debussy in gemeen gehad. Beide was groot katliefhebbers, beide het die etiket 'impressionisties' as beskrywend van hul musiek verwerp, en beide se musiek is sterk deur hul landgenote Chabrier en Satie beïnvloed. Daarbenewens het Ravel die invloede van Couperin, Liszt en Rimski-Korsakof deel van sy musiek gemaak. As orkestreerder het hy kwalik sy gelyke in die twintigste eeu gehad, sodat dit nie verbasend is dat sulke orkeswerke soos Bolero, Rapsodie espagnole, Alborado del gracioso, La Valse, Tzigane vir viool en orkes, en die orkesweergawes van die klavierwerke Pavane pour une infante défunte ('Treursang vir 'n afgestorwe prinses') en Valses nobles et sentimentales ('Edel en sentimentele walse') hoogs gewild geraak het nie. Daarbenewens het hy 'n orkestrasie van Moessorgski se Skilderye op 'n Uitstalling gedoen wat die oorspronklike klavierweergawe verreweg in gewildheid verbygesteek het.

Verder bekende werke van Ravel is twee klavierkonserte (waaronder een vir die linkerhand) en die ballette Ma mère l'oye en Daphnis et Chloé. Onder sy kamermusiek tel die Strykkwartet, die Habanera vir viool en klavier, en die Sonate vir Viool en Tjello. Bekende klavierstukke soos Jeux d'eau, Miroirs, Gaspard de a Nuit en Le Tombeau de Couperin het uit sy pen gevloei, asook heelwat liedere. Onder laasgenoemde tel die Chansons madécasses vir stem, fluit, tjello en klavier. Ná 'n veelsydige skeppende lewe het dié begaafde komponis aan 'n breingewas beswyk.

As versamelaar van volksliedere het Joseph Canteloube (1879-1957) ook twee operas gekomponeer, maar hy is vandag merendeels bekend vir sy genotvolle Chants d'Auvergne, of Liedere van die Auvergne, vir sopraan en orkes. Hierdie dertig liedere in vyf siklusse kan sonder huiwering vir enige liefhebber van orkesliedere aanbeveel word.

Die musiek van die pianis Francis Poulenc (1899-1963) was grotendeels 'n reaksie teen impressionisme, soos inderdaad die geval was met al die lede van die groep moderne komponiste bekend as Les Six. Poulenc het in die meeste musiekvorme gekomponeer, maar word hoofsaaklik onthou vir die ballet Les Biches, klavierwerke soos die Konsert vir Twee Klaviere, die dramatiese Orrelkonsert, en koorwerke, waaronder Gloria die bekendste is. 'n Ander bekende lid van hierdie groep was die Switser Arthur Honegger (1892-1955), wat onder meer vyf simfonieë gekomponeer het. Sy bekendste werke is egter die orkeswerk Pacific 231 en die oratorium Le Roi David.

Indien diep, by tye mistieke geestelikheid ‘n aanduiding van blywendheid is, soos met die herlewing van Renaissance-musiek in die twintigste eeu plaasgevind het, dan het die werke van Olivier Messiaen (1908-1992) die potensiaal om in die toekoms onder die heel grootste moderne musiek gereken te word. In sy jeug het hy Griekse en Indiese musiek bestudeer, en vanaf 1931 was hy vir langer as 40 jaar ‘n kerkorrelis in Parys. Hy het voorts die sang van al die Franse voëls aangeteken, wat dikwels in sy komposisies ingespan word. In 1961 is hy getroud met die pianis Yvonne Loriod, wat ‘n groot invloed op sy komposisie sou uitoefen. Sy bekendste werke is bes moontlik die opera Saint Francois d’Assise, die kamerwerk Kwartet vir die Einde van die Tyd, die uitgerekte Vingt Regards Sur l'Enfant Jesus vir soloklavier, Et expecto resurrectionem mortuorum vir hout- en koperblasers en slaginstrumente, die orrelwerk La Nativité du Seigneur, en die Turangalila simfonie wat Indiese invloede toon. Laasgenoemde bestaan uit nie minder nie as 10 dele vir ‘n groot orkes, en is geïnspireer deur die middeleeuse Tristan-legende.

'n Leerling van Messiaen, die bekende dirigent Pierre Boulez (1925-), het musiek in 'n uiters moderne idioom gekomponeer. Die bekendstes daaronder is Marteau sans Maitrê ('Hamer sonder 'n Meester') vir stem en kamerensemble, en Pli selon pli ('Vou op vou') vir sopraan en orkes.

