If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
English
Français
Deutsch
Italiano



Info-Box

Google Ads may go here

"Vérsien, Vérhoor en Fynruik"

1• Daar was eendag drie klein wolfies wat by hul ma in die veld gewoon het. Elke aand na sononder het sy die nes verlaat om kos te gaan soek vir die drie honger kleintjies.
2• Nie ver daarvandaan nie was 'n boerplaas met 'n kraal vol mooi skape met jong lammertjies en 'n hok vol vet hoenders met klein kuikentjies.
3• Hier het die ou wolf saans lekker geëet totdat die boer dit agtergekom en 'n slagyster gestel het, Sy is gou gevang, en die aand het die kleintjies gewag en gewag, die hele nag deur, en toe die son die volgende oggend opkom, was sy nog nie terug nie. Met treurige ou stemmetjies huil hulle van die honger.
4• Net toe kom daar 'n jagter en sy seun verby. Hulle bly staan en luister altwee.
5• "Dit is klein wolfies wat so huil," sê die jagter.
6• "Kyk, daar roer iets," sê die seun, en hy wys na die skaduwee van 'n bos.
7• "Wees versigtig, die ou wolf kan hier êrens naby wees en as jy aan haar kleintjies raak, sal sy jou aanpak," waarsku sy pa.
8• "Die ma is seker dood. Ons moet maar die kleintjies saamneem huis-toe, anders gaan hulle ook hier dood van die honger," sê die seun.
9• "Laat hulle maar hier bly totdat ons terug kom, dan kan jy hulle saambring."
10• "Ons sal drie knap honde hê as ek hulle mooi geleer het," sê die seun en hulle stap verder aan.
11• Op die terugreis die aand was die klein wolfies nog alleen en gou het die seun die drie in sy knapsak gesteek en huis-toe gedra.
12• Dag vir dag het hy die wolfies geleer. Hulle het goed kos gekry, gou groot geword en was slimmer en knapper as die beste jaghonde. Hulle was so vertroubaar dat die seun baie gevaarlike dinge kon waag so lank as sy drie wolf-honde maar net by hom was.
13• Toe hulle nog baie klein was, het hy hul name gegee "Vérsien", "Vérhoor" en "Fynruik". Vérsien was 'n knap hond. Hy kon oor die hoogste berg of deur die dikste klipmuur sien. Ver oor die diep blou see of deur dik wolke, dag of nag — alles kon hy maklik sien.
14• Vérhoor was 'n goeie maat vir hom. Hy kon alles hoor wat gebeur. As die klein swart miertjies gesels, of die vissies onder in die see fluister, kon Vérhoor alles hoor. Sy baas moes maar net vir hom fluit, al was dit ook aan die oorkant van die wêreld, hy kon dadelik hoor.
15• Maar sonder Fynruik kon hulle darem ook nie klaarkom nie. Hy het altyd die spoor gevat. Oor berge of heuwels, deur water of woestyn, Fynruik kom daar!
16• Toe die seun nou kon staat maak op die knapheid van sy honde het hy besluit om met die drie op reis te gaan om die wêreld te sien.
17• Een oggend vroeg het hulle almal gegroet en van die plaas vertrek. Drie dae later kom hulle by 'n groot bos net buitekant die dorp. Net by die rand van die bos ontmoet hulle 'n houtkapper. Die drie honde spring vorentoe en die arme ou houtkapper skrik so groot dat hy dadelik sy drag hout neergooi om weg te hardloop.
18• "Moenie bang wees nie; my honde sal jou nie seermaak nie," sê die seun, maar die houtkapper is te versigtig om nader te kom.
19• "Wêreld maar hulle lyk darem drie kwaai diere," sê hy.
20• "Ag nee wat, hulle is so mak soos lammers, al is hulle so sterk en so knap."
21• "Wat is hul name?"
22• "Die een se naam is Vérsien. Hy kan verder sien as enige ander mens of dier in die wêreld."
23• Hy wys na die tweede hond.
24• "Dit is Vérhoor. Alles kan hy hoor, ver of naby. Kom hier, Fynruik! Dit is net hy wat kan spoor vat, al is dit ook na die son of die maan."
25• Die houtkapper lag en wil dit amper nie glo nie, maar die seun verseker hom dit is die waarheid.