Duitsland en Oostenryk

Gedurende die vroeë twintigste eeu het die Oostenrykse hoofstad Wenen voortgegaan om as fokuspunt vir musiekskepping in die Duitssprekende wêreld te dien, alhoewel nie met dieselfde gehalte musiek wat tot stand gekom het nie. Daar word na die groot Weense komponiste van die laat agtiende en vroeg negentiende eeue as die Weense Skool verwys, veral Haydn, Mozart, Beethoven en Schubert. Insgelyks het 'n sogenaamde Tweede Weense Skool gedurende die eerste dekades van die twintigste eeu eeu in die groot kultuurstad tot stand gekom, met Schoenberg, Berg en Webern as vernaamste verteenwoordigers daarvan.

Een van die mees radikale moderne komponiste was Arnold Schoenberg (1874-1951), wat as Schönberg gebore is. Sy karige musiekonderrig het hy aan die hande van Zemlinsky ontvang, en daarna het hy dit nietemin vermag om twee van die grootste laat-Romantiese meesterstukke te skryf. Die vroegste een daarvan was Verklärte Nacht ('Verheerlikte Nag'), wat aanvanklik vir strykersekstet geskryf en later vir strykorkes verwerk is, en waarin die invloed van Wagner se Tristan und Isolde bemerk kan word. Ongeveer 'n dekade later het die massiewe koorwerk Gurrelieder, gebaseer op 'n Middeleeuse Deense legende, verskyn. Met die Nasionaal-Sosialistiese bewindsoorname in 1933 het hy hom in die VSA gaan vestig.

Intussen het Schoenberg voortgegaan om 'n groot aantal werke in verskeie musiekvorme te skryf, wat op 'n beginsel bekend as die 'Twaalfnootstelsel' berus het. Dit het 'n radikale breuk met die Klassieke en Romantiese musiekkonvensies ingehou, en is ook as 'atonaal' bestempel. Schoenberg het egter volgehou dat sy stelsel eintlik 'n terugkeer na polifonie behels het en dus glad nie atonaal was nie. Onder die werke in hierdie styl tel die Variasies vir Orkes, die Vioolkonsert, die Klavierkonsert, en die onvoltooide opera Moses en Aäron. Daarbenewens het hy 'n aantal boeke oor musiekteorie geskryf, en was hy ook 'n vermoënde skilder.

Schoenberg se twee bekendste dissipels was Anton von Webern (1883-1945) en Alban Berg (1885-1935). Terwyl Webern se werke grotendeels onbekend onder musiekliefhebbers gebly het, het Berg ietwat beter gevaar met sy operas Wozzeck en die onvoltooide Lulu, asook sy Vioolkonsert wat aan die dogter van Mahler se weduwee opgedra is. Webern was 'n slagoffer van die Amerikaanse besetting van Oostenryk ná die Tweede Wêreldoorlog toe hy na bewering per ongeluk deur 'n skildwag doodgeskiet is.

Teenoor die voorafgaande komponiste het Ermanno Wolf-Ferrari (1876-1048) werke in 'n meer tradisionele styl geskryf. Sy moeder was Italiaans, maar hy het sy musiekopleiding in Duitsland ontvang en verskeie van sy operas is vir die eerste keer in dié land opgevoer. Hy is vandag hoofsaaklik bekend vir sy komiese operas soos I quattro rusteghi, Susannens Geheimnis en Der Schmuck der Madonna, alhoewel hy werke in verskeie ander vorme ook gekomponeer het.

Ook die musiek van Robert Stolz (1880-1975) verteenwoordig 'n verfrissende kontras met dié van sy tydgenote. Hy was 'n leerling van Humperdinck en was uiters vlytig: ongeveer tweeduisend liedere, vyftig operettes en musiek vir eenhonderd rolprente het uit sy immerskeppende pen gevloei. Onder sy operettes, wat in die groot Weense tradisie van Strauss, Lehár en Kálmán gestaan het, is Im Weissen Rössl ('In Witperd Herberg'), Zauber der Bohème ('Towenaar uit Bohemië'), Zwei Herzen in Dreivierteltakt ('Twee harte in drieviertyd') en Der Favorit ('Die gunsteling') die bekendstes. Een van sy pragtigste liedere is Adieu, mein kleiner Gardeoffizier vir sopraan en orkes.

Onder die musiekliefhebbende publiek is Carl Orff (1895-1982) een van die bekendste moderne komponiste. Dit is grotendeels te danke aan die besondere gewildheid van sy dramatiese koorwerk Carmina Burana, wat op Middeleeuse Latynse gedigte gebaseer is. Die inleidende deel, O Fortuna, word wyd in rolprente en advertensies gebruik. Soos in die meeste van sy ander werke word ritme ten koste van melodie daarin beklemtoon.

Onder musikante, indien dan nie onder die publiek nie, is Paul Hindemith (1895-1963) stellig die bekendste Duitse komponis van die ná-Romantiese era. Hy was 'n begaafde violis en leermeester, wat met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na die VSA verhuis en 'n burger van dié land geword het. In sy musiek het hy deur 'n verskeidenheid fases beweeg, soos ekspressionisme, 'gebruiksmusiek' en 'n terugkeer na kontrapunt. Die bekendstes onder sy groot aantal werke is die simfonie getiteld Mathis der Maler, vernoem na die Renaissance-skilder Matthias Grünewald, die Simfonie in B-mol, die Vioolkonsert, die Simfoniese Variasies op temas van Weber, sonates vir trompet, hobo, fagot, horing, tjello en klarinet, en die liedere-siklus Das Marienleben. Soos Schoenberg het hy ook boeke oor musiekteorie geskryf.

‘n Nuwe skool van populêre opera is deur Kurt Weill (1900-50) daargestel. Die bekendstes daaronder is Die Driepennie-opera en Die Opkoms en Ondergang van die Stad Mahagonny. Hul gewildheid het baie aan die lirieke vol sosiale kritiek van Bertolt Brecht en die intense sang van sy vrou Lotte Lenya te danke. Hy het Duitsland in 1933 verlaat weens Nazi-vyandigheid jeens sy musiek en hom in New York gevestig, waar hy heelwat musiekblyspele vir Broadway geskryf het. Vroeg in sy loopbaan het hy saam met Brecht ‘n radio-kantate oor Charles Lindbergh se epiese transatlantiese vlug geskryf. ‘n Verdere bekende werk is die ballet Die sieben Todsünden (vir sopraan, mannekoor en orkes).

'n Komponis wat selfs verder as die voorgaandes in die rigting van popmusiek beweeg het, is Karlheinz Stockhausen (1928-). As pionier van elektroniese musiek, waaronder Mikrophonie I en II en die 'politieke drama' Hymnen ('Volksliedere'), het hy wye bekendheid verwerf. Soos verwag kon word, is sy werke in die meer konvensionele vorme meesal onkonvensioneel uitgedruk. Daaronder tel 11 Klavierstücke, Gruppen vir drie orkeste en dirigente, Stimmung vir ses stemme, Mantra vir twee klaviere, en Prozession vir gemengde instrumente en elektronika.

Brittanje

Die vloeiende musiek van Frederick Delius (1862-1934) kan as beide laat-Romanties en impressionisties beskou word. Soos die impressioniste het hy sy inspirasie grotendeels uit die natuur verkry, en dit meesterlik in van sy werke weergegee. Hy was van Duitse afkoms en het in Leipzig gaan studeer, waar hy Grieg ontmoet het. Aanvanklik het sy musiek ook veel meer erkenning in Duitsland as in sy geboorteland geniet, en vanaf 1888 het hy permanent in Frankryk gewoon. Twee van sy koorwerke is op die filosofie van Nietzsche gebaseer, naamlik A Mass of Life (na Also Sprach Zarathustra) en 'n Requiem. Onder sy verdere koorwerke tel die pragtige Sea Drift, gebaseer op 'n gedig van Whitman.

Gewilde orkeswerke soos On hearing the first Cuckoo in Spring, Over the Hills and far away, Appalachia en Brigg Fair het uit Delius se pen gevloei. Sy bekendste opera is A Village Romeo and Juliet, waaruit The Walk to the Paradise Garden 'n bekende orkestussenspel geword het. Ander orkeswerke van dié fyngevoelige musikus is die Dubbelkonsert vir viool en tjello, die Vioolkonsert, die Tjellokonsert en die Klavierkonsert. Daarbenewens het hy kamermusiek soos drie vioolsonates, 'n tjellosonate en twee strykkwartette gekomponeer.

As versamelaar van Engelse volksmusiek word Ralph Vaughan Williams (1872-1958), 'n leerling van Bruch en Ravel, deur kenners as die grootste Engelse nasionalistiese komponis beskou. Hy was ook een van die twintigste eeu se voorste simfoniste, met nege simfonieë wat uit sy pen gevloei het. Die bekendstes onder hulle is nommers Een (die 'See'), Twee (die 'Londen'), Vyf en Ses. Verdere gewilde orkeswerke is die Fantasia on Greensleeves, die Fantasia on a Theme by Thomas Tallis vir dubbele strykorkes, en The Lark ascending vir viool en orkes, die ouverture tot The Wasps, en die English Folk Song Suite.