26• "Nou ja, as dit waar is wat jy sê, vra dan vir hulle waar my ou grootjie se kis goud begrawe is. As ek dit vind, kan jy die helfte daarvan kry," sê die houtkapper.
27• "O, dis maklik! Hoor hoe blaf Vérsien. Hy sê die kis goud is 'n half myl hiervandaan begrawe, tien voet diep onder die krom ou boom."
28• Skaars het die seun dit aan die houtkapper vertel of Vérhoor begin ook te blaf.
29• "Wat hoor jy?" vra die seun aan hom.
30• "Drie rowers gesels oor die kis goud wat hier in die bos begrawe is. Hulle maak planne om dit vannag te kom opgrawe."
31• Toe die houtkapper dit hoor, is hy dadelik weg huis-toe om gereedskap te gaan haal om die kis goud op te grawe onderwyl die seun en sy honde daar in die bos sit en wag.
32• Weer blaf Vérhoor. Hy hoor die rowers nou aankom en vertel dit aan sy baas. Die seun stuur die drie honde na die plek waar die goud begrawe is en se hulle moet daar bly, Skaars was hulle daar of die rowers kom aan met pikke en lanterns.
33• Die eerste rower sien die honde. Hy skree: "Wolwe!" gooi sy graaf neer en spring agter die naaste boom.
34• Sy maat wil hulle nog skrik maak en skree "Voetsek" maar die honde bly sit. Toe doen die rowers net die verkeerde ding hulle tel klippe op en gooi na die honde!
35• Die drie honde vlie op en elkeen pak 'n rower. Die rowers probeer die honde weg-siaan met kieries, maar dit help net niks nie. Hulle was verplig om te hardloop so hard as hulle kon tot by die huisie in die bos. Binne in die huis, die deure toe, kyk hulle deur die vensters en sien hoe die drie honde nog om die huis hardloop.
36• "Wag, ek kan goed skiet!" se die eerste rower. Hy neem 'n gelaaide geweer, steek dit deur die venster en wag totdat die honde weer om die hoek kom.
37• Hier kom hulle! 'n Koeël klap. Dit is mis. Oor en oor het die rowers probeer om die honde te skiet, maar net verniet.
38• Vérsien het die koeël sien kom, Vérhoor het hom hoor fluit — en Fynruik was altyd die eerste uit die pad. Al die skote was opgeskiet en nie een was raak nie.
39• Die honde het wag gehou rondom die huisie onderwyl die seun en die houtkapper die goud opgrawe.
40• Tien voet diep kry hulle die goud in 'n kis. Dit was te swaar om die hele kis uit te haal, toe het hulle net die goud uitgehaal, die kis vol klippe gemaak en weer die gat toegegooi. Later toe die rowers weer die kis kom uitgrawe, het hulle net 'n klomp swaar klippe daarin gekry. Daaroor het hulle rusie gemaak.
41• Die eerste rower se die tweede een het die goud gesteel. Die tweede een stry en se die derde een het dit gedoen. Die derde een maak vuis en begin links en regs slaan. Die houe val, dit steun en kreun; wie neergeslaan word, spring weer op en begin van nuut af aan. Pers en blou, amper flou het die drie rowers mekaar geslaan oor die goud. Was dit nie dat die eerste rower in die donker met sy kop teen 'n boom vasgeloop en die tweede een met sy kop op 'n klip geval het nie, sou hulle seker nou nog baklei het. Daar le die twee rowers nou bedwelm en die derde een voel so groot man dat hy bo op hulle gaan sit. Sy kort-steel-pypie het hy uitgehaal en gesit rook nriet lang, lang skuiwe, totdat hy skielik drie honde hoor blaf. Toe vlie hy op in die naaste boom. Daar het hy in 'n mik gesit en slaap tot in die middel van die nag, toe val hy uit bo op sy maters.
42• 'n Hele dag het hulle daar gelê. Toe die drie weer regkom, was die vriendskap soos te vore en elke nag het hulle weer geroof en gesteel, maar nooit by 'n huis daar 'n hond was nie.
43• Die houtkapper het sy goud huis-toe geneem en die groot geluk aan sy vrou en kindertjies vertel. Hulle was baie bly en wou baie graag die drie knap honde sien, maar die seun en sy honde was al weer op reis na die dorp net 'n end daarvandaan, waar hulle die volgende dag aangekom het.