Voorts het 'n hele aantal koorwerke en operas, talle liedere en heelwat kamermusiek uit dié belangrike moderne komponis se pen gevloei, onder meer die Mis in G-mineur en die liedere-siklus On Wenlock Edge. Vaughan Williams het ook klavier- en orrelmusiek, en boeke oor Engelse musiek en Beethoven geskryf.

Die veelsydige Gustav Holst (1874-1934) was van Sweedse afkoms en het die monumentale orkeswerk The Planets, waarin sy astrologiese oortuigings tot uiting gekom het, gekomponeer. In dié werk word al die planete in ons sonnestelsel, buiten die Aarde en Pluto (wat eers in 1930 ontdek is), in musiek voorgestel - vanaf die kragtige, drywende ritmes van Mars, The Bringer of War tot die uiterste kalmte van Neptune, the Mystic. 'n Interessante aspek van dié werk was die tydsberekening daarvan. Dit het verskyn in dieselfde jaar (1914) waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, sodat die eerste gedeelte daarvan 'n bykans profetiese betekenis verkry het.

Holst se Indo-Ariese en Gnosties-Christelike belangstellings het in koorwerke soos die Hymns from the Rig-Veda, The Hymn of Jesus en die aangrypende The Cloud Messenger, asook die opera Savitri tot uiting gekom. Hy het ook verdere orkeswerke soos die bekende St Paul's Suite vir strykers en Egdon Heath geskryf, en nege gesange uit die belangrikste Hindoeïstiese geskrif, die Rig-Veda, getoonset.

‘n Enigmatiese figuur is Havergal Brian (1876-1972), wat byna 100 jaar oud geword het. Hy was ‘n outodidak wat nie minder nie as 32 simfonieë gekomponeer het nie. Merkwaardig genoeg is 27 van hul, asook 4 operas, vanaf sy sewentigs tot negentigs geskryf. Hy was 78 jaar oud voordat een van sy simfonieë die eerste keer uitgevoer is (nr. 8, in 1954). Sy grootste werk is die magtige eerste simfonie, getiteld Gothic – dit is gekomponeer vir ‘n orkes van 180 spelers, 4 groepe koperblasers en 4 groot gemengde kore. Die laaste deel is ‘n toonsetting van die Latynse lofgesang Te Deum, waarby ook 4 soliste betrek word.

Soos Skriabin is Cyril Scott (1879-1970) sterk deur Teosofie beïnvloed. Benewens sy komposisies in verskeie musiekvorme, wat 'n hele aantal klavierwerke soos 'n sonate en 'n konsert insluit, het hy verskeie boeke oor die geestelike invloed van musiek geskryf. Daarin het hy homself, soos in die geval van Pfitzner oorkant die Engelse Kanaal, as 'n verbete teenstander van modernisme in musiek gevestig.

John Ireland (1879-1962) het op 'n stadium al die komposisies van sy eerste dertig jaar vernietig. Daarna het hy orkeswerke soos A London Overture en 'n klavierkonsert geskryf, asook 'n groot aantal klavierstukke en liedere.

Ierse volksmusiek het 'n sterk invloed op Arnold Bax (1883-1953) uitgeoefen. Hy het sewe simfonieë, simfoniese toondigte soos Tintagel, konserte vir viool en tjello, heelwat kamermusiek en talle liedere gekomponeer.

'n Leerling van Holst en Vaughan Williams, Arthur Bliss (1891-1975), het naam gemaak met die Colour Symphony, wat op die heraldiese betekenis van kleure gebaseer is. Onder sy verdere orkeswerke tel die Music for Strings, die Klavierkonsert, en die Variations on a Theme by John Blow.

‘n Leerling van Cyril Scott en Holst, Edmund Rubbra (1901-86), het tydens die Tweede Wêreldoorlog as lid van ‘n klaviertrio leërdiens gedoen. Soos Brahms het hy in al die vorme behalwe vir die verhoog gekomponeer. Sy elf simfonieë vertoon ‘n geestelike grootsheid wat nog nie na regte waardeer word nie.

Merendeels kleinskaalse werke, soos liedere, het uit Gerald Finzi (1901-56) se pen gevloei. Hy egter ook 'n tjello- en 'n klarinetkonsert geskryf. Die klassieke Engelse tradisie is deur William Walton (1902-83) voortgesit. Sy bekendste werke is twee simfonieë, die Altvioolkonsert, die Variations on a Theme of Hindemith vir orkes, die oratorium Belshazzar's Feast, en die opera Troilus and Cressida.

Michael Tippett (1905-) het verskeie orkeswerke, soos drie simfonieë en 'n klavierkonsert, gekomponeer. Hy is egter merendeels bekend om sy operas, soos King Priam en The Knot Garden, asook koorwerke soos die kantate The Vision of St Augustine en die oratorium A Child of our Time.

Die vernaamste Britse operakomponis van die twintigste eeu, en trouens sedert die tyd van Handel, was die vermaarde pianis en dirigent Benjamin Britten (1913-77). Sy bekendste operas is Peter Grimes, The Rape of Lucretia, Albert Herring, The Turn of the Screw en Death in Venice. Baie van sy vokale musiek, wat heelwat koorwerke en liedere insluit, is geskryf vir sy jarelange homoseksuele metgesel, die tenoor Peter Pears. Tydens die eerste uitvoering van die Oorlogsrequiem het Pears, die Russiese sopraan Galina Wisjnewskaja en die Duitse bariton Dietrich Fischer-Dieskau in 'n treffende gebaar van nasionale versoening as soliste in die herboude Coventry-katedraal opgetree.

Onder Britten se orkeswerke tel die Sinfonietta, die Simple Symphony, 'n klavierkonsert, 'n vioolkonsert, 'n tjellosimfonie, en die gewilde Young Person's Guide to the Orchestra. Verskeie kamerwerke het uit dié talentvolle Brit se pen gevloei, waarvan die twee tjellosuites soos die tjellosimfonie vir die beroemde tjellis Mstislaw Rostropowitsj geskryf is.

Die pianis Kenneth Leighton (1929-88) het onder meer twee simfonieë en konserte vir viool, altviool, tjello en orrel gekomponeer. Dramatiese teatermusiek is deur die dirigent Peter Maxwell Davies (1934-) geskryf. Daarin, asook in sy orkes- en kamermusiek, kan sowel middeleeuse as moderne invloede duidelik bemerk word.

In die laat twintigste eeu het die Oosterse Christendom, oftewel die Ortodokse Kerk, bekeerlinge in die Engelssprekende wêreld begin verwerf. Asof ter onderskraging daarvan het Brittanje komponiste opgelewer wat in die Ortodokse tradisie werk. Die eerste een om wye roem te verwerf, was John Tavener (1944-2013). Hy was op 16 ‘n kerkorrelis en het aanvanklik in ‘n moderne idioom gekomponeer, soos met sy kantate The Whale wat in 1968 tydens die inwydingskonsert van die London Sinfonietta uitgevoer is. Met sy Celtic Requiem in die volgende jaar het hy reeds die diep religieuse gees en verbeeldingryke benutting van uiteenlopende bronne vertoon wat kenmerkend van sy latere werke sou word. Ná sy bekering tot die Ortodoksie in 1977 het hy begin om toenemend gewyde werke te skryf, soos ‘n toonsetting van die Liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos. Sy musiek het ook ‘n meer liriese inslag verkry, wat tot ‘n breuk tussen Tavener en die voorstanders van dissonansie gelei het. Vandat sy koorwerk Song for Athene tydens die begrafnisdiens van Prinses Diana in 1997 uitgevoer is, het hy die status van ‘n kultusfiguur in die musiekwêreld bekom. Nog bekende werke wat deur sy Ortodokse geloof geïnspireer is, sluit in Funeral Ikos (koor), God is with us (koor en orrel), The protecting Veil (vir solo-tjellis en orkes), Svyati (vir solo-tjellis en koor), We shall see Him as He is (vir soliste, koor en orkes), en die opera Mary of Egypt. Sy leerling Ivan Moody (gebore 1964) is ‘n Ortodokse priester en musiekgeleerde wat gewyde werke in ‘n Ortodokse styl komponeer. Daaronder tel Passion and Resurrection vir soliste, koor en strykers - ‘n aangrypende musikale meditasie oor Christus se lyding, dood en opstanding.

Rusland

In Rusland was Reinhold Glière (1875-1956), wat van Belgiese afkoms was, die eerste moderne komponis. Hy het in verskeie genres gekomponeer en onder andere 'n harpkonsert en drie simfonieë nagelaat, waarvan die derde, getiteld Ilya Murometz, die bekendste is. 'n Unieke en voortreflike werk is sy Konsert vir kolaratuursopraan en orkes.

'n Leerling van Rimski-Korsakof, Igor Strawinski (1882-1971), het een van die bekendste en mees omstrede moderne komponiste geword. Sy bekendste werke is die ballette Die Wydingsoffer van die Lente, Die Vuurvoël en Petroesjka. Eersgenoemde het vir ‘n beroemde oproer tydens die première in Parys in 1913 gesorg. Strawinski het ook talle orkes- en koorwerke en konserte gekomponeer, maar in baie gevalle het hy met die klassieke konvensies gebreek. Selfs nie-Westerse musiek soos jazz is deur hom geassimileer.

Sergei Prokofiëf (1891-1953), wat 'n leerling van sowel Glière as Rimski-Korsakof was, het van tyd tot tyd met die kommunistiese owerhede slaags geraak, maar is nogtans twee jaar voor sy dood die Stalinprys toegeken. Hy is ironies genoeg op dieselfde dag as Stalin oorlede. Onder sy werke tel sewe simfonieë (waaronder die eerste, die 'Klassieke', 'n huldeblyk aan Haydn en Mozart is), vyf klavierkonserte, twee vioolkonserte, 'n tjellokonsert, die operas Die Liefde vir Drie Lemoene, Die Dobbelaar (gebaseer op Dostojewski se roman) en Oorlog en Vrede (op Tolstoi se beroemde roman gebaseer), die ballette Romeo en Juliet en Cinderella, en die orkeswerke Luitenant Kijé en Pieter en die Wolf (lg. met ‘n verteller). Sy dramatiese kantate Alexander Newski (vernoem na ‘n Russiese nasionale held van die dertiende eeu) is aanvanklik as klankbaan vir ‘n propagandarolprent van 1938 geskryf, maar dit het die toets van die tyd deurstaan en ‘n gewilde konsertwerk in eie reg geword.

Armeense volksmusiek het 'n sterk invloed op Aram Khatsjatoerian (1903-78) se musiek uitgeoefen. Hy het simfonieë, konserte (een elk vir klavier, viool en tjello) en ballette, waaronder Gayaneh (waarin die gewilde Sabeldans voorkom) en Spartacus die bekendstes is, gekomponeer.

Ook Dimitri Sjostakowitsj (1906-75) het botsings met die kommunistiese owerhede ervaar. Hierdie groot komponis het homself veral in sy vyftien simfonieë, waarin 'n sterk geestelike dimensie teenwoordig is, verewig. Daarby het hy vyftien strykkwartette gekomponeer, asook voortreflike viool-, tjello- en klavierkonserte. Die twee klavierkonserte (waarvan die eerste ook ‘n trompetsolis het) word deur gekonsentreerde orkestrasie, lieflike melodieë en drywende ritmes gekenmerk. Byna ewe indrukwekkend is die kort Aanslag op pragtige Gorky vir klavier en orkes. Ook operas, ballette, orkessuites, filmmusiek, kamermusiek en werke vir klaviersolo het uit sy pen gevloei. Onder laasgenoemde tel 24 Preludes en Fugas, gebaseer op Bach se beroemde stel en geskryf kort na die 200-jarige herdenking van die Barokreus se dood in 1950. Met Sjostakowitsj se afsterwe het die Westerse musiekwêreld van een van sy grootste moderne komponiste afskeid geneem.

Verdere Russiese komponiste in die twintigste eeu was Nikolai Metner (1880-1951), 'n pianis van Duitse afkoms wat hoofsaaklik klavierwerke geskryf en vanaf 1921 in Wes-Europa gewoon het; Nikolai Miaskowski (1881-1950), 'n leerling van Glière en Rimski-Korsakof wat 27 simfonieë, 'n tjellokonsert en heelwat klaviermusiek voortgebring het, ten spyte van veroordelings deur die kommunistiese owerhede; Dimitri Kabalewski (1904-87), 'n leerling van Miaskowski en Skriabin, wat vier simfonieë, drie klavier- en twee tjellokonserte gekomponeer het; en Wadim Salmanof (1912-78), wat onder meer vier simfonieë en ses strykkwartette daargestel het.

Baltiese lande

'n Moderne Baltiese komponis wat wyer blootstelling verdien, is die Estlander Eduard Tubin (1905-82). Sy tien simfonieë en verskeie konserte is voortreflike werke; daarbenewens het hy talle werke vir klaviersolo geskryf.

Die musiek van nog ‘n Estiese komponis, Arvo Pärt (gebore 1935), het in die laat twintigste eeu besonder gewild geraak. Hy het in 1982 in Duitsland gaan woon, en sy musiekstyl word tintinambulisme genoem – dit is minimalisties van aard en klink dikwels na ‘n klokkespel. Onder sy bekende skeppings tel die strykerwerke Tabula rasa (met 2 solo-violiste), Fratres, Summa, Festina lente en Cantus in memory of Benjamin Britten (met ‘n klok); die Sint Johannespassie vir soliste, koor en enkele instrumente; en Spiegel im Spiegel (vir viool en klavier). Fratres is ook vir viool en klavier verwerk, en Summa vir onbegeleide koor. Met sy diep geestelike inslag word Pärt dikwels in dieselfde asem as sy beroemde Britse tydgenoot John Tavener genoem, maar sommige musiekliefhebbers is van mening dat die Estlander ‘n groter komponis as die Brit is.

Pole

In Pole was Karol Szymanowski (1882-1937) die eerste moderne komponis met talle werke in 'n verskeidenheid musiekvorme tot sy krediet. Witold Lutoslawski (gebore 1916) word egter as die vernaamste komponis aldaar beskou; hy het onder meer simfonieë, 'n Konsert vir Orkes en Begrafnismusiek ter herdenking van Bartók gekomponeer.

In die laaste dekade van die twintigste eeu het Henryk Górecki (gebore 1933) roem verwerf met sy aangrypende derde simfonie, wat uit drie stadige dele, elk met 'n sopraan-solo, bestaan. Sy styl is hoogs indiwidueel, en vertoon die invloede van middeleeuse Poolse sang, Renaissance polifonie en Wagner se orkestrasie. Hy het in 1979 ‘n toonsetting van die Beatus Vir (‘Salig is die mens’) gedoen vir Pous Johannes Paulus II se besoek aan sy geboorteland.

Hongarye

In Hongarye het die twintigste eeu 'n aansienlike oplewing in musiekskepping meegebring. Die vernaamste komponiste aldaar was Erno Dohnányi (1877-1960), Béla Bartók (1881-1945), Zoltán Kodály (1882-1967) en György Ligeti (gebore 1923). Dohnányi was 'n vermaarde pianis wie se musiek, waaronder die Kinderkamer-variasies vir klavier en orkes die bekendste is, in die Duits-Romantiese tradisie staan. Daarenteen is sowel Bartók as Kodály sterk deur Hongaarse volksmusiek beïnvloed, terwyl Ligeti van 'n meer moderne idioom gebruik maak. Hy het in 1956 uitgewyk, eers na Keulen en hom mettertyd in Oostenryk gevestig. Die invloed van veral Webern kan bemerk word in sy musiek, wat hy ‘mikropolifonie’ noem. Onder sy meer bekende werke tel die Requiem (vir soliste, 2 kore en orkes) en Lux aeterna (vir ‘n koor in 16 stemme).

Bartók was ook 'n pianis van formaat, en het roem verwerf met sy Konsert vir Orkes, die Musiek vir strykers, slaginstrumente en celesta, drie klavier- en twee vioolkonserte. Daarby het heelwat kamermusiek, soos ses strykkwartette, uit sy pen gevloei. Sy kwartette word tesame met dié van Sjostakowitsj as die vernaamste twintigste-eeuse werke in die genre beskou. Kodály se bekendste werke is die Háry János-suite vir orkes, en koorwerke soos die Psalmus Hungaricus en die Missa brevis. Hy het ook kamermusiek en verskeie konserte geskryf.

Die Weense operettetradisie is ná Lehár voortgesit deur Emmerich Kálmán (1882-1953), wat hom eers in Wenen gevestig het. In 1939 is hy na Parys, en later het hy in die VSA gaan woon. Sy bekendste operettes is Die Csárdásfürstin ('Die Sigeunerprinses'), Gräfin Mariza ('Gravin Mariza') en Die Zirkusprinzessin ('Die Sirkusprinses').

Tsjeggiese Republiek

Die Morawiër Leos Janácek (1854-1928) het die vernaamste Tsjeggiese komponis van die twintigste eeu geword. In teenstelling met sy Boheemse voorgangers Smetana en Dvorák was sy musiek eerder modern as Romanties. Soos met die belangrike moderne komponiste Bartók en Vaughan-Williams is sy werke grondliggend deur inheemse volksmusiek beïnvloed. Janácek het geen simfonieë of konserte geskryf nie, maar wel nege operas. Onder laasgenoemdes is Jenufa die bekendste, gevolg deur Die Geslepe Klein Wyfievos (geskryf terwyl hy in 'n woud gewoon het), en die onvoltooide Uit die Huis van die Dode, wat op Dostojewski se outobiografiese roman gebaseer is. Sy Slawiese Mis is een van die eeu se belangrikste koorwerke.

Interessant genoeg is meeste van Janácek se bekender werke eers gedurende die laaste dekade van sy lewe geskryf. Daaronder tel sy gewildste orkeswerk, die Sinfonietta, die simfoniese toondig Taras Bulba, en die Concertino vir klavier en orkes. Werke vir solo-klavier soos In die Mis en Op 'n Toegegroeide Pad, 'n vioolsonate, 'n sekstet vir windblasers, en die liedere-siklus Die Dagboek van Een wat verdwyn het is van die oorblywende werke wat uit sy pen gevloei het. Sy twee strykkwartette (getiteld 'Kreutzer' en 'Intieme Blaaie') is beide outobiografies van aard en weerspieël sy hartstogtelike liefde vir 'n getroude vrou wat bykans veertig jaar sy junior was.

Spanje

In Spanje het moderne komponiste soos Manuel de Falla (1876-1946) en Joaquin Rodrigo (gebore 1902) vir hulself naam gemaak met werke soos Falla se ballette El amor brujo en Die driehoekige hoed, asook Rodrigo se meesleurende Concerto de Aranjuez vir ghitaar en orkes.

Australië

'n Komponis van opgewekte klaviermusiek, Percy Grainger (1882-1961), is deur Australië opgelewer; veral gewild is sy Country Gardens en Handel in the Strand.

Amerika

Die eerste Amerikaanse komponis wie se musiek internasionale bekendheid verwerf het, was die pianis George Gershwin (1898-1937). As kind van Russies-Joodse immigrante het hy aanvanklik musiekblyspele geskryf. Daarna het hy konsertwerke in ‘n jazz-idioom gekomponeer, soos Rhapsody in Blue, sy klavierkonsert en An American in Paris. Sy opera Porgy and Bess het die gewildste werk in dié genre deur ‘n Amerikaner geword. Voorts het hy in sy betreklike kort lewe rolprentmusiek en honderde liedere geskryf.

Soos Gershwin was Aaron Copland (1900-1990) van Russies-Joodse afkoms. Sy musiek was aanvanklik erg dissonant, soos sy Simfonie vir Orrel. Nogeens soos Gershwin het sy musiek vervolgens jazz-elemente ingelyf, soos met sy klavierkonsert. Hy het Meksiko dikwels in die 1930’s besoek, waartydens sy musiek meer toeganklik geword het. Dit het gelei tot die komposisie van sy ballette Billy the Kid, Rodeo en Appalachian Spring, waarvan die musiek gewilde konsertwerke geword het. Vir sy lewenslange ywer om Amerikaanse musiek te bevorder, is die Presidensiele Vryheidsmedalje in 1964 aan hom toegeken.

Die grootste Amerikaanse komponis van die twintigste eeu was stellig Samuel Barber (1910-81). Hy was ‘n begaafde bariton en pianis, en sy musiek staan in die Europese tradisionele tradisie, met sterk liriese en romantiese elemente. Sy Adagio vir Strykers het besonder gewild geraak, en is later deur die komponis vir koor verwerk as ‘n toonsetting van die Agnus Dei. Onder sy verdere komposisies tel die operas Vanessa en Antony and Cleopatra, twee simfonieë, konserte vir klavier, viool en tjello (een van elk), die vokale werke Dover Beach, Knoxville: Summer of 1915 en Prayers of Kierkegaard, en 10 Hermit Songs gebaseer op Ierse tekste.

‘n Perd van ‘n heel ander kleur is die musiek van Philip Glass (gebore 1937). Nadat hy met die bekende Indiese musikus Ravi Shankar in Parys gewerk het, het sy musiek onder nie-westerse invloede ontwikkel tot ‘n styl van 5 of 6 note wat sonder harmoniese verandering maar ritmies bestendig aangewend word. Dit word minimalisme genoem, dit wil sê maksimum herhaling van minimum materiaal. Onder sy werke tel die operas Einstein on the Beach, Satyhagraha, The Fall of the House of Usher en Akhnaten. Laasgenoemde is gebaseer op die lewe van die Egiptiese filosoof-koning van die dertiende eeu v.C. wat met die beeldskone Nefertiti getroud was en wie se gedagtenis vir meer as drie millenniums onderdruk is, totdat die opgrawings by Tell-el-Amarna in die laat negentiende eeu hom herontdek het. In die opera maak Glass uitsluitlik van antieke Egiptiese en Hebreeuse tekste gebruik, met aangrypende musiek as gevolg.